1

1

In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete,

2 maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak.

3 Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.

4 Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam.

5

Immers, aan wie van die engele het God ooit gesê:

“Jy is my Seun,
van vandag af is Ek jou Vader,”

en ook:

“Ek sal sy Vader wees,
en Hy sal my Seun wees” ?

6

En wanneer God die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy:

“Al die engele van God moet Hom aanbid.”

7

Van die engele sê Hy:

“Hy maak sy engele stormwinde en sy dienaars vuurvlamme.”

8

Maar van die Seun sê Hy:

“U troon, o God, staan vir ewig vas,
met u koninklike septer laat U reg geskied.

9
U het die reg lief en U haat die onreg.
Daarom het God, u God,
U onder groot vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote.”

10

En verder:

“U, Here, het in die begin die aarde gevestig,
en ook die hemel is die werk van u hande.

11
Dié dinge sal vergaan, maar U bly bestaan;
soos 'n kledingstuk sal alles verslyt;

12
soos klere sal U dit oprol;
ja, soos 'n kledingstuk sal dit vervang word.
Maar U, U bly dieselfde,
en u jare het geen einde nie.”

13

Van watter engel het Hy ooit gesê:

“Sit aan my regterhand,
totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het” ?

14

Is hulle dan nie almal geeste in diens van God, wat Hy uitstuur om dié te dien wat die saligheid gaan beërf nie?

2

1

Om hierdie rede moet ons soveel kragtiger vasgryp aan wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdrywe nie.

2 As die woord wat deur engele gepraat is, bindend was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regmatig gestraf is,

3 hoe sal ons dan ontkom as ons so 'n groot saligheid verontagsaam het? Hierdie saligheid is immers deur die Here verkondig, deur wie dit sy oorsprong het, en is aan ons bevestig deur dié wat dit gehoor het.

4 Daarby het God ook saam getuig deur tekens en wonders en ook deur allerhande kragtige dade en gawes van die Heilige Gees, soos Hy dit toebedeel het volgens sy wil.

5

Dit is nie aan engele dat Hy die toekomstige wêreld, waarvan ons praat, onderwerp het nie.

6 Inteendeel, iemand het êrens getuig en gesê:

“Wat is 'n mens dat U aan hom dink,
'n mensekind dat U na hom omsien?

7
U het hom 'n kort tydjie minder as die engele gemaak; U het hom met heerlikheid en eer gekroon;

8
U het alles aan hom onderwerp.”

By die onderwerping van alle dinge aan die mens is niks uitgesluit nie. Alles is aan hom onderwerp. Nou sien ons nog nie dat alle dinge reeds aan die mens onderwerp is nie.

9 Maar ons sien Jesus, met eer en heerlikheid gekroon op grond van sy lyding en dood. Hy is 'n kort tydjie minder gemaak as die engele, sodat Hy deur die genade van God vir almal sou sterwe.

10

God, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie deel laat kry aan sy heerlikheid. En daarom was dit reg dat Hy hulle Leidsman tot die verlossing deur lyding heen tot volmaaktheid sou bring.

11 Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie.

12 Hy sê tog:

“Ek sal u Naam aan my broers bekend maak,
in die samekoms van die gemeente sal Ek u lof besing.”

13

Ook sê Hy:

“Ek sal altyd op Hom vertrou.”

En verder:

“Hier is Ek met die kinders wat God My gegee het.”

14

Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig

15 en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry.

16 Dit is duidelik dat dit vir Hom nie om die engele gaan nie, maar om die nageslag van Abraham.

17 Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy 'n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen.

18 Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word.

3

1

Daarom, broers wat vir die Here afgesonder is en deelgenote is van die hemelse roeping, moet julle noukeurig let op Jesus, die Apostel en Hoëpriester van die geloof wat ons bely.

2 Hy is getrou aan God wat Hom aangestel het, soos ook Moses getrou was in die hele huis van God.

3 Maar Jesus is groter heerlikheid waardig geag as Moses, net soos die een wat 'n huis bou, meer eer waardig is as die huis.

4 Elke huis word deur iemand gebou, maar God is die Een wat alles gebou het.

5 Moses was as dienaar getrou in die hele huis van God en moes getuig van die dinge wat God nog sou sê.

6 Christus daarenteen is as Seun getrou oor die huis van God. En ons is sy huis as ons maar net met moed en oortuiging bly vashou aan wat ons hoop.

7

Luister daarom na wat die Heilige Gees sê:

“Vandag, as julle sy stem hoor,

8
moet julle nie hardkoppig wees nie,
soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het en My in die woestyn op die proef gestel het.

9
Daar het hulle My op die proef gestel en uitgetart,
hoewel hulle veertig jaar lank gesien het wat Ek vir hulle gedoen het.

10
Daarom het Ek 'n afkeer van hierdie geslag gekry en gesê:
‘Met hulle hart is hulle gedurig op 'n dwaalspoor,
hulle wou my paaie nie leer ken nie.’

11
Toe het Ek in my toorn 'n eed afgelê:
In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.”

12

Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle 'n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie.

13 Maar solank daar nog 'n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.

14 Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.

15 Daarom word daar gesê:

“Vandag as julle sy stem hoor,
moet julle nie hardkoppig wees nie,
soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het.”

16

Wie was dit dan wat gehoor het en tog in opstand gekom het? Was dit nie hulle almal wat onder leiding van Moses uit Egipte getrek het nie?

17 En van wie het God veertig jaar lank 'n afkeer gehad? Was dit nie van hulle wat gesondig het en wie se dooie liggame in die woestyn agtergebly het nie?

18 Oor wie anders as dié wat ongehoorsaam was, het Hy 'n eed afgelê dat hulle nie in sy rus sou ingaan nie?

19 Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie.

4

1

Terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog van krag is, moet ons oppas dat dit nie miskien later blyk dat een van julle agtergebly het nie.

2 Ons het die blye boodskap ontvang net soos hulle, maar hoewel hulle die prediking gehoor het, het dit hulle niks gebaat nie, omdat hulle nie geglo het wat hulle gehoor het nie.

3 Ons wat glo, gaan wel in die rus in, maar hulle nie, soos God gesê het:

“Toe het Ek in my toorn 'n eed afgelê:
In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.”

En tog was sy werk ná die skepping van die wêreld reeds afgehandel,

4 want êrens in die Skrif word van die sewende dag dit gesê: “En God het op die sewende dag gerus van al sy werk,”

5 terwyl hier weer gesê word: “In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.”

6 Dié wat vroeër die blye boodskap gehoor het, het dus vanweë hulle ongehoorsaamheid nie in sy rus ingegaan nie, maar vir sommige bly die moontlikheid bestaan om weer in sy rus in te gaan.

7 God het immers weer 'n dag bepaal, naamlik “vandag”, wanneer Hy, soos reeds voorheen aangehaal, soveel later by monde van Dawid sê:

“Vandag, as julle sy stem hoor,
moet julle nie hardkoppig wees nie.”

8

As Josua hulle in die rus laat ingaan het, sou God nie daarná nog van 'n ander dag gepraat het nie.

9 Daar wag dus nog steeds 'n sabbatsrus vir die volk van God,

10 want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne.

11 Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie.

12

Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.

13 Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.

14

Terwyl ons dan nou 'n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely.

15 Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.

16 Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

5

1

Elke hoëpriester is 'n mens wat uit die mense geneem en aangestel word om vir hulle by God in te tree deur gawes en offers vir die sondes te bring.

2 Hy kan meegevoel hê met die onwetendes en dwalendes, omdat hy self aan swakheid onderhewig is.

3 Om hierdie rede moet hy ook vir homself, net soos vir die volk, offers bring vir die sondes.

4

Niemand eien hom die eer van hoëpriester toe nie, hy word deur God daartoe geroep, net soos Aäron.

5 So het Christus Hom ook nie die waardigheid van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee toe Hy gesê het:

“Jy is my Seun,
van vandag af is Ek jou Vader.”

6

En op 'n ander plek sê Hy:

“Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.”

7

Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God.

8 Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is.

9 En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword

10 en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.

11

In verband hiermee het ons baie te sê wat moeilik is om aan julle te verduidelik, aangesien julle so traag is om te leer.

12 Hoewel julle teen hierdie tyd self reeds onderrig behoort te gee, het julle weer nodig dat iemand julle in die grondwaarhede van die woord van God moet onderrig. 'n Mens moet julle met melk voed en nie met vaste kos nie.

13 Iemand wat nog van melk lewe, kan nie saampraat oor wat reg of verkeerd is nie, want hy is nog 'n kind.

14 Vaste kos is vir grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei.

6

1

Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap. Ons wil nie opnuut die fondament lê deur te praat oor die bekering uit 'n leefwyse wat tot die dood lei nie, of oor geloof in God,

2 die leer van die doop en die handoplegging, die opstanding van die dooies en die ewige oordeel nie.

3 Ons sal dus verder gaan as God dit toelaat.

4

Wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees,

5 die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het

6 en dan nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring. In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot 'n bespotting.

7 Dit is soos met grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val. As dit bruikbare gewasse voortbring vir dié wat dit bewerk, word dit deur God geseën.

8 Maar as dit doringstruike en dissels oplewer, is dit waardeloos en is die tyd naby dat God dit vervloek. Die uiteinde daarvan is die vuur.

9

Maar, geliefdes, al praat ons in hierdie trant, is ons oor julle oortuig van beter: dat julle gered sal word.

10 God is nie onregverdig nie: Hy sal julle werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam betoon het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en nog dien nie.

11 Dit is ons vurige wens dat elkeen van julle end-uit dieselfde ywer as vroeër aan die dag sal lê totdat die dinge waarop julle hoop, vervul is.

12 Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het.

13

Toe God aan Abraham die belofte gemaak het, het Hy niemand groter as Hyself gehad by wie Hy dit met 'n eed kon bevestig nie. Daarom het Hy dit met 'n eed by Homself bevestig

14 en gesê: “Ek sal jou beslis ryklik seën en jou 'n baie groot nageslag gee.”

15 En so het Abraham dan, nadat hy geduldig gewag het, gekry wat aan hom beloof is.

16 Mense lê 'n eed af by iemand groter as hulleself. Vir hulle is dit die bevestiging van 'n saak, en dit sluit alle teëspraak uit.

17 En omdat God aan die erfgename van die belofte bo alle twyfel wou verseker dat sy besluit onveranderlik is, het Hy dit met 'n eed gewaarborg.

18 Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en is vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, 'n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is.

19 Hierdie hoop besit ons as 'n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is.

20 Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan, en Hy is vir ewig Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek.

7

1

Melgisedek was koning van Salem en priester van God die Allerhoogste. Dit is Melgisedek wat vir Abraham tegemoet gegaan en hom geseën het toe Abraham op pad terug was nadat hy die konings verslaan het,

2 en dit is ook aan hom dat Abraham 'n tiende van al die oorlogsbuit gegee het. In die eerste plek, sy naam Melgisedek beteken: koning van geregtigheid; en hy was ook koning van Salem, en dit beteken: koning van vrede.

3 Niks is bekend omtrent sy vader en moeder of sy afstamming of die begin en einde van sy lewe nie. Hy is soos die Seun van God en hy bly priester vir altyd.

4

Let nou op hoe groot hierdie man was aan wie Abraham, die stamvader, 'n tiende van die beste oorlogsbuit gegee het.

5 Die priesters wat van Levi afstam, het volgens die bepaling van die wet die reg om 'n tiende in te vorder van die volk, dit wil sê van hulle broers, wat net soos hulle ook afstammelinge van Abraham is.

6 Maar Melgisedek, wat nie van Levitiese afstamming was nie, het van Abraham 'n tiende geneem en hom, aan wie God sy beloftes gegee het, geseën.

7 Dit is onbetwisbaar dat dit altyd die mindere is wat deur die meerdere geseën word.

8 In die geval van die Levitiese priesters is dit sterflike mense wat tiendes invorder, maar in die geval van Melgisedek iemand van wie getuig word dat hy lewe.

9 'n Mens kan sê dat ook Levi, wat tiendes invorder, deur Abraham aan Melgisedek die tiende gegee het,

10 want Levi was nog in die liggaam van die stamvader toe Melgisedek vir Abraham tegemoet gegaan het.

11

Dit was in samehang met die Levitiese priesterskap dat die volk die wet van Moses ontvang het. As hierdie priesterskap volmaaktheid kon bewerk, waarom was dit dan nog nodig dat 'n ander priester volgens die priesterorde van Melgisedek aangestel moes word, van wie daar nie gesê word dat hy 'n priester volgens die orde van Aäron sou wees nie?

12

As daar 'n ander priesterskap kom, volg noodwendig ook 'n verandering van die wet.

13 Hy van wie hierdie dinge gesê word, behoort juis tot 'n ander stam, waaruit niemand ooit by die altaar diens gedoen het nie.

14 Dit is algemeen bekend dat ons Here van Juda afstam, en in verband met daardie stam het Moses niks oor die priesterskap gesê nie.

15 Die saak word nog duideliker as ons daaraan dink dat die ander priester wat te voorskyn tree, ooreenkom met Melgisedek,

16 deurdat Hy priester word nie deur die bepaling van die wet oor menslike afstamming nie, maar deur die krag van onvernietigbare lewe.

17 Van Hom word getuig:

“Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.”

18

Aan die een kant word die vroeëre bepaling dus afgeskaf vanweë die kragteloosheid en nutteloosheid daarvan:

19 die wet het nie volmaaktheid bewerk nie. Aan die ander kant het 'n beter hoop ingetree, waardeur ons tot God nader.

20

Dit het nie sonder die bevestiging met 'n eed plaasgevind nie. Die Leviete het wel priesters geword sonder die bevestiging met 'n eed,

21 maar Jesus met 'n eed deur God, wat vir Hom gesê het:

“Die Here het dit met 'n eed bevestig en Hy sal dit nie herroep nie: ‘Jy is priester vir ewig.’ ”

22

So het Jesus ook van 'n beter verbond borg geword.

23

Daar is ook 'n ander verskil: omdat die dood die Levitiese priesters verhinder het om aan te bly, was daar baie wat mekaar opgevolg het.

24 Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hý 'n priesterskap wat nie op 'n ander oorgedra word nie.

25 Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.

26

Vir ons was so 'n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele,

27 een wat nie, soos die hoëpriesters, elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir dié van die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd 'n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het.

28 Die wet stel mense as hoëpriesters aan, en mense het swakhede; maar die uitspraak wat met 'n eed bevestig is en wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan as ewige en volmaakte Hoëpriester.

8

1

Die hoofsaak van wat gesê is, is dit: ons het 'n Hoëpriester, Een wat gaan sit het aan die regterkant van die troon van die Majesteit in die hemel.

2 Hy is bedienaar van die heiligdom, die ware verbondstent, wat deur die Here opgerig is en nie deur 'n mens nie.

3 Elke hoëpriester word aangestel om gawes en offers te bring; daarom moet ook hierdie Een iets hê om te offer.

4 As Hy nog op aarde was, sou Hy nie eens priester kon wees nie, omdat volgens die wet daar reeds priesters is wat die gawes offer.

5 Hulle bedien egter slegs 'n afbeelding en skadubeeld van die hemelse heiligdom. Toe Moses die Goddelike opdrag gekry het om die verbondstent op te rig, het God gesê: “Sorg dat jy alles maak volgens die voorbeeld wat Ek jou op die berg gewys het.”

6 Maar nou het Jesus 'n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van 'n beter verbond wat op uitnemender beloftes gegrond is.

7

As daar aan die eerste verbond niks kortgekom het nie, sou 'n tweede nie nodig gewees het nie.

8 Maar God bestraf die volk oor hulle tekortkoming deur te sê:

“Kyk, daar kom 'n tyd, sê die Here,
dat Ek met Israel en Juda 'n nuwe verbond sal sluit.

9
Die nuwe verbond sal nie wees soos dié wat Ek met hulle voorvaders gemaak het
op die dag toe Ek hulle
aan die hand gevat het om hulle uit Egipte uit te lei nie,
want hulle het nie my verbond gehou nie,
en Ek het hulle verwerp, sê die Here.

10
Dít is nou die verbond wat Ek met Israel na daardie dae sal sluit,
sê die Here:
Ek sal hulle my wette in die verstand gee,
op hulle harte sal Ek dit skrywe;
Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees.

11
Dan hoef niemand meer
sy medeburger te leer en vir sy broer te sê: ‘Jy moet die Here ken’ nie.
Hulle almal, klein en groot, sal My ken.

12
Oor hulle ongeregtighede
sal Ek genadig wees en aan hulle sondes
nooit meer dink nie.”

13

Deur van 'n nuwe verbond te praat, het God die eerste oud verklaar, en wat oud word en uitgedien raak, sal gou verdwyn.

9

1

Die eerste verbond het voorskrifte vir die erediens gehad, en ook 'n aardse heiligdom.

2 Die verbondstent is opgerig, en in die voorste gedeelte daarvan, wat die Heilige genoem word, het die kandelaar en die tafel met die offerbrode gestaan.

3 Agter die tweede voorhangsel was die gedeelte wat die Allerheiligste genoem word.

4

Daarin was die goue wierookaltaar en die verbondsark, wat in sy geheel met goud oorgetrek was. In die ark was die goue kruik met manna, die kierie van Aäron wat gebot het, asook die plat klippe met die wet van die verbond daarop geskrywe.

5 Bo-op die ark het die gerubs wat die heerlikheid van God voorstel, hulle vleuels oor die versoendeksel uitgestrek. Op die besonderhede kan ons nie nou verder ingaan nie.

6

Met die dinge só ingerig, het die priesters gereeld die voorste gedeelte van die verbondstent binnegegaan om die dienste te verrig.

7 Maar in die agterste gedeelte het alleen die hoëpriester ingegaan, en dit net een keer in die jaar, en dan nie sonder bloed nie, om vir homself te offer en vir die sondes wat die volk onwetend gedoen het.

8 Hiermee maak die Heilige Gees duidelik dat die pad na die Allerheiligste toe nie oop is so lank as die voorste gedeelte van die verbondstent bestaan nie.

9 Dit alles wys vooruit na die huidige tyd waarin offergawes en diereoffers gebring word wat nie vir dié een wat dit bring, 'n volkome skoon gewete kan gee nie.

10 Dit het net betrekking op voedsel, drank en 'n verskeidenheid reinigingsgebruike. Dit is voorskrifte wat slegs die uiterlike raak en wat opgelê is tot die tyd dat God 'n beter orde sou instel.

11

Maar Christus het gekom as Hoëpriester van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie.

12 Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en 'n ewige verlossing tot stand gebring.

13 Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van 'n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein.

14 Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer.

15

Daarom is Hy ook die Middelaar van 'n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang.

16 Dit is soos met 'n testament: daar moet eers bewys word dat die testamentmaker dood is,

17 want 'n testament word alleen geldig by die dood van die testamentmaker; dit word nooit van krag so lank as hy nog leef nie.

18 Daarom is die eerste verbond ook nie sonder bloed ingestel nie.

19 Nadat Moses al die gebooie van die wet aan die hele volk oorgedra het, het hy bloed van kalwers en bokke saam met water geneem en met rooi wol en hisop die wetboek self sowel as die hele volk besprinkel

20 en gesê: “Dit is die bloed van die verbond wat God vir julle ingestel het.”

21 Ook die verbondstent en al die voorwerpe vir gebruik by die erediens het hy op dieselfde wyse met die bloed besprinkel.

22 Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig, en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie.

23

Die aardse afbeeldings van die hemelse dinge moes dus noodwendig deur hierdie middele gereinig word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie.

24 Christus het nie ingegaan in 'n heiligdom wat deur mense gemaak is en net 'n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn.

25 Hy het nie ingegaan om Homself herhaaldelik te offer nie, soos die hoëpriester elke jaar die Allerheiligste binnegaan met bloed wat nie sy eie is nie.

26 Dan sou Christus immers herhaaldelik moes gely het, reeds van die skepping van die wêreld af. Maar nou het Hy net een keer in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem.

27 'n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel.

28 So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem. As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag.

10

1

Die wet van Moses is slegs 'n skadubeeld van die weldade wat sou kom, nie 'n werklike beeld daarvan nie. Voortdurend, jaar na jaar, word dieselfde offers gebring, en tog kan die wet dié wat die offers bring, nooit volkome van sonde vry maak nie.

2 As dié wat offers bring, eens en vir altyd gereinig en nie meer van sondes bewus was nie, sou hulle immers opgehou het om offers te bring.

3 Maar nou herinner die offers juis jaar na jaar aan die sondes,

4 omdat die bloed van bulle en bokke onmoontlik die sondes kan wegneem.

5

Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld:

“Dit is nie diereoffer en graanoffer wat U wou hê nie,
maar die liggaam wat U My gegee het.

6
Brandoffers en sondeoffers het U nie behaag nie!

7
Toe het Ek gesê:
Kyk, Ek het gekom, o God,
om u wil te doen.
In die boekrol is dit van My geskrywe.”

8

Eers sê Hy: “Diereoffers en graanoffers, brandoffers en sondeoffers wou U nie hê nie en het U nie behaag nie,” hoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word.

9 Daarna sê Hy: “Kyk, Ek het gekom om u wil te doen.” Hy skaf dus die eerste offers af om 'n ander offer in die plek daarvan te stel.

10 Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd.

11

Verder, elke priester staan dag vir dag sy diens en verrig, en bring elke keer weer dieselfde offers, wat tog nooit die sondes kan wegneem nie.

12 Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit.

13 Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is.

14 Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak.

15

Ook die Heilige Gees betuig dit aan ons. Eers sê Hy:


16
“Dit is die verbond wat Ek met hulle na daardie dae sal sluit, sê die Here.
Ek sal hulle my wette in die hart gee,
in hulle verstand sal Ek dit skrywe.”

17

Dan sê Hy verder:

“Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie.”

18

Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.

19

Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom,

20 en dit op 'n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam.

21 En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het,

22 laat ons tot God nader met 'n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van 'n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water.

23 Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.

24 Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade.

25 Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

26

Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie.

27 Daar bly alleen 'n verskriklike verwagting oor van oordeel en 'n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer.

28 As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak.

29 Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het?

30 Ons weet tog wie Hy is wat gesê het:

“Dit is mý reg om te straf;
Ek sal vergeld;”

en verder:

“Die Here sal oor sy volk oordeel.”

31

Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val.

32

Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly.

33 Deels is julle deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak en deels het julle gely omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het.

34 Julle het met die gevangenes meegevoel gehad, en toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle 'n besitting het wat beter en blywend is.

35 Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie: dit hou groot beloning in.

36 Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het.


37
Nog net “'n kort, kort tydjie,
en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie.

38
En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe;
maar as hy terugdeins,
het Ek aan hom niks meer nie.”

39

Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe.

11

1

Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

2 Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is.

3

Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is: die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie.

4

Omdat Abel geglo het, het hy 'n beter offer aan God gebring as Kain. Vanweë Abel se geloof het hy van God bevestiging ontvang dat hy 'n opregte man is, want God het sy offers aangeneem; en deur dieselfde geloof spreek hy nou nog, al is hy reeds dood.

5

Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het. Van hom word getuig dat hy, voordat hy weggeneem is, geleef het soos God dit wou.

6 As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.

7

Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was 'n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom.

8

Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom.

9 Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, 'n vreemdeling in 'n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was,

10 want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is.

11

Omdat Abraham geglo het, het hy, hoewel Sara onvrugbaar was en hy al te oud, krag ontvang om 'n kind te verwek, omdat hy God wat dit beloof het, getrou geag het.

12 Die gevolg was dat daar van een man, 'n man wat nie meer 'n kind kon verwek nie, kinders afgestam het so talryk soos die sterre van die hemelruim en so baie soos die sand van die see.

13

Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is.

14 Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na 'n vaderland.

15 As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan.

16 Maar hulle het na 'n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle 'n stad gereed gemaak.

17

[17-18] Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,” het gereed gestaan om sy enigste seun te offer.

18

19 Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het.

20

Omdat Isak geglo het, het hy Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms.

21

Omdat Jakob geglo het, het hy op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën en tot God gebid terwyl hy op die knop van sy kierie leun.

22

Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die uittog van die Israeliete en opdrag gegee in verband met sy liggaam.

23

Omdat die ouers van Moses geglo het, het hulle hom na sy geboorte drie maande lank weggesteek toe hulle sien dat hy 'n mooi kindjie is. Hulle was nie bang vir die bevel van die koning nie.

24

Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter.

25 Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê.

26 Die smaad ter wille van die Christus het hy 'n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het.

27

Omdat hy geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien.

28

Omdat hy geglo het, het hy die pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie.

29

Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het.

30

Omdat die Israeliete geglo het, het die mure van Jerigo geval nadat hulle sewe dae daaromheen getrek het.

31

Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam met dié wat aan God ongehoorsaam was nie.

32

En wat moet ek nog meer sê? Die tyd ontbreek my om te vertel van Gideon, Barak, Simson en Jefta, van Dawid, Samuel en die profete.

33 Deur die geloof het hulle koninkryke verower, die reg van God gehandhaaf en verkry wat God beloof het; hulle het leeus se bekke toegestop,

34 gloeiende vuur geblus en aan die swaard ontkom; hulle het in swakheid krag ontvang, was sterk in oorlog en het die leërs van vreemdes op die vlug gejaag.

35 Vroue het hulle dooies teruggekry, opgewek uit die dood. Ander gelowiges wou nie die prys vir hulle eie vrylating betaal nie en is doodgemartel; hulle wou die opstanding tot 'n beter lewe deelagtig word.

36 Ander weer het bespotting en lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap.

37 Gelowiges is met klippe doodgegooi, in stukke gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgeswerf in skaapvelle en in bokvelle. Hulle het gebrek gely, is verdruk en mishandel.

38 Die wêreld was hulle nie werd nie; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en het in grotte en in gate in die grond gelewe.

39

En hoewel daar oor hulle almal vanweë hulle geloof met soveel lof getuig is, het hulle nie verkry wat beloof is nie,

40 omdat God vir ons iets beters beoog het, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie.

12

1

Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop,

2 die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.

3 Hou Hom voor oë wat so 'n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.

4

Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle 'n stryd om lewe of dood geword het nie.

5 Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word:

“My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie,

6
want die Here tug hom wat Hy liefhet,
Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.”

7

Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien 'n kind wat nie deur sy vader getug word nie?

8 As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie.

9 Verder, ons het ons aardse vaders gehad wat ons getug het, en ons het vir hulle eerbied gehad. Sal ons ons nie nog des te meer aan die hemelse Vader onderwerp en lewe nie?

10 Ons vaders het ons wel 'n kort tydjie na hulle goeddunke getug, maar Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel.

11

Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, 'n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God.

12

Versterk daarom die slap hande en die lam knieë

13 en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word.

14

Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir 'n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.

15 Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos 'n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie.

16 Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het.

17 Julle weet dat hy verwerp is toe hy daarna die seën wou verkry. Daar was vir hom geen moontlikheid om die saak reg te stel nie, al het hy met trane daarna gesoek.

18

Julle het immers nie gekom by 'n tasbare berg met brandende vuur, donderwolke, duisternis, stormwind,

19 trompetgeskal en geklank van woorde nie. Hulle wat dit gehoor het, het gesmeek dat geen woord meer tot hulle gerig moes word nie.

20 Die bevel dat selfs 'n dier wat aan die berg raak, met klippe doodgegooi moet word, was vir hulle ondraaglik.

21 So angswekkend was die verskynsel dat Moses uitgeroep het: “Ek sidder van angs!”

22

Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms,

23 die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is. Julle het gekom by God wat Regter oor almal is, en by die geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is,

24 by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en by die besprinkelingsbloed wat van iets beters getuig as die bloed van Abel.

25

Pas op, moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie. Hulle wat Hom afgewys het toe Hy sy Goddelike woord op aarde laat hoor het, het nie ontkom nie. Hoeveel minder sal ons ontkom wanneer ons nie ag slaan op Hom wat van die hemel af met ons praat nie?

26 Destyds het sy stem die aarde laat wankel, maar nou het Hy aangekondig: “Nog een maal sal Ek nie alleen die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel.”

27 Die woorde “nog een maal” laat duidelik blyk dat die geskape dinge, wat reeds aan die wankel is, finaal weggeneem sal word, sodat die onwankelbare dinge kan bly.

28

Laat ons wat 'n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil,

29 want ons God is 'n verterende vuur.

13

1

As broers moet julle mekaar altyd liefhê.

2 Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.

3 Dink aan die gevangenes asof julle self ook gevangenes is, en aan dié wat mishandel word, asof julle self ook mishandel word.

4

Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.

5

Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”

6 Daarom kan ons met vertroue sê:

“Die Here is my helper,
ek ken geen vrees nie:
wat kan 'n mens aan my doen?”

7

Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het.

8

Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

9

Moet julle nie laat meevoer deur allerhande vreemde leringe nie. Die goeie is daarin geleë dat die hart deur genade versterk word, nie deur eetgebruike nie. Dié wat hulle aan hierdie gebruike gehou het, het niks daarby gebaat nie.

10

Ons het 'n altaar waarvan dié wat nog die offerdiens volgens die ou orde verrig, nie die reg het om te eet nie.

11 Die bloed van die offerdiere word deur die hoëpriester in die heiligdom ingebring vir die sonde, maar hulle liggame word buitekant die laer verbrand.

12 Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig.

13 Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het,

14 want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige.

15 Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God 'n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely.

16 Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is die offers wat vir God aanneemlik is.

17

Julle voorgangers hou wag oor julle lewe en moet aan God rekenskap gee. Wees gehoorsaam en onderdanig aan hulle, want dan sal hulle hulle werk met vreugde kan doen en nie kla nie; anders het dit vir julle geen nut nie.

18

Hou aan om vir ons te bid, want ons is daarvan oortuig dat ons gewete skoon is, omdat ons in elke opsig probeer doen wat reg is.

19 Veral dring ek by julle daarop aan om te bid dat God my gou na julle toe sal laat terugkom.

20

God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring.

21 Mag dié God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen. Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

22

Broers, dit is my dringende versoek: Julle moet geduldig na hierdie woorde luister waarmee ek julle bemoedig het, al het ek dit net kortliks aan julle geskrywe.

23

Julle weet seker al dat ons broer Timoteus vrygelaat is. As hy gou genoeg kom, bring ek hom saam wanneer ek julle besoek.

24

Groete aan al julle voorgangers en aan al die gelowiges. Dié wat van Italië afkomstig is, stuur ook vir julle groete.

25

Die genade van God sal by julle almal wees!