1

1

Van Paulus, 'n apostel van Christus Jesus deur die wil van God.

Aan almal in Efese wat aan God behoort en in Christus Jesus glo.

2

Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

3

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.

4 So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.

5 In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.

6 Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het.

7 Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God

8 wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het.

9 Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak

10 en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus.

11 Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit.

12 Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys.

13 Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël.

14 Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.

15

Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges,

16 hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie. Wanneer ek in my gebede aan julle dink,

17 bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.

18 Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het,

19 en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag

20 wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het:

21 hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom.

22 Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk.

23 Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

2

1

Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes

2 wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.

3

So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word.

4 Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief.

5 Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!

6 Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom 'n plek in die hemel gegee,

7 sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.

8

Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God.

9 Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.

10 Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

11

Hou dan in gedagte wat julle vroeër was. Van geboorte was julle heidene, en julle is “onbesnedenes” genoem deur dié wat hulleself “die besnedenes” noem, al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam.

12 In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld.

13

Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus.

14 Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos 'n muur skeiding gemaak het.

15 Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te maak, het Hy in Homself dié twee, Jode en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig.

16 Deur sy dood aan die kruis het Hy 'n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig.

17 Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was.

18 Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader.

19

Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God.

20 Julle is 'n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, 'n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is.

21 In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot 'n heilige tempel vir die Here,

22 in wie julle ook saam opgebou word as 'n geestelike huis waarin God woon.

3

1

Daarom bid ek vir julle wat nie Jode is nie, ek, Paulus, 'n gevangene deur my diens aan Christus Jesus.

2

Julle het tog seker gehoor van die opdrag wat God in sy genade aan my gegee het in julle belang.

3 Hy het sy geheimenis deur 'n openbaring aan my bekend gemaak, soos ek dit hierbo kortliks beskrywe het,

4 en as julle dit lees, sal julle 'n begrip kry van my insig in die geheimenis van Christus.

5 Nog nooit tevore in die geskiedenis is die geheimenis aan die mensdom bekend gemaak soos God dit nou deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar het nie.

6 En dít is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.

7

Van hierdie evangelie het ek 'n dienaar geword, 'n voorreg wat God in sy genade aan my gegee het deur sy krag in my te laat werk.

8 Hoewel ek die geringste van al die gelowiges is, het Hy aan my hierdie voorreg gegee om aan die heidennasies die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig.

9 Ek moet aan almal bekend maak hoe God, die Skepper van alle dinge, nou sy verborge plan uitvoer nadat Hy dit deur al die eeue geheim laat bly het.

10 Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim,

11 soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring.

12 In ons verbondenheid met Hom en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan.

13 Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word omdat ek om julle ontwil ly nie. Julle moet dit eerder as 'n eer beskou.

14

Daarom kniel ek in gebed voor die Vader

15 aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het.

16 Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word,

17 dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.

18 Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.

19 Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.

20

Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink,

21 aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.

4

1

Ek druk julle dit op die hart, ek wat 'n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het.

2 Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde.

3 Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.

4

Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het.

5 Daar is net één Here, één geloof, één doop,

6 één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.

7

Aan elkeen van ons is 'n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het.

8 Daarom sê die Skrif:

“Toe Hy na die hoogte opgevaar het,
het Hy krygsgevangenes saamgeneem en gawes aan die mense gegee.”

9

Hierdie uitdrukking: “Hy het opgevaar”, veronderstel tog dat Hy eers neergedaal het na wat laer is, naamlik na die aarde toe.

10 Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul.

11 En dít is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars.

12 Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus.

13 So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos 'n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.

14 Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie.

15 Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof,

16 en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam 'n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.

17

In die Naam van die Here doen ek 'n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks,

18 hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard.

19 Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met 'n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen.

20

Maar dit is nie hoe julle Christus leer ken het nie.

21 Julle het tog van Hom gehoor, en omdat julle sy volgelinge is, is julle onderrig volgens die waarheid wat in Jesus is.

22 Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word.

23 Julle gees en gedagtes moet nuut word;

24 lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.

25

Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam.

26

As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie 'n dag kwaad afsluit nie.

27 Moenie die duiwel vatkans gee nie.

28

As iemand 'n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op 'n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee.

29

Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.

30

En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.

31

Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie.

32 Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.

5

1

Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg.

2 Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as 'n offergawe gegee het, ja, 'n offer wat vir God aanneemlik was.

3

Soos dit gelowiges betaam, moet daar van ontug, onsedelikheid in enige vorm, of gierigheid onder julle selfs geen sprake wees nie.

4 Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie; nee, dank aan God pas by julle.

5 Dít moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of 'n gierigaard is — want gierigheid is afgodery — het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie.

6

Moenie dat iemand julle met allerlei onwaarhede mislei nie, want daardeur kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is.

7 Met sulke mense moet julle niks te doen hê nie.

8 Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig.

9 Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is.

10 Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is,

11 en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak.

12 Dit is 'n skande om selfs te praat oor die dinge wat die ongehoorsame mense in die geheim doen.

13 Maar alles word aan die kaak gestel wanneer die lig daarop val.

14 En as iets bekend geword het, is dit in die lig. Daarom sê die lied:

“Word wakker, jy wat slaap,
en staan op uit die dood;
en Christus sal jou lewe verlig.”

15

Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges.

16 Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in 'n goddelose tyd.

17 Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.

18

Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul,

19 en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here.

20 Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.

21

Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.

22

Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is.

23 Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk.

24 Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees.

25

Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.

26 Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het,

27 sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik.

28 Die mans behoort hulle vrouens so lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet, het homself lief,

29 want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit, soos Christus met sy kerk doen

30 omdat dit sy liggaam is, waarvan ons lede is.

31

Daar staan in die Skrif: “Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees.”

32 Hierin lê daar 'n diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die kerk.

33 Maar dit is ook op julle van toepassing. Elkeen moet sy vrou so lief hê soos hy homself liefhet, en 'n vrou moet aan haar man eerbied betoon.

6

1

Kinders, wees as gelowiges aan julle ouers gehoorsaam, want dit is wat die wet van God vereis.

2 “Eer jou vader en jou moeder” is 'n baie belangrike gebod. En daar is nog 'n belofte by:

3 “sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.”

4

En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil.

5

Slawe, wees gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde, en doen dit met eerbied en ontsag maar terselfdertyd met 'n opregte hart, asof dit vir Christus is.

6 Moenie net werk om deur julle eienaars raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie; werk soos slawe van Christus wat van harte die wil van God doen.

7 Al is julle slawe, doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie.

8 Julle weet tog dat die Here elkeen sal beloon as hy iets goeds gedoen het, of hy nou slaaf is of vry.

9

En eienaars, behandel julle slawe met dieselfde gesindheid. Hou op om hulle te dreig. Dink daaraan dat die Here in die hemel hulle Here en ook julle Here is, en Hy trek niemand voor nie.

10

Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag.

11 Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel.

12 Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.

13 Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.

14

Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas,

15 en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete.

16 Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer.

17 Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God.

18

Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.

19 Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak.

20 Ter wille van hierdie evangelie is ek 'n gesant in boeie. Bid dat ek dit met vrymoedigheid kan verkondig soos dit my opgelê is.

21

Tigikus, die medegelowige wat ek baie liefhet, die getroue dienaar in diens van die Here, sal julle alles vertel, sodat julle ook kan weet hoe dit met my gaan en wat ek doen.

22 Ek stuur hom juis hiervoor na julle toe, sodat julle kan hoor hoe dit hier by ons gaan en, sodat hy die kommer in julle gemoed kan wegneem.

23

Vrede vir die broers, en liefde en geloof, van God die Vader en die Here Jesus Christus!

24 Die genade sal by almal wees wat vir ons Here Jesus Christus met onverganklike liefde liefhet.