1
In die eerste regeringsjaar van koning Kores van Persië is die belofte vervul wat die Here by monde van Jeremia uitgespreek het: die Here het koning Kores van Persië laat besluit om dwarsoor sy ryk 'n proklamasie te laat afkondig. Die proklamasie, wat ook skriftelik was, het soos volg gelui:2
“Koning Kores van Persië maak bekend: Die Here die God van die hemel het al die koninkryke van die aarde aan my gegee. Hy het my beveel om vir Hom 'n tempel in Jerusalem in Juda te bou.3 Enigiemand onder julle wat aan sy volk behoort — mag sy God by hom wees — mag na Jerusalem in Juda toe gaan en die tempel gaan bou vir die Here die God van Israel. Hy is God in Jerusalem.
4 Elkeen wat van dié volk nog oor is, waar hy ook al tydelik gewoon het, moet deur die mense van sy omgewing voorsien word van die nodige silwer, goud, gebruiksgoed en vee, tesame met 'n vrywillige gawe vir die tempel van God in Jerusalem.”
5
Die familiehoofde van Juda en Benjamin, asook die priesters en die Leviete, elkeen in wie God die voorneme gegee het, het toe klaargemaak om die huis van die Here in Jerusalem te gaan bou.6 Al hulle bure het hulle hande gesterk deur silwerware en goud, gebruiksgoed, vee en allerlei kosbaarhede te gee, bo en behalwe al die vrywillige gawes.
7 Koning Kores het ook die goed laat haal wat in die huis van die Here was en wat Nebukadnesar uit Jerusalem weggevat en in die tempel van sy god gesit het.
8 Koning Kores van Persië het dit aan Mitredat, die sekretaris van die tesourie, laat oorhandig, en dié het 'n lys daarvan gemaak vir Sesbassar, hoof van die stam Juda.
9 Die volgende stukke was op die lys: 30 goue bakke, 1 000 silwerbakke, en — toe dit weer getel is — nog 29 by,
10 30 goue komme, 410 silwerkomme na hertelling, en 'n 1 000 ander stukke.
11 Daar was altesame 5 400 stukke goud en silwer. Sesbassar het alles saamgevat toe hy die ballinge van Babel af na Jerusalem toe gebring het.
1
Hier volg 'n opgawe van die mense uit die provinsie Juda wat uit die ballingskap teruggekom het na Jerusalem en Juda toe, elkeen na sy eie stad toe. Hulle is na Babel toe weggevoer deur koning Nebukadnesar van Babel,2 en hulle het teruggekom saam met Serubbabel, Jesua, Nehemia, Seraja, Reëlaja, Mordegai, Bilsan, Mispar, Bigwai, Regum en Baäna. Die getalle van die mense van die volk Israel was soos volg:
3
Ingedeel volgens families: Paros 2 172,4 Sefatja 372,
5 Arag 775,
6 Pagat-Moab, uit die families van Jesua en Joab, 2 812,
7 Elam 1 254,
8 Sattu 945,
9 Sakkai 760,
10 Bani 642,
11 Bebai 623,
12 Asgad 1 222,
13 Adonikam 666,
14 Bigwai 2 056,
15 Adin 454,
16 Ater, uit die familie van Hiskia, 98,
17 Besai 323,
18 Jora 112,
19 Gasum 223,
20 Gibbar 95.
21
Ingedeel volgens plek van herkoms: Betlehem 123,22 Netofa 56,
23 Anatot 128,
24 Bet-Asmawet 42,
25 Kirjat-Jearim, Kefira en Beërot 743,
26 Rama en Geba 621,
27 Mikmas 122,
28 Bet-El en Ai 223,
29 Nebo 52,
30 Magbis 156,
31 nog 'n Elam 1 254,
32 Garim 320,
33 Lod, Gadid en Ono 725,
34 Jerigo 345,
35 Senaä 3 630.
36
Priesterfamilies: Jedaja, uit die huis van Jesua, 973,37 Immer 1 052,
38 Pasgur 1 247,
39 Garim 1 017.
40
Levitiese families: Jesua en Kadmiël, uit die Hodaujagroep, 74,41 sangers uit die Asafgroep 128,
42 poortwagte uit die families van Sallum, Ater, Talmon, Akkub, Gatita en Sobai, almal saam 139.
43
Tempelslawe met hulle families: Siga, Gasufa, Tabbaot,44 Keros, Sia, Padon,
45 Lebana, Gagaba, Akkub,
46 Gagab, Salmai, Ganan,
47 Giddel, Gagar, Reaja,
48 Resin, Nekoda, Gassam,
49 Ussa, Paseag, Besai,
50 Asna, Meünim, Nefusim,
51 Bakbuk, Gakufa, Gargur,
52 Baslut, Megida, Garsa,
53 Barkos, Sisera, Temag,
54 Nesiag en Gatifa.
55
Nakomelinge van die dienaars van Salomo, met hulle families: Sotai, Soferet, Peruda,56 Jala, Darkon, Giddel,
57 Sefatja, Gattil, Pokeret-Sebajim en Ami.
58
Al die tempelslawe en die nakomelinge van die dienaars van Salomo was saam 392.59
Uit Tel-Melag, Tel-Garsa, Kerub-Addan en Immer het mense teruggekom wat nie uit hulle familieverband en afstamming kon aantoon dat hulle deel van Israel is nie.60 Dit was die families van Delaja, Tobija en Nekoda, altesaam 652 mense.
61
Van die priesterfamilies was daar ook nog dié van Gabaja, Kos en Barsillai, dié Barsillai wat getroud is met 'n dogter van die Gileadiet Barsillai en toe na hom vernoem is.62 Hierdie families het probeer vasstel of hulle in die registers opgeneem is, maar daar kon niks gevind word nie, en hulle is uit die priesteramp onthef.
63 Die amptenaar wat met dié sake belas was, het beslis dat hulle nie van die gewyde gawes mag eet voordat 'n priester uitsluitsel gegee het met die urim en tummim nie.
64
Die hele gemeente was in totaal 42 360,65 afgesien van hulle slawe en slavinne; dié was 7 337. Dan was daar ook nog 200 sangers en sangeresse.
66
Die mense het 736 perde, 245 muile,67 435 kamele en 6 720 donkies gehad.
68
Met hulle aankoms by die tempelterrein in Jerusalem het 'n aantal familiehoofde vrywillige bydraes gegee vir die oprigting van die huis van die Here op sy oorspronklike plek.69 Hulle het volgens hulle vermoë vir die boufonds gegee, iets meer as 'n halwe ton goud, byna drie ton silwer en honderd stelle priesterklere.
70
Die priesters, die Leviete en 'n deel van die volk, asook die sangers, die poortwagte en die tempelslawe het hulle gevestig in die stede waar hulle vandaan gekom het. So het die hele Israel gedoen.1
Toe die sewende maand aanbreek, was die Israeliete dus oral in die stede. Hulle het egter soos een man in Jerusalem bymekaargekom,2 en daar het Jesua seun van Josadak en sy ampsgenote die priesters, en Serubbabel seun van Sealtiël en sy helpers die altaar van die God van Israel weer opgebou. Die altaar was bedoel vir die brandoffers soos dit voorgeskryf is in die wet van Moses, die man van God.
3 Ten spyte van hulle vrees vir die ander bevolkingsgroepe in die land het hulle die altaar op sy oorspronklike plek opgerig en daarop brandoffers vir die Here gebring, soggens en saans.
4 Hulle het ook die huttefees gevier soos dit voorgeskryf is en elke dag die vasgestelde hoeveelheid brandoffers gebring.
5 Behalwe die gereelde brandoffers het hulle van toe af ook die offers by die nuwemaansfeeste en al die vasgestelde gewyde feeste van die Here gebring, en ook elkeen se vrywillige offers aan die Here.
6 Hulle het brandoffers vir die Here begin bring op die eerste dag van die sewende maand.
Die fondamente van die tempel van die Here was nog nie gelê nie.7 Hulle het toe klipkappers en ander vakmanne gehuur en die Sidoniërs en Tiriërs met kos, drank en olie betaal om uit die Libanon sederhout met die see langs na Joppe toe te bring. Dit was in ooreenstemming met die vergunning van koning Kores van Persië.
8
In die tweede jaar na hulle aankoms by die tempelterrein in Jerusalem, in die tweede maand, het Serubbabel seun van Sealtiël, Jesua seun van Josadak, en hulle helpers, die priesters, die Leviete en almal wat uit die ballingskap na Jerusalem toe teruggekom het, met die werk begin. Hulle het die Leviete van twintig jaar en ouer aangestel om toesig te hou oor die werk aan die huis van die Here.9 Jesua, sy seuns, sy ampsgenote, die Judeërs Kadmiël en sy seuns, en ook die Leviete uit die nageslag van Genadad met hulle seuns en ampsgenote was saam in bevel van die mense wat die werk aan die tempel moes uitvoer.
10
Toe die bouers die fondamente van die tempel van die Here klaar gelê het, het die priesters in ampsdrag reggestaan met trompette, en die Leviete van die Asafgroep met simbale, om die Here te loof soos koning Dawid van Israel bepaal het.11 Hulle het die Here begin loof en dank: “Want Hy is goed, aan sy liefde vir Israel is daar geen einde nie.”
Die hele volk het dit tot lof van die Here uitgejubel, want die fondamente van die huis van die Here was gelê.12 Baie van die oueres onder die priesters, die Leviete en die familiehoofde wat nog die eerste tempel geken het, het hardop aan die huil gegaan toe hulle sien hoe die fondamente van hierdie tempel gelê word. Baie ander het luidkeels van vreugde gejubel.
13 Niemand kon die gehuil tussen die blye gejubel deur hoor nie, so hard het die mense gejubel. Dit kon van ver af gehoor word.
1
Vyande van Juda en Benjamin het gehoor dat die ballinge besig is om 'n tempel te bou vir die Here die God van Israel.2 Hulle kom toe na Serubbabel en die familiehoofde toe en sê vir hulle: “Laat ons saam met julle bou. Ons vereer dieselfde God as julle. Ons bring vir Hom offers van die tyd van koning Esarhaddon van Assirië af deur wie ons hiernatoe gebring is.”
3
Maar Serubbabel en Jesua en die ander familiehoofde van Israel het vir hulle gesê: “Julle bou nie saam met ons aan die tempel van ons God nie. Ons alleen sal vir die Here die God van Israel bou. Ons het die opdrag van die koning self gekry, koning Kores van Persië.”4
Die nie-Israelitiese inwoners van die omgewing het toe die volk van Juda probeer moedeloos en bang maak om met die bouwerk aan te gaan.5 Hulle het selfs amptenare omgekoop om die bouplanne in die wiele te ry. Dit het aangehou van die tyd van koning Kores van Persië af tot die regeringstyd van koning Darius van Persië.
6 Aan die begin van die regering van Ahasveros het hulle selfs 'n geskrewe klag teen die inwoners van Juda en Jerusalem ingedien.
7
In die regeringstyd van koning Artasasta van Persië het Bislam saam met Mitredat, Tabeël en sy ander bondgenote 'n brief aan die koning geskrywe. Die dokument was in die Aramese skrif en in die Aramese taal.8
Later het die hoofamptenaar Regum en die sekretaris Simsai 'n skrywe teen Jerusalem aan koning Artasasta gerig.9 Die skrywe was in die naam van die hoofamptenaar Regum, die sekretaris Simsai en die res van hulle bondgenote, die regters, die goewerneurs, die amptenare uit Persië, Erek, Babel en Susan, dit is Elam,
10 en die mense van die ander volke wat deur die groot en beroemde Asenappar weggevoer is en gevestig is in die stede van Samaria en in die res van Wes-Eufraat.
11 Hier is 'n afskrif van die brief wat hulle aan die koning gestuur het:
“Aan koning Artasasta. “Van u onderdane, die mense van Wes-Eufraat.12
“Ons bring tot die koning se kennis dat die Judeërs wat daar van u af na ons toe getrek het, nouliks in Jerusalem aangekom het of hulle het begin om dié rebelse, slegte stad te herbou. Hulle is besig om die mure op te bou. Die fondamente is klaar gelê.13 Nou moet die koning daarvan kennis neem dat as hierdie stad herbou en sy mure herstel is, hulle nie belasting, heffing of tol sal betaal nie. Die koning sal skade ly aan inkomste.
14 Ons het 'n plig teenoor die paleis en dit pas ons nie om toe te sien dat die koning in sy eer aangetas word nie. Daarom laat ons die koning weet
15 dat as u in die annale van u voorgangers laat soek, u daar sal vind dat hierdie stad 'n rebelse stad was wat konings en provinsiale owerhede skade laat ly het. Van ouds af is daar revolusie gestook. Dit is waarom die stad verwoes is.
16 Ons bring tot die koning se kennis dat as dié stad herbou en sy mure herstel word, daar vir u in Wes-Eufraat niks sal oorbly nie.”
17
Die koning het soos volg geantwoord: “Aan die hoofamptenaar Regum, die sekretaris Simsai en hulle bondgenote wat in Samaria en die res van Wes-Eufraat woon: Voorspoed!18
“Die skrywe wat julle aan ons gestuur het, is vertaal en aan my voorgelees.19 Op my bevel is daar ondersoek gedoen en gevind dat daardie stad van ouds af teen konings in opstand was. Daar is voortdurend rebellie en revolusie gestook.
20 Magtige konings het oor Jerusalem geregeer en gesag uitgeoefen oor die hele Wes-Eufraat. Daar is belasting, heffing en tol aan hulle betaal.
21 Gee dus opdrag dat daardie manne gekeer word. Daardie stad mag nie herbou word voor ek opdrag gee nie.
22 Sorg dat julle nie nalatig is in dié saak nie, sodat die koningshuis nie nog groter skade ly nie.”
23
Toe 'n afskrif van die brief van koning Artasasta voorgelees is aan Regum en aan die sekretaris Simsai en hulle bondgenote, is hulle haastig Jerusalem toe, na die Judeërs toe, en het hulle die werk met mag en geweld tot stilstand gebring.24
Die werk aan die tempel in Jerusalem is gestaak, en dit het bly lê tot die tweede regeringsjaar van koning Darius van Persië.1
In dié tyd het twee profete opgetree, Haggai en Sagaria seun van Iddo. Hulle het die Judeërs in Juda en Jerusalem aangespreek in die Naam van die God van Israel.2 Daarna het Serubbabel seun van Sealtiël, en Jesua seun van Josadak weer begin bou aan die tempel in Jerusalem. Die profete van God het hulle bygestaan en hulle ondersteun.
3
Toe het goewerneur Tattenai van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en hulle bondgenote na die Judeërs toe gekom en vir hulle gevra: “Van wie het julle opdrag gekry om dié tempel te herbou en sy timmerasie op te sit?”4 Verder wou hulle weet: “Wat is die name van die manne wat dié gebou herstel?”
5
Maar God het 'n oog gehou oor die Judese leiers, en die werk is toegelaat om aan te gaan tot tyd en wyl daar aan Darius verslag gedoen is en daar van hom 'n beslissing oor die saak ontvang is.6
Hier volg nou 'n afskrif van die brief wat goewerneur Tattenai van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en hulle ampsgenote, die goewerneurs in Wes-Eufraat, aan koning Darius gestuur het.7 Hulle het aan hom verslag gedoen en soos volg geskryf:
“Aan koning Darius. Alle voorspoed!8
“Ons bring tot die koning se kennis dat ons na die provinsie Juda toe gegaan het en daar by 'n groot tempel uitgekom het. Dit word gebou van gekapte klip en die balke word al op die mure gelê. Die werk word met ywer gedoen en vorder vinnig.9 Ons het toe by die mense wat die leiding neem, navraag gedoen. Ons het vir hulle gesê: ‘Van wie het julle opdrag gekry om dié tempel te bou en sy timmerasie op te sit?’
10 Ons het ook hulle name gevra om vir u inligting op skrif te stel watter manne hulle leiers is.
11
“Hulle het ons soos volg geantwoord: Ons is dienaars van die God van die hemel en die aarde. Ons is besig om die tempel te herbou wat vroeër baie jare hier gestaan het. Dit is deur 'n groot koning van Israel opgerig en voltooi.12 Maar ons voorvaders het die toorn van die God van die hemel op hulle laat kom, en Hy het hulle oorgegee in die mag van die Galdeër koning Nebukadnesar van Babel wat die tempel verwoes het en die volk na Babel toe weggevoer het.
13 Koning Kores van Babel het egter in sy eerste regeringsjaar opdrag gegee dat die tempel herbou moet word.
14 Koning Kores het ook die goue en die silwergoed wat aan die tempel behoort en wat Nebukadnesar uit die tempel in Jerusalem verwyder en in die tempel van Babel laat sit het, weer uit die tempel in Babel laat haal en dit aan Sesbassar oorhandig, die man wat hy as goewerneur aangestel het.
15 Sy opdrag aan Sesbassar was: ‘Vat hierdie goed terug na die tempel toe in Jerusalem en bou die tempel weer op sy oorspronklike plek.’
16 Dié Sesbassar het toe gekom en die fondamente van die tempel in Jerusalem gelê. Van daardie tyd af tot nou toe word daar gebou, maar dit is nog nie klaar nie.
17
“As die koning dit dan nou goedvind, laat ondersoek doen in die koninklike argief daar in Babel en stel vas of dit so is dat koning Kores opdrag gegee het dat hierdie tempel in Jerusalem weer gebou moet word. Laat ons dan weet wat die koning se beslissing is.”1
In opdrag van koning Darius is daar toe ondersoek gedoen in die argiewe in Babel waar die dokumente gebêre word,2 en in Agmeta die hoofstad van die provinsie Medië is daar so 'n geskrif gevind. Daarin het gestaan:
“Proklamasie:3
“In sy eerste regeringsjaar het koning Kores 'n bevel uitgevaardig in verband met die tempel in Jerusalem. Die tempel moet herbou word as 'n plek waar offers gebring word. Die fondamente moet versterk word en die gebou moet dertig meter hoog en dertig meter breed wees,4 met telkens drie lae gekapte klip en een laag hout. Die koste moet gedra word deur die koninklike skatkis.
5 Die goue en die silwergoed wat aan die tempel behoort en wat Nebukadnesar uit die tempel in Jerusalem verwyder en na Babel toe gebring het, moet teruggegee word. Dit moet teruggevat word na die tempel toe in Jerusalem waar dit hoort en daar in die tempel gesit word.”
6
Koning Darius het toe soos volg laat skryf: “Aan goewerneur Tattenai van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en hulle ampsgenote, die goewerneurs in Wes-Eufraat. “Julle moet daar wegbly.7 Laat die werk aan daardie tempel ongehinderd voortgaan. Laat die goewerneur van die Judeërs en hulle leiers die tempel bou waar hy moet wees.
8 Ek gee hiermee ook opdrag wat julle moet doen om daardie Judese leiers te help met die bou van die tempel: Sonder versuim en nougeset moet die koste aan daardie manne uitbetaal word uit die koninklike fondse, die belasting van Wes-Eufraat.
9 Wat ook al nodig is volgens die priesters in Jerusalem, moet aan hulle gegee word: jong bulle, ramme en lammers vir die offers aan die God van die hemel, koring, sout, wyn en olie. Dit moet elke dag gedoen word, sonder om oor te slaan,
10 sodat hulle vir die God van die hemel offers kan bring wat vir Hom aanneemlik is en kan bid dat die lewens van die koning en sy seuns gespaar mag word.
11 Ek beveel verder dat enigiemand wat hierdie opdrag oortree, deurboor sal word met 'n balk wat uit sy eie huis geruk is, en dat sy huis afgebreek moet word.
12 Mag die God wat sy Naam op daardie plek laat woon, elke koning en elke volk tot 'n val bring wat hierdie bevel oortree of 'n hand lig om daardie tempel in Jerusalem te beskadig. Ek, Darius, het opdrag gegee. Dit moet presies so uitgevoer word!”
13
Goewerneur Tattenai van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en hulle ampsgenote het toe gedoen presies wat koning Darius hulle beveel het.14 Die Judese leiers het met die bouwerk aangegaan. Danksy die optrede van die profete Haggai en Sagaria seun van Iddo het hulle goed gevorder. So kon hulle die gebou klaar maak soos die God van Israel hulle dit opgedra het en soos konings Kores, Darius en Artasasta van Persië beveel het.
15
Die tempel is voltooi op die derde dag van die maand Adar, in die sesde jaar van die regering van koning Darius.16 Die Israeliete, die priesters, die Leviete en die ander wat uit die ballingskap teruggekom het, het die inwyding van die tempel met vreugde gevier.
17 Hulle het met die inwyding van die tempel honderd bulle, twee honderd ramme en vier honderd lammers geoffer, en as sondeoffer vir die hele Israel ook nog twaalf bokramme, een vir elke stam van Israel.
18 Hulle het die priesters ingedeel in afdelings en die Leviete in diensgroepe vir die diens van God in Jerusalem soos dit in die boek van Moses voorgeskryf is.
19
Die ballinge wat teruggekom het, het die paasfees gevier op die veertiende van die eerste maand.20 Die priesters en die Leviete het hulle sonder uitsondering gereinig en almal was rein. Die Leviete het die paaslam geslag vir almal wat uit die ballingskap teruggekom het en vir hulle ampsgenote die priesters en vir hulleself.
21 Die paaslam is geëet deur die Israeliete wat uit die ballingskap teruggekom het en deur elkeen wat hom van die onreinheid van die heidene in die land afgeskei het om die Here die God van Israel te dien.
22 Hulle het die fees van die ongesuurde brood sewe dae met vreugde gevier. Die Here het hulle dié vreugde geskenk toe Hy die gesindheid van die koning van Assirië teenoor hulle verander het, en dié hulle hande gesterk het in die werk aan die tempel van die God van Israel.
1
Dit was ná hierdie gebeurtenisse en in die regeringstyd van koning Artasasta van Persië dat Esra op die toneel gekom het. Hy was 'n seun van Seraja, en sy afstamming is teruggevoer oor Asarja, Gilkija,2 Sallum, Sadok, Agitub,
3 Amarja, Asarja, Merajot,
4 Seragja, Ussi, Bukki,
5 Abisua, Pinehas en Eleasar tot by die hoëpriester Aäron.
6 Hierdie Esra het uit Babel gekom en hy was 'n geleerde man, kundig in die wet van Moses wat deur die Here die God van Israel gegee is. Omdat die Here sy hand oor Esra gehou het, het die koning hom alles gegee wat hy van hom gevra het.
7
In die sewende regeringsjaar van koning Artasasta het Esra en 'n aantal Israeliete, priesters, Leviete, tempelsangers, poortwagte en tempelslawe na Jerusalem toe teruggegaan.8 Esra het in Jerusalem aangekom in die vyfde maand, in die sewende regeringsjaar van die koning.
9 Die vertrek uit Babel was vasgestel vir die eerste van die eerste maand, en op die eerste van die vyfde maand het Esra in Jerusalem aangekom. Sy God het hom beskerm.
10 Esra het hom gewy aan die wet van die Here. Hy wou dit in die praktyk toepas en Israel elke voorskrif en bepaling leer.
11
Hier volg 'n afskrif van die volmag wat koning Artasasta verleen het aan die geleerde priester Esra, wat op hoogte was van alles in verband met die gebod van die Here en met sy voorskrifte aan Israel:12
“Artasasta, koning oor ander konings, aan die priester Esra, die skrifgeleerde in die wet van die God van die hemel.13
“Ek gee hiermee opdrag dat enigiemand in my ryk wat tot die volk Israel, sy priesters of sy Leviete behoort en wat wil gaan, met jou saam na Jerusalem toe kan gaan.14 Jy word deur die koning en sy sewe adviseurs afgevaardig om aan die hand van die wet van jou God waarin jy onderleg is, vas te stel hoe sake in Juda en Jerusalem staan.
15 Jy moet ook die silwer en die goud wegbring wat die koning en sy adviseurs as 'n vrywillige gawe gee aan die God van Israel wat sy woning in Jerusalem het.
16 Verder moet jy al die silwer en die goud saamneem wat jy dwarsoor die provinsie Babel kan bekom, en ook die vrywillige gawes wat die volk en die priesters vir die tempel van hulle God in Jerusalem gee.
17 Van dié geld moet jy met oorleg gebruik om bulle, ramme en lammers te koop, met die bybehorende graan- en drankoffers, en dan moet jy dit op die altaar van die tempel van julle God in Jerusalem offer.
18 Die silwer en die goud wat oorbly, moet jy gebruik soos jy en jou ampsgenote dit goedvind volgens die wil van julle God.
19 Die goed wat vir gebruik in die tempel van jou God bestem en aan jou oorhandig is, moet jy as geskenk aan God in Jerusalem gaan gee.
20 Enigiets anders wat vir die tempel van jou God nodig mag wees, en wat jy moet voorsien, mag jy uit die koninklike skatkis vat.
21
“Ek, koning Artasasta, beveel al die beamptes in beheer van die skatkis in Wes-Eufraat: Alles wat die priester Esra, skrifgeleerde in die wet van die God van die hemel, van julle vra, moet julle dadelik lewer,22 tot soveel as drie en 'n half ton silwer, sestien en 'n half ton koring, twee duisend twee honderd liter wyn, net soveel olie, en soveel sout as wat nodig is.
23 Wat die God van die hemel ook al vir sy tempel vereis, moet met toewyding gedoen word, sodat sy toorn nie oor die ryk van die koning en sy seuns kom nie.
24 Neem ook kennis dat julle nie gemagtig is om belasting, heffing of tol te eis van enige priester, Leviet, tempelsanger, poortwag, tempelslaaf of enigeen wat in die tempel van hierdie God werk nie.
25
“Jy, Esra, moet volgens die wysheid waaroor jy beskik soos dit jou deur jou God gegee word, regeerders en regters aanstel wat die regspraak kan behartig vir al die mense in Wes-Eufraat, vir almal wat die wet van jou God ken. Vir dié wat dit nie ken nie, moet julle dit leer.26 Enigeen wat hom nie hou aan die wet van jou God en die wet van die koning nie, moet streng gestraf word, met die dood of met verbanning of met 'n boete of met gevangenisstraf.”
27
Esra het toe gesê: “Geloof sy die Here, die God van ons voorvaders! Hy het die koning die besluit laat neem om die tempel in Jerusalem so goed toe te rus,28 en Hy het my die goedgesindheid van die koning, van sy adviseurs en van al sy magtige amptenare laat geniet. Ek was vol moed. Die Here my God het sy hand oor my gehou. Ek het toe die leiers onder die Israeliete bymekaar laat kom om saam met my te trek.”
1
Die volgende familiehoofde het saam met my uit Babel vertrek tydens die regering van koning Artasasta. Hulle afstamming word ook aangegee:2
Gersom uit die nageslag van Pinehas;
3
Sagaria uit die nageslag van Paros, en saam met hom 150 man wat in die register opgeneem was;4
Eljehoënai seun van Seragja uit die nageslag van Pagat-Moab, en saam met hom 200 man;5
Sekanja seun van Jagasiël uit die nageslag van Sattu , en saam met hom 300 man;6
Ebed seun van Jonatan uit die nageslag van Adin, en saam met hom 50 man;7
Jesaja seun van Atalia uit die nageslag van Elam, en saam met hom 70 man;8
Sebadja seun van Migael uit die nageslag van Sefatja, en saam met hom 80 man;9
Obadja seun van Jegiël uit die nageslag van Joab, en saam met hom 218 man;10
Selomit seun van Josifja uit die nageslag van Bani , en saam met hom 160 man;11
Sagaria seun van Bebai uit die nageslag van Bebai, en saam met hom 28 man;12
Joganan seun van Katan uit die nageslag van Asgad, en saam met hom 110 man;13
dié uit die nageslag van Adonikam was van die laastes; hulle was Elifelet, Jeïel en Semaja, en daar was 60 man saam met hulle;14
verder was daar Utai en Sabud uit die nageslag van Bigwai, en saam met hulle 70 man.15
Ek het hulle laat bymekaarkom by die rivier wat by Ahawa verbyloop. Ons het daar drie dae gekampeer, en ek het vasgestel dat daar priesters onder die mense was, maar ek kon geen Leviete vind nie.16 Ek het toe vir Eliëser, Ariël, Semaja, Elnatan, Jarib, Elnatan, Natan, Sagaria en Mesullam laat roep, almal leiers, en ook vir Jojarib en Elnatan, twee verstandige manne.
17 Ek het hulle na Iddo, die leier in Kasifja, toe gestuur, en hulle gesê wat om vir Iddo en sy ampsgenote en vir die tempelslawe in Kasifja te sê sodat Iddo-hulle mense vir ons kon stuur wat in die tempel van ons God kon diens doen.
18 Deur die goeie beskikking van ons God het hulle toe ook vir ons 'n verstandige man gestuur uit die nageslag van Magli seun van Levi, seun van Israel. Dit was Serebja, met sy seuns en sy ampsgenote, agtien altesaam.
19 Verder het hulle ook vir Gasabja gestuur en saam met hom Jesaja uit die nageslag van Merari, met sy ampsgenote en hulle seuns, twintig altesaam.
20 Van die tempelslawe wat nog deur Dawid en sy amptenare geskenk is om die Leviete van diens te wees, het daar twee honderd en twintig man gekom. Almal se name is opgeteken.
21
Ek het daar by die Ahawarivier 'n vasdag uitgeroep om ons voor ons God te verootmoedig en Hom te bid om 'n voorspoedige reis vir onsself, ons afhanklikes en al wat ons besit het.22 Ek was skaam om vir die koning soldate en ruiters te vra om ons teen vyande langs die pad te help. Ons het vir die koning gesê ons God sorg goed vir almal wat Hom dien en Hy straf almal swaar wat Hom verlaat.
23 Ons het dus gevas en die hulp van ons God gevra vir die onderneming, en Hy het ons gebede verhoor.
24
Daarna het ek twaalf van die priesters se leiers uitgesoek, Serebja en Gasabja en tien van hulle ampsgenote saam met hulle,25 en toe die silwer en die goud en die tempelgereedskap volgens gewig onder hulle verdeel. Dit was die wydingsgeskenke vir die tempel van ons God wat geskenk is deur die koning en sy adviseurs en amptenare en deur al die Israeliete wat hulle nog in ballingskap bevind het.
26 Ek het alles geweeg en aan hulle oorhandig: twee en twintig ton silwer, honderd stukke silwerware met 'n gesamentlike gewig van ag en sestig kilogram, drie en 'n half ton goud,
27 twintig komme van goud met 'n gesamentlike gewig van ag en 'n half kilogram, en twee stukke van fyn gepoleerde brons, so kosbaar soos goud.
28
Daarna het ek vir die twaalf priesters gesê: “Julle is aan die Here gewy, hierdie goed is ook aan Hom gewy. Die silwer en die goud is vrywillige gawes aan die Here die God van julle voorvaders.29 Wees wakker, pas dit op totdat julle dit uitweeg voor die hoofde van die priesters en die Leviete en voor die familiehoofde van Israel in Jerusalem binne in die tempelvertrekke.”
30
Die priesters en die Leviete het toe die silwer, die goud en die tempelgereedskap wat afgeweeg is, in ontvangs geneem om dit na Jerusalem toe te vat, na die tempel van ons God toe.31
Ons het van die Ahawarivier af vertrek op die twaalfde van die eerste maand, op pad Jerusalem toe. Ons God het sy hand oor ons gehou en ons nie in die mag laat val van vyande en rowers langs die pad nie.32
Ons het in Jerusalem aangekom en daar drie dae gerus.33 Die vierde dag het ons die silwer en die goud en die tempelgereedskap gaan weeg in die tempel van ons God en dit aan die priester Meremot seun van Urija oorhandig in die teenwoordigheid van Eleasar seun van Pinehas. Die Leviete Josabad seun van Jesua, en Noadja seun van Binnuï was by hulle.
34 Alles was daar en die gewig was reg, en die gewig is dié dag noukeurig opgeskryf.
35
Die mense wat uit die ballingskap teruggekom het, het toe aan die God van Israel brandoffers gebring: twaalf bulle vir die hele Israel, ses en negentig ramme, sewe en sewentig lammers en twaalf bokke as 'n sondeoffer. Alles was brandoffers aan die Here.36
Die opdragte van die koning is aan die gevolmagtigde verteenwoordigers van die koning en aan die goewerneurs van Wes-Eufraat oorhandig, en hulle het van toe af bystand verleen aan die volk en aan die tempel.1
Nadat dié dinge gedoen is, het die leiers van die gemeente vir my kom sê: “Die mense van Israel en die priesters en die Leviete het hulle nie afgesonder van die nie-Joodse bevolking met sy afskuwelike gebruike nie, en dié is nog dieselfde as dié van die Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete, Ammoniete, Moabiete, Egiptenaars en Amoriete.2 Ons mense en hulle seuns het getrou met nie-Joodse vrouens; hulle het hierdie volk hom laat vermeng met heidene. Leiers en ampsdraers het die voortou geneem in dié trouelose optrede.”
3
Toe ek dit hoor, het ek my klere geskeur, my hare en my baard uitgetrek en verslae gaan sit.4 Almal wat by die gedagte aan die opdragte van die God van Israel vreesbevange was oor dié troueloosheid van die mense uit die ballingskap, het by my kom staan. Ek het maar net verslae daar gesit, tot die tyd van die aandoffer toe.
5 Maar teen die tyd van die aandoffer het ek daar opgestaan waar ek my met my geskeurde klere verootmoedig het, op my knieë geval en my hande in gebed uitgestrek na die Here my God.
6
Ek het gebid: “My God, ek is te skaam, ek het nie die vrymoedigheid om my kop voor U op te tel nie. Ons sonde is hoog opgestapel, ons misdade staan hemelhoog.7 Van die tyd van ons voorvaders af tot vandag toe is ons bestaan vol oortredings teen U. Dit was deur ons sondes dat ons, ons konings en ons priesters in die mag van heidenkonings oorgegee is. Ons is doodgemaak, gevange geneem, geplunder; smaad het oor ons gekom en dit is nou nog daar.
8
“Nou, 'n kort oomblikkie, het daar vir ons genade gekom van die Here ons God. Hy het die klompie van ons laat vrykom en ons hier in sy heilige plek vastigheid gegee. Ons God het ons weer laat lewe, ons 'n oomblik laat asem skep na ons slawerny.9
“Ons was slawe, maar ons God het ons nie slawe laat bly nie. Hy het die Persiese konings goedgesind gemaak teenoor ons, en hulle het ons die kans gegee: ons kon die tempel van ons God opbou, ons kon hom uit sy ruïnes laat herrys, ons het 'n toevlug gekry hier in Juda en Jerusalem.10
“Maar wat kan ons nou sê, ons God, na dié dinge? Ons het u gebooie oortree.11 U het ons deur u dienaars, die profete, beveel: Die land wat julle in besit gaan neem, is 'n onrein land. Die heidennasies het dit onrein gemaak. Hulle het dit van kant tot kant besmet met hulle afskuwelike, onrein optrede.
12 Moenie julle dogters vir hulle seuns gee nie, moenie hulle dogters met julle seuns laat trou nie. Moet die heidennasies nooit vrede of voorspoed gun nie. Dan sal julle sterk staan en die goeie van die land geniet en dit as 'n blywende besitting aan julle kinders oordra.
13
“Wat oor ons gekom het, het gekom deur ons slegte dade en ons baie oortredings teen U. Ons God, U was spaarsaam met die straf op ons sonde, U het van ons laat oorbly.14 En na alles wat oor ons gekom het, kom ons en steur ons ons weer nie aan u gebooie nie! Ons ondertrou met hierdie nasies wat so afskuwelik leef! Moet u toorn ons dan nie heeltemal vernietig nie, sodat niemand oorbly, niemand vrykom nie?
15
“Here God van Israel, U is regverdig. U het die klompie van ons laat vrykom, so soos dit vandag is. Hier is ons voor U met ons oortredings, maar so kan niemand voor U staan nie.”1
Terwyl Esra voor die tempel gekniel en gebid en belydenis gedoen het, het 'n groot aantal Israeliete rondom hom kom staan, mans, vrouens en kinders. Hy het gehuil en die mense het ook hard gehuil.2
Sekanja seun van Jegiël, uit die nageslag van Elam, het toe begin praat. Hy het vir Esra gesê: “Ons het troueloos gehandel teen ons God, ons het met vreemde vroue getrou, vroue uit die heidennasies. Tog is daar nog hoop vir Israel.3 Kom ons maak 'n plegtige onderneming teenoor ons God dat ons al dié vrouens en hulle kinders sal wegstuur. Laat ons doen wat u en dié wat vir die gebod van ons God eerbied het, ons aanraai in ooreenstemming met die wet.
4 Die saak is in u hande. Ons ondersteun u. Staan op, pak dit aan en doen dit.”
5
Esra het toe opgestaan en die leiers van die priesters en die Leviete en ook die hele Israel 'n eed laat aflê dat hulle dit sou doen. Hulle het die eed afgelê,6 en Esra is toe van die tempel af na die kamer van Joganan seun van Eljasib toe. Hy het daarheen gegaan maar niks geëet of gedrink nie, want hy was besig om te rou oor die troueloosheid van die ballinge wat teruggekom het.
7
Al hierdie ballinge in Juda en Jerusalem is toe opgeroep vir 'n byeenkoms in Jerusalem.8 Die ampsdraers en die leiers het besluit dat al die besittings van enigiemand wat nie binne drie dae daar was nie, gekonfiskeer sou word en dat hy self afgesny sou word van die gemeente van ballinge wat teruggekom het.
9 Die manne van Juda en Benjamin het almal binne die drie dae in Jerusalem bymekaargekom. In die negende maand, op die twintigste van die maand, was al die mense op die tempelplein. Dit het gereën, en hulle het gebewe van die koue, maar ook van die spanning.
10
Toe staan die priester Esra op en sê vir hulle: “Julle het troueloos opgetree. Julle het met vreemde vrouens getrou en daardeur die oortredings van Israel teen God nog meer gemaak.11 Doen belydenis voor die Here die God van julle voorvaders en doen wat Hy wil hê: skei julle af van die heidennasies en die vreemde vrouens.”
12
Die gemeente het eenparig hardop geantwoord: “Alles wat u sê, moet ons doen.13 Maar ons is baie mense, en dit is reëntyd. Ons kan nie hier onder die blote hemel bly staan nie. Dit is nie 'n werk van een of twee dae nie, want baie van ons het dié sonde begaan.
14 Laat ons leiers namens die hele gemeente optree. Dan kan elkeen wat met 'n vreemde vrou getroud is, op 'n vasgestelde tyd uit ons stede kom saam met die gesagsdraers en die regters van die betrokke stad en die saak afhandel. So kan ons dan die toorn van ons God van ons af wegkeer.”
15
Net Jonatan seun van Asael, en Jagseja seun van Tikwa, gesteun deur Mesullam en die Leviet Sabbetai, was teen die gedagte.16 Die ballinge wat teruggekom het, het die plan aanvaar. Die priester Esra het manne by die naam aangewys, die hoofde van al die families. Hulle het op die eerste dag van die tiende maand sitting geneem vir die ondersoek
17 en het al die sake van die manne wat met vreemde vrouens getrou het, afgehandel gehad op die eerste dag van die eerste maand.
18
Daar is gevind dat die volgende priesters met vreemde vrouens getroud is: Uit die familie van Jesua seun van Josadak en sy ampsgenote was daar Maäseja, Eliëser, Jarib en Gedalja;19
hulle het onderneem om van hulle vrouens te skei en het 'n ram as versoeningsoffer vir hulle misdaad teen God geoffer.
20
Uit die familie van Immer was daar Ganani en Sebadja.21
Uit die familie van Garim was daar Maäseja, Elia, Semaja, Jegiël en Usija.22
Uit die familie van Pasgur was daar Eljoënai, Maäseja, Ismael, Netanel, Josabad en Elasa.23
Uit die Leviete was daar Josabad, Simeï, Kelaja, ook Kelita genoem, Petagja, Juda en Eliëser.24
Uit die sangers was daar Eljasib, en uit die poortwagte Sallum, Telem en Uri.25
Verder was daar die volgende Israeliete: uit die Parosfamilie: Ramja, Jissija, Malkija, Mijamin, Eleasar, Malkija en Benaja;26
uit die Elamfamilie: Mattanja, Sagaria, Jegiël, Abdi, Jeremot en Elia;27
uit die Sattufamilie: Eljoënai, Eljasib, Mattanja, Jeremot, Sabad en Asisa;28
uit die Bebaifamilie: Joganan, Gananja, Sabbai en Atlai;29
uit die Banifamilie: Mesullam, Malluk, Adaja, Jasub en Seal-Jeremot;30
uit die Pagat-Moabfamilie: Adna, Kelal, Benaja, Maäseja, Mattanja, Besaleël, Binnuï en Manasse;31
uit die Garimfamilie: Eliëser, Jissija, Malkija, Semaja, Simon,32
Benjamin, Malluk en Semarja;
33
uit die Gasumfamilie: Mattenai, Mattatta, Sabad, Elifelet, Jeremai, Manasse en Simi;34
uit die Banifamilie: Maädai, Amram, Uel,35
Benaja, Bedja, Keluhi,
36
Wanja, Meremot, Eljasib,
37
Mattanja, Mattenai en Jaäsai;
38
uit die Binnuïfamilie: Simi,39
Selemja, Natan, Adaja,
40
Maknadbai, Sasai, Sarai,
41
Asarel, Selemja, Semarja,
42
Sallum, Amarja en Josef;
43
uit die Nebofamilie: Jeïel, Mattitja, Sabad, Sebina, Jaddai, Joël en Benaja.44
Al dié mense was met vreemde vrouens getroud, maar hulle het van die vrouens geskei en hulle kinders saam weggestuur.