1

1

Van Petrus, 'n apostel van Jesus Christus.

Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld, wat verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië.

2 Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus.

Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees!

3

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons 'n lewende hoop

4 op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.

5 En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.

6 Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings

7 sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.

8 [8-9] Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap.

9

10

In verband met hierdie saligheid het die profete, wat die genade verkondig het wat vir julle bestem is, deeglik en noukeurig ondersoek ingestel.

11 Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word, en hulle het probeer naspeur wat die tyd en die omstandighede sou wees wat die Gees bedoel het.

12 Aan hulle is geopenbaar dat wat hulle geprofeteer het, nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Nou het dié wat die evangelie aan julle verkondig het, dit aan julle bekend gemaak deur die Heilige Gees wat van die hemel af gestuur is. Dit is dinge waarin selfs engele begerig is om insig te kry.

13

Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus.

14 As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie.

15 Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees.

16 Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.”

17

Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld.

18 Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie.

19 Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.

20 Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem, maar ter wille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd gekom.

21 Deur Hom glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek en aan Hom heerlikheid gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig.

22

Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê.

23 Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.

24 Die Skrif sê:

“Die mens is soos gras,
en al sy prag soos 'n veldblom;
die gras verdor en die blom val af,

25
maar die woord van die Here,
dít bly vir ewig.”

En hierdie woord is die evangelie wat aan julle verkondig is.

2

1

Hou dan op met elke vorm van kwaad, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery.

2 Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry.

3 Julle het immers ondervind dat die Here goed is.

4

Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is.

5 Laat julle as lewende stene opbou tot 'n geestelike huis, om 'n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.

6 Daarom staan daar in die Skrif:

“Kyk, Ek lê in Sion 'n hoekklip, uitverkies vir die ereplek.
Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie.”

7

Julle wat glo, deel in hierdie eer, maar vir dié wat nie glo nie, geld die woorde:

“Die klip wat deur die bouers afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword”

8

en:

“'n klip waaroor 'n mens struikel en 'n rots waarteen jy jou stamp.”

Hulle struikel omdat hulle nie aan die woord gehoorsaam is nie. So het God dit ook vir hulle bestem.

9

Julle, daarenteen, is 'n uitverkore volk, 'n koninklike priesterdom, 'n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.

10 Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys.

11

Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net 'n mens se lewe.

12 Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.

13

Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is

14 of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes wat dié wat kwaad doen, moet straf, maar dié wat goed doen, moet prys.

15 Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen, 'n einde sal maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat.

16

Julle is vry, maar moenie julle vryheid gebruik as dekmantel om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God te dien.

17

Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê. Vrees God. Eer die keiser.

18

Bediendes, onderwerp julle met die nodige ontsag aan julle werkgewers, of hulle nou goedhartig en vriendelik is, of onredelik.

19 Dit is genade as iemand die pyn van onverdiende lyding verduur omdat hy aan God getrou wil wees.

20 As julle gestraf word wanneer julle oortree het, watter verdienste is daarin as julle dit verdra? Maar om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God.

21 Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle 'n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg.


22
“Hy het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit 'n leuen gekom nie.”

23
Toe Hy beledig is,
het Hy nie terug beledig nie,
toe Hy gely het,
het Hy nie gedreig nie,
maar alles oorgelaat
aan Hom wat regverdig oordeel.

24

Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees.

25

Julle het immers soos skape rondgedwaal, maar nou het julle teruggekom na julle Herder en die Bewaker van julle lewe.

3

1

[1-2] Vrouens, julle moet aan julle mans onderdanig wees. As daar van julle is met mans wat nie die woord van God glo nie, en die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om 'n woord te sê nie.

2

3

Julle skoonheid moet nie bestaan in uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en sierlike klere nie.

4 Nee, julle skoonheid moet dié van die innerlike mens wees: blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dit het by God groot waarde.

5 In die ou dae het die gelowige vrouens wat op God gehoop het, hulle ook so versier: hulle was aan hulle mans onderdanig.

6 Sara, byvoorbeeld, was aan Abraham gehoorsaam en het met eerbied na hom verwys. As julle doen wat goed is en julle nie deur dreigemente laat afskrik nie, is julle haar dogters.

7

Mans, julle moet verstandig met julle vrouens saamleef. Bewys eer aan hulle as die swakker geslag wat saam met julle deel in die lewe as genadegawe. Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder.

8

Ten slotte: Wees almal eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig, nederig.

9 Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met 'n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry.

10

Daar staan geskrywe:

“As iemand die lewe liefhet en 'n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens.

11
Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na!

12
Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep, maar Hy tree op teen dié wat kwaad doen.”

13

Wie sal julle kwaad aandoen as julle julle beywer vir wat goed is?

14 Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as 'n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie.

15 In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.

16 Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het.

17 As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen.

18

Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is.

19 En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig.

20 Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net 'n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered.

21 Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie 'n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar 'n bede tot God om 'n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus.

22 Hy is nou aan die regterhand van God nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp het en die hemel ingegaan het.

4

1

Omdat Christus dan liggaamlik gely het, moet julle julle ook met die gedagte wapen dat wie liggaamlik gely het, met die sonde afgereken het:

2 vir die res van sy aardse bestaan word sy lewe nie meer beheers deur menslike begeertes nie, maar deur die wil van God.

3 In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg- en drinkpartye en afskuwelike afgodery.

4 Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle.

5 Hulle sal rekenskap moet gee aan Hom wat klaar staan om oor die lewendes en die dooies te oordeel.

6 Daarom is die evangelie immers ook verkondig aan dié wat nou dood is sodat, hoewel hulle as mense onder die oordeel was om na die liggaam te sterwe, hulle na die gees sou lewe soos God lewe.

7

Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid.

8 Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes.

9 Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla.

10 As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy 'n genadegawe ontvang het, die ander dien.

11 As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen.

12

Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie.

13 Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid.

14 Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus. Dit is 'n bewys dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op julle bly.

15 As een van julle ly, moet dit nie wees omdat hy 'n moordenaar is of 'n dief of 'n misdadiger of 'n kwaadstoker nie.

16 Maar wanneer iemand ly omdat hy 'n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik.

17

Die tyd vir die oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God. En as ook ons geoordeel word, en dit is nog maar die begin, wat sal die uiteinde dan wees van hulle wat nie na die evangelie van God wou luister nie?

18 “As 'n gelowige beswaarlik gered word, wat word dan van 'n goddelose en 'n sondaar?”

19

Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen.

5

1

As mede-ouderling en getuie van die lyding van Christus en ook deelgenoot aan die heerlikheid wat geopenbaar sal word, dring ek by die ouderlinge onder julle daarop aan:

2 Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op. Hou toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar gewillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toegewydheid;

3 ook nie deur baas te speel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar deur 'n voorbeeld vir die kudde te wees.

4 En dan, wanneer die Opperherder kom, sal julle die heerlikheid as onverganklike kroon ontvang.

5

En julle wat jonger is, moet aan die ouer mense onderdanig wees. Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, want “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”

6

Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het.

7 Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

8

Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.

9 Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur.

10

God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle 'n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.

11 Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen.

12

Silvanus, wat na my mening 'n getroue broer is, het vir my hierdie kort briefie aan julle op skrif gestel. Ek het geskrywe om julle te bemoedig en julle te verseker dat hierdie dinge die ware genade van God is. Staan hierin vas!

13

Die gemeente in Babilon, 'n uitverkore gemeente net soos julle, asook Markus, my seun, stuur vir julle groete.

14

Groet mekaar met 'n soen van Christelike liefde. Vrede vir julle almal wat in Christus is!