1

1

Van Paulus, 'n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, en van die broer Timoteus.

Aan die gemeente van God in Korinte en aan almal wat aan die Here behoort in die hele Agaje.

2

Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

3

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee.

4 In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig,

5 want net soos daar vir ons 'n oorvloed van lyding is ter wille van Christus, is daar ook vir ons 'n oorvloed van bemoediging deur Christus.

6 As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle bemoedig en gered kan word. As ons bemoedig word, is dit om julle te bemoedig en te versterk, sodat julle met geduld dieselfde lyding kan verduur wat ons ook verduur.

7 En wat julle betref, het ons 'n vaste verwagting: ons weet dat net soos julle saam met ons deel het aan die lyding, julle ook aan die bemoediging deel het.

8

Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het.

9 Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is. Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe.

10 Dit is Hy wat ons uit so 'n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red.

11 Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid. So sal die gebede van baie 'n seën van God vir ons bring, en dan sal baie Hom vir ons dank.

12

Daar is een ding waarop ons trots is: ons gewete verseker ons dat ons oor die algemeen, en teenoor julle in die besonder, opgetree het met die openhartigheid en eerlikheid wat van God kom. Daarin is ons nie deur die wysheid van mense gelei nie, maar deur die genade van God.

13 In ons briewe skryf ons aan julle niks wat julle nie self kan lees en verstaan nie. Ek hoop net julle sal ons eendag heeltemal verstaan.

14 Tot nou toe het julle ons maar gedeeltelik verstaan. Op die dag wanneer ons Here Jesus kom, sal julle dan net so trots op ons wees soos ons op julle.

15

Dit was in hierdie oortuiging dat ek vroeër die plan gemaak het om julle te besoek, sodat julle twee keer 'n bewys van genade kon ontvang.

16 Ek wou julle op die deurreis na Masedonië toe besoek en weer op die terugreis van Masedonië af, en dan met julle hulp my reis voortsit na Judea toe.

17

Was ek miskien oorhaastig toe ek hierdie plan gemaak het? Of word ek deur menslike oorwegings gelei as ek planne maak, sodat ek in een asem “ja” en “nee” sê?

18 So seker as God getrou is, ons woord aan julle was nie tegelyk “ja” en “nee” nie,

19 want Jesus Christus, die Seun van God, wat ons, dit is ek en Silvanus en Timoteus, aan julle verkondig het, is nie “ja” en “nee” tegelyk nie. Hy is die “ja” van God,

20 die “ja” op al die beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop “Amen” sê.

21 God self het ons saam met julle op hierdie vaste grond gevestig: op Christus. God het ons vir Hom afgesonder,

22 ons as sy eiendom beseël en die Heilige Gees in ons harte gegee as waarborg van wat ons nog sal ontvang.

23

Ek roep God tot getuie en staan met my lewe daarvoor in: dit was om julle te spaar dat ek toe nie na Korinte toe gekom het nie.

24 Ons wil nie as heersers voorskryf wat julle moet glo nie. Julle staan immers vas in die geloof. Maar ons wil medewerkers wees om julle geluk te bevorder.

2

1

Daarom het ek besluit ek kom nie weer na julle toe as my besoek op droefheid uitloop nie,

2 want as ek julle hartseer maak, wie bly dan oor om my op te beur, behalwe dié wat ek hartseer gemaak het?

3 Dit is waarom ek liewer aan julle geskrywe het. Ek wou nie daar kom en hartseer gemaak word deur mense wat my gelukkig moes gemaak het nie, want ek is seker daarvan dat julle almal gelukkig is as ek gelukkig is.

4 Ja, met groot bekommernis en beklemming van hart, en onder baie trane, het ek aan julle geskrywe. Dit was nie om julle hartseer te maak nie, maar om julle te laat besef dat ek julle baie liefhet.

5

As iemand droefheid veroorsaak het, is dit nie vir my wat hy hartseer maak nie, maar vir julle almal, of, om nie te oordryf nie, ten minste 'n deel van julle.

6 Vir so iemand is die bestraffing deur die meerderheid swaar genoeg.

7 Nou moet julle so iemand liewer vergewe en bemoedig, anders kan hy so hartseer word dat hy heeltemal moed verloor.

8 Daarom vra ek julle: Bewys liefde aan hom.

9 Toe ek geskryf het, was dit juis om te wete te kom of julle aan my getrou gebly het en in alles gehoorsaam is.

10

As julle hom iets vergewe, vergewe ek hom ook. Wat my betref, as ek iets moes vergewe, het ek dit klaar gedoen om julle ontwil. Daarvan is Christus my getuie.

11 Die Satan moet nie die oorhand oor ons kry nie. Ons ken sy planne maar alte goed.

12

Toe ek in Troas gekom het om die evangelie van Christus daar te verkondig, het die Here die deure vir my wyd oopgemaak.

13 Tog het ek nie gemoedsrus gehad nie, omdat ek my broer Titus nie daar gekry het nie. Daarom het ek van die mense daar afskeid geneem en Masedonië toe vertrek.

14

Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos 'n aangename geur.

15 Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan.

16 Vir dié wat verlore gaan, is dit 'n doodsreuk wat dood bring; vir dié wat gered word, is dit 'n lewensgeur wat lewe wek. En wie is tot sulke dinge in staat?

17 Ons, omdat ons nie is soos baie ander wat geld maak uit die woord van God nie. Ons verkondig die woord in opregtheid, in verbondenheid met Christus, in opdrag van God en in verantwoordelikheid aan God.

3

1

Begin ons weer onsself aanprys? Of het ons miskien, soos party ander mense, aanbevelingsbriewe aan julle of van julle nodig?

2 Julle is self ons aanbevelingsbrief, geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te verstaan.

3 Dit is tog duidelik dat julle 'n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense.

4

Ons sê dit omdat ons deur Christus ten volle op God vertrou.

5 Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God,

6 wat ons bekwaam gemaak het om bedienaars van 'n nuwe verbond te wees, nie van die letter nie, maar van die Gees. Die letter maak dood, die Gees maak lewend.

7

Die wet wat in letters op klip gegraveer is, het in heerlikheid gekom. Hierdie heerlikheid, wat tog gou sou verdwyn, het op die gesig van Moses so geskitter dat die Israeliete nie na hom kon bly kyk nie. As die bediening wat tot die dood lei, met soveel heerlikheid gekom het,

8 hoeveel groter sal die heerlikheid van die bediening wat deur die Gees geskied, dan nie wees nie?

9 Die bediening waardeur die mense veroordeel word, het met heerlikheid gekom, maar die bediening waardeur die mense vrygespreek word, oortref dit verreweg in heerlikheid.

10 Ons kan sê dat die heerlikheid van vroeër nie te vergelyk is met die alles oortreffende heerlikheid van nou nie.

11 As wat aan die verbygaan was, van heerlikheid gestraal het, veel meer nog sal die blywende van heerlikheid skitter.

12

Omdat ons hoop hierop gevestig is, tree ons met groot vrymoedigheid op.

13 Ons is nie soos Moses wat sy gesig met 'n sluier toegemaak het nie. Dit moes hy doen om te verhinder dat die volk van Israel sou sien dat die ligglans aan die verdwyn was.

14 Hulle verstand was ook toe, en vandag nog bly hulle verstand met dieselfde sluier toegemaak as hulle die Ou Testament lees, maar die sluier word deur Christus weggeneem vir iemand wat in Hom glo.

15 Maar vandag nog, elke keer as die wet van Moses voorgelees word, is daar 'n sluier oor hulle verstand.

16 Van Moses sê die Skrif egter: “Elke keer as hy hom na die Here wend, word die sluier weggeneem.”

17 “Die Here” beteken hier “die Gees”, en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid.

18 Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.

4

1

God het Hom oor ons ontferm en hierdie bediening aan ons opgedra. Daarom word ons nie moedeloos nie.

2 Ons vermy praktyke wat nie die lig kan verdra nie en waaroor ons ons sou moes skaam. Ons gaan nie met bedrog te werk nie en ons vervals nie die woord van God nie. Inteendeel, ons maak die waarheid openlik bekend en beveel onsself so aan by elkeen wat voor God 'n eerlike gewete het.

3 As die evangelie wat ons verkondig, tog nog met 'n sluier bedek is, is dit bedek net vir dié wat verlore gaan.

4 Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is.

5 Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle dienaars ter wille van Jesus.

6 God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte 'n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.

7

Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.


8
In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie;
ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie;

9
ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie,
op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.

10
Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam,
sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.

11

Voortdurend word ons wat lewe, ter wille van Jesus uitgelewer aan die dood, sodat ook in ons sterflike bestaan die lewe van Jesus sigbaar kan word.

12

Dit beteken dat in ons die dood aan die werk is, maar in julle die lewe.

13 Daar staan in die Skrif: “Ek het geglo, daarom het ek gepraat.” Ons het dieselfde Gees wat die geloof wek, en ons glo, daarom praat ons ook.

14 Ons weet immers dat God, wat die Here Jesus uit die dood opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam met julle voor sy troon sal stel.

15 Ons doen dit alles om julle ontwil, sodat die genade van God steeds meer mense kan bereik. Dan word die dankgebede ook meer, en God ontvang die eer.

16

Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.

17 Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.

18 Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

5

1

Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar 'n tent is, afgebreek word, ons 'n vaste gebou in die hemel het. Dit is 'n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan.

2 Terwyl ons in die tentwoning leef, sug ons, want ons verlang daarna dat ons woning uit die hemel ons sal oordek.

3 Ons wil nie ontklee wees en naak voor God staan nie.

4 Ons wat nog in die tentwoning is, sug en voel bedruk omdat ons nie van die aardse liggaam afstand wil doen nie; ons wil die hemelse bo-oor die aardse aantrek, sodat wat sterflik is, verteer kan word deur die lewe.

5 Hy wat ons vir hierdie oorgang voorberei het, is God. As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee.

6

Daarom is ons altyd vol moed. Ons weet dat, solank as ons in die liggaam bly, ons nog nie by die Here woon nie,

7 want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.

8 Ons is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wil verlaat en by die Here gaan woon.

9 Maar, of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil.

10 Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.

11

Ons weet wat dit beteken om die Here te dien. Daarom probeer ons die mense oortuig. God ken ons bedoelings, en ek vertrou dat julle ook van ons bedoelings oortuig is.

12 Ons prys onsself nie opnuut by julle aan nie. Ons gee julle juis eerder aanleiding om trots te wees op ons, sodat julle 'n antwoord kan hê vir dié wat trots is op die uiterlike en nie op die innerlike nie.

13 As ons in geestesvervoering was, was ons dit vir God; en as ons by ons verstand is, is ons dit vir julle.

14 Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het.

15 En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.

16

Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie.

17 Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

18 Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou.

19 Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

20

Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons 'n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!

21 Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

6

1

As medewerkers van God doen ons 'n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie.

2 Hy sê:

“Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor,
en op die dag van redding het Ek jou gehelp.”

Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.

3

Ons wil nie hê dat daar met ons bediening fout gevind word nie. Daarom gee ons ook niemand aanleiding tot aanstoot nie,

4 maar in alles laat ons ons ken as dienaars van God. Dit doen ons met baie geduld in verdrukking, ontbering en nood.

5 Ons is geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland; ons het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak en honger gely.

6 Ons het onberispelik opgetree, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid. Dit alles het ons gedoen deur die Heilige Gees, deur opregte liefde,

7 deur die woord van die waarheid en deur die krag van God. Ons wapen vir aanval en verdediging is om die wil van God te doen.


8
Ons ontvang eer en oneer,
ons word beledig en geprys.
Ons word behandel as verleiers, en tog is ons betroubaar;

9
as onbekendes, en tog is ons goed bekend;
as sterwendes en, soos julle sien, ons lewe;
as gestraf, maar ons is nie doodgemaak nie;

10
as bedroefdes, en tog is ons altyd opgeruimd;
as armes, maar ons maak baie ander ryk;
as mense wat niks het nie, en tog besit ons alles.

11

Ons het openhartig met julle gepraat, Korintiërs. Ons harte is vir julle wyd oop.

12 Ons het nie ons harte vir julle gesluit nie; julle het julle harte vir ons gesluit.

13 Ek praat met julle as my kinders. Doen aan ons wat ons aan julle gedoen het: maak julle harte ook wyd oop!

14

Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis?

15 Hoe kan daar eenstemmigheid wees tussen Christus en Belial? Hoe kan 'n gelowige dieselfde belange hê as 'n ongelowige?

16 Hoe kan 'n ooreenkoms tot stand kom tussen die tempel van God en afgode? Ons is immers die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het:

“Ek sal onder hulle woon en wandel,
en Ek sal hulle God wees
en hulle sal my volk wees.”

17
Daarom: “Gaan van hulle af weg
en sonder julle af,” sê die Here,
“en moenie wat onrein is, aanraak nie.”
“Dan sal Ek julle aanneem,

18
en Ek sal vir julle 'n Vader wees,
en julle sal vir My seuns en dogters wees,”
sê die Here, die Almagtige.

7

1

Geliefdes, hierdie beloftes is ook vir ons. Laat ons ons dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig, en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toewy.

2

Maak vir ons plek in julle harte. Ons het niemand onreg aangedoen nie, ons het niemand benadeel nie, ons het niemand uitgebuit nie.

3 Ek sê dit nie om julle te beskuldig nie; ek het tog al vantevore gesê dat julle in ons harte is om mee saam te lewe en te sterwe.

4 Ek is baie openhartig met julle; ek is ook baie trots op julle. In al ons sorge is ek vol moed en oorstelp van blydskap.

5

Toe ons in Masedonië gekom het, het ons geen rus of duurte gehad nie. Van alle kante was daar druk op ons: van buite onenigheid, van binne sorge.

6 Maar God wat die neerslagtiges opbeur, het ons ook opgebeur deur die koms van Titus,

7 en nie net deur sy koms nie, maar ook omdat julle hom opgebeur het. Hy het vertel van julle begeerte om ons te sien, en dat julle jammer is oor wat gebeur het en my nou ywerig verdedig. Dit alles het my nog blyer gemaak.

8

Al het ek julle ook deur my brief hartseer gemaak, is ek nou nie daaroor jammer nie. Miskien was ek tog jammer toe ek sien dat daardie brief julle hartseer gemaak het, al was dit net vir 'n kort rukkie.

9 Nou is ek egter bly, nie omdat ek julle hartseer gemaak het nie, maar omdat ek julle so hartseer gemaak het dat julle tot inkeer gekom het. Julle was immers hartseer soos God dit wou hê. Ons het julle dus in geen opsig benadeel nie,

10 want droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie. Daarteenoor bring droefheid uit wêreldse oorwegings die dood.

11 Kyk net wat die ervaring van droefheid volgens die wil van God aan julle gedoen het. Nou is daar by julle erns; meer nog, daar is verantwoording, verontwaardiging, ontsag, verlange, ywer en bestraffing van die kwaad. In elke opsig het julle bewys dat julle in hierdie saak onskuldig is.

12 Dus, al het ek so aan julle geskrywe, was dit nie omdat iemand onreg gepleeg of onreg gely het nie. Inteendeel, ek wou hê dat julle voor God tot die besef moes kom van hoeveel julle vir ons omgee.

13 Juis daarom is ons nou so bly.

Ons is nie net bemoedig nie, maar ook besonder bly dat Titus so gelukkig is: julle almal het hom gemoedsrus gegee.

14 Ek het by hom 'n bietjie met julle gespog, en julle het my nie teleurgestel nie. Soos ons altyd die waarheid met julle gepraat het, so blyk dit nou dat dit ook die waarheid was toe ons by Titus met julle gespog het.

15 En sy toegeneentheid teenoor julle word al sterker as hy daaraan dink hoe julle almal gehoorsaam was en hoe julle hom met eerbied en ontsag ontvang het.

16 Ek is baie bly dat ek in elke opsig op julle kan reken.

8

1

Broers, ons wil hê julle moet weet van die genade wat die gemeentes in Masedonië van God ontvang het.

2 Al was hulle swaar beproef deur verdrukking, hulle blydskap was oorvloedig; en al was hulle baie arm, hulle was ryk in hulle oorvloedige vrygewigheid.

3 Ek verseker julle hulle het na vermoë, ja, bo vermoë, bygedra.

4 Uit eie beweging het hulle by ons daarop aangedring om te mag deel in die liefdeswerk van hulpverlening aan die gelowiges in Judea.

5 Dit was meer as wat ons verwag het, want eers het hulle hulleself aan die Here gegee en toe aan ons. Dit is soos God dit wil.

6

Daarom het ons vir Titus versoek om hierdie liefdeswerk, waarmee hy vroeër by julle begin het, nou ook te voltooi.

7 Aangesien julle alles in oorvloed het: geloof, die gawe om julle woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer en ons liefde vir julle, wees dan ook in hierdie liefdeswerk oorvloedig.

8

Ek gee nie 'n opdrag nie, maar ek wys julle op die ywer van ander om daardeur die opregtheid van julle liefde te toets.

9 Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word.

10

Nou wil ek julle net raad gee om julle te help. Julle was verlede jaar nie alleen die eerste wat iets gedoen het nie, julle was ook die eerste wat gewillig was om iets te doen.

11 Maak die werk nou ook klaar. Die ywer om uit julle beskikbare middele die insameling af te handel, moet net so groot wees as die gewilligheid waarmee julle dit begin het.

12 As die goeie wil daar is en iemand gee volgens wat hy het, neem God die gawe aan. Hy verwag nie van hom wat hy nie het nie.

13

Ek bedoel nie dat julle gebrek moet ly om ander te kan help nie; maar sodat daar ewewig sal wees,

14 moet julle wat nou oorvloed het, dié help wat gebrek ly. Dan, as hulle weer oorvloed het en julle gebrek ly, kan hulle julle weer help. So kom daar ewewig.

15 Daar staan ook geskrywe:

“Dié met baie, het nie te veel gehad nie, en dié met 'n bietjie,
nie te min nie.”

16

Ons dank God dat Hy Titus net so ywerig gemaak het om julle te help as wat ons is.

17

Hy het nie net ons versoek verwelkom nie, maar in sy groot ywer ook uit eie beweging na julle toe vertrek.

18 Saam met hom stuur ons die broer wat in al die gemeentes geprys word vir sy bevordering van die evangelie.

19 Afgesien daarvan is die broer ook deur die gemeentes gekies om met ons saam te reis as ons die liefdeswerk uitvoer wat ons onderneem het. Ons doen dit tot eer van die Here en as teken van ons hulpvaardigheid.

20 Op hierdie manier voorkom ons dat enigiemand ons dalk sou verdink in verband met so 'n groot som geld wat ons moet wegbring.

21 Ons is daarop gesteld om korrek op te tree, nie alleen voor die Here nie, maar ook voor die mense.

22

Saam met hulle stuur ons ook ons ander broer. Ons het hom baiekeer en op baie maniere op die proef gestel en gevind dat hy ywerig is om te help. Nou is hy nog yweriger omdat hy baie vertroue in julle het.

23 Wat Titus betref, hy is my kollega en medewerker in julle belang. Wat ons broers betref, hulle is afgevaardigdes van die gemeentes en 'n eer vir Christus.

24 Bewys aan hulle julle liefde sodat al die gemeentes dit kan sien en kan weet dat ons tereg op julle trots is.

9

1

Eintlik is dit oorbodig dat ek aan julle skrywe oor die hulpverlening aan die gelowiges in Judea.

2 Ek weet dat julle graag wil help, en ek het al by die Masedoniërs met lof oor julle gepraat. “Agaje,” het ek gesê, “is al 'n jaar lank reg om te help.” Julle ywer het ook die meeste ander aangespoor.

3 Nou stuur ek hierdie broers sodat ons woorde van lof oor julle in hierdie aangeleentheid nie leë woorde sal wees nie. Ons wil hê dat, soos ons die ander vertel het, julle klaar reg sal wees om te help.

4 Anders, as daar Masedoniërs saam met my kom en hulle sien julle is nog nie gereed nie, sal ons ons skaam oor ons vertroue in julle — om nie eens te praat van julle eie skaamkry nie.

5 Daarom het ek dit noodsaaklik geag om die broers aan te spoor om vooruit na julle toe te gaan. Hulle moet die dankoffer wat julle vroeër beloof het, vooraf in orde bring. Dan sal dit daar gereed wees as 'n werklike offer van dankbaarheid, en nie as iets wat afgepers is nie.

6

Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.

7 Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.

8 En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.

9 Daar staan ook geskrywe:

“Hy deel uit en gee aan die armes;
hy bly altyd vrygewig.”

10

God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid 'n ryk oes laat oplewer.

11 Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees. Deur ons bemiddeling het julle vrygewigheid tot gevolg dat God gedank word,

12 want die bediening van hierdie hulpbetoon voorsien nie alleen in die behoeftes van die gelowiges in Judea nie, maar bring ook oorvloedige dankbaarheid teenoor God mee.

13 Deur hierdie duidelike bewys van julle bereidheid om te dien, sal daar baie wees wat aan God eer toebring. Hulle sal Hom prys oor julle gehoorsaamheid aan die evangelie van Christus wat julle bely, en oor julle opregte mededeelsaamheid teenoor hulle en teenoor al die ander.

14 Hulle sal ook vir julle bid en met verlange aan julle dink, omdat die genade van God oor julle so oorvloedig was.

15 Ons dank God vir sy onuitspreeklike gawe.

10

1

Ek, Paulus, doen 'n persoonlike beroep op julle — ek, wat mos “gedwee” is as ek by julle is, maar “manhaftig” teenoor julle as ek van julle af weg is. In die Naam van Christus, wat nederig en vriendelik is, vra ek julle:

2 Moet my nie dwing om streng te wees as ek kom nie. Ek is seker ek kan my veroorloof om streng op te tree teenoor dié wat ons daarvan beskuldig dat ons uit menslike oorwegings handel.

3 Natuurlik leef ons in 'n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie.

4 Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies

5 en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

6 Ons is ook gereed om met elke ongehoorsaamheid af te reken sodra julle eie gehoorsaamheid volkome is.

7

Julle kyk net na een kant van die saak. As iemand dan so vas oortuig is dat hy aan Christus behoort, moet hy onthou: ons behoort net soos hy ook aan Christus.

8 Al het ek my miskien 'n bietjie te veel beroem op daardie bevoegdhede wat die Here my gegee het, sal ek nie beskaamd daarvan afkom nie. Die Here het aan ons die bevoegdheid gegee om julle op te bou, nie om julle af te breek nie.

9 Daarom wil ek nie die skyn wek dat ek julle met my briewe probeer bang maak nie.

10

Daar word mos gesê: “Sy briewe is wel ernstig en streng, maar as hy self by ons is, is hy mak en beteken sy woorde niks.”

11 Die man wat so praat, moet weet dat daar geen verskil is tussen wat ons in briewe skrywe as ons van julle af weg is, en wat ons doen as ons by julle is nie.

12

Ons waag dit natuurlik nie om ons op een lyn te stel of te vergelyk met sekere mense wat so 'n danige dunk van hulleself het nie. Hulle is dom: hulle meet hulleself aan hulle eie maatstaf en vergelyk hulleself met hulleself.

13 Maar wat ons betref, ons sal met ons roem nie buite die perke gaan nie. Ons bly binne die perke van die werkkring wat God aan ons toegemeet het. Julle val ook binne daardie perke.

14 Dus het ons nie ons perke oorskry deur tot by julle te kom nie. Ons het immers vroeër al tot by julle gekom met die evangelie van Christus.

15 Deur op julle te roem, gaan ons dus nie die perke te buite nie, want dit is nie ander mense se werk waarop ons roem nie. Ons hoop dat julle geloof sal toeneem en dat ons dan onder julle nog meer sal hê om op te roem, steeds binne die perke van ons werkkring.

16 Dan sal ons die evangelie ook in streke anderkant julle kan verkondig sonder om te roem op werk wat tot stand gebring is in die werkkring van iemand anders.

17

Maar die Skrif sê: “Hy wat roem, moet in die Here roem.”

18 Die man wat die proef deurstaan het, is nie die een wat homself prys nie, maar die een wat deur die Here geprys word.

11

1

Nou wil ek hê julle moet 'n bietjie dwaasheid van my kant verdra! Ja, verdra my maar!

2

Ek waak oor julle met 'n ywer wat van God kom, want julle is soos 'n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. Die man is Christus.

3 Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die slang.

4 Ek sê dit omdat julle so maklik daarmee genoeë neem as iemand 'n ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het, en julle neem net so maklik 'n ander gees en 'n ander evangelie aan as dié wat julle van ons ontvang het.

5 Ek reken dat ek niks agterstaan by julle danige apostels nie.

6 Al is ons miskien nie sulke gladde sprekers nie, in die kennis staan ons nie agter nie. Dit het ons julle tog by elke geleentheid en in alle opsigte laat sien.

7

Sonder vergoeding het ek die evangelie van God aan julle verkondig. Ek het my verneder sodat julle opgehef kon word. Was dit miskien verkeerd van my?

8 Om julle te bedien, het ek van ander gemeentes vergoeding aangeneem en hulle as 't ware so beroof.

9 Toe ek by julle was en geld kortgekom het, het ek niemand lastig geval nie, want die broers wat van Masedonië af gekom het, het ruim in my behoeftes voorsien. Ek het gesorg en sal ook verder sorg dat ek in geen opsig vir julle 'n las word nie.

10 Hierop is ek trots, en so seker as die waarheid van Christus in my is, sal niemand in die hele Agaje my dit ontneem nie.

11 Waarom nie? Omdat ek julle nie liefhet nie? God weet ek het julle lief.

12

Soos ek nou maak, sal ek voortgaan om te maak. Daarmee sal ek vir dié mense wat 'n aanleiding soek om te roem dat hulle net sulke apostels soos ons is, elke aanleiding daartoe ontneem.

13 Sulke mense is vals apostels; hulle gaan oneerlik te werk deur voor te gee dat hulle apostels van Christus is.

14 En geen wonder nie! Satan self doen hom voor as 'n engel van die lig.

15 Daarom is dit ook nie snaaks dat sy dienaars hulle voordoen as mense wat die wil van God doen nie. Aan die einde sal hulle kry wat hulle vir hulle dade verdien.

16

Ek herhaal: Niemand moet dink dat ek 'n dwaas is nie. Of anders, beskou my maar as 'n dwaas en laat my ook 'n bietjie grootpraat.

17 Wat ek nou sê, kom nie van die Here nie. Nee, in hierdie aangeleentheid praat ek werklik soos 'n dwaas, in die oortuiging dat ek grond het om te roem.

18 Aangesien daar baie is wat op suiwer menslike gronde grootpraat, sal ek ook grootpraat.

19 Julle wat so verstandig is, verdra mos geredelik die dwaas.

20 Julle verdra dit as iemand julle soos slawe behandel, as iemand julle uitbuit, as iemand julle bedrieg, as iemand julle uit die hoogte behandel, as iemand julle in die gesig klap.

21 Laat my dan maar tot my skande erken dat ons vir sulke dinge te swak was!

Nou praat ek soos 'n dwaas: enigiets waarop iemand aanspraak maak om te roem, daarop kan ek ook roem.

22 Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Stam hulle van Abraham af? Ek ook.

23 Is hulle dienaars van Christus? En nou praat ek asof ek van my verstand af is: ek nog meer! Ek het harder gewerk, ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar.

24 Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry,

25 drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek 'n dag en 'n nag in die oop see deurgebring.

26

Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers.

27 Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue.

28 Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes.

29 As iemand swak is, voel ek asof ek self ook swak is; as iemand in sonde val, voel ek asof ek ook deur vuur gaan.

30

As daar dan geroem moet word, sal ek roem, maar dan oor my swakhede.

31 Die God en Vader van die Here Jesus weet dat ek nie lieg nie. Aan Hom kom die lof toe tot in ewigheid!

32

Toe ek in Damaskus was, het die verteenwoordiger van koning Aretas die stad laat bewaak om my te vang.

33 Maar deur 'n venster in die muur is ek in 'n mandjie laat afsak en het ek aan sy hande ontkom.

12

1

Om te roem, het wel geen sin nie, maar terwyl dit dan nou moet, kom ek by gesigte en openbarings wat die Here gegee het.

2 Ek ken 'n man wat aan Christus behoort. Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in die derde hemel. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit.

3 [3-4] Ek weet ook dat hierdie man weggeruk is na die paradys toe. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit. Daar het hy woorde gehoor wat 'n mens nie kan of mag uitspreek nie.

4

5 Oor hierdie man sal ek roem, maar nie oor myself nie, behalwe oor my swakhede.

6 Al sou ek wil roem, sal ek tog nie dwaas wees nie, omdat ek die waarheid sal praat. Maar ek weerhou my daarvan omdat ek nie wil hê dat iemand aan my meer moet toeskryf as wat hy my sien doen of my hoor sê nie,

7 selfs nie vanweë die verhewenheid van die openbarings nie. Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan.

8 Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word.

9 Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.

10 Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.

11

Ek het nou soos 'n dwaas opgetree. Julle het my daartoe verplig. Eintlik is dit julle wat in my guns moes gepraat het, want al is ek niks, staan ek niks agter by daardie danige apostels nie.

12 Die dinge wat 'n apostel kenmerk, het ek met groot geduld by julle verrig: tekens en wonders en kragtige dade.

13 Waarin is julle swakker behandel as die ander gemeentes, behalwe dat ek persoonlik nie vir julle tot 'n geldelike las was nie? Vergewe my hierdie onreg!

14

Dit is nou die derde keer dat ek gereed is om na julle toe te kom, en ek sal nie vir julle 'n las wees nie: ek soek nie julle geld nie, maar vir julle. Dit is immers nie die kinders wat vir die ouers sorg nie, maar die ouers vir die kinders.

15 Ek sou graag alles wil gee vir julle lewe, ja, ook myself. As ek julle soveel meer liefhet as wat die ander julle het, het julle my dan minder lief as vir hulle?

16

Goed, ek was dus nie vir julle 'n oorlas nie. Maar julle kan dink ek was slim en ek het julle uitoorlê.

17 Het ek myself dan miskien ten koste van julle geldelik bevoordeel deur een van die mense wat ek na julle toe gestuur het?

18 Ek het vir Titus gevra om na julle toe te gaan en die ander broer saamgestuur. Het Titus homself dan geldelik bevoordeel ten koste van julle? Handel hy en ek nie in dieselfde gees nie, en loop ons nie in dieselfde spore nie?

19

Julle dink seker lankal dat ons ons by julle probeer verdedig? Nee, ons praat in verantwoordelikheid aan God en in verbondenheid met Christus. Alles wat ons doen, geliefdes, is in belang van julle geestelike opbou.

20 Ek is bang dat, wanneer ek kom, ek julle miskien nie sal vind soos ek dit graag wil hê nie, en dat julle my ook nie sal vind soos julle dit graag wil hê nie. Ek is bang vir twis, naywer, onbeheerstheid, selfsug, kwaadpratery, nuusdraery, verwaandheid en wanordelikheid.

21 Ek is ook bang dat wanneer ek weer kom, my God my by julle in verleentheid sal bring en dat ek sal moet treur oor baie van julle wat geruime tyd al 'n sondige lewe lei en wat oor hulle onreinheid, ontug en losbandigheid nie tot berouvolle inkeer gekom het nie.

13

1

Dit is nou die derde keer dat ek na julle toe kom. “Deur die getuienis van twee of drie getuies moet elke saak bewys word,” sê die Skrif.

2 Aan dié wat vroeër gesondig het en aan al die ander het ek voorheen toe ek by julle was, gesê, en ek sê dit nou weer vooruit terwyl ek nie by julle is nie: As ek nou weer na julle toe kom, sal ek niks en niemand ontsien nie.

3 Julle soek mos 'n bewys dat Christus deur my praat. Hy tree nie swak op teenoor julle nie, maar bewys sy krag onder julle,

4 want al is Hy gekruisig in die swakheid van 'n mens, Hy leef uit die krag van God. En in Hom is ons ook swak, maar saam met Hom sal ons uit die krag van God lewe. Dit sal julle sien.

5

Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie.

6 Ek hoop dan julle weet dat ons wel die toets deurstaan het.

7 Ons bid God dat julle niks verkeerds doen nie. Dit bid ons, nie dat dit as bewys moet dien dat óns die toets deurstaan het nie. Ons wil hê dat júlle die goeie doen, selfs al sou dit lyk asof ons die toets nie deurstaan het nie.

8 Ons vermag niks teen die waarheid van God nie, maar wel alles vir die waarheid.

9 Ons is dus bly as ons swak is, as julle maar sterk is. Ons bid ook vir julle geestelike volwassenheid.

10 Daarom skryf ek hierdie dinge terwyl ek nog van julle af weg is, want wanneer ek kom, wil ek nie met die gesag wat die Here aan my gegee het, streng teen julle optree nie. Met dié gesag moet ek opbou, nie afbreek nie.

11

Verder, broers, wees bly, streef na die geestelike volwassenheid, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle wees!

12

Groet mekaar met die soen van Christelike broederskap. Almal wat aan die Here behoort, stuur vir julle groete.

13

Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.