1
Van Jakobus, 'n dienaar van God en die Here Jesus Christus. Aan die twaalf stamme wat oor die wêreld versprei is. Groete!2
My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom,3 want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard.
4 En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.
5 As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.
6 Maar 'n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word.
7 [7-8] So 'n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.
8
9
'n Gelowige wat arm is, moet hom daarin verheug dat hy sy aansien in God het,10 en een wat ryk is, dat hy voor God gering is, want die ryke sal vergaan soos 'n veldblom.
11 As die son met sy gloeiende hitte opkom, verskroei dit die plantegroei, die blomme val af en die prag is daarmee heen. So sal die ryke ook tussen al sy bedrywighede deur vergaan.
12
Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.13
Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie.14 Maar 'n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep.
15 Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.
16
Moenie julleself mislei nie, my liewe broers.17 Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie.
18 Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring, sodat ons, om dit so te stel, eerstelinge kan wees van alles wat Hy geskep het.
19
My liewe broers, dít moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie.20 'n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie.
21 Daarom moet julle al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier, en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want dié woord kan julle red.
22
Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.23 Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in 'n spieël kyk:
24 hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het.
25 Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat 'n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.
26
As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos.27 Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.
1
My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie.2 Sê nou daar kom in julle samekoms 'n man in met goue ringe aan sy vingers en met deftige klere aan en daar kom ook 'n brandarm man in met ou klere aan,
3 en sê nou julle maak 'n ophef van die man met die deftige klere en julle sê vir hom: “Kom sit u hier gemaklik,” maar vir die arm man sê julle: “Gaan staan jy daar anderkant” of: “Kom sit hier by my voete,”
4 het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?
5
Luister, my liewe broers! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie?6 Maar julle behandel die arm man met minagting. Is dit nie die rykes deur wie julle uitgebuit word nie, en is dit nie hulle deur wie julle voor die hof gesleep word nie?
7 Is dit nie hulle wat die goeie Naam skend van Hom aan wie julle behoort nie?
8 As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” dan doen julle reg.
9 Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders.
10 As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie.
11 God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy nou nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord, is jy tog 'n oortreder van die hele wet.
12 Praat en tree dan op soos mense wat geoordeel sal word volgens die wet wat vry maak.
13 Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.
14
Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so 'n geloof 'n mens red?15 Sê nou daar is 'n broer of 'n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly,
16 en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan?
17 So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.
18
Maar iemand kan miskien sê: “Die een het die geloof en die ander het die dade.” Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade.19 Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook — en hulle sidder van angs.
20 Jou dwaas, wil jy 'n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is?
21 Ons voorvader Abraham het sy seun Isak op die altaar gelê. Is dit nie op grond van wat hy gedoen het dat God hom vrygespreek het nie?
22 Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaardgegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het.
23 So is die Skrif vervul wat sê: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek,” en hy is 'n vriend van God genoem.
24 Julle sien dus dat 'n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie.
25 Is Ragab die prostituut nie ook vrygespreek op grond van wat sy gedoen het toe sy die verkenners weggesteek en hulle met 'n ander pad laat ontkom het nie?
26 'n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.
1
My broers, julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word.2 Ons struikel almal in baie opsigte. As iemand nooit struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak, by magte om ook sy hele liggaam in toom te hou.
3 Vir perde sit ons 'n stang in die bek, en dan gehoorsaam hulle ons en het ons hulle hele liggaam onder beheer.
4 Dink ook maar aan skepe: al is hulle baie groot en al is die winde wat hulle aandryf, baie sterk, word hulle tog met 'n baie klein roertjie gestuur net waarheen die stuurman wil.
5 So is die tong ook maar 'n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag.
'n Klein vuurtjie kan 'n groot bos aan die brand steek.6 Die tong is ook 'n vuur, 'n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek.
7 Alles wat loop, vlieg, kruip of swem, elke soort dier word en is al deur die mens getem,
8 maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is 'n rustelose kwaad, vol dodelike gif.
9 Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is.
10 Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie.
11 'n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en brak water opborrel nie.
12 'n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra nie, of 'n druiwestok vye nie. 'n Brak fontein kan mos nie vars water gee nie!
13
Is daar 'n wyse en verstandige mens onder julle? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig.14 Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie.
15 Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, demonies,
16 want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade.
17 Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg.
18 Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.
1
Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie?2 Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op 'n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.
3 As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.
4 Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie 'n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy 'n vyand van God is.
5 Of dink julle dat die Skrif sonder rede sê dat God die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê?
6 Maar die genade wat Hy gee, is nog groter. Daarom sê Hy:
“God weerstaan hoogmoediges,7
Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.8 Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars.
9 Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid.
10 Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.
11
Moenie van mekaar kwaad praat nie, broers. Hy wat van sy broer kwaad praat of sy broer veroordeel, praat kwaad van die wet en veroordeel die wet. En as jy die wet veroordeel, handel jy nie meer volgens die wet nie, maar speel jy regter daaroor.12 Daar is egter maar een Wetgewer en Regter, en dit is Hy wat die mag het om te red en te verdelg. Maar jy, wie is jy om regter te speel oor jou naaste?
13
Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en 'n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.”14 Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar 'n damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.
15 Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.”
16 Maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot. Al sulke grootpratery is verkeerd.
17 As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde.
1
En nou, julle rykaards, kerm en kla oor al die swaar wat oor julle gaan kom.2 Julle rykdom sal tot niet gaan en julle klere sal deur motte opgevreet word,
3 julle goud en silwer sal verroes. Die roes sal teen julle getuig en aan julle vreet soos 'n vuur. Julle maak skatte bymekaar, en dit terwyl dit die laaste dae is.
4 Ja, julle hou die loon agter van die werkers wat julle lande afgeoes het. Dit skreeu ten hemel; die geroep van dié wat geoes het, het tot by die Here die Almagtige gekom.
5 Hier op aarde lewe julle in weelde en oordaad; julle smul na hartelus, en dit terwyl die slagdag reeds daar is.
6 Julle veroordeel en vermoor die onskuldige en hy bied geen teenstand nie.
7
Wag dan geduldig, broers, totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer. Hy wag geduldig daarvoor totdat dit die vroeë en die laat reëns gekry het.8 Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here.
9 Moenie oor mekaar kla nie, broers, sodat julle nie veroordeel word nie. Die Regter staan al voor die deur.
10 Broers, neem die profete wat in die Naam van die Here gepraat het, as voorbeelde van lyding en geduld.
11 Ons noem hulle geseënd omdat hulle volhard het. Julle het gehoor van die volharding van Job en julle het gesien waarop die Here dit laat uitloop het. Die Here is immers ryk aan barmhartigheid en ontferming.
12
My broers, dit is baie belangrik dat julle nie 'n eed moet aflê nie, nie by die hemel nie, nie by die aarde nie en ook nie enige ander eed nie. As julle “ja” sê, moet dit “ja” wees; as julle “nee” sê, moet dit “nee” wees. Dan sal julle nie veroordeel word nie.13
As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing.14 As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here.
15 En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word.
16 Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.
Die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking.17 Elia was 'n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie.
18 Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer.
19
My broers, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring,20 weet dan dat hy wat 'n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red en maak dat 'n menigte sondes vergewe word.