1

1

[1-2] Van Paulus, 'n apostel, en van al die broers wat by my is.

Dat ek 'n apostel is, dank ek nie aan mense nie. Ek is ook nie deur 'n mens aangestel nie, maar deur Jesus Christus en deur God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het.

Aan die gemeentes in Galasië.

2

3

Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus,

4 wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring.

5 Aan God kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid! Amen.

6

Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en 'n ander evangelie aanneem.

7 Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring.

8 Maar al sou een van ons of selfs 'n engel uit die hemel aan julle 'n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het — die vloek van God sal hom tref!

9 Ons het dit voorheen al gesê en ek sê dit nou weer: As iemand aan julle 'n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat julle ontvang het — die vloek van God sal hom tref!

10

Klink dit nou asof ek die guns van mense soek, of soek ek die guns van God? Probeer ek by mense in die guns kom? As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie.

11

Dit moet julle goed besef, broers: die evangelie wat ek verkondig, is nie deur 'n mens uitgedink nie.

12 Ek het dit ook nie van 'n mens ontvang of by 'n mens geleer nie. Inteendeel, Jesus Christus het dit in 'n openbaring aan my gegee.

13

Julle het immers gehoor van my optrede toe ek destyds nog 'n aanhanger van die Joodse leer was. Ek het die kerk van God tot die uiterste vervolg en dit probeer uitroei.

14 En in die Joodse leer het ek onder my volksgenote bo baie van my leeftyd uitgestyg, want ek was 'n fanatieke yweraar vir die oorgelewerde leer van my voorvaders.

15

Maar God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder, en Hy het my in sy genade geroep. Toe Hy in sy goedheid besluit het

16 om sy Seun aan my te openbaar sodat ek die evangelie oor Hom onder die heidennasies sou verkondig, het ek nie dadelik daarna mense geraadpleeg

17 of Jerusalem toe gegaan na dié wat voor my al apostels was nie. Nee, ek is Arabië toe, en daarvandaan het ek teruggekom Damaskus toe.

18

Eers drie jaar later het ek Jerusalem toe gegaan om met Sefas kennis te maak, en ek het twee weke by hom gebly.

19 Van die ander apostels het ek niemand ontmoet nie behalwe Jakobus die broer van die Here.

20 Wat ek aan julle skrywe, is nie leuens nie — God is my getuie.

21

Daarna is ek na Sirië en Silisië toe.

22 Die gemeentes van Christus in Judea het my toe nog nie persoonlik geken nie;

23 hulle het net gehoor: “Die man deur wie ons vroeër vervolg is, verkondig nou die geloof wat hy destyds probeer uitroei het.”

24 En hulle het God verheerlik oor my.

2

1

Veertien jaar later het ek weer Jerusalem toe gegaan, hierdie keer ek en Barnabas, en ek het vir Titus ook saamgeneem.

2 God het dit aan my geopenbaar dat ek moet gaan. Ek het toe die evangelie wat ek onder die heidennasies verkondig, aan die broers daar voorgelê en dit nog afsonderlik met die leiers bespreek. Ek wou sekerheid hê dat ek nie tevergeefs werk of gewerk het nie.

3

Hoewel Titus, wat saam met my was, 'n Griek is, is hy nie gedwing om hom te laat besny nie.

4 Daar was wel sekere mense wat dit wou hê, maar dit was mense wat onder vals voorwendsels in die gemeente ingedring het en hulle as medegelowiges voorgedoen het. Hulle werklike doel was om ons lewe in die vryheid wat Christus Jesus vir ons verwerf het, dop te hou, sodat hulle weer slawe van ons kon maak.

5 Aan hulle eise het ons egter nie 'n enkele oomblik toegegee nie, sodat die waarheid van die evangelie vir julle gehandhaaf sou word.

6

Die leiers van die gemeente — wat hulle vroeër was, maak nie vir my saak nie; God kyk nie na 'n mens se uiterlike nie — die leiers van die gemeente het aan die evangelie wat ek verkondig, niks toegevoeg nie.

7 Inteendeel, hulle het ingesien dat die taak aan my toevertrou is om die evangelie aan die nie-Jode te verkondig, net soos dit aan Petrus toevertrou is om die evangelie aan die Jode te verkondig.

8 Dieselfde God wat van Petrus 'n apostel vir die Jode gemaak het, het van my 'n apostel vir die nie-Jode gemaak.

9

Toe hulle dan ingesien het dat God my hierdie voorreg gegee het, het Jakobus, Sefas en Johannes, wat beskou is as die pilare van die gemeente, my en Barnabas die regterhand gegee as teken dat ons en hulle medewerkers is. Ons het ooreengekom dat hulle die evangelie aan die Jode sou verkondig, en ons aan die nie-Jode.

10 Al wat hulle gevra het, is dat ons nie die armes onder hulle moet vergeet nie. Ek het my dan ook steeds vir hierdie liefdesdiens beywer.

11

Toe Sefas egter later na Antiogië toe gekom het, het ek my openlik teen hom verset omdat sy optrede duidelik verkeerd was.

12 Voordat daar van Jakobus se mense aangekom het, het Sefas gewoonweg saam met nie-Joodse gelowiges geëet. Maar toe dié mense daar aankom, het hy hom onttrek en hom eenkant begin hou, omdat hy bang was vir die voorstanders van die besnydenis.

13 Die ander Joodse gelowiges het ook saam met hom begin huigel, en selfs Barnabas het hom deur hulle huigelary laat meesleep.

14

Toe ek sien dat hulle van die reguit pad van die evangeliese waarheid afwyk, het ek daar voor almal vir Sefas gesê: “Jy is 'n Jood, en jy hou jou nie meer aan die Joodse gebruike nie. As jy self leef asof jy nie 'n Jood is nie, hoe kan jy dan mense wat nooit Jode was nie, wil dwing om te lewe asof hulle Jode is?”

15

Ons is Jode van geboorte en nie sondaars uit die heidene nie.

16 En tog weet ons dat 'n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie.

17

As uit ons soeke na vryspraak in Christus geblyk het dat ons ook sondaars is, beteken dit dan dat Christus in diens van die sonde staan? Beslis nie!

18 Maar as ek die bepalings van die wet wat ek nietig verklaar het, weer laat geld, dan maak ek myself daarmee tot 'n oortreder.

19 Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig,

20 en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.

21 Ek verwerp nie die genade van God nie. As 'n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het.

3

1

Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel? Jesus Christus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as 't ware aan die kruis kon sien hang!

2 Net een ding wil ek van julle weet: Het julle die Heilige Gees ontvang deur die wet van Moses te onderhou of deur die evangelie te glo?

3 Is julle dan so sonder begrip? Julle het met die Gees begin; wil julle nou in eie krag eindig?

4 Was al julle swaarkry dan verniet? Dit kon tog nie verniet gewees het nie!

5 Hy wat julle met die Heilige Gees toerus en kragtig onder julle werk, doen Hy dit omdat julle die wet onderhou of omdat julle die evangelie glo?

6 So was dit ook met Abraham: “Hy het in God geglo, en God het hom vrygespreek.”

7

Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is.

8 Die Skrif het vooruit geweet dat God ook mense wat nie Jode is nie, sou vryspreek as hulle glo. Daarom het die Skrif al voorheen die goeie nuus vir Abraham gebring: “In jou sal al die nasies geseën word.”

9 Dit is dus dié wat glo, wat saam met die gelowige Abraham geseën word.

10

Maar almal wat staatmaak op die onderhouding van die wet, val onder die vloek, want daar staan geskrywe: “Daar rus 'n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie.”

11 En dat niemand op grond van die wet deur God vrygespreek word nie, is duidelik, want “hy wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”

12

By die wet gaan dit egter nie om die geloof nie, maar om die daad, want daar staan: “Hy wat dóén wat die wet sê, sal daardeur lewe.”

13

Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek 'n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: “Vervloek is elkeen wat aan 'n hout opgehang is.”

14 Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het.

15

Broers, ek gaan nou 'n voorbeeld uit die gewone lewe neem. As 'n testament, wat maar net mensewerk is, eers geldig is, kan niemand dit ongeldig maak of iets daaraan toevoeg nie.

16 God het sy beloftes aan Abraham en aan sy nakomeling gegee. Daar staan nie “aan nakomelinge”, meer as een nie, maar: “en aan jou nakomeling” , net een, en hierdie nakomeling is Christus.

17

Hiermee wil ek dít sê: God het 'n verbond met Abraham gesluit en dit tóé al geldig gemaak. Die wet, wat eers vier honderd en dertig jaar later gekom het, kan nie hierdie verbond ongeldig maak, sodat God se belofte aan Abraham nie meer sou geld nie.

18 As 'n mens dit wat beloof is, kry op grond van die onderhouding van die wet van Moses, kry jy dit nie meer op grond van die belofte nie, en God het sy genade aan Abraham juis deur 'n belofte toegesê.

19

Watter doel dien die wet dan? Dit is later bygevoeg as gevolg van die sonde, en dit is bedoel vir die tyd totdat die nakomeling op wie die belofte betrekking het, sou kom. Engele het die wet deur middel van 'n tussenganger aan die volk gegee.

20 Maar as daar net één is wat handel, is 'n tussenganger nie nodig nie, en God ís net een.

21

Wil dit nou sê dat die wet van Moses in stryd is met die beloftes van God?

Beslis nie! As 'n wet gegee was wat in staat was om die ware lewe te skenk, sou 'n mens inderdaad vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou.

22 Maar volgens die Skrif is die hele wêreld vasgevang in die greep van die sonde; die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus.

23

Voordat hierdie geloof gekom het, is ons deur die wet gevange gehou en bewaak totdat die tyd van die geloof sou aanbreek.

24 Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word.

25 Maar nou dat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van die wet nie.

26

Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God,

27 want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword.

28 Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.

29 En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.

4

1

Hierby wil ek nog dít sê: Solank 'n erfgenaam nog minderjarig is, verskil sy posisie nie werklik van dié van 'n slaaf nie, al behoort die hele erfenis aan hom.

2 Tot die dag wat sy pa bepaal het, staan hy onder toesig van voogde en word sy besittings deur bestuurders beheer.

3

En so is dit ook met ons. Toe ons nog geestelik onmondig was, was ons slawe van wettiese godsdienstige reëls.

4 Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit 'n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe

5 om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word.

6 En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader!

7 Jy is dus nie meer 'n slaaf nie; jy is nou 'n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.

8

Daar was 'n tyd toe julle nie vir God geken het nie en slawe was van nikswerd afgode.

9 Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees?

10 Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier.

11 Ek vrees my harde werk aan julle was dalk tevergeefs.

12

Ek smeek julle, broers: Word soos ek, soos ek my ook met julle vereenselwig het. Julle het my nooit sleg behandel nie.

13 Julle onthou mos hoe dit gekom het dat ek die eerste keer die evangelie aan julle verkondig het. Dit was deurdat ek siek geword het.

14 En al was my toestand vir julle 'n versoeking om my te verag of selfs te verfoei, het julle dit nie gedoen nie. Inteendeel, julle het my ontvang asof ek 'n engel van God was, ja, asof ek Christus Jesus self was.

15 Julle was so bly daaroor. Wat het nou van julle blydskap geword? Dít kan ek van julle getuig: As dit moontlik was, sou julle julle oë uitgeruk en vir my gegee het.

16 Het ek dan nou julle vyand geword deurdat ek die waarheid aan julle voorhou?

17

Daardie mense se ywer vir julle is nie met suiwer bedoelings nie. Hulle wil julle van my losmaak sodat julle julle vir hulle saak sal beywer.

18 Om jou vir 'n goeie saak te beywer, is goed, maar dan moet dit altyd die geval wees en nie net as ek by julle is nie.

19 My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry.

20 Ek wens ek kon nou by julle wees en op 'n ander toon met julle praat. Ek is werklik besorg oor julle.

21

Julle wat so graag aan die wet van Moses onderworpe wil wees, sê vir my: Hoor julle nie wat die wet sê nie?

22 Daar staan tog geskrywe dat Abraham twee seuns gehad het, een by 'n slavin en een by 'n vrygeborene.

23 Sy seun by die slavin is volgens die loop van die natuur verwek en gebore, maar sy seun by die vrygeborene kragtens 'n belofte van God.

24

'n Mens moet dit figuurlik verstaan. Die twee vroue staan vir twee verbonde. Die een is by Sinaiberg gesluit en bring slawe voort. Dié verbond is Hagar.

25 Hagar staan vir Sinaiberg in Arabië, en dit is 'n beeld van die huidige Jerusalem, want Jerusalem en sy kinders is slawe.

26 Maar die hemelse Jerusalem is vry, en dit is ons moeder.

27 Daar staan immers geskrywe:

“Verbly jou, onvrugbare wat nie kinders kon hê nie.
Juig van vreugde,
jy wat nooit moeder kon word nie,
want die kinderlose vrou wat deur haar man verlaat is,
sal meer kinders hê as die vrugbare wie se man by haar is.”

28

En julle, my broers, is net soos Isak kragtens die belofte kinders van God.

29 Destyds het die seun wat volgens die loop van die natuur gebore is, die seun vervolg wat deur die Gees in die wêreld gekom het. En dit is nou nog so.

30 Maar wat sê die Skrif hiervan? “Jaag die slavin en haar seun weg, want die seun van die slavin mag hoegenaamd nie saam met die seun van die vrygeborene erf nie.”

31 Ons is dus nie kinders van 'n slavin nie, broers; ons is kinders van die vrye.

5

1

Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder 'n slawejuk laat indwing nie.

2

Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie.

3 Ek sê dit weer nadruklik vir elkeen wat hom laat besny: Hy is verplig om die hele wet van Moses te onderhou.

4 Julle wat van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur.

5 Wat ons betref, deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word.

6 In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.

7

Julle was so goed op pad. Wie het julle verhinder om die waarheid te bly gehoorsaam?

8 Wie het julle omgepraat? Nie God nie; Hy roep julle tot gehoorsaamheid.

9 'n Bietjie suurdeeg deurtrek die hele deeg.

10 Ons band met die Here gee my die vertroue dat julle net so sal dink soos ek. Maar die man wat vir julle in verwarring bring, wie hy ook al mag wees, God sal hom straf.

11

Wat my betref, broers, as ek nog verkondig dat 'n mens besny moet word, waarom word ek dan nog vervolg? Dan is die kruis as struikelblok mos uit die weg geruim.

12 Ek wens die mense wat dié verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman!

13

Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as 'n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde.

14 Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

15 Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.

16

Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.

17 Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie.

18 Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.

19

Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid,

20 afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring,

21 afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.

22

Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,

23 nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.

24 Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig.

25 Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

26 Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie.

6

1

Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in 'n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom.

2 Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.

3 As iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks, bedrieg hy homself.

4 Laat elkeen sy eie doen en late ondersoek: as dit goed is, kan hy daarop trots wees sonder om dit met dié van 'n ander te vergelyk.

5 Elkeen sal rekenskap moet gee oor wat hy gedoen het.

6

Iemand wat onderrig ontvang in die woord van God, moet sy leermeester laat deel in al die goeie dinge wat hy het.

7

Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat 'n mens saai, dit sal hy ook oes.

8 Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes.

9 Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.

10 Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges.

11

Van hier af skryf ek eiehandig aan julle. Kyk net die groot letters!

12

Daardie mense wat so daarop aandring dat julle julle ook moet laat besny, wil maar net uiterlik 'n goeie indruk maak, sodat hulle nie vervolg sou word ter wille van die kruis van Christus nie.

13 Al het hulle hulle laat besny, onderhou hulle self nie die wet van Moses nie, maar hulle wil net hê dat julle julle moet laat besny sodat hulle kan roem oor wat met julle liggaam gebeur het.

14 Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld.

15 Of 'n mens besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy 'n nuwe mens is.

16 En almal wat volgens hierdie beginsel leef, die ware Israel — mag God aan hulle vrede gee en barmhartigheid bewys.

17

Niemand moet dit vir my verder moeilik maak nie, want ek dra al klaar die littekens van Jesus aan my liggaam.

18

Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle gees wees, broers! Amen.