1
In die land Us was daar 'n man met die naam Job. Hy was vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy.2 Hy het sewe seuns en drie dogters gehad
3 en was ook die eienaar van sewe duisend stuks kleinvee, drie duisend kamele, vyf honderd paar trekosse, vyf honderd donkies en baie slawe. Onder die mense in die ooste was hy die belangrikste man.
4 Sy seuns het om die beurt partytjies gehou in mekaar se huise. By sulke geleenthede het hulle dan hulle drie susters genooi om saam met hulle fees te vier.
5 Ná so 'n reeks partytjies het Job dan sy seuns en dogters beveel om hulle vir die bring van offers te reinig, en vroeg die môre het hy vir hulle almal 'n brandoffer gebring, “want,” het Job gesê: “miskien het my kinders gesondig en God in hulle gedagtes gevloek.”
Job het dit elke keer gedoen.6
Op 'n dag het die hemelwesens voor die Here kom staan, en die Satan was ook onder hulle.7 Toe vra die Here vir hom: “Waar kom jy vandaan?”
En die Satan antwoord die Here: “Ek het die wêreld deurkruis.”8
Die Here vra toe vir die Satan: “En my dienaar Job, het jy hom raakgesien? Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad.”9
Toe antwoord die Satan die Here: “Dit is nie sonder rede dat Job U dien nie!10 U beskerm hom dan, en sy huis en al sy goed. U maak alles wat hy doen, voorspoedig. Selfs sy vee teel vinnig aan.
11 Maar raak nou net aan sy besittings en kyk of hy U nie in u gesig vervloek nie.”
12
Toe sê die Here vir die Satan: “Alles wat hy het, gee Ek in jou mag oor. Net aan hom self mag jy nie raak nie.” Die Satan het daarna van die Here af weggegaan.13
En eendag, toe Job se seuns en dogters besig was om te eet en wyn te drink in hulle oudste broer se huis,14 kom 'n boodskapper by Job met die nuus: “Die osse was aan die ploeg, en die donkies het langsaan gewei.
15 Toe oorval mense uit Skeba ons en hulle roof alles en maak die slawe dood. Net ek het weggekom om dit vir u te vertel.”
16
Hy was nog aan die praat, toe kom daar nog een met die nuus: “Weerlig het die kleinvee en hulle wagters doodgeslaan en verbrand. Net ek het weggekom om dit vir u te vertel.”17
Hy was nog aan die praat, toe kom daar nog een met die nuus: “Drie groepe Galdeërs het die kamele geroof en is daarmee weg nadat hulle die slawe doodgemaak het. Net ek het weggekom om dit vir u te vertel.”18
Hy was nog aan die praat, toe kom daar nog een met die nuus: “U seuns en dogters was besig om te eet en wyn te drink in die huis van hulle oudste broer.19 Meteens het daar 'n sterk wind van die woestyn se kant af opgekom en die huis van al vier kante af op u kinders omgewaai. Almal is dood. Net ek het weggekom om dit vir u te vertel.”
20
Toe het Job opgestaan en sy klere geskeur. Hy het ook sy hare afgeskeer. Daarna het hy op die grond gaan lê en gesê:21
“Sonder iets het ek in die wêreld gekom
en sonder iets gaan ek daaruit.
Die Here het gegee en die Here het geneem.
Prys die Naam van die Here.”
22
Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie.1
Toe die hemelwesens weer op 'n dag voor die Here kom staan, het die Satan ook tussen hulle voor die Here kom staan.2 Toe vra die Here vir hom: “Waar kom jy vandaan?”
En die Satan antwoord die Here: “Ek het die wêreld deurkruis.”3
Die Here vra toe vir die Satan: “En my dienaar Job, het jy hom nou gesien? Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad. Hy het vroom gebly, al het jy My daartoe gebring om hom sonder rede te ruïneer.”4
Die Satan sê toe vir die Here: “Dit bewys nog niks. 'n Man sal mos alles gee wat hy het, as hy net kan bly lewe.5 Maar raak nou net aan sy liggaam en kyk of hy U dan nie in u gesig vervloek nie.”
6
Toe sê die Here vir die Satan: “Goed, hy is in jou mag. Net sy lewe mag jy nie neem nie.”7
Die Satan het van die Here af weggegaan en vir Job met pynlike swere getref, van sy kop tot sy tone.8 Job het op 'n ashoop gaan sit en hy het 'n potskerf gevat en hom daarmee gekrap.
9 En sy vrou het vir hom gesê: “Bly jy nog steeds vroom? Vervloek God en sterf!”
10
Toe sê hy vir haar: “Jy praat nou soos 'n vroumens sonder verstand. As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?” Onder alles het Job met geen woord gesondig nie.11
Drie van Job se vriende het verneem van al die rampe wat hom oorgekom het. Hulle het elkeen van sy eie plek af gekom, Elifas uit Teman, Bildad uit Suag en Sofar uit Naäma. Hulle het afgespreek om deelneming met hom te betuig en hom te troos.12 Toe hulle hom op 'n afstand sien, het hulle hom eers nie herken nie. Daarna het hulle hardop begin huil, hulle klere geskeur en stof in die lug en op hulle koppe gegooi.
13 Sewe dae en sewe nagte lank het hulle op die grond by hom gesit sonder om 'n woord met hom te praat, want hulle het gesien dat sy smart baie groot is.
1
Toe het Job begin praat en sy geboortedag vervloek.2
Hy het gesê:3
“Die dag waarop ek gebore is, moes nooit aangebreek het nie,
die nag toe gesê is 'n seuntjie het in die wêreld gekom.
4
Daardie dag moes net donkerte gewees het;
God daarbo moes dit nie eens raakgesien het nie;
geen lig moes dié dag deurgebreek het nie.
5
Donkerte en duisternis moes dit opgeëis het,
wolke moes daaroor toegetrek het,
sonsverduistering moes dit oorval het.
6
Die donkerte moes daardie nag ingesluk het,
dit moes nooit ingereken gewees het
by die dae van die jaar nie,
dit moes nooit bygevoeg gewees het
by die berekening van die maande nie.
7
“Ja, daardie nag moes niemand gebore gewees het nie,8
Wie dae vervloek, moes ook dié dag vervloek het,
hulle moes die Leviatan aangehits het om dit te vernietig.
9
Die môrester moes verduister gewees het,
hy moes tevergeefs gewag het op die lig
en nooit die dag sien breek het nie,
10
want hy het nie gekeer dat ek gebore word nie,
my hierdie smart nie gespaar nie.
11
Waarom het ek nie by my geboorte gesterf nie,
net toe ek gebore is, my laaste asem uitgeblaas nie?
12
Waarom was daar knieë om my op neer te sit,
borste om my te voed?
13
Anders kon ek nou stil in die graf gelê het,
rustig in die dood geslaap het
14
saam met konings en hulle raadgewers
wat puinhope herbou het,
15
of saam met vorste wat goud besit het,
wat hulle huise vol silwer gemaak het.
16
“Waarom was ek nie maar 'n misgeboorte17
Dan sou ek daar gewees het
waar die goddeloses nie meer kwaad stook nie,
waar dié wat gedaan is, rus vind,
18
waar die gevangenes saam rus geniet
en nie meer die stem van die slawedrywer hoor nie;
19
daar waar klein en groot saam is,
waar die slaaf vry is van sy eienaar.
20
“Waarom moes God dan die lewenslig gee21
aan iemand wat tevergeefs hunker na die dood,
wat daarna soek soos na 'n verborge skat,
22
wat maar te bly sou wees om in 'n graf te kom
en daaroor sou jubel?
23
“Waarom die lewenslig gee aan 'n man24
“Ek kan nie eet van die pyn nie,25
Wat ek gevrees het, het oor my gekom;
waarvoor ek bang was, het my getref.
26
Ek het geen rus en geen vrede nie,
geen verposing nie, net angs.”
1
Toe sê Elifas die Temaniet:2
“Sal dit jou vermoei as iemand met jou redeneer?
Ek kan nie stilbly nie.
3
Jy het self baie mense reggehelp
en dié wat moed verloor het, het jy weer moed ingepraat.
4
Jou woorde het dié wat struikel, opgebeur,
dié wat wou val, het jy weer opgehelp.
5
Nou het die ramp jou getref, en jy is platgeslaan;
dit het jou oorgekom, en jy is verslae.
6
Beteken dit dan vir jou niks dat jy God gedien het nie,
gee jou vrome lewe jou geen hoop nie?
7
“Dink daaroor na: het iemand ooit onskuldig te gronde gegaan?8
Ek het ondervind: dié wat onreg plant
en moeilikheid saai, oes dit ook.
9
Deur die toorn van God gaan hulle te gronde,
deur sy woede gaan hulle tot niet.
10
Hulle is soos leeus,
maar hoe 'n leeu ook al brul of grom,
as sy tande uitgebreek word,
11
gaan selfs die sterkste leeu dood van die honger
en kom sy kleintjies om.”
12
“'n Woord het geheimsinnig by my gekom,
my oor het die fluistering daarvan opgevang.
13
In die tyd wanneer ander diep slaap,
is ek ontstel deur 'n gesig in die nag.
14
Vrees en angs het my oorval,
my liggaam het verskriklik gebewe.
15
'n Gees het voor my verby gesweef,
en my hare het orent gaan staan.
16
“Die gees het stil gaan staan.17
‘Kan 'n mens ooit onskuldig wees in die oë van God
en sonder blaam voor sy Maker staan?
18
In sy hemelse dienaars stel Hy geen vertroue nie,
voor Hom is selfs sy engele vol gebreke,
19
hoeveel te meer hulle wat in huise van klei woon,
mense wat uit stof opgebou is,
mense wat soos 'n mot pap gedruk kan word.
20
Tussen oggend en aand word hulle vernietig,
hulle verdwyn vir altyd en word vergeet,
21
hulle gaan tot niet,
hulle sterf sonder dat hulle wysheid verwerf het.’
1
Roep maar! Niemand sal jou antwoord nie.2
“Verbitterdheid maak 'n dwaas dood,3
Ek het gesien dat 'n dwaas wortel skiet,
maar skielik tref 'n ramp sy huis
4
en daar is geen hulp vir sy kinders nie;
hulle word veronreg in die hof
en niemand behartig hulle saak nie.
5
“Wat 'n dwaas geoes het, word deur honger mense opgeëet;6
Ellende kom nie sommerso uit die grond uit op nie,
swaarkry skiet nie sommer uit die aarde uit op nie.
7
Die mens is vir swaarkry gebore,
en sy lewe is kortstondig soos 'n vonk wat opskiet.”
8
“As ek jý was, sou ek my tot God wend
en my saak aan Hom voorlê.
9
Wat God doen, is groot en ondeurgrondelik,
wonder op wonder.
10
Dit is Hy wat reën op die aarde gee,
wat water oor die veld uitgiet.
11
Dit is Hy wat die vertraptes weer optel,
wat uitkoms gee aan dié wat ly.
12
Dit is Hy wat die planne van slinkse mense verydel
sodat hulle niks blywends tot stand bring nie.
13
Hy vang die slimmes met hulle eie slinkse planne;
wat geslepe mense besluit, maak Hy gou tot niet.
14
Helder oordag oorval die donkerte hulle,
in die middel van die dag tas hulle rond asof dit nag is.
15
Dit is God wat die arm mens red van hulle vals beskuldigings
en uit die mag van die sterkes.
16
So is daar hoop vir die behoeftige
en kom die onreg tot 'n einde.
17
“Dit gaan goed met die mens wat deur God tereggewys word.18
Dit is Hy wat wonde toedien, maar Hy verbind hulle weer,
wat seer slaan, maar Hy maak weer met sy eie hand gesond.
19
Al tref 'n ramp jou ses of sewe keer, Hy sal jou red,
selfs 'n hoeveelste keer sal dit jou geen kwaad aandoen nie.
20
In hongersnood sal Hy jou red van die dood,
in oorlog sal Hy jou red van die swaard.
21
Jy sal beskerm word teen venynige tonge;
en as daar rampe kom, hoef jy nie bang te wees nie.
22
Onder rampe en in hongersnood sal jy opgewek bly,
en vir die wilde diere hoef jy nie bang te wees nie.
23
Van die klippe in die veld sal jy geen las hê nie,
en met die wilde diere sal jy in vrede leef.
24
Jy sal ondervind dat jou woonplek veilig is,
en jy sal jou weiveld besoek en niks mis nie.
25
Jy sal 'n groot nageslag hê,
jou nakomelinge sal so veel wees soos die gras in die veld.
26
Jy sal op rype ouderdom die graf ingaan
soos 'n gerf wat op sy tyd na die dorsvloer toe gebring word.
27
“Kyk, dit het ons ontdek, so is dit,1
Toe het Job weer gepraat:2
“As my bittere ellende maar geweeg kon word,
as die ongeluk wat my getref het, op 'n skaal gesit kon word,
3
sou dit swaarder weeg as die sand van die see.
Daarom het ek nie gedink wat ek sê nie.
4
Die pyle van die Almagtige deurboor my,
ek word geleidelik deur hulle vergiftig.
Verskrikkinge van God bedreig my.
5
Balk 'n wildedonkie as hy by gras kom?
Bulk 'n bees by sy voer?
6
Eet 'n mens smaaklose kos, kos sonder sout?
Het die wit van 'n eier enige smaak?
7
“Ek raak nie aan sulke kos nie,8
Ag, mag my gebed verhoor word,
mag God vir my gee wat ek begeer:
9
mag Hy dit goeddink om my te vernietig,
om my lewe met sy hand af te kap!
10
Dan sou ek nog dié troos hê,
die vreugde in die pyn wat Hy my nie gespaar het nie:
dat ek die woorde van die Heilige nie geminag het nie.
11
“Het ek nog die krag om dit uit te hou?12
Is ek dan so sterk soos klip,
is ek van brons gemaak?
13
Self is ek tot niks in staat nie.
Ek weet nie meer raad nie.
14
“Wie medelye met 'n vriend beskou as 'n las,15
My vriende is so onbetroubaar soos die water van 'n spruit,
soos 'n droë loop waarin vloedwaters afkom,
16
vol modder en hael, met sneeu wat bo-op dryf,
17
maar wat na 'n tyd afloop en verdwyn
en wegraak as dit warm word.
18
Reisigers draai af na die spruit toe,
maar beland in 'n droë wêreld en kom om.
19
Reisigers van Tema af is op die uitkyk na water,
dié wat van Skeba af kom, vestig hulle hoop daarop,
20
maar hulle hoop word beskaam,
hulle kom by die spruit, en daar is niks.
21
“Só het julle vir my geword.22
Het ek ooit vir julle gesê: ‘Gee vir my iets
of koop iemand vir my om met julle geld,
23
red my van 'n vyand
of koop my los uit die mag van verdrukkers’?
24
Help my om te verstaan, dan sal ek stilbly,
sê my waar ek verkeerd gedoen het.
25
Opregte woorde maak nie seer nie,
maar 'n bestraffing deur júlle is geen bestraffing nie.
26
Wil julle my bestraf oor wat ek gesê het,
beskou julle die woorde van 'n wanhopige as blote wind?
27
Julle trek lootjies selfs oor 'n weeskind
en verkwansel julle vriend vir wins.
28
Maar kyk nou na my geval,
ek sal tog nie in julle gesig vir julle lieg nie.
29
Besin julle, moenie dat daar onreg geskied nie,
besin julle, my saak is reg.
30
Het ek onreg gepleeg met wat ek gesê het,
weet ek nie wat 'n ramp is nie?”
1
“Is 'n mens se lewe op aarde nie maar harde arbeid nie,2
Sy lewe is soos dié van 'n slaaf wat smag na koelte,
soos dié van 'n dagloner wat verlang na betaaltyd.
3
So bring ek my maande deur met swaarkry,
my nagte is net smart.
4
As ek gaan slaap, dink ek:
wanneer kan ek opstaan?
Maar die nag sleep stadig verby
en ek rol rusteloos rond tot dagbreek toe.
5
My liggaam is oortrek van wurms, vol rowe en stof,
my vel is vol barste en dit etter aanhoudend.
6
My dae loop vinnig soos 'n wewerspoel,
die draad raak gou op.
7
Dink daaraan, o God, dat my lewe maar net 'n asempie is;
ek sal nooit weer voorspoed beleef nie.
8
Die oë wat my nou sien, sal my nie weer sien nie:
U sal nog so na my kyk, dan is ek nie meer daar nie.
9
Soos 'n wolk weggaan en verdwyn,
so gaan 'n mens dood en kom nie terug nie,
10
hy kom nooit terug na sy huis toe nie,
en sy plek is vir altyd leeg.
11
“Nee, ek kan nie stilbly nie,12
Is ek dan die see dat U my aan bande wil lê,
of 'n seemonster dat U my laat bewaak?
13
As ek dink dat my bed my sal troos
of dat ek verligting van die pyn sal kry as ek lê,
14
dan verskrik U my in my drome,
en oorval U my met nagmerries,
15
sodat ek eerder verwurg
en dood sou wou wees as om te lewe.
16
Ek wil nie meer nie, ek sal tog nie vir altyd lewe nie;
laat my staan; my lewe is niks meer werd nie.
17
“Wat is die mens dat U soveel van hom maak,18
dat U hom van dag tot dag toets,
hom van oomblik tot oomblik op die proef stel?
19
Wil U nie van my af wegkyk
en my 'n oomblikkie laat asem skep nie?
20
As ek gesondig het, wat kan ek teen U uitrig,
U wat die mens gedurig oppas?
Waarom het U my u teiken gemaak?
Waarom moet ek vir U 'n las wees?
21
Waarom vergewe U dan nie my sonde
en vergeet wat ek verkeerd gedoen het nie?
Binnekort sal ek in die graf lê,
U sal my soek, maar ek sal nie meer lewe nie.”
1
Toe sê Bildad die Suagiet:2
“Hoe lank gaan jy nog so praat?
Jou woorde kom soos 'n orkaan.
3
Sal God die reg verdraai,
sal die Almagtige verdraai wat reg is?
4
As jou kinders teen Hom gesondig het,
het Hy hulle vir hulle oortredings gestraf.
5
As jy na die wil van God vra
en die Almagtige om genade smeek,
6
as jy vlekkeloos is en reg het,
sal Hy jou weer in sy sorg neem
en jou gesond in jou huis terugbring.
7
Die vermoë wat jy besit het, sal niks wees
teen die rykdom wat jy later sal besit nie.
8
Vra na die bevindings van die voorgeslagte,
rig jou na die insigte van die voorvaders,
9
want ons is maar net van gister, ons weet niks,
ons dae is so vlugtig soos 'n skaduwee op die grond.
10
Leer uit wat jou voorgeslag gesê het.
Hulle het met insig verklaar:
11
‘Groei riet waar daar nie 'n moeras is nie,
vleigras waar daar nie water is nie?
12
Dit spruit wel uit,
maar dit is nog nie eers afgesny nie, dan verdroog dit al vinniger as enige ander soort gras.’
13
“So gaan dit met hulle wat vir God vergeet.14
Hy vertrou op 'n dun draadjie,
hy maak op 'n spinnerak staat.
15
As hy teen sy huis leun, val dit om,
hy gryp daarna, maar dit bly nie staan nie.
16
Hy is soos 'n welige plant in die son:
hy rank oral oor die tuin,
17
hy vleg sy wortels om die klippe,
en klou vas aan die klipmuur.
18
Maar as iemand hom uitroei,
is daar niks van hom oor nie.
19
So kom hy tot sy einde
en in sy plek kom daar 'n ander.
20
“God verwerp nooit die opregte nie21
Hy sal jou weer vreugde gee,
jou van blydskap laat jubel.
22
Dié wat jou haat, sal met smaad bedek word;
van die goddeloses bly daar niks oor nie.”
1
Toe het Job weer gepraat:2
“Ek weet dit is soos jy sê:
Wie kan sy saak teen God wen?
3
As jy 'n saak teen Hom sou wou voer,
sou jy Hom nie eers op een vraag uit duisend kon antwoord nie.
4
Die wysheid en krag van God is groot:
wie kan Hom teëstaan en niks oorkom nie?
5
Hy verskuif berge sonder dat hulle dit self agterkom;
in sy toorn maak Hy hulle tot niet.
6
Hy laat die aarde ruk, weg van sy fondamente af,
en sy pilare bewe.
7
Hy gee opdrag aan die son en dit kom nie op nie,
Hy verseël die sterre en hulle skyn nie.
8
Hy het die hemel soos 'n tent gespan, Hy alleen,
en Hy hou die golwe van die see in bedwang.
9
Hy het die Beer en Orion gemaak,
die Sewester en die sterrebeelde in die suide.
10
Wat Hy doen, is groot en ondeurgrondelik,
wonder op wonder.
11
“As Hy by my verbygaan, gewaar ek Hom nie,12
As Hy op iets beslag wil lê, wie sal Hom keer?
Wie sal vir Hom sê: ‘Wat doen U?’
13
God hou sy toorn nie terug nie:
Rahab se helpers lê platgeslaan voor Hom.
14
Sou ek kon antwoord op wat Hy vra?
Hoe sou ek my woorde teen Hom kies?
15
Al was my saak reg,
sou ek nog nie kon antwoord op wat Hy vra nie,
ek sou Hom, my Regter, net om genade kon smeek.
16
As ek na Hom sou roep en Hy my sou antwoord,
sou ek nie kon glo dat Hy my gehoor het nie,
17
want dit is Hý wat my met 'n stormwind pynig,
wat my baie wonde slaan sonder dat ek dit verdien,
18
wat my nie 'n kans gun om asem te skep nie,
maar my deurdrenk met bitter lyding.
19
As dit gaan oor krag,
is Hý die sterke,
as dit gaan oor reg,
wie anders as Hý kan 'n klag teen my inbring?”
20
“Al is my saak reg, my woorde sou my skuldig maak;
al is ek ook onskuldig, ek sou oor my woorde veroordeel word.
21
Ek ís onskuldig!
Ek gee nie meer om vir my lewe nie,
ek wil nie meer lewe nie.
22
Eintlik is dit om 't ewe, daarom dink ek:
of 'n mens skuldig is of onskuldig, God vernietig jou tog.
23
As 'n vloedramp skielik die dood bring,
lag God oor die wanhoop van die onskuldiges.
24
Hy gee die wêreld oor in die mag van die goddelose,
en Hy maak die regters partydig.
As dit nie Hy is wat dit doen nie, wie dan?
25
My dae skiet vinniger as 'n naelloper verby,
hulle vlieg verby sonder dat ek iets goeds beleef,
26
hulle gaan vinnig by my verby soos papirusbote,
soos 'n arend wat afskiet op sy prooi.
27
“As ek sou dink: ek wil ophou kla,28
dan word ek bang dat ek nog swaarder sal kry,
omdat ek weet dat God my nie
onskuldig gaan bevind nie.
29
Aangesien ek tóg skuldig bevind sal word,
waarom sou ek my moeg maak?
30
Al sou ek my was met sneeu,
al sou ek my hande skoon was met seep,
31
God sou my weer in 'n modderpoel gooi,
sodat my klere my tot 'n aanstoot maak.
32
Hy is nie 'n mens soos ek
dat ek op sy vrae sou kon antwoord nie,
dat ons in 'n hofsaak teen mekaar betrokke sou kon raak nie.
33
As daar maar iemand was
wat in die saak tussen ons kon oordeel,
wat oor ons albei onpartydig kon regspreek,
34
as daar maar iemand was
wat God se straf van my kon wegneem,
sodat sy verskrikking my nie skielik oorval nie,
35
dan sou ek sonder vrees kon praat.
Maar soos sake nou met my staan, kan ek nie.”
1
“My hele lewe walg my,2
Ek wil vir God sê: Moet my tog nie skuldig verklaar nie,
maak aan my bekend waarom voer U hierdie stryd teen my.
3
Vind U dit goed om my te laat swaar kry,
om wat U gemaak het, met veragting te behandel,
maar die planne van die goddeloses met sukses te bekroon?
4
Kyk U met die oë van 'n mens?
Sien U dinge soos 'n mens hulle sien?
5
Gaan u dae verby soos dié van 'n mens,
u jare soos sý jare,
6
dat U rekenskap eis vir my oortredinge,
dat U verantwoording vra vir my sonde?
7
“U weet dat ek nie skuldig is nie,8
U hande het my gevorm, my gemaak.
Gaan U my nou heeltemal vernietig?
9
Dink daaraan dat U my soos klei gevorm het.
Gaan U my nou weer stof laat word?
10
Het U my nie soos botter berei,
soos kaas gevorm nie?
11
U het vir my vel en vleis gegee,
U het my bene en senings aanmekaargeweef.
12
U het my die lewe gegee en my met liefde versorg,
met sorg het U oor my gewaak.
13
Maar wat deur U verberg is,
wat ek weet U in gedagte gehad het, is dit:
14
as ek sonde doen, sou U dit raaksien,
van my oortredinge sou U my nie vryspreek nie.
15
As ek skuldig is, wag daar ellende vir my,
as ek onskuldig is, is daar vir my geen vreugde nie,
want ek is oorlaai met smaad en ek beleef net ellende.
16
Sou ek moed skep, maak U soos 'n leeu jag op my
en staan U my weer voor in u onbegryplike mag.
17
U roep nuwe getuies in teen my,
u woede laai op teen my;
aanslag op aanslag tref my.
18
“Waarom het U my in die wêreld laat kom?19
Dan sou ek gewees het asof ek nooit bestaan het nie
en is ek by geboorte al graf toe gedra.
20
My lewensdae is min genoeg,
laat my tog met rus dat ek darem 'n bietjie vreugde kan hê
21
voordat ek weggaan na die stikdonker land toe
en nooit terugkeer nie,
22
na die land van die donker nag met sy diep duisternis
waar niks georden is nie, waar die lig self donker is.”
1
Toe sê Sofar die Naämatiet vir Job:2
“Moet al die baie woorde onbeantwoord bly?
Kan 'n mens homself met praat regverdig?
3
Moet mense stilbly vir jou praatjies?
Wil jy bly laster sonder dat iemand jou bestraf?
4
Jy sê vir God: ‘Wat ek dink, is reg,
ek is onskuldig voor U.’
5
As God maar wou begin praat
en jou wou weerspreek,
6
jou wou vertel hoe ingewikkeld die wysheid is,
en hoeveel dit vra om iets blywends tot stand te bring!
Dan sou jy weet dat God jou nog nie eers vir ál jou sondes straf nie.
7
“Kan jy begryp wie God werklik is?8
Dit is kennis wat hoër is as die hemele.
Hoe kan jý daarby uitkom?
Dit is kennis wat dieper is as die doderyk.
Hoe kan jy dit bereik?
9
Dit strek verder as die aarde,
wyer as die see.
10
“As God in die verbygaan iemand gevange neem11
God ken skynheilige mense,
Hy sien die sonde raak, sonder nader ondersoek.
12
'n Idioot kan nie verstand kry nie,
net so min as wat 'n wildedonkievul 'n mens is as hy gebore word.
13
Maar jy, as jy jou verstand reg wil gebruik
en jou hande in gebed na God toe uitsteek,
14
as jy jou sonde van jou af sou verwyder
en nie toelaat dat onreg in jou woon nie,
15
kan jy jou kop sonder skaamte oplig
en in die nood kom sonder om bang te wees,
16
kan jy jou swaarkry vergeet
en daaraan dink asof dit water is wat weggeloop het.
17
Jou lewe sal meer lig hê as die helder middag,
jou donker sal lig word soos die môre.
18
Jy sal gerus wees omdat daar vir jou vooruitsigte is,
jy sal jou lêplek regmaak en rustig slaap.
19
Jy sal gaan lê en vir niemand bang wees nie,
en baie mense sal jou guns soek.
20
Maar die oë van die goddeloses sal toegaan,
daar is geen uitkoms vir hulle nie:
al vooruitsig wat hulle het, is om die laaste asem uit te blaas.”
1
Toe het Job weer gepraat:2
“Werklik, julle is die enigste mense wat iets weet!
Met julle sterf die wysheid uit!
3
Ek het ook verstand, net soos julle,
ek staan nie vir julle terug nie.
Wie weet nie al dié dinge nie?
4
“Ek is 'n grap vir my vriende,5
Vir dié wat geen kommer ken nie,
pas ongeluk en smaad bymekaar,
by dié wat struikel, pas 'n skop.
6
In die huise van die rowers is daar rus,
en dié wat God se toorn verwek, is veilig,
dié wat meen dat hulle vir God in hulle mag het.
7
“Miskien moet jy die diere vra om jou te leer,8
of praat met die aarde dat dit jou leer
en met die visse in die see dat hulle dit vir jou sê.
9
Wie van hulle weet nie almal
dat die hand van die Here alles gemaak het nie?
10
Hy het al wat lewe, in sy mag,
die asem van elke mens.
11
Moet die oor nie woorde toets
soos die verhemelte kos proe nie?
12
“Wysheid kom in die gryse ouderdom13
By God is wysheid en krag,
by Hom is raad en insig.
14
As Hy afbreek, kan niemand opbou nie,
as Hy gevange neem, kan niemand vrylaat nie.
15
As Hy die water terughou, verdroog alles,
as Hy dit laat losbreek, vernietig dit die aarde.
16
By Hom is daar mag en oorwinning,
wie bedrieg en wie bedrieg word, is albei Syne.
17
Hy laat raadgewers van konings kaalvoet loop
en maak van regeerders gekke.
18
Hy vernietig die gesag van konings
en laat hulle slaweklere dra.
19
Hy laat priesters kaalvoet loop
en laat dié wat die mag het, ondergaan.
20
Hy laat die betroubares swyg
en verydel die goeie raad van leiers.
21
Hy laat smaad afkom op die koppe van die vernames
en Hy neem die mag van sterkes weg.
22
Hy gee lig in donker dieptes,
Hy maak donker plekke lig.
23
Hy maak nasies groot en Hy vernietig hulle,
Hy laat nasies uitbrei en laat hulle tot niet gaan.
24
Hy ontneem wêreldleiers hulle verstand
en laat hulle ronddwaal in 'n wilde wêreld sonder pad.
25
Hulle tas in die donker rond sonder lig,
Hy laat hulle ronddwaal soos dronkmense.
1
Ek het dit alles met my eie oë gesien2
Wat julle weet, weet ek ook,
ek staan nie vir julle terug nie.
3
Maar ek wil eintlik met die Almagtige praat,
ek wil my saak aan God stel.
4
Julle stapel die een leuen op die ander,
julle is kwaksalwers, julle almal.
5
As julle maar liewer net wou stilbly,
sou dit vir julle tot wysheid gereken kon word.
6
“Luister na my kant van die saak,7
Wil julle vir God intree met onreg
en sy saak bepleit met leuens?
8
Wil julle vir Hom partydig wees?
Wil julle God se saak verdedig?
9
As Hy julle sou ondersoek,
sou dit vir julle goed verloop?
Sou julle Hom kon bedrieg soos julle mense bedrieg?
10
Hy sal julle swaar straf
as julle in die geheim partydig is.
11
Sy verhewe mag sal julle met skrik vervul,
skrik vir Hom sal julle oorval.
12
Julle beroep op die voorgeslag is wind,
julle verweer sê niks.”
13
“Bly liewer stil, ek wil praat,
en laat dan kom wat wil.
14
Waarom waag ek my lewe
en neem ek dit in my hand?
15
Al sou God my doodmaak, ek kan nie wag nie,
ek moet my saak vir Hom stel.
16
Dit kan selfs my redding wees,
want geen godlose durf voor Hom kom nie.
17
Luister goed na my woorde, neem ter harte wat ek te sê het:
18
Kyk, ek het my regsaak voorberei,
ek weet dat ek reg het.
19
As iemand 'n saak teen my het,
sou ek swyg en sterf.
20
U, my God, moet net twee dinge vir my doen,
dan sal ek nie vir U wegkruip nie:
21
neem u straf van my af weg
en moenie dat die skrik vir U my oorval nie.
22
“Roep my, en ek sal antwoord,23
Hoeveel misdade en sondes het ek begaan?
Wys my wat my oortredings en my sondes is!
24
Waarom vermy U my
en beskou U my as u vyand?
25
Wil U 'n verwaaide blaar skrikmaak,
'n droë stoppel agtervolg
26
dat U so 'n bitter lyding vir my beskik
en my laat boet vir die sondes van my jeug?
27
U bind 'n blok aan my voete,
U hou elke voetstap van my dop,
U merk my, waar ek ook al gaan.
28
“En dít 'n mens wat vergaan soos iets wat verrot,1
“Die mens, uit 'n vrou gebore, se lewe is kort en vol onrus.2
Hy is soos 'n blom wat oopgaan en dan verlep,
'n skaduwee wat verbygaan en nie stilstaan nie.
3
Dit is so 'n mens vir wie U in die oog hou,
vir wie U in 'n regsgeding met U wil betrek.
4
Wie kan rein uit onrein laat voortkom?
Niemand nie!
5
“Die mens se dae is vasgestel,6
U moet van hom af wegkyk en hom met rus laat
totdat hy soos 'n huurling sy dagtaak afgehandel het.
7
Vir 'n boom is daar nog hoop;
al is dit afgekap, kan dit weer uitloop,
en sy lote sal aanhou groei.
8
Al word sy wortels oud in die aarde
en al gaan sy stam dood in die grond,
9
spruit hy weer uit as hy net water ruik,
en groei sy takke asof hy pas geplant is.
10
Maar die mens sterf en verdwyn,
hy blaas sy laaste asem uit, en waar is hy?
11
Soos water uit die see verdamp,
en 'n rivier opdroog,
12
so ontslaap die mens en staan nie weer op nie;
totdat die hemel nie meer daar is nie,
sal hy nie wakker skrik nie,
nie weer wakker gemaak word nie.
13
As U my maar liewer in die doderyk wou wegsteek,
my daar wou hou tot u toorn afgekoel het,
as U maar liewer 'n tyd vir my wou vasstel
en dan weer aan my wou dink!
14
“As 'n mens sterf, sal hy weer lewe?15
Dan sou U my roep en ek U antwoord
en sou U graag weer die maaksel van u hande wou sien.
16
Dan sou U elke tree tel wat ek gee,
maar nie ag gee op my sonde nie.
17
Dan sou U my oortreding in 'n sak verseël
en my sonde toemaak.
18
Maar soos 'n berg in stukke breek
en 'n rots uit sy plek losgeruk word,
19
soos water klippe verweer,
'n wolkbreuk die grond wegspoel,
so vernietig U die hoop van die mens.
20
U oorweldig hom vir altyd en hy verdwyn,
hy kom te sterwe, U neem hom weg.
21
Sy seuns word vereer, maar hy weet dit nie,
hulle word verkleineer, maar hy is nie daarvan bewus nie.
22
Hy voel net die pyn aan sy eie liggaam,
die smart wat aan hom bly vreet.”
1
Toe sê Elifas die Temaniet:2
“Kan 'n verstandige man soveel onsin praat,
so vol wind wees?
3
Kan hy hom verdedig met woorde wat niks sê nie,
met 'n pratery wat niks beteken nie?
4
Maar jy maak selfs die eerbied vir God nutteloos,
jy maak dit onmoontlik om iets in sy teenwoordigheid te sê.
5
Dit is jou sonde wat jou die woorde in die mond lê;
daarom kies jy sulke slinkse woorde.
6
Nie ek nie, jou eie mond veroordeel jou,
alles wat jy sê, getuig teen jou.
7
Is jy die eerste mens wat gebore is?
Het jy vóór die berge in die wêreld gekom?
8
Het jy in die raadsvergadering van God gesit en luister?
Het jy die alleenreg op die wysheid?
9
Wat weet jy wat ons nie weet nie?
Wat verstaan jy wat ons nie ook verstaan nie?
10
Ook onder ons is daar ou manne en grysaards,
manne selfs ouer as jou pa.
11
“Beteken die troos wat van God kom, vir jou niks,12
Waarom het jou gevoel met jou op loop gesit,
waarom blits jou oë so?
13
Wil jy jou woede op God koel
dat daar sulke woorde uit jou mond kom?
14
Hoe kan 'n mens rein wees?
Hoe kan 'n sterfling onskuldig wees?
15
As God nie eers die hemelwesens vertrou nie
en selfs die hemel nie rein is in sy oë nie,
16
hoeveel minder 'n onrein, verdorwe mens
wat boosheid indrink soos water?
17
“Luister na my, ek wil jou iets vertel;18
Dit is die woorde van wyse mense.
Hulle hou niks terug
van wat hulle vaders hulle vertel het nie.
19
Dit kom uit die tyd
toe hulle die land net vir hulleself ontvang het
en daar geen vreemdeling onder hulle beweeg het nie.
20
Hulle sê:
‘Sy lewe lank word die goddelose,
die geweldenaar, deur angs geteister,
al die jare wat vir hom afgemeet is.
21
Angswekkende krete klink in sy ore;
terwyl alles veilig lyk, storm rowers op hom af.
22
Hy twyfel of hy die dood sal vryspring,
hy weet hy kan nie aan die swaard ontkom nie.
23
As hy vlug, word hy kos vir die aasvoëls,
hy weet die dood wag op hom.
24
Soos 'n koning wat aanval,
storm swaarkry en lyding op hom af;
dit oorweldig hom,
25
want hy daag God uit
en verset hom teen die Almagtige:
26
in sy oormoed storm hy op God af
met sy dik, sterk skild,
27
met sy ronde, vet gesig
en sy onderlyf dik van die vet.
28
Hy sal in verwoeste stede moet woon,
in onbewoonbare huise,
huise wat dreig om bouvalle te word.
29
Hy sal nie ryk bly nie, sy rykdom sal nie hou nie,
sy besittings op die aarde sal nie meer word nie.
30
Hy sal die dood nie vryspring nie,
sy nakomelinge sal deur vuur verteer word,
sy woorde in die wind verdwyn.
31
'n Mens moenie vertrou op wat niks is nie.
Dit bring hom nêrens nie,
in ruil daarvoor kry hy ook niks nie.
32
Voor sy tyd gekom het,
is sy groeikrag daarmee heen.
33
Hy is soos 'n wingerdstok wat sy trosse verloor voor dit ryp is,
soos 'n olyfboom wat sy bloeisels afgooi voor daar vrugte is.’
34
“Die hele bende godloses sal sonder iets wees,35
Dit is hulle wat swanger is van die kwaad,
wat onreg voortbring
en aan bedrog die lewe skenk.”
1
Toe het Job weer gepraat:2
“Hierdie soort argument het ek al baie gehoor.
Julle is almal maar hopelose troosters.
3
Kom daar dan geen einde aan julle sinlose gepraat nie?
Wat pla julle dat julle die laaste woord wil hê?
4
Ek sou ook soos julle kon praat
as julle sou ly wat ek te ly het.
Dan kon ek medelye met julle betoon
en my kop meewarig oor julle skud.
5
Ek sou julle kon bemoedig met my woorde,
maar niksseggende woorde sou ek terughou.
6
Maar my pyn sal nie ophou as ek praat nie,
dit sal ook nie verdwyn as ek ophou praat nie.
7
Nou het God my afgetakel,
Hy het my hele gesin uitgewis.
8
Hy het my beetgepak, en dít dien as getuienis teen my;
my vervalle toestand staan op en getuig teen my.
9
God het my in sy toorn verskeur en vervolg,
in sy woede het Hy my lewe bedreig,
Hy, my Teëstander, deurboor my met sy oë.
10
Mense rek hulle monde oor my,
hulle beledig my,
hulle sak op my toe.
11
God het my oorgelewer aan slegte mense,
Hy het my in die hande van goddeloses laat val.
12
Ek het rustig gelewe, toe versteur God my rus,
Hy het my aan die nek beetgepak en my vergruis.
Hy het van my 'n teiken gemaak:
13
sy pyle tref my hele liggaam,
meedoënloos deurboor Hy my niere
en my gal loop uit op die grond.
14
Wond op wond dien Hy my toe,
soos 'n soldaat storm Hy op my af.
15
Ek het vir my 'n roukleed gemaak,
my eer het in die stof verdwyn.
16
Ek het my oë rooi gehuil,
daar is swart kringe onder my oë.
17
Tog is ek nie skuldig aan geweld nie
en is my gebed opreg.
18
Moenie die onreg teen my verberg nie, aarde,
moenie dat my noodkrete tot rus kom nie.
19
Selfs nou nog het ek 'n getuie in die hemel,
Hy wat vir my getuig, is daar bo.
20
My vriende het my bespotters geword,
daarom pleit ek met trane by God
21
dat Hy uitspraak lewer in die saak tussen 'n mens en Hom
soos in 'n saak tussen 'n man en sy vriend,
22
want my jare is min en gaan verby,
en ek gaan na die plek toe
waarvandaan niemand terugkom nie.”
1
“Ek is gedaan, my tyd is verby, net die graf bly vir my oor.2
Al wat ek hoor, is bespotting;
my oë is dof van my bitter lyding.
3
Wees tog vir my 'n borg, o God!
Wie anders kan vir my instaan?
4
U het die verstand van my vriende vir rede gesluit,
moenie dat hulle seëvier nie.
5
Sou iemand sy besittings met sy vriende deel,
terwyl sy eie kinders gebrek ly?
6
God het my tot 'n bespotting van mense gemaak;
hulle spoeg in my gesig.
7
My oë het swak geword van die swaarkry,
my liggaam is net 'n skaduwee.
8
Die opregtes slaan die hande saam daaroor
en die onskuldiges kom in opstand oor die godlose mense.
9
Wie reg het, loop sy pad,
wie rein voor God is, neem toe in krag.
10
Al kom julle almal elke keer weer terug,
kry ek nie een onder julle wat verstandig is nie.
11
My dae is verby,
dis klaar met wat ek beplan en begeer het.
12
My vriende maak mos of die nag dag is,
of die lig naby is omdat dit donker is.
13
As ek my hoop vir 'n huis op die doderyk sou vestig,
sy donkerte my bed sou maak,
14
as ek vir die graf sou sê: ‘Jy is my vader,’
en vir die wurms: ‘Julle is my moeder en my susters,’
15
watter hoop sou ek dan hê
en wie sou vir my enige hoop kon gee?
16
Sou die hoop dan saam met my na die doderyk toe afgaan?
Sou ons saam in die stof kon rus?”
1
Toe sê Bildad die Suagiet vir Job:2
“Hoe lank gaan jy nog aanhou praat?
Kom eers tot ander insigte dan kan ons verder praat.
3
Waarom word ons as diere beskou?
Is ons dan so dom in jou oë?
4
Jy is soos iemand wat homself in sy woede verskeur.
Moet alle mense van die wêreld af verdwyn om jou tevrede te stel?
Moet die rotse uit hulle plek losgeruk word?
5
“Die goddelose se lig sal beslis uitgedoof word,6
die lig in sy huis sal doodgemaak word
en die lamp langs hom uitgedoof word.
7
Sy kragtige treë sal al onsekerder word,
sy slim planne sal hom tot 'n val bring.
8
Hy sal aan sy voete gevang word deur 'n strik,
hy sal in 'n valstrik inloop.
9
'n Wip sal hom aan die hakskeen vang,
'n vangnet sal hom vasgryp.
10
'n Lus is vir hom op die grond weggesteek,
daar is 'n vanggat op sy pad.
11
Hy word van alle kante af met gevaar bedreig,
dit volg hom net waar hy gaan.
12
Die onheil wag hom gretig in,
die ongeluk wag vir hom.
13
'n Dodelike siekte sal sy vel wegvreet
en sy liggaamsdele verteer.
14
Hy sal uitgeruk word uit sy veilige huis,
hy sal weggelei word na waar die groot vrees heers.
15
Niks wat hy het, sal in sy woning oorbly nie,
oor sy woonplek sal brandende swael gestrooi word.
16
Sy wortels sal van onder af verdroog
en sy blare bo verlep.
17
Elke herinnering aan hom sal van die aarde af verdwyn,
sy naam sal nêrens meer bekend wees nie.
18
Hy sal uit die lig die duisternis in gestoot word,
hy sal uit die bewoonde wêreld verjaag word.
19
Hy sal geen kind of nakomeling
onder sy mense hê nie,
en daar sal niemand in sy woonplek oorbly nie.
20
Oor sy lot sal die mense van die ooste en die weste
die hande van verbasing saamslaan en met vrees vervul wees.
21
Só sal dit gaan met die huis van die slegte mens,
só sal die plek lyk van iemand wat nie vir God erken nie.”
1
Toe het Job weer gepraat:2
“Hoe lank gaan julle my bly pynig
en my met woorde striem?
3
Dit is die soveelste keer dat julle my beledig
en my sleg behandel sonder om julle te skaam.
4
As ek werklik gedwaal het,
is my dwaling my eie saak.
5
Maar as julle julle teen my aanstel
en my veroordeel oor die smaad wat oor my gekom het,
6
weet dan dat dit God is wat my die onreg aandoen
en my in sy net gevange hou.
7
Ek skreeu: ‘Geweld!’ maar kry geen reaksie nie,
ek roep om hulp maar daar word nie aan my reg gedoen nie.
8
Hy het my pad versper, ek kan nie verder nie.
Hy het die donker laat toesak oor my pad.
9
Hy het my eer van my af weggestroop,
my aansien van my af weggeneem.
10
Aan alle kante breek Hy my af, sodat ek moet sterf,
Hy laat my hoop verdwyn soos 'n boom wat uitgeruk word.
11
Hy laat sy woede teen my losbreek,
Hy behandel my as vyand.
12
Sy magte het saam op my afgestorm,
hulle beleër my en omsingel my huis.
13
My broers het Hy van my verwyder,
my bloedverwante is van my vervreem,
14
my familie het my verlaat,
my bloedverwante het my vergeet.
15
My huismense en my slavinne beskou my as 'n vreemdeling,
ek het vir hulle soos 'n uitlander geword.
16
Ek roep my slaaf, maar hy antwoord my nie,
selfs al smeek ek hom.
17
My asem walg my vrou,
ek ruik sleg vir my eie broers.
18
Selfs kindertjies minag my,
as ek wil opstaan, spot hulle my.
19
Al my vertrouelinge verafsku my,
dié wat ek liefhet, het teen my gedraai.
20
Ek is net vel en been,
al my tande het uitgeval.
21
Kry my tog jammer, my vriende, kry my tog jammer!
Die hand van God het my swaar getref.
22
Waarom vervolg ook julle my soos God dit doen?
Kry julle nie genoeg nie?
23
Mag my woorde tog opgeskryf word,
mag dit ingegraveer word op 'n monument
24
met 'n ysterpen en lood,
vir altyd in 'n rots uitgekap.
25
Ek weet dat my Losser leef,
uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer!
26
Selfs nadat hierdie siekte my vel weggevreet het,
sal ek nog lewe en God sien.
27
Ek sal Hóm sien,
met my eie oë sal ek Hom sien, Hom en niemand anders nie.
Ek smag daarna met my hele lewe.
28
As julle dan sê julle wil my vervolg,
die wortel van die kwaad by my opspoor,
29
moet júlle die swaard vrees,
want in sy toorn straf God die sonde met die swaard.
Dan sal julle weet dat daar 'n regter is.”
1
Toe sê Sofar die Naämatiet vir Job:2
“Ontsteltenis dwing my om te antwoord,
dit maak my haastig om te praat.
3
Ek hoor 'n teregwysing wat my beledig,
maar ek wil verstandig daarop antwoord:
4
Weet jy wat vroeër gebeur het,
van die tyd af toe die mens op die aarde geplaas is?
5
Jy weet tog dat die vreugde van die goddelose van korte duur is,
dat die blydskap van die godlose net 'n oomblik duur?
6
Al sou sy trots tot in die hemel reik
en sy kop aan die wolke raak,
7
sal hy soos sy eie uitwerpsel vir altyd vergaan.
Dié wat hom geken het, sal vra: ‘Waar is hy?’
8
Hy verdwyn soos 'n droom, hy is nêrens te vind nie,
hy raak weg soos 'n gesig in die nag.
9
Die oog wat hom gesien het, sal hom nie weer sien nie,
sy plek is vir altyd leeg.
10
Sy kinders sal die armes moet vergoed,
met sy eie hande sal hy sy rykdom moet teruggee.
11
Die jeugdige krag van sy liggaam
gaan saam met hom die graf in.
12
Hoewel die onreg soet smaak in sy mond
en hy dit wegsteek onder sy tong,
13
dit opgaar en nie wil laat vaar nie,
dit teen sy verhemelte vasdruk,
14
gaan sy kos omdraai in sy maag
en in hom word soos die gif van 'n slang.
15
Die ryk kos wat hy verslind het, gaan hy opgooi;
God sal hom dit laat opbring.
16
Wat hy drink, is soos slanggif,
dit maak hom dood soos die pik van 'n adder.
17
Hy sal nie die strome water geniet nie,
nie die strome heuning en dikmelk nie.
18
Wat hy met moeite verwerf het, moet hy teruggee,
hy kan dit nie geniet nie,
hy sal hom nie verlustig aan die weelde
wat hy deur sy besigheid verkry het nie.
19
Hy verdruk mos die armes en los hulle net so,
hy vat sommer vir hom 'n huis,
hy bou dit nie self nie.
20
Daar is geen einde aan sy gulsigheid nie,
hy kom nie vry van sy hebsug nie.
21
Niks ontsnap sy vraatsug nie,
daarom hou sy voorspoed nie stand nie.
22
Met sy oorvloed en al tref 'n ramp hom,
kom die swaarkry met volle krag op hom af.
23
Terwyl hy hom nog so vol eet,
laat God die woede van sy toorn oor hom losbreek,
oorval God hom met oorlog.
24
Hy vlug nog vir 'n ysterwapen,
dan deurboor 'n bronspyl hom.
25
Terwyl hy dit uit sy rug uit trek,
die glansende punt uit sy gal,
oorval die doodsvrees hom.
26
Al sy skatte is bestem om vernietig te word,
'n vuur verteer hom, selfs al word dit nie aangeblaas nie.
Dit verbrand wat in sy huis oorbly.
27
Die hemel ontbloot sy sonde,
die aarde kom teen hom in opstand.
28
Vloedwater spoel sy huis weg,
waterstrome op die dag van God se toorn.
29
Dit is die lot van die mens wat skuldig is voor God,
die deel van die een wat hom teen God verset.”
1
Toe het Job weer gepraat:2
“Luister goed na my woorde;
so sal julle my die beste troos.
3
Verdra my terwyl ek praat,
en as ek klaar gepraat het, kan julle my verder bespot.
4
My klag is nie teen mense nie.
Waarom mag ek dan nie ongeduldig word nie?
5
Kyk na my, dan sal julle verstom staan
en van verbasing die hand op die mond lê.
6
As ek hieraan dink, skrik ek,
gaan ek aan die bewe:
7
Waarom bly die goddeloses aan die lewe,
word hulle oud en ryk en vernaam?
8
Hulle kinders raak gevestig rondom hulle,
hulle sien hulle nageslagte.
9
Daar is vrede in hulle huise, geen vrees nie,
die straf van God tref hulle nie.
10
Hulle bulle dek die koeie en slaan nie een oor nie,
hulle koeie kalf en het geen misgeboorte nie.
11
Hulle laat hulle kindertjies los rondloop soos kleinvee,
hulle kleintjies baljaar vrolik rond.
12
Hulle sing met begeleiding van die tamboeryn en die lier,
hulle is vrolik by die geluid van die fluit.
13
Hulle slyt hulle lewens in voorspoed,
hulle gaan in vrede die doderyk binne.
14
Maar tog is dit hulle wat vir God sê: ‘Laat staan ons, ons weier om u wil te ken.
15
Wat is die Almagtige dat ons Hom sou dien? Watter nut het dit om Hom te aanbid?’
16
“Maar hulle voorspoed is nie in hulle eie hande nie,17
Hoe dikwels word die lewenslamp van die goddeloses uitgedoof,
kom 'n ramp oor hulle,
laat God in sy toorn onheil oor hulle kom?
18
Hoe dikwels is hulle soos kaf voor die wind,
soos stoppels wat weggewaai word deur die stormwind?
19
Spaar God dan sy rampe op vir die goddelose se kinders?
God moet hom tog straf dat hy dit self weet!
20
Hy moet sy ondergang met sy eie oë sien,
hy moet self die toorn van die Almagtige ondervind.
21
Wat kan sy familie hom skeel na sy dood,
as sy lewensdraad afgeknip is?
22
“Sou iemand vir God iets kon leer,23
“Die een mens sterf in sy volle krag24
terwyl hy blakend gesond is
en volop murg in sy bene het.
25
Die ander sterf in bitterheid
sonder dat hy voorspoed gesmaak het.
26
Saam lê hulle in die graf,
altwee oortrek van die wurms.
27
“Ek ken julle gedagtes,28
Julle sê: ‘Wat word van die huis van 'n belangrike man,
van die wonings van goddeloses?’
29
Het julle nie dié wat baie rondgaan, gevra nie,
het julle nie ag geslaan op wat hulle vertel nie?
30
Hulle sê 'n slegte man word op die dag van onheil gered,
hy word op die dag van toorn verskoon.
31
Wie spreek hom in sy gesig aan oor sy slegte gedrag,
wie vergeld hom vir wat hy gedoen het?
32
“Hy word na die graf gedra,33
Die kluite van die graf pla hom nie.
Alle mense volg hom daarheen,
en voor hom is mense sonder tal daarnatoe.
34
Hoe kan julle my dan met sinlose praatjies probeer troos?
Julle argumente is niks anders as bedrog nie.”
1
Toe sê Elifas die Temaniet vir Job:2
“Kan 'n mens vir God tot nut wees?
Nee, die verstandige is vir homself tot nut.
3
Watter belang het die Almagtige daarby dat jy reg het,
watter voordeel het dit vir Hom dat jou lewenswandel vroom is?
4
Is dit oor jou diens aan Hom dat Hy jou straf,
dat Hy 'n saak teen jou het?
5
Is jou verkeerde dade dan nie baie nie?
Daar is geen einde aan al jou sondes nie.
6
Sonder regverdiging het jy van jou eie familie goed in pand gevat,
jy het die klere van dié wat niks het nie, van hulle afgestroop.
7
Jy het vir dié wat uitgeput was, nie water gegee nie
en geweier om vir dié wat honger was, kos te gee.
8
Jy, 'n ryk man, het grond in besit gekry,
jy, 'n man van aansien, woon daarop.
9
Maar jy het weduwees met leë hande van jou af weggestuur
en weeskinders sonder heenkome gelaat.
10
Daarom is daar net vangstrikke rondom jou
en het angs jou skielik oorval.
11
Daarom is dit so donker dat jy nie kan sien nie
en verswelg vloedwaters jou.
12
Is God dan nie hoog in die hemel nie?
Kyk net hoe hoog sit die sterre!
13
Jy dink dalk: wat weet God?
Hy regeer uit die donkerte uit.
14
Daar is wolke rondom Hom, Hy kan nie sien
terwyl Hy daar bo in die hemelgewelf wandel nie.
15
Wil jy op die ou pad hou
wat deur sondige mense uitgetrap is?
16
Hulle is weggeruk vóór hulle tyd:
die dinge waarop hulle gebou het, is deur 'n stroom meegesleur.
17
Hulle het vir God gesê: ‘Laat staan ons.
Wat kan die Almagtige aan ons doen?’
18
En dit terwyl dit Hý is wat hulle huise met rykdom vul!
Daarom bly ek weg van die raad wat van goddeloses af kom.
19
Dié wat reg doen,
sien die ondergang van die goddeloses en is bly,
die onskuldiges spot met hulle:
20
Ons vyande is daarmee heen,
vuur het hulle besittings verteer.”
21
“Onderwerp jou aan God, dan sal jy in vrede leef,
en so sal jy voorspoed hê.
22
Laat Hy jou leer
en neem sy woorde ter harte.
23
As jy terugkom na die Almagtige toe, sal jy herstel word.
As jy die kwaad ver van jou woonplek af hou,
24
jou goud as nikswerd beskou,
die goud uit Ofir as so min werd as 'n klip in die spruit,
25
sal die Almagtige jou goud wees,
jou skat aan silwer.
26
Dan sal jy jou in die Almagtige verlustig
en jou weer tot God wend.
27
Jy sal tot Hom bid, en Hy sal jou gebed verhoor,
die beloftes wat jy gemaak het, sal jy nakom.
28
Wat jy besluit, sal uitgevoer word,
dit sal voorspoedig gaan met jou.
29
Wanneer mense val
en jy vra dat hulle opgetel word,
sal God hulle, die ootmoediges, red.
30
Hy sal die skuldiges laat vrykom,
en hulle sal vrykom deur jou onskuld.”
1
Toe het Job weer gepraat:2
“Ek kla nog steeds uit opstandigheid,
ek kan nie ophou kla nie.
3
As ek maar geweet het waar om God te vind,
sou ek na sy woonplek toe gaan
4
en my saak voor Hom lê,
my pleidooie aan Hom stel.
5
Ek sou van Hom antwoord probeer kry,
probeer verstaan wat Hy vir my wil sê.
6
Hy sal tog nie met sy groot krag teen my 'n saak voer nie;
Hy sal my dit nie aandoen nie,
7
want dit sou 'n opregte mens wees wat daar voor Hom pleit
en ek sou vir altyd deur my Regter vrygespreek word.
8
Maar gaan ek na die ooste toe, Hy is nie daar nie,
na die weste, ek kry Hom nie.
9
Sou Hy in die noorde aan die werk wees,
ek vind Hom nie daar nie,
sou Hy na die suide toe draai,
ek sien Hom nie.
10
Hy ken my pad;
as Hy my toets, is ek suiwer soos goud.
11
Ek volg Hom waar Hy gaan,
ek hou op sy pad en draai nie af nie.
12
Sy bevel verontagsaam ek nie,
ek heg meer waarde aan sy woorde as aan my eie begeertes.
13
Hy bly dieselfde, wie kan Hom teenstaan?
Wat Hy wil, doen Hy.
14
Wat Hy oor my besluit het, sal Hy doen,
wat sy planne met my ook al is.
15
Daarom staan ek vreesbevange voor Hom,
ek probeer verstaan, maar ek bly Hom vrees.
16
God het my weerstand afgebreek,
die Almagtige het my met angs vervul.
17
Maar in hierdie donkerte het ek nie stilgebly nie,
in hierdie duisternis wat my oorval het.”
1
“Waarom stel die Almagtige nie tye vas vir afrekening nie?2
Mense verskuif grenslyne,
hulle steel troppe vee en laat hulle by hulle eie vee wei,
3
hulle vat die weeskind se donkie
en lê beslag op die bees van die weduwee,
4
hulle druk die armes van die pad af;
die behoeftiges van die land moet wegkruip.
5
Soos wildedonkies moet die armes in die woestyn gaan kos soek,
die dorre wêreld moet vir hulle kinders kos voorsien.
6
Hulle oes veevoer op die land om dit self te eet,
hulle soek oorskiettrossies in die wingerde van die goddeloses.
7
Hulle moet die nag kaal deurbring, sonder klere,
hulle het geen beskutting teen die koue nie.
8
Hulle is deurnat van die reëns in die berge,
daar is geen skuiling nie, hulle hurk agter die rotse.
9
Die weeskind word weggeruk van die bors waaraan hy drink,
die armes word vir skuld verpand.
10
Hulle loop kaal rond, sonder klere,
hulle dra gerwe uit, maar ly honger,
11
hulle trek die olyfpers,
hulle trap die parskuipe, maar bly dors.
12
In die stad kerm die sterwendes,
dié wat aangerand is, roep om hulp,
maar God slaan nie ag op die onreg nie.”
13
“Daar is mense wat nie die daglig verdra nie,
wat niks te doen wil hê met wat in die dag gebeur nie,
wat nie van die dag se paaie hou nie:
14
die moordenaar staan op net voor ligdag,
hy vermoor die weerlose en die arme,
in die nag steel hy;
15
die egbreker wag vir die donker,
hy dink geen oog sal hom sien nie,
hy vermom homself;
16
die dief breek by huise in as dit donker is,
bedags kruip hy weg,
hy wil niks met die lig te doen hê nie.
17
Vir elkeen van hulle is die donker soos die oggend,
hulle is tuis by die verskrikkings van die donker.
18
“Maar hulle spoel vinnig weg op die water;19
Soos droogte en hitte sneeu wegsmelt,
so maak die graf 'n einde aan die sondaar.
20
Sy eie ma vergeet hom,
hy is kos vir die wurms,
daar word nie meer aan hom gedink nie.
Wie onreg doen, word soos 'n stuk hout gebreek.
21
Hy het die kinderlose vrou geplunder
en nooit goed gedoen aan 'n weduwee nie.
22
Maar God onderwerp die sterkes deur sy mag;
as Hy optree, het hulle geen sekerheid meer in die lewe nie.
23
Hy gee miskien vir hulle 'n gevoel van sekerheid
waarop hulle kan steun,
maar Hy hou dop wat hulle doen.
24
Net 'n kort tydjie is hulle belangrik,
dan is daar niks van hulle oor nie,
hulle stort inmekaar en sterf soos almal,
hulle word soos koringare afgesny.
25
Is dit nie so nie?
Wie kan my tot leuenaar maak?
Wie kan my woorde weerlê?”
1
Toe sê Bildad die Suagiet vir Job:2
“Die heerskappy en die vrees kom God toe.
Uit sy hoë hemel gee Hy vrede.
3
Kan die magte waaroor Hy beskik, bereken word?
Oor wie skyn sy lig nie?
4
Hoe kan 'n mens reg hê voor God?
Hoe kan iemand wat uit 'n vrou gebore is, onskuldig wees?
5
As vir God selfs die maan nie helder is nie
en die sterre nie blink genoeg nie,
6
hoeveel te minder 'n mens, 'n blote wurm,
'n mensekind, wat maar net 'n ruspe is?”
1
Toe het Job weer gepraat:2
“Het jy nou dié een gehelp wat nie krag het nie?
Het jy nou dié een bygestaan wat nie sterk is nie?
3
Het jy nou raad gegee
aan een wat nie wysheid het nie?
Het jy groot insig laat blyk?
4
Met wie se hulp het jy gepraat?
By wie het jy gehoor wat jy gesê het?”
5
“Dié wat reeds dood is, bewe,
die doderyk en al sy bewoners.
6
Die plek van die dood lê oop voor God,
niks bedek die doderyk vir Hom nie.
7
God sprei die hemel uit oor die leë ruimte,
Hy laat die aarde hang waar niks is nie.
8
Hy versamel die water in die wolke,
en hulle skeur nie onder die las nie.
9
Hy bedek sy troon,
Hy sprei wolke daaroor uit.
10
Hy plaas die horison op die see,
'n grens tussen lig en donker.
11
Die pilare van die hemel skud,
hulle sidder vir sy dreigende woede.
12
Deur sy krag bring Hy die see tot rus,
deur sy insig verpletter Hy vir Rahab!
13
Met die wind waai Hy die lug skoon,
met sy krag deurboor Hy die seemonster.
14
Dit is maar die begin van sy dade,
ons hoor net die gefluister van sy woorde.
Maar die volle krag van sy dade,
wie kan dit verstaan?”
1
Job het voortgegaan en gesê:2
“So seker as God leef, Hy wat my reg van my af weggeneem het,
die Almagtige wat my die bitter lyding aangedoen het:
3
so lank as daar lewe in my is,
so lank as die asem van God in my is,
4
sal ek niks sê wat verkeerd is nie
en sal daar geen onwaarheid uit my mond kom nie.
5
Daarom kan ek nooit toegee dat julle reg het nie:
tot my dood toe sal ek volhou dat ek onskuldig is.
6
Ek bly daarby dat ek reg het, ek sal daarvan nie afsien
en my my lewe lank daaroor verwyt nie.
7
Mag dit met my vyande gaan soos met die goddeloses,
met my teëstanders soos met dié wat onreg doen.
8
Watter hoop het die godlose as sy lewe afgesny word,
as God sy lewe opeis?
9
Sal God sy hulpgeroep hoor
as rampe hom oorval?
10
Vind hy vreugde in die Almagtige?
Roep hy God altyd weer aan?
11
Ek wil julle iets leer
oor die mag van God;
wat by die Almagtige is,
sal ek nie verberg nie.
12
Julle het dit tog almal al gesien,
waarom dan die sinlose gepraat?
13
“Dit is die lot wat God uitmeet vir die goddeloses,14
Hoe baie hulle kinders ook al is,
hulle is vir die swaard bestem,
hulle nakomelinge sal altyd honger ly.
15
Dié wat van hulle oorbly, sal deur die pes verteer word,
en hulle weduwees sal nie oor hulle treur nie.
16
Al hoop hulle hulle geld op soos stof,
en al is hulle klere so volop soos klei,
17
wat hulle bymekaargemaak het,
sal deur die regverdiges gedra word,
en onskuldiges sal die goddeloses se geld onder mekaar verdeel.
18
Die goddelose se huis is tydelik, soos 'n kokon vir 'n mot,
soos 'n skerm wat deur 'n wagter gebou is.
19
Die goddelose gaan slaap as ryk man,
maar hy doen dit nie weer nie:
as hy sy oë oopmaak, is alles weg.
20
Die angs oorval hom soos 'n vloed,
'n orkaan voer hom weg in die nag.
21
Die oostewind lig hom op, en weg is hy,
dit waai hom weg uit sy plek.
22
Dit storm op hom af sonder genade,
hy moet vlug vir die geweld van die wind.
23
Die wind klap sy hande van blydskap
terwyl hy die goddelose uit sy plek wegblaas.”
1
“Daar is 'n plek waar silwer uitgehaal word,2
Yster word uit die grond gehaal
en koper word uit erts gesmelt.
3
Die mens maak 'n einde aan die donker,
hy soek erts in die diepste plekke, in die donkerste hoeke.
4
Hy grawe 'n skag waar niemand woon nie,
op plekke waar niemand kom nie,
ver van mense af hang hy en swaai hy.
5
Die aarde waaruit die voedsel kom,
word daar onder oopgebreek met vuur.
6
Uit die klip van die aarde kom saffier,
ook korreltjies goud.
7
Geen roofvoël ken daardie pad nie,
die oog van 'n valk kan dit nie sien nie,
8
roofdiere loop nie daar nie,
die leeu gaan nie daarlangs nie.
9
“Die mens bewerk die harde rots met sy hande,10
hy grawe gange deur die rots,
sy oog sien al die skatte,
11
hy stop waterare toe
en bring verborge dinge aan die lig.
12
Maar die wysheid, waar word dié gevind,
waar is die woonplek van die insig?
13
Die mens ken nie die waarde daarvan nie,
en dit word nie in die land van die lewendes gevind nie.
14
Die diep waters sê: ‘Dit is nie in my nie,’
die see sê: ‘By mý is dit nie!’
15
Goud kan dit nie koop nie,
sy waarde kan nie in silwer afgeweeg word nie.
16
Daarvoor kan nie betaal word met die goud van Ofir
of met kosbare oniks en saffier nie;
17
goud en glas kom nie daarby in waarde nie,
vir voorwerpe van fyn goud kan 'n mens dit nie ruil nie.
18
Koraal en kristal word nie eers gereken nie,
wysheid is baie meer werd as pêrels.
19
Topaas uit Kus kom nie daarby in waarde nie,
selfs met suiwer goud kan jy nie daarvoor betaal nie.
20
Die wysheid, waar kom dit vandaan?
Waar is die woonplek van die insig?
21
Dit is verborge vir al wat lewe,
weggesteek selfs vir die voëls in die lug.
22
Die onderwêreld en die dood sê:
‘Ons het maar net 'n gerug daaroor gehoor.’
23
Net God weet hoe die pad daarheen loop,
net Hy ken die woonplek van die wysheid,
24
want Hy sien die verste eindes van die aarde,
Hy aanskou alles onder die hemel.
25
Toe Hy die krag van die wind bepaal het
en die waters uitgemeet het,
26
toe Hy vir die reën reëls gemaak het
en 'n pad vir die weerlig aangewys het,
27
toe het Hy die wysheid gesien en daarvan vertel,
toe het Hy dit vasgestel en deurvors.
28
En Hy het vir die mens gesê:
Om die Here te dien, dit is wysheid,
om die kwaad te vermy, dit is insig.”
1
Daarna het Job voortgegaan om sy saak te stel:2
“Kon dit maar weer met my gaan soos lank gelede,
soos in die dae toe God nog sy hand oor my gehou het,
3
toe sy lig beskermend oor my geskyn het
en my pad in die donker verlig het.
4
Dit was die beste jare van my lewe
toe ek nog 'n vertroueling van God was.
5
Toe was die Almagtige by my
en my kinders rondom my.
6
Ek het oral voorspoed geniet:
volop dikmelk en strome olyfolie.
7
Wanneer ek na die stadspoort toe gegaan het,
my plek op die stadsplein gaan inneem het,
8
het die jongmanne opsy gestaan as hulle my sien,
het die ou manne eerbiedig opgestaan.
9
Die leiers het stilgebly,
hulle het nie gepraat nie.
10
Die vernames het nie 'n woord gesê nie,
hulle het uit eerbied geswyg.
11
Dié wat van my gehoor het, het goed van my gepraat,
dié wat my gesien het, het my geprys
12
omdat ek die armes gered het wat om hulp roep,
die weeskind en dié wat geen helper het nie.
13
Die man wat met ondergang bedreig was,
het my vir sy redding gedank,
en ek het die hart van die weduwee bly gemaak.
14
Ek het reg en geregtigheid laat geskied;
vir my was dit vanselfsprekend,
so vanselfsprekend as om klere aan te trek.
15
Ek was oë vir die blindes
en voete vir die kreupeles,
16
ek was 'n vader vir die armes,
ek het selfs onbekendes se regsaak behartig.
17
Ek het die mag van dié wat onreg doen, gebreek,
ek het die prooi uit hulle tande weggeruk.
18
Daarom het ek gedink:
ek sal eendag sonder sorge sterf in my eie huis,
my lewensdae sal meer wees as wat daar sand is,
19
ek sal wees soos 'n boom met sy wortels by die water
en elke môre dou op sy takke,
20
ek sal altyd nuwe krag hê,
ek sal my man kan staan.
21
Mense het vol verwagting na my geluister,
hulle het in spanning gewag op my raad.
22
Nadat ek gepraat het, het hulle niks gesê nie,
hulle het my woorde ingedrink,
23
hulle het daarop gewag soos op 'n reënbui,
hulle het daarna gesmag soos na die laat reëns.
24
Ek was vriendelik met hulle
toe hulle geen hoop meer gehad het nie,
my goedgesindheid het verhoed dat hulle ondergaan.
25
Ek het hulle die koers gewys,
ek was hulle leier,
ek was tussen hulle soos 'n koning tussen sy soldate,
soos een wat treurendes troos.”
1
“Maar nou lag hulle vir my, mense wat jonger is as ek,2
Buitendien, wat sou hulle vir my kon beteken?
Hulle is tot niks in staat nie:
3
hulle is uitgeteer deur gebrek en honger,
hulle kou snags aan droë stokke in die dorre woestyn;
4
hulle pluk aan brakbossies en struike,
die wortels van die besembos is vir hulle kos;
5
hulle is uitgestoot uit die gemeenskap,
daar word op hulle geskel soos op diewe;
6
hulle woon in die beddings van spruite,
in gate in die grond en tussen die rotse;
7
hulle balk soos wildedonkies tussen die struike,
hulle soek skuiling in die bossies;
8
hulle is mense sonder verstand, sonder eer,
uitgedryf uit die land.
9
“En nou sing hulle liedjies oor my10
Hulle verafsku my en wil niks met my te doen hê nie,
dit is vir hulle niks om my in die gesig te spoeg nie.
11
God het my weerloos gemaak, hulpeloos;
mense behandel my nie meer met eerbied nie.
12
Die gespuis val my goedsmoeds aan,
hulle stamp my onderstebo,
hulle bewerk my ondergang,
13
hulle breek my lewenspad op,
hulle kry dit reg om my te vernietig
sonder dat iemand hulle help.
14
Soos deur 'n wye bres kom hulle aan,
kom hulle tussen die puinhope deur aangestorm,
15
en ek word deur angs oorval;
my aansien het soos wind weggewaai,
my hoop op uitkoms het soos 'n wolk verdwyn.
16
“Nou is daar geen hoop meer vir my nie,17
Elke nag skiet pyne deur my liggaam,
knaagpyne wat nie end kry nie.
18
Deur die groot geweld van God hang my klere vormloos aan my,
word ek gewurg soos deur 'n boordjie om my nek.
19
Hy gooi my in die modder asof ek stof en as is.
20
Ek roep na U om hulp, maar U antwoord my nie.
Hier staan ek, maar U steur U nie aan my nie.
21
U draai U teen my met u geweld,
U val my aan met mag.
22
U tel my op en laat die wind my wegwaai,
U ruk my heen en weer in u stormwind.
23
Ek weet dat U my bestem vir die dood,
die plek waar alle mense saamkom.
24
Sal ek hier van my puinhoop af dan nie my hand uitsteek om hulp nie?
Sal ek in my ondergang nie om hulp roep nie?
25
Het ek nie trane gestort vir dié wat swaarkry nie,
het ek nie meegevoel betoon met die armes nie?
26
Ek het toe die goeie verwag, maar rampe het my getref,
ek het uitgesien na lig, maar donker het my oorval.
27
Dit kook in my, ek kom nie tot rus nie,
dae vol swaarkry bly my inwag.
28
Ek het swart geword, maar nie van sonbrand nie.
So staan ek hier tussen julle en roep om hulp.
29
Al broers wat ek het, is die jakkalse;
al vriende wat ek het, volstruise.
30
Oor my hele lyf het my vel swart geword,
ek gloei van die koors.
31
Al wat vir my oorbly, is 'n treurlied op die lier,
'n lied van trane op die fluit.”
1
“Ek het my plegtig verbind2
Wat kom 'n mens toe van God in die hemel,
wat gee die Almagtige daar van bo af?
3
Vernietiging tref immers die bóósdoener,
'n ongeluk dié wat onreg doen.
4
God hou my paaie dop
en tel elke tree wat ek gee.
5
“As ek my sou opgehou het met valsheid,6
laat God my dan weeg op 'n betroubare skaal
dat Hy kan weet dat ek onskuldig is.
7
As ek die spoor byster geraak het,
my deur my begeerte laat lei het
en my hande besoedel het,
8
laat ander mense eet wat ek gesaai het,
of laat my gesaaides uitgeruk word.
9
As ek my deur 'n ander se vrou laat verlei het
en gretig geloer het na my buurman se deur,
10
laat mý vrou dan vir 'n ander man koring maal,
laat ander by haar slaap.
11
As ek so iets gedoen het, sou dit 'n skande gewees het,
'n misdaad vir regters om te straf.
12
Dit sou 'n vuur gewees het wat alles vernietig
en al my besittings verteer.
13
As ek nie reg gedoen het aan my slawe en slavinne
toe hulle 'n grief teen my gehad het nie,
14
wat sou ek kon doen as God van my rekenskap eis,
hoe sou ek my kon verweer as Hy my tot verantwoording roep?
15
Het Hy wat my in die moederskoot gemaak het,
hulle nie ook gemaak nie?
Het Hy ons nie almal gevorm nie?
16
Het ek armes geweier wat hulle gevra het
en weduwees van honger laat vergaan?
17
Het ek my stukkie kos alleen geëet
en die weeskind nie ook daarvan laat eet nie?
18
Inteendeel, van my jeug af was ek vir die weeskind 'n pa,
van my kindsdae af het ek vir die weduwee gesorg.
19
Het ek 'n arme sonder klere sien rondswerwe
en hom nie iets gegee om aan te trek nie?
20
Het hulle my nie juis geprys
omdat my skape se wol hulle warm gehou het nie?
21
Het ek my hand teen 'n weeskind opgelig
omdat ek kon reken op die partydigheid van die regters?
22
As ek aan iets hiervan skuldig is,
mag my bo-arm afgeskeur word van my skouer af,
mag my arm afgebreek word.
23
Maar vir die ramp wat God nou gestuur het, is ek bang,
teen sy majesteit kan ek niks doen nie.
24
Het ek op goud my vertroue geplaas,
het ek gedink fyn goud sal my sekerheid gee?
25
Het ek al my vreugde gevind in my groot rykdom,
in die besittings wat ek bymekaargemaak het?
26
Het ek die son sien skyn,
die maan in sy prag sien beweeg,
27
en my laat verlei
om hulle te vereer met 'n soen op my hand?
28
Dit sou 'n sonde wees wat gestraf moes word,
want dan sou ek God daarbo verloën het.
29
Het ek my verheug oor die ongeluk van my vyand,
was ek bly as 'n ramp hom tref?
30
Nee, ek het nie met 'n enkele woord gesondig
en hom dood gewens nie.
31
Het die mense in my diens ooit gesê:
‘By Job het ons nie genoeg gekry om te eet nie’?
32
Selfs 'n vreemde het nooit by my buite geslaap nie,
vir 'n reisiger het my deure altyd oopgestaan.
33
Het ek soos ander my oortredinge weggesteek
en my sonde vir myself gehou
34
omdat ek vir die mense bang was
en die minagting van die familie gevrees het?
Het ek stilgebly en dit nie buite gewaag nie?
35
Is daar dan niemand wat na my luister nie!
My saak het ek gestel:
nou moet die Almagtige my antwoord.
36
sou ek dit sonder meer bekend maak;
dit sal nie vir my 'n skande wees nie.
37
Ek kan rekenskap gee van elke tree wat ek gegee het,
ek kan my teëstander met vrymoedigheid tegemoet gaan.
38
As die grond wat ek bewerk, 'n klag teen my het
en sy ploegvore saam sou protesteer,
39
as ek sy opbrengs verteer het sonder vergoeding aan sy eienaars
en hulle van honger laat vergaan het,
40
mag daar dan dorings groei in plaas van koring,
onkruid in plaas van gars.”
1
Toe die drie vriende ophou om Job te antwoord omdat hy volgehou het dat hy onskuldig is,2 het Elihu seun van Barakel, 'n Bussiet uit die familie van Ram, kwaad geword vir Job. Elihu het kwaad geword omdat Job volgehou het dat hy reg het, nie God nie.
3 Elihu was ook kwaad vir die drie vriende van Job omdat hulle Job nie reg geantwoord het nie en nie aangetoon het dat hy skuldig is nie.
4 Terwyl die vriende met Job aan die praat was, het Elihu stilgebly, want hulle was ouer as hy.
5 Maar toe hy merk dat die drie manne Job nie verder antwoord nie, het hy kwaad geword.
6
Elihu seun van Barakel die Bussiet het begin praat: “Ek is jonk, en julle is grysaards.7
Ek het gedink: laat die ouderdom praat,
laat die ervaring sy wysheid meedeel.
8
Maar dit is die gees in die mens
wat die mens insig gee,
die gees wat van die Almagtige af kom.
9
Dit is nie die baie jare wat verstandig maak
en aan oumense insig gee in wat reg is nie.
10
Daarom sê ek: Luister na my,
ek sal ook sê wat ek weet.
11
Ek het julle laat praat,
ek het geluister na julle argumente
om te kyk of julle by die regte antwoord uitkom.
12
My aandag was op julle toegespits,
maar nie een van julle het vir Job behoorlik berispe
of sy argumente weerlê nie.
13
Moet nou net nie sê:
‘Ons het die wysheid gevind;
God, nie 'n mens nie, sal met Job afreken’ nie.
14
Met my het Job nog nie geargumenteer nie,
en met júlle argumente sal ék hom nie pak nie.
15
As die vriende verslae staan,
as hulle niks meer het om te sê nie,
as woorde hulle ontbreek,
16
as hulle nie praat nie,
as hulle daar staan en verder niks sê nie,
moet ek nog langer stilbly?
17
Ek wil ook 'n beurt hê om te praat,
ek wil ook sê wat ek weet.
18
Ek het baie om te sê,
my gees dwing my om te praat.
19
Dit kook in my
soos wanneer wyn nie klaar gegis het nie
en selfs nuwe wynsakke wil laat oopbars.
20
Ek moet praat, ek moet my gemoed lug,
ek moet vir Job begin antwoord.
21
Ek sal niemand voortrek nie,
ek sal vir niemand partydig wees nie.
22
Partydig wees kan ek nie,
want dan sou my Maker my in 'n oogwink laat verdwyn.
1
Luister nou na my, Job,2
Ek gaan nou praat,
my woorde lê al op my tong.
3
Ek gaan reguit praat,
ek gaan eerlik sê wat ek weet.
4
Die Gees van God het my gemaak,
die asem van die Almagtige het my die lewe gegee.
5
Antwoord my as jy kan,
maak jou klaar om my teë te staan.
6
Voor God is ek en jy gelyk,
ook ék is maar net uit klei gevorm.
7
Ek wil jou nie die skrik op die lyf ja nie,
ek sal dit nie vir jou moeilik maak nie.
8
Ek het jou met my eie ore hoor sê,
hier waar ek dit gehoor het, het jy gesê:
9
‘Ek is onskuldig, ek het nie oortree nie,
ek is rein, ek het nie gesondig nie.
10
Tog soek God fout by my,
beskou Hy my as sy vyand.
11
Hy behandel my as 'n gevangene,
Hy hou elke voetstap van my dop.’
12
Ek sê vir jou: Hierin is jy verkeerd;
God is meer as die mens.
13
Waarom beskuldig jy vir God?
Hy hoef nie vir jou rekenskap te gee van sy dade nie.”
14
“God spreek die mens aan,
Hy huiwer nie om dit op meer as een manier te doen nie.
15
Hy praat met die mens in 'n droom, in 'n gesig in die nag,
wanneer die mens diep slaap,
wanneer hy vas slaap op sy bed.
16
Dan openbaar God Hom aan die mens
en dreig dat Hy hom sal straf
17
om hom van verkeerde dade af weg te hou
en hom van hoogmoed te weerhou.
18
God wil die mens nie die graf laat ingaan nie,
Hy wil hom nie laat sterf nie.
19
“Of Hy spreek die mens aan met ernstige siekte,20
sodat alle kos hom walg,
selfs die lekkerste ete.
21
Die vleis aan sy liggaam is so weggevreet
dat jy dit nie meer kan sien nie,
jy sien nou net been.
22
Hy is op pad na sy graf toe,
na dié toe wat klaar dood is.
23
As daar dan 'n engel by hom sou wees,
een uit duisende, wat vir hom pleit,
en vir hom sê wat sy plig is,
24
wat hom jammer kry en sê:
‘Red hom dat hy nie sterf nie,
ek het 'n losprys vir hom,’
25
dan sal sy liggaam weer jonk word,
weer word soos in die dae van sy jeug.
26
Hy sal tot God bid, God sal sy gebed verhoor,
hom met vreugde laat bid,
hom 'n mens maak wat weer reg leef voor God.
27
Dan getuig hy voor die mense:
‘Ek het gesondig, my nie gesteur aan wat reg is nie,
en tog het God my nie gestraf soos ek verdien nie.
28
Hy het my gered, ek het nie gesterf nie,
nou lewe ek weer.’
29
“Dit alles doen God met die mens,30
So keer God die mens weg
van die graf af
en laat Hy hom weer lewe.
31
“Luister, Job, luister na my,32
Of as jy tog iets vir my wil sê,
sê dit dan,
praat, ek sal jou graag gelyk wil gee.
33
Maar as jy niks het om te sê nie, luister na my, bly stil, laat ek jou leer wat wysheid is.”
1
Elihu het voortgegaan:2
“Hoor wat ek te sê het, julle wat die wysheid het,
luister na my, julle wat die kennis het.
3
Die oor toets woorde
soos die verhemelte kos proe.
4
Laat ons uitmaak wat reg is,
self vasstel wat goed is.
5
Job het gesê: ‘Ek is onskuldig,
maar God laat nie aan my reg geskied nie.
6
Al het ek die reg aan my kant,
word ek vir 'n leuenaar gehou.
Al is ek nie skuldig nie,
is ek dodelik getref.’
7
Is daar nog 'n mens soos Job
vir wie laster is soos water drink?
8
Hy maak vriende met dié wat onreg doen,
hy gaan om met die goddeloses.
9
Hy het beweer: ‘Dit baat 'n mens nie
om die wil van God te doen nie.’
10
Maar luister na my, julle wat alles verstaan!
God doen nie verkeerd nie,
die Almagtige begaan nie 'n onreg nie.
11
Hy straf die mens net vir wat hy doen,
Hy laat hom maar net kry wat hy verdien.
12
Dit is vir God werklik onmoontlik om verkeerd te doen,
vir die Almagtige om die reg te verdraai.
13
Het iemand die aarde aan God toevertrou?
Het iemand Hom oor die hele wêreld aangestel?
14
As Hy sou besluit
om sy gees, sy asem, na Hom toe terug te neem,
15
dan sou al wat leef, sterf,
en die mens weer stof word.
16
As jy verstand het, luister hierna,
hoor wat ek te sê het.
17
Iemand wat die reg haat, durf tog nie regeer nie.
Kan jy vir God wat regverdig en magtig is, skuldig vind?
18
Hy sê selfs vir 'n koning:
‘Jy is niks werd nie’
en vir vername mense: ‘Julle is sleg.’
19
Hy is nie partydig vir leiers nie,
Hy bevoordeel die ryke nie bo die arme nie, want Hy het hulle almal gemaak.
20
In 'n oogwink sterf hulle,
in die middel van die nag oorval die doodsvrees hulle,
hulle sterf,
selfs die sterkes verdwyn sonder toedoen van mense.
21
Hy hou die pad van die mens dop
en sien elke tree wat hy gee.
22
Daar is nie 'n donkerte of duisternis
waar dié wat onreg doen, kan wegkruip nie.
23
God hoef nie verder navraag te doen
wanneer 'n mens voor Hom verskyn vir die oordeel nie.
24
Hy hoef nie vooraf ondersoek in te stel
voor Hy sterkes vernietig
en ander in hulle plek aanstel nie.
25
Hy sien alles raak wat hulle doen
en oornag maak Hy dit tot niet.
26
Waar almal dit kan sien,
straf Hy hulle vir hulle goddeloosheid,
27
want hulle het Hom nie bly dien nie
en hulle nie aan sy wil gesteur nie:
28
die armes moes na Hom om hulp roep,
Hy moes luister na die hulpgeroep van mense in nood.
29
“As Hy stilbly, wie kan Hom veroordeel?30
Hy wil nie dat 'n godlose oor mense regeer
en hulle ondergang bewerk nie.
31
“As jy vir God sou sê:32
leer U my wat ek self nie weet nie;
as ek verkeerd gedoen het,
sal ek dit nie weer doen nie,’
33
sal God jou dan nog straf
omdat jy Hom geminag het?
34
Mense met insig, enige verstandige mens
wat my hoor, sal sê:
35
‘Job praat sonder kennis,
sy woorde is sonder insig.’
36
Maar Job moet end-uit getoets word,
want sy argumente is dié
van die goddelose mense.
37
Hy hoop sonde op sonde,
hier tussen ons verlustig hy hom daarin,
hou hy aan met praat teen God.”
1
Elihu het voortgegaan:2
“Dink jy dit handel die saak af
as jy sê: ‘Ek sal my reg van God ontvang’
3
en dan aanhou om te sê: ‘Wat baat dit my,
wat kan ek wen as ek nie sondig nie?’
4
Daarop sal ek jou
en ook jou vriende by jou antwoord.
5
Kyk op, kyk na die hemel,
kyk na die wolke hoog bokant jou:
6
as jy sondig, wat doen dit aan God,
as jy baie keer oortree, hoe raak dit Hom,
7
as jy sonder sonde is, wat baat dit Hom,
wat kry Hy van jou?
8
Jou sonde raak jou medemens
en jou onskuld raak jou medemens.
9
“Mense roep om hulp onder hulle swaar verdrukking,10
Maar hulle vra nie na God, hulle Maker,
na Hom wat selfs in die nag
'n lied kan laat sing nie,
11
na Hom wat aan ons meer verstand gegee het as aan die diere,
meer insig as aan die voëls.
12
Mense roep om hulp,
maar Hy antwoord nie,
want hulle is vol hoogmoed en boosheid.
13
God luister nie na hol woorde nie,
die Almagtige slaan daar geen ag op nie,
14
ook nie as jy sê dat jy Hom nie sien nie,
dat jou saak voor Hom is, dat jy op Hom wag nie,
15
as jy sê Hy straf nie in sy toorn nie,
Hy dra geen kennis van die sonde nie.
16
Job, wat jy praat, is wind,
jy praat en praat, maar sonder kennis.”
1
Elihu het voortgegaan:2
“Wag nog 'n bietjie, laat ek verder met jou praat,
daar is nog argumente vir God se saak.
3
My kennis kom van ver af,
ek wil aantoon dat my Maker regverdig is.
4
Wat ek sê, is nie versinsels nie,
ek weet wat ek praat.
5
God is magtig maar Hy sien op niemand neer nie;
Hy is magtig en sy wysheid is groot.
6
Hy laat die goddeloses nie in die lewe bly nie,
Hy laat reg geskied aan die verdruktes,
7
Hy sorg vir die regverdiges.
Hy laat konings regeer, selfs baie lank.
Maar as hulle hulle verhef,
8
word hulle gevangenes, vasgevang in boeie,
geknel deur swaarkry.
9
So laat God hulle besef wat hulle gedoen het,
hoe hulle gesondig het toe hulle hoogmoedig geword het.
10
Hy laat hulle ag gee op sy bestraffing,
Hy vermaan hulle om hulle van die sonde te bekeer.
11
As hulle luister en Hom dien,
sal hulle hulle dae in voorspoed deurbring,
hulle jare in welvaart.
12
As hulle nie luister nie,
sal hulle sterf,
sal hulle doodgaan omdat hulle nie tot insig wou kom nie.
13
Die godloses hoop die toorn van God
nog meer teen hulle op,
hulle roep selfs nie om hulp as God hulle in boeie laat vasvang nie.
14
Hulle gaan jonk dood,
hulle skandelike lewe is gou verby.
15
Maar God bevry die mense in nood uit hulle ellende,
Hy laat hulle op Hom ag gee in hulle verdrukking.
16
God het jou na Hom toe getrek, weg van gevaar af,
Hy het jou veilig laat lewe,
dit was rustig aan jou tafels vol oorvloed.
17
Maar nou het die oordeel wat die goddelose toekom,
jou voluit getref,
oordeel en straf het jou ingehaal.
18
Moenie dat jou grief jou tot uittarting verlei nie,
moenie jou saak wil regstel met 'n groot omkoopgeskenk nie.
19
Kan hulpgeroep jou help?
Nie in jou ellende nie!
Ook nie al roep jy met al die krag waaroor jy beskik nie.
20
Moenie smag na die donker van die nag,
die tyd wanneer mense sterf nie.
21
Moet ook nie jou toevlug neem tot sonde nie,
jy verkies dit immers bo swaarkry.
22
Die mag van God is groot,
wie kan 'n mens tot insig bring soos Hy?
23
Wie kan van Hom rekenskap eis oor sy dade?
Wie kan sê: ‘U het verkeerd gedoen’?
24
Dink liewer daaraan om sy werk te roem,
sy werk wat deur mense besing moet word.
25
Alle mense kan dit sien,
al neem hulle dit net van ver af waar.
26
God is groot, ons kan sy grootheid nie begryp nie,
sy jare kan nie bereken word nie.
27
Hy trek vog op uit die see,
Hy haal reën uit die groot waters uit,
28
dan giet die wolke water uit,
laat hulle dit op al die baie mense val.
29
Kan iemand verstaan hoe die wolke beweeg
en hoe die weer dreun daar in die woonplek van God?
30
Hy versprei die weerlig deur die lug,
en bedek die bodem van die see.
31
So regeer Hy oor die volke
en gee Hy kos in oorvloed.
32
Hy vat die weerlig in sy hand
en stuur dit op die doelwit af.
33
Die onweer kondig aan dat die storm kom,
die vee snuif die lug op voor die storm losbreek.
1
Dan begin ek bewe2
Hoor hoe bulder die stem van God,
hoe dreun dit uit sy mond!
3
Hy laat dit losbreek in die hemelruim,
Hy laat dit blits tot by die uithoeke van die wêreld,
4
en dan kom die donderslag.
God laat sy magtige stem hoor,
Hy stuur die onweer in volle krag
wanneer Hy sy stem laat hoor.
5
Met sy stem laat God magtige dinge gebeur.
Hy doen groot dade en ons begryp dit nie.
6
Hy beveel die sneeu om op die aarde te val;
die reëns val, stortreëns wat getuig van sy krag.
7
Hy laat alle mensewerk tot stilstand kom
sodat alle mense sy werk kan leer ken.
8
Die diere soek skuiling
en bly in hulle skuilplekke.
9
Die stormwind kom uit sy blyplek,
die yswinde wat koue bring.
10
As God die wind laat waai, ys dit
en vries die groot waters.
11
Hy laat die wolke swaar word van vog,
Hy stuur sy weerligte in die wolke in.
12
Hy laat die wolke in die rondte maal,
hulle doen wat Hy bepaal,
hulle gehoorsaam sy bevele die wêreld oor.
13
God stuur die storm
óf om te straf
óf om vir die aarde te sorg
óf om sy liefde te toon.
14
“Luister hierna, Job,15
Weet jy hoe Hy dit alles voorberei,
hoe Hy die lig deur die wolke laat breek?
16
Weet jy hoe die wolke sweef?
Dit is die wonderlike werk van Hom
wie se kennis volmaak is.
17
Jy wat jou nie eens met klere kan beskerm teen die hitte
wanneer die aarde gloei onder die woestynwind nie,
18
kan jy saam met Hom die hemelruim oopspan,
stewig soos 'n spieël wat gegiet is?
19
Sê jý dan vir ons wat ons vir God moet sê.
In ons onkunde kan óns Hom nie antwoord nie.
20
Moet aan Hom vertel word wat ek sê?
Moet aan Hom meegedeel word wanneer 'n mens praat?
21
“Niemand kon die lig sien nie,22
Uit die noorde kom die goudglans,
die majesteit van God is ontsagwekkend.
23
Ons kan by die Almagtige nie kom nie, sy krag is groot.
Hy laat reg en geregtigheid geskied,
Hy verdruk niemand nie.
24
Daarom dien die mense Hom,
en sien Hy nie dié raak wat dink dat hulle wysheid het nie.”
1
Toe het die Here vir Job aangespreek uit 'n stormwind uit:2
“Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom
met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie?
3
Maak jou reg vir die stryd:
Ek sal vra, antwoord jy My.
4
Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het?
Praat as jy die antwoord het.
5
Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit?
Wie het 'n maatlyn oor hom gespan?
6
Waarop is sy voetstukke neergesit?
Wie het hom aanmekaargesit
7
daardie oggend toe die sterre saamgesing het
en al die hemelinge gejubel het?
8
Wie het die see opgedam
toe hy begin uitborrel het?
9
Ek het hom met wolke bedek,
hom met donkerte toegemaak.
10
Ek het vir hom perke gestel,
hom agter slot en grendel gesit.
11
Ek het gesê: ‘Tot hiertoe mag jy kom, nie verder nie;
hier is die grens van jou magtige golwe.’
12
“Het jy, Job, in jou tyd die môre beveel om te kom?13
die daeraad wat lig oor die hele aarde bring
sodat die goddeloses nie in die donker kan bly skuil nie?
14
Met die daeraad word die vorm van die aarde sigbaar,
dit neem vorm aan soos klere wat aangetrek word.
15
Dan word die goddeloses hulle bestaan ontneem
en word hulle geweld beëindig.
16
Het jy, Job, al gekom by die plek waar die seewater uitborrel,
en rondgestap op die bodem van die diepsee?
17
Het jy die ingang van die doderyk gesien,
die plek van donkerte al bekyk?
18
Kan jy 'n beeld vorm van die groot wye wêreld?
Praat as jy iets daarvan weet.
19
Hoe loop die pad na die plek waar die lig woon?
En die donkerte, waar is sy woonplek?
20
Kan jy die donkerte na sy gebied toe terugvat?
Ken jy die paaie na sy woongebied toe?
21
Jy moet dit weet, jy wat maak of jy toe al gebore was,
of jy 'n lang lewe agter die rug het.
22
Was jy al by die plek waar die sneeu gebêre word?
Het jy al die plek gesien waar die hael gebêre word,
23
wat Ek opgegaar het vir 'n tyd van rampe,
vir die dag as Ek wil oorlog voer?
24
Hoe loop die pad na die plek toe waar die lig sy oorsprong het
en die oostewind oor die aarde begin waai?
25
Wie het vir die stortreën 'n pad oopgekap
en vir die donderwolke hulle koers bepaal
26
sodat dit reën in 'n land waar nie mense is nie,
in 'n woestyn waar niemand woon nie
27
en 'n droë, dor land deurnat word,
sodat daar groen gras uitspruit?
28
Het die reën 'n vader?
Wie het die doudruppels in die wêreld gebring?
29
Wie bring die ys te voorskyn?
Wie bring die ryp in die wêreld?
30
Die water word so hard soos klip,
selfs die oppervlakte van die diepsee verys.
31
Sou jy die Sewester met 'n band kon vasknoop
of die band van Orion kon losmaak?
32
Kan jy die sterre op hulle tyd laat opkom,
kan jy die Beer met sy kleintjies laat uitkom?
33
Weet jy hoe die hemelliggame werk?
Stel jy hulle invloed op die aarde vas?
34
Kan jy jou stem tot by die wolke hoorbaar maak
sodat stortreën jou oordek?
35
Kan jy weerligstrale uitstuur
dat hulle vir jou kom sê: ‘Hier is ons’?
36
Wie gee verstand aan die ibis om teen die vloed te waarsku
of wie gee insig aan die haan om die dag aan te kondig?
37
Wie het die kennis om genoeg wolke bymekaar te bring,
om hierdie waterkruike van die hemel om te keer
38
wanneer die grond kliphard is
en daar net groot kluite lê?
1
Kan jy vir 'n leeu sy prooi vang?2
wanneer hy in sy skuilplek gereed lê,
op die loer lê agter 'n bos?
3
Wie gee vir 'n kraai die kos wat hy nodig het
wanneer sy kleintjies om hulp roep na God,
rondskarrel vir iets om te eet?
4
Ken jy die tyd wanneer die klipspringers lam?
Staan jy en kyk waar die wildsbokke kleintjies kry?
5
Kan jy vir hulle die draagtyd bepaal,
weet jy presies wanneer hulle moet lam?
6
Hulle trek inmekaar, die bokkies word gebore,
die geboortepyne is gou verby.
7
Die lammers groei en word groot in die veld,
hulle gaan weg en kom nie na die ooie toe terug nie.
8
“Wie gee aan die wildedonkie sy vryheid9
Ek het vir hom die oop veld gegee om in te bly,
die brakbossies om in te wei.
10
Hy bekommer hom nie oor die gewoel in die stad nie,
hy hoef nie te luister na die geskreeu van 'n drywer nie.
11
Hy deurkruis die berge vir weiding,
hy snuffel elke groen sprietjie uit.
12
“Sal die buffel gewillig wees om vir jou te werk?13
Kan jy hom inspan en ploegvore met hom trek?
Kan jy hom lei om die land agter jou te eg?
14
Sal jy jou op hom verlaat vir sy reusekrag?
Sal jy dit aan hom oorlaat om vir jou 'n oes te lewer?
15
Sal jy op hom vertrou om jou graan te oes
en op jou dorsvloer bymekaar te bring?
16
“Die vlerke van die volstruis klap vrolik17
maar sy lê haar eiers op die grond
en broei hulle uit op die sand.
18
Sy dink nie daaraan dat hulle stukkend getrap kan word nie,
dat wilde diere haar eiers kan breek nie.
19
Sy maak haar kuikens hard groot, asof hulle nie haar eie is nie;
as haar moeite dan tevergeefs was, skrik dit haar nie af nie.
20
God het nie vir haar wysheid gegee nie,
sy het geen verstand nie,
21
maar wanneer sy met vlerke omhoog hardloop,
lag sy die perd en sy ruiter uit.
22
“Gee jý vir die perd sy krag,23
Het jý gemaak dat hy kan spring soos 'n sprinkaan,
dat hy almal bang maak met sy trotse gesnork?
24
Hy kap die grond met sy pote en trippel rond,
met krag skiet hy vorentoe, die geveg in.
25
Bang wees bestaan vir hom nie, hy skrik nie,
hy deins nie terug vir oorlog nie.
26
In die koker aan sy sy ratel die pyle,
die spies en die swaard blink in die son.
27
Opgewonde en oorgehaal kap-kap hy die grond,
hy kan nie wag vir die blaas van die trompet nie.
28
By die blaas van die trompet runnik hy,
hy weet die geveg kom,
hy ken die offisiere se bevele en hulle krygskrete.
29
“Is dit deur jou insig dat 'n valk vlieg,30
Is dit op jou bevel dat 'n aasvoël hoog opvlieg
en sy nes in die hoogte gaan bou?
31
Hy woon op die rotse, hy bly daar,
op die spits en die kranse.
32
Van daar af soek sy oë na kos,
van ver af sien hy dit.
33
Sy kuikens vreet bloederige vleis,
en waar iets doodgaan, is hy.”
34
Die Here het verder vir Job gesê:35
“Wil jy 'n saak maak teen die Almagtige en Hom bestraf?
Wil jy vir God teregwys? Antwoord Hom dan!”
36
Job het toe vir die Here gesê:37
“Ek is nie opgewasse teen U nie.
Hoe sou ek U kon antwoord?
Ek sal liewer stilbly.
38
Ek het gepraat, maar ek kon nie 'n antwoord vind nie,
ek het weer geprobeer, maar nou sal ek stilbly.”
1
Die Here het weer vir Job aangespreek uit die stormwind uit:2
“Maak jou reg vir die stryd:
Ek sal vra, antwoord jy My.
3
Wil jy my beslissing tot niet maak?
Wil jy My skuldig verklaar sodat jy vrygespreek kan word?
4
Het jy die mag wat Ek het?
Kan jy jou stem uit die onweer laat hoor soos Ek?
5
Tree dan op met jou trots en jou groot mag,
handel in jou majesteit en heerlikheid.
6
Laat brand dan jou gloeiende toorn,
sien elke trotsaard raak en sit hom op sy plek,
7
sien elke trotsaard raak en verneder hom,
trap die goddeloses plat.
8
Begrawe hulle almal,
lê hulle weg in die graf.
9
Dan sal Ek teenoor jou erken
dat jy jou deur jou eie mag kan red.
10
“Kyk die seekoei:11
Daar is krag in sy liggaam,
die spiere in sy lyf is sterk.
12
Sy stert is so reguit soos 'n seder.
Sy boudspiere is inmekaar gevleg.
13
Die bene in sy lyf is soos bronspype,
soos stukke yster.
14
Onder alles wat Ek gemaak het, staan hy eerste,
net sy Maker kan hom verslaan.
15
Die berge lewer vir hom die water
en al die wilde diere speel daar.
16
Hy lê tussen waterplante,
hy skuil tussen die riete in die moeras.
17
Die skaduwee van die waterplante is sy skuiling,
rondom hom is rivierpopuliere.
18
As die rivier sterk word, skrik dit hom nie af nie,
hy bly rustig al styg die Jordaan hoe hoog.
19
Wie kan hom van voor af pak,
wie kan 'n vangtou aan sy neus sit?
20
“Kan jy 'n krokodil met 'n hoek vang21
Kan jy 'n lyn deur sy neus steek
of sy kakebene met 'n hoek vastrek?
22
Sal hy jou soebat om genade
of by jou mooipraat?
23
Sal hy 'n ooreenkoms met jou aangaan
om vir altyd jou slaaf te wees?
24
Sal jy hom kan mak maak soos 'n voëltjie
of kan jy hom met 'n lyn vasmaak vir jou dogtertjies?
25
Sal handelaars oor 'n prys vir hom kan kibbel?
Sal hy onder kopers verdeel kan word?
26
Sal jy harpoene deur sy vel kan gooi
of hom met 'n haak aan die kop kan vang?
27
Pak hom gerus met kaal hande:
jy sal die geveg onthou,
jy sal nie weer probeer nie.
28
Jy sal die slegste daarvan afkom.
Wanneer jy hom sien,
is jy al klaar oorweldig.
1
Hy is wreed as jy hom wakker maak. “Wie wil dan nog teen Mý standhou?2
Wie wil aan Mý eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is?
Alles onder die hemel behoort aan My.
3
“Ek wil nog verder praat oor die krokodil,4
Wie kan sy bek oopmaak?
Wie kan met 'n toom naby sy tande kom?
5
Wie kan sy kakebene oopbreek,
sy kakebene met die verskriklike tande?
6
Op sy rug lê die skubbe in rye
vas aan mekaar gesluit:
7
die een so teen die ander
dat die wind nie daardeur kan waai nie;
8
die een is vas aan die ander,
hulle kleef aan mekaar en kan nie geskei word nie.
9
As hy nies, spat die vonke,
sy oë is so rooi soos die daeraad.
10
Daar kom vuur uit sy bek,
die vonke waai deur die lug.
11
Daar trek rook uit sy neusgate,
soos uit 'n kokende pot op 'n vuur.
12
Sy asem steek vure aan,
daar skiet vlamme uit sy bek.
13
Daar is groot krag in sy nek;
wie hom sien, word deur angs oorval.
14
Sy vleis is saamgepak asof dit aan hom gegiet is,
dit gee nie mee nie.
15
Sy hart is so hard soos klip,
so hard soos 'n maalklip.
16
Sterkes vlug as hy die water roer.
By die eerste rimpeling gee hulle pad.
17
Wie hom met die swaard steek, rig niks uit nie,
ook nie met 'n spies, 'n pyl of 'n assegaai nie.
18
Yster is vir hom soos strooi,
brons soos vrot hout.
19
Met pyl en boog jaag jy hom nie op die vlug nie,
klippe uit 'n slingervel is vir hom niks nie.
20
Aan 'n knopkierie steur hy hom nie,
hy lag as 'n swaard op hom afkom.
21
Die skubbe aan sy onderkant het punte soos potskerwe,
soos 'n dorsslee maak dit merke op die modder.
22
Hy laat die diep water kook soos in 'n pot,
hy laat die water van die meer skuim.
23
Agter hom lê 'n blink streep op die water,
lê die diep water wit van die skuim.
24
Op die grond is niemand sy gelyke nie,
hy is 'n ondier sonder vrees.
25
Hy kyk met minagting na diere groter as hy,
hy is baas selfs oor al die groot diere.”
1
Daarna het Job vir die Here gesê:2
“Nou weet ek dat U tot alles in staat is
en dat U kan uitvoer wat U besluit.
3
Wie is dit wat u bedoelinge wou dwarsboom
sonder dat hy die insig gehad het?
Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie:
u wonderdade was te groot vir my,
ek het dit nie verstaan nie.
4
U het mos gesê: Luister terwyl Ek praat,
Ek sal vra, antwoord jy My.
5
Tot nou toe het ek net gehoor
wat mense van U sê,
maar nou het ek U self gesien,
6
en nou verag ek myself,
nou sit ek vol berou, in sak en as.”
7
Nadat Hy met Job gepraat het, het die Here vir Elifas die Temaniet gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie.8 Vat sewe bulle en sewe ramme en gaan na my dienaar Job toe en offer dit as 'n brandoffer vir julleself. My dienaar Job sal vir julle bid, en Ek sal sy gebed verhoor en julle nie straf vir julle dwaasheid nie. Julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie.”
9
Elifas die Temaniet, Bildad die Suagiet en Sofar die Naämatiet het gedoen wat die Here gesê het, en die Here het Job se gebed verhoor.10 Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here die omstandighede van Job verander en hom twee keer soveel gegee as wat hy gehad het.
11 Al sy broers en susters en sy vriende wat hom vroeër geken het, het gekom en saam met hom in sy huis geëet. Hulle het hulle medelye kom betoon en hom getroos oor al die rampe wat die Here oor hom gebring het. Elkeen het vir hom 'n stuk silwer en 'n goue ring gegee.
12 Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste: hy het veertien duisend stuks kleinvee, ses duisend kamele, twee duisend beeste en 'n duisend donkies gekry,
13 en ook sewe seuns en drie dogters.
14 Die oudste dogter het hy Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde Keren-Puk.
15 Nêrens in die land was daar vroue so mooi soos Job se dogters nie. Hulle pa het hulle saam met hulle broers laat erf.
16 Job het nog honderd en veertig jaar gelewe. Hy het sy kinders en kindskinders tot in die vierde geslag gesien.
17 Job het toe gesterf. Hy was oud en het 'n vol lewe gehad.