1

1

Van Paulus, wat deur die wil van God geroep is om 'n apostel van Christus Jesus te wees, en van die broer Sostenes.

2

Aan die gemeente van God in Korinte, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here.

3

Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

4

Ek dank my God altyd oor julle vir die genade wat Hy in Christus Jesus aan julle geskenk het,

5 want in Hom het God julle in alles ryklik geseën, veral in die gawes van woord en kennis.

6 Die boodskap van Christus is onder julle so goed gevestig

7 dat dit julle nie aan 'n enkele genadegawe ontbreek nie. Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus.

8 Dit is Hy wat julle ook end-uit sal laat vas staan, sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie.

9 God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.

10

Ek doen 'n beroep op julle almal, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, om eensgesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Julle moet een wees in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging.

11 Ek sê dit, my broers, omdat van Chloë se mense my vertel het dat daar onenigheid onder julle is.

12 Daarmee bedoel ek dat een sê: “Ek is vir Paulus;” een: “Ek is vir Apollos;” een: “Ek is vir Sefas;” en een: “Ek is vir Christus.”

13

Is Christus dan in stukke verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig, of is julle in die naam van Paulus gedoop?

14 Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Krispus en Gaius.

15 Niemand kan dus sê dat julle in my naam gedoop is nie.

16 Nee, ek het ook nog die huisgesin van Stefanas gedoop, maar verder weet ek nie of ek nog iemand gedoop het nie.

17 Christus het my immers nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, en dit nie met woorde van menslike wysheid nie, want dan sou die kruis van Christus sy krag verloor.

18

Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.

19 Daar staan tog geskrywe:

“Die wysheid van die wyses sal Ek vernietig,
en die geleerdheid van die geleerdes sal Ek tot niet maak.”

20

Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie?

21 Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo.

22 Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid,

23 maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit 'n aanstoot en vir die ander is dit onsin,

24 maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God.

25 Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.

26

Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie.

27 En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam,

28 en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak.

29 Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie.

30 Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing.

31 Daarom, soos daar geskrywe staan:

“Dié wat wil roem,
moet in die Here roem.”

2

1

Wat my betref, broers, toe ek na julle toe gekom het om die geheimnisvolle waarheid van God aan julle te verkondig, het ek nie met hoë woorde of groot geleerdheid gekom nie.

2 Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde.

3 Bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering, het ek na julle toe gekom.

4 Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees.

5 Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God.

6

Tog is wat ons verkondig wysheid, maar net vir dié wat daarvoor ryp is, en dan 'n wysheid wat nie van hierdie wêreld is of van die heersers van hierdie wêreld nie. Hulle is buitendien aan die ondergaan.

7 Wat ons verkondig, is die wysheid van God, die verborge waarheid wat bedek was en wat God van ewigheid af vir ons voorbestem het tot ons ewige heerlikheid.

8 Nie een van die heersers van hierdie wêreld het hierdie wysheid geken nie. As hulle dit geken het, sou hulle nie die Here van die heerlikheid gekruisig het nie.

9 Maar soos daar geskrywe staan:

“Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,”
en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie,
dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.

10

Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God.

11 Watter mens ken die verborge dinge van 'n mens behalwe die gees van die mens wat in hom is? So ook ken niemand die verborge dinge van God nie, behalwe die Gees van God.

12 Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het.

13 Dit verkondig ons ook, nie met geleerde woorde wat die menslike wysheid ons leer nie, maar met woorde wat die Gees ons leer.

So verklaar ons geestelike dinge aan mense wat die Gees het.

14 Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word.

15 Die mens wat die Gees van God het, kan die waarde van alle dinge beoordeel, maar self kan hy deur geen mens beoordeel word nie.

16 Daar staan geskrywe:

“Wie ken die gedagtes van die Here?
Wie sal Hom raad gee?”

Maar ons, ons het die Gees van Christus.

3

1

Broers, ek kon met julle nie praat soos met mense wat hulle deur die Gees van God laat lei nie; ek moes praat soos met wêreldse mense, soos met kindertjies in die geloof in Christus.

2 Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste kos nie, want julle kon dit nog nie verteer nie. En julle kan dit ook nou nog nie verteer nie,

3 want julle is nog wêreldse mense. Daar kom jaloesie en twis onder julle voor. Is dit nie omdat julle nog wêrelds is en julle wêrelds gedra nie?

4 As een van julle sê: “Ek is vir Paulus,” en 'n ander: “Ek is vir Apollos,” is julle dan nie nog wêrelds nie?

5

Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het.

6 Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het.

7 Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei.

8 Die een wat plant en die een wat natgooi, staan op gelyke voet: God sal elkeen beloon volgens sy werk.

9

Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God.

Julle is ook die gebou van God.

10 Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos 'n goeie bouer die fondament gelê, en 'n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou,

11 want niemand kan 'n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus.

12 Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou,

13 elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets.

14 As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word;

15 as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is.

16

Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie?

17 As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle.

18

Niemand moet homself mislei nie. As een van julle dink dat hy volgens die maatstaf van hierdie wêreld 'n wyse man is, moet hy dwaas word sodat hy werklik 'n wyse mens kan word,

19 want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God. Daar staan tog geskrywe:

“Hy vang die slimmes met hulle eie slinkse planne,”

20

en op 'n ander plek:

“Die Here ken die gedagtes van die wyse mense en weet dit beteken niks.”

21

Daarom moet niemand op mense roem nie. Alles behoort aan julle:

22 of dit Paulus of Apollos of Sefas of die wêreld of lewe of dood of hede of toekoms is, alles behoort aan julle,

23 maar julle behoort aan Christus en Christus aan God.

4

1

So moet julle ons dan sien: ons is dienaars van Christus en bestuurders aan wie die geheimenisse van God toevertrou is.

2 Van 'n bestuurder word veral vereis dat hy betroubaar moet wees.

3 Maar vir my is dit nie van die minste belang of my betroubaarheid deur julle of deur 'n menslike regbank beoordeel word nie. Trouens, ek beoordeel dit self nie eens nie.

4 Daar is ook niks waaroor my gewete my aankla nie, maar dit beteken nog nie dat ek vrygespreek is nie. Dit is die Here wat my beoordeel.

5 Daarom moet julle nie te vroeg, voordat die Here kom, 'n oordeel uitspreek nie. Hy sal ook die dinge wat in duisternis verborge is, aan die lig bring en die bedoelings van die hart blootlê. Elkeen sal dan van God die lof ontvang wat hom toekom.

6

In hierdie uiteensetting, broers, het ek myself en Apollos as voorbeelde gebruik om julle te leer wat die gesegde beteken: “Hou jou binne die perke wat God gestel het.” Dan sal niemand hom belangriker as 'n ander beskou oor sy leermeester nie.

7 Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie?

8 Julle het mos klaar alles wat julle begeer! Julle is al klaar ryk! Julle regeer al klaar soos konings! Ons nog nie. As julle tog maar werklik konings was, sodat ons saam met julle kon regeer.

9

Dit lyk vir my God het aan ons, die apostels, die laaste plek in die ry gegee asof ons mense is wat tot die dood in die arena veroordeel is. Ons het 'n skouspel geword vir die wêreld, vir engele sowel as vir mense.


10
Ons is dwaas ter wille van Christus, julle is verstandig in Christus;
ons is swak, julle is sterk;
julle geniet aansien, ons word verag.

11
Tot op hierdie oomblik ly ons honger en dors,
ons is armoedig aangetrek en word mishandel.
Ons swerf rond

12
en werk hard met ons eie hande.
Ons word uitgeskel, en ons antwoord met seënwense;
ons word vervolg, en ons verdra dit;

13
ons word beledig, en ons bly vriendelik.
Ons het die uitvaagsels van die wêreld,
die skuim van die samelewing geword,
en dit is nou nog so.

14

Hierdie dinge skryf ek nie om julle skaam te maak nie, maar om julle as my geliefde kinders tereg te wys,

15 want al sou julle ook duisende leermeesters in Christus hê, baie vaders het julle nie. Deur die verkondiging van die evangelie is ek in Christus Jesus julle vader.

16 Daarom spoor ek julle aan: Volg my voorbeeld!

17 Om hierdie rede het ek Timoteus, my geliefde en getroue seun in die Here, na julle toe gestuur. Hy sal julle herinner aan my lewe en leer in Christus Jesus, waarin ek ook oral in elke gemeente onderrig gee.

18

Party van julle het gedink ek kom nie weer na julle toe nie en het hulle toe begin aanmatig.

19 Maar binnekort sal ek na julle toe kom, as die Here wil, en dan sal ek self die verwaandes leer ken, nie volgens hulle praatjies nie, maar volgens wat hulle kan doen.

20 Die koninkryk van God is immers nie 'n saak van praatjies nie, maar van krag.

21 Wat verkies julle? Moet ek met 'n slaanding na julle toe kom, of in liefde en in 'n gees van vriendelikheid?

5

1

'n Mens hoor werklik van onsedelikheid onder julle, en dan nogal onsedelikheid van so 'n aard as wat selfs onder die heidene nie voorkom nie, naamlik dat 'n man en sy stiefma as man en vrou saamleef.

2 En dan verbeel julle julle nog julle is beter as ander. Moes julle nie liewer daaroor getreur het nie? So sou julle die man wat so iets gedoen het, uit julle kring verwyder het.

3 [3-4] Wat my betref, al was ek nie persoonlik by julle nie, was ek tog in die gees daar. Asof ek werklik daar was, het ek oor die man wat so iets gedoen het, reeds in die Naam van ons Here Jesus tot 'n besluit gekom. Julle daar, en ek in die gees teenwoordig, saam met die krag van ons Here Jesus, het vergader om hierdie man aan die Satan oor te gee.

4

5 So sou sy sondige aard vernietig word, sodat sy gees gered kan word op die dag wanneer die Here kom.

6

Julle selfverheffing is nie mooi nie. Weet julle nie dat 'n bietjie suurdeeg die hele deeg deurtrek nie?

7 Verwyder dan die ou suurdeeg, sodat julle nuwe, ongesuurde deeg kan wees, en dit is julle ook werklik. Ons paaslam is immers geslag: dit is Christus.

8 Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid.

9

In die vorige brief het ek aan julle geskryf om nie met mense om te gaan wat in onsedelikheid leef nie.

10 Daarmee het ek glad nie die onsedelikes of die geldgieriges, bedrieërs of afgodsdienaars van hierdie wêreld bedoel nie, want om hulle te vermy, sou julle uit die wêreld moes padgee.

11 Wat ek geskryf het, was dat julle nie moet omgaan met iemand wat homself 'n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of 'n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie.

12

[12-13] Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. God sal oor hulle oordeel. Maar julle moet oor julle eie mense oordeel: “Verwyder die slegte mens onder julle uit!”

6

1

Gaan iemand van julle wat 'n saak teen 'n ander gelowige het, werklik so ver dat hy sy reg by heidense regters soek en nie by gelowiges nie?

2 Of weet julle nie dat die gelowiges oor die wêreld sal oordeel nie? En as julle oor die wêreld sal oordeel, is julle dan onbevoeg vir sulke geringe hofsake?

3 Weet julle nie dat ons oor die engele sal oordeel nie? Dan tog seker ook oor alledaagse dinge.

4 As julle oor alledaagse dinge geskille het, laat julle dan dié mense as regters optree op wie die gemeente neersien?

5 Ek sê dit om julle skaam te maak. Is daar dan nie 'n enkele verstandige mens onder julle wat 'n saak tussen gelowiges kan besleg nie?

6 Maar gaan een gelowige nou met die ander hof toe, en dit voor ongelowige regters?

7

Eintlik is julle saak al klaar verlore, omdat julle hofsake met mekaar het. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle julle nie liewer te kort doen nie?

8 In plaas daarvan pleeg julle onreg en doen ander te kort, en dit doen julle aan medegelowiges.

9

Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen

10 of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.

11 En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.

12

Daar is mense wat sê:

“Alles is my geoorloof.”
Ja, maar nie alles is heilsaam nie.
“Alles is my geoorloof,” sê hulle.
Ja, maar ek gaan my nie deur enigiets
laat verslaaf nie.

13

Hulle sê ook:

“Kos is vir die maag,
en die maag vir kos.”

Goed, maar God sal die een sowel as die ander tot niet maak. 'n Mens se liggaam is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie, maar is daar vir die Here, wat ook oor ons liggaam Here is.

14 God het deur sy krag die Here uit die dood opgewek en so sal Hy ons ook opwek.

15

Weet julle nie dat julle liggaam deel is van Christus nie? Sal ek nou 'n deel van Christus neem en dit 'n deel van 'n ontugtige vrou maak? Beslis nie!

16 Of weet julle nie dat iemand wat met 'n ontugtige vrou omgang het, liggaamlik een met haar is nie? God sê immers: “Die twee sal een word.”

17 Maar wie hom met die Here verenig, is geestelik een met Hom.

18

Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat 'n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam.

19 Of besef julle nie dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie:

20 julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.

7

1

Ek kom nou by die dinge waaroor julle aan my geskryf het.

Dit is goed vir 'n man om sonder 'n vrou te lewe,

2 maar weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man.

3 Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so ook die vrou teenoor haar man.

4 Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man; net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.

5 Moenie vir mekaar omgang weier nie, behalwe met wedersydse toestemming en net vir 'n bepaalde tyd om julle aan die gebed te wy. Daarna moet julle weer saamkom, sodat die Satan julle nie miskien weens julle gebrek aan selfbeheersing verlei nie.

6

Dit sê ek as 'n tegemoetkoming, nie as 'n bevel nie.

7 Eintlik wens ek dat alle mense kon wees soos ek is. Maar elkeen het van God sy besondere gawe ontvang, die een dít en die ander iets anders.

8

Vir die ongetroudes en die weduwees sê ek: Dit is vir hulle goed om ongetroud te bly soos ek.

9 Maar as hulle nie in onthouding kan leef nie, moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om deur hartstog verteer te word.

10

Die getroudes beveel ek — nee, nie ek nie, maar die Here — dat 'n vrou nie van haar man mag skei nie.

11 As sy tog skei, moet sy daarna ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag 'n man ook nie van sy vrou skei nie.

12

Vir die ander sê ek — ek, nie die Here nie: As 'n gelowige man met 'n ongelowige vrou getroud is en sy gewillig is om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie.

13 En as 'n vrou met 'n ongelowige man getroud is en hy gewillig is om by haar te bly, moet sy nie van die man skei nie.

14 Die ongelowige man is by God aanneemlik deur die band met die gelowige vrou, en die ongelowige vrou is by God aanneemlik deur die band met die gelowige man. Anders sou julle kinders heidene wees, maar nou behoort hulle aan God.

15 As die ongelowige egter wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die gelowige man of vrou nie gebind nie. God het julle geroep om in vrede te lewe.

16 Jy, vrou, weet immers nie of jy jou man sal red nie. Of jy, man, hoe weet jy of jy jou vrou sal red?

17

Verder moet elkeen in die omstandighede bly wat die Here vir hom gegee het. Hy moet bly wat hy was toe God hom geroep het. So skryf ek dit ook aan al die gemeentes voor.

18 As iemand reeds besny was toe God hom geroep het, moet hy die teken van sy besnydenis nie ongedaan probeer maak nie. As iemand 'n onbesnedene was toe hy geroep is, moet hy hom nie laat besny nie.

19 Dit kom nie daarop aan of iemand besny is of nie, maar wel of hy die gebooie van God onderhou.

20 In die samelewing moet elkeen bly in die omstandighede waarin hy was toe God hom geroep het.

21 As jy 'n slaaf was toe God jou geroep het, moet jy jou nie daaroor kwel nie. Maar as jy die kans kry om vry te word, maak gerus daarvan gebruik.

22 'n Slaaf wat deur die Here geroep is, is immers 'n vrygemaakte van die Here. Net so ook is 'n vry man wat deur die Here geroep is, nou 'n slaaf van Christus.

23 Julle is vrygekoop en die prys is betaal; moet dan nie slawe van mense wees nie.

24 Broers, elkeen moet God dien in die omstandighede waarin hy was toe God hom geroep het.

25

Wat die ongetroudes betref, het ek geen bevel van die Here nie, maar ek gee my eie mening as iemand wat deur die genade van die Here betroubaar is.

26

Ek meen dat, met die oog op die swaarkry van die eindtyd, dit vir 'n mens goed is om te bly soos hy is:

27 as jy getroud is, moenie skei nie; as jy ongetroud is, moenie 'n vrou soek nie.

28 Maar as jy tog trou, doen jy nie verkeerd nie. En as 'n jongmeisie trou, doen sy nie verkeerd nie. Maar sulke mense sal swaar kry in hierdie lewe, en ek wil julle dit bespaar.

29 Ek bedoel dít, broers: die tyd is min. Van nou af moet dié wat getroud is, leef asof hulle nie getroud is nie;

30 en dié wat bedroef is, asof hulle nie bedroef is nie; en dié wat bly is, asof hulle nie bly is nie; dié wat iets aankoop, asof hulle dit nie besit nie.

31 Ja, dié wat met die dinge van die wêreld te doen het, moet leef asof hulle daar niks aan het nie, want hierdie wêreld soos ons hom ken, is aan die verbygaan.

32 Ek wil hê julle moet vry wees van sorge. Die ongetroude man gee aandag aan die dinge van die Here, aan hoe hy die Here kan behaag.

33 Die getroude man gee ook aandag aan die dinge van die wêreld, aan hoe hy sy vrou kan behaag,

34 en sy aandag is verdeel. Ook die ongetroude vrou en die jongmeisie gee aandag aan die dinge van die Here, om na liggaam en gees aan Hom toegewy te wees. Maar die getroude vrou gee ook aandag aan die dinge van die wêreld, aan hoe sy haar man kan behaag.

35

Dit alles sê ek vir julle eie beswil. Ek wil julle nie aan bande lê nie, maar ek wil hê julle moet in eerbaarheid lewe en in onverdeelde toewyding aan die Here.

36

As iemand meen dat hy teenoor sy verloofde onbehoorlik handel deur nie te trou nie, en sy begeertes te sterk word en hy voel dat hulle behoort te trou, laat hom doen wat hy graag wil: laat hulle gerus trou. Dit is nie verkeerd nie.

37 Maar as iemand in sy eie gemoed oortuig is dat hy nie moet trou nie, en hy nie onder enige dwang verkeer nie, maar volle beheer oor sy eie wil het, en hy by homself besluit het om nie te trou nie, doen hy 'n goeie ding.

38 Dus, hy wat met sy verloofde trou, doen goed. Wie egter nie trou nie, doen beter.

39

'n Vrou is aan haar man gebind so lank as hy lewe. As hy sterwe, is sy vry om te trou met wie sy wil, mits dit met 'n gelowige is.

40 Tog is sy na my mening gelukkiger as sy ongetroud bly; en ek dink dat ek ook die Gees van God het.

8

1

En nou julle vraag oor vleis wat aan 'n afgod geoffer is.

Ons weet dat ons almal kennis het. Kennis maak verwaand, maar liefde bou op.

2 As iemand meen hy het kennis van iets, het hy nog nie die kennis wat 'n mens behoort te hê nie.

3 Maar as iemand God liefhet, ken God hom.

4

Wat nou betref die eet van vleis wat aan 'n afgod geoffer is: ons weet dat daar geen afgod in die hele wêreld is wat iets beteken nie, en dat daar ook geen God is nie, behalwe Een.

5 En al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is, soos daar trouens baie is wat “God” en baie wat “Here” genoem word,

6 is daar nogtans vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.

7

Maar nie almal het hierdie kennis nie. Daar is party van julle wat so gewoond is aan afgode dat hulle nog altyd vleis eet asof dit 'n offer aan 'n afgod is. Daardeur word hulle gewete, wat reeds swak is, verder beswaar.

8 Wat ons eet, bring ons egter nie nader aan God nie. As ons nie eet nie, verloor ons niks nie; en as ons eet, wen ons niks nie.

9 Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie vir dié wat swak is, 'n aanleiding tot sonde word nie.

10 As jy wat hierdie kennis het, in 'n afgodstempel gaan eet en iemand met 'n swak gewete sien jou, sal dit hom dan nie aanmoedig om die vleis as afgodsoffer te eet nie?

11 Dan gaan die swakke verlore deur hierdie kennis van jou, en dit 'n broer vir wie Christus gesterf het.

12 Deur so teen die broers te sondig en 'n las op hulle swak gewetens te lê, sondig julle teen Christus.

13 Daarom, as ek deur wat ek eet, my broer laat struikel, sal ek nooit weer vleis eet nie: ek wil nie my broer se val veroorsaak nie.

9

1

Is ek nie vry nie? Is ek nie 'n apostel nie? Het ek nie vir Jesus, ons Here, gesien nie? Is julle wat aan die Here behoort, nie die vrug van my werk nie?

2 Al is ek vir ander nie 'n apostel nie, vir julle is ek dit tog. Immers, julle wat aan die Here behoort, is die seël op my apostelskap.

3

My verdediging teen dié wat regter oor my speel, is dít:

4 het ons dan nie reg op lewensonderhoud nie?

5 Het ons nie selfs die reg om elkeen sy vrou wat 'n gelowige is, op reis saam te neem soos ook die ander apostels en die Here se broers en Sefas nie?

6 Of is dit net ek en Barnabas wat nie die reg het om op te hou met die handearbeid vir eie onderhoud nie?

7 Wie dien ooit op eie koste as soldaat? Wie plant 'n wingerd en eet nie van sy vrugte nie? Of wie pas vee op en geniet nie van hulle melk nie?

8

Wat ek sê, is nie maar net alledaagse waarhede nie. Sê die wet dit nie ook nie?

9 In die wet van Moses staan daar tog geskrywe: “Jy mag nie 'n bees waarmee jy graan dors, se bek toebind nie.” Is dit miskien oor die beeste dat God Hom bekommer?

10 Of sê Hy dit juis ter wille van óns? Ja, ter wille van ons is dit geskrywe. Hy wat ploeg, moet met verwagting ploeg, en hy wat dors, moet dit doen met die verwagting om sy deel te ontvang.

11 As ons vir julle die geestelike saad gesaai het, is dit dan te veel gevra as ons van julle die stoflike lewensonderhoud sou inoes?

12 As julle aan ander hierdie reg toestaan, kom dit ons dan nie nog meer toe nie?

Maar van hierdie reg het ons nie gebruik gemaak nie. Inteendeel, ons dra al die koste self sodat ons geen hindernis in die weg van die evangelie van Christus sou lê nie.

13 Weet julle nie dat dié wat tempeldiens verrig, uit die tempel lewe, en dat dié wat die altaar bedien, uit die offers hulle deel ontvang nie?

14 So het die Here ook bepaal dat dié wat die evangelie verkondig, hulle lewensonderhoud uit die verkondiging van die evangelie moet ontvang.

15 Wat my betref, ek het hiervan geen gebruik gemaak nie. Ek skryf dit ook nie met die bedoeling om daarop aanspraak te maak nie. Ek gaan liewer dood! Dié roem sal niemand my ontneem nie!

16 As ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my 'n rede om te roem nie. Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie!

17 As ek dit uit eie keuse doen, kan ek op loon aanspraak maak, maar ek doen dit nie uit eie keuse nie: dit is 'n taak wat aan my toevertrou is.

18 Wat is my loon dan? Dit is dat ek as prediker die evangelie kosteloos verkondig en so afstand doen van my reg wat aan die verkondiging van die evangelie verbonde is.

19

Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.

20 Vir die Jode het ek soos 'n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen.

21 Hoewel ek nie sonder die wet van God is nie, maar onder die wet van Christus, het ek vir dié wat sonder die wet is, geword soos een sonder die wet om hulle te wen.

22 Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red.

23 Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê.

24

Weet julle nie dat atlete wat aan 'n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen.

25 Almal wat aan 'n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om 'n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons 'n onverganklike.

26 Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos 'n bokser wat nie in die lug slaan nie.

27 Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie.

10

1

Broers, ek wil julle daaraan herinner dat ons voorvaders almal onder die beskerming van die wolk was en almal veilig deur die see gegaan het.

2 Omdat hulle almal vir Moses gevolg het, is hulle almal in die wolk en in die see gedoop.

3 Almal het dieselfde geestelike voedsel geëet,

4 en almal het dieselfde geestelike drank gedrink: hulle het gedrink uit 'n geestelike rots wat met hulle saamgegaan het. Die rots was Christus.

5 Tog was God met die meeste van hulle nie tevrede nie, want hulle het in die woestyn omgekom.

6

Hierdie dinge het gebeur as voorbeelde vir ons dat ons ons nie soos hulle deur sondige begeertes moet laat dryf nie.

7 Julle moenie afgodsdienaars word nie, soos sommige van hulle oor wie daar geskrywe staan: “Die volk het gaan sit om te eet en te drink en het opgestaan en hulle aan uitspattighede oorgegee.”

8 Laat ons ook nie onsedelikheid pleeg nie, soos sommige van hulle onsedelikheid gepleeg het, en op een dag het daar drie en twintig duisend omgekom.

9 Laat ons Christus nie uittart nie, soos sommige van hulle Hom uitgetart het, en hulle het deur slange omgekom.

10 En moenie teen God in verset kom nie, soos sommige van hulle in verset gekom het, en hulle het deur die engel van die dood omgekom.

11

Hierdie dinge het oor hulle gekom as 'n voorbeeld vir ons en is opgeskryf as 'n waarskuwing vir ons wat die einde van die tye al beleef.

12 Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.

13 Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.

14

Daarom, my geliefdes, moet niks met die afgodsdiens te doen hê nie.

15 Ek praat met julle as verstandige mense. Beoordeel self wat ek sê.

16 Die beker van danksegging, waarvoor ons God dank, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie?

17 Omdat dit een brood is, is ons, al is ons baie, saam een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood.

18

Kyk maar hoe is dit by die Joodse volk. Kom daar dan nie gemeenskap tot stand tussen die offeraltaar en dié wat die offers eet nie?

19 Wat wil ek hiermee sê? Dat 'n afgodsoffer of 'n afgod enige betekenis het?

20 Nee, maar dat dié wat aan hulle offer, aan bose geeste offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê julle moet met bose geeste gemeenskap hou nie.

21 Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van bose geeste nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van bose geeste nie.

22 Of wil ons die Here uittart? Is ons miskien sterker as Hy?

23

Daar is mense wat sê:

“Alles is geoorloof.”
Ja, maar nie alles is heilsaam nie.
“Alles is geoorloof,” sê hulle.
Ja, maar alles is nie opbouend nie.

24

'n Mens moet nie sy eie voordeel soek nie, maar dié van ander.

25

Alles wat in 'n slaghuis verkoop word, kan julle eet sonder om ter wille van die gewete navraag te doen,

26 “want die aarde met alles wat daarop is, behoort aan die Here.”

27

As 'n ongelowige julle uitnooi en julle besluit om te gaan, kan julle alles eet wat vir julle voorgesit word, sonder om ter wille van die gewete navraag te doen.

28 Maar as iemand vir julle sê: “Die vleis is 'n afgodsoffer,” moet dit dan nie eet nie, ter wille van hom wat dit gesê het en ter wille van die gewete.

29 Ek bedoel nou nie jou eie gewete nie, maar dié van die ander man.

“Waarom,” sou jy vra, “moet my vryheid beperk word deur 'n ander man se gewete?

30 As ek iets met danksegging geniet, waarom word daar van my kwaad gepraat oor iets waarvoor ek God dank?”

31

Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.

32 Moenie aanstoot gee nie, nie aan Jode of aan Grieke of aan die gemeente van God nie.

33 Maak soos ek: ek probeer om almal in alles tegemoet te kom. Ek soek nie my eie belang nie maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word.

11

1

Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.

2

Ek vind dit prysenswaardig dat julle in alles aan my bly dink en vashou aan die oorgelewerde leer soos ek dit aan julle oorgedra het.

3 Ek wil egter hê julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en 'n man die hoof van sy vrou, en God die hoof van Christus.

4 Elke man wat bid of profeteer met iets op sy kop, doen sy hoof, Christus, oneer aan.

5 Maar elke vrou wat bid of profeteer sonder iets op haar kop, doen haar hoof, haar man, oneer aan, want dan is sy net soos 'n vrou wie se hare afgeskeer is.

6

As 'n vrou nie iets op haar kop wil sit nie, kan sy ewe goed haar hare laat afsny. Maar aangesien dit 'n skande is vir 'n vrou om haar hare te laat afsny of afskeer, moet sy iets op haar kop sit.

7

'n Man behoort nie iets op sy kop te sit nie. Hy is die beeld en sieraad van God, maar die vrou is die sieraad van die man.

8 Die man is nie uit die vrou geneem nie, maar die vrou uit die man.

9 Die man is ook nie ter wille van die vrou geskep nie, maar die vrou ter wille van die man.

10 Daarom behoort die vrou 'n teken van die man se gesag oor haar op haar kop te hê ter wille van die engele.

11 Tog het die Here bepaal dat die vrou nie sonder die man sal bestaan nie, en die man nie sonder die vrou nie,

12 want soos die vrou uit die man geneem is, so kom die man deur die vrou in die wêreld, maar alles is uit God.

13

Oordeel julle nou maar self: is dit betaamlik vir 'n vrou om sonder iets op haar kop in die erediens tot God te bid?

14 Die algemene opvatting is tog dat dit vir 'n man nie eerbaar is om lang hare te dra nie,

15 maar dat dit vir 'n vrou wel eerbaar is. Lang hare is immers vir haar gegee as 'n bedekking.

16

Ons het in die erediens nie 'n ander gewoonte nie, en die ander gemeentes van God ook nie. Dit sê ek vir iemand wat hieroor wil stry.

17

Noudat ek besig is om voorskrifte te gee — daar is dinge wat ek nie prysenswaardig vind nie. Dit is dat julle samekomste eerder kwaad doen as goed.

18 Wat my veral hinder, is dat daar, soos ek hoor, verdeeldheid onder julle is wanneer julle as gemeente saamkom; en gedeeltelik glo ek dit ook.

19 Daar moet trouens partyskappe onder julle wees sodat dit bekend kan word wie van julle die toets kan deurstaan.

20

As julle dan as gemeente saamkom, is dit nie meer die nagmaal van die Here wat julle vier nie,

21 want by die gemeenskaplike maaltyd eet elkeen gou sy eie eetgoed, met die gevolg dat party honger bly en party te veel drink.

22 Het julle dan nie huise waar julle kan eet en drink nie? Of het julle nie eerbied vir die gemeente van God nie, en wil julle die armes verneder? Wat moet ek vir julle sê? Moet ek julle prys? Hieroor prys ek julle beslis nie!

23

Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem

24 en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.”

25

Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”

26

Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.

27

Elkeen wat op 'n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here.

28 Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink,

29 want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur 'n oordeel oor homself.

30 Daarom is daar baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle.

31 As ons onsself vooraf reg ondersoek het, sou ons nie onder die oordeel gekom het nie.

32 Maar nou word ons deur die Here geoordeel en getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie.

33

Daarom, my broers, as julle saamkom om die nagmaal te vier, wag vir mekaar.

34 As een van julle honger is, moet hy liewer by die huis eet, sodat julle nie 'n oordeel oor julle bring as julle bymekaarkom nie.

Die ander sake sal ek reël wanneer ek daar kom.

12

1

Wat die gawes van die Gees betref, broers, wil ek hê dat julle ingelig moet wees.

2 Julle weet dat, toe julle nog heidene was, julle blindelings na die stom afgode meegevoer is.

3 Daarom wil ek hê julle moet weet dat iemand wat sê: “Vervloek is Jesus”, nie deur die Gees van God praat nie; en niemand kan sê: “Jesus is die Here” nie, behalwe deur die Heilige Gees.

4

Daar is 'n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee;

5 daar is 'n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee;

6 daar is 'n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring.

7

Aan elkeen afsonderlik word 'n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal.

8 Aan die een word deur die Gees die gawe gegee om 'n woord van wysheid te praat, aan 'n ander 'n woord van kennis deur dieselfde Gees;

9 aan die een geloof deur dieselfde Gees, aan 'n ander genadegawes van gesondmaking deur die één Gees.

10 Aan die een gee Hy die krag om wonders te doen, aan 'n ander die gawe om te profeteer, en aan nog 'n ander die gawe om tussen die geeste te onderskei. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan 'n ander om dit uit te lê.

11 Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik 'n gawe uitdeel soos Hy wil.

12

Net soos die liggaam 'n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus.

13 Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk.

14

Die liggaam bestaan ook nie net uit een lid nie, maar uit baie.

15 As die voet sou sê: “Omdat ek nie 'n hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” hou hy om dié rede tog nie op om deel van die liggaam te wees nie.

16 En as die oor sou sê: “Omdat ek nie 'n oog is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” hou hy om dié rede eweneens nie op om deel van die liggaam te wees nie.

17 As die hele liggaam oog was, hoe sou hy kon hoor? En as die hele liggaam oor was, hoe sou hy kon ruik?

18 Maar nou het God die lede, elkeen van hulle afsonderlik, in die liggaam gevoeg soos Hy dit wou hê.

19 As almal saam net een lid was, hoe sou daar 'n liggaam kon wees?

20 Nou is daar wel baie lede maar net een liggaam.

21

Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie.” Die kop kan weer nie vir die voete sê: “Ek het julle nie nodig nie.”

22 Inteendeel, die lede van die liggaam wat as die swakste voorkom, is juis noodsaaklik,

23 en dié wat vir ons minder mooi lyk, klee ons met groter sorg. So word ons minder aansienlike dele besonder mooi gemaak,

24 terwyl die aantreklike dele dit nie nodig het nie. God het die liggaam so saamgestel dat Hy groter eer gegee het aan die lid wat eer kortkom,

25 sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra.

26 As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.

27

Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen 'n lid daarvan.

28 En in die kerk is daar mense aan wie God 'n bepaalde taak gegee het. Ten eerste is daar apostels, ten tweede profete, ten derde leraars; verder is daar dié wat wonderdade kan doen, dan dié wat genadegawes ontvang het om mense gesond te maak, om hulp te verleen, om leiding te gee of om ongewone tale of klanke te gebruik.

29 Is almal miskien apostels? Is almal profete? Is almal leraars? Kan almal miskien wonders doen?

30 Het almal die genadegawes om mense gesond te maak? Of gebruik almal miskien ongewone tale of klanke en kan almal dit uitlê?

31

Lê julle toe op die beste genadegawes.

13

1

Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is:

Al praat ek die tale van mense en engele,
maar ek het geen liefde nie, het ek 'n stuk klinkende metaal, 'n galmende simbaal geword.

2
Al het ek die gawe van profesie
en ken ek al die geheimenisse
en besit ek al die kennis,
en al het ek al die geloof om berge te versit,
maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.

3
Al deel ek al wat ek het aan ander uit,
en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem,
maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.

4

Die liefde is geduldig,
die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.

5
Dit handel nie onwelvoeglik nie,
soek nie sy eie belang nie,
is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.

6
Dit verbly hom nie oor onreg nie,
maar verheug hom oor die waarheid.

7
Dit bedek alles,
glo alles,
hoop alles,
verdra alles.

8

Die liefde vergaan nooit nie,
maar die gawe
van profesie sal verdwyn,
die gawe
om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou,
en dié van kennis sal uitgedien raak.

9
Want ons ken maar gedeeltelik,
en ons profeteer maar gedeeltelik,

10
maar wanneer die volledige kom,
sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees.

11
Toe ek 'n kind was,
het ek gepraat soos 'n kind, gedink soos 'n kind, geredeneer soos 'n kind.
Maar noudat ek 'n man is,
is ek klaar met die dinge van 'n kind.

12

Nou kyk ons nog
in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld,
maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is.
Nou ken ek net gedeeltelik,
maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.

13

En nou:
geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie.
En die grootste hiervan is
die liefde!

14

1

Julle moet die liefde nastreef. Lê julle toe op die gawes van die Gees, maar veral daarop om te profeteer.

2 Iemand wat ongewone tale of klanke gebruik, praat nie met mense nie, maar met God. Niemand verstaan hom nie, want deur die Gees sê hy onbegryplike dinge.

3 Iemand wat profeteer, rig hom tot mense en praat woorde wat geestelik opbou en bemoedig en vertroos.

4 Die een wat ongewone tale of klanke gebruik, bou net homself op, maar die een wat profeteer, bou die gemeente op.

5 Ek sou graag wil hê dat julle almal ongewone tale of klanke gebruik, maar nog liewer dat julle profeteer. Die een wat profeteer, is van groter betekenis as die een wat ongewone tale of klanke gebruik, tensy hy dit ook uitlê, sodat die gemeente daardeur opgebou kan word.

6

En nou, broers, as ek na julle toe kom en ongewone tale of klanke gebruik, van watter nut sal ek vir julle wees? Ek sal vir julle net van nut wees as ek 'n openbaring of kennis of profesie of lering aan julle meedeel.

7

Dit is net soos met lewelose instrumente wat 'n klank afgee, soos 'n fluit of 'n siter. As daar nie klankverskille is nie, hoe sal 'n mens weet wat op die fluit of die siter gespeel word?

8

En as die beuel 'n onduidelike sein gee, wie sal vir die geveg gereed maak?

9 So is dit ook met julle. As julle ongewone tale of klanke gebruik en nie 'n verstaanbare woord praat nie, hoe sal 'n mens weet wat daar gesê word? Dan praat julle mos in die wind!

10 Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld, en nie een is sonder betekenis nie.

11 Maar as ek 'n taal nie ken nie, sal die een wat dit praat, vir my onverstaanbaar wees en ek vir hom.

12 Dit is ook op julle van toepassing. As julle julle toelê op die gawes van die Gees, streef dan na dié wat tot opbou van die gemeente dien, sodat julle daarin kan uitmunt.

13

Daarom moet hy wat ongewone tale of klanke gebruik, bid om die gawe om dit te kan uitlê,

14 want as ek ongewone tale of klanke gebruik wanneer ek bid, dan bid my gees, maar my verstand is nie daarby betrokke nie.

15 Hoe moet dit dan wees? Só, dat ek met die gees moet bid, maar ook met die verstand. Ek moet met die gees die lof van die Here sing, maar ook met die verstand.

16 Anders, as jy met die gees 'n dankgebed doen, hoe sal 'n gewone mens wat daar teenwoordig is, op jou dankgebed “Amen” kan sê? Hy verstaan mos nie wat jy sê nie.

17 Jou dankgebed is wel goed, maar ander mense word nie daardeur geestelik opgebou nie.

18

Ek dank God dat ek meer ongewone tale of klanke gebruik as julle almal.

19 Maar in die byeenkoms van die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand praat om ook ander te onderrig, as duisend woorde in ongewone tale of klanke.

20

Broers, moenie in julle denke kinders wees nie. Wees onvolwasse in die slegte dinge, maar in julle denke volwasse.

21 In die wet staan daar geskrywe dat die Here sê:

“Deur andertaliges en deur die mond van vreemde mense sal Ek met hierdie volk praat,
en selfs dan sal hulle na My nie luister nie.”

22

So is die gebruik van ongewone tale of klanke dan 'n teken vir ongelowiges en nie vir gelowiges nie. Daarteenoor is die profesie vir gelowiges en nie vir ongelowiges nie.

23

As die hele gemeente dan bymekaar is en almal gebruik ongewone tale of klanke en daar kom buitestaanders of ongelowiges binne, sal hulle nie sê julle is van julle verstand af nie?

24 Daarteenoor, as almal profeteer, en daar kom 'n ongelowige of 'n buitestaander binne, dan word hy deur almal in sy gewete aangespreek en kom hy tot selfondersoek.

25 Die verborge dinge van sy hart kom aan die lig. En so kom hy daartoe om op sy knieë te val, God te aanbid en openlik te getuig: “Waarlik, God is hier by julle!”

26

Hoe moet dit dan wees, broers? Elke keer as julle bymekaarkom, het elkeen gewoonlik 'n bydrae om te lewer: 'n psalm, 'n onderwysing, 'n openbaring, 'n ongewone taal of klank, 'n uitleg daarvan. Sorg dan dat alles tot opbou van die gemeente verloop.

27

Wat die ongewone tale of klanke betref, net twee of hoogstens drie moet dit praat, elkeen op sy beurt, en daar moet een wees wat dit uitlê.

28 As daar nie iemand is wat dit kan uitlê nie, moet dié een wat ongewone tale of klanke gebruik, stilbly in die byeenkoms van die gemeente en net tuis met homself en met God praat.

29

Wat die profete betref, twee of drie kan aan die woord kom, en die ander moet beoordeel wat hulle sê.

30 Maar as 'n ander een wat daar sit, 'n openbaring ontvang, moet die spreker stilbly.

31 Julle kan almal profeteer, maar een vir een, sodat almal daaruit kan leer en almal bemoedig kan word.

32 'n Profeet het immers beheer oor sy gees.

33 God is tog nie 'n God van wanorde nie, maar van orde en vrede.

Soos in al die Christelike gemeentes

34 moet die vrouens ook in julle byeenkomste stilbly, want hulle word nie toegelaat om te praat nie. Hulle moet onderdanig wees, soos die wet ook sê.

35 As hulle iets te wete wil kom, moet hulle tuis hulle eie mans vra, want dit is lelik vir 'n vrou om in die erediens te praat.

36

Het die woord van God miskien van julle af uitgegaan? Of het dit julle alleen bereik?

37

Iemand wat dink dat hy 'n profeet is of 'n ander gawe van die Gees besit, moet erken dat wat ek aan julle skrywe, 'n bevel van die Here is.

38 Maar as iemand dit nie erken nie, sal God hom ook nie erken nie.

39

Daarom, my broers, beywer julle om te profeteer en moenie die gebruik van ongewone tale of klanke verhinder nie.

40 Alles moet egter gepas en ordelik geskied.

15

1

Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan.

2 Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom.

3

Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte;

4 Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.

5 Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf,

6 en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe.

7 Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels.

8 Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn.

9

Ek is immers die geringste van die apostels en is nie werd om 'n apostel genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het.

10 Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie; inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is.

11

In elk geval, of dit ek is of hulle — dit is wat ons verkondig, en dit is wat julle geglo het.

12

As ons dan verkondig dat Christus uit die dood opgewek is, hoe kan party van julle nog beweer dat daar geen opstanding van die dooies is nie?

13 As daar geen opstanding van die dooies is nie, beteken dit dat Christus ook nie opgewek is nie.

14 En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud.

15 Verder sou dit beteken dat ons vals getuienis oor God afgelê het, omdat ons teen God in getuig het dat Hy Christus opgewek het. As dit dan waar is dat die dooies nie opgewek word nie, het Hy Christus ook nie opgewek nie.

16 As die dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie.

17 En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes.

18 Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore.

19 As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.

20

Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het.

21 Aangesien die dood deur 'n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur 'n mens gekom.

22 Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word.

23 Maar daar is 'n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort.

24 Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het.

25 Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het.

26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.

27 Daar staan immers geskrywe: “Alles het Hy aan Hom onderwerp.” Maar as die Skrif sê dat alles aan Christus onderwerp is, is dit duidelik dat die Vader wat alles aan Hom onderwerp het, uitgesonder is.

28 Wanneer alles dan aan die Seun onderwerp is, sal Hy Hom ook self onderwerp aan die Vader wat alles aan Hom onderwerp het. So sal God alles wees vir alles.

29

En nou, as die dooies glad nie opgewek word nie, wat wil die mense bereik wat hulle vir dooies laat doop? Waarom laat hulle hulle nog vir dooies doop?

30 En ons ook, waarom stel ons ons dan van uur tot uur aan lewensgevaar bloot?

31 Elke dag word ek deur die dood bedreig. Ja, broers, dit is waar, net so waar as wat julle my trots is in Christus Jesus, ons Here.

32 As ek hier in Efese as bloot sterflike mens soos teen wilde diere geveg het, wat het ek daarmee bereik? As die dooies nie opgewek word nie,

“laat ons eet en drink, want môre sterf ons!”

33

Moet julle nie langer laat mislei nie:

“Slegte geselskap bederf goeie sedes.”

34

Kom tot besinning en moenie langer sonde doen nie. Party van julle is sonder kennis van God. Dit sê ek tot julle skande.

35

Maar iemand kan vra: Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam sal hulle hê?

36

Dis 'n dom vraag! Wat jy saai, kom nie tot lewe tensy dit eers sterwe nie.

37 En wat jy saai, saai jy nie in die toekomstige gestalte daarvan nie, maar as 'n blote saadkorrel, of dit nou koring is of iets anders.

38 Maar God gee 'n gestalte daaraan, soos Hy bepaal het; aan elke saadsoort gee Hy 'n eie gestalte.

39

Die vleis van lewende wesens is nie alles eenders nie. Daar is verskil tussen die vleis van mense, van diere, van voëls en van visse.

40

Daar is hemelliggame en daar is aardse liggame. Die glans van die hemelliggame is anders as dié van die aardse liggame.

41 Die glans van die son is anders as dié van die maan of dié van die sterre. Ook verskil die een ster se glans van dié van die ander.

42

So is dit ook met die opstanding van die dooies: wat gesaai word, is verganklik en word in onverganklikheid opgewek;

43 wat gesaai word, is gering en word in heerlikheid opgewek; wat gesaai word, is swak en word in krag opgewek.

44 'n Natuurlike liggaam word gesaai, 'n geestelike liggaam word opgewek. Aangesien daar 'n natuurlike liggaam is, is daar ook 'n geestelike liggaam.

45 So staan daar ook geskrywe: “Die eerste mens, Adam, het 'n lewende wese geword.” Die laaste Adam het die lewendmakende Gees geword.

46 Die geestelike kom nie eerste nie maar die natuurlike, en daarna die geestelike.

47 Die eerste mens is uit die aarde en is stoflik; die tweede mens is uit die hemel.

48 Soos die stoflike mens was, so is ook die stoflike mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.

49 Soos ons die beeld van die stoflike mens was, sal ons ook die beeld van die hemelse wees.

50

Wat ek bedoel, broers, is dit: vlees en bloed kan nie aan die koninkryk van God deel kry nie. Die verganklike kan nie aan die onverganklike deel kry nie.

51 Kyk, ek maak 'n geheimenis aan julle bekend: Ons sal nie almal sterwe nie, maar ons sal almal verander word.

52 By die laaste trompet sal dit in 'n oomblik, in 'n oogknip gebeur, want die trompet sal weerklink, en die dooies sal as onverganklikes opgewek word, en ons sal verander word.

53 Hierdie verganklike liggaam moet met die onverganklike beklee word, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike.

54

En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word:

“Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.”

55
“Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

56

Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God.

57 Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.

58

Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.

16

1

Wat die kollekte vir die gelowiges in Jerusalem betref, moet julle ook maak soos ek dit in die gemeentes van Galasië gereël het.

2 Elke Sondag moet elkeen van julle na sy vermoë tuis iets opsy sit en dit opspaar, sodat die geldinsameling nie eers plaasvind as ek kom nie.

3 Wanneer ek dan gekom het, sal ek die manne wat julle daarvoor goedkeur, met briewe stuur om julle liefdegawe na Jerusalem toe weg te bring.

4 En as dit nodig is dat ek self ook gaan, kan hulle met my saamreis.

5

Ek sal na julle toe kom nadat ek deur Masedonië gereis het, want ek gaan deur Masedonië.

6 By julle sal ek moontlik oorbly of selfs die winter deurbring, dan kan julle my voorthelp op my verdere reis, waarheen dit ook al mag wees.

7 Ek wil julle nou nie net in die verbygaan besoek nie, maar ek hoop om 'n tydjie by julle deur te bring, as die Here dit toelaat.

8 Ek sal egter tot pinkster in Efese bly,

9 want hier staan 'n groot en belangrike deur vir my oop, maar hier is ook baie teenstanders.

10

Wanneer Timoteus kom, moet julle hom by julle laat tuis voel, want net soos ek, doen hy ook die werk van die Here.

11 Niemand moet op hom neersien nie. Julle moet hom help om sy reis in vrede voort te sit sodat hy na my toe kan kom. Ek verwag hom saam met die ander broers.

12

Wat die broer Apollos betref, ek het hom herhaaldelik versoek om saam met die broers na julle toe te gaan, maar hy wou beslis nie nou nie. Hy sal gaan sodra die tyd vir hom geleë is.

13

Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk!

14 Laat alles by julle in liefde geskied.

15

Ek het nog 'n versoek aan julle, broers: julle weet van Stefanas en sy huisgesin, wat die eerste bekeerlinge in Agaje was, dat hulle hulle tot diens van die gelowiges gestel het.

16 Stel julle onder die leiding van sulke mense en van elkeen wat saam met hulle werk en arbei.

17

Ek verbly my oor die aankoms van Stefanas, Fortunatus en Agaïkus, want hulle het vir my die gemis aan julle vergoed.

18 Hulle het my gees verkwik en ook julle s'n. Wees erkentlik teenoor sulke manne.

19

Die gemeentes van die provinsie Asië stuur vir julle groete. Van Akwila en Priscilla en ook van die gemeente wat gereeld in hulle huis bymekaarkom: baie groete in die Here.

20 Al die broers stuur vir julle groete. Groet mekaar met die soen van Christelike broederskap.

21

Nou skryf ek met my eie hand: Groete, Paulus.

22

As iemand die Here nie liefhet nie — vervloek is hy! Marana ta — kom, Here!

23

Die genade van die Here Jesus sal by julle wees!

24

My liefde is by julle almal in Christus Jesus.