1

1

Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham:

2

Abraham was die vader van Isak, Isak van Jakob, en Jakob van Juda en sy broers;

3 Juda was die vader van Peres en Serag by Tamar, Peres van Gesron, en Gesron van Ram;

4 Ram was die vader van Amminadab, Amminadab van Nagson, en Nagson van Salmon;

5 Salmon was die vader van Boas by Ragab, Boas van Obed by Rut, Obed van Isai;

6 Isai was die vader van koning Dawid.

Dawid was die vader van Salomo by die vrou van Urija;

7 Salomo was die vader van Rehabeam, Rehabeam van Abia en Abia van Asa;

8 Asa was die vader van Josafat, Josafat van Joram, en Joram van Ussia;

9 Ussia was die vader van Jotam, Jotam van Agas, en Agas van Hiskia;

10 Hiskia was die vader van Manasse, Manasse van Amon, en Amon van Josia;

11 Josia was die vader van Jojagin en sy broers. Toe is die volk weggevoer na Babilonië toe.

12

En na die Babiloniese ballingskap was dit so: Jojagin was die vader van Sealtiël, en Sealtiël van Serubbabel;

13 Serubbabel was die vader van Abihud, Abihud van Eljakim, en Eljakim van Asor;

14 Asor was die vader van Sadok, Sadok van Agim, en Agim van Elihud;

15 Elihud was die vader van Eleasar, Eleasar van Mattan, en Mattan van Jakob;

16 Jakob was die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word.

17

Altesaam was daar dus veertien geslagte van Abraham af tot by Dawid, veertien van Dawid af tot by die Babiloniese ballingskap en veertien van die Babiloniese ballingskap af tot by Christus.

18

Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus.

Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom.

19 Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek.

20 Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees.

21 Sy sal 'n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”

22

Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word:


23
“Die maagd sal swanger word
en 'n Seun in die wêreld bring,
en hulle sal Hom Immanuel noem.”

Die naam beteken God by ons.

24

Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en met haar getrou.

25 Hy het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus genoem.

2

1

Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom

2 en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”

3

Toe koning Herodes hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld.

4 Hy het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word.

5 Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur 'n profeet geskrywe:


6
“En jy, Betlehem, gebied van Juda,
jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie.
Uit jou sal 'n leier voortkom wat vir my volk Israel 'n herder sal wees. ”

7

Daarna het Herodes die sterrekykers in die geheim ontbied en noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster verskyn het.

8 Hy het hulle na Betlehem toe gestuur met die woorde: “Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook aan Hom hulde kan gaan bewys.”

9

Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was.

10 Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly.

11 Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre.

12 En omdat God hulle in 'n droom gewaarsku het om nie na Herodes toe terug te gaan nie, het hulle met 'n ander pad na hulle land toe teruggegaan.

13

Nadat hulle vertrek het, het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en gesê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte toe en bly daar totdat ek jou sê om terug te kom, want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.”

14

Josef het toe opgestaan en in die nag die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte toe vertrek

15 en daar gebly tot die dood van Herodes. So is vervul wat die Here deur 'n profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.”

16

Toe Herodes agterkom dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, het hy woedend geword. Hy stuur toe soldate en laat in Betlehem en die hele omgewing al die seuntjies van twee jaar en jonger doodmaak, ooreenkomstig die tyd wat hy noukeurig by die sterrekykers uitgevra het.

17 Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het:


18
“'n Gekerm word op Rama gehoor,
'n gehuil en groot gejammer:
Ragel treur oor haar kinders
en wil nie getroos word nie,
omdat hulle nie meer daar is nie.”

19

Na die dood van Herodes verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef in Egipte

20 en sê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en gaan terug na die land van Israel toe, want die mense wat die Kindjie se lewe gesoek het, is dood.”

21

Josef het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder geneem en na die land van Israel toe teruggegaan.

22 Toe hy egter verneem dat Argelaos in die plek van sy vader Herodes oor Judea regeer, was Josef bang om daarheen te gaan. Nadat God hom in 'n droom 'n aanwysing gegee het, is hy na die landstreek Galilea toe.

23 Daar aangekom, het hy gaan woon in 'n dorp met die naam Nasaret. So is vervul wat deur die profete gesê is: Hy sal Nasarener genoem word.

3

1

In daardie tyd het Johannes die Doper in die woestyn van Judea begin preek

2 en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

3 Hy is die een wat die profeet Jesaja bedoel het toe hy gesê het:

“Iemand roep in die woestyn:
Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.”

4

Hierdie Johannes het klere van kameelhaar gedra met 'n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe.

5 In dié dae het Jerusalem en die hele Judea en die hele omgewing van die Jordaan na hom toe gestroom.

6 Hulle het hulle sondes bely en hulle deur hom in die Jordaanrivier laat doop.

7

Toe hy merk dat baie van die Fariseërs en die Sadduseërs kom om deur hom gedoop te word, sê hy vir hulle: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug?

8 Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is.

9 Julle moet julle nie verbeel dat julle by julleself kan sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie. Dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek.

10 Die byl lê klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.

11 Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.

12 Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met 'n onblusbare vuur verbrand.”

13

In daardie tyd het Jesus van Galilea af na Johannes toe by die Jordaan gekom om deur hom gedoop te word.

14 Maar Johannes het dit probeer verhinder deur te sê: “Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe?”

15

Jesus het hom geantwoord: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.”

Daarna het Johannes ingestem.

16 Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos 'n duif sien neerdaal en op Hom kom.

17 Daar was ook 'n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.”

4

1

Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word.

2 Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword.

3

Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.”

4

Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe:

“'n Mens leef nie net van brood nie
maar van elke woord
wat uit die mond van God kom. ”

5

Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan

6 en sê vir Hom: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe:

“Hy sal sy engele oor jou opdrag gee

“en:

“Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie. ”

7

Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie. ”

8

Toe neem die duiwel Hom na 'n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag

9 en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.”

10

Maar Jesus sê vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe:

“Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. ”

11

Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.

12

Toe Jesus hoor dat Herodes vir Johannes in die tronk laat opsluit het, het Hy na Galilea toe gegaan.

13 Hy het nie in Nasaret gaan bly nie, maar Hom gaan vestig in Kapernaum by die see, in die gebied van Sebulon en Naftali.

14 So moes vervul word wat deur die profeet Jesaja gesê is:


15
“Jy, gebied van Sebulon en gebied
van Naftali, aan die seekant
en oorkant die Jordaan,
Galilea waar die heidene woon!

16
Die volk wat in duisternis woon,
het 'n groot lig gesien;
hulle wat in die skemerland
van die dood lewe,
vir hulle het die lig opgegaan.”

17

Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

18

Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy twee broers: Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas. Hulle was besig om 'n werpnet in die see uit te gooi, want hulle was vissers van beroep.

19 Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”

20

Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg.

21

Toe Hy daarvandaan verder gaan, sien Hy twee ander broers: Jakobus 'n seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was in 'n skuit saam met hulle pa besig om hulle nette reg te maak. Jesus het hulle geroep,

22 en hulle het dadelik die skuit en hulle pa verlaat en vir Jesus gevolg.

23

Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak.

24 En berigte oor Hom het deur die hele provinsie Sirië versprei. Die mense het toe die siekes met allerhande kwale en pyne, dié wat in die mag van bose geeste was, geestelik versteurdes en verlamdes na Hom toe gebring, en Hy het hulle gesond gemaak.

25 Groot menigtes uit Galilea, Dekapolis, Jerusalem, Judea en van oorkant die Jordaan af het Hom gevolg.

5

1

Toe Jesus die menigte mense sien, het Hy teen die berg opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom toe gekom,

2 en Hy het hulle geleer en gesê:

3

“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

4

Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.

5

Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.

6

Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.

7

Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.

8

Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.

9

Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

10

Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

11

“Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê.

12 Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”

13

“Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry 'n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.

14

“Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie;

15 ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis.

16 Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

17

“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.

18 Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.

19

“Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel.

20 Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”

21

“Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’.

22 Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir 'n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir 'n idioot, is strafbaar met die helse vuur.

23

“As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het,

24 laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.

25

“As iemand 'n regsaak teen jou begin, kom betyds tot 'n skikking solank jy nog saam met hom op pad hof toe is, sodat hy jou nie voor die regter bring en die regter jou aan die polisie oorgee en dié jou in die tronk sit nie.

26 Dit verseker Ek jou: Jy sal sekerlik nie daar uitkom voordat jy die laaste sent betaal het nie.”

27

“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’

28 Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na 'n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.

29

“As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word.

30 Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland.”

31

“Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar 'n skeibrief gee.’

32 Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”

33

“Verder het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie jou eed verbreek nie, en 'n eed in die Naam van die Here moet jy nakom.’

34 Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie 'n eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God;

35 nie by die aarde nie, want dit is die rusplek vir sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot Koning.

36 Jy moet ook nie jou kop op die spel plaas as jy 'n eed aflê nie, want jy kan nie een haar wit of swart maak nie.

37 Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.”

38

“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘'n Oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand.’

39 Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen 'n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe.

40 As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere.

41 As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer.

42 Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.”

43

“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’

44 Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê , en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg,

45 sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.

46 As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie?

47 En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie?

48

“Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”

6

1

“Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.

2

“As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.

3 Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie,

4 sodat jou goeie daad verborge kan bly. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”

5

“Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.

6 Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.

7

“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik.

8 Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.

9

“So moet julle bid:

“Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;

10

laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

11

Gee ons vandag ons daaglikse brood;

12

en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;

13

en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.

14

“As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.

15 Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

16

“As julle vas, moet julle nie soos skynheiliges met lang gesigte rondloop nie. Hulle mismaak hulle gesigte sodat die mense kan sien dat hulle vas. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.

17 Nee, as jy vas, versorg jou hare en was jou gesig

18 sodat niemand kan sien dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”

19

“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie.

20 Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie.

21 Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”

22

“Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê.

23 Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!”

24

“Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”

25

“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?

26 Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

27 Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?

28 En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie.

29 Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie.

30 As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?

31

“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie.

32 Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.

33 Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

34

“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”

7

1

“Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie;

2 met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.

3

“Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?

4 Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar 'n balk in jou eie oog?

5 Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.

6

“Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal omspring en julle verskeur; en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap.”

7

“Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word,

8 want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.

9

“Watter mens onder julle sal vir sy seun 'n klip gee as hy brood vra,

10 of 'n slang as hy vis vra?

11 As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?

12

“Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”

13

“Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie.

14 Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”

15

“Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe.

16 Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry 'n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels?

17 Elke goeie boom dra tog goeie vrugte, maar 'n slegte boom dra slegte vrugte.

18 'n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie, en 'n slegte boom nie goeie vrugte nie.

19 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.

20 So sal julle die vals profete dan aan hulle vrugte ken.”

21

“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.

22 Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’

23 Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.”

24

“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou het.

25 Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.

26 En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met 'n dwaas wat sy huis op sand gebou het.

27 Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”

28

Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor sy onderrig,

29 want Hy het hulle geleer soos 'n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie.

8

1

Jesus het afgekom van die berg af, en 'n groot menigte mense het saam met Hom gegaan.

2 'n Melaatse man kom kniel toe voor Hom en sê: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.”

3

Toe steek Jesus sy hand uit, raak hom aan en sê: “Ek wil. Word gesond!” En sy melaatsheid was onmiddellik weg.

4 Jesus sê toe vir hom: “Jy moet dit vir niemand vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring die offer wat Moses voorgeskryf het. Dit sal vir die mense die bewys wees dat jy rein geword het.”

5

Nadat Jesus in Kapernaum aangekom het, het 'n offisier by Hom hulp kom vra

6 en gesê: “Here, my slaaf lê by my huis verlam en verduur baie pyn.”

7

En Jesus antwoord hom: “Ek sal hom kom gesond maak.”

8

Maar die offisier sê: “Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Sê maar net 'n woord, en my slaaf sal gesond word.

9 Ek is ook 'n mens wat onder gesag staan en ek het soldate onder my. Vir een sê ek: ‘Gaan daarheen!’ en hy gaan; en vir 'n ander: ‘Kom!’ en hy kom; en vir my slaaf: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.”

10

Jesus was verwonderd toe Hy dit hoor, en Hy sê vir die mense wat agter Hom aan gekom het: “Dit verseker Ek julle: Ek het nog by niemand in Israel so 'n groot geloof teëgekom nie.

11 Ek sê vir julle: Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel.

12 Maar mense vir wie die koninkryk bedoel is, sal in die diepste duisternis daarbuite gegooi word, waar hulle sal huil en op hulle tande sal kners.”

13

Jesus sê toe vir die offisier: “Gaan terug, en wat jy geglo het, sal gebeur.”

En sy slaaf het op daardie oomblik gesond geword.

14

Toe Jesus in die huis van Petrus kom, sien Hy Petrus se skoonmoeder siek lê met 'n hoë koors.

15 Hy het haar hand gevat, en die koors het haar verlaat. Sy het opgestaan en Hom bedien.

16

Toe dit aand word, het hulle baie wat in die mag van bose geeste was, vir Hom gebring. Hy het die geeste met 'n woord uitgedryf en al die siekes gesond gemaak.

17 So is vervul wat deur die profeet Jesaja gesê is:

“Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra.”

18

Toe Jesus die menigte mense rondom Hom sien, het Hy opdrag gegee om na die oorkant toe te vertrek.

19 'n Skrifgeleerde kom toe nader en sê vir Hom: “Meneer, ek sal u volg waar u ook al gaan.”

20

Jesus sê vir hom: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens 'n rusplek vir sy kop nie.”

21

Iemand anders, een van sy dissipels, sê vir Hom: “Here, laat my toe om eers terug te gaan en my pa te begrawe.”

22

Maar Jesus antwoord hom: “Volg My, en laat die dooies hulle eie dooies begrawe.”

23

Toe Jesus in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg.

24 Skielik het daar 'n hewige storm op die see losgebars, sodat die golwe oor die skuit geslaan het. Maar Jesus het geslaap.

25

Hulle kom toe en maak Hom wakker en sê: “Here, red ons! Ons vergaan!”

26

Hy sê vir hulle: “Waarom is julle bang, kleingelowiges?”

Daarna het Hy opgestaan en die wind en die see hard aangespreek, en dit het doodstil geword.

27 Die mense het hulle verwonder en gesê: “Watter soort mens is hy dat selfs die wind en die see hom gehoorsaam?”

28

Toe Jesus aan die oorkant in die land van die Gadareners kom, het twee mense wat in die mag van bose geeste was, Hom van die grafte af tegemoet gekom. Hulle was baie gevaarlik, sodat niemand dit langs daardie pad kon waag nie.

29 Skielik het hulle begin skreeu: “Wat het U met ons te doen, Seun van God? Het U hierheen gekom om ons voor die tyd te pynig?”

30

'n Hele ent van hulle af het 'n groot trop varke geloop.

31 Die bose geeste het Hom gesoebat: “As U ons uitdryf, stuur ons tog in die trop varke in.”

32

“Gaan!” het Hy vir hulle gesê.

Hulle is toe uit die mense uit en het in die varke ingevaar. Die hele trop het meteens op loop gesit teen die hang af, die see in, en het in die water versuip.

33 Die wagters het weggehardloop dorp toe en alles daar gaan vertel, ook wat met die besetenes gebeur het.

34 Die hele dorp het Jesus tegemoet gegaan, en toe hulle Hom sien, het hulle Hom ernstig versoek om hulle gebied te verlaat.

9

1

Jesus het toe in die skuit geklim, die see oorgesteek en in sy eie dorp aangekom.

2 Daar het hulle 'n verlamde man wat bedlêend was, na Hom toe gebring. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Vriend, wees gerus; jou sondes word vergewe.”

3

Party van die skrifgeleerdes het by hulleself gesê: “Hy praat godslasterlik.”

4

Maar Jesus het geweet wat hulle dink, en Hy sê vir hulle: “Waarom het julle sulke slegte gedagtes in julle harte?

5 Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’?

6 Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe.”

Hy sê toe vir die verlamde man: “Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.”

7

Hy het opgestaan en huis toe gegaan;

8 en toe die menigte mense dit sien, het hulle God, wat sulke mag aan mense gee, met eerbiedige vrees geprys.

9

Terwyl Jesus daarvandaan verder gaan, het Hy 'n man met die naam Matteus by die tolhuis sien sit en vir hom gesê: “Volg My!”

Hy het toe opgestaan en Hom gevolg.

10

Jesus het by hom in sy huis gaan eet, en baie tollenaars en sondaars het saam met Jesus en sy dissipels kom eet.

11 Toe die Fariseërs dit sien, vra hulle vir sy dissipels: “Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?”

12

Maar Jesus het dit gehoor en gesê: “Dié wat gesond is, het nie 'n dokter nodig nie, maar dié wat siek is.

13 Gaan leer wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.’ Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.”

14

In dié tyd het die volgelinge van Johannes na Jesus toe gekom en gevra: “Waarom vas ons en die Fariseërs dikwels, maar u dissipels vas glad nie?”

15

Jesus antwoord hulle: “Kan die bruilofsgaste dan treur solank die bruidegom nog by hulle is? Maar daar kom 'n tyd wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word, en dan sal hulle vas.

16

“Niemand lap tog ou klere met ongekrimpte materiaal nie, want die nuwe lap skeur die klere nog verder, en die gat word net groter.

17

“'n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou velsakke nie. As jy dit doen, bars die sakke, die wyn loop uit en die sakke is daarmee heen. Nee, 'n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke en so behou jy altwee.”

18

Jesus was nog besig om dit vir die mense te sê toe daar 'n raadslid van die sinagoge voor Hom kom kniel en sê: “My dogter het nou net gesterwe, maar kom lê u hand op haar en sy sal weer lewe.”

19

Jesus het opgestaan, en Hy en sy dissipels het saam met die man gegaan.

20

'n Vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak.

21 Sy het vir haarself gesê: “As ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.”

22

Jesus het omgedraai, haar gesien en gesê: “Wees gerus, dogter, jou geloof het jou gered.”

Van daardie oomblik af was die vrou gesond.

23

Daarna het Jesus by die huis van die raadslid gekom. Toe Hy die fluitspelers sien en die klomp mense wat te kere gaan,

24 sê Hy: “Gaan weg, want die dogtertjie is nie dood nie, sy slaap net.”

Maar hulle het Hom uitgelag.

25 Nadat die mense uitgejaag was, het Hy in die huis ingegaan, die dogtertjie se hand gevat en sy is uit die dood opgewek.

26

Berigte hieroor het deur daardie hele omgewing versprei.

27

Terwyl Jesus daarvandaan verder gaan, het twee blindes Hom gevolg. Hulle het aanhoudend geskreeu: “Ontferm U tog oor ons, Seun van Dawid!”

28

Jesus het in die huis ingegaan, en die blindes het daar na Hom toe gekom. Hy vra toe vir hulle: “Glo julle dat Ek dit kan doen?”

“Ja, Here,” antwoord hulle Hom.

29

Toe raak Hy aan hulle oë en sê: “Wat julle glo, sal gebeur.”

30

Hulle kon toe sien, maar Jesus het hulle baie streng beveel: “Hiervan moet niemand hoor nie.”

31

Maar toe hulle daar weg is, het hulle in daardie hele omgewing van Hom vertel.

32

Nadat die twee blindes die huis verlaat het, het die mense 'n man na Hom toe gebring wat stom was omdat hy in die mag van 'n bose gees was.

33 Nadat die bose gees uitgedryf is, het die stom man begin praat. Die menigte het hulle verwonder en gesê: “So iets het nog nooit in Israel gebeur nie.”

34

Maar die Fariseërs het gesê: “Dit is met die hulp van die aanvoerder van die bose geeste dat hy die bose geeste uitdryf.”

35

Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. Hy het die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak.

36

Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie.

37 Hy sê toe vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min.

38 Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”

10

1

Jesus het sy twaalf dissipels nader geroep en hulle mag gegee om onrein geeste uit te dryf en om elke soort siekte en kwaal gesond te maak.

2

Die name van die twaalf apostels was: in die eerste plek Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas;

3 Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes; Filippus en Bartolomeus; Tomas en Matteus die tollenaar; Jakobus seun van Alfeus, en Taddeus;

4 Simon die Kananeër, en Judas Iskariot wat vir Jesus verraai het.

5

Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en die volgende opdragte aan hulle gegee:

“Moenie met 'n pad na die heidennasies toe afdraai nie en moenie in 'n dorp van die Samaritane ingaan nie.

6 Gaan liewer na die verlore skape van die volk Israel toe.

7 Gaan verkondig: ‘Die koninkryk van die hemel het naby gekom.’

8 Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf bose geeste uit. Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet.

9

“Moenie vir goud of silwer of koper in julle beursies sorg nie

10 en moenie vir die pad 'n reissak aanskaf of nog 'n kledingstuk of skoene of 'n stok nie. 'n Arbeider is tog geregtig op onderhoud.

11

“As julle in 'n stad of dorp kom, stel dan vas by wie julle daar kan tuis gaan en bly by hom totdat julle die reis voortsit.

12 As julle in die huis kom, wens die mense vrede toe.

13 As die huismense se gesindheid goed is, handhaaf julle vredewens vir die huis. Maar as hulle nie goedgesind is nie, trek julle vredewens dan terug.

14 As iemand julle nie ontvang nie en nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af.

15 Dit verseker Ek julle: Dit sal in die oordeelsdag vir die gebied Sodom en Gomorra draagliker wees as vir daardie dorp.”

16

“Onthou: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe.

17 Pas op vir die mense. Hulle sal julle aan die geregshowe uitlewer, en in hulle sinagoges sal hulle julle gesel.

18 Ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word ter wille van My. Dit sal julle geleentheid wees om voor hulle en voor die heidennasies van My te getuig.

19 Wanneer hulle julle uitlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe of wat julle moet sê nie, want op daardie oomblik sal God aan julle gee wat julle moet sê.

20 Dan is dit nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat.

21

“Die een broer sal die ander uitlewer om doodgemaak te word, en selfs 'n pa sy kind; kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle doodmaak.

22 Julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word.

23 As hulle julle in een dorp vervolg, vlug na 'n ander een toe. Dit verseker Ek julle: Julle sal sekerlik nie klaar wees met die dorpe van Israel voordat die Seun van die mens kom nie.

24

“'n Leerling is nie hoër as sy leermeester en 'n slaaf nie hoër as sy eienaar nie.

25 'n Leerling moet tevrede wees as dit met hom gaan soos met sy leermeester, en 'n slaaf as dit met hom gaan soos met sy eienaar. As hulle die hoof van die huis die skeldnaam Beëlsebul gegee het, sal hulle dan nie sy huisgenote met baie erger name uitskel nie?”

26

“Moet dus nie vir mense bang wees nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie.

27 Wat Ek vir julle in die donker sê, moet julle in die daglig sê, en wat in julle oor gefluister word, moet julle van die dakke af uitbasuin.

28 Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.

29

“Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.

30 Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel.

31 Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”

32

“Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is.

33 Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is.”

34

“Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard.

35 Ek het gekom om tweedrag te bring

“ ‘tussen 'n man en sy vader
en tussen 'n dogter en haar moeder,
tussen 'n skoondogter en haar skoonmoeder;

36
ja, 'n man se huismense sal sy vyande wees.’

37

“Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie.

38 Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie.

39

“Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.”

40

“Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.

41 Wie 'n profeet ontvang omdat hy 'n profeet is, sal 'n profeet se beloning ontvang; en wie 'n goeie mens ontvang omdat hy goed is, sal 'n goeie mens se beloning ontvang.

42 Wie aan een van hierdie geringstes net 'n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle.”

11

1

Toe Jesus klaar was met die opdragte aan sy twaalf dissipels, het Hy daarvandaan weggegaan om die mense in hulle dorpe te leer en vir hulle te preek.

2

Johannes het in die tronk gehoor wat Christus alles gedoen het, en het toe deur sy volgelinge 'n boodskap aan Hom gestuur om te vra:

3 “Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?”

4

Jesus antwoord hulle: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien:

5 Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig.

6 En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.”

7

Toe hulle weggaan, het Jesus met die mense oor Johannes begin praat en gesê: “Waarna het julle in die woestyn gaan kyk? Na 'n riet wat deur die wind heen en weer gewaai word?

8 Nee? Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, dié wat deftig aantrek, kry 'n mens in koninklike paleise.

9 Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek verseker julle, nog meer as 'n profeet.

10 Dit is hy van wie daar geskrywe staan:

“ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit;
hy sal die pad vir jou regmaak.’

11

“Dit verseker Ek julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie, en tog is die geringste in die koninkryk van die hemel groter as hy.

12 Sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe breek die koninkryk van die hemel vir homself 'n pad oop, en mense wat hulle kragtig inspan, kry dit in besit.

13 Al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer,

14 en as julle dit wil aanvaar: Johannes is die Elia wat sou kom.

15 Wie ore het, moet luister.

16

“Waarmee moet Ek hierdie geslag vergelyk? Hulle is net soos kinders wat op die markpleine vir mekaar sit en roep:


17
“ ‘Ons het vir julle op die fluit gespeel,
en julle het nie gedans nie!
Ons het 'n treurlied gesing,
en julle het nie gehuil nie!’

18

“Johannes het gekom en nie geëet of gedrink nie, en hulle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’

19 Die Seun van die mens het gekom en geëet en gedrink, en hulle sê: ‘Kyk daar, 'n vraat en 'n wynsuiper, 'n vriend van tollenaars en sondaars.’ Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.”

20

Toe het Jesus die dorpe waarin Hy die meeste van sy wonderdade gedoen het, begin verwyt omdat hulle hulle nie bekeer het nie:

21

“Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hulle lankal in sak en as bekeer het.

22 Maar Ek sê vir julle: Vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir julle.

23 En jy, Kapernaum, dink jy

“ ‘jy sal tot die hemel toe verhoog word?
Nee, jy sal tot in die doderyk afdaal.’

“As in Sodom die wonderdade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy tot vandag toe nog bly staan het.

24 Maar Ek sê vir julle: Vir die land van Sodom sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir jou.”

25

Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het.

26 Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.

27

“My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.

28

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.

30 My juk is sag en my las is lig.”

12

1

In dié tyd het Jesus op 'n sabbatdag deur gesaaides geloop. Sy dissipels het honger geword en are begin pluk en van die koring geëet.

2 Toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: “Kyk daar! U dissipels doen iets wat op die sabbatdag nie gedoen mag word nie.”

3

Maar Hy sê vir hulle: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger geword het nie?

4 Hy het in die huis van God ingegaan en van die offerbrood geëet, wat hy en sy manne nie mag gedoen het nie, maar net die priesters.

5 Of het julle nie in die wet van Moses gelees dat die priesters op die sabbatdag in die tempel diens moet doen nie? Hulle oortree dus die sabbatsgebod, en tog is hulle nie skuldig nie.

6

“Ek sê vir julle: Hier is Een wat groter is as die tempel.

7 As julle begryp het wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie,’ dan sou julle nie mense wat onskuldig is, veroordeel het nie.

8 Die Seun van die mens is immers Here oor die sabbat.”

9

Jesus het daarvandaan verder gegaan en in hulle sinagoge gekom.

10 Daar was juis 'n man met 'n gebreklike hand. Hulle vra Hom toe: “Mag 'n mens iemand op die sabbatdag gesond maak?”

Hulle bedoeling daarmee was om 'n klag teen Hom te kry.

11

Hy sê toe vir hulle: “Wie van julle sal nie die een skaap wat hy het en wat op 'n sabbatdag in 'n sloot val, dadelik uithaal nie?

12 Hoeveel is 'n mens nie meer werd as 'n skaap nie? Dan mag 'n mens mos op die sabbatdag goed doen.”

13

Toe sê Hy vir die man: “Steek jou hand uit.”

Hy het dit gedoen, en sy hand was reg soos die ander een.

14

Die Fariseërs het toe uitgegaan en planne beraam om Jesus om die lewe te bring.

15

Toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan weggegaan. Baie mense het saam met Hom gegaan, en Hy het hulle almal gesond gemaak, maar

16 hulle belet om in die openbaar oor Hom te praat.

17 So is vervul wat die Here deur die profeet Jesaja gesê het:


18
“Hier is my Dienaar wat Ek aangestel het,
my Geliefde oor wie Ek My verheug;
Ek sal my Gees op Hom laat kom,
en Hy sal die wil van God aan die nasies bekend maak.

19
Hy sal nie twis nie en nie skreeu nie,
en niemand sal sy stem op die strate hoor nie.

20
'n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nie
en 'n lamppit wat rook, nie uitdoof nie;
Hy sal die wil van God laat seëvier.

21
En op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.”

22

Hulle het toe 'n man wat in die mag van 'n bose gees was, na Jesus toe gebring. Die man was blind en stom. Jesus het sy gebrek genees, sodat hy weer kon praat en sien.

23 En die hele menigte mense was verslae en het gesê: “Is Hy nie miskien die Seun van Dawid nie?”

24

Die Fariseërs het hiervan gehoor en gesê: “Hy dryf bose geeste uit alleen met die hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die bose geeste.”

25

Jesus het egter geweet wat hulle dink, en Hy het vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat onderling verdeeld is, gaan te gronde, en geen stad of huis wat onderling verdeeld is, sal bly staan nie.

26 As die Satan dan die Satan uitdryf, is hy teen homself verdeeld; hoe kan sy ryk dan bly staan?

27 En as Ek met Beëlsebul se hulp die bose geeste uitdryf, met wie se hulp doen julle volgelinge dit dan? Julle eie volgelinge sal as julle regters optree en wys dat julle verkeerd is.

28

“Aangesien Ek deur die Gees van God die bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom.

29

“Hoe kan iemand tog by die huis van 'n sterk man ingaan en sy goed vat as hy nie vooraf die sterk man vasbind nie? Eers dan sal hy sy huis kan beroof.

30

“Wie nie aan my kant is nie, is teen My; en wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar.

31

“Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering kan die mense vergewe word, maar die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie.

32 As iemand iets teen die Seun van die mens sê, kan dit hom vergewe word; maar as iemand iets teen die Heilige Gees sê, kan dit hom nie vergewe word nie, nie in hierdie bedeling nie en ook nie in die toekomstige nie.”

33

“As julle sê 'n boom is goed, moet julle ook sê sy vrugte is goed; en as julle sê hy is sleg, moet julle ook sê sy vrugte is sleg. 'n Boom word tog aan sy vrugte geken.

34

“Julle slange! Hoe kan julle wat sleg is, iets goeds sê? Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

35 Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart; die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge in sy hart.

36

“Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag.

37 Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.”

38

Party van die skrifgeleerdes en die Fariseërs sê toe vir Hom: “Meneer, ons wil 'n wonderteken van u sien.”

39

Maar Hy antwoord hulle: “'n Slegte en afvallige geslag vra 'n teken, en geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.

40 Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van 'n groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees.

41 Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Hulle het hulle immers op die prediking van Jona bekeer. En hier staan Een wat groter is as Jona!

42 Die koningin van die Suide sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Sy het immers van die uithoeke van die aarde af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En hier staan Een wat groter is as Salomo!”

43

“Wanneer 'n onrein gees uit 'n mens weggaan, swerf hy deur dor streke op soek na 'n rusplek. As hy dit nie kry nie,

44 sê hy: ‘Ek gaan terug na my huis waaruit ek weggegaan het.’ Hy kom dan terug en kry dit onbewoon, skoon en aan die kant.

45 Dan gaan haal hy sewe ander geeste, nog slegter as hy self, en hulle trek saam met hom in en gaan woon daar. Aan die einde is so 'n mens slegter daaraan toe as aan die begin. So sal dit ook gaan met die slegte mense van vandag.”

46

Terwyl Jesus nog besig was om met die mense te praat, het sy moeder en broers buite gestaan, en hulle wou met Hom praat.

47

Iemand sê toe vir Hom: “U moeder en u broers staan daar buite en wil met U praat.”

48

Maar Hy sê vir die man wat dit vir Hom gesê het: “Wie is my moeder, en wie is my broers?”

49

Toe wys Hy met sy hand na sy dissipels en sê:

50 “Daar is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, dié is my broer en my suster en my moeder.”

13

1

Dieselfde dag het Jesus van die huis af gegaan en by die see gaan sit.

2 'n Groot menigte het so om Hom saamgedrom dat Hy in 'n skuit geklim en daarin gaan sit het, maar die mense het almal op die strand bly staan.

3 Hy het hulle baie dinge in gelykenisse vertel en onder andere gesê:

“'n Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het 'n deel van die saad op die pad geval, en

4 die voëls het gekom en dit opgepik.

5 'n Ander deel daarvan het op klipbanke geval, waar daar nie baie grond was nie, en dit het gou opgekom omdat die grond nie diep was nie.

6 Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog.

7 'n Ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het opgekom en dit laat verstik.

8 Die ander saad het in goeie grond geval en 'n oes gelewer, party honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudig.

9

“Wie ore het, moet luister!”

10

Die dissipels het vir Jesus kom vra: “Hoekom gebruik U gelykenisse as U met die mense praat?”

11

Hy het hulle geantwoord: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.

12 Wie het, vir hom sal nog meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.

13 Om hierdie rede praat Ek met hulle in gelykenisse: omdat hulle kyk maar nie sien nie, en hoor maar nie luister en verstaan nie.

14 In hulle geval word die profesie van Jesaja vervul wat sê:

“ ‘Julle sal hoor en hoor en tog niks verstaan nie, en kyk en kyk en tog niks sien nie.

15
Hierdie volk se verstand is afgestomp: hulle het hulle ore toegedruk en hulle oë toegemaak
sodat hulle nie met hulle oë kan sien en met hulle ore kan hoor
en met hulle verstand kan verstaan en hulle bekeer, en Ek hulle gesond maak nie.’

16

“Maar julle oë is bevoorreg dat hulle sien, en julle ore dat hulle hoor.

17 Dit verseker Ek julle: Baie profete en gelowiges wou graag sien wat julle sien, maar het dit nie gesien nie, en wou graag hoor wat julle hoor, maar het dit nie gehoor nie.”

18

“Luister julle dan na wat die gelykenis van die saaier beteken:

19 Die Bose kom by elkeen wat die woord van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is. Dit is hy by wie daar op die pad gesaai is.

20 Die man weer by wie daar op die klipbanke gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem.

21 Hy laat dit egter nie by hom wortel skiet nie, en hy hou nie lank uit nie. As hy ter wille van die woord verdruk en vervolg word, word hy gou afvallig.

22 Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug.

23 Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer 'n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig.”

24

Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met 'n man wat goeie saad op sy land gesaai het.

25 Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn.

26 Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword.

27 Die slawe van die boer kom sê toe vir hom: ‘Meneer, het u nie goeie saad op u land gesaai nie? Waar kom die onkruid dan vandaan?’

28 Hy antwoord hulle: ‘Dit is 'n vyand se werk.’ Die slawe sê toe vir hom: ‘Wil u hê ons moet dit gaan uittrek?’

29 ‘Nee,’ sê hy, ‘as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek.

30 Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.’ ”

31

Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het.

32 Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit 'n boom, sodat die voëls in sy takke kom nes maak.”

33

Hy het hulle nog 'n gelykenis vertel: “Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat 'n vrou gevat en in 'n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.”

34

Al hierdie dinge het Jesus vir die mense in gelykenisse geleer, en sonder 'n gelykenis het Hy hulle niks geleer nie.

35 So moes vervul word wat die Here deur 'n profeet gesê het:

“Ek sal gelykenisse gebruik as Ek praat;
Ek sal bekend maak wat geheim gebly het van die skepping af.”

36

Daarna het Jesus van die mense af weggegaan huis toe. Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Verduidelik tog vir ons die gelykenis van die onkruid in die land.”

37

Jesus antwoord: “Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens.

38 Die saailand is die wêreld. Die goeie saad, dit is die mense van die koninkryk; die onkruid is die aanhangers van die Bose;

39 die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld; dié wat oes, is die engele.

40

“Soos die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit by die voleinding van die wêreld wees.

41 Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree,

42 en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.

43 Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son.

“Wie ore het, moet luister.”

44

“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n skat wat in 'n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.

45

“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n handelaar wat op soek is na goeie pêrels.

46 As hy 'n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel.

47

“Verder gaan dit met die koninkryk van die hemel soos met 'n treknet wat in die see gegooi is en allerhande soorte vis vang.

48 As dit vol geword het, sleep hulle dit op die strand uit en gaan sit om die goeie vis in mandjies bymekaar te maak, maar die onbruikbares gooi hulle weg.

49 So sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die engele sal uitgaan en die slegtes skei van die goeies

50 en hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.”

51

“Verstaan julle al hierdie dinge?”

“Ja,” antwoord hulle Hom.

52

Hy sê toe vir hulle: “So is elke skrifgeleerde wat 'n leerling word in die koninkryk van die hemel, soos 'n huiseienaar wat uit sy voorraad nuwe en ou dinge te voorskyn bring.”

53

Toe Jesus hierdie gelykenisse klaar vertel het, het Hy daarvandaan weggegaan.

54 Hy het in die dorp gekom waar Hy grootgeword het, en Hy het die mense in hulle sinagoge so geleer dat hulle verstom was en gesê het: “Waar kry hy hierdie wysheid vandaan en die vermoë om die kragtige dade te doen?

55 Is hy dan nie die timmerman se seun nie? Is sy ma nie Maria en sy broers Jakobus, Josef, Simon en Judas nie?

56 En sy susters, is hulle nie almal hier by ons nie? Waar kry hy dan al hierdie dinge vandaan?”

57

En hulle wou niks van Hom weet nie.

Jesus sê toe vir hulle: “'n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring.”

58

Vanweë hulle ongeloof het Hy daar nie baie wonderwerke gedoen nie.

14

1

Daardie tyd het Herodes, die heerser, gehoor wat van Jesus vertel word,

2 en hy het vir sy paleispersoneel gesê: “Maar dit is mos Johannes die Doper! Hy is uit die dood opgewek, daarom werk die kragte in hom!”

3

Vroeër het Herodes vir Johannes laat vang, laat boei en in die tronk laat opsluit. Dit het hy gedoen oor Herodias die vrou van sy broer Filippus,

4 want Johannes het vir Herodes gesê: “U mag haar nie as vrou vat nie.”

5 Herodes wou hom daaroor doodmaak maar was tog bang vir die mense, omdat hulle hom as 'n profeet beskou het.

6

Met Herodes se verjaarsdagviering het die dogter van Herodias voor die gaste gedans. Herodes was so in sy skik met haar

7 dat hy 'n eed afgelê het dat hy vir haar sal gee net wat sy vra.

8 Haar ma het haar voorgesê en sy het gevra: “Gee vir my hier in 'n skottel die kop van Johannes die Doper.”

9

Hieroor het die koning baie sleg gevoel, maar vanweë die eed wat hy voor die gaste afgelê het, het hy opdrag gegee dat aan haar versoek voldoen moet word.

10 Hy het iemand gestuur en Johannes in die tronk laat onthoof.

11 Hulle het sy kop in 'n skottel ingebring en aan die meisie gegee, wat dit na haar ma toe gevat het.

12 Sy dissipels het sy liggaam kom haal en begrawe; en hulle het dit vir Jesus gaan vertel.

13

Toe Jesus dit hoor, het Hy met 'n skuit daarvandaan weggegaan na 'n stil plek om alleen te wees. Die mense het hiervan gehoor en Hom van die dorpe af te voet gevolg.

14 Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak.

15

Toe dit al aand begin word, het sy dissipels vir Hom kom sê: “Dit is 'n afgeleë plek en dit het al laat geword. Stuur die mense terug dat hulle vir hulle kan gaan kos koop in die dorpe.”

16

Maar Jesus sê vir hulle: “Hulle hoef nie weg te gaan nie. Gee julle vir hulle iets om te eet.”

17

Hulle sê toe vir Hom: “Ons het hier net vyf brode en twee visse.”

18

“Bring dit vir My hier,” sê Hy.

19

Hy het die menigte beveel om op die groen gras te gaan sit om te eet. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra die seën. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan sy dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee.

20 Al die mense het geëet en genoeg gekry, en hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood wat oorgebly het.

21 Daar was omtrent vyf duisend mans wat geëet het, afgesien van die vrouens en kinders.

22

Net daarna het Jesus sy dissipels in die skuit laat klim om solank voor Hom uit te vaar na die oorkant toe terwyl Hy nog eers die mense huis toe laat gaan.

23 Nadat Hy die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen.

24

Die skuit was reeds 'n paar kilometer van die kus af en is deur die golwe geteister, want die wind was van voor.

25 Met dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom.

26 Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: “Dis 'n spook!” Van angs het hulle hard begin skreeu.

27

Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”

28

Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.”

29

“Kom!” sê Hy.

Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom.

30 Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!”

31

Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”

32

Hulle het toe in die skuit geklim, en die wind het gaan lê.

33 Die manne in die skuit het voor Jesus gekniel en gesê: “U is waarlik die Seun van God.”

34

Hulle het toe land toe gevaar en by Gennesaret aan wal gegaan.

35 Net toe die mense van daardie plek agterkom wie Hy is, het hulle boodskappers deur daardie hele omgewing gestuur, en die mense het almal wat ongesteld was, na Hom toe gebring.

36 Hulle het Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak. En almal wat dit gedoen het, het gesond geword.

15

1

In dié tyd het daar Fariseërs en skrifgeleerdes van Jerusalem af by Jesus gekom en Hom gevra:

2 “Hoekom verontagsaam u dissipels die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte? As hulle gaan eet, was hulle nie hulle hande nie.”

3

“Waarom verontagsaam julle self die gebod van God ter wille van julle oorgelewerde gebruike?” het Jesus geantwoord.

4 “God het tog gesê: ‘Eer jou vader en jou moeder’ en: ‘Wie sy vader of sy moeder vloek, moet sekerlik doodgemaak word.’

5 Maar julle bepaal: ‘As iemand vir sy pa of sy ma sê: Die hulp wat u van my sou kon kry, maak ek 'n offergawe vir God,

6 dan hoef hy nie meer sy plig teenoor sy pa na te kom nie.’ So ontneem julle die woord van God sy gesag ter wille van julle oorgelewerde gebruike.

7 Huigelaars! Die profeet Jesaja het julle mooi opgesom toe hy gesê het:


8
“Hierdie volk eer My met hulle mond,
maar hulle hart is ver van My af.

9
Dit help niks dat hulle My probeer dien
deur leerstellings van mense
as gebooie van God voor te hou nie. ”

10

Toe het Jesus die menigte nader geroep en vir hulle gesê: “Julle moet nou luister en mooi verstaan!

11 Dit is nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie. Maar wat by die mond uitkom, dit maak 'n mens onrein.”

12

Daarna het die dissipels na Hom toe gekom en gesê: “Weet U dat die Fariseërs hulle vererg het toe hulle gehoor het wat U sê?”

13

Maar Jesus antwoord: “Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal uitgetrek word.

14 Laat staan hulle maar; hulle is blinde leiers van blindes. As 'n blinde 'n blinde lei, val altwee in die sloot.”

15

Petrus sê toe vir Hom: “Verduidelik tog vir ons die beeldspraak.”

16

“Verstaan ook julle dit nog nie?” antwoord Jesus.

17 “Begryp julle nie dat alles wat by die mond ingaan, na die maag toe gaan en daarna uit die liggaam uitgaan nie?

18 Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dít is die dinge wat die mense onrein maak.

19 Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery.

20 Dít is die dinge wat 'n mens onrein maak, maar om met ongewaste hande te eet, maak 'n mens nie onrein nie.”

21

Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon toe vertrek.

22 'n Kanaänitiese vrou wat in daardie gebied gewoon het, het onverwags by Hom aangekom. Sy het aanhoudend geroep: “Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van 'n bose gees, en dit gaan sleg.”

23

Maar Hy het haar niks geantwoord nie.

Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Stuur haar weg, want sy hou aan met skreeu hier agter ons.”

24

Jesus antwoord: “Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur.”

25

Maar die vrou kom kniel voor Hom en sê: “Here, help my!”

26

Hy sê vir haar: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.”

27

“Dit is waar, Here,” sê sy, “maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.”

28

“Mevrou,” sê Jesus vir haar, “jou geloof is groot. Jou wens word vervul.”

Van daardie oomblik af was die dogter gesond.

29

Jesus het daarvandaan vertrek en by die See van Galilea gekom. Hy het teen die berg opgegaan en daar gaan sit.

30 Baie mense het na Hom toe gekom met verlamdes, blindes, gebreklikes, dowes en nog baie ander, en hulle voor Hom neergesit. Hy het hulle gesond gemaak,

31 sodat die menigte hulle verwonder het toe hulle sien dat stommes praat, gebreklikes herstel is, verlamdes loop en blindes sien. En hulle het die God van Israel geprys.

32

Jesus het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Ek kry hierdie mense innig jammer, want hulle is nou al drie dae lank hier by My en hulle het niks om te eet nie. En Ek wil hulle ook nie sonder kos huis toe stuur nie, want hulle kan miskien op pad beswyk.”

33

Sy dissipels sê vir Hom: “Waar sal ons in hierdie verlate plek genoeg brood kry om so baie mense kos te gee?”

34

“Hoeveel brood het julle?” vra Hy vir hulle.

“Sewe,” antwoord hulle, “en 'n paar vissies.”

35

Hy het gesê die mense moet op die grond gaan sit.

36 Toe neem Hy die sewe brode en die visse en dank God daarvoor. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan die dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee.

37 Almal het geëet en genoeg gekry. En die dissipels het nog sewe mandjies vol bymekaargemaak van die stukke wat oorgebly het.

38 Daar was vier duisend mans wat geëet het, afgesien van die vrouens en kinders.

39

Daarna het Hy die mense huis toe gestuur, in die skuit geklim en na die gebied van Magadan vertrek.

16

1

Die Fariseërs en die Sadduseërs het gekom om Jesus op die proef te stel. Hulle het Hom gevra om vir hulle as teken uit die hemel 'n wonder te doen.

2

Maar Hy antwoord hulle: “In die aand sê julle: ‘Daar kom mooi weer, want die lug is rooi;’

3 in die môre sê julle: ‘Vandag sal dit onweer wees, want die lug is dynserig rooi.’ Julle weet hoe om die voorkoms van die lug te beoordeel, maar die tekens van die tye kan julle nie onderskei nie.

4 'n Slegte en afvallige geslag wil 'n teken hê, en geen teken sal aan hulle gegee word nie behalwe die teken van Jona.”

Hy het hulle daar gelaat en weggegaan.

5

Die dissipels het na die oorkantste oewer toe gegaan, maar vergeet om brood saam te neem.

6 Jesus het vir hulle gesê: “Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.”

7

Hulle het toe met mekaar daaroor gepraat en gesê: “Dit is omdat ons nie brood saamgebring het nie.”

8

Jesus het geweet wat hulle praat, en Hy sê vir hulle: “Kleingelowiges! Hoekom praat julle met mekaar daaroor dat julle nie brood het nie?

9 Verstaan julle nog nie en onthou julle nie die vyf brode vir die vyf duisend en hoeveel mandjies vol julle bymekaargemaak het nie?

10 En die sewe brode vir die vier duisend en hoeveel mandjies vol julle bymekaargemaak het nie?

11 Hoe is dit dan dat julle nie verstaan dat Ek nie met julle oor brood gepraat het nie? Ek het gesê: Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.”

12

Toe het hulle verstaan dat Hy nie bedoel het dat hulle vir gewone suurdeeg op hulle hoede moet wees nie maar vir die leer van die Fariseërs en die Sadduseërs.

13

Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?”

14

Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.”

15

“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”

16

Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

17

“Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie 'n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.

18 En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

19 Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

20

Toe het Jesus sy dissipels beveel om vir niemand te sê dat Hy die Christus is nie.

21

Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word.

22

Petrus het Hom toe opsy geneem en Hom begin berispe: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie.”

23

Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.”

24

Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg,

25 want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry.

26 Wat sal dit 'n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal 'n mens gee in ruil vir sy lewe?

27 Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld.

28 Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterwe voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.”

17

1

Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en sy broer Johannes saamgeneem en hulle op 'n hoë berg gebring waar hulle alleen was.

2 Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig.

3 Skielik het Moses en Elia aan hulle verskyn en met Jesus gepraat.

4

Toe sê Petrus vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. As U wil, sal ek hier drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”

5

Terwyl hy nog praat, het 'n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en 'n stem uit die wolk het gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.”

6

Toe sy dissipels dit hoor, het hulle baie bang geword en op die grond neergeval.

7 Maar Jesus het na hulle toe gekom, hulle aangeraak en gesê: “Staan op en moenie bang wees nie.”

8

Toe hulle opkyk, het hulle niemand gesien nie, net Jesus alleen.

9

Terwyl hulle van die berg afkom, het Jesus hulle beveel: “Wat julle gesien het, moet julle vir niemand vertel voordat die Seun van die mens uit die dood opgewek is nie.”

10

Die dissipels vra Hom toe: “Waarom sê die skrifgeleerdes dan dat Elia eers moet kom?”

11

“Elia kom wel om alles weer reg te maak,” antwoord Hy,

12 “maar Ek sê vir julle Elia het al gekom, maar hulle het hom nie herken nie en met hom gemaak net wat hulle wou. So sal ook die Seun van die mens deur hulle mishandel word.”

13

Toe het die dissipels verstaan dat Hy met hulle van Johannes die Doper gepraat het.

14

Toe hulle weer by die mense kom, het 'n man voor Hom kom kniel

15 en gesê: “Here, ontferm U tog oor my seun, want hy is geestelik versteurd en hy ly verskriklik. Hy val dikwels in die vuur en dikwels in die water.

16 Ek het hom al na u dissipels toe gebring, en hulle kon hom nie gesond maak nie.”

17

“Ongelowige en ontaarde geslag,” het Jesus gesê, “hoe lank moet Ek nog saam met julle wees? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom hier vir My!”

18

Jesus het die bose gees skerp aangespreek, en die bose gees het van die seun af weggegaan. Van daardie oomblik af het die seun gesond geword.

19

Die dissipels het toe alleen na Jesus toe gekom en gevra: “Waarom kon ons hom nie uitdryf nie?”

20

“Omdat julle geloof te klein is,” sê Hy vir hulle. “Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof het so groot soos 'n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”

21

22

Toe die dissipels weer in Galilea bymekaar was, het Jesus vir hulle gesê: “Die Seun van die mens gaan oorgelewer word in die hande van mense,

23 en hulle sal Hom doodmaak, en op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word.”

Hieroor het hulle baie bedroef geword.

24

By hulle aankoms in Kapernaum het die amptenare wat die tempelbelasting invorder, na Petrus toe gegaan en gesê: “Wat van julle leermeester? Betaal hy dan nie tempelbelasting nie?”

25

“Ja, natuurlik,” antwoord hy.

Toe hy in die huis kom, was Jesus hom voor met die vraag: “Simon, hoe dink jy: Van wie vorder die konings van die wêreld tol of belastings in? Van hulle seuns of van ander mense?”

26

Toe Petrus antwoord: “Van ander mense,” sê Jesus vir hom: “Dan is die seuns mos vrygestel.

27 Maar ons moenie hierdie mense aanstoot gee nie. Gaan see toe en gooi hoek in, en die eerste vis wat byt, moet jy uittrek. As jy sy bek oopmaak, sal jy 'n silwermuntstuk daarin kry. Vat dit en betaal hulle die belasting vir My en vir jou.”

18

1

In daardie tyd het die dissipels by Jesus gekom met die vraag: “Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel?”

2

Hy het 'n kindjie nader geroep en hom tussen hulle laat staan

3 en gesê: “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.

4 Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel.

5 En wie so 'n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My.”

6

“Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met 'n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink.

7 Hoe jammer tog vir die wêreld dat daar dinge is wat die mens afvallig maak! Sulke dinge kom noodwendig, maar wee die mens deur wie dit kom.

8

“As jou hand of jou voet jou van My afvallig maak, kap hom af en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om vermink of kreupel die lewe in te gaan as om met altwee jou hande of voete in die ewige vuur gegooi te word.

9 En as jou oog jou van My afvallig maak, ruk hom uit en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om met een oog die lewe in te gaan as om met altwee oë in die vuur van die hel gegooi te word.”

10

“Julle moet nooit een van hierdie kleintjies minag nie, want Ek verseker julle dat hulle engele in die hemel gedurigdeur by my hemelse Vader is.

11

12

“Hoe dink julle? As iemand honderd skape het en een van hulle raak weg, sal hy nie die nege en negentig daar in die bergveld laat staan en die een wat weg is, gaan soek nie?

13 En as hy hom kry, verseker Ek julle, is hy blyer oor hom as oor die nege en negentig wat nie weggeraak het nie.

14 So is dit ook nie die wil van julle Vader in die hemel dat een van hierdie kleintjies verlore moet gaan nie.”

15

“As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen.

16 Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word.

17 En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as 'n heiden en 'n tollenaar behandel.

18

“Dit verseker Ek julle: Wat julle ook al op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat julle ook al op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.

19 Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry,

20 want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”

21

Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?”

22

Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.

23 Daarom kan die koninkryk van die hemel vergelyk word met 'n koning wat besluit het om saam met sy amptenare hulle boeke na te gaan.

24 Toe hy daarmee begin, is een amptenaar na hom toe gebring wat miljoene rand geskuld het.

25 Hy kon dit nie betaal nie, en daarom het die koning beveel dat hy en sy vrou en sy kinders en alles wat hy het, verkoop en die skuld betaal moet word.

26 Die man het voor hom neergeval en gesoebat: ‘Gee my tog uitstel; ek sal u alles terugbetaal.’

27 Die koning het hom jammer gekry, hom laat gaan en sy skuld afgeskryf.

28

“Toe daardie man buite kom, het hy een van sy medeamptenare raakgeloop wat hom net 'n paar rand geskuld het. Hy het hom gegryp en gewurg, en gesê: ‘Betaal wat jy skuld!’

29 Sy medeamptenaar het voor hom neergeval en hom gesmeek: ‘Gee my tog uitstel, ek sal jou betaal.’

30 Maar hy wou nie en hy is daar weg om hom in die tronk te laat gooi totdat hy die skuld betaal het.

31

“Toe sy medeamptenare sien wat gebeur het, was hulle diep teleurgesteld, en hulle het alles wat gebeur het, vir hulle koning gaan vertel.

32 Die koning het hom laat haal en vir hom gesê: ‘Jou skurk! Al daardie skuld het ek vir jou afgeskryf omdat jy my gesoebat het.

33 Moes jy nie ook jou medeamptenaar jammer gekry het soos ek jou jammer gekry het nie?’

34 Die koning was woedend en het hom oorgegee om gemartel te word totdat hy al die skuld betaal het.

35

“So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”

19

1

Nadat Jesus klaar gepraat het, het Hy uit Galilea vertrek en in die gebied van Judea anderkant die Jordaan gekom.

2 Groot menigtes het agter Hom aan gegaan, en Hy het hulle daar gesond gemaak.

3

Daar was Fariseërs wat Hom op die proef wou stel, en hulle kom toe by Hom met die vraag: “Mag 'n man sommer oor enige ding van sy vrou skei?”

4

Hy het hulle geantwoord: “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie?

5 Daarby het Hy gesê: ‘Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.’

6 Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag 'n mens nie skei nie.”

7

Hulle vra Hom toe: “Waarom het Moses dan bepaal dat, as iemand sy vrou 'n skeibrief gee, hy van haar kan skei?”

8

Hy antwoord hulle: “Dit is oor die hardheid van julle harte dat Moses julle toegelaat het om van julle vrouens te skei, maar dit was nie van die begin af so nie.

9 Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor owerspel, en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk.”

10

Sy dissipels sê toe vir Hom: “As dit is hoe die saak met man en vrou staan, is dit beter om nie te trou nie.”

11

Maar Hy sê vir hulle: “Wat julle nou sê, is nie vir almal moontlik nie, net vir dié aan wie dit gegee is.

12 Daar is mense wat nie kan trou nie omdat hulle van hulle geboorte af so is, ander is deur mense so gemaak, en ander het self so gekies ter wille van die koninkryk van die hemel.

“Wie dit kan doen, laat hy dit doen.”

13

Die mense het kindertjies na Hom toe gebring dat Hy hulle die hande moet oplê en vir hulle moet bid. Sy dissipels het met hulle daaroor geraas.

14

Maar Jesus het gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.”

15

Nadat Hy hulle die hande opgelê het, het Hy daarvandaan weggegaan.

16

Daar het iemand na Hom toe gekom en gesê: “Meneer, watter goeie daad moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

17

Hy het vir hom gesê: “Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is. Maar as jy die ewige lewe wil ingaan, onderhou die gebooie.”

18

“Watter gebooie bedoel u?” het hy vir Hom gevra.

Jesus het gesê: “Dit: Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie,

19 eer jou vader en jou moeder en: jy moet jou naaste liefhê soos jouself. ”

20

“Dit alles het ek nagekom,” het die jongman gesê. “In watter opsig skiet ek nog te kort?”

21

Jesus het hom geantwoord: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.”

22

Toe die jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad.

23

Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “Dit verseker Ek julle: 'n Ryk mens sal moeilik in die koninkryk van die hemel kom.

24 Ek stel dit nog sterker: Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom.”

25

Toe die dissipels dit hoor, het dit hulle geweldig ontstel, en hulle het gesê: “Wie kan dan gered word?”

26

Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”

27

Toe sê Petrus vir Hom: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?”

28

Jesus antwoord hulle: “Dit verseker Ek julle: Wanneer alles nuut gemaak word, as die Seun van die mens op sy koninklike troon sit, sal ook julle wat My gevolg het, op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regeer.

29 En elkeen wat ter wille van my Naam afgesien het van huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe as erfenis kry.

30

“Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.”

20

1

“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met die eienaar van 'n wingerd wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur.

2

“Nadat hy met die arbeiders ooreengekom het om hulle die gewone dagloon te betaal, stuur hy hulle om in sy wingerd te gaan werk.

3 Teen nege-uur gaan hy weer uit en sien ander werkloos op die mark rondstaan,

4 en hy sê vir hulle: ‘Gaan werk julle ook in my wingerd, en wat billik is, sal ek julle betaal.’

5 Hulle is toe soontoe. Teen twaalfuur en teen drie-uur het hy weer uitgegaan en dieselfde gedoen.

6 Omtrent vyfuur gaan hy uit en kry ander wat daar rondstaan, en hy sê vir hulle: ‘Waarom staan julle heeldag werkloos hier rond?’

7 Hulle antwoord hom: ‘Omdat niemand ons gehuur het nie.’ ‘Gaan werk julle ook in my wingerd,’ sê hy toe vir hulle.

8

“Toe dit aand word, sê die eienaar van die wingerd vir sy voorman: ‘Roep die arbeiders en betaal hulle hulle loon. Begin by die laastes en eindig by die eerstes.’

9

“Dié wat teen vyfuur gehuur is, kom toe en kry elkeen die gewone dagloon.

10 Die mense wat eerste gehuur is, het gedink hulle sou meer kry, maar toe hulle aan die beurt kom, kry hulle ook elkeen die gewone dagloon.

11 Hulle vat toe die geld maar begin by die eienaar kla

12 en sê: ‘Hierdie laastes het net een uur gewerk, en nou betaal u hulle dieselfde loon as vir ons wat die hele dag hard gewerk het in die warm son.’

13

“Maar hy antwoord een van hulle: ‘Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir die gewone dagloon nie?

14 Vat jou geld en gaan huis toe. Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou.

15 Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is?’

16

“So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste.”

17

Terwyl Jesus na Jerusalem toe op pad was, neem Hy die twaalf dissipels opsy, en so in die loop sê Hy vir hulle:

18 “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel.

19 Hulle sal Hom uitlewer aan die heidene, wat Hom sal bespot en gesel en kruisig. En op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word.”

20

Toe kom die vrou van Sebedeus met haar twee seuns by Jesus en kniel voor Hom om Hom 'n guns te vra.

21

“Wat kan Ek vir u doen?” vra Hy vir haar.

Sy sê vir Hom: “Belowe my dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk langs U mag sit, een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.”

22

Toe antwoord Jesus: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die lydensbeker drink wat Ek gaan drink?”

“Ons kan,” antwoord hulle.

23

Jesus sê toe vir hulle: “Ja, my beker sal julle drink. Maar om aan my regter- en my linkerhand te sit, daaroor besluit Ek nie; dit is vir dié vir wie my Vader dit gereed gemaak het.”

24

Toe die tien ander dissipels dit hoor, was hulle kwaad vir die twee broers.

25

Jesus roep hulle toe nader en sê: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik.

26 Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees;

27 en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees.

28 So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”

29

Toe hulle uit Jerigo uitgaan, het 'n groot menigte Jesus gevolg.

30 Twee blinde mans wat langs die pad gesit het, het gehoor dat Jesus verbykom. Toe roep hulle uit: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!”

31

Die mense het met hulle geraas en gesê hulle moet stilbly, maar hulle het al hoe harder geroep: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!”

32

Jesus het gaan staan, hulle geroep en gevra: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?”

33

Hulle sê toe vir Hom: “Here, dat ons oë oopgaan.”

34

Jesus het hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien en het hulle Hom gevolg.

21

1

Toe hulle naby Jerusalem kom en Betfage aan die Olyfberg bereik, het Jesus twee dissipels vooruit gestuur

2 en vir hulle gesê: “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar 'n donkie kry wat vasgemaak is, en 'n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My.

3 En as iemand vir julle iets daaroor sê, antwoord dan: Die Here het hulle nodig, en Hy sal hulle gou weer terugstuur.”

4

Dit het gebeur sodat die uitspraak van die profeet vervul sou word:


5
“Sê vir Sion:
Kyk, jou Koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op 'n donkie, op die vul van 'n pakdier.”

6

Die twee dissipels het toe vooruit gegaan en gedoen wat Jesus hulle beveel het.

7 Hulle het die donkie en die vul gebring, van hulle klere op die diere gesit, en Jesus het opgeklim.

8 Die grootste deel van die skare het van hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takkies van die bome afgebreek en dit op die pad gestrooi.

9 Die mense wat voor Jesus geloop het en dié wat agter Hom aan gekom het, het begin uitroep:

“Prys die Seun van Dawid!
Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!
Prys Hom in die hoogste hemel!”

10

Toe Jesus in Jerusalem ingaan, het die hele stad in beroering gekom en gevra: “Wie is hierdie man?”

11

Die skare het geantwoord: “Dit is die profeet Jesus van Nasaret in Galilea!”

12

Jesus het tempel toe gegaan en al die mense wat op die tempelplein koop en verkoop, daar uitgejaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi

13 en vir hulle gesê: “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal 'n huis van gebed wees,’ maar julle maak dit 'n rowersnes.”

14

Blindes en kreupeles het daar in die tempel na Hom toe gekom, en Hy het hulle gesond gemaak.

15 Maar toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes die wonderlike dinge sien wat Hy doen, en ook die kinders wat in die tempel aanhou uitroep: “Prys die Seun van Dawid!” was hulle verontwaardig.

16 Hulle sê toe vir Hom: “Hoor jy wat sê hulle daar?”

“Ja,” antwoord Jesus. “Het julle nooit gelees nie: U het daarvoor gesorg dat kinders en suigelinge u lof sing ?”

17

Toe het Hy hulle verlaat en uit die stad uitgegaan na Betanië toe, waar Hy die nag gebly het.

18

Vroeg die môre op pad terug stad toe het Jesus honger gekry.

19 Toe Hy 'n alleenstaande vyeboom langs die pad sien, gaan Hy daarheen, maar Hy het niks anders as blare daaraan gekry nie. Hy sê toe vir die boom: “Jy sal in der ewigheid nooit weer vrugte dra nie.”

En die vyeboom het dadelik verdroog.

20

Toe die dissipels dit sien, was hulle verbaas en het hulle gevra: “Hoe het die vyeboom dan so skielik verdroog?”

21

Daarop antwoord Jesus hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle kan doen wat Ek aan die vyeboom gedoen het. Meer nog: Julle sal vir hierdie berg kan sê: ‘Lig jou op en val in die see!’ en dit sal gebeur.

22 As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.”

23

Jesus het na die tempel toe gegaan, en terwyl Hy besig was om die mense te leer, kom die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk na Hom toe en vra: “Met watter gesag doen u hierdie dinge? En wie het u hierdie gesag gegee?”

24

Toe antwoord Jesus hulle: “Ek gaan julle een ding vra, en as julle My daarop antwoord, sal Ek vir julle sê met watter gesag Ek hierdie dinge doen.

25 Die doop van Johannes, waar het dit vandaan gekom: van God, of van mense af?”

Hulle redeneer toe onder mekaar: “As ons sê: ‘Van God af,’ sal hy vir ons sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’

26 Maar as ons sê: ‘Van mense af,’ kom ons by die mense in die moeilikheid, want almal beskou Johannes as 'n profeet.”

27

Toe antwoord hulle vir Jesus: “Ons weet nie.”

En Hy sê vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”

28

“Wat sê julle hiervan? Daar was 'n man met twee seuns. Hy het vir die een gaan sê: ‘Seun, gaan werk vandag in die wingerd.’

29 ‘Ek wil nie!’ antwoord hy, maar later het hy spyt gekry en tog gegaan.

30 Die man het toe na die ander seun toe gegaan en vir hom dieselfde gesê. Hy het geantwoord: ‘Goed, Pa,’ maar hy het nie gegaan nie.

31 Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê?”

Hulle sê: “Die eerste.”

Toe sê Jesus vir hulle: “Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in.

32 Johannes het gekom om julle die regte pad te wys, en julle het hom nie geglo nie, maar tollenaars en prostitute het hom geglo. Maar selfs toe julle dit sien, het julle nie agterna berou gekry en hom geglo nie.”

33

“Luister na nog 'n gelykenis,” het Jesus gesê. “Daar was 'n grondbesitter wat 'n wingerd geplant en 'n klipmuur daar rondom gebou het. Hy het daarin ook 'n parskuip uitgekap en 'n wagtoring opgerig. Toe het hy dit aan boere verhuur en op reis gegaan.

34 Toe dit tyd geword het vir die druiweoes, het hy van sy slawe na die boere toe gestuur om sy deel van die oes te gaan haal.

35 Maar die boere het sy slawe gevang, die een geslaan, en 'n ander een doodgemaak en 'n ander een gestenig.

36 Die eienaar het toe weer ander slawe gestuur, meer as die eerstes, maar die boere het met hulle net so gemaak.

37 Heel laaste het hy sy seun na hulle toe gestuur met die gedagte: hulle sal tog my seun ontsien.

38 Maar toe die boere die seun sien, sê hulle vir mekaar: ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons maak hom dood en vat sy erfenis.’

39 Hulle het hom toe gegryp en hom uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak.

40

“As die eienaar van die wingerd terugkom, wat sal hy met daardie boere doen?”

41

Hulle antwoord Hom: “Hy sal daardie slegte mense 'n vreeslike dood laat sterwe en die wingerd aan ander boere verhuur wat hom op die regte tyd sy deel van die oes sal gee.”

42

Toe sê Jesus vir hulle: “Julle het tog al in die Skrif gelees:

“Die klip wat deur die bouers afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.
Dit is deur die Here gedoen en is 'n wonder in ons oë.

43

“Daarom sê Ek vir julle dat die koninkryk van God van julle weggeneem sal word en aan 'n volk gegee sal word wat die vrugte daarvan sal lewer.

44

“Wie op hierdie klip val, sal verpletter word, en die een op wie hy val, sal hy vermorsel.”

45

Toe die priesterhoofde en die Fariseërs Jesus se gelykenisse hoor, het hulle besef dat Hy op hulle sinspeel.

46 Daarom wou hulle Hom gevange neem, maar hulle was bang vir die skare, omdat dié Hom as 'n profeet beskou het.

22

1

Jesus het weer in gelykenisse met die mense gepraat.

2 Hy het gesê: “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n koning wat vir sy seun 'n bruilofsfees voorberei het.

3 Hy het sy slawe uitgestuur om die genooides na die bruilof te roep, maar hulle wou nie kom nie.

4 Toe stuur hy weer ander slawe met die opdrag: ‘Sê vir die genooides: Die maaltyd is reg; my beeste en vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed. Kom na die bruilof toe.’

5

“Maar die genooides het hulle nie daaraan gesteur nie, en die een het na sy stuk grond en 'n ander een na sy werkplek toe gegaan.

6 En party het sy slawe gegryp en mishandel en doodgemaak.

7 Die koning het kwaad geword en sy leër gestuur om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad aan die brand te steek.

8

“Toe sê hy vir sy slawe: ‘Alles staan klaar vir die bruilofsfees, maar die genooides was dit nie werd nie.

9 Gaan nou uit na die straathoeke en nooi soveel mense as wat julle teenkom, na die bruilofsfees toe.’

10 Toe het daardie slawe uitgegaan op die strate en almal wat hulle gekry het, bymekaargemaak, slegtes sowel as goeies. So het die feessaal vol gaste geword.

11

“Toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar 'n man wat nie bruilofsklere aanhet nie,

12 en hy sê vir hom: ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder bruilofsklere aan?’ Maar die man kon niks antwoord nie.

13 Toe sê die koning vir sy dienaars: ‘Bind sy hande en sy voete vas en gooi hom uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’

14

“Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.”

15

Toe het die Fariseërs gaan besluit om Jesus met 'n vraag in 'n val te lok.

16 Hulle stuur toe van hulle volgelinge saam met 'n aantal Herodiane om vir Hom te sê: “Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek en getrou aan die waarheid die wil van God bekend maak sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie.

17 Sê vir ons wat dink u: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie?”

18

Maar Jesus het deur hulle valsheid gesien en vir hulle gesê: “Huigelaars! Waarom stel julle vir My 'n strik?

19 Wys vir My die muntstuk waarmee die belasting betaal word.”

Hulle bring toe die muntstuk vir Hom,

20 en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en naam is hierop?”

21

“Die keiser s'n,” antwoord hulle.

Jesus sê vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”

22

Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas en het hulle Hom met rus gelaat en weggegaan.

23

Op dieselfde dag het daar Sadduseërs by Jesus gekom. Dit is hulle wat beweer dat daar nie 'n opstanding is nie. Hulle vra Hom toe:

24 “Meneer, Moses het gesê: ‘As iemand sterwe sonder om kinders te hê, moet sy broer met die weduwee trou en 'n nageslag vir sy broer verwek.’

25 Nou was daar by ons sewe broers. Die oudste het getrou en gesterwe. Omdat daar nie kinders was nie, het sy broer met die weduwee getrou.

26 Dieselfde het gebeur met die tweede en die derde broer en uiteindelik met al sewe.

27 En heel laaste van almal het die vrou ook gesterwe.

28 Met die opstanding dan, wie se vrou sal sy wees? Al sewe het haar mos as vrou gehad.”

29

Maar Jesus antwoord hulle: “Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie.

30 Met die opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel.

31 En wat die opstanding van die dooies betref, het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie:

32 ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob’ ? Hy is nie die God van dooies nie maar van lewendes.”

33

Toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer.

34

Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom,

35 en een van hulle, 'n wetgeleerde, het Hom met 'n vraag probeer vastrek.

36 “Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37

Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand.

38 Dit is die grootste en die eerste gebod.

39 En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

40 In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

41

Toe die Fariseërs bymekaar was, vra Jesus vir hulle:

42 “Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?”

“Dawid s'n,” antwoord hulle Hom.

43

Hy sê toe vir hulle: “Waarom het Dawid deur die ingewing van die Gees Hom dan ‘Here’ genoem? Hy sê tog:


44
“ ‘Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.’

45

“As Dawid self Hom ‘Here’ noem, hoe kan Hy dan Dawid se seun wees?”

46

Niemand kon Hom daarop iets antwoord nie. Van dié dag af het niemand dit meer gewaag om Hom 'n vraag te stel nie.

23

1

Toe het Jesus die menigte en sy dissipels toegespreek

2 en gesê: “Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het die gesag om die wet van Moses te vertolk.

3 Julle moet alles doen en onderhou wat hulle vir julle sê, maar hulle voorbeeld moet julle nie navolg nie, want hulle doen self nie wat hulle sê nie.

4 Hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers, maar self wil hulle nie 'n vinger verroer om dit te dra nie.

5 Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word. Hulle maak die gebedsband om hulle voorkop breed, en die tossels aan hulle klere groot.

6 Hulle hou van die ereplekke by die feesmaaltye, en van die voorste plekke in die sinagoges

7 en om op straat deur die mense begroet en as ‘rabbi’ aangespreek te word.

8

“Maar julle moet julle nie ‘rabbi’ laat noem nie; net Een is julle Leermeester en julle is almal broers.

9 Moet niemand hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want Een is julle Vader: die Vader in die hemel.

10 Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem nie, want Een is julle Leier: die Christus.

11

“Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien.

12 Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word.”

13

“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle sluit die deur van die koninkryk in die mense se gesig toe. Julle gaan self nie in nie, en julle verhinder dié wat wel wil ingaan.

14

15

“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle trek oor see en land rond om een bekeerling te maak, en as hy dit word, maak julle hom twee maal so ryp vir die hel as wat julle self is.

16

“Ellende wag vir julle, julle wat ander wil lei en self blind is. Julle sê: ‘As iemand by die tempel 'n eed aflê, is hy nie aan sy eed gebind nie, maar as hy by die goud van die tempel 'n eed aflê, moet hy die eed nakom.’

17 Blinde dwase! Wat is belangriker: die goud of die tempel waardeur die goud geheilig word?

18 Julle sê ook: ‘As iemand by die altaar 'n eed aflê, is hy nie aan sy eed gebind nie, maar as hy by die offergawe bo-op die altaar 'n eed aflê, moet hy die eed nakom.’

19 Julle blindes! Wat is belangriker: die offergawe of die altaar waardeur die offergawe geheilig word?

20 Wie by die altaar 'n eed aflê, lê 'n eed af by die altaar en by alles wat daarop is.

21 Wie by die tempel 'n eed aflê, lê 'n eed af by die tempel en by God wat daarin woon.

22 En wie by die hemel 'n eed aflê, lê 'n eed af by die troon van God en by God wat daarop sit.

23

“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet 'n mens doen en die ander nie nalaat nie.

24 Blinde leiers! Julle skep die muggie uit julle beker uit, maar julle sluk die kameel in.

25

“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binne is hulle vol hebsug en onmatigheid.

26 Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal sy buitekant ook skoon wees.

27

“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is.

28 So is julle ook: van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die wet.”

29

“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle hou die grafte van die profete in stand en versier die gedenktekens van die vromes,

30 en julle sê: ‘As ons in die dae van ons voorvaders gelewe het, sou ons nie medepligtig gewees het aan die vergieting van die bloed van die profete nie.’

31 Op dié manier erken julle self dat julle nakomelinge is van die moordenaars van die profete.

32 Gaan maar aan, maak klaar wat julle voorvaders begin het!

33

“Julle slange, addergeslag! Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel?

34 Luister dus goed! Ek stuur profete, wyse manne en leraars na julle toe. Julle sal party van hulle doodmaak en kruisig, en party in julle sinagoges gesel en hulle van die een dorp na die ander vervolg.

35 So sal julle verantwoordelik wees vir die bloed van al die vromes wat op die aarde uitgestort is, van die bloed van die onskuldige Abel af tot by die bloed van Sagaria seun van Berekja, vir wie julle tussen die tempel en die altaar vermoor het.

36 Dit verseker Ek julle: Die straf vir al hierdie dinge sal op die mense van vandag neerkom.”

37

“Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie!

38 Kyk, nou word julle stad as puinhoop aan julle oorgelaat.

39 Maar Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom! ”

24

1

Toe Jesus van die tempel af weggaan, het sy dissipels nader gekom en sy aandag op die tempelgeboue gevestig.

2 Maar Hy antwoord hulle: “Julle sien al hierdie dinge? Dit verseker Ek julle: Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.”

3

Nadat Jesus op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom toe en vra: “Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat sal die teken van u koms en van die einde van hierdie wêreld wees?”

4

Jesus antwoord hulle: “Pas op dat niemand julle mislei nie.

5 Baie sal onder my Naam kom en sê: ‘Ek is die Christus,’ en hulle sal baie mense mislei.

6 Julle sal die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor. Pas op, moenie verskrik word nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie.

7 Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander; daar sal op baie plekke hongersnode en aardbewings wees.

8 Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.

9

“Die mense sal julle oorlewer om mishandel te word, en hulle sal julle doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle my Naam bely.

10 In daardie tyd sal baie mense van die geloof afvallig word, en hulle sal mekaar verraai en mekaar haat.

11

“Daar sal baie vals profete kom, en hulle sal baie mense mislei.

12 Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die liefde by baie verkoel.

13 Maar wie tot die einde volhard, sal gered word.

14 En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.”

15

“Wanneer julle ooreenkomstig die woord van die profeet Daniël die ding wat 'n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, in die heilige plek sien staan — wie dit lees, moet dit goed begryp —

16 dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug.

17 Die man wat op die dakstoep sit, moet nie ingaan om sy goed uit die huis te gryp nie,

18 en die man wat op die land is, moet nie omdraai om sy klere te gaan haal nie.

19

“Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het.

20 Bid dat julle nie in die winter of op 'n sabbatdag hoef te vlug nie,

21 want in daardie tyd sal daar so 'n groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af nie was nie en ook nie weer sal wees nie.

22 En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort.

23

“As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of: ‘Kyk, daar is Hy!’ moet julle dit nie glo nie.

24 Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal groot tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, selfs die uitverkorenes te mislei.

25 Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê.

26 En as die mense vir julle sê: ‘Kyk, Hy is in die woestyn!’ moet julle nie daarheen gaan nie; of as hulle sê: ‘Hy is in die slaapkamer!’ moet julle dit nie glo nie.

27 Die koms van die Seun van die mens sal wees soos 'n weerligstraal wat in die ooste uitslaan en die hele lugruim tot in die weste verlig.

28

“Waar die aas ook al lê, daar sal die aasvoëls bymekaarkom.”


29
“Kort na die verdrukking van daardie tyd
sal die son verduister word, en die maan sal nie skyn nie;
die sterre sal uit die ruimte val, en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word.

30

“Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn, en al die volke van die aarde sal verslae wees. Hulle sal die Seun van die mens op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit.

31 Die groot trompet sal weerklink, en Hy sal sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde af.”

32

“Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke begin sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby.

33 So moet julle ook wanneer julle al hierdie dinge sien, weet dat die tyd naby is, voor die deur.

34 Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur.

35 Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”

36

“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.

37 Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens.

38 In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het.

39 Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens.

40 Dan sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.

41 Twee vroue sal by die meul koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.

42 Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie.

43

“Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie.

44 Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie.”

45

“Wie is eintlik die getroue en verstandige slaaf vir wie sy eienaar oor sy ander slawe aangestel het om hulle op tyd kos te gee?

46 Dit is die slaaf vir wie sy eienaar by sy tuiskoms so aan die werk sal kry. Gelukkig is hy!

47 Dit verseker Ek julle: Hy sal hom aanstel oor alles wat hy besit.

48

“Maar as dit 'n slegte slaaf is, sal hy by homself dink: my eienaar bly lank weg.

49 Dan sal hy die ander slawe begin slaan en saam met die dronkaards eet en drink.

50 Die eienaar van daardie slaaf sal op 'n dag kom dat hy dit nie verwag nie, en op 'n uur wat hy nie vooraf weet nie.

51 Dan sal sy eienaar hom laat doodmaak en hom die lot van huigelaars laat deel. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.”

25

1

“Dan sal dit met die koninkryk van die hemel gaan soos met tien meisies wat hulle lampe gevat het om die bruidegom te gaan inwag.

2 Vyf van hulle was onverstandig en vyf verstandig.

3 Die onverstandiges het hulle lampe gevat maar nie ekstra olie met hulle saamgevat nie,

4 terwyl die verstandiges saam met hulle lampe ook nog olie in houers gevat het.

5 Toe die bruidegom lank wegbly, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.

6

“In die middel van die nag was daar 'n geroep: ‘Hier kom die bruidegom! Gaan hom tegemoet!’

7 Toe staan al die meisies op en maak hulle lampe reg.

8 Die onverstandiges sê toe vir die verstandiges: ‘Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan dood.’

9 Maar die verstandiges antwoord: ‘Nee, daar is nie genoeg vir ons en vir julle nie. Gaan liewer winkel toe en koop vir julle olie.’

10

“Terwyl die onverstandiges olie gaan koop het, het die bruidegom gekom. Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof toe, en die deur is gesluit.

11

“Later kom die ander meisies ook daar aan en roep: ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop!’

12 Maar die bruidegom antwoord: ‘Ek sê vir julle: Ek ken julle nie!’

13

“Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie.”

14

“Verder gaan dit soos met 'n man wat op reis wou gaan. Hy het sy slawe bymekaargeroep en sy besittings aan hulle toevertrou.

15 Vir een het hy vyf goue muntstukke gegee, vir 'n ander twee, en vir 'n derde een. Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee en toe op reis gegaan.

16

“Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, het dadelik daarmee gaan werk en 'n wins gemaak van nog vyf.

17 So ook die een wat twee gekry het: hy het 'n wins gemaak van nog twee.

18 Maar die slaaf wat een gekry het, het 'n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek.

19

“Na 'n lang tyd het die eienaar van daardie slawe teruggekom en van hulle rekenskap gevra.

20 Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, kom toe en bring die ander vyf saam, en sê: ‘Meneer, vyf goue muntstukke het u aan my toevertrou. Hier is dit met vyf ander wat ek wins gemaak het.’

21 Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Mooi so! Jy is 'n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’

22

“Toe kom die een met die twee goue muntstukke en sê: ‘Meneer, twee goue muntstukke het u aan my toevertrou. Hier is dit met twee ander wat ek wins gemaak het.’

23 Sy eienaar sê toe vir hom: ‘Mooi so! Jy is 'n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’

24

“Toe kom die een wat een goue muntstuk ontvang het, en sê: ‘Meneer, ek ken u en weet dat u 'n harde man is, wat oes waar u nie gesaai het nie, en pluk waar u nie geplant het nie.

25 Omdat ek bang was, het ek u muntstuk in die grond gaan begrawe. Hier het u u geld terug.’

26 Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Jy is 'n slegte en 'n lui slaaf! Jy het geweet dat ek oes waar ek nie gesaai het nie, en pluk waar ek nie geplant het nie.

27 Dan moes jy my geld in die bank gesit het, en ek sou dit by my koms met rente teruggekry het.

28 Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit aan die een wat die tien het.

29 Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.

30 En gooi die nuttelose slaaf uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’ ”

31

“Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit.

32 Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring word, en Hy sal die mense van mekaar skei soos 'n wagter die skape van die bokke skei.

33 Die skape sal Hy regs en die bokke links van Hom laat staan.

34

“Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit,

35 want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My gehuisves;

36 Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.’

37 Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink?

38 En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee?

39 Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’

40 En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’

41

“Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is,

42 want Ek was honger, en julle het My niks gegee om te eet nie; Ek was dors, en julle het My niks gegee om te drink nie;

43 Ek was 'n vreemdeling, en julle het My nie gehuisves nie; sonder klere, en julle het My nie klere gegee nie; siek en in die tronk, en julle het My nie versorg nie.’

44 Dan sal hulle ook antwoord: ‘Here, wanneer het ons U honger of dors of 'n vreemdeling of sonder klere of siek of in die tronk gesien en U nie gehelp nie?’

45 En Hy sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.’

46 En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe.”

26

1

Nadat Jesus oor al hierdie dinge klaar gepraat het, het Hy vir sy dissipels gesê:

2 “Julle weet dat dit oor twee dae paasfees is. Dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig te word.”

3

In daardie tyd het die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk bymekaargekom in die woning van Kajafas, die hoëpriester.

4 Hulle het daar saam planne gemaak om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak.

5 Hulle het egter gesê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie oproer onder die volk kom nie.”

6

[6-7] Terwyl Jesus in Betanië in die huis van Simon die melaatse aan tafel was, het 'n vrou by Jesus gekom met 'n albaste fles baie kosbare reukolie en dit op sy kop uitgegiet.

7

8

Toe die dissipels dit sien, was hulle verontwaardig. “Waarom so 'n verkwisting?” vra hulle.

9 “'n Mens kon die reukolie vir baie geld verkoop het en dit vir armes gegee het.”

10

Jesus het dit gemerk en vir hulle gesê: “Waarom maak julle dit vir die vrou moeilik? Sy het 'n goeie daad aan My gedoen.

11 Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.

12 Deur hierdie reukolie op my liggaam uit te giet, het sy My voorberei vir my begrafnis.

13 Dit verseker Ek julle: Oral waar hierdie evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot 'n herinnering aan haar.”

14

Toe het een van die twaalf dissipels, die een wat Judas Iskariot genoem is, na die priesterhoofde toe gegaan

15 en gesê: “Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom?” Hulle het hom toe dertig silwermuntstukke betaal.

16 Van toe af was hy op die uitkyk na 'n geskikte geleentheid om Jesus te verraai.

17

Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood kom die dissipels na Jesus toe en vra: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?”

18

Jesus het geantwoord: “Gaan in die stad na so en so toe en sê vir hom: ‘Ons Leermeester sê: My tyd is naby. In jou huis wil Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd hou.’ ”

19

Die dissipels het gemaak soos Jesus aan hulle opgedra het, en die paasmaaltyd voorberei.

20

Toe dit aand geword het, het Jesus sy plek aan die tafel ingeneem saam met die twaalf.

21 Terwyl hulle eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.”

22

Hulle was baie onthuts en een na die ander het Hom begin vra: “Dit is tog nie ek nie, Here?”

23

Hy antwoord toe: “Die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek, dit is hy wat My sal verraai.

24 Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”

25

Toe sê Judas, sy verraaier: “Is dit miskien ek, Rabbi?”

Jesus antwoord: “Dit is soos jy sê!”

26

En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.”

27

Toe neem Hy 'n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal daaruit,

28 want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes.

29 Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.”

30

Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.

31

Toe sê Jesus vir hulle: “Julle almal sal My vannag nog in die steek laat. Daar staan immers geskrywe:

“ ‘Ek sal die herder doodmaak,
en die skape van sy kudde sal uitmekaar gejaag word.’

32

“Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruitgaan na Galilea toe.”

33

Daarop het Petrus vir Hom gesê: “Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie.”

34

Toe sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek jou: Vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.”

35

Petrus sê vir Hom: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!”

Al die ander dissipels het ook so gesê.

36

Daarna kom Jesus met sy dissipels by 'n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.”

37

Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword

38 en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.”

39

Hy het 'n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”

40

Daarna kom Hy na die dissipels toe terug en kry hulle aan die slaap. Hy sê toe vir Petrus: “Kon julle nie eens een uur lank saam met My waak nie?

41 Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.”

42

'n Tweede keer het Hy gaan bid en gesê: “My Vader, as hierdie lydensbeker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.”

43

Toe Hy terugkom, kry Hy hulle weer aan die slaap, want van die vaak kon hulle nie hulle oë oophou nie.

44

Hy het hulle weer alleen laat bly en 'n derde keer gaan bid en dieselfde woorde gesê.

45 Toe kom Hy na die dissipels toe terug en sê vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Die uur het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van sondaars oorgegee.

46 Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.”

47

Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, een van die twaalf, daar aan, en saam met hom was 'n groot klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk gestuur.

48

Die verraaier het met die manne 'n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom!”

49 Hy het reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Goeiemôre, Rabbi,” en Hom gesoen.

50

Maar Jesus sê vir hom: “Vriend, doen wat jy gekom het om te doen!”

Toe kom hulle vorentoe, gryp vir Jesus en neem Hom gevange.

51

Een van dié wat saam met Jesus was, gryp toe sy swaard en trek dit uit. Hy slaan na die slaaf van die hoëpriester en kap sy oor af.

52 Toe sê Jesus vir hom: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom.

53 Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel.

54 Maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?”

55

Dit was toe dat Jesus vir die klomp mense gesê het: “Was dit vir julle nodig om met swaarde en stokke uit te gaan om My te vang asof Ek 'n rower is? Dag vir dag het Ek in die tempel gesit en die mense geleer, en julle het My nie gevange geneem nie.

56 Maar dit alles het gebeur sodat die geskrifte van die profete vervul kan word.”

Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop.

57

Die mense wat vir Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die familiehoofde bymekaargekom het.

58 Petrus het op 'n afstand agter Hom aan gegaan tot by die binnehof van die hoëpriester se woning. Hy het ingegaan en daar by die wagte gaan sit om te kyk hoe dit afloop.

59

Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het vals getuienis teen Jesus probeer kry sodat hulle Hom kon doodmaak.

60 Baie vals getuies het na vore gekom, en tog kon die Raad niks teen Hom vind nie. Eindelik het daar twee vorentoe gekom

61 en gesê: “Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en in drie dae weer opbou.”

62

Toe staan die hoëpriester op en sê vir Hom: “Verweer jy jou glad nie? Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?”

63

Maar Jesus het niks gesê nie. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek stel jou onder 'n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?”

64

Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle:

“Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel. ”

65

Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Hy het God gelaster. Waarvoor het ons nog getuies nodig? Daar het julle nou net die godslasterlike woorde gehoor.

66 Wat dink julle?”

Hulle het geantwoord: “Hy verdien die dood!”

67

Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Hulle het Hom geklap

68 en gesê: “Jy is mos 'n profeet, Christus! Sê vir ons, wie het jou geslaan?”

69

Petrus het buite in die binnehof gesit toe 'n diensmeisie na hom toe kom en sê: “Jy was ook saam met Jesus die Galileër.”

70

Maar hy het dit voor almal ontken: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.”

71

Hy gaan toe na die uitgang van die binnehof. Daar sien 'n ander diensmeisie hom en sê vir dié wat daar staan: “Hierdie man was saam met Jesus van Nasaret.”

72

Weer het Petrus dit ontken en met 'n eed gesê: “Ek ken die man nie!”

73

'n Rukkie later kom die manne wat daar staan, na Petrus toe en sê: “Dit is waar, jy is ook een van hulle. 'n Mens kan dit aan jou spraak hoor.”

74

Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Ek ken die man nie!”

75

En op daardie oomblik het daar 'n haan gekraai. Toe val dit Petrus by wat Jesus gesê het: “Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.” En hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.

27

1

Die môre vroeg het al die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk die besluit geneem om Jesus dood te maak.

2 Hulle het Hom geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus, die goewerneur, uitgelewer.

3

Toe Judas, die verraaier, sien dat Jesus tot die dood veroordeel is, het hy spyt gekry. Hy het die dertig silwermuntstukke teruggebring na die priesterhoofde en die familiehoofde toe

4 en vir hulle gesê: “Ek het gesondig. Ek het 'n onskuldige man verraai.”

Maar hulle antwoord: “Wat het ons daarmee te doen? Dit is jou saak!”

5

Judas het toe die geld in die tempel in gegooi, weggeloop en homself gaan ophang.

6

Die priesterhoofde het die geld opgetel en gesê: “Dit is nie geoorloof om dit in die tempelfonds te stort nie, want dit is bloedgeld.”

7

Hulle besluit toe om daarmee die grond van die pottebakker te koop as 'n begraafplaas vir vreemdelinge.

8

Daardie stuk grond word tot vandag toe nog Bloedgrond genoem.

9

Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het:

“En hulle het die dertig silwermuntstukke geneem, dit is die prys wat die Israeliete ooreengekom het om vir hom te betaal,

10 en hulle het dit uitbetaal vir die grond van die pottebakker. So het die Here dit aan my opgedra.”

11

Jesus is voor die goewerneur gebring en dié vra Hom: “Is jy die koning van die Jode?”

Jesus antwoord: “Dit is soos u sê.”

12

Op die beskuldigings van die priesterhoofde en die familiehoofde het Hy niks geantwoord nie.

13

Toe sê Pilatus vir Hom: “Hoor jy nie waarvan hulle jou alles beskuldig nie?”

14

Maar Jesus het hom op geen enkele woord 'n antwoord gegee nie, sodat die goewerneur baie verbaas was.

15

Die goewerneur het die gewoonte gehad om elke paasfees vir die mense een gevangene van hulle eie keuse los te laat.

16 In daardie tyd was daar 'n berugte gevangene met die naam Jesus Barabbas.

17 Aangesien die mense tog bymekaar was, het Pilatus hulle gevra: “Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat: Jesus Barabbas of Jesus wat Christus genoem word?”

18 Hy het geweet dat die priesterhoofde Hom uit afguns uitgelewer het.

19

Terwyl Pilatus op die regbank sit, het sy vrou vir hom 'n boodskap gestuur: “Moet tog niks met daardie onskuldige man te doen hê nie, want ek het vannag 'n vreeslike droom oor hom gehad.”

20

Intussen het die priesterhoofde en die familiehoofde die mense oorgehaal om vir Barabbas vrylating te vra en vir Jesus die dood.

21

Die goewerneur vra hulle toe: “Watter een van die twee wil julle hê moet ek vir julle loslaat?”

“Barabbas!” antwoord hulle.

22

Pilatus sê vir hulle: “Wat moet ek dan doen met Jesus wat Christus genoem word?”

“Kruisig hom!” skreeu hulle almal.

23

Hy vra: “Watter kwaad het hy dan gedoen?”

Maar hulle skreeu nog harder: “Kruisig hom!”

24

Toe Pilatus sien dit help niks nie en dat daar eerder 'n oproer kom, het hy water gevat en voor die skare sy hande gewas en gesê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man. Dit is julle verantwoordelikheid.”

25

Toe antwoord die hele volk: “Laat die skuld vir sy bloed op ons en ons kinders rus!”

26

Pilatus het Barabbas toe vir hulle losgelaat; maar Jesus het hy laat gesel en Hom oorgelewer om gekruisig te word.

27

Daarna vat die soldate van die goewerneur vir Jesus in die ampswoning in en bring die hele leërafdeling rondom Hom bymekaar.

28 Hulle trek toe sy klere uit en gooi Hom 'n pers mantel om.

29 Hulle vleg 'n doringkroon en sit dit op sy kop en gee Hom 'n stok in sy regterhand. Toe bespot hulle Hom deur voor Hom te buig en te sê: “Ons groet u, Koning van die Jode!”

30 Hulle het op Hom gespoeg en die stok gevat en Hom oor die kop geslaan.

31 Nadat hulle Hom klaar bespot het, het hulle die mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig.

32

Toe hulle uitgaan, kry hulle 'n man van Sirene met die naam Simon, en hulle het hom gekommandeer om Jesus se kruis te dra.

33 Hulle kom toe by 'n plek wat Golgota genoem word; dit beteken Kopbeenplek.

34 Daar het hulle Hom 'n mengsel van wyn en gal gegee om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie.

35

Hulle het Hom gekruisig en sy klere verdeel deur te loot.

36 Daarna het hulle gaan sit en by Hom wag gehou.

37

Bokant sy kop het hulle die aanklag teen Hom in skrif aangegee: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.”

38 Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en die ander een links van Hom.

39

Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud

40 en gesê: “Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou! Red jouself as jy die Seun van God is, en kom van die kruis af!”

41

Net so het die priesterhoofde saam met die skrifgeleerdes en die familiehoofde ook gespot en gesê:

42 “Ander het hy gered, maar homself kan hy nie red nie. Hy is mos die koning van Israel! Laat hy nou van die kruis afkom en ons sal in hom glo.

43 Hy het op God vertrou; laat God hom nou red as Hy dan behae in hom het. Hy het immers gesê hy is die Seun van God!”

44

Op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig is, Hom ook beledig.

45

Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur.

46 Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?

47

Party van dié wat daar gestaan het, het dit gehoor en gesê: “Hy roep vir Elia.”

48

Een van hulle hardloop toe gou, vat 'n spons en maak dit vol suur wyn en hou dit op 'n stok vir Hom om te drink.

49 Maar die ander sê: “Wag, laat ons kyk of Elia hom kom red.”

50

Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.

51

Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars.

52 Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek,

53 en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Na Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad gekom, waar hulle aan baie mense verskyn het.

54

Toe die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”

55

Daar was ook baie vroue wat op 'n afstand gestaan en kyk het. Dit is hulle wat vir Jesus van Galilea af gevolg en vir Hom gesorg het.

56 Onder hulle was Maria Magdalena, Maria die moeder van Jakobus en Josef, en die moeder van die seuns van Sebedeus.

57

Laat die middag het daar 'n ryk man aangekom. Dit was Josef van Arimatea, wat self ook 'n volgeling van Jesus was.

58 Hy het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra, en Pilatus het beveel dat dit vir hom gegee moet word.

59

Josef het die liggaam geneem en dit in skoon linne toegedraai

60 en dit daarna neergelê in sy eie nuwe graf wat hy in die rots uitgekap het. Hy het 'n groot klip voor die ingang van die graf gerol en weggegaan.

61 Maria Magdalena en die ander Maria was ook daar en het reg voor die graf gesit.

62

Die volgende dag, die dag na die Vrydag, het die priesterhoofde en die Fariseërs by Pilatus gekom

63 en vir hom gesê: “Meneer, ons onthou dat toe daardie bedrieër nog geleef het, hy gesê het: ‘Na drie dae sal ek uit die dood opgewek word.’

64 Gee dan bevel dat die graf drie dae veilig bewaak word, sodat sy dissipels hom nie dalk kom steel en vir die mense vertel: ‘Hy is uit die dood opgewek’ nie. Dan sal die tweede bedrog erger wees as die eerste.”

65

Pilatus antwoord hulle: “Hier is vir julle 'n wag; gaan beveilig die graf so goed as julle kan.”

66

Hulle het toe gegaan en die graf beveilig deur die klip te verseël en die wag daar te laat bly.

28

1

Na die sabbatdag, toe dit die Sondagmôre begin lig word, het Maria Magdalena en die ander Maria na die graf gaan kyk.

2

Skielik was daar 'n geweldige aardbewing. 'n Engel van die Here het van die hemel af gekom, na die graf toe gegaan, die klip weggerol en daarop gaan sit.

3 Sy voorkoms was so blink soos weerlig en sy klere so wit soos sneeu.

4 Van skrik vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword.

5

Toe sê die engel vir die vroue: “Julle moet nie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is.

6 Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het.

7 Gaan gou en sê vir sy dissipels: ‘Hy is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien.’ Dit is wat ek vir julle moes sê.”

8

Hulle het toe haastig van die graf af weggegaan, bang maar baie bly, en hulle het gehardloop om dit aan die dissipels te vertel.

9

Skielik het Jesus daar voor die vroue gestaan en hulle gegroet. Hulle het nader gekom, sy voete gegryp en Hom aanbid.

10 Toe sê Jesus vir hulle: “Moenie bang wees nie. Gaan sê vir my broers hulle moet na Galilea toe gaan, en daar sal hulle My sien.”

11

Terwyl die vroue op pad was, kom party van die wagte in die stad aan en vertel vir die priesterhoofde alles wat gebeur het.

12 Die priesterhoofde het saam met die familiehoofde vergader en die volgende plan gemaak. Hulle het vir die soldate 'n groot som geld gegee

13 en gesê: “Julle moet sê: ‘Sy dissipels het in die nag gekom en sy liggaam gesteel terwyl ons geslaap het.’

14 En as die goewerneur daarvan hoor, sal ons hom tevrede stel en sorg dat julle nie bekommerd hoef te wees nie.”

15

Die wagte het toe die geld gevat en gemaak soos hulle voorgesê is.

Hierdie storie word tot vandag toe onder die Jode vertel.

16

Die elf dissipels het na Galilea toe gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan.

17 Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het.

18 Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.

19 Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en

20 leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”