1
Hooggeagte Teofilus! Daar is baie wat onderneem het om 'n verhaal te skrywe van die dinge wat onder ons gebeur het.2 Hulle het dit opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was.
3 Daarom het ek dit ook goedgedink om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek en die verhaal noukeurig in die regte volgorde vir u neer te skryf.
4 So kan u te wete kom dat die dinge waaroor u onderrig is, heeltemal betroubaar is.
5
In die tyd van koning Herodes van Judea was daar 'n priester met die naam Sagaria, uit die diensgroep van Abia. Ook sy vrou het van Aäron afgestam, en haar naam was Elisabet.6 Hulle was albei getrou aan die wet van God en het onberispelik al die gebooie en voorskrifte van die Here onderhou.
7 Hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was. Buitendien was albei reeds op ver gevorderde leeftyd.
8
Op 'n keer toe Sagaria in die beurt van sy diensgroep besig was om die priesterdiens voor God te verrig,9 is hy volgens die priesterlike gebruik deur die lot aangewys om in die tempel van die Here in te gaan en die wierook op die altaar te brand.
10 Terwyl die wierookoffer gebring is, was die hele volksmenigte buite besig om te bid.
11 Toe verskyn daar aan die regterkant van die wierookaltaar 'n engel van die Here aan hom.
12 Sagaria het geskrik toe hy hom daar sien staan en hy het baie bang geword,
13 maar die engel sê vir hom: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou 'n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem.
14 Hy sal 'n bron van blydskap en vreugde vir jou wees, en baie sal bly wees oor sy geboorte,
15 want hy sal groot wees in die oë van die Here. Wyn en bier sal hy glad nie drink nie, en reeds van sy geboorte af sal hy met die Heilige Gees vervul wees.
16 Hy sal baie uit die volk Israel laat terugkeer tot die Here hulle God.
17 En hy sal voor die Here uit gaan in dieselfde gees en krag as Elia, om vaders en kinders met mekaar te versoen, om ongehoorsames op die regte pad terug te bring en om so vir die koms van die Here 'n volk voor te berei.”
18
Toe sê Sagaria vir die engel: “Waaraan sal ek dit weet? Ek is 'n ou man, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd.”19
Die engel antwoord hom: “Ek is Gabriël, wat in diens van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie tyding vir jou te bring.20 Kyk, jy sal stom wees en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde, wat op die bestemde tyd vervul sal word, nie geglo het nie.”
21
Intussen het die volk vir Sagaria gestaan en wag en begin wonder waarom hy so lank in die tempel bly.22 Toe hy uitkom, kon hy nie met hulle praat nie. Hulle kom toe agter dat hy in die tempel 'n gesig gesien het. Hy het net aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly.
23 Toe die tyd van sy tempeldiens om was, het hy huis toe gegaan.
24
Na daardie tyd het sy vrou Elisabet swanger geword en haar vyf maande lank afgesonder. Sy het gesê:25 “Die Here het dit vir my gedoen. Nou het Hy na my omgesien om my smaad onder die mense weg te neem.”
26
In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na 'n maagd in Nasaret, 'n dorp in Galilea.27 Sy was verloof aan Josef, 'n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria.
28 Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.”
29
Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken.30 Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou.
31 Jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee.
32 Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee,
33 en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”
34
Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met 'n man gehad het nie?”35
Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God.36 Kyk, 'n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook 'n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand.
37 Niks is vir God onmoontlik nie.”
38
Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Toe het die engel van haar af weggegaan.39
Maria het haar sonder versuim gereed gemaak en haastig na 'n dorp in die bergstreek van Judea gegaan.40 Daar het sy in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet.
41 Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul
42 en het hard uitgeroep:
“Geseënd is jy onder die vroue43
Waaraan het ek dit te danke
dat die moeder van my Here
na my toe kom?
44
Kyk, net toe die geluid van jou groet
in my ore klink,
het die kindjie in my van vreugde beweeg.
45
Gelukkig is sy wat glo
dat in vervulling sal gaan
wat die Here vir haar gesê het!”
46
En Maria het gesê: “Ek besing die grootheid van die Here,47
ek juig oor God, my Verlosser,
48
omdat Hy na my
in my geringheid omgesien het.
Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem,
49
omdat Hy wat magtig is,
groot dinge aan my gedoen het.
Heilig is sy Naam!
50
Hy bewys ontferming
van geslag tot geslag
aan dié wat Hom eer.
51
Kragtige dade het Hy met sy arm verrig:
hoogmoediges in hulle eiewaan
het Hy uitmekaargejaag;
52
maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog;
53
behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes
en rykes met leë hande weggestuur.
54
Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom
deur te dink aan sy beloftes van ontferming
55
soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders,
aan Abraham en sy nageslag
tot in ewigheid.”
56
Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe.57
Toe die tyd gekom het dat Elisabet se kind gebore moes word, het sy 'n seun in die wêreld gebring.58 Haar bure en familie het gehoor dat die Here aan haar groot ontferming bewys het, en hulle was saam met haar bly.
59
Op die agste dag het hulle gekom om die kindjie te besny, en hulle wou hom Sagaria noem na sy pa.60 Maar sy ma het gesê: “Nee! Hy moet Johannes genoem word.”
61
Hulle sê vir haar: “Daar is niemand in jou familie wat die naam het nie!”62
Met gebare vra hulle toe sy pa hoe hy wil hê dat die kindjie genoem moet word.63 Hy vra toe 'n skryfbordjie en skryf daarop: “Johannes is sy naam.” En almal was verbaas.
64 Onmiddellik het Sagaria sy spraak teruggekry en begin praat en God geprys.
65
Almal wat rondom hulle gewoon het, is met ontsag vervul, en in die hele bergstreek van Judea is daar baie gepraat oor al hierdie dinge.66 Almal wat dit gehoor het, het daaroor nagedink en gevra: “Wat sal hierdie kindjie eendag word?”
Dit was duidelik dat die Here by hom was.67
Sagaria, die kindjie se pa, is met die Heilige Gees vervul en het as profeet gesê:68
“Lofwaardig is die Here, die God van Israel,
want Hy het sy volk in genade opgesoek
en vir hulle verlossing bewerk.
69
'n Sterk Verlosser het Hy vir ons laat opstaan
uit die huis van sy dienaar Dawid.
70
So het die Here dit reeds
van oudsher belowe
deur die mond van sy heilige profete:
71
om ons te verlos van ons vyande
en uit die hand van al ons haters;
72
om Hom te ontferm oor ons voorvaders
en sy heilige verbond te onthou.
73
Met 'n eed het Hy dit bevestig
aan ons voorvader Abraham
dat Hy sou gee dat ons,
74
gered uit die hand van vyande,
Hom onbevrees kan dien
75
in vroomheid en opregtheid
al die dae van ons lewe.
76
“En jy, kindjie,77
om kennis van verlossing
aan sy volk mee te deel:
verlossing deur vergifnis van hulle sondes,
78
danksy die genadige ontferming van ons God.
Soos die môreson sal Hy opgaan
en uit die hoogte op ons afstraal,
79
om lig te bring aan dié wat in duisternis
en in die skaduwee van die dood lewe,
om ons voetstappe te rig
op die pad van vrede.”
80
Die kindjie het opgegroei en sterk geword deur die Gees en het in die woestyn gebly tot op die dag van sy openbare verskyning in Israel.1
In daardie tyd het keiser Augustus 'n bevel uitgevaardig dat 'n volkstelling in die hele ryk gehou moet word.2 Hierdie eerste volkstelling het plaasgevind toe Sirenius goewerneur was in die provinsie Sirië.
3 Almal het gegaan om hulle te laat inskryf, elkeen na sy eie stad toe.
4
Ook Josef het gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea toe gegaan, na Betlehem, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het.5 Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word.
6 Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word.
7 Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.
8
Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het.9 Meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik.
10 Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.
11 Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!
12 En dit is vir julle die teken: julle sal 'n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in 'n krip lê.”
13
Skielik was daar saam met die engel 'n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê:14
“Eer aan God in die hoogste hemel,
en vrede op aarde
vir die mense in wie Hy 'n welbehae het!”
15
Nadat die engele van hulle af weggegaan het na die hemel toe, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan reguit Betlehem toe om te sien wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het.”16
Hulle gaan toe haastig daarheen en kry vir Maria en Josef, en die Kindjie wat in die krip lê.17 Toe hulle Hom sien, het hulle vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is.
18 Almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters hulle vertel het.
19 Maria het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink.
20 Die skaapwagters het toe teruggegaan terwyl hulle God loof en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Dit was alles net soos dit vir hulle gesê is.
21
Ag dae later, toe dit tyd was om die Kindjie te besny, het Hy die naam Jesus gekry, die naam wat deur die engel genoem is nog voordat Hy in die moederskoot ontvang is.22
Toe die reinigingstyd soos deur die wet van Moses bepaal, vir hulle verby was, het hulle Hom na Jerusalem toe gebring om Hom tot beskikking van die Here te stel.23 In die wet van die Here staan immers geskrywe: “Elke eersteling van die manlike geslag moet vir die Here afgesonder word.”
24 Hulle het ook die reinigingsoffer gebring volgens die voorskrif in die wet van die Here, naamlik “'n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.”
25
Daar het destyds 'n man met die naam Simeon in Jerusalem gewoon. Hy was getrou aan die wet en vroom, en het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees was op Simeon26 en het aan hom bekend gemaak dat hy nie sou sterwe voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie.
27 Deur die Gees gelei, het hy opgegaan na die tempel toe. Toe die ouers die Kindjie Jesus bring om vir Hom die gebruiklike bepaling van die wet na te kom,
28 het Simeon Hom in sy arms geneem en God geprys en gesê:
29
“Here, laat u dienaar nou
in vrede gaan volgens u woord,
30
omdat my oë u verlossing gesien het
31
wat U gereed gemaak het
voor die oë van al die volke:
32
'n lig tot verligting van die nasies
en tot eer van u volk Israel.”
33
Sy vader en moeder was verwonderd oor die dinge wat van Hom gesê is.34
Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat weerspreek sal word.35 So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom. En wat jou betref, 'n swaard sal deur jou siel gaan.”
36
Daar was ook 'n profetes, Anna, 'n dogter van Fanuel uit die stam Aser. Sy was al baie oud. As jong vrou was sy sewe jaar getroud, en na haar man se dood37 het sy weduwee gebly. Sy was nou al vier en tagtig jaar oud. Sy het nie van die tempel af weggebly nie en het God dag en nag gedien deur te vas en te bid.
38 Juis op daardie oomblik het sy nader gekom en God gedank en oor die Kindjie gepraat met almal wat na die verlossing van Jerusalem uitgesien het.
39
Toe Josef-hulle alles nagekom het wat die wet van die Here voorskryf, het hulle na Galilea toe teruggegaan, na hulle eie dorp, Nasaret.40 Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom.
41
Jesus se ouers het elke jaar vir die paasfees Jerusalem toe gegaan.42 Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle weer soos gebruiklik daarheen gegaan vir die fees.
43 En toe die feesdae verby was, het sy ouers die terugreis begin, maar die Kind Jesus het in Jerusalem gebly sonder dat hulle dit geweet het.
44 Omdat hulle gedink het Hy is by die reisgeselskap, het hulle 'n dag lank gereis voordat hulle Hom onder die familie en bekendes begin soek het.
45 Toe hulle Hom nie kry nie, het hulle omgedraai na Jerusalem toe op soek na Hom.
46 Na drie dae het hulle Hom by die tempel gekry waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en hulle uitvra.
47 Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en sy antwoorde.
48 Toe sy ouers Hom sien, was hulle verslae, en sy moeder sê vir Hom: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.”
49
Maar Hy antwoord hulle: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?”50
Hulle het nie begryp wat Hy daarmee bedoel het nie.51
Hy het toe saam met hulle na Nasaret toe teruggegaan, en Hy was aan hulle onderdanig. Sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar.52
En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem.1
Dit was die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius. Pontius Pilatus was goewerneur van Judea, en Herodes heerser van Galilea. Sy broer Filippus was heerser van Iturea en Tragonitis, en Lisanias heerser van Abilene. Annas en Kajafas was die hoëpriesters.2
In daardie tyd het die woord van God tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gekom.3 Hy het deur die hele Jordaanstreek gegaan en verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe.
4 So staan dit geskrywe in die boek van die profeet Jesaja:
“Iemand roep in die woestyn:5
Elke kloof moet opgevul en elke berg en bult platgemaak word;
die krom paaie moet reguit en die ruwe paaie gelyk word.
6
En al die mense sal die verlossing sien wat van God kom.”
7
Die mense het in groot getalle uitgegaan om deur Johannes gedoop te word. Hy het vir hulle gesê: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug?8 Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek.
9 Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”
10
Die mense vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?”11
Hy antwoord hulle: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”12
Daar kom toe ook tollenaars om gedoop te word en hulle sê vir hom: “Meneer, wat moet ons doen?”13
En vir hulle sê hy: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie.”14
Ook soldate het hom uitgevra: “En ons, wat moet ons doen?” Hy antwoord hulle: “Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling.”15
Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie.16 Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.
17 Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.”
18
Ook oor baie ander dinge het hy dikwels die volk vermaan en die goeie boodskap aan hulle verkondig.19
Hy het ook vir Herodes, die heerser, tereggewys oor Herodias, die vrou van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodes gedoen het.20 Maar Herodes het nog verder gegaan en Johannes in die tronk opgesluit.
21
Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan22 en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos 'n duif op Hom neergedaal. Daar was ook 'n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”
23
Toe Jesus met sy werk begin het, was Hy omtrent dertig jaar oud. Hy was, soos hulle gemeen het, die seun van Josef. Josef was die seun van Eli,24 seun van Mattat, seun van Levi, seun van Melgi, seun van Jannai, seun van Josef,
25 seun van Mattatias, seun van Amos, seun van Nahum, seun van Hesli, seun van Naggai,
26 seun van Mahat, seun van Mattatias, seun van Semeïn, seun van Josek, seun van Joda,
27 seun van Johanan, seun van Resa, seun van Serubbabel, seun van Sealtiël, seun van Neri,
28 seun van Melgi, seun van Addi, seun van Kosam, seun van Elmadam, seun van Er,
29 seun van Josua, seun van Eliëser, seun van Jorim, seun van Mattat, seun van Levi,
30 seun van Simeon, seun van Juda, seun van Josef, seun van Jonam, seun van Eljakim,
31 seun van Melea, seun van Menna, seun van Mattata, seun van Natan, seun van Dawid,
32 seun van Isai, seun van Obed, seun van Boas, seun van Sala, seun van Nagson,
33 seun van Amminadab, seun van Admin, seun van Arni, seun van Gesron, seun van Peres, seun van Juda,
34 seun van Jakob, seun van Isak, seun van Abraham, seun van Tera, seun van Nahor,
35 seun van Serug, seun van Rehu, seun van Peleg, seun van Heber, seun van Sala,
36 seun van Kenan, seun van Arpagsad, seun van Sem, seun van Noag, seun van Lameg,
37 seun van Metusalag, seun van Henog, seun van Jered, seun van Mahalalel, seun van Kenan,
38 seun van Enos, seun van Set, seun van Adam, die seun van God.
1
Jesus het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekom, en deur die Gees is Hy na die woestyn toe gelei,2 waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is. Die hele tyd het Hy niks geëet nie, sodat Hy aan die einde daarvan honger was.
3
Die duiwel sê toe vir Hom: “As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.”4
Maar Jesus antwoord hom: “Daar is geskrywe: 'n Mens leef nie net van brood nie. ”5
Daarna bring die duiwel Hom op 'n hoogte en wys Hom in 'n oogwink al die koninkryke van die wêreld.6 Toe sê die duiwel vir Hom: “Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil.
7 Dit sal alles aan U behoort as U maar net voor my buig en my aanbid.”
8
Daarop antwoord Jesus: “Daar staan geskrywe: “Die Here jou God moet jy aanbid9
Hierna neem die duiwel Hom na Jerusalem toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan, en sê:10 “As U die Seun van God is, spring hier af! Daar staan mos geskrywe:
“Hy sal sy engele opdrag gee11
“en ook: “Op hulle hande sal hulle jou dra12
Maar Jesus antwoord hom: “Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie. ”13
Nadat die duiwel met al die versoekings klaar was, het hy Jesus 'n tyd lank met rus gelaat.14
Jesus het na Galilea toe teruggegaan vol van die krag van die Gees, en berigte oor Hom het deur die hele omgewing versprei.15 Hy het die mense in die sinagoges geleer, en almal het met lof van Hom gepraat.
16
Hy het ook in Nasaret gekom, waar Hy grootgeword het, en soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Skrif voor te lees,17 is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan:
18
“Die Gees van die Here is op My
omdat Hy My gesalf het
om die evangelie aan armes te verkondig.
Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur,
19
om die genadejaar van die Here aan te kondig.”
20
Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het, het Hy gaan sit. Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig.21 Toe begin Hy hulle toespreek: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.”
22
Almal het hulle instemming met Hom betuig en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond. En hulle sê: “Is hy dan nie die seun van Josef nie?”23
Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal seker die spreekwoord aan My wil voorhou: ‘Geneesheer, genees jouself’ en vir My sê: ‘Ons het gehoor wat alles in Kapernaum gebeur het. Doen nou dieselfde dinge ook hier waar jy grootgeword het.’24 Maar dit verseker Ek julle,” sê Hy verder, “geen profeet word in die plek waar hy grootgeword het, aanvaar nie.
25 Ek sê vir julle die waarheid: Daar was baie weduwees in Israel in die tyd van Elia toe die hemel drie jaar en ses maande lank toegesluit was, sodat daar 'n groot hongersnood in die hele land gekom het.
26 Tog is Elia nie na een van hulle toe gestuur nie, maar wel na 'n weduwee in Sarfat in die gebied van Sidon.
27 En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van die profeet Elisa. Tog is nie een van hulle genees nie, maar wel Naäman, die Siriër.”
28
Almal in die sinagoge was woedend toe hulle hierdie dinge hoor.29 Hulle het opgespring, Hom uit die dorp uitgejaag en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom van die krans af te gooi.
30 Maar Jesus het tussen hulle deur geloop en weggegaan.
31
Daarna het Hy na Kapernaum toe gegaan, 'n dorp in Galilea, en die mense gereeld op die sabbatdag geleer.32 Hulle was verbaas oor sy leer, want Hy het met gesag gepraat.
33
In die sinagoge was daar 'n man wat in die mag was van 'n bose, onrein gees, en hy het hard geskreeu:34 “Ha! Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet wie U is: U is die Heilige van God!”
35
Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit!” En die bose gees het die man tussen die mense laat neerslaan en uit hom uitgegaan sonder om hom seer te maak.36 Almal was baie verbaas, en hulle raak aan die praat en vra vir mekaar: “Wat vir 'n woord is dit dat hy met gesag en mag die onrein geeste gebied, en hulle gaan uit?”
37
En berigte oor Hom het na elke plek in die omgewing versprei.38
Toe Jesus die sinagoge verlaat, het Hy na die huis van Simon toe gegaan. Die skoonmoeder van Simon het siek gelê met 'n hewige koors, en hulle het Hom gevra om iets vir haar te doen.39 Hy het by die koppenent van die bed gaan staan en die koors bestraf. Dit het haar verlaat, en sy het onmiddellik opgestaan en hulle bedien.
40
Met sononder het almal hulle siekes, wat aan allerhande kwale gely het, na Hom toe gebring. Hy het hulle een vir een die hande opgelê en hulle gesond gemaak.41 Ook bose geeste het uit baie uitgegaan terwyl hulle skreeu: “U is die Seun van God!” En Jesus het hulle skerp aangespreek en hulle nie toegelaat om sulke dinge te sê nie, omdat hulle geweet het dat Hy die Christus is.
42
Teen dagbreek het Hy uitgegaan en na 'n eensame plek toe vertrek. Die mense het Hom begin soek, en toe hulle by Hom uitkom, het hulle Hom probeer beweeg om nie van hulle af weg te gaan nie.43 Maar Hy het vir hulle gesê: “Ek moet ook aan die ander dorpe die evangelie van die koninkryk van God verkondig, want daarvoor is Ek gestuur.”
44
En Hy het voortgegaan om in die sinagoges van die Joodse land te preek.1
Op 'n dag toe Jesus langs die Gennesaretmeer staan en die skare vorentoe beur om die woord van God te hoor,2 sien Hy twee skuite aan die kant van die meer lê. Die vissers het uitgeklim en was besig om die nette uit te spoel.
3 Jesus klim toe in een van die skuite, die een wat aan Simon behoort, en vra hom om dit 'n entjie van die oewer af weg te stoot. Nadat Hy gaan sit het, het Hy die skare van die skuit af geleer.
4
Toe Hy klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: “Vaar uit na die diep water toe en gooi julle nette uit om te vang.”5
“Meneer,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi.”6
En toe hulle dit doen, het hulle so 'n groot klomp vis gevang dat hulle nette wou skeur.7 Hulle wink toe vir hulle maats in die ander skuit om te kom help. Hulle het gekom en albei die skuite so vol gemaak dat hulle amper gesink het.
8
Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: “Gaan weg van my af, Here, want ek is 'n sondige mens.”9
Hy en almal wat saam met hom was, was stom verbaas oor die groot klomp vis wat hulle gevang het.10 Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus wat saam met Simon gewerk het, was net so verbaas. Toe sê Jesus vir Simon: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.”
11
En nadat hulle die skuite op die strand getrek het, het hulle alles net so laat lê en sy volgelinge geword.12
Eendag toe Jesus in een van die dorpe was, kom Hy 'n man teë wat oortrek was van die melaatsheid. Toe die man Hom sien, val hy op sy knieë voor Hom en smeek: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.”13
Jesus steek sy hand uit, raak hom aan en sê: “Ek wil. Word gesond!” En sy melaatsheid was onmiddellik weg.14
Toe gee Jesus hom opdrag: “Moet dit aan niemand vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring offers vir jou reiniging soos Moses voorgeskryf het. Dit sal vir die mense die bewys wees dat jy rein geword het.”15
Tog het die nuus oor Hom nog verder versprei, en groot menigtes het saamgedrom om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word.16 Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid.
17
Op een van dié dae, terwyl Jesus besig was om die mense te leer, het daar ook Fariseërs en leermeesters van die wet van Moses gesit wat van oral af uit die dorpe van Galilea en Judea en selfs uit Jerusalem gekom het. En die Here het vir Jesus die krag gegee om mense gesond te maak.18
Onverwags kom daar mense met 'n verlamde man op 'n draagbaar aan, en hulle probeer om hom die huis in te bring en voor Jesus neer te sit.19 Toe hulle vanweë die gedrang nie kans sien om hom in te bring nie, klim hulle op die dak en laat hom met draagbaar en al deur 'n opening tussen die dakteëls afsak tussen die mense in en vlak voor Jesus.
20 Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: “Mens, jou sondes is jou vergewe.”
21
Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het hulle begin afvra: “Wie is hy dat hy so godslasterlik praat? Wie anders kan sondes vergewe as net God alleen?”22
Maar Jesus het hulle redeneringe gemerk en vir hulle gesê: “Wat redeneer julle by julleself?23 Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes is jou vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’?
24 Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe.”
Toe sê Hy vir die verlamde man: “Ek sê vir jou: Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.”25
Onmiddellik het hy voor hulle oë opgestaan, die draagbaar waarop hy gelê het, gevat en terwyl hy God prys, huis toe gegaan.26 Almal het verbaas gestaan en God geprys en vol eerbiedige vrees gesê: “Vandag het ons ongelooflike dinge gesien.”
27
Daarna het Jesus uitgegaan en 'n tollenaar met die naam Levi by sy tolhuis sien sit, en Hy sê vir hom: “Volg My.”28
Hy het alles net so laat lê en opgestaan en Jesus gevolg.29
Levi het 'n groot feesmaal in sy huis gehou ter ere van Jesus, en 'n groot aantal tollenaars en ander mense het saam met hulle aangesit.30 Die Fariseërs, en veral die skrifgeleerdes onder hulle, het by sy dissipels gekla en gesê: “Waarom eet en drink julle saam met tollenaars en sondaars?”
31
Toe antwoord Jesus hulle: “Dié wat gesond is, het nie 'n dokter nodig nie, maar dié wat siek is.32 Ek het nie gekom om mense wat op die regte pad is, tot bekering te roep nie, maar sondaars.”
33
Die mense sê toe vir Jesus: “Die volgelinge van Johannes vas dikwels en onderhou gereelde gebedstye, en so ook die volgelinge van die Fariseërs, en u dissipels eet en drink maar.”34
Toe sê Jesus vir hulle: “Kan julle dan die bruilofsgaste laat vas terwyl die bruidegom by hulle is?35 Daar sal 'n tyd kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word en dan, in daardie dae, sal hulle vas.”
36
Hy vertel hulle ook nog 'n gelykenis: “Niemand skeur 'n stuk uit nuwe klere om daarmee ou klere te lap nie. As hy dit sou doen, sou die nuwe klere stukkend wees, en buitendien sal die nuwe lap nie by die ou klere pas nie.37
“En niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie. As hy dit sou doen, sal die nuwe wyn die velsakke laat oopbars. Dan is die wyn vermors en die sakke daarmee heen.38 Nee, nuwe wyn moet in nuwe velsakke gegooi word.
39
“En niemand wat ou wyn gedrink het, wil nuwe wyn hê nie, want hy sê: Die oue is goed.”1
Eenkeer het Jesus op 'n sabbatdag deur gesaaides geloop. Sy dissipels het are gepluk en dit met die hande uitgevrywe en geëet.2 Toe sê 'n paar van die Fariseërs: “Waarom doen julle iets wat op die sabbatdag nie gedoen mag word nie?”
3
Jesus antwoord hulle: “Het julle dan nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger gekry het nie?4 Hy het die huis van God binnegegaan en die offerbrode geneem en geëet en ook aan sy manne gegee. Tog is niemand behalwe die priesters toegelaat om daardie brood te eet nie.”
5
Verder sê Hy vir hulle: “Die Seun van die mens is Here oor die sabbat.”6
Op 'n ander sabbatdag het Jesus weer in die sinagoge ingegaan en die mense geleer. Daar was 'n man met 'n gebreklike regterhand.7 Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het vir Jesus dopgehou om te sien of Hy op die sabbatdag iemand sou gesond maak sodat hulle 'n aanklag teen Hom kon kry.
8 Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir die man met die gebreklike hand gesê: “Staan op en kom staan hier in die middel.” En hy het daar kom staan.
9
Toe sê Jesus vir hulle: “Nou vra Ek julle: Mag 'n mens op die sabbatdag goed doen of kwaad doen, iemand red of doodmaak?”10
Nadat Hy almal rondom Hom aangekyk het, sê Hy vir die man: “Steek jou hand uit.”11
Hy het dit gedoen, en sy hand was gesond. Maar hulle het rasend van woede geword en onder mekaar geredeneer oor wat hulle Jesus sou aandoen.12
In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God.13 Toe dit dag word, het Hy sy dissipels nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, wat Hy ook apostels genoem het.
14 Hulle was Simon, wat Hy ook Petrus genoem het, en sy broer Andreas, Jakobus en Johannes, Filippus en Bartolomeus,
15 Matteus en Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Simon die Seloot, Judas seun van Jakobus,
16 en Judas Iskariot wat die verraaier geword het.
17
Hy het saam met hulle van die berg afgekom en op 'n gelykte by 'n groot aantal volgelinge gaan staan. Van die hele Joodse land en Jerusalem en van die kusgebied van Tirus en Sidon af was daar 'n menigte mense18 wat gekom het om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word. Ook dié wat onder onrein geeste gely het, is gesond gemaak.
19 Al die mense het Hom probeer aanraak, omdat daar krag van Hom uitgegaan het en Hy almal gesond gemaak het.
20
Jesus het sy dissipels aangekyk en gesê: “Geseënd is julle wat arm is,21
Geseënd is julle wat nou honger het,
want julle sal versadig word.
Geseënd is julle wat nou huil,
want julle sal lag.
22
Geseënd is julle wanneer die mense julle haat
en julle verstoot en uitskel
en julle naam vermy soos iets wat sleg is,
alles ter wille van
die Seun van die mens.
23
Wees bly op daardie dag
en spring rond van vreugde,
want vir julle is daar
groot beloning in die hemel.
Hulle voorvaders het immers
met die profete net so gemaak.
24
“Maar ellende wag vir julle wat ryk is,25
Ellende wag vir julle wat julle nou vol eet,
want julle sal honger ly.
Ellende wag vir julle wat nou lag,
want julle sal treur en huil.
26
Ellende wag vir julle
as al die mense goed van julle praat.
Hulle voorvaders het immers
met die vals profete net so gemaak.”
27
“Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word;28 seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word.
29 As iemand jou op die een wang slaan, bied hom ook die ander een aan. En vir iemand wat jou boklere vat, moet jy ook jou onderklere nie weier nie.
30 Aan elkeen wat iets vra, moet jy gee; en as iemand jou goed vat, moet jy dit nie terugeis nie.
31 Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.
32
“As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Ook die sondaars het net dié lief wat vir hulle liefhet.33 En as julle goed doen net aan dié wat aan julle goed doen, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Die sondaars maak maar net so.
34 En as julle geld leen net aan dié van wie julle hoop om dit terug te kry, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar dieselfde bedrag kan terugkry.
35 Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle 'n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes.
36 Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.”
37
“Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie.
Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie.
Spreek vry, en julle sal vrygespreek word.
38
Gee, en vir julle sal gegee word:
'n goeie maat,
ingestamp, geskud en propvol,
sal hulle in julle hande gee.
Met die maat waarmee julle meet,
sal ook vir julle gemeet word.”
39
Hy het ook met beeldspraak vir hulle gesê: “Kan 'n blinde miskien 'n ander blinde lei? Sal hulle nie altwee in 'n sloot val nie?40 'n Leerling is nie hoër as sy leermeester nie, maar iemand wat volleerd is, sal aan sy leermeester gelyk wees.
41
“Waarom sien jy die splinter raak in die oog van jou broer, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?42 Jy wat die balk in jou eie oog nie raaksien nie, hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Broer, laat my toe om die splinter in jou oog uit te haal’? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter in jou broer se oog uit te haal.”
43
“Dit is nie die goeie boom wat slegte vrugte dra nie, en ook nie die slegte boom wat goeie vrugte dra nie.44 Elke boom word aan sy eie vrugte geken. Van doringstruike pluk 'n mens mos nie vye nie, en van 'n doringbos oes jy ook nie druiwe nie.
45 Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.”
46
“Watter sin het dit dat julle My aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie?47 Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en doen wat Ek sê — Ek sal vir julle verduidelik soos wie hy is:
48 Hy is soos 'n man wat by die bou van sy huis die grond diep uitgegrawe en die fondament op die rotsbodem gelê het. Toe daar 'n oorstroming kom en die vloedwater die huis tref, kon dit hom nie beweeg nie, want die huis was goed gebou.
49 Maar as iemand luister en nie doen wat Ek sê nie, is hy soos 'n man wat sy huis bo-op die grond gebou het sonder 'n fondament. Toe die vloedwater dit tref, het dit dadelik ingestort, en daardie huis het een groot puinhoop geword.”
1
Nadat Jesus die gehoor klaar toegespreek het, het Hy na Kapernaum toe gegaan.2
'n Offisier daar het 'n slaaf gehad wat vir hom baie werd was, en die slaaf was siek en het op sterwe gelê.3 Die offisier het van Jesus gehoor, en stuur toe 'n paar familiehoofde van die Jode na Hom toe om te vra dat Hy moet kom om sy slaaf gesond te maak.
4 Toe hulle by Jesus kom, het hulle ernstig by Hom daarop aangedring en gesê: “Hy is dit werd dat U dit vir hom doen,
5 want hy het ons volk lief en het op eie koste die sinagoge vir ons gebou.”
6
Jesus het toe saam met hulle gegaan. Toe Hy nie meer ver van die huis af was nie, stuur die offisier 'n paar van sy vriende om vir Hom te sê: “Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie.7 Daarom het ek my ook nie waardig geag om self na U toe te gaan nie. Sê maar net 'n woord, en my slaaf is gesond.
8 Ek is self 'n man wat onder gesag gestel is en ek het soldate onder my. Vir een sê ek: ‘Gaan daarheen!’ en hy gaan; en vir 'n ander: ‘Kom!’ en hy kom. Vir my slaaf sê ek: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.”
9
Jesus was verwonderd toe Hy dit hoor. Hy draai toe om na die mense wat agter Hom aangekom het en sê: “Ek sê vir julle: In Israel het Ek nie so 'n groot geloof teëgekom nie.”10
En toe die mense wat gestuur was, weer by die huis kom, kry hulle die slaaf daar heeltemal gesond.11
Kort daarna het Jesus na 'n dorp met die naam Nain gegaan,12 en sy dissipels en 'n hele menigte mense is saam met Hom. Toe Hy naby die ingang van die dorp kom, word daar juis 'n dooie uitgedra om begrawe te word. Hy was die enigste seun van sy ma, en sy was 'n weduwee. Byna die hele dorp se mense was saam met haar.
13 Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: “Moenie huil nie!”
14
Hy gaan toe nader en vat aan die baar. Die draers gaan staan toe, en Hy sê: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op!”15
Die dooie het regop gaan sit en begin praat. En Jesus het hom aan sy ma teruggegee.16
Almal is met ontsag vervul en het God geprys deur te sê: “'n Groot profeet het onder ons opgestaan,” en “God het na sy volk omgesien.”17 Die berig oor wat Hy gedoen het, het deur die hele Joodse land en die omliggende gebied versprei.
18
Die volgelinge van Johannes het hom van al hierdie dinge vertel. Hy laat toe twee van sy volgelinge roep19 en stuur hulle na die Here toe om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?”
20
Toe die manne by Hom kom, sê hulle: “Johannes die Doper het ons na U toe gestuur om te vra: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?”21
Op daardie oomblik het Jesus juis baie mense gesond gemaak van siektes en kwale en bose geeste, en baie blindes het Hy laat sien.22 Sy antwoord aan die boodskappers was: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig.
23 En gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie.”
24
Nadat die boodskappers van Johannes vertrek het, het Jesus met die mense oor Johannes begin praat en gesê: “Waarna het julle in die woestyn gaan kyk? Na 'n riet wat deur die wind heen en weer gewaai word?25 Nee? Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, dié wat swierige klere dra en in weelde lewe, kry 'n mens in koninklike paleise.
26 Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek verseker julle, nog meer as 'n profeet.
27 Dit is hy van wie daar geskrywe staan:
“ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit;28
“Ek sê vir julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter as Johannes is nie, en tog is die geringste in die koninkryk van God groter as hy.”29
Al die mense, ook die tollenaars, het na hom geluister en was aan die wil van God gehoorsaam. Hulle het hulle met die doop van Johannes laat doop.30 Net die Fariseërs en die wetgeleerdes het die bedoeling van God verwerp en hulle nie deur Johannes laat doop nie.
31
Verder het Jesus gesê: “Waarmee sal Ek die mense van hierdie geslag vergelyk? Soos wie is hulle?32 Hulle is net soos kinders wat op die markplein sit en vir mekaar roep:
“Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie!33
“Johannes die Doper het gekom en nie brood geëet of wyn gedrink nie, en julle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’34 Die Seun van die mens het gekom, geëet en gedrink, en julle sê: ‘Kyk daar, 'n vraat en 'n wynsuiper, 'n vriend van tollenaars en sondaars.’
35 Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.”
36
Een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te kom eet. Hy het toe in die huis van die Fariseër ingegaan en aan tafel plek ingeneem.37
'n Sekere vrou in die dorp, wat 'n sondige lewe gelei het, het gehoor dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was. Sy bring toe 'n albaste flessie met reukolie38 en gaan staan agter Jesus by sy voete en huil, sodat haar trane op sy voete begin drup het. Daarna het sy sy voete met haar hare afgedroog, hulle gesoen en met die reukolie gesalf.
39
Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: “Hy, as hy 'n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy 'n sondares is.”40
Maar Jesus spreek hom aan en sê: “Simon, Ek het iets om vir jou te sê.” “Meneer, sê dit maar!” antwoord hy.41
Jesus sê toe: “Twee mense was in die skuld by 'n geldskieter. Die een het vyf honderd rand geskuld en die ander een vyftig.42 Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het hy die skuld vir albei kwytgeskeld. Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?”
43
Simon antwoord: “Ek veronderstel dié een vir wie hy die meeste kwytgeskeld het.” “Jou antwoord is heeltemal reg,” sê Jesus,44 en Hy draai na die vrou toe om en sê verder vir Simon: “Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom — en jy, water vir my voete het jy My nie gegee nie, maar sy, met haar trane het sy my voete natgemaak en met haar hare het sy dit afgedroog.
45 'n Soen het jy My nie gegee nie, maar sy het vandat sy hier ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie.
46 My kop het jy nie eens met olie gesalf nie; sy het my voete met reukolie gesalf.
47 Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.”
48
En Jesus sê vir haar: “Jou sondes is vergewe.”49
Toe begin dié wat saam aan tafel was, onder mekaar sê: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?”50
Maar Jesus sê vir die vrou: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”1
In die tyd wat nou gevolg het, het Jesus die land deurkruis van die een stad en dorp na die ander. Oral het Hy gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig. Die twaalf was saam met Hom2 en daarby 'n aantal vroue wat van bose geeste en siektes genees was. Daar was Maria, bekend as Magdalena, uit wie sewe bose geeste uitgegaan het,
3 en Johanna die vrou van Gusa, 'n hoë amptenaar van Herodes, en Susanna en baie ander. Hierdie vroue het uit eie middele vir Jesus en die twaalf gesorg.
4
Uit die verskillende dorpe het aanhoudend mense na Jesus toe gestroom, en toe 'n groot menigte saamgekom het, het Hy vir hulle 'n gelykenis vertel:5
“'n Saaier het uitgegaan om saad te saai. Met die saai het 'n deel op die pad geval, en dit is vertrap en die voëls het dit opgepik.6 'n Ander deel het op 'n klipbank geval, en nadat dit opgekom het, het dit verdroog, omdat dit geen vogtigheid gehad het nie.
7 Nog 'n ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het daarmee saam gegroei en dit laat verstik.
8 Daar was ook 'n deel wat in goeie grond geval het, en dit het opgekom en 'n honderdvoudige oes gelewer.”
Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!”9
Sy dissipels het Hom gevra wat die betekenis van hierdie gelykenis is.10 Hy het geantwoord: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van God te ken, maar vir die ander bly dit by gelykenisse sodat
“hulle kyk sonder om te sien11
“Die betekenis van die gelykenis is dit: Die saad is die woord van God.12 Dié wat op die pad val, dui op mense wat die woord hoor, maar dan kom die duiwel en neem dit uit hulle harte weg sodat hulle nie tot geloof kom en gered word nie.
13 Dié wat op die klipbank val, dui op hulle wat die woord met blydskap aanneem wanneer hulle dit hoor, maar dit skiet nie wortel nie. Hulle geloof hou net 'n tydjie. Die oomblik dat dit op die proef gestel word, gee hulle moed op.
14 Die saad wat tussen die onkruid val, dui op dié wat die woord hoor, maar deur die sorge en die rykdom en die genietinge van die lewe word dit gaandeweg verstik, en dit skiet nie saad nie.
15 Die deel wat in goeie grond val, dui op dié wat die woord met 'n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra.”
16
“Niemand steek 'n lamp op en maak dit dan met iets toe of sit dit onder 'n bed nie. Inteendeel, hy sit dit op 'n staander sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien.17 Daar is niks geheim wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en aan die lig sal kom nie.
18
“Pas dus op hoe julle luister, want wie het, vir hom sal daar nog meer gegee word, maar wie nie het nie, van hom sal ook wat hy dink dat hy het, weggevat word.”19
Die moeder en die broers van Jesus het na Hom toe gekom, maar vanweë die gedrang kon hulle nie tot by Hom kom nie.20 Iemand sê toe vir Hom: “U moeder en u broers staan buite en wil met U praat.”
21
Maar Jesus sê: “My moeder en my broers is dié wat na die woord van God luister en daarvolgens handel.”22
Op 'n dag het Jesus en sy dissipels in 'n skuit geklim en Hy het vir hulle gesê:23 “Kom ons gaan na die oorkant van die meer toe.”
Hulle vaar toe weg, en terwyl hulle seil, raak Jesus aan die slaap. 'n Hewige stormwind het op die meer losgebars en die skuit het vol water begin word sodat hulle in lewensgevaar was.24 Hulle gaan toe na Jesus toe en maak Hom wakker met die uitroep: “Meneer, Meneer, ons vergaan!”
Toe staan Hy op en bestraf die wind en die golwe.25 Hulle het bedaar, en daar het stilte gekom. Toe sê Jesus vir hulle: “Waar is julle geloof dan?”
Maar hulle was verskrik en verbaas en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog? Hy gee bevele aan wind en water, en hulle is aan Hom gehoorsaam!”26
Daarna het hulle verder gevaar na die land van die Geraseners, wat reg teenoor Galilea lê.27 Toe Jesus daar aan wal gaan, het 'n man van 'n dorp af Hom tegemoet gekom. Hy was van bose geeste besete en het 'n hele tyd al nie meer klere gedra nie en ook nie in 'n huis gebly nie, maar tussen grafte.
28 Toe hy Jesus sien, skreeu hy en val op sy knieë voor Hom neer terwyl hy hard uitroep: “Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God die Allerhoogste? Ek smeek U, moet my nie pynig nie!”
29
Dit het hy gesê omdat Jesus die onrein gees beveel het om uit die man uit te gaan. Dit was 'n bose gees wat hom al baiekeer beetgepak het. Al het hulle hom met hand- en voetboeie vasgemaak om hom in bedwang te hou, het hy die boeie uitmekaar geruk en is hy deur die bose gees die woestyn in gejaag.30
Toe vra Jesus hom: “Wat is jou naam?” “Legio,” antwoord hy, want daar het baie bose geeste in hom ingevaar.31 Hulle het Jesus gesmeek om hulle nie na die onderaardse diepte toe terug te stuur nie.
32
Daar het 'n hele trop varke teen die berg geloop. Die bose geeste het Jesus gesmeek om hulle toe te laat om in die varke in te vaar. Hy het hulle dit toegelaat,33 en die bose geeste het uit die man uitgegaan en in die varke ingevaar. Die trop sit toe op loop teen die hang af, die see in, en hulle versuip.
34
Toe die wagters sien wat gebeur het, hardloop hulle weg en gaan vertel dit in die dorp en op die plase.35 Die mense gaan kyk toe wat gebeur het. Hulle kom by Jesus en daar kry hulle die man uit wie die bose geeste uitgevaar het. Hy sit by die voete van Jesus, met klere aan en by sy volle verstand, en hulle het bang geword.
36 Maar dié wat dit gesien het, het vir hulle vertel hoe die besetene genees is.
37 Toe het al die inwoners van die gebied van die Geraseners vir Jesus gevra om van hulle af weg te gaan omdat hulle baie bang was. Hy het toe in die skuit geklim en teruggegaan.
38
Die man uit wie die bose geeste uitgevaar het, het Jesus gesmeek om by Hom te kan bly. Maar Jesus het hom weggestuur en gesê:39 “Gaan terug na jou huis toe en vertel alles wat God vir jou gedoen het.”
Hy het toe gegaan en die hele dorp deur bekend gemaak wat Jesus vir hom gedoen het.40
Toe Jesus van die oorkant af terugkom, het die mense Hom verwelkom, want almal was Hom te wagte.41 Skielik kom daar 'n man aan. Dit was Jaïrus, 'n raadslid van die sinagoge. Hy het op sy knieë voor Jesus se voete geval en Hom gesmeek om na sy huis toe te kom,
42 want sy enigste dogter het op sterwe gelê. Sy was omtrent twaalf jaar oud.
Op pad daarheen het die mense om Jesus saamgedrom.43 Onder hulle was 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy het alles wat sy gehad het aan dokters uitgegee, maar niemand kon haar gesond maak nie.
44 Sy het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. Jesus vra toe:
45 “Wie het My aangeraak?”
Toe almal ontken dat dit hulle is, sê Petrus: “Here, die mense dring tog rondom U saam en druk teen U.”46
Maar Jesus sê: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag van My uitgegaan het.”47
Toe die vrou sien Hy weet dit is sy, het sy van angs gebewe en voor Hom kom neerval. Daar voor al die mense vertel sy Hom toe waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het.48 Toe sê Hy: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede!”
49
Terwyl Hy nog praat, kom daar iemand van die raadslid van die sinagoge se huis af om te sê: “U dogter is al dood. Moenie nog ons Leermeester lastig val nie.”50
Maar Jesus het dit gehoor en sê vir hom: “Moet jou nie ontstel nie. Glo net, en sy sal gered word.”51
Toe Jesus by die huis kom, het Hy niemand toegelaat om saam met Hom in te gaan nie, behalwe Petrus, Johannes en Jakobus, en die kind se pa en ma.52 Die mense daar het almal gehuil en oor haar rou bedryf. Maar Jesus sê: “Moenie huil nie, want sy is nie dood nie, sy slaap net.”
53
Hulle het Hom uitgelag, want hulle was seker dat sy dood is.54 Maar Jesus het haar hand gevat en uitgeroep: “Dogtertjie, staan op!”
55
Haar lewe het teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan. Toe gee Jesus opdrag dat hulle vir haar iets te ete moet gee.56 Haar ouers was stom van verbasing, en Jesus het hulle verbied om vir iemand te vertel wat gebeur het.
1
Jesus het die twaalf bymekaargeroep en aan hulle mag en gesag gegee om alle bose geeste uit te dryf en siektes te genees.2 Toe het Hy hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak.
3 Hy het vir hulle gesê:
“Moet niks vir die pad saamvat nie, nie 'n kierie of 'n reissak of brood of geld of nog 'n kledingstuk nie.4 En as julle in 'n huis tuis gaan, bly dan in dieselfde huis totdat julle die reis voortsit.
5 As daar mense is wat julle nie wil ontvang nie, moet julle van so 'n plek af weggaan en die stof van julle voete afskud as aanklag teen hulle.”
6
Hulle het toe vertrek en van die een dorp na die ander gegaan om oral die evangelie te verkondig en siekes gesond te maak.7
Herodes, die heerser, het gehoor van al die dinge wat gebeur, en hy was in die war omdat party mense gesê het: “Johannes is uit die dood opgewek;”8 party: “Elia het verskyn,” en ander: “Een van die profete van die ou tyd het opgestaan.”
9
Maar Herodes het gesê: “Johannes het ek self laat onthoof. Maar wie is hierdie man van wie ek sulke dinge hoor?” En hy het geprobeer om Hom te sien te kry.10
Toe die apostels terugkom, het hulle Jesus alles vertel wat hulle gedoen het. Daarna het Hy hulle saamgeneem in die rigting van die dorp Betsaida waar hulle alleen kon wees.11 Maar die mense het dit te wete gekom en agter Hom aan gegaan. Hy het hulle verwelkom en met hulle gepraat oor die koninkryk van God, en dié wat genesing nodig gehad het, het Hy gesond gemaak.
12
Toe die son begin sak, kom die twaalf na Hom toe en sê: “Stuur die mense weg dat hulle by die dorpe en plase in die omtrek slaapplek en kos kan gaan soek, want ons is hier op 'n verlate plek.”13
“Gee julle vir hulle iets om te eet,” sê Hy toe vir hulle. Maar hulle antwoord: “Ons het hier niks meer as vyf brode en twee visse nie. Of moet ons self vir hierdie klomp mense gaan kos koop?”14
Net die mans bymekaar was al omtrent vyf duisend. Toe sê Jesus vir sy dissipels: “Laat die mense in groepe van sowat vyftig gaan sit om te eet.”15
Hulle het toe so gemaak en almal laat regsit.16 Daarna het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra. Toe breek Hy dit en gee dit vir die dissipels om aan die mense voor te sit.
17 Almal het geëet en genoeg gekry. Wat oorgebly het, het hulle bymekaargemaak, twaalf mandjies vol.
18
Op 'n keer terwyl Jesus eenkant besig was om te bid, het sy dissipels by Hom saamgekom. Toe vra Hy hulle: “Wie, sê die mense, is Ek?”19
Hulle antwoord: “Johannes die Doper; party sê weer: Elia, en party: 'n profeet van die ou tyd het opgestaan.”20
“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” Toe antwoord Petrus: “Die Gesalfde van God.”21
Jesus het hulle uitdruklik belet om dit vir ander mense te vertel,22 “want,” het Hy gesê, “die Seun van die mens moet baie ly, deur die familiehoofde, priesterhoofde en skrifgeleerdes verwerp word, en Hy moet doodgemaak word, en op die derde dag opgewek word.”
23
Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg,24 want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou.
25
“Wat help dit 'n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan?26 Elkeen wat hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom, beklee met sy heerlikheid en die heerlikheid van die Vader en van die heilige engele.
27 Ek sê vir julle die waarheid: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterf voordat hulle die koninkryk van God gesien het nie.”
28
Omtrent ag dae nadat Jesus hierdie woorde gesê het, het Hy vir Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem die berg op om te gaan bid.29 Terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy gesig anders geword en sy klere skitterend wit.
30 Skielik was daar twee manne wat met Hom praat. Dit was Moses en Elia.
31 Hulle het in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat oor sy uittog wat Hy in Jerusalem sou voltooi.
32
Petrus en die ander het intussen vas aan die slaap geraak, en toe hulle wakker word, sien hulle die hemelse glans van Jesus en ook die twee manne wat by Hom staan.33 Toe die manne aanstaltes maak om van Hom af weg te gaan, sê Petrus vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”
Hy het nie geweet wat hy sê nie.34
Terwyl hy nog praat, kom daar 'n wolk en gooi sy skaduwee oor hulle, en toe die wolk hulle insluit, het die dissipels bang geword.35 Daar kom toe 'n stem uit die wolk wat sê: “Dit is my Seun wat Ek uitverkies het. Luister na Hom.”
36
Toe die stem praat, merk hulle dat Jesus alleen daar is. Hulle het hieroor stilgebly en in daardie tyd vir niemand anders enigiets vertel van wat hulle gesien het nie.37
Die volgende dag, toe hulle die berg afkom, het 'n groot klomp mense Jesus tegemoet gekom.38 Meteens roep daar 'n man uit die skare: “Meneer, ek smeek U, kyk bietjie na my seun. Hy is my enigste kind.
39 'n Gees pak hom onverwags beet, dan gaan hy skielik aan die skreeu en hy kry stuiptrekkings en ook skuim om die mond. Die gees hou aan om hom te verniel en laat hom nie maklik weer los nie.
40 Ek het u dissipels gesmeek om die gees uit te dryf, maar hulle kon nie.”
41
Toe antwoord Jesus: “Ongelowige en ontaarde geslag! Hoe lank moet Ek nog by julle wees en julle verdra? Bring jou seun hier.”42
Terwyl die seun nog aankom, gooi die bose gees hom op die grond neer en laat hom hewige stuiptrekkings kry. Maar Jesus het die onrein gees skerp aangespreek, die kind gesond gemaak en hom aan sy pa teruggegee.43 Almal was verslae oor die grootheid van God.
44
Terwyl almal verbaas was oor alles wat Jesus gedoen het, sê Hy vir sy dissipels: “Wat julle betref, hou hierdie woorde goed in gedagte: Die Seun van die mens gaan in die hande van mense oorgelewer word.”45
Maar hulle het hierdie uitspraak nie verstaan nie. Die betekenis daarvan was vir hulle bedek sodat hulle dit nie kon begryp nie, maar hulle was te bang om Jesus daaroor uit te vra.46
Daar het 'n stryery onder hulle ontstaan oor wie van hulle die belangrikste is.47 Jesus het geweet met watter gedagtes hulle besig was, en Hy trek 'n kindjie nader om langs Hom te kom staan.
48 Toe sê Hy vir hulle: “Elkeen wat hierdie kindjie in my Naam ontvang, ontvang My, en elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Wie die minste onder julle almal is, hý is groot.”
49
Toe sê Johannes: “Here, ons het iemand gesien wat in u Naam bose geeste uitdryf, en ons het hom probeer keer omdat hy U nie saam met ons volg nie.”50
Maar Jesus sê vir hom: “Moet hom nie keer nie, want wie nie teen julle is nie, is vír julle.”51
Toe die tyd nader kom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin52 en boodskappers voor Hom uit gestuur. Hulle het vertrek en in 'n dorp van die Samaritane gekom om daar vir Hom verblyf te reël.
53 Maar die inwoners wou Hom nie ontvang nie, omdat Hy na Jerusalem toe op pad was.
54
Toe die twee dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?”55
Maar Hy het omgedraai en hulle skerp tereggewys.56 Daarna het hulle die reis voortgesit na 'n ander dorp toe.
57
Terwyl hulle op pad was, sê iemand vir Hom: “Ek sal U volg waar U ook al gaan.”58
Toe sê Jesus vir hom: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens 'n rusplek vir sy kop nie.”59
Aan 'n ander een sê Hy: “Volg My.” Maar hy antwoord: “Here, laat my toe om eers terug te gaan om my pa te begrawe.”60
Toe sê Jesus vir hom: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe, maar gaan verkondig jy die koninkryk van God.”61
Nog een het gesê: “Ek sal U volg, Here, maar laat my toe om eers my familie by die huis te gaan groet.”62
Toe sê Jesus: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.”1
Daarna het die Here twee en sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke dorp en plek waarheen Hy van plan was om te gaan.2 Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.
3 Gaan nou! Maar onthou: Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in.
4
“Moenie 'n beurs of 'n reissak of skoene saamdra nie, en moenie langs die pad met groetery tyd verkwis nie.5 As julle in 'n huis kom, moet julle eerste woorde wees: ‘Vrede vir hierdie huis.’
6 As daar iemand woon vir wie die vrede bestem is, sal die vrede op hom bly; so nie, sal dit na julle toe terugkom.
7 Moenie van een huis na die ander trek nie, maar bly in dieselfde huis, eet en drink wat hulle voorhande het, want die arbeider is geregtig op sy loon.
8 As julle in 'n dorp kom en hulle ontvang julle, eet dan wat hulle vir julle voorsit.
9 Maak die siekes daar gesond en sê vir die mense: ‘Vir julle is die koninkryk van God baie naby!’
10 Maar as julle in 'n dorp kom en hulle ontvang julle nie, gaan dan uit in sy strate en sê:
11 ‘Selfs julle dorp se stof wat aan ons voete sit, vee ons af as aanklag teen julle. Maar dit moet julle weet: die koninkryk van God is baie naby.’
12 Ek sê vir julle: Vir die mense van Sodom sal dit op dié dag draagliker wees as vir daardie dorp.
13
“Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het.14 Maar vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeel draagliker wees as vir julle.
15 En jy, Kapernaum, dink jy jý sal tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal tot in die doderyk afdaal!
16
“Wie na julle luister, luister na My; wie vir julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.”17
Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: “Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam.”18
Toe sê Hy vir hulle: “Ek het die Satan soos 'n weerligstraal uit die hemel sien val.19 Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen.
20 En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is.”
21
By daardie selfde geleentheid het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.22
“My Vader het alles aan My toevertrou. Niemand weet wie die Seun is nie behalwe die Vader, en wie die Vader is nie behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil bekend maak.”23
Toe draai Jesus Hom na sy dissipels afsonderlik en sê vir hulle: “Hoe bevoorreg is die oë wat sien wat julle sien,24 want Ek sê vir julle: Baie profete en konings het daarna verlang om te sien wat julle nou sien, en hulle het dit nie gesien nie; en om te hoor wat julle nou hoor, en hulle het dit nie gehoor nie.”
25
Daar was 'n wetgeleerde wat aan Jesus 'n strikvraag wou stel. Hy staan toe op en vra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”26
Jesus sê vir hom: “Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?”27
Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”28
“Jy het reg geantwoord,” sê Jesus vir hom. “Doen dit en jy sal die lewe verkry.”29
Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf en vra vir Jesus: “En wie is my naaste?”30
Jesus gaan toe nader daarop in deur te sê: “Toe 'n man eenmaal op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee.31 Dit gebeur toe dat daar 'n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby.
32 Net so het daar ook 'n Leviet by die plek gekom, en toe hy hom sien, gaan hy ook ver langs verby.
33 Maar 'n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.
34 Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind. Toe het hy hom op sy rydier gehelp en hom na 'n herberg toe geneem en hom daar verder versorg.
35 Die volgende dag haal hy twee muntstukke uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê: ‘Sorg vir hom, en as jy meer onkoste met hom het, sal ek jou betaal wanneer ek hierlangs terugkom.’
36
“Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat onder die rowers verval het?”37
Die wetgeleerde antwoord: “Die man wat aan hom medelye bewys het.” Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”38
Op hulle reis het Jesus in 'n dorp gekom waar 'n vrou, Marta, Hom as gas ontvang het.39 Sy het 'n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het.
40 Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!”
41
Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge,42 maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”
1
Jesus was êrens op 'n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.”2
En Hy sê vir hulle: “Wanneer julle bid, sê dan: “Vader, laat u Naam geheilig word;3
Gee ons elke dag ons daaglikse brood;
4
en vergeef ons ons sondes,
want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree;
en laat ons nie in versoeking kom nie.”
5
Verder sê Hy vir hulle: “Sê nou een van julle het 'n vriend, en jy gaan in die middel van die nag na hom toe en jy vra: ‘Vriend, leen my bietjie drie brode,6 want 'n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom, en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’
7 En die ander antwoord van binne af: ‘Moet my nie lastig val nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kinders is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie ...’
8 Ek sê vir julle: Al sou hy nie opstaan en dit vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en hom alles gee wat hy nodig het, omdat hy hom nie skaam om aan te hou vra nie.
9
“Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word.10 Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.
11 Is daar 'n pa onder julle wat as sy seun vir hom 'n vis vra, vir hom 'n slang sal gee in plaas van die vis?
12 Of as hy 'n eier vra, vir hom 'n skerpioen sal gee?
13 As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee — die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”
14
Jesus het op 'n keer 'n bose gees uitgedryf uit iemand wat nie kon praat nie. Net nadat die bose gees uitgegaan het, het die stom man begin praat. Die mense het hulle verwonder,15 maar party van hulle het gesê: “Dit is met die hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die bose geeste, dat hy geeste uitdrywe.”
16 Ander wou Hom op die proef stel deur van Hom 'n wonderteken uit die hemel te vra.
17
Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat onderling verdeeld is, gaan te gronde, en 'n huisgesin wat onderling verdeeld is, spat uitmekaar.18 As die Satan dan teen homself verdeeld is, hoe kan sy ryk bly staan? Julle sê mos Ek dryf bose geeste uit met die hulp van Beëlsebul.
19 As Ek wel deur Beëlsebul bose geeste uitdryf, met wie se hulp doen julle eie volgelinge dit dan? Dus, hulle bewys self dat julle verkeerd is.
20 Aangesien Ek dus deur die vinger van God bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom.
21
“Wanneer 'n sterk man hom goed bewapen en sy huis bewaak, is al sy besittings veilig.22 Maar as daar een kom wat sterker as hy is en hom oorwin, neem hy al die wapens af waarop hy hom verlaat het, en hy verdeel sy besittings as buit.
23
“Wie nie aan my kant is nie, is teen My. En wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar.”24
“Wanneer 'n onrein gees uit 'n mens uitgaan, swerf hy deur dor streke op soek na 'n rusplek. As hy dit nie kry nie, sê hy: ‘Ek gaan terug na my huis toe waar ek uitgegaan het.’25 Hy kom dan terug en kry dit skoon en aan die kant.
26 Dan gaan haal hy sewe ander geeste, nog slegter as hy self, en hulle trek in en gaan woon daar. Aan die einde is so 'n man slegter daaraan toe as aan die begin.”
27
Terwyl Jesus nog besig was om te praat, het 'n vrou uit die menigte hardop uitgeroep en vir Hom gesê: “Hoe bevoorreg is die vrou wat U in haar liggaam gedra en aan haar bors gevoed het!”28
Maar Hy sê: “Nog meer bevoorreg is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou.”29
Toe die mense aanhou saamdrom, het Jesus hulle begin toespreek en gesê: “Die mense van hierdie tyd is 'n verdorwe geslag. Hulle vra 'n wonderteken, maar daar sal geen teken aan hulle gegee word nie behalwe die teken van Jona.30 Net soos Jona vir die mense van Nineve 'n teken was, so sal die Seun van die mens 'n teken wees vir die mense van vandag.
31 Die koningin van die Suide sal op die oordeelsdag opstaan saam met die mense van vandag en teen hulle getuig. Sy het immers van die uithoeke van die aarde af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En hier staan Een wat groter is as Salomo!
32 Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag opstaan saam met die mense van vandag en teen hulle getuig. Die mense van Nineve het hulle immers op die prediking van Jona bekeer. En hier staan Een wat groter is as Jona!”
33
“'n Mens steek nie 'n lamp op en sit dit dan weg in 'n kelder of onder 'n emmer nie. Nee, jy sit dit op 'n staander, sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien.34 Die lamp van jou liggaam is die oog. As jou oog goed is, is jou hele liggaam ook verlig. Maar as jou oog sleg is, is jou hele liggaam ook sonder lig.
35 Pas dus op dat die lig in jou nie donker is nie.
36 As jou hele liggaam verlig is en nie 'n enkele donker plekkie het nie, sal dit heeltemal verlig wees soos wanneer 'n lamp jou met sy skynsel verlig.”
37
Net toe Jesus klaar gepraat het, het 'n Fariseër Hom uitgenooi om by hom te kom eet. Hy het toe in sy huis ingegaan en aan tafel plek ingeneem.38 Die Fariseër was verwonderd toe hy sien dat Jesus nie die gebruik nagekom het om voor die ete eers hande te was nie.
39 Maar die Here sê vir hom:
“Ja, julle Fariseërs! Julle maak die buitekant van bekers en borde skoon, maar binnekant is julle self vol inhaligheid en gemeenheid.40 Julle dwase! Het Hy wat die buitekant gemaak het, nie ook die binnekant gemaak nie?
41 Gee liewer wat in die bekers en borde is, vir die armes, dan sal alle dinge vir julle rein wees.
42 Maar ellende wag vir julle, Fariseërs, want julle gee tiendes van kruisement en wynruit en elke soort kruie, maar verontagsaam die geregtigheid en die liefde vir God. Juis hierdie dinge moet 'n mens doen en die ander nie nalaat nie.
43
“Ellende wag vir julle, Fariseërs, want julle hou van die ereplek in die sinagoges en om op straat eerbiedig begroet te word.44 Ellende wag vir julle, want julle is soos onherkenbare grafte waaroor die mense loop sonder om dit te weet.”
45
Toe sê een van die wetgeleerdes vir Jesus: “Meneer, as u so praat, beledig u ons ook.”46
Daarop antwoord Hy: “Julle wetgeleerdes! Ellende wag vir julle ook, want julle laai ondraaglike laste op die mense, en self verroer julle geen vinger om die laste te dra nie.47
“Ellende wag vir julle, want julle bou grafmonumente vir die profete, maar julle voorvaders het hulle vermoor.48 So bewys julle dat julle die dade van julle voorvaders goedkeur, want húlle het die profete vermoor en júlle bou die grafte.
49 Daarom het Die Wysheid van God gesê: ‘Ek sal profete en apostels na hulle toe stuur, maar hulle sal sommige van hulle doodmaak en ander vervolg.’
50 So is die huidige geslag dan skuldig aan die bloed van al die profete wat vergiet is van die skepping van die wêreld af:
51 van die bloed van Abel af tot by die bloed van Sagaria, wat tussen die altaar en die tempel doodgemaak is. Ja, Ek sê vir julle, hulle bloed sal van die huidige geslag geëis word!
52
“Ellende wag vir julle, wetgeleerdes, want julle het die sleutel van die kennis weggeneem. Self het julle nie ingegaan nie, en dié wat wel wou ingaan, vir hulle het julle verhinder.”53
Toe Hy uit die huis weggaan, het die skrifgeleerdes en die Fariseërs Hom heftig begin aanval. Oor allerlei dinge het hulle aan Hom strikvrae gestel54 en fyn opgelet of Hy iets sou sê waarop hulle Hom kon vastrek.
1
Die mense het intussen by die duisende saamgedrom en mekaar vertrap. Toe het Jesus begin praat en Hom in die eerste plek tot sy dissipels gerig: “Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is hulle huigelary.2 Daar is niks bedek wat nie onthul sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie.
3 Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die daglig gehoor word; en wat julle agter geslote deure vir iemand in die oor gefluister het, sal van die dakke af uitgebasuin word.”
4
“Aan julle, my vriende, sê Ek: Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie.5 Ek sal vir julle sê vir wie julle bang moet wees: vir Hom wat mag het om, ná die dood, in die hel te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hóm moet julle vrees.
6
“Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie.7 Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”
8
“Ek sê vir julle: Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook openlik uitspreek voor die engele van God.9 Maar hy wat My voor die mense verloën, sal voor die engele van God verloën word.
10
“Elkeen wat teen die Seun van die mens iets sê, kan vergewe word; maar hy wat teen die Heilige Gees laster, kan nie vergewe word nie.11
“Wanneer hulle julle voor sinagoges en owerhede en gesagvoerders bring, moet julle julle nie bekommer oor hoe of waarmee julle julle gaan verdedig of wat julle gaan sê nie,12 want die Heilige Gees sal julle op daardie oomblik leer wat gesê moet word.”
13
Iemand uit die menigte sê toe vir Jesus: “Meneer, sê vir my broer hy moet die erfenis met my deel.”14
Maar Hy antwoord hom: “Man, wie het My as regter of deler vir julle aangestel?”15
Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want 'n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.”16
Toe vertel Hy hulle 'n gelykenis: “'n Ryk man se grond het goed gedra.17 Hy het toe by homself gedink: wat moet ek doen? Ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie.
18 Toe besluit hy: dit sal ek doen: Ek sal my skure afbreek en groter bou. Daarin sal ek al my graan en my ander goed opgaar.
19 Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’
20 Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’
21 So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.”
22
Verder het Jesus vir sy dissipels gesê: “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie.23 Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere.
24 Kyk na die kraaie: hulle saai nie en oes nie; hulle het geen spens of skuur nie, maar God sorg vir hulle. Julle is tog baie meer werd as voëls.
25 Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een uur verleng?
26 As julle nie eens so 'n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die ander dinge?
27
“Kyk hoe groei die lelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie, maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie.28 As God die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre in die vuur gegooi word, só mooi maak, hoeveel te meer sal Hy julle versorg, julle kleingelowiges!
29 Julle moet julle ook nie gedurig afvra wat julle gaan eet of drink nie, en julle moenie besorg wees nie.
30 Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges in die wêreld begaan is, maar julle het 'n Vader wat weet dat julle dit nodig het.
31 Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee.
32
“Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee.33
“Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle 'n beurs aan wat nie leeg raak nie, 'n onuitputlike rykdom in die hemel, waar geen dief dit kan bykom en geen mot dit kan verniel nie.34 Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”
35
“Wees gereed, die heupe omgord en die lampe aan die brand!36 Julle moet wees soos mense wat vir hulle eienaar wag tot hy van die bruilof af terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop.
37 Gelukkig is die slawe vir wie die eienaar by sy koms wakker sal aantref. Dit verseker Ek julle: Hy sal hulle aan tafel laat sit, self 'n voorskoot aansit en hulle kom bedien.
38 Gelukkig is die slawe wat hy wakker aantref, selfs al sou hy eers om middernag of met hanekraai kom.
39 Maar dit moet julle weet: as die huiseienaar geweet het hoe laat die dief kom, sou hy hom nie in sy huis laat inbreek het nie.
40 Ook julle moet gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n tyd wanneer julle Hom nie verwag nie.”
41
Toe vra Petrus: “Here, is hierdie gelykenis net vir ons bedoel of vir almal?”42
En die Here antwoord: “Wie is eintlik die getroue en verstandige bestuurder vir wie die eienaar oor sy ander slawe sal aanstel om hulle op tyd hulle kos te gee?43 Dit is die man vir wie sy eienaar, by sy tuiskoms, so aan die werk sal kry. Gelukkig is hy!
44 Ek sê vir julle die waarheid: Sy eienaar sal hom aanstel oor alles wat hy besit.
45
“Maar as die slaaf by homself sê: ‘My eienaar draai lank om te kom,’ en hy die slawe, mans en vroue, begin slaan, terwyl hy self eet en drink en dronk word,46 sal die eienaar van die slaaf kom op 'n dag dat hy dit nie verwag nie, en op 'n uur wat hy nie vooraf weet nie. Dan sal sy eienaar hom laat doodmaak, en hom die lot van ontroues laat deel.
47
“Die slaaf wat geweet het wat sy eienaar wil hê maar wat nie gereed gemaak of volgens die wil van sy eienaar gehandel het nie, sal 'n swaar straf kry.48 Maar hy wat nie geweet het nie en dinge gedoen het wat straf verdien, sal 'n ligte straf kry. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word; en van hom aan wie baie toevertrou is, sal meer gevra word.”
49
“Ek het gekom om vuur op die aarde aan te steek, en hoe wens Ek dat dit al aan die brand is!50
“Maar daar is 'n doop waarmee Ek gedoop moet word, en dit sal My heeltemal in beslag neem tot dit afgehandel is!51 Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid,
52 want van nou af sal daar vyf mense in een huis onderling verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie.
53 Hulle sal verdeeld wees: vader teen seun en seun teen vader, moeder teen dogter en dogter teen moeder, skoonmoeder teen skoondogter en skoondogter teen skoonmoeder.”
54
Jesus het ook vir die skare gesê: “As julle 'n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: ‘Dit gaan reën!’ en dit gebeur ook.55 En as die suidewind waai, sê julle: ‘Dit gaan warm word!’ en dit word warm.
56 Huigelaars! Julle weet hoe om die voorkoms van die aarde en die lug te beoordeel. Hoe is dit dan dat julle nie weet hoe om hierdie tyd te beoordeel nie?”
57
“Waarom maak julle nie vir julleself uit wat die regte ding is om te doen nie?58
“Terwyl jy saam met jou teenstander op pad is hof toe, moet jy moeite doen om die saak met hom te skik, sodat hy jou nie voor die regter sleep en die regter jou aan die polisie oorgee en die polisie jou in die tronk sit nie.59 Ek verseker jou: Jy sal sekerlik nie daar uitkom voordat jy die laaste sent betaal het nie.”
1
Juis in daardie tyd het mense vir Jesus kom vertel van die Galileërs vir wie Pilatus laat doodmaak het waar hulle besig was om hulle offerdiere te slag.2 Toe antwoord Jesus hulle: “Dink julle dat hierdie Galileërs groter sondaars was as al die ander Galileërs omdat dit met hulle gebeur het?
3 Nee, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom!
4 Of daardie agtien wat dood is toe die toring van Siloam op hulle ineengestort het, dink julle dat hulle skuldiger was as al die ander inwoners van Jerusalem?
5 Nee, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom.”
6
Daarna het Hy hierdie gelykenis vertel: “'n Man het 'n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Toe hy vrugte daaraan kom soek maar niks kry nie,7 sê hy vir die tuinier: ‘Kyk, dis nou drie jaar dat ek aan hierdie vyeboom vrugte kom soek, en ek kry niks nie. Kap hom uit! Waarom moet hy langer die grond uitput?’
8 Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes.
9 Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap.”
10
Eenkeer op 'n sabbatdag was Jesus in een van die sinagoges besig om die mense te leer.11 Daar was ook 'n vrou wat al agtien jaar lank gely het onder 'n bose gees wat haar heeltemal verswak het. Sy was krom getrek en kon glad nie meer regop kom nie.
12 Toe Jesus haar sien, roep Hy haar nader en sê vir haar: “Mevrou, jy is van jou gebrek verlos!”
13
Toe het Hy haar die hande opgelê, en sy het onmiddellik regop gestaan en God begin prys.14
Die hoof van die sinagoge was verontwaardig omdat Jesus op die sabbatdag iemand gesond gemaak het. Hy sê toe vir die mense: “Daar is ses dae in die week waarop 'n mens moet werk. Julle moet op een van daardie dae kom om julle te laat gesond maak, nie op die sabbatdag nie.”15
Toe sê die Here vir hom: “Julle huigelaars! Maak elkeen van julle nie op die sabbatdag sy bees of sy donkie van die krip los en lei hom weg om hom te laat suip nie?16 En hier is 'n vrou, 'n kind van Abraham, wat werklik al agtien jaar lank deur die Satan gebind is. Mag sy dan nie op die sabbatdag van hierdie band losgemaak word nie?”
17
Deur dit te sê, het Jesus al sy teenstanders laat skaam kry, maar die hele skare was bly oor al die wonderbaarlike dinge wat Hy gedoen het.18
Jesus het gesê: “Hoe is die koninkryk van God? Waarmee kan Ek dit vergelyk?19 Dit is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy tuin geplant het. Dit het gegroei en 'n boom geword, en die voëls het in sy takke kom nes maak.”
20
Verder het Hy gesê: “Waarmee kan Ek die koninkryk van God vergelyk?21 Dit is soos suurdeeg wat 'n vrou geneem en in twintig kilogram meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.”
22
Terwyl Jesus op pad was Jerusalem toe, het Hy deur stede en dorpe gegaan en oral die mense geleer.23 Toe vra iemand Hom: “Here, is dié wat gered word, maar min?”
24
Hy sê vir hulle: “Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie.25
“As die eienaar van die huis eers opgestaan en die deur toegesluit het, sal julle buite staan en aan die deur begin klop en roep: ‘Here, maak vir ons oop!’ Maar Hy sal julle antwoord: ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie.’26 Dan sal julle sê: ‘Ons het saam met U geëet en gedrink, en op ons strate het U die mense geleer.’
27 Maar Hy sal weer vir julle sê: ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie. Niemand van julle het gedoen wat reg is nie. Maak dat julle van My af wegkom!’
28
“Daar sal julle huil en op julle tande kners wanneer julle Abraham en Isak en Jakob en al die profete binne-in die koninkryk van God sal sien, terwyl julle self buitentoe weggejaag word.29
“Daar sal mense uit die ooste en die weste kom, uit die noorde en die suide, en aansit by die feesmaal in die koninkryk van God.30 Onthou net: Daar is laastes wat eerste sal wees, en eerstes wat laaste sal wees.”
31
Op daardie selfde oomblik het 'n aantal Fariseërs vir Jesus kom sê: “U moet padgee en na 'n ander plek toe gaan, want Herodes wil u doodmaak.”32
Maar Hy sê vir hulle: “Gaan sê vir daardie jakkals: ‘Kyk, vandag en môre dryf Ek nog bose geeste uit en maak Ek mense gesond, maar op die derde dag sal Ek my werk klaar maak.’33 In elk geval moet Ek vandag en môre en oormôre die reis voortsit, want dit is ondenkbaar dat 'n profeet op 'n ander plek as Jerusalem omkom.
34
“Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!35 Kyk, nou word julle stad aan julleself oorgelaat. Maar Ek sê vir julle: Julle sal My sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom! ”
1
Op 'n sabbatdag toe Jesus na die huis van 'n vooraanstaande Fariseër toe gegaan het om daar te eet, het hulle Hom fyn dopgehou.2 Reg voor Hom was daar 'n man wat aan water gely het.
3 Jesus praat toe met die wetgeleerdes en Fariseërs en vra: “Mag 'n mens iemand op die sabbatdag gesond maak of nie?”
4
Maar hulle het stilgebly. Toe trek Jesus die sieke nader, maak hom gesond en laat hom gaan.5 Daarna sê Hy vir hulle: “Sê nou 'n seun of 'n bees van een van julle val in 'n put, sal hy hom nie dadelik uithaal nie, al is dit op 'n sabbatdag?”
6
Hulle kon daar niks op antwoord nie.7
Toe Jesus merk hoe hulle die voorste plekke aan tafel uitsoek, vertel Hy aan die genooides die volgende gelykenis:8 “As iemand jou na 'n bruilof toe uitnooi, moet jy nie sommer op die voorste plek gaan sit nie. Dit kan net wees dat die gasheer iemand uitgenooi het wat belangriker is as jy.
9 Dan sal hy wat julle albei uitgenooi het, na jou toe kom en sê: ‘Gee bietjie die plek af vir hierdie man.’ Jy sal dan tot jou skande die agterste plek moet gaan inneem.
10 Maar as jy uitgenooi is, gaan sit liewer op die agterste plek. Wanneer die gasheer kom, sal hy vir jou kan sê: ‘Vriend, kom sit hier voor.’ Dan sal jy in die agting van al die gaste styg.
11 Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.”
12
Hy het ook vir die gasheer gesê: “As jy in die middag of in die aand 'n maaltyd gee, moet dan nie jou vriende of broers of familie of ryk bure uitnooi sodat hulle jou waarskynlik ook weer uitnooi en jou op dié manier vergoed nie.13 Nee, as jy 'n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes.
14 Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het.”
15
Een van dié wat saam aan tafel was, het dit gehoor en vir Hom gesê: “Gelukkig is die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem.”16
Toe sê Jesus vir hom: “Daar was 'n man wat 'n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi het.17 Toe die maaltyd gereed was, stuur hy sy slaaf om vir die genooides te sê: ‘Kom, die maaltyd staan klaar.’
18 Maar hulle begin almal, die een na die ander, verskoning maak. Die eerste sê vir hom: ‘Ek het 'n stuk grond gekoop en dit is noodsaaklik dat ek uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my asseblief.’
19 'n Ander een sê: ‘Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u, verskoon my asseblief.’
20 Nog 'n ander een sê: ‘Ek is pas getroud, daarom kan ek nie kom nie.’
21
“Die slaaf kom toe terug en vertel dit alles aan sy eienaar. Toe word die man kwaad en sê vir sy slaaf: ‘Gaan uit na die strate en gangetjies van die stad en bring die armes en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen.’22 Later kom die slaaf sê: ‘Meneer, u opdrag is uitgevoer, en daar is nog plek.’
23 Toe sê die man vir die slaaf: ‘Gaan uit na die paaie en lanings en dring by hulle daarop aan om in te kom, sodat my huis vol kan word.
24 Dit verseker ek julle: Nie een van die mense wat genooi is, sal sy mond aan my kos sit nie.’ ”
25
'n Groot menigte het saam met Jesus gereis. Hy draai toe om en sê vir hulle:26 “As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe.
27 Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie.
28
“Wie van julle wat 'n gebou wil oprig, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg geld het om die werk te voltooi nie?29 Anders, as hy die fondament gelê het en nie in staat is om die gebou te voltooi nie, sal almal wat dit sien, met hom die spot begin dryf.
30 Hulle sal sê: ‘Hier is 'n man wat begin bou het maar nie kon klaar maak nie.’
31
“Of watter koning wat met 'n ander koning in 'n oorlog betrokke raak, sal nie eers gaan sit en oorweeg of hy met sy tien duisend man sterk genoeg is om die ander een teen te staan wat met twintig duisend teen hom optrek nie?32 Anders stuur hy 'n afvaardiging om vredesvoorwaardes te vra terwyl die ander een nog ver is.
33
“So kan niemand van julle my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie.”34
“Sout is 'n goeie ding. Maar as sout verslaan het, waarmee sal dit weer sout gemaak word?35 Dit is nie eers bruikbaar vir die grond of vir die mishoop nie. Hulle gooi dit buitekant weg. Wie ore het om te hoor, moet luister!”
1
Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister.2 Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.”
3
Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis:4 “Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en negentig in die veld staan en gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry.
5 En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers.
6 As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.’
7 Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.”
8
“Of watter vrou wat tien silwermuntstukke het en een raak weg, steek nie 'n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie?9 En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: ‘Wees saam met my bly, want ek het my geld wat weggeraak het, weer gekry.’
10 Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”
11
Verder het Jesus gesê: “Daar was 'n man wat twee seuns gehad het.12 Die jongste het vir sy pa gesê: ‘Pa, gee my die deel van die besittings wat my toekom.’ Hy het toe die goed tussen hulle verdeel.
13
“Nie lank daarna nie het die jongste seun alles tot geld gemaak en van die ouerhuis af na 'n ver land toe vertrek. Daar het hy sy geld verkwis deur losbandig te lewe.14 Nadat hy alles deurgebring het, het daar 'n kwaai hongersnood in daardie land gekom, en ook hy het begin gebrek ly.
15 Hy het toe sommer by een van die mense van daardie land gaan bly, en dié het hom na sy plaas toe gestuur om varke op te pas.
16 Daar het hy gewens hy kon sy honger stil met die peule wat die varke eet, maar niemand het hom daarvan gegee nie.
17
“Toe kom hy tot inkeer en sê: ‘My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger.18 Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig!
19 Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Behandel my soos een van Pa se dagloners.’
20 En hy het sonder versuim na sy pa toe teruggegaan.
“Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom.21 Toe sê die seun vir hom: ‘Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie.’
22 Maar sy pa roep sy werksmense: ‘Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom 'n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan!
23 En bring die vetgemaakte kalf, slag hom, en laat ons eet en feesvier!
24 Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry.’ Toe het hulle begin feesvier.
25
“Sy oudste seun was nog in die veld. Toe hy terugkom en naby die huis was, hoor hy die musiek en die singery.26 Hy roep toe een van die bediendes nader en vra hom wat aan die gang is.
27 Die bediende antwoord: ‘U broer het gekom, en u pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom behoue en gesond teruggekry het.’
28
“Toe het die oudste seun kwaad geword en hy wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom;29 maar hy antwoord: ‘Kyk, al die jare werk ek soos 'n slaaf vir Pa. Nog nooit het ek 'n opdrag van Pa verontagsaam nie, en vir my het Pa nog nooit eers 'n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie.
30 Maar nou dat hierdie seun van Pa, wat Pa se goed met prostitute deurgebring het, terugkom, het Pa vir hom die vetgemaakte kalf geslag!’
31
“Toe sê die pa vir hom: ‘Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune.32 Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry.’ ”
1
Jesus het vir sy dissipels ook gesê: “'n Ryk man het 'n bestuurder in diens gehad, en dié is by hom aangekla omdat hy sy geld verkwis het.2 Hy ontbied hom toe en sê vir hom: ‘Wat is dit wat ek van jou hoor? Gee verslag van jou bestuur van sake, want jy kan nie langer bestuurder wees nie.’
3 Die bestuurder dink toe by homself: wat moet ek nou doen, want my werkgewer neem die bestuurderskap van my af weg. Vir handearbeid sien ek nie kans nie; en om te bedel, skaam ek my.
4 Maar wag, nou weet ek wat ek sal doen sodat daar mense sal wees wat my in hulle huise sal ontvang as ek uit die bestuurderskap ontslaan is.
5 Toe roep hy die skuldenaars van sy werkgewer een vir een en vra vir die eerste: ‘Hoeveel skuld jy my werkgewer?’
6 Hy antwoord: ‘Honderd vate olyfolie.’ Toe sê hy vir hom: ‘Vat jou skuldbewys, gaan sit en skryf gou vyftig.’
7 Daarna vra hy vir 'n ander een: ‘En jy, hoeveel skuld jy?’ Hy antwoord: ‘Honderd sak koring.’ En hy sê vir hom: ‘Vat jou skuldbewys en skryf tagtig.’
8
“Die werkgewer het die oneerlike bestuurder geprys vir die slim ding wat hy gedoen het. Die mense van hierdie wêreld tree onder mekaar slimmer op as die mense van die lig.9
“En Ek sê vir julle: Gebruik die oneerlike mammon om vir julle vriende te maak sodat wanneer die geld nie meer kan help nie, hulle julle in die ewige wonings sal ontvang.10
“Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik.11 As julle dan nie betroubaar is in die hantering van die oneerlike mammon nie, wie sal die ware rykdom aan julle toevertrou?
12 As julle met 'n ander man se goed nie betroubaar is nie, wie sal dan iets aan julle gee om as julle eie te besit?
13
“Geen huisbediende kan vir twee base tegelyk werk nie, want hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”14
Die Fariseërs was baie lief vir geld en toe hulle al hierdie dinge hoor, het hulle Hom beledigend uitgelag.15 Hy sê toe vir hulle: “Julle is dié wat julle voor die mense as goeie mense voordoen, maar God ken julle harte. Wat deur die mense as belangrik beskou word, is 'n gruwel voor God.
16
“Tot op Johannes was dit net die wet en die profete. Van toe af word die koninkryk van God verkondig, en elkeen probeer so hard as hy kan om daar in te kom.17 Tog is dit makliker vir die hemel en die aarde om te vergaan as dat een lettertjie van die wet verval.
18
“Elkeen wat van sy vrou skei en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk; en iemand wat met 'n geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”19
“Daar was 'n ryk man wat duur en deftige klere gedra en elke dag feestelik en weelderig geleef het.20 [20-21] En daar was 'n arm man met die naam Lasarus wat by die deur van die ryk man gelê het in die hoop dat hy van die oorskiet van die ryk man se tafel te ete sou kry. Hy was oortrek van die swere en selfs die honde het daaraan kom lek.
21
22
“Toe die arm man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek langs Abraham. Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe.23 Toe hy in die doderyk in pyn verkeer, kyk hy op en sien vir Abraham daar in die verte en vir Lasarus langs hom en hy roep:
24 ‘Vader Abraham, ontferm u oor my. Stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in water steek en my tong afkoel, want ek ly verskriklik in hierdie vuur.’
25 Maar Abraham sê: ‘My kind, onthou dat jy in jou leeftyd altyd die goeie gekry het en Lasarus die slegte. Nou gaan dit hier goed met hom, maar jy word gepynig.
26 En buitendien is daar 'n groot kloof tussen ons en julle, sodat dié wat hiervandaan wil oorgaan na julle toe, nie kan nie, en dié wat dáár is, ook nie na ons toe kan oorkom nie.’
27 Toe sê hy: ‘Ek smeek u dan, vader, stuur hom tog na my pa se huis toe.
28 Ek het nog vyf broers. Laat hy hulle dringend gaan waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.’
29 Maar Abraham sê: ‘Hulle het die woorde van Moses en die profete. Laat hulle daarna luister.’
30 Hy antwoord egter: ‘Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dood na hulle toe gaan, sal hulle hulle bekeer.’
31 Maar hy sê vir hom: ‘As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan.’ ”
1
Jesus het vir sy dissipels gesê: “Dit is onvermydelik dat daar dinge kom wat mense laat struikel. Maar ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is.2 So 'n mens kan eerder met 'n groot klip aan die nek in die see gegooi word as dat hy vir een van hierdie kleintjies 'n struikelblok word.
3 Wees dus self op julle hoede.
“As jou broer verkeerd optree, berispe hom; en as hy berou kry, vergewe hom.4 Selfs as hy sewe maal op 'n dag verkeerd optree teen jou en sewe maal na jou toe terugkom en sê: ‘Ek is jammer,’ moet jy hom vergewe.”
5
Die apostels sê toe vir die Here: “Gee ons meer geloof.”6
Maar die Here antwoord: “As julle maar geloof so groot soos 'n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: ‘Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,’ en hy sou julle gehoorsaam.7
“Sê nou een van julle het 'n slaaf wat ploeg of vee oppas. Sal hy vir die slaaf sê as hy van die veld af inkom: ‘Kom eet eers gou’?8 Natuurlik nie! Maar hy sal vir hom sê: ‘Maak vir my iets klaar vir aandete. Sit dan jou voorskoot aan en kom bedien my terwyl ek eet en drink. Daarna kan jy self eet en drink.’
9 'n Slaaf wat sy opdrag uitgevoer het, word mos nie bedank nie, of hoe?
10 So is dit ook met julle: as julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.”
11
Op sy reis na Jerusalem toe het Jesus al met die grens tussen Samaria en Galilea langs gegaan.12 Net toe Hy 'n sekere dorpie wou binnegaan, kom tien melaatse mans Hom tegemoet, maar hulle bly op 'n afstand staan
13 en roep hard: “Jesus, Here, ontferm U oor ons!”
14
Toe Hy hulle sien, sê Hy: “Gaan wys julle vir die priesters.” Op pad daarheen het hulle gesond geword.15 En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys.
16 Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank. Hierdie man was 'n Samaritaan.
17 Toe sê Jesus: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan?
18 Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers 'n Jood is nie?”
19
En vir hom sê Hy: “Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered.”20
Toe die Fariseërs vir Jesus vra wanneer die koninkryk van God dan kom, het Hy hulle geantwoord: “Die koms van die koninkryk van God kan nie uit voortekens bereken word nie.21 Hulle sal nie kan sê: ‘Kyk, hier is dit!’ of: ‘Daar is dit!’ nie, want die koninkryk van God is hier by julle.”
22
Daarna sê Hy vir die dissipels: “Daar sal dae kom wanneer julle daarna sal verlang om net een van die dae van die Seun van die mens te sien, maar julle sal dit nie sien nie. Hulle sal wel vir julle sê: ‘Kyk, daar is Hy!’ of: ‘Kyk, hier is Hy!’23 Maar moenie gaan nie en moenie agter hulle aanloop nie!
24 Soos die weerlig wat uitslaan, die hele lugruim van die een kant na die ander verlig, so sal die Seun van die mens kom as die dag van sy koms daar is.
25 Maar eers moet Hy baie ly en deur die mense van hierdie tyd verwerp word.
26
“Net soos dit in die tyd van Noag gegaan het, so sal dit ook gaan in die tyd van die Seun van die mens:27 hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Toe kom die sondvloed, en dit het hulle almal uitgewis.
28 In die tyd van Lot het dit ook net so gegaan: hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink, gekoop en verkoop, geplant en gebou.
29 Maar op die dag toe Lot Sodom verlaat het, het vuur en swael uit die hemel gereën, en dit het almal uitgewis.
30 Net so sal dit ook gaan op die dag wanneer die Seun van die mens verskyn.
31
“Dan moet die man wat op die dakstoep sit, nie ingaan om sy besittings in die huis te gryp nie. Net so moet ook die man wat op die land is, nie omdraai huis toe nie.32 Onthou wat met die vrou van Lot gebeur het!
33 Elkeen wat sy lewe probeer behou, sal dit verloor, maar elkeen wat dit verloor, sal dit behou.
34 Ek sê vir julle: Dan sal twee mense op een bed slaap, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.
35 Twee vroue sal koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.”
36
37
Toe vra hulle Hom: “Waar, Here?” Hy sê vir hulle: “Waar aas lê, daar sal aasvoëls ook bymekaarkom.”1
Jesus het vir hulle 'n gelykenis vertel om duidelik te maak dat 'n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.2 Hy het gesê: “In 'n sekere stad was daar 'n regter wat geen eerbied vir God of agting vir 'n mens gehad het nie.
3 En in dieselfde stad het 'n weduwee gewoon wat hom herhaaldelik kom vra het: ‘Doen aan my reg in my saak teen my teenparty.’
4 'n Tyd lank wou hy nie, maar later het hy vir homself gesê: Vir God het ek wel geen eerbied nie, en aan 'n mens steur ek my nie,
5 maar aangesien hierdie weduwee so aanhou om my lastig te val, sal ek haar in haar regsaak help, anders kom klap sy my op die ou end ook nog.”
6
Toe sê die Here: “Hoor wat sê die onregverdige regter.7 Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag?
8 Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook!
“Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?”9
Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel:10 “Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was 'n Fariseër en die ander een 'n tollenaar.
11 Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie.
12 Ek vas twee keer in die week en ek gee 'n tiende van my hele inkomste.’
13
“Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’14
“Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”15
Die mense het ook kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Toe die dissipels dit sien, het hulle met die mense daaroor geraas.16 Maar Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.
17 Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”
18
'n Man van aansien het aan Jesus die vraag gestel: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”19
Jesus het geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen.20 Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis gee nie, eer jou vader en moeder.”
21
Maar hy antwoord: “Al hierdie dinge het ek van my kinderdae af onderhou.”22
Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hom: “Een ding kom jy nog kort: gaan verkoop alles wat jy het, en deel die geld aan die armes uit. Dan sal jy 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.”23
Toe hy dit hoor, was hy diep teleurgesteld, want hy was baie ryk.24
Toe Jesus sien dat hy teleurgesteld is, sê Hy: “Hoe moeilik is dit tog vir mense wat ryk is, om in die koninkryk van God te kom.25 Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom.”
26
Dié wat dit gehoor het, sê toe: “Maar wie kan dan gered word?”27
Daarop antwoord Hy: “Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik.”28
Toe sê Petrus: “Kyk, óns het van ons besittings afgesien en U gevolg.”29
En Jesus antwoord: “Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van die koninkryk van God afgesien het van huis of vrou of broers of ouers of kinders nie,30 of hy ontvang in hierdie tyd al baiekeer soveel terug, en in die tyd wat kom, die ewige lewe.”
31
Jesus het die twaalf opsy geneem en vir hulle gesê: “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe, en alles wat die profete oor die Seun van die mens geskryf het, sal daar bewaarheid word.32 Hy sal uitgelewer word aan die heidene; Hy sal bespot en beledig word; hulle sal op Hom spoeg,
33 Hom gesel en Hom daarna doodmaak. En op die derde dag sal Hy uit die dood opstaan.”
34
Maar van hierdie dinge het hulle niks begryp nie. Die woorde was vir hulle duister, en hulle het nie verstaan waaroor Hy praat nie.35
Jesus het naby Jerigo gekom. Toe 'n blinde man wat daar langs die pad sit en bedel,36 die groot menigte mense hoor verbyloop, vra hy wat aan die gang is.
37 Hulle vertel hom toe: “Jesus van Nasaret gaan hier verby.”
38
Toe roep hy uit: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U oor my!”39
Die mense wat voor geloop het, het hom beveel om stil te bly, maar hy het al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U oor my!”40
Jesus gaan toe staan en gee bevel dat hy na Hom toe gebring moet word. Toe hy naby kom, vra Jesus vir hom:41 “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”
En hy antwoord: “Here, dat ek kan sien.”42
Jesus sê vir hom: “Goed, jy kan sien! Jou geloof het jou gered.”43
En onmiddellik kon hy sien, en hy het Jesus gevolg en God geprys. Ook al die mense wat dit gesien het, het aan God die eer gegee.1
Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad.2 Daar was 'n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, 'n ryk man.
3 Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te kort was.
4 Hy hardloop toe vooruit en klim in 'n wildevyeboom om Jesus te kan sien, want Hy sou daar verbygaan.
5 Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.”
6
Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang.7
Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: “Hy gaan by 'n sondige man tuis!”8
Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.”9
Daarop sê Jesus: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is 'n kind van Abraham.10 Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.”
11
Terwyl die mense na Jesus geluister het, het Hy nog 'n gelykenis vertel, aangesien Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het die koninkryk van God sou nou enige oomblik kom.12 Hy het gesê: “'n Man van adellike afkoms het na 'n ver land toe op reis gegaan om as koning aangestel te word en dan terug te kom.
13 Vooraf het hy tien van sy slawe geroep en aan hulle tien goue muntstukke gegee en gesê: ‘Dryf handel daarmee totdat ek terugkom.’
14
“Sy landgenote het hom egter gehaat en 'n afvaardiging agterna gestuur om te sê: ‘Ons wil nie hierdie man as koning hê nie.’ Maar hy het tog die koningskap ontvang.15
“Nadat hy teruggekom het, het hy die slawe aan wie hy die geld gegee het, na hom toe laat roep, sodat hy kon verneem wat hulle met die handeldryf verdien het.16 Die eerste het vorentoe gekom en gesê: ‘Meneer, u muntstuk het tien muntstukke opgelewer.’
17 Daarop antwoord hy: ‘Mooi so, jy is 'n goeie slaaf. Omdat jy in 'n saak van min belang getrou was, kry jy nou die bestuur oor tien stede.’
18
“Toe kom die tweede slaaf en sê: ‘Meneer, u muntstuk het vyf muntstukke opgelewer.’19 Aan hierdie een sê hy: ‘En jy kry die bestuur oor vyf stede.’
20
“Nog 'n ander het gekom en gesê: ‘Meneer, hier is u muntstuk. Ek het dit in 'n doek gebêre.21 Ek was bang vir u, want u is 'n harde man. U eis op wat u nie belê het nie, en oes wat u nie gesaai het nie.’
22 Toe sê hy vir hom: ‘Met jou eie woorde sal ek jou veroordeel. Jy is 'n slegte slaaf! As jy geweet het ek is 'n harde man wat opeis wat ek nie belê het nie, en oes wat ek nie gesaai het nie,
23 waarom het jy dan nie my geld in die bank gesit nie? Dan sou ek dit by my terugkoms darem met rente kon getrek het.’
24 Daarop sê hy vir dié wat daar staan: ‘Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit vir die een wat die tien muntstukke het.’
25
“Hulle sê vir hom: ‘Meneer, hy het dan al tien muntstukke.’ Maar hy antwoord:26 Ek sê vir julle: Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.
27 En daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek hulle koning moet wees nie, bring hulle en maak hulle hier voor my dood!”
28
Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy voor hulle uit geloop, op pad na Jerusalem toe.29 Toe Hy naby Betfage en Betanië kom, teen die Olyfberg, stuur Hy twee van sy dissipels vooruit met die opdrag:
30 “Gaan na die dorpie toe daar reg voor julle. Net soos julle inkom, sal julle daar 'n jong donkie kry wat vasgemaak staan. Geen mens het nog ooit op hom gery nie. Maak hom los en bring hom hier.
31 En as iemand vir julle vra: ‘Waarom maak julle hom los?’ moet julle antwoord: Die Here het hom nodig.”
32
Die twee wat gestuur is, gaan toe en kry alles net soos Hy vir hulle gesê het.33 Terwyl hulle die donkie losmaak, vra sy eienaars vir hulle: “Waarom maak julle die donkie los?”
34
Hulle antwoord: “Die Here het hom nodig.”35
Toe bring hulle die donkie na Jesus toe. Daarna gooi hulle van hulle klere op sy rug en help Jesus opklim.36 Terwyl Hy aanry, het hulle van hulle klere op die pad oopgegooi.
37
Toe Hy naby die stad kom, teen die afdraand van die Olyfberg, het die hele skare juigende volgelinge God uit volle bors begin prys oor al die wonderwerke wat hulle gesien het.38 Hulle het gesing:
“Loof die Koning,39
'n Paar Fariseërs uit die skare sê toe vir Jesus: “Meneer, maak stil u volgelinge!”40
Maar Hy antwoord: “Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.”41
Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil42 en gesê: “As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor.
43 Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër.
44 Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie.”
45
Jesus het na die tempel toe gegaan en die handelaars begin uitjaag.46 Hy het vir hulle gesê: “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal 'n huis van gebed wees,’ maar julle het dit 'n rowersnes gemaak.”
47
Hy was elke dag in die tempel besig om die mense te leer. Intussen het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en ook die leiers van die volk, 'n plan gesoek om Hom dood te maak.48 Hulle kon egter niks vind wat uitvoerbaar was nie, omdat die hele volk gretig na Hom geluister het.
1
Op een van daardie dae, toe Jesus by die tempel besig was om die volk te leer en aan hulle die evangelie te verkondig, het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes saam met die familiehoofde nader gestaan2 en Hom gevra: “Sê vir ons, met watter gesag doen u hierdie dinge? Wie is dit wat u hierdie gesag gegee het?”
3
Hy antwoord hulle: “Ek gaan julle ook iets vra, en julle moet My dan sê:4 Die doop van Johannes — kom dit van God of van mense af?”
5
Hulle redeneer toe onder mekaar: “As ons sê: ‘Van God af,’ sal hy sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’6 En as ons sê: ‘Van mense af,’ sal die hele volk ons stenig, want hulle is daarvan oortuig dat Johannes 'n profeet is.”
7
Toe antwoord hulle dat hulle nie weet waar dit vandaan kom nie.8
Daarop sê Jesus vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”9
Verder het Jesus aan die volk hierdie gelykenis vertel: “Daar was 'n man wat 'n wingerd aangeplant en dit aan boere verhuur het. Daarna was hy 'n hele ruk weg van die huis af.10 Toe dit tyd was daarvoor, stuur hy 'n slaaf na die boere toe om sy deel van die wingerd se opbrengs te gaan haal. Maar die boere het die slaaf geslaan en met leë hande weggejaag.
11 Die eienaar het weer geprobeer en 'n ander slaaf gestuur. Maar hulle het hierdie een ook geslaan en uitgeskel en met leë hande weggejaag.
12 Die eienaar het nog 'n keer geprobeer en 'n derde slaaf gestuur. Hulle het hom geslaan dat die bloed loop, en hom uit die wingerd uitgegooi.
13
“Toe sê die eienaar van die wingerd: ‘Wat moet ek nou doen? Ek sal my geliefde seun stuur. Miskien sal hulle hom ontsien.’14 Maar toe die boere hom sien, het hulle onder mekaar geredeneer: ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons slaan hom dood, dan is die erfenis ons s'n.’
15 Toe gooi hulle hom uit die wingerd uit en slaan hom dood. Wat sal die eienaar van die wingerd dan met hulle doen?
16 Hy sal kom en daardie boere om die lewe bring en die wingerd vir ander mense gee.”
Dié wat dit gehoor het, sê toe: “Nee, dit moenie gebeur nie!”17
Maar Jesus het hulle aangekyk en gesê: “Wat beteken hierdie Skrifwoord dan: “ ‘Die klip wat deur die bouers afgekeur is,18
Elkeen wat op hierdie klip val, sal verpletter word;
elkeen op wie hy val, sal hy vermorsel.”
19
Die skrifgeleerdes en die priesterhoofde het besef dat Jesus met hierdie gelykenis op hulle gesinspeel het. Daarom wou hulle Hom sommer daar en dan gevange neem, maar hulle was bang vir die volk.20
Hulle het hulle kans afgewag. Toe stuur hulle geheime agente wat hulle as opreg voorgedoen het, om Jesus op een of ander uitspraak te probeer vastrek sodat hulle Hom aan die owerheidsgesag van die goewerneur kon uitlewer.21 Hulle vra Hom toe: “Meneer, ons weet dat u in u prediking en onderrig regsinnig is. U let nie op die aansien van persone nie. U is getrou aan die waarheid, en so maak u die wil van God bekend.
22 Is dit reg dat ons aan die keiser belasting betaal, of is dit nie?”
23
Maar Jesus het deur hulle slimstreek gesien en vir hulle gesê:24 “Wys vir My 'n muntstuk. Wie se kop en naam is daarop?”
Hulle antwoord: “Die keiser s'n.”25
Toe sê Hy vir hulle: “Nou ja, gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”26
Hulle kon dit nie regkry om Hom voor die volk vas te trek op iets wat Hy gesê het nie. En verwonderd oor sy antwoord, het hulle maar stilgebly.27
'n Aantal Sadduseërs — dit is die mense wat ontken dat daar 'n opstanding uit die dood is — kom toe nader en vra vir Jesus:28 “Meneer, Moses het vir ons voorgeskryf: As iemand 'n getroude broer het wat kinderloos sterwe, moet hy met sy broer se weduwee trou en vir sy broer kinders verwek.
29 Nou was daar sewe broers. Die oudste het getrou en kinderloos gesterwe.
30 Ook die tweede
31 en die derde het met die weduwee getrou en kinderloos gesterwe, en so het dit met al sewe gegaan.
32 Daarna het die vrou ook gesterwe.
33 Die vrou nou, wie se vrou word sy met die opstanding? Al sewe het haar mos as vrou gehad.”
34
Jesus sê vir hulle: “In hierdie wêreld trou die mense met mekaar,35 maar dié wat waardig geag is om deel te hê aan die toekomstige wêreld en aan die opstanding uit die dood, trou daar nie meer nie.
36 Hulle kan ook nie meer sterwe nie; hulle is soos die engele. Hulle is kinders van God, omdat hulle uit die dood opgestaan het.
37 Dat die dooies opgewek word, het Moses ook aangedui waar hy in die gedeelte oor die doringbos praat van ‘die Here, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob’ .
38 Hy is nie 'n God van dooies nie maar van lewendes, want by Hom leef hulle almal.”
39
Toe sê sommige van die skrifgeleerdes: “Meneer, u het goed geantwoord.”40
Hulle het nie meer gewaag om Hom 'n enkele vraag te stel nie.41
Maar Jesus het vir hulle gevra: “Hoe kan hulle sê dat die Christus die seun van Dawid is?42 Dawid sê tog self in die boek van die Psalms:
“Die Here het vir my Here gesê:43
totdat Ek jou vyande
aan jou onderwerp het.
44
“Dawid noem Hom dus ‘Here’; hoe kan Hy dan sy seun wees?”45
Terwyl die hele volk na Jesus luister, sê Hy vir sy dissipels:46 “Pas op vir die skrifgeleerdes, wat graag met hulle deftige klere aan rondstap. Hulle hou van die begroetings op straat, die voorste banke in die sinagoges en die ereplekke by die maaltye.
47 Dit is hulle wat die huise van die weduwees inpalm en vir die skyn lang gebede opsê. Hulle sal baie swaar gestraf word.”
1
Jesus het rondgekyk en die rykes hulle gawes in die offergawekis sien gooi.2 Hy sien toe ook 'n arm weduwee twee klein muntstukkies daar ingooi,
3 en Hy sê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander.
4 Hulle het almal iets uit hulle oorvloed in die offergawekis gegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het om van te lewe.”
5
Toe sommige oor die tempel praat, oor die pragtige klippe en gewyde geskenke waarmee dit versier was, sê Jesus:6 “Alles wat julle sien — daar sal 'n tyd kom dat nie een klip op die ander gelaat sal word nie. Alles sal afgebreek word.”
7
Hulle vra Hom toe: “Here, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat is die teken van wanneer dit gaan plaasvind?”8
Hy antwoord: “Pas op dat julle nie mislei word nie, want baie sal onder my Naam kom en sê: ‘Dit is ek!’ en: ‘Die tyd het aangebreek!’ Moenie agter hulle aanloop nie!9 Wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie beangs raak nie, want hierdie dinge moet eers plaasvind, maar dit is nog nie onmiddellik die einde nie.”
10
Verder sê Hy vir hulle: “Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander.11 Daar sal groot aardbewings wees; hongersnode en epidemies sal op baie plekke voorkom. Daar sal skrikwekkende dinge wees en groot tekens van die hemel af.
12
“Maar nog voordat dit alles gebeur, sal hulle julle gevange neem en vervolg. Hulle sal julle oorlewer vir verhoor in die sinagoges en vir opsluiting in gevangenisse; hulle sal julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam.13 Dit sal vir julle 'n geleentheid wees om van My te getuig.
14 Stel julle dus daarop in om julle nie vooraf oor julle verdediging te kwel nie,
15 want Ek sal vir julle die woorde en die wysheid gee wat deur geeneen van julle teenstanders teengespreek of weerlê kan word nie.
16 Julle sal selfs deur julle ouers en broers en familie en vriende verraai word, en hulle sal party van julle doodmaak.
17 En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word, maar
18 daar sal selfs nie eens 'n haar van julle kop af val nie.
19 Deur julle volharding moet julle julleself red.”
20
“Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is.21 Dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug, en dié wat in die stad is, daaruit padgee, en dié wat op die plase is, nie na die stad toe gaan nie,
22 want in daardie dae voltrek God sy straf. Alles wat geskrywe staan, word dan bewaarheid.
23
“Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het, want daar sal groot nood in die land heers, en God sal hierdie volk straf.24
“Sommige sal deur die swaard val en ander as krygsgevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is.”25
“Daar sal tekens wees aan son, maan en sterre. Op aarde sal daar radeloosheid onder die volke wees uit angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe.26 Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemelruim sal ontwrig word.
27 En dan sal hulle die Seun van die mens met groot krag en majesteit op 'n wolk sien kom.
28 As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby.”
29
Toe vertel Hy hulle 'n gelykenis: “Let op die vyeboom en al die ander bome.30 Sodra julle sien dat hulle begin uitloop, weet julle vanself dat die somer al naby is.
31 Net so moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die koninkryk van God naby is.
32 Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal al hierdie dinge gebeur.
33 Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”
34
“Wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos 'n vangnet oorval nie.35 Daardie dag sal skielik op al die bewoners van die hele aarde neerkom.
36 Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn.”
37
Bedags was Jesus in die tempel besig om die mense te leer, maar snags het Hy uitgegaan en buite op die Olyfberg vernag.38 In die môre vroeg het die hele volk dan weer in die tempel na Hom kom luister.
1
Die fees van die ongesuurde brood, wat pasga genoem word, was naby.2 Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes wou Jesus uit die weg ruim, maar omdat hulle bang was vir die volk, het hulle nog gesoek na 'n manier om dit te doen.
3
Die Satan het in Judas, wat Iskariot genoem is en een van die twaalf was, ingevaar.4 Hy het toe met die priesterhoofde en die offisiere van die tempelwag gaan praat oor hoe hy Jesus in hulle hande kan laat kom.
5 Hulle was bly en het ooreengekom om hom daarvoor te betaal.
6 Hy het ingestem en na 'n geskikte geleentheid gesoek om Jesus te verraai waar die volk nie by is nie.
7
Die dag van die ongesuurde brood, waarop die paaslam geslag moes word, het aangebreek.8 Jesus stuur toe vir Petrus en Johannes vooruit met die opdrag: “Gaan berei die paasmaaltyd vir ons voor dat ons dit kan eet.”
9
Hulle vra Hom: “Waar wil U hê moet ons dit voorberei?”10
Toe antwoord Hy hulle: “Kyk, net soos julle die stad ingaan, sal 'n man wat 'n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom tot in die huis waar hy ingaan,11 en sê vir die eienaar van die huis: ‘Ons Leermeester vra u: Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die paasmaaltyd kan eet?’
12 En hy sal julle 'n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle dit voorberei.”
13
Hulle het gegaan en dit gekry net soos Jesus vir hulle gesê het, en die paasmaaltyd voorberei.14
Toe dit tyd was, het Jesus aan tafel gegaan en die apostels saam met Hom.15 Hy sê toe vir hulle: “Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly.
16 Ek sê vir julle: Ek sal dit nie weer eet voordat dit in die koninkryk van God sy volle betekenis gekry het nie.”
17
Daarna neem Hy 'n beker, spreek die dankgebed uit en sê: “Neem dit en gee dit vir mekaar aan.18 Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink voordat die koninkryk van God gekom het nie.”
19
Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.”20
Met die beker na die maaltyd het Hy net so gemaak en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word.21
“Maar kyk, die hand van die man wat My verraai, is saam met Myne hier op die tafel.22 Met die Seun van die mens sal dit gaan soos dit voorbeskik is, maar wee die man deur wie Hy verraai word!”
23
Toe begin hulle mekaar uitvra wie van hulle dit kon wees wat so iets sou doen.24
Daar het onenigheid onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word.25 Maar Jesus sê vir hulle: “By die nasies is dit so: konings speel oor hulle baas, en dié wat gesag afdwing, laat hulleself weldoeners noem.
26 Maar by julle moet dit nie so wees nie. Inteendeel, die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat die leier is, soos die een wat dien.
27 Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is, of die een wat bedien? Tog hy wat aan tafel is, nie waar nie? Maar Ek is in julle kring soos die een wat dien.
28
“Julle is die mense wat in my beproewings altyddeur by My gebly het.29 Net soos my Vader 'n koninkryk aan My bemaak het, so bemaak Ek 'n koninkryk aan julle,
30 sodat julle in my koninkryk aan my tafel kan eet en drink en op trone kan sit om oor die twaalf stamme van Israel te regeer.”
31
“Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif.32 Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.”
33
Petrus sê vir Hom: “Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.”34
Maar Hy antwoord: “Petrus, Ek sê vir jou: Die haan sal vannag nie kraai voordat jy My drie maal verloën het deur te sê dat jy My nie ken nie.”35
Verder het Jesus vir hulle gesê: “Toe Ek julle uitgestuur het sonder beursie en reissak en skoene, het julle iets kortgekom?” “Nee, niks nie!” was hulle antwoord.36
Toe sê Hy vir hulle: “Maar nou, wie 'n beursie het, moet dit saamneem, en net so ook 'n reissak. En wie nie 'n swaard het nie, moet van sy klere verkoop en een aanskaf.37 Ek sê vir julle: Die Skrifwoord wat sê: ‘En Hy is as misdadiger beskou,’ moet aan My bewaarheid word, want wat op My betrekking het, gaan nou in vervulling.”
38
Hulle sê toe: “Here, kyk hier is twee swaarde.” “Ons laat dit daarby,” antwoord Hy hulle.39
Jesus het die stad verlaat en volgens gewoonte Olyfberg toe gegaan, en sy dissipels het Hom gevolg.40 Toe Hy op die plek aankom, sê Hy vir hulle: “Bid dat julle nie in versoeking kom nie.”
41
Hy het Hom toe van hulle afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip kan gooi. Daar het Hy gekniel en gebid:42 “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!”
43
'n Engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk.44 Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val.
45
Toe Hy van die gebed opstaan en by die dissipels kom, kry Hy hulle aan die slaap, uitgeput van droefheid.46 Hy sê toe vir hulle: “Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.”
47
Terwyl Jesus nog praat, kom 'n klomp mense daar aan. Die een wat Judas genoem is, een van die twaalf, het hulle gelei en nader gekom na Jesus toe om Hom te soen.48 Maar Jesus sê vir hom: “Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n soen?”
49
Toe dié wat saam met Jesus was, sien wat gaan gebeur, vra hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard aanval?”50
Een van hulle slaan toe na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af.51 Maar Jesus sê: “Hou op daarmee!”
Daarna het Hy die oor aangeraak en hom genees.52
Toe sê Jesus vir die priesterhoofde, die offisiere van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom opgetrek het: “Trek julle met swaarde en stokke uit soos teen 'n rower?53 Dag vir dag was Ek saam met julle in die tempel, en julle het nie 'n hand uitgesteek om My te vang nie. Maar nou dat die tyd vir die duistere magte daar is, het julle julle kans.”
54
Hulle het Jesus toe gevange geneem en Hom weggelei en in die huis van die hoëpriester gebring. Petrus het op 'n afstand agterna gekom.55 In die middel van die binneplaas was daar 'n vuur, en daar het mense bymekaar gesit. Petrus het tussen hulle gaan sit.
56 'n Diensmeisie wat hom in die skynsel van die vuur sien sit het, het hom goed bekyk en gesê: “Dié een was ook saam met daardie man.”
57
Maar Petrus het dit ontken deur te sê: “Juffrou, ek ken Hom nie!”58
'n Rukkie later sien iemand anders hom en sê: “Jy is mos ook een van hulle.” Maar Petrus antwoord: “Man, ek is nie!”59
Na verloop van sowat 'n uur het nog een met beslistheid beweer: “Sowaar, dié een was ook saam met daardie man. Hy is mos ook 'n Galileër!”60
Maar Petrus sê: “Man, ek weet nie waarvan jy praat nie!” En onmiddellik, terwyl hy nog praat, het daar 'n haan gekraai.61 Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk. Toe val dit Petrus by wat die Here vir hom gesê het: “Voordat die haan vannag kraai, sal jy My drie maal verloën.”
62 En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.
63
Die manne wat vir Jesus bewaak het, het aangehou om met Hom die spot te dryf en Hom te slaan.64 Hulle het Hom geblinddoek en gesê: “Jy is mos 'n profeet! Sê wie het jou geslaan!”
65
En nog baie ander godslasterlike dinge het hulle Hom toegesnou.66
Toe dit dag word, het die Raad van die volk — die priesterhoofde en die skrifgeleerdes — vergader en Jesus voor hulle laat bring.67
Hulle sê toe: “As jy die Christus is, sê dit vir ons.” Maar Hy antwoord hulle: “Al sou Ek dit vir julle sê, sal julle tog nie glo nie;68 en al sou Ek vir julle 'n vraag stel, sal julle ook nie antwoord nie.
69 Maar van nou af sal die Seun van die mens aan die regterhand van die almagtige God sit.”
70
Toe vra hulle almal: “Dan is jy die Seun van God?” Hy sê vir hulle: “Dit is soos julle sê: Ek is!”71
Daarop sê hulle: “Waarvoor het ons dan nog getuienis nodig? Ons het dit mos uit sy eie mond gehoor!”1
Daarna het die hele vergadering opgestaan en Jesus na Pilatus toe gebring.2 Daar het hulle die aanklag teen Hom begin deur te sê: “Ons het bevind dat hierdie man ons volk ophits: hy belet hulle om aan die keiser belasting te betaal en beweer dat hy die Christus, die koning, is.”
3
Pilatus vra Hom toe: “Is jy die koning van die Jode?” Hy antwoord hom: “Dit is soos u sê.”4
Daarop sê Pilatus vir die priesterhoofde en die skare: “Ek vind geen skuld in hierdie man nie.”5
Maar hulle het sterker aangedring en gesê: “Die hele Joodse land deur stook hy die volk op met sy leer. Hy het van Galilea af begin en tot hier daarmee gekom.”6
Toe Pilatus dit hoor, vra hy of die man dan 'n Galileër is.7 Nadat hy te wete gekom het dat Jesus uit die magsgebied van Herodes afkomstig was, het hy Hom na Herodes toe gestuur, wat juis in daardie tyd self in Jerusalem was.
8
Herodes was baie bly om Jesus te sien. Omdat hy soveel van Hom gehoor het, het hy al 'n geruime tyd die begeerte gehad om Hom te sien. Hy het ook gehoop om Hom een of ander wonderwerk te sien doen.9 Hy het allerlei vrae aan Hom gestel, maar Jesus het hom niks geantwoord nie.
10 Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes het Hom heftig gestaan en beskuldig.
11 Herodes en sy soldate het Hom toe met veragting behandel. Hy het Hom 'n deftige kleed laat omhang, met Hom die spot gedryf en Hom daarna na Pilatus toe teruggestuur.
12
Op daardie dag het Herodes en Pilatus vriende geword. Voorheen was daar kwaaivriendskap tussen hulle.13
Daarna het Pilatus die priesterhoofde, die lede van die Joodse Raad en die volk bymekaar geroep14 en vir hulle gesê: “Julle het hierdie man voor my gebring as 'n opruier van die volk. Nou het ek in julle teenwoordigheid die saak ondersoek, en ek het in hierdie man geen grond gevind vir die aanklag wat julle teen hom inbring nie.
15 Herodes het ook nie, want hy het hom na ons toe teruggestuur. Hy het beslis niks gedoen wat die dood verdien nie.
16 Ek sal hom dus laat gesel en dan loslaat.”
17
18
Maar soos een man het hulle geskreeu: “Weg met hom!19 Laat Barabbas vir ons los!”
Barabbas was in die tronk oor 'n opstand in die stad en oor moord.20
Omdat Pilatus vir Jesus wou loslaat, het hy weer met hulle gepraat,21 maar hulle het aanhoudend uitgeroep: “Kruisig, kruisig hom!”
22
Die derde keer sê Pilatus vir hulle: “Watter kwaad het die man gedoen? Ek het in hom niks gekry wat die doodstraf regverdig nie. Ek sal hom dus laat gesel en dan loslaat.”23
Hulle het egter met 'n harde geskreeu aangehou om te eis dat Jesus gekruisig moes word, en met hulle geskreeu het hulle die oorhand gekry.24 Pilatus het toe besluit dat aan hulle eis voldoen moes word.
25 Die man wat oor opstand en moord in die tronk was, het hy vrygelaat, soos hulle geëis het, maar vir Jesus het hy uitgelewer, soos hulle wou hê.
26
Terwyl hulle Hom weglei, gryp hulle 'n sekere Simon van Sirene, wat toe net van buite die stad af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra.27
'n Groot menigte van die volk het agter Jesus aan geloop, onder wie ook vroue wat oor Hom getreur en gehuil het.28 Maar Jesus het na hulle toe omgedraai en gesê: “Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders,
29 want daar kom dae waarin hulle sal sê: ‘Hoe gelukkig is die onvrugbare vroue en dié wat nooit 'n kind in die wêreld gebring het of gevoed het nie.’
30
“Dan sal hulle vir die berge sê: “ ‘Val op ons!’ “en vir die heuwels: “ ‘Bedek ons!’31
“As hulle dit met die groen hout doen, wat sal dan met die droë hout gebeur?”32
Daar is ook twee ander, albei misdadigers, weggelei om saam met Jesus tereggestel te word.33
Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant.34 Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”
Hulle het sy klere verdeel deur te loot.35
Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook uitgelag en gesê: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is.”36
Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir Hom suur wyn aangebied37 en gesê: “As jy die koning van die Jode is, red jouself.”
38
Daar was ook 'n opskrif bokant Hom: “Dit is die koning van die Jode.”39
Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!”40
Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man!41 In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.”
42 Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”
43
Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”44
Dit was al omtrent twaalfuur, toe kom daar duisternis oor die hele land, en dit het tot drie-uur geduur;45 die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel in die tempel het middeldeur geskeur.
46 Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.”
Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas.47
Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: “Hierdie man was werklik onskuldig.”48
Al die mense wat saamgedrom het om na die skouspel te kyk en gesien het wat daar gebeur het, het verslae huis toe gegaan.49 Maar al Jesus se vriende, ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op 'n afstand bly staan. Hulle het al hierdie dinge gesien.
50
[50-51] Daar was 'n man met die naam Josef, afkomstig van 'n Joodse dorpie Arimatea. Hy was 'n goeie en opregte man en het die koms van die koninkryk van God verwag. Hoewel hy lid van die Joodse Raad was, het hy nie met hulle besluit en optrede saamgestem nie.51
52 Hierdie man het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra.
53 Nadat hy dit van die kruis afgehaal het, het hy dit in linne toegedraai en in 'n rotsgraf neergelê waarin nog nooit tevore iemand begrawe was nie.
54 Dit was Vrydag, en die sabbat het al begin aanbreek.
55
Die vroue wat saam met Jesus van Galilea af gekom het, het saamgeloop en die graf gesien en gekyk hoe sy liggaam neergelê word.56 Daarna het hulle huis toe gegaan en reukolie en salf reggemaak.
Op die sabbatdag het hulle gerus, soos die gebod bepaal.1
Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf toe gegaan met die reukolie wat hulle reggemaak het.2 Daar kry hulle die klip weggerol van die ingang van die graf af;
3 en toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie.
4 Hulle het nie geweet wat om daarvan te dink nie. Meteens staan daar by hulle twee manne met blink klere aan.
5 Die vroue het groot geskrik en met hulle gesig na die grond toe gebuig. Toe sê die manne vir hulle: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies?
6 Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek. Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was
7 en gesê het: Die Seun van die mens moet uitgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan.”
8
Toe het hulle sy woorde onthou9 en van die graf af teruggegaan en al hierdie dinge vir die elf en al die ander vertel.
10 Die vroue was Maria Magdalena en Johanna en Maria die ma van Jakobus. Ook die ander vroue saam met hulle het dieselfde dinge aan die apostels vertel.
11 Maar vir hulle het hierdie verhaal na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie.
12
Petrus het egter opgespring en na die graf toe gehardloop. Toe hy daar vooroor buk, sien hy net die doeke. Vol verwondering oor wat gebeur het, is hy terug huis toe.13
Op dieselfde dag was twee van hulle op pad na 'n dorpie met die naam Emmaus, twaalf kilometer van Jerusalem af.14 Hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het.
15 Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop,
16 maar hulle oë is verhinder om Hom te herken.
17 Hy vra hulle toe: “Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?”
Met somber gesigte gaan hulle staan,18 en een van hulle, met die naam Kleopas, antwoord Hom: “Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie?”
19
Hy vra vir hulle: “Watter dinge?” Hulle antwoord Hom: “Die dinge in verband met Jesus van Nasaret, 'n profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die hele volk;20 en hoe ons priesterhoofde en die lede van ons Raad Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom gekruisig het.
21 Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het.
22 En nou het 'n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf
23 en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle 'n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe.
24 Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.”
25
Toe sê Hy vir hulle: “Wat 'n gebrek aan begrip en wat 'n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie?26 Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?”
27
Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.28
Toe hulle by die dorpie aankom waarheen hulle op pad was, het Hy gemaak of Hy verder wou gaan.29 Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.”
Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly.30 Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle.
31 Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn.
32 Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?”
33
Hulle het dadelik opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan. Daar kry hulle die elf en die ander mense bymekaar,34 en dié sê: “Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!”
35
Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het, en hoe Hy aan hulle bekend geword het toe Hy die brood gebreek het.36
Terwyl hulle nog oor hierdie dinge praat, staan Jesus self meteens daar tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!”37
Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien 'n gees.38 Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verskrik, en waarom kom daar twyfel in julle harte?
39 Kyk na my hande en my voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! 'n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.”
40 Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete.
41
Toe hulle van blydskap en verwondering nog nie kon glo nie, sê Hy vir hulle: “Het julle hier iets om te eet?”42
Hulle gee Hom toe 'n stuk gebakte vis.43 Hy het dit gevat en voor hulle oë geëet.
44
Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.”45
Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.46 Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan,
47 en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’
48 Julle is getuies van hierdie dinge.
49 En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.”
50
Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën.51 Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem.
52 Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan.
53 Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.