1

1

Ag, hoe verlate lê die stad
wat vol mense was!
Sy het soos 'n weduwee geword,
sy wat magtig was onder die nasies.
Sy wat heerskappy gevoer het oor ander
moet nou dwangarbeid doen.

2
Onbedaarlik huil sy die hele nag,
die trane loop oor haar wange.
Niemand van haar vroeëre minnaars
is daar om haar te troos nie.
Al haar bondgenote het teen haar verraad gepleeg,
hulle het haar vyande geword.

3

Juda se mense is weggevoer, hulle kry swaar, hulle is slawe,
hulle sit tussen vreemde nasies
waar hulle geen rusplek kry nie;
hulle agtervolgers het hulle ingehaal,
hulle in die noutes vasgekeer.

4
Die paaie na Sion toe treur
omdat daar geen feesgangers is nie;
al haar poorte is verlate,
haar priesters sug,
haar jong vroue is bedroef,
sy het dit bitter.

5

Haar teëstanders het haar heersers geword,
haar vyande lewe nou rustig.
Die Here het haar laat ly oor haar baie sonde;
haar kinders het ballinge geword,
deur die vyand weggevoer.

6
Die prag van Sion het alles verdwyn.
Haar leiers het soos takbokke geword
wat geen weiveld vind nie,
hulle moes magteloos wegtrek voor hulle agtervolgers uit.

7

In hierdie dae van haar ellende en verdrukking
dink Jerusalem aan al haar kosbare dinge van die verlede.
Toe haar volk in die hande van die vyand geval het,
was daar niemand wat haar gehelp het nie;
haar vyande het dit gesien,
hulle het gelag oor wat van haar geword het.

8
Jerusalem het groot sonde gedoen,
dit het haar soos 'n onrein vrou laat word;
die mense het haar naaktheid gesien,
almal wat haar geëer het, verag haar nou.
Sy sug en draai weg.

9
Haar onreinheid wys aan haar klere,
sy het nie gedink aan wat van haar sou word nie.
Sy het diep geval
en daar is niemand wat haar bystaan nie.
Sien tog my ellende raak, Here,
kyk wat matig die vyand hom aan!

10

Die vyand het beslag gelê
op al haar waardevolle dinge;
sy moes aanskou hoe heidennasies
in haar heiligdom ingaan,
hulle vir wie U belet het
om in u gemeente te kom.

11
Haar hele bevolking sug,
hulle soek brood,
hulle het hulle waardevolle besittings verruil
vir kos om aan die lewe te bly.
Kyk tog, Here, en sien tog raak
hoe verag ek is.

12

Raak dit julle nie,
julle almal wat met die pad verbygaan?
Kyk tog self of daar 'n smart is soos die smart
wat oor my gekom het,
wat die Here my aangedoen het
die dag toe sy toorn losgebreek het.

13
Hy het 'n vuur van bo af gestuur,
en dit het my liggaam verteer;
Hy het vir my voete 'n strik gestel,
my agteroor laat steier;
Hy het my verlate gemaak,
ongeneeslik siek.

14

My sondes is saamgebind tot 'n juk,
hulle is saamgevleg deur die hand van die Here,
hulle is op my nek gesit,
en dit het my krag laat ingee.
Die Here het my oorgegee in die mag van mense
teen wie ek geen weerstand kon bied nie.

15
Die Here het al my dapper manne as waardeloos beskou,
ten koste van my het Hy 'n feestyd uitgeroep
om 'n slagting onder my jongmanne aan te rig.
In 'n parskuip het die Here vir Juda fyngetrap.

16

Dit is daarom dat ek so huil,
dat die trane uit my oë stroom.
Daar is geen trooster naby nie;
my bevolking is verslaan,
die vyand het die oorhand gekry.

17
Sion steek haar hande uit om hulp,
maar daar is niemand wat haar bystaan nie.
Die Here het vir Jakob aan alle kante vyande ontbied.
Jerusalem het onder hulle soos 'n onrein vrou geword.

18

Die Here het reg gedoen:
ek was ongehoorsaam aan sy woord.
Luister tog, alle volke,
aanskou my smart:
my jong vroue en jongmanne het ballinge geword.

19
Ek het na my bondgenote geroep,
maar hulle het my in die steek gelaat.
My priesters en leiers het in die stad beswyk
toe hulle vir hulle kos gesoek het
om aan die lewe te bly.

20
Kyk na my nood, Here!
Dit brand in my,
ek is verpletter
omdat ek so ongehoorsaam was;
buite maai die swaard af
en in die huise heers die pes.

21
Hulle hoor my sug,
maar daar kom niemand om my by te staan nie;
al my vyande hoor hoe sleg dit met my gaan
en hulle is bly dat U dit gedoen het.
Laat tog die dag kom wat U aangekondig het,
dat hulle kan word soos ek is.

22
Laat al hulle boosheid voor U kom,
en doen met hulle
soos U met my gedoen het oor al my sondes.
Ek sug gedurig,
my hart is gebreek.

2

1

Ag, hoe het die Here in sy toorn
die donker laat toesak oor Sion!
Hy het die pragstad van Israel tot in die stof verneder,
Hy het op die dag van sy toorn
sy eie tempel nie ontsien nie.

2
Die Here het geen genade betoon nie,
Hy het al die woonplekke van Jakob vernietig,
Hy het in sy toorn
die vestings van Juda afgebreek.
Hy het die koninkryk verwoes,
die leiers tot in die stof verneder.

3
Deur sy vernietigende toorn
het Hy die krag van Israel heeltemal gebreek.
Toe die vyand kom,
het die Here sy magtige hand teruggetrek
en sy toorn teen Jakob laat brand
soos 'n vlam wat alles rondom verteer.

4
Soos 'n vyand het Hy sy boog gespan en aangelê,
soos 'n teëstander
het Hy al wat dierbaar is, uitgeroei;
in die woning van Sion
het Hy sy toorn uitgegiet soos vuur.

5

Die Here het soos 'n vyand geword,
Hy het Israel vernietig,
Hy het al die wonings vernietig,
die vestings verwoes,
Hy het ellende op ellende oor Juda gebring.

6
Hy het sy eie woning verniel
asof dit 'n skerm in 'n tuin is,
Hy het die plek van ontmoeting vernietig;
die Here het in Sion feestyd en sabbat laat ophou;
in sy groot toorn het Hy koning en priester verwerp.

7
Die Here het sy altaar verwerp
en sy heiligdom laat vertrap.
Hy het die mure rondom die tempelgebou
laat afbreek deur die vyand.
Hulle het in die huis van die Here gejuig
asof dit sy volk is wat daar feesvier.

8

Die Here het besluit
om die muur van Sion te verwoes,
Hy het bepaal dat dit heeltemal afgebreek moet word,
Hy het nie op sy besluit teruggegaan nie;
van die vestings en die mure het Hy bouvalle gemaak,
hulle lê daar saam en vergaan.

9
Sion se poorte is begrawe in puin,
die sluitbalke is gebreek en lê aan stukke.
Sy koning en sy leiers is weggevoer na die heidene toe.
Daar is geen onderrig meer in die wet nie,
sy profete ontvang ook geen openbaring meer van die Here nie.

10
Die leiers van Sion
sit verslae op die grond,
hulle het stof op hulle koppe gegooi
en het rouklere aan;
die koppe van die jong vroue van Jerusalem hang tot op die grond.

11

My oë is gedaan van die huil,
dit brand in my,
my moed is gebreek,
want my volk is plat geslaan;
kinders en babatjies sak inmekaar in die strate van die stad.

12
Hulle soek by hulle moeders iets om te eet en te drink.
In die strate van die stad val hulle om soos gewondes,
in die arms van hulle moeders blaas hulle die asem uit.

13
Wat kan ek vir jou sê,
waarmee kan ek jou vergelyk, Jerusalem?
Wie se lyding kan ek vir jou noem
dat ek jou daardeur kan troos, Sion?
Jou verwonding is soos die see so groot,
wie kan jou genees?

14

Die visioene van jou profete
was vals en misleidend:
hulle het nie jou sondes blootgelê
sodat jou ballingskap afgeweer kon word nie;
die openbaringe wat hulle vir jou gegee het,
was vals en het tot jou verwerping gelei.

15

Almal wat met die pad verbygaan,
slaan die hande saam oor jou,
hulle fluit en skud hulle kop oor Jerusalem:
“Is dit die stad wat genoem is
die beeldskone, 'n vreugde vir die hele wêreld?”

16
Al jou vyande rek hulle mond oor jou,
hulle spot en kry lekker,
hulle sê: “Ons het hom verslind,
dit is die dag waarvoor ons gewag het,
dit het gebeur, ons beleef dit!”

17

Die Here het gedoen wat Hy Hom voorgeneem het,
Hy het die woord in vervulling laat gaan
wat Hy lank gelede al afgekondig het.
Hy het verwoes en geen genade betoon nie,
Hy het die vyand hom oor jou laat vermaak,
Hy het aan jou teëstanders die oorwinning gegee.

18

Roep tot die Here, Sion,
laat jou trane in strome vloei,
dag en nag,
moet jou nie rus gun nie,
moenie dat jou oë verligting kry nie.

19
Staan dwarsdeur die nag op en roep,
stort voor die Here jou hart uit soos water,
strek jou hande uit, en bid om die lewe van jou kinders,
hulle wat van honger beswyk op die hoeke van die strate.

20

Kyk tog, Here, let tog op
aan wie U dit gedoen het:
vrouens eet hulle eie kinders,
kinders wat in teerheid versorg is;
priesters en profete word doodgemaak
in die heiligdom van die Here!

21
Jonges en oues lê dood in die strate;
jong vroue en jongmanne het deur die swaard geval.
U het hulle neergevel op die dag van u toorn,
U het 'n slagting aangerig en geen genade betoon nie.

22
U het al my bure uitgenooi
om hier 'n bloedige fees te vier.
Op hierdie dag van die Here se toorn
kon niemand ontvlug of vrykom nie.
My kinders wat ek met teerheid versorg en grootgemaak het,
is deur my vyande om die lewe gebring.

3

1

Ek is die man wat ellende belewe het.
Die Here het my
met sy toorn geslaan.

2
Hy het my die donker in gejaag,
my laat loop op 'n pad sonder lig.

3
Vir my stoot Hy gedurig weg,
dag na dag.

4
Hy het my hele liggaam laat wegteer,
my bene gebreek.

5
Hy het my toegebou
met 'n muur van gif en ontbering rondom my.

6
Hy maak die donker my tuiste,
ek is soos dié wat lankal dood is.

7
Hy het 'n muur om my gebou, ek kan nie uitkom nie,
Hy het vir my swaar bronskettings aangesit.

8
Al roep ek en al smeek ek om hulp,
Hy weier om my gebed te verhoor.

9
Hy het my pad met klip toegebou,
vir my geen uitkomplek gelaat nie.

10

Hy is soos 'n beer wat my inwag,
soos 'n leeu wat my voorlê,

11
Hy het my eenkant toe gekeer en verskeur,
my vermink laat lê.

12
Hy het sy boog gespan
en my 'n teiken vir sy pyle gemaak.

13
Hy het sy pyle diep in my liggaam ingeskiet.

14

Ek word uitgelag deur my hele volk,
hulle sing heeldag spotliedjies oor my.

15
Hy het my bitter dinge laat sluk,
die lewe vir my galbitter gemaak.

16
Hy het my gruisklip laat kou,
my in die grond getrap.

17
Hy het alle rus van my af weggeneem;
ek het al vergeet van voorspoed.

18

Ek het gedink dit is klaar met my
en met my hoop op die Here.

19
Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my;

20
as ek daaroor nadink,
draai my gedagtes vas.

21

Maar dít sal ek ter harte neem
en om dié rede bly ek hoop:

22
deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie;
daar is geen einde aan sy ontferming nie,

23
dit is elke môre nuut.
U trou is groot.

24
Ek sê vir myself: Die Here is my lewe,
daarom hoop ek op Hom.

25
Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop,
vir die mens wat na sy wil vra;

26
dit is goed om geduldig te wag
op die hulp van die Here;

27
dit is goed vir 'n mens
om sy las in sy jeug te dra.

28
Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly
as God hom die las opgelê het,

29
laat hy hom diep verootmoedig
— miskien is daar hoop —

30
laat hy sy wang draai vir wie hom slaan,
laat hy maar oorvloedig smaad ondervind.

31

Die Here verstoot 'n mens nie vir altyd nie;

32
as Hy beproewing oor 'n mens gebring het,
ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot:

33
dit is teen sy sin
dat Hy mense in ellende en beproewing bring.

34

Dat al die gevangenes in die land
mishandel word,

35
dat iemand se reg vertrap word
voor die Allerhoogste,

36
dat 'n mens in 'n regsaak veronreg word —
die Here sien dit raak!

37
Wie kan iets beplan, en dit gebeur,
as die Here nie die bevel gee nie?

38
Is dit nie op bevel van die Allerhoogste
dat die kwaad sowel as die goeie te voorskyn kom nie?

39

Wat kla 'n mens oor sy lewe?
Hy moet liewer sy sonde oorwin.

40
Laat ons ons doen en late deeglik ondersoek
en ons tot die Here bekeer,

41
laat ons met ons hele hart
ons hande na God in die hemel uitsteek en bely:

42
“Ons het sonde gedoen en was opstandig;
U het nie vergewe nie.”

43

U toorn het ontvlam en U het ons agtervolg,
U het 'n slagting aangerig en nie genade betoon nie.

44
U het U met 'n wolk omhul
sodat geen gebed na U kon deurkom nie,

45
U het ons die uitvaagsel gemaak,
die skuim onder die volke.

46
Al ons vyande rek hulle mond oor ons;

47
angs en benoudheid het oor ons gekom,
verlatenheid en verwoesting.

48

Die trane loop in strome uit my oë
oor die vernietiging van my volk.

49
My trane sal aanhou vloei,
dit sal nie ophou nie,

50
totdat die Here uit die hemel afkyk
en dit raaksien.

51
Wat my oë sien, maak my hartseer
oor al die dogters van my stad.

52

Mense het op my jag gemaak soos op 'n voël,
hulle is sonder rede vyandig teenoor my,

53
hulle het my in 'n put gegooi
en klippe op my afgerol om my dood te maak;

54
die water het tot by my kop gestyg,
ek het gedink dit is klaar met my.

55
Ek het na U geroep, Here,
uit die dieptes uit.

56

U het gehoor hoe ek smeek:
“Moet tog nie afsydig staan nie,
gee uitkoms en red my!”

57
U het na my toe gekom toe ek geroep het,
U het gesê: “Moenie bang wees nie!”

58
U verdedig my saak, Here,
U red my lewe.

59
U sien die onreg teen my, Here,
lewer tog uitspraak in my guns,

60
U sien hoe hulle my haat,
hoe hulle teen my saamspan.

61
U hoor self hoe hulle my beledig, Here,
hoe hulle teen my saamspan,

62
hoe hulle heeldag oor my praat en spot.

63
Of hulle sit en of hulle staan,
hoor hoe sing hulle spotliedjies oor my.

64

Straf hulle, Here,
volgens wat hulle gedoen het,

65
laat benoudheid hulle oorval,
tref hulle met u vloek,

66
agtervolg hulle in u toorn
en verdelg hulle, weg onder u hemel uit.

4

1

Ag, hoe dof het die goud geword,
hoe het die goeie goud
sy glans verloor!
Die gewyde edelstene lê weggegooi
op al die hoeke van die strate!

2
Sion se kosbare inwoners,
vroeër so waardevol geag soos suiwer goud —
ag, hoe word hulle nou beskou as erdepotte,
die werk van 'n pottebakker.

3

Selfs 'n jakkals gee vir sy kleintjie die speen
en laat hom drink,
maar my volk het so wreed geword
soos volstruise in die woestyn.

4
Die suigelinge se tonge
sit aan hulle verhemeltes vas van die dors;
kindertjies smeek om brood
maar niemand gee vir hulle iets nie.

5
Mense wat vroeër ryk geëet het,
beswyk nou van honger op die strate,
mense wat in weelde grootgeword het,
lê nou op die vuilgoedhope.

6

Die sonde van my volk
is groter as dié van Sodom
wat in 'n oomblik vernietig is
sonder dat mense daar 'n hand teen uitgesteek het.

7

Die leiers van Sion het meer glans gehad as sneeu,
hulle was witter as melk,
blakend gesond van kleur,
mooi van voorkoms.

8
Maar nou is hulle swarter as roet,
hulle word nie eens op die strate herken nie;
hulle is net vel en been,
uitgedroog, soos hout.

9
Dié wat deur die swaard doodgemaak is,
is beter daaraan toe as dié wat van honger omkom,
wat wegkwyn en sterwe omdat die lande geen opbrengs het nie.

10
Met hulle eie hande het moeders
wat vroeër liefdevol was, hulle kinders gekook;
dit het hulle kos geword
toe my volk ineengestort het.

11

Die Here het aan sy gramskap vrye teuels gegee,
Hy het sy toorn uitgegiet,
Hy het in Sion 'n vuur aangesteek
wat hom tot op sy fondamente verteer het.

12
Geeneen van die konings van die aarde,
geen mens ter wêreld sou geglo het
dat 'n teëstander of enige aanvaller
ooit by Jerusalem se poorte sou inkom nie.

13

Dit het gebeur oor die sondes en oortredinge
van die stad se profete en priesters
deur wie onskuldige mense
daar om die lewe gebring is.

14

Profete en priesters het deur die strate gestrompel soos blindes,
hulle was bevlek met bloed,
niemand wou dit waag om aan hulle klere te raak nie.

15
Mense het vir hulle geskree: “Gee pad! Julle is onrein!
Gee pad, gee pad, moenie aan ons raak nie!”
En toe hulle vlug en wegstrompel,
het ook die heidennasies gesê:
“Hulle mag nie hier by ons bly nie!”

16

Die Here self het hulle verstrooi,
Hy trek Hom hulle lot nie meer aan nie.
Daar is geen meegevoel met die priesters nie,
daar word geen genade aan die leiers betoon nie.

17

Ons kyk ons oë moeg
om hulp wat nie opdaag nie;
van ons wagpos af kyk ons in verwagting uit
na 'n nasie wat nie help nie.

18
Ons bewegings word dopgehou,
ons kan dit nie op straat waag nie.
Ons einde is naby, ons dae is getel,
ons einde het aangebreek!

19
Ons agtervolgers was vinniger
as die arende in die lug;
hulle het in die berge op ons hakke gelê
en ons in die woestyn in 'n hinderlaag gelei.

20
Ons koning van wie ons lewe afhanklik is, die gesalfde van die Here,
is gevang in hulle vanggate,
hy van wie ons gedink het dat ons onder sy beskerming
sal leef onder die nasies.

21

Wees gerus maar opgewek en bly, Edom,
jy wat in Us woon,
maar ook jy sal die oordeelsbeker moet drink,
jy sal daarvan dronk word en jouself ontbloot.

22
Die straf vir jou sonde is beëindig, Sion,
die Here sal jou ballingskap nie laat voortduur nie;
maar jóú sonde gaan Hy straf, Edom,
jóú ongeregtigheid gaan Hy aan die kaak stel.

5

1

Slaan tog ag op wat oor ons gekom het, Here,
kyk tog en sien self hoe ons verneder is.

2
Ons besittings is gevat en aan vreemdes gegee,
ons huise aan uitlanders.

3
Ons het weeskinders geword, daar is nie vaders nie,
ons moeders is soos weduwees.

4
Ons moet ons eie drinkwater koop,
vir ons eie hout moet ons betaal.

5
Ons word gedryf deur ons oorheersers,
ons is uitgeput,
ons word geen rus gegun nie.

6
Ons het ons hande uitgesteek na Egipte en na Assirië
om by hulle kos te bedel.

7

Ons vaders het gesondig,
maar hulle is nie meer daar nie,
ons word gestraf vir hulle sondes.

8
Ondergeskiktes heers nou oor ons,
en niemand kan ons uit hulle mag red nie.

9
Met lewensgevaar moet ons vir ons gaan kos haal,
want in die veld word ons doodgemaak.

10
Ons vel verskrompel soos iets in 'n oond
vanweë die verterende honger.

11

Vrouens is in Sion verkrag,
en jong meisies in die stede van Juda.

12
Leiers is gevat en opgehang,
oumense word met minagting behandel.

13
Jongmanne word gedwing om maalwerk te doen,
jong seuns struikel onder vragte hout.

14
Die oumense sit nie meer in die poorte van die stad nie
en die jongmanne maak nie meer daar musiek nie.

15
Vrolikheid het uit ons lewe verdwyn,
ons koordanse het plek gemaak vir rou.

16
Ons het ons aansien verloor,
daar het ellende oor ons gekom,
want ons het sonde gedoen!

17

Dit is die rede vir ons droefheid,
vir die swart kringe om ons oë:

18
Sionsberg lê so verlate,
die jakkalse loop daar rond.

19

Maar Ú, Here, U heers vir altyd,
u troon staan vas van geslag tot geslag.

20

Waarom sou U ons dan bly vergeet,
ons vir altyd verlaat?

21
Bekeer U ons tot U, Here, dat ons bekeer kan wees,
gee ons weer die bestaan van vroeër.

22
Of het U ons heeltemal verwerp?
Is u toorn oor ons so groot?