1

1

Die woord van die Here het tot Jona seun van Amittai gekom:

2 “Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is.”

3

Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af. Jona is af Joppe toe, en daar het hy 'n skip gekry wat op vertrek was Tarsis toe. Hy het vir die reis betaal en aan boord gegaan om saam met die bemanning Tarsis toe te gaan, weg van die Here af.

4

Maar die Here het 'n kwaai storm oor die see laat opkom. Daar was 'n baie sterk wind op die see, en die skip wou uitmekaar breek.

5 Die matrose het bang geword, en elkeen het tot sy god om hulp geroep. Hulle het die vrag van die skip in die see gegooi om die skip ligter te maak. Maar Jona was onder in die skip waarheen hy afgegaan het om te gaan slaap. Hy het vas geslaap

6 en die kaptein het na hom toe gegaan en vir hom gesê: “Wat is dit met jou dat jy lê en slaap? Staan op en bid tot jou god. Miskien sal hy aan ons dink en dan sal ons nie vergaan nie.”

7

Toe sê die manne vir mekaar: “Kom ons trek lootjies sodat ons kan uitvind oor wie hierdie ramp ons tref.”

Hulle het lootjies getrek en Jona is aangewys.

8 Toe vra hulle hom: “Vertel ons tog waarom hierdie ramp ons tref. Wat werk jy? Waarvandaan kom jy? Uit watter land en van watter volk is jy?”

9

Jona het hulle geantwoord: “Ek is 'n Hebreër. Ek dien die Here die God van die hemel wat die see en die vasteland gemaak het.”

10

Die manne het baie bang geword en vir Jona gesê: “Wat het jy nou aangevang?”

Hulle het te wete gekom dat hy van die Here af wegvlug: Jona het hulle dit self vertel.

11 Toe vra hulle hom: “Wat moet ons met jou maak dat die see weer rondom ons kan kalm word?”

Die see het ondertussen al hoe onstuimiger geword.

12

Jona het hulle geantwoord: “Vat my en gooi my in die see, dan sal dit kalm word rondom julle, want ek weet dit is oor my dat hierdie groot storm rondom julle woed.”

13

Die manne het hard geroei om weer die vasteland te bereik, maar hulle kon nie, want die see het al hoe onstuimiger geword rondom hulle.

14 Toe bid hulle tot die Here en sê: “Ag, Here, moet ons tog nie laat vergaan oor hierdie man nie. Moenie dat ons iemand onskuldig doodmaak nie. U is die Here, U doen wat U wil.”

15

Hulle vat toe vir Jona en gooi hom in die see. Die storm op die see het toe bedaar.

16

Die manne het toe baie bang geword vir die Here en hulle het vir Hom 'n offer gebring en geloftes afgelê.

17

Toe stuur die Here 'n groot vis om vir Jona in te sluk, en hy was drie dae en nagte in die vis se maag.

2

1

Toe bid Jona daar binne-in die vis tot die Here sy God.

2 Jona het gesê:

“In my nood het ek tot die Here geroep,
en Hy het my gebed verhoor.
Diep in die doderyk het ek hulp gevra,
en U, Here, het my gehoor.

3
U het my die diepte ingegooi,
diep in die see, en die watermassa het my omring.
U het golf na golf oor my laat gaan.

4
Ek het gedink ek het uit u gesig verdwyn,
maar tog sal ek weer u heilige tempel aanskou.

5
Die waters het my toegevou,
die groot water het my omring,
seegras was om my kop gedraai.

6
Ek het afgesak tot by die fondamente van die berge,
die aarde het my vir altyd toegesluit.
Maar U, Here my God, het my van die dood gered.

7
Toe ek wou vergaan, het ek aan die Here gedink,
en my gebed het by U gekom, in u heilige tempel.

8
Dié wat op nuttelose afgode vertrou,
verlaat Hom wat liefde aan hulle betoon.

9
Terwyl ek 'n loflied sing, wil ek aan U 'n offer bring;
wat ek beloof het, sal ek doen.
Hulp kom net van die Here af.”

10

Toe beveel die Here die vis, en hy het vir Jona op die vasteland uitgespoeg.

3

1

Die woord van die Here het 'n tweede keer tot Jona gekom:

2

“Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee.”

3

Toe maak Jona klaar en gaan na Nineve toe soos die Here hom beveel het. Nineve was 'n baie groot stad: 'n mens het drie dae gevat om dit deur te stap.

4 Jona het die stad ingegaan en 'n dag lank daar rondgestap en toe roep hy: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!”

5

Die mense van Nineve het toe in God geglo en hulle het 'n dag aangekondig om te vas. Groot en klein het rouklere aangetrek.

6 Die berig het ook by die koning van Nineve uitgekom. Hy het van sy troon af opgestaan en sy koningsklere uitgetrek, rouklere aangetrek en op 'n ashoop gaan sit.

7 Hy het in Nineve laat proklameer: “Die koning en sy raadgewers beveel dat mens en dier, grootvee en kleinvee, aan niks mag proe nie, dat hulle niks mag eet en nie water mag drink nie.

8 Mens en dier moet rouklere aanhê, en die mense moet ernstig tot God roep en hulle van hulle verkeerde dade bekeer en berou hê oor die geweld wat hulle gepleeg het.

9 Miskien sal God van plan verander en nie meer kwaad wees nie. Dan sal ons nie omkom nie.”

10

Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie.

4

1

Hieroor was Jona baie ontevrede en hy het baie kwaad geword.

2 Hy het tot die Here gebid en gesê: “Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug. Ek het geweet U is 'n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.

3

“Laat ek nou maar sterf, Here, want dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.”

4

Toe vra die Here vir hom: “Het jy rede om kwaad te word?”

5

Jona is toe uit die stad uit. Hy het oos van die stad gaan sit en vir hom 'n skerm gebou. Hy het daaronder in die skaduwee gaan sit om te sien wat in die stad gebeur.

6

Toe laat die Here God 'n komkommerplant opkom, en dit het bo-oor Jona gerank om skaduwee te gee vir sy kop en om hom van sy misnoeë te bevry. Jona was baie bly oor die komkommerplant.

7

Die volgende môre met dagbreek laat God toe 'n wurm kom, en dit het aan die komkommerplant gevreet, sodat dit verdroog het.

8 Toe die son opkom, het God 'n skroeiende sterk wind uit die ooste laat waai. Die son het vir Jona op sy kop gesteek, en hy het baie swak geword en gewens om maar liewer te sterf. Hy het gesê: “Dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.”

9

Toe vra God vir Jona: “Het jy rede om kwaad te word oor die komkommerplant?” en Jona antwoord: “Ek het rede genoeg: ek is besig om te sterf!”

10

Die Here het vir Jona gesê: “Jy is besorg oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood.

11 Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, 'n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?”