1
Die woord van die Here wat gekom het tot Hosea seun van Beëri tydens die regering van konings Ussia, Jotam, Agas en Hiskia van Juda en van koning Jerobeam van Israel, seun van Joas.2
'n Inleiding tot die woorde van die Here deur die diens van Hosea. Die Here het vir Hosea gesê: Gaan trou met 'n prostituut wat buite-egtelike kinders het, want die land is besig om te hoereer, om heeltemal ontrou aan die Here te word.3
Hosea het toe met Gomer dogter van Diblajim gaan trou. Sy het swanger geraak en vir Hosea 'n seun in die wêreld gebring.4 Die Here sê toe vir Hosea: Noem die seun Jisreël, want Ek gaan binnekort die koningshuis van Jehu laat boet vir die bloedbad in die stad Jisreël en Ek gaan die koningskap in Israel tot niet maak.
5 Dié dag sal Ek die leër van Israel vernietig in die Jisreëlvlakte.
6
Gomer het weer swanger geraak en sy het 'n dogter gekry. Die Here het toe vir Hosea gesê: Noem haar Sonder-ontferming,7
Maar Ek sal My oor Juda ontferm en Ek, die Here hulle God, sal hulle red. Ek sal dit nie doen met wapens, oorlog, perde en ruiters nie.8
Nadat sy vir Sonder-ontferming gespeen het, het Gomer weer swanger geraak en 'n seun gekry.9 Die Here het gesê:
Noem hom Nie-my-volk-nie,10
Tog sal die getal van die Israeliete in die toekoms wees soos die sand van die see wat nie getel of gemeet kan word nie. Waar nou vir hulle gesê word: “Julle is Nie-my-volk-nie,” sal vir hulle gesê word: “Julle is kinders van die lewende God.”11 Dan sal die Judeërs en die Israeliete weer een word en vir hulle een leier aanwys en die beheer van die land oorneem. Daardie dag sal Jisreël se val groot wees.
12
Sê maar solank vir julle broers: “My volk,” en vir julle susters: “Dié vir wie daar ontferming is.”1
Kla julle moeder aan, kla haar aan! Sy is nie meer my vrou nie, Ek is nie meer haar man nie. Sy moet ophou om ontrou te wees en sy moenie meer owerspel pleeg nie,2 anders trek Ek haar kaal uit en maak haar so weerloos soos op haar geboortedag. Ek sal haar soos 'n woestyn maak, soos 'n dor land, en sy sal van dors doodgaan.
3 Ek sal My nie oor haar eerste kinders ontferm nie, want hulle is buite-egtelike kinders.
4 Hulle moeder was 'n prostituut, sy het swanger geword omdat sy haar skandelik gedra het. Sy het bly sê: “Ek gaan na my minnaars toe. Dit is húlle wat sorg dat ek brood en water, wol en vlas, olie en drank het.”
5
Daarom gaan Ek haar pad versper met doringtakke en haar afkamp sodat sy nie haar planne kan uitvoer nie,6 en as sy dan haar minnaars probeer opsoek en hulle nie raakloop nie, hulle soek en nie kry nie, sal sy dalk sê: “Ek sal na my eie man toe teruggaan, want ek was by hom beter versorg as nou.”
7
Sy wou nie erken dat dit Ek is wat vir haar koring en wyn en olie en baie geld gee nie, geld wat sy in elk geval vir Baäl gebruik het.8 Daarom gaan Ek die koring en wyn wat sy by My kry, terughou in die oestyd. Ek gaan ook die wol en die vlas terugvat wat Ek haar gegee het om haar naaktheid te bedek.
9 Ek gaan haar nou kaal uittrek voor die oë van haar minnaars. Nie een sal haar kan help nie.
10 Ek gaan 'n einde maak aan al haar feesvreugde, haar huttefeeste, haar nuwemaansfeeste en haar sabbatsfeeste, al haar feeste.
11 Ek gaan haar wingerde en haar vyebome verwoes, die dinge waarvan sy sê: “Dit is my beloning wat my minnaars my gee vir my dienste.” Ek gaan dit 'n boskasie maak en die wilde diere sal dit opvreet.
12
Ek gaan haar laat boet vir al die kere dat sy die Baäls gedien het en vir hulle geoffer het, vir al die kere dat sy haar uitgedos het met ringe en versiersels en agter haar minnaars aangeloop het en My vergeet het, sê die Here.13
Tog sal Ek weer begin om haar die hof te maak. Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê.14 Wanneer ons daar is, sal Ek weer vir haar wingerde gee, Ek sal die Akorlaagte 'n poort na 'n nuwe toekoms maak. Dan sal sy weer my liefde beantwoord soos toe sy jonk was, soos toe sy uit Egipte getrek het.
15
Dié dag, sê die Here, sal jy vir My sê: “My man,” en My nie meer as 'n Baäl beskou nie.16 Ek sal sorg dat jy die name van die Baäls nie weer noem nie en dat jy hulle nooit weer aanroep nie.
17
Dié dag sal Ek vir Israel 'n ooreenkoms sluit met die wilde diere, die voëls en alles wat op die grond kruip. Ek sal die wapens vernietig en 'n einde maak aan oorloë in die land sodat daar rus en vrede kan wees.18 Ek gaan jou my bruid maak vir altyd. Ek gaan jou aan My bind deur my weldade en my goeie sorg, deur my liefde en my ontferming.
19 Ek gaan jou aan My bind deur my onverbreekbare trou sodat jy aan My, die Here, toegewy sal wees.
20
Dié dag sal Ek antwoord, sê die Here. Ek sal die lug antwoord en dié sal die grond antwoord.21 En die grond sal antwoord met koring, wyn en olie vir Jisreël.
22 Ek sal my ontferm oor Sonder-ontferming en haar vrugbaar maak in die land. Ek sal vir Nie-my-volk-nie sê: “Jy is my volk,” en hy sal vir My sê: “My God.”
1
Die Here het vir my gesê: Gaan knoop weer 'n liefdesverhouding aan met 'n vrou wat vir ander mans lief is en egbreuk pleeg, net soos die Israeliete vir wie Ek, die Here, liefhet, ander gode aanhang en lief is vir rosyntjiekoeke.2
Ek het toe vir my 'n vrou gekry vir vyftien stukke silwer en honderd kilogram gars.3
Ek het vir haar gesê: “Jy moet 'n lang tyd tot my beskikking wees. Jy mag met niemand hoereer of trou nie, ek sal dit ook nie doen nie.”4 Net so sal die Israeliete 'n lang tyd moet klaarkom sonder 'n koning en amptenare, sonder offers en klippilare, sonder efodbeeld en afgodsbeeldjies.
5
Daarna sal die Israeliete hulle bekeer. Hulle sal vra na die wil van die Here hulle God, en hulle sal hulle koning Dawid aanhang. Hulle sal vol eerbied terugkom na die Here toe en na die oorvloed toe wat Hy in die toekoms sal skenk.1
Israeliete, luister na die woord van die Here, want Hy kla die inwoners van die land aan: Omdat trou, liefde en toewyding aan die wil van God in die land ontbreek,2 het vervloeking, valsheid, moord, diefstal en egbreuk hand oor hand toegeneem en is die vergieting van onskuldige bloed aan die orde van die dag.
3 Dit is waarom die land verdor en al die inwoners van dors versmag saam met die wilde diere en die voëls, en waarom selfs die visse vrek.
4
Niemand word ligtelik aangekla en tot verantwoording geroep nie, maar Ek gaan jóú mense aankla, Priester!5 Jy gaan vandag nog tot 'n val kom en die profeet gaan vannag nog saam met jou tot 'n val kom en Ek gaan selfs jou moeder om die lewe bring.
6
My volk gaan onder omdat hulle nie aan My toegewy is nie. Omdat jy jou taak om hulle aan My toe te wy, verwerp het, verwerp Ek jou as my priester. Omdat jy die wil van jou God verontagsaam het, verontagsaam Ek die priesters wat onder jou dien.7
Hoe meer priesters daar is, hoe meer sondig hulle teen My. Ek sal die aansien wat hulle geniet, in vernedering verander.8
Hulle teer op die sonde van my volk. Hulle smag daarna dat die volk nog meer moet sondig.9
Maar dit sal met die priesters gaan soos dit nou met die volk gaan. Ek sal die priesters straf vir hulle optrede. Wat hulle probeer doen, sal Ek in die teendeel verander:10 as hulle offervleis eet, sal hulle honger bly, en as hulle aan tempelprostitusie deelneem, sal hulle nie kinders hê nie.
Omdat die priesters die Here verlaat het om hulle toe te lê op11 tempelprostitusie, en omdat wyn en drank hulle lewe in beslag neem,
12 soek my volk leiding by 'n stuk hout, verwag my volk dat 'n stok dinge aan hom bekend sal maak. Omdat 'n hoergees die priesters beetgepak het en hulle aan hulle God ontrou geword het,
13 bring hulle offers op die bergtoppe en offer hulle op die heuwels onder al die groot groen bome waar daar lekker skaduwee is. Dit is waarom julle dogters hoereer en julle skoondogters egbreuk pleeg.
14
Ek gaan nie julle dogters straf omdat hulle hoereer nie en julle skoondogters omdat hulle egbreuk pleeg nie, want daardie priesters is besig om met die hoere af te paar en saam met die tempelprostitute te offer! Maar dié wat nie op my waarskuwing ag slaan nie, sal vernietig word.15
As jy hoereer, Israel, moet Juda dit nie ook doen nie. Juda, julle moenie die heiligdom by Gilgal besoek en na Bet-Awen toe gaan nie, en julle moenie daar 'n eed aflê in die Naam van die Here nie.16
Israel is so koppig soos 'n moedswillige koei. Moet die Here hulle dan nou versorg soos 'n herder sy skape in die veld versorg?17
Efraim is verknog aan afgodsbeelde; laat hom maar sy gang gaan.18
Wanneer sy regeerders klaar gesuip het, hoereer hulle op groot skaal. Hulle het skande hartstogtelik lief.19 'n Stormwind het vir Efraim in sy mag, sodat hy in die skande sal kom oor sy offers.
1
Luister hierna, priesters!2
die diep vanggat in Sittim.
Maar Ek gaan julle almal straf.
3
Ek ken Efraim en Ek weet wat in Israel aangaan.
Omdat jy jou nou aan hoerery oorgegee het, Efraim,
is Israel verontreinig.
4
Hulle dade maak dit vir hulle onmoontlik om na hulle God toe terug te keer, want 'n hoergees het by hulle posgevat en hulle is nie meer aan die Here toegewy nie.5
Israel se hoogmoed getuig teen hom, en Israel en Efraim sal saam tot 'n val kom oor hulle sonde. Selfs Juda het saam met hulle tot 'n val gekom.6 Met offers van kleinvee en beeste sal hulle na die wil van die Here kom vra, maar hulle sal nie antwoord kry nie, omdat Hy Hom aan hulle onttrek het.
7 Hulle was ontrou aan die Here, want hulle het buite-egtelike kinders verwek. Hy gaan hulle binnekort vernietig. Binne 'n maand gaan Hy hulle gesaaides verwoes.
8
Blaas die ramshoring in Gibea,
die trompet in Rama!
Maak alarm in Bet-Awen!
Benjamin is agter jóú aan, Efraim.
9
Jy gaan verwoes word op die dag van afrekening.
Ek maak aan die stamme van Israel bekend wat beslis gaan gebeur.
10
Die leiers van Juda het beslag gelê op Israel se grond. Daarom het my toorn hulle soos 'n vloedgolf getref.11 Efraim is verdruk; sy reg is hom ontneem, want hy het kant gekies vir iemand wat hom nie kon help nie.
12
Ek was vir Efraim soos 'n gewas en vir Juda soos beentering.13 Toe Efraim agterkom dat hy siek is en Juda dat hy 'n sweer het, het Efraim gaan hulp soek by Assirië en 'n afvaardiging gestuur na koning Jareb toe. Maar hý kon julle nie gesond maak of die sweer uitsny nie.
14 Ek is soos 'n leeu teenoor Efraim, soos 'n roofdier teenoor Juda. Dit is Ek wat verskeur en my koers gaan, wat wegdra sonder dat iemand dit kan keer.
15
Ek gaan My in my woonplek terugtrek totdat hulle hulle skuld bely en vra na my wil. In hulle nood sal hulle my hulp kom vra.1
“Kom ons gaan terug na die Here, want Hý het ons verskeur maar sal ons weer gesond maak, Hý het ons geslaan maar sal weer ons wonde verbind.2 Hy sal ons na twee dae 'n nuwe lewe laat begin. Hy sal ons op die derde dag weer krag gee sodat ons in sy teenwoordigheid kan leef.
3 Kom ons wy ons aan Hom toe, kom ons streef daarna om ons aan die Here toe te wy. Die Here sal verskyn, so seker as die son opkom, Hy sal na ons toe kom soos stortreën, Hy sal ons verkwik soos lentereëns die grond verkwik.”
4
Wat moet Ek met jou doen, Efraim? Wat moet Ek met jou doen, Juda? Julle liefde is soos 'n môrewolkie: dit verdwyn so vinnig soos dou.5 Dít is waarom Ek julle met my profete gestriem het, julle met my woorde vernietig het. My straf oor julle kom so seker soos die lig,
6 want Ek verwag liefde eerder as offers, toewyding aan My eerder as brandoffers.
7
Julle het weer die verbond met My verbreek soos destyds by die dorp Adam; daar was julle ontrou aan My.8
Gilead is 'n dorp vol mense wat onreg doen, 'n plek met bloed bevlek.9 Die klomp priesters is niks anders as 'n rowerbende nie: hulle pleeg moord op die Sigempad, hulle tree soos skurke op.
10
Ek het iets afstootliks in die koningshuis van Israel gesien: daar vind die hoerery van Efraim plaas, daar word Israel verontreinig.11
Ook vir jóú, Juda, lê die tyd van afrekening voor.1
Terwyl Ek die lot van my volk wil verander, terwyl Ek bereid is om Israel te herstel, kom die oortreding van Efraim en die sonde van Samaria aan die lig. Hulle belieg mekaar, hulle breek in en steel, hulle beroof mekaar op straat.2 Hulle dink nie eens daaraan dat Ek al hulle sonde ken nie. Nou het hulle optrede hulle ingehaal, dit lê oop en bloot voor My.
3
Met hulle bose optrede en met hulle slinkse planne stel hulle die koning en sy amptenare tevrede;4 hulle is die een so onbetroubaar soos die ander. Hulle is soos 'n oond wat aanhou smeul wanneer die bakker ophou stook terwyl hy die deeg knie en daarna wag dat dit moet rys:
5 by die fees van die vorige koning het hulle sy amptenare papdronk gemaak en was sy raadgewers onder die invloed van drank.
6 Terwyl die rebelle die koning gehuldig het, het die verraad in hulle gesmeul soos 'n oond, deur die nag was hulle drif sluimerend, teen die môre het dit opgevlam.
7 Hulle was almal soos 'n oond wat brand: so het hulle hulle regeerders verteer en het al hulle konings tot 'n val gekom. Maar nie een van hulle vra ooit na my wil nie.
8
Efraim is tussen die nasies, maar hy word self geknie. Efraim het soos 'n askoek geword wat verbrand het.9 Vreemdes het sy krag verteer, maar hy besef dit nie! Hy het muf geraak soos ou brood, maar hy besef dit nie.
10
Israel se hoogmoed getuig teen hom. Hulle het nie teruggekeer na My, die Here hulle God, nie en het te midde van dit alles nie na my wil gevra nie.11 Efraim het geword soos 'n duif: dom en sonder verstand. Hulle het vir Egipte gekoer, maar Assirië toe gevlieg.
12 Maar elke keer as hulle daarheen gaan, sal Ek my vangnet oor hulle gooi; Ek sal hulle soos voëls neertrek, Ek sal hulle vastrek sodra Ek die gedruis van die swerm hoor.
13 Ellende wag vir hulle omdat hulle van My af wegvlug! Daar wag teëspoed vir hulle omdat hulle teen My in opstand is! Ek was bereid om hulle te red, maar hulle lieg vir My.
14
Toe hulle na My om hulp geroep het, het dit nie uit die hart gekom nie, want hulle lê op hulle beddens en kerm en sny hulleself stukkend ter wille van koring en wyn. Hulle verset hulle teen My15 alhoewel Ek hulle gewaarsku het. Toe Ek hulle gehelp het, het hulle opstand beplan teen My
16 en hulp gesoek by wat nie kon help nie. Hulle het so nutteloos geword soos 'n slap boog. Hulle leiers sal met die swaard afgemaai word, hulle sal die slagoffers word van die vervloeking wat hulle oor hulleself uitgespreek het as hulle aan my verbond ongehoorsaam sou wees. En Egipte sal daaroor lag.
1
Maak alarm! Daar draai 'n roofvoël oor my huis! sê die Here. Israel het my verbond verbreek en hulle teen my wil verset.2 Hulle roep na My om hulp: “Ons is aan U toegewy, ons God! Ons is Israel.”
3
Maar Israel het die goeie verwerp, daarom sal die vyand hom agtervolg.4
Hulle het hulle eie konings aangestel sonder my goedkeuring, hulle het leiers aangestel wat Ek nie erken nie. Hulle het vir hulleself afgodsbeelde gemaak van hulle silwer en goud, maar dit sal vernietig word.5
Samaria, jou goue kalf is afstootlik! My toorn het losgebreek teen Samaria. Hoe lank sal hulle voortgaan om onrein te bly6 as hulle dan deel is van Israel? En daardie ding, dit is deur 'n ambagsman gemaak, dit is nie 'n god nie! Van die kalf van Samaria sal daar net splinters oorbly.
7
As mense wind saai, sal hulle 'n storm oes. As koring nie are skiet nie, kan dit geen oes lewer nie. As dit miskien tog iets sou oplewer, gaan vreemdes dit insluk.8
Israel is klaar ingesluk. In die oë van die nasies het hulle nou geword soos 'n ding wat niemand wil hê nie.9 En tog het die leiers by Assirië gaan hulp soek. Efraim is soos 'n eensame wildedonkie; hy het vir homself vriende gaan soek.
10 Maar al sou hy ook vriende maak onder die nasies, sou dit niks baat nie, want Ek gaan hulle nou bymekaarjaag, en binnekort sal hulle soos donkies swaar dra aan die las van die koning van Assirië.
11
Toe Efraim meer altare gebou het om sondeoffers te bring, het dit juis vir hom altare geword om op te sondig.12 Al sou Ek ook self vir hom ontelbare afskrifte van my wet gee, dit bly vir hom die wet van 'n onbekende.
13 Hulle bring offers om hulle self te bevredig, hulle bring vleis sodat hulle dit self kan eet! Sulke offers is nie vir My, die Here, aanneemlik nie. Ek gaan Efraim se sonde teen hulle hou en hulle laat boet vir hulle oortredings: Efraim sal na Egipte toe moet teruggaan.
14
Toe Israel sy Maker vergeet het, het Israel paleise begin bou, en Juda het meer vestingstede opgerig. Maar Ek sal in hulle stede 'n vuur laat losbreek en dit sal hulle mooi huise afbrand.1
Staak jou feeste, Israel! Hou op om fees te vier soos die ander nasies! Jy was ontrou aan jou God. Jy was daarop uit om met jou tempelprostitusie op elke plek waar koring gedors word, groter oeste te probeer kry.2
Maar die dorsvloer en parskuip sal julle nie voed nie, en geen wyn sal daar uitgetrap word nie.3
Julle sal nie in die land van die Here bly nie, Efraim sal na Egipte toe teruggaan, en in Assirië sal hulle onrein kos moet eet.4
Hulle sal nie wyn uitgiet as drankoffers vir die Here nie, hulle sal geen offers aan Hom bring nie. Hulle kos sal so onrein wees soos kos uit 'n sterfhuis . Almal wat dit eet, sal onrein word, want hulle sal dit moet eet sonder dat dit in die huis van die Here gewy is.5
Hoe gaan julle die feestyd, die groot fees van die Here deurbring?6 Dié wat die verwoesting ontvlug, sal in Egipte bymekaargemaak en in Memfis begrawe word. Waar hulle silwerskatte begrawe lê, en in hulle woonplekke, sal onkruid en dorings groei.
7 Die tyd van straf het aangebreek! Die tyd van afrekening het gekom! Israel sal dit besef.
Is die profeet dwaas? Is die man wat deur die Gees in besit geneem is, waansinnig? Hy is so omdat jou sonde so groot is en omdat jy so vyandig is teen hom.8
Die profeet is deur God gestuur om oor Efraim wag te hou, maar oral waar die profeet gaan, probeer hulle hom vastrek. Die vyandigheid hou nie eens in die huis van sy God op nie.9 Net soos in die tyd van Gibea is daar nie 'n einde aan hulle slegte dade nie. Die Here sal hulle sonde teen hulle hou, Hy gaan hulle laat boet vir hulle oortredings.
10
Israel was vir My soos druiwe waarop 'n mens in die woestyn afkom. Ek het in julle voorouers die belofte gesien wat die heel eerste vrug aan 'n jong vyeboom inhou. Maar hulle het na Baäl-Peor toe gegaan en hulle verbind aan 'n god wat vir hulle in die steek laat, en hulle het net so afstootlik geword soos die ding wat deur hulle vereer is.11
Soos 'n voël wegvlieg, so sal Efraim se mag verdwyn: daar sal geen geboortes, geen swangerskappe en geen bevrugtings meer wees nie.12 En as hulle die kinders wat hulle reeds het, probeer grootmaak, sal Ek hulle heeltemal kinderloos maak, daar sal geen kind oorbly nie. Daar wag vir hulle ook ellende wanneer Ek hulle verlaat.
13
Efraim was vir My soos 'n jong palmboom wat in vrugbare grond groei. Maar dieselfde Efraim sal sy kinders moet uitlewer aan die moordenaar!14
Gee aan hulle, Here, wat U wil, gee hulle kinderlose baarmoeders en borste sonder melk.15
Al hulle boosheid het by Gilgal begin. Ja, daar het Ek hulle al gehaat oor hulle goddelose dade. Ek sal hulle uit my huis wegjaag, Ek sal hulle nie meer liefhê nie. Al hulle leiers is in opstand teen My.16 Efraim is dodelik getref. Sy wortels het verdroog, hy kan nie meer enige vrugte dra nie. Ook al bring Efraim kinders in die wêreld, sal Ek die kinders laat sterf vir wie hulle so lief is.
17
My God het hulle verwerp omdat hulle nie na Hom geluister het nie: hulle sal swerwelinge word onder die nasies.1
Israel was 'n welige wingerdstok. Sy vrugte was geil. Hoe meer vrugte hy gedra het, hoe beter is daar vir die altare gesorg. Hoe beter dit met die land gegaan het, hoe mooier is die klippilare gemaak.2 Hulle is vals wanneer hulle hulle sonde bely. Maar die Here sal hulle altare afbreek, Hy sal hulle klippilare verwoes.
3
Hulle sê: “Ons het nie 'n koning nie, want ons het nie die Here gedien nie. Maar wat sou 'n koning in elk geval vir ons kon doen?”4
Hulle praat net, hulle maak vals beloftes, hulle sluit verdrae. En intussen is hulle regspraak soos gifplante wat in die vore langs die land groei.5
Die inwoners van Samaria is bekommerd oor die goue kalf van Bet-Awen. Sy vereerders treur oor hom en sy priesters kerm oor hom. Hulle kerm oor sy rykdom wat van hom weggeneem is.6
Maar hy gaan self ook nog na Assirië toe gevat word as 'n geskenk vir koning Jareb. Efraim sal teleurgestel word, Israel sal daar bedroë van afkom met sy planne en al.7 Wanneer Samaria verwoes word, sal sy koning meegesleur word soos 'n stuk dryfhout op die water.
8 Die hoogtes waar Israel gesondig en oortree het, sal woes word. Dorings en bossies sal groei waar die altare gestaan het. Dan sal Israel vir die berge sê: “Val ons toe!” en vir die heuwels: “Val op ons!”
9
Die sonde van Israel kom uit die tyd van Gibea. Hulle het daarmee volhard. Die oorlog teen hierdie opstandige volk sal hulle in Gibea tref.10
Ek het besluit Ek sal hulle straf. Die nasies sal teen hulle versamel word omdat hulle met hulle twee groot sondes volhard het.11 Efraim was 'n mak vers wat daarvan gehou het om graan uit te trap. Toe Ek sien dat sy reeds sterk genoeg is, wou Ek haar inspan. Juda sou ploeg en Jakob sou eg.
12
Ek het gesê: “Saai volgens my wil, en julle sal my liefde oes. Ploeg vir julle 'n nuwe land! Dit is nou die tyd om na my wil te vra sodat Ek kan kom en weldade oor julle uitgiet.”13
Maar julle het sonde ingeploeg en julle het vyandskap geoes. Julle het die vrug van julle valsheid geëet. Omdat jy vertrou op jou eie planne en op jou baie soldate,14 sal oorlog teen jou volk losbreek en sal al jou vestingstede verwoes word. Soos Salman vir Bet-Arbel verwoes het toe moeders en kinders saam in die veldslag verpletter is,
15 so sal hy met julle maak in Bet-El oor julle afskuwelike sonde. Met die eerste lig sal die koning van Israel al dood wees.
1
Toe Israel nog 'n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep.2
Maar toe die Baäls hulle roep, het Israel My verlaat en vir die Baäls gaan offer, vir afgodsbeelde offers gebring.3
Ek self het Efraim leer loop, Ek het hulle op my arms gedra, maar hulle wou nie erken dat dit Ek is wat vir hulle sorg nie.4
Ek het hulle met sorg en liefde gelei, Ek was vir hulle soos iemand wat die juk oplig as dit sy trekdier skaaf. Ek het na Efraim toe afgebuk en hom gereeld kos gegee,5 want Ek wou nie hê dat hy weer na Egipte toe moet teruggaan nie of dat Assirië oor hom moet heers nie. Maar Efraim het geweier om hom te bekeer.
6
Daarom sal sy stede deur oorlog verwoes word en sy waarsêers uitgeroei word. Hulle sal deur die oorlog verteer word oor die raad wat hulle gegee het.7 Omdat my volk My verlaat het, sal party van hulle opgehang word en die ander sal die slawejuk moet dra, 'n juk wat nie afgegooi sal word nie!
8
Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.9 Ek sal my gloeiende toorn bedwing, Ek sal nie so ver gaan en Efraim uitwis nie, want Ek is God, nie 'n mens nie. Ek is die Heilige wat by jou is, Ek sal nie met woede ingryp nie.
10
Hulle sal die Here volg! Hy sal brul soos 'n leeu en wanneer Hy brul, sal sy kinders vol ontsag uit die weste kom.11 Vol ontsag sal hulle soos voëls uit Egipte vlieg en soos duiwe uit Assirië.
Ek sal hulle na hulle neste toe terugbring, sê die Here.1
Efraim bedrieg My, Israel is vals teenoor My, Juda is nog altyd wispelturig in sy diens aan My, maar hy is getrou aan die afgode.2 Efraim hou hom op met wind, hy is aldag agter die oostewind aan. Hy hou aan met lieg en om sy eie ondergang te bewerk. Hy sluit 'n verbond met Assirië, maar stuur olie na Egipte toe.
3
Die Here het 'n saak teen Juda, Hy gaan Jakob straf vir sy dade, hom laat boet vir wat hy gedoen het.4 Nog voor sy geboorte het hy al sy broer onderkruip en as volwasse man het hy met God gestoei.
5 Jakob het met 'n Engel gestoei en gewen. Jakob het gehuil en van God hulp verwag: “By Bet-El sal Hy ons ontmoet, daar sal Hy met ons praat.
6 Die Here is die almagtige God, die Here sal onthou.”
7
Wat jy moet doen, is om na jou God toe terug te keer: jy moet Hom liefhê en sy bevele gehoorsaam, jy moet jou hoop altyd op jou God vestig.8
Efraim is 'n skelm handelaar: hy buit graag mense uit.9 En dan sê hy: “Ek is ryk, ek het myself ryk gemaak. Terwyl ek my besittings bymekaargemaak het, het ek niks gedoen wat verkeerd is nie.”
10
Maar Ek is die Here jou God van Egipte se tyd af. Ek gaan jou weer in tente laat woon soos in die woestyntyd.11 Ek het nog altyd met die profete gepraat, Ek het hulle baie visioene laat sien, Ek het deur die profete in gelykenisse gepraat.
12
Gilead was ook ryk, maar hy het heeltemal tot niet gegaan. Daar is bulle geoffer in Gilgal, maar dit sal nie verhoed dat ook hulle altare soos kliphope langs die lande word nie.13
Onthou Jakob moes na Aram toe vlug. Israel moes slawediens doen om vrouens te kry: omdat hy vrouens wou hê, moes hy skape oppas.14 Deur die diens van 'n profeet het Ek, die Here, vir Israel uit Egipte gelei, deur 'n profeet is hulle opgepas.
15
Maar Efraim het My aangehou tart en verdien die dood. Ek sal hom straf vir sy skandelike gedrag.1
Daar was 'n tyd toe Efraim met gesag gepraat het, hy was die onbetwisbare leier in Israel. Maar hy het hom skuldig gemaak met Baäl en dit het vir hom die dood gebring.2 En nou hou hulle maar aan met sondig: hulle het vir hulle beelde gemaak, afgodsbeelde van silwer na eie smaak. Maar dit bly die handewerk van ambagsmanne! Van hierdie beelde sê hulle: “As 'n mens wil offer, moet jy hierdie kalwers soen.”
3
Daarom sal hulle so vinnig verdwyn soos 'n môrewolkie, soos dou. Hulle sal weggewaai word soos kaf van 'n dorsvloer af, soos rook uit 'n skoorsteen.4
Ek is die Here jou God van die tyd van Egipte af. Jy het geen ander god geken nie en jy het geen ander redder gehad nie.5 Dit is Ek wat jou in die woestyn, in 'n dor land versorg het.
6
Maar toe hulle by goeie weiding gebring is, het hulle hulle vol geëet, en toe hulle vol geëet was, het hulle hoogmoedig geword. Daarom het hulle My vergeet.7
Toe het Ek vir hulle geword soos 'n leeu, soos 'n luiperd wat vir hulle langs die pad voorlê.8 Ek sal hulle aanval soos 'n beerwyfie wie se kleintjies afgeneem is. Ek sal hulle borskaste oopskeur. Soos 'n leeu sal Ek hulle daar verslind. Roofdiere sal hulle uitmekaarskeur.
9
Ek het jou vernietig, Israel, Ek wat jou eers gehelp het.10
Waar is jou koning dan nou? Laat hy jou help in al jou stede! Waar is jou regeerders van wie jy gesê het: “Gee vir my 'n koning en amptenare”?11 Ek gee vir jou 'n koning in my toorn en Ek vat hom weg in my woede!
12
Efraim se skuld is opgeskryf, sy sonde staan aangeteken.13 Toe die tyd vir sy geboorte gekom het, het hy nie die verstand gehad om op die regte oomblik gereed te wees vir die geboorte nie.
14 Moet Ek hom red uit die mag van die dood? Moet Ek hom verlos uit die doderyk? Kom met jou peste, dood! Kom met jou plae, doderyk! Ek sal vir Efraim nie jammer kry nie.
15
Al floreer Efraim ook soos 'n blom tussen die riete, die oostewind sal losbreek, 'n storm van die Here sal uit die woestyn kom en Efraim se waterbron sal opdroog, sy fontein sal gaan staan. Die storm sal al sy skatte en voorrade vernietig.1
Samaria sal boet, want hy is in opstand teen sy God. Die mans sal met die swaard doodgesteek word, die klein kindertjies sal verpletter word en die swanger vrouens sal oopgesny word.2
Keer terug na die Here jou God, Israel, want jy het geval deur jou sonde.3 Bely julle sonde en kom terug na die Here toe. Sê vir Hom: “Vergewe tog al ons sonde en neem ons belydenis aan. Ons bely teenoor U:
4 Assirië hou vir ons niks goeds in nie. Ons sal ons nie meer op wapens verlaat nie. Ons sal ook nie meer vir ons eie handewerk sê: ‘Ons god’ nie. By U alleen is daar liefde vir 'n weeskind.”
5
Ek sal hulle ontrou genees. Ek sal hulle van harte liefhê. Wanneer my toorn van hom afgewend is,6 sal Ek vir Israel wees soos die dou. Hy sal bloei soos 'n lelie en hy sal so vas staan soos die Libanon.
7 Hy sal geil groei. Hy sal so sterk wees soos 'n olyfboom en hy sal ruik soos die plante van Libanon.
8 Dié wat voorheen by die Libanon gewoon het, sal terugkom. Hulle sal weer koring verbou. Hulle sal welig groei soos 'n wingerdstok. Die roem van Israel sal wees soos die wyn van die Libanon.
9 Efraim, Ek wil niks te maak hê met afgodsbeelde nie. Ek het jou verneder, maar Ek sal jou weer onder my sorg neem. Ek is soos 'n groen sipres. Alles wat jy het, sal van My af kom.
10
Wie wysheid het, sal op hierdie woorde ag slaan. Wie verstandig is, sal dit ter harte neem, want wat die Here doen, is reg. Die regverdiges lewe daarvolgens, en die opstandiges kom daardeur tot 'n val.