1

1

'n Uitspraak teen Nineve. Die boek waarin die openbaring wat Nahum die Elkosiet ontvang het, opgeteken is.


2
Die Here is 'n God wat baie begaan is oor sy volk,
'n God wat Hom wreek.
Die Here wreek Hom in sy gloeiende toorn,
die Here wreek Hom op sy teëstanders,
sy toorn ontvlam teen sy vyande.

3
Die Here is lankmoedig,
maar sy krag is groot:
Hy laat geen skuldige ongestraf nie.
Hy kom in rukwind en storm,
wolke is die stof onder sy voete.

4
Hy spreek die see aan en laat dit droog word,
Hy laat al die riviere opdroog.
Basan en Karmel verdor,
die groenigheid op die Libanon verwelk.

5
Berge bewe voor Hom,
heuwels wankel;
die aarde, die wêreld en almal wat daarin woon,
deins terug wanneer Hy verskyn.

6
Wie kan bly staan voor sy woede?
Wie kan sy gloeiende toorn weerstaan?
Sy gramskap breek deur soos 'n veldbrand.
Rotse word voor Hom uit uitmekaar gebreek.

7

Die Here is goed,
Hy is 'n toevlug in tyd van nood,
Hy sorg vir dié wat by Hom skuil.

8
Maar met 'n vloed wat alles meesleur,
vee Hy die plek weg waar Nineve lê,
jaag Hy sy vyande die duisternis in.

9
Wat julle ook al teen die Here bedink,
Hy maak dit tot niet.
Daar sal nie weer verdrukking wees nie.

10
Al is julle inmekaargevleg soos dorings,
en al is julle deurweek van drank,
julle sal soos kurkdroë stoppels verbrand word.

11
Daar het een uit jou gekom, Nineve,
wat kwaad bedink teen die Here,
planne wat nie sal slaag nie.

12

So sê die Here:
Al is hulle hoe sterk, hoe baie,
hulle sal afgemaai word en tot niet gaan.
Ek het jou verneder, my volk,
maar Ek sal jou nie weer verneder nie.

13
Ek breek nou die juk wat op jou is,
Ek vernietig die bande wat jou bind.

14
Maar oor jou, Nineve, beveel die Here:
“Jou naam sal nie meer genoem word nie!”
Ek vernietig die beelde in jou tempels,
Ek grawe jou graf, want dit is klaar met jou.

15

Kyk daar, oor die berge kom 'n boodskapper aangehardloop
wat goeie nuus aankondig:
Vier jou feeste, Juda,
betaal jou geloftes!
Die verdrukker sal nie weer deur jou land trek nie,
hy is verslaan, vernietig.

2

1

Daar kom iemand wat jou sal verjaag, Nineve:
bewaak jou vestings,
hou dop die pad,
maak jou gereed vir die stryd,
monster al jou kragte!

2
Die Here gaan die eer van Jakob, van Israel, herstel
soos dit vroeër was,
al is hulle kaal geplunder
en hulle wingerde verwoes.

3
Die skilde van Nineve se aanvallers is rooi geverf,
hulle soldate het rooi uniforms aan.
Wanneer hulle gereedmaak om te veg,
blink hulle strydwaens soos vuur
en swaai hulle die spiese.

4
Oor die paaie dreun die strydwaens,
hulle jaag oor die vlaktes;
hulle lyk soos fakkels,
soos blitse wat verbyskiet.

5
Nineve maak staat op sy bevelvoerders,
maar hulle struikel as hulle aanstorm.
Hulle hardloop na die stadsmuur toe,
maar die vyand se stormram staan al!

6
Die sluise van die kanale word oopgetrek,
en die paleis stort inmekaar.

7

Dit staan vas: Nineve word ontvolk,
sy inwoners word weggevoer,
sy slavinne kla soos duiwe wat koer
en slaan hulleself op die bors.

8

Nineve is soos 'n dam
waarvan die water uitloop.
“Staan, bly staan!” klink die bevel,
maar niemand draai om nie.

9

Die aanvallers roep: “Buit silwer, buit goud!
Die voorraad is onuitputlik,
daar is nie 'n einde aan mooi goed nie.”

10

Nineve is kaal geplunder, leeggedra, verniel,
sy mense is verslae, hulle knieë knak,
hulle kry krampe in die onderlyf,
almal is bleek van die skrik.

11

Waar is die lêplek van die leeus nou,
die jagveld van die jong leeus?
Waar is die leeu en sy wyfie
wat onbevrees met hulle welpies rondgeloop het?

12

Waar is die leeu wat gevang het vir sy kleintjies,
wat die nek van sy prooi vir sy wyfies gebreek het,
wat sy boerplek vol vleis gemaak het,
sy lêplek met wat hy gevang het?

13

Ek tree teen jou op, Nineve, sê die Here die Almagtige.
Ek laat jou strydwaens in vlamme opgaan,
die swaard sal jou dapper leeus afmaai,
Ek vee alles wat jy bymekaargemaak het, van die aarde af,
jou gesante sal nie meer gehoor word nie.

3

1

Ellende wag vir jou,
bloedbevlekte stad;
jy is vol bedrog,
gevul met buit,
jy hou nie op met roof nie!

2

Swepe klap,
wiele dreun,
perde jaag,
strydwaens vat net hier en daar grond;

3
ruiters galop,
swaarde blink,
spiese blits.
Daar is baie gewondes,
hope dooies,
ontelbare lyke:
mense struikel oor hulle!

4

Dit kom van die hoer Nineve se onsedelikheid,
die mooi vrou met haar toorkunste,
wat volke verwoes het met haar hoerery,
nasies met haar toorkunste.

5

Ek tree teen jou op, sê die Here die Almagtige:
Ek sal al jou klere uittrek,
Ek sal volke jou kaal liggaam laat sien,
koninkryke die skande van jou naaktheid.

6

Ek sal jou aan minagting prysgee,
Ek sal mis op jou gooi,
en van jou so 'n spektakel maak

7
dat elkeen wat jou sien,
van jou af sal padgee en sê:
“Nineve is verwoes!
Wie is daar wat hom jammer kry?
Waar sal ek gaan soek na
mense wat jou kan troos?”

8

Is jy beter as No-Amon,
die stad aan die Nyl,
omring deur water,
beskut deur massas water?

9

Wat hom sterk gemaak het, was Kus en Egipte,
en hulle wás sterk!
Sy bondgenote was Put en Libië.

10
Selfs No-Amon het 'n balling geword
en is in gevangenskap weggevoer;
ook sý babatjies is verpletter
op al die straathoeke;
sy aansienlikes is uitgeloot,
al sy vername manne is met kettings geboei.

11

Ook jý sal dronk raak en beneweld word,
ook jý sal soek na 'n skuilplek teen die vyand.

12
Al jou vestings is soos vyebome met ryp voorvye:
as die bome geskud word,
val die vye in die eter se mond!

13

Jou manskappe is soos vroumense.
Die poorte van jou land staan wawyd oop vir jou vyande,
vuur verteer jou sluitbalke.

14

Skep vir jou water vir die beleëring,
versterk jou vestings;
spring in die modder,
trap dit tot klei,
gryp die steenvorm!

15

Selfs dáár sal die vuur jou verteer,
die swaard jou uitroei,
jou vernietig asof jy 'n sprinkaan is.

Word so baie soos sprinkane,
vermeerder soos sprinkaanswerms!

16
Jy het mos meer handelaars gehad
as wat daar sterre aan die hemel is.
Maar as sprinkane vervel het, vlieg hulle weg,

17
en jou wagte is soos treksprinkane,
jou bevelhebbers is soos 'n swerm sprinkane
wat op die klipmure sit solank dit koud is,
maar as die son opkom, vlieg hulle weg
en niemand weet waarheen nie!

18

Jou regeerders sluimer, koning van Assirië,
jou vername mense slaap,
jou manskappe is verstrooi op die berge
en daar is niemand wat hulle bymekaarmaak nie.

19
Jy is verwoes, en jy sal nie herstel nie,
jou wond is dodelik;
almal wat die tyding oor jou verneem,
klap hande daaroor,
want wie het nie almal voortdurend
onder jou wreedhede gely nie?