1
Van Paulus, 'n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, en van die broer Timoteus.2
Aan almal in Kolosse wat aan God behoort, getroue broers in Christus. Genade en vrede vir julle van God ons Vader!3
Wanneer ons tot God, die Vader van ons Here Jesus Christus, bid, dank ons Hom altyd vir julle4 omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges.
5 Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is.
6 Die evangelie het julle bereik, en net soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei, gebeur dit ook by julle van die dag af dat julle van God se genade gehoor het en dit leer ken het soos dit werklik is.
7 Julle is daarin onderrig deur Epafras, ons geliefde medewerker en 'n getroue dienaar van Christus in julle belang.
8 Dit is ook hy wat ons vertel het van die liefde wat deur die Gees in julle gewek is.
9
Daarom, van die dag af dat ons van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken,10 sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God.
11 Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard.
12 Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig.
13 Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.
14 Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes.
15
Die Seun is die beeld van God,
van God wat self nie gesien kan word nie.
Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping.
16
God het deur Hom alles geskep
wat in die hemel en op die aarde is:
alles wat gesien kan word
en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders.
Alles is deur Hom en vir Hom geskep.
17
Voor alles was Hy al daar,
en deur Hom bly alles in stand.
18
Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk.
Hy is die oorsprong daarvan,
Hy is die Eerste,
die Een wat uit die dood opgestaan het,
sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem.
19
God het besluit
om met sy volle wese in Hom te woon
20
en om deur Hom alles
met Homself te versoen.
Deur die bloed van sy Seun aan die kruis
het Hy die vrede herstel,
deur Hom het Hy alles op die aarde
en in die hemel met Homself versoen.
21
Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse.22 Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel.
23 Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie. Dit is die evangelie wat aan al die mense op die aarde verkondig is en waarvan ek, Paulus, 'n dienaar geword het.
24
Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie. Ek verduur my deel daarvan ter wille van sy liggaam, die kerk,25 waarvan ek 'n dienaar geword het volgens die opdrag wat God my gegee het om sy woord ten volle aan julle bekend te maak.
26 Dit is die geheimenis wat eeue en geslagte lank verborge was, maar wat nou geopenbaar is aan die mense wat aan Hom behoort.
27 God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.
28 Hóm verkondig ons deurdat ons alle mense met alle moontlike wysheid onderrig en leer, sodat ons elke mens tot geestelike volwassenheid in Christus kan bring.
29 Daarvoor span ek my ook in en beywer ek my met die krag wat Hy gee en wat kragtig in my werk.
1
Ek wil hê julle moet weet hoe sterk ek my beywer vir julle en vir die gelowiges in Laodisea en vir al die ander wat my ook nog nie persoonlik gesien het nie.2 My doel daarmee is dat hulle bemoedig moet word. Hulle moet met liefde aan mekaar verbind wees en saam strewe na diep en volledige insig, sodat hulle God se geheimenis kan ken. Die geheimenis is Christus,
3 en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind.
4
Ek beklemtoon dit, sodat niemand julle met vals redenasies mislei nie.5 Al is ek nou nie persoonlik daar nie, is ek tog in die gees by julle en is ek bly om te sien dat julle die goeie orde handhaaf en dat julle geloof in Christus stewig vas staan.
6
Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe,7 in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul.
8
Pas op dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie. Dit is dinge wat berus op die oorlewering van mense, op wettiese godsdienstige reëls en nie op Christus nie.9 In Hom is die volle wese van God beliggaam,
10 en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid. Hy is die hoof oor elke mag en gesag.
11 Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens.
12 Dit het by die doop gebeur deurdat julle toe saam met Hom begrawe is. Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook saam met Hom opgewek, omdat julle geglo het in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het.
13 Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het.
14 Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.
15 Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.
16
Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie , of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie.17 Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus.
18 Moenie dat iemand wat behae skep in danige nederigheid en in die aanbidding van engele en wat voorgee dat hy allerhande visioene gesien het, julle daarmee mislei nie. So iemand verhef hom oor wat hy in eiewaan van homself dink,
19 en hy hou nie aan die hoof, aan Christus, vas nie. Uit Christus groei die hele liggaam, ondersteun deur die gewrigte en saamgebind deur die spiere, soos God dit laat groei.
20
Julle het saam met Christus gesterwe en is dus dood vir die wettiese godsdienstige reëls van hierdie wêreld. Waarom lewe julle dan nog asof julle aan hierdie wêreld behoort? Waarom gehoorsaam julle allerhande voorskrifte21 soos: “Hieraan mag jy nie vat nie!” “Daaraan mag jy jou mond nie sit nie!” “Daaraan mag jy nie raak nie!”?
22 Dit gaan alles oor dinge wat bedoel is om gebruik te word en te vergaan, en dit is maar net gebooie en leerstellings van mense.
23 Hierdie leerstellings het wel 'n skyn van wysheid met hulle selfgemaakte godsdiens, danige nederigheid en streng beheersing van die liggaam, maar dit het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte nie.
1
Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.2 Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie,
3 want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.
4 Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.
5
Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is.6 Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is.
7 Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het.
8 Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie,
9 en moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek
10 en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.
11 Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.
12
Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie liefhet. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees.13 Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.
14 Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.
15 En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar.
16 Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing.
17 En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.
18
Vrouens, wees aan julle mans onderdanig soos dit pas by mense wat in die Here glo.19
Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir hulle bitter maak nie.20
Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want die Here verlang dit van kinders wat in Hom glo.21
Vaders, moenie gedurig by julle kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie.22
Slawe, wees in alles gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde. Moenie net werk om deur hulle raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie, maar werk met 'n opregte hart uit eerbied vir die Here.23 Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,
24 omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan.
25 Wie onreg doen, sal gestraf word oor die onreg wat hy gedoen het; die Here trek niemand voor nie.
1
Eienaars, behandel julle slawe reg en billik in die wete dat julle ook onder iemand staan, onder die Here in die hemel.2
Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar3 en bid tegelykertyd ook vir ons. Bid dat God vir ons 'n deur vir die woord oopmaak sodat ons die geheimenis van Christus kan verkondig waarvoor ek hier gevange sit.
4 Bid dat ek dit duidelik sal verkondig soos dit my opgelê is.
5
Tree met wysheid op teenoor die mense wat nog buite die gemeente is. Maak die beste gebruik van elke geleentheid.6 Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.
7
Tigikus, die medegelowige wat ek baie liefhet, sal julle alles vertel van hoe dit met my gaan. Hy is 'n getroue dienaar en werk saam met my in diens van die Here.8 Ek stuur hom na julle toe juis sodat julle kan hoor hoe dit hier by ons gaan en sodat hy die kommer in julle gemoed kan wegneem.
9 Onesimus, die getroue medegelowige wat ek baie liefhet en wat een van julle is, gaan saam met hom. Hulle sal julle alles vertel van hoe dit hier gaan.
10
Aristargos, wat hier saam met my gevange sit, stuur vir julle groete; ook Markus, die neef van Barnabas. Oor hom het julle reeds opdragte gekry: as hy daar by julle kom, moet julle hom gasvry ontvang.11 Verder stuur Jesus, wat ook Justus genoem word, groete. Hulle drie is die enigste Jode wat saam met my werk vir die koninkryk van God. Hulle is vir my 'n groot troos.
12
Epafras, wat een van julle is, stuur vir julle groete. Hy staan in diens van Christus Jesus en bid altyd ernstig vir julle dat julle staande mag bly, geestelik volwasse en in alles volkome gehoorsaam aan die wil van God.13 Ek kan van hom getuig dat hy baie vir julle doen asook vir die gelowiges in Laodisea en in Hiërapolis.
14
Lukas, die dokter wat ek baie liefhet, en Demas stuur vir julle groete.15
Dra my groete oor aan die gelowiges in Laodisea en aan Nimfa en die gemeente wat gereeld in haar huis bymekaarkom.16
Wanneer hierdie brief klaar by julle voorgelees is, moet julle reëlings tref dat dit ook in die gemeente van die Laodisense voorgelees kan word; en die een wat van Laodisea af sal kom, moet ook by julle voorgelees word.17
En sê vir Argippus: “Gee jou aandag aan die taak wat jy in diens van die Here aanvaar het, sodat jy dit kan voltooi.”18
Nou skrywe ek met my eie hand. Groete, Paulus. Dink aan my waar ek hier gevange sit. Die genade sal by julle wees.