1
Dit was in die tyd van Ahasveros. Hy het geregeer oor 'n ryk van honderd sewe en twintig provinsies wat gestrek het van Indië af tot by Kus.2 In die tyd toe sy troon in die vestingstad Susan was,
3 in die derde jaar van sy regering, het hy 'n onthaal gegee vir al sy hoë amptenare en ander in sy diens. Die leëroffisiere van Persië en Medië, die vername mense en die hoë amptenare van die provinsies was teenwoordig.
4 By dié geleentheid het die koning al die rykdom waarmee sy koninkryk kon spog, al die prag en praal daarvan, honderd en tagtig dae lank vertoon.
5 Daarna het die koning almal in die stad Susan, groot en klein, 'n week lank in die paleistuin onthaal.
6 Daar het wit en bloedrooi linnedoeke gehang wat met pers linnetoue vas was aan silwerringe aan marmerpilare. Verder was daar silwer- en goue rusbanke op 'n plaveisel van vier soorte kosbare klip.
7 Wyn is bedien in goue bekers van verskillende ontwerpe en daar was 'n oorvloed koninklike wyn soos 'n mens van 'n koning kon verwag.
8 Op bevel van die koning is niemand gedwing om te drink nie. Hy het al sy paleisbediendes beveel om na elkeen se wens te handel.
9
Koningin Vasti het intussen ook die vrouens onthaal in die paleis van koning Ahasveros.10
Op die sewende dag, toe die koning baie vrolik was van die wyn, het hy sewe paleisbeamptes geroep: Mehuman, Bisseta, Garbona, Bigta, Abagta, Setar en Karkas.11 Hy het hulle beveel om koningin Vasti, met haar kroon op, na hom toe te laat kom sodat hy vir al die mense, al die hoë amptenare, kon wys hoe mooi sy is. Sy was 'n baie mooi vrou.
12
Koningin Vasti het egter geweier om te kom soos die koning haar deur sy paleisbeamptes beveel het. Toe het die koning baie kwaad geword. Hy was woedend13 en het raad gevra by sy adviseurs wat geweet het hoe en wanneer om op te tree, want dit was gebruiklik dat die koning die kenners van wet en reg sou raadpleeg.
14 Karsena, Setar, Admata, Tarsis, Meres, Marsena en Memukan was by die koning. Hulle was die sewe hoofamptenare van Persië en Medië wat direkte toegang tot die koning gehad het en die hoogste poste in die koninkryk beklee het.
15 Hy vra hulle toe: “Wat moet volgens wet gedoen word met koningin Vasti wat nie gehoorsaam was aan die bevel van die koning deur sy paleisbeamptes nie?”
16
Toe sê Memukan vir die koning en die hoë amptenare: “Koningin Vasti het nie net teen die koning verkeerd opgetree nie, maar ook teen al die hoë amptenare en al die mense in al die provinsies van die koning.17 Haar optrede sal bekend word by al die vrouens en sal daartoe lei dat hulle geen ontsag meer vir hulle mans het nie. Hulle sal sê: ‘Koning Ahasveros het beveel dat koningin Vasti voor hom moet verskyn, maar sy het nie gekom nie.’
18 Die vooraanstaande vrouens van Persië en Medië wat van die koningin se optrede gehoor het, sal dit vandag nog aan hulle mans vertel en hulle met minagting behandel. Dit sal die mans woedend maak.
19 As u dit goedvind, vaardig 'n koninklike bevel uit en laat geskryf word in die wette van Persië en Medië, wat nie herroep kan word nie, dat Vasti nie meer voor koning Ahasveros mag verskyn nie en dat hy haar as koningin vervang met iemand wat haar beter sal gedra as sy.
20 As die bevel wat die koning uitvaardig, bekend word oor sy uitgestrekte koninkryk sal elke vrou haar man, belangrik of onbelangrik, met eerbied behandel.”
21
Die koning en sy hoë amptenare het hierdie voorstel goedgevind, en die koning het gedoen wat Memukan gesê het22 en briewe gestuur na al die provinsies, na elke provinsie in sy eie skrif en na elke volk in sy eie taal. Hierin het gestaan dat elke man baas moet wees in sy eie huis en moet optree volgens die gebruik van sy volk.
1
Later, toe die woede van koning Ahasveros bedaar het, het hy nog altyd aan Vasti gedink en aan wat sy gedoen het en wat oor haar besluit is.2
Toe sê die amptenare wat in die koning se persoonlike diens was: “Die koning moet vir hom mooi meisies laat soek.3 Hy moet amptenare aanstel in al die provinsies van sy koninkryk sodat hulle al die mooi meisies bymekaar kan laat kom in die vestingstad Susan in die vrouekwartiere onder die sorg van Hegai, die paleisbeampte wat oor die koning se vrouens toesig hou. Hulle moet skoonheidsbehandeling ontvang,
4 en die meisie van wie die koning die meeste hou, moet in die plek van Vasti koningin word.”
Die koning het dit 'n goeie voorstel gevind en so gemaak.5
In die stad Susan was daar 'n Jood met die naam Mordegai. Hy was uit die stam Benjamin en was 'n seun van Jaïr seun van Simi, seun van Kis.6 Hy was onder die ballinge wat saam met koning Jojagin van Juda uit Jerusalem weggevoer is deur koning Nebukadnesar van Babel.
7 Mordegai het as voog opgetree vir Hadassa, dit is Ester, die dogter van sy oom, want sy was 'n weeskind. Dié meisie was mooi, sy was baie mooi. Ná die dood van haar pa en ma het Mordegai haar as dogter aangeneem.
8
Toe die besluit en bevel van die koning bekend gemaak is, is 'n groot aantal meisies in die stad Susan bymekaargebring onder die sorg van Hegai. Ester is ook na die paleis van die koning toe geneem onder die sorg van Hegai wat oor die koning se vrouens toesig gehou het.9 Die meisie was vir hom mooi en hy het van haar gehou. Hy het haar dadelik die nodige skoonheidsbehandeling gegee en haar die regte dieet laat volg. Ook het hy die sewe bestes van die paleis se kamerpersoneel tot haar beskikking gestel en haar en haar kamerpersoneel na die beste deel van die vrouekwartiere verskuif.
10 Ester het nie haar volksverband en afkoms bekend gemaak nie, want Mordegai het haar belet om dit te doen.
11 Mordegai het elke dag voor die voorhof van die vrouekwartiere heen en weer geloop om agter te kom hoe dit met Ester gaan en wat met haar gaan gebeur.
12
Die skoonheidsbehandeling waaraan die meisies hulle volgens die gebruik moes onderwerp, het twaalf maande lank geduur: behandeling met mirre-olie ses maande, en met lekkerruik-kruie en ander skoonheidsmiddels ses maande. Daarna het elke meisie 'n beurt gekry om na koning Ahasveros toe te gaan.13 Wanneer sy uit die vrouekwartiere na die koning se paleis toe gaan, kon elke meisie alles saamvat wat sy wou.
14 Sy het in die aand in die paleis ingegaan en in die oggend is sy na die tweede stel vrouekwartiere toe onder die sorg van Saäsgas, die paleisbeampte wat oor die koning se byvrouens toesig gehou het. Sy kon nie weer na die koning toe gaan nie, behalwe as hy baie van haar gehou het en sy geroep word.
15
Ester was die dogter van Abigajil, 'n oom van Mordegai wat haar as sy dogter aangeneem het. Toe haar beurt kom om na die koning toe te gaan, het sy niks meer gevra as wat Hegai, die paleisbeampte wat oor die koning se vrouens toesig gehou het, vir haar aanbeveel het nie. Sy het 'n goeie indruk gemaak op almal wat haar gesien het.16 Ester is na koning Ahasveros toe in die paleis geneem in die tiende maand, die maand Tebet, in die sewende regeringsjaar van die koning.
17 Die koning het meer van Ester gehou as van enigeen van die ander vrouens en hy was meer in sy skik met haar as met enige ander jongmeisie. Hy het toe die kroon op haar kop gesit en haar koningin gemaak in die plek van Vasti.
18 Die koning het toe 'n groot onthaal gegee vir al sy hoë amptenare en almal wat in sy diens was, 'n onthaal ter ere van Ester. Hy het die verpligtinge van sy onderdane in al die provinsies verminder en geskenke uitgedeel met koninklike vrygewigheid.
19
In die tyd toe die jongmeisies daar bymekaar was, het nog iets gebeur: Mordegai het in die poort van die koning se paleis gesit,20 en Ester het in dié stadium nog nie haar afkoms en haar volksverband bekend gemaak nie, soos Mordegai haar beveel het; sy het Mordegai se opdrag uitgevoer soos toe sy nog onder sy sorg was.
21 In dié tyd, terwyl Mordegai in die poort van die paleis gesit het, het Bigtan en Teres, twee paleisbeamptes van die koning wat poortwagte was, verbitter geraak en saamgesweer om koning Ahasveros te vermoor.
22 Mordegai het dit te wete gekom en dit aan koningin Ester meegedeel. Ester het dit toe namens Mordegai aan die koning vertel.
23 Die saak is ondersoek en die berig is waar bevind, en die twee manne is aan 'n galg opgehang. Hierdie gebeurtenis is in die annale opgeteken in teenwoordigheid van die koning.
1
'n Tyd daarna het koning Ahasveros vir Haman seun van Hammedata die Agagiet vereer en hom bevorder. Hy het hom oor al sy ander amptenare aangestel.2 Op bevel van die koning moes al die dienaars van die koning wat in die poort van sy paleis was, kniel en aan Haman eer bewys. Mordegai het egter nie gekniel en aan hom eer bewys nie.
3 Die dienaars van die koning wat in die poort van die paleis was, het vir Mordegai gevra: “Waarom oortree jy die bevel van die koning?”
4
Toe hulle dit dag vir dag vir hom vra, en hy hom nie aan hulle steur nie, het hulle dit vir Haman vertel, want hulle wou kyk of Mordegai sou volhard in sy houding. Hy het hulle naamlik laat verstaan dat hy 'n Jood is.5 Toe Haman sien dat Mordegai nie kniel en aan hom eer bewys nie, was hy woedend.
6 Hy het ook gehoor wat Mordegai se volksverband is, en dit was vir hom nie genoeg om vir Mordegai alleen dood te maak nie: Haman het na 'n manier gesoek om al die Jode, die volk van Mordegai, in die hele koninkryk van Ahasveros uit te roei.
7 In die eerste maand, die maand Nisan, in die twaalfde regeringsjaar van koning Ahasveros, is met die Pur, dit is met die lot, in die teenwoordigheid van Haman beslis om 'n geskikte datum te kry om die Jode uit te roei. Die lot het geval op die twaalfde maand, die maand Adar.
8
Toe sê Haman vir koning Ahasveros: “Daar is 'n volk wat versprei is oor al die provinsies van u koninkryk en wat hulle self apart hou van die ander volke. Hulle gebruike verskil van al die ander nasies s'n en hulle gehoorsaam nie die wette van die koning nie. Dit is nie in die koning se belang om hulle te laat begaan nie.9 As u dit goedvind, vaardig 'n proklamasie uit om hulle uit te roei. Ek sal dan drie honderd twee en veertig ton silwer lewer aan u ontvangers van inkomste om dit in die skatkis te plaas.”
10
Toe haal die koning sy seëlring van sy vinger af en gee dit vir die vyand van die Jode, vir Haman seun van Hammedata die Agagiet,11 en sê vir hom: “Die silwer kan jy maar hou en met die volk kan jy maak wat jy wil.”
12
Op die dertiende van die eerste maand is die koning se skrywers ontbied en het hulle alles geskryf wat Haman die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs van elke provinsie en die leiers van elke volk beveel het: aan elke provinsie in sy eie skrif en aan elke volk in sy eie taal. Die proklamasie is geskryf in die naam van koning Ahasveros en verseël met sy ring.13 Briewe is met boodskappers gestuur na al die provinsies van die koning met die opdrag dat al die Jode voor die voet uitgeroei moet word, klein en groot, kind en vrou. Dit moes plaasvind op één bepaalde dag, die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar. Verder moes daar op hulle besittings beslag gelê word.
14 Die proklamasie moes in elke provinsie as wet afgekondig word en moes aan alle mense bekend wees sodat hulle op dié bepaalde dag gereed kon wees.
15 Die boodskappers het toe haastig vertrek ooreenkomstig die koninklike bevel. Die proklamasie is uitgevaardig in die vestingstad Susan. Die koning en Haman het toe gaan sit en drink, maar die stad self was in beroering.
1
Toe Mordegai hoor wat gebeur het, het hy sy klere geskeur en rouklere aangetrek en as op sy kop gegooi. Hy het deur die stad geloop en hard en bitterlik gekerm.2 So het hy tot by die poort van die paleis gegaan. Niemand kon met rouklere aan by die poort ingaan nie.
3
In al die provinsies waar die besluit en die proklamasie van die koning bekend geword het, was daar groot smart onder die Jode. Hulle het gevas en gehuil en gekerm, en baie het rouklere aangetrek en in die as gaan lê.4
Toe koningin Ester se kamerpersoneel en haar paleisbeamptes haar van Mordegai kom vertel, was sy baie ontsteld. Sy het vir hom klere gestuur om aan te trek in die plek van sy rouklere, maar hy wou dit nie vat nie.5 Ester roep toe vir Hatak, een van die koning se paleisbeamptes wat in haar diens was, en beveel hom om na Mordegai toe te gaan en uit te vind wat aangaan en waarom hy so maak.
6
Hatak het na Mordegai toe gegaan op die stadsplein voor die poort van die paleis.7 Mordegai het hom alles vertel wat gebeur het, selfs van die presiese hoeveelheid silwer wat Haman onderneem het om aan die skatkis van die koning te lewer as hy die Jode mag doodmaak.
8 Hy het ook vir Hatak 'n afskrif gegee van die proklamasie wat in Susan uitgevaardig is en waarvolgens die Jode doodgemaak moes word. Hatak moes dit aan Ester wys, haar alles vertel en haar versoek om na die koning toe te gaan. Sy moes hom om genade smeek en vir haar volk intree.
9
Hatak is toe terug na Ester toe en het Mordegai se woorde aan haar oorgedra.10
Sy het toe vir Hatak beveel om vir Mordegai te sê:11 “Al die amptenare van die koning en die mense in die provinsies van die koning weet dat daar net een wet is vir enigeen, man of vrou, wat na die koning toe in die binneste voorhof gaan as hy nie ontbied is nie: hy word sonder meer doodgemaak. Die enigste uitsondering is dat die koning sy goue septer na so 'n persoon toe uitsteek; dan bly hy lewe. En dit is nou al dertig dae dat ek nie na die koning toe ontbied is nie.”
12
Die boodskap van Ester is aan Mordegai oorgedra,13 en hy het haar geantwoord: “Moenie dink net jy van al die Jode sal vrykom omdat jy in die koning se paleis is nie.
14 As jy nóú swyg en daar kom van 'n ander kant af uitkoms en redding vir die Jode, sal jy en jou familie omkom. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op 'n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!”
15
Ester het toe vir Mordegai laat weet:16 “Gaan maak al die Jode wat in Susan is, bymekaar en vas ter wille van my. Julle moet drie dae, dag en nag, niks eet en drink nie. Ek en my kamerpersoneel sal ook vas. Daarna sal ek na die koning toe gaan, al is dit teen die wet. As ek moet omkom, moet ek maar omkom.”
17
Mordegai is toe weg en het alles gedoen wat Ester hom beveel het.1
Op die derde dag het Ester haar koninklike klere aangetrek en in die binneste voorhof van die paleis gaan staan, regoor die ontvangsaal van die koning. Die koning was op die troon in die ontvangsaal regoor die ingang.2 Toe hy koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy hom so bekoor dat hy die goue septer wat in sy hand was, na haar toe uitgesteek het. Ester het nader gekom en die punt van die septer aangeraak.
3 Die koning sê toe vir haar: “Wat kan ek vir jou doen, koningin Ester? Wat is jou versoek? Al is dit ook die helfte van my koninkryk, dit sal vir jou gegee word.”
4
Toe sê Ester: “As u dit goedvind, kom dan vandag saam met Haman na 'n maaltyd toe wat ek vir u voorberei het.”5
Die koning beveel toe: “Bring gou vir Haman dat ons kan doen wat Ester vra.” Die koning en Haman is toe na die maaltyd toe wat Ester voorberei het.6 Terwyl hulle wyn drink, vra die koning vir Ester: “Wat is dit wat jy wil vra? Dit sal vir jou gegee word. Wat is jou versoek? Al is dit ook die helfte van my koninkryk, dit sal toegestaan word.”
7
Ester het geantwoord: “My wens en my versoek is soos volg:8 as die koning my goedgesind is, en as die koning dit goedvind om aan my wens te voldoen en my versoek toe te staan, kom dan môre saam met Haman na die maaltyd toe wat ek vir u sal berei. Dán sal ek my wens aan die koning bekend maak.”
9
Haman het dié dag bly en opgeruimd weggegaan, maar toe hy vir Mordegai in die poort van die paleis sien sit, en Mordegai staan weer nie op om aan hom eer te bewys nie, was hy woedend vir Mordegai.10 Haman het egter sy humeur beteuel en huis toe gegaan. Toe het hy sy vriende en sy vrou Seres laat haal
11 en by hulle gespog oor sy groot rykdom en sy baie seuns, oor al die maniere waarop die koning hom vereer het en oor hoe die koning hom bevorder het bo al die ander hoë amptenare en onderdane van die koning.
12 Verder het Haman gesê: “En dit is nie al nie, koningin Ester het selfs niemand behalwe vir my saam met die koning uitgenooi na die maaltyd wat sy voorberei het nie. Ek is ook vir môre saam met die koning deur haar uitgenooi.
13 En tog bevredig dit alles my nie so lank ek die Jood Mordegai in die poort van die paleis sien sit nie.”
14
Toe sê sy vrou Seres en al sy vriende: “Laat 'n galg van drie en twintig meter hoog bou en beveel môre by die koning aan dat hulle vir Mordegai daaraan moet ophang. Dan kan jy saam met die koning na die maaltyd toe gaan sonder dat iets jou hinder.” Haman het dit 'n goeie voorstel gevind en hy het die galg laat bou.1
Daardie nag kon die koning nie slaap nie en het hy opdrag gegee dat die annale gebring en aan hom voorgelees moet word.2 Daarin is toe opgeteken gevind dat dit Mordegai was wat vir Bigtan en Teres ontmasker het, twee paleisbeamptes van die koning wat poortwagte was en wat saamgesweer het om koning Ahasveros te vermoor.
3 Toe vra die koning: “Watter eerbewys en erkenning het Mordegai hiervoor ontvang?”
Die kamerpersoneel van die koning het geantwoord: “Hy het niks ontvang nie.”4
Toe vra die koning: “Wie is in die voorhof?” Net toe kom Haman aan in die buitenste voorhof van die paleis om by die koning aan te beveel dat Mordegai opgehang moet word aan die galg wat Haman vir hom opgerig het.5 Die dienaars van die koning sê toe vir hom: “Haman staan in die voorhof.”
Toe sê die koning: “Laat hy inkom!”6
Haman het binnegekom en die koning het hom gevra: “Wat moet gedoen word met iemand aan wie die koning baie graag eer wil bewys?” Haman het gedink: aan wie anders as aan my sou die koning eer wou bewys?7
Toe antwoord hy die koning: “Met die man aan wie die koning graag eer wil bewys, moet soos volg gehandel word:8 daar moet 'n koninklike kleed gebring word wat die koning self aangehad het en 'n perd waarop die koning self gery het, 'n perd met die koninklike embleem op sy kop.
9 Die kleed en die perd moet oorhandig word aan een van die hoogste amptenare van die koning, en dié moet die kleed aantrek vir die man aan wie die koning graag eer wil bewys. Die amptenare moet die man dan op die perd oor die stadsplein laat ry en voor hom uitroep: So word gemaak met iemand aan wie die koning graag eer wil bewys!”
10
Toe sê die koning vir Haman: “Vat dadelik die kleed en die perd en maak soos jy voorgestel het met die Jood Mordegai wat in die poort van die paleis sit. Jy moet niks nalaat van wat jy voorgestel het nie.”11
Haman het toe die kleed en die perd gevat, die kleed vir Mordegai aangetrek, hom oor die stadsplein laat ry en voor hom uitgeroep: “So word gemaak met iemand aan wie die koning graag eer wil bewys!”12
Daarna is Mordegai terug na die poort van die paleis toe, maar Haman is haastig huis toe, ontnugter en skaam.13 Hy het vir sy vrou Seres en al sy vriende alles vertel wat met hom gebeur het. Sy raadgewers en sy vrou Seres sê toe: “As dit so is dat Mordegai, voor wie jy hierdie eerste vernedering ondergaan het, tot die Joodse volk behoort, sal jy nie kan standhou voor hom nie. Voor hom sal jy heeltemal ondergaan.”
14
Terwyl hulle nog met hom praat, kom die paleisbeamptes van die koning en neem vir Haman vinnig na die onthaal toe wat Ester voorberei het.1
Die koning en Haman het by koningin Ester gekom om saam met haar te eet.2 Terwyl hulle by hierdie tweede geleentheid besig was om wyn te drink, vra die koning weer vir Ester: “Wat is dit wat jy wil vra? Dit sal vir jou gegee word. Wat is jou versoek? Al is dit ook die helfte van die koninkryk, dit sal toegestaan word.”
3
Koningin Ester antwoord toe: “As die koning my goedgesind is, en die koning dit goedvind, laat my en my volk toe om te bly lewe. Dit is my wens en my versoek.4 Ek vra dit, want ons, ek en my volk, is verkoop om voor die voet uitgeroei te word. Was ons maar net as slawe en slavinne verkoop, sou ek stilgebly het, want dan sou die ramp nie soveel skade aan die koning se belange veroorsaak het nie.”
5
Toe vra koning Ahasveros vir koningin Ester: “Wie is dit wat so iets beplan, en waar is hy?”6 en Ester antwoord: “Die teëstander en vyand is hierdie lae mens, hierdie Haman.”
Haman het groot geskrik daar in teenwoordigheid van die koning en koningin.7 Die koning het woedend van die ete af opgestaan en na die tuin van die paleis toe gegaan. Haman het egter bly staan om by koningin Ester om sy lewe te smeek, want hy het gesien dat die koning klaar oor sy ondergang besluit het.
8 Net toe Haman neerval op die rusbank waarop Ester sit, kom die koning uit die tuin van die paleis terug in die saal waar die maaltyd gegee is. Toe sê die koning: “Wil jy nou ook nog die koningin hier by my in die paleis aanrand?”
Skaars het die koning dit gesê, of sy dienaars het vir Haman kom blinddoek.9 Garbona, een van die koning se paleisbeamptes, sê toe: “Daar is mos reeds by Haman se huis 'n galg van drie en twintig meter hoog wat hy laat oprig het vir Mordegai wat destyds in belang van die koning gepraat het.”
Toe sê die koning: “Hang hom daaraan op!”10
Hulle het Haman toe opgehang aan die galg wat hy vir Mordegai laat bou het. Daarna het die woede van die koning bedaar.1
Dieselfde dag het koning Ahasveros die eiendom van Haman, die vyand van die Jode, vir koningin Ester gegee. Ester het aan die koning vertel hoe Mordegai aan haar verwant is, en hy het toe voor die koning verskyn.2 Die koning het sy seëlring afgehaal wat hy by Haman teruggevat het, en dit aan Mordegai gegee. Ester het toe vir Mordegai oor die eiendom van Haman aangestel.
3
Ester het weer met die koning gepraat. Sy het voor hom gekniel, gehuil en hom om genade gesmeek. Sy het hom gevra om die bose plan wat Haman die Agagiet teen die Jode beraam het, ongedaan te maak.4 Die koning het die goue septer na Ester toe uitgesteek, en sy het voor hom gaan staan
5 en gesê: “As die koning dit goedvind, as u my goedgesind is, en as dit vir u reg lyk en u van my hou, laat skryf dan ander briewe om die briewe met die plan van Haman seun van Hammedata die Agagiet te herroep. Hy het daarin geskrywe dat die Jode in al die provinsies van u ryk uitgeroei moet word.
6 Hoe sou ek kon toekyk as my volk deur so 'n ramp getref word? Hoe sou ek kon toekyk as my familie uitgeroei word?”
7
Koning Ahasveros het toe vir koningin Ester en vir die Jood Mordegai gesê: “Kyk, ek het Haman se eiendom vir Ester gegee en hom laat ophang aan die galg omdat hy die Jode wou uitroei.8 Skryf julle dan nou maar wat julle goeddink aan die Jode. Skryf dit in my naam en verseël dit met my seëlring. 'n Proklamasie wat in die naam van die koning geskryf is en met sy seëlring verseël is, kan egter nie herroep word nie.”
9
Toe is die skrywers van die koning dadelik ontbied. Dit was op die drie en twintigste van die derde maand, die maand Siwan. Hulle het alles neergeskryf wat Mordegai die Jode, die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs en die leiers in die honderd sewe en twintig provinsies van Indië af tot by Kus wou beveel. Hulle het aan elke provinsie in sy eie skrif geskryf en aan elke volk in sy eie taal. Ook aan die Jode het hulle in hulle eie skrif en taal geskryf.10 Mordegai het geskryf in die naam van koning Ahasveros en die briewe verseël met die seëlring van die koning. Die briewe is uitgestuur met boodskappers op resiesperde uit die koninklike stalle.
11 Die briewe het gelui dat die koning aan die Jode in alle stede die reg gee om bymekaar te kom en hulle te verdedig. Hulle kon enige gewapende mag van enige volk of provinsie deur wie hulle bedreig word, voor die voet uitroei, ook kinders en vrouens, en op almal se besittings beslag lê.
12 Dit alles kon hulle doen in al die provinsies van koning Ahasveros op één bepaalde dag, die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar.
13 Die proklamasie moes in elke provinsie as wet afgekondig word en moes aan alle mense bekend wees, sodat die Jode op dié bepaalde dag gereed kon wees om hulle op hulle vyande te wreek.
14
Die boodskappers op die perde uit die koninklike stalle het toe baie haastig vertrek ooreenkomstig die koninklike bevel. Die proklamasie is uitgevaardig in die vestingstad Susan.15 Mordegai het van die koning af weggegaan in 'n koninklike kleed van blou en wit linne, met 'n groot goue kroon op, en 'n mantel van fyn linne en pers stof aan. Die stad Susan het gejubel en gejuig.
16 Vir die Jode was daar weer lig en vreugde en blydskap en 'n gevoel van eiewaarde.
17 In elke provinsie en in elke stad, orals waar die besluit en proklamasie van die koning bekend geword het, was daar vreugde en blydskap onder die Jode. Hulle het maaltye gehou en feesgevier. Ook het baie mense uit die ander volksgroepe Jode geword omdat hulle skrikbevange was vir die Jode.
1
Die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar, het aangebreek. Dit was die dag waarop die besluit en proklamasie van die koning moes uitgevoer word, die dag waarop die vyande van die Jode gehoop het om hulle te oorweldig. Die omgekeerde het egter gebeur: die Jode het hulle vyande oorweldig.2 Die Jode het bymekaargekom in hulle stede in al die provinsies van koning Ahasveros om hulle te verdedig teen almal wat hulle ondergang soek. Niemand kon voor hulle standhou nie, al die volke was skrikbevange vir hulle.
3 Al die leiers in die provinsies, die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs en die ander in diens van die koning het die Jode gesteun omdat hulle bang was vir Mordegai,
4 want hy het 'n hoë posisie aan die hof beklee. Dit het deur al die provinsies bekend geword dat hierdie Mordegai al hoe meer mag gekry het.
5
Die Jode het onder al hulle vyande 'n groot slagting met die swaard aangerig, hulle het hulle doodgemaak en uitgeroei. Hulle het met almal wat vir hulle haat, gemaak wat hulle wou.6 In die vestingstad Susan het die Jode vyf honderd man doodgemaak.
7 Hulle het ook vir Parsandata, Dalfon, Aspata,
8 Porata, Adalja, Aridata,
9 Parmasta, Arisai, Aridai en Wajesata,
10 die tien seuns van Haman, seun van Hammedata en vyand van die Jode, doodgemaak. Op hulle besittings het hulle egter nie beslag gelê nie.
11
Dieselfde dag nog het die koning berig gekry van die getal mense wat in die stad Susan doodgemaak is.12 Hy sê toe vir koningin Ester: “In die stad Susan het die Jode vyf honderd man doodgemaak, en ook die tien seuns van Haman. Wat sou hulle nog in die ander provinsies van my ryk gedoen het! Is daar iets wat jy nog wil vra? Dit sal aan jou gegee word. Het jy 'n verdere versoek? Dit sal uitgevoer word.”
13
Ester sê toe: “As die koning dit goedvind, laat die Jode in Susan toe om ook môre te doen wat hulle vandag kon doen. En laat die lyke van die tien seuns van Haman aan die galg ophang.”14
Die koning het bevel gegee dat dit gedoen moet word, en so 'n proklamasie is in Susan uitgevaardig. Ook is die lyke van die tien seuns van Haman opgehang.15 Die Jode in Susan het toe ook op die veertiende van die maand Adar bymekaargekom. Hulle het in Susan nog drie honderd man doodgemaak, maar nie op hulle besittings beslag gelê nie.
16
Die Jode in die ander provinsies van die ryk het intussen bymekaargekom en hulle verdedig. Hulle het die bedreiging deur hulle vyande afgeweer en van hulle haters vyf en sewentig duisend man doodgemaak, maar nie op hulle besittings beslag gelê nie.17 Dit het gebeur op die dertiende van die maand Adar. Op die veertiende van die maand het hulle gerus en dit 'n dag van feesviering en vreugde gemaak.
18 Die Jode in Susan het egter op die dertiende én op die veertiende van die maand bymekaargekom. Hulle het eers op die vyftiende van die maand gerus en dit 'n dag van feesviering en vreugde gemaak.
19 Daarom maak die Jode op die platteland en dié wat in die klein dorpies woon, die veertiende van die maand Adar 'n dag van vreugde en feesviering, 'n feesdag waarop hulle aan mekaar eetgoed stuur.
20
Mordegai het hierdie gebeure laat neerskryf en briewe gestuur aan al die Jode in al die provinsies van koning Ahasveros, naby en ver,21 en die Jode gelas om voortaan elke jaar die veertiende en die vyftiende van die maand Adar te vier
22 as dae waarop die Jode die bedreiging deur hulle vyande afgeweer het. Dit is die maand waarin hulle angs in blydskap verander het en hulle rou in feestelikheid. Hulle moes dit dae van feesviering en vreugde maak en aan mekaar eetgoed en aan die armes geskenke stuur.
23
So het die Jode na aanleiding van Mordegai se brief aan hulle die gebruik waarmee hulle begin het, as 'n vaste gebruik aanvaar.24 Haman seun van Hammedata die Agagiet en vyand van al die Jode, het naamlik planne gemaak om die Jode uit te roei, en hy het met die Pur, dit is met die lot, beslis om 'n geskikte dag te kry waarop hy verskrikking oor hulle sou bring en hulle sou uitroei.
25 Toe dit egter aan die koning bekend word, het hy skriftelik opdrag gegee dat Haman self die slagoffer moet word van die bose plan wat hy teen die Jode beraam het. Hy en sy seuns is aan die galg opgehang.
26 Dit is waarom hierdie feesdae Purim genoem word, na die woord Pur. Na aanleiding van alles wat in daardie brief van Mordegai geskryf is en wat hulle self van die gebeure gesien en belewe het,
27 het die Jode dit op hulle geneem en hulle en hulle nakomelinge en almal wat by hulle sou aansluit, onherroeplik verbind om voortaan elke jaar hierdie twee dae te vier. Dit moes telkens op die voorgeskrewe wyse en op die voorgeskrewe tyd plaasvind.
28 Hierdie dae moes herdenk en gevier word in elke geslag en in elke familie, in elke provinsie en in elke stad. Hierdie dae van die Purim mag nie afgeskaf word onder die Jode nie en hulle nakomelinge mag nooit daarvan vergeet nie.
29
Koningin Ester, dogter van Abigajil, en die Jood Mordegai het met hulle volle gesag in 'n tweede brief die reëlings oor die Purim bevestig.30 Mordegai het briewe gestuur aan al die Jode in die honderd sewe en twintig provinsies van koning Ahasveros, hulle voorspoed toegewens en hulle van sy goeie trou verseker.
31 Hy het hulle gelas om hierdie dae van die Purim op die vasgestelde tyd te hou, soos hy, die Jood Mordegai, en koningin Ester dit vir hulle bepaal het, en soos hulle hulleself en hulle nakomelinge daartoe verbind het. Daar was ook voorskrifte oor hoe hulle moes vas en na God om hulp moes roep.
32 Dit was op Ester se bevel dat die voorskrifte vir hierdie Purimdae vasgestel is. Dit is toe in 'n boek neergeskryf.
1
Koning Ahasveros het die vasteland sowel as die eilande dwangarbeid laat doen.2 Al die groot en magtige dinge wat hy gedoen het en die volle verhaal oor die hoë pos waarin hy vir Mordegai bevorder het, is opgeteken in die annale van die konings van Medië en Persië.
3 Die Jood Mordegai was tweede in bevel onder koning Ahasveros. Hy was hoog in aansien by die Jode en gewild by al sy volksgenote. Hy het hom vir die welvaart van sy mense beywer en die veiligheid van al hulle nakomelinge verseker.