1

1

Die woorde van Jeremia. Hy was 'n seun van Gilkija en 'n priester uit Anatot in Benjamin.

2

Die woord van die Here het tot hom gekom tydens die regering van koning Josia van Juda, seun van Amon. Dit was in die dertiende regeringsjaar van Josia.

3 Daarna het die woord van die Here tot Jeremia gekom tydens die regering van koning Jojakim van Juda, seun van Josia, en telkens tot die einde van die elfde regeringsjaar van koning Sedekia van Juda, seun van Josia. In die vyfde maand van daardie jaar is die inwoners van Jerusalem in ballingskap weggevoer.

4

Die woord van die Here het tot my gekom:

5

Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.


6
“Ag, Here my God,” het ek geantwoord,
“ek kan nie goed praat nie, ek is nog te jonk.”

7

Toe sê die Here vir my:

Jy moenie sê: “Ek is te jonk” nie.
Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur,
en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê.

8
Moenie vir hulle bang wees nie,
want Ek is by jou, Ek sal jou red.

Dit is wat die Here gesê het.


9
Hy het sy hand uitgesteek, my mond aangeraak
en vir my gesê:
Ek het nou my woorde in jou mond gelê.

10

Kyk, Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig.

11

Die woord van die Here het tot my gekom: Wat sien jy, Jeremia?

Ek het geantwoord: “Ek sien 'n amandeltak.”

12

Die Here het geantwoord: Jy het reg gesien. Ek staan gereed om te doen wat Ek gesê het.

13

Die woord van die Here het 'n tweede keer tot my gekom: Wat sien jy?

Ek het geantwoord: “Ek sien 'n kokende pot in die noorde en dit kantel oor hiernatoe.”

14

Toe sê die Here vir my:

Van die noorde af gaan Ek 'n ramp stuur
oor almal wat in hierdie land woon.

15
Ek gaan alle volke, alle koninkryke van die noorde af roep,
sê die Here.
Hulle konings sal elkeen sy troon kom oprig
voor die poorte van Jerusalem,
by die mure rondom die stad en by al die stede van Juda.

16
Ek sal die mense van Juda straf vir al hulle sondes:
hulle het My verlaat, vir ander gode offers gebring
en voor hulle eie handewerk
in verering gebuig.

17

Maak klaar, staan op, sê vir hulle alles wat Ek jou beveel. Moenie vir hulle skrik nie, want dan verpletter Ek jou voor hulle oë.


18
Ek maak jou vandag 'n vestingstad, 'n ysterpilaar,
'n bronsmuur sodat jy staande kan bly teen die hele land, teen die koningshuis van Juda en al sy amptenare,
teen sy priesters en teen die bevolking.

19
Hulle sal teen jou veg maar hulle sal jou nie oorweldig nie,
want Ek is by jou, sê die Here, Ek sal jou red.

2

1

Die woord van die Here het tot my gekom:

2 Gaan roep hierdie woorde uit sodat elkeen in Jerusalem dit kan hoor.

So sê die Here:

Ek onthou nog hoe getrou jy aan My was in jou jeug;
hoe lief jy My gehad het toe jy my bruid geword het,
toe jy My die woestyn in gevolg het,
in 'n wêreld waar niks geplant word nie.

3
Israel was toe aan die Here gewy
soos die eerste vrugte van die oes.
Niemand wat hierdie vrugte geëet het, het ongestraf gebly nie,
rampe het hom getref, sê die Here.

4

Hoor die woord van die Here, mense van Jakob,
al julle stamme van Israel!

5
So sê die Here:
Waarin het Ek gefaal
dat julle voorvaders van My af weggedraai het,
dat hulle nikswerd afgode gedien het en so self niks geword het?

6

Hulle het nie gevra: “Waar is die Here
wat ons uit Egipteland laat optrek het?” nie.
Hy het ons deur die woestyn gelei,
deur 'n droë wêreld vol slote,
deur 'n dor land vol doodsgevaar,
deur 'n land waardeur niemand trek en waarin geen mens woon nie.

7

Ek het julle in 'n vrugbare land gebring
om die vrugte daarvan en die goeie dinge daarin te geniet,
maar toe julle in my land gekom het,
het julle dit verontreinig;
die land wat my eiendom is, is deur julle besoedel.

8

Die priesters het nie gevra: “Waar is die Here?” nie,
dié wat my wil moes bekend maak, het My nie erken nie.
Die regeerders het hulle teen My verset,
die profete het in die naam van Baäl opgetree
en gode gedien wat nie kan help nie.

9
Daarom kla Ek jou weer aan, sê die Here,
en ook jou nakomelinge kla Ek aan.

10

Gaan na die Kittiëreilande toe en kyk 'n bietjie, stuur boodskappers na Kedar toe en dink goed na:

Het daar al ooit so iets gebeur,

11
dat 'n nasie sy gode verruil het,
selfs al was hulle geen gode nie?
Maar my volk het My, hulle magtige God, verruil
vir gode wat nie kan help nie.

12
Selfs die hemel moet daaroor skrik en beef en sidder! sê die Here.

13
My volk het twee sondes begaan:
Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat,
en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap,
waterbakke wat gebars is en nie water hou nie.

14

Het Israel 'n slaaf geword of is hy 'n slaaf gebore?
Waarom is hy dan buitgemaak?

15
Waarom brul en grom die leeus so teen hom?
Waarom is sy land verwoes en lê sy stede in puin,
sonder inwoners?

16
Die manne van Memfis en Tagpanges sal jou kop inmekaarslaan.

17
Jy het jou dit self aangedoen
omdat jy My, die Here jou God, verlaat het
toe Ek jou op jou pad gelei het.

18
Wat wil jy bereik deur na Egipte toe te gaan
en water uit die Nyl te gaan drink?
Wat wil jy bereik deur na Assirië toe te gaan
en water uit die Eufraat te gaan drink?

19
Die kwaad wat jy gedoen het, sal jou straf word;
omdat jy van My af weggedraai het, sal jy daaronder ly.
Jy sal agterkom hoe rampspoedig dit is,
jy sal proe hoe bitter dit is om My,
die Here jou God, te verlaat,
om geen eerbied meer vir My te hê nie,
sê die Here God, die Almagtige.

20

Jy het my gesag lankal verwerp,
jou van My losgemaak, geweier om My te dien;
jy het op elke hoë heuwel
en onder elke groen boom aan tempelprostitusie deelgeneem
en so die afgode gedien.

21
Toe Ek jou geplant het,
was jy 'n goeie wingerdstok, opreg gekweek,
maar hoe het jy nie verander in onkruid,
in 'n wilde wingerdstok nie!

22
Al sou jy jou was met loog of met hoe baie seep,
Ek sal nog die vlekke van jou sonde sien, sê die Here my God.

23

Hoe kan jy dan sê: “Ek het my nie verontreinig nie,
ek het nie die Baäls gedien nie”?
Kyk hoe het jy jou gedra in die Hinnomdal.
Besef tog wat jy gedoen het!
Jy was soos 'n kameelkoei wat bul soek, wat kruis en dwars hardloop,

24
soos 'n wildedonkie wat tuis is in die woestyn.
Jy was soos 'n bronstige kameelkoei wat die wind opsnuif,
wat onkeerbaar is in haar hittigheid.
Die bulle wat haar soek,
hoef hulle nie moeg te hardloop agter haar aan nie;
wanneer sy wil paar, kry hulle haar maklik.

25

Moenie jou skoene stukkend loop agter die afgode aan nie,
jou keel laat droog word van die dors nie!
Maar jy sê: “Ek sal nie daarmee ophou nie!
Ek het die vreemde gode lief, ek wil hulle dien.”

26

Soos 'n dief in die skande kom wanneer hy betrap word,
so sal die Israeliete in die skande kom:
hulle, hulle konings, hulle amptenare,
hulle priesters en hulle profete.

27
Dit is hulle wat vir 'n stuk hout sê: “My vader,”
en vir 'n klip: “U het my in die wêreld gebring.”
Na My toe het hulle hulle rug gedraai in plaas van hulle gesig.
Dit is net wanneer 'n ramp hulle tref
dat hulle sê: “Kom red ons tog!”

28
Waar is jou gode wat jy vir jou gemaak het?
Laat hulle jou kom red wanneer 'n ramp jou tref, as hulle kan!
Soveel stede as wat jy het, Juda, net soveel gode het jy.

29
Waarom twis julle met My?
Julle het almal teen My in opstand gekom, sê die Here.

30
Tevergeefs het Ek julle kinders gestraf,
hulle het nie 'n les daaruit geleer nie.
Soos leeus wat alles verskeur,
het julle julle profete doodgemaak.

31

Slaan ag op die woord van die Here, my volk!
Was Ek dan vir Israel soos 'n woestyn
of soos 'n stikdonker land?
Waarom het my volk dan gesê:
“Ons rebelleer, ons wil U nie meer dien nie”?

32
Vergeet 'n meisie haar juwele of 'n bruid haar trourok?
Tog het my volk My jare gelede al vergeet.

33
Hoe geoefen is jy in die kuns om minnaars te soek;
jy het al so gewoond geraak aan die kwaad!

34
Die some van jou klere is vol bloed,
die bloed van arm en onskuldige mense,
nie dié van mense wat jy op inbraak betrap het nie.
En ten spyte van dit alles

35
sê jy:
“Ek is onskuldig; die Here is nie toornig op my nie.”
Maar Ek gáán jou straf omdat jy gesê het:
“Ek het nie gesondig nie.”

36

Hoe laag het jy gedaal deur jou wispelturigheid!
Egipte sal jou net so in die steek laat
as wat Assirië jou in die steek gelaat het.

37
Jy sal daarvandaan terugkom sonder dat jy jou sin gekry het,
want Ek het almal verwerp op wie jy vertrou het;
by hulle sal jy geen hulp kry nie.

3

1

Die Here vra: Mag 'n man
as hy van sy vrou skei
en sy hom verlaat en 'n ander man se vrou word,
na haar toe teruggaan?
Sou die land nie vreeslik verontreinig word nie?
En jy wat by so baie minnaars geslaap het,
wil jy na My toe terugkom? vra die Here.

2
Kyk op na die heuweltoppe:
waar het jou minnaars nie by jou geslaap nie?
Langs die paaie het jy vir hulle gesit en wag
soos 'n Arabier in die woestyn,
en jy het die land verontreinig met jou onsedelikheid,
met jou slegte gedrag.

3
Daarom het Ek die reënbuie teruggehou
en het die vroeë reëns nie gekom nie,
maar jy het soos 'n hoer geen berou getoon nie,
jy het geweier om jou te skaam.

4

En nou noem jy My skielik: “My vader,”
en sê jy: “U is my vriend vandat ek 'n kind was.

5
Sal U vir altyd kwaad wees, vir altyd toornig wees?”
Dit is wat jy gesê het,
maar jy het verkeerd bly doen net waar jy kon.

6

Dit was tydens die regering van koning Josia. Die Here het vir my gesê: Het jy gesien wat die ontroue Israel gedoen het? Sy het op elke hoë berg en onder elke groen boom gaan ontug pleeg!

7 Ek het gedink: nadat sy al hierdie dinge gedoen het, sal sy na My toe terugkom, maar sy het nie teruggekom nie. En haar ontroue suster Juda het dit alles aanskou.

8

Toe Ek die trouelose Israel oor al haar ontrou verstoot en die skeibrief aan haar gegee het, het Ek gesien dat haar ontroue suster Juda nie afgeskrik is nie. Ook sy het gaan ontug pleeg.

9 Dit was vir Israel niks om haarself en die land te verontreinig nie, sy het owerspel gepleeg met afgodsbeelde van klip en hout.

10 En asof dit nie genoeg was nie, het haar ontroue suster Juda na My toe teruggekom, maar nie met volle oorgawe nie; dit was vals, sê die Here.

11

Toe het die Here vir my gesê: Die trouelose Israel is minder skuldig as die ontroue Juda.

12 Gaan roep hierdie woorde na die noorde toe uit en sê:

Trouelose Israel, kom terug, sê die Here.
Ek sal nie langer vir julle kwaad wees nie,
want Ek is getrou, sê die Here,
Ek bly nie vir altyd kwaad nie.

13
Erken net jou skuld,
dat jy teen die Here jou God in opstand gekom het
deur onder elke groen boom vreemde gode te gaan dien
en so aan My ongehoorsaam te wees, sê die Here.

14

Kom terug, kinders wat afgedwaal het, sê die Here. Ek maak julle my eiendom. Ek sal julle vat, een uit 'n stad en twee uit 'n familie, en julle na Sion toe bring.

15 Ek sal vir julle herders gee na my hart, en hulle sal julle verstandig en met insig lei.

16 Wanneer julle vrugbaar is en baie word in die land, in daardie dae, sê die Here, sal niemand meer uitroep: “Die verbondsark van die Here!” nie; dit sal nie meer in iemand se gedagte opkom nie, niemand sal dit eers meer noem of dit mis nie en niemand sal 'n nuwe maak nie.

17 In daardie tyd sal hulle Jerusalem noem: “Die troon van die Here”, en al die nasies sal in Jerusalem bymekaarkom om die Naam van die Here te eer. Hulle sal nie hardkoppig bly nie.

18 In daardie dae sal Juda by Israel aansluit en hulle sal saam uit die noordelike landstreek kom na die land wat Ek as besitting aan hulle voorvaders gegee het.

19

Ek het gesê:

Hoe graag wil Ek jou 'n seun van My maak
en aan jou 'n lieflike land gee,
'n besitting liefliker as enigiets wat enige nasie het.
Ek het gesê: Noem My “Vader”,
en moet nooit weer van My af wegdraai nie.

20
Maar soos 'n vrou wat ontrou is aan haar man,
so was julle, Israel, ontrou aan My, sê die Here.

21
Hoor hoe smeek en huil die Israeliete op die heuweltoppe,
want hulle het die verkeerde pad geloop,
hulle het die Here hulle God vergeet.

22
Kom terug, kinders wat afgedwaal het,
Ek wil 'n einde maak aan julle afdwaling.

Kyk, ons kom na U toe, want U is die Here ons God!

23
Die lawaai op die heuwels, op die berge,
lewer niks op nie.
Die redding van Israel kom net van die Here ons God af.

24
Van vroeg af al het die skandegod Baäl die vrug van ons
voorvaders se arbeid verteer, hulle kleinvee en hulle grootvee,
ook hulle seuns en hulle dogters.

25
Ons wil in die aarde insink oor die skande,
ons wil wegkruip van skaamte,
want ons het teen die Here ons God gesondig,
ons en ons voorvaders,
van ons jeug af tot vandag toe.
Ons was ongehoorsaam aan die Here ons God.

4

1

As jy jou wil bekeer, Israel,
moet jy jou tot My bekeer, sê die Here.
As jy jou afskuwelike afgode voor My wegvat,
moet jy nie meer dwaal nie.

2
Wanneer jy 'n eed aflê en sê: “So seker as die Here leef,”
moet dit in waarheid wees,
moet jy reg laat geskied en reg doen.
Dan sal die nasies hulle seën van die Here verwag
en in Hom roem.

3

So sê die Here vir die mense van Juda en Jerusalem:

Ploeg vir julle 'n braakland
en moenie in die dorings saai nie.

4
Wy julle aan die diens van die Here,
en verwyder alle ontrou uit julle harte,
mense van Juda, inwoners van Jerusalem,
sodat my toorn oor julle bose dade nie losbreek soos 'n vuur
en bly brand sonder dat dit geblus word nie.

5

Vertel dit in Juda, maak dit in Jerusalem bekend en sê:

“Blaas die ramshoring in die land!”
Roep hard en sê:
“Kom bymekaar, laat ons in die vestingstede ingaan!”

6
Swaai die vaandel: Na Sion toe!
Soek veiligheid, moenie talm nie!
Ek, die Here, laat onheil uit die noorde kom, 'n groot ramp.

7

Die leeu het opgestaan uit sy lêplek,
die vernietiger van die nasies is op pad,
hy het uit sy blyplek uitgegaan om jou land te verwoes.
Jou stede sal in puin lê, sonder inwoners.

8
Daarom, trek rouklere aan, huil en kerm,
want die toorn van die Here rus nog op ons.

9
Daardie dag, sê die Here,
sal die koning en die amptenare se moed hulle begewe,
die priesters sal verslae staan
en die profete sal nie weet waarheen nie.

10

Toe sê ek: “Ag, Here my God!
U het hierdie volk en Jerusalem bedrieg.
U het gesê: ‘Julle sal vrede hê,’
maar nou lê die swaard teen ons kele.”

11

Daardie tyd sal daar vir hierdie volk en vir Jerusalem gesê word:
'n Gloeiende wind kom oor die heuweltoppe
uit die woestyn uit op my volk af,
maar nie om die kaf weg te waai en die koring skoon te waai nie.

12
Ek bring die wind in sy volle krag oor hulle,
Ek gaan nou die oordeel oor hulle uitspreek.

13

Kyk, die vyand kom so skielik soos wolke,
sy strydwaens kom soos 'n stormwind,
sy perde is vinniger as arende.
Ellende wag vir ons, dit is klaar met ons!

14

Jerusalem, reinig jou hart van die kwaad,
dat jy behoue kan bly.
Hoe lank sal jy nog bose planne in jou omdra?

15
Daar kom 'n boodskap uit Dan,
daar kom slegte nuus van die Efraimsberge af.

16
Vertel dit aan die nasies, maak dit aan Jerusalem bekend:
Daar kom wagte uit 'n ver land,
hulle beveel hulle manskappe om die stede van Juda aan te val.

17
Soos mense wat graanlande oppas, staan hulle rondom Jerusalem,
want hy het teen My gerebelleer, sê die Here.

18
Jou eie optrede,
jou eie dade het hierdie dinge oor jou gebring,
dis jou eie boosheid wat dit so bitter maak,
wat jou in jou hart tref.

19

O die krampe in my ingewande, o die benoudheid in my hart!
My hart bons wild, ek kan dit nie tot bedaring bring nie,
want ek het die geluid van die ramshoring gehoor,
en die oorlogskrete!

20
Die val van die een stad na die ander word uitgeskreeu,
die hele land is verwoes.
Met een slag is my wonings vernietig,
in een oomblik my woonplekke.

21
Hoe lank sal ek nog die vyande se vaandel sien,
die geluid van die ramshoring hoor?

22

My volk tree dwaas op, hulle erken My nie,
hulle is moedswillige kinders, sonder enige begrip van wat Ek doen.
Hulle is net slim as dit kom by verkeerddoen,
van goeddoen wil hulle niks weet nie.

23
Ek het na die land gekyk, en dit was onbewoonbaar,
na die hemel, en die lig was daaruit weg;

24
ek het na die berge gekyk, en hulle het gebewe,
na al die heuwels, en hulle het geskud.

25
Ek het gekyk, en daar was geen mens nie,
selfs die voëls het weggevlieg.

26
Ek het gekyk, en die vrugbare grond het in woestyn verander,
al die stede het in puin gelê.
Dit is die Here wat dit in sy gloeiende toorn gedoen het!

27

Ja, so sê die Here:

Die hele land sal verwoes wees,
maar Ek sal dit nie totaal vernietig nie.

28
Daaroor moet die aarde treur
en die hemel daarbo donker word,
want Ek het my voorneme bekend gemaak,
Ek staan by my besluit, Ek sal nie van plan verander nie.

29

Voor die geluid van ruiters en boogskutters uit
slaan elke stad op die vlug;
hulle hardloop die bosse in, hulle klim tussen die rotse in.
Elke stad lê verlate, sonder 'n enkele inwoner.

30
Maar jy, verlatene, wat maak jy nou?
Wat klee jy jou met bloedrooi klere;
wat versier jy jou met goue versiersels,
waarvoor smeer jy oogverf aan!
Jy maak jou verniet mooi!
Jou minnaars het jou verwerp, hulle soek jou lewe.

31
Ek hoor 'n geskreeu soos van iemand wat in kraam is,
'n benoude kreet soos van 'n vrou
wat haar eerste kind in die wêreld bring.
Ek hoor vir Sion wat na haar asem hyg,
wat haar hande smekend uitsteek en sê:
“Ellende wag vir my! Ek is weerloos teen my moordenaars!”

5

1

Loop op en af in die strate van Jerusalem,
kyk rond en let op;
gaan soek op sy pleine of julle daar iemand kry wat reg doen,
wat die waarheid soek.
Dan sal Ek Jerusalem se sonde vergewe.

2
Selfs al lê hulle 'n eed af in die Naam van die Here,
bly dit 'n vals eed.

3

En dit terwyl U waarheid eis, Here!
U het hulle geslaan,
maar hulle het hulle nie aan U gesteur nie;
U het hulle hard geslaan,
maar hulle het hulle nie laat leer nie,
hulle koppe was harder as klip,
hulle het geweier om hulle te bekeer.

4
Ek het eers gedink:
dis maar die gewone mense wat so dwaas optree,
want hulle ken nie die wil van die Here nie,
hulle weet nie wat hulle God van hulle verwag nie;

5
ek sal na die leiers toe gaan en met hulle praat,
want hulle ken die wil van die Here,
hulle weet wat hulle God van hulle verwag.
Maar ook hulle het almal in opstand gekom,
die gesag van God verwerp.

6
Daarom sal leeus uit die bos hulle kom doodmaak,
wolwe uit die woestyn hulle kom verskeur,
en luiperds by hulle stede op die loer lê
om elkeen wat uit die stad uitgaan, te vang.
Hulle oortredings is baie, hulle het gedurig afgedwaal.

7

Waarom sou Ek jou vergewe?
Jou inwoners het My verlaat, hulle sweer trou aan afgode.
Ek het hulle trou laat sweer aan My,
maar tog pleeg hulle egbreuk en drom hulle saam in bordele.

8
Soos bronstige hingste het hulle geword,
hulle runnik elkeen agter sy naaste se vrou aan.

9
Sal Ek hulle dan nie hieroor straf nie? vra die Here.
Sou Ek My nie wreek op 'n nasie soos hierdie nie?

10

Klim op sy terrasse en kap die wingerde uit,
maar moenie alles vernietig nie;
sny af die ranke, want hulle is nie die Here s'n nie.

11
Die mense van Israel en die mense van Juda
was ontrou aan My, sê die Here.

12
Hulle het Hom geminag, hulle het gesê:
“Hy sal dit nie doen nie, daar sal geen kwaad oor ons kom nie
en ons sal nie oorlog of hongersnood beleef nie.

13
Wat die profete sê, is wind,
dit is nie die woord van die Here nie.
Mag wat hulle sê, oor hulleself kom!”

14

Die Here, die almagtige God, het vir my gesê:

Omdat hulle dit gesê het,
maak Ek my woorde in jou mond 'n vuur en hierdie volk hout,
sodat die vuur hulle verteer.

15

Kyk, mense van Israel,
Ek laat 'n nasie uit 'n ver land teen julle optrek, sê die Here,
'n nasie wat lankal bestaan, van die ou tyd af,
'n nasie wie se taal julle nie ken nie,
wie se woorde julle nie verstaan nie.

16
Hulle is dodelike boogskutters, almal dapper vegters.

17
Hulle sal jou oeste en jou kos verteer,
jou seuns en jou dogters om die lewe bring,
jou kleinvee en jou beeste slag
en jou wingerdstokke en jou vyebome vernietig,
jou vestingstede waarop jy jou vertroue vestig,
met die swaard inneem.

18

Maar ook in daardie dae, sê die Here, sal Ek nie 'n einde aan julle maak nie.

19 As hulle vra: “Waarom het die Here ons God al hierdie dinge aan ons gedoen?” moet jy hulle antwoord: Net soos julle My, die Here, verlaat het en vreemde gode in julle eie land gedien het, so sal julle in 'n land wat nie aan julle behoort nie, vreemdes dien.

20

Vertel dit aan die mense van Jakob, maak dit aan Juda bekend. Sê vir hulle:


21
Luister hierna, dwase volk wat nie verstaan nie,
wat oë het maar nie sien nie, ore maar nie hoor nie.

22
Het julle nie ontsag vir My nie, vra die Here,
is julle nie bang vir My nie,
vir My wat die sand as grens vir die see gestel het,
'n blywende grens wat dit nie kan oorsteek nie?
Die see kan bruis, maar dit kan nie verder gaan nie,
sy golwe kan dreun, maar hulle kom nie by die sand verby nie.

23
Maar hierdie volk is rebels en opstandig,
hulle het in opstand gekom, My verlaat.

24
Hulle het nie vir hulleself gesê:
“Ons moet die Here ons God dien wat ons die groot reëns gee,
die vroeë en die laat reëns, elkeen op die regte tyd,
wat vir ons gesorg het met oeste op die regte tyd” nie.

25
Julle oortredings het dit laat verander,
julle sondes het die voorspoed van julle weerhou.

26

Daar is goddelose mense onder my volk:
soos voëlvangers stel hulle strikke en wippe
om mense mee te vang.

27
Soos 'n voëlvanger 'n hok vol voëls maak,
het hulle hulle huise volgemaak met bedrog;
dit is waarom hulle magtig en ryk is,

28
vet en blink.
Hulle boosheid ken geen perke nie,
hulle laat die reg nie seëvier nie,
hulle verydel die reg van die weeskind
en behartig nie die regsaak van die armes nie.

29
Sal Ek hulle nie hieroor straf nie? vra die Here.
Sou Ek My nie wreek op 'n nasie soos hierdie nie?

30

Iets vreesliks en afskuweliks het in die land gebeur:

31
die profete tree vals op,
die priesters regeer met hulle eie gesag,
en my volk hou daarvan!
Maar wat sal julle doen as die einde kom?

6

1

Mense van Benjamin,
gaan soek veiligheid buite Jerusalem,
blaas die ramshoring in Tekoa,
gee vuurseine by Bet-Kerem,
want daar dreig onheil uit die noorde, 'n groot ramp.

2
Sion is soos 'n mooi maar verwénde dogter,
Ek sal hom vernietig.

3
Konings sal na hom toe kom met hulle leërs,
hulle sal hulle tente rondom opslaan om teen die stad te veg,
elkeen sal 'n eie stuk inneem.

4

Hulle sal sê: “Verklaar oorlog teen hom;
kom ons val hom helder oordag aan!
Nee, die dag is al verby, die aandskaduwees is al lank.

5
Kom ons val hom in die nag aan en vernietig sy mooi huise!”

6

So sê die Here die Almagtige:

Kap bome af en gooi 'n wal op teen Jerusalem.
Dit is die stad wat veroordeel is,
want verdrukking is daar aan die orde van die dag.

7
Soos 'n put sy water vars hou,
so hou die stad sy boosheid vars;
al waarvan Ek daar hoor, is geweld en vernietiging,
al wat Ek sien, siekte en wonde.

8
Jerusalem, neem die waarskuwing ter harte,
sodat Ek nie my rug vir jou draai nie,
sodat Ek jou nie 'n woesteny maak nie,
'n land waarin niemand woon nie.

9

So sê die Here die Almagtige:

Oes die oorblyfsel van Israel af soos 'n mens 'n wingerd afoes,
bring jou hand soos 'n druiweplukker weer en weer terug na die ranke toe.

10

Met wie sal ek praat, wie sal ek waarsku,
wie sal na my luister?
Hulle ore is doof, hulle is nie in staat om te hoor nie.
Hulle praat smalend oor die woord van die Here,
dit kan hulle nie skeel nie.

11
Die toorn van die Here brand in my,
ek kan dit nie verduur nie!
Giet dit uit op die kinders in die straat
en op die jongmanne waar hulle bymekaarkom;
laat mans én vrouens daardeur verteer word,
selfs mense wat grys is, wat baie oud is.

12
Hulle huise sal ander mense s'n word,
en ook hulle lande en hulle vrouens,
want Ek gaan die inwoners van die land straf, sê die Here.

13
Almal, klein en groot, wil hulleself net verryk,
almal, selfs profete en priesters, is uit op bedrog.

14
Hulle het 'n goedkoop raat vir die wonde van my volk.
Hulle sê net: “Alles is reg! Alles is reg!”
Maar niks is reg nie.

15
Wanneer hulle aan die kaak gestel word
oor die gruwelike dinge wat hulle gedoen het,
skaam hulle hulle nie eens nie,
hulle weet nie van skaamte nie.
Daarom sal hulle tot 'n val kom soos al die ander voor hulle;
wanneer Ek hulle straf, sal hulle omkom, sê die Here.

16

So sê die Here:

Staan by die kruispaaie en kyk,
en vra na die ou paaie.
Vra watter pad die beste is en loop dit,
dan sal julle rus vind.
Maar hulle het gesê: “Ons sal nie daardie pad loop nie.”

17
Toe het Ek wagte oor julle aangestel en gesê:
Luister na die ramshoring!
Maar hulle het geantwoord: “Ons sal nie luister nie.”

18
Daarom moet julle luister, nasies,
en kyk wat met hulle gaan gebeur.

19
Luister, aarde! Ek bring onheil oor hierdie volk,
hulle sal die vrugte pluk van hulle planne,
want hulle het hulle nie aan my woorde gesteur nie,
hulle het verwerp wat Ek hulle geleer het.

20
Waarom sou Ek omgee vir wierook uit Skeba
of kalmoes uit 'n ver land?
Ek aanvaar nie julle brandoffers nie,
Ek hou nie van julle offers nie.

21

Daarom sê die Here:

Kyk, Ek lê in die pad van hierdie volk struikelblokke
dat hulle daaroor kan val;
vaders en kinders, vriende en bure sal omkom.

22

So het die Here gesê:

Kyk, 'n volk kom uit 'n land in die noorde,
'n groot nasie staan op in 'n uithoek van die aarde.

23
Hulle is gewapen met pyl en boog en swaard,
hulle is wreed en hulle spaar niemand nie.
Hulle krygsgeskreeu dreun soos die see,
hulle kom aan op hulle perde,
hulle soldate is reg vir die aanval op jou, Sion.

24

Ons het die gerug oor hulle gehoor,
ons hande hang slap,
angs het ons beetgepak,
benoudheid soos die pyn van 'n vrou
wat 'n kind in die wêreld bring.

25

Moenie in die veld ingaan nie,
moet ook nie met die pad langs loop nie,
want die wapens van die vyand jaag oral skrik aan.

26
My volk, trek rouklere aan, rol in die as,
treur soos oor die dood van 'n enigste kind,
huil bittere trane, want die verwoester is op ons.

27

Ek stel jou aan om my volk te toets,
Ek maak jou sterk; ondersoek en toets wat hulle doen.

28
Hulle is almal hardkoppige rebelle,
hard soos brons en yster;
hulle loop mekaar en beswadder,
hulle is almal korrup.

29
Die blaasbalk blaas,
maar die vuur kry nie die lood afgeskei nie;
die smelter smelt verniet,
hy kry die afvalstowwe nie uitgesmelt nie.

30
Hulle bly weggooisilwer;
dit is wat hulle genoem word,
want die Here het hulle verwerp.

7

1

Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het:

2 Gaan staan in die poort van die huis van die Here en roep daar hierdie woorde uit: Al julle Judeërs wat by hierdie poorte ingaan om die Here te dien, hoor die woord van die Here!

3

So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Maak julle lewe en julle dade reg, dat Ek julle kan laat bly in hierdie land.

4 Moenie julle vertroue stel in leuens nie. Julle sê: “Ons is veilig! Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel!”

5 Maak liewers julle lewe en julle dade reg. Doen aan mekaar wat reg is,

6 moenie vreemdelinge, weeskinders en weduwees onreg aandoen nie, moenie mense onskuldig om die lewe bring in hierdie land nie en moenie ander gode dien nie. Dit sal onheil oor julle bring.

7 As julle aan My gehoorsaam is, sal Ek julle in hierdie plek laat bly, in hierdie land wat Ek vir altyd aan julle voorvaders gegee het.

8 Julle vertrou op leuens wat julle niks gaan baat nie.

9 Julle kan mos nie steel, moor, egbreuk pleeg, vals ede aflê, wierookoffers vir Baäl bring, ander gode dien vir wie julle glad nie ken nie,

10 en My dan ook nog in hierdie tempel wat na my Naam genoem is, kom dien en sê: “Ons is veilig” nie! En dan gaan julle maar voort met al hierdie gruwelike dinge!

11 Het hierdie huis wat na my Naam genoem is, vir julle 'n rowerspelonk geword? Ek het gesien wat julle doen, sê die Here.

12

Gaan na Silo toe, na die plek waar Ek voorheen my Naam laat woon het, gaan kyk wat Ek aan hom gedoen het oor die sonde van my volk Israel.

13 Julle het al hierdie dinge gedoen, sê die Here. Ek het vroeg en laat met julle gepraat, maar julle het nie geluister nie; Ek het julle geroep, maar julle het nie geantwoord nie.

14 Daarom gaan Ek met hierdie huis wat na my Naam genoem is, en waarin julle julle vertroue stel, en met hierdie land wat Ek aan julle en aan julle voorvaders gegee het, net so maak soos Ek met Silo gemaak het.

15 Ek sal julle verwerp soos Ek julle broers, die hele nageslag van Efraim, verwerp het.

16

Jy moenie vir hierdie volk bid nie. Moet My nie ter wille van hulle smeek en by My vir hulle voorspraak probeer doen nie. Ek sal nie na jou luister nie.

17 Sien jy nie wat doen hulle in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem nie?

18 Kinders maak hout bymekaar, die mans steek vure aan en die vrouens knie deeg om koeke te bak vir die koningin van die hemel. Hulle bring ook drankoffers aan ander gode om My seer te maak.

19 Is dit vir My wat hulle seermaak? vra die Here. Nee, hulle maak hulleself seer en hulle bring skande oor hulleself.

20 Daarom, sê die Here my God, laat Ek my gloeiende toorn oor hierdie land kom, oor mens en dier, oor die bome in die veld en die opbrengs van die land. My toorn sal bly brand en nie tot bedaring gebring kan word nie.

21

So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Bring nog meer brandoffers saam met julle offers en eet die vleis.

22 Toe Ek julle voorvaders uit Egipte laat trek het, het Ek hulle nie beveel om vir My brandoffers en ander offers te bring nie.

23 Maar wat Ek hulle beveel het, is: Julle moet My gehoorsaam. Dan sal Ek julle God wees en julle sal my volk wees. Maar julle moet leef soos Ek julle beveel sodat dit met julle goed kan gaan.

24

Maar hulle het nie geluister nie en hulle aan My nie gesteur nie. Hulle was hardkoppig en moedswillig, hulle het hulle eie kop gevolg, sodat hulle versleg het in plaas van te verbeter.

25

Vandat julle voorvaders uit Egipte getrek het tot vandag toe, het Ek vroeg en laat my dienaars die profete na julle toe gestuur.

26 Maar die volk het nie na My geluister nie en hulle nie aan My gesteur nie, hulle het hardkoppig gebly en meer kwaad as hulle voorvaders gedoen.

27 Al sê jy al hierdie dinge vir hulle, sal hulle nie na jou luister nie; al roep jy hulle, sal hulle jou nie antwoord nie.

28 Sê vir hulle hulle is 'n nasie wat ongehoorsaam is aan die Here hulle God en wat hulle nie laat leer nie. Waarheid het verdwyn, dit word nie meer by hulle gehoor nie.

29 Sny af die hare wat jy as nasireër laat groei het en gooi dit weg, sing op die heuwels 'n klaaglied, want die Here het die volk wat sy toorn laat ontbrand het, verwerp en verstoot.

30

Die Judeërs het gedoen wat verkeerd is in my oë, sê die Here: hulle het hulle afskuwelike afgode gesit in die huis wat na my Naam genoem is en dit so ontwy.

31 Hulle het die hoogte van Tofet in die Ben-Hinnomdal gebou om daar hulle seuns en dogters in die vuur te offer. Dit was teen my bevel, so iets het selfs nie in my gedagte opgekom nie.

32 Daarom kom daar dae, sê die Here, dat hulle dit nie meer Tofet of Ben-Hinnomdal sal noem nie, maar Moorddal. Hulle sal daar mense begrawe omdat daar nie elders meer plek sal wees vir grafte nie.

33 Daar sal die voëls en die wilde diere die lyke van die volk eet sonder dat iemand hulle verwilder.

34 In die stede van Juda en in die strate van Jerusalem sal Ek 'n einde maak aan vreugde en gejuig, aan die vrolikheid van huweliksfeeste. Die land sal 'n puinhoop word.

8

1

Daardie tyd, sê die Here, sal hulle die bene van die konings van Juda en dié van die land se amptenare, die priesters, die profete en die inwoners van Jerusalem uit hulle grafte haal

2 en uitsprei voor die son, die maan en al die ander hemelliggame vir wie hulle lief was en gedien het, agter wie hulle aangeloop het, vir wie hulle geraadpleeg het en voor wie hulle gebuig het. Die bene sal nie weer bymekaargemaak en begrawe word nie; soos mis sal hulle bo-op die grond bly lê.

3 Vir die res, vir almal wat daar miskien nog oor is, wat oorgebly het van hierdie slegte geslag in al die plekke waarheen Ek hulle verdryf het, sal die dood verkiesliker wees as die lewe, sê die Here die Almagtige.

4

Jy moet vir hulle sê: So sê die Here: Sal iemand val en nie opstaan nie, of wegdraai en nie terugdraai nie?

5 Waarom draai hierdie volk weg van My af, en waarom hou Jerusalem aan om van My af weg te draai? Hulle hou vol met hulle bedrog, hulle weier om na My toe terug te draai.

6

Ek het goed geluister en Ek het gehoor dat hulle nie die waarheid praat nie, niemand het berou oor sy sonde nie, niemand sê: “Wat het ek tog gedoen!” nie. Elkeen breek met vaart van My af weg soos 'n perd uit 'n geveg wegstorm.

7

Die trekooievaar ken sy tye van kom en gaan, die tortelduif, die swaeltjie en die kraanvoël kom op 'n vaste tyd terug, maar my volk wil nie weet wat die Here vir hulle vasgestel het nie.

8 Hoe kan julle sê: “Ons het wysheid, ons het die wet van die Here by ons”?

Dié wat die wet neerskryf, pleeg bedrog, hulle vervals die wet!

9 Die wyse mense staan verslae, hulle is verbyster, in hulle eie net gevang. Hulle het die woord van die Here verwerp, en wat baat hulle wysheid hulle nou?

10

Ek sal hulle vrouens aan ander gee en hulle grond aan nuwe eienaars, want almal, klein en groot, wil hulleself net verryk, almal, selfs profete en priesters, is uit op bedrog.

11 Hulle het 'n goedkoop raat vir die wonde van my volk. Hulle sê net: “Alles is reg! Alles is reg!” Maar niks is reg nie.

12

Wanneer hulle aan die kaak gestel word oor die gruwelike dinge wat hulle gedoen het, skaam hulle hulle nie eens nie, hulle weet nie van skaamte nie. Daarom sal hulle tot 'n val kom soos al die ander voor hulle; wanneer hulle rekenskap moet gee, sal hulle omkom, sê die Here.

13 Wanneer Ek die oes by hulle kom insamel, sê die Here, is daar geen druiwe aan die wingerdstok en geen vye aan die vyeboom nie, selfs die blare is verdroog; daarom sal Ek my volk oorgee om vernietig te word.

14

Waarom bly ons sit? Roep almal bymekaar, laat ons in die vestingstede ingaan en daar gaan omkom, want die Here ons God laat ons omkom. Hy gee ons gifwater om te drink, want ons het teen Hom gesondig.

15 Ons wag dat alles moet regkom, maar dit gaan nie goed nie, ons wag op 'n tyd van verbetering, maar daar is net rede tot skrik.

16 Van Dan af hoor 'n mens die gesnuif van die vyand se perde; die gerunnik van sy perde laat die hele land bewe. Die vyand kom en verteer die land en alles daarbinne, elke stad met sy inwoners.


17
Ek stuur giftige slange onder julle in
om julle te pik, sê die Here,
adders wat niemand kan besweer nie.

18
My smart oorweldig my, ek is hewig ontsteld.

19
Hoor hoe benoud roep my volk uit 'n ver land:
“Is die Here nie meer in Sion nie?
Is Sion se Koning nie meer in hom nie?”

Waarom tart hulle My met hulle afgodsbeelde,
met hulle vreemde nikswerd gode?

20

“Die oes is af, die somer is verby, en ons is nog nie gered nie.”

21

My volk se wonde is ook my wonde, ek is in die rou, deur angs oorweldig.

22 Is daar nie balsem in Gilead nie? Is daar nie 'n dokter nie? Waarom het my volk nie gesond geword nie?

9

1

Ag, was my kop maar vol water en my oë 'n fontein met trane, dan sou ek dag en nag huil oor my volksgenote wat gesneuwel het.

2 Ag, was daar maar in die woestyn 'n herberg dat ek my volk hier kon agterlaat en van hulle af kon weggaan daarnatoe. Hulle is almal egbrekers, 'n klomp ontrou mense.

3

Hulle woorde tref mense soos pyle: bedrog het die oorhand in die land, nie die waarheid nie. Hulle gaan van kwaad tot erger, en My ken hulle nie, sê die Here.

4

Wees selfs vir 'n vriend op jou hoede, moenie eens 'n broer vertrou nie. Elke broer is 'n onderkruiper en elke vriend 'n kwaadsteker.

5 Hulle bedrieg mekaar, hulle praat nooit die waarheid nie, hulle is gewoond om te lieg, hulle kan nie ophou sonde doen nie.

6 Verdrukking volg op verdrukking, bedrog op bedrog, hulle weier om My te erken, sê die Here.

7 Daarom, so sê die Here die Almagtige, sal Ek hulle deur die smeltkroes laat gaan. Hoe kan Ek anders maak met my volk?

8 Hulle tong is 'n dodelike pyl, dit lieg en bedrieg. Hulle praat met mekaar asof niks verkeerd is nie, maar in hulle binneste beplan hulle mekaar se ondergang.

9 Sou Ek nie hieroor rekenskap van hulle eis nie? sê die Here. Sou Ek My nie wreek op so 'n nasie nie?

10

Ek sal huil en kla oor die berge, Ek sal 'n klaaglied sing oor die weivelde in die woestyn. Hulle is verwoes, niemand kom daar verby nie, 'n mens hoor daar geen diere nie; al die voëls en diere het padgegee.

11

Ek sal Jerusalem 'n hoop klippe maak, 'n woonplek van jakkalse. Ek sal die stede van Juda verlate plekke maak sonder inwoners.

12

Waar is die wyse man wat dít kan verstaan? Met wie het die Here gepraat dat dié dit kan vertel? Waarom het die land te gronde gegaan, waarom is dit verwoes dat dit soos 'n woestyn is waar niemand verbygaan nie?

13

Die Here het gesê: Dit is omdat hulle my wet verlaat het wat Ek hulle gegee het; hulle het nie na My geluister nie en my wet nie nagekom nie,

14 hulle het agter hulle eie harde koppe aangegaan en agter die Baäls aan soos hulle voorvaders hulle geleer het.

15 Daarom, so sê die Here die Almagtige, die God van Israel, gee Ek hierdie volk wildeals om te kou en gifwater om te drink.

16 Ek sal hulle verstrooi onder nasies vir wie nóg hulle nóg hulle voorvaders geken het. Ek sal hulle met die swaard laat agtervolg totdat Ek hulle almal laat uitroei het.

17

So sê die Here die Almagtige:

Luister goed! Roep al die klaagvroue dat hulle kom,
laat kom die vroue wat weet hoe om klaagliedere te sing.

18

Hulle moet gou maak en 'n klaaglied oor ons sing,
sodat die trane uit ons oë loop,
ons oë nat is van die trane.

19
Hoor hoe kla dit uit Sion;
hoe het die verwoesting ons getref,
hoe is ons verslaan!
Ons moet die land verlaat, ons huise word omgestoot.

20
Vrouens, luister na die woord van die Here,
neem alles in wat Hy sê.
Leer julle dogters om te kla,
laat hulle mekaar klaagliedere leer:

21
“Die dood het by ons vensters ingeklim,
in ons mooi huise ingekom,
dit roei die kinders uit op die strate,
die jongmense op die pleine.”

22

Jy moet sê: So sê die Here:

Die lyke van die mense wat val,
sal soos hopies mis lê op die veld,
soos gerwe agter dié wat oes,
maar niemand sal hulle optel nie.

23

So sê die Here:

Die wyse man moet nie in sy wysheid roem nie,
die soldaat nie in sy krag nie,
die ryk man nie in sy rykdom nie.

24
Laat hom wat wil roem, daarin roem
dat hy insig het en My ken.
Ek is die Here.
Ek bewys liefde, reg en geregtigheid op die aarde,
want dit is wat Ek wil hê, sê die Here.

25

Daar kom dae, sê die Here, dat Ek selfs almal wat besny is, gaan straf,

26 of dit nou Egipte, Juda, Edom, die Ammoniete of Moab is, of die woestynbewoners wat hulle koppe aan die kante kaal skeer, want al hierdie volke is tog maar onbesnede, en die hele Israel is onbesnede van hart, hulle is ontrou aan My.

10

1

Luister wat die Here vir julle sê, Israeliete!

2

So sê die Here:

Moenie die gewoontes van die heidennasies aanleer nie.
Moenie bang wees vir die tekens aan die hemel nie,
want dit is die heidennasies wat daarvoor bang is.

3
Hulle voorskrif om 'n god te kry, is sinloos:
hulle kap 'n boom in die bos af,
'n ambagsman kerf dit uit met 'n beitel,

4
hy versier dit met silwer en goud,
met hamer en spyker slaan hy dit vas dat dit nie omkantel nie.

5

Sulke gode kan net so min praat as 'n voëlverskrikker in 'n komkommerland; hulle moet gedra word, want hulle kan nie loop nie. Moenie vir hulle bang wees nie, want hulle het geen mag om goed of kwaad te doen nie.


6
Waar is iemand soos U, Here?
U is groot, die mag van u Naam is groot.

7
Wie sou U nie dien nie, Koning van die nasies?
Dit kom U toe.
Onder al die wyse mense, onder al die konings van die nasies,
is daar niemand soos U nie.

8
Hulle is almal gekke en dwase,
want 'n stuk hout kan vir 'n mens niks leer nie.

9
Die silwerbeslag kom uit Tarsis, die goud uit Ufas.
Dit is die werk van 'n ambagsman en 'n goudsmid,
die afgode is geklee in pers en rooi wolstof,
alles die werk van kunstenaars.

10

Maar die Here is die ware God:
Hy is die lewende God, die Koning vir altyd;
van sy toorn bewe die aarde,
teen sy woede kan die nasies dit nie uithou nie.

11
So moet julle vir hulle sê:
“Die gode wat nie die hemel en die aarde gemaak het nie,
sal van die aarde af verdwyn onder die hemel uit.”

12

Dit is die Here wat met sy krag die aarde gemaak het,
wat met sy wysheid die wêreld gevestig het
en met insig die hemel oopgesprei het.

13
Wanneer Hy sy stem laat hoor, druis die water in die hemel;
Hy laat die mis opstyg van die eindes van die aarde af,
Hy laat die weerlig slaan wanneer dit reën,
Hy laat die wind uit sy voorraadskure uitkom.

14
Dan sien elke mens hoe dom,
hoe sonder kennis, hy is;
dan staan elke goudsmid verleë met sy afgodsbeeld,
want sy beeld is bedrog, daar is geen lewe in nie.

15
Hulle is nikswerd gode, voorwerpe van spot,
hulle vergaan as die tyd van afrekening kom.

16

Die God van Jakob is nie soos hulle nie,
Hy is die Skepper van alles en almal.
Israel is die volk wat aan Hom behoort.
Die Here die Almagtige is sy Naam.

17
Jy wat beleër word, hou jou besittings gereed,

18
want, so sê die Here,
Ek gaan die inwoners dié keer uit die land uit verdryf.
Die nood wat Ek oor hulle gaan bring,
sal niemand vryspring nie.

19
Dan sal elkeen roep:
“Groot is my ellende, pynlik my wonde!
Ek kan net sê: Dit is my lyding, dit sal ek moet dra.”

20

My tent is verwoes, sy toue afgeruk;
my seuns het my verlaat, hulle is nie meer daar nie,
daar is niemand om my tent weer op te slaan,
om my tentseile te span nie.

21

Die herders het dwaas geword,
hulle het nie na die wil van die Here gevra nie;
daarom was hulle nie voorspoedig nie
en is hulle hele kudde verstrooi.

22

Hoor! Daar kom 'n boodskapper,
en 'n groot gedruis uit 'n land in die noorde!
Hulle gaan die stede van Juda puinhope maak,
lêplekke van jakkalse.

23
Ek weet, Here, die mens kan nie self sy pad kies nie, niemand kan self sy koers bepaal nie.

24
Here, straf ons soos ons verdien, maar nie in toorn nie, dat U ons nie tot niet maak nie.

25
Wees toornig op die nasies deur wie U nie erken word nie,
oor die volke deur wie U nie aangeroep word nie,
want hulle het vir Jakob verteer,
hulle het hom verteer en vernietig en sy blyplek verwoes.

11

1

Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het:

2

Luister na die bepalings van hierdie verbond en sê dit vir die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem.

3 Sê vir hulle: So sê die Here, die God van Israel: Vervloek is elkeen wat ongehoorsaam is aan die bepalings van hierdie verbond

4 wat Ek julle voorvaders beveel het toe Ek hulle uit Egipte, uit die ystersmeltoond, bevry het. Ek het gesê: Luister na My en doen alles wat Ek julle beveel, dan sal julle my volk wees en Ek sal julle God wees.

5 Só sal Ek die belofte bevestig wat Ek met 'n eed aan julle voorvaders gemaak het, dat Ek aan hulle 'n land sal gee wat oorloop van melk en heuning soos julle dit vandag het.

Ek het geantwoord: “Amen, Here.”

6

Die Here sê toe vir my: Roep al hierdie woorde uit in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem: Luister na die bepalings van hierdie verbond en kom hulle na!

7 Ek het julle voorvaders voortdurend vermaan, vandat Ek hulle uit Egipte gebring het tot nou toe. Ek het hulle voortdurend vermaan en gesê: Luister na My!

8 Maar hulle het nie geluister nie, nie daarop ag geslaan nie; elkeen het koppig bly volhard in sy sonde. Daarom het Ek al die strawwe wat bepaal is in hierdie verbond, oor hulle gebring, die verbond wat Ek hulle beveel het om na te kom, maar wat hulle nie nagekom het nie.

9

Die Here het vir my gesê: Die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem het teen My saamgesweer:

10 hulle is weer terug by die eerste sondes van hulle voorvaders; hulle weier om na my woorde te luister, hulle loop agter ander gode aan en dien hulle; Israel en Juda het die verbond verbreek wat Ek met hulle voorvaders gemaak het.

11

Omdat dit so is, sê die Here, bring Ek 'n ramp oor hulle waaraan hulle nie sal kan ontkom nie. Hulle sal na My om hulp roep, maar Ek sal nie na hulle luister nie.

12 Dan sal die inwoners van die stede van Juda en die inwoners van Jerusalem om hulp gaan roep na die gode vir wie hulle offers gebring het, maar die gode sal hulle nie red wanneer die ramp oor hulle kom nie.

13

Jy het soveel gode gehad as wat jy stede het, Juda, en om te offer aan die skandegod, aan Baäl, het julle soveel altare opgerig as wat daar strate in Jerusalem was.

14

En jy, Jeremia, moenie vir hierdie volk bid nie, moenie vir hulle pleit of bid nie, want as jy My aanroep wanneer die ramp hulle tref, sal Ek nie luister nie.

15

Waarom wil die volk wat Ek liefhet, sy sondige planne in my tempel uitvoer? Kan baie mense en offervleis die ramp van jou afweer dat jy kan jubel?


16
'n Groen olyfboom met mooi gevormde vrugte,
so het die Here jou genoem.
Maar as die hordes met 'n gedruis aankom,
sal hulle jou blare aan die brand steek
en jou takke kaal stroop.

17

Die Here die Almagtige wat jou geplant het, het bepaal dat die ramp oor jou kom. Dit gebeur oor die kwaad wat die mense van Israel en Juda hulleself aangedoen het toe hulle My gekrenk het met hulle offerandes aan Baäl.

18

Dit is die Here wat my dit te kenne gegee het, daarom weet ek dit; U het my laat sien wat hulle doen.

19 Ek was soos 'n mak lam wat weggelei word om geslag te word. Ek het nie besef dat hulle teen my saamsweer nie. Hulle het gesê: “Laat ons die boom met die sap in hom vernietig en hom uitroei uit die land van die lewendes, sodat niemand meer aan hom dink nie.”

20 Here, Almagtige, regverdige Regter, wat hart en verstand toets, laat my sien hoe U op hulle wraak neem, want ek het my saak aan U toevertrou.

21

Daarom, so sê die Here oor die mense van Anatot wat jou lewe soek en sê: “Jy mag nie in die Naam van die Here as profeet optree nie, want dan sal ons jou doodmaak,”

22 so sê die Here die Almagtige: Ek sal hulle straf. Hulle jongmanne sal sterf deur oorlog, hulle seuns en hulle dogters sal sterf van honger.

23 Nie een van hulle sal oorbly nie, want Ek sal 'n ramp oor hulle bring wanneer Ek hulle straf.

12

1

Ek sal my saak vir U stel, want U is regverdig, Here. Ek sal punt vir punt my saak voor U lê: Waarom is die goddelose mense voorspoedig en het die ontrou mense geen sorge nie?

2 U het hulle geplant; hulle het wortel geskiet, gegroei, ook vrugte gedra. Hulle neem u Naam graag op hulle lippe, maar U is nie in hulle hart nie.

3 U ken my, Here, U sien my en toets my gesindheid teenoor U. Bring hulle om die lewe soos skape by die slagplek, sonder hulle af vir die slagting wat kom.

4 Hoe lank moet die land droog lê, moet al die plante van die veld verdor? Die diere en die voëls vergaan oor die boosheid van die inwoners van die land wat sê: “Jeremia sal nie langer leef as ons nie.”

5

As voetsoldate jou moeg hardloop, hoe sal jy teen perde kan hardloop? En as jy net in 'n vreedsame land veilig voel, hoe sal jy maak in die digte bos aan die Jordaan?

6 Jou broers en jou familie, selfs hulle het jou verraai, hulle het ander teen jou gewaarsku. Moet hulle nie vertrou as hulle vriendelik met jou praat nie.

7 Ek het my volk verlaat, hulle wat aan My behoort, prysgegee, die volk wat Ek liefhet, oorgegee in die mag van sy vyande.

8 My eie volk het soos 'n leeu in die bos teenoor My geword, hulle het vir My gebrul, daarom het Ek 'n afkeer van hulle gekry.

9 My eie volk is soos 'n hiëna teenoor My, met 'n klomp roofvoëls rondom; gaan maak al die roofdiere bymekaar, laat hulle kom vreet!

10 Die baie regeerders het my wingerd verniel, my lande vertrap, my pragtige land 'n verlate woestyn gemaak,

11 dit 'n woestyn gemaak wat treur, wat verlate voor My lê. Die hele land lê verlate, maar niemand steur hom daaraan nie.

12

Oor al die heuwels in die woestyn kom rowers. Die swaard van die Here verteer van die een kant van die land tot by die ander. Geen mens of dier word met rus gelaat nie.

13 My volk het koring gesaai maar dorings geoes, hulle moeite was tevergeefs. Hulle staan verslae, sonder oes, want die gloeiende toorn van die Here het hulle getref.

14

So sê Ek, die Here, oor al die slegte buurvolke wat hulle vergryp het aan die eiendom wat Ek aan my volk Israel gegee het: Ek sal hulle uitruk uit hulle grondgebied, maar Ek sal die Judeërs tussen húlle uitruk,

15 en nadat Ek die Judeërs uitgeruk het, sal Ek My weer oor hulle ontferm, en Ek sal elkeen laat terugkom na sy besittings en sy land toe.

16 En as die buurvolke die gebruik van my volk aanleer om in my Naam 'n eed af te lê met die woorde: “So seker as die Here leef!” net soos hulle my volk geleer het om in die naam van Baäl 'n eed af te lê, sal hulle 'n plek kry onder my volk.

17 Maar as hulle nie luister nie, sal Ek so 'n volk heeltemal uitruk en vernietig, sê die Here.

13

1

So het die Here vir my gesê: Gaan koop vir jou 'n linnegordel en maak dit om jou lyf vas. Jy moet dit nie laat nat word nie.

2

Ek het die gordel gekoop soos die Here gesê het, en dit aangesit.

3

Die woord van die Here kom toe weer tot my:

4 Vat die gordel wat jy gekoop het, wat jy aanhet, en gaan na die Eufraat toe en steek dit daar weg in 'n klipskeur.

5

Ek het gegaan en dit by die Eufraat weggesteek soos die Here my beveel het.

6 Na 'n lang ruk het die Here vir my gesê: Gaan nou na die Eufraat toe en gaan haal die gordel wat Ek jou beveel het om daar weg te steek.

7

Ek het toe na die Eufraat toe gegaan, daar gegrawe en die gordel uitgehaal uit die plek waar ek hom weggesteek het. Maar die gordel het begin vergaan en was nutteloos.

8

Toe kom die woord van die Here tot my.

9 So het die Here gesê: So sal Ek die groot hoogmoed van Juda en Jerusalem laat vergaan.

10 Hierdie slegte volk wat weier om na my woord te luister, wat hulle eie harde koppe volg en agter ander gode aanloop en hulle dien en vereer, sal net so nutteloos word soos hierdie gordel.

11 Soos 'n gordel stewig vas is om die lyf van 'n man, so het Ek al die mense van Israel en Juda aan My vasgemaak, sê die Here. Hulle moes my volk wees, hulle moes lewe tot my roem en eer en 'n sieraad vir My wees, maar hulle het nie geluister nie.

12

Sê vir hulle dit: So sê die Here die God van Israel: Elke kan moet vol wyn gemaak word. Dan sal hulle vir jou sê: “Weet ons dan nie dat elke kan vol wyn gemaak moet word nie?”

13 Dan moet jy vir hulle sê: So sê die Here: Ek gaan al die inwoners van hierdie land dronk maak, ook die konings wat op die troon van Dawid sit en die priesters en die profete, ja, al die inwoners van Jerusalem.

14 Ek sal hulle teen mekaar verpletter, vaders en kinders saam, sê die Here. Ek sal niemand spaar of verskoon nie, sonder ontferming sal Ek hulle uitroei.

15

Luister, gee aandag! Moenie so hoogmoedig wees nie: die Here het gepraat!


16
Eer die Here julle God voordat dit donker word,
voordat julle julle in die skemer vasloop teen die berge.
Julle sal wag op lig, maar Hy sal duisternis bring,
Hy sal dit stikdonker laat word.

17

Maar as julle nie luister nie, sal Ek in stilte huil oor julle hoogmoed, Ek sal huil en huil, trane stort omdat my kudde as ballinge weggevoer word.

18

Sê vir die koning en vir die koninginmoeder: Klim van die troon af, want julle sal nie meer julle sierlike krone dra nie.

19 Die stede in die Suidland is beleër, niemand kan hulle ontset nie; die hele Juda word in ballingskap weggevoer, hulle moet almal weg.

20 Kyk op, Jerusalem, kyk hoe kom hulle van die noorde af! Waar is die kudde wat aan jou toevertrou is, die kleinvee wat jou trots was?

21 Wat sal jy sê as Ek mense oor jou aanstel wat jy geleer het, as mense wat jy as bondgenote beskou het, oor jou regeer? Sal dit nie vir jou net so pynlik wees soos vir 'n vrou wat 'n kind in die wêreld bring nie?

22

Jy vra jou af: “Waarom het dit my oorgekom?”

Jy word kaal uitgetrek en verkrag oor jou baie oortredings.

23

Kan 'n Kussiet sy vel verander of 'n luiperd sy vlekke? Sou julle kon doen wat goed is, julle wat so gewoond is aan die kwaad?

24

Ek sal julle verstrooi soos kaf wat verbywaai in die woestynwind.

25 Dit is jou lot, jou deel wat Ek vir jou afgemeet het, sê die Here, vir jou wat My vergeet het, wat op leuens vertrou het.

26 Ook Ek sal jou kaal uittrek, sodat jou skandelike naaktheid bekend word,

27 jou owerspel, jou wellus, jou skandelike hoerery. Op die heuwels, in die oop veld het Ek jou afskuwelike dade gesien. Ellende wag vir jou, Jerusalem, as jy jou nie reinig nie! Hoe lank gaan dit nog so bly?

14

1

Die woord van die Here het tot Jeremia gekom oor die groot droogte:

2 Juda verdor, sy stede versmag, sy mense sit in rouklere op die grond, die hulpgeroep van Jerusalem weerklink.

3 Die vername mense stuur hulle slawe om water te gaan haal. Dié kom by die putte, maar kry geen water nie; hulle bring hulle kruike leeg terug. Hulle is verslae en verleë, hulle koppe hang.

4 In die hele land het daar geen reën geval nie. Omdat die grond niks oplewer nie, is die boere moedeloos, hulle koppe hang.

5 Die takbok lam in die veld en gooi haar lam weg omdat daar nie gras is nie.

6 Wildedonkies staan op die kaal heuwels en snuif die wind net soos jakkalse; hulle oë raak dof, want daar is nie meer gras nie.


7
As ons sondes teen ons getuig, Here,
tree tog op ter wille van u Naam.
Ons het so baie keer van U af weggedraai,
ons het teen U gesondig.

8
Hoop van Israel, Redder in tyd van nood,
waarom sou U wees soos 'n vreemdeling in die land,
soos 'n reisiger wat net 'n nag oorbly?

9
Waarom sou U wees soos 'n man wat verskrik staan,
soos 'n soldaat wat nie in staat is om te help nie?
U is by ons, Here, ons behoort aan U, moet ons nie verlaat nie!

10

So sê die Here vir hierdie volk: Hulle is lief om van My af weg te dwaal, hulle het hulle nie daarvan weerhou nie. Daarom is Ek, die Here, hulle nie meer goedgesind nie. Ek sal hulle nou hulle sonde toereken en rekenskap van hulle eis vir hulle oortredings.

11

Die Here het vir my gesê: Moenie by My vir hierdie volk voorspraak doen nie.

12 Wanneer hulle vas, sal Ek nie na hulle gesmeek luister nie; as hulle brandoffers en graanoffers bring, maak dit die volk nie vir My aanvaarbaar nie, want Ek sal met oorlog, met hongersnood en met pes 'n einde aan hulle maak.

13

Maar ek het gesê: Ag, Here my God, die profete sê dan vir hulle hulle sal geen oorlog of hongersnood beleef nie en dat U sê: Ek sal vir julle blywende voorspoed gee in hierdie land.

14

Die Here het vir my gesê: Die profete gee voor dat hulle in my Naam optree, maar Ek het hulle nie gestuur of beveel nie, Ek het nie eens met hulle gepraat nie. Dit is gesigte wat nie bestaan nie, nuttelose waarsêery, dit is bedrog wat hulle versin wat hulle vir julle aanbied as woorde van profete.

15 Daarom sê Ek oor die profete wat in my Naam optree sonder dat Ek hulle gestuur het, wat beweer daar sal nie oorlog of hongersnood in hierdie land kom nie: Daardie profete sal deur oorlog en hongersnood aan hulle einde kom.

16 Die volk vir wie hulle as profete opgetree het, sal in die strate van Jerusalem weggegooi lê, slagoffers van hongersnood en oorlog. Niemand sal hulle, hulle vrouens, hulle seuns of hulle dogters begrawe nie. Ek sal die kwaad wat hulle gedoen het, op hulle eie koppe laat afkom.

17

Sê vir hulle dit:

Dag en nag, sonder ophou, vloei die trane uit my oë;
my volk ly aan sy wonde, hy is swaar getref.

18
Wanneer ek uitgaan na die veld toe,
lê die lyke daar van dié wat met die swaard doodgemaak is;
wanneer ek in die stad kom,
lê daar die slagoffers van die hongersnood.
Profeet en priester trek in die land rond
sonder dat hulle weet wat om te sê.

19

Het U Juda dan heeltemal verwerp?
Walg U vir Sion?
Waarom het U ons getref sonder dat iemand ons genees?
Waarom wag ons dat alles regkom, maar dit gaan nie goed nie,
wag ons op 'n tyd van verbetering,
maar daar is net rede tot skrik?

20
Ons erken dat ons opstandig was, Here,
ons het teen U gesondig.
Ons bely ook die skuld van ons voorvaders.

21
Ter wille van u Naam, Here, moet ons tog nie verwerp nie.
Moenie dat die plek waar u magtige teenwoordigheid regeer,
verag word nie.
Dink aan u verbond met ons, moet dit tog nie prysgee nie!

22
Is daar onder die nikswerd gode van die nasies
een wat laat reën, wat die hemel sy reën kan laat gee?
Is dit nie U wat dit doen nie, Here ons God?
Ons vertrou op U, want dit is U wat al hierdie dinge doen.

15

1

Die Here het vir my gesê: Al het Moses en Samuel self by My gepleit, sou Ek geen gevoel vir dié volk gehad het nie. Stuur hulle weg van my teenwoordigheid af, laat hulle gaan.

2 En as hulle vir jou vra: “Waar moet ons dan heen?” moet jy vir hulle sê:

So sê die Here:
Wie vir pes bestem is, pes toe,
wie vir die swaard bestem is, swaard toe,
wie vir hongersnood bestem is, hongersnood toe,
wie vir ballingskap bestem is, ballingskap toe.

3

Ek gee oor hulle opdrag aan vier soorte goed, sê die Here: die swaard om dood te maak, honde om die lyke weg te sleep, voëls en roofdiere om hulle op te vreet en te vernietig.

4 Ek maak dié volk iets waarvoor al die koninkryke van die aarde sal skrik. Ek doen dit oor wat koning Manasse van Juda, seun van Hiskia, in Jerusalem gedoen het.


5
Wie sal vir jou jammer wees, Jerusalem,
wie sal medelye met jou hê?
Wie sal afdraai en kom vra hoe gaan dit met jou?

6
Jy het My verwerp, sê die Here,
jy het al erger geword.
Daarom het Ek my hand teen jou uitgesteek
en jou verwoes.
Ek is moeg daarvan om jou straf te bly herroep.

7
Ek het my volk met 'n gaffel uitgewan
in die stede in die land,
Ek het my volk se kinders weggevat, hom vernietig,
want hy het hom nie bekeer van sy bose lewe nie.

8
Ek het sy weduwees meer laat word as die sand van die see,
Ek het op jongmanne se moeders
helder oordag 'n aanrander laat toesak,
Ek het skrik en angs hulle skielik laat oorval.

9
Selfs die vrou wat sewe kinders gehad het,
het ineengestort en na asem gesnak,
haar son het ondergegaan toe dit nog dag was,
sy was kinderloos en reddeloos.
En wat daar van die volk oor is,
lewer Ek aan sy vyande uit om dood te maak,
sê die Here.

10
Ellende het my getref, Ma,
toe Ma my in die wêreld gebring het.
Ek is 'n man wat dwarsdeur die land
mense moet beskuldig en met hulle moet twis.
Ek het aan niemand iets geleen nie
en by niemand geleen nie,
tog vervloek almal my.

11

Die Here het belowe:

Ek laat jou op die volk los, maar ten goede,
Ek sal vir jou by jou vyande voorspraak doen
in tyd van nood en rampe.

12
Kan 'n mens yster breek,
yster uit die noorde, of brons?

13
Ek laat ander jou rykdom, jou skatte vat, Israel,
nie omdat Ek iets in ruil daarvoor kry nie
maar omdat jy dwarsoor jou land gesondig het.

14
Ek sal jou deur jou vyande laat wegvoer
na 'n land toe wat jy nie ken nie.
In my toorn sal daar 'n vuur losbreek,
en dit sal jou brand.

15
U weet alles, Here:
dink aan my, neem my onder u sorg,
straf my vervolgers oor wat hulle aan my doen.
Moet tog nie u toorn laat voortduur en my laat sterf nie;
neem tog in ag dat dit oor U is dat ek beledig word.

16
Ek het u woorde verslind toe hulle gekom het,
hulle was vir my 'n vreugde;
ek was bly daaroor dat u Naam oor my uitgeroep is,
Here, almagtige God.

17
Ek kon nie sit waar daar gesels en gelag word
en dit saam geniet nie;
U het my in besit geneem en ek moes alleen sit,
vol van die verontwaardiging wat van U af kom.

18
Waarom is daar nie 'n einde aan my pyn nie,
waarom is my wond ongeneeslik en wil dit nie gesond word nie?
Ek kan nie op U reken nie,
net so min as op 'n stroom wat nie standhoudend is nie.

19

Die Here het toe gesê:

As jy jou woorde terugneem,
sal Ek jou weer in my diens neem.
As wat jy sê, waarde sal hê
en nie onsin sal wees nie,
sal jy weer namens My kan praat.
Die mense moet jóú volg,
nie jy vir hulle nie.

20
Ek maak jou vir hierdie volk 'n bronsmuur
waardeur hulle nie kan dring nie;
hulle sal teen jou veg, maar hulle sal jou nie oorweldig nie,
want Ek is by jou, sê die Here,
Ek sal jou help en jou red.

21
Ek sal jou red uit die mag van slegte mense,
jou bevry van dié wat op geweld uit is.

16

1

Die woord van die Here het tot my gekom:

2 Moenie trou en kinders hê in dié plek nie,

3 want so sê die Here oor die kinders wat in dié plek gebore word en oor die ouers wat in dié land kinders kry:

4 Hulle sal sterf aan verskriklike siektes; niemand sal oor hulle treur en hulle begrawe nie; hulle sal op die grond bly lê soos hope mis; of hulle sal omkom in oorlog of deur hongersnood, en hulle lyke sal deur voëls en roofdiere opgevreet word.

5

Die Here het gesê: Jy moenie in 'n huis ingaan waar daar getreur word oor iemand wat dood is nie, jy moenie saam treur nie en moenie meegevoel betuig nie, want Ek het my vrede weggevat van dié volk af: Ek het hulle nie meer lief nie en Ek ontferm My nie meer oor hulle nie, sê die Here.

6 Groot en klein in dié land sal sterf; niemand sal hulle begrawe en oor hulle treur nie, niemand sal homself stukkend sny of sy kop kaalskeer om sy droefheid te wys nie;

7 niemand sal 'n stukkie brood deel met 'n bedroefde om hom te troos oor iemand wat dood is nie, niemand sal vir hom iets te drinke aanbied om hom te troos nie, nie eens oor 'n vader of moeder nie.

8

Jy mag ook nie in 'n huis ingaan waar daar feesgevier word en saam aansit en eet en drink nie,

9 want, so sê die Here die Almagtige, die God van Israel, Ek gaan voor julle oë, in julle leeftyd, 'n end maak aan die klanke van vrolikheid en blydskap in hierdie plek, ook aan dié van huweliksfeeste.

10

Wanneer jy dit alles vir hierdie volk sê, sal hulle vir jou vra: “Waarom sê die Here sal Hy al hierdie groot rampe oor ons bring? Hoe het ons teen die Here ons God oortree, wat het ons teen Hom gesondig?”

11

Dan moet jy vir hulle sê: Julle voorvaders het My al verlaat, sê die Here. Hulle het agter ander gode aangeloop en dié gedien en geëer. Julle voorvaders het My verlaat en my wet nie onderhou nie,

12 en julle het erger aangegaan as hulle, julle het elkeen sy eie harde kop gevolg en nie na My geluister nie.

13 Daarom sal Ek julle uit hierdie land uitdryf na 'n land toe waarvan julle nie weet nie en waarvan julle voorvaders ook nie geweet het nie. Daar sal julle dag en nag ander gode dien. Ek het geen medelye meer met julle nie.

14

Daar kom 'n tyd, sê die Here, dat daar nie meer gesê sal word: “So seker as die Here leef wat vir Israel uit Egipte laat trek het” nie,

15 maar: “So seker as die Here leef wat vir Israel uit die noordland laat trek het en uit al die lande waarheen Hy hulle verstrooi het.”

Ek sal hulle terugbring na die land toe wat Ek aan hulle voorvaders gegee het.

16

Ek gaan baie vissers laat kom, sê die Here, en hulle sal die Israeliete vang. Daarna gaan Ek baie jagters laat kom, en dié sal op die Israeliete jag maak op elke berg en elke heuwel, in al die klipskeure.

17 Ek sien alles wat die Israeliete doen, niks is vir My verborge nie, hulle oortredings kan nie vir My weggesteek word nie.

18 Ek gaan hulle eers dubbel laat boet vir hulle oortredings en hulle sonde, want hulle het my land met hulle afstootlike dooie gode ontwy, hulle het my eie land volgemaak met hulle afskuwelike afgode.


19
Here, my Sterkte, my Beskermer,
my Toevlug in tyd van nood,
na U toe sal die nasies kom
van die uithoeke van die aarde af
en hulle sal sê:
“Ons voorvaders het net vals gode gehad,
nikswerd en nutteloos.”

20

Kan 'n mens vir hom gode maak?
Dit is mos nie gode nie!

21

Daarom sal Ek die nasies my mag en my krag laat ken;
dié keer sal Ek hulle dit laat ken,
en hulle sal weet dat my Naam die Here is.

17

1

Die sonde van Juda is ingegraveer
met 'n ysterpen,
ingegrif met 'n diamantpunt op hulle harte
en op die horings van hulle altare.

2
Selfs hulle nageslag onthou nog die altare van hulle voorvaders
en die gewyde pale by die groen bome
en op die hoë heuwels.

3
My berg in die veld,
Ek laat ander jou rykdom, jou skatte vat
omdat jy dwarsoor jou land hoogtes gebou
en gesondig het.

4
Jy sal deur jou eie toedoen die grond moet laat lê
wat Ek jou gegee het.
Ek sal jou vir jou vyande laat werk
in 'n land waarvan jy nie weet nie.
In my toorn sal daar 'n vuur teen julle losbreek,
en dit sal aanhou brand.

5

So sê die Here:

Daar rus 'n vloek op die mens
wat sy vertroue in mense stel,
wat sy krag soek by sterflike mense
en van My af wegdraai;

6
hy is soos 'n kaal bossie in droë wêreld
wat nooit water kry nie;
'n bossie wat in 'n klipwoestyn staan,
in 'n brak wêreld waar niemand woon nie.

7

Dit gaan goed met die mens
wat sy vertroue in die Here stel,
die mens vir wie die Here 'n veilige vesting is;

8
so iemand is soos 'n boom wat by water geplant is
en sy wortels na die stroom toe uitstoot,
nie die hitte voel as dit kom nie
en altyd groen blare het;
'n droë jaar raak hom nie
en hy hou nie op om vrugte te dra nie.

9

Die hart is bedriegliker as enigiets anders,
hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?

10
Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand,
Ek laat die mens kry wat hy verdien,
wat hom toekom vir wat hy doen.

11

'n Fisant wat broei op eiers wat hy nie gelê het nie,
dit is die mens wat op oneerlike wyse ryk word.
Hy sal sy rykdom moet agterlaat in die fleur van sy lewe,
sy uiteinde is dié van 'n dwaas.

12

'n Magtige troon, van die begin af verhewe,
dit is die plek waar ons heiligdom staan!

13
Here, Hoop van Israel,
wie van U af weggaan, kom bedroë daarvan af;
wie van U af wegdraai, is vir die dood opgeskryf,
want hulle verlaat die Here, die bron van die lewe.

14
Maak Ú my gesond, Here, dan sal ek gesond wees!
Bevry Ú my, dan sal ek vry wees!
Dit is vir U wat ek wil loof.

15
Die mense vra vir my: “Waar is die woord van die Here?
Laat dit tog kom!”

16
Maar omdat ek nie wou ophou om 'n herder te wees
wat in u diens staan nie,
het ek nie die onheilsdag nadergewens nie.
U weet wat ek gesê het, dit is aan U bekend.

17
Moet tog nie vir my 'n verskrikking word nie,
want U is my toevlug op die dag van rampe.

18
Laat dié wat my vervolg, bedroë daarvan afkom,
nie ek nie!
Laat hulle vreesbevange word, nie ek nie!
Bring die dag van rampe oor hulle,
straf hulle met 'n dubbele straf!

19

Die Here het vir my gesê: Gaan staan in die Volkspoort waardeur die konings van Juda in- en uitgaan, en ook in al die ander poorte van Jerusalem

20 en sê: Hoor die woord van die Here, konings van Juda en al die mense van Juda en al die inwoners van Jerusalem wat deur hierdie poorte gaan!

21 So sê die Here: Pas op! Julle lewens is op die spel! Moet niks op die sabbatdag dra en deur die poorte van Jerusalem bring nie,

22 moet niks uit julle huise bring op die sabbatdag nie, moet geen werk doen nie. Hou die sabbatdag heilig soos Ek julle voorvaders beveel het.

23 Hulle was ongehoorsaam en het nie geluister nie, hulle was hardkoppig, hulle wou nie luister en hulle laat leer nie.

24

Maar as júlle aan My gehoorsaam is, sê die Here, en niks deur die poorte van hierdie stad dra op die sabbatdag nie, die dag heilig hou en geen werk doen op dié dag nie,

25 sal daar altyd konings wees wat op die troon van Dawid sit en deur die poorte van die stad gaan met hulle amptenare. Die konings en hulle amptenare sal saam met die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem op strydwaens en perde ry, en dié stad sal altyd bewoon word.

26 Die mense sal uit die stede van Juda kom, uit die omstreke van Jerusalem, uit die gebied van Benjamin, uit die Laeveld, uit die Bergland, uit die Suidland, en hulle sal offers na die huis van die Here toe bring, brandoffers, graanoffers, wierook- en dankoffers.

27

Maar as julle aan My ongehoorsaam is en nie die sabbatdag heilig hou nie en op dié dag goed deur die poorte van Jerusalem dra, sal Ek die poorte aan die brand steek, en die vuur sal die mooi huise in Jerusalem verteer sonder dat iemand dit kan blus.

18

1

Die woord van die Here het tot Jeremia gekom:

2 Gaan af na die pottebakker se huis toe, Ek sal daar met jou praat.

3

Ek is toe af na die pottebakker se huis toe, en hy was juis besig om iets op die skyf te maak.

4 Maar die ding wat hy aan die maak was uit die klei, het misluk, en hy het toe iets anders gemaak soos hy dit wou hê.

5

Toe kom die woord van die Here tot my:

6 Kan Ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie, Israel? vra die Here. Soos klei in die pottebakker se hand, so is julle in my hand, Israel.

7 Een oomblik kondig Ek aan dat Ek 'n nasie, 'n koninkryk sal afbreek, sal uitroei, sal vernietig.

8 Maar wanneer dié nasie hom bekeer van sy boosheid waaroor Ek hom wou straf, sien Ek af van die straf wat Ek oor hom wou bring,

9 en die volgende oomblik kondig Ek aan dat Ek die nasie en die koninkryk sal bou en sal vestig.

10 Maar wanneer hy doen wat verkeerd is in my oë en ongehoorsaam is aan My, sien Ek af van die goeie wat Ek aan hom wou doen.

11

Maar sê nou vir die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem: So sê die Here: Ek berei vir julle 'n ramp voor, Ek is besig om 'n besluit oor julle te neem. Elkeen moet hom van sy verkeerde lewe bekeer. Maak julle lewe en julle dade reg.

12 Maar hulle sal sê: “Dit help nie. Ons wil lewe soos ons wil, elkeen wil sy eie koppige, slegte lewe lei.”

13

Daarom, so sê die Here:

Vra tog onder die nasies
of iemand al van so iets gehoor het!
Israel het 'n afstootlike ding gedoen.

14
Is die kranse van die Libanon ooit sonder sneeu,
droog sy koue bergstrome wat uit ver plekke kom, ooit op?

15
Tog het my volk My vergeet
en wierookoffers gebring vir gode wat nie bestaan nie,
gode wat my volk laat struikel het op sy pad,
op die pad wat hy van ouds af loop;
hy het op ompaaie begin loop,
op ongebaande weë.

16
Hy het hierdie land iets gemaak wat mense met afgryse vervul,
iets waaroor hulle altyd van verbasing sal fluit.
Elkeen wat daar verbykom, sal van verbasing die kop skud.

17
Soos die oostewind sal Ek my volk
voor die vyand uit verdryf;
die dag as die ramp hulle tref,
sal Ek my rug na hulle toe draai
en hulle nie raaksien nie.

18

Van die mense het gesê: “Kom ons maak 'n plan met Jeremia. Daar sal altyd priesters wees om ons die wil van die Here te leer en wyse manne wat vir ons raad kan gee en profete by wie ons die boodskappe van die Here kan hoor. Kom ons voer 'n skinderveldtog teen hom en ons steur ons nie aan wat hy sê nie.”


19
Gee tog ag op my, Here,
hoor wat sê my vyande!

20
Goed word tog nie met kwaad vergeld nie!
Maar hulle grawe 'n gat vir my om in te val.
Neem tog in ag hoe ek voor U kom staan
en vir hulle gepleit het
dat u toorn teen hulle sal bedaar.

21
Maar laat hulle kinders nou van honger sterf,
laat daar oorlog oor hulle kom.
Maak hulle vrouens kinderlose weduwees:
laat die mans sterf aan die pes
en laat die jongmanne in die oorlog sneuwel.

22
Laat 'n bende hulle skielik oorval,
sodat die jammerkrete uit hulle huise sal weerklink.
Hulle het 'n gat gegrawe om my te vang,
hulle het vir my strikke gestel.

23
U, Here, ken hulle planne om my dood te bewerk;
moenie hulle oortredings vergewe nie,
moenie hulle sonde ongestraf laat nie,
laat hulle tot 'n val kom voor U,
tree teen hulle op terwyl U nog toornig is.

19

1

Die Here het gesê: Gaan koop 'n kleipot en vat van die leiers van die volk en die priesters saam

2 en gaan af na die Ben-Hinnomdal toe regoor die Potskerfpoort en kondig daar aan wat Ek vir jou sal sê.

3

Jy moet sê: Hoor die woord van die Here, konings van Juda en inwoners van Jerusalem! So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Ek gaan oor hierdie plek 'n ramp bring wat elkeen wat daarvan hoor, se ore sal laat tuit.

4 Julle het My verlaat en hierdie plek verontreinig deur hier vir ander gode offers te bring, gode waarvan julle, julle voorvaders en die konings van Juda nie voorheen geweet het nie. Julle het op dié plek baie onskuldige bloed vergiet,

5 julle het vir Baäl hoogtes gebou en julle seuns as brandoffers vir Baäl verbrand, 'n ding wat Ek nie beveel het nie en nie oor gepraat het nie en wat nooit by My opgekom het nie.

6

Daarom kom daar 'n tyd, sê die Here, dat dié plek nie meer Tofet of Ben-Hinnomdal genoem sal word nie, maar Moorddal.

7 Op hierdie plek sal Ek 'n end maak aan die planne van Juda en Jerusalem. Ek sal hulle vyande hulle met die swaard laat afmaai, hulle oorlewer in die mag van mense deur wie hulle nie gespaar sal word nie, en Ek sal hulle lyke deur voëls en roofdiere laat opvreet.

8 En hierdie stad maak Ek iets waaroor mense net met afgryse vervul kan word en kan fluit. Elkeen wat hier verbykom, sal van verbasing fluit oor alles wat die stad getref het.

9 Jerusalem sal beleër word deur vyande wat nie sy inwoners sal spaar nie. Hulle posisie sal benard word: Ek sal hulle hulle eie kinders laat eet, en die mense sal mekaar eet.

10

Jy moet dan die pot breek voor die oë van die mense wat met jou saam is,

11 en jy moet vir hulle sê: So sê die Here die Almagtige: Soos hierdie kleipot gebreek het en nie heelgemaak kan word nie, so sal Ek hierdie volk en hierdie stad breek. Hulle sal van Tofet 'n begraafplaas maak omdat daar nie ander plek sal wees nie.

12 Dit is wat Ek aan dié plek en sy inwoners sal doen, sê die Here: Ek sal die stad soos Tofet maak.

13 Die huise in Jerusalem en die paleise van die konings van Juda sal soos die Tofetplek onrein wees, al die huise waar daar op die dakke wierookoffers gebring is vir die son, die maan en die sterre, en waar daar drankoffers uitgegiet is vir vreemde gode.

14

Nadat Jeremia teruggekom het van Tofet af waar die Here hom as profeet laat optree het, het hy in die voorhof van die huis van die Here gaan staan en vir al die mense daar gesê:

15 So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Ek gaan nou oor dié stad en oor al die ander stede al die onheil laat kom wat Ek laat aankondig het, want die mense het koppig gebly en wou nie ag gee op wat Ek vir hulle gesê het nie.

20

1

Die priester Pasgur seun van Immer, wat hoofopsigter oor die tempel was, het gehoor hoe Jeremia as profeet dié aankondiging doen.

2 Pasgur het die profeet Jeremia geslaan en hom daarna laat vasskroef in die blok wat in die boonste Benjaminpoort van die huis van die Here was.

3 Toe Pasgur vir Jeremia die volgende môre uit die blok haal, het Jeremia vir hom gesê: Die Here noem jou nie meer Pasgur nie maar Angs van Alle Kante,

4 want, so sê die Here, Ek gaan jou 'n angs maak vir jouself en vir jou vriende. Hulle sal deur hulle vyande met die swaard afgemaai word terwyl jy kyk. Die hele Juda gee Ek oor in die mag van die koning van Babel: hy sal party in ballingskap wegvoer na Babel toe en party doodmaak.

5 Al die rykdom van hierdie stad, al sy besittings, al wat hy het wat waardevol is, en al die skatte van die konings van Juda lewer Ek uit aan hulle vyande. Hulle sal alles plunder en roof en dit na Babel toe wegvat.

6 Jy, Pasgur, en al die mense in jou huis sal ook in ballingskap weggevoer word. Jy sal in Babel kom en daar sterf, en daar sal jy en al jou vriende vir wie jy met leuens 'n profeet wou wees, begrawe word.


7
U het my mislei, Here, en ek het my laat mislei.
U was te sterk vir my, U het gewen.
Ek word heeldag uitgelag,
almal spot met my.

8
Elke keer as ek my mond oopmaak, moet ek skree,
moet ek roep: “Daar is geweld, daar is verdrukking!”
Om die woord van die Here te moet aankondig,
beteken vir my net vernedering en bespotting heeldag deur.

9
En wanneer ek dink ek sal my aan Hom nie steur nie
en nie meer in sy Naam praat nie,
dan word dit in my soos 'n vuur wat brand
en waarvan ek nie kan loskom nie.
Ek is moeg van weerstand bied daarteen,
ek kan nie meer nie.

10
Ek hoor almal fluister: “Angs van alle kante!
Sê dit! Kom ons sê vir die koning wat Jeremia sê!”
Selfs my vriende wag dat ek tot 'n val kom!
Hulle sê: “Miskien loop hy in die val,
en dan kan ons hom bykom
en ons op hom wreek.”

11
Maar U is by my, Here,
en U is magtig en sterk:
dit is dié wat my vervolg, wat sal val;
hulle sal nie wen nie.
Hulle sal teleurgestel staan,
want hulle sal nie in hulle doel slaag nie.
Die skande van hulle neerlaag sal nooit vergeet word nie.

12
Here, Almagtige, u oordeel is reg,
U sien raak wat diep in 'n mens is.
Laat my sien hoe U my vyande straf
want ek gee my saak in u hande.

13

Sing tot eer van die Here, loof Hom!
Hy red die arme uit die mag van slegte mense.

14
Vervloek is die dag waarop ek gebore is,
die dag waarop my ma my in die wêreld gebring het;
mag dié dag altyd sonder seën wees.

15
Vervloek is die man wat vir my pa die berig gebring het:
“Jy het 'n seun,” 'n berig wat hom baie bly gemaak het.

16
Mag dit met daardie man gaan soos met die stede
wat so genadeloos deur die Here verwoes is,
mag daardie man angskrete hoor in die môre,
oorlogskrete op die helder middag,

17
omdat hy my nie doodgemaak het voor ek gebore is
sodat my ma my graf kon gewees het
en sy nooit in kraam kon kom nie.

18
Waarom is ek gebore net om ellende en pyn te beleef
en my lewe lank verneder te word?

21

1

Die woord van die Here het tot Jeremia gekom toe koning Sedekia vir Pasgur seun van Malkija en die priester Sefanja seun van Maäseja na Jeremia toe gestuur het met die versoek:

2 “Raadpleeg asseblief die Here namens ons, want koning Nebukadnesar van Babel val ons aan. Miskien doen die Here ook vir ons 'n wonder en laat Hy Nebukadnesar van ons af wegtrek.”

3

Jeremia het vir hulle gesê: Julle moet vir Sedekia sê:

4 So sê die Here die God van Israel: Ek gaan die wapens laat terugdraai wat daar nou in julle hande is en waarmee julle buitekant die mure teen die koning van Babel en teen die Galdeërs veg. Ek gaan dié wapens hier binne in die stad bymekaarbring

5 en dan gaan Ek self teen julle veg met my groot mag en krag, in groot toorn, gramskap en woede.

6 Ek gaan al wat in hierdie stad is, tref, mens en dier. Hulle sal aan die pes sterwe,

7 en daarna, sê die Here, sal Ek koning Sedekia van Juda, sy amptenare en die mense in die stad wat pes, swaard en hongersnood vrygespring het, oorlewer in die mag van koning Nebukadnesar van Babel, in die mag van hulle vyande, in die mag van dié wat hulle lewe soek. Die vyand sal die inwoners van Jerusalem afmaai sonder om te verskoon, sonder om jammer te kry, sonder genade.

8

Daarna het die Here vir Jeremia gesê: Jy moet vir hierdie volk sê: So sê die Here: Ek gee julle die keuse: wil julle lewe of wil julle sterwe?

9 Wie in hierdie stad bly, sal sterf, deur die swaard of deur hongersnood of deur pes. Wie uitgaan en na die Galdeërs toe oorloop deur wie julle beleër word, sal lewe, al sal hy net met sy lewe daarvan afkom.

10 Ek het besluit om hierdie stad swaar te straf en hom nie te spaar nie, sê die Here. Die stad word oorgegee in die mag van die koning van Babel, en hy sal dit afbrand.

11

Vir die koningshuis van Juda moet jy sê: Hoor die woord van die Here,

12 huis van Dawid! So sê die Here:

Sorg dat daar elke dag reg geskied,
red die mens wat beroof word
uit die mag van die uitbuiter.
As julle dit nie doen nie,
sal my toorn ontvlam soos 'n vuur
en brand sonder dat iemand dit kan blus.
Dit sal gebeur oor die sonde wat julle gedoen het.

13

Ek is jou teenstander, Jerusalem, sê die Here,
jy wat hier bokant die dal op die klipplaat lê,
jy wie se inwoners sê niemand kan hulle aanval nie,
niemand kan hulle skuilplekke binnedring nie.

14
Ek gaan hulle straf oor wat hulle gedoen het, sê die Here,
Ek gaan in die paleis 'n vuur aansteek wat alles rondom sal verbrand.

22

1

So het die Here gesê: Gaan na die paleis van die koning van Juda toe en dra hierdie boodskap daar oor.

2 Jy moet sê: Hoor die woord van die Here, koning van Juda wat op die Dawidstroon sit, u en u amptenare en u volk wat deur hierdie poorte na u toe kom.

3 So sê die Here: Handhaaf die reg en wees regverdig! Red dié wat beroof word, uit die mag van die uitbuiter, ook die vreemdeling, die weeskind en die weduwee. Moenie die reg vertrap nie, moenie geweld pleeg en moenie mense onskuldig om die lewe bring in hierdie plek nie.

4 As julle stiptelik volgens my woord lewe, sal konings wat op die Dawidstroon sit, deur die poorte van hierdie paleis kom en hulle sal op waens en perde ry, hulle en hulle amptenare en hulle volk.

5 Maar as julle nie na my woorde luister nie, bevestig Ek nou vir julle met 'n eed dat hierdie paleis 'n puinhoop sal word, sê die Here.

6 So sê die Here oor die paleis in Juda:

Jy is vir my Gilead, die Libanonkruin,
maar Ek maak jou 'n woestyn,
soos stede sonder inwoners.

7
Ek wys mense aan om jou te vernietig,
mense met hulle wapens.
Hulle sal jou mooi sederbalke opkap
en in die vuur gooi.

8

Daar sal baie nasies by hierdie stad verbygaan en vir mekaar vra: “Waarom het die Here dit met hierdie groot stad gedoen?”

9 Dan sal hulle antwoord: “Omdat die mense van hierdie stad nie die verbond met die Here hulle God gehou het nie en ander gode vereer en gedien het.”


10
Moenie huil oor die koning wat dood is nie,
moenie oor hom rou nie.
Huil, ja, huil oor hom wat in ballingskap is,
want hy sal nie terugkom nie,
hy sal nie weer sy geboorteland sien nie.

11

So sê die Here oor koning Sallum van Juda, seun van Josia, wat koning geword het in die plek van Josia, sy pa, maar wat van hierdie plek af weggegaan het: Hy sal nooit hierheen terugkom nie,

12 want hy sal sterf in die plek waarheen hulle hom in ballingskap weggevoer het. Hy sal nooit weer hierdie land sien nie.


13
Ellende wag vir hom wat sy huis met onreg bou,
sy bokamers met minagting van die reg,
vir hom wat sy mense sonder betaling laat werk,
wat hulle nie hulle geld gee nie.

14
Ellende wag vir hom wat sê:
“Ek wil my huis groot maak,
sy bokamers moet ruim wees.”
Hy breek vir hom groot vensters uit,
sit vir hom panele in van sederhout
en verf sy huis rooi.

15

Maak dit van jou 'n koning
as jy jou inspan vir meer sederhout?
Jou pa het geëet en gedrink,
hy het reg laat geskied en reg gedoen
en dit het goed gegaan met hom.

16
Hy het die saak behartig van die swakke en die arme,
en dit het goed gegaan.
Wie hierdie dinge doen, dien My,
sê die Here.

17
Maar jy is net daarop uit om jou te verryk ten koste van ander,
jy kyk net waar jy mense onskuldig kan doodmaak,
waar jy kan verdruk en afpers.

18
Daarom, so sê die Here
vir koning Jojakim van Juda, seun van Josia:
Hulle sal nie oor jou treur en sê:
“Ag, hoe jammer, my broer,
ag, hoe jammer, my suster!” nie.
Hulle sal nie oor jou treur en sê:
“Ag, ons koning, ag, sy majesteit!” nie.

19
Hy sal soos 'n donkie begrawe word:
hy sal van hier af weggesleep word
en buite die poorte van Jerusalem weggegooi word.

20
Gaan Libanon toe en vra hulp,
roep hard by Basan,
vra hulp by Abarim,
want al jou helpers is vernietig.

21
Ek het jou gewaarsku toe jy nog gerus was,
maar jy het gesê: “Ek sal nie luister nie.”
Van jongs af was dit jou gewoonte
om nie na My te luister nie.

22
Die wind sal almal wegwaai wat vir jou sorg,
jou helpers sal in ballingskap weggevoer word
en jy sal self die vernederende skande moet dra vir jou slegte lewe.

23
Jy wat tussen die seders woon,
wie se nes gemaak is van Libanonhout,
jy sal kerm wanneer pyne jou tref,
pyne soos van 'n vrou in kraam.

24

So seker as Ek leef, sê die Here, al was jy, koning Jojagin van Juda, seun van Jojakim, 'n seëlring aan my regterhand, Ek sal jou uitruk.

25 Ek sal jou uitlewer aan dié wat jou wil doodmaak, aan dié vir wie jy bang is: in die mag van koning Nebukadnesar van Babel en in die mag van die Galdeërs.

26 Ek sal jou en jou ma wat jou in die wêreld gebring het, in 'n vreemde land gooi waar nie een van julle gebore is nie, en daar sal julle sterf.

27 Julle sal nie terugkom na die land toe waarna julle sal verlang om terug te kom nie.


28
Is hierdie man Jojagin 'n weggooiding,
'n gebreekte kleipot wat niemand wil hê nie?
Waarom is hy en sy kinders dan weggegooi?
Waarom is hulle gegooi in 'n land
waarvan hulle nie tevore geweet het nie?

29
Land, land, land,
luister na die woord van die Here!

30
So sê die Here:
Teken by die naam van hierdie man aan:
'n man sonder troonopvolger,
'n man wat in sy lewe niks sal bereik nie,
want niemand van sy nageslag sal op die Dawidstroon sit nie,
hy sal nie oor Juda regeer nie.

23

1

Ellende wag vir julle, herders deur wie die skape uit my kudde doodgemaak en verstrooi word, sê die Here.

2 Daarom, so sê die Here die God van Israel oor die herders wat my volk moet versorg: Julle het my skape uitmekaargejaag en verstrooi, julle het hulle nie opgepas nie, en daarom gaan Ek julle straf vir al die verkeerde dade wat julle gedoen het, sê die Here.

3 Maar Ek sal self dié van my kudde wat oorgebly het, gaan bymekaarmaak in al die lande waarheen Ek hulle verstrooi het. Ek sal hulle terugbring na hulle weiveld toe waar hulle vrugbaar sal wees en baie sal word.

4 Dan sal Ek herders oor hulle aanstel, en dié sal hulle versorg, en hulle sal nie meer bang of verskrik wees nie en hulle sal nie meer wegraak nie, sê die Here.


5
Daar kom 'n tyd, sê die Here,
dat Ek vir Dawid 'n regverdige spruit sal laat opskiet,
'n koning wat verstandig sal regeer.
Hy sal die reg eerbiedig
en regverdig regeer in sy land.

6
In sy tyd sal Juda gered word
en sal Israel veilig woon.
Sy naam sal wees:
Die Here regeer regverdig oor ons.

7

Daar kom 'n tyd, sê die Here, dat die mense nie meer sal sê: “So seker as die Here leef wat vir Israel uit Egipte laat trek het nie”,

8 maar hulle sal sê: “So seker as die Here leef wat die nageslag van Israel met sorg teruggebring het uit die land in die noorde en uit al die lande waarheen Hy hulle verstrooi het.”

Dan sal hulle weer in hulle eie land woon.

9

Teen die profete:

My hart is stukkend geslaan, my hele liggaam bewe.
Ek is soos 'n dronk mens,
soos iemand wat deur drank oorweldig is.
Ek het so geword deur die Here,
deur sy heilige woorde.

10

Die land het vol mense geword wat hoereer;
deur die vervloeking wat op die land rus,
het hy verdroog,
het die weiveld verdor.
Die koers wat die profete inslaan, is verkeerd,
hulle misbruik hulle mag.

11
Profeet en priester is albei godloos,
Ek tref hulle sondes selfs in my huis aan,
sê die Here.

12
Daarom sal hulle pad glibberig word,
hulle sal weggelei word na donker plekke toe,
daar sal hulle val.
Ek sal 'n ramp oor hulle bring
wanneer Ek hulle straf, sê die Here.

13

Ek het iets afstootliks onder Samaria se profete gesien:
hulle tree in Baäl se naam op as profete
en verlei my volk Israel.

14
Ek het iets afskuweliks onder Jerusalem se profete gesien:
hulle hoereer, hulle lieg en bedrieg,
hulle help dié wat verkeerd doen,
met die gevolg dat niemand hom van sy verkeerde dade bekeer nie.

Hulle het almal vir My soos Sodom geword,
Jerusalem se inwoners het soos Gomorra geword.

15

Daarom, so sê die Here die Almagtige oor die profete:

Ek sal hulle galbitter kos laat eet
en gifwater laat drink,
want van Jerusalem se profete af
het godloosheid deur die hele land versprei.

16

So sê die Here die Almagtige:

Julle moenie luister na wat die profete sê nie,
die profete wat vir julle as profete optree.
Hulle wek vals verwagtings by julle,
hulle praat oor visioene wat hulle self uitdink,
nie oor wat die Here sê nie.

17
Hulle hou aan om vir dié wat My minag,
te sê: “Die Here sê daar sal vrede vir julle wees.”
Vir dié wat hardkoppig is, sê hulle:
“Daar sal nie 'n ramp oor julle kom nie.”

18

Wie het in die raadskamer van die Here gestaan?
Wie het alles gesien?
Wie het gehoor wat Hy sê?
Ja, wie het na sy woord geluister,
wie het dit gehoor?

19

Kyk, die gramskap van die Here laat 'n stormwind waai,
'n orkaan sal op die goddeloses afkom.

20
Die toorn van die Here sal nie ophou
voordat Hy sy plan uitgevoer het
en gedoen het wat Hy besluit het nie.

Daar kom 'n tyd dat julle dit alles goed sal verstaan.

21

Ek het nie hierdie profete gestuur nie,
tog het hulle met 'n boodskap rondgehardloop;
Ek het nie met hulle gepraat nie,
tog het hulle as profete opgetree.

22
As hulle in my raadskamer gestaan het,
sou hulle my woorde aan my volk meegedeel het
en my volk van hulle verkeerde koers af laat wegdraai het,
van hulle sondige dade af.

23

Ek is nie 'n God wat net naby is nie, sê die Here,
Ek is 'n God wat ook ver weg is.

24
Niemand kan in 'n geheime plek wegkruip
sonder dat Ek hom sien nie, sê die Here.
Ek is oral in die hemel en op die aarde, sê die Here.

25

Ek het gehoor wat sê die profete wat sonder opdrag in my Naam as profete optree. Hulle sê: “Ek het 'n droom gehad, ek het 'n droom gehad!”

26

Hoe lank sal die profete wat sonder opdrag optree, die profete wat leuens uitdink om te verkondig, nog aanhou hiermee?

27 Hulle dink hulle sal my volk my Naam laat vergeet met die drome wat hulle vir mekaar vertel, net soos hulle voorvaders my Naam deur die Baäl vergeet het.

28 Die profeet wat 'n droom gehad het, mag vertel wat hy gedroom het, maar hy wat my woord ontvang het, moet my woord eerlik oordra. 'n Mens kan nie strooi met die beste koring vergelyk nie, sê die Here.

29 My woord is soos vuur, sê die Here, soos 'n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word.

30

Daarom, sê die Here, is Ek teen die profete wat herhaal wat ander sê en dan voorgee dat dit van My af kom.

31 Kyk, sê die Here, Ek is teen dié profete wat hulle eie stories vertel en dan sê: “Die Here sê so.”

32 Kyk, sê die Here, Ek is teen dié profete wat drome wat nie plaasgevind het nie, as openbaring oorvertel, want hulle lei my volk op 'n dwaalspoor met hulle leuens en hulle praatjies. Ek het nie hierdie profete gestuur nie, Ek het hulle ook nie beveel om as profete op te tree nie. Hulle help my volk hoegenaamd nie, sê die Here.

33

Jeremia, wanneer die volk of 'n profeet of 'n priester vir jou vra: “Wat is die uitspraak van die Here?” moet jy vir hulle vra: “Wat is die uitspraak?” Die Here sê: Ek steur My nie meer aan julle nie.

34 Die profeet of die priester of die volk wat sê: “Die uitspraak van die Here,” moet weet Ek sal hom en sy familie straf.

35 Julle vra vir mekaar, elkeen vir sy volksgenoot: “Wat antwoord die Here?” of: “Wat sê die Here?”

36 Julle moenie meer verwys na die uitspraak van die Here nie, want elkeen maak sy eie woorde tot uitspraak van die Here. So verdraai julle die woorde van ons God, die Here die Almagtige, die lewende God.

37

Julle vra vir die profeet: “Wat antwoord die Here jou?” of: “Wat sê die Here?”

38 Al sê julle ook: “Dit is die uitspraak van die Here,” sê die Here nou: Julle sê: “Hierdie woorde is 'n uitspraak van die Here,” ten spyte daarvan dat Ek julle verbied het om te sê: “'n Uitspraak van die Here.”

39 Daarom sal Ek julle heeltemal vergeet, Ek sal My nie meer aan julle steur nie, en ook nie aan die stad wat Ek aan julle en julle voorvaders gegee het nie. Ek wil julle nie meer sien nie.

40 Ek sal vir altyd vernedering oor julle bring, blywende skande wat nie vergeet sal word nie.

24

1

Die Here het my twee mandjies vye laat sien voor die tempel. Dit was bestem vir die tempel van die Here. Ek het die gesig gesien nadat koning Nebukadnesar van Babel vir koning Jojagin van Juda, seun van Jojakim, saam met die amptenare van Juda en die ambagsmanne en die bouers uit Jerusalem uit in ballingskap weggevoer het en hulle in Babel gebring het.

2 Die een mandjie was vol goeie vye, so lekker soos voorvye. Die ander mandjie was vol slegte vye, so sleg dat 'n mens dit nie kon eet nie.

3

Toe vra die Here vir my: Wat sien jy, Jeremia? en ek antwoord: “Vye. Die goeies is baie goed en die slegtes baie sleg, hulle is so sleg dat 'n mens hulle nie kan eet nie.”

4

Die woord van die Here het tot my gekom:

5 So sê die Here die God van Israel: Ek beskou die ballinge van Juda wat Ek vir hulle beswil uit hierdie plek uit na Galdeërland toe gestuur het, as net so goed as hierdie goeie vye.

6 Vir hulle beswil sal Ek my oog oor hulle hou en Ek sal hulle na hierdie land toe terugbring. Ek sal hulle opbou, nie afbreek nie, Ek sal hulle plant, nie uitruk nie.

7 Ek sal hulle die insig gee om My te ken. Ek is die Here! Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees, want hulle sal heelhartig na My toe terugkom.

8

Maar, so sê die Here, Ek sal koning Sedekia van Juda en sy amptenare en dié mense van Jerusalem wat oorgebly het, dié wat in hierdie land agterbly en dié wat in Egipte wil gaan woon, maak soos die slegte vye wat so sleg is dat 'n mens hulle nie kan eet nie.

9 Ek sal vir Sedekia-hulle maak tot iets slegs, iets waarvoor al die koninkryke van die aarde sal skrik; in al die plekke waarheen Ek hulle sal verstrooi, sal hulle naam gebruik word wanneer mense ander wil verneder, wil spot, wil verkleineer of wil vervloek.

10 Ek sal oorlog, hongersnood en pes onder hulle loslaat totdat hulle uitgeroei is uit die land wat Ek aan hulle en hulle voorvaders gegee het.

25

1

In die vierde regeringsjaar van koning Jojakim van Juda, seun van Josia, dit was die eerste regeringsjaar van koning Nebukadnesar van Babel, het daar 'n woord tot Jeremia gekom teen die hele volk Juda.

2 Die profeet Jeremia het toe vir die hele volk Juda en vir al die inwoners van Jerusalem gesê:

3 Van die dertiende jaar van koning Josia van Juda, seun van Amon, af tot nou toe, drie en twintig jaar lank, het die woord van die Here tot my gekom. Ek het vroeg en laat met julle gepraat, maar julle het nie geluister nie.

4 Die Here het vroeg en laat sy dienaars die profete na julle toe gestuur, maar julle het nie geluister nie, julle het nie eers probeer luister nie.

5 Hy het gesê: Julle moet julle bekeer van julle slegte lewe en van julle verkeerde dade. Dan sal julle bly woon in die land wat die Here lank gelede al vir altyd aan julle en julle voorvaders gegee het.

6 Julle mag nie ander gode aanhang, dien en vereer nie. Julle mag My nie tart met die afgodsbeelde wat julle gemaak het nie, want dan sal Ek rampe oor julle bring.

7

Maar julle het nie na My geluister nie, sê die Here. Julle het My bly tart met die afgodsbeelde wat julle gemaak het, en so het julle 'n ramp oor julleself gebring.

8

So sê die Here die Almagtige: Omdat julle nie geluister het na wat Ek gesê het nie,

9 vat Ek al die volke van die noorde, sê die Here, en Ek stuur hulle en my dienaar koning Nebukadnesar van Babel en Ek laat hulle optrek teen hierdie land en sy inwoners en teen al die nasies van die omgewing. Ek sal hulle uitroei en Ek sal hulle name vir altyd laat gebruik wanneer mense ander wil bang maak, wil skrikmaak of wil vervloek. Hulle lande sal vir altyd puinhope wees.

10 Ek sal blydskap en vreugde van hulle af wegvat: die huweliksfeeste, die klank van die maalklippe en die lig van die lampe.

11 Hierdie land sal 'n verlate puinhoop word en al hierdie nasies sal sewentig jaar lank die koning van Babel se onderdane wees.

12

Maar wanneer die sewentig jaar om is, sal Ek die koning van Babel en daardie nasie in Galdeërland straf vir al hulle sondes, sê die Here. Ek sal hulle land vir altyd verwoes laat lê.

13 Dan sal Ek alles wat Ek teen daardie land gesê het, alles wat in hierdie boek opgeteken staan en wat Jeremia as profeet teen daardie nasies aangekondig het, oor daardie land bring.

14 Daardie nasies sal die onderdane word van baie nasies en van sterk konings. Ek sal hulle straf ooreenkomstig hulle dade en ooreenkomstig die afgodsbeelde wat hulle gemaak het.

15

So het die Here die God van Israel vir my gesê: Vat hierdie beker uit my hand. Dit is gevul met die wyn van my toorn. Jy moet al die nasies na wie toe Ek jou stuur, daaruit laat drink.

16 Wanneer hulle dit drink, sal hulle waggel en slinger: dit is oorlog wat Ek onder hulle loslaat.

17

Ek het die beker uit die hand van die Here gevat en al die nasies na wie toe Hy my gestuur het, laat drink

18 om hulle te verwoes en om hulle name dan te laat gebruik wanneer mense ander wil bang maak, wil skrikmaak of wil vervloek: Jerusalem, die stede van Juda, sy konings en sy amptenare;

19 die farao van Egipte, sy onderdane, sy amptenare, sy volk

20 en die gemengde bevolking in Egipte; al die konings van Us, al dié van die Filistynse stede Askelon, Gasa, Ekron en wat van Asdod oorgebly het;

21 Edom, Moab en die Ammoniete,

22 al die konings van Tirus, Sidon, die kusstreke oorkant die see;

23 Dedan, Tema, Bus, almal wat hulle koppe aan die kante kaal skeer;

24 al die konings van Arabië en dié van die gemengde bevolking wat in die woestyn woon;

25 al die konings van Simri, Elam en Medië,

26 al die konings van die noorde, dié wat naby is en dié wat ver is, een na die ander, al die koninkryke wat oor die hele aarde versprei is. Heel laaste moet die koning van Sesak die beker drink.

27

Jy moet vir hulle sê: So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Drink en word dronk en braak en val! Julle sal nie opstaan nie. Dit sal gebeur deur die oorlog wat Ek onder julle sal loslaat.

28 Wanneer hulle weier om die beker uit jou hand te vat om te drink, moet jy vir hulle sê: So sê die Here die Almagtige: Drink sal julle drink!

29 Kyk, Ek begin 'n ramp bring oor die stad waaroor my Naam uitgeroep is, en wil julle los uitstap, sonder om gestraf te word? Nee, Ek het die oorlog teen al die bewoners van die aarde ingeroep, sê die Here die Almagtige.

30

Jy moet as profeet optree teen hulle en dit alles vir hulle sê:

Die Here brul in die hoogte,
Hy laat sy stem hoor in sy heilige woonplek,
Hy brul hard teen sy weiveld,
Hy roep van vreugde soos dié wat druiwe trap,
Hy sing 'n klaaglied oor al die bewoners van die land.

31
Die klank sal trek tot in die uithoeke van die aarde,
want die Here kla die nasies aan,
Hy sal al die mense straf,
die goddeloses aan die oorlog uitlewer,
sê die Here.

32
So sê die Here die Almagtige:
Daar trek 'n ramp van nasie tot nasie,
'n groot storm steek op van die uithoeke van die aarde af.

33

Daardie dag sal dié wat deur die Here verslaan is, van die een uithoek van die aarde af tot in die ander uithoek lê. Niemand sal oor hulle treur nie, hulle sal nie bymekaargemaak en begrawe word nie. Hulle sal soos mis op die grond bly lê.


34
Huil, herders, roep om hulp,
rol in die stof, leiers van die kudde!
Die dag het gekom dat julle geslag word.
Julle sal tot 'n val kom.
Ek sal julle stukkend slaan al is julle soos kosbare erdewerk.

35
Daar sal nie vir die herders 'n plek wees
waarheen hulle kan vlug nie,
die leiers van die kudde sal nie kan ontsnap nie.

36

Luister hoe skreeu die herders,
hoe huil die leiers van die kudde,
want die Here vernietig hulle weiveld.

37
Die weivelde waar daar vrede was,
word uitgewis deur die gloeiende toorn van die Here.

38
Die herder sal sy hut verlaat
soos die leeu van sy lêplek af padgee.
Hulle land sal verlate wees.
Die toorn wat alles platvee,
die gloeiende toorn van die Here sal dit alles doen.

26

1

Kort nadat Jojakim seun van Josia koning van Juda geword het, het hierdie woord van die Here gekom:

2

So sê die Here: Gaan staan in die voorhof van die huis van die Here en praat met al die mense wat uit al die stede van Juda kom om in die huis van die Here te aanbid. Jy moet alles wat Ek jou beveel, vir hulle sê. Jy mag nie 'n enkele woord weglaat nie.

3 Miskien sal hulle luister en hulle van hulle verkeerde lewe bekeer. Dan sal Ek die straf herroep wat Ek oor hulle wou bring oor hulle sondige dade.

4 Jy moet vir hulle sê: So sê die Here: Julle moet na My luister en my wil doen wat Ek aan julle bekend gemaak het.

5 Julle moet luister na wat my dienaars die profete sê, my profete wat Ek vroeg en laat na julle toe gestuur het sonder dat julle na hulle geluister het.

6 As julle dit nie doen nie, sal Ek hierdie huis soos Silo maak en Ek sal hierdie stad maak tot iets waarmee al die volke van die wêreld ander vervloek.

7

Die priesters, die profete en die hele volk het Jeremia hierdie dinge hoor sê in die huis van die Here.

8 Toe Jeremia klaar vir die volk alles gesê het wat die Here hom beveel het om vir hulle te sê, het die priesters en die profete en die hele volk hom gepak en gesê: “Jy moet beslis sterf!

9 Waarom tree jy in die Naam van die Here op as profeet en sê dan dat hierdie huis soos Silo sal word en dat hierdie stad verwoes sal word en sonder inwoners sal wees?”

Die hele volk het in die huis van die Here om Jeremia saamgedrom.

10 Toe die amptenare van Juda al hierdie dinge verneem, is hulle van die paleis af na die tempel toe. Hulle het by die nuwe poort van die tempel gaan sit,

11 en die priesters en die profete het vir hulle en vir die hele volk gesê: “Hierdie man moet die doodvonnis kry, want hy het as profeet hierdie dinge teen die stad gesê. Julle het dit self gehoor.”

12

Toe antwoord Jeremia al die amptenare en die hele volk: “Die Here het my gestuur om as profeet op te tree teen hierdie huis en teen hierdie stad en om alles te sê wat julle gehoor het.

13 Maar as julle nou goed doen en julle gedrag en optrede verander en luister na wat die Here julle God vir julle sê, sal Hy die straf herroep wat Hy oor julle aangekondig het.

14 Ek is in julle mag. Maak met my wat goed en reg is in julle oë.

15 Onthou net: As julle my doodmaak, sal julle die straf vir onskuldige bloedvergieting oor julle en oor hierdie stad en sy inwoners bring, want dit is so dat die Here my teen julle gestuur het om al hierdie dinge te sê sodat julle almal dit kan hoor.”

16

Toe sê die amptenare en die hele volk vir die priesters en die profete: “Hierdie man mag nie die doodvonnis kry nie, want hy het met ons gepraat in die Naam van die Here ons God.”

17

Daar het ook van die leiers van die land gekom en vir die hele volksvergadering gesê:

18 “Miga van Moreset het in die dae van koning Hiskia van Juda as profeet opgetree en vir die hele volk van Juda gesê: So sê die Here die Almagtige:

“Sion sal soos 'n land geploeg word,
Jerusalem sal 'n puinhoop word,
die tempelberg 'n hoogte vol bossies.

19

“Het koning Hiskia van Juda en die hele Juda toe vir Miga doodgemaak? Het Hiskia nie die Here gedien en om genade gesmeek nie? Het die Here nie die straf herroep wat Hy oor hulle aangekondig het nie? Ons is besig om 'n groot ramp oor ons te bring.”

20

Daar was nog iemand wat in die Naam van die Here as profeet opgetree het, Urija seun van Semaja uit Kirjat-Jearim. Hy het as profeet opgetree teen hierdie stad en teen hierdie land en dieselfde dinge as Jeremia gesê.

21

Toe koning Jojakim en al sy soldate en al sy amptenare hoor wat Urija sê, wou die koning hom doodmaak, maar Urija het dit te hore gekom en bang geword en Egipte toe gevlug.

22 Koning Jojakim het toe vir Elnatan seun van Akbor en die manskappe by hom na Egipte toe gestuur,

23 en hulle het vir Urija in Egipte gaan haal en na koning Jojakim toe gebring. Hy het toe vir Urija met 'n swaard om die lewe gebring en sy lyk in die plek gegooi waar die gewone mense begrawe is.

24

Agikam seun van Safan was aan Jeremia se kant, met die gevolg dat hy nie aan die volk uitgelewer is sodat hulle hom kon doodmaak nie.

27

1

Kort nadat Sedekia seun van Josia koning van Juda geword het, het hierdie woord van die Here tot Jeremia gekom:

2 So het die Here vir my gesê: Maak vir jou jukke met skeie en stroppe en sit een daarvan op jou nek.

3 Die ander moet jy na die konings van Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon toe stuur met die boodskappers wat na koning Sedekia van Juda in Jerusalem gekom het.

4 Beveel die boodskappers om vir hulle konings te sê: So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Julle moet vir julle konings sê:

5 Deur my groot krag en met my magtige dade het Ek die aarde, die mense en die diere wat op die aarde is, gemaak en Ek gee dit aan wie Ek wil.

6 Ek gee al hierdie lande nou in die mag van my dienaar koning Nebukadnesar van Babel. Ek gee ook al die wilde diere aan hom vir sy gebruik.

7 Al die nasies sal hom dien, hom en sy seun en sy kleinseun, totdat ook die dag vir sy land sal kom, en dan sal baie nasies en sterk konings hom onderwerp.

8 Die nasie of koninkryk wat nie vir koning Nebukadnesar van Babel wil dien en onder die juk van Babel se koning wil buig nie, sal Ek met oorlog en met hongersnood en met pes straf, sê die Here. Ek sal hulle uitroei deur Nebukadnesar.

9

Julle moenie luister na julle profete, julle besweerders, julle droomuitlêers, julle towenaars, julle goëlaars wat vir julle sê om nie die koning van Babel te dien nie.

10 Dit is vals profete wat vir julle optree, en daardeur sal julle ver weggevat word uit julle land uit. Ek sal julle verban en julle sal omkom.

11 Maar die nasie wat onder die juk van Babel se koning buig en hom dien, sal Ek in sy vaderland laat bly, sê die Here, en hy sal sy land bewerk en daar woon.

12

Ek het dieselfde opdrag gegee aan koning Sedekia van Juda. Ek het gesê: Buig onder die juk van Babel se koning en dien hom en sy volk en bly so aan die lewe.

13 Waarom wil jy en jou volk sterf deur die oorlog en die hongersnood en die pes waarmee Ek, die Here, elke nasie wat nie die koning van Babel wil dien nie, gedreig het?

14 Moenie luister na die profete wat vir julle sê julle moenie die koning van Babel dien nie. Dit is vals profete wat vir julle optree.

15 Ek het hulle nie gestuur nie, sê die Here. Hulle tree in my Naam op as profete, maar hulle bedrieg julle, en daarom sal Ek julle verban en sal julle omkom, julle en julle profete.

16

Toe het ek, Jeremia, vir die priesters en hierdie hele volk gesê: So sê die Here: Moenie luister na julle profete nie. Hulle sê vir julle: “Die voorwerpe uit die huis van die Here sal baie gou teruggebring word uit Babel.” Daardie profete lieg vir julle.

17 Moenie na hulle luister nie. Dien die koning van Babel, en bly lewe. Waarom moet hierdie stad verwoes word?

18 As hulle werklik profete is en as die woord van die Here by hulle is, laat hulle dan by die Here die Almagtige pleit dat die voorwerpe wat nog in die huis van die Here is en dié in die koning van Juda se paleis en dié in Jerusalem, nie na Babel toe gevat word nie.

19 So sê die Here die Almagtige van die pilare en die waterbak en die staanders, van al die ander voorwerpe wat nog oor is in hierdie stad,

20 van alles wat koning Nebukadnesar van Babel nie saam met koning Jojagin van Juda, seun van Jojakim, en al die vername mense uit Juda en Jerusalem in ballingskap na Babel toe weggevoer het nie:

21 [21-22] dit sal na Babel toe gevat word en dit sal daar bly tot Ek dit weer onder my sorg sal neem, sê die Here. Dan sal Ek dit gaan haal en terugbring na hierdie plek toe. Dit is wat die Here die Almagtige, die God van Israel, sê van die voorwerpe wat nog oor is in die huis van die Here en in die paleis van die koning van Juda en in Jerusalem.

28

1

In daardie tyd, in die vyfde maand van die vierde regeringsjaar van koning Sedekia van Juda, dit was dus in die eerste deel van sy regering, het die profeet Gananja seun van Assur uit Gibeon vir my in die teenwoordigheid van die priesters en die hele volk in die huis van die Here gesê:

2 “So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Ek sal die juk wat die koning van Babel julle oplê, verbreek.

3 Oor twee jaar sal Ek al die voorwerpe uit my tempel, wat koning Nebukadnesar van Babel uit hierdie plek uit na Babel toe gevat het, hierheen laat terugbring.

4 Ek sal ook vir koning Jojagin van Juda, seun van Jojakim, en al die ballinge van Juda wat deur Nebukadnesar na Babel toe gevat is, na hierdie plek toe terugbring, sê die Here, want Ek sal die juk wat Babel se koning julle oplê, verbreek.”

5

Toe antwoord die profeet Jeremia die profeet Gananja in die teenwoordigheid van die priesters en die hele volk wat in die huis van die Here gestaan het.

6 Die profeet Jeremia het gesê: “Ek sou dit ook graag so wou hê. Mag die Here dit doen. Mag die Here bevestig wat jy as profeet gesê het en die voorwerpe uit die huis van die Here en al die ballinge na hierdie plek toe terugbring uit Babel.

7 Maar luister tog na wat ek nou gaan sê sodat jy en die hele volk dit kan hoor.

8 Die profete uit die dae voor jou en my het lankal vir baie lande en oor groot koninkryke oorlog en rampe en peste aangekondig.

9 Maar die profeet wat voorspoed aankondig, is net aanvaar as profeet wat werklik deur die Here gestuur is, wanneer so 'n profeet se woord uitkom.”

10

Toe vat die profeet Gananja die juk van die profeet Jeremia se nek af en breek dit stukkend.

11 Gananja het voor die hele volk gesê: “So sê die Here: So sal Ek oor twee jaar die juk verbreek wat deur koning Nebukadnesar van Babel gesit is op die nek van al die nasies.”

Die profeet Jeremia is toe daar weg.

12

Nadat die profeet Gananja die juk op die profeet Jeremia se nek gebreek het, het die woord van die Here tot Jeremia gekom:

13 Gaan sê vir Gananja: So sê die Here: Jy het houtjukke stukkend gebreek. In plaas daarvan sal jy ysterjukke dra.

14 So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Ek sit 'n ysterjuk op die nek van al hierdie nasies: hulle sal vir koning Nebukadnesar van Babel dien. Hulle sal hom dien, en Ek stel ook die wilde diere tot sy beskikking.

15

Die profeet Jeremia het toe vir die profeet Gananja gesê: Luister, Gananja! Die Here het jou nie gestuur nie. Jy laat hierdie volk staatmaak op leuens.

16 Daarom, sê die Here, gaan Ek jou wegvee van die aarde af. Jy sal vanjaar nog sterf, want jy het opstand teen die Here gepreek.

17

In die sewende maand van daardie jaar is die profeet Gananja dood.

29

1

Dit is 'n afskrif van die brief wat die profeet Jeremia uit Jerusalem gestuur het na die leiers van die ballinge wat nog oor was, en na die priesters en die profete en die hele volk wat deur Nebukadnesar uit Jerusalem na Babel toe weggevoer is.

2 Jeremia het die brief gestuur nadat koning Jojagin en die koninginmoeder, die paleispersoneel en die amptenare van Juda en Jerusalem, die ambagsmanne en die bouers uit Jerusalem weg is.

3 Jeremia het die brief gestuur met Elasa seun van Safan en met Gemarja seun van Gilkija wat deur koning Sedekia van Juda na koning Nebukadnesar van Babel toe gestuur is.

4

So sê Ek, die Here die Almagtige, die God van Israel, vir al die ballinge wat Ek uit Jerusalem in ballingskap na Babel toe weggevoer het:

5 Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan,

6 trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring. Julle moet daar in Babel baie word, nie min nie.

7 Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.

8

So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Moenie dat die profete en waarsêers daar by julle julle mislei nie. Moenie ag slaan op daardie drome wat julle so graag droom nie.

9 Daardie mense tree sonder opdrag op as profete in my Naam. Ek het hulle nie gestuur nie, sê die Here.

10

So sê die Here: Oor presies sewentig jaar sal Ek Babel straf en julle onder my sorg neem en dan sal Ek my belofte nakom om julle hier na Jerusalem toe terug te bring.

11 Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!

12 Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor.

13 Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.

14 Julle sal My ontmoet, sê die Here, en Ek sal julle terugbring uit die ballingskap uit. Ek sal julle bymekaarmaak tussen al die nasies uit en van al die plekke af waarheen Ek julle verstrooi het, sê die Here, en Ek sal julle terugbring na die plek toe waarvandaan Ek julle in ballingskap weggevoer het.

15

Julle sou kon sê: “Nee, die Here het vir ons profete in Babel gegee,”

16 maar so sê die Here oor die koning wat nou op die troon van Dawid sit en oor die hele volk wat in hierdie stad woon, julle volksgenote wat nie saam met julle in ballingskap weggevoer is nie,

17 ja, so sê die Here die Almagtige: Ek laat oorlog, hongersnood en pes onder hulle los en Ek maak hulle soos oopgebarste vye wat so sleg is dat 'n mens dit nie kan eet nie.

18 Ek sal die volk agtervolg met oorlog en met hongersnood en met pes. Ek maak hulle tot iets waarvoor al die koninkryke van die aarde sal skrik: onder al die nasies waaronder Ek hulle sal verstrooi, sal hulle naam gebruik word wanneer mense ander wil vervloek, wil bang maak, wil beledig of wil verneder.

19

Hulle het nie na my waarskuwings geluister toe Ek my dienaars die profete vroeg en laat na hulle toe gestuur het nie, sê die Here. Julle ballinge het ook nie geluister nie, sê die Here.

20

Hoor die woord van die Here, al julle ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel toe weggestuur het!

21 So sê die Here die Almagtige, die God van Israel, vir Agab seun van Kolaja en vir Sedekia seun van Maäseja wat sonder opdrag in my Naam as julle profete optree: Ek sal hulle oorgee in die mag van koning Nebukadnesar van Babel, en hy sal hulle voor julle oë om die lewe bring.

22 En hulle name sal as 'n vervloeking gebruik word deur al die Joodse ballinge in Babel, wat sal sê: “Mag die Here jou maak soos Sedekia en soos Agab vir wie die koning van Babel verbrand het.”

23 Hulle het 'n afskuwelike ding in Israel gedoen: hulle het gehoereer met hulle bure se vrouens en ook vals in my Naam gepraat terwyl Ek hulle nie 'n opdrag gegee het nie. Ek weet dit, Ek is getuie daarvan, sê die Here.

24

Vir Semaja die Negelamiet moet jy sê:

25 So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Jy het op eie houtjie na die hele volk in Jerusalem briewe gestuur en ook na die priester Sefanja seun van Maäseja en na al die ander priesters toe en geskryf:

26 “Die Here het jou as priester aangestel in die plek van die priester Jojada sodat jy kan toesig hou oor die huis van die Here. Jy moet elke malle wat as profeet optree, in die blok en in die nekyster sit.

27 Waarom het jy nie nou vir Jeremia die man uit Anatot wat vir julle as profeet optree, tereggewys nie?

28 Daarom het hy die boodskap hier na ons toe in Babel gestuur: die ballingskap sal nog lank aanhou. Bou huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan.”

29

Maar die priester Sefanja het hierdie brief vir die profeet Jeremia voorgelees,

30 en toe het die woord van die Here tot Jeremia gekom:

31 Stuur hierdie boodskap na al die ballinge toe. So sê die Here vir Semaja die Negelamiet: Omdat Semaja vir julle as profeet opgetree het hoewel Ek hom nie gestuur het nie, en hy julle op 'n leuen laat staatmaak het,

32 daarom, so sê die Here, sal Ek vir Semaja die Negelamiet straf en ook sy nageslag. Hy sal geen familielid onder hierdie volk oorhê nie en hy sal nie deel in die goeie wat Ek vir my volk sal doen nie, sê die Here. Hy het opstand teen My gepreek.

30

1

Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het.

2

So sê die Here die God van Israel: Skryf alles wat Ek met jou gepraat het, in 'n boek.

3 Daar kom 'n tyd, sê die Here, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander en hulle sal terugbring om die land te besit wat Ek aan hulle voorvaders gegee het, sê die Here.

4

Dit is die woorde wat die Here oor Israel en Juda gesê het.

5

So sê die Here:

Ek hoor angskrete;
daar is vrees, nie vrede nie.

6
Gaan kyk self, vra gerus:
Kan 'n man 'n kind in die wêreld bring?
Waarom sien Ek dan elke man
met sy hande op sy maag soos 'n vrou wat in kraam is?
Waarom het elke gesig doodsbleek geword?

7
Daar wag ellende!
Dit is 'n vreeslike dag, sonder gelyke.
Dit is 'n tyd van swaarkry vir Jakob,
maar hy sal daaruit gered word.

8

Daardie dag, sê die Here die Almagtige,
sal Ek die juk van die vyand afgooi van julle nekke af en julle vry maak.
Julle sal nie meer uitlanders dien nie,

9
want julle sal die Here julle God
en julle koning Dawid dien.
Ek sal hom koning maak oor julle.

10

Moenie bang wees nie, my dienaar Jakob,
moenie skrik nie, Israel, sê die Here.
Ek red jou uit plekke wat ver weg is,
jou nakomelinge uit die land waar hulle ballinge is.
Jakob sal weer veilig wees en vrede hê,
niemand sal hom laat bang word nie.

11

Ek is by jou, sê die Here,
Ek sal jou red!
Ek sal al die nasies uitwis
onder wie Ek jou verstrooi het,
maar Ek sal jou nie uitwis nie.
Ek sal jou nie ongestraf laat nie,
maar Ek sal jou regverdig straf.

12
So sê die Here:
Jou wond is ongeneeslik,
jou siekte dodelik.

13
Niemand kan jou saak stel nie;
daar is nie 'n raat vir jou sweer nie.

14
Almal wat jou liefgehad het, het jou vergeet,
hulle gee nie vir jou om nie.
Ek het jou geslaan soos 'n vyand dit sou doen:
Ek het jou wreed gestraf,
want jou ongeregtigheid is groot,
jou sondes baie.

15

Waarom skreeu jy oor jou wond,
oor jou siekte wat ongeneeslik is?
Ek het jou hierdie dinge aangedoen
omdat jou ongeregtigheid groot is,
jou sondes baie.

16

Almal wat jou verteer, sal verteer word,
al jou teëstanders sal in ballingskap weggevoer word,
dié wat jou plunder, sal geplunder word,
dié wat jou as buit behandel, sal self buit word.

17
Ek sal jou gesond maak,
jou wonde genees, sê die Here,
selfs al noem hulle jou:
Die stad wat verstoot is,
Sion vir wie niemand omgee nie.

18

So sê die Here:

Ek sal die lot van Jakob se woonplekke verander,
Ek sal My ontferm oor die streke waar hy woon:
sy stad sal uit sy puin herbou word,
sy paleis sal staan waar hy hoort.

19
Daar sal lofsange uit hulle kom,
feesliedere!
Ek sal my volk baie maak,
hulle sal nie minder word nie.
Ek sal eer aan hulle gee,
hulle sal nie geminag word nie.

20
Sy kinders sal weer soos tevore wees,
die gemeente in hom sal 'n blywende plek hê
in my teenwoordigheid.
Ek sal almal straf wat hom verdruk.

21
Sy leier sal een van sy eie mense wees,
sy regeerder sal uit sy eie kring kom.
Ek sal hom laat nader kom
en hy sal na My toe kom.
Wie is hy wat sy lewe sal waag
om na My toe te kom? sê die Here.

22

Julle sal my volk wees,
en Ek sal julle God wees.

23
Die toorn van die Here sal losbreek soos 'n storm,
dit sal maal soos 'n dwarrelwind
en losbars oor die koppe van die goddeloses.

24
Sy gloeiende toorn sal nie bedaar
voordat Hy sy plan deurgevoer het nie.

Daar kom 'n tyd dat julle dit alles sal begryp.

31

1

Daardie tyd, sê die Here,
sal Ek die God van al die stamme van Israel wees,
en hulle sal my volk wees.

2

So sê die Here:

Israel, die volk wat aan die swaard ontkom het,
is begenadig in die woestyn,
hy sal na sy rusplek toe kom.

3
Van ver af het die Here Hom aan Israel bekend gemaak:
Ek het jou nog altyd liefgehad,
daarom het Ek jou met geduld verdra.

4
Ek sal aan jou kinders gee, Israel,
jy sal kinders in die wêreld bring.
Jy sal weer jou tamboeryne dra,
jy sal uitgaan om te dans saam met dié wat bly is.

5
Jy sal weer wingerde plant op die Samariaberge,
die boere sal dit plant en die vrugte daarvan geniet.

6
Die dag het aangebreek,
die dag waarop dié wat wag staan,
op die Efraimsberge sal roep:
“Kom ons gaan na Sion toe,
na die Here ons God toe.”

7

So sê die Here:

Sing van blydskap oor Jakob, die leier onder die nasies,
juig oor hom!
Laat hoor julle loflied, en sê:
Red u volk, Here,
red wat van Israel oorgebly het!

8
Ek laat kom hulle uit die land in die noorde,
Ek vergader hulle van die uithoeke van die aarde af:
onder hulle is blindes en kreupeles,
swanger vrouens en vrouens in kraam.
'n Groot gemeente sal hiernatoe terugkom.

9
In trane sal hulle kom, met smeekgebede,
maar Ek sal hulle lei,
Ek sal hulle by waterstrome bring,
op 'n gelyk pad, niemand sal struikel nie,
want Ek het Israel se Vader geword,
Efraim is my eersgeborene.

10

Hoor die woord van die Here, nasies,
vertel dit aan die verste eilande!
Julle moet sê:
Hy wat vir Israel verstrooi het, sal hom bymekaarmaak.
Die Here sal hom oppas soos 'n wagter sy trop skape oppas.

11
Die Here het vir Jakob bevry,
hulle gered uit die mag van een wat sterker as hulle is.

12
Hulle sal kom en op die Sionshoogte sing,
hulle sal straal van blydskap oor die goeie
wat deur die Here gegee word:
oor koring, wyn en olie,
oor die aanteel van kleinvee en grootvee.
Hulle sal floreer soos 'n tuin wat goed natgelei word,
hulle sal nie meer na water smag nie.

13
Dan sal die jong meisies dans van blydskap
saam met die jong mans en die ou mans.
Ek sal hulle droefheid in vreugde verander,
Ek sal vir hulle uitkoms gee:
Ek sal hulle bly maak,
hulle sal geen kommer meer hê nie.

14

Ek sal 'n oorvloed goeie kos vir die priesters gee,
my volk sal oorgenoeg hê aan die goeie wat Ek gee, sê die Here.

15

So sê die Here:

'n Gekerm word op Rama gehoor,
'n gehuil vol hartseer:
Ragel treur oor haar kinders,
sy wil haar nie laat troos nie,
want haar kinders is weg.

16
So sê die Here: Bly stil, moenie huil nie,
moenie trane in jou oë hê nie!
Vir al jou swaarkry sal jy vergoed word,
sê die Here,
jou kinders sal uit die vyand se land terugkom.

17
Daar is 'n toekoms vir jou nageslag, sê die Here,
jou kinders sal na hulle besitting toe terugkom.

18

Ek het duidelik gehoor hoe Efraim kla:
“U het my gestraf,
ek is ingebreek soos 'n kalf wat mak gemaak is.
Bring my terug na U toe dat ek my kan bekeer,
want U is die Here my God.

19
Ek het weggedwaal, maar ek het berou gehad,
ek het tot insig gekom en myself vol berou op die heupe geslaan,
ek het my geskaam, ek het skande oor my gebring,
ek is verneder oor die sondes van my jeug af.”

20

Efraim is nie my troetelkind nie,
'n kind in wie Ek My verlustig nie,
en tog, elke keer as Ek hom bestraf,
dink Ek met hartseer aan hom
en is Ek ontstel oor hom,
want Ek het hom baie lief,
sê die Here.

21

Rig vir jou padwysers op,
bring vir jou rigtingborde aan,
hou jou oog op die grootpad,
op die pad wat jy moet loop.
Kom terug, Israel,
kom terug na jou stede toe.

22
Hoe lank gaan jy nog talm,
jy wat so dikwels jou eie koers gaan?
Die Here skep iets nuuts in jou land:
Israel sal die Here liefhê.

23

So sê die Here die Almagtige, die God van Israel:

Wanneer Ek hulle lot verander,
sal hulle weer in Juda en in sy stede sê:
Die Here sal jou seën, regmatige woonplek,
heilige berg!

24
Mense sal saam woon in Juda en in sy stede,
boere en veewagters wat rondtrek.

25
Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is,
Ek maak die moedelose weer vol moed.

26

Dit is waarom Ek ingryp:
Ek het alles gesien,
Ek sal nie terugkom op my besluit nie.

27
Daar kom 'n tyd, sê die Here,
dat Ek Israel en Juda weer sal vol maak met mense en diere.

28
Ek was gretig om hulle uit te ruk en af te breek,
om hulle plat te slaan en te vernietig,
om rampe oor hulle te bring.

Ek sal net so gretig wees om hulle op te bou en hulle te plant, sê die Here.

29 In daardie tyd sal hulle nie meer sê: “Die vaders het groen druiwe geëet, en die kinders se tande het stomp geword” nie.

30 Elke mens sal oor sy eie sonde sterf: wie groen druiwe eet, se tande sal stomp word.

31

Daar kom 'n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda 'n nuwe verbond sal sluit.

32 Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here.

33 Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.

34 'n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.


35
So sê die Here,
Hy wat die son bedags laat skyn,
die maan en sterre beveel om snags te skitter,
Hy wat die see onstuimig laat word, wat sy golwe laat druis,
wie se Naam Here die Almagtige is:

36

Eers as hierdie dinge uit my teenwoordigheid verdwyn, sê die Here, sal die nageslag van Israel ophou om vir altyd in my teenwoordigheid 'n nasie te wees.

37

So sê die Here:

As die hemel daarbo afgemeet kan word
en as die fondamente van die aarde daaronder vasgestel kan word,
sal Ek die hele nageslag van Israel verwerp
oor alles wat hulle gedoen het, sê die Here.

38

Daar kom 'n tyd, sê die Here, dat hierdie stad vir My herbou sal word van die Gananeltoring af tot by die Hoekpoort.

39 Die maatlyn sal van daar af reguit loop tot by die Garebheuwel en dan sal dit swaai na Goa toe.

40 Die hele dal waar lyke en as weggegooi word, en al die terrasse tot by Kedronspruit en ooswaarts tot by die Perdepoort sal aan die Here gewy wees. Dit sal nooit weer uitgeruk of platgeslaan word nie.

32

1

Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het in die tiende regeringsjaar van koning Sedekia van Juda. Dit was die agtiende regeringsjaar van koning Nebukadnesar

2 van Babel wie se leër juis toe vir Jerusalem beleër het. Die profeet Jeremia was in daardie tyd ingeperk in die binneplaas van die paleiswag van Juda.

3 Koning Sedekia van Juda het vir Jeremia daar ingeperk en gevra: “Waarom sê jy die dinge as profeet? Jy sê: So sê die Here: Ek gee hierdie stad in die mag van die koning van Babel. Hy sal dit verower.

4 Koning Sedekia van Juda sal nie vrykom uit die mag van die Galdeërs nie. Hy sal beslis uitgelewer word aan die koning van Babel en persoonlik met hom praat en hom met sy eie oë sien.

5 Die koning van Babel sal vir Sedekia na Babel toe vat, en hy sal daar bly, sê die Here. Dit is my straf vir hom. As julle teen die Babiloniërs oorlog maak, sal julle die neerlaag ly.”

6

Jeremia het vir Sedekia geantwoord: “Die woord van die Here het tot my gekom:

7 Jou oom Sallum se seun Ganamel sal na jou toe kom en sê: ‘Koop my stuk grond wat in Anatot is vir jou, want volgens die lossingsreg moet jy dit koop.’

8

“Soos die Here gesê het, het my neef Ganamel na my toe gekom in die binneplaas van die paleiswag en vir my gesê: ‘Koop tog my stuk grond wat in Anatot is in die gebied van Benjamin. Dit is jou reg om dit te besit, jy het die lossingsreg. Koop dit vir jou.’ Ek het toe geweet dit is die woord van die Here

9 en ek het die stuk grond wat in Anatot is, by my neef Ganamel gekoop. Ek het vir hom twee honderd gram silwer afgeweeg.

10 Nadat ek die kontrak geskryf en die seël daarop gesit het en dit deur getuies laat teken het, het ek die silwer vir hom afgeweeg op 'n skaal.

11 Toe het ek die koopkontrak met die voorwaardes en die bepalings daarop, die kontrak met die seël en die afskrif sonder seël, gevat

12 en in die teenwoordigheid van my neef Ganamel en van die getuies wat dit geteken het en van al die Judeërs wat in die binneplaas van die paleiswag gesit het, vir Baruk seun van Nerija, seun van Magseja, gegee.

13

“In hulle teenwoordigheid het ek vir Baruk beveel:

14 ‘So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Vat hierdie dokumente, die koopkontrak met die seël en die afskrif sonder seël en sit hulle in 'n kleipot sodat hulle lank kan hou,

15 want so sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word.’

16

“Nadat ek die koopkontrak vir Baruk seun van Nerija gegee het, het ek tot die Here gebid:

17 Ag, Here my God, U het die hemel en die aarde gemaak deur u groot mag. Niks is vir U onmoontlik nie.

18 U bewys u troue liefde aan duisende geslagte, maar U straf kinders vir die sondes van hulle ouers. Groot en magtige God, u Naam is Here die Almagtige.

19 U besluite is magtig, u dade groot. U sien alles wat die mense doen. U gee aan elkeen wat hom toekom, U beloon elkeen volgens sy dade.

20 Die tekens en wonders wat U in Egipte gedoen het, doen U nou nog in Israel en onder die mense. So maak U vir U 'n Naam tot vandag toe.

21

“U het u volk Israel uit Egipte laat wegtrek met tekens en met wonders, met magtige dade en met wonderlike groot dade waarvoor mense vreesbevange was.

22 U het hierdie land vir u volk gegee, die land wat U met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning.

23 U volk het gekom en dit in besit geneem, maar hulle was ongehoorsaam. Hulle het nie u wet onderhou nie, hulle het nie gedoen wat U hulle beveel het om te doen nie. Daarom het U al hierdie rampe oor hulle laat kom.

24 Daar is beleëringswalle teen die stad opgegooi om dit te verower, en die stad is deur die swaard en hongersnood en pes oorgegee in die mag van die Galdeërs wat daarteen veg. Wat U gesê het, gebeur nou. U sien dit self.

25 En tog sê U, Here my God, vir my: ‘Gaan koop vir jou 'n stuk grond met silwer en sorg dat jy getuies het,’ en dít noudat die stad in die mag van die Galdeërs gegee is.”

26

Die woord van die Here het tot Jeremia gekom:

27 Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?

28 So sê die Here: Ek gee hierdie stad in die mag van die Galdeërs, in die mag van koning Nebukadnesar van Babel. Hy sal dit verower.

29 Die Galdeërs wat teen hierdie stad veg, sal dit aan die brand kom steek en dit afbrand, ook die huise waar die inwoners My getart het toe hulle vir Baäl wierook gebrand het op die dakke en waar hulle drankoffers vir ander gode uitgegiet het.

30

Die mense van Israel en Juda het van jongs af net gedoen wat verkeerd is in my oë. Die Israeliete het My getart met goed wat hulle self gemaak het, sê die Here.

31 Van die dag af dat hierdie stad gebou is, tot nou toe het dit my gloeiende toorn so laat ontvlam dat Ek die stad wil wegvee voor My.

32 Die mense van Israel en Juda het My getart met al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, hulle, hulle konings, hulle amptenare, hulle priesters, hulle profete, elkeen in Juda, al die inwoners van Jerusalem.

33 Hulle het hulle rug na My toe gedraai, nie hulle gesigte nie. Ek het hulle vroeg en laat geleer om goed te luister, maar hulle wou nie hoor nie, hulle wou nie uit straf leer nie.

34 Hulle het hulle afskuwelike afgode in die huis gesit waaroor my Naam uitgeroep is en so het hulle my huis verontreinig.

35 Hulle het hoogtes vir Baäl gebou in die Ben-Hinnomdal om hulle seuns en dogters vir Molek as offers te laat verbrand. Ek het hulle dit nie beveel nie; so 'n afskuwelike gedagte om vir Juda te laat sonde doen, het nie eens by My opgekom nie.

36

Tog, so sê die Here die God van Israel vir hierdie stad waarvan julle sê dit sal deur die swaard en hongersnood en pes in die mag van die koning van Babel gegee word:

37 Ek sal hulle bymekaarmaak uit al die lande waarheen Ek hulle verjaag het in my gloeiende toorn en in my groot woede. Ek sal hulle hierheen terugbring en hulle sal hier rustig kom woon.

38 Hulle sal my volk wees en Ek sal hulle God wees.

39 Ek sal hulle 'n onverdeelde hart en 'n vaste koers gee: hulle sal My altyd dien vir hulle eie beswil en vir dié van hulle kinders na hulle.

40 Ek sal 'n blywende verbond met hulle sluit. Ek sal nooit ophou om aan hulle goed te doen nie en Ek sal in hulle die begeerte lê om My te dien en nie van My af weg te draai nie.

41 Ek sal dit geniet om goed te doen aan hulle in my trou; met alles wat Ek is, sal Ek hulle weer in dié land vestig.

42

So sê die Here: Soos Ek hierdie groot ramp oor hierdie volk gebring het, so sal Ek ook al die goeie wat Ek hulle beloof het, na hulle toe bring.

43 Daar sal weer grond gekoop word in hierdie land waarvan julle sê: “Dit is verwoes, sonder mens of dier, oorgegee in die mag van die Galdeërs.”

44 Grond sal vir silwer gekoop word, kontrakte sal geskryf word met seëls daarop en getuies daarvan. Dit sal gebeur in die gebied van Benjamin en in die omgewing van Jerusalem, in die stede van Juda: in die stede van die Bergland en van die Laeveld en in die stede van die Suidland. Ek sal hulle lot verander, sê die Here.

33

1

Die woord van die Here het weer tot Jeremia gekom. Hy was toe nog ingeperk in die binneplaas van die paleiswag.

2 So sê die Here, Hy wat die aarde gemaak en so gevorm het dat dit nie wankel nie, wie se Naam Here is:

3

Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.

4 So sê die Here die God van Israel oor die huise in hierdie stad en oor die konings van Juda se paleise wat afgebreek is, en oor die beleëringswalle en oor die wapens

5 waarmee die Galdeërs teen julle kom veg het, die huise wat deur die Galdeërs vol gemaak is met die lyke van die mense wat Ek in my gloeiende toorn om die lewe wou bring toe Ek nie meer vir hierdie stad omgegee het nie omdat hy so baie sonde gedoen het:

6 Ek sal hom heeltemal gesond maak en sy inwoners genees; Ek sal vir hulle 'n sterk veilige vesting bou.

7 Ek sal die lot van Juda en Israel verander en vir hulle kinders gee soos vroeër.

8 Ek sal hulle reinig van al die sondes waarmee hulle teen My oortree het en al hulle sondes vergewe waarmee hulle teen My oortree het, en in opstand gekom het.

9 Dit sal my Naam groot maak en aan My blydskap verskaf, aan My lof en eer gee voor al die nasies van die aarde wanneer hulle hoor van al die goeie wat Ek vir my volk gedoen het. Die nasies sal bang wees en My dien oor al die goeie wat Ek doen en oor die vrede wat Ek vir Jerusalem gee.

10

So sê die Here: Daar word nog gehoor dat julle van hierdie plek sê dit is verwoes, sonder mense en sonder diere. Maar in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem wat verwoes en sonder mense en sonder inwoners en diere was,

11 sal daar weer blydskap en vreugde wees, ook huweliksfeeste, die mense sal die Here die Almagtige loof. Dié wat dankoffers na die huis van die Here toe bring, sal sê:

“Loof die Here die Almagtige, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie.”
Ek sal die lot van die land verander,
dit sal weer wees soos vroeër, sê die Here.

12

So sê die Here die Almagtige: In hierdie plek wat so verwoes is dat geen mens of dier oorgebly het nie, en by al sy stede sal weer weiveld vir kuddes wees, lêplek vir kleinvee.

13 In die stede van die Bergland, in dié van die Laeveld en in dié van die Suidland, in die gebied van Benjamin en in die omgewing van Jerusalem, en in die stede van Juda sal daar weer kleinvee wees om te tel, sê die Here.

14

Daar kom 'n tyd, sê die Here, dat Ek die goeie belofte sal nakom wat Ek aan Israel en Juda gemaak het.

15 In daardie dae, in daardie tyd, sal Ek vir Dawid 'n wettige afstammeling gebore laat word en hy sal in die land reg laat geskied en reg doen.

16 In daardie dae sal Juda gered word en Jerusalem sal onbesorg woon en genoem word: Die Here verskaf reg aan ons.

17

So sê die Here: Iemand uit die huis van Dawid sal altyd op die troon van Israel sit,

18 en daar sal altyd Levitiese priesters wees om offers te bring: brandoffers en graanoffers.

19

Die woord van die Here het tot Jeremia gekom:

20 So sê die Here: As jy die verbond wat Ek met die dag en die nag gesluit het, kan verbreek sodat dag en nag nie meer op die regte tyd kom nie,

21 sal die verbond verbreek word wat Ek met my dienaar Dawid gesluit het dat daar altyd vir hom 'n nageslag sal wees om as koning op Dawid se troon te heers. Dit geld ook die verbond wat Ek gesluit het met die Levitiese priesters wat in my diens is.

22 Ek sal die nageslag van my dienaar Dawid en dié van die Leviete wat in my diens is, so baie maak soos die sterre wat nie getel kan word nie, en soos die sand van die see waarvan die hoeveelheid nie bereken kan word nie.

23

Die woord van die Here het tot Jeremia gekom:

24 Het julle agtergekom dat daar mense is wat sê: “Die Here het die twee stamme Juda en Levi wat Hy gekies het, verwerp”? Hierdie mense minag my volk en beskou hom nie meer as 'n volk nie.

25 Maar so sê die Here: As Ek nie my verbond met die dag en die nag nakom nie en my voorskrifte vir die hemel en die aarde nie handhaaf nie,

26 sal Ek die nageslag van Jakob en die nageslag van my dienaar Dawid verwerp en nie meer een uit sy nageslag vat om te regeer oor die nageslag van Abraham, Isak en Jakob nie. Ek sal hulle lot verander en medelye met hulle hê.

34

1

Die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het terwyl koning Nebukadnesar van Babel met sy hele leër en met al die koninkryke en volke van die lande waaroor hy geregeer het, oorlog gemaak het teen Jerusalem en die stede onder hom:

2 So sê die Here die God van Israel: Gaan sê vir koning Sedekia van Juda, so sê die Here: Ek sal hierdie stad in die mag van die koning van Babel oorgee. Hy sal dit verbrand.

3 Jy sal nie uit sy mag ontsnap nie, want jy sal beslis gevang en in sy mag oorgegee word. Jy sal die koning van Babel met jou eie oë sien en self met hom praat en dan sal jy na Babel toe gaan.

4

Maar luister na die belofte van die Here, koning Sedekia van Juda! So sê die Here oor jou: Jy sal nie deur die swaard sterf nie.

5 Jy sal in vredestyd sterf en soos die mense wierook gebrand het ter ere van jou voorvaders, die vroeëre konings wat jou voorgangers was, so sal die mense dit vir jou doen. Hulle sal oor jou treur en sê: “Ons arme koning.” Ek het hierdie belofte gemaak, sê die Here.

6

Die profeet Jeremia het toe al hierdie woorde in Jerusalem oorgedra aan koning Sedekia van Juda.

7 Dit was in die tyd toe die leër van die koning van Babel teen Jerusalem geveg het en teen al die stede van Juda wat nog weerstand gebied het, teen Lakis en Aseka, wat die enigste versterkte stede in Juda was wat nog oorgebly het.

8

Die woord van die Here het tot Jeremia gekom nadat koning Sedekia 'n ooreenkoms met die hele volk wat in Jerusalem was, aangegaan het om hulle slawe vry te laat.

9 Elkeen sou sy slaaf of slavin van Hebreeuse afkoms vrylaat, geen Judeër sou 'n volksgenoot as slaaf aanhou nie.

10 Al die amptenare en die hele volk wat die ooreenkoms aangegaan het om hulle slawe en slavinne vry te laat sodat hulle nie meer diens moes lewer nie, het hulle vrygelaat.

11 Maar die eienaars het agterna van gedagte verander en hulle slawe en slavinne wat vrygelaat was, gedwing om weer slawe en slavinne te wees en hulle mishandel.

12 Toe het die woord van die Here tot Jeremia gekom:

13 So sê die Here die God van Israel: Die dag toe Ek julle voorvaders uit die plek van slawerny, uit Egipte laat wegtrek het, het Ek 'n verbond met hulle gesluit:

14 Aan die einde van sewe jaar moet julle elke Hebreeuse volksgenoot wat hom as slaaf aan julle verkoop het, vrylaat. Nadat hy julle ses jaar lank as slaaf gedien het, moet julle hom vrylaat en van julle af wegstuur. Maar julle voorvaders het nie na My geluister nie en hulle nie aan My gesteur nie.

15

Julle het onlangs egter tot bekering gekom en gedoen wat reg is in my oë deur julle volksgenote wat slawe was, vry te laat. Julle het selfs 'n ooreenkoms voor My aangegaan in die huis waaroor my Naam uitgeroep is.

16

Maar nou het julle weer van gedagte verander en my Naam onteer toe elkeen sy slaaf en slavin wat hy vrygelaat het om sy eie gang te gaan, gedwing het om weer julle slawe en slavinne te wees. En julle mishandel hulle.

17

Daarom, so sê die Here: Julle het nie na My geluister nie. Julle het nie julle volksgenote vrygelaat nie. Daarom laat Ek julle nou vry, sê die Here, vry vir oorlog, vir pes en vir hongersnood, en Ek maak julle tot iets waarvoor al die koninkryke van die aarde sal skrik.

18 Elkeen wat hom nie gesteur het aan die verbond met My en die voorwaardes van die ooreenkoms wat hulle in my teenwoordigheid aangegaan het, nie nagekom het nie, sal Ek maak soos die kalf wat julle met die verbondsluiting in twee stukke gesny en toe daartussendeur geloop het.

19 Ek sal die leiers van Juda, die leiers van Jerusalem, die paleisamptenare, die priesters en al die landsburgers wat tussen die twee stukke van die kalf deur geloop het,

20 in die mag van hulle vyande oorgee, in die mag van dié wat hulle lewe soek. Hulle lyke sal gevreet word deur voëls en roofdiere.

21 Ek sal koning Sedekia van Juda en sy amptenare in die mag van hulle vyande oorgee, in die mag van dié wat hulle lewe soek, in die mag van die leër van die koning van Babel al het dit nou van jou af weggetrek.

22 Ek sal hom 'n nuwe opdrag gee, sê die Here, Ek sal hom terugbring na hierdie stad toe. Hy sal teen die stad veg en dit inneem en verbrand. Ek sal al die stede van Juda verlate maak, sonder inwoners.

35

1

Die woord wat van die Here gekom het tot Jeremia in die regeringstyd van koning Jojakim van Juda, seun van Josia:

2 Jy moet na die huis van die Rekabiete toe gaan en vir hulle sê om na die huis van die Here toe te kom, na een van die sykamers toe, en gee vir hulle wyn om te drink.

3

Ek het toe vir Jaäsanja, seun van Jeremia seun van Gabassinja, en Jaäsanja se broers en al sy seuns, en al die Rekabiete gaan haal

4 en hulle na die huis van die Here toe gebring na die kamer van die seuns van Ganan die man van God en seun van Jigdalja. Die kamer was langs dié van die amptenare wat bokant dié van die deurwagter Maäseja seun van Sallum was.

5 Ek het kanne vol wyn en bekers voor die Rekabiete gesit en vir hulle gesê: “Hier is wyn, drink dit.”

6

Maar hulle het geantwoord: “Ons drink nie wyn nie, want ons voorvader Jonadab seun van Rekab het ons beveel: ‘Julle mag nooit wyn drink nie, nie julle nie en ook nie julle kinders nie.

7 Julle mag ook nie huise bou of graan saai of wingerde aanlê nie. Julle mag dit nie doen nie, want julle moet altyd in tente woon sodat julle lank kan bly woon in die land waar julle vreemdelinge is.’

8 Ons was gehoorsaam aan alles wat ons voorvader Jonadab seun van Rekab ons beveel het. Ons het nooit wyn gedrink nie, nie ons nie, nie ons vrouens nie, ook nie ons seuns en dogters nie.

9 Ons het nie huise gebou om in te woon nie en ons het nog nooit 'n wingerd of saaigrond gehad nie.

10 Ons het in tente gebly. Ons was gehoorsaam aan alles wat ons voorvader Jonadab ons beveel het, ons het dit gedoen.

11 Net nou dat koning Nebukadnesar van Babel die land binnegeval het, het ons gesê: ‘Kom ons gaan na Jerusalem toe om weg te kom van die leër van die Galdeërs en dié van die Arameërs af.’ En nou bly ons in Jerusalem.”

12

Die woord van die Here het toe tot Jeremia gekom:

13 So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Gaan sê vir die mense van Juda en vir die inwoners van Jerusalem: Sal julle dan nooit leer om na my woord te luister nie? vra die Here.

14 Jonadab seun van Rekab het sy kinders beveel om nie wyn te drink nie, en tot nou toe drink hulle dit nie, want hulle hou hulle aan sy woorde, hulle is gehoorsaam aan die bevel van hulle voorvader. Ek het vroeg en laat met julle gepraat, maar julle luister nie na My nie.

15 Ek het vroeg en laat my dienaars die profete na julle toe gestuur om te sê: “Elkeen van julle moet hom van sy verkeerde dade bekeer. Julle mag nie agter ander gode aanloop en hulle dien nie. Julle moet goed doen sodat julle kan bly woon in die land wat Ek aan julle en aan julle voorvaders gegee het.” Maar julle het nie aandag gegee of na My geluister nie.

16 Die nageslag van Jonadab seun van Rekab het hulle gehou aan die bevel wat hulle voorvader hulle gegee het, maar hierdie volk het nie na My geluister nie.

17

So sê die Here die almagtige God, die God van Israel: Ek laat kom oor Juda en oor al die inwoners van Jerusalem al die rampe wat Ek oor hulle aangekondig het. Ek het met hulle gepraat, maar hulle het nie geluister nie, Ek het hulle geroep, maar hulle het nie geantwoord nie.

18

Jeremia het toe vir die Rekabiete gesê: So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Julle het die bevel van julle voorvader Jonadab gehoorsaam en julle gehou aan sy bevele, julle het alles gedoen wat hy julle beveel het.

19 Daarom, sê die Here die Almagtige, die God van Israel, sal daar altyd iemand wees uit die familie van Jonadab seun van Rekab om My te dien.

36

1

In die vierde jaar van koning Jojakim van Juda, seun van Josia, het hierdie woord van die Here tot Jeremia gekom:

2 Vat vir jou 'n boekrol en skryf daarop al die woorde wat Ek oor Israel en oor Juda en oor al die nasies met jou gepraat het vandat Ek met jou begin praat het in die dae van Josia tot nou toe.

3 As Juda hoor van al die rampe wat Ek oor hulle wil bring, sal elkeen hom miskien van sy verkeerde dade bekeer. Dan sal Ek hulle ongeregtighede en hulle sondes vergewe.

4

Toe het Jeremia vir Baruk seun van Nerija geroep, en hy het al die woorde van die Here wat die Here vir Jeremia gesê het, opgeteken soos Jeremia dit gedikteer het.

5 Daarna het Jeremia vir Baruk gesê: “Ek is ingeperk. Ek kan nie na die huis van die Here toe gaan nie.

6 Gaan jy op 'n vasdag en lees die boekrol waarin die woorde van die Here is wat ek vir jou gedikteer het. Die volk wat in die huis van die Here is en die hele Juda wat uit hulle stede gekom het, moet dit kan hoor. Jy moet dit vir hulle lees.

7 Miskien sal hulle dan by die Here pleit en sal elkeen hom bekeer van sy verkeerde pad. Die Here het aangekondig dat Hy in sy gloeiende toorn hierdie volk swaar sal straf.”

8

Baruk seun van Nerija het toe alles gedoen wat die profeet Jeremia hom beveel het: hy het die boek met die woorde van die Here in die huis van die Here gaan lees.

9

In die negende maand van die vyfde jaar van koning Jojakim van Juda, seun van Josia, is 'n vasdag in die teenwoordigheid van die Here vir die hele volk in Jerusalem aangekondig. Die hele volk het uit die stede van Juda in Jerusalem gekom.

10 Baruk het toe die boek met die woorde van Jeremia begin lees in die huis van die Here, in die sykamer van Gemarja seun van die staatsekretaris Safan. Die hele volk kon dit hoor. Die sykamer was in die boonste voorhof by die ingang van die nuwe poort van die huis van die Here.

11 Toe Miga seun van Gemarja, seun van Safan, al die woorde van die Here hoor uit die boek,

12 het Miga na die staatsekretaris se kantoor in die paleis toe gegaan. Al die amptenare, Elisama die staatsekretaris, Delaja seun van Semaja, Elnatan seun van Akbor, Gemarja seun van Safan, Sedekia seun van Gananja en al die ander amptenare het daar gesit.

13 Miga het vir hulle alles vertel wat hy Baruk vir die volk uit die boek hoor lees het.

14

Toe stuur al die amptenare vir Jehudi seun van Netanja, seun van Selemja, seun van Kusi na Baruk toe om vir hom te sê: “Vat die boekrol waaruit jy vir die volk gelees het en kom hier.” Baruk seun van Nerija het toe die boekrol gevat en na hulle toe gegaan.

15 Hulle het vir hom gesê: “Sit, en lees dit vir ons.”

Baruk het dit toe vir hulle gelees.

16 Toe hulle alles hoor, het hulle bang geword en vir Baruk gesê: “Ons moet dit alles vir die koning gaan vertel.”

17 Hulle het vir Baruk gevra: “Sê vir ons, hoe het jy dit alles geskryf? Het Jeremia dit gedikteer?”

18

Baruk het hulle geantwoord: “Alles is vir my gedikteer en ek het dit met ink op die boekrol geskryf.”

19

Die amptenare het vir Baruk gesê: “Gaan kruip weg, jy en Jeremia, en niemand moet weet waar julle is nie.”

20

Die amptenare het die boekrol in die kantoor van die staatsekretaris Elisama gebêre en toe is hulle na die koning toe in die voorhof. Hulle het hom alles vertel.

21 Toe stuur die koning vir Jehudi om die boekrol te gaan haal. Hy het dit uit die kantoor van die staatsekretaris Elisama gaan haal en vir die koning gelees in die teenwoordigheid van al die amptenare wat by die koning aan diens was.

22 Dit was winter en die koning het in die sonkamer gesit met 'n bak gloeiende kole voor hom.

23 Elke keer wanneer Jehudi drie of vier kolomme klaar gelees het, het die koning dit met 'n skrywersmes afgesny en op die vuur in die kolebak gegooi. Hy het so gemaak tot die hele boekrol in die vuur was.

24

Die koning en al sy amptenare wat hierdie dinge gehoor het, het nie bang geword en hulle klere geskeur nie.

25 Selfs toe Elnatan en Delaja en Gemarja by die koning daarop aangedring het om nie die boekrol te verbrand nie, het hy nie na hulle geluister nie.

26 Toe beveel hy sy seun Jeragmeël en vir Seraja seun van Asriël en vir Selemja seun van Abdeël om die skrywer Baruk en die profeet Jeremia te arresteer. Maar die Here het hulle weggesteek.

27

Nadat die koning die boekrol verbrand het met alles daarop wat Jeremia vir Baruk gedikteer het om te skryf, het die woord van die Here tot Jeremia gekom:

28 Vat vir jou 'n ander boekrol en skryf daarop al die woorde van die vorige rol wat deur koning Jojakim van Juda verbrand is.

29 Jy moet vir koning Jojakim van Juda sê: So sê die Here: Jy het die boekrol verbrand en gevra: “Waarom het Jeremia daarop geskryf die koning van Babel sal kom en hierdie land verwoes en sy mense en diere in ballingskap wegvat?”

30 Daarom, so sê die Here oor koning Jojakim van Juda, sal sy nageslag nie op die troon van Dawid sit nie. Jojakim se lyk sal weggegooi word en oordag in die son lê en snags in die koue.

31 Ek sal hom en sy kinders en sy amptenare straf oor hulle sonde. Ek sal oor hulle en oor die inwoners van Jerusalem en oor die mense van Juda al die rampe bring waarvan Ek gepraat het. Hulle het mos nie geluister nie.

32

Jeremia het toe 'n ander boekrol gevat en vir die skrywer Baruk seun van Nerija gegee en vir hom gedikteer. Baruk het daarop alles geskryf wat op die boekrol gestaan het wat deur koning Jojakim van Juda verbrand is. Baruk het nog baie meer woorde soos daardie op die boekrol geskryf.

37

1

Sedekia seun van Josia het vir Jojagin seun van Jojakim wat deur koning Nebukadnesar van Babel as koning van Juda aangestel is, as koning opgevolg.

2 Sedekia en sy amptenare en die landsburgers het nie geluister na wat die Here vir hulle gesê het deur die profeet Jeremia nie.

3

Koning Sedekia het vir Jukal seun van Selemja saam met die priester Sefanja seun van Maäseja na die profeet Jeremia toe gestuur om te vra: “Bid tog vir ons tot die Here ons God.”

4

Jeremia kon vrylik tussen die volk rondbeweeg, want hy was toe nog nie in die tronk gesit nie.

5 Die leër van die farao het uit Egipte vertrek, en toe die Galdeërs deur wie Jerusalem beleër is, dit hoor, het hulle van Jerusalem af weggetrek.

6

Die woord van die Here het tot die profeet Jeremia gekom:

7 So sê die Here die God van Israel: Julle moet vir die koning van Juda deur wie julle na My toe gestuur is om My te raadpleeg, sê: Pasop! Die farao se leër wat vertrek het om julle te kom help, sal terugtrek na sy land Egipte toe.

8 Die Galdeërs sal omdraai en teen hierdie stad kom veg en dit inneem en verbrand.

9

So sê die Here: Julle moet julle nie mislei en dink die Galdeërs het beslis van ons af padgegee nie. Hulle gee nie pad nie,

10 en selfs al sal julle die leër van die Galdeërs verslaan wat teen julle kom veg, en daar bly net swaar gewondes in hulle tente oor, sal húlle kom en hierdie stad verbrand.

11

Nadat die leër van die Galdeërs van Jerusalem af padgegee het uit vrees vir die leër van die farao,

12 wou Jeremia uit Jerusalem gaan op pad na die gebied van Benjamin toe om sy erfgrond in ontvangs te neem by die mense daar.

13 Toe Jeremia by die Benjaminpoort uit Jerusalem wou uitgaan, het die wagte se leier, Jirija seun van Selemja, seun van Gananja, die profeet Jeremia gevange geneem en gesê: “Jy loop oor na die Galdeërs toe.”

14

Maar Jeremia het vir hom gesê: “Dis 'n leuen! Ek loop nie oor na die Galdeërs toe nie.”

Maar Jirija wou nie na hom luister nie en het hom gevange geneem en na die koning se amptenare toe gebring.

15 Hulle was kwaad vir Jeremia en het hom geslaan en toe in die staatsekretaris Jonatan se huis wat in 'n tronk verander is, in die tronk gesit.

16 Daar is Jeremia in 'n put met sytonnels gesit waar hy lank gebly het.

17

Later het koning Sedekia hom laat haal en in die geheim in die paleis vir hom gevra: “Is daar 'n woord van die Here af?”

Jeremia het hom geantwoord: “Daar is. Jy sal in die mag van die koning van Babel uitgelewer word.”

18

Toe vra Jeremia vir koning Sedekia: “Watter misdaad het ek teen u gepleeg, of teen u amptenare of teen hierdie volk dat julle my in die tronk gesit het?

19 Waar is die profete wat vir julle as profete opgetree het en gesê het die koning van Babel sal nie teen julle en teen hierdie land kom oorlog maak nie?

20 Maar luister tog nou na my, U Majesteit die Koning, dat ek my versoek tot u kan rig: Moet my tog nie terugstuur na die huis van die staatsekretaris Jonatan toe nie. Ek wil nie daar sterf nie!”

21

Koning Sedekia het toe beveel dat hulle vir Jeremia moet aanhou in die binneplaas van die paleiswag en elke dag vir hom brood moet gee uit Bakkerstraat totdat die stad se brood op was. Jeremia het toe in die binneplaas van die paleiswag gebly.

38

1

Sefatja seun van Mattan, Gedalja seun van Pasgur, Jukal seun van Selemja, en Pasgur seun van Malkija het gehoor wat Jeremia vir die hele volk sê, toe hy vir hulle gesê het:

2 So sê die Here: Elkeen wat in hierdie stad woon, sal deur oorlog of deur hongersnood of deur pes omkom, maar elkeen wat oorloop na die Galdeërs toe, sal lewe. Hy sal sy lewe red, al sal hy net met sy lewe daarvan afkom.

3

Die Here het verder gesê: Hierdie stad sal beslis in die mag van die koning van Babel oorgegee word en hy sal dit inneem.

4

Die koning se amptenare het vir hom gesê: “Hierdie man moet doodgemaak word, want hy maak die soldate wat nog in die stad oor is en die hele volk moedeloos deur so met hulle te praat. Hierdie man wil nie die volk help nie, hy wil hulle benadeel.”

5

Toe sê koning Sedekia vir sy amptenare: “Hy is in julle mag, ek kan julle nie keer nie.”

6

Hulle vat toe vir Jeremia en gooi hom in die koning se seun Malkija se put in die binneplaas van die paleiswag. Hulle het vir Jeremia met toue laat afsak in die put waarin nie water was nie, net modder, en hy het in die modder ingesak.

7

Maar Ebed-Melek, 'n Kussiet wat ontman was en in die paleis gewerk het, het gehoor dat Jeremia in die put gesit is. Die koning het toe in die Benjaminpoort gesit,

8 en Ebed-Melek het uit die paleis uit na die koning toe gegaan en vir hom gesê:

9 “U Majesteit die Koning, die mense het die profeet Jeremia sleg behandel: hulle het hom in 'n put gegooi en hy sal daar van honger omkom, want daar is nie meer brood in die stad nie.”

10

Die koning het toe die Kussiet Ebed-Melek beveel: “Vat drie man van hier af saam en trek die profeet Jeremia op uit die put voordat hy sterf.”

11

Ebed-Melek het toe drie man saamgevat en hy is na die paleis se klerekas toe waar hy stukke klere, vodde, gevat het. Hy het dit na Jeremia toe in die put laat afsak met toue

12 en vir hom gesê: “Sit die stukkende klere, die vodde, onder jou armholtes onder die toue.”

Jeremia het dit gedoen

13 en hulle het hom met die toue uit die put getrek. Daarna het hy in die binneplaas van die paleiswag gebly.

14

Koning Sedekia het die profeet Jeremia na hom toe laat haal. Die koning het by die derde ingang van die huis van die Here gesit en vir Jeremia gesê: “Ek wil jou iets vra, maar jy moet my die waarheid vertel.”

15

Maar Jeremia het koning Sedekia geantwoord: “As ek dit doen, sal u my beslis doodmaak, en as ek u raad gee, sal u nie na my luister nie.”

16

Sedekia het toe in die geheim 'n eed afgelê en vir Jeremia gesê: “So seker as die Here leef, Hy wat die lewe aan ons gee, ek sal jou nie doodmaak nie en ek sal jou ook nie uitlewer aan die mense wat jou wil doodmaak nie.”

17

Jeremia het vir Sedekia gesê: “So sê die Here die almagtige God, die God van Israel: As jy uitgaan na die koning van Babel se offisiere toe, sal jy jou lewe red en hierdie stad sal nie verbrand word nie. Jy en jou familie sal bly lewe.

18 Maar as jy nie na die koning van Babel se offisiere toe uitgaan nie, sal hierdie stad oorgegee word in die mag van die Galdeërs en hulle sal dit verbrand. Dan sal jy nie uit hulle mag vrykom nie.”

19

Koning Sedekia het vir Jeremia geantwoord: “Ek is bang vir ons volksgenote wat na die Galdeërs toe oorgeloop het. Die Galdeërs kan my dalk aan daardie volksgenote uitlewer, en hulle kan my dalk aanrand.”

20

Maar Jeremia het vir die koning gesê: “U sal nie uitgelewer word nie. Luister tog na die woord van die Here soos ek dit vir u meegedeel het. Dan sal dit goed gaan met u, en u lewe sal gespaar bly.

21 Maar as u weier om uit te gaan, dit is wat die Here my laat sien het:

22 al die vrouens wat nog oor is in die koning van Juda se paleis, sal uitgelei word na die koning van Babel se offisiere toe, en hulle sal sê:

“ ‘Die koning van Israel se beste vriende het hom mislei,
hulle het hom omgepraat;
hulle het hom van die wal af in die sloot gehelp
en hom toe in die steek gelaat.’

23

“Al u vrouens en al u seuns sal uitgelei word na die Galdeërs toe en u sal nie uit hulle mag vrykom nie, want u sal deur die koning van Babel self gevange geneem word, en hierdie stad sal afgebrand word.”

24

Sedekia het vir Jeremia gesê: “Niemand moet van hierdie gesprek weet nie. Dan sal jy nie doodgemaak word nie.

25 As my amptenare uitvind dat ek met jou gepraat het en hulle kom sê vir jou: ‘Vertel vir ons wat jy en die koning gepraat het, moenie iets vir ons wegsteek nie, ons sal jou nie doodmaak nie. Wat het die koning vir jou gesê?’

26 moet jy vir hulle sê: Ek het by die koning kom pleit om my nie weer in die huis van Jonatan te sit om daar te sterf nie.”

27

Die amptenare het toe ook na Jeremia toe gekom en hom uitgevra, maar hy het vir hulle gesê net soos die koning hom beveel het. Hulle het vir Jeremia toe met rus gelaat, want hulle kon niks uitvind nie.

28 Jeremia het in die binneplaas van die paleiswag gebly totdat Jerusalem ingeneem is.

Jerusalem is so ingeneem:

39

1

In die tiende maand van die negende jaar van koning Sedekia van Juda het koning Nebukadnesar van Babel met sy hele leër na Jerusalem toe gekom en dit beleër.

2 Op die negende van die vierde maand van die elfde jaar van koning Sedekia is die stadsmuur oopgebreek.

3 Die koning van Babel se offisiere, Nergal-Sareser uit Sinmagir, hoof van die strydwamag, Nebu-Sarsekim die hoofamptenaar en al die ander offisiere van die koning van Babel het in die stad ingekom en by die Middelpoort gaan sit.

4

Toe koning Sedekia van Juda en al sy soldate sien wat gebeur, het hulle op die vlug geslaan en in die nag met 'n pad deur die Koningstuin by die hek tussen die twee mure uitgegaan en met die pad na die Jordaanvallei toe probeer wegkom.

5 Maar die leër van die Galdeërs het hulle agtervolg en vir Sedekia in die Jerigovlakte ingehaal en gevang. Hulle het hom na Nebukadnesar toe in Ribla in Hamat gebring en daar het hy Sedekia se vonnis uitgespreek.

6 Die koning van Babel het die seuns van Sedekia voor sy oë doodgemaak in Ribla. Die koning van Babel het ook al die vername mense van Juda doodgemaak.

7 Hy het Sedekia se oë uitgesteek en hom met bronskettings geboei om hom na Babel toe te vat.

8

Die Galdeërs het die paleis en die huise van die volk afgebrand en die mure van Jerusalem platgeslaan.

9 Nebusaradan, die hoof van die koning van Babel se lyfwag, het dié van die volk wat in die stad oorgebly het en dié wat na hom toe oorgeloop het, die hele volk wat nog oor was, in ballingskap weggevoer na Babel toe.

10 Maar hy het die arm mense, dié uit die volk wat niks besit het nie, in Juda laat bly en daardie dag die wingerde en die lande aan hulle gegee.

11

Koning Nebukadnesar van Babel het vir Nebusaradan die hoof van die lyfwag beveel:

12 “Vang vir Jeremia, kyk goed na hom, moet hom nie kwaad aandoen nie en doen vir hom wat hy vir jou sê.”

13

Nebusaradan die hoof van die lyfwag het toe vir Nebusasban die hoofamptenaar, en vir Nergal-Sareser die hoof van die strydwamag, en al die offisiere van die koning van Babel gestuur

14 en hulle het vir Jeremia uit die binneplaas van die paleiswag gebring en hom aan Gedalja seun van Agikam, seun van Safan, oorhandig om hom huis toe te vat. Jeremia het daar tussen die volk gewoon.

15

Die woord van die Here het tot Jeremia gekom terwyl hy nog 'n gevangene was in die binneplaas van die paleiswag:

16 Gaan sê vir die Kussiet Ebed-Melek: So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Wat Ek oor hierdie stad bring, is tot sy ondergang, nie tot sy redding nie. En jy sal dit sien as dit gebeur.

17 Maar daardie dag sal Ek jou red, sê die Here, en jy sal nie uitgelewer word aan die mense vir wie jy bang is nie.

18 Ek sal jou laat ontkom, jy sal nie in die oorlog sneuwel nie. Omdat jy op My vertrou het, sal jy ontsnap, al sal jy net met jou lewe daarvan afkom, sê die Here.

40

1

Die woord wat van die Here af tot Jeremia gekom het nadat die hoof van die lyfwag Nebusaradan hom in Rama vrygelaat het. Nebusaradan het vir Jeremia laat uithaal tussen die gevangenes van Jerusalem en Juda wat as ballinge op pad was na Babel toe. Jeremia was met kettings geboei.

2 Die hoof van die lyfwag het vir Jeremia laat haal en vir hom gesê: “Die Here jou God het gesê hierdie ramp sal oor hierdie plek kom,

3 en Hy het dit laat gebeur soos Hy gesê het. Omdat julle gesondig het en ongehoorsaam was aan Hom, daarom het dié ramp julle getref.

4 Maar ek gaan nou die kettings aan jou hande losmaak. As jy wil, kom saam met my na Babel toe, ek sal vir jou sorg. As jy nie met my wil saamkom Babel toe nie, ook goed. Die hele land is tot jou beskikking. Jy kan gaan waar jy dit goedvind, waar dit jou pas.”

5

Nog voordat Jeremia kon antwoord, het Nebusaradan verder gesê: “Of gaan na Gedalja toe, seun van Agikam seun van Safan, wat deur die koning van Babel in bevel geplaas is van die stede van Juda. Bly by hom tussen jou mense, of gaan waar dit jou ook al pas.”

Die hoof van die lyfwag het vir Jeremia kos en geskenke gegee en hom laat gaan.

6 Jeremia is toe na Gedalja seun van Agikam toe in Mispa. Hy het daar by hom gaan bly tussen die mense wat in die land oor was.

7

Die bevelhebbers van die Israelitiese soldate wat nog in die veld was en hulle manskappe het gehoor dat die koning van Babel vir Gedalja seun van Agikam in bevel van die land geplaas het en dat hy die mans, vrouens en kinders wat van die armstes in die land was en wat nie na Babel toe verban is nie, aan Gedalja se sorg toevertrou het.

8 Die bevelhebbers en hulle manskappe is toe ook na Gedalja toe in Mispa. Onder hulle was Ismael seun van Netanja, Joganan en Jonatan seuns van Kareag, Seraja seun van Tangumet, die seuns van Efai uit Netofa, en Jaäsanja seun van iemand uit Maäka, hulle met hulle manskappe.

9 Gedalja seun van Agikam, seun van Safan, het die manne met 'n eed die versekering gegee dat hulle nie bang hoef te wees om hulle aan die Galdeërs te onderwerp nie: “Bly in die land en onderwerp julle aan die koning van Babel, dit sal goed gaan met julle.

10 Ek gaan hier in Mispa bly om tot beskikking te wees van die Galdeërs wat hier na ons toe kom. Julle kan wyn, vrugte en olie bymekaarmaak en bêre en in die dorpe gaan woon wat julle beset.”

11

Al die Judeërs wat in Moab en tussen die Ammoniete en in Edom en in ander lande was, het gehoor dat die koning van Babel party mense in Juda laat bly het en dat hy vir Gedalja seun van Agikam, seun van Safan, in bevel geplaas het oor hulle.

12 Al dié Judeërs het toe uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is, teruggekom na Juda toe en hulle het na Gedalja toe gegaan in Mispa. Hulle het 'n baie groot wyn- en vrugteoes ingesamel.

13

Joganan seun van Kareag en al die bevelhebbers van die soldate wat nog in die veld was, het na Gedalja toe gekom in Mispa

14 en vir hom gevra: “Weet jy dat koning Baälis van die Ammoniete vir Ismael seun van Netanja opdrag gegee het om jou te vermoor?”

Maar Gedalja seun van Agikam het hulle nie geglo nie.

15 Joganan seun van Kareag het in die geheim aan Gedalja in Mispa 'n plan voorgelê: “Laat ek vir Ismael seun van Netanja gaan doodmaak. Niemand sal weet dat jy iets daarmee te doen het nie. Waarom moet hy jou kom vermoor en moet al die Judeërs wat om jou versamel het, uitmekaargejaag word en waarom moet wat daar nog van Juda oor is, tot niet gaan?”

16

Maar Gedalja seun van Agikam het vir Joganan seun van Kareag gesê: “Jy doen dit nie! Dit is nie waar wat jy oor Ismael sê nie!”

41

1

Ismael seun van Netanja, seun van Elisama, was uit die koninklike geslag en was een van die hoofamptenare van koning Sedekia. Hy en tien man het in die sewende maand na Gedalja seun van Agikam toe gekom in Mispa, en terwyl hulle daar saam geëet het,

2 het Ismael seun van Netanja en die tien man wat by hom was, opgespring en vir Gedalja seun van Agikam, seun van Safan, doodgemaak. Gedalja was die man wat deur die koning van Babel in bevel van die land geplaas is.

3 Ismael het ook al die Judeërs wat by Gedalja in Mispa was en die Galdese soldate wat daar was, doodgemaak.

4

Die dag ná die moord op Gedalja, toe niemand nog daarvan wis nie,

5 kom daar tagtig mans uit Sigem, Silo en Samaria aan. Hulle baarde was afgeskeer, hulle klere geskeur en hulle was vol wonde wat hulle hulleself toegedien het. Hulle het graanoffers en wierook by hulle gehad wat hulle na die huis van die Here toe wou bring.

6 Ismael seun van Netanja het hulle huil-huil uit Mispa tegemoet gegaan, en toe hy by hulle kom, sê hy vir hulle: “Kom saam na Gedalja seun van Agikam toe!”

7

Maar toe hulle binne in die stad is, het Ismael seun van Netanja, hy en die manne wat by hom was, sewentig van die mans doodgemaak en in 'n put gegooi.

8 Die ander tien mans het vir Ismael gesê: “Moet ons nie doodmaak nie, ons het koring en gars en olie en heuning wat in die veld weggesteek is!”

Hy het hulle toe laat staan en hulle nie saam met hulle vriende doodgemaak nie.

9 Die put waarin Ismael die lyke gegooi het van die mans wat hy doodgemaak het, was dié een wat deur koning Asa gegrawe is toe hy deur koning Baesa van Israel beleër is. Ismael seun van Netanja het die put vol lyke gemaak.

10

Daarna het Ismael al die mense gevange geneem wat nog in Mispa oor was, die prinsesse en al die ander mense wat in Mispa oor was en wat deur die hoof van die lyfwag Nebusaradan onder die sorg van Gedalja seun van Agikam geplaas was. Ismael seun van Netanja het hulle gevange geneem en vertrek om na die Ammoniete toe te gaan.

11 Toe Joganan seun van Kareag, en al die bevelhebbers van die soldate wat by hom was, hoor van al die gruweldade wat Ismael seun van Netanja begaan het,

12 het hulle al hulle manskappe gevat en vertrek om vir Ismael seun van Netanja aan te val. Hulle het hom by die groot dam in Gibeon gekry.

13 [13-14] Al die mense by Ismael, die mense wat hy gevange uit Mispa weggevoer het, was bly toe hulle vir Joganan seun van Kareag en al die leëraanvoerders by hom sien. Hulle het omgedraai en teruggekom na Joganan seun van Kareag toe.

14

15 Maar Ismael seun van Netanja het met ag man weggekom van Joganan af en is na die Ammoniete toe.

16

Joganan seun van Kareag en al die leëraanvoerders by hom het al die mense saamgeneem wat oor was, al die mans, die soldate, die vrouens, kinders en ontmandes wat hy by Gibeon bevry het en wat deur Ismael seun van Netanja weggevoer was uit Mispa nadat hy vir Gedalja seun van Agikam vermoor het.

17 Joganan-hulle het vertrek en by Gerut-Kimham naby Betlehem oorgebly met die bedoeling om na Egipte toe te gaan,

18 weg van die Galdeërs af. Hulle was bang vir die Galdeërs omdat Ismael seun van Netanja vir Gedalja seun van Agikam vermoor het, die man wat deur die koning van Babel in bevel van die land geplaas was.

42

1

Al die leëraanvoerders, Joganan seun van Kareag, Asarja seun van Hosaja, al die mense, klein en groot, het na die profeet Jeremia toe gekom

2 en vir hom gevra: “Doen tog asseblief wat ons vra, bid vir ons tot die Here jou God, vir ons almal wat oorgebly het. Soos jy ons hier sien, is ons die klompie wat oor is uit baie.

3 Bid tog dat die Here jou God aan ons bekend maak waarheen ons moet gaan en wat ons moet doen.”

4

Die profeet Jeremia het vir hulle gesê: “Ek het gehoor. Ek sal tot die Here julle God bid soos julle gevra het. Ek sal alles wat die Here vir julle wil sê, aan julle oordra. Ek sal niks vir julle wegsteek nie.”

5

Hulle sê toe vir Jeremia: “Die Here self sal die betroubare en geloofwaardige getuie teen ons wees as ons nie alles doen wat die Here jou God jou opdra om vir ons te sê nie.

6 Of dit nou goed of sleg vir ons is, ons sal gehoorsaam wees aan die Here ons God na wie toe ons jou stuur, sodat dit met ons goed sal gaan. Ons sal gehoorsaam wees aan die Here ons God.”

7

Tien dae later het die woord van die Here tot Jeremia gekom.

8 Hy het Joganan seun van Kareag, al die leëraanvoerders by hom en al die ander mense, klein en groot, geroep

9 en vir hulle gesê: So sê die Here die God van Israel na wie toe julle my gestuur het om julle versoek aan Hom voor te lê:

10 As julle in hierdie land bly, sal Ek julle bou en julle nie plat slaan nie, julle vestig en julle nie afbreek nie. Ek sal die ramp wat Ek oor julle gebring het, nie verder voer nie.

11 Moenie so bang wees vir die koning van Babel nie, moenie vir hom bang wees nie, sê die Here, want Ek is by julle om julle te red en julle uit sy mag te bevry.

12 Ek sal julle genadig wees, en daarom sal hy julle genadig wees en julle na julle land toe laat teruggaan.

13 Maar as julle die Here julle God nie wil gehoorsaam nie, as julle sê julle wil nie in hierdie land bly nie,

14 as julle sê: “Nee, ons wil Egipte toe waar ons nie oorlog sal sien nie, nie die ramshoring sal hoor blaas om te gaan veg nie en nie honger sal ly nie, ons wil daar gaan bly”,

15 hoor dan die woord van die Here, julle wat van Juda oor is! So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: As julle vas besluit het om Egipte toe te gaan en julle gaan woon daar,

16 sal die oorlog waarvoor julle bang is, julle daar in Egipte inhaal, en die hongersnood wat julle vrees, sal julle daarheen volg, en julle sal daar sterf.

17 Ja, almal wat vasbeslote is om na Egipte toe te gaan en daar te woon, sal sterf deur oorlog, deur hongersnood en deur pes. Nie een van hulle sal vrykom en die rampe ontsnap wat Ek oor hulle sal bring nie.

18 Ja, so sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Soos my toorn en my gramskap uitgestort is oor die inwoners van Jerusalem, so sal my toorn oor julle uitgestort word as julle na Egipte toe gaan. Julle name sal gebruik word wanneer mense ander wil vervloek, wil bang maak, iets slegs wil toewens of wil verneder, en julle sal hierdie plek nooit weer sien nie.

19

Die Here het vir julle gesê, julle wat van Juda oor is: Moenie na Egipte toe gaan nie!

Toe sê Jeremia vir hulle: “Weet vir seker, ek waarsku julle vandag,

20 julle maak 'n fout! Julle lewe is op die spel. Julle het my na die Here julle God toe gestuur en gevra: ‘Bid vir ons tot die Here ons God, sê vir ons alles wat die Here ons God sê, ons sal dit doen.’

21 Maar noudat ek vandag vir julle gesê het wat Hy sê, is julle ongehoorsaam aan die Here julle God, aan alles wat Hy my opgedra het om vir julle te sê.

22 Weet nou verseker dat julle deur oorlog, deur hongersnood en deur pes sal sterf op die plek waar julle so graag wil gaan woon.”

43

1

Maar toe Jeremia klaar vir al die mense alles gesê het wat die Here hulle God gesê het en wat Hy vir hulle laat weet het, al hierdie woorde,

2 het Asarja seun van Hosaja, en Joganan seun van Kareag, en al die ander hooghartige manne, vir Jeremia gesê: “Jy lieg! Die Here ons God het jou nie beveel om vir ons te sê ons moenie na Egipte toe gaan om daar te gaan woon nie.

3 Dit is Baruk seun van Nerija wat jou teen ons opstook om ons in die mag van die Galdeërs te laat beland sodat hulle ons kan doodmaak of ons na Babel toe kan verban!”

4

Joganan seun van Kareag, die leëraanvoerders en die manskappe wou nie een die Here gehoorsaam en in Juda bly nie.

5 Hulle het almal saamgevat wat van Juda oor was, wat van oral waar hulle onder die ander nasies verstrooi was, teruggekom het om in Juda te bly,

6 mans, vrouens en kinders, en ook die prinsesse en al die ander wat deur die hoof van die lyfwag Nebusaradan onder die sorg van Gedalja seun van Agikam, seun van Safan, geplaas was, ook die profeet Jeremia en Baruk seun van Nerija.

7 Joganan-hulle het die Here nie gehoorsaam nie en is na Egipte toe. Daar het hulle in Tagpanges aangekom.

8

Die woord van die Here het in Tagpanges tot Jeremia gekom:

9 Vat groot klippe en begrawe hulle in die grond, in die kleivloer van die ingang na die farao se paleis in Tagpanges. Doen dit terwyl van die Judeërs jou sien.

10 Dan moet jy vir hulle sê: So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Ek laat my dienaar koning Nebukadnesar van Babel haal en Ek sit sy troon bo-oor dié klippe wat Ek laat begrawe het en Ek span sy troonhemel daaroor.

11 Nebukadnesar sal kom en Egipte verslaan. Wie aan pes moet sterf, sal aan pes sterf; wie as gevangene weggevoer moet word, sal as gevangene weggevoer word; wie met die swaard doodgemaak moet word, sal met die swaard doodgemaak word.

12 Ek sal die tempels van Egipte afbrand en Nebukadnesar sal die gode verbrand of hulle as buit saamvat. Hy sal Egipte so skoon stroop soos wanneer 'n skaapwagter luise soek in sy klere, en daarna sal hy ongehinderd vertrek.

13 Hy sal die klippilare in Bet-Semes stukkend slaan, Bet-Semes in Egipte, en hy sal die tempels van Egipte afbrand.

44

1

Die woord van die Here wat gekom het tot Jeremia vir al die Judeërs wat in Egipte gewoon het, in Migdol, in Tagpanges, in Memfis en in die Patrosstreek:

2

So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Julle het gesien watter rampe Ek alles oor Jerusalem en al die stede van Juda gebring het; hulle is vandag puinhope en daar woon niemand in hulle nie.

3 Dit het gebeur omdat julle en julle voorvaders gesondig het en My in my eer gekrenk het toe julle vir ander gode wierookoffers gebring en hulle gedien het, gode van wie julle nie voorheen geweet het nie.

4 Ek het my dienaars die profete almal na julle toe gestuur, vroeg en laat, en vir julle gesê: Moenie die afskuwelike dinge doen nie. Ek haat dit.

5 Maar julle het nie geluister nie, nie gehoor gegee en julle van julle sonde bekeer en opgehou om wierookoffers vir ander gode te bring nie.

6 Daarom het my gramskap en my toorn ontvlam. Dit het gebrand in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem, en die stede het puinhope geword, verlate soos hulle vandag is.

7

So sê die Here die almagtige God, die God van Israel: Waarom bring julle die groot ramp oor julleself, oor elke man en vrou, elke kind en suigling uit Juda, sodat daar niks van julle oor is nie?

8 Julle tart My met wat julle doen, julle offer aan ander gode hier in Egipte waar julle kom woon het. So roei julle julleself uit en sal die mense op die hele aarde julle name as voorbeelde gebruik wanneer hulle mekaar iets slegs wil toewens of wil verneder.

9 Het julle vergeet van die sonde wat julle voorvaders en die konings van Juda en hulle vrouens gedoen het en wat julle self en julle vrouens gedoen het in Juda en op die strate van Jerusalem?

10 Julle het tot vandag toe nie berou daaroor nie, julle het nog nie eerbied vir My nie, julle leef nog nie volgens my wet en my voorskrifte wat Ek vir julle en julle voorvaders gegee het nie.

11

Daarom, so sê die Here die Almagtige, die God van Israel, gaan Ek julle swaar straf en die hele Juda uitroei.

12 Ek gaan dié wat van Juda oor is en wat besluit het om hier in Egipte te kom woon, heeltemal vernietig. Julle sal almal deur die oorlog en deur hongersnood afgemaai word in Egipte. Van klein tot groot sal sterf deur oorlog en deur hongersnood. Julle name sal gebruik word wanneer mense ander wil vervloek, wil bang maak, iets slegs wil toewens of wil verneder.

13 Ek sal dié wat in Egipte woon, straf soos Ek dié in Jerusalem gestraf het: met oorlog, met hongersnood, met pes.

14 Daar sal nie een vrykom van dié wat van Juda oor is en wat in Egipte gaan woon het nie, nie een om na Juda toe terug te gaan nie, hoe hulle ook daarna verlang om terug te gaan en daar te gaan woon. Hulle sal nie teruggaan nie, nie vrykom nie.

15

Die mans, wat almal geweet het dat hulle vrouens vir ander gode offer, en al die vrouens wat teenwoordig was, 'n hele menigte, trouens, almal wat daar in Egipte in Patros gewoon het, het toe vir Jeremia gesê:

16 “Ons gaan nie luister na wat jy vir ons sê in die Naam van die Here nie.

17 Ons sal bly doen wat ons beloof het: ons sal vir die hemelkoningin wierookoffers bring en drankoffers uitgiet net soos ons, ons voorvaders, ons konings en ons amptenare in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem gedoen het. Ons het daardie tyd genoeg te eet gehad, ons was voorspoedig, en geen ramp het ons getref nie.

18 Dit is vandat ons opgehou het om vir die hemelkoningin wierookoffers te bring en drankoffers uit te giet dat ons aan alles gebrek het en dat ons sterf deur oorlog en deur hongersnood.”

19

Die vrouens het bygevoeg: “Dink jy ons het sonder die medewete van ons mans vir die hemelkoningin wierookoffers gebring en drankoffers uitgegiet en vir haar offerkoekies gebak wat soos sy lyk?”

20

Toe sê Jeremia vir al die mense, vir die mans en die vrouens, vir almal wat hom so geantwoord het:

21 “Het die Here nie juis gedink aan die wierookoffers wat julle in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem gebring het nie, julle en julle voorvaders, julle konings en julle amptenare, het Hy nie juis dít in ag geneem nie?

22 Hy kon julle gruweldade, die afskuwelike dinge wat julle gedoen het, nie langer verdra nie. Daarom het julle land 'n puinhoop geword, iets wat mense met afgryse vervul en wat as voorbeeld genoem word wanneer mense ander iets slegs toewens, 'n land sonder inwoner, soos dit vandag is.

23 Dit is omdat julle die wierookoffers gebring het en teen die Here gesondig het, omdat julle ongehoorsaam was aan die Here en nie geleef het volgens sy wet, sy voorskrifte en sy verordeninge nie, dat die ramp julle getref het soos dit vandag is!”

24

Jeremia het verder vir al die mense, ook vir al die vrouens, gesê: Hoor die woord van die Here, alle Judeërs in Egipte!

25 So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Julle en julle vrouens het gedoen wat julle beloof het. Julle het gesê julle sal bly by julle belofte om vir die hemelkoningin wierookoffers en drankoffers te bring. Hou by julle belofte, hou daarby, doen wat julle beloof het, doen dit!

26

Maar hoor die woord van die Here, alle Judeërs wat in Egipte woon: Ek lê 'n eed af by my groot Naam: Nooit sal my Naam weer deur 'n enkele Judeër genoem word nie, niemand van julle almal in Egipte sal weer sê: “So seker as die Here my God leef” nie.

27 Ek sal noulettend na julle kyk, ten kwade, nie ten goede nie, en elke Judeër in Egipte sal omgebring word: deur oorlog, deur hongersnood, totdat daar niemand oor is nie.

28 Dié wat aan die oorlog ontkom en uit Egipte na Juda toe terugkom, sal min wees. Almal wat van Juda oor is en in Egipte kom woon het, sal tot die besef kom wie se woord bly staan, Myne of hulle s'n.

29 Ek sal vir julle 'n teken gee dat Ek julle gaan straf in hierdie plek, sê die Here, straf sodat julle sal besef dat my woorde vasstaan, julle ten kwade.

30 So sê die Here: Ek gaan die farao, koning Gofra van Egipte, oorgee in die mag van sy vyande, in die mag van dié wat sy lewe soek, net soos Ek vir koning Sedekia van Juda oorgegee het in die mag van sy vyand, die man wat sy lewe gesoek het, koning Nebukadnesar van Babel.

45

1

'n Woord van die profeet Jeremia aan Baruk seun van Nerija, toe Baruk opgeteken het wat Jeremia vir hom gedikteer het. Dit was in die vierde regeringsjaar van koning Jojakim van Juda, seun van Josia.

2

So sê die Here die God van Israel oor jou, Baruk:

3 Jy sê dit is klaar met jou, die Here het nog meer lyding by jou smart gevoeg, jy is al uitgeput van kla, jy kry nie rus nie?

4 Die Here sê ek moet vir jou sê: So sê die Here: Wat Ek gebou het, slaan Ek plat; wat Ek geplant het, ruk Ek uit. Dit het gebeur met 'n hele land.

5 En jy soek roem vir jouself? Moet dit nie soek nie! Ek gaan 'n ramp oor alle mense bring, sê die Here. Tog sal Ek jou jou lewe laat behou waar jy ook gaan, al sal jy net met jou lewe daarvan afkom.

46

1

'n Woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het. Dit handel oor die ander nasies.

2

Oor Egipte. Teen die leërmag van die farao, koning Neko van Egipte, wat in Karkemis aan die Eufraat is waar hy deur koning Nebukadnesar van Babel verslaan is; dit het gebeur in die vierde regeringsjaar van koning Jojakim van Juda, seun van Josia.


3
Hou reg die skilde, klein en groot,
ruk op vir die oorlog!

4
Span in die perde, klim op die ryperde,
tree aan met helms op, vryf die spiese blink,
trek harnasse aan!

5
Hoe is dit dan dat Ek hulle sien skrik en terugval?
Hulle soldate word uitmekaargejaag,
hulle slaan op die vlug
en draai nie weer om nie;
daar is paniek aan alle kante!
sê die Here.

6
Selfs nie die vinniges kan wegkom nie,
die soldate kom nie vry nie.
Daar in die noorde,
op die oewer van die Eufraatrivier,
val hulle, slaan hulle neer.

7

Wie is dit wat daar soos die Nyl oor sy walle stroom,
wat soos die groot rivier brul?

8
Egipte stroom oor sy walle soos die Nyl,
hy brul soos die groot rivier
en sê: “Ek sal oor my walle stroom en die aarde bedek,
ek sal stede wegvee saam met hulle inwoners.”

9
Spring, perde! Storm voort, strydwaens!
Trek op, soldate uit Kus en Put,
met skilde gewapen,
trek op, boogskutters uit Lud!

10

Dié dag behoort aan die Here,
die Here die Almagtige.
Dit is 'n dag van wraak
waarop Hy Hom op sy vyande gaan wreek.
Die swaard sal oorgenoeg kry,
hy sal dronk word van hulle bloed:
daar is 'n offerfees vir die Here,
vir die Here die Almagtige,
daar in die noordland, op die oewer van die Eufraat.

11
Gaan na Gilead toe, Egipte,
gaan haal balsem;
jou baie medisynes help nie,
jy word nie gesond nie.

12
Die ander nasies hoor van jou vernedering,
jou smartkrete vul die aarde.
Soldaat na soldaat het geval,
die een het met die ander saam gesneuwel.

13

'n Woord wat deur die Here aan die profeet Jeremia oorgedra is toe koning Nebukadnesar van Babel gekom het om Egipte aan te val.


14
Julle moet dit in Egipte bekend maak,
julle moet dit laat hoor in Migdol,
julle moet dit laat hoor in Memfis en Tagpanges,
julle moet sê:
Staan gereed, maak jou reg,
want die swaard verteer reeds rondom jou!

15
Hoe is dit dan dat jou aanvoerders afgemaai word?
Hulle bly nie staan nie, die Here stoot hulle om.

16
Hulle bly struikel, hulle val oor mekaar,
en hulle sê: “Staan op, kom ons gaan terug na ons mense toe,
na die land toe waar ons gebore is,
weg van die swaard af wat so wild te kere gaan!”

17
Hulle skree: “Daar is die farao, die koning van Egipte,
die grootprater wat sy kanse verspeel het!”

18

So seker as Ek leef, sê die Koning
wie se Naam die Here die Almagtige is:
Daar kom iemand wat so magtig is
soos Tabor onder die berge,
soos Karmel aan die see.

19
Pak julle bondels vir die ballingskap,
inwoners van Egipte!
Memfis gaan 'n verlate stad word,
verwoes en sonder inwoners.

20

Egipte is 'n pragtige jong vers,
maar daar kom 'n blindevlieg uit die noorde.

21
Die huurtroepe in Egipte
is soos vetgemaakte kalwers,
maar hulle sal almal omdraai en vlug,
hulle sal nie bly staan nie,
want die dag kom wanneer 'n ramp hulle tref,
die tyd wanneer daar met hulle afgereken sal word.

22
Egipte sal sis soos 'n slang en padgee
wanneer die vyand se leërmag aankom,
wanneer hulle soos houtkappers met byle na Egipte toe aankom.

23
Hulle gaan sy bos afkap, sê die Here,
al is die bos hoe dig.
Die leër van die vyand is groter as 'n sprinkaanswerm,
die soldate kan nie getel word nie.

24
Daar wag 'n neerlaag vir Egipte,
hy word oorgegee in die mag van die volk uit die noorde.

25

Die Here die Almagtige, die God van Israel, het gesê: Ek gaan afreken met Amon die god van No, met die farao, met Egipte en met sy gode en sy konings, en met almal wat op hom steun.

26 Ek gee hom oor in die mag van dié wat hom wil vernietig, in die mag van koning Nebukadnesar van Babel en sy onderhoriges. Maar daarna sal Egipte weer bewoon word soos vroeër tye, sê die Here.


27
Maar jy, my dienaar Jakob, moenie bang wees nie!
Moenie bekommerd wees nie, Israel!
Ek gaan jou red uit daardie ver land,
Ek gaan jou nageslag red
uit die land waar hulle ballinge is.
Jakob sal weer veiligheid en rus geniet,
en niemand sal hom bedreig nie.

28
Jy, my dienaar Jakob, moenie bang wees nie,
sê die Here,
want Ek is by jou.
Wanneer Ek 'n einde maak aan al die nasies
waaronder Ek jou verstrooi het,
sal Ek aan jou nie 'n einde maak nie.
Maar Ek sal jou straf soos jy verdien,
jy sal nie ongestraf bly nie.

47

1

'n Woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het. Dit handel oor die Filistyne, voordat die farao vir Gasa verower het.

2

So sê die Here:

Daar kom vloedwater uit die noorde,
dit word 'n stroom wat oor sy walle stoot,
dit stroom oor die land en alles in hom,
oor die stad en sy inwoners.
Mense skree, al die inwoners van die land huil

3
wanneer hulle hoor hoe die perdepote klap,
die strydwaens dreun, die wiele raas.
Pa's draai nie om om hulle kinders te help nie,
hulle hande hang slap.

4
Die dag het gekom waarop al die Filistyne
uitgeroei word,
waarop elkeen wat vrygekom het
en vir Tirus en Sidon kan help,
doodgemaak word.
Die Here gaan die Filistyne uitroei,
dié wat nog oor is van almal
wat van Kaftoreiland af gekom het.

5
Gasa sal rou met kaalgeskeerde kop,
Askelon sal woordeloos staan.
Julle wat nog oor is daar op julle vlakte,
hoe lank gaan julle julle van smart bly stukkend sny?

6
“Ag, swaard van die Here,
hoe lank nog voor jy tot rus kom?
Gaan terug na jou skede toe!
Hou op, bedaar tog!”

7
Maar hoe kan hy tot rus kom
as die Here hom die bevel gegee het,
hom 'n werk gegee het in Askelon en op die seekus?

48

1

Oor Moab. So sê die Here die Almagtige, die God van Israel:

Ellende wag vir Nebo, want hy word verwoes;
Kirjatajim word verneder en ingeneem,
die vestingstad word verneder en platgeslaan.

2
Die roem van Moab word nie meer besing nie;
sy ondergang word in Gesbon beplan:
“Kom ons roei daardie nasie uit!”
Ook aan Madmen word 'n einde gemaak!
Die swaard is agter jou aan!

3

Van Goronajim af klink smartkrete
oor die groot verwoesting en ondergang.

4
Moab word uitmekaargeskeur;
smartkrete weerklink in sy dorpies.

5
Sy mense klim huil-huil
die opdraand na Lugit toe uit;
benoude smartkrete oor die ondergang van Moab
weerklink op die pad af na Goronajim toe.

6

Vlug! Probeer wegkom,
word liewer soos 'n kaal bossie in die woestyn!

7
Omdat jy jou vertroue gestel het
in wat jy self gedoen en vergaar het,
word jy ook 'n gevangene
en word Kemos in ballingskap weggevoer
saam met sy priesters en sy amptenare.

8
Die verwoester pak elke stad,
nie een kom vry nie.
Die Jordaanvallei gaan tot niet,
die hoogvlakte word verwoes,
want die Here het gepraat.

9
Laat Moab vlug,
want die land lê in puin.
Sy stede lê verlate, sonder inwoners.

10

Daar rus 'n vloek op elkeen wat traag is
om die werk te doen wat die Here hom gegee het,
op elkeen wat sy swaard nie vrylik
bloed laat vergiet nie.

11

Moab sit van sy jeug af rustig,
so ongestoord soos wyn op sy afsaksel,
wyn wat nie van een kruik in 'n ander oorgegooi is nie.
Hy is nooit in ballingskap weggevoer nie;
sy smaak het dieselfde gebly,
sy geur het nie verander nie.

12
Maar daar kom 'n tyd, sê die Here,
dat Ek mense stuur wat wyn uitgooi,
en hulle sal Moab uitgooi,
hulle sal sy kruike leegmaak,
sy wynkanne stukkend slaan.

13
Moab sal by Kemos nie hulp kry nie,
net so min as wat Israel hulp gekry het
by Bet-El op wie hy vertrou het.

14
Hoe kan julle nog sê:
“Ons is soldate,
ons is manne wat reg is vir oorlog?”

15
Die verwoester is al op pad
na Moab se stede toe,
en die keur van Moab se jongmanne
is op pad na hulle dood toe.

Dit is wat die Koning sê,
sy Naam is die Here die Almagtige:

16
Die ramp wat Moab gaan tref, is naby,
sy ongeluk kom vinnig nader.

17
Julle almal rondom hom,
julle almal wat hom by die naam ken,
kan maar met meegevoel die koppe skud
en sê: “Hoe het dié magtige ryk,
dié glansryke heerskappy, tot 'n val gekom!”

18
Klim maar af van jou ereplek af
en gaan sit op die dorre aarde,
inwoner van Dibon,
want die verwoester van Moab is al op pad na jou toe;
hy gaan jou vestingstede in puin lê.

19
Gaan staan op die uitkyk langs die pad,
inwoner van Aroër,
ondervra elke man en vrou
wat vlug, wat probeer ontkom,
vra: “Wat het gebeur?”

20

Moab is verslaan, hy is angsbevange.
Huil, skreeu, gaan vertel by die Arnon
dat Moab verwoes is!

21
Die straf het gekom na die land met die hoogvlakte toe,
na Golon, na Jahas, na Mefaät toe,

22
na Dibon, na Nebo, na Bet-Diblatajim toe,

23
na Kirjatajim, na Bet-Gamul, na Bet-Meon toe,

24
na Kerijot, na Bosra, na al die stede in Moab toe,
ver en naby.

25
Die heerskappy van Moab is vernietig,
sy mag is gebreek, sê die Here.

26

Moab het hom groot gehou teen die Here;
maak hom dronk, laat hom aanhou braak,
laat hom ook 'n spot word!

27
Jy het mos vir Israel gespot, Moab;
het Israel hom dan met diewe opgehou
dat jy met voldoening jou kop moes knik
elke keer as jy oor hom gepraat het?

28
Vlug uit die stede! Gaan woon teen die kranse,
inwoners van Moab!
Word soos duiwe wat nes maak
bo teen die rante van 'n put.

29

Ons het gehoor van Moab se vermetelheid,
sy opperste hoogmoed, sy verwaandheid,
sy vermetelheid en sy trots,
sy selfvoldaanheid.

30
Ek ken sy hovaardigheid, sê die Here;
sy grootpratery bring niks,
al wat hy doen, kom tot niks.

31
Daarom huil Ek oor Moab,
kla Ek oor die hele Moab,
en kerm die mense oor die manne van Kir-Geres.

32
Meer as oor Jaser huil Ek oor jou, wingerd van Sibma;
jou ranke reik tot aan die see,
hulle strek tot by Jaser.
Die verwoester sak toe op jou vrugte en jou druiwe.

33
Vreugde en gejuig het verdwyn uit die vrugteboorde en uit Moab;
Ek het die wyn laat wegraak uit die parskuipe;
die vreugde om druiwe uit te trap is daar nie meer nie,
daar is geen oesvreugde meer nie.

34

Die hulpgeroep van Gesbon klink tot in Elale,
dit word gehoor tot by Jahas,
van Soar af tot by Goronajim en Eglat-Selisija.
Selfs die water van Nimrim het opgedroog.

35
Ek maak 'n end, sê die Here, aan dié Moab
wat hoogtes toe gaan en aan hulle gode offer.

36

Soos die klaagsang van 'n fluit,
so kla dit in My oor Moab.
Soos die klaagsang van 'n fluit,
so kla dit in My oor die mense van Kir-Geres:
alles wat hulle vergaar het, is daarmee heen.

37
Almal treur: die koppe is kaalgeskeer, die baarde afgesny,
die hande het snye aan, almal dra rouklere;

38
daar word oral op die dakke in Moab
en op sy stadspleine getreur,
want Ek het Moab gebreek
soos 'n kleipot wat niemand wil hê nie, sê die Here.

39
Hoe angsbevange word Moab, hoe vlug hy ná sy neerlaag!
Huil maar, want Moab word 'n spot,
hy word 'n afskrikwekkende voorbeeld vir sy bure.

40

So sê die Here:

Die vyand sal soos 'n aasvoël op Moab afsak
en oor hom sweef.

41
Stede sal verower word,
vestings ingeneem word.
Daardie dag sal Moab se soldate so bang wees
soos vrouens wat vasgekeer is.

42
Moab sal uitgeroei word en ophou om 'n volk te wees,
want hy het hom groot gehou teen die Here.

43
Daar wag gevaar en vanggate en strikke vir julle,
inwoners van Moab, sê die Here.

44
Wie van die gevaar af probeer wegkom, sal in 'n vanggat val,
wie uit 'n vanggat probeer uitklim, sal in 'n strik gevang word.
Ek bring oor Moab
'n jaar van afrekening,
sê die Here.

45

In die skaduwee van Gesbon
staan die vlugtelinge sonder krag,
want daar het 'n vuur uit Gesbon uit gegaan,
'n vlam uit Sihon uit,
en dit het die voorkop van Moab,
die koppe van die grootpraters verteer.

46
Dit is klaar met jou, Moab;
die volk van Kemos word uitgeroei.
Jou seuns word in ballingskap weggevoer,
jou dogters as gevangenes.

47

Maar wanneer die tyd daar is,
sal Ek die lot van Moab verander, sê die Here.

Hier eindig die oordeel oor Moab.

49

1

Oor die Ammoniete. So sê die Here:

Het Israel dan nie seuns nie,
het hy niemand wat sy vyand verdryf nie?
Waarom het Milkom die gebied van Gad in besit geneem
en woon sý mense in Gad se stede?

2
Daar kom 'n tyd, sê die Here,
dat Ek oorlog aankondig teen Rabba, die Ammonietestad.
Hy sal 'n verlate ruïneheuwel word
en sy buitedorpe sal afgebrand word.
Dan sal Israel dié verdryf wat hom verdryf het,
sê die Here.

3
Huil, Gesbon, jy is verwoes, 'n puinhoop,
roep om hulp, vroue van Rabba,
trek rouklere aan en treur,
hardloop heen en weer tussen die landmure,
want Milkom word in ballingskap weggevoer
saam met sy priesters en sy amptenare.

4
Wat beroem jy jou op valleie, weerspannige volk,
op jou waterryke vallei?
Jy vertrou op jou rykdom en jy sê:
“Wie sal my bykom?”

5
Ek bring angs oor jou vir almal rondom jou,
sê die Here God, die Almagtige.
Julle sal uitmekaargejaag word,
en niemand sal die vlugtelinge bymekaarmaak nie.

6
Maar Ek sal tóg later die lot van die Ammoniete verander,
sê die Here.

7

Oor Edom. So sê die Here die Almagtige:

Is daar geen wysheid meer in Teman nie?
Het die manne met insig nie meer raad nie?
Het hulle wysheid verdwyn?

8
Draai om, vlug! Kruip diep weg, inwoners van Dedan!
Ek bring 'n ramp oor Esau, die tyd vir sy straf is daar.

9
As ander jou wingerd kom afoes,
sal hulle niks vir jou laat oorbly nie.
As daar diewe in die nag kom,
steel hulle tot hulle genoeg het.

10
Ek het Esau kaalgestroop,
Ek het sy skuilplekke oopgemaak,
sodat niemand daar kan wegkruip nie.
Sy nageslag is uitgeroei, en ook sy broers en sy bure;
daar is niemand oor nie.

11

Laat maar jou weeskinders agter, Ek sal hulle in die lewe hou; en laat jou weduwees op My vertrou.

12 Ja, so sê die Here: As selfs dié wat dit nie verdien nie, die oordeelsbeker moet drink, kan jý ongestraf bly? Jy sal nie ongestraf bly nie; drink sal jy die beker drink.

13 Ek lê 'n eed af by Myself, sê die Here, dat Bosra 'n verlate plek sal word, 'n spot, 'n uitgedorde stuk grond, 'n voorbeeld wat in verwensings aangehaal word, en dat al sy buitedorpe vir altyd in puin sal lê.

14

Ek het 'n boodskap ontvang, en dit kom van die Here af. Daar is 'n boodskapper onder die nasies rondgestuur om te sê:

Kom bymekaar, trek teen Edom op,
maak oorlog teen hom!

15
Edom, Ek maak jou 'n klein volkie onder die volke,
een wat nie deur mense gereken word nie.

16
Die vrees wat ander vir jou het
en jou vermetelheid het jou mislei.
Jy woon teen die kranse,
jy klou vas aan die hoë bergtoppe,
maar al bou jy jou nes
daar in die hoogte soos 'n aasvoël,
Ek sal jou daar afhaal, sê die Here.

17
Edom sal 'n verlate plek word;
elkeen wat daar verbykom, sal sy asem intrek
en van verbasing fluit oor die slag wat vir Edom getref het.

18
Soos Sodom en Gomorra en die buurdorpe verwoes is,
sê die Here, so sal niemand in Edom woon nie;
geen mens sal daar wil bly nie.

19

Soos 'n leeu uit die digte Jordaanbos toeslaan
op 'n weiveld aan 'n standhoudende stroom,
so sal Ek vir Edom eensklaps verjaag uit sy land,
en Ek sal vir dié taak aanwys wie Ek verkies.
Wie is soos Ek, wie kan My tot verantwoording roep?
Wie is die regeerder wat teen My kan standhou?

20
Hoor wat die Here besluit het,
wat sy beslissing oor Edom is,
wat Hy Hom voorgeneem het
oor die inwoners van Teman:
hulle sal weggesleep word deur hulle eie jongmanne,
Edom se woonplek sal deur hulle eie toedoen verwoes word.

21
Die aarde sal skud van die dreun van Edom se val,
die geroep om hulp sal gehoor word tot by die Rietsee.

22
Die vyand sal soos 'n aasvoël opvlieg
en afsak en oor Bosra sweef,
en daardie dag sal Edom se soldate so bang wees
soos vrouens wat vasgekeer is.

23

Oor Damaskus.

Hamat en Arpad is verslae,
hulle het slegte nuus gehoor,
hulle is onrustig, soos 'n onstuimige see,
hulle kan nie tot rus kom nie.

24
Damaskus is magteloos,
hy draai om om te vlug,
hy is vreesbevange,
angs en pyn soos dié van 'n vrou
wat 'n kind in die wêreld bring,
het hom beetgepak.

25
Hoe word so 'n beroemde stad dan nie gespaar nie,
so 'n vrolike stad?

26
Sy jongmanne sal op sy strate sneuwel,
al sy soldate sal omgebring word
wanneer die tyd daar is, sê die Here die Almagtige.

27
Ek steek die stad Damaskus aan die brand,
die vuur sal die paleise van Ben-Hadad verteer.

28

Oor Kedar en oor die koninkryke van Gasor wat deur koning Nebukadnesar van Babel aangeval is. So sê die Here:

Kom, val vir Kedar aan,
verdryf dié mense wat in die ooste woon!

29
Hulle tente en hulle kleinvee sal gevat word,
hulle tentdoeke, hulle gereedskap,
hulle kamele sal geroof word,
en mense sal vir hulle skreeu: “Gevaar! Gevaar!”

30

Vlug! Hardloop!
Kruip diep weg, inwoners van Gasor!
sê die Here;
koning Nebukadnesar van Babel het 'n plan met julle,
hy het 'n besluit oor julle geneem.

31
Gaan val dié nasie aan wat so sonder sorge is
en so rustig woon, het die Here gesê.
Sy stede het nie poorte en sluitbalke nie
en hy woon eenkant alleen.

32
Hulle kamele sal buitgemaak word,
hulle groot troppe vee sal geroof word.
Ek sal hulle oor al die windstreke verstrooi,
dié mense wat die kante van hulle koppe kaal skeer,
Ek sal hulle van alle kante af deur rampe laat tref,
sê die Here.

33
Gasor sal 'n blyplek vir jakkalse word,
vir altyd verlate.
Daar sal niemand meer woon nie,
geen mens sal daar wil bly nie.

34

Die woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het oor Elam. Dit was aan die begin van die regeringstyd van koning Sedekia van Juda.

35 So sê die Here die Almagtige:

Ek gaan Elam se pyl en boog breek,
Ek gaan die keur van sy leërmag vernietig.

36
Ek laat die vier winde losbreek teen Elam,
die winde uit die vier hoeke van die hemelruim,
Ek verjaag hulle al die windrigtings in;
daar sal nie 'n nasie wees nie
of van Elam se vlugtelinge sal daar beland.

37
Ek laat Elam se mense paniekbevange raak voor hulle vyande,
voor dié wat hulle lewe soek;
Ek laat 'n ramp teen hulle losbreek,
my gloeiende toorn, sê die Here,
Ek stuur die swaard agter hulle aan
totdat Ek hulle heeltemal uitgeroei het.

38
Ek sal my regterstoel in Elam neersit
en koning en amptenare laat ombring,
sê die Here.

39

Maar wanneer die tyd daar is,
sal Ek die lot van Elam verander,
sê die Here.

50

1

Wat die Here deur die profeet Jeremia oor Babel en oor Galdeërland gesê het:


2
Vertel vir al die nasies, kondig dit aan!
Hou 'n vaandel op, kondig dit aan!
Moet dit nie stil hou nie, sê:
Babel is ingeneem, Bel is verslaan,
Marduk staan verskrik,
Babel se beelde staan verslae,
sy afgode staan verskrik.

3
Daar trek 'n nasie uit die noorde teen hom op
en maak sy land 'n verlate plek;
daar woon niemand meer nie,
mens en dier het op die vlug geslaan.

4

Dan, daardie tyd, sê die Here,
sal die Israeliete en die Judeërs saam vertrek.
Hulle sal huil-huil loop
en na die wil van die Here hulle God vra.

5
Hulle sal die pad vra na Sion toe,
hulle sal hiernatoe kom en sê:
“Kom ons bind ons aan die Here
in 'n blywende verbond wat nie vergeet sal word nie.”

6

My volk was skape wat weggeraak het:
hulle herders het hulle laat verdwaal,
hulle in die berge laat rondswerf;
die skape het van die een berg na die ander toe geloop
en vergeet waar hulle rusplek is.

7
Hulle is opgeëet deur enigeen wat op hulle afgekom het,
en hulle vyande het gesê: “Ons het nie skuld daaraan nie,
dit gebeur omdat hierdie volk gesondig het teen die Here,
die Here by wie hulle 'n ware tuiste kon vind
en op wie hulle voorvaders hulle hoop gevestig het.”

8

Vlug uit Babel uit, gaan uit Galdeërland uit,
wees soos die voorbokke voor die kleinveetrop!

9
Ek gaan uit 'n land in die noorde
'n groep groot nasies laat kom
en hulle teen Babel laat optrek.
Hulle sal in gelid teen hom opruk
en hy sal van die noorde af ingeneem word.
Hulle pyle is soos dié van 'n soldaat
wat kinders wees laat word:
elke pyl skiet raak.

10
Galdeërland sal geplunder word,
en dié wat plunder, sal oorgenoeg kry,
sê die Here.

11

Ja, wees maar vrolik, jubel maar,
julle wat nou my eiendom plunder!
Huppel maar soos 'n verskalf wat koring uittrap,
runnik maar soos hingste!

12
Daar wag groot ontnugtering vir julle stad, vir Babel,
daar wag vernedering vir die volk waaruit julle kom:
hy gaan die minste word van die nasies,
sy land gaan 'n dor woestyn, 'n droë vlakte word.

13
In my toorn maak Ek hom onbewoonbaar,
hy sal heeltemal verlate word:
elkeen wat by Babel verbykom, sal verbyster staan
en fluit van verbasing oor alles waardeur die stad getref is.

14

Ruk van alle kante af op teen Babel,
almal met pyl en boog!
Skiet hom, moenie spaarsaam wees met die pyle nie!
Hy het teen die Here gesondig.

15
Laat die krygsgeskreeu van alle kante af teen hom klink!
Hy gee oor, sy torings val, sy mure word afgebreek!
Dit is die Here wat Hom op Babel wreek:
wreek julle op hom,
doen aan hom wat hy aan julle gedoen het!

16
Laat uit Babel die saaier verdwyn
en dié wat in die oestyd koring sny!
Elkeen sal padgee na sy eie volk toe,
elkeen sal na sy eie land toe vlug
voor die swaard wat so wild te kere gaan!

17

Israel is 'n verjaagde skaap,
leeus het hom rondgejaag.

Eers het die koning van Assirië hom opgevreet, en nou het koning Nebukadnesar van Babel sy bene skoongevreet.

18 Daarom, so sê die Here die Almagtige, die God van Israel, sal Ek die koning van Babel en sy land straf soos Ek die koning van Assirië gestraf het.

19 Maar vir Israel sal Ek terugbring na sy weiveld toe, en hy sal op Karmel en in Basan wei, hy sal volop te wei hê op die Efraimsberge en in Gilead.

20 Dan, in daardie tyd, sê die Here, sal daar navraag gedoen word na die sonde van Israel, na die oortredings van Juda, maar daar sal niks wees nie, niks gevind word nie, want Ek sal die sonde van dié wat Ek laat oorbly, vergewe.


21
Trek op teen Meratajim
en teen die inwoners van Pekod,
maak hulle dood, roei hulle heeltemal uit,
sê die Here,
maak met hulle presies soos Ek jou beveel!

22

Daar is oorlogsrumoer in die land,
daar is groot verwoesting!

23
Hoe gebreek, hoe in stukke lê die hamer nou
waaronder die hele aarde moes ly!
Hoe verlate het Babel geword tussen die nasies!

24
Ek het vir jou 'n strik gespan
waarvan jy nie geweet het nie, Babel,
en jy is daarin gevang;
jy is betrap en vasgevang
omdat jy die stryd teen My, die Here, aangebind het.

25

Die Here het sy arsenaal oopgemaak
en die wapens van sy toorn uitgehaal,
want Hy, die Here God, die Almagtige,
het werk te doen in Galdeërland:

26
Val die land binne van alle kante af,
breek oop sy graanskure!
Gooi die lyke van sy inwoners op hope
soos hope graan,
roei hulle heeltemal uit,
moet niemand laat oorbly nie!

27
Steek al sy leiers dood,
maak hulle van kant!
Ellende wag vir hulle, hulle dag het gekom,
die tyd is daar dat hulle gestraf word.

28

Luister hoe die vlugtelinge, dié wat uit Babel ontkom het,
in Sion kom vertel hoe die Here ons God Hom gewreek het,
Hom gewreek het oor sy tempel!

29

Roep baie manskappe op teen Babel, al die boogskutters;
laat hulle kamp opslaan rondom hom,
moenie dat een vrykom nie.
Betaal hom terug vir wat hy gedoen het,
doen aan hom soos hy aan ander gedoen het,
want hy was hooghartig teen die Here,
teen die heilige God van Israel.

30
Dit is daarom dat sy jongmanne op sy strate sal sneuwel,
dat al sy soldate omgebring sal word
wanneer die tyd daar is, sê die Here.

31
Ek gaan optree teen jou, hooghartige land,
sê die Here God, die Almagtige,
want jou dag het gekom,
die tyd is daar dat Ek jou gaan straf.

32
Die hooghartige land struikel, hy val
en niemand help hom op nie.
Ek steek sy stede aan die brand,
die vuur sal almal rondom hom verteer.

33

So sê die Here die Almagtige:

Die Israeliete word verdruk,
en saam met hulle die Judeërs.
Dié deur wie hulle gevange gehou word,
hou hulle vas en weier om hulle vry te laat.

34
Maar hulle Beskermer is magtig;
sy Naam is die Here die Almagtige.
Hy sal vir hulle reg opkom:
Hy sal rus bring in die land Israel,
maar onrus vir die inwoners van Babel.

35
Trek die swaard teen die Galdeërs, sê die Here,
teen die inwoners van Babel,
teen sy amptenare en sy raadgewers;

36
trek die swaard teen sy waarsêers
dat dit kan blyk watter onsin hulle praat;
trek die swaard teen sy soldate
dat hulle skrikbevange kan word;

37
trek die swaard teen sy perde en sy strydwaens,
teen die huurtroepe by hom
dat hulle soos vrouens word;
trek die swaard teen sy skure
dat hulle geplunder word;

38
lê droog sy gragte dat hulle opdroog;
hy is 'n land vol afgodsbeelde
wat mal word van die skrik wat hulle tref.

39
Die stad sal bewoon word deur hiënas en jakkalse,
daar sal volstruise bly;
die stad sal nooit weer bewoon word nie,
niemand sal ooit weer daar bly nie.

40
Soos God vir Sodom en Gomorra en hulle buurdorpe
verwoes het, sê die Here,
so sal niemand in Babel woon nie;
geen mens sal daar wil bly nie.

41

Daar kom 'n volk uit die noorde, 'n groot nasie,
baie konings ruk op uit die uithoeke van die aarde.

42
Hulle is gewapen met pyl en boog en swaard,
hulle is wreed en spaar niemand nie.
Hulle krygsgeskreeu dreun soos die see,
hulle kom aan op hulle perde,
hulle soldate is reg vir die aanval op jou, Babel.

43
Die koning van Babel het die gerug oor hulle gehoor,
sy hande hang slap, angs pak hom beet,
benoudheid soos dié van 'n vrou
wat 'n kind in die wêreld bring.

44
Soos 'n leeu uit die digte Jordaanbos toeslaan
op 'n weiveld aan 'n standhoudende stroom,
so sal Ek die mense van Babel eensklaps verjaag uit hulle land,
en Ek sal vir dié taak aanwys wie Ek verkies.
Wie is soos Ek, wie kan My tot verantwoording roep?
Wie is die regeerder wat teen My kan standhou?

45
Hoor wat die Here besluit het,
wat sy beslissing oor Babel is,
wat Hy Hom voorgeneem het
oor Galdeërland:
hulle sal weggesleep word
deur hulle eie jongmanne,
die Galdeërs se woonplek sal deur hulle eie toedoen verwoes word.

46
Die aarde sal skud van die dreuning
wanneer Babel ingeneem word,
die geroep om hulp sal gehoor word deur die ander nasies.

51

1

So sê die Here:

Ek laat 'n verwoestende wind oor Babel waai
en oor die inwoners van Leb-Kamai .

2
Ek stuur mense om Babel uit te skud,
hulle sal sy land leegstroop
wanneer hulle hom van alle kante af bestorm
die dag as die ramp losbreek.

3
Moenie die boogskutters van Babel kans gee
om hulle boë te span of hulle harnasse aan te trek nie!
Moenie jammer wees vir sy jongmanne nie,
roei sy hele leër uit!

4
Galdeërland sal vol dooies lê,
sy strate vol gesneuweldes.

5

Israel en Juda is nie alleen nie,
nie sonder sy God, nie sonder die Here die Almagtige nie.
Galdeërland het hom vergryp
teen die Heilige van Israel.

6
Vlug uit Babel uit, red julleself,
moenie deur sy sonde omkom nie!
Die tyd is daar dat die Here Hom wreek,
dat Hy Babel sy verdiende loon laat kry.

7
Babel was 'n goue beker in die hand van die Here,
'n beker wat die hele wêreld dronk laat word het:
die nasies het van sy wyn gedrink
en daarvan mal geword.

8
Babel kom skielik tot 'n val, hy stort ineen!
Huil oor hom, gaan haal balsem vir sy wonde,
miskien word hy gesond!

9

Ons het Babel gedokter, maar hy het nie gesond geword nie.
Gee pad uit hom, kom ons gaan elkeen na sy land toe,
want die straf wat hom tref, strek tot aan die hemel,
reik tot by die wolke.

10
Die Here het vir ons redding gebring;
kom ons gaan vertel in Sion
wat die Here ons God gedoen het.

11

Maak skerp die pyle, vat die skilde!
Die Here het die konings van Medië in beweging gebring,
want Hy het besluit dat Babel verwoes moet word.
Die Here gaan Hom wreek oor wat met sy tempel gebeur het.

12
Steek 'n vaandel op teen die mure van Babel,
versterk die wagposte, sit wagte uit,
stel hinderlae op,
want die Here gaan sy besluit uitvoer,
Hy gaan met die inwoners van Babel doen wat Hy gesê het.

13
Jy wat langs die baie waters woon,
met jou baie skatte,
jou einde het gekom,
jou lewensdraad word geknip.

14
Die Here die Almagtige het 'n eed afgelê by Homself:
Ek laat die vyande soos sprinkane op jou toesak,
en hulle sal met 'n geskreeu die oorwinning oor jou vier.

15

Dit is die Here wat met sy krag die aarde gemaak het,
wat met sy wysheid die wêreld gevestig het
en met insig die hemel oopgesprei het.

16
Wanneer Hy sy stem laat hoor, druis die water in die hemel;
Hy laat die mis opstyg van die eindes van die aarde af,
Hy laat die weerlig slaan wanneer dit reën,
Hy laat die wind uit sy voorraadskure uitkom.

17
Dan sien elke mens hoe dom,
hoe sonder kennis hy is;
dan staan elke goudsmid verleë met sy afgodsbeeld,
want sy beeld is bedrog, daar is geen lewe in nie.

18
Hulle is nikswerd gode, voorwerpe van spot,
hulle vergaan as die tyd van afrekening kom.

19
Die God van Jakob is nie soos hulle nie,
Hy is die Skepper van alles en almal.
Daar is 'n volk wat aan Hom behoort.
Die Here die Almagtige is sy Naam.

20

Jy was my hamer, Babel, my oorlogswapen;
Ek het nasies met jou verslaan,
Ek het koninkryke met jou vernietig;

21
Ek het perde en ruiters met jou verslaan,
Ek het strydwaens en bemannings met jou verslaan,

22
Ek het mans en vrouens met jou verslaan,
oumense en jongmense,
jongmanne en jongmeisies,

23
herders en kuddes,
boere en trekdiere,
goewerneurs en gesagdraers.

24

Maar Ek sal Babel en al die inwoners van Galdeërland laat boet vir al die kwaad wat hulle voor julle oë in Sion aangerig het, sê die Here.


25
Ek gaan teen jou optree, verwoestersberg,
sê die Here,
jy wat die hele aarde verwoes het;
Ek gaan my hand teen jou uitsteek
en jou van die rotse afrol;
Ek maak jou 'n uitgebrande berg.

26
Mense sal nie uit jou 'n hoekklip kom vat
of 'n fondamentklip nie;
jy sal altyd verlate lê, sê die Here.

27
Hou 'n vaandel op oor die aarde,
blaas die ramshoring onder die nasies,
maak hulle gereed om Babel aan te val,
roep koninkryke teen hom op:
Ararat, Minni en Askenas;
benoem 'n bevelvoerder vir die aanslag,
bring perde soos sprinkaanswerms!

28
Maak die nasies gereed om Babel aan te val,
maak gereed die konings van Medië,
sy goewerneurs, sy hoë amptenare,
en al sy onderhorige lande.

29
Die land skud en bewe,
want wat die Here teen Babel besluit het, staan vas:
om die gebied van Babel 'n verlate plek te maak,
sonder inwoners.

30
Babel se soldate het opgehou veg,
hulle sit in die vestings,
hulle krag is weg, hulle is soos vrouens;
sy woonhuise word afgebrand,
sy sluitbalke word gebreek.

31
Die een hardloper na die ander hardloop,
die een boodskapper na die ander,
om vir die koning van Babel te sê
dat sy stad heeltemal ingeneem is,

32
dat die brûe beset is, dat die riete langs die rivier brand
en dat die soldate paniekbevange is.

33

So sê die Here die Almagtige, die God van Israel:

Babel is soos 'n dorsvloer,
en die tyd is daar dat hy vasgestamp moet word;
nog net 'n rukkie, dan is die tyd daar
dat die graan op hom uitgedors word.

34

Koning Nebukadnesar van Babel het ons opgevreet, ons verteer, ons 'n leë kruik gemaak;
soos 'n monster het hy ons ingesluk en hom dik gevreet,
hy het ons leeggedrink en weggestoot.

35
Dié wat in Sion woon, sê:
“Babel moet gestraf word
vir die geweld wat ons aangedoen is,
vir die verminking.”
Jerusalem sê:
“Die inwoners van Galdeërland moet gestraf word
vir ons bloed wat vergiet is.”

36
So sê die Here:
Ek sal vir julle reg opkom,
Ek sal Babel straf vir wat jou aangedoen is:
Ek sal sy baie water laat opdroog,
ook die plek waar die water vandaan kom.

37
Babel sal 'n puinhoop word,
'n blyplek vir jakkalse, 'n verlate plek
waaroor mense fluit van verbasing,
'n plek sonder inwoners.

38
Sy inwoners brul nou almal soos leeus,
hulle knor soos leeuwelpies,

39
maar terwyl hulle so humeurig is,
sit Ek vir hulle 'n feesmaal voor
en maak Ek hulle so dronk
dat hulle eers jolig raak
en dan vir altyd aan die slaap raak
sonder om wakker te word,
sê die Here.

40
Soos lammers, soos skaapramme en bokramme
vat Ek hulle na die slagplek toe.

41
Sesak , so beroemd oor die hele aarde,
is verower, is ingeneem!
Babel het 'n verlate plek geword in die volkerewêreld!

42
Die waters het oor Babel gestroom,
hy is bedek deur bruisende golwe.

43
Sy stede lê verlate,
sy land is 'n dor, droë vlakte;
daar woon geen mens nie
en niemand gaan daar langs nie.

44

Ek gaan vir Bel straf in Babel,
Ek sal hom laat opbring wat hy ingesluk het,
en nasies sal nie meer na hom toe stroom
as ballinge nie.
Babel se mure sal val;

45
kom uit hom uit, my volk,
red julleself voordat my gloeiende toorn teen hom losbreek.

46
Moenie moed verloor en bang word
wanneer daar gerugte rondgaan in die land nie:
daar kom jaar vir jaar gerugte.
Daar sal geweld in die land losbreek,
regeerders sal mekaar beveg,

47
maar die tyd kom dat Ek afreken met Babel se afgode,
dat sy hele land verslaan sal wees,
sy dooies oral in hom rondlê.

48
Hemel en aarde en alles in hulle
sal juig oor Babel se val,
want dié wat hom sal verwoes,
is aan die kom uit die noorde,
sê die Here.

49
Deur Babel se toedoen het mense oor
die hele aarde gesneuwel,
en so sal hý sneuwel
oor dié wat van Israel gesneuwel het.

50
Julle wat aan die swaard ontkom het,
gee pad, moenie staan nie!
Dink daar uit die verte aan die Here,
hou Jerusalem in gedagte.

51

Ons is verneder en beledig,
daar het skande oor ons gekom,
want vreemdes het ingestap
in die gewyde gebied van die huis van die Here.

52
Daarom kom die tyd, sê die Here,
dat Ek met Babel se afgode sal afreken:
die gewondes sal kerm dwarsoor sy land.

53
Al word Babel hemelhoog,
al versterk hy sy hoë vestings ook hoe,
Ek stuur verwoesters na hom toe,
sê die Here.

54
Daar word om hulp geroep uit Babel,
daar klink harde smartkrete uit Galdeërland,

55
want die Here verwoes Babel
en maak 'n einde aan sy geraas.
Soos groot waters sal die golwe van sy vyande
teen hom aangedreun kom
en sal hulle krygsgeskreeu weerklink.

56
Ja, daar trek 'n verwoester op teen hom, teen Babel,
en sy soldate word gevange geneem, hulle boë stukkend gebreek,
want die Here is 'n God wat vergeld,
en Hy sal voluit straf.

57

Ek sal sy amptenare, sy raadgewers, sy goewerneurs,
sy offisiere, sy soldate dronk laat word,
en hulle sal vir altyd aan die slaap raak
sonder om wakker te word,
sê die Koning.
Sy Naam is die Here die Almagtige.

58

So sê die Here die Almagtige:

Die dik vestingmuur van Babel sal gesloop word,
sy hoë poorte sal afgebrand word:
mense het geswoeg vir niks,
nasies het hulle afgesloof vir iets wat vir die vuur bestem is.

59

Die opdrag wat die profeet Jeremia aan Seraja seun van Nerija, seun van Magseja, gegee het toe hy saam met koning Sedekia van Juda in sy vierde regeringsjaar na Babel toe vertrek het; Seraja was kwartiermeester,

60 en Jeremia het al die onheil wat Babel sou tref, alles wat oor Babel neergeskryf was, in een boekrol opgeskryf

61 en vir Seraja gesê: “Wanneer jy in Babel kom, moet jy alles hardop lees

62 en sê: ‘Here, U het van hierdie plek gesê dat U hom so sal verwoes dat geen mens of dier weer in hom sal woon nie en dat hy altyd verlate sal wees.’

63

“Wanneer jy hierdie boekrol klaar hardop gelees het, moet jy 'n klip aan hom vasbind en hom in die Eufraat gooi

64 en sê: So sal Babel wegsink en nie opkom nie as gevolg van die onheil wat Ek oor hom bring; sy inwoners het hulle afgesloof vir niks, sê die Here.”

Tot sover die woorde van Jeremia.

52

1

Sedekia was een en twintig toe hy koning geword het en hy het elf jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Gamutal, 'n dogter van Jeremia, uit Libna.

2 Sedekia het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van Jojakim gevolg.

3 Die toorn van die Here was op Jerusalem en Juda; Hy wou hulle wegvee uit sy teenwoordigheid.

Sedekia het in opstand gekom teen die koning van Babel,

4 en in die negende regeringsjaar van Sedekia, op die tiende van die tiende maand, het koning Nebukadnesar van Babel met sy hele leër met 'n aanval op Jerusalem begin. Hy het kamp opgeslaan by die stad en 'n beleëringswal rondom die stad gebou.

5 Die stad is beleër tot in die elfde regeringsjaar van koning Sedekia.

6 Teen die negende dag van die vierde maand was die hongersnood in die stad so erg dat daar nie meer kos vir die bevolking was nie.

7 Toe is daar 'n opening in die muur gebreek, en al die soldate het gevlug. Hulle is in die nag deur die poort tussen die twee mure langs die Koningstuin, hoewel daar Galdeërs rondom die stad was. Die soldate het in die rigting van die Jordaanvallei gevlug,

8 maar die Galdese leër het vir koning Sedekia agtervolg en hom ingehaal op die Jerigovlakte. Sy hele leër was toe al uitmekaar gejaag, weg van hom af,

9 en hy is gevang en na die koning van Babel toe gevat in Ribla, in Hamat. Die koning van Babel het vir Sedekia verhoor

10 en toe sy seuns voor sy oë laat doodmaak. Hy het ook al die Judese amptenare laat doodmaak daar in Ribla,

11 Sedekia se oë laat uitsteek, hom met bronskettings laat boei en hom na Babel toe gevat en daar in die tronk laat sit tot sy dood toe.

12

In die vyfde maand, op die tiende van die maand, in die negentiende regeringsjaar van koning Nebukadnesar van Babel, het Nebusaradan by Jerusalem aangekom. Hy was hoof van die lyfwag en in die persoonlike diens van die koning van Babel.

13 Hy het die huis van die Here, die paleis en al die huise in Jerusalem, elke groot gebou, afgebrand.

14 Al die Galdese soldate wat onder sy bevel was, het die muur om Jerusalem heeltemal afgebreek.

15 Party van die armste mense, en verder die mense wat in die stad oor was, ook dié wat na die koning van Babel toe oorgeloop het, en die ambagsmanne wat oor was, is gevange weggevoer deur Nebusaradan, die hoof van die lyfwag.

16 Party van die armste mense van die land het hy laat agterbly om die wingerde en die lande te bewerk.

17

Die Galdeërs het die bronspilare, die waentjies en die bronswaterbak wat by die huis van die Here was, stukkend geslaan en al die brons na Babel toe gevat.

18 Hulle het die potte, die skoppe, die skêre, die komme vir besprinkeling en die panne saamgevat, en al die ander bronsgoed wat in die tempeldiens gebruik is.

19 Die hoof van die lyfwag het die bakke, die vuurpanne, die komme vir besprinkeling, die potte, die kandelare, die panne, die offerkomme, alles wat goud of silwer was, buitgemaak.

20 Die brons van die twee pilare, van die waterbak met die twaalf beeste onder, en van die waentjies wat koning Salomo gemaak het vir die huis van die Here was soveel dat dit nie geweeg kon word nie.

21 Wat betref die pilare, elke pilaar was nege meter hoog en ses meter in die omtrek en was hol met 'n wand van nege sentimeter dik.

22 Die bronskapiteel bo-op was twee en 'n half meter hoog. Die rooster met die granate om die kapiteel was heeltemal van brons. Die ander pilaar met die granate was net so.

23 Daar was ses en negentig granate sigbaar, maar daar was altesaam honderd granate rondom aan die rooster.

24

Die hoof van die lyfwag het die hoëpriester Seraja, die priester tweede in rang, Sefanja, en die drie drumpelwagte gevange saamgevat.

25 Uit die stad het hy die offisier gevange geneem wat in bevel was van die soldate. Daar was ook nog sewe van die koning se vertrouelinge in die stad, die sekretaris van die hoof van die leër wat vir die oproep van die burgers verantwoordelik was, en sestig van die burgers.

26 Nebusaradan, die hoof van die lyfwag, het hulle gevange geneem en hulle na die koning van Babel toe in Ribla gevat.

27 Die koning van Babel het hulle laat doodmaak daar in Ribla, in Hamat.

So is Juda dan uit sy land uit weggevoer.

28

Die getal mense wat deur Nebukadnesar weggevoer is, is soos volg: in die sewende jaar: 3 023 Judeërs,

29 in die agtiende regeringsjaar van Nebukadnesar: 832 mense uit Jerusalem,

30 in die drie en twintigste jaar: 745 Judeërs, weggevoer deur die hoof van die lyfwag Nebusaradan. Dit was altesaam 4 600 mense.

31

In die sewe en dertigste jaar van die ballingskap van koning Jojagin van Juda, op die vyf en twintigste van die twaalfde maand, het Ewil-Merodak wat pas koning van Babel geword het, vir koning Jojagin van Juda uit die gevangenis vrygelaat.

32 So het hy hom begenadig en hom hoër status gegee as die ander konings wat by hom in Babel was.

33 Jojagin kon sy tronkklere uittrek en het so lank hy gelewe het, aan die koning se tafel geëet

34 en Jojagin het tot sy dood toe van die koning van Babel 'n permanente toelae ontvang vir sy daaglikse behoeftes.