1
Van Paulus, Silvanus en Timoteus. Aan die gemeente van die Tessalonisense wat aan God ons Vader en die Here Jesus Christus behoort.2
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!3
Ons moet God altyd vir julle dank, broers. En dit is ook reg, want julle geloof neem sterk toe, en sonder uitsondering word julle liefde vir mekaar altyd meer.4 Daarom praat ons met trots van julle in al die gemeentes van God en vertel ons van julle volharding en geloof onder al die vervolging en lyding wat julle moet verduur.
5
Dit alles is 'n bewys van die regverdige oordeel van God, naamlik dat Hy julle geskik geag het vir sy koninkryk, waarvoor julle nou ook ly.6 God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly;
7 en aan julle lyding, en ons s'n, sal Hy 'n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele
8 in 'n vuurvlam uit die hemel verskyn. Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie.
9 Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag.
10 Dit sal gebeur op die dag wanneer Hy kom om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort, om eer te ontvang van almal wat glo. Julle sal ook daar wees, want julle het ons getuienis aan julle geglo.
11
Daarom bid ons ook altyd vir julle: Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het, en mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak.12 So sal die Naam van ons Here Jesus deur julle verheerlik word, en julle deur Hom, in ooreenstemming met die genade van ons God en van die Here Jesus Christus.
1
En nou, broers, wat betref die wederkoms van ons Here Jesus Christus en ons hereniging met Hom, het ek 'n ernstige versoek aan julle:2 Moenie so gou verward raak of van stryk gebring word as iemand vir julle sou sê die dag van die Here is al hier nie — of dit nou vir julle gesê word in 'n profetiese uitspraak of in 'n preek of in 'n brief wat sogenaamd van ons afkomstig sou wees.
3 Laat niemand julle op watter manier ook al mislei nie. Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die laaste afvalligheid gekom het en die wettelose mens wat vir die verderf bestem is, sy verskyning gemaak het nie.
4 Hy sal hom verset teen al wat God genoem word of wat as heilig vereer word, en hy sal hom bo hulle verhef. Hy sal selfs in die tempel van God gaan sit en voorgee dat hy God is.
5
Onthou julle nie dat ek dit herhaaldelik vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie?6 En julle weet nou wat hom nog teëhou, sodat hy eers as dit sy tyd is, sy verskyning sal maak.
7 Die geheime krag van die wetteloosheid is al aan die werk, maar die een wat die wettelose teëhou, moet eers uit die weg wees,
8 en dan sal die wettelose self op die toneel verskyn. Maar wanneer die Here Jesus kom, sal Hy hom met die asem uit sy mond verdelg en deur die glans van sy verskyning vernietig.
9
Deur die werking van die Satan sal die verskyning van die wettelose gepaardgaan met groot magsvertoon en allerhande vals tekens en wonders10 en met gruwelike misleiding van dié wat verlore gaan, omdat hulle nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie.
11 Dit is ook waarom God hulle aan die mag van die dwaling oorgee, sodat hulle die leuen sal glo.
12 En so sal almal wat nie die waarheid geglo het nie, maar die ongeregtigheid verkies het, veroordeel word.
13
Ons moet God altyd vir julle dank, broers. Die Here het julle lief, en God het julle uitverkies om van die eerstes te wees wat gered word. Julle is gered deurdat die Gees julle vir Hom afgesonder het en deurdat julle die waarheid glo.14 Hy het julle hiertoe geroep deur die evangelie wat ons aan julle verkondig het, sodat julle deel kan kry aan die heerlikheid van ons Here Jesus Christus.
15
Wees dan standvastig, broers, en hou vas aan die leer wat ons aan julle oorgedra het, of dit deur ons prediking of deur 'n brief was.16
[16-17] En mag julle in al die goeie wat julle in woord en daad doen, bemoedig en gesterk word deur ons Here Jesus Christus en God ons Vader. Hy het aan ons sy liefde bewys en aan ons deur sy genade 'n blywende troos en goeie hoop gegee.1
Verder, broers, bid vir ons, sodat die woord van die Here vinnig mag versprei en oral in ere gehou mag word soos by julle.2 Bid ook dat ons van verkeerde en slegte mense verlos word, want nie almal is gelowiges nie.
3
Die Here is getrou; Hy sal julle versterk en julle van die Bose bewaar.4 Deur die Here het ons vertroue in julle dat julle doen en sal doen wat ons julle voorhou.
5
Mag die Here julle gedagtes rig op die liefde van God en die volharding van Christus!6
Ons beveel julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus: Onttrek julle aan elke broer wat leeglê en hom nie hou aan die opdragte wat julle van ons ontvang het nie.7
Julle weet self watter voorbeeld ons vir julle gestel het om te volg. Ons het nie daar by julle leeggelê8 of op ander geteer nie. Inteendeel, ons het dag en nag geswoeg en gesweet om nie vir een van julle 'n las te wees nie.
9 Nie dat ons nie die reg het op onderhoud van julle nie, maar ons wou vir julle 'n voorbeeld wees wat julle moet volg.
10 Toe ons nog by julle was, het ons vir julle uitdruklik gesê: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.”
11
Ons sê dit omdat ons verneem dat daar mense by julle is wat leeglê, wat self nie werk nie en hulle net met ander se sake bemoei.12 Sulke mense beveel en gebied ons op gesag van die Here Jesus Christus dat hulle hulle aandag by hulle werk moet bepaal en hulle eie brood verdien.
13
Wat julle betref, broers: Moenie moeg word om goed te doen nie.14 En as iemand nie ons bevele, soos ons dit in hierdie brief vir julle gee, gehoorsaam nie, sonder dan daardie man af en vermy hom, dat hy kan skaam kry.
15 Moet hom egter nie soos 'n vyand behandel nie, maar wys hom tereg soos 'n broer.
16
Mag die Here, wat vrede gee, julle altyd in alle opsigte vrede gee! Die Here sal by julle almal wees!17
Nou skryf ek met my eie hand. Groete, Paulus. So teken ek elke brief. Dit is my handskrif.18
Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle almal wees!