1
Van Paulus en Timoteus, dienaars van Christus Jesus. Aan almal in Filippi wat deur Christus Jesus aan God behoort, met hulle ouderlinge en diakens.2
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!3
Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink.4 In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal,
5 omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie.
6 Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.
7
Dit is ook heeltemal reg dat ek so oor julle almal dink, omdat julle my na aan die hart lê. Julle deel immers almal saam met my in die genade wat God my gee, sowel in my gevangenskap as in my verdediging van die evangelie en die bevestiging van die waarheid daarvan.8 God is my getuie, Hy weet hoe ek na julle almal verlang met die liefde van Christus Jesus in my hart.
9
Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling,10 sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees,
11 en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.
12
Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het.13 Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek 'n gevangene is.
14 Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk, en hulle waag dit al hoe meer om die woord van God onbevrees te verkondig.
15
Daar is wel party wat Christus verkondig omdat hulle jaloers op my is en iets teen my het, maar ander doen dit met opregte bedoelings.16 Laasgenoemdes verkondig Christus omdat hulle my liefhet en weet dat dit my taak is om die evangelie te verdedig;
17 maar eersgenoemdes maak Christus bekend uit selfsugtige en onsuiwere bedoelings. Hulle oogmerk is om die gevangenskap vir my nog swaarder te maak.
18 Maar wat maak dit saak? In elk geval, of dit met bybedoelings is of in opregtheid, op allerhande maniere word Christus bekend gemaak, en daaroor is ek bly. En ek sal my ook verder verbly,
19 want ek weet dat alles op my redding sal uitloop omdat julle vir my bid en die Gees van Jesus Christus my bystaan.
20 Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe,
21 want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.
22 As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie.
23 Ek is in 'n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste;
24 maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe.
25 Omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek sal bly, ja, vir julle almal behoue sal bly, sodat julle kan toeneem in geloof, en blydskap in julle geloof kan hê.
26 As ek weer by julle kom, sal julle oorvloedige rede hê om Christus Jesus oor my te prys.
27
Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. As ek dan kom, sal ek self sien, of as ek nie kan kom nie, sal ek deur berigte hoor dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie28 en julle in geen opsig deur die teenstanders laat afskrik nie. Dit is vir hulle 'n teken van húlle ondergang en van júlle redding, en dit kom van God.
29 God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly.
30 Julle en ek het dieselfde stryd wat julle my vroeër al sien stry het en waarvan julle hoor dat ek nou nog stry.
1
Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing —2 maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe.
3 Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.
4 Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.
5
Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:6
Hy wat in die gestalte van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,
7
maar Hy het Homself verneder
deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem
en aan mense gelyk te word.
8
het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.
9
Daarom het God Hom10
sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is,
die knie sou buig,
11
en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader.
12
My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe,13 want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.
14
Doen alles sonder kla of teëpraat.15 Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld
16 deur die woord van die lewe uit te dra. Dan sal ek op die dag van Christus se koms rede hê om trots te wees, omdat dit sal blyk dat ek my nie verniet ingespan het nie en nie verniet geswoeg het nie.
17 Julle geloof is 'n offer in diens van God. Selfs al word my bloed daarby as drankoffer uitgegiet, is ek daaroor bly, ja, is ek saam met julle almal bly.
18 Om dieselfde rede moet julle ook bly wees, ja, saam met my bly wees.
19
Ek hoop om, as die Here Jesus wil, Timoteus gou na julle toe te stuur, sodat ek ook rus in my gemoed kan hê as ek gehoor het hoe dit met julle gaan.20 Ek het trouens niemand met dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal behartig nie.
21 Al die ander soek net hulle eie belange, nie dié van Jesus Christus nie.
22 Maar julle weet hoe betroubaar Timoteus is. Soos 'n kind saam met sy vader, het hy saam met my die saak van die evangelie gedien.
23 Ek hoop om hom dadelik te stuur, sodra ek gesien het hoe my sake verloop.
24 En ek vertrou dat, as die Here wil, ek self ook gou na julle toe sal kan kom.
25
Ek ag dit noodsaaklik om die broer Epafroditos, my medewerker en medestryder wat deur julle hierheen gestuur is om my in my omstandighede by te staan, na julle toe terug te stuur.26 Hy verlang gedurig na julle almal en bly hom daaroor kwel dat julle van sy siekte gehoor het.
27 Hy was ook inderdaad doodsiek, maar God het Hom oor Epafroditos ontferm, en nie net oor hom nie, maar ook oor my sodat ek nie verdriet op verdriet sou hê nie.
28 Ek stuur hom dan nou ook so gou moontlik terug, sodat as julle hom weer sien, julle weer bly kan wees en ek minder besorg.
29 Ontvang hom met oop arms as 'n broer in die Here, en bejeën manne soos hy met agting,
30 want deur sy werk vir Christus het hy by die dood omgedraai. Hy het sy lewe gewaag om my die hulp te verleen wat julle self nie kon gee nie.
1
Verder, my broers, wees bly in die Here! Om dieselfde dinge aan julle te skrywe, is vir my nie moeite nie, en vir julle gee dit sekerheid.2
Pas op vir daardie dwaalleraars;
pas op vir daardie mense wat kwaad stig;
pas op vir daardie betekenislose besnydenis!
3
Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie.4 Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer:
5 ek is op die agste dag besny, van geboorte 'n Israeliet, uit die stam Benjamin, 'n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek 'n Fariseër,
6 in my ywer 'n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik.
7
Maar wat eers vir my 'n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus,8 ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry
9 en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat 'n mens in Hom glo.
10 Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood,
11 in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.
12
Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.13 Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.
14 Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.
15
Ons almal wat geestelik volwasse is, moet hierdie gesindheid hê. En as julle in enige opsig anders daaroor dink — God sal ook hierin aan julle die regte insig gee.16 In elk geval, laat ons koers hou op die pad waarmee ons tot hiertoe gekom het.
17
Wees my navolgers, broers, en let op die mense wat lewe volgens die voorbeeld wat ons vir julle stel.18 Ek het dikwels vir julle gesê en tot my verdriet moet ek dit nou herhaal: Daar is baie wat as vyande van die kruis van Christus lewe.
19 Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind.
20 Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.
21 Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.
1
Daarom, my broers, moet julle vas staan en getrou bly aan die Here. Ek het julle baie lief en verlang na julle. Julle is my blydskap en my kroon.2
Ek vermaan vir Euodia en ek vermaan vir Sintige om eensgesind te wees in die Here.3 Ja, ek vra jou ook, getroue medewerker, wees hierdie vroue behulpsaam. Hulle het saam met my die stryd gevoer in diens van die evangelie, net soos Klemens ook en my ander medewerkers, wie se name in die boek van die lewe staan.
4
Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!5 Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.
6 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.
7 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
8
Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is — watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees — daarop moet julle julle gedagtes rig.9 En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.
10
Ek was baie bly in die Here dat julle na so 'n lang tyd weer gewys het dat julle nog aan my dink. Nie dat julle my ooit vergeet het nie, julle het net nie die kans gehad om iets te doen nie.11 Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp.
12 Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.
13 Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.
14 Nietemin het julle goed gedoen deur my in my moeilike omstandighede by te staan.
15
Julle in Filippi weet ook dat in die begin van my evangelieprediking, na my vertrek uit Masedonië, geen enkele gemeente behalwe julle 'n aandeel gehad het aan my rekening van inkomste en uitgawe nie.16 Ook toe ek in Tessalonika was, het julle meer as een maal iets vir my behoeftes gestuur.
17 Dit gaan vir my egter nie om die gawe nie, maar om die vrug daarvan: daardeur word julle self ryker.
18 Maar ek het alles ontvang en ek het meer as genoeg. Noudat ek van Epafroditos ontvang het wat julle gestuur het, het ek alles wat ek nodig het. Julle gawe is voor God 'n offer met lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig.
19 En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.
20 Aan ons God en Vader behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.
21
Groete aan almal wat aan God behoort deur Christus Jesus. Die broers hier by my stuur vir julle groete.22 Ook al die gelowiges en veral dié wat aan die huis van die keiser verbonde is, stuur vir julle groete.
23 Die genade van die Here Jesus Christus sal by julle wees.