1
Van Paulus, 'n dienaar van God en 'n apostel van Jesus Christus. Ek het die opdrag ontvang om die uitverkorenes van God te lei tot die geloof en tot kennis van die waarheid, dié waarheid wat lei tot die diens van God2 en wat hoop gee op die ewige lewe. God wat sy woord hou, het die ewige lewe lank gelede aan ons belowe.
3 Nou het Hy op die bestemde tyd sy woord bekend gemaak deur die prediking wat as opdrag aan my toevertrou is deur God ons Verlosser.
4
Aan Titus, my eie kind in die geloof wat ons albei bely. Genade en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Verlosser!5
Ek het jou op Kreta agtergelaat met die bedoeling dat jy die dinge wat nog gereël moes word, in orde moet bring en dat jy in elke dorp ouderlinge moet aanstel soos ek dit aan jou opgedra het.6 'n Ouderling moet onberispelik van gedrag wees; hy moet aan sy vrou getrou wees, en sy kinders moet gelowig wees en nie die naam hê dat hulle losbandig lewe en teen gesag in opstand kom nie.
7 'n Ouderling is immers 'n bestuurder van die huishouding van God. Daarom moet hy onberispelik van gedrag wees, nie aanmatigend en opvlieënd nie, nie 'n dronkaard of 'n rusiemaker of 'n soeker na oneerlike wins nie.
8 Hy moet gasvry wees, lief vir wat goed is, verstandig, regverdig, vroom en selfbeheers.
9 Hy moet vashou aan die betroubare woord waarin hy onderrig is. Dan sal hy in staat wees om ander met die gesonde leer aan te moedig en die argumente van teenstanders te weerlê.
10
Daar is baie, veral onder die bekeerlinge uit die Jodedom, wat in opstand kom teen gesag, wat onsin praat en mense verlei.11 Hulle mond moet gesnoer word. Hulle bring hele huisgesinne in beroering deur dinge te leer wat nie toelaatbaar is nie, en dít net om skaamteloos geld te maak.
12 Een van hulle mense, hulle eie profeet, het gesê:
“Die Kretensers is altyd leuenaars, ongediertes, lui vrate.”13
Hierdie getuienis is waar. Daarom moet jy hulle streng teregwys, sodat hulle gesond kan word in die geloof.14 Hulle moet hulle nie langer besig hou met Joodse verdigsels en met die voorskrifte van mense wat van die waarheid afgedwaal het nie.
15 Vir die reines is alles rein, maar vir die besoedeldes en ongelowiges is niks rein nie, want hulle verstand en hulle gewete is besoedel.
16 Hulle gee voor dat hulle God ken, maar hulle dade weerspreek dit. Hulle is verfoeilik en koppig en deug vir geen goeie werk nie.
1
Maar jy moet verkondig wat in ooreenstemming is met die gesonde leer.2 Sê vir die ouer mans hulle moet nugter wees, eerbaar, verstandig, gesond en vas in geloof, liefde en volharding.
3 Net so moet jy ook vir die ouer vroue sê hulle gedrag moet dié wees van mense wat 'n heilige lewe lei. Hulle moenie kwaadpraat of aan drank verslaaf wees nie. Hulle moet goeie raad kan gee,
4 sodat hulle die jonger vrouens kan leer om liefdevol teenoor hulle mans en kinders te wees,
5 verstandig en kuis, goeie huisvrouens, onderdanig aan hulle mans. Dan sal die woord van God nie in diskrediet kom nie.
6
Net so moet jy die jonger mans vermaan om hulle verstandig te gedra.7 In alles moet jy self vir hulle 'n voorbeeld stel van goeie werk, suiwerheid in die leer, waardigheid in gedrag,
8 gesonde en onaanvegbare prediking. Dan sal elke teenstander in die verleentheid kom dat hy niks slegs van ons sal kan sê nie.
9
Die slawe moet in alles aan hulle eienaars onderdanig wees en hulle tevrede stel. Hulle moenie teëpraat10 of iets vat nie; hulle moet bewys dat hulle in alles betroubaar is. So sal hulle in alles wat hulle doen, die aansien van die leer van God ons Verlosser verhoog.
11
Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn.12 Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe,
13 terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn.
14 Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen.
15
Dit is die dinge waaroor jy moet praat. Gebruik jou volle gesag om aan te moedig en tereg te wys. Gee aan niemand aanleiding om op jou neer te sien nie.1
Herinner die mense nadruklik daaraan dat hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp, daaraan gehoorsaam moet wees en bereid moet wees om alles te doen wat goed is.2 Hulle moet van niemand kwaadpraat nie en nie rusie soek nie. Hulle moet inskiklik wees en altyd bedagsaam teenoor almal.
3
Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat.4 Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn.
5 Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee.
6 God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser.
7 So is ons dan deur sy genade vrygespreek en het ons erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag.
8
Dit is 'n betroubare woord. Daarom wil ek hê dat jy van hierdie dinge met groot nadruk moet getuig, sodat dié wat tot geloof in God gekom het, hulle op goeie werk kan toelê, werk wat goed en nuttig is vir die mense.9 Maar jy moet jou nie inlaat met dwase strydvrae en geslagsregisters en met getwis en stryery oor die wet van Moses nie, want dit is nutteloos en sinloos.
10 Met iemand wat na twee vermanings nog skeuring veroorsaak, moet jy niks te doen hê nie,
11 omdat jy weet dat so 'n man op die verkeerde pad is. Deur sy sonde bring hy die oordeel oor homself.
12
Sodra ek vir Artemas of Tigikus na jou toe stuur, moet jy probeer om na my toe te kom in Nikopolis, want ek het besluit om die winter daar oor te bly.13 Doen ook jou bes om vir Senas, die regsgeleerde, en Apollos voort te help op hulle reis, en sorg dat hulle niks kortkom nie.
14
Ons mense moet ook leer om met eerlike werk in die noodsaaklike lewensbehoeftes te voorsien. Dan sal hulle lewe nie onvrugbaar wees nie.15
Almal wat hier by my is, stuur vir jou groete. Gee ons groete aan ons vriende in die geloof. Die genade sal by julle almal wees!