1

1

'n Uitspraak van die Here wat Hy aan die profeet Habakuk geopenbaar het.


2
Hoe lank moet ek om hulp roep
voordat U hoor, Here,
moet ek by U bly kla oor geweld
voordat U red?

3
Waarom laat U my die onreg sien wat gedoen word,
waarom kyk U toe as daar soveel ellende is?
Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld,
en word daar getwis en gebaklei.

4
Die wet het nie meer krag nie,
en daar geskied nie meer reg nie.
Slegte mense het die oorhand oor die goeies,
en so word die reg verkrag.

5
Die Here het geantwoord:
Kyk na die ander nasies:
julle sal verstom staan oor wat julle sien.
Ek gaan nog tydens julle lewe iets doen wat julle nie sal glo
as dit vir julle vertel word nie.

6
Ek gaan die Galdeërs laat kom,
die wrede, woeste nasie
wat dwarsoor die aarde rondtrek
om lande te verower wat nie hulle s'n is nie.

7
Hulle is 'n nasie wat vrees en ontsag inboesem,
hulle ken net een wet, een trots, hulle eie.

8
Hulle perde is vinniger as luiperds,
vuriger as honger wolwe.
Hulle ruiters kom aan op 'n galop,
hulle kom van ver af,
hulle vlieg soos arende wat op hulle prooi neerskiet.

9
Hulle hele leërmag kom om verwoesting te saai,
hulle kom aangestorm soos die oostewind
en maak krygsgevangenes bymekaar soos sand.

10
Die Galdeërs dryf die spot met konings
en lag maghebbers uit.
Hulle lag oor al die vestingstede:
hulle gooi grondwalle teen die stede op en neem hulle in.

11
Dan jaag hulle verder, hulle trek verby soos die wind.
Vir hierdie sondige nasie is sy eie mag sy god.

12
U is tog van altyd af daar, Here;
U is my heilige God;
ons sal nie sterwe nie.
U, Here, het die Galdeërs aangestel om die vonnis te voltrek,
U, ons Rots, het hulle die mag gegee om ons te straf.

13
U oë is te rein om toe te kyk terwyl daar verkeerd gedoen word,
U kan tog nie sien dat daar ellende is en niks doen nie!
Waarom doen U dan niks aan die trouelose mense nie,
waarom bly U stil wanneer slegte mense dié vernietig
wat beter as hulle is?

14
Hoe kan U mense behandel asof hulle visse is,
asof hulle kruipende insekte sonder leier is?

15
Die Galdeërs vang mense met hoeke,
trek hulle vas in nette,
maak hulle bymekaar in treknette,
en juig en jubel oor die vangs!

16
Die Galdeërs bring selfs offers vir hulle nette,
brand wierook vir hulle treknette,
want deur die nette leef hulle in weelde
en het hulle volop kos!

17
Sal hulle maar deurentyd voortgaan om hulle nette uit te skud,
om nasies meedoënloos om die lewe te bring?

2

1

Ek wil op my uitkyktoring gaan staan,
my plek op die vestingmuur gaan inneem,
ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê
en wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt.

2
Die Here het toe vir my gesê:
Skryf wat Ek aan jou gaan openbaar duidelik op kleitablette
sodat mense dit sommer in die verbygaan kan lees.

3
Die openbaring geld vir 'n bepaalde tyd;
dit sal gou kom want dit kom beslis.
Jy moet net geduldig bly wag
as dit nie gou kom nie,
want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie.

4
Dit is die boodskap:
Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry,
maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly.

5
'n Hooghartige mens wat hom deur sy rykdom laat mislei,
sal nie in sy doel slaag nie,
al is hy so gulsig soos die doderyk,
so onversadigbaar soos die dood,
al versamel hy al die nasies rondom hom,
al maak hy gevangenes van al die volke.

6
Dieselfde volke sal spotliedjies oor hom sing
en met minagting na hom verwys.
Hulle sal sê:
Ellende wag vir hom wat hom verryk met goed wat nie syne is nie,
wat vir hom al meer goed inpalm wat verpand is. Hoe lank sal dit nog voortduur?

7
Die tyd kom vinnig nader dat jy self in die skuld sal wees,
dat skuldeisers vir wie jy sidder, skielik voor jou sal staan
en jou sal kaalstroop.

8
Jy het baie nasies geplunder,
maar nou sal dié wat oorgebly het, jou plunder,
want jy het baie bloed vergiet,
geweld gepleeg in baie lande, teen stede en teen hulle inwoners.

9

Ellende wag vir hom wat hom ten koste van ander wou verryk en daardeur 'n ramp oor sy familie gebring het,
hy wat vir hom 'n hoë nes wou bou
juis om 'n ramp vry te spring.

10
Met jou geknoei het jy jou familie se ondergang bewerk;
jy wou baie volke uitroei, maar daarmee het jy 'n einde aan jou eie lewe gemaak.

11
Selfs die klippe in die mure skreeu oor wat jy gedoen het,
en die balke skreeu saam.

12

Ellende wag vir hom wat 'n stad bou met moord,
wat 'n dorp aanlê met onreg.

13
Dit is die Here die Almagtige wat dit beskik het dat dít
waarvoor volke gewerk het
in vlamme opgegaan het,
dat volke hulle tevergeefs afgesloof het.

14
Soos waters die seebodem bedek,
so sal die magtige teenwoordigheid van die Here oral op die aarde geken word.

15

Ellende wag vir hom wat, toe hy vir 'n ander drank gegee het,
dit met gif gemeng het
en hom dronk gemaak het
om na sy kaal geslagsdele te kan kyk.

16
Jy sal self met skande in plaas van met eer oorlaai word,
jy sal self dronk word en jou ontbloot!
Die Here sal jou die oordeelsbeker wat in sy hand is, gee om te drink,
en jou eer sal in skande verander word.

17
Jou geweld teen die Libanon sal jouself tref,
jou mishandeling van die diere op die Libanon
sal jouself vernietig.
Jy het baie bloed vergiet,
jy het geweld gepleeg teen baie lande, teen stede met hulle inwoners.

18

Wat is die nut van 'n afgod?
Dit is maar net iets wat deur 'n mens gemaak is,
'n beeld waarvan net bedrog
te wagte kan wees.
Wat baat dit die maker om op sy maaksel te vertrou
as hy 'n afgod gemaak het wat nie eens kan praat nie?

19
Ellende wag vir hom wat vir 'n stuk hout sê: “Word wakker!”
of vir 'n dooie stuk klip: “Staan op!”
Kan 'n afgod jou iets leer?
Al is hy met goud of silwer oorgetrek,
is daar geen lewe in hom nie.

20

Die Here is in sy heilige tempel:
almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees!

3

1

'n Gebed van die profeet Habakuk. Op die wysie van 'n klaaglied.


2
Here, ek het gehoor wat van U vertel is
en ek is vervul met ontsag vir wat U gedoen het.
Doen dit tog ook in ons tyd,
laat u dade ook in ons tyd ervaar word,
ontferm U selfs in u toorn.

3

God kom van Teman af,
die Heilige kom van Paranberg af.

Sela

Die hemelruim is vol van sy majesteit,
die aarde vol van sy roem.

4
Hy kom met die glans van die lig,
weerligte blits uit sy hand,
sy hand so vol mag.

5
Voor Hom uit gaan die pes,
in sy voetstappe volg die dood.

6
Wanneer Hy staan, skud die aarde;
wanneer Hy kyk, bewe die nasies.
Die eeue-oue berge verkrummel,
die ou-ou heuwels val inmekaar,
die berge waaroor Hy van ouds af gewandel het!

7
Ek het gesien hoe onheil die tente van Kusan tref,
hoe die tentdoeke van Midian bewe.

8
Was U kwaad vir die riviere, Here?
Het u toorn teen die strome ontvlam?
Het die see U woedend gemaak
dat U op u perde gery het,
op die strydwaens waarmee U oorwin?

9
U het u boog uitgehaal
en met 'n eed die opdrag aan die pyle bevestig.

Sela

U het die aarde oopgebreek en riviere laat stroom.

10
Toe die berge U sien, het hulle gebewe,
stormwaters het verbygespoel,
die diep water het gedreun
en sy golwe hoog laat opslaan.

11
Toe u vlieënde pyle blits
en u blink spies flikker,
het die son en die maan gaan stilstaan op hulle plek.

12
In u gramskap stap U oor die aarde,
in u toorn vertrap U die nasies.

13
U het uitgegaan om u volk te red,
om u gesalfde koning te red.
U verpletter die aanvoerder van die goddeloses,
U stroop hulle kaal van kop tot tone.

Sela

14

Met sy eie pyle deurboor U die aanvoerder
wanneer sy manskappe uitstorm om ons te verstrooi
terwyl hulle jubel soos dié wat die
ellendiges in hulle skuilplekke verslind.

15
U trek deur die see met u perde
sodat die magtige waters bruis.

16

Toe ek hierdie dinge hoor, het ek gesidder,
my lippe het gebewe,
my hele liggaam het lam geword,
my bene het aan die ruk gegaan.
Tog sal ek geduldig wag
dat die dag van die oordeel
moet kom oor die volk deur wie ons aangeval is.

17

Al sou die vyeboom nie bot nie
en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,
al sou die olyfoes misluk
en die lande geen oes lewer nie,
al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie
en die beeskrale sonder beeste wees,

18
nogtans sal ek in die Here jubel,
sal ek juig in God, my Redder.

19

Die Here my God gee vir my krag.
Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok,
op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Vir die koorleier. Met snarespel.