1

1

Die openbaring wat Jesaja seun van Amos ontvang het aangaande Juda en Jerusalem. Dit was in die regeringstyd van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, konings van Juda.


2
Luister, hemele, gee aandag, aarde,
want die Here het gesê:
Ek het kinders grootgemaak en opgevoed,
maar hulle het teen My in opstand gekom.

3
'n Bees ken sy eienaar
en 'n donkie die krip van sy baas,
maar Israel ken My nie,
my volk het geen begrip van wat Ek doen nie.

4

Ellende wag vir julle, sondige nasie,
volk met skuld belaai,
geslag wat verkeerd handel,
julle wat net afbreek,
wat My, die Here, verlaat het,
My, die Heilige van Israel, verag
en vir My die rug gedraai het.

5
Daar is nie meer plek
waar nog aan julle geslaan kan word nie,
en tog hou julle aan om van My af weg te draai.
Die hele kop is vol seerplekke
en die hele gestel is verswak.

6
Van kop tot tone
is daar nie een plek heel nie:
dit is die ene kneusplekke, hale en rou wonde!
Hulle is nie skoongemaak of verbind
of met salf behandel nie.

7

Julle land is verwoes,
julle stede is verbrand,
voor julle oë verteer vreemdes julle landerye.
Hulle het dit 'n verlate wêreld gemaak.

8
Soos 'n skerm in 'n wingerd
het Sion alleen oorgebly,
soos die hut van 'n wagter in 'n komkommertuin.
Sion is 'n beleërde stad.

9
As die Here die Almagtige
nie 'n klompie van ons laat oorbly het nie,
sou ons soos Sodom geword het,
ons sou net soos Gomorra gewees het.

10
Luister na die woord van die Here, julle Sodomsleiers!
Gee ag op wat ons God julle leer, julle Gomorrasvolk!

11
Wat het Ek aan julle baie offers? vra die Here.
Ek is sat van die brandoffers van ramme
en die vet van voerbeeste;
die bloed van bulle en lammers en bokke staan My nie aan nie.

12

As julle kom om voor My te verskyn,
wie het julle gevra om my voorhowe te kom vertrap?

13
Moenie langer julle nuttelose offergawes bring nie:
Ek het 'n afsku van julle wierookoffers.
Nuwemaansfeeste, sabbatsvierings, die uitroep van feesdae:
Ek verdra nie feesviering met onreg saam nie.

14
Julle nuwemaansfeeste en feesgetye haat Ek.
Hulle is vir My 'n las,
Ek is moeg daarvoor.

15
As julle julle hande in gebed uitstrek,
sal Ek my oë vir julle toemaak.
Selfs al bid julle hoe baie,
sal Ek nie luister nie,
want julle hande is met bloed bevlek.

16
Was julle, reinig julle.
Moenie voor My verskyn
as julle verkeerd doen nie.
Hou op met kwaad doen.

17
Leer om weer goed te doen,
sorg dat daar reg geskied,
gaan die verdrukker teë.
Laat reg geskied aan die weeskinders,
behartig die regsake van die weduwees.

18

Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here:
Al was julle skarlakenrooi van sonde,
julle sal wit word soos sneeu.
Al was julle purperrooi,
julle sal wit word soos wol.

19
As julle gehoorsaam wil wees,
sal julle die goeie van die land eet,

20
maar as julle weier en opstandig bly,
sal die swaard júlle eet,
want dit is die Here wat dit gesê het.

21

Die getroue stad het 'n ontrou slet geword!
Die stad wat die tuiste van die reg was,
waarin geregtigheid geskied het,
is nou vol moordenaars!

22
Jou silwer het lood geword,
jou bier is met water bederf.

23
Jou vorste is in opstand teen My,
hulle is kop in een mus met diewe.
Hulle is almal versot op korrupsie
en is agter omkoopgeskenke aan.
Hulle laat nie reg geskied aan weeskinders nie,
hulle behartig nie die regsake van weduwees nie.

24

Daarom sê die Here
die almagtige God,
die Sterke van Israel:
Ek sal afreken met my teëstanders.
Ek sal My wreek op my vyande.

25
Ek sal teen jou optree;
met loog sal Ek jou lood weer tot silwer suiwer,
al jou afsaksel afskei.

26
Ek sal jou regeerders weer maak soos hulle vroeër was
en jou leiers soos in die begin.
Dan sal hulle jou weer noem:
Stad van Geregtigheid,
Getroue Stad.

27

Sion sal deur die oordeel vrygemaak word,
dié wat hulle bekeer, deur 'n regverdige beslissing.

28
Wie oortree en sondig, sal almal verpletter word.
Wie die Here verlaat, sal te gronde gaan,

29
want die afgodsbome waarop julle begeertes gerig was,
sal julle vertroue beskaam,
en julle sal teleurgestel staan
met die tuine wat julle bo My verkies het.

30
Julle sal wees soos bome
waarvan die blare verdroog het,
soos tuine sonder water.

31

Die sterke word 'n stuk lap
en sy werk is die vonk:
die twee sal saam brand
sonder dat iemand die vuur blus.

2

1

Die openbaring wat Jesaja seun van Amos ontvang het oor Juda en Jerusalem.


2
Daar kom 'n tyd dat die berg
waarop die huis van die Here is,
'n blywende plek sal hê bokant die bergtoppe
en sal uitstaan bo die heuwels.
Al die nasies sal daarheen stroom,

3
baie volke sal daarnatoe gaan en sê:
“Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe,
na die huis van die God van Jakob
sodat Hy ons sy wil kan leer,
en ons daarvolgens kan lewe,
want uit Sion kom die openbaring,
uit Jerusalem die woord van die Here.”

4
Hy sal oordeel tussen die nasies,
regspreek oor baie volke.
Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee
en van hulle spiese snoeiskêre.
Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie,
en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie.

5

Kom, volk van Jakob,
laat ons lewe in die lig wat van die Here af kom.

6
U het u volk Jakob verstoot:
hulle gee hulle oor aan die waarsêery van die ooste,
beoefen towery soos die Filistyne
en hou saam met vreemdes vas aan bygeloof;

7
hulle land lê vol silwer en goud,
daar is geen einde aan hulle skatte nie;
hulle land loop vol perde,
daar is geen einde aan die getal van hulle strydwaens nie;

8
hulle land is vol afgode,
hulle buig voor die maaksel van hulle hande,
voor wat hulle vingers gemaak het.

9
So het mense hulleself verneder
en tot 'n val gekom.
U moet hulle dit nie vergewe nie.

10

Vlug die rotse in,
kruip weg in die grond
vir die verskrikking wat van die Here kom
en vir die glans van sy majesteit.

11
Die hoogmoediges sal tot 'n val kom,
die selfversekerdes sal verneder word.
Op dié dag sal net die Here hoog wees.

12

Die Here die Almagtige het 'n dag bepaal
teen al wat trots en hoog is,
teen alles, hoog en laag,

13
teen al die hoë en verhewe seders van die Libanon
en teen al die groot bome van Basan;

14
teen al die hoë berge
en teen al die steil rante;

15
teen elke hoë toring
en teen elke skansmuur;

16
teen al die handelskepe
en teen al die vaartuie vol kosbaarhede.

17
Die hoogmoediges sal verneder word,
die selfversekerdes sal tot 'n val kom.
Op dié dag sal net die Here hoog wees.

18
Die afgode sal heeltemal verdwyn.

19

As die Here die aarde begin skud,
vlug die mense in grotte in die rotse
en in gate in die grond in
vir die verskrikking wat van Hom kom
en vir die glans van sy majesteit.

20
Daardie dag sal die mense
die afgode van silwer en goud
wat hulle gemaak het om voor te buig,
weggooi vir die rotte en die vlermuise.

21
As die Here die aarde begin skud,
sal hulle die rotsholtes en die klipskeure invlug
vir die verskrikking wat van Hom kom
en vir die glans van sy majesteit.

22

Moenie op mense staatmaak nie:
hulle blaas so maklik die laaste asem uit.
Hulle is min werd.

3

1

Die Here die almagtige God
gaan uit Jerusalem en Juda
elke stut en steunpilaar verwyder:
almal wat sorg vir brood en water,

2
elke weerbare burger, elke soldaat, regter, profeet, waarsêer, leier,

3
offisier, hoë amptenaar, raadgewer, kundige vakman en ervare besweerder.

4
Die Here sal aan onvolwassenes gesag gee oor die volk,
wispelturige mense sal oor hulle heers.

5
Die volk sal mekaar te lyf gaan,
man teen man, vriend teen vriend;
seuns sal grysaards te lyf gaan,
en dié wat nie gesag het nie, die vooraanstaandes.

6

As iemand sy broer in die ouerhuis pak en sê:
“Jy het darem nog behoorlike klere, wees ons leier
en regeer oor hierdie vervalle spul,”

7
sal hy op daardie dag uitroep:
“Ek wil nie die leiding neem nie!
Daar is nie kos
en ook nie behoorlike klere in my huis nie;
moet my nie aanstel as leier van die volk nie.”

8
Jerusalem het gewaggel,
Juda het in duie gestort
omdat hulle hulle met woord en daad
teen die Here en teen sy gesag verset het.

9

Hulle partydigheid in die regspraak getuig teen hulle.
Hulle sondig openlik soos Sodom,
hulle steek niks weg nie.
Ellende wag vir hulle,
hulle het die ramp verdien!

10
Sê vir die regverdiges met húlle sal dit goed gaan;
hulle sal die vrug van hulle dade geniet.

11
Maar ellende wag vir die skuldiges;
wat hulle gedoen het,
sal aan húlle gedoen word.

12
My volk het kinders as regeerders,
vrouens as heersers.
My volk, jou leiers verlei jou
en bring jou van koers af.

13

Die Here is gereed vir die regsaak,
Hy staan klaar om oor die volk te oordeel.

14
Die Here begin die saak
teen die leiers en die hoë amptenare van sy volk:
Julle het die wingerde gestroop;
wat van die hulpeloses geroof is,
lê in julle huise.

15
Wat besiel julle dat julle my volk vertrap
en die hulpeloses verdruk?
vra die Here my God, die Almagtige.

16

Verder het die Here gesê:
Omdat die vrouens van Sion hoogmoedig is
en kop in die lug rondloop
terwyl hulle ogies maak,
wegstap met trippelgang
en hulle enkelringe laat rinkel,

17
sal Ek, die Here, hulle hare afskeer.
Ja, die Here sal hulle koppe kaalskeer.

18

Op dié dag sal die Here die versiersels wegneem: enkelringe, sonnetjies en maantjies,

19 oorbelletjies en armbande, sluiers

20 en hooftooisels, voetkettinkies, versierde gordels, reukwater en gelukbringertjies,

21 ringe en neusringe,

22 feesklere, mantels en tjalies, handsakkies

23 en spieëltjies, spogrokkies, kopdoekies en skouermanteltjies.


24
In plaas van reukwater sal daar stank wees,
in plaas van 'n gordel 'n tou,
in plaas van gekrulde hare 'n kaalkop,
in plaas van 'n fyn kledingstuk 'n harige roukleed,
in plaas van skoonheid die brandmerk van 'n slaaf.

25
Jerusalem, jou manne sal deur die swaard val
en jou jongmanne in die oorlog.

26
Jou poorte sal treur en rou,
en jy sal sonder mense sit.

4

1

Daardie dag sal sewe vrouens
een man beetpak
en sê: “Ons sal ons eie brood eet
en self vir ons klere sorg.
Laat ons net jou naam dra,
neem ons smaad weg!”

2
Daardie dag sal alles wat die Here laat uitspruit,
mooi en weelderig wees.
Dié uit Israel wat vrygekom het,
sal trots wees op die opbrengs van die land
en hulle daarin verlustig.

3

Wie in Sion oorgebly het,
wie in Jerusalem bewaar gebly het,
elkeen in Jerusalem wat vir die lewe opgeskryf is,
sal heilig genoem word.

4
Die Here sal die inwoners van Sion
reinig van hulle wandade
en Hy sal die bloed wat aan die hande van Jerusalem kleef,
verwyder deur die Gees wat oordeel en verteer.

5
Dan sal die Here bedags 'n wolk en snags
die rook en glans van 'n vlammende vuur skep
oor elke woonplek op Sionsberg
en oor al die bymekaarkomplekke daar.
Sy magtige teenwoordigheid sal alles beskut.

6
Daar sal 'n skuiling wees,
'n skaduwee teen die hitte bedags,
'n skuilplek en toevlug teen stortbuie en reën.

5

1

Ek wil sing oor Hom wat ek liefhet,
ek wil my liefdeslied sing oor sy wingerd:
Hy wat ek liefhet, besit 'n wingerd op 'n vrugbare heuwel.

2
Hy het die grond omgespit en die klippe verwyder,
dit beplant met veredelde wingerdstokke.
Hy het 'n wagtoring daarin gebou
en 'n parskuip uitgekap.
Hy het verwag dat dit goeie druiwe sou dra,
maar toe bring dit druiwe voort wat suur bly.

3

En nou, inwoners van Jerusalem en manne van Juda,
beslis tog tussen My en my wingerd.

4
Wat kan Ek nog vir my wingerd doen
wat Ek nie reeds gedoen het nie?
Wat is dan die rede dat dit suur druiwe voortgebring het
terwyl Ek verwag het dat dit goeie druiwe sou dra?

5
Ek maak julle nou bekend wat Ek met my wingerd gaan doen:
Ek gaan die doringheining verwyder en verbrand,
sy muur afbreek, sodat die wingerd vertrap kan word.

6
Ek gaan hom tot niet maak.
Hy sal nie meer gesnoei of geskoffel word nie,
maar ingeneem word deur doringbosse en onkruid.

Ek sal die wolke verbied om daarop te reën.

7

Die wingerd van die Here die Almagtige,
die wingerd wat Hy geplant het en waarin Hy Hom wou verlustig,
is die Israeliete, die volk van Juda.
Die Here het verwag dat daar reg sou wees,
maar daar was net onreg,
dat daar geregtigheid sou wees,
maar daar was net die hulpgeroep van veronregtes.

8
Ellende wag vir julle wat huis na huis inpalm,
die een plaas na die ander in die hande kry,
totdat daar geen plek vir ander oorbly nie
en net julle grondeienaars in die land is.

9
Ek het die Here die Almagtige 'n eed hoor neem:
Die baie huise, so groot en mooi, sal murasies word,
sonder bewoners.

10
'n Wingerd waaraan tien dae lank geploeg word,
sal net een mandjie druiwe oplewer,
en 'n sak saad net een kruik vol graan.

11

Ellende wag vir dié wat vroeg in die môre opstaan
om agter sterk drank aan te loop
en hulle tot laataand dronk te drink aan wyn.

12
Daar is liere en harpe,
tamboeryne, fluite, en wyn by hulle fuifpartye.
Maar van wat die Here doen, neem hulle geen notisie nie,
sy dade sien hulle nie raak nie.

13

Omdat my volk My nie wil ken nie,
sal hulle in ballingskap weggevoer word.
Volk en leiers sal saam van honger sterf,
omkom van dors.

14
Die doderyk maak sy keel wyd oop vir hulle,
hy sper sy bek groot oop.
Daarin sak die vooraanstaandes en die gewone burgers weg,
die hele rumoerige gepeupel.

15
So word mense verneder
en kom hulle tot 'n val.
So kom hoogmoed tot 'n val.

16

Die Here die Almagtige is verhewe,
Hy laat reg geskied;
die heilige God laat Hom ken as die Heilige,
Hy oordeel regverdig.

17
Op die puinhope sal lammers wei
asof hulle op hulle eie weiveld is,
skape sal rustig daar vreet.

18

Ellende wag vir dié wat hulle deur afgodsdiens
vaswoel in die bande van ongeregtigheid,
wat verstrik raak in die kettings van sonde.

19
Hulle sê: “Hy moet gou maak,
Hy moet sy werk gou doen dat ons dit kan sien!
Wat die Heilige van Israel wil doen,
moet gou gebeur dat ons dit kan weet.”

20

Ellende wag vir dié wat sleg goed noem en goed sleg,
wat van duisternis lig maak en van lig duisternis,
wat bitter soet noem en soet bitter.

21

Ellende wag vir dié wat dink hulle het die wysheid in pag,
wat dink hulle het baie verstand.

22

Ellende wag vir dié wat helde is by wyndrinkery,
dapper by die meng van hulle drank,

23
wat die skuldige vryspreek vir omkoopgeld,
maar 'n onskuldige sy reg ontneem.

24

Daarom, soos stoppels deur vuur verteer word
en hooi in vlamme opgaan,
so sal dit met hulle gaan.
Hulle sal met wortel en tak uitgeroei word,
want hulle het hulle nie gesteur
aan die openbaring van die Here die Almagtige nie,
hulle het die woord van die Heilige van Israel verwerp.

25

Daarom het die Here kwaad geword vir sy volk.
Hy het sy hand teen hulle uitgesteek en hulle getref,
sodat die berge gebewe het
en die lyke soos vuilgoed op die strate gelê het.
Ondanks dit alles bedaar die toorn van God nie
en bly sy hand uitgesteek teen hulle.

26

Uit die verte versamel Hy 'n nasie onder sy vaandel,
Hy roep hulle na Hom toe uit 'n ver land.
Hulle kom gou en vinnig.

27
Niemand is moeg nie, nie een struikel nie,
nie een is traag of aan die slaap nie.
Geen gordel hang los nie,
geen skoenriem is stukkend nie.

28
Hulle pyle is skerp, al hulle boë gespan,
hulle perde se pote is hard soos klip.
Die wiele van hulle strydwaens draai soos warrelwinde.

29
Hulle brul soos leeus,
soos sterk jong leeus
wat brul en hulle prooi bespring
en dit wegsleep sonder dat iemand dit kan afvat.

30
Daardie dag sal die vyand aangestorm kom
met 'n gedreun soos dié van die see.
As 'n mens na die land kyk,
sal daar benouende duisternis wees,
die lig sal verdwyn voor die donker wolke.

6

1

In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op 'n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul.

2 By Hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg.

3

Die serafs het mekaar telkens toegeroep:

“Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige!
Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.”

4

Hulle het so hard geroep dat die deure in hulle kosyne gerammel het en die tempel vol rook geword het.

5

Toe het ek uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder 'n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.”

6

Een van die serafs het toe 'n gloeiende kool met 'n tang van die altaar af gevat en na my toe gevlieg.

7 Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.”

8

Toe het ek die Here hoor vra:

“Wie kan Ek stuur?
Wie sal ons boodskapper wees?”

Ek het geantwoord:

“Hier is ek! Stuur my!”

9

Toe het die Here gesê:

“Gaan sê vir hierdie volk:
Julle sal hoor en hoor en tog sal julle niks verstaan nie,
en kyk en kyk en tog niks sien nie.”

10

Verder het Hy vir my gesê:

“Maak hierdie volk traag van begrip,
maak hulle ore doof
en hulle oë blind
sodat hulle nie met hulle oë sien,
met hulle ore hoor,
en met hulle verstand begryp
en hulle hulle bekeer en genees word nie.”

11

Toe vra ek: “Tot wanneer, Here?”

En Hy het geantwoord:

“Totdat die stede verwoes
en sonder inwoners is,
totdat die huise verlate is
en die land in 'n puinhoop omskep is,

12
totdat Ek, die Here, die mense ver weggevoer het,
en die land heeltemal verlate is.

13
Selfs al is daar net 'n tiende oor,
sal die land nog verder verwoes word.

“Maar soos van 'n akkerboom of 'n terpentynboom
'n stomp bly staan wanneer dit afgekap word,
so sal daar vir die land 'n stomp oorbly:
die gewyde geslag.”

7

1

In die tyd toe Agas, seun van Jotam en kleinseun van Ussia, koning van Juda was, het die Aramese koning Resin en die Israelitiese koning Peka seun van Remalja 'n veldtog teen Jerusalem onderneem. Die veldtog het egter op niks uitgeloop nie.

2

Die berig dat die Arameërs reeds in die Israelitiese gebied in Efraim kamp opgeslaan het, het vir Agas, die koning uit die geslag van Dawid, in Jerusalem bereik, en hy en sy volk het baie bang geword. Hulle het gebewe soos die bome in die bos bewe in die wind.

3

Die Here het toe vir Jesaja gesê: Vat jou seun Sear-Jasub saam en gaan ontmoet vir Agas op die pad na die Bleikveld toe by die punt van die kanaal uit die boonste dam.

4 Sê vir hom: Bedaar! Bly kalm! Moenie bang wees nie! Moet jou nie ontstel oor hierdie twee stukke brandhout nie, hulle rook net. Moenie bang wees vir die dreigemente van Resin en sy Arameërs en van Peka seun van Remalja nie.

5 Die Arameërs en die Efraimiete onder leiding van die seun van Remalja beplan jou ondergang.

6 Hulle het vir mekaar gesê: Kom ons val Juda aan en oorrompel hom. Dan verdeel ons die land onder ons en ons maak die seun van Tabeal koning van Juda.

7

Maar so sê Ek, die Here jou God:

Dit sal nie plaasvind nie,
dit sal nie gebeur nie,

8

want dit is maar net Damaskus wat die hoofstad van Aram is en net Resin wat die koning van Damaskus is. Efraim sal binne vyf en sestig jaar so verwoes word dat hy geen volk meer sal wees nie,

9 want dit is maar net Samaria wat die hoofstad van Efraim is en net Peka seun van Remalja wat koning van Samaria is.

Maar ook julle sal nie standhou
as julle nie in geloof standhou nie.

10

Verder het die Here gesê: Jy moet ook nog vir Agas sê:

11 Vra van die Here jou God 'n teken, enigiets, diep uit die doderyk of uit die hoogtes daarbo.

12

Maar Agas het geantwoord:

“Ek sal niks vra nie, ek sal die Here nie tart nie.”

13

Toe sê Jesaja:

“Luister, geslag van Dawid!

Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei nie, dat julle nou ook my God moet vermoei?

14 Die Here sal daarom self vir julle 'n teken gee: 'n Jong vrou sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.

15 Hy sal net dikmelk en heuning hê om te eet totdat hy weet om te verwerp wat verkeerd is en te kies wat goed is.

16 Maar voordat die seuntjie weet om die verkeerde te verwerp en die goeie te kies, sal die lande van die twee konings vir wie jy bang is, verwoes lê.

17

“Wat jou, jou volk en jou familie betref, die Here sal 'n tyd oor julle laat kom soos daar nie was sedert die dae toe Efraim van Juda af weggebreek het nie. Dit sal gebeur deur die koning van Assirië.

18

“In dié tyd sal die Here fluit vir die vlieë ver langs die riviere van Egipte en vir die bye in Assirië.

19 Hulle sal almal kom en gaan sit in die steil klowe en in die rotsskeure en op al die doringbosse en by al die drinkplekke.

20

“In dié tyd sal die Here julle kaalskeer, die hare op julle koppe en op julle liggame, en ook julle baarde. Hy sal dit doen met 'n skeermes wat oorkant die Eufraat gehuur is, die koning van Assirië.

21

“In dié tyd sal iemand wat net 'n jong koei en twee ooie aan die lewe hou,

22 dikmelk hê om te eet danksy die oorvloed melk wat hulle gee. Dié wat in die land oorbly, sal almal dikmelk en heuning eet.

23

“In dié tyd sal elke stuk grond waar 'n duisend waardevolle wingerdstokke gestaan het, oortrek wees van dorings en dissels.

24 'n Mens sal daar net met 'n pyl en boog kan kom, omdat die hele land vol dorings en dissels sal wees.

25 Uit vrees vir die dorings en dissels sal niemand meer êrens op die heuwels kan kom wat voorheen met 'n pik bewerk is nie. Dit sal net 'n plek wees waar 'n mens beeste injaag en wat deur kleinvee vertrap word.”

8

1

Die Here het vir my gesê: Vat 'n stuk leer en skryf daarop met 'n pen: Plunder en roof is naby.

2 Ek sal betroubare getuies vir My laat optree: Urija die priester en Sagaria seun van Jeberekja.

3

Na 'n tyd het my vrou swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring. Die Here het toe vir my gesê: Noem hom: Plunder-en-Roof-is-Naby,

4 want voordat die seuntjie pa of ma kan sê, sal die rykdom van Damaskus en die besittings van Samaria as buit na die koning van Assirië toe gevat word.

5

Die Here het verder met my gepraat:

6 “Omdat hierdie volk Siloag se kalm waters verwerp het en bang geword het vir Resin en vir Peka seun van Remalja,

7 sal die Here die magtige vloedwaters van die Eufraat oor hulle laat kom: die Assiriese koning met al sy mag. Die Eufraat sal oor al sy oewers stoot, oor al sy walle spoel.

8 Hy sal Juda binnedring, die hele land oorstroom en daardeur vloei totdat hy skouerhoogte bereik. Hy sal sy vlerke uitsprei totdat dit jou land heeltemal oordek, Immanuel.”


9
Doen maar kwaad, volke, julle sal inmekaar stort!
Luister, al julle ver plekke van die aarde!
Maak maar klaar vir die geveg, julle sal inmekaar stort!
Maak maar klaar vir die geveg, julle sal inmekaar stort!

10
Smee maar planne, dit sal verydel word! Pleeg maar oorleg,
daar sal niks van kom nie! God is by ons!

11

In sy groot mag het die Here my gewaarsku om nie die voorbeeld van hierdie volk te volg nie. Hy het gesê:

12 Julle moenie alles 'n sameswering noem wat hierdie volk 'n sameswering noem nie. Julle moenie bang wees en skrik vir die dinge waarvoor hulle bang is nie.

13 Julle moet die Here die Almagtige eer as die Heilige. Vir Hom moet julle vrees en vir Hóm moet julle bang wees.

14 Hý sal vir julle 'n veilige beskutting wees, maar vir die twee koninkryke Juda en Israel sal Hy 'n klip wees waarteen 'n mens jou stamp, 'n rots waaroor jy struikel. Vir die inwoners van Jerusalem sal Hy 'n vangnet en 'n strik wees.

15 Baie van hulle sal struikel en val, verstrik en gevang word; hulle sal verpletter word.


16
Bly eers stil oor my prediking,
laat my volgelinge vir hulleself hou wat ek hulle geleer het.

17

Ek vertrou op die Here
wat Hom vir die nageslag van Jakob verberg,
op Hóm hoop ek.

18

Hier is ek en die kinders wat die Here vir my gegee het. Ons is in Israel lewende getuies van die Here die Almagtige wat op Sionsberg woon.

19

Mense sê julle moet mediums en spiritiste raadpleeg wat fluister en mompel, maar moet 'n volk nie sy God raadpleeg nie? Waarom sou 'n mens dooies in belang van lewendes raadpleeg?

20 Terug na die wet en die getuienis van die Here! Wie nie volgens hierdie woord praat nie, is sonder toekoms!

21 Bedruk en honger sal hy deur die land trek. Wanneer die hongersnood hom tref, sal hy kwaad word en sal hy sy koning en sy God vervloek. Hy sal boontoe

22 en ondertoe kyk, maar hy sal niks anders sien as benoudheid en donkerte nie, die volslae duisternis en donkerte waarin hulle gedryf is.

23

Maar in die land waar daar duisternis is, sal daar nie langer donkerte wees nie. In die verlede het die Here die gebiede Sebulon en Naftali verneder, maar in die toekoms sal Hy die pad na die see van Galilea toe, die Jordaanstreek en die gebied van die heidene in ere herstel.

9

1

Die volk wat in donkerte geleef het, het 'n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het 'n lig geskyn.


2
U het dié wat nie meer 'n nasie was nie, baie gemaak,
hulle blydskap groot gemaak.
Hulle het hulle in u teenwoordigheid verbly
soos mense bly is in die oestyd,
soos hulle juig wanneer hulle die buit verdeel.

3
Soos die dag toe Midian verslaan is,
het U die juk verbreek wat op die volk gedruk het,
die stok waarmee hulle geslaan is, waarmee hulle gedryf is.

4
Elke soldateskoen wat in die oorlog gebruik is,
en elke uniform wat met bloed bevlek is, sal verbrand word,
deur die vuur verteer word.

5

Vir ons is 'n Seun gebore,
aan ons is 'n Seun gegee;
Hy sal heers, en Hy sal genoem word:
Wonderbare Raadsman,
Magtige God,
Ewige Vader,
Vredevors.

6

Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.

7

Die Here het 'n boodskap gestuur vir Jakob, vir Israel; Hy het hulle aangespreek:

8

Die hele volk, Efraim en die inwoners van Samaria wat so trots en selfversekerd is, moet dit weet. Hulle sê:

9 “Die huise van roustene het wel omgeval, maar ons sal met gekapte klip bou; die wildevyebome is wel afgekap, maar ons sal dit met seders vervang.”

10

Die Here gee aan Resin se teëstanders die oorhand oor hom en hits sy vyande aan.

11 Arameërs uit die ooste en Filistyne uit die weste het vir Israel met een hap verslind. Ondanks dit alles bedaar die toorn van die Here nie; sy hand bly uitgesteek teen hulle.

12

Die volk het hulle egter nie bekeer tot Hom deur wie hulle gestraf is nie, hulle het nie gevra na die wil van die Here die Almagtige nie.

13

Daarom sal die Here vir Israel heeltemal vernietig op een enkele dag; Hy sal kop en stert, palmtak en biesie, afsny.


14
Die leiers en die koning se gunstelinge is die kop,
die profete wat leuens verkondig, is die stert.

15
Dié wat die volk moes lei, het hulle mislei,
en dié wat gelei moes word, is verwar.

16

Almal is godloos en sleg, elke mond laster teen die Here. Daarom sal selfs die volk se jongmense die Here nie meer vreugde verskaf nie en sal Hy nie langer barmhartig wees oor die volk se weeskinders en weduwees nie. Ondanks dit alles bedaar die toorn van die Here nie; sy hand bly uitgesteek teen hulle.

17

Die goddeloosheid brand soos 'n vuur. Dit verteer dorings en dissels en steek die digte takke van die bos aan die brand, sodat hulle in 'n rookkolom verdwyn.

18 Onder die straf van die Here die Almagtige brand die land weg, die volk het vuurmaakhout geword; die een mens bekommer hom nie oor die ander nie.

19

Elkeen verslind links en regs maar kry nie genoeg nie. So verteer hy sy eie krag.

20 Manasse veg teen Efraim, Efraim teen Manasse, en saam veg hulle teen Juda. Ondanks dit alles bedaar die toorn van die Here nie; sy hand bly uitgesteek teen hulle.

10

1

Ellende wag vir julle wat kwaad bevorder met die wette wat julle maak, wat met julle ordonnansies mense laat ly:

2 julle verdraai die reg van die armes, julle ontsê die armes van my volk hulle regte, julle buit weduwees uit, julle plunder weeskinders.

3

Wat gaan julle doen op die dag van afrekening wanneer die straf wat nou nog ver is, julle tref? Na wie toe sal julle hardloop om hulp, en waar sal julle julle besittings wegsteek?

4 Al wat vir julle sal oorbly, is om te buig soos 'n gevangene of om te sterf. Ondanks dit alles bedaar die toorn van die Here nie; sy hand bly uitgesteek teen hulle.


5
Ellende wag vir Assirië,
Assirië, die stok waarmee Ek sal straf,
die werktuig van my toorn!

6
Ek stuur hom teen die godlose nasie,
Ek beveel hom om op te trek teen die volk vir wie Ek kwaad is,
om hulle te beroof en te plunder,
om hulle te vertrap soos modder in die strate.

7
Maar dit is nie wat Assirië in gedagte het nie,
ook nie wat hy beplan nie.

Sý bedoeling is om te vernietig, om baie nasies uit te roei.

8 Hy vra: “Is al my vorste nie konings nie?

9 Het dit nie met Kalne gegaan soos met Karkemis nie, met Hamat soos met Arpad nie, met Samaria soos met Damaskus nie?

10 Ek het nog altyd die koninkryke van ander gode ingeneem, gode wie se beelde meer was as dié van Jerusalem en Samaria.

11 Sal ek nie met Jerusalem en sy gode kan doen wat ek met Samaria en syne gedoen het nie?”

12

Maar wanneer die Here alles wat Hy op Sionsberg en in Jerusalem wil doen, afgehandel het, sal Hy die koning van Assirië straf oor sy trots en selfversekerdheid,

13 want die koning van Assirië het gesê: “Ek het dit met my eie mag gedoen, met my eie insig en verstand. Ek het die grenslyne van volke verskuif en hulle voorrade geplunder; ek het hulle inwoners met my mag onderwerp.

14 Asof ek my hand in 'n nes steek, het ek die rykdomme van volke gevat; soos iemand eiers wat rondlê, bymekaarmaak, so het ek al die lande van die aarde onder my verenig. Nie een het 'n vlerk geklap of sy bek oopgemaak en geskree nie.”

15

Kan 'n byl grootpraat teen die een wat met hom kap? Of kan 'n saag hom groot hou teen die een wat met hom saag? Kan 'n stok die een swaai wat hom optel, kan 'n lat die een oplig wat hom gebruik?

16 Daarom sal die Here ons God, die Almagtige, die vernames van Assirië laat krepeer van ellende en sy besittings laat verteer deur 'n vuur wat aanhou brand.

17

Die Lig van Israel sal die vuur wees, die Heilige van Israel die vlam: in 'n enkele oomblik sal die vlam hulle geringes, die dorings en dissels, verbrand en verteer,

18 en ook hulle aansienlikes, die vrugteboorde en die vrugbare velde. Dit sal hulle volkome vernietig.

19 Die bome wat in die bos, Assirië, oorbly, sal so min wees dat 'n klein seuntjie dit sal kan tel.

20

In dié tyd sal dié wat in Israel, in Jakob oorgebly het en ontkom het, nie meer hulle vertroue stel in Assirië deur wie hulle vertrap is nie, maar hulle sal net op die Here, die Heilige van Israel, vertrou.

21 Daar sal 'n oorblyfsel terugkom na die magtige God toe, die oorblyfsel van Jakob.

22 Al sou jou mense, Israel, so baie wees soos die sand van die see, net 'n oorblyfsel sal na die land toe terugkom.

Maar die verdelging staan vas, die vergelding kom aan soos 'n vloed:

23 Die Here ons God, die Almagtige, het vas besluit om die hele land te verdelg.

24

Daarom, so sê die Here ons God, die Almagtige: My volk wat op Sion woon, moenie bang wees vir die Assiriërs nie, vir dié wat vir julle vertrap het en slawe gemaak het van julle, soos Egipte gedoen het.

25 My toorn teen julle sal nog net 'n kort rukkie duur, dan sal dit die Assiriërs uitroei.

26 Die Here die Almagtige sal hulle met 'n sweep slaan, soos vir Midian by die Orebrots; Hy sal sy stok oor die water uitsteek en die Assiriërs tref soos Hy met die Egiptenaars gedoen het.

27

In dié tyd sal Hy die las verwyder wat hulle op julle skouers gelê het, en ook hulle juk van julle nek af; die juk sal heeltemal van julle af afgeruk word.

28

Die Assiriërs oorval Aja; hulle trek deur Migron; in Mikmas bêre hulle hulle voorrade.

29 Hulle trek oor die pas en sê: “Ons wil vannag in Geba kamp opslaan.”

Die inwoners van Rama bewe, dié van Gibea van Saul slaan op die vlug.

30 Skreeu, mense van Gallim! Luister, inwoners van Lajesa! Arme Anatot!

31 Die inwoners van Madmena vlug, dié van Gebim soek skuiling!

32 Nog vandag sal die Assiriërs in Nob kamp opslaan, en daarvandaan sal hulle beduie in die rigting van die Sionsberg, die heuwel waarop Jerusalem lê.

33 Maar dan sal die Here ons God, die Almagtige, die takke van die bos, Assirië, met geweld afkap. Die hoë bome sal afgekap word, die grotes sal val.

34 Die Here sal die digte takke van die bos met 'n byl afkap; die Libanon sal val voor die magtige God.

11

1

'n Takkie sal uitspruit
uit die stomp van Isai,
'n loot uit sy wortels sal vrugte dra.

2

Die Gees van die Here sal op hom rus:
die Gees wat wysheid en insig gee,
die Gees wat raad en sterkte gee,
die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here.

3

Die takkie sal vreugde vind in die diens van die Here.
Hy sal nie regspreek volgens uiterlike skyn nie
en nie oordeel volgens hoorsê nie.

4
Hy sal die armes billik verhoor
en die ootmoediges in die land regverdig oordeel.
Hy sal die goddeloses in die land hard oordeel,
met sy uitsprake sal hy hulle om die lewe bring.

5
Hy sal regverdig en betroubaar regeer.

6
Wolwe en skape sal dan saam bly,
luiperds sal tussen bokkies lê,
kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees
en klein seuntjies sal vir almal sorg.

7
Koeie en bere sal saam wei,
hulle kleintjies sal bymekaar lê,
leeus sal gras eet soos beeste.

8
Babatjies sal by die gate van adders speel,
klein kindertjies sal hulle hande uitsteek na giftige slange.

9

Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie, want die aarde sal so vol wees van die kennis van die Here soos die see vol water is.

10

In dié tyd sal iemand uit die geslag van Isai 'n vaandel wees vir die volke. Die nasies sal na hom vra, en sy woonplek sal hoë aansien geniet.

11

In dié tyd sal die Here 'n tweede keer sy hand uitsteek om die oorblyfsel van sy volk los te koop, almal wat oorgebly het in Assirië, Egipte, Patros, Kus, Elam, Sinar, Hamat en die kuslande rondom die Middellandse See.

12 Die Here sal 'n vaandel oprig onder die nasies en sal die ballinge van Israel bymekaarmaak, die verstrooides van Juda laat saamkom van die uithoeke van die aarde af.

13 Efraim se naywer sal verdwyn, en Juda se teëstanders sal uitgeroei word. Efraim sal nie weer jaloers wees op Juda nie, en Juda sal nie weer vyandig wees teenoor Efraim nie.

14 Saam sal hulle in die weste die Filistyne aanval en saam sal hulle die mense in die ooste plunder. Hulle sal die Edomiete en die Moabiete verslaan, en die Ammoniete sal aan hulle onderdanig wees.

15 Die Here sal die Nyldelta laat opdroog. Hy sal 'n skroeiende wind teen die Eufraat stuur en net sewe kanale daarvan laat oorbly wat 'n mens met jou skoene aan kan deurloop.

16 Daar sal vir die oorblyfsel van sy volk wat in Assirië is, 'n grootpad wees soos daar was toe Israel uit Egipte getrek het.

12

1

Op daardie dag sal jy sê:

“Ek loof U, Here!
U was kwaad vir my,
maar U is nou nie meer kwaad nie
en U het vir my uitkoms gegee.

2
God is my redder;
Ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie.
Die Here my God is my krag en my beskerming;
Hy is my redder.”

3

Met blydskap sal julle water skep
uit die fonteine van redding.

4
Op dié dag sal julle uitroep:
“Loof die Here,
roep sy Naam aan,
maak sy dade onder die volke bekend
en verkondig dat sy Naam groot is.

5
Sing tot die eer van die Here, want Hy het groot dinge gedoen,
maak dit aan die hele wêreld bekend.

6
Jubel en juig, inwoners van Sion,
want groot is die Heilige van Israel
en Hy is by julle!”

13

1

'n Uitspraak teen Babel wat deur die Here aan Jesaja seun van Amos geopenbaar is:


2
Hou 'n vaandel op bo-op 'n kaal heuwel,
ontbied die leërmag,
wink hulle nader met die hand:
hulle moet die poorte van die trotse stad binnedring!

3
Ek, die Here, het soldate in diens geneem,
Ek het hulle ontbied om my oordeel te voltrek,
hulle wat hulle verheug oor my mag.

4
Hoor die gedreun op die berge,
soos dié van 'n groot leërmag.
Hoor die rumoer van die koninkryke,
van nasies wat saamgespan het!
Die Here die Almagtige maak 'n leër gereed vir die oorlog.

5
Hulle kom uit 'n ver land,
van die uithoeke van die aarde af;
die Here en die werktuie van sy oordeel
kom om die hele land te verwoes.

6

Huil, want die dag van die Here is naby;
dit bring verwoesting,
dit kom van die Almagtige af.

7

Almal se hande sal slap hang,
almal se harte sal verstyf van angs.

8

Hulle sal skrikbevange raak,
krampe en pyne sal hulle oorval;
soos 'n vrou wat 'n kind in die wêreld bring,
sal hulle inmekaarkrimp.
Hulle sal mekaar beangs aankyk,
wit van die skrik.

9

Die dag van die Here het nou gekom,
dit is 'n wrede dag,
'n dag van gramskap en gloeiende toorn,
'n dag waarop die land verwoes
en sy sondaars uitgeroei word.

10
Die sterre en die sterrebeelde sal nie meer lig gee nie,
die son sal al donker wees wanneer hy opkom,
die maan sal ophou lig gee.

11
Ek sal die land straf oor sy boosheid,
die goddeloses vir hulle sonde.
Ek sal 'n einde maak aan die hoogmoed van die vermeteles,
Ek sal dié wat hoogmoedig en verwaand is, verneder.

12
Ek sal mense skaarser maak as suiwer goud,
skaarser as die goud uit Ofir.

13
Ek sal die hemel skud,
die aarde sal uit sy plek uit geruk word,
Ek, die Here die Almagtige, doen dit in my gramskap
die dag wanneer my toorn ontvlam.

14
Soos 'n ribbok wat opgejaag is,
soos 'n skaap wat nie opgepas word nie,
so sal die mense uit Babel padgee,
elkeen na sy eie volk toe,
so sal elkeen na sy eie land toe vlug.

15
Wie gevang word, sal doodgesteek word,
wie ingehaal word, sal om die lewe gebring word.

16
Hulle babatjies sal voor hulle oë papgeslaan word,
hulle huise sal geplunder
en hulle vrouens verkrag word.

17
Kyk! Ek maak die Mediërs Babel se vyande,
hulle gee nie om vir silwer nie
en is nie erg oor goud nie!

18
Hulle pyle sal die jongmanne deurboor;
met babatjies sal hulle geen meegevoel hê nie,
hulle sal kinders nie verskoon nie.

19
Babel, die sieraad onder die koninkryke,
die pronkstuk en trots van die Galdeërs,
sal deur God verwoes word soos Sodom en Gomorra.

20
Die stad sal nooit meer bewoon word nie,
niemand sal ooit weer daarin bly nie.
Geen Arabier sal sy tent daar opslaan nie,
geen wagter sal sy kudde daar laat rus nie.

21
Net woestyndiere sal daar gaan lê;
die huise sal vol uile wees;
volstruise sal daar bly
en veldgode sal daar ronddans;

22
hiënas sal in die paleise huil,
jakkalse in die huise waar feesgevier is.
Die stad se ondergang is hier,
sy dae is getel.

14

1

Die Here sal Hom ontferm oor Jakob, Hy sal Israel weer sy volk maak en hulle weer in hulle eie land laat woon. Vreemdelinge sal by hulle aansluit en hulle vereenselwig met Jakob.

2 Ander volke sal hom vat en in sy land bring. Hulle sal Israel se eiendom word, slawe en slavinne in die land van die Here. Israel sal dié gevange hou deur wie hy gevange weggevoer is, en hy sal heers oor dié wat hom onderdruk het.

3 Die dag wanneer die Here vir jou rus gee van jou lyding en jou verdrukking en van die slawewerk wat jy moes doen,

4 sal jy hierdie spotlied oor die koning van Babel sing:

Die verdrukker se einde het gekom,
die lyding wat hy veroorsaak het,
is op 'n end.

5
Die Here het die heerskappy van die goddeloses verbreek,
die mag van die oorheersers.

6
Die verdrukker het in sy gramskap volke getref
met straf wat nie opgehou het nie,
hy het in sy toorn nasies vertrap,
hulle sonder medelye agtervolg.

7

Die hele aarde het nou rus en vrede,
sy inwoners juig en sing.

8
Selfs die sipresse en die seders op die Libanon
is bly oor wat met jou gebeur het, Babel.
Hulle sê: “Vandat jy verslaan is,
klim niemand na ons toe op om ons af te kap nie!”

9

Die doderyk daaronder kom in beroering
omdat jy soontoe kom.
Dié wat reeds daar is, word wakker gemaak,
almal wat leiers op aarde was;
almal wat konings van nasies was,
moet van hulle trone af opstaan.

10

Almal begin praat, hulle sê vir jou:
“Jy is nou net so swak soos ons,
jy het soos ons geword!”

11

Jy het met jou hoogmoed,
met die klank van jou harpmusiek en al
in die doderyk beland.
Jy lê tussen die maaiers,
jy is oortrek van die wurms.

12
Jy wat die helder môrester was,
het uit jou hemel geval.
Jy wat 'n oorwinnaar van nasies was,
is in die grond in verpletter.

13

En dit jy, jy wat gedink het:
ek klim op hemel toe,
ek gaan my troon neersit
bokant die hoogste sterre,
ek gaan my plek inneem op die berg
waar die gode mekaar ontmoet,
ver in die noorde;

14
ek klim op tot bokant die wolke,
ek word soos die Allerhoogste self.

15
Maar jy stort af in die doderyk,
af tot in sy diepste deel.

16
Dié wat jou daar sien, sal jou aangaap,
hulle sal jou bekyk en vra:
“Is dit die man wat die aarde laat bewe het,
wat koninkryke laat wankel het,

17
die man wat die wêreld onbewoon gemaak het
en die stede vernietig het,
die man wat sy gevangenes nie vrygelaat het
om terug te gaan huis toe nie?”

18

Al die konings van die nasies
is met eer begrawe,
elkeen in sy eie graf.

19
Maar jý word nie begrawe nie, jy word weggegooi
soos 'n boomtak wat klaar vrot is.
Jy lê toe onder die lyke
van dié wat doodgesteek is.
Jy is soos dooie aas wat vertrap word.
Ander word begrawe in grafte in die rots,

20
maar jy word nie begrawe nie,
want jy het jou eie land verwoes
en jou eie mense laat doodmaak.
Die naam van 'n skurk word nie in gedagtenis gehou nie.

21

Maak reg die plek om sy seuns dood te maak
oor die sondes van hulle voorgeslag,
dat die seuns nie die aarde in besit kan neem
en die wêreld vol stede bou nie.

22
Ek sal hulle aanval,
sê die Here die Almagtige.
Ek sal maak dat die gedagtenis aan die koning van Babel verdwyn,
dat daar niks van hom oor is nie,
nie een enkele afstammeling nie, sê die Here.

23
Ek maak sy land 'n blyplek vir uile, 'n rietmoeras.
Ek vee Babel weg met 'n besem wat verwoes,
sê die Here die Almagtige.

24
Die Here die Almagtige het 'n eed afgelê:
Soos Ek My voorgeneem het, so sal dit wees,
wat Ek besluit het, sal gebeur.

25
Ek sal die Assiriërs verpletter in my land,
hulle op my berge vertrap.
Die juk wat op my volk gedruk het, sal weggevat word,
die las wat Assirië hulle laat dra het, sal verwyder word.

26
Dit is die besluit wat vir die hele aarde geneem is,
my hand is klaar uitgesteek teen al die nasies om hulle te oordeel.

27
Die Here die Almagtige het dit besluit; wie sal dit kan verydel?
Sy hand is uitgesteek; wie sal die oordeel kan afweer?

28

In die jaar van koning Agas se dood is hierdie uitspraak gemaak:


29
Julle Filistyne moenie almal so bly wees
dat die stok waarmee julle geslaan is, verbreek is nie,
want in die plek van die een slang kom 'n giftiger een,
en uit dié se eier kom daar 'n vlieënde draak.

30
Die armstes in Israel sal iets hê om te eet,
sý behoeftiges sal veilig woon,
maar julle Filistyne se nageslag laat Ek van honger sterf,
wat van julle oor is, word deur die honger verteer.

31
Huil, poorte! Skreeu, stede!
Smelt weg, Filistyneland!
Daar kom rookwolke uit die noorde,
die vyand se manskappe kom aan, almal in gelid!

32
Wat sal 'n mens die boodskappers van dié nasie antwoord?
Die Here het vir Sion tot stand laat kom,
sy geteisterde volk vind daar skuiling!

15

1

'n Uitspraak van die Here teen Moab:

Ar-Moab is oornag verwoes, vernietig.
Kir-Moab is oornag verwoes, vernietig.

2
Die inwoners van Dibon gaan na die hoogtes toe om te huil,
die Moabiete treur oor Nebo en Medeba.
Die Moabiete se koppe is kaalgeskeer,
hulle baard is afgesny,

3
hulle dra rouklere op die strate,
hulle huil op die dakke en die pleine,
hulle vergaan van verdriet.

4
Die mense van Gesbon en Elale skreeu van angs,
dit word tot by Jahas gehoor.
Selfs Moab se soldate skreeu,
hulle moed begeef hulle.

5

My hart brand oor Moab.
Sy mense het gevlug tot by Soar,
tot by Eglat-Selisija.
Hulle klim die opdraand na Lugit toe huil-huil uit,
op pad na Goronajim toe skreeu hulle
oor die ramp wat hulle getref het.

6
Die water van Nimrim het opgedroog,
die gras het verdor,
die plante het verdwyn,
daar is geen groenigheid meer nie.

7
Die Moabiete vat wat hulle gespaar en opgegaar het,
en dra dit oor Wilgerspruit.

8
Hulle geroep weerklink deur die hele gebied van Moab,
hulle gehuil word gehoor tot by Eglajim en Beër-Elim.

9
Die water van Dibon is vol bloed,
maar Ek sal erger rampe oor hom bring, sê die Here.
Ek laat dié wat uit Moab ontkom het
en dié wat oor is in die land, deur leeus verskeur.

16

1

Stuur uit Sela in die woestyn na Sionsberg toe
lammers vir die regeerder van die land,

2
want soos voëltjies wat rondfladder nadat hulle uit die nes geskop is,
so drom die mense van Moab by die Arnon se driwwe saam.

3
Hulle sê vir Juda:
“Gee vir ons raad, maak 'n plan,
laat u skaduwee oor ons val,
maak dit donker oor ons op hierdie snikhete dag,
beskerm dié wat verjaag is,
moenie die vlugtelinge uitlewer nie!

4
Neem Moab se vlugtelinge in beskerming,
wees vir ons 'n skuilplek teen dié wat vir ons wil vernietig!”

Wanneer die nood verby is,
die verwoesting tot 'n einde kom
en dié wat die land vertrap, weg is,

5
sal die Here in sy trou 'n troon oprig,
en daarop sal 'n heerser sit uit die nageslag van Dawid.
Hy sal betroubaar wees: hy sal hom beywer vir wat reg is,
hy sal reg laat geskied.

6

Ons het gehoor van die hoogmoed van Moab,
van sy trots, sy vermetelheid, sy hoogmoed, sy hovaardigheid,
maar sy grootpratery het tot niks gelei nie!

7
Daarom huil Moab nou oor Moab,
hulle huil almal,
hulle kerm verslae oor die rosyntjiekoeke van Kir-Geres,

8
want die wingerde op die terrasse van Gesbon
en die wingerde van Sibma verwelk.
Hulle wyn het heersers van nasies dronk gemaak,
dié wingerde wat gestrek het tot by Jaser,
gerank het tot in die woestyn.
Hulle ranke het welig gegroei
en tot by die see gekom.

9

Ek huil saam met Jaser oor die wingerde van Sibma,
my trane vloei oor julle, Gesbon en Elale,
want julle het nie meer 'n vrugteoes en 'n graanoes nie,
daar is nie meer oesvreugde nie;

10
vreugde en gejuig het verdwyn uit die vrugteboorde;
in die wingerde word daar nie meer gesing en gejubel nie,
in die parskuipe word daar nie meer wyn uitgetrap nie,
want Ek maak 'n einde aan die oesvreugde, sê die Here.

11
Dit kerm in My oor Moab,
dit kerm soos 'n lier,
my binneste kerm oor Kir-Geres.

12
Wanneer Moab na hulle hoogtes toe gaan
en hulle daar afsloof om offers te bring,
wanneer hulle na hulle heiligdomme toe gaan om te bid,
is dit tevergeefs.

13

Dit is wat die Here vantevore oor Moab gesê het.

14 En nou sê die Here: Binne drie jaar, drie jaar wat so ondraaglik sal wees as wat dit vir 'n dagloner is, sal van Moab se mag en van al sy baie mense min oor wees. Wat oor is, sal min en niks werd wees.

17

1

'n Uitspraak van die Here teen Damaskus:

Damaskus gaan ophou om 'n stad te wees,
hy word 'n puinhoop.

2
Die buitedorpe van Aroër sal verlate lê,
daar sal net kleinvee wees.
Hulle sal daar lê en niemand sal hulle opjaag nie.

3
Vestingstede sal verdwyn uit Efraim,
koninklike mag uit Damaskus.
Wat van die Arameërs oorbly,
sal so min mag hê soos die Israeliete,
sê die Here die Almagtige.

4
Daardie dag sal Jakob se mag onbeduidend word
en sy voorspoed sal verdwyn.

5
Dit sal wees soos wanneer iemand wat oes,
die graanhalms bymekaargevat en die are afgesny het.
Dit sal wees soos wanneer iemand ook die are wat geval het,
opgetel het in Spooklaagte.

6
As dan nog iets agterbly om te oes,
sal dit wees soos nadat olywe afgeslaan is:
twee of drie rypes aan die punt van 'n tak,
vier of vyf aan die takkies wat gedra het,
sê die Here die God van Israel.

7
Daardie dag sal die mens weer sy hoop op sy Maker vestig,
sy hulp van die Heilige van Israel verwag.

8
Hy sal nie meer sy hoop vestig op die altare,
die werk van sy eie hande nie.
Hy sal nie hulp verwag van die gewyde pale
en die wierookaltare wat hy self gemaak het nie.

9
Daardie dag sal Israel se vestingstede verlate lê,
so verlate soos die boswêreld
waaruit die inwoners destyds vir die Israeliete gevlug het.
Die stede sal sonder inwoner wees.

10
Jy, Israel, het die God wat jou altyd gehelp het, verlaat;
jy het gemaak of die Rots wat jou toevlug was,
nie meer daar is nie.
Lê maar pragtige tuine aan vir jou afgode,
plant maar allerlei uitheemse struike;

11
al kan jy hulle laat groei dieselfde dag as jy hulle plant,
hulle laat uitspruit die môre as jy hulle in die grond sit,
van die oes sal niks kom
wanneer siekte en smart jou tref nie.

12

Ellende wag vir die baie nasies
wat net so onstuimig as die see is,
die opstandige volke wat te kere gaan soos magtige waters,

13
die opstandige volke wat te kere gaan soos die groot waters.
Wanneer die Here hulle aanspreek, sal hulle ver weg vlug,
weggedryf oor die berge soos kaf voor die wind,
soos tolbosse voor 'n stormwind.

14
Die aand nog saai die nasies verskrikking
maar voor dit môre is, is hulle weg.
Dit is wat sal gebeur met dié wat nou ons land stroop,
dit is die bestemming van dié wat ons besittings plunder.

18

1

Ellende wag vir die land met die insekteplae,
die land aan die riviere van Kus!

2
Hy stuur gesante oorsee,
hy stuur hulle in papirusbote oor die water.
Gaan terug, gesante wat so haastig is,
gaan terug na julle lang mense toe, hulle met die blink velle,
julle volk wat wyd en syd gevrees word,
wat gewoond is om alles met mag plat te trap,
en wie se land deur riviere deursny word.

3

Julle almal wat in die wêreld woon,
julle bewoners van die aarde,
kyk wanneer die vaandel opgesteek word op die berge,
luister wanneer die ramshoring blaas!

4
So het die Here vir my gesê:
Ek sal rustig uit my woonplek ondertoe kyk,
ongestoord soos die hittegolwe op 'n warm dag,
soos 'n miswolk in die somerhitte.

5
Voor die tyd van die graanoes,
wanneer die bloeityd van die wingerd verby is,
en die blomme druiwe geword het wat besig is om ryp te word,
word die wingerdlote met snoeimesse afgesny
en die ranke afgebreek en weggegooi.

6
Die ranke word oorgelaat aan die roofvoëls uit die berge
en aan die wilde diere.
In die somer sit die roofvoëls op die ranke,
in die winter lê die wilde diere daarop.

7

In dié tyd sal daar geskenke aan die Here die Almagtige gebring word uit
die land wat deur riviere deursny word.
Dit sal kom van die lang mense met die blink velle,
die volk wat wyd en syd gevrees word,
die nasie wat gewoond is om alles met mag plat te trap.
Hulle sal die geskenke bring na Sionsberg toe,
na die plek toe waar die Here die Almagtige geroem word.

19

1

'n Uitspraak van die Here teen Egipte:

Die Here ry op 'n vinnige wolk,
Hy gaan na Egipte toe.
Egipte se gode is bang vir Hom,
die Egiptenaars se harte verstyf van angs.

2
Ek, die Here, sal die een Egiptenaar die vyand van die ander maak:
broer sal teen broer veg, vriend teen vriend,
stad teen stad, koninkryk teen koninkryk.

3
Egipte se planne sal tot niet gaan,
Ek sal sy planne verydel.
Hulle sal gode gaan raadpleeg,
besweerders, mediums, spiritiste.

4
Ek sal die Egiptenaars oorgee in die mag van 'n harde regeerder,
'n streng koning sal oor hulle heers,
sê die Here die Almagtige, die Koning.

5

Die water van die Nyl sal wegdroog,
die rivier sal leeg word en opdroog.

6
Die kanale sal stink,
Egipte se waterstrome sal sak en opdroog.
Die riete en biesies sal verdroog,

7
die waterplante langs die Nyl by die Nylmond.
Alles wat langs die Nyl gesaai is, sal verdroog,
dit sal wegwaai en verdwyn.

8
Die vissers sal kla en huil:
almal wat met 'n hoek visvang
en dié wat hulle nette in die rivier oopgooi, sal verdwyn.

9
Dié wat vlas verwerk, sal nie hulle werk kan doen nie,
dié wat die vlas uitkam en weef, sal moed verloor.

10
Egipte se wewers sal platgeslaan wees,
al sy loonarbeiders sal bekommerd wees.

11

Die leiers van Soan is dwaas,
die slimste raadgewers van die farao gee slegte raad.
Hoe kan julle vir die farao sê:
“Ons is van die slim manne,
afstammelinge van die konings van vroeër”?

12

Egipte, waar is jou wyse manne nou?
Laat hulle jou tog vertel sodat jy kan weet
wat die Here die Almagtige teen Egipte besluit het.

13

Die leiers van Soan se planne het niks gehelp nie,
die leiers van Memfis het bedroë daarvan afgekom.
Die beste raadgewers van Egipte het hom op 'n dwaalspoor gebring.

14
Die Here het hulle verwar;
wat Egipte ook al doen,
hulle het hom op 'n dwaalspoor gebring.
Soos 'n dronk mens waggel hy in sy braaksel rond.

15
Niemand in Egipte kan hom meer red nie,
nie die leiers of die slawe nie,
nie dié met aansien of dié daarsonder nie.

16

Daardie dag sal die Egiptenaars soos vrouens wees. Egipte sal bewe van angs wanneer hulle sien dat die Here die Almagtige sy hand teen hulle optel om hulle te straf.

17 Juda sal vir Egipte 'n verskrikking wees; elkeen wat hom aan Juda herinner, sal hom bang maak. Hy sal bang wees vir wat die Here die Almagtige oor hom besluit het.

18

Daardie dag sal die inwoners van vyf Egiptiese stede Hebreeus praat, en wanneer hulle 'n eed aflê, sal hulle dit in die Naam van die Here die Almagtige doen. Een van hulle sal Die Verwoeste Stad genoem word.

19

Daardie dag sal daar binne-in Egipte 'n altaar en op sy grense 'n klippilaar wees wat aan die Here gewy is.

20 Hulle sal dien as tekens en hulle sal getuig van die Here die Almagtige se teenwoordigheid in Egipte. As die Egiptenaars tot die Here roep omdat hulle verdruk word, sal Hy 'n redder vir hulle stuur. Hy sal hulle saak behartig en hulle red.

21 Dan sal die Here Hom aan die Egiptenaars bekend maak, en op daardie dag sal hulle Hom leer ken. Hulle sal die Here met diereoffers en met graanoffers dien, en hulle sal hulle geloftes aan Hom nakom.

22 Die Here sal die Egiptenaars straf, Hy sal straf en genees. Hulle sal hulle tot die Here bekeer, en Hy sal hulle goedgesind wees en hulle genees.

23

Daardie dag sal daar 'n grootpad van Egipte af tot by Assirië loop. Die Assiriërs sal Egipte besoek, en die Egiptenaars Assirië, en hulle sal saam die Here dien.

24

Daardie dag sal Israel die derde wees, en saam met Egipte en Assirië sal hulle vir die aarde tot 'n seën wees.

25

Die Here die Almagtige sal hulle seën en sê:

Geseënd is my volk Egipte,
geseënd is Assirië wat deur My geskep is,
en geseënd is Israel, my eiendom.

20

1

Op 'n keer het koning Sargon van Assirië die hoof van sy leër na die Filistynse stad Asdod toe gestuur. Hy het teen dié stad oorlog gemaak en dit verower.

2 In daardie tyd het die Here vir Jesaja seun van Amos gesê: Trek jou klere uit en ook jou skoene.

Jesaja het dit gedoen: hy het sonder klere en sonder skoene rondgeloop.

3 Toe Asdod ingeneem is, het die Here gesê: Soos my dienaar Jesaja drie jaar lank sonder klere en sonder skoene rondgeloop het as 'n lewende getuie teen Egipte en teen Kus,

4 so sal die koning van Assirië die krygsgevangenes uit Egipte en die ballinge uit Kus, oud en jonk, sonder klere en sonder skoene, kaal, in ballingskap wegvoer. Dit sal vir Egipte 'n skande wees.

5

Hulle wat op Kus vertrou het en oor Egipte grootgepraat het, sal teleurgestel staan en bedroë daarvan afkom.

6

Daardie dag sal die inwoners van die kuslande sê: “Kyk wat het gebeur met die mense op wie ons vertrou het, na wie toe ons gehardloop het om ons teen die koning van Assirië te help en ons uit sy mag te red. Hoe sal ons nou vrykom?”

21

1

'n Uitspraak van die Here teen Babel:

Soos warrelwinde deur die Suidland trek,
so kom daar iemand uit die woestyn,
uit die land waarvoor almal bang is.

2
'n Harde oordeel is aan my geopenbaar:
die verraaier pleeg verraad,
die verwoester saai verwoesting.
Elam, jy moet oorlog maak! Medië, jy moet begin veg!
Die Here maak 'n einde aan al die lyding.

3
Skrik oorweldig my, angs oorval my soos dié van 'n vrou
wat 'n kind in die wêreld bring.
Ek is verskrik oor wat ek gehoor het,
ek is bang oor wat ek gesien het.

4
My verstand staan stil, angs oorweldig my,
die rustigste deel van die dag is nou vir my 'n verskrikking.

5
'n Tafel word gedek,
die eetgerei is reggesit,
hulle begin eet en drink!
Dan kom die bevel: “Leiers, wees gereed!
Smeer die skilde met olie!”

6

So het die Here vir my gesê:
Sit 'n wag uit, hy moet sê wat hy sien.

7
As hy 'n strydwa sien, 'n strydwa met perde,
of 'n strydwa met donkies, of een met kamele,
moet hy baie goed oplet.

8
Die wag het uitgeroep:
“Meneer, ek het die hele dag deur wag gestaan,
ek het die hele nag op my pos gebly.

9
Daar kom 'n man op 'n strydwa,
'n strydwa met perde.
Hy hou aan roep: Geval, geval het Babel,
al sy afgodsbeelde lê stukkend op die grond!”

10

My volk, jy wat vertrap is op die dorsvloer,
ek het vir jou gesê wat die Here vir my gesê het,
die Almagtige, die God van Israel.

11

'n Uitspraak van die Here teen Duma:

Iemand roep na my van Seïr af:
“Wag, wanneer is die nag verby?
Wag, wanneer is die nag verby?”

12
Die wag antwoord:
“Die môre het gekom, maar dit is nog nag.
As julle weer wil kom vra, kom vra gerus,
julle kan elke keer weer kom vra.”

13

'n Uitspraak van die Here teen Arabië:

Handelaars van Dedan,
julle wat in die bosse van Arabië oornag,

14
gee water vir dié wat dors het;
julle wat in Tema woon,
bring kos vir die vlugtelinge!

15
Die mense vlug vir die oorlog:
vir die swaard wat wil doodmaak,
vir die boog wat reg is om te skiet.
Die mense vlug vir die wrede oorlog.

16
Dit het die Here vir my gesê:
Binne 'n jaar, 'n jaar wat so ondraaglik sal wees soos dit vir 'n dagloner is, sal daar 'n einde kom aan Kedar se rykdom.

17
Selfs van sy dapper soldate wat met pyl en boog veg,
sal maar min oorbly!
Die Here die God van Israel het dit gesê.

22

1

[1-2] 'n Uitspraak van die Here teen die plek waar visioene gesien word: Stad wat altyd vol rumoer was, wat altyd uitbundig en uitgelate feesgevier het, stad waar dié wat gesneuwel het, nie deur die swaard geval het nie, nie in 'n oorlog omgekom het nie, waarom het jou mense nou almal op die dakke van die huise geklim?

2

3

Al jou leiers het soos een man op die vlug geslaan, hulle is gevang sonder dat 'n enkele pyl afgeskiet is. Dié wat gevang is, is almal saam gevang toe hulle ver weg gevlug het.

4

Daarom het ek gesê:

“Gee pad van my af. Ek is hartseer,
moet my nie probeer troos
oor die ramp wat my volk getref het nie.”

5

Die Here my God, die Almagtige, bring oor die plek waar visioene gesien word 'n dag waarop Hy die plek in beroering sal bring, waarop Hy dit sal vertrap en vernietig, die stadsmure sal afbreek.

Sy inwoners sal na die berg toe roep om hulp.


6
Elam kom met pyl en boog,
hulle ry op strydwaens en perde,
Kir maak sy oorlogswapens gereed.

7
Juda se vlaktes waarop hy trots is, staan vol strydwaens en perderuiters,
sy stadspoorte is beleër,

8
sy vestingmure sal afgebreek word.
Dan sal julle gryp na die wapens in die Paleis van die Bos,

9
julle sal sien hoe baie gate daar is in die mure van die Dawidstad
en julle sal die water van die onderste kanaal opdam,

10
en die huise in Jerusalem nagaan.
Julle sal party huise afbreek om die stadsmuur te versterk

11
en julle sal 'n dam tussen die mure bou vir die water van die ou kanaal.
Julle het nie geluister na Hom wat die stad gemaak het nie,
julle het Hom wat dit lank gelede gestig het, nie gehoorsaam nie.

12
Daardie dag sal die Here my God, die Almagtige, julle roep om te huil en te treur,
om julle koppe kaal te skeer en om rouklere aan te trek.

13
Maar nou is julle nog vrolik en plesierig,
julle slag beeste en kleinvee, julle eet vleis en julle drink wyn, julle sê:
“Laat ons eet en drink, want môre is ons dood.”

14
Die Here die Almagtige
het aan my bekend gemaak:
Hierdie sonde sal julle
tot die dag van julle dood toe
nie vergewe word nie.

Dit het die Here my God, die Almagtige, gesê.

15

Die Here my God, die Almagtige, het vir my gesê: Gaan na daardie hoë amptenaar, na Sebna toe, wat in beheer is van die paleis, en sê vir hom:

16

Wat maak jy hier? Wie dink jy is jy dat jy hier vir jou 'n graf bou, 'n graf hier teen die hoogte soos dié van 'n koning, soos een wat vir hom 'n blyplek in die rots gereed maak?

17 Die Here sal jou weggooi, Hy sal jou ver weggooi, jou verwaande vent, en jou behoorlik toepak!

18 Hy sal jou styf toerol soos 'n mens 'n mummie toerol en jou weggooi in 'n groot land. Dáár sal jy sterf, daar by jou strydwaens waarmee jy so spog, jy wat 'n skande is vir jou koning!

19 Die Here sal jou uit jou amp ontslaan, Hy sal jou wegvat uit die plek waar jy in diens is.

20

Dan sal Ek my dienaar Eljakim seun van Gilkija roep, sê die Here,

21 Ek sal jou ampskleed vir hom aantrek, jou serp vir hom omhang en die gesag wat jy nou het, vir hom gee. Hý sal vir die mense van Jerusalem en vir die inwoners van Juda 'n vader wees.

22 Aan hom sal Ek die sleutels van die koning se huis gee; wat hý oopsluit, sal niemand toesluit nie, wat hý toesluit, sal niemand oopsluit nie.

23 Ek sal hom in sy amp bevestig, hy sal wees soos 'n spyker wat goed ingeslaan is, in sy amp sal hy die trots van sy hele familie word.

24 Maar wanneer die trots van sy hele familie, sy nageslag en sy veraf familie, selfs van die geringes onder hulle, aan hom hang soos kombuisgereedskap aan 'n spyker,

25 sê die Here die Almagtige, sal die spyker wat goed ingeslaan is, ingee; dit sal afbreek en val, en die vrag wat daaraan gehang het, sal tot niet gaan.

Die Here het dit gesê.

23

1

'n Uitspraak van die Here teen Tirus:

Huil, bemannings van die skepe wat op pad is na Tarsis toe,
want julle moederstad is verwoes.
Julle het dit gehoor toe julle van Kittiërland af gekom het.

2
Julle moet stil wees, inwoners van die eiland,
julle wat handel dryf met Sidon, julle wie se rykdom oor die see aankom!

3
Oor die groot waters word die graan van die Sigor, die oes van die Nyl,
na Tirus toe gebring; daarmee dryf die nasies handel.

4
Laat sak jou kop in skaamte, Sidon,
want die see, die vestingstad van die see, sê:
“Ek het nooit geboortepyne gehad nie,
ek het nie kinders in die wêreld gebring nie;
ek het nie jongmanne grootgemaak,
dogters opgevoed nie.”

5
Die Egiptenaars sal skrik
wanneer hulle die berig oor Tirus hoor.

6
Julle moet na Tarsis toe vaar.
Huil, inwoners van die eiland!

7
Is dit die stad wat altyd feesgevier het,
die stad wat al so lank bestaan,
die stad wie se mense in ver lande gaan woon het?

8
Wie het die besluit geneem oor die ondergang van Tirus,
Tirus wat krone vir konings uitgedeel het,
wie se handelaars soos prinse ontvang is,
wie se sakelui die meeste op die aarde geëer is?

9
Die Here die Almagtige het dit besluit.
Hy breek die trots,
Hy maak die hoogmoed tot niks, Hy verneder dié wat oor die hele aarde geëer word!

10
Bewerk julle grond soos dit by die Nyl gedoen word, inwoners van Tarsis,
want daar is nie meer 'n hawe om mee handel te dryf nie.

11
Die Here het sy hand oor die see uitgesteek
en Hy skud die koninkryke.
Hy het bevel gegee om Fenisië se vestingstede te vernietig.

12
Hy het gesê: “Sidon, jou dae van feesvier is op 'n end,
jy sal verwoes word.
Maak klaar, vlug oor na die Kittiërs toe!
Ook dáár is nie rus vir jou nie.”

13
Kyk na die Galdeërs se land,
sy volk bestaan nie meer nie:
hulle land is deur die Assiriërs 'n woonplek vir woestyndiere gemaak,
die Assiriërs het stormramme daarteen opgerig en die paleise platgestamp,
dit 'n puinhoop gemaak.

14
Huil, bemannings van die skepe wat op pad is Tarsis toe,
want die stad waarvan julle afhanklik was, is verwoes.

15
In daardie tyd sal Tirus sewentig jaar lank vergete lê,
die leeftyd van 'n koning.
Aan die einde van die sewentig jaar sal dit met Tirus gaan
soos in die lied oor die prostituut:

16
“Vat jou lier,
stap deur die stad, vergete prostituut!
Speel mooi,
sing baie liedjies sodat hulle weer aan jou kan dink!”

17

Na sewentig jaar sal die Here vir Tirus herstel. Die stad sal weer handel dryf, hy sal weer met al die koninkryke van die aarde sake doen.


18
Sy wins en verdienste sal vir die Here afgesonder word, dit sal nie opgegaar of gebêre word nie, want sy wins sal bestem wees vir dié wat in die diens van die Here is,
om vir hulle volop kos en mooi klere te koop.

24

1

Die Here gaan die aarde verwoes, vernietig,
sy voorkoms verander en sy inwoners verstrooi.

2
Dieselfde lot gaan almal tref:
priester en volk,
slaaf en besitter,
slavin en eienares,
koper en verkoper,
uitlener en lener,
skuldeiser en skuldenaar.

3
Die aarde sal verwoes word, heeltemal verwoes word,
dit sal leeg geplunder word.
Die Here het dit gesê.

4
Die aarde sal droog word, uitdroog,
die wêreld sal wegkwyn van droogte;
hemel en aarde sal vergaan,

5
want die aarde is verontreinig deur sy inwoners:
hulle was ongehoorsaam aan die wet van die Here,
hulle het sy voorskrifte geminag,
sy vaste verbond verbreek;

6
daarom sal 'n vloek die aarde verteer
en sal sy inwoners boet vir hulle sonde;
daarom sal die inwoners van die aarde verbrand word,
en daar sal min mense oorbly.

7
Die wingerde sal verdroog en die wyn sal skaars word;
wie vrolik was, sal sug.

8
Die tamboeryne sal nie meer gehoor word nie,
daar sal nie meer 'n oeslied wees nie,
die lier sal nie meer gehoor word nie.

9
Niemand sal meer sing as hy wyn drink nie,
bier sal galbitter word vir dié wat dit drink.

10
Die stad sal afgebreek word, dit sal onbewoonbaar word.
Die huise is toegeval, niemand kan daar inkom nie.

11
In die strate sal mense kerm om wyn,
die gejuig sal verdwyn,
op die aarde sal daar geen vreugde meer wees nie.

12
In die stad sal alles verwoes wees,
die stadspoorte sal daar rondlê, stukkend geslaan.

13
Dit sal so kaal wees op die aarde en onder die volke
soos wanneer die olywe afgeslaan
en die laaste druiwe van die wingerde afgeoes is.

14

Die mense wat oorbly, sal juig,
hulle sal die mag van die Here besing,
van die weste af sal hulle Hom prys.

15
Dié in die ooste moet die Here eer;
hulle wat op die eilande van die see woon,
moet die Naam van die Here die God van Israel prys.

16
Van die uithoeke van die aarde af hoor ons
liedere waarin die groot mag van die Regverdige besing word.

Maar ék sê: Ek kwyn weg, ek kwyn weg, dit is klaar met my.
Die ontroues handel troueloos,
troueloos handel hulle.

17
Angs, vanggate en strikke wag vir die inwoners van die land.

18
Wie van die gevaar af probeer wegkom,
beland in die vanggate, wie uit die vanggate probeer uitklim,
word in die strik gevang.
Strome water sal uit die hemel val,
die fondamente van die aarde sal skud

19
en die aarde sal in stukke breek,
heen en weer waggel en wankel.

20
Die aarde sal slinger soos 'n dronk mens,
heen en weer wieg soos 'n biesieskerm.
Die aarde se oortredinge rus swaar op hom,
hy sal val en nie weer opstaan nie.

21

Dié dag sal die Here die magte in die hemel daarbo straf,
ook die konings van die aarde daaronder.

22
Hulle sal bymekaar gebondel word
soos gevangenes wat in 'n gat toegesluit is.
Hulle sal in 'n tronk opgesluit word,
na geruime tyd sal hulle hulle straf kry.

23
Die volmaan sal dof word
wanneer die Here die Almagtige
op Sionsberg en in Jerusalem as Koning sal heers
en sy mag laat blyk voor die leiers van sy volk.

25

1

Here, U is my God!
Ek wil U prys en u Naam loof!
U het wonders gedoen;
dinge wat U lankal besluit het,
het U volgens plan uitgevoer.

2
U het die groot stad verander in puinhope,
die vestingstad in ruïnes.
Die vesting van die vyand is nie meer 'n stad nie,
dit sal nooit herbou word nie.

3
Die sterk nasie sal voor U buig,
in die stad van die trotse volk sal hulle U dien,

4
want U is 'n toevlug vir die armes,
'n toevlug vir die behoeftiges in hulle nood,
'n skuilplek teen die stortbuie,
'n skaduwee teen die hitte.
Die geweld van die wrede volk is soos 'n winterstorm,

5
soos sonsteek in 'n dor land.
U het die rumoer van die vyand laat ophou,
die oorwinningsliedere van die trotse volk laat verdwyn
soos hitte verdwyn onder die skaduwee van 'n wolk.

6

Op hierdie berg gaan die Here die Almagtige 'n feesmaal gereed maak vir al die volke,

'n feesmaal met die beste om te eet en te drink,
goeie kos en geurige wyn.

7
Op hierdie berg sal Hy die doek verwyder,
die doek wat oor al die volke gegooi was,
waarmee al die nasies toegemaak was.

8
Hier sal die Here God die dood vir ewig vernietig,
en die trane op almal se gesigte afvee.
Oor die hele aarde sal Hy die smaad verwyder
wat sy volk aangedoen is.
Die Here het dit gesê.

9

Wanneer dit gebeur, sal elkeen sê:
Kyk daar, dit is ons God,
ons het op Hom vertrou, Hy het ons gered.
Dit is die Here! Ons het op Hom vertrou.
Laat ons bly wees en juig omdat Hy ons gered het.

10
Die mag van die Here sal op hierdie berg geopenbaar word:
Hy sal Moab aan die voet daarvan vertrap
soos stoppels op 'n mishoop vertrap word.

11
Moab sal sy hande in die mishoop uitsteek
soos 'n swemmer wat probeer wegswem,
maar God sal hulle in hulle trots verneder
al probeer hulle om hulleself te red.

12
Hy sal Moab se vestings, hulle hoë mure, laat omval,
Hy sal hulle plat op die grond neergooi.

26

1

Daar kom 'n dag wanneer hierdie lied in Juda gesing sal word:

Ons het 'n sterk stad,
God beskerm ons met mure, met 'n vesting.

2
Maak oop die poorte
dat die nasie wat gered is, kan ingaan,
die nasie wat aan God gehoorsaam is

3
en wat op Hom vertrou.
Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here,
want hulle het hulle vertroue op U gestel.

4

Vertrou altyd op die Here,
want die Here God is 'n veilige toevlug.

5
Hy bring dié wat in hoë vestings woon, af grond toe,
Hy gooi hulle hoë stadsmure om,
Hy maak dit gelyk met die grond
en laat lê dit in die stof.

6
Hulle sal onder die voete vertrap word,
onder die voete van onderdruktes;
die armes sal op hulle trap.

7

Die pad van die regverdige is reguit,
U maak sy pad gelyk.

8
Ook wanneer U straf, Here, vertrou ons op U.
Ons wil u Naam eer en U aanroep.

9
In die nag smag ek na U,
in die môre vra ek na u wil.
Wanneer U die aarde straf,
leer sy inwoners wat geregtigheid is.

10
Daar word goed gedoen aan die goddeloses,
maar hulle leer nie wat geregtigheid is nie,
hulle verdraai die reg
en erken nie die mag van die Here nie.

11

U staan gereed om hulle te straf, Here,
maar hulle steur hulle nie daaraan nie.
Laat hulle ondervind dat U vir u volk opkom:
laat die pogings van hierdie teëstanders van U misluk,
laat vuur hulle verteer.

12
U regeer in vrede oor ons, Here,
U doen alles vir ons.

13
Behalwe U, Here ons God, het ander konings oor ons geregeer,
maar ons wil net ú Naam onthou.

14
Hulle is nou dood en sal nie weer lewe nie,
hulle gees sal nie weer opstaan nie.
U het hulle gestraf en uitgewis,
U maak dat niemand meer aan hulle dink nie.

15
Here, U het u volk meer laat word,
U het hulle meer laat word
en hulle landsgrense uitgebrei.
So het U u mag getoon.

16
Here, in hulle nood het hulle hulle toevlug tot U geneem,
toe U hulle met swaarkry gestraf het, het hulle U aangeroep.

17
Soos 'n swanger vrou wat inmekaar krimp en skreeu oor haar geboortepyne wanneer sy 'n kind in die wêreld wil bring,
so, Here, is ons in u teenwoordigheid.

18
Ons was swanger, ons het inmekaar gekrimp van pyn,
maar ons het niks in die wêreld gebring nie:
ons het nie 'n redder vir die land gegee nie,
en daar is nie inwoners vir die wêreld gebore nie.

19
Dié uit u volk wat gesterf het, sal weer lewe, Here,
hulle sal opstaan.
Word wakker en juig, julle wat in die doderyk is!
Soos die dou lewe gee, gee u krag lewe, Here,
die aarde sal hulle wat lankal gesterf het, lewend teruggee.

20
Gaan in julle slaapkamers in, my volk,
sluit die deure agter julle toe.
Kruip 'n rukkie weg totdat God klaar is met straf.

21
Die Here kom uit sy woonplek te voorskyn
om die bewoners van die aarde te straf oor hulle ongeregtighede.
Die aarde sal vertel van die bloed wat daarop vergiet is
en sal nie meer die mense wat vermoor is, wegsteek nie.

27

1

Daardie dag sal die Here sy skerp, groot, sterk swaard gebruik om die Leviatan, die vinnige, kronkelende slang te verslaan en sal Hy die monster doodmaak wat in die see is.


2
Daardie dag moet julle sing van die goeie wingerd;

3
Ek, die Here, sorg daarvoor:
Ek lei dit gereeld nat,
dag en nag staan Ek wag daarby
sodat niemand dit kan beskadig nie.

4
Ek is nie kwaad vir my wingerd nie.
Niemand sal dit waag om dorings en dissels daarin te plant nie.

Maar soos in 'n oorlog sal Ek my wingerd plattrap
en heeltemal verbrand

5
as hy nie in my stad kom skuil nie.
Hy, Israel, moet met My kom vrede maak,
hy moet vrede met My kom maak!

6

In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet,
Israel sal groei en lote maak.
Die aarde sal vol word van hulle vrugte.

7

Die Here het sy volk nie geslaan
soos Hy hulle teëstanders geslaan het nie.
Hy het hulle ook nie doodgemaak,
soos Hy hulle moordenaars doodgemaak het nie.

8
Die Here het sy volk gestraf
deur hulle te verjaag en weg te dryf.
Met 'n sterk wind het Hy hulle weggewaai ooste toe.

9
As Jakob al sy altaarklippe fyn stamp
soos 'n mens 'n kalkklip fyn stamp,
as hy nie gewyde pale en wierookaltare vir sy afgode oprig nie,
sal daar versoening wees vir sy oortreding,
sal sy sonde van hom af weggeneem word.

10

Die versterkte stad lê verwoes:
'n plek sonder inwoners,
verlate soos die woestyn.
Dáár wei net kalwers,
en hulle vreet wat daar groei,
en dáár gaan hulle lê.

11
Die droë takke word afgebreek,
vrouens kom en maak vuur daarmee.

Israel is 'n volk sonder begrip van wat Ek doen.
Daarom sal sy Maker hom nie langer liefhê nie
en sal sy Skepper hom nie genadig wees nie.

12

Daardie dag sal die Here sy oes inbring
van die Eufraat af tot by die grens van Egipte,
en julle, Israeliete, sal die koringare wees wat één-één opgetel word.

13
Daardie dag sal die groot ramshoring geblaas word.
Dan sal almal aankom wat in Assirië verstrooi was,
ook dié wat na Egipte toe verjaag is.
Hulle sal die Here aanbid op die heilige berg in Jerusalem.

28

1

Ellende wag vir Samaria,
die kroon, die trots van die dronkaards van Efraim,
die roem van die drankverslaafdes,
die krans van verwelkte blomme,
dié stad hoog bokant die vrugbare vallei.

2
Die Here het iemand tot sy beskikking
wat sterk en magtig is
en wat dié kroon grond toe sal bring
soos 'n haelstorm, soos 'n vernietigende stormwind,
soos stortreëns uit 'n wolkbreuk.

3
Dié kroon, die trots van die dronkaards van Efraim,
sal met die voete vertrap word,

4
dié krans van verwelkte blomme
waaroor hulle roem,
die stad hoog bokant die vrugbare vallei
is soos 'n ryp voorvy:
wie hom sien, pluk hom en kyk skaars na hom
voor hy hom wegsluk.

5
Daardie dag sal die Here die Almagtige die kroon wees,
die krans waaroor dié sal roem
wat van sy volk oor is.

6
Hy sal aan dié wat reg moet spreek,
'n sin vir reg gee,
Hy sal krag gee aan dié wat die aanval moet afslaan
by die stadspoorte.

7
Maar ook die priesters en profete hier in Jerusalem
slinger en waggel van dronkenskap;
hulle slinger, hulle is beneweld,
hulle waggel van die wyn en die drank;
die profete slinger wanneer hulle gesigte moet uitlê,
die priesters loop twee rye spore
wanneer hulle regsbeslissings moet maak.

8
Al die tafels is vol braaksel,
daar is nie 'n plek wat nie bemors is nie.

9
Hulle sê: “Vir wie wil Jesaja leer,
vir wie wil hy die boodskap uitlê
wat hy sou gehoor het?
Ons is nie kinders wat pas gespeen is,
wat nou net van hulle ma's se borste af
weggevat is nie!

10
Wat ons van hom hoor,
is 'n bietjie brabbeltaal hier
en 'n bietjie brabbeltaal daar!”

11
Hy sál in die vervolg met dié volk praat
met stotterende woorde, in 'n vreemde taal.

12
Hy het vir hulle gesê: Die rus moet hier wees,
gee hier vir die vermoeide rus,
hier is die plek vir vrede!
Maar hulle wou nie luister nie.

13
Die woord van die Here tot hulle sal nou wees
'n bietjie brabbeltaal hier
en 'n bietjie brabbeltaal daar,
sodat hulle sal struikel waar hulle ook gaan,
verstrik sal raak, gevang en vernietig sal word.

14
Hoor die woord van die Here, julle ligsinniges
wat regeer oor hierdie volk in Jerusalem!

15
Julle sê: “Ons het 'n ooreenkoms met die dood,
ons het 'n verstandhouding met die doderyk;
wanneer die vloed aangestroom kom,
sal hy ons nie tref nie.
Ons het die leuen ons skuilplek gemaak,
ons kruip veilig weg agter die valsheid!”

16
So sê die Here my God:
Ek gaan in Sion 'n klip neersit,
'n uitgesoekte klip, 'n hoekklip
wat fondament aan fondament sal sluit.
Wie op My vertrou, hoef nie te vlug nie.

17
Ek maak geregtigheid die maatstaf,
regverdigheid die toets.
Die hael sal julle skuilplek van leuens uitwis,
die water sal julle wegkruipplek wegspoel.

18
Julle ooreenkoms met die dood word opgehef,
julle verstandhouding met die doderyk sal nie bly staan nie.
Wanneer die vloed aangestroom kom,
sal julle in hom ondergaan.

19
Hy sal julle meesleur elke keer as hy kom,
en hy sal dag vir dag kom,
dag en nag.
Dan sal dit louter verskrikking wees
om die boodskap uit te lê wat ontvang is.

20
Die bed sal te kort wees om reguit op te lê,
die kombers te smal om jou daarmee toe te maak.

21
Soos by Perasimberg sal die Here Hom gereed maak,
soos in die laagte by Gibeon sal Hy Hom in sy toorn voorberei
om te doen wat Hy wil doen,
om die taak te verrig waartoe Hy besluit het,
en dit is iets vreemds wat Hy wil doen,
dit is 'n uitsonderlike taak.

22
Staak julle ligsinnigheid
sodat die bande nie nog stywer om julle getrek word nie!
Ek het by die Here my God, die Almagtige, gehoor
dat dit by Hom vasstaan:
Hy gaan die hele land verwoes.

23
Gee aandag, luister na wat ek sê,
let op, luister na my woorde:

24
Hou 'n boer aan met ploeg as hy wil saai?
Hou hy aan grond breek en vore trek?

25
As hy die grond gelyk gemaak het,
saai hy mos swartkomyn en komyn,
sit hy koring en gars in waar dit moet kom
en spelt aan die kante.

26
Sy God leer hom en gee hom die kennis
hoe om alles te doen soos dit hoort.

27
Swartkomyn word mos nie met 'n slee uitgedors
of komyn met wawiele uitgetrap nie.
Swartkomyn en komyn word met 'n stok uitgeslaan.

28
Graan word gemaal vir brood,
maar 'n mens hou nie eindeloos aan om dit te laat trap
deur wawiele en deur trekdiere
tot dit fyn is nie.

29
Ook dit is iets wat van die Here die Almagtige af kom;
kennis wat van Hom kom, is wonderbaar
en laat alles voorspoedig verloop.

29

1

Ellende wag vir Ariël, Ariël, die stad
wat deur Dawid beleër is.
Laat die jare maar op mekaar volg,
laat die feestye hulle verloop neem,

2
Ek sal Ariël beleër
en daar sal ellende op ellende in hom wees,
hy sal vir My 'n vuurmaakplek wees.

3
Ek sal jou van alle kante af beleër,
Ek sal wagposte inrig rondom jou
en beleëringswalle teen jou opgooi.

4
Jy sal val, jy sal uit die grond uit praat,
jou woorde sal dof uit die stof uit opklink,
jou stem sal uit die grond uit kom
soos dié van 'n spook,
jy sal uit die stof uit mompel.

5

Maar die hordes vyande wat jy het, sal word soos fyn stof,
dié wrede hordes sal soos kaf weggewaai word.
Skielik, in 'n oogwink,

6
sal die Here die Almagtige Hom oor jou ontferm
met donderslae en aardbewings, met 'n magtige dreuning,
met storms en orkane, met verterende vuur.

7
Dit sal met al dié nasies gaan soos in 'n slegte droom,
dié hordes wat teen Ariël oorlog maak,
almal wat hom en sy vestings aanval
en hom beleër:

8
dit sal met hulle gaan soos wanneer iemand wat honger is
en droom hy eet, nog honger is as hy wakker word;
soos wanneer iemand wat dors is
en droom hy drink water, nog kragteloos is,
nog versmag van dors as hy wakker word.
So sal dit gaan met al dié nasies,
dié hordes wat oorlog maak teen Sionsberg.

9
Nou staan julle verdwaas en verstom;
julle sien niks, julle oë is toe;
julle is dronk maar nie van wyn nie,
julle waggel sonder dat julle iets gedrink het,

10
want die Here het julle in 'n diep slaap laat wegsak:
die profete moes julle oë wees
en die sieners julle koppe,
maar julle oë is nou toe
en daar is 'n doek oor julle koppe.

11
Elke openbaring is nou vir julle
soos die woorde in 'n verseëlde boek:
jy gee dit vir iemand wat kan lees
en jy vra: “Lees dit asseblief vir my,”
en hy sê: “Ek kan nie, die boek is verseël.”

12
Of jy gee die boek vir iemand wat nie kan lees nie
en jy vra: “Lees dit asseblief vir my,”
en hy sê: “Ek kan nie lees nie.”

13
Die Here het gesê:
Hierdie volk is naby My met die mond,
hulle eer My met wat hulle sê,
maar hulle hart is ver van My af,
hulle dien My soos mense dit wil hê,
nie soos Ek wil nie.

14
Daarom gaan Ek nog ongehoorder dinge doen met hierdie volk:
die een ongehoorde ding na die ander,
sodat die wysheid van sy wyse manne sal verdwyn,
die verstand van sy verstandige mense tot niet sal gaan.

15
Ellende wag vir dié wat dink
hulle kan hulle planne diep wegsteek vir die Here,
hulle wat besig is om dinge in die donker te doen
en dink: wie sien ons? Wie weet van ons?

16
Julle is agterstevoor met alles,
asof die pottebakker die klei is.
Die maaksel kan mos nie van sy maker sê:
“Hy het my nie gemaak nie”;
die kleipot kan mos nie van die pottebakker sê:
“Hy weet nie wat hy doen nie.”

17
Nog net 'n baie kort tydjie,
dan verander die Libanon in 'n vrugteboord
en word die vrugteboord so dig
dat dit vir 'n bos aangesien word.

18
Daardie dag sal die dowes kan hoor
wat daar in die boek staan,
en sal die blindes weer kan sien
uit die donker, uit die duisternis uit.

19
Die mense in nood sal weer bly wees oor die Here,
die arm mense sal juig oor die heilige God van Israel.

20
Daar sal nie meer wreedaards wees nie;
dit sal klaar wees met die ligsinniges,
elkeen wat altyd gereed was om onreg te doen,
sal uitgeroei word,

21
ook dié wat sommer mense tot oortreders verklaar het,
strikke gespan het vir dié wat reg wou laat geskied,
en onskuldige mense hulle reg ontneem het
deur vals getuienis.

22
So sê die Here, Hy wat vir Abraham verlos het,
Hy sê oor Jakob:
Die nageslag van Jakob sal hulle nie meer hoef te skaam nie,
hulle sal nie meer bleek van verleentheid hoef te word nie,

23
want wanneer hulle die kinders sien wat Ek aan hulle gee,
sal hulle my heilige Naam eer;
hulle sal die heilige God van Jakob eer,
hulle sal ontsag hê vir die God van Israel.

24
Dan sal dié wat gedwaal het, insig kry,
en dié wat gedurig foutgevind het, sal hulle laat leer.

30

1

Ellende wag vir die rebelse mense
wat planne uitvoer wat nie van My af kom nie, sê die Here,
dié wat verdrae sluit wat nie volgens my wil is nie
en so sonde op sonde stapel.

2
Hulle gaan af na Egipte toe
sonder om My te raadpleeg,
hulle gaan soek steun by die mag van die farao,
hulle wil beskerming by Egipte hê,

3
maar hulle sal teleurgestel staan met die farao se mag en al,
die beskerming deur Egipte sal hulle niks baat nie.

4
Die leiers van Juda is al in Soan,
sy boodskappers het al in Ganes aangekom,

5
maar hulle sal almal teleurgestel word
deur dié volk wat nie kan help nie,
wat nie hulp en bystand kan verleen nie
maar wat skande en vernedering bring.

6

'n Uitspraak van die Here oor die diere in die Suidland:

Die gesante van Juda bring hulle ryk geskenke, hulle skatte,
op die rûe van hulle donkies en hulle kamele;
hulle bring dit deur 'n gebied vol gevaar en angs
waar leeus en slange boer en waar drake rondvlieg,
hulle bring dit na 'n volk toe wat nie kan help nie.

7
Egipte is niks, sy hulp beteken niks!
Ek noem hom Rahab, die een wat niks kan doen nie.

8
Gaan skryf dit nou op waar Juda by is,
teken dit aan dat dit altyd teen hulle kan getuig
in die dae wat kom.

9
Hulle is 'n weerbarstige volk,
hulle is mense wat lieg
en wat weier om te luister
na wat die Here wil.

10
Hulle sê vir die sieners:
“Moenie gesigte sien nie!”
Hulle sê vir dié wat gesigte sien:
“Moenie gesigte sien oor wat ons moet doen nie,
vlei ons liewer,
sien liewer dinge wat ons mislei!

11
Gee pad voor ons, moenie voor ons kom staan nie;
laat die Heilige van Israel
uit ons teenwoordigheid verdwyn!”

12

So sê die Heilige van Israel:

Julle het my waarskuwing verwerp,
julle het julle vertroue gestel in geweld en bedrog
en daarop gesteun.

13
Daarom word hierdie sonde vir julle
'n hoë stuk muur wat oorhang en dreig om te val
en dan skielik, onverwags inmekaarstort

14
en in stukke spat soos 'n groot kleipot
wat meedoënloos fyn geslaan word
sodat daar onder al sy skerwe nie een oor is
om mee kole uit 'n vuurmaakplek te krap
of water uit 'n opgaarput te skep nie.

15

So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê:
As julle julle bekeer en tot rus kom,
sal julle gered word.
Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.

Maar dit wou julle nie;

16
julle het gesê:
“Nee, ons sal op perde wegjaag,
ons sal vinnige perde ry.”

Dan sál julle vlug,
maar julle agtervolgers sal vinniger wees.

17
Duisend van julle sal vlug as één julle bedreig,
en as vyf julle bedreig, sal julle aanhou vlug
totdat die paar wat van julle oorbly,
soos 'n eensame vlagpaal op 'n berg,
soos 'n enkele vaandel op 'n heuwel sal wees.

18

Tog is die Here gretig om julle genadig te wees
en wil Hy Hom oor julle ontferm:
Die Here is 'n God wat reg laat geskied,
en dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou.

19
Jy, volk in Sion, jy wat in Jerusalem woon,
jy hoef nie meer te huil nie.
Die Here sal jou genadig wees as jy na Hom roep om hulp,
Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor.

20
Die Here het jou honger en dors laat ly,
maar Hy wou jou leer,
en Hy sal Hom nou nie meer afsydig hou van jou nie;
jy sal self sien dat Hy die Een is wat jou leer.

21
Wanneer jy die regte koers verlaat,
sal jy agter jou 'n stem hoor sê:
“Hier is die pad, loop hierlangs.”

22
Dan sal jy besef dat jou afgode, jou beelde
wat jy met silwer en goud oorgetrek het, onrein goed is,
en jy sal hulle weggooi soos 'n mens 'n smerige lap weggooi;
jy sal sê: “Weg met hulle!”

23
Dan sal die Here reën gee op die saad
wat jy in die land gesaai het,
en sal jou grond kos vir jou lewer
wat ryk en voedsaam sal wees.
Jou kleinvee sal wei in uitgestrekte grasveld.

24
Die beeste en die donkies waarmee jy die grond bewerk,
sal kragvoer kry om te vreet
wat met graaf en gaffel gemeng is.

25
Dié dag wanneer die vyand by die duisend sal sneuwel
en wanneer die torings omval,
sal daar op elke hoë berg, elke hoë heuwel,
spruite vol water wees.

26
Dié dag wanneer die Here die wonde van sy volk verbind
en die seerplekke genees waar Hy hulle geslaan het,
sal die maan so helder skyn as die son
en die son sewe maal so helder as die lig van sewe dae saam.

27
Die Here verskyn uit die verte;
sy toorn breek los, onweer dreig;
as Hy praat, is dit vol gramskap,
sy woorde is vlamme van vuur.

28
Sy asem is 'n siedende stroom
wat mense meesleur.
Hy kom om die nasies te sif in 'n fyn sif,
om vir hulle 'n toom aan te sit en hulle weg te lei.

29

Maar julle sal sing
soos in die nag voor 'n fees,
julle sal vrolik wees
soos wanneer mense met fluitspel begin loop
na die berg van die Here toe,
na die Rots van Israel toe.

30

Die Here sal sy magtige stem laat hoor,
Hy sal sy krag openbaar
in gloeiende toorn, verterende vuur,
storm, onweer en hael.

31
Assirië sal sidder vir die stem van die Here
wanneer Hy begin slaan,

32
en elke keer wanneer die slae op Assirië afkom
en hom tref,
sal die simbale en die liere weerklink.
Die Here sal self teen Assirië veg.

33
Daar is 'n brandoond gereed gemaak, lank gelede al;
dit is diep en wyd en bedoel vir die koning van Assirië.
Daar is 'n groot hoop brandhout in
en die asem van die Here steek dit aan die brand
soos 'n stroom swael.

31

1

Ellende wag vir dié wat by Egipte hulp gaan vra;
hulle verlaat hulle op perde,
hulle is vol vertroue as daar baie strydwaens is,
as hulle oor 'n menigte ruiters kan beskik;
maar op die Heilige van Israel vertrou hulle nie,
na die wil van die Here vra hulle nie.

2
Hý is die Een wat wysheid het;
daarom het Hy 'n ramp laat losbreek
en het Hy nie afgesien van wat Hy gesê het nie:
Hy tree op teen die volk wat altyd verkeerd doen
én teen die volk wat hulp verleen aan dié wat onreg doen.

3
Die Egiptenaars is mense, hulle is nie gode nie,
en hulle perde is maar net perde, nie bonatuurlike wesens nie.
As die Here sy hand uitsteek, val die helper én die een wat gehelp word
en gaan hulle saam onder.

4

So het die Here vir my gesê:

Soos 'n leeu, 'n maanhaar, by sy prooi lê en grom
en hom nie laat afskrik deur die harde geskreeu van veewagters
wat teen hom saamgeroep is nie,
en hom nie steur aan hulle lawaai nie,
so sal die Here die Almagtige, wanneer Hy neerdaal,
sy oorlog veg op Sionsberg,
op die heuwel waar Sion lê.

5
Soos voëls beskermend oor hulle neste sweef,
so sal die Here die Almagtige die skild oor Jerusalem wees;
Hy sal beskermend verbykom
en so sal Hy red en bevry.

6
Israeliete, bekeer julle tot Hom
van wie julle so ver verwyder geraak het.

7
Daardie dag, wanneer julle elkeen sy afgode weggooi,
die afgode van silwer en van goud
wat julle self gemaak het en waarmee julle gesondig het,

8
sal die Assiriërs deur die swaard afgemaai word,
maar nie die swaard van 'n mens nie,
hulle sal uitgewis word deur die swaard,
maar nie die swaard van 'n mens nie.
Hulle sal voor die swaard uit moet vlug,
en hulle jongmanne sal dwangarbeiders word.

9
Die koning vir wie hulle as hulle rots beskou,
sal van angs op die vlug slaan,
en hulle leiers sal paniekbevange van die vaandel af padgee,
sê die Here ter ere van wie die vuur in Sion brand,
ter ere van wie die altaar in Jerusalem rook.

32

1

Daar sal 'n koning kom wat reg sal regeer
en amptenare wat reg sal laat geskied.

2
Hulle sal elkeen soos 'n skerm teen die wind,
soos 'n skuiling teen die stortreën wees,
soos strome water in 'n dor land,
soos die skaduwee van 'n groot rots in 'n kaal wêreld.

3
Dan sal die oë van dié wat moet sien, nie meer toe wees nie
en sal die ore van dié wat moet hoor, weer kan hoor.

4
Die verstand van onbesonne mense sal kennis kan verwerk
en die hakkelaars sal vlot kan praat.

5
'n Dwaas sal nie meer as eerbaar beskou word nie
en 'n skurk nie meer as edel beskryf word nie.

6
'n Dwaas laster teen God,
sy gedagtes is net met sonde besig;
wat hy doen, wys dat hy ver van die Here af leef,
wat hy vir die Here sê, is vals.
So iemand laat 'n honger mens honger bly
en weier om 'n dors mens water te gee.

7
'n Skurk se motiewe is kwaadwillig,
hy smee boosaardige planne
om met leuens die ondergang van eenvoudige, arm mense te bewerk,
ook al beroep hulle hulle op die reg.

8
'n Eerbare mens het eerbare bedoelings
en hy kom op vir wat eerbaar is.

9
Gee aandag, luister na my, julle vrouens wat so onbesorg lewe,
luister na wat ek sê, julle wat so selfversekerd is!

10
Julle wat nou so selfversekerd is,
sal oor iets meer as 'n jaar rede hê om te bewe:
daar sal nie druiwe wees om te oes nie,
geen vrugte om te pluk nie.

11
Staan maar nou al verskrik, onbesorgdes,
begin maar bewe, selfversekerdes!
Trek uit julle klere, trek rouklere aan,

12
slaan julle borste van smart
oor die welige landerye, die vrugbare wingerde,

13
oor my volk se grond
wat oortrek is met dorings en dissels,
oor al die huise waarin daar soveel vrolikheid was,
oor die stad wat altyd so uitgelate feesgevier het.

14
Die paleis lê verlate,
die stad wat so bedrywig was, is leeg.
Waar Ofel en die wagtoring was,
is dit vir altyd net veld
waar wildedonkies lustig vreet
en troppe vee wei.

15

So sal dit wees totdat die Gees
van Bo af op ons uitgestort word.
Dan word die woestyn 'n vrugteboord
en word die vrugteboord so dig
dat dit vir 'n bos aangesien word.

16
Maar in woestyn en in vrugteboord
sal reg geskied en reg gedoen word.

17
Wie reg doen, sal vrede hê;
wie volhard in regdoen, sal vir altyd rus en sekerheid geniet.

18
My volk sal in rustige velde woon,
in veilige wonings,
op plekke waar daar rus is en geen sorge nie.

19
Al slaan hael die bosse weg,
al word die stad met die grond gelyk gemaak,

20
met julle sal dit goed gaan:
julle sal saai langs baie waters,
julle sal julle beeste en julle donkies vry laat loop.

33

1

Ellende wag vir jou,
jy wat verwoes het
en self nie verwoes is nie,
jy wat ontrou was
hoewel niemand aan jou ontrou was nie.
Wanneer jy klaar verwoes het,
sal jy verwoes word.
Wanneer daar 'n end kom aan jou ontrou,
sal ander ontrou wees aan jou.

2

Wees ons genadig, Here,
ons vestig ons hoop op U.
Wees elke nuwe dag ons krag,
ons redding in tyd van nood.

3
Wanneer U u stem laat hoor, vlug volke,
wanneer U te voorskyn kom, spat nasies uitmekaar.

4

Wat julle vir julleself gebuit het,
sal weggeraap word asof sprinkane daarop toegesak het;
mense sal soos 'n swerm sprinkane daarop afstorm.

5
Die Here is hoog verhewe, Hy woon in die hoogte;
Hy sal sorg dat daar in Sion reg geskied
en reg gedoen word.

6
Hy is die Een op wie jy jou lewe lank kan vertrou.
Die kosbare besitting wat werklik kan help,
is wysheid en kennis;
die rykdom waarop Sion hom kan verlaat,
is die diens van die Here.

7
Die inwoners van Jerusalem roep om hulp daarbuite,
dié wat die boodskap bring dat daar vrede is,
huil onbedaarlik.

8
Die paaie lê verlate,
niemand kom met die pad verby nie.
Die verdrag is verbreek,
stede is met minagting behandel,
geen mens is ontsien nie.

9
Die land treur, hy is verdor;
die Libanon het verwelk, hy is vol insekte;
die Saron lyk soos 'n woestynvlakte;
op Basan en Karmel staan die bome kaal.

10
Ek gaan nou ingryp, sê die Here,
Ek gaan optree, Ek gaan my mag laat geld.

11
Al wat julle voortbring, is strooi,
al wat julle oplewer, is kaf,
en julle asem is die vuur waardeur julle verteer sal word.

12
Die volke gaan 'n kalkbrandery word,
hulle gaan aan die brand gesteek word soos afgekapte doringbosse.

13

Julle daar ver, hoor wat Ek gedoen het,
julle hier naby, erken my mag.

14
Die sondaars staan verskrik in Sion,
die godloses is angsbevange:
wie van ons kan dit by 'n verterende vuur uithou,
wie van ons kan dit uithou
by 'n vuur wat brand sonder ophou?

15
Net dié mens wat reg bly doen
en opreg is in wat hy sê,
wat weier om wins te maak
deur mense uit te buit,
wat omkoopgeld weier,
nie na moordplanne luister nie
en nie geleentheid soek om misdade te pleeg nie.

16
So 'n mens sal sy woonplek in die hoë berge hê,
sy skuilplek sal 'n rotsvesting wees.
Kos sal hy kry
en sy drinkwater sal nie opraak nie.

17
Jou eie oë sal 'n koning sien in al sy prag
en 'n land wat wyd lê.

18
Jy sal terugdink aan die vrees wat jy gehad het:
“Waar is die een wat ons goed moes opskryf,
waar is die een wat dit moes afweeg,
waar is die een wat moes opskryf
watter torings afgebreek moes word?”

19
Jy sal daardie vermetele mense nie weer sien nie,
daardie volk met sy onverstaanbare, moeilike taal
wat jy nie begryp nie.

20
Kyk na Sion, die stad waar ons ons feeste vier:
jou eie oë sal Jerusalem sien, 'n veilige woonplek
waar jou tent nie versit hoef te word nie,
sy tentpenne nooit uitgetrek hoef te word nie,
sy toue nooit meer breek nie.

21
Daar sal die Here vir ons die magtige God wees,
daar waar die strome, die riviere, breed sal vloei
sonder dat die vyand se roeibote daarop vaar,
die oorlogskepe daar verbykom.

22
Die Here is ons Regter,
die Here is ons Leidsman,
die Here is ons Koning,
Hy sal ons red.

23
Die toue van die vyand se skepe hang slap,
hulle hou nie die maste regop nie,
en die seile kan nie gespan word nie.

Daar word buit in oorvloed verdeel,
selfs lammes vat wat hulle wil.

24

Niemand in die stad sal meer sê: “Ek is siek” nie;
die sonde van die volk wat in Sion woon, is vergewe.

34

1

Kom nader, nasies, luister!
Gee aandag, volke!
Die aarde met alles daarop moet hoor,
die wêreld en alles wat hy voortbring.

2
Die toorn van die Here is teen al die nasies gerig,
sy woede teen al hulle leërmagte.
Hy gaan hulle heeltemal uitroei,
hulle prysgee om doodgemaak te word.

3
Hulle dooies sal net so bly lê,
hulle lyke sal stink,
en die berge sal van hulle bloed deurdrenk word.

4
Al die hemelliggame sal wegsmelt;
die hemel sal soos 'n boekrol toegerol word
en al die sterre sal hulle glans verloor
soos die blare van 'n wingerdstok
of van 'n vyeboom wat verdroog.

5
Wanneer my swaard so uit die hemel uit
die bloed van die nasies laat vloei het,
sal hy afkom op Edom,
op die volk wat Ek heeltemal wil uitroei
wanneer Ek hom straf.

6
Die swaard van die Here is vol bloed
en drup van die vet:
die bloed van lammers en bokramme,
die niervet van skaapramme.
Die Here hou 'n offerfees in Bosra,
Hy rig 'n groot slagting aan in Edom.

7
Die buffels val saam met die mense,
die bulkalwers saam met die bulle.
Hulle land is deurdrenk van die bloed,
die grond is deurweek van die vet.

8
Die dag van die wraak van die Here het gekom,
die jaar van vergelding ter wille van Sion se saak.

9
Die riviere van Edom sal in teer verander,
sy grond in swael:
sy land word een stuk brandende teer.

10
Dit sal bly brand, dag en nag;
die rook sal aanhou opstyg.
Geslagte lank sal die land in puin lê;
tot in die verre toekoms sal niemand ooit weer daar rondtrek nie.

11
Uile en kraaie sal hom in besit neem
en hulle daar tuismaak.
Die Here sal sy maatlyn span en sy skietlood aanlê
en bepaal dat die land onbewoonbaar en leeg moet word.

12
Vir dié wat in Edom gesag uitgeoefen het,
sal daar nie meer 'n koninkryk wees nie,
al sy leiers sal daarmee heen wees.

13
Dorings sal in sy paleise opkom,
brandnetels en dissels in sy vestings,
hy sal 'n lêplek vir jakkalse, 'n tuiste vir volstruise wees.

14
Wildehonde en hiënas sal mekaar daar kry,
veldgode sal na mekaar roep
en die naggees sal daar bly en 'n woonplek vind.

15
Uile sal daar nes maak en eiers lê,
hulle sal op die eiers sit en dit uitbroei.
Die aasvoëls sal daar vergader, elkeen met sy wyfie.

16

Kyk gerus in die boek van die Here en lees:
nie een van dié diere sal daar ontbreek nie,
nie een sal sonder 'n wyfie wees nie.
Die Here het die bevel gegee
en sy Gees laat hulle daar bymekaarkom.

17
Hy het self die land deur loting onder hulle verdeel.
Hulle besit dit vir altyd,
hulle sal daar woon deur geslagte heen.

35

1

Die woestyn, die dor land,
sal jubel, die droë wêreld sal juig, oortrek met affodille;

2
hy sal in volle bloei staan,
hy sal juig en sing,
hy sal die prag van die Libanon hê,
die skoonheid van Karmel en Saron.
Israel sal die mag van die Here sien,
die koninklike mag van ons God.

3

Bemoedig dié wie se hande slap hang,
help dié wie se knieë knik,

4
sê vir dié wat moed verloor het:
“Wees sterk, moenie bang wees nie,
julle God is hier, Hy kom om wraak te neem,
om julle vyande te straf; God kom julle red!”

5
Blindes sal kan sien,
dowes sal kan hoor,

6
lammes sal kan rondspring soos takbokke,
stommes sal kan sing.
Strome water sal uit die woestyn uit bars;
daar sal riviere loop in die droë wêreld.

7
Die verskroeide aarde sal 'n moeras word,
dorsland waterryke wêreld.
Waar daar nou net vir jakkalse lêplekke is,
sal gras en riet en biesies groei.

8
Daar sal 'n grootpad deur die woestyn loop
en dit sal bekend staan as die gewyde pad.
Onrein mense sal nie daarop loop nie,
dit sal net wees vir mense wat reg lewe;
dwase sal nie meer op die pad kom nie.

9
Daar sal nie leeus op die pad wees nie,
daar sal nie roofdiere op loop nie,
hulle sal glad nie daar kom nie.
Net die mense wat deur die Here gered is,
sal die pad gebruik.

10
Dié wat deur die Here verlos is, sal terugkeer,
hulle sal juigend in Sion aankom,
hulle sal altyd straal van blydskap,
hulle sal vol vreugde en blydskap wees;
ellende en smart sal verdwyn.

36

1

In die veertiende regeringsjaar van koning Hiskia het koning Sanherib van Assirië al die vestingstede in Juda aangeval en verower.

2 Daarna het die koning van Assirië sy hoofadjudant met 'n groot leër uit Lakis na koning Hiskia toe in Jerusalem gestuur. Hulle het posisie ingeneem langs die kanaal van die boonste dam, langs die pad na die Bleikveld toe.

3

Die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf het toe na die hoofadjudant van Assirië toe gegaan.

4

Toe sê hy vir hulle: “Sê vir Hiskia: So sê die groot koning, die koning van Assirië: Waarop berus hierdie vertroue van jou?

5 Jy dink woorde alleen is genoeg vir strategie en militêre mag. Op wie vertrou jy dat jy in opstand is teen my?

6 Jy vertrou op Egipte, op 'n versplinterde riet wat jou in die hand steek en jou seermaak as jy op hom leun. Dit is wat die farao, die koning van Egipte, beteken vir almal wat op hom vertrou.

7

“En as jy vir my wil sê julle vertrou op die Here julle God, dit is mos Hy wie se hoogtes en altare Hiskia laat verwoes het toe hy vir Juda en Jerusalem gesê het: ‘Julle moet net by die altaar in Jerusalem aanbid.’

8

“Wil jy 'n ooreenkoms aangaan met my koning, die koning van Assirië? Ek gee jou twee duisend perde: sal jy die ruiters vir hulle kan voorsien?

9 Hoe sal jy weerstand kan bied teen één goewerneur, één van my koning se onbelangrikste amptenare? En dan vertrou jy op Egipte vir strydwaens en perde!

10

“Buitendien, ek het nie sonder die Here opgetrek teen hierdie land om dit te verwoes nie; die Here het vir my gesê: Trek op teen daardie land en verwoes dit.”

11

Toe sê Eljakim, Sebna en Joag vir die hoofadjudant: “Praat tog asseblief Aramees met ons, ons verstaan dit, maar moenie Judees met ons praat dat die manskappe op die muur dit kan verstaan nie.”

12

Maar die hoofadjudant antwoord: “Dink julle my koning het my net na julle koning en na julle toe gestuur om dié dinge te sê, en nie ook na die manne wat op die muur sit nie? Hulle sal hulle eie ontlasting moet eet en hulle eie urine moet drink, net soos julle!”

13

Toe gaan staan die hoofadjudant en skree hard in Judees: “Luister wat sê die groot koning, die koning van Assirië!

14 So sê die koning: Moenie dat Hiskia julle mislei nie! Hy kan julle nie red nie.

15

“En moenie dat Hiskia julle op die Here laat vertrou nie. Hiskia sê: ‘Die Here sal ons sekerlik red; dié stad sal nie oorgegee word in die mag van die koning van Assirië nie.’

16 Moenie na Hiskia luister nie, want so sê die koning van Assirië: ‘Maak vrede met my en kom uit na my toe, dan sal elkeen die vrugte van sy eie wingerdstok en van sy eie vyeboom eet en uit sy eie put water drink

17 tot ek kom en julle wegvat na 'n land toe net soos julle land. Dit is 'n land met koring en wyn, 'n land met kos en wingerde.’

18 Moenie dat Hiskia julle mislei nie! Hy sê: ‘Die Here sal ons red.’ Kon die gode van die ander nasies hulle lande red uit die mag van die koning van Assirië?

19

“Waar is die gode van Hamat en Arpad? Waar is die gode van Sefarwajim? Kon hulle Samaria bevry uit my mag?

20 Wie van al die gode van die ander lande kon sy land red uit my mag? Dan sal die Here mos nie Jerusalem kan red uit my mag nie!”

21

Die manskappe het stilgebly en nie geantwoord nie, want die koning het hulle beveel om nie te antwoord nie.

22

Die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna, en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf het hulle klere geskeur en is terug na Hiskia toe om hom te vertel wat die hoofadjudant gesê het.

37

1

Toe koning Hiskia dit hoor, het hy ook sy klere geskeur. Hy het rouklere aangetrek en is na die huis van die Here toe.

2 Daarna stuur hy die paleisbestuurder Eljakim, die staatsekretaris Sebna en die leiers van die priesters, almal in rouklere, na die profeet Jesaja seun van Amos toe.

3 Hulle het vir Jesaja gesê: “So sê Hiskia: Dit is 'n dag van rou. Ons is in die moeilikheid en ons is verneder. Ons is soos vrouens wat in die kraam is maar nie die krag daarvoor het nie.

4 Miskien sal die Here u God let op die woorde van die hoofadjudant wat deur die Assiriese koning gestuur is om die lewende God te smaad, en miskien sal die Here u God hulle straf oor wat Hy moes aanhoor. Bid tog vir die klompie van ons wat nog oor is.”

5

Toe koning Hiskia se amptenare by Jesaja kom,

6 sê hy vir hulle: “Julle moet vir julle koning sê: So sê die Here: Moenie bang wees oor wat jy gehoor het, hoe die amptenare van die koning van Assirië My gelaster het nie.

7 Ek gaan hom onrustig maak sodat hy na sy land toe terug sal gaan wanneer hy 'n berig daarvandaan kry. Ek sal hom in sy eie land laat doodmaak.”

8

Toe die hoofadjudant hoor dat die koning van Assirië weg is van Lakis af, het hy teruggegaan. Hy het die koning aangetref waar hy met 'n aanval op Libna besig was.

9 Daar het die koning berig gekry dat koning Tirhaka van Kus op pad is om hom aan te val. Toe die koning van Assirië dit hoor, het hy gesante na Hiskia toe gestuur met die boodskap:

10 “Sê vir koning Hiskia van Juda: Moenie dat jou God op wie jy vertrou, jou mislei met sy versekering dat Jerusalem nie in my mag oorgegee sal word nie.

11 Jy het mos gehoor hoe die konings van Assirië die een land na die ander verwoes het. Sal jý dan vrykom?

12 Kon die gode van die nasies wat deur my voorgangers uitgedelg is, hulle red: Gosan, Haran, Resef, die mense van Eden in Telassar?

13 Waar is die konings van Hamat en Arpad, die konings van Sefarwajim, Hena en Awwa?”

14 Hiskia het die briewe wat die gesante gebring het, gevat en gelees. Daarna het hy na die huis van die Here toe gegaan en die briewe in die teenwoordigheid van die Here oopgesprei.

15

Toe het hy tot die Here gebid:


16
“Here, Almagtige, God van Israel,
U wat oor die gerubs troon,
U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde,
U het die hemel en die aarde gemaak.

17
Hoor tog, Here, luister,
kyk tog, Here, let tog op!

“Hoor tog wat Sanherib gesê het; hy het U, die lewende God, in sy boodskap gesmaad!

18 Dit is waar, Here, die konings van Assirië het nasies met lande en al verwoes

19 en hulle gode verbrand, maar dit was nie gode nie, dit was die werk van mensehande, hout en klip; daarom is hulle vernietig.

20 Here ons God, red ons tog uit die mag van die Assiriese koning. Dan sal al die koninkryke van die aarde besef dat net U, Here, God is.”

21

Jesaja seun van Amos het vir Hiskia 'n boodskap gestuur: “So sê die Here die God van Israel: Ek het jou gebed oor koning Sanherib van Assirië verhoor.


22
“Dit is wat die Here oor Sanherib sê:
Sion verag jou en lag jou uit,
Jerusalem kyk jou met minagting agterna.

23
Vir wie het jy gesmaad en belaster?
Vir wie het jy geskreeu en uitgedaag?
Die Heilige van Israel!

24
Deur jou amptenare het jy die Here geminag
toe jy gesê het:
‘Ek het met my baie strydwaens teen die hoogste berge opgery,
na die toppe van die Libanon toe;
ek het sy hoogste seders afgekap, sy mooiste sipresse.
Ek het sy hoogste skuilhoeke binnegedring, sy digste bosse.

25
Ek het na water gegrawe en dit gedrink,
met my voetsole die opgedamde riviere laat opdroog.’

26
So sê die Here vir jou, Sanherib:
Het jy dan nie gehoor nie:
Ék het dit bewerk, lank gelede al,
van die vroegste tye af het Ek dit voorberei
en Ek het dit nou laat gebeur:
jy moes vestingstede verwoes
en puinhope van hulle maak.

27
Hulle inwoners was magteloos,
verskrik en sonder raad,
soos veldplante, soos groen gras,
soos gras op 'n huis se dak:
dit verskroei voor dit behoorlik staan.

28
Of jy sit of gaan of kom, Ek weet dit,
Ek weet hoe jy teen My te kere gegaan het.

29
Omdat jy dit gedoen het,
omdat Ek jou verwaande woorde moes aanhoor,
sit Ek 'n haak deur jou neus
en 'n stang tussen jou tande
en lei Ek jou terug op die pad
waarmee jy gekom het.

30

“Vir jou, Hiskia, gee Ek die volgende teken: vanjaar sal julle die opslag eet en volgende jaar wat dan opslaan, maar in die jaar daarna sal julle saai en oes, wingerde plant en druiwe eet.

31 Dié van Juda wat die beleg oorleef het en oorgebly het, sal weer soos plante wortel skiet en vrugte dra.

32 Daar sal mense oorbly en uit Jerusalem kom, daar sal mense vry van Sionsberg af uitgaan. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.

33 Daarom, so sê die Here oor die koning van Assirië, sal hy nie in dié stad inkom nie, hy sal nie 'n pyl hier afskiet nie, nie 'n skild teen die stad optel nie, nie 'n beleëringswal daarteen opgooi nie.

34 Met die pad wat hy gekom het, sal hy teruggaan en hy sal nie weer by dié stad kom nie. Dit is wat die Here sê.

35 Ek sal dié stad beskut en hom red, om my ontwil en om my dienaar Dawid se ontwil.”

36

Die engel van die Here het gegaan en honderd vyf en tagtig duisend man in die Assiriese kamp doodgemaak. Toe die Assiriërs die môre vroeg opstaan, lê die lyke almal daar.

37 Koning Sanherib van Assirië het toe kamp afgeslaan en hy is terug Nineve toe en het daar gebly.

38 Terwyl hy op 'n dag in die tempel van sy god Nisrok aanbid het, het sy seuns Adrammelek en Sar-Eser hom met swaarde doodgesteek. Hulle het na Ararat toe gevlug, en Sanherib se seun Esarhaddon het hom as koning opgevolg.

38

1

In dié tyd het Hiskia ernstig siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het na hom toe gekom en gesê: “So sê die Here: Sê vir jou gesin wat jou laaste wense is, want jy gaan sterf, jy sal nie langer lewe nie.”

2

Toe draai Hiskia sy gesig na die muur toe en hy bid tot die Here:

3 “Ag, Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou en met volle oorgawe geleef het en dat ek gedoen het wat reg is in u oë.”

Hiskia het bitterlik gehuil.

4

Die Here het toe vir Jesaja gesê:

5 “Gaan sê vir Hiskia: So sê die Here die God van jou voorvader Dawid: Ek het jou gebed verhoor, Ek het jou trane gesien. Ek sal jou lewe met vyftien jaar verleng

6 en jou en dié stad red uit die mag van die koning van Assirië. Ek sal dié stad beskerm.

7 Ek, die Here, gee vir jou die volgende teken dat Ek sal doen wat Ek gesê het:

8 Ek sal die skaduwee wat reeds teen die trap van Agas se sonwyser afgesak het, tien trappe laat terugskuif.”

En die son het tien trappe teruggeskuif op die trappe waarop dit reeds afgesak het.

9

Na die siekte en herstel van koning Hiskia van Juda het hy geskryf:


10
Ek het gedink:
in die fleur van my lewe sal ek sterf,
op vroeë leeftyd sal ek aan die doderyk oorgegee word.

11
Ek het gedink ek sal die Here nie meer sien nie,
die Here in die land van die lewendes,
ek sal geen mens meer sien nie,
by dié wat op die aarde woon, nie meer wees nie.

12
My woonplek is afgebreek,
opgerol soos 'n skaapwagter se tent.
My lewe is verby, afgebreek soos 'n weefdraad.
U het aangehou om my te straf.

13
Ek het die hele nag stilgebly,
maar soos 'n leeu het U my bene verbreek,
U het aangehou om my te straf.

14
Ek het gekerm soos 'n voël wat kerm,
ek het gekla soos 'n duif.
My oë het moeg geword van opkyk na die hemel toe.
Here, red my uit my ellende.

15

Wat kan ek sê?
Die Here het met my gepraat,
Hy het gedoen wat Hy gesê het.
Ek sal my hele lewe lank swaar loop
oor wat ek moes verduur.

16
Mense leef ten spyte hiervan, Here,
en ek sal daarmee saam kan leef,
maar maak my tog gesond, herstel my!

17

Dit was vir my goed om soveel te ly;
U het my lief, U het my uit die dood gered;
U het al my sondes vergewe.

18
In die doderyk kan niemand U loof nie,
geeneen wat dood is, kan U prys nie;
niemand in die graf dink aan u trou nie!

19
Net hulle wat nog lewe, kan U loof,
so doen ek dit vandag.
Vaders sal hulle kinders van u trou vertel.

20
Here, U het my gered.
Ons sal op ons liere speel
al die dae van ons lewe,
in die huis van die Here.

21

Jesaja het toe opdrag gegee dat hulle 'n vyekoek moet bring en op die sweer moet sit, en die koning het beter geword.

22 Toe vra Hiskia: “Wat is die teken dat ek weer na die huis van die Here toe sal gaan?”

39

1

Dié tyd het koning Merodak-Baladan van Babel, seun van Baladan, briewe en geskenke na Hiskia toe gestuur omdat hy gehoor het van Hiskia se siekte en genesing.

2 Hiskia was bly oor die gesante en hy het hulle sy skatkamers gewys met die silwer, die goud, die kruie en die geurige olie, sy wapenkamer en alles wat in sy voorraadkamers was. Daar was niks in sy paleis en in sy koninkryk wat Hiskia die gesante nie laat sien het nie.

3

Toe kom die profeet Jesaja na koning Hiskia toe en sê vir hom: “Wat het daardie mense gesê en waarvandaan kom hulle?”

Hiskia het geantwoord: “Hulle het uit 'n ver land na my toe gekom, uit Babel.”

4

“Wat het hulle in jou paleis gesien?” vra Jesaja.

En Hiskia antwoord: “Hulle het alles gesien wat in my paleis is. Daar is niks van my skatte wat hulle nie gesien het nie.”

5

Toe sê Jesaja vir Hiskia: “Luister wat sê die Here die Almagtige:

6 Daar kom 'n tyd dat alles wat in jou paleis is, weggedra sal word na Babel toe, al die skatte wat jou voorvaders en jy tot nou toe versamel het. Daar sal niks oorbly nie, sê die Here.

7

“Van jou eie seuns wat uit jou gebore is, sal gevat word, en hulle sal diens doen in die paleis van die koning van Babel.”

8

Hiskia het vir Jesaja gesê: “Die woord van die Here wat jy aan my oorgedra het, is goed.” Hiskia het bygevoeg: “As daar maar net in my tyd vrede en veiligheid is!”

40

1

Die uitkoms is hier!
Die uitkoms is hier!
Dit, sê julle God, moet julle vir my volk sê.

2
Bring vir Jerusalem die goeie tyding,
sê vir hom
sy swaarkry is verby,
hy het geboet vir sy sonde,
hy het van die Here die volle straf ontvang
vir al sy sondes.

3

Iemand roep:
“Maak vir die Here 'n pad in die woestyn,
maak in die barre wêreld 'n grootpad vir ons God!

4
Elke laagte moet opgevul word,
elke berg en rant moet gelykgrond word.
Elke bult moet 'n gelykte word
en elke koppie 'n vlakte.

5
Dan sal die mag van die Here geopenbaar word;
al wat leef, sal dit sien.
Die Here self het dit gesê.”

6

Iemand sê: “Roep!”
En ek vra:
“Wat kan ek roep?
Alle mense is soos gras,
alles waarop hulle staatmaak, is soos 'n veldblom:

7
gras verdor en blomme verwelk
as die Here sy wind daaroor laat waai.”

Dit ís so, die volk is soos gras.

8
Gras verdor en blomme verwelk,
maar die woord van ons God bly vir ewig.

9

Klim op 'n hoë berg en roep hard, Sion,
jy wat die goeie tyding moet bring;
roep hard, Jerusalem,
jy wat die goeie tyding moet bring,
moenie bang wees nie.
Sê vir die stede van Juda:
“Julle God is hier!”

10
Die Here God kom,
Hy is die Magtige, Hy regeer.
Hy bring die volk saam wat Hy Syne gemaak het,
dié wat aan Hom behoort, is by Hom.

11
Soos 'n herder versorg Hy sy kudde:
die lammers maak Hy bymekaar in sy arms
en Hy dra hulle teen sy bors,
Hy sorg vir die lammerooie.

12
Wie het die waters in die holte van sy hand afgemeet,
met die breedte van sy hand die maat van die hemel bepaal,
met 'n maatemmer die grond van die aarde afgemeet,
met 'n skaal die berge en die heuwels geweeg?

13

Wie kan die Gees van die Here peil,
wie kan sy raadgewer wees?

14
Vir wie raadpleeg Hy
dat dié Hom tot insig sou bring
en Hom sou leer wat om te doen?
Wie leer Hom en onderrig Hom
dat Hy met insig kan optree?

15

Die nasies is vir Hom soos 'n druppel aan 'n emmer,
soos 'n stoffie op 'n skaal.
As Hy die eilande op 'n skaal sit,
is hulle soos stofdeeltjies.

16
Al die hout op die Libanon
is nie genoeg vir vuur op die altaar nie
en al die wild nie genoeg vir 'n offer aan die Here nie.

17
Al die nasies is soos niks teenoor Hom,
hulle is vir Hom minder as niks, asof hulle nie bestaan nie.

18

Met wie kan julle God dan vergelyk?
Met watter beeld kan julle Hom gelykstel?

19

'n Beeld word deur 'n ambagsman gegiet
en deur 'n smid met goud oorgetrek
en met silwerkettinkies versier.

20
Wie te arm is vir so 'n offer aan sy god,
kies hout wat nie vrot nie
en soek vir hom 'n bedrewe ambagsman
om vir hom 'n beeld te maak wat nie omval nie!

21

Weet julle dan nie,
het julle nie gehoor nie,
is dit nie van die begin af aan julle bekend gemaak nie,
het julle nie 'n begrip van hoe die aarde ontstaan het nie?

22
God het sy troon bokant die hemelkoepel,
die aardbewoners is vir Hom soos sprinkane.
Hy span die hemel oop soos 'n tentdoek,
oop soos 'n tent vir die mense om onder te woon.

23
Hy maak die vername mense tot niks,
die heersers van die wêreld asof hulle nie bestaan nie.

24
Skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai,
skaars het hulle wortelgeskiet,
of Hy blaas sy asem oor hulle, en hulle verdor,
die stormwind vat hulle weg soos stoppels.

25

Met wie kan julle My dan vergelyk,
wie is soos Ek? vra die Heilige.

26

Kyk op na die hemel:
wie het die sterre geskep?
Hy wat die hemelse leër laat uittrek in hulle volle getal,
dit is Hy wat hulle elkeen gemaak het.
Met sy groot krag, sy groot mag,
sorg Hy dat geeneen van hulle ontbreek nie.

27

Waarom sê jy dan, Jakob,
waarom kla jy, Israel:
“Die Here sien nie raak wat van my word nie,
my reg gaan by my God verby”?

28
Weet jy dan nie,
het jy nog nie gehoor nie?
Die Here is die ewige God,
Skepper van die hele aarde.
Hy word nie moeg nie,
Hy raak nie afgemat nie
en sy insig is ondeurgrondelik.

29
Hy gee die vermoeides krag,
Hy versterk dié wat nie meer kan nie.

30
Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat,
selfs manne in hulle fleur struikel en val,

31
maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.
Hulle vlieg met arendsvlerke,
hulle hardloop en word nie moeg nie,
hulle loop en raak nie afgemat nie.

41

1

Bly stil en luister na My, eilande,
maak julle gereed, volke,
staan nader en stel julle saak,
laat ons die saak uitmaak.

2
Wie is dit wat hom uit die ooste laat opstaan het
vir wie elke voetstap oorwinning bring?
Wie gee nasies aan hom oor,
onderwerp konings aan hom?
Sy swaard en sy pyl en boog
laat hulle verdwyn soos stof voor die wind,
soos dwarrelende stoppels.

3
Hy agtervolg hulle en trek ongehinderd voort,
sy voete raak nie eens grond nie.

4
Wie het dit bewerkstellig, dit gedoen?
Wie het die verloop van dinge van die begin af bepaal?

Dit is Ek, die Here! Ek is die eerste,
en wanneer die laaste dinge gebeur,
sal Ek nog die Here wees.

5

Die eilande het gesien wat gebeur en het bang geword,
die hele aarde het gebewe.
Die mense kom bymekaar,

6
hulle help mekaar en praat mekaar moed in.

7
Die ambagsman praat die goudsmid moed in,
die een wat die metaal uitklop,
praat hom wat dit aanmekaar smee, moed in.
Hulle sê: “Die smeewerk is goed!”
Dan slaan hulle die beeld met spykers
vas dat hy nie omval nie!

8
Maar jy, my dienaar, Israel,
Jakob vir wie Ek uitverkies het,
afstammeling van Abraham vir wie Ek liefhet,

9
jy, vir wie Ek van die uiteindes van die aarde af gegryp het,
van sy uithoeke af geroep het,
vir jou het Ek gesê: Jy is my dienaar,
Ek het jou uitverkies, Ek het jou nie verwerp nie.

10
Moenie bang wees nie, Ek is by jou,
moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God.
Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas,
met my eie hand red Ek jou.

11
Almal wat teen jou te kere gaan,
sal teleurgesteld staan en die aftog blaas.
Jou teëparty sal soos niks word, hulle sal omkom.

12
Jy sal dié soek wat teen jou veg,
maar hulle sal nêrens te vinde wees nie;
dié wat teen jou oorlog maak,
sal word soos niks, soos iets wat nie bestaan nie.

13

Ek is die Here jou God,
Ek vat jou hand,
Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie,
Ék help jou.

14
Moenie bang wees nie,
al is jy niks meer as 'n wurm nie, Jakob,
al is jy klein, Israel.
Ék help jou, sê die Here jou Verlosser,
die Heilige van Israel.

15
Ek maak jou 'n skerp dorsslee, 'n nuwe met baie tande;
jy sal berge dors en fynmaal,
jy sal van rante kaf maak.

16
Jy sal hulle uitwan, en die wind sal hulle wegwaai,
die stormwind sal hulle verstrooi;
dan sal jy jubel in die Here,
jy sal roem in die Heilige van Israel.

17

Die hulpeloses en die armes soek water, maar daar is nie;
hulle versmag van dors.
Maar Ek, die Here, sal hulle gebede verhoor,
Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie.

18
Ek sal op die kaal bergtoppe riviere laat ontspring,
en in die laagtes fonteine laat uitborrel.
Ek sal woestyngebied in rietvlei verander,
dor land in fonteinwêreld.

19
Ek sal in die woestyn seders laat groei,
doringbome, mirte en olyfbome.
Ek sal in die barre wêreld sipresse laat groei
saam met platane en denne.

20

Dan sal die mense sien en erken,
almal sal begryp en insien
dat die Here dit gedoen het,
dat die Heilige van Israel dit geskep het.

21
Stel julle saak, gode, sê die Here,
bring julle bewyse, sê die Koning van Jakob.

22

Kom, sê vir ons wat gaan gebeur,
sê vir ons wat beteken dit wat verby is
sodat ons daaroor kan nadink
en kan weet waarop dit uitloop.

23
Of laat ons hoor wat gaan gebeur,
sê vir ons wat in die toekoms gaan plaasvind
dat ons kan weet of julle gode is.
Doen iets, doen goed of kwaad,
dan sal ons almal verbaas staan en skrik.

24

Maar julle is niks,
julle kan niks doen nie.
Wie vir julle as sy gode kies, is self afskuwelik.

25

Ek het iemand uit die noorde te voorskyn laat kom,
van sonsopgang se kant af het hy gekom
en my Naam aangeroep.
Hy het regeerders in die modder in getrap
soos 'n pottebakker die klei trap.

26

Wie het voor die tyd al gesê dat dit sal gebeur
sodat ons daarvan kennis kon neem,
vantevore al, sodat ons sou kan sê dit het uitgekom?
Nee, niemand het dit gesê nie,
niemand het iets daaroor laat hoor nie,
niemand het julle 'n woord daaroor hoor sê nie.

27

Ek is die eerste wat vir Sion gesê het:
Kyk, jou mense kom terug!
Ek laat Jerusalem 'n goeie tyding hoor.

28

Ek het gewag op 'n antwoord,
maar nie een van die afgode het gereageer nie,
nie een van hulle het 'n woord te sê gehad nie.
Ek het hulle ondervra,
maar niemand kon antwoord nie.

29
Hulle is almal vals,
hulle kan niks doen nie,
hulle beelde beteken niks,
hulle kon net so wel nie daar gewees het nie.

42

1

Hier is my dienaar, Ek stel hom aan.
Ek het hom uitverkies, hy geniet my guns.
Ek laat my Gees op hom kom,
hy sal my wil aan die nasies bekend maak.

2
Hy sal nie roep nie, hy sal nie hard skree nie,
hy sal nie sy stem op straat laat hoor nie.

3
'n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie,
'n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie.
Hy sal my wil bekend maak soos dit is.

4
Self sal hy ook nie uitgedoof of geknak word nie
totdat hy my wil op aarde gevestig het.
Die eilande wag op wat hy hulle sal leer.

5

So sê God, die Here,
Hy wat die hemelkoepel geskep en dit oopgespan het,
Hy wat die aarde gevorm het en alles wat dit oplewer,
Hy wat aan al die mense op aarde die asem gee,
die lewe aan alles wat op die aarde beweeg:

6
Ek is die Here.
Omdat Ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep.
Ek hou jou vas,
Ek beskerm jou
en Ek maak jou my verbond met my volk,
my lig vir die nasies.

7
Jy sal blindes laat sien,
jy sal gevangenes uit die tronk bevry;
wie in die donkerte van die gevangenis sit,
sal jy laat uitgaan.

8

Ek is die Here, dit is my Naam,
die eer wat My toekom, gee Ek aan geen ander nie,
die lof wat My toekom, gee Ek nie aan gesnede beelde nie.

9
Wat Ek vroeër aangekondig het, het plaasgevind.
Ek kondig nuwe dinge aan.
Voor dit begin gebeur, laat Ek julle al daarvan hoor.

10
Sing tot eer van die Here 'n nuwe lied,
sing sy lof oor die hele aarde,
almal wat op die see vaar, alles wat in die see is,
al die eilande en dié wat daarop woon.

11
Laat die woestyn en sy stede die lof van die Here uitroep,
die dorpe in die omgewing van Kedar,
laat die inwoners van Sela jubel,
laat hulle van die toppe van die berge af juig.

12
Laat hulle aan die Here eer bewys
en op die eilande sy lof verkondig.

13

Die Here ruk op soos 'n soldaat,
strydlustig soos 'n krygsman.
Hy skree en roep die oorlogskreet uit.
Hy oorwin sy vyande.

14

Ek het lank stilgebly,
Ek het geswyg, My bedwing.
Nou skree Ek soos 'n vrou wat 'n kind in die wêreld bring.
Ek hyg, Ek snak na asem.

15
Ek laat die berge en rante verdor,
Ek laat al die plante daarop verdroog.
Ek laat die riviere opdroog,
Ek laat die rietvleie droog word.

16
Ek laat die blindes loop op 'n pad wat hulle nie ken nie,
Ek laat hulle op paaie gaan wat vir hulle onbekend is.
Ek verander die donker voor hulle in lig
en Ek maak die ongelyk plekke gelyk.

Dit is wat Ek gaan doen,
Ek gaan daar nie van afsien nie.

17

Dié wat op afgode vertrou,
wat vir beelde sê: “Julle is ons gode,”
sal op die vlug moet slaan, teleurgestel in hulle verwagting.

18
Luister, julle dowes,
kyk, julle blindes, dat julle kan sien.

19
Is daar iemand so blind soos my dienaar,
so doof soos my boodskapper wat Ek stuur?
Is daar iemand so blind soos die een
wat vir sy sonde gestraf is,
so blind soos die dienaar van die Here?

20

Julle het baie gesien, maar julle slaan nie ag daarop nie,
julle het gehoor, maar julle luister nie.

21

Die Here het vreugde daaraan om getrou te wees,
Hy laat sy woord roem en eer ontvang.

22

Maar sy volk is as 'n stuk buit weggevoer,
hulle word almal in gate gevange gehou,
hulle is in gevangenisse opgesluit.
Hulle het buit geword, en niemand red hulle nie,
hulle het gevangenes geword,
en niemand sê: “Laat hulle teruggaan!” nie.

23
Wie van julle neem dit waar?
Wie van julle gee aandag
en luister met die oog op wat voorlê?

24
Wie het van Jakob 'n gevangene gemaak,
wie het vir Israel oorgegee aan dié wat buit gemaak het?
Is dit nie die Here nie, Hy teen wie ons gesondig het?

Ons wou nie sy wil doen nie,
ons wou nie na sy woord luister nie.

25

Daarom het Hy sy toorn teen hulle laat ontvlam:
die geweld van oorlog.
Daar was vlamme rondom hulle,
maar hulle wou nie verstaan nie;
dit het hulle gebrand,
maar hulle wou dit nie ter harte neem nie.

43

1

Luister, so sê die Here
wat jou geskep het, Jakob,
wat jou gevorm het, Israel:
Moenie bang wees nie, Ek verlos jou,
Ek het jou op jou naam geroep,
jy is Myne.

2
As jy deur water moet gaan, is Ek by jou,
deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie;
as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie,
die vlamme sal jou nie brand nie,

3
want Ek is die Here jou God,
die Heilige van Israel, jou Redder.
Ek gee Egipte as losprys vir jou,
Kus en Seba in jou plek.

4
Omdat jy vir My kosbaar is,
omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet,
gee Ek mense in jou plek,
volke in ruil vir jou lewe.

5

Moenie bang wees nie,
Ek is by jou.
Ek bring jou kinders van die ooste af,
Ek maak hulle bymekaar van die weste af,

6
Ek sê vir die noorde: Gee!
vir die suide: Moet hulle nie terughou nie!
Bring my seuns van ver af,
my dogters van die uithoeke van die aarde af,

7
elkeen wat na my Naam genoem word,
elkeen wat Ek geskep het tot my eer,
wat Ek gevorm het, wat Ek gemaak het.

8

Laat my volk hierheen kom,
die volk wat blind is, al het hulle oë,
wat doof is, al het hulle ore.

9
Laat al die nasies bymekaarkom.
Al die volke moet teenwoordig wees.
Watter afgod kan hierdie dinge so aankondig?
Wie kon vooraf sê wat gebeur het?
Laat hulle hulle getuies bring
dat dié hulle saak bewys,
en dié wat luister, kan sê: Dit is waar.

10

Israel, julle is my getuies, sê die Here,
en ook my dienaar wat Ek uitverkies het
sodat julle My kan ken en in My kan glo
en kan besef dat Ek die Here is.
Voor My was daar geen god nie,
en na My sal daar ook nie een wees nie,

11
Ek, Ek is die Here,
buiten My is daar geen redder nie.

12

Ék het die redding aangekondig,
Ék het gered en dit laat verkondig,
Ek, nie 'n ander god onder julle nie.
Julle is my getuies, sê die Here,
en Ek is God.

13

Ook hierná is Ek nog God.
Uit my mag kan niemand gered word nie.
Wat Ek doen, kan niemand ongedaan maak nie.

14
So sê die Here, julle Verlosser, die Heilige van Israel:
Om julle ontwil stuur Ek iemand teen Babel
en laat Ek al sy inwoners, die Galdeërs, vlug
met dieselfde skepe waarop hulle hulle vroeër beroem het.

15

Ek is die Here, julle heilige God,
die Skepper van Israel, julle Koning.

16

So sê die Here,
Hy wat 'n pad gemaak het deur die see,
'n deurgang deur die magtige waters,

17
Hy wat strydwaens en perde laat optrek het,
'n leër op volle sterkte na sy ondergang toe.
Hulle kon nie weer opstaan nie,
dit was klaar met hulle,
hulle is soos 'n lamppit uitgedoof.

18

Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink
en by die verlede stilstaan nie.

19
Kyk, Ek gaan iets nuuts doen,
dit staan op die punt om te gebeur,
julle kan dit al sien kom;
Ek maak in die woestyn 'n pad,
Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.

20
Die wilde diere sal My vereer,
die jakkalse en die volstruise,
omdat Ek water gee in die woestyn,
riviere in die droë wêreld
om my volk, my uitverkore volk, se dors te les.

21
Dit is die volk wat Ek vir My geskep het,
en wat my lof sal verkondig.

22
Maar jy het My nie aangeroep nie, Jakob,
jy het nie moeite gedoen om My te dien nie, Israel.

23
Jy het nie vir My kleinvee as brandoffers gebring,
My nie met offers vereer nie;
Ek het jou nie belas met graanoffers nie,
jou nie die moeite aangedoen
om vir My wierookoffers te bring nie.

24
Jy het nie geld uitgegee
om vir My wierookoffers te koop nie,
en jy het My nie met die vet van offers verkwik nie.
Inteendeel, jý het Mý belas met jou sondes,
jy het My moeite aangedoen met jou oortredinge.

25

En tog is dit Ek wat jou opstandigheid vergewe.
Ek is getrou aan Myself,
Ek dink nie meer aan jou sondes nie.

26

Kla My aan,
laat ons die saak tussen ons uitmaak,
praat jy en bewys jou onskuld.

27
Jou eerste voorouer het gesondig
en jou woordvoerders het teen My oortree.

28
Daarom het Ek dié in beheer van die tempeldiens
ongeskik vir tempeldiens laat word.
Ek het Jakob iets gemaak wat uitgeroei moet word,
Israel iets wat bespot moet word.

44

1

Maar luister nou, my dienaar Jakob,
Israel wat Ek uitverkies het:

2
So sê die Here wat jou gemaak het,
Hy wat jou gevorm het in die moederskoot
en jou nou nog help:
Moenie bang wees nie, my dienaar Jakob,
Jesurun wat Ek uitverkies het.

3
Ek sal volop water gee op die dorsland,
strome op die droë grond.
Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders,
my seën op jou nakomelinge.

4
Hulle sal uitspruit soos gras in die veld,
soos wilgerbome langs waterlope.

5
Die een sal sê: “Ek behoort aan die Here,”
en homself 'n nakomeling van Jakob noem;
die ander sal op sy hand skryf: Die Here S'n
en homself 'n lid van die volk Israel noem.

6
So sê die Here, die Koning van Israel,
sy Verlosser, die Here die Almagtige:
Ek is die eerste en Ek is die laaste,
buiten My is daar geen God nie.

7
Wie soos Ek is, laat hom dit sê,
laat hom sy saak stel en dit aan My voorlê;
laat hom 'n verklaring gee van wat gebeur het
vandat Ek my volk lank gelede gemaak het
en ook van wat sal gebeur;
laat hy vertel van die dinge wat kom.

8

Moenie skrik nie, moenie bang wees nie!
Het Ek dit nie van lankal af aan julle verkondig,
dit vir julle gesê nie?
Julle is my getuies: is daar 'n God buiten My?
Daar is geen ander Rots nie;
Ek weet van geeneen nie.

9

Dié wat afgodsbeelde maak, is self almal niks;
die dierbare gode van hulle kan nie help nie.
Dié wat vir hulle moet getuig, kan nie sien nie,
kan nie verstaan nie;
dié wat sulke gode het, word teleurgestel.

10
Wie maak nou 'n god, giet 'n beeld
wat nie kan help nie!

11
Almal wat so 'n god aanhang, word teleurgestel:
dit is gode wat deur mense gemaak is.
Wanneer dié wat hulle aanhang, bymekaarkom vir 'n beslissing,
staan hulle verbyster en verleë.

12

Die ystersmid vat 'n stuk gereedskap
en werskaf in die gloeiende kole.
Met hamers vorm hy die beeld,
met sy gespierde arm maak hy die beeld:
die smid eet nie en word swak,
hy drink nie water nie en raak uitgeput.

13

Die ambagsman wat hout gebruik, meet met sy maatlyn
en merk die beeld se buitelyne af.
Hy bewerk hom met beitels
en trek sy mate met 'n passer af.
Hy maak hom in die vorm van 'n mens,
'n pragtige mens wat in 'n huis moet woon.

14

Die ambagsman kap vir hom seders af,
of hy kies sipresse of eike
en laat hulle groot word in die bos,
of hy plant 'n lourierboom,
en die reën laat dit groot word.

15
Dit dien as vuurmaakhout vir die mens;
iemand vat daarvan en maak hom warm,
of hy maak 'n vuur om brood te bak,
of hy maak 'n god en aanbid dit,
hy maak 'n beeld en buig daarvoor.

16
'n Deel van die hout verbrand hy:
hy maak kos daarmee gaar,
hy braai vleis en eet tot hy genoeg het;
hy maak hom ook warm en sê: “Dis lekker!
Ek is warm, ek geniet die vuur!”

17
Van die hout wat oorbly, maak hy 'n god, 'n beeld,
hy buig voor hom en aanbid hom,
hy bid tot hom en sê: “Red my, want jy is my god!”

18

Sulke mense weet nie wat hulle doen nie,
hulle het nie insig nie,
hulle oë is toegepleister, hulle sien nie,
niks dring tot hulle verstand deur nie.

19
Hulle kom nie tot besinning nie,
hulle het te min kennis en verstand om te sê:
“'n Gedeelte van die hout het ek verbrand,
ek het op die kole kos gaar gemaak,
ek het vleis gebraai en geëet,
en moet ek nou van wat oor is 'n afskuwelike afgod maak,
moet ek voor 'n stuk hout buig?”

20

Iemand wat hom met as besig hou,
laat hom mislei deur sy eie verdraaide opvattings.
Hy kan homself nie red nie,
hy vra homself nie af:
“Is dit nie 'n leuen waarmee ek my besig hou nie?”

21

Dink hieraan, Jakob,
dink hieraan, Israel, want jy is my dienaar;
Ek het jou gemaak, jy is my dienaar.
Ek sal jou nie verlaat nie, Israel.

22
Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis,
hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke.
Kom terug na My toe,
want Ek het jou verlos.

23

Juig, hemel, oor wat die Here gedoen het,
jubel, dieptes van die aarde,
wees bly en juig, berge en bosse,
want die Here het vir Jakob, vir Israel, verlos,
die Here het sy mag laat blyk.

24
So sê die Here jou Verlosser
wat jou in die moederskoot gevorm het:
Ek is die Here, Ek het alles geskep,
Ek alleen het die hemel oopgespan,
Ek het die aarde gevorm; daar was niemand by nie.

25
Ek stel die toekomsvoorspellers aan die kaak,
Ek maak die waarsêers belaglik.
Ek weerlê dié geleerde mense,
Ek ontmasker hulle kennis as dwaasheid.

26
Ek bevestig die woorde van my dienaar,
Ek bring wat my boodskappers aangekondig het, tot vervulling.

Ek sê van Jerusalem: Hy moet weer bewoon word,
en van die stede van Juda: Hulle moet weer opgebou word,
en Ek self bou Jerusalem se ruïnes weer op.

27

Ek sê vir die diep waters van Babel: Droog op!
Ek sal jou riviere laat opdroog.

28

Ek sê vir Kores: Ek het jou as herder aangestel,
jy moet my wil uitvoer,
jy moet van Jerusalem sê:
“Hy moet weer opgebou word
en die tempel moet herstel word.”

45

1

So sê die Here aan sy gesalfde, aan Kores,
vir wie Hy as heerser aangestel het,
aan wie Hy nasies onderwerp
en voor wie Hy konings hulle wapens laat neerlê,
voor wie Hy deure oopmaak
en poorte nie gesluit laat bly nie:

2
Ek self sal voor jou uit gaan
en hoogtes gelykmaak.
Ek sal bronspoorte oopbreek
en sluitbalke van yster stukkend kap.

3
Ek sal vir jou die skatte gee wat in die donker gebêre word,
die rykdomme wat weggesluit is,
sodat jy kan weet dat Ek die Here is,
dat Ek jou op jou naam geroep het,
Ek, die God van Israel.

4
Ter wille van my dienaar Jakob,
van Israel wat Ek uitverkies het,
het Ek jou op jou naam geroep,
gee Ek jou 'n eretitel hoewel jy My nie ken nie.

5
Ek is die Here, daar is geen ander nie,
buiten My is daar geen God nie.
Ek rus jou toe vir jou taak al ken jy My nie.

6
Ek doen dit sodat elkeen van die ooste af
tot in die weste kan weet
dat daar buiten My geen God is nie;
Ek is die Here, daar is geen ander nie.

7
Ek maak die lig en skep die donker;
Ek gee voorspoed en skep rampspoed.
Ek is die Here, Ek doen al hierdie dinge.

8

Laat die reën uitsak, hemel,
laat redding reën, wolke,
breek oop, aarde, laat voorspoed ontkiem,
laat trou uitspruit.
Ek is die Here, Ek skep hierdie dinge.

9
Ellende wag vir hom wat die Een verwyt wat hom gevorm het,
'n potskerf tussen potskerwe van klei.
Durf die klei vir die een wat dit vorm, sê: “Wat maak jy?”
Durf wat jy gemaak het, van jou sê:
“Hy kan nie sy hande gebruik nie!”

10

Ellende wag vir hom wat vir sy pa sê:
“Waarom verwek u 'n kind?”
of vir sy ma: “Waarom bring u 'n kind in die wêreld?”

11
So sê die Here, die Heilige van Israel,
die Skepper van Israel:
Durf julle van My rekenskap vra oor wat gaan gebeur?
Durf julle aan My voorskryf oor my kinders
en oor die werk van my hande?

12

Ek het die aarde gemaak;
die mensdom wat daarop is, het Ek geskep.
Ek het met my hande die hemel oopgespan
en Ek het aan al die hemelliggame hulle opdragte gegee.

13
Ek het vir Kores te voorskyn laat tree om reg te laat geskied;
Ek verwyder elke hindernis op sy pad.
Hy sal my stad weer opbou
en my ballinge terugstuur
sonder dat hy betaling of 'n geskenk daarvoor ontvang,
sê die Here die Almagtige.

14
So sê die Here:
Die opbrings van Egipte en die winste van Kus
sal na jou toe oorgaan en sal joune wees,
ook die mense van Seba, die groot mense.
Hulle sal agter jou loop en jou volg in kettings,
hulle sal diep voor jou buig en teenoor jou bely:
“Waarlik, God is by jou,
en daar is geen ander nie,
daar is nie nog 'n God nie.”

15

U is die God wat U verborge hou,
die God van Israel, die Redder!

16
Dié wat afgode maak, staan almal verleë,
teleurgestel in hulle verwagting,
hulle kom bedroë daarvan af.

17
Maar Israel word deur die Here gered
met 'n blywende redding.
Hulle sal nie verleë staan nie en nooit teleurgestel word nie.

18
So sê die Here, Hy wat die hemel geskep het,
Hy wat alleen God is,
Hy wat die aarde gevorm, gemaak het,
dit gereed gemaak, geskep het,
dit gevorm het, nie om leeg te wees nie,
maar om bewoon te word:
Ek is die Here; daar is geen ander nie.

19
Ek het nie in die geheim gepraat
iewers in 'n donker land nie.
Ek het nie aan die nakomelinge van Jakob gesê om My in 'n onbewoonbare land te dien nie.
Wat Ek, die Here, sê, bring redding,
my woorde gee lewe.

20
Kom almal bymekaar, kom nader vir die beslissing,
vlugtelinge uit die nasies.
Dié wat afgodsbeelde dra wat van hout gemaak is,
en tot 'n god bid wat nie kan red nie,
het geen insig nie.

21
Stel julle saak en bring julle bewyse,
beraadslaag gerus met mekaar daaroor.

Wie het wat nou gebeur, lankal aangekondig?
Wie het al vantevore gesê dit sal gebeur?
Is dit nie Ek, die Here, nie?
Daar is buiten My geen God nie;
net Ek is 'n God wat regverdig is en red.

22

Kom na My toe dat julle gered kan word,
almal op die aarde,
want Ek is God, daar is geen ander nie.

23
Ek lê 'n eed af in my eie Naam,
wat Ek sê, is betroubaar,
dit is 'n woord wat nie onvervul sal bly nie:
voor My sal elke knie buig,
in my Naam sal elke tong 'n eed aflê.

24

Hulle sal sê:
“Net van die Here kom daar redding en krag.”
Almal wat teen Hom te kere gegaan het,
sal beskaamd daarvan afkom
wanneer hulle voor Hom moet verskyn.

25
Maar al die nakomelinge van Israel sal gered word
omdat hulle aan die Here behoort,
en hulle sal in Hom roem.

46

1

Bel het ineengestort, dis klaar met Nebo!
Julle gode wat deur julle rondgedra is,
word nou op diere, op beeste gelaai.
Hulle het 'n vrag geword vir moeë diere.

2
Dit is klaar met julle gode,
hulle het ineengestort,
hulle kan hulle vrag nie dra nie
en word self in ballingskap weggevoer.

3

Luister na My, nageslag van Jakob,
almal wat oor is uit die nageslag van Israel,
julle vir wie Ek gedra het van julle geboorte af,
wat Ek vasgehou het vandat julle daar is.

4
Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here,
tot in julle grysheid sal Ek julle dra.
Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou,
julle dra en julle red.

5

Met wie kan julle My vergelyk,
aan wie kan julle My gelykstel,
met wie kan julle My op een lyn stel,
wie kan 'n vergelyking met My deurstaan?

6

Mense gooi goud uit hulle geldsak uit
en weeg silwer op 'n skaal af;
hulle huur 'n goudsmid, en hy maak daarvan 'n afgodsbeeld.
Dan buig hulle voor hom en aanbid hom.

7
Hulle tel hom op hulle skouers en dra hom,
hulle sit hom op sy plek neer en hy staan daar,
hy kan nie van daardie plek af padgee nie.
As iemand na hom roep, antwoord hy nie,
hy help hom nie uit sy nood nie.

8

Dink hieraan en luister,
neem dit ter harte, julle oortreders.

9
Dink aan wat vroeër gebeur het, lank gelede;
Ek is God, daar is geen ander nie;
Ek is God, daar is niemand soos Ek nie.

10
Ek kondig vantevore aan wat later sal kom,
lank tevore al wat nog nie gebeur het nie.
Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur,
wat Ek wil, doen Ek.

11
Ek roep 'n roofvoël uit die ooste,
uit 'n ver land roep Ek 'n man wat my besluit sal uitvoer.
Ek het dit gesê, en Ek sal hom laat kom,
Ek het dit beplan en Ek sal dit doen.

12

Luister na My, julle hardkoppiges,
julle wat geen redding verdien nie.

13
Ek laat die redding naderkom,
dit is nie meer ver nie,
die verlossing wat Ek bring, sal nie lank uitbly nie.
Ek bring verlossing vir Sion
en openbaar my mag in wat Ek met Israel doen.

47

1

Klim af, gaan sit in die stof, Babel!
Gaan sit op die grond
sonder jou troon,
stad van die Galdeërs!
Jy sal nie langer vergelyk word met 'n jong vrou
wat fyn is en altyd haar sin kry nie.

2
Vat maalklippe en maal meel,
slaan jou sluier op, trek jou boklere uit,
maak jou onderlyf kaal en loop deur die rivier.

3
Jou geslagsdele sal kaal wees,
mense sal jou bekyk en jou bespot.
Ek, die Here, gaan jou straf,
Ek sal niemand verskoon nie.

4

Ons Verlosser is die Heilige van Israel,
sy Naam is die Here die Almagtige.

5

Sit doodstil, kruip weg in die donker,
stad van die Galdeërs!
Jy sal nie langer bekend staan
as die een wat heers oor al die koninkryke nie.

6
Ek was kwaad vir my volk,
Ek het hulle nie meer as my besitting beskou nie;
daarom het Ek hulle in jou mag oorgegee.
Maar jy het nie met hulle medelye gehad nie;
selfs op die oumense het jy 'n swaar juk gelê.

7
Jy het gedink jy sal altyd bestaan, altyd heers.
Jy het nie aan die gevolge gedink nie,
jy het nie gedink aan wat sal gebeur nie.

8

Luister dan nou hierna,
jy wat in wellus lewe,
jy wat so rustig woon,
jy wat dink:
daar is niemand soos ek nie,
ek sal nie sonder 'n sorg sit soos 'n weduwee nie,
en ek sal nie my inwoners verloor nie.

9
Altwee hierdie dinge sal jou oorval,
in een oomblik, op dieselfde dag:
jy sal jou inwoners verloor
en niemand sal vir jou sorg nie.
Dit sal jou voluit tref
ondanks jou baie toordery,
ondanks jou magdom beswerings.

10
Jy het op jou bose dade vertrou,
jy het gedink daar is niemand wat jou sien nie.
Jou wysheid en jou kennis het jou mislei,
en jy het gedink:
daar is niemand soos ek nie.

11

Maar daar kom 'n ramp oor jou
wat jy nie kan besweer nie,
onheil oorval jou,
en jy kan dit nie met 'n losprys keer nie.
Jou ondergang kom skielik,
jy het dit nie verwag nie.

12

Gaan maar aan met jou beswerings
en jou baie toordery
waarmee jy jou van jongs af al ophou.
Dalk bereik jy iets daarmee,
dalk skrik jy jou vyande daarmee af!

13
Jy het jou moeg gemaak met jou baie voortekens.
Laat jou voorspellers nou optree,
laat hulle jou help,
hulle wat die hemel opdeel
en die sterre bekyk,
hulle wat elke maand bekend maak
wat oor jou gaan kom.

14

Maar hulle het soos stoppels geword,
hulle gaan verbrand.
Hulle kan hulleself nie red van die vlamme nie.
Daar bly nie eens kole oor om jou by warm te maak nie,
'n vuur om by te sit nie.

15
Dit is wat jy het aan dié met wie jy jou ophou,
met wie jy jou van jongs af inlaat.
Hulle het almal gedwaal,
daar is niemand wat jou kan red nie.

48

1

Luister, nageslag van Jakob,
julle wat julleself Israel noem
en wat uit Juda voortkom,
julle wat in die Naam van die Here 'n eed aflê
en die God van Israel aanbid,
maar nie eerlik en opreg nie;

2
julle noem julleself na die heilige stad
en julle maak staat op die God van Israel,
op Hom wie se Naam die Here die Almagtige is.
Luister hierna:

3
Ek het wat vroeër gebeur het,
lank tevore reeds aangekondig,
uit my mond is dit gehoor,
Ek het dit bekend gemaak.

Toe het Ek dit skielik laat gebeur.

4
Omdat Ek weet dat julle hardkoppig is,
dat julle so weerbarstig soos 'n stuk yster is
en dat julle kop so hard soos brons is,

5
daarom het Ek dit lank tevore vir julle aangekondig,
en dit aan julle bekend gemaak voordat dit gebeur het
sodat julle nie kon sê: “Ons afgode het dit gedoen,
ons afgodsbeelde het beveel dat dit moet gebeur” nie.

6
Julle het dit alles gehoor, julle kon dit alles self sien,
sal julle dan nie daarvan getuig nie?
Van nou af laat Ek julle nuwe dinge hoor,
dinge wat verborge was, waarvan julle niks geweet het nie.

7
Ek gaan dit nou doen, dit was nie voorheen daar nie.
Voor vandag het julle nie daarvan gehoor nie,
julle kan nie sê:
“Ons het dit al geweet” nie.

8

Julle het nog niks daarvan gehoor nie
en julle weet nog niks daarvan nie.
Julle kon dit nie vantevore hoor nie,
want Ek het geweet dat julle nie vertrou kan word nie,
dat julle van julle geboorte af al as oortreders bekend is.

9
Ter wille van my Naam bedwing Ek my toorn,
ter wille van my eer tree Ek nie op teen julle nie
dat julle nie vernietig word nie.

10
Ek het jou gelouter,
maar nie soos silwer gelouter word nie,
Ek het jou gelouter in die smeltkroes van ellende.

11
Ter wille van Myself en daarom alleen, doen Ek dit,
Ek laat my Naam nie oneer aandoen nie.
Ek gee die eer wat My toekom, aan niemand anders nie.

12
Luister na My, Jakob,
luister, Israel, vir wie Ek geroep het:
Ek is die Here,
Ek is die eerste, en Ek is die laaste.

13
Met my eie hand het Ek die aarde se fondamente gelê,
deur my mag het Ek die hemelkoepel oopgesprei:
Ek het hulle te voorskyn geroep
en hulle het tot stand gekom.

14

Kom almal bymekaar, luister.
Wie van die gode het aangekondig wat nou gaan gebeur?
Die Here het iemand lief,
en dié sal aan Babel doen wat hy wil
en sy mag teen die Galdeërs laat geld.

15
Ek, Ek het dit gesê, Ek het hom geroep,
Ek het hom laat kom,
en hy sal voorspoedig wees in wat hy moet doen.

16
Kom nader na My toe
en luister hierna:
Van die begin af al het Ek niks geheim gehou nie,
vandat iets begin gebeur het, is Ek nog altyd daar.

En nou, die Here God het my en sy Gees gestuur.

17

So sê die Here, jou Verlosser,
die Heilige van Israel:
Ek is die Here jou God
wat jou onderrig tot jou beswil,
wat jou lei op die pad waarop jy moet gaan.

18
As jy maar aan my gebooie gehoorsaam was,
sou daar voorspoed en redding vir jou gekom het,
so onkeerbaar soos 'n rivier, soos die golwe van die see.

19
Jou nageslag sou so baie gewees het soos sand,
jou afstammelinge so volop soos sandkorrels,
en Ek sou toegesien het dat hulle nie vernietig
en uitgeroei word nie.

20

Gaan uit Babel uit,
vlug weg van die Galdeërs af!
Jubel dit uit,
maak hierdie aankondiging
en laat dit weerklink tot in die uithoeke van die aarde;
sê: “Die Here het sy dienaar Jakob verlos!”

21
Sy volk het nie dors gekry
toe Hy hulle deur 'n droë wêreld gelei het nie.
Hy het vir hulle water uit 'n rots laat stroom,
Hy het die rots gekloof
en daar het water uitgestroom.

22

Maar vir die goddeloses
is daar geen vrede nie, sê die Here.

49

1

Luister na my, eilande,
gee aandag, nasies wat ver is!
Die Here het my voor my geboorte al geroep;
toe ek nog in my moeder se liggaam was,
het Hy my op my naam genoem.

2
Hy het my mond soos 'n skerp swaard gemaak,
my in die skaduwee van sy hand verberg,
Hy het my 'n skerp pyl gemaak
en my in sy pylkoker weggesteek.

3
Hy het vir my gesê: Jy is my dienaar,
jy is Israel, deur jou maak Ek my mag bekend.

4
Ek het gedink: ek het my tevergeefs vermoei,
ek het my heeltemal verniet afgesloof.

Maar die Here sál aan my reg laat geskied,
my God sál my beloon.

5
En nou maak die Here 'n aankondiging,
Hy wat my in die moederskoot al sy dienaar gemaak het
om Jakob na Hom toe terug te bring
sodat Israel nie meer verstrooi sal wees nie.
Die Here het my 'n belangrike opdrag gegee
en my God gee my die krag om dit te doen.

6
Hy het gesê: Dit is nie genoeg dat jy my dienaar is
om die stamme van Jakob te herstel
en om die Israeliete wat gered is,
terug te bring nie;
Ek maak jou 'n lig vir die nasies
sodat die redding wat Ek bewerk,
die uithoeke van die aarde sal bereik.

7

So sê die Here,
die Heilige van Israel, sy Verlosser,
vir dié een wat diep verag is,
wat deur die nasies verafsku word
en wat 'n dienaar van regeerders is:
Konings sal sien wat gebeur en sal opstaan,
leiers sal buig
tot eer van die Here wat getrou is,
die Heilige van Israel wat jou uitverkies het.

8

So sê die Here:

Op 'n tyd wat Ek goeddink, sal Ek jou gebede verhoor,
op die dag wanneer Ek wil red, sal Ek jou help.
Ek sal jou beskerm
en jou my verbond met my volk maak
om sy land te herstel,
om sy verlate eiendom weer in besit te neem,

9
om aan dié wat gevange gehou word, te sê: “Gaan uit!”
aan dié wat in die donker opgesluit sit: “Kom uit!”
Hulle sal versorg word terwyl hulle op pad is,
selfs op kaal heuwels sal daar vir hulle genoeg wees.

10
Hulle sal nie honger of dors kry nie,
die woestynhitte en die son sal hulle nie brand nie,
want Hy wat Hom oor hulle ontferm het,
sal hulle onder sy sorg neem.
Hy sal hulle by fonteine langs lei.

11
Ek sal al my berge paaie maak,
my grootpaaie sal sonder opdraandes wees.

12
Daar kom my volk van ver af!
Party kom uit die noorde en uit die weste,
party kom uit die land van die Siniete.

13

Jubel, hemel! Juig, aarde!
Sing vrolik, berge!
Die Here het vir sy volk uitkoms gegee,
Hy het Hom ontferm oor sy volk wat in nood was.

14

Sion sê: “Die Here het my verlaat,
die Here het my vergeet.”

15

Kan 'n vrou haar eie baba vergeet,
haar nie ontferm oor die kind
wat sy in die wêreld gebring het nie?
Selfs al sou so iets kon gebeur,
Ek sal jou nie vergeet nie.

16
Ek het jou naam in my handpalms gegraveer,
Ek sien jou mure altyd voor my.

17
Jou kinders kom binnekort,
en dié wat jou verwoes en verniel het, sal uit jou uit padgee.

18
Kyk rondom jou en sien wat gebeur,
al jou kinders kom bymekaar en hulle kom na jou toe.

So seker as Ek lewe, sê die Here,
jy sal oor hulle so bly wees soos 'n vrou oor halssnoere,
soos 'n bruid oor haar juwele.

19
Jy is nou nog net puinhoop en ruïne,
'n verwoeste plek,
maar jy sal te klein word vir al jou inwoners,
en dié wat jou afgebreek het, sal verdwyn.

20
Kinders wat jy nou nie het nie,
sal nog in jou ore kom kerm en sê:
“Dié plek is te klein vir ons!
Maak vir ons plek om in te woon!”

21
Dan sal jy dink:
wie het hierdie kinders vir my in die wêreld gebring?
Ek was kinderloos en onvrugbaar,
'n balling, 'n verstoteling.
Wie het hierdie kinders grootgemaak?
Ek het alleen oorgebly.
Waar kom hulle vandaan?

22

So sê die Here God:

Ek sal my hand uitstrek na die nasies toe,
onder die volke sal Ek my vaandel opsteek.
Dan sal hulle jou seuns op die arm na jou toe bring,
en jou dogters sal op die skouer aangedra word.

23
Konings sal jou kinders oppas,
koninginne sal hulle pleegmoeders wees.
Hulle sal diep voor jou buig
en die stof van jou skoene aflek.
Dan sal jy besef dat Ek die Here is;
wie op My vertrou, word nie teleurgestel nie.

24

Kan 'n soldaat se buit afgeneem word?
Sal 'n gevangene sommer vrygelaat word
as hy onder bewaking van 'n betroubare persoon is?

25
So sê die Here:
'n Soldaat se gevangene kan ontset word,
selfs 'n man met baie mag se buit kan afgeneem word.
Ek is 'n vyand van jou vyand
en Ek sal jou kinders red.

26
Ek sal jou verdrukkers hulle eie vleis laat eet,
hulle sal van hulle eie bloed so dronk word soos van wyn.
Dan sal al wat leef, besef dat Ek die Here is,
jou Redder en jou Verlosser, die magtige God van Jakob.

50

1

So sê die Here:

Waar is die skeibrief wat Ek vir jou moeder gegee het
toe Ek van haar geskei het?
Of aan wie het Ek geld geskuld
dat Ek julle daarvoor aan hom gegee het?
Nee, dit is oor julle sondes dat julle verkoop is,
oor julle oortredings dat Ek van julle geskei het.

2
Waarom was daar niemand toe Ek gekom het nie?
Waarom het niemand geantwoord toe Ek geroep het nie?
Is Ek nie in staat om te verlos nie,
het Ek nie die krag om te red nie?
Wanneer Ek die see aanspreek, droog hy op.
Ek laat riviere opdroog:
die visse stink, daar is nie water nie,
hulle vrek sonder water.

3
Ek maak die hemel donker,
Ek trek vir hom rouklere aan.

4
Die Here my God het my geleer
om die regte woorde te gebruik
sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat.
Elke môre laat Hy my opnuut weer luister,
Hy laat my luister soos 'n leerling moet luister.

5
Die Here my God het my geleer om te luister:
ek was nie teen Hom opstandig nie,
ek was nie ontrou aan Hom nie.

6
Ek het my rug gehou vir dié wat my slaan,
my wang vir dié wat my baard uittrek.
Ek het my gesig nie weggedraai
toe ek bespot en bespoeg is nie.

7

Die Here my God help my,
ek sal nie teleurgestel staan nie;
ek sal my nie ontstel nie,
ek weet ek sal nie in verleentheid kom nie.

8
Hy wat my onskuldig sal verklaar, is naby;
wie wil 'n aanklag teen my inbring?
Laat ons elkeen sy saak stel.
Wie wil my aankla?
Laat hom vorentoe kom.

9
Die Here my God help my;
wie sal my dan skuldig verklaar?
Dit is verby met almal wat my beskuldig,
soos met 'n lap wat deur motte gevreet word.

10

Wie van julle dien die Here
en luister na sy dienaar?
Wie in die donker loop
en geen lig sien nie,
moet op die Here vertrou,
moet op sy God steun.

11
Maar julle wat vure aansteek,
wat brandpyle gereed maak,
julle sal in julle eie vuur brand,
deur julle eie brandpyle sal julle doodbrand.
Dit is my mag wat dit oor julle bring,
julle sal beland in die plek waar die pyn nooit ophou nie.

51

1

Luister na My, julle wat wil reg doen,
julle wat na die wil van die Here vra:
Dink aan die rots waaruit julle gekap is,
aan die klipgroef waaruit julle gegrawe is.

2
Dink aan Abraham, julle voorvader,
aan Sara wat vir julle in die wêreld gebring het.
Ek het Abraham geroep toe hy kinderloos was
en Ek het hom geseën en hom 'n groot nageslag gegee.

3
Nou gaan die Here Hom oor Sion ontferm,
Hy gaan Hom oor al die puinhope daar ontferm.
Hy gaan die woestyngedeeltes maak soos Eden,
die barre wêreld soos die tuin van die Here.
Daar sal vreugde en blydskap in Sion wees,
daar sal gedank en gesing word.

4

Luister na My, my volk,
my volk, gee aandag aan wat Ek sê:
My onderrig sal uitgaan na die volke toe,
my wil sal vir die nasies die koers aanwys.

5

Die redding wat Ek bring, kom baie gou,
die verlossing wat Ek bewerk, is op pad,
Ek self regeer oor die nasies.
Die eilande wag op My,
hulle wag dat Ek My laat geld.

6
Kyk op na die hemel,
kyk na die aarde hier onder:
die hemel sal soos rook verdwyn,
die aarde sal word soos ou klere,
en almal wat daarop woon, sal doodgaan soos muggies,
maar die verlossing wat Ek bewerk, sal vir altyd wees,
die redding wat Ek bring, sal altyd bly.

7

Luister na My, julle wat doen wat reg is,
volk in wie se hart my wet is,
moenie bang wees vir die spot van mense nie,
moenie skrik as hulle julle beledig nie.

8
Hulle is soos lap wat deur motte gevreet word,
soos wol wat deur vismotte verniel word.
Maar die redding wat Ek bring, sal vir altyd wees,
die verlossing wat Ek bewerk, sal daar wees vir elke geslag.

9

Gryp in, Here, gryp in!
Toon u mag, u krag!
Gryp in soos in die ou tyd,
soos in tye lank gelede.
Is dit dan nie U wat vir Rahab verslaan het nie,
wat die seemonster deurboor het nie?

10
Is dit nie U wat die see,
die groot diep waters laat opdroog het nie,
U wat op die seebodem 'n pad gemaak het
sodat dié wat verlos is, kon deurgaan nie?

11

Dié wat deur die Here verlos is, sal terugkeer,
hulle sal juigend in Sion aankom,
hulle sal altyd straal van blydskap,
hulle sal vol vreugde en blydskap wees,
ellende en smart sal verdwyn.

12

Ek is die Here, Ek bring uitkoms vir julle.
Hoe is dit dan dat jy bang is vir 'n sterflike mens,
vir 'n mens wat so maklik vergaan soos gras?

13
Jy vergeet die Here wat jou gemaak het,
wat die hemel oopgespan het,
wat die aarde se fondamente gelê het.
Jy was altyddeur bang vir die woede van die verdrukker,
vir hom wat daarop uit was om jou te vernietig,
maar waar is die woede van jou verdrukker nou?

14
Binnekort sal dié wat nog gevange gehou word,
vrygelaat word,
die ballingskap sal nie hulle graf word nie,
en hulle sal nie honger ly nie.

15

Ek is die Here jou God,
Ek laat die see onstuimig word,
Ek laat sy golwe druis.

Sy Naam is die Here die Almagtige!

16

Ek het vir jou gesê wat jy moet sê,
en jou beskerm in die skaduwee van my hand,
want Ek het die hemel oopgespan
en die aarde se fondamente gelê
en vir Sion gesê: Jy is my volk.

17
Word wakker, word wakker!
Staan op, Jerusalem!
Jy wat die oordeelsbeker
uit die hand van die Here gedrink het,
wat die beker gedrink het wat jou laat steier het,
dit leeggedrink het!

18
Onder al die seuns wat jy in die wêreld gebring het,
was daar nie een wat jou gelei het nie,
onder almal wat jy grootgemaak het,
was daar nie een wat jou aan die hand gevat het nie.

19
Kyk wat het jou alles getref.
Wie het nog medelye met jou?
Daar is net verwoesting en vernietiging,
hongersnood en bloedvergieting.
Wie kan vir jou uitkoms gee?

20
Soos wild wat in 'n vangnet gevang is,
lê jou seuns magteloos op die hoeke van die strate,
voluit getref deur die toorn van die Here,
deur die straf van jou God.

21

Luister dan tog hierna,
jy wat in soveel ellende verkeer,
jy wat dronk is, maar nie van wyn nie.

22
So sê die Here, jou Here en jou God
wat die saak van sy volk behartig:
Ek gaan die beker wat jou laat steier het,
uit jou hand wegvat,
die beker van my toorn.
Jy hoef nie verder daaruit te drink nie.

23
Inteendeel, Ek sit dit in die hand van jou verdrukkers,
hulle wat vir jou gesê het:
“Gaan lê dat ons oor jou kan loop.”

Jy moes jou rug soos die grond maak,
soos 'n straat vir dié wat oor jou geloop het.

52

1

Word wakker, word wakker,
ruk jou reg, Sion.
Trek mooi klere aan,
Jerusalem, heilige stad!
Mense wat nie besny is nie
en mense wat onrein is, sal nie meer in jou kom nie.

2
Skud die stof van jou af en staan op, Jerusalem,
jy wat 'n gevangene is.
Maak los die toue om jou nek, Sion,
jy wat 'n gevangene is.

3

So sê die Here:

Ek het julle verkoop, maar nie vir geld nie;
julle sal losgekoop word, maar nie deur geld nie.

4

So sê die Here my God:

In die begin het my volk afgegaan na Egipte toe
en daar gewoon as vreemdelinge;
later het Assirië hulle verdruk.

5
En wat kry Ek nou hier in Babel? vra die Here.
My volk is sonder rede weggevoer,
hulle leiers huil, sê die Here.
My Naam word gedurig belaster.

6
Daardie dag sal my volk my Naam bely:
dat Ek die Here is,
dat dit Ek is wat sê: Hier is Ek!

7

Hoe wonderlik klink op die berge
die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring,
wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring,
wat redding aankondig,
wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!”

8

Hoor, jou wagte roep hard,
hulle jubel almal saam,
want hulle sien dat die Here na Sion toe terugkom.

9
Jubel en juig, puinhope van Jerusalem,
want die Here het vir sy volk uitkoms gebring,
Hy het Jerusalem verlos.

10
Die Here het sy heiligheid, sy mag, geopenbaar voor die oë van al die nasies.
Tot aan die uithoeke van die aarde
sal hulle die redding sien wat ons God bewerk het.

11

Gee pad, gee pad, kom uit uit Babel!
Moenie aan iets raak wat onrein is nie.

Kom uit daar! Sorg dat julle rein is,
julle wat die tempelgereedskap dra.

12
Julle hoef nie haastig pad te gee nie,
julle hoef nie soos vlugtelinge te vertrek nie:
Die Here gaan voor julle uit,
die God van Israel kom agter julle aan.

13
My dienaar sal voorspoedig wees.
Hy sal hoog in aansien wees, hy sal baie eer ontvang.

14
Baie mense was ontsteld oor hom,
hy was so misvormd
dat hy nie meer soos 'n mens gelyk het nie,
nie meer die voorkoms van 'n mens gehad het nie.

15
Maar hy gaan baie nasies laat opspring van verbasing.
Konings sal sprakeloos wees oor hom,
want hulle sal iets sien wat nie aan hulle vertel is nie,
hulle sal iets te wete kom
wat hulle nog nooit gehoor het nie.

53

1

Wie sal ons glo as ons hiervan vertel?
Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?

2
Die dienaar was soos 'n loot wat voor die Here uitspruit,
soos 'n plant wat wortel skiet in droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na hom sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie.

3
Hy was verag en deur die mense verstoot,
'n man van lyding wat pyn geken het,
iemand vir wie die mense die gesig wegdraai.
Hy was verag, ons het hom nie gereken nie.

4

Tog het hy óns lyding op hom geneem,
óns siektes het hy gedra.
Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word,
wat deur God geslaan en gepynig word.

5
Oor óns oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom,
deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.

6

Ons het almal gedwaal soos skape,
ons het elkeen sy eie pad geloop,
maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.

7
Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly,
hy het nie gekla nie.
Soos 'n lam wat na die slagplek toe gelei word
en soos 'n skaap wat stil is as hy geskeer word,
het hy nie gekla nie.

8
Terwyl hy gely het en gestraf is,
is hy weggeneem,
en wie van sy mense het dit ter harte geneem
dat hy afgesny is uit die land van die lewendes?
Hy is gestraf oor die sonde van my volk.

9
Hy het 'n graf gekry by goddeloses,
hy was by sondaars in sy dood
al het hy geen misdaad gepleeg nie
en al was hy nooit vals nie.

10
Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel,
om hom die pyn te laat ly.

As hy sy lewe as skuldoffer gee,
sal hy 'n nageslag hê en nog lank lewe,
deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik.

11
Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien
en hy sal die Here ken.
My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak:
hy sal die straf vir hulle sonde dra.

12
Daarom gee Ek hom 'n ereplek onder die grotes.
Hy sal saam met magtiges die oorwinning vier
omdat hy hom in die dood oorgegee het
en as misdadiger beskou is,
omdat hy die sondes van baie op hom geneem het
en vir oortreders gebid het.

54

1

Jubel, onvrugbare vrou,
jy wat geen kinders
in die wêreld gebring het nie,
jubel en juig,
jy wat geen geboortepyne geken het nie,
want jy, verstote vrou, gaan nou meer kinders hê
as een wat getroud is, sê die Here.

2
Maak groter die plek vir jou tent,
maak breër jou tentdoeke,
moenie suinig daarmee werk nie.
Maak langer die tentlyne
en slaan die tentpenne dieper in,

3
want jy sal na alle kante toe uitbrei;
jou nageslag sal nasies verdryf
en in die stede wat nou verwoes is, gaan woon.

4
Moenie bang wees nie,
jy sal nie weer in die skande kom nie,
moenie so verleë daar staan nie,
jy sal nie weer verneder word nie.
Jy sal die skande uit jou jong dae vergeet
en nie meer dink hoe jy verneder is
toe jy 'n weduwee was nie.

5
Hy wat jou gemaak het, is jou man,
sy Naam is die Here die Almagtige.
Die Heilige van Israel is jou Verlosser;
Hy word die God van die hele wêreld genoem.

6

Jy is 'n verstote en bitter bedroefde vrou,
maar die Here roep jou terug,
want hoe kan 'n man sy eie vrou vergeet? sê jou God.

7
Net 'n oomblik het Ek jou verstoot,
in my groot liefde vat Ek jou terug.

8
In 'n opwelling van toorn
wou Ek 'n kort tydjie niks met jou te doen hê nie,
maar Ek ontferm My oor jou
met 'n liefde wat nooit vergaan nie,
sê die Here, jou Verlosser.

9

Soos met die waters van Noag is dit vir My:
soos Ek met 'n eed bevestig het dat die waters van Noag
nie weer die aarde sal oorstroom nie,
so bevestig Ek met 'n eed
dat Ek nie langer toornig op jou sal wees en jou sal straf nie.

10
Berge kan padgee, heuwels kan wankel,
maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie,
my vredeverbond met jou sal nooit wankel nie,
sê die Here, wat jou liefhet.

11

Jy, verdrukte, bedreigde stad
vir wie daar nie uitkoms was nie,
Ek sal jou klippe vasmessel met goeie klei,
Ek maak jou fondamente van saffiersteen.

12
Ek maak jou torings van robyne
en jou poorte van smarag,
jou hele stadsmuur van kosbare klip.

13
Al jou inwoners sal leerlinge van die Here wees,
en hulle sal altyd vrede geniet.

14
Geregtigheid sal in jou heers.
Jy hoef nie bang te wees vir verdrukking nie,
ook nie vir verskrikking nie,
want dit sal nie naby jou kom nie.

15
As iemand jou aanval, het Ek hom nie gestuur nie;
wie jou aanval, sal die onderspit teen jou delf.

16
Dit is Ek wat die ambagsman geskep het,
die ambagsman wat die vuur aanblaas
en allerhande wapens daarin smee.
Dit is Ek wat die verwoester geskep het om af te breek.

17
Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val,
sal iets uitrig nie;
elkeen wat vals teen jou getuig,
sal gestraf word.
Dit is hoe Ek, die Here,
vir my dienaars sorg.
Ek laat geregtigheid aan hulle geskied, sê die Here.

55

1

Kom, almal wat dors is, kom na die water toe,
selfs ook dié wat nie geld het nie, kom,
koop en eet;
ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal,
wyn en melk.

2

Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie,
waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie?
Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is
en versadig kan word met die beste wat daar is.

3
Gee aandag en kom na My toe,
luister, en julle sal lewe.
Ek wil met julle 'n ewige verbond sluit,
Ek wil my troue liefde aan julle betoon soos aan Dawid.

4
Ek het hom 'n getuie gemaak vir die volke,
'n regeerder en gebieder van volke.

5
Nou sal jy nasies ontbied wat jy nie geken het nie,
en nasies wat jou nie geken het nie,
sal na jou toe hardloop
ter wille van die Here jou God,
die Heilige van Israel,
omdat Hy jou in eer herstel het.

6

Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is,
roep Hom aan terwyl Hy nog naby is.

7

Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan,
die slegte mens sy slegte planne.
Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees;
hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer.

8

My gedagtes is nie julle gedagtes nie,
en julle optrede nie soos Myne nie,
sê die Here;

9
soos die hemel hoër is as die aarde,
so is my optrede verhewe bo julle optrede
en my gedagtes bo julle gedagtes.

10
Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit
en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde
en laat die plante bot en vrugte dra,
sodat daar saad is om te saai en brood om te eet.

11
So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees:
dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie,
maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê
en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.

12

Julle sal met blydskap uit Babel wegtrek
en in vrede gelei word;
die berge en die heuwels sal voor julle uit jubel en juig
en al die bome in die veld sal hande klap.

13
In die plek van 'n doringbos sal daar 'n sipres opskiet,
in die plek van 'n dissel sal daar 'n mirteboom opskiet.
Dit sal tot eer van die Here wees,
'n blywende teken wat nooit vernietig sal word nie.

56

1

So sê die Here:

Laat reg geskied, doen reg,
want die verlossing wat Ek bring, is al aan die kom,
en die redding wat Ek bewerk, gaan nou geopenbaar word.

2

Dit gaan goed met die mens
wat die sabbat onderhou en dit nie ontheilig nie,
wat sorg dat hy niks verkeerds doen nie.
Dit gaan goed met die mens wat hom hieraan hou.

3

'n Nie-Israeliet wat by die volk van die Here aangesluit het,
moenie dink: die Here sal my van sy volk afsny nie.
'n Ontmande moenie van homself dink:
ek is maar 'n droë boom nie.

4

So sê die Here:

Aan die ontmandes wat my sabbatte onderhou,
wat kies vir wat Ek wil,
en wat lewe volgens my verbond,

5
aan hulle sal Ek in my tempel en aan sy mure
'n teken gee, 'n erenaam wat beter is as seuns en dogters.
Ek sal aan sulke mense 'n naam gee
wat nie uitgewis sal word nie.

6
Ek sal die nie-Israeliete wat by my volk aansluit
om My te dien, om my Naam lief te hê,
en om my dienaars te wees,
almal wat my sabbatte onderhou en dit nie ontheilig nie,
en wat lewe volgens my verbond,

7
na my heilige berg toe bring.
Ek sal aan hulle vreugde gee in my huis van gebed,
hulle brandoffers, hulle offers
op my altaar sal vir My aanneemlik wees,
want my tempel sal uitgeroep word tot
'n huis van gebed vir al die volke.

8

Die Here my God
wat die verstrooides van Israel bymekaarmaak, sê:
Ek sal nog ander byvoeg
by dié wat reeds bymekaargemaak is.

9
Kom verslind my volk, al julle wilde diere,
al julle diere in die bos!

10
Dié wat oor my volk moet waak, is almal blind,
hulle weet niks nie.
Hulle is almal stom honde,
hulle kan nie blaf nie;
hulle lê net,
hulle wil net slaap.

11
Hulle is gulsige honde,
hulle ken nie so iets soos genoeg kry nie.
Hulle is herders sonder insig,
hulle slaan elkeen sy eie koers in,
elkeen is op sy eie voordeel uit.

12
Hulle sê: “Kom, hier is die wyn,
kom ons slaan die bier weg!
Môre sal soos vandag wees,
selfs nog baie beter.”

57

1

Die regverdige kom om,
en daar is niemand
wat dit ter harte neem nie;
dié wat aan die verbond getrou is,
sterf sonder dat iemand begryp
dat dit deur die boosheid in die wêreld is
dat die regverdiges sterf.

2
Dié wat die reguit pad loop,
kom waar daar vrede is,
hulle rus in die graf.

3
Maar kom julle nader hierheen,
kinders van 'n towerheks,
julle wat gebore is uit owerspel en hoerery!

4
Met wie wil julle spot?
Teen wie wil julle grootpraat,
vir wie wil julle tong uitsteek?
Julle is niks anders as 'n klomp rebelle nie,
'n broeisel leuenaars!

5
Julle dien die afgode
met julle wellus onder die groot bome,
onder elke groen boom.
Julle offer julle kinders in die laagtes
en onder die oorhangende rotse.

6
Julle verkies die afgodsbeelde in die laagte,
daar soek julle julle deel.
Vir hulle bring julle drankoffers
en offer julle graanoffers.
Moet Ek My hiervoor oor julle ontferm?

7
Op die hoë berge het jy 'n plek ingerig vir jou onsedelikheid
en daarheen opgeklim om offers te bring.

8
Agter jou deure en aan jou kosyne
het jy beeldjies opgehang.
In jou ontrou aan My het jy jou kaal uitgetrek,
op jou bed geklim en vir jou minnaars plek gemaak.
Jy het jou verbind aan dié saam met wie jy graag geslaap het.
Jy het hulle naaktheid geniet.

9
Jy het na Molek toe gegaan met olie
en met baie wierook;
jy het jou boodskappers na ver plekke toe gestuur,
selfs tot by die doderyk!

10
Jou soekery het jou moeg gemaak;
tog het jy nie gesê: “Dit is sinloos!” nie.
Jou wellus het jou aanhou oorweldig,
daarom het jy nie opgehou nie.

11
Vir wie was jy so bang en bevrees
dat jy vals geword het?
Jy dink nie meer aan My nie,
jy steur jou nie meer aan My nie.
Ek het lank geswyg
toe jy My nie meer gedien het nie,

12
maar nou sal Ek jou skynheiligheid aan die kaak stel,
alles wat jy gedoen het,
en jou gode sal jou nie kan help nie.

13
As jy om hulp roep,
moet jou spul gode jou kom red,
maar 'n wind waai hulle almal weg,
'n yl luggie vat hulle weg.

Maar wie by My skuil, sal die land besit
en my heilige berg as eiendom ontvang.

14

Die Here het gesê:

Vul die pad op, vul dit op, maak dit gereed!
Verwyder die struikelblokke uit die pad van my volk.

15
So sê Hy wat hoog en verhewe is,
Hy wat ewig leef en wie se Naam die Heilige is:
Ek woon in 'n hoë en heilige plek
en Ek is by hom wat verdruk en nederig is.
Ek gee nuwe krag aan die nederiges,
Ek gee nuwe krag aan die verdruktes.

16
Ek reken nie vir altyd sondes toe nie,
Ek bly nie vir altyd toornig nie,
want anders sou dit die einde beteken van die mens,
die mens aan wie Ek die asem gegee het.

17
Ek het toornig geword oor my volk se sonde en hebsug,
Ek het hom geslaan en hom verlaat
omdat Ek toornig was.
Hy was opstandig en het sy eie koers ingeslaan.

18
Ek het gesien wat met hom gebeur,
en Ek sal hom genees.
Dié van hom wat treur,
sal Ek lei en terugbring;
Ek sal vir hulle uitkoms gee.

19
Ek stel hulle in staat om My weer te loof.
Vrede vir dié wat ver is, vrede vir dié wat naby is,
sê die Here.
Ek sal hulle genees.

20
Maar die goddeloses is soos die onstuimige see
wat nie tot rus kan kom nie
en waarvan die golwe aanhou om slyk en modder uit te stoot.

21
Vir die goddeloses is daar geen vrede nie,
sê my God.

58

1

Die Here sê:

Roep uit volle bors,
moet niks verswyg nie!
Laat jou stem hoor, duidelik soos 'n ramshoring!
Wys my volk op hulle oortredinge,
die afstammelinge van Jakob op hulle sondes.

2
Hulle vra wel elke dag na my wil,
asof hulle graag wil weet wat Ek van hulle verwag.
Hulle gee voor dat hulle 'n nasie is wat doen wat reg is
en hom aan die bepalings van sy God hou.
Hulle vra My wel om regverdige beslissings
asof hulle van my teenwoordigheid hou.

3
Hulle vra:
“Waarom vas ons, maar U sien dit nie, verootmoedig ons ons, maar U gee nie aandag daaraan nie?”

Dit is omdat julle op die vasdae doen wat julle wil
en die mense wat vir julle werk, nog harder laat werk.

4
Julle vasdae loop uit op twis en rusie,
julle dam mekaar met die vuis by.
Julle kan nie op hierdie manier vas
en dan verwag dat julle gebed verhoor sal word in die hemel nie.

5
Is dit ál wat Ek op 'n vasdag wil hê:
net dat 'n mens homself verneder,
dat hy sy nek buig soos 'n biesie
en in sak en as sit?
Noem jy dít 'n vasdag,
'n dag waarvan die Here hou?

6
Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie:
om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry,
om die juk wat op mense druk, af te haal,
om verdruktes vry te maak,
om elke juk te breek?

7
Is dit nie dat jy vir dié wat honger is,
van jou brood gee nie,
dat jy aan die armes en die dakloses 'n blyplek gee nie,
dat wanneer jy iemand sonder klere sien,
jy vir hom klere gee nie,
dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?

8

Dan sal die lig vir jou deurbreek soos die rooidag,
jy sal gou herstel.
Hy wat jou red, sal voor jou uit gaan,
die mag van die Here sal agter jou aankom.

9
Dan sal jy roep, en die Here sal antwoord,
jy sal om hulp roep, en Hy sal sê: Hier is Ek!
As jy sorg dat mense nie meer by jou verdruk word nie,
nie meer gedreig en vals beskuldig word nie,

10
as jy jou wy aan dié wat honger het,
as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is,
sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is,
sal wat vir jou nag is, word soos die helder middag.

11

Die Here sal jou altyddeur lei;
selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien.
Hy sal jou sterk maak.
Jy sal wees soos 'n tuin met volop water,
soos 'n fontein waarvan die water nie opdroog nie.

12
Jou mense sal die ou puinhope herbou,
die fondamente herstel wat al geslagte lank bestaan.
Jy sal bekend staan as 'n volk wat sy afgebreekte mure herbou,
wat sy strate herstel sodat daar weer mense kan woon.

13

As jy nie op die sabbat oortree nie,
op my heilige dag doen net wat jy wil nie,
as jy die sabbat 'n vreugde noem,
as jy die heilige dag van die Here in ere hou,
as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie,
nie te doen net wat jy wil nie,
en nie handel dryf nie,

14
sal jy vreugde vind in die Here.
Ek sal jou die land weer in besit laat neem,
Ek sal jou laat eet van die opbrengs van die land van jou vader Jakob.
Ek, die Here, het dit gesê.

59

1

Die arm van die Here is nie te kort om te help nie
en sy oor is nie te doof om te hoor nie.

2
Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het
tussen julle en julle God,
dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie
en nie na julle wil luister nie.

3
Julle hande is met bloed bevlek,
julle vingers met onreg.
Julle praat net leuens,
julle bedink net onreg.

4
Niemand stel sy saak eerlik nie,
geen uitspraak is betroubaar nie.
Almal vertrou op leë woorde,
wat hulle sê, is nie waar nie,
hulle is swanger van kwaad,
hulle bring onreg voort.

5
Hulle broei slangeiers uit,
hulle weef spinnerakke.
Wie van daardie eiers eet, sterf;
as dit oopgebreek word, kom daar slange uit.

6
Hulle spinnedrade deug nie vir klere nie,
hulle kan hulle nie toemaak met wat hulle gemaak het nie;
hulle dade is misdade,
hulle pleeg net geweld.

7
Hulle is daarop uit om kwaad te doen,
hulle aarsel nie om onskuldige bloed te vergiet nie.
Hulle planne is bose planne:
oral waar hulle gaan, is daar verwoesting en ondergang.

8
Hulle ken nie so iets soos 'n pad van vrede nie,
waar hulle loop, is daar geen reg nie;
hulle loop krom paaie,
wie hulle volg, sal nie vrede ken nie.

9

Daarom is daar geen sprake
van reg en geregtigheid vir ons nie.
Ons wag op lig, maar dit bly donker,
ons wag op 'n straaltjie lig, maar ons pad bly pikdonker.

10
Ons tas teen die mure soos blindes,
ons tas rond soos mense wat geen oë het nie.
Ons struikel helder oordag soos in die skemer,
ons is soos dooies onder gesonde mense.

11
Ons is almal soos grommende bere,
soos duiwe wat kla en kla.
Ons wag op reg, maar daar is geen reg nie,
op redding, maar dit bly ver van ons af.

12
Ons oortredings teen U is baie,
ons sondes kla ons aan.
Ons oortredings bly ons by,
ons bly bewus van ons sondes:

13
die oortreding en die geveinsdheid teenoor die Here,
die ontrou teenoor ons God,
die beplanning van onderdrukking, die verdraaiing van die reg,
die uitdink en rondvertel van leuens.

14
Die reg het van die toneel verdwyn,
die geregtigheid is ver van ons af,
want die waarheid struikel waar daar reg gespreek word,
eerlikheid kan nie daar inkom nie.

15
Die waarheid het verdwyn,
wie ophou om kwaad te doen, word daaroor vervolg.
Die Here het dit gesien
en dit is verkeerd in sy oë dat daar geen reg is nie.

16

Hy sien dat daar niemand tussenbeide tree nie,
Hy is verbaas daaroor.
Daarom tree Hy self op
en laat Hy self sy geregtigheid geld.

17
Hy trek geregtigheid aan soos 'n pantser
en redding is die helm op sy kop;
Hy trek straf aan as klere,
Hy hang woede om Hom soos 'n mantel.

18
Hy vergeld volgens verdienste:
toorn vir sy teëstanders,
straf vir sy vyande,
vergelding vir die eilande soos hulle verdien.

19
Van oos tot wes sal die Naam
en die mag van die Here geëer word.
Wanneer die teëstander aanstorm soos 'n rivier,
jaag die Gees van die Here hom op loop.

20
Die Here kom na Sion toe as Verlosser,
na dié toe in Jakob wat hulle van hulle sonde bekeer.
So sê die Here.

21

Wat My betref, sê die Here,
dit is my verbond met die volk:
my Gees wat op jou is
en my woorde wat Ek in jou mond lê,
sal nie uit jou mond en uit die mond van jou kinders
en jou kindskinders verdwyn nie, sê die Here,
nie nou nie en nooit nie.

60

1

Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig!
Vir jou het die lig gekom,
die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring.

2
Daar is donkerte oor die aarde,
duisternis oor die nasies,
maar oor jou gee die Here lig,
oor jou verskyn sy magtige teenwoordigheid.

3
Nasies kom na jou lig toe
en konings na die glans van die nuwe dag
wat vir jou aangebreek het.

4

Kyk rondom jou, kyk,
hulle kom almal bymekaar,
hulle kom na jou toe:
jou seuns kom van ver af,
jou dogters word met liefde gebring.

5
Jy sal dit sien en van vreugde straal,
jy sal bewe van blydskap,
want die rykdom van die see word joune,
die skatte van die nasies kom in jou besit.

6
Jou land sal vol kamele wees,
jong kamele uit Midian en Efa.
Almal wat uit Skeba kom,
bring goud en wierook
en verkondig die lof van die Here.

7
Al die kleinvee van Kedar word vir jou bymekaargemaak,
die ramme van Nebajot is tot jou beskikking;
hulle is aanneemlike offers op my altaar.
So vermeerder Ek die roem van die huis
waar Ek geëer word.

8

Wat kom hier aangesweef soos wolke,
soos duiwe na hulle neste toe?

9
Dit is die skepe van die eilande wat na My toe op pad is;
heel voor is die skepe van Tarsis af.
Hulle bring jou seuns van ver af,
en ook silwer en goud,
tot eer van die Here jou God,
die Heilige van Israel,
omdat Hy jou roem wil vermeerder.

10
Uitlanders sal jou mure herbou,
en hulle konings sal in jou diens wees.
Ek het jou in my toorn gestraf,
maar in my genade ontferm Ek My oor jou.

11
Jou poorte sal altyd oop staan,
dag of nag sal hulle nie gesluit word nie
sodat die rykdomme van die nasies na jou toe gebring kan word,
en hulle konings as gevangenes na jou toe gelei kan word.

12
Die nasie, die koninkryk wat jou nie dien nie, sal verdwyn,
dié nasies sal heeltemal tot niet gaan.

13

Die hoë bome van die Libanon sal na jou toe kom,
sipresse, platane en denne,
om die roem van my heiligdom te vermeerder,
om luister te verleen aan my tempel:

14
dié wat jou verdruk het,
sal na jou toe kom en buig,
almal wat jou met minagting behandel het,
sal by jou voete kniel.
Hulle sal jou noem: Stad van die Here,
Sion van die Heilige van Israel.

15
Jy sal nie meer verstoot en gehaat wees nie,
'n plek waar niemand kom nie,
want Ek gee blywende roem aan jou,
vreugde sonder einde.

16
Jy sal deur nasies en konings versorg word
soos 'n kind wat aan sy moeder se bors gevoed word.
Dan sal jy besef dat Ek die Here is, jou Redder,
dat die magtige God van Jakob jou Verlosser is.

17
Ek gee vir jou goud in die plek van brons,
silwer in die plek van yster,
brons in die plek van hout,
yster in die plek van klip.
Ek laat vrede oor jou regeer,
Ek laat geregtigheid jou bestuur.

18
Daar sal nie meer gehoor word van geweld in jou land nie,
of van ondergang en verwoesting binne jou grense nie.
Jy sal jou mure noem: Redding,
jou poorte: Lof.

19
Bedags sal dit nie die son wees wat vir jou lig gee nie,
snags sal dit nie die maan wees wat oor jou skyn nie:
die Here sal vir jou 'n ewige lig wees,
en jy sal roem in jou God.

20
Jou son en jou maan is die Here,
Hy gaan nie onder nie en word nie dof nie.
Die Here sal vir jou 'n ewige lig wees,
jou dae van smart is verby.

21
Al jou inwoners sal regverdiges wees,
hulle sal die land vir altyd besit.
Hulle is die loot wat Ek self daar geplant het,
die werk van my hande
om my roem te vermeerder.

22
Die kleinste onder hulle sal duisende word,
die swakste 'n sterk nasie.
Wanneer die tyd daarvoor kom, doen Ek dit.
Ek is die Here.

61

1

Die Gees van die Here my God het oor my gekom;
die Here het my gesalf
om 'n blye boodskap te bring aan die mense in nood,
Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur,
om vir die gevangenes vrylating aan te kondig,
vryheid vir dié wat opgesluit is,

2
om aan te kondig dat die tyd gekom het
waarop die Here genade betoon,
die dag waarop ons God sy vyande straf
maar almal wat treur, vertroos,

3
die dag waarop Hy vir dié in Sion wat treur,
eer gee in plaas van smart,
vreugde in plaas van droefheid,
blydskap in plaas van hartseer.
Hulle sal genoem word: Bome van Redding.
Die Here het hulle geplant om sy roem te vermeerder.

4
Hulle sal die eeue-oue puinhope opbou,
plekke herbou wat lankal verlate lê,
hulle sal verwoeste stede weer opbou,
plekke wat geslagte lank verlate lê.

5
Uitlanders sal in julle diens wees en julle kleinvee oppas,
vreemdes sal in julle lande en julle wingerde werk.

6
Julle sal genoem word: Priesters van die Here,
Dienaars van ons God.
Julle sal van die rykdom van die nasies geniet,
die trotse eienaars word van hulle besittings.

7
In plaas van vernedering sal julle twee keer soveel besittings hê as tevore,
in plaas van minagting sal julle lof ontvang
oor wat julle besit.
Julle sal in julle land twee keer soveel besit as tevore
en julle sal altyd vreugde hê.

8

Ek is die Here, Ek het die reg lief,
Ek haat roof en misdaad.
In my trou sal Ek my volk gee wat Ek beloof het,
Ek sal 'n ewige verbond met hulle sluit.

9
Hulle afstammelinge sal bekend wees onder die nasies,
hulle nakomelinge onder die volke.
Almal wat na my volk kyk, sal besef
dat hulle 'n volk is wat deur die Here geseën is.

10

Ek is baie bly oor die Here,
ek juig oor my God,
want Hy het my gered,
vir my oorwinnaarsklere aangetrek.
Ek is soos 'n bruidegom met 'n priesterkroon op,
soos 'n bruid met haar juwele aan.

11
Soos die grond plante laat uitspruit,
soos die plante in 'n tuin vrugte gee,
so gee die Here my God die oorwinning
en laat Hy al die nasies luister na die loflied tot sy eer.

62

1

Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie,
ter wille van Jerusalem sal ek nie stilbly nie
totdat daar vir hom redding deurgebreek het soos 'n nuwe dag,
soos die lig van 'n brandende fakkel.

2
Die nasies sal sien dat jy gered is, Jerusalem,
al die konings sal sien dat jy mag het.
Jy sal 'n nuwe naam kry,
'n naam wat die Here self vir jou gekies het.

3
Die Here sal jou soos 'n sierlike kroon in sy hand hou,
jou God sal jou soos 'n koninklike tulband vashou.

4
Jy sal nie meer die verstote vrou genoem word nie,
en jou land nie meer die een wat verlate lê nie.
Jy sal genoem word: “Die een vir wie die Here liefhet,”
en jou land: “Die een wat aan die Here behoort.”
Die Here het jou lief,
en jou land behoort aan Hom.

5
Soos 'n jong man met 'n meisie trou,
so sal jou volk jou syne maak
en vir jou sorg.
Soos 'n bruidegom bly is oor sy bruid,
so sal jou God oor jou bly wees.

6

Ek het wagte op jou mure uitgesit, Jerusalem,
hulle sal dag en nag roep.
Julle wat die Here aan sy beloftes moet herinner,
julle moenie stilbly nie.

7
Julle moenie stilbly nie totdat Hy Jerusalem herstel het,
totdat Hy die hele wêreld die roem van Jerusalem laat sing het.

8
Die Here het 'n eed afgelê,
en deur sy groot mag sal Hy dit gestand doen:
Ek sal jou koring nie weer aan jou vyande gee om te eet nie,
uitlanders sal nie weer die wyn drink
waarvoor jy hard gewerk het nie.

9
Dié wat die koring oes, sal dit eet
en hulle sal My loof;
dié wat die druiwe oes,
sal die wyn drink in die voorhof van my heiligdom.

10

Gaan uit, gaan uit by die poorte,
maak die pad gereed vir die volk!
Vul die grootpad op, vul dit op!
Vat weg die klippe!
Steek 'n banier op dat die volke dit kan sien!

11
Die Here kondig dwarsoor die wêreld aan:
“Sê vir Sion: Hy wat jou red, kom!
Sy volk wat Hy Syne gemaak het, is by Hom,
dié wat aan Hom behoort, loop voor Hom uit.”

12
Hulle sal genoem word: “Gewyde volk,
volk wat deur die Here verlos is.”
En jy, Jerusalem, sal genoem word: “Gewilde stad,
stad wat nie verlate lê nie.”

63

1

Wie is dit wat daar aankom uit Edom,
wat daar uit Bosra kom met bloedrooi klere aan?
Wie is so indrukwekkend met daardie rooi klere aan,
so vol krag?
Dit is Ek, die Here,
Ek wat oorwinning aankondig,
wat magtig is om te red.

2

Waarom is u klere so rooi,
waarom lyk dit soos dié van iemand wat die wynpers trap?

3

Ek alleen het die wynpers getrap,
niemand van die volke het My bygestaan nie.
Ek het op hulle getrap in my toorn,
Ek was woedend en Ek het hulle getrap.
Hulle bloed het op my klere gespat,
en Ek het my klere daarmee rooi gemaak.

4
Ek het besluit om nou my vyande te straf;
die tyd van verlossing vir my volk het aangebreek.

5
Ek het rondgekyk, maar daar was niemand om te help nie,
Ek was ontsteld toe niemand My bystaan nie.
Ek het self opgetree,
my woede het My bygestaan.

6
Ek het volke getrap in my toorn,
Ek het hulle laat steier deur my woede,
Ek het hulle bloed oor die grond laat vloei.

7
Ek sal die troue liefde van die Here verkondig,
die roemryke dade van die Here,
alles wat Hy vir ons gedoen het,
sy groot goedheid vir Israel,
alles wat Hy gedoen het in sy genade,
in sy groot liefde.

8
Hy het gesê: Hulle is my volk,
kinders wat nie ontrou sal word nie.
Daarom het Hy hulle gered

9
uit al hulle nood.
Hy was vir hulle nie 'n vyand nie,
Hy self was die engel wat hulle gered het.
Hy het hulle verlos deur sy liefde en ontferming;
Hy het hulle opgetel en hulle altyd gedra.

10
Maar hulle het in opstand gekom
en het sy Heilige Gees bedroef,
daarom het die Here vir hulle 'n vyand geword
en het Hy self teen hulle geveg.

11

Toe het sy volk gedink aan die ou dae,
aan die tyd van Moses, en gevra:
Waar is Hy wat sy kudde dwarsdeur die see gebring het
saam met hulle herder?
Waar is Hy wat sy Heilige Gees onder hulle gegee het?

12
Waar is Hy wat sy groot mag saam met Moses laat gaan het,
die waters voor sy volk oopgekloof het
en vir Hom 'n ewige Naam gemaak het?

13
Waar is Hy wat sy volk deur die diep waters gelei het
sonder dat iemand struikel,
hulle gelei het soos perde deur 'n woestyn gelei word?

14
Soos 'n trop beeste na 'n groen vallei toe afgaan,
so het die Gees van die Here
sy volk na 'n woonplek toe gebring,
so het U u volk gelei om die roem van u Naam te vermeerder.

15

Kyk uit die hemel uit af,
sien ons tog raak uit u heilige en verhewe woning.
Waar is u brandende liefde, u magtige dade?
Is U nie meer oor ons bewoë nie?
Ontferm U U nie meer oor ons nie?

16

U is tog ons vader.
Abraham weet niks van ons nie
en Israel is nie van ons bewus nie;
U, Here, is ons vader,
van ouds af is u Naam: Ons Verlosser.

17

Waarom het U ons laat afdwaal van u paaie af, Here?
Waarom het U ons hardkoppig gemaak
sodat ons U nie gedien het nie?
Wees tog weer soos vroeër ter wille van u dienaars,
ter wille van die volk wat aan U behoort.

18
'n Kort rukkie kon u gewyde volk u tempel gebruik,
maar ons vyande het dit verwoes.

19
Ons het geword soos dié
oor wie U nie van ouds af geregeer het nie,
oor wie u Naam nie uitgeroep is nie.

64

1

As U maar die hemel wou oopskeur en wou afkom
sodat die berge voor U skud!

2
Kom af soos 'n vuur wat fynhoutjies laat brand,
soos 'n vuur wat water laat kook.
Laat u Naam só aan u vyande bekend word,
laat die nasies só voor U bewe.

3
Toe U wonders gedoen het,
wonders wat ons nie verwag het nie,
toe U destyds afgekom het,
het die berge voor U geskud.

4
Van ouds af het niemand so iets gehoor nie,
het niemand so iets verneem nie,
het geen oog 'n god gesien
wat vir dié wat op hom vertrou,
doen wat U doen nie.

5
U kom dié te hulp wat met blydskap doen wat reg is,
dié wat onthou hoe U wil hê hulle moet lewe.

U was kwaad vir ons,
want ons het gesondig.
Ons het so lank daarmee aangehou,
hoe kan ons dan nog gered word?

6
Ons het almal geword soos mense wat onrein is,
ons beste dade is soos vuil klere;
ons is almal soos verdroogde blare,
ons word deur ons sondes weggewaai soos deur 'n wind.

7
Daar is niemand wat tot U om hulp roep nie,
niemand wat sy krag in U soek nie.
U het ons aan onsself oorgelaat,
U laat ons wegkwyn deur ons sondes.

8

U is ons vader, Here,
ons is klei en U het ons gevorm,
ons is almal die werk van u hande.

9

Moet tog nie aanhou kwaad wees vir ons nie, Here,
moenie ons sonde vir altyd teen ons hou nie,
onthou tog ons is almal u volk.

10
U heilige stad het 'n woestyn geword:
Sion het 'n woestyn geword,
Jerusalem is onbewoonbaar.

11
Ons heilige en pragtige tempel
waar ons voorouers U geloof het,
is deur vuur verwoes,
alles wat vir ons dierbaar was, lê in puin.

12
Raak hierdie dinge U dan nie, Here?
Gaan U nie ingryp nie?
Gaan U aanhou om ons te laat ly?

65

1

Ek het my wil geopenbaar aan 'n volk
wat nie na My gevra het nie.
Ek het My laat vind deur mense
wat My nie in die gebed gesoek het nie.
Vir 'n nasie wat My nie aangeroep het nie,
het Ek gesê: Hier is Ek! Hier is Ek!

2
Ek het gedurig my hande uitgesteek na 'n opstandige volk
wat 'n pad geloop het wat nie goed is nie,
wat hulle eie kop gevolg het.

3
Hierdie volk beledig My gedurig in my gesig,
hulle bring soos heidene offers in tuine
en brand wierook op hulle altare.

4
Hulle sit tussen die grafte
en bly snags in geheime plekke.
Hulle eet varkvleis,
en daar is onrein vleis in hulle borde.

5
Hulle sê: “Bly waar jy is! Moenie naby my kom nie!
Ek is te heilig vir jou!”
Hierdie mense maak My woedend,
hulle laat my toorn losbreek.

6

By My staan dit vas:
Ek gaan ingryp,
Ek gaan hulle straf,
Ek gaan hulle straf volgens wat hulle verdien.

7
Ek gaan hulle straf oor hulle en hulle voorvaders se sondes,
sê die Here.
Hulle het wierook gebrand op die berge
en My beledig op die heuwels.
Ek gaan hulle straf vir hulle dade van vroeër,
volgens wat hulle verdien.

8
So sê die Here:
Wanneer 'n druiwetros nog sap het,
sê die mense: “Moet dit nie weggooi nie,
want dit het nog nut.”
So sal Ek doen ter wille van my dienaars,
Ek sal hulle nie almal verwerp nie.

9
Ek sal aan Jakob 'n nageslag gee,
aan Juda 'n nageslag wat my bergland sal besit.
Dié wat Ek uitverkies het, sal dit in besit neem,
my dienaars sal daar woon.

10
Die Saronvlakte sal 'n weiveld wees vir die kleinvee,
die Akorlaagte 'n lêplek vir die beeste,
vir dié uit my volk wat vra na my wil.

11

Maar julle wat van die Here afvallig geword het,
julle wat my heilige berg vergeet het,
julle wat vir die afgod Gad offermaaltye hou,
wyn inskink vir die afgod Meni,

12
Ek gaan julle straf met die dood,
julle sal almal inmekaarsak en doodgesteek word,
omdat julle nie geantwoord het toe Ek geroep het nie,
nie geluister het toe Ek gepraat het nie.
Julle het gedoen wat verkeerd is in my oë,
julle het gekies vir wat My nie aanstaan nie.

13

Daarom, so sê die Here my God,
sal my dienaars genoeg hê om te eet,
maar julle sal honger ly;
my dienaars sal genoeg hê om te drink,
maar julle sal dors ly;
my dienaars sal bly wees,
maar julle sal teleurgestel staan.

14
My dienaars sal jubel omdat dit met hulle goed gaan,
maar julle sal skreeu van pyn,
julle sal huil van hartseer.

15
Dié wat Ek uitverkies het, sal julle naam gebruik
om mense mee te vervloek.

Die Here my God sal júlle ombring,
maar aan dié wat Hom dien,
gee Hy 'n nuwe toekoms.

16
Elkeen in die land wat om voorspoed bid,
sal dit doen in die Naam van die God wat getrou is,
en elkeen in die land wat 'n eed aflê,
sal dit doen in die Naam van die God wat getrou is.
Die swaarkry van vroeër sal vergeet wees,
Ek laat dit verdwyn.

17
Ek gaan 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde skep;
aan dié wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie,
hulle sal nie onthou word nie.

18
Wees bly, en jubel sonder ophou oor wat Ek gaan skep:
Ek gaan 'n Jerusalem skep wat vol blydskap is,
sy inwoners sal vreugde hê.

19
Ek sal jubel oor Jerusalem,
Ek sal bly wees oor my volk.
Daar sal in Jerusalem nie meer iemand gehoor word
wat huil of om hulp roep nie.

20
Daar sal geen kind sterf
wat maar 'n paar dae oud is nie
en geen grysaard wat nie sy jare uitgeleef het nie.
As iemand op honderdjarige leeftyd sterf,
sal dit beskou word asof hy jonk gesterf het;
as hy nie honderd word nie,
sal hy beskou word as iemand wat vervloek is.

21

Dan sal mense huise bou en self daarin woon,
hulle sal wingerde plant en self die druiwe eet.

22
Hulle sal nie huise bou waarin ander sal woon nie,
hulle sal nie wingerde plant
waarvan ander die druiwe sal eet nie.
My volk sal so oud word soos 'n boom.
Dié wat Ek uitverkies het,
sal self die vrug van hulle handewerk geniet.

23
Hulle sal hulle nie tevergeefs vermoei nie,
hulle sal nie kinders hê vir wie daar rampe wag nie,
want hulle sal 'n volk wees wat deur die Here geseën word,
hulle en hulle afstammelinge.

24
Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord,
terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor.

25
Die wolf en die lam sal saam wei,
die leeu sal strooi vreet soos 'n bees,
en stof sal die kos van die slang wees.
Op my heilige berg sal niks verkeerds gedoen word nie,
niks vernietig word nie,
sê die Here.

66

1

So sê die Here:

Die hemel is my troon
en die aarde die rusplek vir my voete.
Hoe moet die huis dan wees
wat julle vir My bou,
die plek waar Ek kan woon?

2
Ek het alles gemaak
en so het alles ontstaan,
sê die Here.
Ek slaan ag op die mens in nood,
op dié een wat berou het oor sy sonde,
wat ontsag het vir my woord.

3
Die mense offer bulle
maar hulle maak ook mense dood as offers,
hulle offer lammers
maar hulle breek ook honde se nekke as offers,
hulle bring graanoffers maar ook offers van varkbloed,
hulle offer wierook maar hulle prys ook afgode;
hulle het besluit om hulle eie kop te volg,
hulle is lief vir hulle afskuwelike afgodsoffers.

4

Daarom besluit Ek dat hulle gestraf moet word
en bring Ek verskrikking oor hulle.
Toe Ek geroep het, het niemand geantwoord nie,
toe Ek gepraat het, het niemand geluister nie;
hulle het gedoen wat verkeerd is in my oë,
hulle het gekies vir wat My nie aanstaan nie.

5

Hoor die woord van die Here,
julle wat ontsag het vir sy woord:
Julle broers deur wie julle gehaat word,
deur wie julle verstoot word ter wille van my Naam, sê:
“Laat die Here sy mag bewys,
dat ons kan sien waarom julle so bly is!”
Maar hulle sal ontnugter word:

6
hoor die rumoer daar in die stad,
hoor daar in die tempel,
hoor hoe die Here sy vyande straf
oor hulle dade.

7
Bring 'n vrou 'n kind in die wêreld
voordat sy geboortepyne het?
Kry sy 'n kind voordat die pyne haar oorval?

8
Wie het al so iets gehoor?
Wie het dit al gesien?
Word 'n land op een dag gebore,
of word 'n nasie in een oomblik in die wêreld gebring?
Maar Sion het skaars geboortepyne gekry
of sy het haar kinders in die wêreld gebring.

9
Sou Ek die moederskoot laat oopgaan
en nie 'n geboorte laat plaasvind nie?
vra die Here.
Of sou Ek wat geboortes laat plaasvind,
die moederskoot toesluit?
vra jou God.

10
Wees bly saam met Jerusalem
en juig saam met haar,
almal wat haar liefhet.
Wees vrolik saam met haar,
almal wat oor haar getreur het.

11
Julle sal aan haar drink
totdat julle genoeg het,
totdat julle veilig voel;
julle sal drink van die oorvloed wat sy het,
en dit geniet.

12
So sê die Here:
Ek laat vrede na haar toe aankom soos 'n rivier,
Ek laat die rykdom van die nasies na haar toe stroom.
Julle sal aan haar drink,
aan haar bors gedra word
en op haar skoot getroetel word.

13
Soos 'n moeder haar kind laat veilig voel,
so laat Ek julle veilig voel.
Julle sal veilig voel in Jerusalem.

14
Julle sal dit beleef en julle sal bly wees;
julle sal nuwe lewe kry soos groen gras wat uitspruit.
So sal die mag van die Here geopenbaar word aan sy dienaars,
en sal Hy sy vyande straf.

15
Die Here kom in vuur,
sy strydwaens is soos 'n stormwind.
Hy kom sy toorn koel,
Hy kom die straf voltrek met vuur.

16
Die Here kom om al wat leef, te straf
met vuur en swaard,
Hy sal baie laat sterf.

17
Die mense wat hulleself wy en reinig
om in 'n optog
na die tuine toe te gaan,
wat varkvleis eet en afskuwelike afgodsoffers en muise,
sal almal uitgeroei word,
sê die Here.

18
Ek weet wat hulle doen en dink;
die tyd kom dat Ek al die nasies en al die taalgroepe
bymekaar gaan maak.
Hulle sal kom en hulle sal sien hoe magtig Ek is.

19
Ek sal 'n teken onder hulle oprig
en Ek sal van dié van hulle wat die oordeel oorleef het,
uitstuur na ander nasies toe,
na Tarsis, na Pul, na Lud met sy bedrewe boogskutters,
na Tubal, na Griekeland,
en na die ver eilande toe
wat nie van my roem gehoor het nie
en nie my mag ervaar het nie.
So sal dié wat Ek gestuur het,
onder die nasies verkondig
hoe magtig Ek is.

20
Hulle sal al julle volksgenote uit al die nasies
as 'n geskenk vir die Here saambring op perde, op waens,
op drastoele, op muile en op kamele.
Hulle sal hulle bring na my heilige berg toe,
na Jerusalem toe, sê die Here.
Hulle sal hulle bring soos die Israeliete die graanoffers
in rein skottels na die huis van die Here toe bring.

21
Ek sal van hulle as priesters en Leviete aanstel,
sê die Here.

22
Soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek gaan maak,
in my diens sal staan,
sê die Here,
so sal julle nageslag en julle roem in my diens staan.

23
Elke nuwemaansfees en elke sabbat sal al wat leef, voor My in aanbidding kom buig,
sê die Here.

24
Wanneer hulle uit die stad uitgaan,
sal hulle die lyke sien
van die mense wat hulle teen My verset het.
Die wurms wat aan hulle vreet, sal nie vrek nie,
en die vuur waarin hulle brand, sal nie geblus word nie;
hulle sal iets afgrysliks wees vir al wat leef.