1

1

Van Paulus, 'n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, gestuur om die belofte te verkondig van die lewe in Christus Jesus.

2

Aan Timoteus, my geliefde seun.

Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here!

3

Ek dank God, wat ek net soos my voorouers met 'n skoon gewete dien, wanneer ek onophoudelik dag en nag in my gebede aan jou dink.

4 Ek onthou jou afskeidstrane en wil jou baie graag weer sien. Dit sal vir my 'n groot vreugde wees.

5 Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.

6

Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos 'n vuur weer moet aanblaas.

7 Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.

8

Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie; en moet jou ook nie skaam vir my wat om sy ontwil 'n gevangene is nie. Inteendeel, dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee.

9 Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het.

10 Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring.

11 Van hierdie evangelie het Hy my aangestel as prediker en apostel en leraar.

12

Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou.

13

Neem die woorde wat jy van my gehoor het, as voorbeeld van gesonde verkondiging en volg dit na in die geloof en liefde wat ons in Christus Jesus het.

14 Wat aan jou toevertrou is, is goed. Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon.

15

Soos jy weet, het almal in die provinsie Asië my in die steek gelaat. Onder hulle is daar ook Figelus en Hermogenes.

16

Mag die Here barmhartigheid bewys aan die huisgesin van Onesiforus, want hy het my dikwels kom opbeur. Hy het hom nie daarvoor geskaam dat ek in boeie sit nie,

17 maar toe hy in Rome kom, het hy ywerig na my gesoek tot hy my gekry het.

18 Mag die Here gee dat hy by Hom ontferming vind op die dag dat Hy weer kom. En wat Onesiforus alles in Efese vir my gedoen het, weet jy self baie goed.

2

1

Jy dan, my seun, wees sterk deur die genade wat ons in Christus Jesus het.

2 Wat jy my voor baie getuies hoor verkondig het, moet jy toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om dit ook aan ander te leer.

3

Dra jou deel van die ontberings soos 'n goeie soldaat van Christus Jesus.

4 'n Soldaat in aktiewe diens wat sy bevelvoerder tevrede wil stel, bemoei hom nie met die dinge van die gewone lewe nie.

5 'n Atleet wat aan 'n wedstryd deelneem, kan die prys wen slegs as hy volgens die reëls meeding.

6 Die boer wat die harde werk doen, behoort eerste 'n deel van die oes te kry.

7 Dink na oor wat ek sê; die Here sal jou insig gee om alles te verstaan.

8

Onthou altyd dat Jesus Christus, 'n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek is. Dit is die evangelie wat ek verkondig.

9 Vir hierdie evangelie ly ek verdrukking, selfs in boeie soos 'n misdadiger, maar die woord van God kan nie geboei word nie.

10 Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing, wat daar in Christus Jesus is, en die ewige heerlikheid kan ontvang.

11 Dit is 'n betroubare woord:

As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom lewe;

12
as ons in die geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer;
as ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën;

13
as ons ontrou is — Hy bly getrou:
Hy kan Homself nie verloën nie.

14

Hou aan om die gelowiges aan hierdie dinge te herinner en vermaan hulle ernstig voor God om op te hou stry oor woorde. Dit het geen nut nie en is net skadelik vir die hoorders.

15 Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as 'n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, 'n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig.

16 Maar die onheilige en sinlose praatjies moet jy vermy, want dié wat dit versprei, sal nog verder in goddeloosheid verval,

17 en hulle woorde sal voortvreet soos kanker. Onder hulle is daar Himeneus en Filetus,

18 wat van die waarheid afgedwaal het deur te sê dat die opstanding alreeds plaasgevind het. Daarmee vernietig hulle die geloof van sommige.

19 Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas met dié woorde daarop gegraveer:

“Die Here ken dié wat aan Hom behoort,”

en:

“Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort,
moet wegbreek van die ongeregtigheid.”

20

In 'n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en klei. Sommige is vir besondere gebruik en ander vir die alledaagse.

21 As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy 'n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.

22

Vermy die begeertes wat 'n jongmens in gevaar bring, en streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit 'n rein hart die Here aanroep.

23 Moet jou nie met dwase en sinlose strydvrae inlaat nie, want jy weet tog dat dit net rusies veroorsaak.

24 'n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra.

25 Met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys. Dit kan wees dat God hulle bekeer en hulle tot kennis van die waarheid bring.

26 Dan sal hulle weer tot nugtere insig kom en vry raak uit die vangstrik van die duiwel, waarmee hy hulle gevange gehou het om sy wil te gehoorsaam.

3

1

Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom.

2 Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig;

3 hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed, sonder liefde vir die goeie;

4 hulle sal verraaiers wees, roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God.

5 Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.

6 Party van hulle dring in die huise in en kry liggelowige vroue wat met sonde belaai is en deur allerlei sinlike begeertes gedryf word, in hulle mag,

7 vroue wat altyd iets wil leer, maar tog nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie.

8 Net soos Jannes en Jambres hulle teen Moses verset het, so verset hierdie mense hulle teen die waarheid, mense wat in die verstand verward is en in die geloof 'n mislukking.

9 Maar hulle sal nie ver kom nie, omdat hulle dwaasheid vir almal duidelik sal wees, net soos dit die geval was met Jannes en Jambres.

10

Maar jy het my nagevolg in leer, lewenswandel en lewensdoel, in geloof, geduld, liefde en volharding,

11 in vervolging en ontbering soos my te beurt geval het in Antiogië, Ikonium en Listra. Watter vervolging moes ek nie alles verduur nie! Maar die Here het my uit almal gered.

12 Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word.

13 Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger. Hulle mislei ander en word self mislei.

14

Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was

15 en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus.

16 Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek,

17 sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.

4

1

Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy koningskap:

2 verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee,

3 want daar sal 'n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor.

4 Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend.

5 Maar bly jy in alle omstandighede nugter, verdra lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie, voer al die pligte van jou bediening uit.

6

Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur.

7 Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou.

8 Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.

9

Probeer so gou moontlik na my toe kom,

10 want Demas het die teenswoordige wêreld liefgekry en my verlaat en na Tessalonika vertrek. Kressens is na Galasië en Titus na Dalmasië toe.

11 Net Lukas is by my. Gaan haal vir Markus en bring hom saam met jou, want hy kan my tot groot diens wees.

12 Tigikus het ek na Efese toe gestuur.

13 As jy kom, moet jy die reismantel saambring wat ek by Karpus in Troas laat bly het, en ook die boeke, veral die perkamente.

14

Aleksander, die kopersmid, het my baie kwaad aangedoen. Mag die Here hom vergeld vir wat hy gedoen het.

15 Jy moet ook vir hom op jou hoede wees, want hy het ons prediking heftig teengewerk.

16

Toe ek my die eerste keer voor die hof moes verdedig, het niemand my bygestaan nie; almal het my in die steek gelaat. Mag God hulle dit nie toereken nie!

17 Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking tot sy volle reg kon kom en al die heidennasies dit kon hoor. En ek is uit die bek van die leeu gered.

18

Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen.

19

Groete aan Priscilla en Akwila en aan die huisgesin van Onesiforus.

20 Erastus het in Korinte agtergebly; Trofimus het ek in Milete siek agtergelaat.

21 Doen jou bes om nog voor die winter te kom. Eubulus, Pudens, Linos, Claudia en al die broers stuur vir jou groete.

Die Here sal by jou wees.

22

Die genade sal by julle wees!