1
In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.2 Hy was reeds in die begin by God.
3 Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.
4 In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.
5 Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
6
Daar was 'n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes.7 Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom.
8 Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.
9
Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe.10 Hy wás in die wêreld — die wêreld het deur Hom tot stand gekom — en tog het die wêreld Hom nie erken nie.
11 Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.
12 Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.
13 Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van 'n mens of die besluit van 'n man nie, maar hulle is uit God gebore.
14
Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.15
Johannes getuig van Hom en roep uit: “Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: Hy wat ná my kom, is my vóór, want Hy was voor my reeds daar.”16
Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.17 God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.
18 Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.
19
Die Jode het priesters en Leviete van Jerusalem af na Johannes toe gestuur om hom te vra: “Wie is jy?” Toe het hy hierdie getuienis afgelê20 en dit duidelik en ondubbelsinnig gestel en openlik verklaar: “Ek is nie die Christus nie.”
21
Hulle vra hom toe: “Wie is jy dan? Is jy Elia?” “Nee, ek is nie,” sê hy. “Is jy dan die Profeet?” “Nee!” het hy geantwoord.22
“Nou maar wie is jy dan? Ons moet 'n antwoord gaan gee aan dié wat ons gestuur het,” sê hulle vir hom. “Wat het jy oor jouself te sê?”23
Hy antwoord toe: “Ek is die een wat in die woestyn roep:24
Daar was Fariseërs onder dié wat gestuur is,25 en hulle het vir hom gevra: “Nou maar waarom doop jy dan as jy nie die Christus is nie en ook nie Elia nie en ook nie die Profeet nie?”
26
Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water, maar tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie.27 Dit is Hy wat ná my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie.”
28
Dit het oorkant die Jordaan in Betanië gebeur, waar Johannes besig was om te doop.29
Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!30 Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: ‘Ná my kom daar 'n Man wat my vóór is, want Hy was voor my reeds daar.’
31 Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar ek het gekom en ek doop met water sodat Hy aan Israel bekend gestel kan word.”
32
Verder het Johannes getuig: “Ek het duidelik die Gees soos 'n duif uit die hemel sien kom, en Hy het op Hom gebly.33 Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’
34 Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.”
35
Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, met twee van sy volgelinge by hom.36 Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!”
37
Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg.38 Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?” en hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” — dit beteken leermeester — “waar gaan U tuis?”
39
Hy sê toe vir hulle: “Kom saam, dan sal julle sien.” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis gaan. Dit was omtrent vieruur die middag, en hulle het die res van die dag by Hom gebly.40
Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het.41 Daarna het hy eers sy broer Simon gaan soek en vir hom gesê: “Ons het die Messias gekry!” Messias beteken Christus.
42
Hy het hom na Jesus toe gebring. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon seun van Johannes; jy sal Sefas genoem word.” Sefas beteken dieselfde as Petrus.43
Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea toe te gaan. Hy kry toe vir Filippus en sê vir hom: “Volg My!”44
Filippus was van Betsaida afkomstig, van dieselfde dorp as Andreas en Petrus.45
Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.”46
Maar Natanael sê vir hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” “Kom kyk,” het Filippus hom geantwoord.47
Toe Jesus vir Natanael na Hom toe sien aankom, sê Hy van hom: “Hier is 'n ware Israeliet, 'n man in wie daar geen bedrog is nie.”48
Natanael vra Hom toe: “Waarvandaan ken U my?” “Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien.”49
Toe roep Natanael uit: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!”50
Daarop sê Jesus vir hom: “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.”51
Verder sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na die Seun van die mens toe.”1
Op die derde dag was daar 'n bruilof in Kana in Galilea, en die moeder van Jesus was daar.2 Jesus en sy dissipels is ook na die bruilof toe genooi.
3
Toe die wyn opraak, sê Jesus se moeder vir Hom: “Hulle het nie meer wyn nie.”4
Maar Hy sê vir haar: “Waarom sê u dit vir My? My tyd het nog nie gekom nie.”5
Sy moeder sê toe vir die kelners: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.”6
Daar het ses klipkanne gestaan vir water wat die Jode by hulle reiniging gebruik het. Elkeen het tussen negentig en honderd liter gehou.7 Jesus sê toe vir die kelners: “Maak die kanne vol water.”
Hulle het dit tot bo toe volgemaak.8
Toe sê Hy vir hulle: “Skep nou daarvan uit en gaan gee dit vir die seremoniemeester.” Hulle het dit gedoen.9 Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water uitgeskep het, het geweet. Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom
10 en sê vir hom: “'n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou.”
11
Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana in Galilea gedoen. Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom.12
Hierna het Hy, sy moeder, sy broers en sy dissipels na Kapernaum toe gegaan, maar hulle het nie baie lank daar gebly nie.13
Die paasfees van die Jode was naby, en Jesus het daarvoor na Jerusalem toe gegaan.14 Op die tempelplein het Hy die verkopers van beeste, skape en duiwe gekry en die geldwisselaars wat daar sit.
15 Toe het Hy met toutjies 'n sweep gemaak en almal uit die tempel uitgejaag, ook die skape en die beeste. Die geld van die geldwisselaars het Hy op die grond gegooi en hulle tafels omgekeer.
16 Vir die mense wat die duiwe verkoop het, het Hy gesê: “Vat hierdie goed hier weg! Moenie die huis van my Vader 'n besigheidsplek maak nie.”
17
Toe het sy dissipels daaraan gedink dat daar geskrywe staan: “Die liefde vir u huis verteer my.”18
Maar die Jode het Hom aangespreek en vir Hom gesê: “Met watter wonderteken kan u vir ons bewys dat u hierdie dinge mag doen?”19
Jesus het hulle geantwoord: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.”20
Die Jode sê toe: “Ses en veertig jaar lank is daar aan hierdie tempel gebou, en u sal hom in drie dae oprig?”21
Met “hierdie tempel” het Hy egter sy liggaam bedoel.22 Later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo.
23
Terwyl Jesus vir die viering van die paasfees in Jerusalem was, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom toe hulle die wondertekens sien wat Hy doen.24 Maar Hy het Hom nie op hulle verlaat nie, omdat Hy geweet het hoe hulle almal is.
25 Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van 'n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is.
1
Daar was 'n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was 'n lid van die Joodse Raad.2 Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u 'n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.”
3
Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”4
Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan 'n mens gebore word as hy al 'n ou man is? Hy kan tog nie 'n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?”5
Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie.6 Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees.
7 Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie.
8 Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”
9
Nikodemus vra Hom toe: “Maar hoe is dit moontlik?”10
En Jesus antwoord hom: “Jy is die bekende leermeester van Israel en jy verstaan dit nie?11 Dit verseker Ek jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle nie ons getuienis nie.
12 Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek vir julle van die hemelse vertel?
13 Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens.
14 Moses het die slang in die woestyn hoog op 'n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word,
15 sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.
16
“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.17 God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.
18 Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.
19 En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg.
20 Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie.
21 Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”
22
Hierna het Jesus en sy dissipels na die platteland van Judea toe gegaan. Hulle het 'n rukkie daar gebly en mense gedoop.23 Johannes was ook besig om te doop, by Enon naby Salim, waar daar baie water was. Die mense het na hom toe gekom en is deur hom gedoop.
24 Johannes was nog nie in die tronk gesit nie.
25
Daar het toe tussen Johannes se volgelinge en 'n Jood 'n woordewisseling ontstaan oor die reiniging.26 Hulle het na Johannes toe gekom en vir hom gesê: “Rabbi, Hy wat oorkant die Jordaan by u was, van wie u getuig het, weet u, Hy doop ook, en almal gaan na Hom toe.”
27
Johannes het hulle geantwoord: “Niemand besit enige bevoegdheid om iets te doen as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie.28 Julle is self my getuies dat ek gesê het: ‘Ek is nie die Christus nie. Ek is maar net voor Hom uit gestuur.’
29 Die bruidegom is die een aan wie die bruid behoort; maar die vriend van die bruidegom staan en luister of hy kom en is baie bly wanneer hy die stem van die bruidegom hoor. Daarom is ek nou met blydskap vervul.
30 Hy moet meer word en ek minder.
31
“Hy wat van bo af kom, is bo almal; hy wat van die aarde is, hoort by die aarde en praat die taal van die aarde. Hy wat uit die hemel kom, is bo almal.32 Wat Hy gesien en gehoor het, dít getuig Hy, en tog aanvaar niemand sy getuienis nie.
33 Wie sy getuienis aanvaar het, het daardeur bevestig dat God geloofwaardig is.
34 God het Hom immers gestuur, en Hy spreek die woorde van God, want God gee Hom sy Gees sonder enige beperking.
35 Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee.
36 Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.”
1
Die Fariseërs het gehoor dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes. —2 Eintlik was dit nie Jesus wat gedoop het nie, maar sy dissipels. —
3 Toe Jesus dit verneem, het Hy Judea verlaat en weer na Galilea toe gegaan.
4 Hy moes deur Samaria gaan.
5
Hy kom toe by 'n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het.6 Die fontein van Jakob was daar, en Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag.
7
Daar kom toe 'n Samaritaanse vrou water haal, en Jesus vra vir haar: “Gee My 'n bietjie water om te drink.”8
Sy dissipels was intussen weg dorp toe om te gaan kos koop.9
Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy, wat 'n Jood is, vir my, 'n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie.10
Jesus het haar geantwoord: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My 'n bietjie water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.”11
Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, jy het nie eens 'n skepding nie, en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry?12 Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie?”
13
Maar Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry;14 maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom 'n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.”
15
Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie weer dors sal kry en hier hoef te kom water haal nie.”16
Hy sê toe vir haar: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.”17
Die vrou het Hom geantwoord: “Ek het nie 'n man nie.” En Jesus sê vir haar: “Dis reg wat jy nou gesê het: ‘Ek het nie 'n man nie.’18 Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Jy het die waarheid gepraat.”
19
Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, ek sien dat u 'n profeet is.20 Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar 'n mens God moet aanbid, is in Jerusalem.”
21
Jesus sê toe vir haar: “Glo My, Mevrou, daar kom 'n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie.22 Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode.
23 Maar daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen.
24 God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.”
25
Die vrou het vir Hom gesê: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak.”26
Toe sê Jesus vir haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.”27
Net toe het sy dissipels teruggekom en hulle was verbaas dat Hy met 'n vrou praat. Tog het niemand vir haar gevra: “Wat wil jy hê?” of vir Hom: “Waarom praat U met haar?” nie.28
Die vrou het toe haar waterkruik net daar laat staan en na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê:29 “Kom kyk, hier is 'n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?”
30
Die mense het toe uit die dorp uit na Jesus toe begin kom.31
Intussen het sy dissipels by Hom aangedring: “Rabbi, eet tog 'n stukkie.”32
Maar Hy sê vir hulle: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.”33
Die dissipels sê toe vir mekaar: “Sou iemand dalk vir Hom iets te ete gebring het?”34
Maar Jesus het vir hulle gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.35 Sê julle nie: ‘Nog vier maande, dan is die oes daar’ nie? Maar Ek sê vir julle: Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes.
36 Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe. So is die een wat saai, en die een wat oes, saam bly.
37 Hier is die gesegde waar: ‘Die een saai, en die ander een maai.’
38 Ek het julle gestuur om 'n oes in te samel waaraan julle nie gearbei het nie. Ander het gearbei, en julle pluk die vrug van hulle arbeid.”
39
Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.”40 Toe die Samaritane by Hom kom, het hulle by Hom daarop aangedring om by hulle te bly. Hy het twee dae daar gebly.
41 Nog baie meer van hulle het toe tot geloof in Hom gekom op grond van wat Hy gesê het;
42 en hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.”
43
Ná die twee dae het Jesus daarvandaan na Galilea toe gegaan.44 Hy het self verklaar dat 'n profeet nie in sy eie land geëer word nie,
45 maar toe Hy in Galilea kom, het die Galileërs Hom verwelkom. Hulle het alles gesien wat Hy gedurende die feesvierings in Jerusalem gedoen het, want hulle was self ook by die paasfees.
46 Jesus het toe weer na Kana in Galilea toe gegaan, waar Hy die water wyn gemaak het.
In Kapernaum was daar 'n sekere regeringsamptenaar wie se seun siek was.47 Toe hy hoor dat Jesus uit Judea na Galilea toe gekom het, het hy na Hom toe gegaan en Hom gevra om te kom en sy seun gesond te maak, want hy het op sterwe gelê.
48 Jesus sê toe vir hom: “As julle nie tekens en wonders sien nie, glo julle eenvoudig nie.”
49
En toe sê die amptenaar vir Hom: “Here, kom tog voordat my kindjie sterwe.”50
Maar Jesus sê vir hom: “Gaan maar huis toe, jou seun lewe.” Die man het geglo wat Jesus vir hom gesê het, en gegaan.51 Toe hy nog op pad was, het sy werksmense hom al tegemoet gegaan en vertel dat sy kind lewe.
52 Hy vra hulle toe presies wanneer hy begin beter word het, en hulle antwoord hom: “Gistermiddag eenuur het die koors hom verlaat.”
53
Die pa het toe besef dat dit op dieselfde oomblik was waarop Jesus vir hom gesê het: “Jou seun lewe.” En hy en sy hele huisgesin het tot geloof in Jesus gekom.54
Dit was die tweede wonderteken wat Jesus gedoen het nadat Hy weer uit Judea na Galilea toe gekom het.1
Hierna was daar weer 'n fees van die Jode, en Jesus het daarvoor Jerusalem toe gegaan.2 By die Skaappoort in Jerusalem was daar 'n bad met die Hebreeuse naam Betesda. Dit het vyf pilaargange gehad,
3 waar daar baie gestremdes gelê het: blindes, kreupeles en lammes.
4
5 Onder hulle was daar 'n sekere man wat al ag en dertig jaar lank siek was.
6 Jesus het hom sien lê en het geweet dat hy al baie lank siek was. Toe vra Hy vir hom: “Wil jy gesond word?”
7
Die sieke het Hom geantwoord: “Meneer, ek het niemand om my in die bad te sit as die water in beweging kom nie; en terwyl ek aansukkel, gaan iemand anders voor my in.”8
Jesus sê toe vir hom: “Staan op, tel jou goed op en loop.”9
Oombliklik het die man gesond geword, sy goed opgetel en geloop. Dit was 'n sabbatdag.10 Die Jode sê toe vir die man wat genees is: “Dit is 'n sabbatdag; jy mag nie jou goed dra nie.”
11
Maar hy antwoord hulle: “Die man wat my gesond gemaak het, het vir my gesê: Tel jou goed op en loop.”12
Hulle vra hom toe: “Wie is die man wat vir jou gesê het: Tel jou goed op en loop?”13
Die man wat gesond geword het, het egter nie geweet wie dit was nie, want Jesus het ongemerk weggegaan omdat daar 'n klomp mense op die plek was.14
Later kry Jesus hom in die tempel en sê vir hom: “Kyk, jy is nou gesond. Moet nou nie meer sonde doen nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.”15
Die man het vir die Jode gaan vertel dat dit Jesus is wat hom gesond gemaak het.16 Die Jode het toe teen Jesus te velde getrek omdat Hy dit op 'n sabbatdag gedoen het.
17 Maar Jesus het Hom teen hulle verweer: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.”
18
Hieroor het die Jode nog des te meer probeer om Jesus dood te maak: Hy het nie net die sabbatdag ontheilig nie, maar God ook sy eie Vader genoem en Hom so met God gelyk gestel.19 Toe het Hy Hom verweer en vir hulle gesê: “Dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so.
20 Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy doen; en Hy sal Hom nog groter dade as hierdie wys, sodat julle verbaas sal staan.
21 Soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil.
22 Self veroordeel die Vader niemand nie, maar die oordeel het Hy geheel en al aan die Seun oorgelaat.
23 Daarom moet almal die Seun eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer ook nie die Vader wat Hom gestuur het nie.
24
“Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.25 Ek verseker julle: Daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor gee, sal lewe.
26 Soos die Vader die lewe in Homself het, het Hy die lewe ook aan die Seun gegee om dit in Homself te hê.
27 Hy het Hom ook volmag gegee om te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is.
28 Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom 'n tyd wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor
29 en sal uitgaan. Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word.”
30
“Uit my eie kan Ek niks doen nie: Ek oordeel soos Ek dit van die Vader hoor, en my oordeel is regverdig, omdat dit nie my wil is wat Ek nastrewe nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.31
“As net Ek oor Myself getuig, is my getuienis nie geldig nie.32 Daar is ook Iemand anders wat oor My getuig, en Ek weet dat die getuienis wat Hy oor My aflê, waar is.
33
“Julle het 'n afvaardiging na Johannes toe gestuur, en wat hy getuig het, is die waarheid.34 Nie dat Ek op die getuienis van 'n mens steun nie, maar Ek noem dit sodat julle gered kan word.
35 Hy was die lamp wat gebrand en geskyn het, en julle was gewillig om julle 'n rukkie in sy lig te verheug.
36
“Maar Ek het getuienis wat nog gewigtiger is as dié van Johannes. Die werk wat die Vader My gegee het om te voltooi en waarmee Ek nou juis besig is, lê oor My getuienis af en bevestig dat die Vader My gestuur het.37 En die Vader wat My gestuur het, het ook oor My getuienis afgelê. Sy stem het julle nog nooit gehoor nie en sy gestalte ook nie gesien nie.
38 En sy woord lewe nie werklik in julle nie, omdat julle nie in die Een glo wat Hy gestuur het nie.
39 Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig.
40 Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie.
41
“Ek is nie gesteld op die eer wat mense bewys nie,42 maar Ek ken julle en Ek weet dat julle nie liefde vir God in julle het nie.
43 Ek het in die Naam van my Vader gekom, en tog aanvaar julle My nie. As iemand anders in sy eie naam kom, sal julle hom aanvaar.
44 Hoe kan julle ook in My glo terwyl julle gesteld is op die eer wat julle van mekaar ontvang en nie die eer soek wat van die enigste God af kom nie?
45 Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal aankla nie; dit is Moses, op wie julle julle hoop gevestig het, wat vir julle aankla.
46 As julle Moses geglo het, sou julle in My geglo het, want hy het van My geskrywe.
47 Maar as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?”
1
Hierna het Jesus na die oorkant van die See van Galilea toe gegaan, wat ook die See van Tiberias genoem word.2 'n Groot klomp mense het agter Hom aan gekom omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy aan die siekes gedoen het.
3 Jesus het toe teen die berg opgegaan en met sy dissipels daar gaan sit.
4
Die paasfees van die Jode was naby.5
Toe Jesus rondkyk en sien dat 'n groot klomp mense na Hom toe aankom, sê Hy vir Filippus: “Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?”6
Dit het Hy net gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self goed geweet wat Hy gaan doen.7
Filippus antwoord Hom toe: “Twee honderd mense se dagloon is nie eers genoeg om elkeen van hulle 'n stukkie brood te laat kry nie.”8
'n Ander dissipel, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê toe vir Hom:9 “Hier is 'n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?”
10
Toe sê Jesus: “Laat die mense gaan sit.” Daar was baie gras op daardie plek en die mense het gaan sit. Die mans alleen was omtrent vyf duisend.11 Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê.
12
Nadat die mense versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.”13
Hulle het dit toe bymekaargemaak. Daar was twaalf mandjies vol met die stukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat die mense klaar geëet het.14
Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”15
Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil kom koning maak, het Hy verder die berg op gegaan, Hy alleen.16
Toe dit aand word, het Jesus se dissipels na die see toe gegaan,17 in 'n skuit geklim en weggevaar na Kapernaum toe, oorkant die see. Dit was al donker en Jesus was nog steeds nie by hulle terug nie.
18 Daarby het die see onstuimig geword, omdat daar 'n sterk wind gewaai het.
19 Toe hulle sowat vyf of ses kilometer geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en naby die skuit kom, en hulle het bang geword.
20 Maar Hy sê vir hulle: “Dit is Ek; moenie bang wees nie.”
21
Hulle was toe gewillig om Hom in die skuit te neem, en daarna het die skuit by die land aangekom waarheen hulle op pad was.22
Die mense wat oorkant die see was, het gesien dat daar net een skuitjie is en geweet dat Jesus nie saam met sy dissipels in die skuit geklim het nie, maar dat hulle alleen weggevaar het. Die volgende dag23 kom daar toe ander skuitjies van Tiberias af aan naby die plek waar die mense die brood geëet het nadat die Here daarvoor gedank het.
24 Toe die mense sien dat Jesus nie daar is nie en sy dissipels ook nie, het hulle in die skuitjies geklim en na Kapernaum toe gevaar op soek na Jesus.
25 En toe hulle Hom oorkant die see kry, vra hulle vir Hom: “Rabbi, wanneer het u hierheen gekom?”
26
Jesus antwoord hulle: “Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het.27 Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.”
28
Hulle vra Hom toe: “Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?”29
En Jesus antwoord hulle: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.”30
Hulle sê toe vir Hom: “Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo? Wat gaan u doen?31 Ons voorouers het manna in die woestyn geëet, soos daar geskrywe staan: Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet. ”
32
Jesus het hulle geantwoord: “Dít verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee.33 Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.”
34
Hulle sê toe vir Hom: “Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood.”35
Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.36 Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie.
37
“Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.38 Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.
39 En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan.
40 Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.”
41
Die Jode het gemor omdat Hy gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.”42 Hulle het gesê: “Is dit nie Jesus die seun van Josef nie? Ons ken mos sy pa en ma. Hoe kan hy nou sê: Ek kom uit die hemel?”
43
Jesus sê toe vir hulle: “Moenie so onder mekaar mor nie.44 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.
45 By een van die profete staan daar geskrywe: ‘En hulle sal almal mense wees wat deur God geleer is.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe.
46 Dit wil nie sê dat iemand anders al die Vader gesien het nie; net Hy wat van God af kom, Hy het die Vader gesien.
47
“Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe.48 Ek is die brood wat lewe gee.
49 Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe.
50 Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat 'n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie.
51 Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”
52
Die Jode het toe onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?”53
Maar Jesus sê vir hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie.54 Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.
55 My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank.
56 Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.
57 Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe.
58 Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die manna wat julle voorouers geëet het nie. Hulle het dit geëet en tog gesterwe. Wie hierdie brood eet, sal ewig lewe.”
59
Dit het Jesus gesê toe Hy die mense in die sinagoge in Kapernaum geleer het.60
Toe hulle dit hoor, het baie van Jesus se dissipels gesê: “Wat Hy nou sê, is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee?”61
Jesus het vanself geweet dat sy dissipels hieroor mor, en Hy sê vir hulle: “Skrik dit julle af?62 Wat dan nog as julle die Seun van die mens sien opvaar na waar Hy voorheen was?
63 Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie. Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe.
64 Maar daar is party van julle wat nie in My glo nie.”
Jesus het immers van die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie dit is wat Hom sou verraai.65
Verder het Hy gesê: “Daarom het Ek vir julle gesê niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.”66
Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie.67 Toe vra Jesus vir die twaalf: “Wil julle nie ook weggaan nie?”
68
Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee.69 En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.”
70
Jesus het daarop vir hulle gesê: “Het Ek nie self julle twaalf uitgekies nie? En een van julle is 'n duiwel!”71
Hy het Judas die seun van Simon Iskariot bedoel, want hy sou Hom verraai, hy wat een van die twaalf was.1
Hierna het Jesus in Galilea rondgegaan. In Judea wou Hy dit nie doen nie, omdat die Jode daar Hom wou doodmaak.2 Maar die huttefees van die Jode was naby.
3 Jesus se broers sê toe vir Hom: “Gaan 'n bietjie hiervandaan na Judea toe dat jou dissipels daar ook die wonderdade kan sien wat jy doen.
4 'n Mens wat oral bekend wil wees, doen nie iets in die geheim nie. Aangesien jy dan hierdie dinge doen, maak jou openlik aan die wêreld bekend.”
5
Selfs sy broers het nie in Hom geglo nie.6
Jesus sê toe vir hulle: “Vir My het die tyd nog nie gekom nie, maar vir julle is enige tyd reg.7 Die wêreld kan vir julle nie haat nie; maar hy haat My, omdat Ek openlik verklaar dat sy dade sleg is.
8 Gaan julle maar fees toe. Ek gaan nie na hierdie fees toe nie, omdat die tyd vir My nog nie reg is nie.”
9
Dit het Hy vir hulle gesê, en Hy het daar in Galilea gebly.10
Nadat Jesus se broers na die huttefees toe vertrek het, het Hy self tog ook gegaan, nie openlik nie maar onopvallend.11 Die Jode het toe by die fees na Hom gesoek en gevra: “Waar is hy?”
12
Onder die feesmenigte is daar baie oor Hom gefluister. Party mense het gesê: “Hy is 'n goeie man.” Maar ander het gesê: “Nee, hy mislei die mense.”13 Tog het niemand openlik oor Hom gepraat nie, omdat hulle bang was vir die Jode.
14
Toe die feestyd al halfpad verby was, het Jesus na die tempel toe gegaan en die mense daar geleer.15 Die Jode was verbaas en het gesê: “Waar kom hy aan die geleerdheid? Hy het dan geen opleiding gehad nie!”
16
Jesus het vir hulle gesê: “Wat Ek die mense leer, kom nie van Myself af nie, maar van Hom wat My gestuur het.17 As iemand gewillig is om die wil van God te doen, sal hy weet of hierdie leer van God af kom, en of Ek uit my eie praat.
18 Wie uit sy eie praat, soek sy eie eer; maar Hy wat die eer soek van die Een wat Hom gestuur het, is geloofwaardig, en daar is niks oneerliks in Hom nie.
19 Het Moses nie die wet vir julle gegee nie? En tog hou nie een van julle die wet nie. Waarom wil julle My dan doodmaak?”
20
“Jy is van die duiwel besete!” het die mense uitgeroep. “Wie wil jou doodmaak?”21
Jesus het toe verder vir hulle gesê: “Julle is almal ontsteld oor een ding wat Ek gedoen het.22 Omdat Moses die besnydenis vir julle gegee het — en eintlik kom dit nie eens van Moses af nie, maar van die aartsvaders — besny julle ook op 'n sabbatdag.
23 As iemand op 'n sabbatdag die besnydenis mag ontvang om nie die wet van Moses te verbreek nie, waarom is julle dan vir My kwaad omdat Ek op 'n sabbatdag iemand se hele liggaam gesond gemaak het?
24 Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig.”
25
Intussen het party van die inwoners van Jerusalem gesê: “Is dit nie die man vir wie hulle wil doodmaak nie?26 En hier praat hy nou in die openbaar, en hulle sê niks teen hom nie. Het die lede van die Joodse Raad miskien werklik tot die oortuiging gekom dat hy die Christus is?
27 Ons weet tog waar hierdie man vandaan kom; maar wanneer die Christus kom, sal niemand weet waar Hý vandaan kom nie.”
28
Terwyl Jesus die mense in die tempel leer, het Hy uitgeroep: “Ja, julle ken My, en julle weet ook waar Ek vandaan kom. En tog het Ek nie uit my eie gekom nie, maar dit is die ware God wat My gestuur het, en vir Hom ken julle nie.29 Ek ken Hom, omdat Ek van Hom af kom en Hy My gestuur het.”
30
Hulle wou Hom toe gevange neem, en tog het niemand dit gedoen nie, omdat sy tyd nog nie gekom het nie.31 Maar baie van die mense het tot geloof in Hom gekom en het gesê: “Wanneer die Christus kom, sal Hy tog seker nie meer wondertekens doen as wat hierdie man gedoen het nie?”
32
Die Fariseërs het gehoor wat die mense oor Hom fluister, en hulle en die priesterhoofde het wagte gestuur om Hom gevange te neem.33 Jesus sê toe: “Nog net 'n kort tydjie is Ek by julle, en dan gaan Ek terug na Hom toe wat My gestuur het.
34 Julle sal My soek en My nie kry nie, want waar Ek dan is, kan julle nie kom nie.”
35
Toe sê die Jode vir mekaar: “Waarheen sou hy van plan wees om te gaan dat ons hom nie sal kry nie? Hy is tog nie van plan om na die Griekssprekende Jode in die buiteland te gaan en die Grieke daar te leer nie?36 Wat bedoel hy met die woorde: Julle sal My soek en My nie kry nie, want waar Ek dan is, kan julle nie kom nie?”
37
Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!38 Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. ”
39
Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie.40
Party van die mense wat hierdie woorde gehoor het, het gesê: “Hy is werklik die Profeet.”41
Party het gesê: “Hy is die Christus.” Maar party het gesê: “Die Christus kom tog nie uit Galilea nie?42 Die Skrif sê mos die Christus kom uit die nageslag van Dawid en uit Betlehem, die dorp waar Dawid was.”
43
Daar het toe verdeeldheid oor Hom onder die mense gekom.44 Party van hulle wou Hom gevange neem, maar niemand het dit gedoen nie.
45
Daarna het die wagte na die priesterhoofde en die Fariseërs toe teruggegaan, en dié het vir hulle gevra: “Waarom het julle hom nie gebring nie?”46
Die wagte het geantwoord: “Nog nooit het iemand gepraat soos hierdie man nie.”47
Die Fariseërs sê toe vir hulle: “Is julle tog nie ook mislei nie?48 Het een van die lede van die Joodse Raad miskien in hom geglo, of een van die Fariseërs?
49 Nee, dit is net hierdie vervloekte klomp mense wat nie ons wet ken nie!”
50
Nikodemus, wat voorheen na Jesus toe gekom het en wat een van hulle was, sê toe vir hulle:51 “Volgens ons wet kan ons mos nie sommer iemand veroordeel sonder om eers sy kant van die saak te hoor en vas te stel wat hy doen nie.”
52
Hulle sê toe vir hom: “Jy kom tog nie ook van Galilea af nie? Ondersoek die Skrif en jy sal sien dat God niemand wat uit Galilea kom, as profeet roep nie.”53
Hierna is hulle elkeen na sy huis toe,1
maar Jesus het na die Olyfberg toe gegaan.2 Die volgende môre vroeg was Hy weer in die tempel en die hele volk het na Hom toe gekom. Hy het gaan sit en hulle geleer.
3
Die skrifgeleerdes en die Fariseërs bring toe 'n vrou wat op owerspel betrap is, en laat haar in die middel van die kring mense staan.4 Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, hierdie vrou is op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het.
5 Moses het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u?”
6
Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het gebuk en met sy vinger op die grond geskrywe.7 Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat 'n skoon gewete het, eerste 'n klip op haar gooi.”
8
Daarna het Hy weer gebuk en op die grond geskrywe.9 Toe hulle hoor wat Hy sê, het hulle een vir een begin wegloop, die familiehoofde eerste. Jesus is alleen agtergelaat saam met die vrou daar in die middel van die kring mense.
10 Toe het Hy regop gekom en vir haar gevra: “Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?”
11
“Niemand nie, Here,” sê sy. Toe sê Jesus: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”12
Op 'n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”13
Die Fariseërs sê toe vir Hom: “Jy getuig oor jouself; jou getuienis is dus nie geldig nie.”14
Daarop sê Jesus vir hulle: “Al getuig Ek ook oor Myself, is my getuienis geldig, omdat Ek weet waar Ek vandaan gekom het en waarheen Ek teruggaan. Maar julle weet nie waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie.15 Julle oordeel oor iemand volgens sy uiterlike; Ek oordeel oor niemand nie.
16 En as Ek oor iemand oordeel, is my oordeel reg, omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het.
17 In julle wet staan daar geskrywe dat die getuienis van twee persone geldig is.
18 Nou ja, oor My getuig Ek self én die Vader wat My gestuur het.”
19
Toe vra hulle vir Hom: “En waar is die vader van jou?” Jesus het geantwoord: “Julle ken My nie en ook nie my Vader nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het.”20
Hierdie dinge het Hy gesê in die vertrek waar die offergawekiste gestaan het. Hy was toe besig om die mense in die tempel te leer. En tog het niemand Hom gevange geneem nie, omdat sy tyd nog nie gekom het nie.21
Verder het Jesus vir hulle gesê: “Ek gaan weg, en julle sal My soek, maar julle sal in julle sonde sterwe. Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie.”22
Die Jode het toe gesê: “Gaan hy dalk selfmoord pleeg, dat hy sê: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie?”23
Toe sê Hy vir hulle: “Julle is van hier onder; Ek is van daar bo. Julle behoort tot hierdie wêreld; Ek behoort nie tot hierdie wêreld nie.24 Daarom het Ek vir julle gesê julle sal in julle sondes sterwe, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe.”
25
Hulle vra Hom toe: “Wie is jy?” Jesus het hulle geantwoord: “Waarom praat Ek eintlik nog met julle?26 Ek kan baie dinge oor julle sê en 'n oordeel oor julle uitspreek; maar Hy wat My gestuur het, is geloofwaardig, en net wat Ek by Hom gehoor het, sê Ek vir die wêreld.”
27
Hulle het nie begryp dat Hy met hulle van die Vader gepraat het nie.28
Daarna sê Jesus vir hulle: “Eers wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is, en dat Ek niks uit my eie doen nie, maar net verkondig wat die Vader My geleer het.29 Hy wat My gestuur het, is by My. Hy het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hy wil.”
30
Terwyl Hy hierdie dinge gesê het, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom.31
Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels;32 en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.”
33
Hulle het Hom geantwoord: “Ons is die nageslag van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie. Hoe kan jy sê: ‘Julle sal vry word’?”34
Jesus sê toe vir hulle: “Dít verseker Ek julle: Elkeen wat sonde doen, is 'n slaaf van die sonde.35 'n Slaaf bly nie vir altyd by 'n huisgesin nie; 'n seun bly vir altyd.
36 Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees.
37 Ek weet julle is die nageslag van Abraham. Maar julle wil My doodmaak omdat my woorde nie ingang by julle vind nie.
38 Ek praat oor wat Ek by my Vader gesien het; en julle doen wat julle by julle vader gehoor het.”
39
Hulle het vir Hom gesê: “Ons vader is Abraham.” Daarop sê Jesus vir hulle: “As julle kinders van Abraham was, sou julle doen wat Abraham gedoen het.40 Maar nou wil julle My doodmaak, vir My wat die waarheid wat Ek by God gehoor het, aan julle verkondig. Dít is nie wat Abraham gedoen het nie.
41 Julle doen wat julle vader gedoen het.”
Hulle sê toe vir Hom: “Ons is nie uit owerspel gebore nie. Ons het net die een Vader, naamlik God.”42
Maar Jesus sê vir hulle: “As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het van God af gekom, en hier is Ek nou. Ek het immers ook nie uit my eie gekom nie, maar Hý het My gestuur.43 Waarom begryp julle nie wat Ek sê nie? Omdat julle my boodskap nie kán verstaan nie!
44 Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af 'n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is 'n leuenaar en die vader van die leuen.
45 En omdat Ek die waarheid praat, glo julle nie in My nie.
46 Wie van julle kan sonde by My aanwys? As Ek dan die waarheid praat, waarom glo julle nie in My nie?
47 Wie 'n kind van God is, luister na die woorde van God. Juis daarom luister julle nie, omdat julle nie kinders van God is nie.”
48
Die Jode het toe vir Hom gesê: “Ons het mos gesê jy is 'n Samaritaan en van die duiwel besete!”49
Jesus het geantwoord: “Ek is nie van die duiwel besete nie, maar Ek eer my Vader, en julle doen My oneer aan.50 Ek soek egter nie na eer vir Myself nie; daar is Een wat eer vir My soek, en Hy is regter.
51 Dít verseker Ek julle: As iemand my woorde ter harte neem, sal hy in alle ewigheid nooit sterwe nie.”
52
Die Jode sê toe vir Hom: “Nou is ons seker dat jy van die duiwel besete is. Abraham het gesterwe en die profete ook, en tog sê jy: ‘As iemand my woorde ter harte neem, sal hy in alle ewigheid nooit sterwe nie.’53 Jy is tog nie groter as ons voorvader Abraham wat gesterf het nie? En die profete het gesterwe. Wie verbeel jy jou is jy?”
54
Maar Jesus antwoord: “As Ek Myself verheerlik, beteken my heerlikheid niks. Dit is my Vader wat My verheerlik. Julle sê: ‘Hy is ons God,’55 en tog ken julle Hom nie. Maar Ek ken Hom. As Ek sê Ek ken Hom nie, sal Ek net soos julle 'n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom, en Ek neem sy woorde ter harte.
56 Abraham, julle voorvader, het hom daaroor verheug dat hy die dag van my koms sou sien, en hy het dit gesien en was bly.”
57
Die Jode sê toe vir Hom: “Jy is nog nie eens vyftig jaar oud nie, en het jy vir Abraham gesien?”58
Jesus het hulle geantwoord: “Dít verseker Ek julle: Voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is.”59
Hulle het toe klippe opgetel om Hom daarmee te gooi. Maar Jesus het gaan skuil en van die tempel af weggegaan.1
Terwyl Jesus wegstap, sien Hy 'n man wat van sy geboorte af blind was.2 Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s'n?”
3
En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s'n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.4 So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie.
5 Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.”
6
Nadat Hy dit gesê het, spoeg Hy op die grond en maak met die spoeg 'n bietjie klei aan. Toe smeer Hy die klei aan die man se oë7 en sê vir hom: “Gaan was jou in die Siloambad.” Siloam beteken die een wat gestuur is.
Hy het gegaan en hom gewas, en toe hy terugkom, kon hy sien.8
Sy bure en die ander mense wat hom voorheen as bedelaar geken het, sê toe: “Maar is dit dan nie die man wat gesit en bedel het nie?”9
Party van hulle het gesê: “Dit is hy!” Maar party het gesê: “Nee, hy lyk maar net soos daardie man.” “Dit is ek!” het hy self gesê.10
Hulle vra toe vir hom: “Maar hoe het jou oë dan reg gekom?”11
En hy antwoord: “Die man met die naam Jesus het 'n bietjie klei aangemaak en dit aan my oë gesmeer en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas, en ek kon sien!”12
“Waar is hy nou?” vra hulle hom toe. “Ek weet nie,” was sy antwoord.13
Daarna het die mense die man wat eers blind was, na die Fariseërs toe gebring.14 Dit was op 'n sabbatdag dat Jesus die klei aangemaak en die man se oë genees het.
15 Die Fariseërs het hom ook weer gevra hoe dit gekom het dat hy kan sien. Hy het hulle geantwoord: “Hy het klei op my oë gesit en ek het my gewas, en nou sien ek.”
16
Party van die Fariseërs sê toe: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die sabbatdag nie.” Maar van die ander het gesê: “Hoe kan iemand wat 'n sondaar is, sulke wondertekens doen?” En daar was verdeeldheid onder hulle.17
Hulle sê toe weer vir die man wat blind was: “Wat sê jý van hom? Hy het mos jou oë genees.” “Hy is 'n profeet,” het hy geantwoord.18
Die Jode het nie geglo dat die man blind was en nou kon sien nie, totdat hulle sy ouers geroep19 en vir hulle gevra het: “Is dit julle seun van wie julle beweer dat hy blind gebore is? Hoe sien hy dan nou?”
20
“Ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is,” het sy ouers geantwoord.21 “Maar hoe hy nou sien, weet ons nie. En wie sy oë genees het, weet ons ook nie. Vra hom self. Hy is oud genoeg; hy kan vir homself praat.”
22
Sy ouers het dit gesê omdat hulle bang was vir die Jode; want die Jode het toe al klaar met mekaar afgespreek dat iemand wat openlik verklaar dat Jesus die Christus is, uit die sinagoge geban sal word.23 Daarom het sy ouers gesê: “Hy is oud genoeg; vra hom self.”
24
Die Jode het toe die tweede keer die man wat blind was, geroep en vir hom gesê: “Praat die waarheid voor God; ons weet mos hierdie man is 'n sondaar.”25
Daarop het hy gesê: “Of hy 'n sondaar is, dit weet ek nie. Een ding weet ek wel: ek was blind, en nou sien ek.”26
Hulle sê toe vir hom: “Wat het hy met jou gemaak? Hoe het hy jou oë genees?”27
“Ek het julle mos al vertel, en julle het nie geluister nie,” antwoord hy. “Hoekom wil julle dit weer hoor? Julle wil tog nie ook dissipels van hom word nie?”28
Toe skel hulle hom uit en sê: “Jý is 'n dissipel van hom. Óns is dissipels van Moses.29 Ons weet dat God met Moses gepraat het; maar hierdie man — ons weet nie waar hy vandaan kom nie.”
30
“Dis darem snaaks,” sê hy daarop vir hulle. “Julle weet nie waar hy vandaan kom nie, en tog het hy my oë genees.31 Ons weet dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand vir Hom ontsag het en doen wat Hy wil hê, luister God na hom.
32 Van ewigheid af is daar nog nooit gehoor dat iemand die oë van een wat blind gebore is, genees het nie.
33 As hierdie man nie van God was nie, sou hy niks kon doen nie.”
34
Hulle sê toe vir hom: “Jy is van jou geboorte af die ene sonde, en wil jy ons staan en leer?” En hulle het hom uitgeban.35
Jesus het gehoor dat die Jode die man uitgeban het; en toe Hy hom kry, vra Hy vir hom: “Glo jy in die Seun van die mens?”36
Hy het geantwoord: “Wie is dit, Meneer, sodat ek in Hom kan glo?”37
Jesus het vir hom gesê: “Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.”38
Die man sê toe: “Ek glo, Here!” En hy het Hom aanbid.39
Toe sê Jesus: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met die oog op 'n beslissing, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word.”40
Party Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: “Ons is mos nie blind nie!”41
Jesus antwoord hulle: “As julle blind was, sou julle nie skuldig gewees het nie; maar nou sê julle: ‘Ons sien.’ Daarom bly julle skuldig.”1
“Dít verseker Ek julle: Wie nie deur die hek in die skaapkraal ingaan nie maar van 'n ander kant af inklim, is 'n dief en 'n rower.2 Maar hy wat deur die hek ingaan, is die skape se herder;
3 vir hom maak die hekwagter oop. Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit.
4 Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken.
5 Hulle sal nooit 'n vreemde volg nie maar van hom af weghardloop, omdat hulle nie die stem van vreemdes ken nie.”
6
Deur hierdie beeld het Jesus met hulle gepraat, maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy vir hulle wou sê nie.7
Toe het Jesus verder gesê: “Dít verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape.8 Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie.
9 Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry.
10 'n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.
11
“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.12 'n Huurling is geen herder nie, en dit is nie sy eie skape nie. As hy 'n wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg, en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar.
13 Hy is 'n huurling en bekommer hom nie oor die skape nie.
14
“Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My,15 net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape.
16 Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei. Hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder.
17
“Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem.18 Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het.”
19
Daar het toe verdeeldheid onder die Jode gekom oor hierdie woorde.20 Baie van hulle het gesê: “Hy is van die duiwel besete, hy is mal! Hoekom luister julle nog na hom?”
21
Ander het gesê: “Dit is nie die woorde van 'n besetene nie. 'n Duiwel kan tog nie blindes se oë genees nie?”22
Dit was daardie tyd die fees van die tempelwyding in Jerusalem, en dit was winter.23 Jesus het in die tempel in die Pilaargang van Salomo geloop.
24 Die Jode het daar om Hom saamgedrom en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan u ons nog in onsekerheid hou? As u die Christus is, sê dit reguit vir ons.”
25
Jesus antwoord hulle toe: “Ek het dit vir julle gesê, en tog glo julle nie. Die dade wat Ek in die Naam van my Vader doen, bewys wie Ek is.26 Maar julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie.
27 My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My.
28 Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.
29 Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.
30 Ek en die Vader is een.”
31
Die Jode het toe weer klippe opgetel om Hom te stenig,32 maar Jesus sê vir hulle: “Op gesag van die Vader het Ek julle talle goeie dade laat sien. Oor watter een daarvan wil julle My stenig?”
33
“Dis nie oor 'n goeie daad dat ons jou wil stenig nie,” antwoord die Jode Hom, “maar oor godslastering, omdat jy, wat 'n gewone mens is, jou as God voordoen.”34
Daarop sê Jesus vir hulle: “Staan daar nie in julle wet geskrywe: ‘Ek het gesê: Julle is gode’ nie?35 God noem hulle tot wie sy woord gekom het, dus ‘gode’, en wat daar geskrywe staan, kan nie verander word nie.
36 Hoe sê julle dan vir My wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld toe gestuur is: ‘Jy praat godslasterlik’, omdat Ek gesê het: ‘Ek is die Seun van God’?
37 As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle nie in My glo nie.
38 Maar as Ek dit wel doen en julle tog nie in My glo nie, moet julle ten minste aan die werke glo, sodat julle kan insien en weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is.”
39
Hulle wou Hom toe weer gevange neem, maar Hy het hulle ontglip.40 Hy het teruggegaan na die plek oorkant die Jordaan waar Johannes vroeër gedoop het, en daar gebly.
41 Baie mense het na Hom toe gekom. Hulle het gesê: “Johannes het wel geen wonderteken gedoen nie, maar alles wat Johannes oor hierdie man gesê het, is waar.”
42
Baie mense het daar tot geloof in Hom gekom.1
'n Man met die naam Lasarus was siek. Hy was van Betanië, die dorp waar Maria en haar suster Marta gewoon het.2 Maria was die vrou wat met reukolie die Here gesalf en sy voete met haar hare afgedroog het. Dit was haar broer Lasarus wat siek was.
3 Die susters het iemand na Jesus toe gestuur om te sê: “Here, hy vir wie U lief is, is siek.”
4
Toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.”5
Jesus het vir Marta en haar suster en Lasarus liefgehad.6 Nadat Hy gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy egter nog twee dae op die plek gebly waar Hy was.
7 Eers daarna het Hy vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan terug na Judea toe.”
8
Die dissipels sê toe vir Hom: “Rabbi, nou die dag nog wou die Jode U stenig, en gaan U weer daarheen?”9
Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf uur in 'n dag nie? As iemand in die dag loop, struikel hy nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien.10 Maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat hy nie die lig het nie.”
11
Hierna het Hy vir hulle gesê: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.”12
Die dissipels sê toe vir Hom: “Here, as hy slaap, sal hy gesond word.”13
Jesus het van Lasarus se dood gepraat, maar hulle het gedink Hy praat van die gewone slaap.14 Toe sê Jesus vir hulle reguit: “Lasarus is dood,
15 en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle in My kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.”
16
Tomas, wat ook Didimus genoem is, sê toe vir die ander dissipels: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe.”17
Toe Jesus daar kom, het Hy gevind dat Lasarus al vier dae in die graf was.18
Betanië was naby Jerusalem, omtrent drie kilometer;19 en baie van die Jode het na Marta en Maria toe gekom om hulle oor hulle broer te troos.
20
Toe Marta hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoet gegaan; maar Maria het in die huis bly sit.21 Marta sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.
22 Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.”
23
Jesus sê toe vir haar: “Jou broer sal uit die dood opstaan.”24
Maar Marta sê vir Hom: “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan.”25
Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook;26 en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”
27
“Ja, Here,” sê sy vir Hom, “ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”28
Nadat sy dit gesê het, het sy haar suster Maria gaan roep en saggies vir haar gesê: “Ons Leermeester is hier, en Hy roep jou.”29
Toe sy dit hoor, het sy gou opgestaan en na Hom toe gegaan.30 Jesus het nog nie in die dorp aangekom nie, maar was nog op die plek waar Marta Hom ontmoet het.
31 Toe die Jode wat by Maria in die huis was en haar vertroos het, sien dat sy vinnig opstaan en uitgaan, het hulle agter haar aangegaan omdat hulle gedink het sy gaan na die graf toe om daar te huil.
32 Toe Maria daar aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by sy voete gekniel en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.”
33
Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan.34 Hy vra toe: “Waar het julle hom begrawe?”
Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk.”35
Jesus het gehuil.36 Die Jode sê toe: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!”
37
Party van hulle het ook gesê: “Kon hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?”38
Jesus se gemoed het weer vol geskiet toe Hy by die graf kom. Dit was 'n rotsgraf, en daar was 'n klip voor die ingang gerol.39 Jesus sê toe: “Rol die klip weg.”
Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.”40
Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?”41
Hulle het toe die klip weggerol. Jesus het opgekyk boontoe en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het.42 Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.”
43
Nadat Hy dit gesê het, roep Hy met 'n harde stem: “Lasarus, kom uit!”44
Die oorledene het uitgekom. Sy hande en sy voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met 'n kopdoek. Jesus sê toe vir die mense: “Maak hom los dat hy kan huis toe gaan.”45
Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het tot geloof in Hom gekom.46
Maar party van hulle het na die Fariseërs toe gegaan en vir hulle vertel wat Jesus gedoen het.47 Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe die Joodse Raad bymekaargeroep en gesê: “Wat gaan ons doen? Hierdie man doen baie wondertekens.
48 As ons hom so laat aangaan, sal al die mense in hom glo, en dan kom verwoes die Romeine hierdie heilige plek en maak ons nasie tot niet.”
49
Een van hulle, 'n sekere Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was, het egter vir hulle gesê: “Julle verstaan niks,50 en julle besef ook nie dat dit tot julle voordeel is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie verlore gaan nie.”
51
Dit het hy nie uit sy eie gesê nie, maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die nasie sou sterwe.52 En Hy sou nie net vir die nasie sterwe nie, maar ook om die kinders van God wat oor die hele aarde versprei is, tot een volk bymekaar te bring.
53
Van daardie dag af was hulle vasbeslote om Jesus dood te maak.54 Daarom het Jesus nie meer in die openbaar onder die Jode rondgegaan nie, maar daarvandaan weggegaan na die streek naby die woestyn, na 'n dorp met die naam Efraim. Daar het Hy met sy dissipels 'n rukkie gebly.
55
Die paasfees van die Jode was naby. Baie mense het voor die paasfees van die platteland af na Jerusalem toe gegaan om hulle te reinig.56 Hulle het daar na Jesus gesoek en waar hulle in die tempel gestaan het, vir mekaar gesê: “Hoe dink julle? Hy sal seker nie fees toe kom nie, of hoe?”
57
Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe al klaar opdrag gegee dat as iemand weet waar Hy is, hy dit moet aangee sodat hulle Hom gevange kan neem.1
Ses dae voor die paasfees het Jesus na Betanië toe gekom, waar Lasarus wat Hy uit die dood opgewek het, gewoon het.2 Daar het hulle vir Jesus 'n ete gegee. Marta het bedien, en Lasarus was een van dié wat saam met Hom aan tafel was.
3 Toe het Maria 'n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie.
4
Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai, sê toe:5 “Waarom is hierdie reukolie nie vir drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?”
6
Dit het hy gesê, nie omdat hy hom oor die armes bekommer het nie, maar omdat hy 'n dief was. Hy het die beursie gehad en het van die bydraes gevat.7
Toe sê Jesus: “Laat staan haar. Sy moes dit hou vir hierdie dag om My te salf vir my begrafnis.8 Die armes het julle tog altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.”
9
Baie van die Jode het verneem dat Jesus daar is en het daarheen gekom, nie net ter wille van Jesus nie, maar ook om vir Lasarus te sien wat Hy uit die dood opgewek het.10 Die priesterhoofde het toe besluit om ook vir Lasarus dood te maak,
11 omdat baie van die Jode deur hom na Jesus toe oorgeloop en in Hom geglo het.
12
Die volgende dag het die groot menigte mense wat na die fees toe gekom het, gehoor dat Jesus na Jerusalem toe kom.13 Hulle het palmtakke gevat en Hom tegemoet gegaan en uitgeroep:
“Prys Hom!14
Jesus het toe op 'n jong donkie geklim wat Hy daar gekry het, soos daar geskrywe staan:15
“Moenie bang wees nie, Sion!
Kyk, jou Koning kom,
en Hy ry op 'n donkie.”
16
Jesus se dissipels het hierdie dinge eers nie verstaan nie, maar nadat Hy verheerlik is, het hulle daaraan gedink dat wat daar geskrywe staan, op Hom betrekking gehad het en dat dit met Hom gebeur het.17
Die mense wat by Jesus was toe Hy vir Lasarus uit die graf geroep en hom uit die dood opgewek het, het gedurig daaroor gepraat.18 Daarom het die menigte vir Jesus tegemoet gegaan: hulle het gehoor dat Hy hierdie wonderteken gedoen het.
19 Die Fariseërs het toe vir mekaar gesê: “Sien julle, julle rig niks uit nie! Kyk, die hele wêreld gaan agter hom aan!”
20
Daar was ook 'n aantal Grieke onder die mense wat fees toe gekom het om te aanbid.21 Hulle het na Filippus, wat van Betsaida in Galilea afkomstig was, gegaan en vir hom gevra: “Meneer, ons wil Jesus graag ontmoet.”
22
Filippus het gegaan en dit vir Andreas vertel. Andreas en Filippus gaan toe en sê dit vir Jesus.23 Daarop sê Jesus vir hulle: “Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word.
24 Dít verseker Ek julle: As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy 'n groot oes in.
25 Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou.
26 As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer.
27
“Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur.28 Vader, verheerlik u Naam!”
Toe het daar 'n stem uit die hemel gekom: “Ek het my Naam verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.”29
Die mense wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar 'n donderslag was. Ander het gesê: “'n Engel het met hom gepraat.”30
Toe sê Jesus: “Hierdie stem het nie om my ontwil gekom nie, maar om julle ontwil.31 Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe.
32 En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.”
33
Dit het Hy gesê en daarmee ook aangedui op watter manier Hy sou sterwe.34
Die mense sê toe vir Hom: “Ons het uit die Skrif geleer dat die Christus vir ewig gaan bly. Hoe sê u nou dat die Seun van die mens verhoog moet word? En hierdie Seun van die mens, wie is hy?”35
Toe sê Jesus vir hulle: “Nog net 'n kort tydjie is die lig by julle. Lewe in die lig terwyl julle dit het sodat die duisternis julle nie oorval nie. Wie in die duisternis lewe, weet nie waar hy gaan uitkom nie.36 Terwyl julle die lig het, moet julle in die lig glo, sodat julle mense van die lig kan wees.”
Dit het Jesus gesê en daarna van hulle af weggegaan en Hom skuil gehou.37
Alhoewel Jesus so baie wondertekens voor die mense gedoen het, het hulle tog nie in Hom geglo nie.38 So moes die woorde van die profeet Jesaja vervul word:
“Here, wie het geglo39
Waarom hulle nie kon glo nie, sê Jesaja ook elders:40
“God het hulle oë blind gemaak
en hulle verstand laat afstomp
sodat hulle nie met hulle oë kan sien
en met hulle verstand kan verstaan
en hulle bekeer
en Ek hulle gesond maak nie.”
41
Jesaja het dit gesê omdat hy die heerlikheid van die Here gesien en oor Hom gepraat het.42
Nietemin het selfs baie van die lede van die Joodse Raad tog ook tot geloof in Hom gekom, maar uit vrees vir die Fariseërs het hulle dit nie openlik bely nie, sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie;43 want hulle het verkies om liewer deur mense geëer te word as deur God.
44
Toe het Jesus uitgeroep: “Wie in My glo, glo nie net in My nie maar ook in Hom wat My gestuur het.45 En wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het.
46 Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.
47 En as iemand na my woorde luister en hom nie daaraan steur nie, veroordeel Ek hom nie, want Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om die wêreld te red.
48 Wie My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het reeds iets wat hom veroordeel: die woorde wat Ek gespreek het, sal hom op die laaste dag veroordeel.
49 Ek het nie uit my eie gepraat nie, maar juis die Vader wat My gestuur het, het My opgedra wat Ek moet sê en wat Ek moet praat.
50 En Ek weet dat sy opdrag die ewige lewe beteken. Wat Ek sê, sê Ek presies net soos die Vader dit vir My gesê het.”
1
Voor die viering van die paasfees het Jesus reeds geweet dat die tyd vir Hom gekom het om van hierdie wêreld af na die Vader oor te gaan. Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad.2
Jesus en sy dissipels was aan tafel. Die duiwel het toe al klaar vir Judas seun van Simon Iskariot op die gedagte gebring om Jesus te verraai.3 Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan.
4 Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en 'n handdoek gevat en om Hom vasgemaak.
5 Daarna het Hy water in 'n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het.
6
Toe Hy by Simon Petrus kom, vra dié vir Hom: “Here, gaan Ú mý voete was?”7
En Jesus antwoord hom: “Wat Ek doen, begryp jy nie nóú nie, maar later sal jy dit verstaan.”8
Maar Petrus sê vir Hom: “U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!” Daarop sê Jesus vir hom: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.”9
Simon Petrus sê toe vir Hom: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig.”10
En Jesus sê vir hom: “Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon; hy hoef later niks meer as sy voete te was nie. En julle is nou skoon, maar nie almal nie.”11
Jesus het geweet wie Hom sou verraai; daarom het Hy gesê: “Julle is nie almal skoon nie.”12
Toe Hy hulle voete klaar gewas en sy bokleed aangetrek het en weer aangesit het, sê Hy vir hulle: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het?13 Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit.
14 As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was.
15 Ek het vir julle 'n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.
16 Dít verseker Ek julle: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en 'n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie.
17 Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen.”
18
“Ek praat nie van julle almal nie; Ek weet wie Ek uitgekies het. Maar die Skrif moet vervul word: ‘Hy wat van my brood eet, het My in die rug gesteek.’19 Ek sê dit nou al vir julle voordat dit gebeur, sodat wanneer dit gebeur, julle kan glo dat Ek is wat Ek is.
20 Dit verseker Ek julle: Wie iemand ontvang wat Ek stuur, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.”
21
Na hierdie woorde het Jesus hewig ontsteld geword en openlik verklaar: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.”22
Die dissipels het verslae na mekaar gekyk en nie geweet wie Hy bedoel nie.23 Die dissipel vir wie Jesus baie lief was, het net langs Hom aan tafel gesit.
24 Simon Petrus beduie toe vir hom dat hy moet vra wie dit is wat Jesus bedoel.
25 Hy leun toe oor na Jesus se kant en vra vir Hom: “Here, wie is dit?”
26
Jesus het geantwoord: “Dit is die een vir wie Ek 'n stukkie brood wat Ek in die sous ingesteek het, sal gee.” Hy vat toe 'n stukkie brood, steek dit in die sous en gee dit vir Judas seun van Simon Iskariot.27 En nadat Judas die stukkie brood gevat het, het die Satan in hom ingevaar. Toe sê Jesus vir hom: “Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen!”
28
Niemand van die ander wat aan tafel was, het geweet waarom Hy dit vir hom gesê het nie.29 Omdat Judas die beursie gehad het, het party van hulle gedink dat Jesus vir hom sê: “Gaan koop wat ons vir die paasfees nodig het,” of dat hy iets vir die armes moes gaan gee.
30
Nadat Judas dan die stukkie brood gevat het, het hy dadelik uitgegaan. Dit was nag.31
Toe Judas uit is, sê Jesus: “Nou word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik.32 En aangesien God deur Hom verheerlik word, sal God self Hom ook verheerlik; en Hy sal Hom binnekort verheerlik.
33 My kinders, Ek is nog net 'n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie.
34 Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.
35 As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”
36
Simon Petrus vra toe vir Hom: “Here, waarheen gaan U?” Jesus het hom geantwoord: “Waarheen Ek gaan, kan jy My nie nou volg nie, maar later sal jy My volg.”37
Toe sê Petrus vir Hom: “Here, hoekom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U aflê.”38
“Sal jy jou lewe vir My aflê?” vra Jesus. “Dít verseker Ek jou: Nog voor die haan kraai, sal jy My drie keer verloën.”1
“Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My.2 In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie.
3 En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.
4 En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.”
5
Tomas sê toe vir Hom: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?”6
Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.7 As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”
8
Toe sê Filippus vir Hom: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.”9
En Jesus sê vir hom: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’?10 Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen.
11 Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self.
12
“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.13 Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.
14 As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”
15
“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.16 Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees,
17 naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.
18
“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.19 Nog net 'n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe.
20 Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle.
21
“Wie my opdragte het en dit uitvoer — dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.”22
Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Hom: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?”23
Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.24 Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s'n wat My gestuur het.
25
“Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly;26 en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.
27
“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.28 Julle het gehoor dat Ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter as Ek is.
29 En nou sê Ek dit vir julle voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur.
30 Ek sal nie meer lank met julle kan praat nie, want die owerste van die wêreld is aan die kom. Hy het geen mag oor My nie,
31 maar die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom doen wat die Vader My beveel het.
“Staan op, laat ons hiervandaan weggaan.”1
“Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer.2 Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra.
3 Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het.
4 Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.
5
“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.6 As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos 'n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.
7 As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.
8 My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”
9
“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly.10 As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly.
11
“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.12 Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.
13 Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.
14 Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel.
15 Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want 'n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.
16 Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra.
17 Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!”
18
“As die wêreld julle haat, onthou: Hy het My voor julle gehaat.19 As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle.
20 Onthou wat Ek vir julle gesê het: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woorde ter harte geneem het, sal hulle julle s'n ook ter harte neem.
21 Maar hulle sal dit alles aan julle doen omdat julle my Naam bely en hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.
22
“As Ek nie gekom en met hulle gepraat het nie, sou hulle nie skuldig gewees het nie; maar nou het hulle geen verskoning vir hulle sonde nie.23 Wie My haat, haat ook my Vader.
24 As Ek nie by hulle die werke gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle nie skuldig gewees het nie; maar nou sien hulle dit, en tog haat hulle My en my Vader.
25 Maar die woorde wat in die Skrif geskrywe staan, moet vervul word: ‘Hulle het My sonder rede gehaat.’
26
“Wanneer die Voorspraak kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid, wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig.27 En julle moet getuig, want julle is van die begin af by My.”
1
“Hierdie dinge sê Ek vir julle sodat julle nie afvallig word nie.2 Die mense sal julle uit die sinagoges ban. Daar kom selfs 'n tyd dat elkeen wat een van julle doodmaak, sal dink dat hy 'n diens aan God bewys.
3 En dit sal hulle doen, omdat hulle die Vader nie ken nie en My ook nie.
4 Maar Ek sê dit nou vir julle, sodat wanneer die tyd daarvoor aanbreek, julle daaraan moet dink dat Ek dit vir julle gesê het. Ek het dit egter nie van die begin af vir julle gesê nie, omdat Ek nog by julle was.”
5
“Nou gaan Ek na Hom toe wat My gestuur het, en tog vra niemand van julle vir My: ‘Waar gaan U heen?’ nie.6 Maar omdat Ek dit vir julle sê, is julle harte vol droefheid.
7 Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.
8 En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het.
9 Die wêreld is skuldig aan sonde, want die wêreld glo nie in My nie;
10 die reg is aan my kant, want Ek gaan na die Vader toe, en julle sal My nie meer sien nie;
11 die oordeel het al gekom, want die owerste van hierdie wêreld is klaar veroordeel.
12
“Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie.13 Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig.
14 Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.
15 Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”
16
“Nog 'n klein rukkie, dan sien julle My nie meer nie; en weer 'n klein rukkie, dan sal julle My weer sien.”17
Party van sy dissipels het toe vir mekaar gevra: “Wat beteken dit dat Hy vir ons sê: ‘Nog 'n klein rukkie, dan sien julle My nie; en weer 'n klein rukkie, dan sal julle My weer sien’ en: ‘Ek gaan na die Vader toe’?18 Hierdie ‘klein rukkie’ waarvan Hy praat, wat beteken dit? Ons weet nie wat Hy bedoel nie,” het hulle gesê.
19
Jesus het gemerk dat hulle dit vir Hom wou vra, en Hy sê toe vir hulle: “Praat julle met mekaar daaroor dat Ek gesê het: Nog 'n klein rukkie, dan sien julle My nie; en weer 'n klein rukkie, dan sal julle My weer sien?20 Dit verseker Ek julle: Julle sal huil en treur, maar die wêreld sal bly wees. Julle sal bedroef word, maar julle droefheid sal in blydskap verander.
21 'n Vrou kry swaar wanneer haar tyd gekom het en haar kindjie gebore word. Maar wanneer die kindjie gebore is, dink sy nie meer aan die pyn nie, so bly is sy dat daar 'n mens in die wêreld gekom het.
22 Net so is julle ook nou bedroef, maar as Ek julle weer sien, sal julle harte vol blydskap wees, en niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie.
23 Daardie dag sal julle nie meer vrae aan My stel nie.
“Dít verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee.24 Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.”
25
“Dit het Ek deur beeldspraak vir julle gesê. Daar kom 'n tyd wanneer Ek nie meer deur beeldspraak met julle sal praat nie maar julle reguit van die Vader sal vertel.26 Van daardie dag af sal julle in my Naam bid en hoef Ek nie julle voorspraak by die Vader te wees nie,
27 want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefhet en glo dat Ek van God gekom het.
28 Ek het van die Vader gekom en Ek is hier in die wêreld. Nou verlaat Ek weer die wêreld en Ek gaan na die Vader toe.”
29
Sy dissipels sê toe: “Kyk, nou praat U reguit en gebruik nie beeldspraak nie.30 Nou weet ons dat U alles weet, en niemand hoef U verder uit te vra nie. Ons glo nou dat U van God gekom het.”
31
Daarop sê Jesus vir hulle: “Glo julle nou?32 Kyk, daar kom 'n tyd, en dit is nou al hier, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen sy eie koers in, en dat julle My alleen sal laat; en tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader by My is.
33 Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”
1
Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik.2 U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee.
3 En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.
4 Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen.
5 Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het.
6
“Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord ter harte geneem.7 Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom;
8 want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee. Hulle het dit aangeneem en tot die oortuiging gekom dat Ek waarlik van U gekom het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.
9
“Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie maar vir dié wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort.10 Almal wat aan My behoort, behoort aan U; en wie aan U behoort, behoort aan My; en Ek word deur hulle verheerlik.
11 Ek bly nie langer in die wêreld nie, maar hulle bly nog in die wêreld. Ek kom na U toe.
“Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U My gegee het, sodat hulle net soos Ons een kan wees.12 Toe Ek by hulle was, het Ek hulle in u Naam bewaar, die Naam wat U My gegee het. Ek het hulle beskerm, en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die een wat verlore moet gaan sodat die Skrif vervul kan word.
13
“Maar nou kom Ek na U toe. En Ek sê dit terwyl Ek nog in die wêreld is, sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulle kan hê.14 Ek het u woord aan hulle gegee, en die wêreld haat hulle, omdat hulle nie tot die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie.
15 Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar.
16 Hulle behoort nie tot die wêreld nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie.
17 Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid.
18 Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur;
19 en ter wille van hulle wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees.
20
“Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom.21 Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.
22 Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is:
23 Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.
24
“Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het.25
“Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en hulle hier weet dat U My gestuur het.26 Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle.”
1
Nadat Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor Kedronspruit gegaan. Daar was 'n tuin, en Hy en sy dissipels het daar ingegaan.2 Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar gekom het.
3
Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde en die Fariseërs en hulle het daar aangekom met lanterns en fakkels en wapens.4 Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom, het Hy vorentoe gekom en vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?”
5
“Jesus van Nasaret,” antwoord hulle Hom. “Dit is Ek!” sê Hy toe vir hulle. Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan.6 Toe Jesus dan vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle teruggedeins en op die grond neergeval.
7
Hy vra hulle toe weer: “Vir wie soek julle?” En hulle sê: “Jesus van Nasaret.”8
Toe sê Jesus: “Ek het vir julle gesê dit is Ek. As julle My soek, laat die mense hier by My dan toe om weg te gaan.”9
So sou vervul word wat Hy voorheen gesê het: “Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.”10
Simon Petrus het 'n swaard by hom gehad. Hy ruk dit toe uit, slaan daarmee na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus.11 Toe sê Jesus vir Petrus: “Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?”
12
Toe het die afdeling soldate onder die kommandant saam met die wagte in diens van die Joodse Raad vir Jesus gevange geneem en Hom geboei.13 Hulle het Hom eers na Annas toe gebring. Hy was die skoonvader van Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was.
14 Dit was Kajafas wat vir die Jode die raad gegee het dat dit tot hulle voordeel is dat een man vir die volk sterwe.
15
Simon Petrus en 'n ander dissipel het agter Jesus aangegaan. Daardie ander dissipel was aan die hoëpriester bekend en het saam met Jesus in die hoëpriester se woning16 ingegaan, maar Petrus het buite by die deur bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat aan die hoëpriester bekend was, uitgegaan en met die deurwagter gepraat en vir Petrus ingebring.
17 Die diensmeisie wat deurwagter was, sê toe vir Petrus: “Jy is tog nie ook een van hierdie man se dissipels nie?”
“Nee, ek is nie!” antwoord hy.18
Die slawe en die wagte het hulle gestaan en warm maak by die vuur wat hulle gemaak het omdat dit koud was. En Petrus het hom ook saam met hulle gestaan en warm maak.19
Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en oor sy leer.20 Jesus het hom geantwoord: “Ek het in die openbaar met die mense gepraat. Ek het hulle altyd in die sinagoges en in die tempel geleer, waar al die Jode bymekaar kom; en Ek het niks in die geheim gesê nie.
21 Waarom ondervra u My? Ondervra dié wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.”
22
Toe Jesus dit sê, het een van die wagte wat daarby gestaan het, Hom geklap en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?”23
Jesus sê toe vir hom: “As wat Ek gesê het, verkeerd was, sê dan wat was verkeerd; maar as dit reg was, waarom slaan jy My?”24
Annas het Hom toe geboei na die hoëpriester Kajafas toe gestuur.25
Simon Petrus het hom nog gestaan en warm maak. Die mense by die vuur vra toe vir hom: “Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie?” Hy het dit ontken en gesê: “Nee, ek is nie!”26
Een van die hoëpriester se slawe wat familie was van die een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou dan nie in die tuin by hom gesien nie?”27
Petrus het dit weer ontken, en net daarna het daar 'n haan gekraai.28
Toe het hulle vir Jesus van Kajafas af na die ampswoning van die goewerneur toe gebring. Dit was die môre vroeg. Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie maar die paasmaaltyd sou kon eet.29 Pilatus het buite na hulle toe uitgegaan en gevra: “Watter aanklag bring julle teen hierdie man in?”
30
Hulle het hom geantwoord: “As hy nie 'n misdadiger was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.”31
Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom en veroordeel hom volgens julle wet.” Maar die Jode sê vir hom: “Ons mag nie iemand teregstel nie.”32
Dit het gebeur sodat die woorde van Jesus vervul kon word wat Hy gesê het toe Hy aangedui het op watter manier Hy sou sterwe.33
Pilatus het toe weer in sy ampswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gevra: “Is jý die koning van die Jode?”34
Jesus het hom toe gevra: “Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?”35
“Ek is mos nie 'n Jood nie!” antwoord Pilatus. “Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?”36
“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”37
“Dan is jy tog wel 'n koning?” vra Pilatus. “Dit is soos u sê: Ek is 'n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.”38
“Wat is waarheid?” sê Pilatus toe vir Hom. En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: “Ek vind geen skuld in hom nie.39 Maar julle is gewoond dat ek vir julle gedurende die paasfees iemand loslaat. Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?”
40
Hulle skreeu toe terug: “Nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” En Barabbas was 'n rower.1
Toe het Pilatus vir Jesus geneem en Hom laat gesel.2 Die soldate het 'n doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het vir Hom 'n pers mantel aangetrek
3 en herhaaldelik nader na Hom toe gekom en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” En elke keer het hulle Hom geklap.
4
Pilatus het toe weer buitentoe gekom en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.”5
Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: “Dit is die mens!”6
Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, skreeu hulle: “Kruisig hom! Kruisig hom!” “Vat júlle hom en kruisig hom,” sê Pilatus daarop vir hulle, “want ék vind geen skuld in hom nie.”7
Die Jode sê toe vir hom: “Ons het 'n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.”8
Toe Pilatus dit hoor, het hy nog banger geword.9 Hy het weer in sy ampswoning ingegaan en vir Jesus gevra: “Waar kom jy vandaan?”
Jesus het hom egter nie geantwoord nie.10 Pilatus sê toe vir Hom: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?”
11
En Jesus antwoord hom: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld.”12
Hieroor het Pilatus geprobeer om Hom los te laat; maar die Jode het geskreeu: “As u hom loslaat, is u nie 'n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as koning voordoen, is in verset teen die keiser.”13
Toe Pilatus dit alles hoor, het hy vir Jesus buitentoe gebring en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipterras genoem word, in Hebreeus Gabbata.14 Dit was die voorbereiding vir die paasfees, en dit was omtrent twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Hier is julle koning!”
15
Maar hulle skreeu: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!” Toe vra Pilatus vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?” Die priesterhoofde antwoord: “Ons het nie 'n koning nie; ons het net die keiser.”16
Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.17
Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota.18 Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.
19
Pilatus het ook 'n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.”20 Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en Grieks.
21 Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.”
22
Pilatus het vir hulle gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.”23
Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat 'n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef.24 Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.”
Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê: “Hulle het my klere25
By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan.26 Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.”
27
Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.” Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.28
Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”29
Daar het 'n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe 'n spons vol suur wyn op 'n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou.30 Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”
Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.31
Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die sabbatdag aan die kruis moes bly nie, want daardie sabbatdag was 'n groot dag. Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene gebreek en die liggame weggevat moes word.32 Toe het die soldate gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die tweede een wat saam met Jesus gekruisig is.
33 Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie.
34 Maar een van die soldate het met 'n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom.
35
Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo.36 Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.”
37 En verder sê die Skrif op 'n ander plek: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.”
38
Hierna het Josef van Arimatea, wat 'n dissipel van Jesus was maar in die geheim, omdat hy vir die Jode bang was, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag neem. Pilatus het sy toestemming gegee. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem.39 Nikodemus, wat 'n keer in die nag na Jesus toe gekom het, het ook gekom en 'n mengsel van omtrent vyftig liter mirre en aalwyn gebring.
40 Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit met die geurolie behandel en in doeke toegedraai, soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir die begrafnis uit te lê.
41
By die plek waar Jesus gekruisig is, was daar 'n tuin en in die tuin 'n nuwe graf waarin daar nog niemand begrawe was nie.42 Daar het hulle Jesus begrawe, omdat die sabbatdag vir die Jode al amper aangebreek het en die graf daar naby was.
1
Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is.2 Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.”
3
Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan.4 Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom.
5 Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie.
6 Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê,
7 ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol.
8 Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo.
9
Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.10
Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan.11
Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk.12 Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was.
13 Hulle vra toe vir haar: “Mevrou, waarom huil jy?”
Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.”14
Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie.15 Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?”
Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.”16
Jesus het vir haar gesê: “Maria!” Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester.17
Jesus sê toe vir haar: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’ ”18
Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!” En sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.19
Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”20
Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.21
“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”22
Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees!23 As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”
24
Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie.25 Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”
Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”26
Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by hulle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!”27
Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”28
En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”29
Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”30
Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen.31 Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.
1
Daarna het Jesus weer aan sy dissipels verskyn, by die See van Tiberias. Dit het só gebeur:2
Simon Petrus en Tomas, wat ook Didimus genoem is, Natanael van Kana in Galilea, die seuns van Sebedeus en nog twee ander dissipels was daar saam.3 Simon Petrus sê toe vir hulle: “Ek gaan visvang.”
“Ons gaan ook saam met jou,” sê hulle vir hom. Hulle het gegaan en in die skuit geklim, maar daardie nag het hulle niks gevang nie.4
Toe dit al lig was, het Jesus daar op die strand gestaan, maar die dissipels het nie geweet dat dit Hy is nie.5 Jesus vra toe vir hulle: “Mense, het julle nie iets gevang om te eet nie?”
“Nee,” antwoord hulle Hom.6
Hy sê toe vir hulle: “Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry.” Hulle het die net toe daar uitgegooi, en vanweë die groot klomp vis kon hulle hom nie weer intrek nie.7
Die dissipel vir wie Jesus baie lief was, sê toe vir Petrus: “Dit is die Here!” Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy hemp aangetrek — want sy bolyf was kaal — en in die water gespring.8 Hulle was nie ver van die land af nie, net omtrent honderd tree. Die ander dissipels het met die skuitjie gekom en die net met die visse gesleep.
9 Toe hulle aan land kom, sien hulle 'n vuur brand en 'n stuk vis daarop lê. Daar was brood ook.
10 Jesus sê toe vir hulle: “Bring van die vis wat julle nou net gevang het.”
11
Simon Petrus het toe in die skuit geklim en die net op die land getrek. Dit was vol groot visse, honderd drie en vyftig, en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie.12
Toe sê Jesus vir hulle: “Kom eet.” Nie een van die dissipels het sover gekom om vir Hom te vra: “Wie is U?” nie. Hulle het geweet dat dit die Here is.13 Jesus kom toe, neem die brood en gee dit vir hulle, en net so ook die vis.
14
Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is.15
Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my lammers wei.”16
Jesus vra hom weer 'n tweede keer: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Pas my skape op.”17
Jesus vra hom die derde keer: “Simon seun van Johannes, het jy My lief?” Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het: “Het jy My lief?”, en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my skape wei.18 Dit verseker Ek jou: Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie.”
19
Dit het Jesus gesê en daarmee aangedui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik. Daarna sê Hy vir hom: “Volg My!”20
Toe Petrus omdraai, sien hy die dissipel volg vir wie Jesus baie lief was, wat ook by die maaltyd na Jesus se kant toe oorgeleun en gevra het: “Here, wie is u verraaier?”21 Toe Petrus hom dan sien, vra Petrus vir Jesus: “Here, en wat van hom?”
22
Jesus antwoord hom: “As Ek wil hê dat hy in die lewe moet bly totdat Ek weer kom, is dit nie jou saak nie. Volg jy My!”23
Die gerug het toe onder die broers versprei dat daardie dissipel nie sal sterwe nie. Jesus het egter nie vir Petrus gesê dat daardie dissipel nie sal sterwe nie, maar: “As Ek wil hê dat hy in die lewe moet bly totdat Ek weer kom, is dit nie jou saak nie.”24
Dit is die dissipel wat oor al hierdie dinge getuienis aflê en dit beskrywe het, en ons weet dat sy getuienis waar is.25
Daar is nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.