1
In die agste maand van die tweede regeringsjaar van Darius het die woord van die Here gekom tot die profeet Sagaria seun van Berekja, seun van Iddo:2
Die toorn van die Here het oor julle voorvaders losgebreek.3 En nou moet jy vir jou volk sê: So sê die Here die Almagtige: Bekeer julle tot My, sê die Here die Almagtige, dan sal Ek weer by julle wees, sê die Here die Almagtige.
4
Moenie soos julle voorvaders wees nie. Die profete van vroeër het hulle aangespreek en gesê: “So sê die Here die Almagtige: Bekeer julle van julle slegte lewe en julle slegte dade!” Maar hulle was ongehoorsaam, hulle het hulle nie aan My gesteur nie, sê die Here.5
Waar is julle voorvaders nou? En die profete? Leef húlle vir altyd?6 Het die uitsprake, die voorskrifte wat Ek my dienaars die profete laat maak het, dan nie julle voorvaders ingehaal nie? Hulle moes erken: Die Here die Almagtige het met ons gedoen wat Hy Hom voorgeneem het om met ons te doen, presies volgens ons lewe en ons dade.
7
Op die vier en twintigste dag van die elfde maand, die maand Sebat, in die tweede regeringsjaar van Darius, het die woord van die Here gekom tot die profeet Sagaria seun van Berekja, seun van Iddo.8
Ek het in die nag 'n gesig gesien. Daar het 'n man op 'n bruin perd gesit. Hy was tussen die mirtestruike in 'n diep kloof, en agter hom was ruiters op bruin en vos en wit perde.9 Ek het gevra: “Wat beteken dit, Meneer?”
'n Engel wat vir my die gesig moes uitlê, het vir my gesê: “Ek sal jou laat sien wat dit beteken.”10
Toe praat die man wat tussen die mirte was. Hy het gesê: “Dit is die ruiters wat deur die Here uitgestuur is om die wêreld te deurkruis.”11
Die ruiters sê toe vir die engel van die Here, vir die engel wat tussen die mirte was: “Ons hét die wêreld deurkruis, en die hele wêreld is rustig en stil.”12
Toe sê die engel wat vir my die gesig moes uitlê, die engel van die Here: “Here, Almagtige, hoe lank gaan dit nog duur voordat U U weer oor Jerusalem en die stede van Juda ontferm? U toorn rus nou al sewentig jaar op hulle!”13 Die Here het die engel vriendelik geantwoord en hom bemoedig.
14 Daarna sê die engel vir my: “Roep en sê: So sê die Here die Almagtige: Ek is hartstogtelik begaan oor Jerusalem, oor Sion.
15 My toorn gaan losbreek teen die nasies wat nou so sorgvry woon, want my toorn teen Jerusalem was nie so groot nie; dit is die heidennasies wat dit so 'n groot ramp laat word het.
16 Daarom, so sê die Here, gaan Ek My weer oor Jerusalem ontferm: my tempel daar gaan herbou word, sê die Here die Almagtige, Jerusalem sal opnuut as stad uitgelê word.
17
“Roep weer en sê: So sê die Here die Almagtige: My stede sal weer oorstroom word deur voorspoed. Ek, die Here, gaan weer genade betoon aan Sion, Ek gaan Jerusalem weer my woonplek maak.”18
Ek het weer 'n gesig gesien. Daar was vier horings,19 en ek het vir die engel wat vir my die gesig moes uitlê, gevra: “Wat beteken dit?”
Hy het vir my gesê: “Dit is die horings wat vir Juda, Israel en Jerusalem verstrooi het.”20
Toe laat die Here my vier ambagsmanne sien,21 en ek vra: “Wat het hulle kom doen?”
Hy het geantwoord: “Daardie horings het die mense van Juda verstrooi en verneder. Die ambagsmanne het gekom om die regeerders van die nasies, die horings wat vir Juda met soveel geweld verstrooi het, die skrik op die lyf te ja en hulle tot 'n val te bring.”1
Ek het weer 'n gesig gesien. Daar was 'n man met 'n maatlyn in die hand,2 en ek het gevra: “Waar gaan u heen?”
Hy het vir my gesê: “Ek gaan Jerusalem uitmeet om te sien hoe breed en hoe lank hy moet wees.”3
Die engel wat vir my die gesig moes uitlê, gaan toe vorentoe en kry 'n ander engel wat na hom toe kom.4 Hy het vir dié engel gesê: “Hardloop en sê vir daardie jongman: Jerusalem gaan 'n stad sonder mure word, so baie mense en diere gaan daar in hom wees.
5 Die Here sê: Ek sal 'n muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees.”
6
Kom, kom, vlug uit die noordland! sê die Here. Ek het julle na die vier windstreke toe verstrooi, sê die Here.7 Kom, Sion, jy wat in Babel woon, kom weg daar!
8 So sê die Here die Almagtige wat my met volmag gestuur het na die nasies toe wat oorlogsbuit van julle gemaak het: Wie aan julle vat, vat aan my oogappel.
9 Met een waai van my hand teen hulle gaan Ek hulle die gevangenes van hulle eie slawe maak.
Wanneer dit gebeur, sal julle weet dat die Here die Almagtige my gestuur het.10
Juig, Sion, wees bly! Ek kom, Ek gaan binne-in jou woon, sê die Here.11
Daardie dag sal baie nasies hulle aan die Here verbind: hulle sal my volk wees, en Ek sal in jou woon, Sion. Wanneer dit gebeur, sal jy weet dat die Here die Almagtige my na jou toe gestuur het.12 Daar, op die heilige grond, sal die Here weer vir Juda in besit neem as die volk wat Hom toekom, sal Hy Jerusalem weer sy woonplek maak.
13 Wees stil voor die Here, al wat leef! Hy kom uit sy heilige woning te voorskyn!
1
Die Here het my 'n gesig laat sien. Ek het die hoëpriester Jesua voor die engel van die Here sien staan, en regs van hom het die Satan gestaan, besig om Jesua aan te kla.2 Die Here het vir die Satan gesê: Ek sal jou straf, Satan, Ek wat Jerusalem my woonplek gemaak het, sal jou straf. Hierdie man is soos 'n stuk hout wat uit die vuur gered is.
3
Jesua het klere aangehad wat liederlik bevuil was. Hy het daar voor die engel gestaan,4 en die engel het vir sy helpers gesê: “Trek uit dié liederlike vuil klere van hom.”
Vir Jesua het hy gesê: “Ek het jou jou oortredings vergewe en Ek gaan vir jou skoon klere aantrek.”5
Toe sê ek: “Hulle moet 'n skoon tulband op sy kop sit!” Hulle het die skoon tulband op sy kop gesit en hom aangetrek terwyl die engel van die Here daar by staan.6
Daarna het die engel van die Here vir Jesua belowe:7 “So sê die Here die Almagtige: As jy lewe soos Ek dit wil, as jy die voorskrifte vir my diens onderhou, sal jy die gesag hê oor my huis, die verantwoordelikheid dra vir my heiligdom. Jy sal toegang tot My hê, net soos hierdie engele.
8 Luister, Jesua, hoëpriester, jy en jou vriende wat voor jou sit: jou vriende is 'n teken van iets wat kom. Ek gaan my dienaar Loot nou bring.
9 Ek sit voor Jesua 'n klip neer, en op hierdie een enkele klip is daar sewe oë. Ek gaan nou 'n graveersel daarop aanbring, sê die Here die Almagtige, en Ek gaan die sonde van hierdie land op een enkele dag wegneem.
10 Daardie dag, sê die Here die Almagtige, sal die mense weer rustig oor en weer na mekaar roep onder die wingerdstokke en die vyebome.”
1
Die engel wat vir my die gesigte moes uitlê, het teruggekom en my wakker gemaak, net soos 'n mens uit sy slaap wakker gemaak word.2 Hy het vir my gevra: “Wat sien jy?” maar hy het self voortgegaan: “Ek het gesien daar is 'n kandelaar, heeltemal van goud; bo-op is 'n oliebak met sewe tuite en sewe lamppitte in elkeen.
3 By die kandelaar is twee olyfbome, een regs van die oliebak en een links.”
4
Ek vra toe vir die engel wat vir my die gesigte moes uitlê: “Wat beteken dit, Meneer?”5
Hy het geantwoord: “Weet jy nie wat dit beteken nie?” Ek het gesê: “Nee, Meneer.”6
Toe sê hy vir my: “Hier is die boodskap van die Here aan Serubbabel: Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.”7
Selfs die grootste berg sal voor Serubbabel 'n gelykte word. As Serubbabel die laaste klip van die tempel op sy plek sit, sal die mense roep: “Mooi, mooi!”8
Daarna kom die woord van die Here tot my:9 Serubbabel se hande het hierdie tempel se fondamente gelê, sý hande sal dit klaar bou.
Dan sal julle weet dat die Here die Almagtige my na julle toe gestuur het.10 Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie. Die mense sal bly wees wanneer hulle sien Serubbabel gaan aan met die bouwerk.
Daardie sewe oë op die klip voor Jesua is die oë van die Here wat oor die hele wêreld kyk.11
Toe vra ek vir die engel: “Wat beteken daardie twee olyfbome weerskante van die kandelaar?”12 En verder het ek ook vir hom gevra: “Wat beteken die twee bondels olyftakkies langs die twee goue pype waaruit die goudkleurige olie stroom?”
13
Hy het vir my gesê: “Weet jy nie wat dit beteken nie?” en ek het gesê: “Nee, Meneer.”14
Toe sê hy: “Dit is die twee gesalfdes wat in diens staan van Hom aan wie die hele aarde behoort.”1
Ek het weer 'n gesig gesien. Daar was 'n boekrol wat in die lug sweef.2 Die engel het vir my gevra: “Wat sien jy?” en ek het gesê: “Ek sien 'n boekrol wat in die lug sweef. Dit is nege meter lank en vier en 'n half meter breed.”
3
Toe sê die engel vir my: “Dit is die vervloeking wat oor die hele aarde strek, want elke dief het tot nou toe ongestraf gebly, en elkeen wat 'n vals eed aflê, het tot nou toe ongestraf gebly.”4
Ek stuur die vervloeking, sê die Here die Almagtige. Dit sal in die dief se huis ingaan, en in die huis van dié wat in my Naam 'n vals eed aflê. Dit sal daar bly en die huis verwoes, hout en klip, alles.5
Die engel wat vir my die gesigte moes uitlê, het vorentoe gekom en vir my gesê: “Kyk daar! Kyk wat kom daar aan.”6
Ek het gevra: “Wat is dit?” en hy het gesê: “Dit is 'n graanmandjie wat aankom.” Hy het bygevoeg: “Dit bevat die sonde van almal op aarde.”7
Toe word die ronde looddeksel van die mandjie opgelig, en daar sit 'n vrou binne-in die mandjie!8 Die engel het gesê: “Dit is die goddeloosheid!”
Hy het haar teruggestamp in die mandjie en die looddeksel oor die bek toegeklap.9 Toe sien ek twee vroue aankom wat met vlerke op die wind sweef, vlerke soos dié van 'n grootsprinkaanvoël. Hulle het die mandjie opgetel en is daarmee die lug in.
10 Ek vra toe die engel wat vir my die gesigte moes uitlê: “Waarheen gaan hulle met die mandjie?”
11
Hy het geantwoord: “Hulle gaan vir die mandjie 'n huis bou in Sinar. As dit klaar is, sal die mandjie daar op die plek gesit word waar hy hoort.”1
Ek het weer 'n gesig gesien. Daar was vier strydwaens wat tussen twee berge uitgekom het, berge van koper.2 Voor die eerste strydwa was bruin perde en voor die tweede swartes.
3 Voor die derde was wit perde en voor die vierde skimmels.
4 Ek het vir die engel wat vir my die gesigte moes uitlê, gevra: “Wat beteken dit, Meneer?”
5
Hy het vir my gesê: “Die strydwaens het gestaan voor Hom aan wie die hele aarde behoort. Nou gaan hulle in die vier windrigtings.6 Die strydwa met die swart perde gaan noord, dié met die wittes gaan agterna, en dié met die skimmels gaan suid.”
7
Toe die skimmel perde wegtrek, wou hulle die aarde deurkruis, maar eers toe die engel sê: “Spring weg, deurkruis die aarde!” het hulle dit gedoen.8 Die engel het vir my geskree: “Kyk, dié wat noord gaan, bring die Gees van die Here daarheen!”
9
Die woord van die Here het tot my gekom en gesê:10 Gaan vandag nog na die huis van Josia seun van Sefanja toe waar die ballinge Geldai, Tobija en Jedaja uit Babel aangekom het
11 en kry by hulle silwer en goud. Maak dan daarvan 'n kroon en sit dit op die kop van die hoëpriester Jesua seun van Josadak.
12
Dan moet jy vir hom sê: So sê die Here die Almagtige: Daar is 'n man met die naam Loot . Hy maak vinnig opgang en hy sal die tempel van die Here bou.13 Dit is hy wat die tempel van die Here sal bou, dit is hy wat die mag sal besit, wat op die troon sal sit en sal heers. 'n Priester sal saam met hom regeer en daar sal vriendelike oorleg tussen hulle twee wees.
14
Die kroon moet in die tempel van die Here bly as 'n gedagtenis aan Geldai, Tobija en Jedaja en aan die goeie gesindheid van die seun van Sefanja.15
Mense sal van ver af kom en aan die tempel van die Here bou, sodat julle sal weet dat die Here die Almagtige my na julle toe gestuur het. Dit sal gebeur as julle in alles gehoorsaam is aan die Here julle God.1
In die vierde regeringsjaar van koning Darius het die woord van die Here tot Sagaria gekom. Dit was op die vierde Kislef, die negende maand.2
Die mense van Bet-El het vir Sar-Eser en vir Regem-Melek met sy manne gestuur om die Here te raadpleeg.3 Hulle moes vir die priesters by die huis van die Here die Almagtige en vir die profete vra: “Moet ons nog in die vyfde maand huil en vas soos ons nou al jare lank doen?”
4
Die woord van die Here die Almagtige het toe tot my gekom:5 Sê vir almal in die land en vir die priesters: Julle vas en treur nou al sewentig jaar lank in die vyfde en in die sewende maand, maar vas julle tot my eer?
6 En as julle eet en drink, doen julle dit vir julleself.
7
Daar is mos ook nog die woorde wat Ek, die Here, deur die vroeëre profete laat aankondig het in die tyd toe Jerusalem nog bewoon en veilig was en toe die stede rondom Jerusalem en ook die Suidland en die Laeveld bewoon was.8 Dié woord van die Here het ook tot Sagaria gekom:
9 So het die Here die Almagtige gesê: Laat reg geskied aan almal, bewys liefde en barmhartigheid aan mekaar;
10 moenie die weduwee en die weeskind, die vreemdeling en die arme verdruk nie; moenie bose planne teen mekaar bedink nie.
11
Maar die volk het geweier om daarop ag te slaan, hulle was moedswillig, hulle het hulle doof gehou,12 hulle het hulle soos die hardste klip gehou en wou nie luister na die wet en na die boodskap wat die Here die Almagtige deur sy Gees, deur die vroeëre profete, gestuur het nie. Daarom was die toorn van die Here die Almagtige so groot.
13 Hy het geroep, maar hulle het nie geluister nie, en toe het die Here die Almagtige gesê: Ek sal ook nie luister as hulle roep nie,
14 Ek sal hulle met 'n stormwind verstrooi onder al die nasies vir wie hulle tot nou toe onbekend was, en agter hulle sal die land so verwoes wees dat niemand meer daar deurtrek nie. Hulle het van 'n pragtige land 'n verwoeste wêreld gemaak.
1
Die woord van die Here die Almagtige het tot my gekom.2
So sê die Here die Almagtige: Ek is hartstogtelik begaan oor Sion, Ek het woedend geword vir sy vyande, so begaan is Ek oor hom.3
So sê die Here: Ek gaan na Sion toe terugkom, Ek gaan in Jerusalem woon. Jerusalem sal genoem word Stad van Trou, Berg van die Here die Almagtige, Heilige Berg.4
So sê die Here die Almagtige: Daar sal weer bejaarde mans en vrouens, ryp in jare, op die pleine in Jerusalem sit, elkeen met 'n kierie in die hand.5 Die pleine in die stad sal vol seuns en dogters wees wat daar speel.
6
So sê die Here die Almagtige: As dit vir die oorblyfsel van hierdie volk vandag onmoontlik lyk, moet dit dan ook vir My onmoontlik lyk? Die Here die Almagtige het dit gesê.7
So sê die Here die Almagtige: Ek gaan my volk red uit die land in die ooste, uit die land waar die son opkom.8 Ek gaan hulle bring, en hulle gaan in Jerusalem woon. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees, in trou en in geregtigheid.
9
So sê die Here die Almagtige: Skep moed! Julle het gehoor wat die profete destyds gesê het toe die fondamente van die tempel van die Here die Almagtige gelê is sodat dit herbou kan word.10 Voor daardie tyd was daar nie geld om mense of diere te huur nie, en die toestand was so gevaarlik dat niemand veilig kon beweeg nie. Ek het al die mense mekaar se vyande gemaak.
11 Maar nou is my houding teenoor die oorblyfsel van hierdie volk anders as toe, sê die Here die Almagtige.
12 Daar sal nou voorspoed wees: die wingerdstok sal sy druiwe dra, die land sal sy oes lewer, die hemel sal sy vog lewer, en Ek sal dit alles aan die oorblyfsel van hierdie volk gee.
13 Julle name, Juda en Israel, is onder die nasies gebruik in vervloekings, maar Ek het julle gered, en nou sal julle name gebruik word in seënwense. Moenie bang wees nie, skep moed!
14
So sê die Here die Almagtige: Omdat julle voorvaders my toorn laat ontvlam het, het Ek besluit om julle kwaad aan te doen, en Ek het nie die straf herroep nie, sê die Here die Almagtige.15 Maar nou is my bedoeling anders: Ek wil goed doen aan Jerusalem en Juda. Moenie bang wees nie!
16
Wat julle moet doen, is dit: Praat die waarheid met mekaar, laat die waarheid en die reg geld in julle regspraak sodat daar vrede onder julle kan wees.17 Moenie bose planne teen mekaar bedink nie, moenie vals ede bly aflê nie. Ek haat sulke dinge, sê die Here.
18
Die woord van die Here die Almagtige het tot my gekom.19 So sê die Here die Almagtige: Elke vasdag, of dit nou val in die vierde of die vyfde, die sewende of die tiende maand, sal vir Juda 'n dag van vrolikheid word, 'n dag van vreugde. Dié dae sal feestelike byeenkomste word, maar dan moet julle bly by die waarheid en sorg dat daar vrede onder julle is.
20
So sê die Here die Almagtige: Volke sal kom, inwoners van baie stede.21 Die inwoners van een stad sal na dié van die volgende toe gaan en elkeen sal sê: “Kom ons gaan raadpleeg die Here, ons gaan vra na die wil van die Here die Almagtige. Ek gaan ook!”
22
Baie volke sal kom, groot nasies, om in Jerusalem na die wil van die Here die Almagtige te vra, om Hom te raadpleeg.23
So sê die Here die Almagtige: Daardie tyd sal uit al die nasies tien man een Judeër aan die klere gryp en sê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle.”1
'n Uitspraak van die Here. Die woord van die Here is ook in Gadrak, en Hy het ook in Damaskus sy woonplek. Die Here sien alle mense, nie net al die stamme van Israel nie.2 Hy sien ook vir Hamat, wat aan Damaskus grens, en vir Tirus en Sidon, al het hulle hoeveel wysheid.
3
Tirus het vir homself 'n vesting gebou en so baie silwer en goud vergader as wat daar stof is en modder in die strate.4 Nou gaan die Here alles vat wat die stad het, Hy gaan die mag breek wat die stad op see het, en die stad self sal afgebrand word.
5
Askelon sal dit sien en skrik, Gasa sal dit sien en baie bang word, Ekron ook, want alles waarop hy vertrou het, sal daarmee heen wees. Gasa sal sonder koning wees, Askelon sonder inwoners,6 en in Asdod sal net mense woon wat gebore is uit ontoelaatbare geslagsgemeenskap .
So sal Ek die trots van die Filistyne breek, sê die Here.7 Ek sal die bloederige vleis wat hulle eet, uit hulle mond ruk, Ek sal die afskuwelike afgodsoffers tussen hulle tande uitruk.
Wat van die Filistyne oorbly, sal aan ons God behoort. Hulle sal een van die groepe in die stam Juda word; dit sal met Ekron gaan soos met die Jebusiete.8
Ek sal my huis beskerm teen enige leër wat daar verbykom, sê die Here, geen onderdrukkers sal hulle meer oorval nie. Ek sorg nou self vir hulle.9
Jubel, Sion! Juig, Jerusalem!
Jou koning sal na jou toe kom.
Hy is regverdig en hy is 'n oorwinnaar,
hy is nederig en hy ry op 'n donkie,
op die hingsvul van 'n donkie.
10
Ek sal die strydwaens in Efraim vernietig, die perde uit Jerusalem uitroei.
Die pyl en boog waarmee oorlog gemaak word, sal gebreek word.
Die koning sal vrede vir die nasies afkondig
en hy sal regeer van see tot see,
van die Eufraat af tot in die uithoeke van die aarde.
11
Wat jou betref, my verbond met jou is met offerbloed beseël. Daarom sal Ek jou gevangenes laat red uit hulle gevangenskap.12
Kom terug na die vestingstad toe, gevangenes wat nou hoop het! Ek verseker jou vandag: Ek gee jou twee maal soveel as wat jy gehad het.13
Ek gebruik Juda as my boog, Efraim as my pyl, jou inwoners, Sion, as my swaard teen jou inwoners, Griekeland. Ek hanteer my volk soos 'n vegter sy swaard hanteer.14
Die Here sal bokant sy volk verskyn, sy pyl sal soos weerlig uitskiet. Die Here God sal die ramshoring blaas, Hy sal kom in die storms uit die suide.15 Die Here die Almagtige sal sy volk beskerm. Die klippe uit sy slingervel sal dood en verwoesting saai, hulle sal vol bloed word, hulle sal gons soos wyn bruis, hulle sal so vol bloed word soos die kom wat by offers gebruik word, soos die hoeke van die altaar.
16
Die Here hulle God sal daardie dag sy volk, sy kudde, red. Hulle sal in sy land vonkel soos die edelstene in 'n kroon.17
Hoe voorspoedig, hoe mooi sal die land nie wees nie! Die koring en die wyn sal maak dat die jongmans en die meisies gesond en sterk sal wees.1
Vra vir die Here reën in die tyd wanneer die laat reëns moet kom. Hy maak die reënwolke en laat die stortreëns val, Hy gee vir die mense die groen plante in die veld.2
Wat die afgodsbeelde sê, is bedrog; wat die waarsêers sien, is leuens; die drome wat hulle vertel, het nie plaasgevind nie; hulle probeer troos met wat nie bestaan nie. Daarom moes die volk weg, moes hulle in ellende beland soos skape wat nie 'n wagter het nie.3
Maar nou het my toorn ontvlam teen die herders, Ek gaan rekenskap eis van die voorbokke, sê die Here. Ja, die Here die Almagtige het Hom die lot van sy kudde Juda aangetrek, Hy gaan hulle sy trotse oorlogsperd maak.4
Uit Juda sal die hoekklip kom, uit hom sal die tentpen, uit hom die pyl en boog vir die oorlog kom, en uit hom sal elke onderdrukker padgee.5 Soos sterk vegsmanne sal die mense van Juda die vyand soos modder in die strate vertrap. Hulle sal veg, want die Here is by hulle; hulle sal die perderuiters op die vlug jaag.
6
Ek sal Juda sterk maak, Ek sal Josef red. Ek laat hulle terugkom, want Ek is jammer vir hulle. Dit sal wees asof Ek hulle nie verwerp het nie. Ek is die Here hulle God en Ek het hulle gebede verhoor.7
Die mense van Efraim sal soos sterk vegsmanne wees, hulle sal vrolik wees asof hulle wyn gedrink het. Hulle kinders sal dit sien en bly wees, hulle sal juig oor My, die Here.8 Ek sal vir hulle fluit en hulle bymekaarmaak. Ja, Ek gaan hulle red, en hulle sal net so baie wees as tevore.
9 Al verstrooi Ek hulle weer onder die volke, sal hulle My daar in die ver plekke onthou, en hulle en hulle kinders sal bly lewe en terugkom.
10 Ek sal hulle laat terugkom uit Egipte, Ek sal hulle uit Assirië uit bymekaarmaak en hulle na Gilead en die Libanon toe bring, en dié sal nie genoeg plek vir hulle hê nie.
11 Die volk sal deur die gevaarlike see trek, die golwe in die see sal oorwin word en al die Nyldieptes sal opdroog. Die hoogmoed van Assirië sal tot 'n val kom, die heerskappy van Egipte sal die wyk moet neem.
12 Ek, die Here, sal by my volk wees en hulle sterk maak. Hulle sal in my Naam voortgaan. Die Here het dit gesê.
1
Maak oop jou poorte, Libanon, dat 'n vuur jou seders kan verteer!2 Huil, sipres, want 'n seder het geval, die grootste bome is verwoes! Huil, groot bome in Basan, want die ondeurdringbare bos het geval!
3 Luister hoe huil die herders omdat hulle beste weiveld verwoes is! Luister hoe brul die leeus omdat die pragtige bos langs die Jordaan verwoes is!
4
So het die Here my God gesê: Gaan wees 'n herder vir die slagskape.5 Hulle eienaars self slag hulle sonder skuldgevoel, of verkoop hulle en sê: “Prys die Here, ek word ryk!” Ook die skape se herders gee vir hulle niks om nie.
6
Ek gee ook nie meer om vir die inwoners van die land nie, sê die Here, Ek gee hulle oor in mekaar se mag en in die mag van hulle koning. Die land sal uitmekaar geslaan word, maar Ek sal niemand red nie.7
Ek het toe 'n herder geword in diens van dié wat met die slagskape handel dryf. Ek het twee kieries gevat, die een Vriendelikheid genoem en die ander Vereniging, en ek het vir die skape 'n herder geword.8
Binne een maand het ek van drie herders ontslae geraak. Maar ek het ongeduldig geraak met die skape, en hulle het ook vir my moeg geraak.9 Ek het gesê: “Ek gaan julle nie meer oppas nie. Laat dié wat wil doodgaan, doodgaan. Laat dié wat wil wegraak, wegraak. En laat dié wat oorbly, mekaar opvreet.”
10
Ek het my kierie Vriendelikheid gevat en dit stukkend geslaan om so die ooreenkoms wat ek met al die volke gehad het, te verbreek.11 Die ooreenkoms het dieselfde dag opgehou om te bestaan en die kleinveehandelaars wat my dopgehou het, het geweet dat die Here dit so beveel het.
12 Ek het vir hulle gesê: “As julle wil, gee my my loon; as julle nie wil nie, laat staan dit.” Hulle het toe my loon afgeweeg, dertig stukke silwer.
13
Die Here het vir my gesê: Gooi dit vir die pottebakker! En dit was nogal die kosbare loon wat hulle gemeen het ek werd is! Maar ek het die dertig stukke gevat en dit in die huis van die Here vir die pottebakker gegooi.14 Ek slaan toe ook my ander kierie, Vereniging, stukkend om so die broederskap tussen Juda en Israel te verbreek.
15
Toe sê die Here vir my: Vat weer vir jou herdersgereedskap, maar nou dié van een wat alles verkeerd doen.16 Ek gaan nou 'n herder in die land aanstel wat niks omgee vir dié wat wegraak nie, nie die lammers soek nie, nie dié wat seergekry het, dokter nie en die gesondes nie kos gee nie, maar wat die vleis van die vetstes eet en die ander se kloue afruk.
17
Ellende wag vir die herder wat alles verkeerd doen en die skape in die steek laat! Mag die swaard sy arm en sy regteroog tref! Mag sy arm heeltemal verdor, mag sy regteroog heeltemal blind word!1
'n Uitspraak, 'n woord van die Here teen Israel. Die Here het dit gesê, Hy wat die hemelkoepel oopgespan en die aarde op sy fondamente gesit het, Hy wat die gees van die mens gevorm het:2
Ek gaan Jerusalem 'n bak wyn maak wat al die volke rondom laat slinger. Wanneer Jerusalem beleër word, sal die stede van Juda ook beleër word.3
Daardie dag gaan Ek Jerusalem 'n rotsblok maak vir al die volke. Elkeen wat hom probeer optel, gaan homself seer maak. Al die nasies op aarde sal saamstaan teen Jerusalem.4
Daardie dag, sê die Here, laat Ek die perde skrik en die ruiters paniekbevange raak. Ek sal my oog hou op Juda, maar die ander volke se perde sal Ek almal blind laat word.5 Dan sal die leiers van Juda vir hulleself sê: “Die krag van die inwoners van Jerusalem lê in hulle God, die Here die Almagtige.”
6
Daardie dag maak Ek die leiers van Juda soos 'n bak vuur onder die hout, soos 'n vlam onder die afgesnyde koringare. Hulle sal al die volke rondom verteer, na alle kante toe. Maar Jerusalem sal nog staan waar hy was.7 Die Here sal die woonplekke van Juda eerste red, sodat die koningshuis van Dawid en die inwoners van Jerusalem nie méér eer ontvang as Juda nie.
8
Daardie dag sal die Here die inwoners van Jerusalem beskerm. Selfs die swakste van hulle sal daardie dag soos Dawid word, en die koningshuis van Dawid sal soos 'n hemelwese word, soos die engel van die Here wat voor hulle uit gaan.9
Daardie dag begin Ek al die nasies uitroei wat vir Jerusalem kom aanval.10
Maar oor die koningshuis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem bring Ek 'n gees van welwillendheid en van berou: hulle sal na hom kyk vir wie hulle doodgesteek het en hulle sal oor hom treur soos 'n mens treur oor 'n enigste kind, hulle sal oor hom huil soos 'n mens oor 'n oudste seun huil.11
Daardie dag sal daar in Jerusalem meer getreur word as wat daar oor Hadad-Rimmon getreur is in die Megiddovlakte.12 Die land sal treur, die mans in elke familie afsonderlik, en hulle vrouens afsonderlik: die familie van Dawid en hulle vrouens, die familie van Natan en hulle vrouens,
13 die familie van Levi en hulle vrouens, die familie van Simi en hulle vrouens,
14 en al die ander families, die mans afsonderlik en hulle vrouens afsonderlik.
1
Daardie dag sal daar 'n fontein oopgemaak word om die koningshuis van Dawid en die inwoners van Jerusalem te reinig van hulle sonde en hulle vuilheid.2
Daardie dag, sê die Here die Almagtige, laat Ek die gedagtenis aan die afgode verdwyn uit die land. Daar sal nie meer aan hulle gedink word nie. Ek gaan ook die profete en die gees van onreinheid uit die land verwyder.3 Wanneer iemand nog profeet probeer wees, sal sy eie pa en ma sê: “Jy mag nie lewe nie, want jy praat leuens in die Naam van die Here.”
So 'n man se eie pa en ma sal hom doodsteek omdat hy profeet probeer wees.4
Daardie dag sal elke profeet in die verleentheid wees met die gesigte wat hy as profeet sien, en hy sal nie meer harige profeteklere aantrek om met sy bedrog aan te gaan nie.5 Hy sal sê: “Ek is nie 'n profeet nie, ek werk op die lande, iemand het my verkoop toe ek nog jonk was.”
6
En as iemand vir die profeet sê: “Wat se wonde het jy dan op jou bors?” sal hy antwoord: “Iemand het my so geslaan in die huis van my vriende.”7
Kom, swaard, tref die herder in my diens, sê die Here die Almagtige, tref die man wat so na aan My is. Maak dood die herder, dat die skape uitmekaargejaag kan word. Ek sal self optree, ook teen die kleinstes onder hulle.8 Dwarsoor die land, sê die Here, sal twee derdes van hulle uitgeroei word en omkom. Daar sal net 'n derde van hulle oorbly in die land,
9 en dié derde sal Ek met vuur louter soos silwer gelouter word. Ek sal hulle suiwer soos goud gesuiwer word. Hulle sal My aanroep, en Ek sal hulle gebede verhoor.
Ek sal sê: “Hulle is my volk.” En hulle sal sê: “Die Here is ons God.”1
Die dag van die Here kom. Wat in jou buitgemaak is, Jerusalem, sal binne-in jou verdeel word.2
Ek sal al die nasies bymekaarmaak vir 'n oorlog teen Jerusalem. Die stad sal ingeneem word, die huise sal geplunder word en die vrouens verkrag word. Die een helfte van die stad se inwoners sal in ballingskap gaan, maar die ander helfte sal nie uit die stad verwyder word nie.3
Daarna sal die Here teen daardie nasies gaan oorlog maak net soos op die dag toe Hy destyds die oorlog gevoer het.4 Daardie dag sal sy voete op die Olyfberg staan, oos van Jerusalem. Die Olyfberg sal middeldeur skeur en daar sal 'n groot kloof van oos na wes ontstaan. Een helfte van die berg sal na die noorde toe padgee en die ander helfte suide toe.
5 Julle sal deur die kloof in my berg vlug, want die kloof sal strek tot by Asal. Julle sal vlug soos julle vir die aardbewing gevlug het in die tyd van koning Ussia van Juda.
Dan sal die Here my God kom, en al die hemelwesens sal by jou wees.6
Daardie dag sal daar nie lig wees of koue of ryp nie.7
Dit sal 'n besondere dag wees. Wanneer dit sal wees, weet net die Here. Daar sal nie dag of nag wees nie: as dit aand word, sal daar steeds lig wees.8
Daardie dag sal daar 'n vars stroom water uit Jerusalem vloei, een helfte na die see in die ooste toe en een helfte na die see in die weste toe, somer en winter.9 Die Here sal koning wees oor die hele land. Daardie dag sal die Here die enigste God wees, en sy Naam die enigste Naam.
10 Die hele land, van Geba af tot by Rimmon suid van Jerusalem, sal soos die Jordaanvallei word. Jerusalem sal gelig word daar waar hy nou is, hy sal hoog lê, van die Benjaminpoort af tot waar die poort vroeër was, tot by die Hoekpoort en die Gananeltoring, tot by die koning se wynkuipe.
11 Daar sal mense woon, en die stad sal nie weer verwoes word nie. Jerusalem sal 'n veilige woonplek wees.
12
Die Here gaan al die volke wat teen Jerusalem oorlog maak, met 'n groot ramp tref: hulle vleis sal wegvrot terwyl hulle nog lewe, hulle oë sal wegvrot in hulle oogkaste, hulle tonge sal wegvrot in hulle monde.13
Daardie dag sal die Here die mense paniekbevange laat raak: die een sal die ander aan die hand gryp en hom aanval.14 Selfs Juda sal teen Jerusalem veg. Die rykdomme van al die nasies rondom sal bymekaargemaak word: goud, silwer en klere in groot hoeveelhede.
15
Dieselfde ramp wat die mense tref, sal ook die perde tref, die muile, die kamele, die donkies, al die diere wat in die kampe van die vyande is.16
Al die mense wat oor is uit die volke wat teen Jerusalem opgetrek het, sal jaar na jaar kom om die Koning, die Here die Almagtige, te aanbid en om die huttefees te vier.17 Geen volk op aarde wat nie na Jerusalem toe kom om die Koning, die Here die Almagtige, te aanbid nie, sal reën kry nie.
18 En as die Egiptenaars nie kom nie, sal die Here hulle met dieselfde ramp tref as die ander nasies wat nie kom om die huttefees te vier nie.
19 Dit sal die straf wees vir Egipte en vir al die nasies wat nie kom om die huttefees te vier nie.
20
Daardie dag sal daar op die klokkies aan die perde se tuie staan: “Gewy aan die Here”, en die potte in die huis van die Here sal net soos die offerkomme by die altaar wees.21 Elke pot in Jerusalem en Juda sal aan die Here die Almagtige gewy wees. Die mense wat kom offer, sal van die potte vat en vleis in hulle kook. Daardie dag sal daar in die huis van die Here die Almagtige geen handelaar meer wees nie.