1

1

Die woord van die Here wat gekom het tot Miga van Moreset tydens die regering van die Judese konings Jotam, Agas en Hiskia. Dit handel oor Samaria en Jerusalem.


2
Luister, alle volke!
Gee aandag, aarde met al jou bewoners!
Die Here my God wil teen julle getuig,
die Here wil uit sy heilige tempel getuig.

3
Die Here kom uit sy woonplek uit,
Hy kom af,
Hy kom oor die hoë plekke van die aarde.

4
Berge smelt weg onder Hom,
laagtes skeur oop.
Soos was in vuur smelt, so smelt die berge,
hulle loop teen die hellings af soos water.

5
Dit alles gebeur oor die sonde van Jakob,
oor die oortredings van die volk Israel.
Wat is die sonde van Jakob?
Samaria!
Wat is Juda se afgodshoogte?
Jerusalem!

6

Daarom sal Ek Samaria 'n puinhoop in die oop veld maak,
'n plek om wingerde te plant.
Ek sal sy bouklip in die laagte afgooi,
sy fondamente oopgrawe.

7
Al sy afgodsbeelde sal stukkend geslaan word,
sy verdienste uit prostitusie sal verbrand word.
Ek sal al sy afgode vernietig,
want hy het hulle bymekaargemaak
met sy verdienste uit prostitusie.
Hulle sal die pad gaan van verdienste uit prostitusie.

8

Daarom sal ek rou en huil,
sal ek kaalvoet en sonder klere rondloop.
Ek sal skreeu soos 'n jakkals,
klaag soos 'n volstruis.

9
Samaria se sweer is ongeneeslik,
dit het gesprei tot by Juda:
dit raak al aan my volk se stadspoort,
aan Jerusalem.

10

Moet dit nie in Gat vertel nie,
moenie daaroor huil nie,
gaan rol liewer in die stof in Bet-Leafra.

11
Gee pad, jy wat in Safir woon,
jy is kaal uitgetrek.
Jy wat woon in Saänan, kan nie uitkom nie,
die mense van Bet-Esel treur,
hy kan julle nie meer help nie.

12

Jy wat in Marot woon, is siek van angs,
daar het onheil van die Here af gekom
tot by die poorte van Jerusalem.

13
Span die perde voor die strydwa,
jy wat in Lakis woon!
In Lakis het die sonde van Sion begin,
die oortredings van Israel is daar gevind.

14
Daarom is 'n trougeskenk aan Moreset-Gat gegee.
Die huise van Aksib is 'n teleurstelling
vir die konings van Israel.

15
Jy wat in Maresa woon,
die Here laat een wat verower, na jou toe kom.
Die trots van Israel sal tot by Adullam kom.

16
Skeer 'n kaal kol op jou kop,
skeer 'n kaal kol op jou kop soos dié van 'n aasvoël,
want dié oor wie jy bly is,
sal van jou af in ballingskap weggevoer word.

2

1

Ellende wag vir julle
wat rampe teen ander beplan,
wat op die bed lê en dink aan kwaad om te doen,
wat dit vroeg in die môre gaan uitvoer
omdat hulle die mag in die hande het.

2
Hulle begeer 'n stuk grond en vat dit,
huise, en lê beslag daarop.
Hulle kul 'n man uit sy huis uit,
'n mens uit sy besitting uit.

3
Daarom, so sê die Here:
Ek beplan 'n ramp teen hierdie mense,
hulle sal dit nie kan ontwyk nie.
Hulle sal nie meer regop kan loop nie,
want dit sal 'n tyd van swaarkry wees.

4
Daardie dag sal hulle 'n spotlied oor jou maak,
hulle sal 'n klaaglied sing en sê:
“Ons is geheel en al vernietig,
my volk se besitting is opgedeel,
dit is van ons afgevat,
ons land is onder verraaiers verdeel.”

5

Daarom sal jy nie meer iemand in die gemeente van die Here hê
om jou land te verdeel nie.

6
Dié wat maak of hulle profete is, sê:
“Moenie jý 'n profeet probeer wees nie,
moenie oor dié dinge praat nie.
Daar sal nie ellende oor ons kom nie.”

7
Volk van Jakob, moet daar gevra word:
“Is die Gees van die Here kwaad?
Doen Hy sulke dinge?”

Belowe Ek nie goeie dinge
vir dié wat opreg lewe nie?

8
My volk het in die afgelope tyd 'n vyand geword
en in opstand gekom;
julle stroop die mooi klere af
van dié wat houtgerus by julle verbystap
soos soldate van die slagveld af.

9
Julle jaag die vrouens van my volk
uit hulle gerieflike huise uit,
julle vat die blywende gerief wat Ek hulle gegee het,
van hulle kinders af weg.

10

Maak klaar, gee pad!
Dit is nie julle blyplek nie,
want dit is onrein en verwoes,
onherstelbaar verwoes!

11
Wanneer 'n rondloper, 'n bedrieër lieg en sê:
“As profeet beloof ek aan julle wyn en bier,”
sal hy vir hierdie volk dié profeet wees.

12
Ek sal julle almal bymekaarmaak, Jakob,
Ek sal dié vergader wat van Israel oorgebly het,
Ek sal hulle bymekaarbring soos skape in 'n kraal,
soos 'n groot kudde in die weiveld,
die wêreld sal dreun van mense.

13
Een wat uitbreek, sal hulle lei,
hulle sal uitbreek en deur die poort gaan,
hulle sal daar uitgaan,
hulle Koning sal voor hulle uitgaan,
die Here sal voor hulle wees.

3

1

Ek het gesê: Luister, leiers van Jakob,
regeerders van Israel!
Weet julle nie wat reg is nie?

2
Julle wat die goeie haat en die verkeerde liefhet,
julle wat die mense se vel van hulle afskeur,
die vleis van hulle bene af,

3
wat my volk opeet asof hulle vleis is,
hulle vel afstroop
en hulle bene opkap,
wat hulle opsny vir die kookpot,
soos vleis vir die braaipan.

4
Wanneer hulle tot die Here roep,
sal Hy hulle nie antwoord nie.
Dan sal Hy Hom nie aan hulle openbaar nie,
want hulle het baie verkeerd gehandel.

5

So sê die Here oor die profete wat my volk verlei,
die profete wat van vrede praat so lank hulle kos kry,
en as iemand hulle nie bly instop nie, oorlog teen hom verklaar:

6
Daar is vir julle net nag, nie 'n gesig nie,
donkerte, nie 'n voorspelling nie.
Die son sal ondergaan vir hierdie profete,
die dag sal pikdonker word oor hulle.

7
Die sieners sal teleurgestel staan,
die voorspellers sal bedroë daarvan afkom.
Hulle sal almal treur en hulle baard bedek as teken van rou,
want God sal nie antwoord nie.

8
Ek, daarenteen, het baie krag,
ek het die Gees van die Here, 'n sin vir reg
en die moed om aan Jakob sy sonde bekend te maak,
aan Israel sy oortreding.

9

Luister hierna, leiers van Jakob,
regeerders van Israel,
julle wat die regspraak minag
en alles verdraai,

10
julle wat vir Sion met moord gebou het
en Jerusalem met onreg:

11
Jou leiers lewer uitspraak vir omkoopgeld,
jou priesters gee onderrig teen salaris,
jou profete maak voorspellings teen betaling,
en tog verwag hulle hulp van die Here!
Hulle sê: “Die Here is by ons, onheil sal ons nie tref nie.”

12
Daarom is dit julle skuld
dat Sion soos 'n stuk land geploeg sal word,
dat Jerusalem 'n puinhoop sal word,
dat die tempelberg 'n hoogte vol bossies sal word.

4

1

Daar kom 'n tyd dat die berg
waarop die huis van die Here is,
'n blywende plek sal hê bokant die bergtoppe
en sal uitstaan bo die heuwels.
Die volke sal daarheen stroom,

2
baie nasies sal daarnatoe gaan en sê:
“Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe,
na die huis van die God van Jakob
sodat Hy ons sy wil kan leer
en ons daarvolgens kan lewe,
want uit Sion kom die openbaring,
uit Jerusalem die woord van die Here.”

3

Hy sal oordeel tussen baie volke,
regspreek oor sterk nasies wat ver weg woon.
Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee
en van hulle spiese snoeiskêre.
Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie,
en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie.

4
Elke man sal onder sy eie wingerd sit,
ongesteurd onder sy vyeboom.
Die Here die Almagtige het dit gesê.

5

Elke nasie kan maar lewe in die naam van sy god,
ons sal vir altyd in die Naam van die Here ons God lewe.

6

Daardie dag, sê die Here,
sal Ek dié wat kreupel is, bymekaarmaak,
sal Ek dié wat verstrooi is, vergader,
en ook dié wat Ek met rampe getref het.

7
Ek sal die kreupeles die oorblyfsel maak,
die siekes 'n sterk nasie.
Ek, die Here, sal op Sionsberg oor hulle heers,
nou en vir altyd.

8
Verlate vesting, Sionsheuwel,
die beloftes aan jou sal vervul word:
jy sal weer heers soos voorheen,
Jerusalem sal weer die hoofstad wees.

9
Waarom skreeu jy so hard?
Het jy nie 'n koning nie?
Het jou raadgewer omgekom
dat kraampyne jou oorval het?

10
Krul van die pyn, Sion, kry geboortepyne
soos 'n vrou in kraam!
Jy moet nou die stad verlaat,
jy moet in die oop veld gaan woon
en na Babel toe gaan.
Daar sal jy gered word,
daar sal die Here jou verlos uit die mag van jou vyande.

11
Nou moet baie nasies nog eers teen jou saamstaan,
hulle sê:
“Ons sal toekyk hoe Sion verontreinig word.”

12

Maar hulle ken nie die plan van die Here nie;
hulle verstaan nie wat Hy besluit het nie:
Hy het hulle soos gerwe op 'n dorsvloer bymekaargebring.

13
Maak klaar en dors die gerwe, Sion!
Ek maak jou sterk:
Ek gee vir jou bronskloue
sodat jy baie nasies kan vermorsel.
Jy sal aan die Here wy wat hulle buitgemaak het,
al hulle besittings aan die Koning van die hele wêreld.

14

Jy is nou vasgevang, rowerstad!
Ons word beleër!
Die vyand sal die koning van Israel
met 'n kierie op die kakebeen slaan.

5

1

Maar jy, Betlehem-Efrata,
jy is klein onder die families in Juda,
maar uit jou sal daar iemand kom
wat aan My behoort
en hy sal in Israel regeer.
Sy begin lê ver terug,
in die gryse verlede!

2
Hy sal sy mense 'n kort rukkie prysgee,
so lank as dit 'n vrou neem om 'n kind in die wêreld te bring.
Dan sal dié uit sy familie wat die ramp oorleef het,
terugkom na die Israeliete toe.

3
Hy sal na vore kom en sy volk lei
deur die krag wat die Here hom gee,
deur die sterkte van die Naam van die Here sy God.
Hulle sal woon tot in die uithoeke van die aarde,
want hulle leier sal sterk wees.

4
Hy sal vrede bring.
Wanneer Assirië ons land binneval,
wanneer hy in ons mooi huise wil ingaan,
sal ons baie leiers,
genoeg generaals, teen hom uitstuur.

5
Hulle sal Assirië platloop met die swaard,
die land van Nimrod met swaarde
wat reg is om te steek.
Die regeerder uit Betlehem sal ons red
uit die mag van Assirië
wanneer Assirië ons land binneval,
wanneer hy ons gebied binnekom.

6
Dié van Jakob wat oorbly, sal tussen baie volke wees,
hulle sal daar wees soos dou wat van die Here af kom,
soos stortreëns op groen gras
wat nie vir 'n mens wag nie,
nie na mense kyk nie.

7
Dié van Jakob wat oorbly, sal tussen die nasies wees,
tussen baie volke,
hulle sal daar wees soos 'n leeu tussen wild
of tussen 'n trop skape:
hy verskeur as hy tussen hulle deurstap,
hy vang sy prooi,
en niemand kan dit uit sy bek ruk nie.

8

Mag jy jou teenstanders oorweldig, Israel,
mag al jou vyande uitgeroei word!

9

Daardie dag, sê die Here,
sal Ek jou perde uitroei,
jou strydwaens vernietig.

10
Ek sal die stede van jou land vernietig,
al jou vestingstede afbreek.

11
Ek sal jou toorgoed wegvat uit jou hand,
daar sal nie meer waarsêery by jou wees nie.

12
Ek sal jou afgodsbeelde vernietig,
jou klippilare by jou afbreek.
Jy sal nie meer jou handewerk aanbid nie.

13
Ek sal jou gewyde pale uitruk,
jou stede verwoes.

14
In my toorn en gramskap
sal Ek die nasies straf
wat nie na My luister nie.

6

1

Hoor wat die Here sê:
Maak klaar, roep die berge as getuie,
laat die heuwels hoor wat jy te sê het.

2
Berge, vaste fondamente van die aarde,
julle moet luister na die saak wat die Here het.
Die Here het 'n saak teen sy volk,
Hy het Israel aangekla.

3

My volk, wat het Ek jou aangedoen?
Hoe het Ek jou moeg gemaak?
Antwoord My!

4
Ek het jou uit Egipte gebring,
Ek het jou uit die plek van slawerny gered,
Ek het vir Moses gestuur om jou te lei,
ook vir Aäron en Mirjam.

5

My volk, dink aan die planne van koning Balak van Moab,
en wat Bileam seun van Beor hom geantwoord het.
Dink aan alles tussen Sittim en Gilgal,
en weet dat die Here julle die oorwinning laat behaal het.

6

Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe gaan,
as ek voor die hoë God gaan kniel?
Moet ek met offers na Hom toe gaan,
met jaaroud kalwers?

7

Sal die Here duisende ramme aanvaar
saam met tienduisende offers van olie?
Moet ek my eersgeborene offer vir my sonde,
hom wat uit my liggaam kom, vir my oortreding?

8

Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is:
Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied,
dat jy liefde en trou sal bewys,
dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.

9

Om die Here te dien, dit is wysheid.

Die Here roep die stad;
luister, leier en julle almal wat aanhou roof:

10
Goddelose plek, moet Ek die verkeerde maatlyn bly verdra,
of die vals inhoudsmaat wat Ek so haat?

11
Moet Ek die eienaar van 'n onbetroubare weegskaal vryspreek,
een met 'n sak vol vals gewigte?

12
Die stad se ryk mense pleeg geweld,
sy inwoners lieg en hulle bedrieg.

13

Daarom het Ek jou begin straf;
Ek het jou begin verwoes oor jou sondes.

14
Jy sal eet en nie genoeg kry nie;
jy sal honger bly.
Jy sal geboortepyne hê,
maar nie 'n kind in die wêreld bring nie.
En wanneer jy 'n kind in die wêreld bring,
gee Ek hom vir die swaard.

15
Jy sal saai, maar nie oes nie,
jy sal olywe pars, maar jou nie met olie insmeer nie,
jy sal druiwe pars, maar nie wyn drink nie.

16
Jy het Omri se reëlings nagekom,
gedoen wat Agab gedoen het,
hulle raad gevolg.
Daarom sal Ek jou verwoes,
Ek sal jou inwoners 'n bespotting maak.
Jy sal my volk se vernedering moet dra.

7

1

Ellende wag vir my,
ek het geword soos 'n land wat afgeoes is,
soos die natrossies in die wingerd.
Daar is niks om te eet nie,
en ek wou graag voorvye gehad het.

2
Daar is nie meer 'n gelowige in die land nie,
onder die mense kry jy nie 'n opregte nie,
almal stel strikke om moord te pleeg,
hulle maak met vangnette jag op hulle broers.

3
Al wat die regeerder vra,
is dat hulle goed moet sondig;
die regter vra omkoopgeld,
die vername praat net oor wat hy begeer.
Hulle verdraai alles.

4

Die beste onder hulle is soos 'n gifplant,
die opregte erger as 'n doringheining.
Die dag van jou straf kom,
wees op die uitkyk daarvoor!
Hulle sal binnekort in verwarring raak.

5

Moenie 'n maat vertrou nie,
moenie op 'n vriend staatmaak nie,
pasop wat jy sê vir die vrou langs wie jy lê.

6
Die seun beledig sy pa,
die dogter kom in opstand teen haar ma,
die skoondogter teen haar skoonma.
'n Man se huismense het sy vyande geword.

7

Maar ek sal vertrou op die Here,
ek sal wag vir die God wat my red.
My God sal my gebed verhoor.

8

Moet jou nie oor my verlekker nie, my vyand,
al het ek tot 'n val gekom, ek sal weer opstaan,
al sit ek in die donker, die Here is my lig.

9
Ek sal aanvaar dat die Here my straf in sy toorn,
want ek het teen Hom gesondig.
Wanneer Hy my saak verhoor
en oor my uitspraak lewer,
sal Hy weer lig bring in my lewe,
sal ek ondervind dat Hy die oorwinning gee.

10
My vyand sal dit sien,
hy sal deur skaamte oorval word,
hy wat vir my vra: “Waar is die Here jou God?”
Ek sal op my vyand neersien,
hy sal plat getrap word soos modder op die straat.

11
Die dag wanneer jou mure herbou word,
dié dag sal jy nie onder die vyand se wet staan nie.

12
Dié dag sal hulle na jou toe kom
van Assirië af tot by die vestingstede,
van die vestingstad af tot by die Eufraat,
van die een see af tot by die ander
en van die een berg af tot by die ander.

13
Die aarde sal verwoes wees oor sy inwoners,
oor alles wat hulle gedoen het.

14

Pas jou volk op met jou kierie,
die kleinvee wat aan jou behoort,
wat alleen wei in die Karmelbos.
Hulle sal in Basan en Gilead wei soos lank gelede.

15
Ek sal jou wonders laat sien
soos in die tyd toe jy uit Egipte getrek het.

16
Die nasies sal dit sien en teleurgestel staan,
al was hulle ook hoe sterk.
Hulle sal stilbly, hulle sal hulle doof hou.

17
Hulle sal stof eet soos die slange
wat op die grond seil,
hulle sal bewe
en uit hulle wegkruipplekke uitkom na die Here ons God toe.
Hulle sal skrik en vir U bang wees.

18

Wie is 'n God soos U?
U vergewe sonde,
U straf nie die sonde van dié wat uit u volk oorgebly het nie.
U bly nie vir altyd kwaad nie,
U betoon liefde.

19
Hy sal ons weer genade betoon,
Hy sal ons sonde tot niet maak,
U sal al hulle sondes in die diepsee gooi.

20
U sal getrou wees teenoor Jakob,
liefde betoon aan Abraham,
soos U in die voortyd aan ons voorvaders
met 'n eed beloof het.