1
Na die dood van Agab het Moab in opstand gekom teen Israel.2 Ahasia het in Samaria deur sy bokamer se traliewerk geval en hom ernstig beseer. Hy het boodskappers gestuur met die opdrag: “Gaan raadpleeg vir Baäl-Sebub die god van Ekron om te hoor of ek hierdie besering sal oorleef.”
3
Maar die Engel van die Here het vir Elia die Tisbiet gesê: “Loop gou die boodskappers van die koning van Samaria tegemoet en sê vir hulle: Is daar dan geen God in Israel nie dat julle vir Baäl-Sebub die god van Ekron gaan raadpleeg?4 Daarom sê die Here vir die koning: Jy sal nie opstaan uit die bed waarin jy gaan lê het nie. Jy gaan sterf.”
Toe vertrek Elia,5 en die boodskappers het omgedraai na die koning toe. Hy vra hulle toe: “Waarom het julle omgedraai?”
6
Hulle het hom geantwoord: “'n Man het ons tegemoet geloop en vir ons gesê: Gaan terug na die koning wat vir julle gestuur het en sê vir hom: So sê die Here: Is daar dan geen God in Israel nie dat jy boodskappers stuur om Baäl-Sebub die god van Ekron te raadpleeg? Daarom sal jy nie opstaan uit die bed waarin jy gaan lê het nie. Jy gaan sterf.”7
Die koning vra hulle toe: “Hoe het die man gelyk wat vir julle tegemoet geloop en hierdie dinge vir julle gesê het?”8
Hulle het geantwoord: “Dit was 'n man met velklere aan en met 'n velgordel om sy middel.” Daarop sê die koning: “Dit moet Elia die Tisbiet wees.”9
Hy stuur toe 'n offisier met vyftig manskappe na Elia toe. Die offisier het na Elia toe opgeklim waar hy op die top van 'n berg gesit het. Die offisier het vir hom gesê: “Man van God, die koning het beveel jy moet afkom na hom toe.”10
Toe antwoord Elia die offisier: “So seker as ek 'n man van God is, daar sal vuur uit die hemel uit afkom en jou en jou vyftig man verteer!” Daar het toe vuur uit die hemel uit afgekom en die offisier en sy vyftig manskappe verteer.11
Die koning stuur toe 'n ander offisier met vyftig man na Elia toe om hom te beveel: “Man van God, die koning sê: jy moet vinnig na hom toe kom.”12
Elia het hom geantwoord: “So seker as ek 'n man van God is, daar sal vuur uit die hemel uit afkom en jou en jou vyftig man verteer!” Daar het toe 'n vuur van God uit die hemel uit afgekom en dit het die offisier en sy vyftig man verteer.13
Die koning stuur toe 'n derde keer 'n offisier met sy vyftig man. Die derde offisier is die berg op. By Elia aangekom, het hy op sy knieë voor hom geval en hom om genade gesmeek: “Man van God, spaar tog asseblief my lewe en die lewe van hierdie vyftig man.14 Daar het vuur uit die hemel uit afgekom en dit het die twee offisiere wat vroeër gekom het, saam met hulle manskappe verteer. Spaar nou asseblief my lewe!”
15
Die Engel van die Here het vir Elia gesê: “Klim af saam met hom, moenie vir hom bang wees nie.” Elia is toe saam met hom die berg af na die koning toe.16
Elia het vir die koning gesê: “So sê die Here: Omdat jy boodskappers gestuur het om Baäl-Sebub die god van Ekron te raadpleeg asof daar geen God in Israel is wat geraadpleeg kan word nie, sal jy nie opstaan uit die bed waarin jy nou lê nie. Jy gaan sterf.”17
Hy hét ook gesterf, in ooreenstemming met die woord van die Here wat deur Elia gekom het. Omdat Ahasia self geen kinders gehad het nie, is hy as koning opgevolg deur Joram. Dit was in die tweede regeringsjaar van koning Joram van Juda, seun van Josafat.18
Die ander verhale oor Ahasia en wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.1
Die tyd het gekom dat die Here vir Elia in 'n stormwind in die hemel sou opneem. Elia en Elisa het uit Gilgal vertrek,2 en Elia het vir Elisa gesê: “Bly hier, want die Here stuur my na Bet-El toe.”
Elisa se antwoord was: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.” Hulle is toe na Bet-El toe.3 Die profete wat in Bet-El was, het na Elisa toe gegaan en hom gevra: “Weet jy dat die Here vandag jou leermeester van jou af gaan wegvat?”
Hy het geantwoord: “Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie.”4
Elia sê toe vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na Jerigo toe.” Maar Elisa het geantwoord: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.” Hulle het saam in Jerigo aangekom.5 Die profete van Jerigo het na Elisa toe gekom en hom gevra: “Weet jy dat die Here vandag jou leermeester van jou af gaan wegvat?”
Hy het geantwoord: “Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie.”6
Elia sê toe vir hom: “Bly hier, want die Here stuur my na die Jordaan toe.” Maar Elisa het geantwoord: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.” Hulle twee is toe saam verder.7
'n Vyftigtal van die profete is agterna en het op 'n afstand gaan staan regoor die plek waar Elia langs die Jordaan gestaan het.8
Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het na links en na regs verdeel, sodat hulle twee op droë grond daar deur is.9 Net toe hulle deur is, sê Elia vir Elisa: “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen voordat ek van jou af weggevat word?”
Elisa het geantwoord: “Mag daar tog 'n dubbele deel van u gees op my kom!”10
Toe sê Elia: “Dis 'n moeilike ding wat jy vra. As jy my sien wanneer ek van jou af weggevat word, mag dit dan met jou gebeur; maar as jy my nie sien nie, sal dit nie gebeur nie.”11
Terwyl hulle gesels-gesels verder gegaan het, was daar skielik 'n wa van vuur met perde van vuur wat hulle twee van mekaar geskei het, en Elia is in 'n stormwind op, die hemel in.12 Toe Elisa dit sien, het hy uitgeroep: “My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters!”
Toe Elisa nie meer vir Elia kon sien nie, het hy sy eie klere gevat en in twee stukke geskeur.13 Hy het die mantel wat van Elia afgeval het, opgetel en weer op die wal van die Jordaan gaan staan.
14 Hy het met hierdie mantel wat van Elia afgeval het, op die water geslaan en gesê: “Waar is die Here die God van Elia? Waar is Hy?”
Toe Elisa die water slaan, het dit na links en na regs verdeel sodat hy kon deurgaan.15 Toe die profete van Jerigo wat 'n entjie daarvandaan gestaan het, hom sien, het hulle gesê: “Die gees van Elia rus nou op Elisa.”
Hulle het hom tegemoet geloop en voor hom gebuig.16
Hulle sê toe vir hom: “Daar is vyftig dapper manne onder ons; laat hulle tog u leermeester gaan soek: dalk het die Gees van die Here hom opgelig en êrens op 'n berg of in 'n vallei neergelaat.” Elisa het geantwoord: “Moet hulle nie stuur nie.”17
Maar hulle het by hom bly aandring totdat hy nie meer kon weier nie, en toe sê hy: “Stuur hulle dan maar.” Hulle het vyftig man gestuur, maar hoewel hulle drie dae lank gesoek het, kon hulle Elia nie kry nie.18 Toe hulle terugkom in Jerigo waar Elisa oorgebly het, het hy vir hulle gesê: “Het ek nie vir julle gesê julle moenie gaan nie?”
19
Die inwoners van die stad het vir Elisa gesê: “U sien self hoe mooi ons stad geleë is, maar die water is giftig en die oes uit die grond veroorsaak misgeboortes.”20
Elisa sê toe: “Bring vir my 'n nuwe skottel en gooi sout daarin.” Hulle het dit na hom toe gevat.21 Hy het uitgegaan na die plek waar die water uitkom en die sout daar ingegooi, met die woorde: “So sê die Here: Ek maak hierdie water bruikbaar sodat dit nie meer dood of onvrugbaarheid sal veroorsaak nie.”
22
Die water is vandag nog bruikbaar, net soos Elisa gesê het.23
Elisa is daarvandaan op na Bet-El toe. Terwyl hy op pad was daarnatoe, het 'n klomp klein seuntjies uit die stad gekom en hom gespot: “Hoër op, kaalkop! Hoër op, kaalkop!”24
Hy het omgedraai, hulle aangekyk en hulle vervloek in die Naam van die Here. Twee bere het uit die bos gekom en twee en veertig van die kinders verskeur.25
Van Bet-El af is Elisa na Karmelberg toe en daarvandaan na Samaria toe.1
Joram seun van Agab het in Samaria koning oor Israel geword in die agtiende regeringsjaar van koning Josafat van Juda. Hy was twaalf jaar lank koning.2 Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, maar nie so erg soos sy pa en ma nie: hy het darem die klippilaar van Baäl wat deur sy pa gemaak is, verwyder.
3 Tog het hy volhard in die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het; hy het dit nie laat vaar nie.
4
Koning Mesa van Moab was 'n skaapboer wat honderd duisend lammers en die wol van honderd duisend ramme aan die koning van Israel moes lewer.5 Toe Agab dood is, het die koning van Moab teen die koning van Israel gerebelleer.
6 Koning Joram het onmiddellik uit Samaria vertrek en die hele Israel onder die wapen gebring.
7 Hy het aan koning Josafat van Juda die volgende boodskap gestuur: “Die koning van Moab het teen my gerebelleer. Gaan jy hom saam met my aanval?”
Josafat het geantwoord: “Ek sal saam met jou opruk. Ek en jy is een. My manskappe is jou manskappe, en my perde is jou perde.”8
“Met watter pad sal ons opruk?” het Joram gevra. “Met die pad deur die Edomwoestyn,” het Josafat geantwoord.9
Die koning van Israel, die koning van Juda en die koning van Edom het saam opgetrek. Nadat hulle sewe dae gevorder het, was daar nie meer water vir die manskappe en vir die diere by hulle nie.10
Toe sê die koning van Israel: “Helaas, die Here het hierdie drie konings geroep net om hulle in die mag van Moab oor te gee.”11
Maar Josafat het gevra: “Is hier nie 'n profeet van die Here deur wie ons die Here kan raadpleeg nie?” Een van die amptenare van die koning van Israel het geantwoord: “Elisa seun van Safat is hier. Hy het sy opleiding by Elia gekry.”12
Toe het Josafat gesê: “Die woord van die Here is by Elisa.” Daarna het Josafat en die konings van Israel en Edom na Elisa toe gegaan.13
Elisa het vir die koning van Israel gesê: “Het ons nog iets vir mekaar te sê? Gaan na die profete van jou pa en jou ma toe.” Maar die koning van Israel het vir hom gesê: “Nee, dit is tog die Here wat hierdie drie konings geroep het net om hulle in die mag van Moab oor te gee.”14
Elisa het geantwoord: “So seker as die Here die Almagtige lewe, in wie se diens ek is, as dit nie was dat ek agting het vir die persoon van koning Josafat van Juda nie, sou ek my nie eens verwerdig het om na jou te kyk nie.15 Bring nou vir my 'n lierspeler.”
Terwyl die lierspeler gespeel het, het die mag van die Here vir Elisa in besit geneem,16 en hy het gesê: “So sê die Here: Daar sal damme en damme water in hierdie vallei staan.
17 Kyk, so sê die Here: Julle sal nie wind of reën sien nie, en tog sal hierdie vallei vol water word, sodat julle en julle slagvee en julle pakdiere kan drink.
18 Vir die Here is dit maar iets gerings om te doen: Hy sal ook vir Moab in julle mag oorgee.
19 Julle sal al hulle vestingstede, die uitsoekstede, inneem, al die mooi bome uitkap, al die fonteine toestop, en al die mooi lande vol klippe gooi.”
20
Die volgende môre, teen die tyd dat die offer gewoonlik gebring word, het daar onverwags water uit die rigting van Edom gekom, en die hele gebied het vol water geloop.21
Die Moabiete het verneem dat die konings opruk om teen hulle te veg. Almal wat bewapen kon word, jonk en oud, is opgekommandeer en het by die grens gaan stelling inneem.22 Toe hulle vroeg die volgende môre opstaan, net toe die son opkom oor die water, sien die Moabiete die water oorkant hulle, rooi soos bloed.
23
“Dis bloed!” het hulle geskree. “Die konings het met mekaar begin veg en mekaar doodgemaak. Storm op die buit af, Moabiete!”24
Toe hulle by die kamp van die Israeliete kom, het die Israeliete hulle aangeval en verslaan. Die Israeliete het die Moabiete voor hulle uit op die vlug gedryf, Moab binnegedring en dit verwoes.25 Hulle het die stede in puin gelê en elke bewerkbare stuk grond met klippe besaai: elkeen het 'n klip gegooi om dit vol klippe te kry. Elke fontein het hulle toegestop en elke goeie boom afgekap. Uiteindelik het net Kir-Geres oorgebly. Die soldate met slingervelle het die stad omring en dit ingeneem.
26
Toe die koning van Moab sien dat hy die geveg gaan verloor, het hy sewe honderd man wat met swaarde bewapen was, gevat in 'n poging om by die koning van Edom deur te breek, maar hulle kon nie.27 Toe vat die koning van Moab sy oudste seun wat in sy plek sou koning word en offer hom as brandoffer op die stadsmuur. Dit het die Israeliete so geskok dat hulle daarvandaan vertrek en na hulle land toe teruggegaan het.
1
'n Vrou van 'n profeet het haar nood by Elisa kom kla: “My man is dood. U weet self dat hy die Here gedien het. Nou het die skuldeiser gekom om my twee seuns te vat en hulle sy slawe te maak.”2
Elisa het vir haar gesê: “Ek sal jou help. Sê vir my: wat het jy in jou huis?” Sy het geantwoord: “Ek het niks in die huis nie behalwe 'n erdekannetjie olie.”3
Hy het toe gesê: “Gaan leen nou by al jou bure leë kruike, en sorg dat jy nie te min leen nie.4 Dan gaan jy in jou huis in, maak die deur agter jou en jou seuns toe, en gooi elkeen van hierdie kruike vol olie. Soos elkeen vol word, moet jy hom wegpak.”
5
Sy is van hom af weg. Sy het die deur agter haar en haar seuns toegemaak. Soos hulle die kruike na haar toe aangedra het, het sy hulle volgemaak.6 Toe die kruike vol was, sê sy vir een van haar seuns: “Bring vir my nog 'n kruik.”
Maar hy het gesê: “Daar is nie meer 'n kruik oor nie.” Toe het daar nie7 meer olie uit die kannetjie gekom nie. Sy het by die man van God aangekom en dit vir hom vertel. Hy het gesê: “Gaan verkoop die olie en betaal jou skuld. Jy en jou seuns kan dan leef van wat oorbly.”
8
Op 'n dag het Elisa na Sunem toe gegaan. Daar was 'n vooraanstaande vrou wat by hom daarop aangedring het om vir ete oor te bly. Elke keer as hy daar verbykom, het hy eers by haar aangegaan om te eet.9 Sy het vir haar man gesê: “Ek weet dit is 'n heilige man van God wat gereeld hier by ons aankom.
10 Kom ons bou 'n klein bovertrekkie en sit vir hom 'n bed, 'n tafel, 'n stoel en 'n lamp daarin. Wanneer hy by ons aankom, kan hy daar intrek.”
11
Op 'n dag toe Elisa weer daar aankom, het hy in die bovertrek ingetrek en gaan rus.12 Hy het vir Gehasi sy slaaf gesê: “Roep bietjie die Sunemmitiese vrou.”
Gehasi het haar geroep, en toe sy voor Elisa se kamer staan,13 sê hy vir sy slaaf: “Sê vir haar: Jy het al hierdie moeite vir ons gedoen. Wat kan ek vir jou doen? Sal ek vir jou 'n woordjie doen by die koning of by die hoof van die leër?”
“Ek woon hier tussen my eie mense,” was haar antwoord.14
Hy vra toe: “Maar kan daar nie iets vir haar gedoen word nie?” Waarop Gehasi antwoord: “Ja tog, sy het nie 'n seun nie, en haar man is al oud.”15
“Roep haar hiernatoe,” sê Elisa. Toe Gehasi haar nader roep, het sy in die deur kom staan.16
Toe sê Elisa: “Hierdie tyd oor 'n jaar sal jy 'n seun in jou arms hou.” Sy antwoord: “Nee, Meneer, u is 'n man van God, u moet tog nie vir my iets sê wat nie so kan wees nie!”17
Die vrou het swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring, presies 'n jaar later, net soos Elisa vir haar gesê het.18
Toe die seun groter geword het, het hy op 'n dag na sy pa-hulle toe gegaan waar hulle besig was om te oes.19 Skielik het hy vir sy pa gesê: “My kop, my kop!”
Sy pa het vir 'n slaaf gesê: “Dra hom na sy ma toe.”20
Die slaaf het hom na sy ma toe gedra. Hy het op haar skoot gelê tot die middag, en toe is hy dood.21 Sy het hom boontoe gedra en hom neergelê op die bed van die man van God, en toe sy uitgaan, het sy die deur agter haar toegetrek.
22 Sy het haar man geroep en gesê: “Stuur tog vir my 'n slaaf en 'n donkie. Ek wil na die man van God toe gaan en gou weer terug wees.”
23
“Maar waarom gaan jy vandag na hom toe,” het haar man gevra, “dit is mos nie nuwemaan of sabbat nie?” Maar sy het hom gerusgestel,24 die donkie opgesaal en vir haar slaaf gesê: “Jaag die donkie aan. Moenie dat hy gaan staan nie, behalwe as ek vir jou so sê.”
25
Sy is toe vort en het by die man van God aangekom by Karmelberg. Toe die man van God haar op 'n afstand sien aankom, sê hy vir Gehasi sy slaaf: “Dis mos die Sunemmitiese vrou daardie.26 Hardloop haar tegemoet en vra vir haar: Gaan dit goed met jou? Gaan dit goed met jou man? En met jou seun?”
Vir Gehasi het sy gesê: “Dit gaan goed,”27 maar toe sy by die man van God op die berg kom, het sy aan sy voete vasgeklou.
Toe Gehasi nader staan om haar weg te stoot, sê die man van God: “Los haar, sy is baie hartseer. Die Here het dit vir my verberg en vir my niks gesê nie.”28
Sy sê toe vir hom: “Meneer, het ek van u 'n seun gevra? Het ek nie gesê: Moenie by my 'n valse hoop wek nie?”29
Toe sê hy vir Gehasi: “Maak gou klaar, vat my kierie en vertrek. As jy iemand raakloop, moet hom nie groet nie. Gaan sit my kierie op die gesig van die seun.”30
Toe sê die seun se ma: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie toelaat om agter te bly nie.” Hy het opgestaan en saam met haar gegaan.31 Gehasi was voor hulle daar en hy het die kierie op die seun se gesig gesit, maar daar was geen geluid of enige teken van lewe nie. Hy gaan toe terug na Elisa toe en sê vir hom dat die seun nie bygekom het nie.
32 Toe Elisa in die huis kom, het die seun daar dood gelê net soos hy op die bed neergelê was.
33 Elisa het die kamer binnegegaan en die deur toegemaak sodat hulle alleen was. Nadat hy tot die Here gebid het,
34 het Elisa op die bed geklim en bo-op die seun gaan lê. Hy het vol op die seun gelê met sy mond op die seun se mond, sy oë op sý oë, sy hande op sý hande, sodat die seun se liggaam warm geword het.
35 Nadat hy 'n keer heen en weer in die huis geloop het, het hy weer op hom gaan lê. Die seun het sewe keer genies en toe sy oë oopgemaak.
36
Elisa het vir Gehasi geroep en hom beveel om die Sunemmitiese vrou te roep. Hy het dit gedoen en toe sy inkom, sê Elisa vir haar: “Tel jou seun op.”37
Sy het ingekom en by sy voete op haar knieë geval en gebuig. Toe tel sy haar kind op en gaan uit.38
Elisa is terug Gilgal toe. Daar was in dié tyd 'n hongersnood in die land. Terwyl die profete aan sy voete gesit het, sê hy vir sy slaaf: “Sit 'n groot pot op die vuur en kook 'n bredie vir die profete.”39
Een van hulle is veld toe om te gaan kruie pluk. Hy het op wilde ranke afgekom en wildekomkommers daarvan afgepluk tot sy sakke vol was. Hy het dit in die pot met bredie gaan insny sonder om te weet wat dit regtig was.40
Hulle het met ete vir die manne van die bredie opgeskep, maar net toe hulle dit proe, roep hulle uit: “Man van God, daar is gif in die kos!” Hulle kon dit nie eet nie.41
Elisa het gesê: “Bring 'n bietjie meel.” Hy het dit in die pot gegooi en gesê: “Skep op vir die mense dat hulle kan eet.” Die kos in die pot was toe nie meer giftig nie.42
Daar het 'n man uit Baäl-Salisa aangekom wat vir die man van God brood gebring het, twintig garsbrode gebak met meel van die nuwe oes, en ook vars koringare. Elisa het gesê: “Gee dit vir die mense om te eet.”43
Maar sy slaaf het beswaar gemaak: “Hoe kan ek die bietjie kos aan 'n honderd man voorsit?” Maar Elisa het weer gesê: “Gee dit vir die mense om te eet, want so sê die Here: Hulle sal eet en nog oorhou.”44
Die slaaf het dit vir hulle voorgesit. Hulle het geëet en oorgehou, net soos die Here gesê het.1
Naäman, die hoof van die leër van die koning van Aram, was 'n gesiene man wat die agting van die koning geniet het. Deur hom het die Here 'n oorwinning aan Aram besorg. Die man was 'n dapper soldaat, maar hy het melaats geword.2
Op een van hulle strooptogte het die Arameërs 'n jong dogtertjie uit Israel ontvoer wat Naäman se vrou se bediende geword het.3 Sy het vir die vrou gesê: “Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kon uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.”
4
Naäman het by die koning gekom en hom meegedeel wat die dogtertjie uit Israel gesê het.5
“Gaan gerus,” het die koning van Aram gesê, “ek stuur jou met 'n brief na die koning van Israel toe.” Hy het vertrek en drie honderd twee en veertig kilogram silwer, ag en sestig kilogram goud en tien stelle klere met hom saamgevat.6 Hy het die brief na die koning van Israel toe gebring. Dit het só gelui: “Ek het my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe gestuur. Wanneer hy by jou uitkom, moet jy hom van sy melaatsheid gesond maak.”
7
Toe die koning die brief gelees het, het hy sy klere geskeur en gesê: “Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hulle die lewe gee dat hierdie man iemand na my toe stuur om hom van sy melaatsheid gesond te maak? Dit moet vir julle duidelik wees hy soek net skoor met my.”8
Elisa die man van God het te hore gekom dat die koning van Israel sy klere geskeur het en het 'n boodskap aan die koning gestuur: “Hoekom het u u klere geskeur? Laat Naäman na my toe kom, sodat hy kan besef dat daar 'n profeet in Israel is.”9
Toe Naäman met sy wa en perde daar aankom, het hy stilgehou voor die deur van Elisa se huis.10 Elisa het 'n boodskap na hom toe gestuur: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan, dan sal jy gesond word en rein wees.”
11
Naäman het vererg weggery en gesê: “Ek het darem gedink hy sou uitkom en gaan staan, die Naam van die Here sy God aanroep, dan sy hand heen en weer oor die plek beweeg en so die melaatsheid wegneem.12 Is die riviere van Damaskus, die Abana en die Parpar, nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was om rein te word nie?”
So het hy woedend daarvandaan teruggery.13
Sy amptenare het by hom gekom en mooi met hom gepraat: “Meneer, as die profeet iets moeiliks van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy eenvoudig vir u gesê het: Was jou en jy sal rein wees?”14
Hy het toe afgegaan na die Jordaan toe en hom sewe keer daarin gebad, soos die man van God gesê het, en sy vel het gesond geword soos dié van 'n klein seuntjie en hy was weer rein.15
Hy en sy hele gevolg het teruggegaan na die man van God toe. Daar aangekom, het Naäman voor die man van God gaan staan en gesê: “Ek weet nou, daar is geen God op die hele aarde nie behalwe in Israel. Aanvaar asseblief hierdie geskenk van my.”16
Maar Elisa het gesê: “So seker as die Here leef in wie se diens ek is, ek sal dit nie aanvaar nie.” Naäman het by Elisa daarop aangedring om dit te aanvaar, maar hy het bly weier.17
Toe sê Naäman: “As u dan nie iets wil hê nie, wil u nie asseblief vir my twee muilvragte grond laat kry nie? Daarop wil ek brandoffers en ander diereoffers bring, net aan die Here, nie langer aan enige ander god nie.18 Daar is net een ding wat die Here my asseblief sal moet vergewe: as my koning na die tempel van Rimmon toe kom om te aanbid, en ek hom moet vergesel, en ek dan in die tempel van Rimmon aanbid wanneer hy daar aanbid, mag die Here my dit vergewe!”
19
Elisa het van Naäman afskeid geneem, maar toe hy 'n ent weg was,20 het Gehasi, die slaaf van Elisa die man van God, vir homself gesê: “Meneer het hierdie Arameër Naäman laat wegkom sonder om iets te aanvaar van alles wat hy gebring het. So seker as die Here leef, ek gaan agter hom aan hardloop en ek sal iets van hom aanvaar.”
21
Gehasi is agter Naäman aan. Toe Naäman hom agter hom aan sien hardloop, het hy van die wa af afgespring, hom tegemoet gegaan en gevra: “Wat is verkeerd?”22
“Niks nie,” het hy geantwoord. “Die profeet het my gestuur om te sê: Daar het nou net twee jongmanne van die profetegemeenskap hier aangekom van die Efraimsberge af, en sal u nie asseblief vir hulle vier en dertig kilogram silwer en twee stelle klere gee nie.”23
Naäman het gesê: “Wees so vriendelik om ag en sestig kilogram te aanvaar.” Hy het by hom daarop aangedring, die ag en sestig kilogram silwer in twee geldsakke toegebind en dit saam met die twee stelle klere aan twee van sy slawe gegee om dit voor Gehasi uit te dra.24 Toe hy by Die Bult kom, het hy dit by hulle gevat en in sy kamer gaan wegsteek. Toe hy die manne laat gaan het en hulle daar weg is,
25 en hy inkom en by die profeet gaan staan, vra Elisa vir hom: “Waar kom jy vandaan, Gehasi?”
Hy het geantwoord: “Ek was nêrens heen nie.”26
Hy sê toe vir hom: “Was ek nie in die gees by jou toe iemand van sy wa af omgedraai het om jou tegemoet te gaan nie? Moes jy dié geleentheid aangryp om silwer en klere in die hande te kry, of olyfboorde en wingerde, kleinvee en grootvee, slawe en slavinne?27 Die melaatsheid waarmee Naäman aangetas was, sal vir altyd aan jou en jou nageslag sit.”
Toe hy van Elisa af weggaan, was hy klaar melaats, wit soos sneeu.1
Die profete het vir Elisa gesê: “Die plek waar ons van u onderrig ontvang, het te klein geword vir ons.2 Laat ons na die Jordaan toe gaan en balke kap om vir ons 'n bymekaarkomplek te bou.”
“Gaan gerus,” het hy geantwoord.3
Een het vir hom gevra: “Wil u nie met ons saamgaan nie?” Hy het geantwoord: “Ek sal gaan,”4 en hy het saam met hulle gegaan.
Toe hulle by die Jordaan kom, het hulle bome afgekap.5 Terwyl een besig was om 'n boom af te kap, het sy byl in die water geval. Hy roep toe: “Ag tog, Meneer, en dit was boonop 'n geleende byl!”
6
Die man van God het gevra waar die byl ingeval het. Toe die profeet vir hom die plek gewys het, het hy 'n stuk hout afgekap en dit daar ingegooi, en dit het die byl bo laat dryf.7 Hy sê toe vir hom: “Haal dit uit.” Die man het sy hand uitgesteek en dit gevat.
8
Die koning van Aram was in oorlog met Israel gewikkel en het telkens met sy offisiere afgespreek dat hy op 'n sekere plek sou kamp opslaan.9 Die man van God het dan aan die koning van Israel die volgende boodskap gestuur: “Pas op dat u nie na daardie plek toe optrek nie, want die Arameërs trek soontoe op.”
10
Gevolglik het die koning van Israel boodskappe deurgestuur na die plek toe wat die man van God aan hom genoem het en hom voor gewaarsku het. Die mense daar was dan keer op keer voorbereid.11
Die koning van Aram het baie onrustig geword hieroor. Hy het sy offisiere laat roep en vir hulle gesê: “Ek wil van julle weet wie van ons dra nuus oor aan die koning van Israel.”12
Een van sy offisiere het geantwoord: “Nie een van ons nie, U Majesteit, maar die profeet Elisa daar in Israel kan vir die koning van Israel vertel selfs wat u in u slaapkamer sê.”13
Die koning van Aram het gesê: “Gaan vind uit waar hy is, dan stuur ek manne om hom te vang.” Die koning is meegedeel: “Hy is in Dotan.”14
Die koning stuur toe perde, strydwaens en 'n sterk mag daarheen. Hulle het in die nag gekom en die stad omsingel.15
Die môre vroeg het die slaaf van die man van God opgestaan, en toe hy uitgaan, sien hy 'n leër rondom die stad, met perde en strydwaens. “Ag, Meneer!” sê die slaaf vir Elisa, “wat gaan ons nou maak?”16
Hy het geantwoord: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.”17
Elisa het gebid: “Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien.” Die Here het die oë van die slaaf oopgemaak, en hy het gesien: die berge rondom Elisa was vol perde en strydwaens van vuur.18 Toe die Arameërs op hom afstorm, het Elisa tot die Here gebid: “Slaan tog hierdie mense met blindheid!”
Die Here het hulle met blindheid geslaan net soos Elisa gevra het.19
Elisa sê toe vir hulle: “Dis nie die regte pad nie en dis nie die regte stad hierdie nie. Kom agter my aan, dan lei ek julle tot by die man vir wie julle soek.” Hy het hulle na Samaria toe gelei.20 Toe hulle in Samaria kom, sê Elisa: “Here, maak hierdie mense se oë oop dat hulle kan sien.”
Toe die Here hulle oë oopmaak en hulle kyk, toe is hulle binne-in Samaria!21
Toe die koning van Israel hulle sien, vra hy vir Elisa: “Moet ek hulle doodmaak, Meneer, moet ek hulle doodmaak?”22
“Nee, moet hulle nie doodmaak nie,” was sy antwoord. “Sou jý mense doodmaak wat jy met jou eie swaard en jou pyl en boog krygsgevange geneem het? Sit vir hulle eet- en drinkgoed voor, dat hulle kan eet voordat hulle teruggaan na hulle koning toe.”23
Die koning van Israel het vir hulle 'n groot feesmaal gegee. Nadat hulle geëet het, het hy hulle laat gaan, terug na hulle koning toe. Die bendes van die Arameërs het toe nie weer in die land Israel gekom nie.24
Later het koning Ben-Hadad van Aram sy hele leër opgeroep, na Samaria toe opgeruk en dit beleër.25 Daar het 'n groot hongersnood in Samaria ontstaan, en die beleg het voortgeduur totdat die kop van 'n donkie naderhand byna 'n kilogram silwer gekos het en 'n klein skeppie duiwemis sewe en vyftig gram.
26
Toe die koning van Israel 'n keer op die stadsmuur langs verbyloop, het 'n vrou uitgeroep: “Help my asseblief, U Majesteit!”27
Hy het geantwoord: “As die Here jou nie help nie, hoe sal ek jou kan help? Uit die dorsvloer of uit die parskuip?”28
Toe die koning haar vra wat haar moeilikheid is, antwoord sy: “Hierdie vrou het aan my voorgestel: ‘Gee jou kind dat ons hom vandag eet, dan kan ons môre my kind eet.’29 Ons het toe my kind gekook en geëet, maar toe ek vir haar die volgende dag sê: Gee nou jou kind dat ons hom eet, het sy haar kind weggesteek!”
30
Toe die koning die vrou se verhaal hoor, het hy sy klere geskeur. Soos hy op die muur langs verbygeloop het, kon die bevolking sien dat hy 'n roukleed onder sy ander klere aanhet.31 Hy het uitgeroep: “Mag die Here my om die lewe bring as ek vandag Elisa seun van Safat se kop op sy lyf laat bly.”
32
Elisa het in sy huis gesit saam met die leiers. Die koning het iemand met 'n opdrag gestuur, maar voordat die boodskapper nog by Elisa aangekom het, het hy al vir die leiers gesê: “Weet julle, hierdie moordenaarskind het iemand gestuur om my kop af te kap. Hou dop wanneer die boodskapper kom. Sluit dan die deur en hou hom buite. Sy koning kom agter hom aan.”33
Terwyl Elisa nog so met hulle sit en praat, het die koning self na hom toe gekom en gesê: “Kyk watter ellende het die Here oor ons gebring. Hoe kan ek nog op die Here hoop!”1
Maar Elisa sê: “Hoor die woord van die Here! So het die Here gesê: Môre hierdie tyd sal 'n mens vir elf gram silwer vyf kilogram meel of nege kilogram gars kom koop, hier in die poort van Samaria.”2
Die adjudant, wat die vertroueling van die koning was, het vir die man van God gesê: “Dit is onmoontlik selfs al maak die Here vensters in die hemel sodat dit nou reën.” Elisa het geantwoord: “Toe maar, jy sal dit met jou eie oë sien, maar jy sal nie daarvan eet nie.”3
Daar was vier melaatses by die ingang van die stadspoort. Hulle het vir mekaar gesê: “Hoekom bly ons hier tot ons doodgaan?4 As ons sou besluit ons wil in die stad ingaan, sal ons daar doodgaan, want daar is hongersnood in die stad. Bly ons hier, is ons ook dood. Kom ons loop oor na die kamp van die Arameërs toe! As hulle ons laat leef, leef ons; as hulle ons doodmaak, is ons dood!”
5
Skemeraand het hulle na die kamp van die Arameërs toe vertrek. Toe hulle by die kant van die kamp van die Arameërs kom, ontdek hulle dat daar niemand is nie!6 Die Here het die Arameërs in die kamp die geluid laat hoor van strydwaens, perde en 'n groot leër. Hulle het vir mekaar gesê: “Die koning van Israel het die konings van die Hetiete en van Egipte gehuur om ons aan te val.”
7
In die skemer het hulle op die vlug geslaan. Hulle het die hele kamp net so gelos soos dit was, tente, perde en donkies, en vir hulle lewe gevlug.8
Toe hierdie melaatses by die kant van die kamp gekom het, het hulle in 'n tent ingegaan en geëet en gedrink. Hulle het ook silwer, goud en klere daaruit gevat en dit gaan begrawe. Daarna is hulle 'n tweede tent in waaruit hulle ook goed gevat en gaan begrawe het.9 Hulle sê toe vir mekaar: “Ons maak nie reg nie. Vandag is 'n dag vir blydskap en ons bly stil! As ons wag tot ligdag, sal ons beslis gestraf word. Kom ons gaan vertel dit by die paleis van die koning.”
10
Hulle het by die stad aangekom en na die wagte geroep en vir hulle vertel: “Toe ons by die kamp van die Arameërs gekom het, was daar niemand te sien of te hoor nie. Daar was net vasgemaakte perde en donkies, en die tente net soos hulle gelos is.”11
Die wagte het die nuus verder oorgedra totdat dit binne in die paleis bekend geword het.12
Die koning het die nag opgestaan en vir sy amptenare gesê: “Ek sal julle vertel wat die Arameërs met ons wil doen! Hulle weet ons is uitgehonger. Hulle het uit die kamp uit gegaan en in die veld gaan wegkruip met die gedagte: as die Israeliete uit die stad uitgaan, vang ons hulle lewendig en kom so self in die stad.”13
Een van sy amptenare het hierop geantwoord: “Laat van ons mense vyf van die perde vat wat nog oor is, dan stuur ons hulle met die perde en kyk wat gebeur. Hulle sal dit óf oorleef soos die menigte Israeliete wat nog in die stad oor is, óf hulle sal omkom soos die menigte Israeliete wat hier al aan hulle einde gekom het.”14
Hulle het twee strydwaens met perde gevat. Die koning het hulle agter die leër van die Arameërs aan gestuur met die opdrag: “Gaan kyk.”15
Hulle is agter hulle aan tot by die Jordaan. Die hele pad het vol klere en goed gelê wat die Arameërs in hulle haas om weg te kom, weggegooi het. Die boodskappers het teruggekom en dit aan die koning meegedeel.16
Toe het die volk uit die stad uit gegaan en die kamp van die Arameërs geplunder. Vyf kilogram meel of nege kilogram gars het net elf gram silwer gekos, soos die Here gesê het.17 Die koning het die adjudant, wat sy vertroueling was, in bevel van die poort geplaas, maar hy is deur die volk in die poort doodgetrap, net soos die man van God dit vir die koning gesê het toe dié na hom toe gekom het.
18 Dit het gebeur net soos die man van God vir die koning gesê het: “Nege kilogram gars of vyf kilogram meel sal môre hierdie tyd net elf gram silwer kos in die poort van Samaria.”
19
Toe het die adjudant mos die man van God geantwoord: “Dit is onmoontlik selfs al maak die Here vensters in die hemel dat dit nou reën,” en Elisa het geantwoord: “Toe maar, jy sal dit met jou eie oë sien, maar jy sal net nie daarvan eet nie.”20
Dit is presies wat met die adjudant gebeur het: die volk het hom in die poort doodgetrap.1
Elisa het vir die vrou wie se seun hy in die lewe teruggebring het, gesê: “Maak klaar om te vertrek, jy en jou huisgesin. Gaan bly op enige plek in die buiteland waar jy blyplek kan kry, want die Here het 'n hongersnood van sewe jaar vir hierdie land bepaal, en dit het al klaar begin.”2
Die vrou het klaargemaak soos die profeet gesê het, en met haar gesin vertrek en sewe jaar lank in die land van die Filistyne gaan bly.3 Aan die einde van die sewe jaar het sy uit die land van die Filistyne teruggekeer. Sy het na die koning toe gegaan om by hom te pleit vir haar huis en haar grond.
4
Die koning was in gesprek met Gehasi, die slaaf van die man van God. Hy het gevra: “Vertel 'n bietjie vir my van al die groot dinge wat Elisa gedoen het.”5
Terwyl hy vir die koning vertel van die dooie vir wie Elisa in die lewe teruggebring het, kom die vrou wie se seun hy in die lewe teruggebring het, juis by die koning pleit vir haar huis en haar grond. Gehasi sê toe: “U Majesteit, dit is die vrou hierdie, en dit is haar seun vir wie Elisa in die lewe teruggebring het.”6 Die koning het die vrou uitgevra, en sy het hom alles vertel. Die koning het 'n paleisamptenaar tot haar beskikking gestel met die opdrag: “Sorg dat sy alles terugkry wat aan haar behoort, ook die hele opbrengs van die grond van die dag af dat sy die land verlaat het tot nou toe.”
7
Toe Elisa in Damaskus kom, was koning Ben-Hadad van Aram juis siek. Toe hulle hom meedeel dat die man van God daar aangekom het,8 het die koning vir Gasael gesê: “Neem geskenke saam met jou en gaan na die man van God toe. Gaan raadpleeg die Here deur hom of ek van hierdie siekte gesond sal word.”
9
Gasael het hom tegemoet gegaan met geskenke van allerhande pragtige Damaskusware, 'n vrag vir veertig kamele. Hy het by hom gekom, voor hom gaan staan en gesê: “U dienswillige, koning Ben-Hadad van Aram, het my na u toe gestuur om te vra of hy van sy siekte gesond sal word.”10
Elisa het vir Gasael gesê: “Gaan sê vir jou koning hy sal nie gesond word nie, want die Here het aan my geopenbaar dat hy sal sterwe.”11
Die man van God het vir Gasael met 'n strak gesig aangekyk totdat hy verleë geword het. Toe het Elisa in trane uitgebars.12
“Waarom huil u?” het Gasael gevra. Elisa het geantwoord: “Omdat ek weet watter kwaad jy die Israeliete gaan aandoen. Jy sal hulle vestings in vlamme laat opgaan, hulle jongmanne doodmaak, hulle kindertjies verpletter en hulle swanger vrouens oopsny.”13
Maar Gasael het gesê: “Ek het nie enige mag nie, hoe sou ek so iets kon doen!” Elisa het geantwoord: “Die Here het aan my geopenbaar dat jy koning oor Aram sal word.”14
Gasael het van Elisa af weggegaan en by sy koning gekom. Dié het hom gevra: “Wat het Elisa vir jou gesê?” Gasael antwoord toe: “Hy het vir my gesê u sal lewe.”15
Die volgende môre het Gasael 'n doek gevat, dit in water gesteek en oor die koning se gesig getrek, en die koning het gesterf. Gasael het hom as koning opgevolg.16
In die vyfde regeringsjaar van koning Joram van Israel, seun van Agab, het Joram seun van Josafat sy pa opgevolg as koning van Juda.17 Hy was twee en dertig toe hy koning geword het, en hy het ag jaar in Jerusalem geregeer.
18
Hy het die pad van die konings van Israel geloop soos die koningshuis van Agab gedoen het, want hy was getroud met 'n dogter van Agab. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here.19
Die Here wou Juda nie vernietig nie, ter wille van sy dienaar Dawid. Die Here het hom belowe om altyd iemand uit sy nageslag op sy troon te laat sit.20
In die tyd van Joram het die Edomiete teen Juda gerebelleer en 'n eie koning oor hulle aangestel.21 Joram het met sy hele strydwamag opgeruk na Saïr toe. Hy het in die nag die Edomiete aangeval wat hom en sy strydwaoffisiere wou omsingel, maar sy manskappe moes vlug, terug huis toe.
22
Tot vandag toe is Edom in opstand teen die gesag van Juda. Destyds het Libna ook gerebelleer.23
Die ander verhale oor Joram en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.24 Hy is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Ahasia het hom as koning opgevolg.
25
In die twaalfde regeringsjaar van koning Joram van Israel, seun van Agab, het Ahasia seun van Joram koning van Juda geword.26 Ahasia was twee en twintig toe hy koning geword het en hy het 'n jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Atalia 'n kleindogter van koning Omri van Israel.
27 Hy het die pad van die koningshuis van Agab geloop: hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here net soos die koningshuis van Agab, want hy het ingetrou in die familie van Agab.
28 Saam met Joram seun van Agab het hy opgeruk om te veg teen koning Gasael van Aram by Ramot in Gilead. Die Arameërs het vir Joram daar gewond.
29 Koning Joram het teruggegaan om in Jisreël te gaan herstel van die wonde wat die Arameërs hom in Ramot toegedien het toe hy teen koning Gasael van Aram geveg het. Koning Ahasia van Juda, seun van Joram, het vir Joram seun van Agab in Jisreël gaan besoek waar hy siek gelê het.
1
Die profeet Elisa het een van die profete geroep en vir hom gesê: “Maak klaar en vat hierdie kruikie olie en gaan na Ramot in Gilead toe.2 As jy daar kom, gaan soek vir Jehu op, seun van Josafat seun van Nimsi. Gaan in, bring hom eenkant, weg van sy medeoffisiere af, in 'n binnekamer,
3 vat die kruik olie en giet dit op sy kop uit. Sê dan vir hom: ‘So sê die Here: Ek salf jou tot koning van Israel.’ Maak dan die deur oop en vlug onmiddellik.”
4
Die jongman, die profeet, het na Ramot in Gilead toe gegaan.5 Toe hy daar aankom, was die generaals besig met 'n samespreking. Hy het gesê: “Ek het 'n boodskap vir u, Generaal.”
Jehu het gevra: “Vir wie van ons?” Hy het geantwoord: “Vir u, Generaal.”6
Jehu het opgestaan en toe hy in die ander vertrek inkom, het die profeet die olie op Jehu se kop uitgegiet met die woorde: “So sê die Here die God van Israel: Ek salf jou tot koning oor Israel, die volk van die Here.7 Jy sal die koningshuis van Agab vernietig. So sal Ek My wreek op Isebel oor die vergieting van die bloed van my dienaars die profete, oor die vergieting van die bloed van al die dienaars van die Here.
8 Die hele koningshuis van Agab sal tot niet gaan. Ek sal elke manlike nakomeling van Agab in Israel sonder uitsondering uitroei.
9 Ek sal met die huis van Agab maak soos met die huis van Jerobeam seun van Nebat, en soos met die huis van Baesa seun van Agija.
10 Die honde sal vir Isebel opvreet op die oop stuk grond in Jisreël; sy sal nie begrawe word nie.”
Die profeet het toe die deur oopgemaak en gevlug.11
Toe Jehu uit die kamer uit terugkom by die amptenare van die koning, het hulle vir hom gevra: “Is alles reg? Hoekom het hierdie mal man na jou toe gekom?” Hy het hulle geantwoord: “Julle ken tog self die man en sy praatjies.”12 Hulle antwoord toe: “Onsin! Toe, vertel ons.”
Hy het gesê: “Dit is wat die man vir my gesê het: So sê die Here: Ek salf jou tot koning oor Israel.”13
Onmiddellik het elkeen sy klere gevat en dit op die trappe voor Jehu oopgegooi. Hulle het die ramshoring geblaas en uitgeroep: “Jehu is koning!”14
[14-15] Jehu seun van Josafat, seun van Nimsi, het met hulle saamgesweer teen koning Joram van Israel. Hy was toe in Jisreël waar hy gaan herstel het van die wonde wat die Arameërs hom toegedien het toe hy teen koning Gasael van Aram geveg het. Dit het gebeur terwyl Joram en die Israeliete besig was om Ramot in Gilead te verdedig teen koning Gasael van Aram. Jehu het gesê: “As julle aan my kant is, sorg dat niemand wegkom uit Ramot uit om die nuus in Jisreël te gaan vertel nie.”15
16
Daarna het Jehu op sy wa geklim en Jisreël toe gery waar Joram siek gelê het en koning Ahasia van Juda vir Joram gaan besoek het.17 Waar die wag op die toring in Jisreël gestaan het, het hy Jehu se aanhangers sien aankom. Hy het opgemerk: “Ek sien 'n klomp mense.”
Toe sê Joram: “Beveel 'n ruiter om hulle tegemoet te ry en te vra of hulle in vrede kom.”18
Die perderuiter het Jehu tegemoet gegaan en gesê: “Die koning vra of jy in vrede kom.” Jehu het geantwoord: “Wat maak dit saak of ek in vrede kom? Sluit by my aan.” Die man het laat weet: “Die boodskapper het tot by hulle gekom, maar hy kom nie terug nie.”19
Koning Joram stuur toe 'n tweede perderuiter. Toe hy by hulle kom, sê hy: “Die koning vra of jy in vrede kom?” Jehu het geantwoord: “Wat maak dit saak of ek in vrede kom? Sluit by my aan.”20
Die wag het laat weet: “Die boodskapper het tot by hulle gekom, maar hy kom nie terug nie. Die een wat die wa dryf, moet Jehu seun van Nimsi wees, want hy dryf soos 'n mal mens!”21
Koning Joram van Israel het toe opdrag gegee: “Span die wa in.” Hulle het sy wa ingespan en hy het opgeklim. Koning Ahasia van Juda het op sy eie wa geklim. Hulle het na Jehu toe gery en by hom gekom by die stuk grond van Nabot die Jisreëliet.22 Toe Joram vir Jehu sien, vra hy: “Kom jy in vrede, Jehu?”
Maar hy antwoord: “Wat? Vrede? Met al hierdie hoerery en toordery van jou ma Isebel se afgodsdiens?”23
Toe Joram die wa ompluk om te vlug, skree hy vir Ahasia: “Verraad, Ahasia!”24
Jehu het sy boog gespan en Joram tussen die blaaie getref. Die pyl is deur sy hart; daar op sy wa het hy inmekaargesak.25 Jehu het sy adjudant Bidkar beveel: “Tel hom op en gooi hom op die stuk grond van Nabot die Jisreëliet. Onthou jy toe ek en jy langs mekaar agter sy pa Agab aangery het hoe die Here hierdie oordeel oor hom aangekondig het?
26 Die Here het toe gesê: ‘So seker as Ek die vergieting van die bloed van Nabot en van sy seuns gister gesien het, sal Ek jou daarvoor vergelding laat doen op hierdie selfde stuk grond.’ Vat hom nou en gooi hom op dié stuk grond, net soos die Here gesê het.”
27
Toe koning Ahasia van Juda sien wat gebeur, het hy in die rigting van Bet-Gan gevlug. Jehu het hom agtervolg en opdrag gegee: “Skiet hom ook!” Op die hoogte van Gur, by Jibleam, het hulle hom op sy wa raakgeskiet. Hy het nog tot by Megiddo gevlug, maar daar het hy gesterf.28 Sy dienaars het hom op sy wa na Jerusalem toe vervoer en hom daar in die Dawidstad in die familiegraf begrawe.
29
In die elfde regeringsjaar van Joram seun van Agab het Ahasia koning geword oor Juda.30
Isebel het gehoor dat Jehu na Jisreël toe op pad is. Sy het oogverf aangesmeer en haar hare mooi gemaak. Sy het by die venster gaan staan en uitkyk.31
Toe Jehu by die poort inkom, het sy vir hom gesê: “Kom jy in vrede, Simri , koningsmoordenaar?”32
Jehu het na die venster toe opgekyk en gevra: “Wie is aan my kant? Wie?” Twee, drie paleisamptenare het afgekyk na hom toe.33 Hy het beveel: “Gooi haar af!”
Toe gooi hulle haar af. Van haar bloed het teen die muur en teen die perde gespat, en hulle het haar doodgetrap.34
Hy het in die paleis ingegaan en gaan eet en drink. Daarna het hy gesê: “Sien tog maar om na hierdie vervloekte vrou. Begrawe haar, sy is darem 'n koning se dogter.”35
Hulle is weg om haar te gaan begrawe, maar hulle kon net die kopbeen, die voete en die hande kry.36 Toe hulle dit aan Jehu kom rapporteer, het hy gesê: “Dit is die woord van die Here wat deur sy dienaar Elia die Tisbiet gekom het: ‘Op die oop stuk grond in Jisreël sal die honde die vleis van Isebel opvreet.’
37 Op die oop stuk grond in Jisreël sal die lyk van Isebel wees soos mis in 'n land. Niemand sal kan sê dit is Isebel nie.”
1
In Samaria was daar sewentig prinse uit Agab se geslag. Jehu het briewe geskryf en dit na Samaria toe gestuur, na die regeerders van Jisreël, na die leiers en na die opvoeders van Agab se nakomelinge. Dit het so gelui:2
“As julle hierdie brief kry — julle het daar by julle die prinse, die strydwaens en perde, 'n versterkte stad en wapentuig —3 soek dan die beste en knapste prins uit en sit hom op die troon van sy pa. Maar julle sal moet veg vir julle koningshuis.”
4
Hulle het bang geword, want hulle het gedink: twee konings moes die onderspit teen hom delf, hoe sal ons ons kan handhaaf?5
Die amptenaar in beheer van die paleis en die een in beheer van die stad, die leiers en die opvoeders het vir Jehu laat weet: “Ons wil u onderdane wees. Ons wil niemand koning maak nie. Alles wat u aan ons opdra, sal ons uitvoer. Doen wat u goedvind.”6
Toe skryf hy vir hulle 'n tweede brief: “As julle ten gunste van my is en aan my gehoorsaam wil wees, bring die koppe van die prinse môre hierdie tyd na my toe in Jisreël.” Die sewentig prinse was elkeen tuis by 'n vooraanstaande persoon van die stad wat hulle moes grootmaak.7 Toe die brief by die leiers kom, het hulle die prinse gevat en al sewentig doodgemaak en hulle koppe in mandjies na Jehu toe in Jisreël gestuur.
8 Die boodskapper het kom rapporteer: “Hulle het die koppe van die prinse gebring.”
Jehu het gesê: “Sit hulle tot môreoggend in twee hope neer by die ingang van die poort.”9
Die volgende môre het hy uitgegaan, daar gaan staan, en vir al die mense daar gesê: “Julle is onskuldig. Dit is ek wat teen die koning saamgesweer en hom vermoor het, maar wie het al hierdie mense doodgemaak?10 Erken dan dat nie 'n enkele ding wat die Here oor die huis van Agab gesê het, onvervul sal bly nie. Die Here het alles gedoen wat Hy deur sy dienaar Elia gesê het.”
11
Jehu het almal doodgemaak wat nog van die koningshuis van Agab in Jisreël oor was: al die vooraanstaandes, vertrouelinge, selfs priesters; hy het nie een laat wegkom nie.12
Jehu het klaargemaak en na Samaria toe vertrek. Langs die pad by Bet-Eked-Roïm13 het hy die broers van koning Ahasia van Juda teëgekom. “Wie is julle?” het hy gevra.
“Ons is Ahasia se broers,” het hulle geantwoord, “ons gaan kyk hoe gaan dit met die prinse en die koning se ma.”14
Jehu het beveel: “Vang hulle.” Hulle het hulle gevang en hulle doodgemaak by die put van Bet-Eked, altesaam twee en veertig; hy het nie een van hulle laat oorbly nie.15
Toe hy daar weg is, kom hy vir Jonadab seun van Rekab op die pad teë. Nadat hy hom gegroet het, vra hy vir hom: “Kan ek op jou reken soos jy op my?” Jonadab het geantwoord: “Ja.” “As dit ja is,” sê Jehu, “gee my jou hand.” Hulle het mekaar die hand gegee en Jehu het hom by hom op die wa laat klim.16 Jehu het gesê: “Kom saam met my, dan sal jy my ywer vir die Here sien.” Jehu het hom saam met hom laat ry,
17 en toe Jehu in Samaria kom, het hy almal van Agab wat nog in Samaria oor was, doodgemaak; hy het tot die laaste een toe om die lewe gebring, soos die Here vir Elia gesê het.
18
Jehu het die hele volk bymekaar laat kom en vir hulle gesê: “Agab het vir Baäl maar net 'n bietjie gedien, maar ek wat Jehu is, gaan hom baie meer dien.19 Roep nou al die profete van Baäl na my toe, al sy vereerders en al sy priesters. Nie een mag wegbly nie, want ek wil 'n groot offer aan Baäl bring. Nie een wat wegbly, sal bly leef nie.”
Jehu het dit met lis beplan om die vereerders van Baäl te kan vernietig.20
Jehu het beveel: “Sonder vir Baäl 'n feesdag af.” So 'n feesdag is uitgeroep,21 en Jehu het oral in Israel boodskappers gestuur, sodat al die vereerders van Baäl gekom het; daar was nie 'n enkele wat nie gekom het nie. Hulle het in die tempel van Baäl ingegaan, sodat die tempel naderhand van hoek tot kant vol was.
22 Aan die persoon wat oor die klerekamer toesig gehou het, het hy gesê: “Bring klere vir al die vereerders van Baäl.”
Hy het vir hulle die klere gebring.23 Jehu en Jonadab seun van Rekab het saam in die tempel van Baäl ingegaan, en Jehu het vir die vereerders van Baäl gesê: “Sorg dat hier nie vereerders van die Here saam met julle is nie; net die vereerders van Baäl moet hier wees.”
24
Toe hulle ingaan om die brandoffers en ander diereoffers te bring, was daar buite tagtig man wat deur Jehu opgestel is met die bevel: “Die persoon wat een van die manne wat ek in julle mag gee, laat wegkom, sal met sy eie lewe daarvoor boet.”25
Net toe Jehu klaar die brandoffer gebring het, het hy vir die hardlopers en die adjudante gesê: “Gaan in en maak hulle dood. Niemand mag daar uitkom nie.” Hulle het hulle doodgesteek en die liggame uitgegooi. Hulle het in die binneste heiligdom van die Baälstempel ingedring,26 die klippilaar uit die Baälstempel uitgebring en dit in die vuur gegooi.
27 Hulle het die klippilaar stukkend geslaan en die tempel van Baäl afgebreek en daarvan kleinhuisies gebou, wat dit vandag nog is.
28 So het Jehu die Baäldiens uit Israel verdelg.
29
Jehu het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie: die goue kalwers wat in Bet-El en in Dan was, is nog vereer.30
Die Here het vir Jehu gesê: “Omdat jy gedoen het wat goed en reg is in my oë en jy die huis van Agab alles aangedoen het wat Ek My voorgeneem het, sal jou kinders tot in die vierde geslag op die troon van Israel sit.”31
Maar Jehu het nie met sy hele hart die woord van die Here die God van Israel gehoorsaam nie. Hy het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam vir Israel laat doen het nie.32
In daardie tyd het die Here begin om die gebied van Israel kleiner te maak. Oral in die grondgebied van Israel het Gasael hulle neerlae toegedien:33 van die Jordaan af ooswaarts, die hele Gilead waar die stamme Gad, Ruben en Manasse gewoon het, van Aroër af aan die Arnonrivier, Gilead sowel as Basan.
34
Die ander verhale oor Jehu en alles wat hy gedoen het, al sy dapper dade, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.35 Jehu is oorlede, en hulle het hom begrawe in Samaria. Sy seun Joahas het hom as koning opgevolg.
36 Jehu het ag en twintig jaar in Samaria as koning oor Israel geregeer.
1
Toe Ahasia se ma Atalia hoor haar seun is dood het sy begin om die hele koningsgeslag uit te roei.2 Jehoseba, dogter van koning Joram en suster van Ahasia, het egter vir Joas, 'n seun van Ahasia, stilletjies weggevat tussen die prinse wat doodgemaak sou word. Sy het hom en sy oppasster in 'n slaapkamer weggesteek vir Atalia, sodat hy die dood vrygespring het.
3 Hy is ses jaar by Jehoseba in die huis van die Here weggesteek, en in dié tyd het Atalia die land geregeer.
4 In die sewende jaar het die priester Jojada boodskappe gestuur na die Kariërs se bevelhebbers oor honderd en na dié van die hardlopers, en hulle na hom toe in die huis van die Here laat kom. Daar het hy met hulle 'n verbond gesluit. Nadat hy hulle in die huis van die Here 'n eed laat aflê het, het hy hulle die koning se seun gewys.
5 Hy het hulle beveel: “'n Derde van julle, van dié wat op die sabbat kom diens doen, moet wagstaan by die wagpos van die paleis.
6 'n Derde moet by die Surpoort en 'n derde by die poort agter die hardlopers wagstaan. Julle moet om die beurt by die tempel wagstaan.
7 Die twee afdelings van julle wat op die sabbat van diens af gaan, moet die koning in die huis van die Here bewaak.
8 Julle moet rondom die koning wees, elkeen met sy wapens in die hand. Enigeen wat in julle geledere probeer inkom, moet doodgemaak word. Bly by die koning oral waar hy gaan.”
9
Die bevelhebbers oor honderd het alles gedoen wat die priester Jojada beveel het. Elkeen het sy manskappe gevat, dié wat op die sabbat diens moes doen, sowel as dié wat klaar was met hulle diens, en na die priester Jojada toe gekom.10 Daarna het die priester die spiese en die skilde wat nog aan koning Dawid behoort het en in die tempel was, aan die bevelvoerders uitgedeel.
11 Die hardlopers het elkeen met sy wapen in die hand om die koning gaan staan, naby die altaar en die tempel, van die suidekant tot by die noordekant van die tempel.
12 Toe het Jojada die jong koning vorentoe laat kom, hom gekroon en die koninklike volmag aan hom oorhandig. So het hulle hom koning gemaak. Hulle het hom gesalf, hande geklap en geroep: “Lank lewe die koning!”
13
Atalia het die uitroepe van die hardlopers en die volk gehoor en het ook na die huis van die Here toe gegaan waar die volk bymekaar was.14 Daar sien sy toe die koning op sy plek staan soos die gebruik was, met die volksleiers en trompetblasers by hom en al die burgers van die land wat juig en trompette blaas. Toe skeur Atalia haar klere en skreeu: “Verraad, verraad!”
15
Die priester Jojada beveel toe die bevelhebbers oor honderd wat in beheer van die manskappe was: “Bring haar tussen julle uit en maak elkeen dood wat agter haar aankom.” Die priester het gesê: “Sy mag nie in die huis van die Here doodgemaak word nie.”16
Hulle het haar gegryp en haar deur die Perdepoort na die paleis toe gevat en haar daar doodgemaak.17 Toe het Jojada 'n verbond gesluit tussen die Here, die koning en die volk, dat hulle die volk van die Here sou wees. Hy het ook tussen die koning en die volk 'n verbond tot stand laat kom.
18
Daarna het al die burgers van die land na die Baälstempel toe gegaan en dit verwoes. Hulle het die altare en die beelde stukkend geslaan en vir Mattan, die Baälspriester, by die altare doodgeslaan. Die priester Jojada het opsigters oor die huis van die Here aangestel.19 Hy het die bevelhebbers oor honderd, die Kariërs, die hardlopers en al die burgers van die land geneem om die koning van die huis van die Here af deur die Hardloperspoort na die paleis toe te bring. Daar het die koning op die troon gaan sit.
20
Al die burgers van die land was bly. Die stad was weer rustig. Hulle het vir Atalia in die paleis doodgemaak.21
Joas was sewe jaar toe hy koning geword het.1
In die sewende regeringsjaar van Jehu het Joas koning geword, en hy het veertig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Sibja, uit Berseba.2 Al die jare wat die priester Jojada sy leermeester was, het hy gedoen wat reg is in die oë van die Here.
3 Hy het net nie die hoogtes verwyder nie. Die volk het voortgegaan om daar diereoffers en wierookoffers te bring.
4
Joas het vir die priesters gesê: “Neem al die geld wat as gewyde gawes na die huis van die Here toe gebring word: die geld wat gekollekteer word, dié waarvoor elkeen persoonlik aangeslaan word en dié wat as vrywillige gawes na die huis van die Here toe gebring word.5 Die priesters moet die geld in ontvangs neem by dié wat dit bring, en die tempel daarmee herstel, oral waar daar bouvallige plekke is.”
6
In die drie en twintigste regeringsjaar van koning Joas het die priesters die bouvallige plekke in die tempel nog steeds nie herstel gehad nie.7 Toe het koning Joas vir Jojada en die ander priesters ingeroep en vir hulle gevra: “Waarom herstel julle nie die bouvallige plekke in die tempel nie? Julle moenie geld aanvaar van dié wat dit bring, as julle nie daarmee vir die herstel van die bouvallige plekke betaal nie.”
8
Die priesters het toe onderneem om nie langer geld van die volk te aanvaar solank hulle nie die bouvallige plekke herstel nie.9
Die priester Jojada het 'n kis gevat, 'n gat in die deksel geboor en dit langs die altaar neergesit, regs van waar 'n mens die huis van die Here binnekom. Die priesters wat by die drumpel wag gestaan het, het al die geld wat na die huis van die Here toe gebring is, daarin gegooi.10 Toe hulle sien dat daar baie geld in die kis is, het die sekretaris van die koning saam met die hoëpriester na die tempel toe gegaan en die geld wat in die huis van die Here was, in 'n sak gesit en gaan tel.
11 Hulle het die afgetelde geld oorbetaal aan die werksvoormanne wat vir die huis van die Here aangestel is. Dié het dit oorbetaal aan die skrynwerkers en bouers wat die werk aan die huis van die Here moes uitvoer,
12 so ook aan die messelaars en die klipkappers, om hout en gekapte klip te koop om die herstelwerk aan die huis van die Here te doen, kortom, om alle uitgawes aan die herstel van die tempel te dek.
13 Daar is geen silwerbakke, skêre, komme of trompette gemaak vir die huis van die Here nie; geen silwer- of goue gereedskap is gemaak van die geld wat na die huis van die Here toe gebring is nie.
14 Dit moes aan die voormanne gegee word om die huis van die Here te herstel.
15 Hulle het nie die manne laat boekhou van die geld wat hulle aan hulle betaal het nie. Dit is aan die voormanne gegee wat die werk eerlik uitgevoer het.
16 Die geld vir skuldoffers en sondeoffers is nie in die huis van die Here gebring nie; dit was vir die priesters bestem.
17
Destyds het koning Gasael van Aram na Gat toe opgeruk, dit aangeval en ingeneem. Hierna het hy na Jerusalem toe koers gekies om dit te gaan aanval.18 Koning Joas van Juda het al die gewyde gawes wat deur sy voorvaders Josafat, Joram en Ahasia, konings van Juda, gebring is, gevat en aan koning Gasael van Aram gestuur saam met sy eie gewyde gawes en al die goud wat in die skatkamers van die huis van die Here en in die paleis te vinde was. Toe het Gasael van Jerusalem af teruggetrek.
19
Die ander verhale oor Joas en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.20 Sy amptenare het teen hom in opstand gekom en teen hom saamgesweer. Hulle het vir Joas doodgemaak by Bet-Millo waar 'n mens afgaan na Silla toe.
21 Dit was sy amptenare Sabad seun van Simat en Josabad seun van Somer wat hom doodgemaak het. Hy is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Amasia het hom as koning opgevolg.
1
In die drie en twintigste regeringsjaar van koning Joas van Juda, seun van Ahasia, het Joahas seun van Jehu in Samaria koning oor Israel geword. Hy het sewentien jaar geregeer,2 en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het dieselfde sonde gedoen as wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het. Daarvan het hy nie afgewyk nie.
3 Daarom het die Here toornig geword op Israel en hulle gedurende die regering van Joahas oorgegee in die mag van koning Gasael van Aram en in die mag van Ben-Hadad seun van Gasael.
4 Joahas het die Here om genade gesmeek. Die Here het sy gebed verhoor, want die Here het opgemerk hoe wreed die koning van Aram hulle onderdruk het.
5 Die Here het aan Israel 'n redder gegee sodat hulle bevry kon word uit die mag van Aram, en sodat die Israeliete weer soos vroeër in hulle eie huise kon woon.
6 Ten spyte hiervan het hulle nie afgesien van die sonde wat die koningshuis van Jerobeam vir Israel laat doen het nie. Hulle het daarmee volhard. Selfs die Asjerabeeld het in Samaria bly staan.
7 Koning Gasael van Aram het die leër van Joahas vernietig en soos stof vertrap. Gasael het vir Joahas geen manskappe laat oorbly nie, net vyftig ruiters, tien strydwaens en tien duisend voetsoldate.
8
Die ander verhale oor Joahas en alles wat hy gedoen het, en oor sy dapperheid is opgeteken in die annale van die konings van Israel.9 Joahas is oorlede, en hulle het hom begrawe in Samaria. Sy seun Joas het hom as koning opgevolg.
10
In die sewe en dertigste regeringsjaar van koning Joas van Juda het Joas seun van Joahas in Samaria oor Israel koning geword. Hy het sestien jaar geregeer11 en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie afgesien van enige van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie; hy het daarmee volhard.
12 Die ander verhale oor Joas en alles wat hy gedoen het, die dapperheid waarmee hy teen koning Amasia van Juda geveg het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.
13 Toe Joas oorlede is, het Jerobeam op die troon gekom. Joas is in Samaria by die konings van Israel begrawe.
14
Elisa het ernstig siek geword en op sterwe gelê. Koning Joas van Israel het hom gaan besoek en het oor hom gehuil en gesê: “My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters!”15
Elisa sê toe vir hom: “Vat jou pyl en boog.” Die koning van Israel het dit gedoen, en toe16 sê Elisa vir hom: “Sit jou hand op die boog.”
Die koning het sy hand op die boog gesit. Elisa het toe sy eie hande op die hande van die koning gesit17 en gesê: “Maak die venster aan die oostekant oop.”
Die koning het dit oopgemaak, en Elisa het beveel: “Skiet!” Toe skiet die koning, en Elisa sê: “'n Pyl van die Here se oorwinning, 'n pyl van oorwinning oor Aram! Jy sal Aram verpletterend verslaan in Afek.”18
Verder sê Elisa: “Vat nou die pyle.” Die koning het hulle gevat, en Elisa sê vir hom: “Slaan teen die grond.” Die koning het drie maal geslaan en opgehou.19
Die man van God het baie kwaad geword vir die koning en gesê: “Jy moes vyf of ses keer geslaan het, dan sou jy Aram heeltemal verslaan het, maar nou sal jy Aram net drie keer verslaan.”20
Toe het Elisa gesterf, en hulle het hom begrawe. Moabitiese bendes het elke jaar die land binnegeval.21 Toe mense op 'n keer besig was om iemand te begrawe, sien hulle skielik so 'n bende. Hulle het die man se lyk in Elisa se graf gegooi. Toe die lyk aan Elisa se bene raak, het die man lewend geword en regop gaan staan.
22
Koning Gasael van Aram het Israel verdruk gedurende al die regeringsjare van Joahas.23 Die Here was hulle genadig en het Hom oor hulle ontferm. Hy het Hom na hulle gewend ter wille van sy verbond met Abraham, Isak en Jakob. Hy wou hulle nie vernietig nie; Hy het hulle tot nou toe nie verwerp nie.
24
Koning Gasael van Aram is oorlede. Sy seun Ben-Hadad het hom as koning opgevolg.25 Joas seun van Joahas het van Ben-Hadad seun van Gasael die stede teruggewen wat Ben-Hadad in die oorlog afgevat het van Joas se pa. Drie maal het Joas vir Ben-Hadad verslaan en Israel se stede herower.
1
In die tweede regeringsjaar van koning Joas van Israel, seun van Joahas, het Amasia seun van koning Joas van Juda op die troon gekom.2 Hy was vyf en twintig toe hy koning geword het en hy het nege en twintig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Jehoaddan, uit Jerusalem.
3 Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here, maar nie heeltemal soos sy voorvader Dawid gedoen het nie; hy het alles gedoen wat Joas, sy pa, gedoen het.
4 Hy het net nie van die hoogtes ontslae geraak nie: die volk het nog diereoffers en wierookoffers gebring op die hoogtes.
5 Nadat hy goed gevestig was in sy koningskap, het hy die amptenare laat doodmaak deur wie sy pa, die koning, vermoor is.
6 Hy het nie die kinders van die moordenaars ook laat doodmaak nie, soos dit op bevel van die Here geskrywe staan in die wetboek van Moses: “Vaders mag nie oor die optrede van kinders en kinders nie oor die optrede van vaders doodgemaak word nie. Elkeen kan net vir sy eie sonde die doodstraf kry.”
7
Hy het tien duisend Edomiete in die Soutvlakte verslaan en Sela in die oorlog verower en dit Jokteël genoem, soos dit vandag nog bekend staan.8
Amasia het 'n boodskap gestuur na koning Joas van Israel, seun van Joahas, seun van Jehu: “Kom ons veg teen mekaar.”9
Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda terug laat weet: “Die doringbos op die Libanon laat weet vir die seder op die Libanon: ‘Laat jou dogter met my seun trou,’ en toe kom die wilde diere van die Libanon verby en trap die doringbos plat.10 Noudat jy Edom 'n groot neerlaag toegedien het, soek jy meer roem. Bly liewer by die huis. Waarom wil jy jou in die ongeluk stort en tot 'n val kom, jy en Juda saam met jou?”
11
Koning Amasia van Juda het nie geluister nie. Hy het teen koning Joas van Israel opgetrek en in Bet-Semes in Juda het hulle slaags geraak.12 Juda het 'n neerlaag gely teen Israel, en die manskappe het op die vlug geslaan, elkeen na sy huis toe.
13 Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda, seun van Joas seun van Ahasia, gevange geneem in Bet-Semes.
Toe Joas in Jerusalem kom, het hy 'n stuk muur van Jerusalem laat afbreek van die Efraimspoort af tot by die Hoekpoort, honderd en tagtig meter.14
Hy het al die goud en silwer gevat en al die ander goed wat hy in die huis van die Here en in die skatkamers van die paleis kon kry, en dit saam met gyselaars na Samaria toe gebring.15 Die ander verhale oor Joas en wat hy gedoen het, sy dapperheid en hoe hy teen koning Amasia van Juda geveg het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.
16 Joas is oorlede, en hy is begrawe in Samaria by die ander konings van Israel. Sy seun Jerobeam het hom as koning opgevolg.
17
Koning Amasia van Juda, seun van Joas, het ná die dood van koning Joas van Israel, seun van Joahas, nog vyftien jaar geleef.18 Die ander verhale oor Amasia is opgeteken in die annale van die konings van Juda.
19 Toe hulle in Jerusalem teen hom saamgesweer het, het hy na Lakis toe gevlug, maar hulle het mense agter hom aan gestuur daarheen, en hulle het hom daar doodgemaak.
20
Hulle het sy lyk met perde teruggebring, en hy is begrawe in sy familiegraf in die Dawidstad.21 Die hele Judese volk het vir Asarja gevat en hom in die plek van Amasia, sy pa, koning gemaak. Hy was toe sestien jaar oud
22 en het Elat herbou en onder die gesag van Juda teruggebring nadat die koning van daardie gebied dood is.
23
In die vyftiende regeringsjaar van koning Amasia van Juda, seun van Joas, het Jerobeam seun van koning Joas van Israel op die troon gekom. Hy het een en veertig jaar in Samaria oor Israel geregeer24 en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie afgesien van enige van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie.
25 Hy het die grense van Israel herstel, van Lebo-Hamat af tot by die see in die Jordaanvallei. Dit was in ooreenstemming met wat die Here die God van Israel gesê het deur sy dienaar Jona seun van Amittai, die profeet uit Gat-Gefer.
26 Die Here het die bittere ellende van Israel raakgesien: Israel was volkome weerloos en sonder enige helper.
27 Die Here het nie gesê dat Hy die naam van Israel onder die hemel sou uitwis nie, daarom het Hy hulle deur Jerobeam seun van Joas gered.
28
Die ander verhale oor Jerobeam en alles wat hy gedoen het, oor hoe dapper hy geveg het en hoe hy Damaskus en Hamat weer onder die gesag van Israel gebring het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.29
Jerobeam is oorlede, en sy seun Sagaria het hom as koning opgevolg.1
In die sewe en twintigste regeringsjaar van koning Jerobeam van Israel het Asarja, seun van koning Amasia van Juda, op die troon gekom.2 Hy was sestien toe hy koning geword het en hy het twee en vyftig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Jekolja, uit Jerusalem.
3 Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van sy pa gevolg.
4 Hy het net nie van die hoogtes ontslae geraak nie. Die volk het nog op die hoogtes diereoffers en wierookoffers gebring.
5 Die Here het die koning met melaatsheid getref. Hy was melaats tot die dag van sy dood en het in 'n plek van afsondering gewoon. Sy seun Jotam het die paleis bestuur en oor die hele land geregeer.
6 Die ander verhale oor Asarja, oor alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.
7 Asarja is oorlede, en hulle het hom begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Jotam het hom as koning opgevolg.
8
In die ag en dertigste regeringsjaar van koning Asarja van Juda het Sagaria seun van Jerobeam oor Israel koning geword en ses maande in Samaria geregeer.9 Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here soos sy voorvaders. Hy het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie.
10
Sallum seun van Jabes het teen hom saamgesweer, hom voor die oë van die volk aangeval en doodgemaak en hom toe as koning opgevolg.11 Die ander verhale oor Sagaria is opgeteken in die annale van die konings van Israel.
12 Daar was 'n uitspraak van die Here waarin Hy vir Jehu gesê het: “Jy sal seuns hê tot in die vierde geslag wat op die troon van Israel sal sit.”
So het dit ook gebeur.13
Sallum seun van Jabes het koning geword in die nege en dertigste jaar van koning Ussia van Juda. Hy het 'n maand en 'n paar dae in Samaria geregeer.14 Menahem seun van Gadi het uit Tirsa getrek en in Samaria gekom, en hy het vir Sallum seun van Jabes in Samaria aangeval, hom doodgemaak en hom as koning opgevolg.
15 Die ander verhale oor Sallum en die sameswering wat hy gesmee het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.
16
Destyds het Menahem vir Tifsag aangeval. Omdat hulle nie die poorte vir hom wou oopmaak nie, het hy al die inwoners van die stad en almal uit die omgewing van Tirsa doodgemaak. Hy het al die swanger vrouens laat oopsny.17
In die nege en dertigste regeringsjaar van koning Asarja van Juda het Menahem seun van Gadi koning oor Israel geword en hy het tien jaar in Samaria geregeer.18 Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here: hy het vir die volle duur van sy regering nie afgesien van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie.
19 Toe koning Pul van Assirië teen die land opgeruk het, het Menahem vier en dertig ton silwer betaal. Pul sou hom dan ondersteun in die handhawing van sy koningskap.
20 Menahem het elke burger in Israel 'n heffing opgelê om die koning van Assirië te kan betaal: vyf honderd en sewentig gram silwer per man. Toe het die koning van Assirië sy leër uit die land onttrek en teruggegaan.
21 Die ander verhale oor Menahem en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.
22 Menahem is oorlede en sy seun Pekahia het hom as koning opgevolg.
23
In die vyftigste regeringsjaar van koning Asarja van Juda het Pekahia seun van Menahem koning oor Israel geword en hy het twee jaar in Samaria geregeer.24 Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here; hy het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie.
25
Sy adjudant, Peka seun van Remalja, het teen hom saamgesweer en hom aangeval in die toring van die paleis in Samaria. Met die hulp van vyftig man uit Gilead het Peka vir Argob, Arje en die koning doodgemaak en hom as koning opgevolg.26 Die ander verhale oor Pekahia en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.
27
In die twee en vyftigste regeringsjaar van koning Asarja van Juda het Peka seun van Remalja koning oor Israel geword en hy het twintig jaar in Samaria geregeer.28 Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here: hy het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie.
29
Tydens die regering van koning Peka van Israel het koning Tiglat-Pileser van Assirië die land ingeval. Hy het Ijon, Abel-Bet-Maäka, Janoag, Kedes, Hasor, Gilead en Galilea, die hele land Naftali, ingeneem en die inwoners het hy na Assirië toe weggevoer.30 Hosea seun van Ela het teen Peka seun van Remalja saamgesweer, hom aangeval en doodgemaak en hom as koning opgevolg in die twintigste regeringsjaar van Jotam seun van Ussia .
31 Die ander verhale oor Peka en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.
32
In die tweede regeringsjaar van koning Peka van Israel, seun van Remalja, het Jotam seun van koning Ussia van Juda op die troon gekom.33 Hy was vyf en twintig toe hy koning geword het en hy het sestien jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Jerusa, 'n dogter van Sadok.
34 Jotam het gedoen wat reg is in die oë van die Here en hy het in alles die voorbeeld van sy pa gevolg.
35 Die volk het egter nie afgesien van die hoogtes nie: hulle het nog diereoffers en wierookoffers op die hoogtes gebring. Jotam het die boonste poort van die huis van die Here laat bou.
36 Die ander verhale oor Jotam en wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.
37
In daardie tyd het die Here vir die eerste keer vir koning Resin van Aram en vir Peka seun van Remalja gestuur om Juda aan te val.38 Jotam is oorlede, en hy is in die familiegraf by sy voorvaders begrawe in die Dawidstad. Sy seun Agas het hom as koning opgevolg.
1
In die sewentiende regeringsjaar van Peka seun van Remalja het Agas seun van koning Jotam van Juda op die troon gekom.2 Agas was twintig toe hy koning geword het en hy het sestien jaar in Jerusalem geregeer. Hy het nie gedoen wat reg is in die oë van die Here sy God soos sy voorvader Dawid nie.
3 Hy het die pad geloop van die konings van Israel. Hy het selfs sy seun verbrand volgens die afskuwelike gebruike van die heidennasies wat deur die Here voor die Israeliete uit verdryf is.
4 Hy het diereoffers en wierookoffers gebring op die hoogtes en op die rante en onder elke groen boom.
5 Destyds het koning Resin van Aram en koning Peka van Israel, seun van Remalja, opgetrek om teen Jerusalem te veg. Hoewel hulle vir Agas beleër het, kon hulle nie 'n geveg afdwing nie.
6 In daardie tyd het koning Resin van Aram die stad Elat vir Aram herower en die Judeërs daaruit verdryf. Arameërs het in Elat ingetrek en woon tot vandag toe daar.
7 Toe stuur Agas 'n boodskap na koning Tiglat-Pileser van Assirië: “Ek is u onderdaan en seun. Ruk op en bevry my uit die mag van die koning van Aram en van die koning van Israel, hulle val my aan.”
8
Agas het die silwer en die goud wat in die huis van die Here en in die skatkamers van die paleis was, gevat en as geskenk aan die koning van Assirië gestuur.9
Die koning van Assirië het aan sy versoek voldoen en teen Damaskus opgetrek. Hy het die stad verower en die bevolking na Kir toe weggevoer; vir Resin het hy doodgemaak.10 Koning Agas het hierna Damaskus toe gegaan om vir koning Tiglat-Pileser van Assirië te ontmoet. Nadat Agas 'n altaar gesien het wat daar in Damaskus gestaan het, het hy aan die priester Urija 'n afbeelding en 'n model daarvan gestuur om dit getrou na te maak.
11 Die priester Urija het die altaar gebou in ooreenstemming met koning Agas se aanwysings uit Damaskus. Die priester Urija het dit presies so gemaak nog voordat die koning uit Damaskus aangekom het.
12 Toe die koning van Damaskus af kom en die altaar sien, het hy nader gegaan en op die altaar geklim.
13 Hy het sy brandoffer en sy graanoffer gebring, sy drankoffer uitgegiet en die bloed van die maaltydoffers ten behoewe van homself teen die altaar uitgegooi.
14
Die bronsaltaar ter ere van die Here het hy van die voorkant van die tempel af, tussen die altaar en die huis van die Here uit, verskuif na die noordekant van die altaar toe.15 Koning Agas het die priester Urija beveel: “Steek die oggendbrandoffer en die aandgraanoffer aan die brand op die groot altaar en ook die koning se brandoffer en graanoffer, die brandoffer van die landsburgers, hulle graanoffers en hulle drankoffers. Die bloed van elke brandoffer en van elke ander diereoffer moet julle teen die groot altaar uitgiet. Die bronsaltaar sal myne bly om die wil van God te wete te kom.”
16
Die priester Urija het alles gedoen wat koning Agas hom beveel het.17 Koning Agas het die sluitplate van die waentjies verwyder en die waskomme van hulle af geneem en die waterbak het hy opgelig van die beeste af wat van brons gemaak is, en op 'n klipvloer gesit.
18 Die oordekte gang vir die sabbat wat hulle by die tempel gebou het, en die buitenste ingang vir die koning het hy ter wille van die koning van Assirië van die huis van die Here af verwyder.
19 Die ander verhale oor Agas en wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.
20 Agas is oorlede, en hy is begrawe by sy voorvaders in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Hiskia het hom as koning opgevolg.
1
In die twaalfde regeringsjaar van koning Agas van Juda het Hosea seun van Ela koning geword en hy het nege jaar in Samaria oor Israel geregeer.2 Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, maar hy was nie so erg soos die konings van Israel voor hom nie.
3 Toe koning Salmaneser van Assirië teen hom opgeruk het, het hy hom aan die koning van Assirië onderwerp en aan hom belasting betaal.
4 Die koning van Assirië het uitgevind dat Hosea teen hom saamsweer deurdat hy gesante na koning So van Egipte gestuur het en nie die jaarlikse belasting aan die koning van Assirië betaal het nie. Daarom het hy vir Hosea laat vang en hom in die tronk opgesluit,
5 die hele land binnegeval en opgeruk na Samaria toe wat hy drie jaar lank beleër het.
6 In die negende regeringsjaar van Hosea het die koning van Assirië Samaria ingeneem en het hy die Israeliete na Assirië toe weggevoer. Sommige het hy in die stad Galag gevestig, ander aan die Gaborrivier in Gosan, en in die stede van Medië.
7
Dit het gebeur omdat die Israeliete gesondig het teen die Here hulle God wat hulle uit Egipte laat wegtrek het, onder die mag uit van die farao, koning van Egipte. Maar hulle het ander gode vereer8 en geleef volgens die gebruike van die nasies wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak, gebruike wat deur die konings van Israel nagevolg is.
9 Die Israeliete het die Here hulle God dinge toegedig wat nie waar is nie en toe vir hulle hoogtes gebou oral waar hulle gewoon het, van plekke af waar net 'n wagtoring was, tot in die vestingstede.
10 Hulle het klippilare en gewyde pale opgerig op elke hoë rant en onder elke groen boom.
11 Op elke hoogte het hulle wierookoffers gebring net soos die nasies wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak. Met die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, het hulle die Here uitgetart.
12 Hulle het die stinkende afgode gedien wat die Here hulle uitdruklik verbied het.
13
Die Here het Israel en Juda deur elke profeet en siener gewaarsku: “Bekeer julle van julle verkeerde paaie. Kom my gebooie en voorskrifte na volgens die hele wet wat Ek julle voorvaders beveel het, wat Ek deur my dienaars die profete aan julle gegee het.”14
Maar hulle wou nie luister nie; hulle was net so hardkoppig soos hulle voorvaders wat ook nie op die Here hulle God vertrou het nie.15 Hulle het sy voorskrifte en sy verbond verwerp wat Hy met hulle voorvaders gemaak het. Sy waarskuwings het hulle in die wind geslaan, hulle het agter afgode aangeloop wat niks is nie en so het hulle self niks geword. Hulle het geleef net soos die heidennasies om hulle, iets wat die Here hulle beveel het om nie te doen nie.
16 Al die gebooie van die Here hulle God het hulle links laat lê: hulle het twee kalwerbeelde laat giet, 'n Asjerabeeld gemaak, voor elke hemelliggaam gebuig en vir Baäl gedien.
17 Die volk het hulle seuns en dogters as offers laat verbrand en hulleself besig gehou met waarsêery en toekomsvoorspelling. Met volkome oorgawe het hulle gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en Hom uitgetart.
18 Die Here het so toornig op Israel geword dat Hy hulle verwerp het. Net die stam Juda het oorgebly.
19 Maar ook Juda het die gebooie van die Here hulle God nie gehou nie: hulle het die praktyke van Israel nagevolg.
20 Daarom het die Here die hele nageslag van die aartsvader Israel verwerp. Die Here het hulle verdruk deur hulle oor te gee in die mag van plunderaars totdat Hy hulle finaal verwerp het.
21 Hy het Israel afgeskeur van die koningshuis van Dawid, sodat hulle Jerobeam seun van Nebat koning gemaak het. Jerobeam het Israel van die Here losgemaak en hulle tot vreeslike sondes verlei.
22 Die Israeliete het volhard in al die sondes wat Jerobeam gedoen het; hulle het dit nie laat vaar nie.
23 Uiteindelik het die Here hulle laat vaar soos Hy hulle deur al sy dienaars, die profete, gewaarsku het. Hy het Israel uit sy land na Assirië toe laat wegvoer, waar hulle vandag nog is.
24
Die koning van Assirië het inwoners van Babel, Kuta, Awwa, Hamat en Sefarwajim af gebring, en hulle in die stede van Samaria gevestig in die plek van die Israeliete. Hierdie mense het Samaria oorgeneem en in die stede daar gaan woon.25 Aan die begin van hulle verblyf het hulle die Here nie vereer nie, daarom het die Here leeus op hulle losgelaat wat onder hulle gemaai het.
26 Toe is die koning van Assirië meegedeel: “Die nasies wat deur u weggevoer en in die stede van Samaria gevestig is, weet nie hoe hulle die God van die land moet vereer nie. Nou het Hy leeus op hulle losgelaat wat hulle doodgemaak het. Dit het gebeur net omdat hulle nie presies weet watter verering hulle aan die God van die land verskuldig is nie.”
27
Toe het die koning van Assirië opdrag gegee dat hulle een van die priesters wat uit Israel weggevoer is, soontoe moet bring. Hy het soontoe gegaan en daar gaan woon om hulle die regte verering van die God van die land te leer.28 So het een van die priesters wat uit Samaria weggevoer is, teruggekom en in Bet-El gaan bly, en hy het hulle geleer hoe hulle die Here moet vereer.
29 Tog het elke nasie nog maar sy eie afgodsbeelde gemaak en dit gaan neersit in die tempels op die hoogtes wat deur die mense van Samaria gebou is, elke nasie in die stede waar hy gewoon het.
30 Die mense van Babel het vir Sukkot-Benot gemaak, die mense van Kuta vir Nergal, die mense van Hamat vir Asima,
31 die Awwiete vir Nibgas en Tartak. Die Sefarwajiete het hulle seuns verbrand ter ere van Adrammelek en Anammelek, die gode van Sefarwajim.
32 Terselfdertyd het hulle die Here vereer en uit hulle eie geledere priesters vir die hoogtes aangewys om vir hulle diens te doen in die heiligdomme op die hoogtes.
33 Hulle het die Here vereer en ook hulle eie gode gedien volgens die gebruik van die heidennasies waaruit hulle weggevoer is.
34 Tot vandag toe handhaaf hulle hulle vroeëre gebruike: hulle handel nie presies volgens die voorskrifte, die bepalings, die wet en die gebod wat die Here opgedra het aan die kinders van Jakob nie, dié Jakob aan wie Hy die naam Israel gegee het.
35 Dit was met hulle dat die Here 'n verbond gesluit het, vir wie Hy beveel het: “Moenie ander gode vereer nie, moenie voor hulle buig nie, moet hulle nie dien of offers vir hulle bring nie.
36 Nee, net die Here wat julle uit Egipte laat trek het deur sy groot mag en krag, moet julle vereer; voor Hom moet julle buig en vir Hom offers bring.
37 Julle moet altyd lewe volgens die voorskrifte, die bepalings, die wet en die gebod wat Hy vir julle neergeskryf het. Moenie ander gode dien nie.
38 Die verbond wat Hy met julle gesluit het, moet julle nie verontagsaam nie. Moenie ander gode dien nie.
39 Julle moet net die Here julle God dien. Hy sal julle red uit die mag van al julle vyande.”
40
Maar hulle was ongehoorsaam: hulle het hulle vroeëre gebruike gehandhaaf.41 Hierdie nasies het nie net die Here vereer nie, maar ook hulle eie afgodsbeelde gedien, en tot vandag toe nog volg ook hulle kinders en kleinkinders hulle voorbeeld.
1
In die derde regeringsjaar van koning Hosea van Israel, seun van Ela, het Hiskia seun van koning Agas van Juda op die troon gekom.2 Hy was vyf en twintig toe hy koning geword het en hy het nege en twintig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Abi, 'n dogter van Sagaria.
3 Hiskia het gedoen wat reg is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van sy voorvader Dawid gevolg.
4
Hiskia het die hoogtes laat verwoes, die klippilare laat stukkend slaan en die gewyde pale laat afkap. Hy het ook die koperslang wat destyds deur Moses gemaak is, laat stukkend slaan, want tot nou toe het die Israeliete die koperslang met offers vereer. Die slang is Negustan genoem.5
Hiskia het op die Here die God van Israel vertrou. Nie een van al die konings van Juda voor of na Hiskia was soos hy nie.6 Hy was getrou aan die Here en het nie van Hom af weggedraai nie. Hiskia was gehoorsaam aan die gebooie wat die Here aan Moses gegee het.
7 Die Here was by Hiskia, en Hiskia was voorspoedig in alles wat hy onderneem het.
Hy het in opstand gekom teen die koning van Assirië en was nie meer aan hom onderdanig nie.8 Hy het die Filistyne verslaan en hulle teruggedryf, wagpos vir wagpos, vestingstad vir vestingstad, tot by Gasa en die gebied daar rondom.
9
In die vierde regeringsjaar van koning Hiskia, die sewende regeringsjaar van koning Hosea van Israel, seun van Ela, het koning Salmaneser van Assirië teen Samaria opgetrek en die stad beleër.10 Hy het die stad na drie jaar ingeneem, in die sesde regeringsjaar van Hiskia. In die negende regeringsjaar van koning Hosea van Israel is Samaria verower.
11 Die koning van Assirië het die inwoners van Israel as gevangenes na Assirië toe weggevoer en hulle hervestig in Galag en aan die Gaborrivier in Gosan en in die stede van Medië.
12 Dit was omdat die inwoners van Israel nie gehoorsaam was aan die Here hulle God nie. Hulle het die verbondsverpligtinge wat die Here op hulle gelê het, alles wat Moses die dienaar van die Here hulle beveel het, oortree. Hulle was ongehoorsaam en het die bevele nie uitgevoer nie.
13
In die veertiende regeringsjaar van koning Hiskia het koning Sanherib van Assirië al die vestingstede in Juda aangeval en verower.14 Koning Hiskia van Juda het toe vir die koning van Assirië in Lakis laat weet: “Ek het verkeerd gedoen. Trek u manskappe terug, ek sal betaal wat u vra.”
Die Assiriese koning het koning Hiskia van Juda toe beboet met iets meer as tien ton silwer en een ton goud.15 Hiskia moes al die silwer wat in die huis van die Here en in die skatkamers van die paleis was, afgee.
16 Terselfdertyd moes hy die goudbeslag wat hy self laat aanbring het, van die deure van die tempel van die Here en van die deurposte afstroop om die koning van Assirië te betaal.
17
Daarna het die koning van Assirië die hoof van sy leër en sy hoofamptenaar en sy hoofadjudant met 'n groot leërmag uit Lakis na koning Hiskia toe in Jerusalem gestuur. Hulle het na Jerusalem toe opgetrek en toe hulle daar aankom, het hulle posisie ingeneem langs die kanaal van die boonste dam, langs die pad na die Bleikveld toe.18 Hulle het na die koning geroep, en toe het die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf na hulle toe gegaan.
19
Toe sê die hoofadjudant vir hulle: “Sê vir Hiskia: So sê die groot koning van Assirië: Waarop berus hierdie vertroue van jou?20 Jy dink woorde alleen is genoeg vir strategie en militêre mag. Op wie vertrou jy dat jy in opstand is teen my?
21 Jy vertrou op Egipte, op 'n versplinterde riet wat jou in die hand steek en jou seermaak as jy op hom leun. Dit is wat die farao, die koning van Egipte, beteken vir almal wat op hom vertrou.
22 En as julle vir my wil sê julle vertrou op die Here julle God, dit is mos Hy wie se hoogtes en altare Hiskia laat verwoes het toe hy vir Juda en Jerusalem gesê het: ‘Julle moet net by hierdie altaar in Jerusalem aanbid.’
23 Wil jy 'n ooreenkoms aangaan met my koning, die koning van Assirië? Ek gee jou twee duisend perde: sal jy die ruiters vir hulle kan voorsien?
24 Hoe sal jy weerstand kan bied teen één goewerneur, één van my koning se onbelangrikste amptenare? En dan vertrou jy op Egipte vir strydwaens en perde!
25 Buitendien, ek het nie sonder die Here opgetrek teen hierdie plek om dit te verwoes nie; die Here het vir my gesê: Trek op teen daardie land en verwoes dit.”
26
Toe sê Eljakim seun van Gilkija, en Sebna en Joag vir die hoofadjudant: “Praat tog asseblief met ons Aramees, ons verstaan dit, maar moenie met ons Judees praat dat die manskappe op die muur dit kan verstaan nie.”27
Maar die hoofadjudant sê vir hulle: “Dink julle my koning het my net na julle koning en na julle toe gestuur om dié dinge te sê, en nie ook na die manne wat op die muur sit nie? Hulle sal hulle eie ontlasting moet eet en hulle eie urine moet drink, net soos julle!”28
Toe gaan staan die hoofadjudant en hy skree hard in Judees: “Luister wat die groot koning sê, die koning van Assirië!29 So sê die koning: Moenie dat Hiskia julle mislei nie! Hy kan julle nie uit my mag red nie.
30 En moenie dat Hiskia julle op die Here laat vertrou nie. Hy sê: ‘Die Here sal ons sekerlik red; dié stad sal nie oorgegee word in die mag van die koning van Assirië nie.’
31 Moenie na Hiskia luister nie, want só sê die koning van Assirië: Maak vrede met my en kom uit na my toe, dan sal elkeen die vrugte van sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom eet en uit sy eie put water drink
32 tot ek kom en julle wegvat na 'n land toe net soos julle land. Dit is 'n land met koring en wyn, 'n land met kos en wingerde, 'n land met olyfolie en heuning. Dan sal julle lewe, julle sal nie sterwe nie. Moenie na Hiskia luister nie. Hy bedrieg julle as hy sê die Here sal julle red.
33 Kon die gode van die ander nasies hulle lande red uit die mag van die koning van Assirië?
34 Waar is die gode van Hamat en Arpad? Waar is die gode van Sefarwajim, Hena en Awwa? Kon hulle Samaria uit my mag bevry?
35 Wie van al die gode van die ander lande kon sy land uit my mag red? Dan sal die Here mos nie Jerusalem uit my mag kan red nie!”
36
Die manskappe het stilgebly en nie geantwoord nie, want die koning het hulle beveel om nie te antwoord nie.37
Die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf het hulle klere geskeur en is terug na Hiskia toe om hom te vertel wat die hoofadjudant gesê het.1
Toe koning Hiskia dit hoor, het hy ook sy klere geskeur. Hy het rouklere aangetrek en is na die huis van die Here toe.2 Daarna stuur hy die paleisbestuurder Eljakim, die staatsekretaris Sebna en die leiers van die priesters, almal in rouklere, na die profeet Jesaja seun van Amos toe.
3 Hulle het vir Jesaja gesê: “So sê Hiskia: Dit is 'n dag van rou. Ons is in die moeilikheid en ons is verneder. Ons is soos vrouens wat in die kraam is, maar nie die krag daarvoor het nie.
4 Miskien sal die Here u God let op die woorde van die hoofadjudant wat deur die Assiriese koning gestuur is om die lewende God te smaad, en miskien sal die Here u God hulle straf oor wat Hy moes aanhoor. Bid tog vir die klompie van ons wat nog oor is.”
5
Toe koning Hiskia se amptenare by Jesaja kom,6 sê hy vir hulle: “Julle moet vir julle koning sê: So sê die Here: Moenie bang wees oor wat jy gehoor het, hoe die amptenare van die koning van Assirië My gelaster het nie.
7 Ek gaan hom onrustig maak, sodat hy na sy land toe sal teruggaan wanneer hy daarvandaan 'n berig kry. Ek sal hom in sy eie land laat doodmaak.”
8
Toe die hoofadjudant hoor dat die koning van Assirië weg is van Lakis af, het hy teruggegaan. Hy het die koning aangetref waar hy met 'n aanval op Libna besig was.9 Daar het die koning van Assirië berig gekry dat koning Tirhaka van Kus op pad is om hom aan te val. Die koning van Assirië stuur toe weer gesante na Hiskia toe met die boodskap:
10 “Sê vir koning Hiskia van Juda: Moenie dat jou God op wie jy vertrou, jou mislei met sy versekering dat Jerusalem nie in my mag oorgegee sal word nie.
11 Jy het mos gehoor hoe die konings van Assirië die een land na die ander verwoes het. Sal jý dan vrykom?
12 Kon die gode van die nasies wat deur my voorgangers uitgedelg is, hulle red: Gosan, Haran, Resef, die mense van Eden in Telassar?
13 Waar is die konings van Hamat en Arpad, die konings van die stede Sefarwajim, Hena en Awwa?”
14
Hiskia het die briewe wat die gesante gebring het, gevat en gelees. Daarna het hy na die huis van die Here toe gegaan en die briewe voor die Here oopgesprei.15
Toe het hy tot die Here gebid: “Here, God van Israel,16
Hoor tog, Here, luister,
kyk tog, Here, let tog op!
17 Dit is waar, Here, die konings van Assirië het nasies met lande en al verwoes
18 en hulle gode verbrand, maar dit was nie gode nie, dit was die werk van mensehande, hout en klip; daarom is hulle vernietig.
19 Here, ons God, red ons tog uit die mag van die Assiriese koning. Dan sal al die koninkryke van die aarde besef dat U, Here, alleen God is.”
20
Jesaja seun van Amos het vir Hiskia 'n boodskap gestuur: “So sê die Here die God van Israel: Ek het jou gebed oor koning Sanherib van Assirië verhoor.21
“Dit is wat die Here oor Sanherib sê: “Sion verag jou en lag jou uit,22
Vir wie het jy beledig en belaster?
Vir wie het jy geskreeu en uitgedaag?
Die Heilige van Israel!
23
Deur jou gesante het jy die Here geminag toe jy gesê het:
‘Ek het met my wa teen die hoogste berge op gery,
na die toppe van die Libanon toe;
ek het sy hoogste seders afgekap, sy mooiste sipresse.
Ek het sy verste skuilhoeke binnegedring, sy digste bosse.
24
Ek het na water gegrawe in ander lande en dit gedrink,
met my voetsole al die opgedamde riviere laat opdroog.’
25
“So sê die Here vir jou, Sanherib: Het jy dan nie gehoor nie,26
Hulle inwoners was magteloos,
verskrik en sonder raad,
soos veldplante, soos groen gras,
soos gras op 'n huis se dak:
dit verskroei voor dit behoorlik staan.
27
Of jy sit of gaan of kom, Ek weet dit,
Ek weet hoe jy teen My te kere gegaan het.
28
Omdat jy dit gedoen het,
omdat Ek jou verwaande woorde moes aanhoor,
sit Ek 'n haak deur jou neus
en 'n stang tussen jou tande
en lei Ek jou terug op die pad
waarmee jy gekom het.
29
“Vir jou, Hiskia, gee Ek die volgende teken: vanjaar sal julle die opslag eet en volgende jaar wat dan opslaan, maar in die jaar daarna sal julle saai en oes, wingerde plant en druiwe eet.30 Dié van Juda wat die beleg oorleef het en oorgebly het, sal weer soos plante wortel skiet en vrugte dra.
31 Daar sal mense oorbly en uit Jerusalem kom, daar sal mense vry van Sionsberg af uitgaan. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here sorg.
32
“Daarom, so sê die Here oor die koning van Assirië: Hy sal nie in dié stad inkom nie, hy sal nie 'n pyl hier afskiet nie, nie 'n skild teen die stad optel nie, nie 'n beleëringswal daarteen opgooi nie.33 Met die pad wat hy gekom het, sal hy teruggaan en hy sal nie weer by dié stad kom nie. Dit is wat die Here sê.
34 Ek sal dié stad beskut en hom red, om my ontwil en om my dienaar Dawid se ontwil.”
35
Daardie nag het 'n engel van die Here gegaan en honderd vyf en tagtig duisend man in die Assiriese kamp doodgemaak. Toe die Assiriërs die môre vroeg opstaan, lê die lyke almal daar.36 Koning Sanherib van Assirië het toe kamp afgeslaan en hy is terug Nineve toe en het daar gebly.
37 Terwyl hy op 'n dag in die tempel van sy god Nisrok aanbid het, het Adrammelek en Sar-Eser hom met swaarde doodgesteek. Hulle het na Ararat toe gevlug, en Sanherib se seun Esarhaddon het hom as koning opgevolg.
1
In dié tyd het Hiskia ernstig siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het na hom toe gekom en gesê: “So sê die Here: Sê vir jou gesin wat jou laaste wense is, want jy gaan sterf, jy sal nie langer lewe nie.”2
Toe draai Hiskia sy gesig na die muur toe en hy bid tot die Here:3 “Ag, Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou en met volle oorgawe geleef het en dat ek gedoen het wat reg is in u oë.”
Hiskia het bitterlik gehuil.4
Jesaja was nog nie die binneplein van die stad oor nie toe die woord van die Here tot hom kom en sê:5 “Gaan terug en sê vir Hiskia, die leier van my volk: So sê die Here, die God van jou voorvader Dawid: Ek het jou gebed verhoor, Ek het jou trane gesien. Ek gaan jou gesond maak, en jy sal oormôre weer na die huis van die Here toe kan gaan.
6 Ek sal jou lewe met vyftien jaar verleng en jou en dié stad red uit die mag van die koning van Assirië. Ek sal dié stad beskerm, om my ontwil en om my dienaar Dawid se ontwil.”
7
Jesaja het toe opdrag gegee dat hulle 'n vyekoek moet bring en op die sweer moet sit, en die koning het beter geword.8
Toe vra Hiskia vir Jesaja: “Wat is die teken dat die Here my sal gesond maak en dat ek oormôre weer na die huis van die Here toe sal gaan?”9
Jesaja het geantwoord: “Die Here gee jou die volgende teken dat Hy sal doen wat Hy gesê het: moet die skaduwee tien trappe vorentoe gaan of tien terugkom?”10
Hiskia sê toe: “Dit is maklik vir die skaduwee om tien trappe vorentoe te skuif. Nee, laat dit tien trappe terugkom.”11
Die profeet Jesaja het die Here aangeroep, en Hy het die skaduwee wat reeds teen die trap van Agas afgesak het, tien trappe laat terugskuif.12
In dié tyd het koning Merodak-Baladan van Babel, seun van Baladan, briewe en geskenke na Hiskia toe gestuur omdat hy gehoor het van Hiskia se siekte.13 Hiskia het die gesante te woord gestaan en hulle daarna al sy skatkamers gewys met die silwer, die goud, die kruie en die geurige olie, sy wapenkamer en alles wat in sy voorraadkamers was. Daar was niks in sy paleis en in sy koninkryk wat Hiskia die gesante nie laat sien het nie.
14
Toe kom die profeet Jesaja na koning Hiskia toe en vra vir hom: “Wat het daardie mense gesê en waarvandaan kom hulle?” Hiskia het geantwoord: “Uit 'n ver land, uit Babel.”15
“Wat het hulle in jou paleis gesien?” vra Jesaja. En Hiskia antwoord: “Hulle het alles gesien wat in my paleis is. Daar is niks van my skatte wat hulle nie gesien het nie.”16
Toe sê Jesaja vir Hiskia: “Luister wat sê die Here:17 Daar kom 'n tyd dat alles wat in jou paleis is, weggedra sal word na Babel toe, al die skatte wat jou voorvaders en jy versamel het. Daar sal niks oorbly nie, sê die Here.
18 Van jou eie seuns wat uit jou gebore is, sal gevat word, en hulle sal diens doen in die paleis van die koning van Babel.”
19
Hiskia het vir Jesaja gesê: “Die woord van die Here wat jy aan my oorgedra het, is goed.” Hiskia het bygevoeg: “As daar maar net in my tyd vrede en veiligheid is!”20
Die ander verhale oor Hiskia, oor sy moedige optrede en oor die dam en die kanaal wat hy gebou het om die water in die stad in te bring, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.21 Hiskia is oorlede, en sy seun Manasse het hom as koning opgevolg.
1
Manasse was twaalf toe hy koning geword het, en hy het vyf en vyftig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Gefsiba.2 Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en het die afskuwelike optrede van die heidennasies nagevolg wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak.
3
Hy het die hoogtes wat deur Hiskia, sy pa, verwoes is, weer opgebou, altare vir Baäl opgerig, 'n Asjerabeeld gemaak soos koning Agab van Israel gedoen het en al die hemelliggame aanbid en gedien.4 Hy het selfs afgodsaltare gebou in die huis van die Here, die plek waarvan die Here gesê het: “In Jerusalem wil Ek my Naam vestig.”
5
In die twee voorhowe van die huis van die Here het hy altare vir al die hemelliggame gebou.6 Hy het sy eie seun as offer verbrand, hom besig gehou met goëlery, waarsêery en toordery, en meegedoen aan die oproep en raadpleging van geeste. Hy het baie verkeerde dinge gedoen in die oë van die Here en Hom uitgetart.
7 Die Asjerabeeld wat hy laat maak het, het hy opgestel binne-in die tempel, die plek waarvan die Here vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: “In hierdie tempel en in Jerusalem wat Ek onder al die Israelitiese stamme uitgekies het, vestig Ek my Naam vir altyd.
8 As Israel alles doen wat Ek hulle beveel het, in ooreenstemming met die hele wet wat my dienaar Moses vir hulle neergelê het, sal Ek hulle voete stewig geplant hou op die grond wat Ek aan hulle voorvaders gegee het.”
9
Maar hulle het nie geluister nie. Manasse het Juda die verkeerde pad laat loop, sodat hulle erger aangegaan het as die nasies wat deur die Here uitgeroei is om vir Israel plek te maak.10
Die Here het deur sy dienaars, die profete, gesê:11 “Omdat koning Manasse van Juda hierdie afskuwelike dinge gedoen het en erger aangegaan het as al die Amoriete voor sy tyd, en hy ook vir Juda laat sondig het met sy stinkende afgode,
12 daarom, so sê die Here die God van Israel: Ek gaan nou rampe bring oor Jerusalem en Juda wat elkeen wat daarvan hoor, se twee ore sal laat tuit.
13 Ek gaan Jerusalem met dieselfde maat meet as dié waarmee Ek Samaria en die koningshuis van Agab gemeet het; Ek gaan Jerusalem skoonvee soos 'n mens 'n skottel skoonvee en dan omkeer.
14 Wat oor is van die volk wat aan My behoort, gaan Ek verwerp en hulle oorgee in die mag van hulle vyande. Hulle sal deur al hulle vyande geplunder en uitgeroei word.
15 Dit sal gebeur omdat hulle gedoen het wat verkeerd is in my oë en My uitgetart het van die dag af dat hulle voorvaders uit Egipte getrek het tot vandag toe.”
16
Behalwe die sonde wat Manasse Juda laat doen het, wat verkeerd was in die oë van die Here, het Manasse ook nog baie onskuldige mense laat doodmaak. Jerusalem was van hoek tot kant vol bloed.17
Die ander verhale oor Manasse en alles wat hy gedoen het, en die sonde wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.18
Manasse is oorlede, en hy is begrawe in die tuin by sy paleis, die tuin van Ussa. Sy seun Amon het hom as koning opgevolg.19
Amon was twee en twintig toe hy koning geword het, en hy het twee jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Mesullemet, 'n dogter van Garus, uit Jotba.20 Amon het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos Manasse, sy pa, gedoen het.
21 Hy het in alles die voorbeeld van sy pa gevolg, die stinkende afgode gedien wat deur sy pa gedien is, en hulle aanbid.
22 Hy het die Here die God van sy voorvaders verlaat en nie die wil van die Here gedoen nie.
23 Amptenare van koning Amon het 'n sameswering teen hom gesmee en hom in sy paleis doodgemaak.
24 Daarna het die burgers van die land almal doodgemaak wat saamgesweer het teen koning Amon, en hulle het sy seun Josia in sy plek koning gemaak.
25
Die ander verhale oor Amon en wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.26 Hy is begrawe in sy graf in die tuin van Ussa, en sy seun Josia het hom as koning opgevolg.
1
Josia was ag jaar toe hy koning geword het, en hy het een en dertig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Jedida, 'n dogter van Adaja uit Boskat.2 Josia het gedoen wat reg is in die oë van die Here. Hy het in alles die pad van sy voorvader Dawid geloop en daar nie links of regs van afgewyk nie.
3
In die agtiende jaar van sy regering het Josia die staatsekretaris Safan, seun van Asalja seun van Mesullam, na die huis van die Here toe gestuur met die opdrag:4 “Gaan na die hoëpriester Gilkija toe en laat hy die geld gereed kry wat ingebring is vir die huis van die Here, dié wat deur die drumpelwagte by die volk ingesamel is.
5 Die geld moet oorhandig word aan die mense wat vir die werk aan die huis van die Here moet sorg. Hulle moet daarmee die werkers betaal wat die huis van die Here moet herstel:
6 die vakmanne, die bouwerkers, die messelaars; hulle moet hout en gekapte klip koop om die tempel te herstel.
7 Daar hoef nie van hulle rekenskap gevra te word van die geld wat aan hulle oorhandig word nie, want hulle is betroubaar.”
8
Die hoëpriester Gilkija sê toe vir die staatsekretaris Safan: “Ek het die wetboek in die huis van die Here gekry.” Hy het die wetboek aan Safan oorhandig, en dié het dit gelees9 en by die koning verslag gaan doen: “U amptenare het die geld wat hiervoor in die tempel beskikbaar was, uitgetel en dit oorhandig aan die mense wat vir die werk aan die huis van die Here moet sorg.”
10
Die staatsekretaris Safan het ook aan die koning die mededeling gedoen: “Die priester Gilkija het my 'n boek gegee,” en Safan het vir die koning gelees wat daarin staan.11
Toe die koning hoor wat die wetboek sê, het hy sy klere geskeur12 en opdrag gegee aan die priester Gilkija, aan Agikam seun van Safan, aan Akbor seun van Miga, aan die staatsekretaris Safan en aan Asaja die hoofamptenaar van die koning:
13 “Gaan raadpleeg die Here namens my en namens die hele volk Juda. Raadpleeg Hom oor die inhoud van hierdie boek wat gekry is. Ons voorvaders was ongehoorsaam aan die eise van hierdie boek en het nie gehandel in ooreenstemming met alles wat daarin staan nie. Daarom is die toorn van die Here wat teen ons gaan ontvlam, groot.”
14
Die priester Gilkija en Agikam, Akbor, Safan en Asaja is toe na die profetes Gulda toe. Sy was die vrou van die klerebewaarder Sallum seun van Tikwa, seun van Gasra, en het in die nuwe deel van Jerusalem gewoon. Hulle het haar vertel,15 en sy het geantwoord: “So sê die Here die God van Israel: Sê vir die man wat julle na my toe gestuur het:
16 So sê die Here: Ek bring onheil oor hierdie plek en oor sy inwoners, al die oordele in die boek wat die koning van Juda gelees het,
17 want hulle het My verlaat. Hulle het offers gebring vir ander gode en My uitgetart met allerhande maaksels van hulle eie hande. My toorn ontvlam teen hierdie plek, die vlam sal nie geblus word nie.
18 [18-19] Maar sê vir die koning van Juda wat vir julle gestuur het om die Here te raadpleeg: So sê die Here die God van Israel: Ek het daarop ag geslaan dat jy in jou hart geraak is deur die woorde wat jy gehoor het en dat jy jou klere geskeur en gehuil het voor My, en dat jy berou getoon het voor My, die Here, toe jy hoor wat Ek sê oor hierdie plek en sy inwoners, naamlik dat verwoesting en straf oor hulle kom, sê die Here.
19
20 Daarom sal Ek jou in vrede laat sterwe en in jou graf laat ingaan; jy sal niks van al die onheil wat Ek oor hierdie plek bring, self beleef nie.”
1
Die afvaardiging het so aan die koning gerapporteer, en hy het al die leiers van Juda en Jerusalem by hom laat bymekaarkom.2 Daarna is die koning na die huis van die Here toe met al die mense van Juda by hom en ook die inwoners van Jerusalem, die priesters en die Leviete, al die mense, groot en klein. Daar het hy alles aan hulle voorgelees wat in die boek van die verbond gestaan het wat in die huis van die Here gekry is.
3 Toe het die koning op sy plek gaan staan en 'n verbond met die Here gesluit en beloof om die Here te volg en sy gebooie, verordeninge en voorskrifte met sy hele hart en siel te gehoorsaam en om die bepalings van die verbond soos dit in hierdie boek vasgelê is, na te kom. Die hele volk het die verbond aanvaar.
4
Koning Josia het aan die hoëpriester Gilkija, aan die priesters net onder hom en aan die drumpelwagte opdrag gegee om uit die tempel van die Here al die goed te bring wat vir Baäl en Asjera en al die hemelliggame gemaak is. Hulle moes dit verbrand buite Jerusalem op die gelyktes langs die Kedron en die as na Bet-El toe vat.5 Josia het die afgodspriesters afgesit wat deur die konings van Juda aangestel is en wat offers gebring het op die hoogtes, in die stede van Juda en in die omgewing van Jerusalem. Hy het ook 'n einde gemaak aan dié wat geoffer het vir Baäl en vir die son en die maan en die diereriem en al die ander hemelliggame.
6 Hy het die Asjera uit die huis van die Here laat bring na die Kedronspruit toe buite Jerusalem, dit daar laat verbrand en laat fynstamp. Die as het hy laat weggooi op die grafte van die gewone mense.
7 Hy het die manlike prostitute se kamers by die huis van die Here laat afbreek waarin die vroue klere geweef het vir die diens van Asjera.
8
Verder het Josia al die priesters uit die stede van Juda laat bring en die hoogtes waarop die priesters geoffer het, laat ontwy, van Geba af tot by Berseba. Hy het die hoogtes wat by die poorte was, laat afbreek, ook die een by die poort van die stadsbevelvoerder Josua, aan die linkerkant as 'n mens die stadspoort binnegaan.9 Josia het nie die priesters wat by die hoogtes geoffer het, by die altaar van die Here in Jerusalem laat kom nie, maar hulle kon saam met hulle ampsgenote ongesuurde brood eet.
10
Hy het die offerplek wat in die Ben-Hinnomdal was, laat ontwy, sodat niemand meer sy seun of dogter as offer vir Molek kon verbrand nie.11 Die perdebeelde wat deur die konings van Juda ter verering van die son opgestel is, het hy laat verwyder. Hulle het gestaan by die ingang van die huis van die Here, by die kamer van die amptenaar Netan-Melek aan die binneplein. Die sonwa het hy laat verbrand.
12 Die altare wat deur die konings van Juda gebou is op die dak van die bovertrek van Agas, en die altare wat deur Manasse in die twee voorhowe van die huis van die Here gebou is, is deur die koning afgebreek. Hy het hulle net daar laat stukkend slaan en die puin laat weggooi in die Kedronvallei.
13 Verder het die koning die hoogtes laat ontwy wat oos van Jerusalem, suid van die berg van verwoesting, was en wat deur koning Salomo van Israel opgerig is vir die verering van Astarte, die veragtelike godin van die Sidoniërs, Kemos, die veragtelike god van Moab, en Milkom die afskuwelike god van die Ammoniete.
14 Hy het die klippilare laat stukkend slaan, die gewyde pale laat afkap en op hulle plekke mensbene laat gooi.
15
Selfs die altaar in Bet-El, die hoogte wat deur Jerobeam seun van Nebat ingerig is toe hy vir Israel laat sondig het, selfs dié altaar en dié hoogte is deur Josia laat afbreek. Hy het die hoogte laat afbrand en fynslaan en die Asjera laat verbrand.16 Toe hy omdraai, sien Josia die grafte daar teen die berg. Hy het die bene uit die grafte laat uithaal en hulle op die altaar laat verbrand. So het hy die altaar laat ontwy in ooreenstemming met die woord van die Here wat destyds deur die man van God aangekondig is.
17
Daarna sê Josia: “Watter grafsteen sien ek daar?” en die mense van die stad sê vir hom: “Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom en voorspel het presies wat u met die altaar van Bet-El gedoen het.”18
Toe sê hy: “Laat hom rus, moenie sy bene versteur nie.” Hulle het toe sy bene en die bene van die profeet wat uit Samaria gekom het, met rus gelaat.19
Josia het verder al die heiligdomme wat deur die konings van Israel op die hoogtes by die stede van Samaria gebou is om die Here uit te tart, laat opruim. Hy het met hulle gemaak soos hy in Bet-El gedoen het.20 Al die priesters wat daar op die hoogtes diens gedoen het, het hy op die altare laat slag en mensbene op die altare laat verbrand. Daarna is hy terug Jerusalem toe.
21
Daarna het die koning die volk beveel: “Vier die paasfees tot eer van die Here julle God soos dit voorgeskryf is in hierdie boek van die verbond.”22
'n Paasfees soos hierdie is nie gevier van die tyd van die leiers af wat oor Israel geregeer het nie, ook nie tydens die regering van die konings van Israel en Juda nie.23 Hierdie paasfees tot eer van die Here is in die agtiende regeringsjaar van koning Josia in Jerusalem gevier.
24
Josia het ook die dodebesweerders en die waarsêers, die afgodsbeelde, al die stinkende en veragtelike afgode wat in Juda en Jerusalem te sien was, uitgeroei. So het hy voldoen aan die eise van die wet soos dit opgeteken was in die boek wat die priester Gilkija in die huis van die Here gekry het.25
Daar was nie voor hom nog so 'n koning soos hy wat hom tot die Here bekeer het met sy hele hart en siel en met al sy kragte in ooreenstemming met die hele wet van Moses nie, en ná hom was daar ook nie so 'n koning soos hy nie.26
Die Here het egter nie sy hewige toorn teen Juda laat vaar nie. Hy het toornig gebly oor Manasse se uittartende optrede teen Hom.27 Hy het gesê: “Ek sal Juda ook uit my teenwoordigheid verwyder, net soos Ek Israel verwyder het. Ek sal hierdie stad, Jerusalem, wat Ek uitverkies het, verwerp, en ook die tempel waarvan Ek gesê het: My Naam sal daar wees.”
28
Die ander verhale oor Josia en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.29
In sy tyd was die farao koning Neko van Egipte op pad na die koning van Assirië toe aan die Eufraat. Koning Josia het teen die farao opgetrek, maar die farao het hom met die bymekaarkom in Megiddo doodgemaak.30 Sy lyfwagte het sy lyk op 'n wa gesit en na Jerusalem toe gebring. Daar het hulle hom in sy graf begrawe.
Die burgers van die land het Josia se seun Joahas geneem, hom gesalf en hom koning gemaak in sy pa se plek.31
Joahas was drie en twintig toe hy koning geword het en hy het drie maande in Jerusalem geregeer. Sy ma was Gamutal, 'n dogter van Jeremia uit Libna.32
Joahas het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en in alles die voorbeeld van sy voorvaders gevolg.33
Farao Neko het vir Joahas gevang en in Ribla, in Hamat, in die tronk gehou sodat hy nie in Jerusalem kon regeer nie. Neko het die land beboet met drie en 'n halwe ton silwer en vier en dertig kilogram goud.34 Daarna het farao Neko vir Eljakim seun van Josia koning gemaak in sy pa se plek, en sy naam verander na Jojakim. Neko het vir Joahas na Egipte toe gevat, en hy is daar dood.
35
Jojakim het die goud en die silwer aan die farao betaal. Om te betaal wat die farao geëis het, moes hy die land aanslaan. Hy het die goud en die silwer van die burgers van die land geëis, van elkeen volgens sy aanslag, en dit aan farao Neko betaal.36
Jojakim was vyf en twintig toe hy koning geword het, en hy het elf jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Sebida, 'n dogter van Pedaja uit Ruma.37 Jojakim het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van sy voorvaders gevolg.
1
In dié tyd het koning Nebukadnesar van Babel teen Jojakim opgetrek. Jojakim was drie jaar aan hom onderhorig en daarna het hy teen Nebukadnesar in opstand gekom.2
Die Here het bendes Galdeërs, Arameërs, Moabiete en Ammoniete teen Jojakim gestuur. Hy het hulle gestuur om Juda uit te roei, in ooreenstemming met wat die Here deur sy dienaars die profete gesê het.3 Dit het met Juda gebeur op bevel van die Here, omdat Hy Juda uit sy teenwoordigheid wou verwyder oor die sonde van Manasse, oor alles wat hy gedoen het,
4 ook oor die mense wat hy onskuldig laat doodmaak het. Jerusalem was vol van die bloed van onskuldige mense, en die Here wou dit nie vergewe nie.
5
Die ander verhale oor Jojakim en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.6 Jojakim is oorlede, en sy seun Jojagin het hom as koning opgevolg.
7
Die koning van Egipte het nie weer 'n veldtog buite sy land aangepak nie, want die koning van Babel het die gebied van Egiptespruit af tot aan die Eufraat verower, die hele gebied wat voorheen aan die koning van Egipte behoort het.8
Jojagin was agtien toe hy koning geword het en hy het drie maande in Jerusalem geregeer. Sy ma was Negusta, 'n dogter van Elnatan uit Jerusalem.9
Jojagin het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van sy pa gevolg.10
In dié tyd het die leër van koning Nebukadnesar van Babel 'n aanval op Jerusalem begin en die stad beleër.11 Nebukadnesar het self na die stad toe gekom terwyl sy soldate dit beleër het.
12 Koning Jojagin van Juda het hom oorgegee aan die koning van Babel, hy, sy ma, sy lyfwag, sy amptenare en sy offisiere. Jojagin is deur die koning van Babel gevange geneem in sy agste regeringsjaar.
13 Nebukadnesar het, soos die Here vantevore gesê het, al die skatte van die huis van die Here en die skatte van die paleis gevat en hy het al die goue goed stukkend geslaan wat koning Salomo van Israel vir die tempel van die Here laat maak het.
14
Nebukadnesar het die hele Jerusalem weggevoer: al die amptenare, al die soldate, tien duisend gevangenes, ook die vakmanne en die smede. Niemand het agtergebly nie behalwe die armstes van die landsbevolking.15 Hy het vir Jojagin na Babel toe weggevoer. Hy het ook die koninginmoeder, die vrouens van die koning, sy offisiere en die belangrikste mense in die land van Jerusalem af na Babel toe in ballingskap weggevoer.
16 Die koning van Babel het al die weerbare manne gevange weggevoer na Babel toe, al die soldate, sewe duisend, en ook nog duisend vakmanne en smede.
17
Hy het vir Mattanja, 'n oom van Jojagin, in sy plek koning gemaak en sy naam verander na Sedekia.18
Sedekia was een en twintig toe hy koning geword het en hy het elf jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Gamutal, 'n dogter van Jeremia uit Libna.19
Sedekia het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van Jojakim gevolg.20 Die toorn van die Here was op Jerusalem en Juda; Hy wou hulle wegvee uit sy teenwoordigheid uit.
Sedekia het in opstand gekom teen die koning van Babel,1
en in die negende regeringsjaar van Sedekia, op die tiende dag van die tiende maand, het koning Nebukadnesar van Babel met sy hele leër met 'n aanval op Jerusalem begin. Hy het kamp opgeslaan by die stad en 'n beleëringswal rondom die stad gebou.2 Die stad is beleër tot in die elfde regeringsjaar van koning Sedekia.
3 Teen die negende dag van die vierde maand was die hongersnood in die stad so erg dat daar nie meer kos vir die bevolking was nie.
4 Toe is daar 'n opening in die muur gebreek, en al die soldate het in die nag gevlug deur die poort tussen die twee mure langs die Koningstuin ten spyte daarvan dat daar Galdeërs rondom die stad was. Die soldate het in die rigting van die Jordaanvallei gevlug,
5 maar die Galdese leër het die koning agtervolg en hom ingehaal op die Jerigovlakte. Sy hele leër was toe al uitmekaargejaag, weg van hom af,
6 en hy is gevang en na die koning van Babel toe in Ribla gevat. Hy is verhoor,
7 en toe het hulle sy seuns voor sy oë geslag, sý oë uitgesteek, hom met bronskettings geboei en na Babel toe gevat.
8
In die vyfde maand, op die sewende van die maand, in die negentiende regeringsjaar van koning Nebukadnesar van Babel het Nebusaradan by Jerusalem aangekom. Hy was hoof van die lyfwag en amptenaar van die koning van Babel.9 Hy het die huis van die Here, die paleis en al die huise in Jerusalem, elke groot gebou, afgebrand.
10 Al die Galdese soldate wat onder sy bevel was, het die muur om Jerusalem afgebreek.
11 Die mense wat in die stad oor was, ook dié wat na die koning van Babel toe oorgeloop het, al wat van die groot stadsbevolking oorgebly het, is gevange weggevoer deur Nebusaradan die hoof van die lyfwag.
12 Net die armste mense van die land het hy laat agterbly om die wingerde en die lande te bewerk.
13
Die Galdeërs het die bronspilare, die waentjies en die bronswaterbak wat by die huis van die Here was, stukkend geslaan en die brons na Babel toe gevat.14 Hulle het die potte, die skoppe, die skêre en die panne saamgevat, en al die ander bronsgoed wat in die tempeldiens gebruik is.
15 Die hoof van die lyfwag het ook die vuurpanne en die komme vir besprinkeling buitgemaak, alles wat goud of silwer was.
16 Die brons van die twee pilare, die waterbak en die waentjies wat deur Salomo vir die huis van die Here gemaak is, was soveel dat dit nie geweeg kon word nie.
17 Elke pilaar was ag meter, en die bronskapiteel bo-op was een en 'n derde meter hoog. Die rooster met die granate om die kapiteel was heeltemal van brons. Die ander pilaar en sy rooster was dieselfde.
18
Die hoof van die lyfwag het die hoëpriester Seraja, die priester tweede in rang, Sefanja, en die drie drumpelwagte gevange saamgevat.19 In die stad het hy die offisier gevange geneem wat in bevel was van die soldate. Daar was ook nog vyf van die koning se vertrouelinge in die stad, die sekretaris van die hoof van die leër wat vir die oproep van die burgers verantwoordelik was, en sestig van die burgers.
20 Nebusaradan, die hoof van die lyfwag, het hulle gevange geneem en hulle na die koning van Babel toe in Ribla gevat.
21 Die koning van Babel het hulle laat doodmaak daar in Ribla, in Hamat.
So is Juda dan uit sy land weggevoer.22
Oor die mense wat in Juda oor was, dié wat deur koning Nebukadnesar van Babel toegelaat is om daar te bly, het hy vir Gedalja, seun van Agikam seun van Safan, aangestel.23 Toe die leëraanvoerders en hulle manskappe hoor dat die koning van Babel vir Gedalja aangestel het, het hulle na hom toe gegaan in Mispa. Die aanvoerders was Ismael seun van Netanja, Joganan seun van Kareag, Seraja seun van Tangumet uit Netofa, en Jaäsanja uit Maäka.
24
Gedalja het hulle en hulle manne met 'n eed verseker: “Moenie bang wees vir die Galdese amptenare nie. Bly in die land en onderwerp julle aan die koning van Babel, dan sal dit goed gaan met julle.”25
Maar in die sewende maand het Ismael seun van Netanja, seun van Elisama uit die koninklike familie, met tien manne by hom 'n aanslag gemaak op Gedalja en 'n klompie Judeërs en Galdeërs wat by hom in Mispa was, en hulle vermoor.26 Daarna het almal, klein en groot, saam met die leëraanvoerders na Egipte toe gevlug uit vrees vir die Galdeërs.
27
In die sewe en dertigste jaar van die ballingskap van koning Jojagin van Juda, op die sewe en twintigste van die twaalfde maand, het Ewil-Merodak, wat pas koning van Babel geword het, vir koning Jojagin van Juda uit die gevangenis vrygelaat.28 So het hy hom begenadig en hom hoër status gegee as die ander konings wat by hom in Babel was.
29
Jojagin kon sy gevangenisklere uittrek en het so lank as hy gelewe het, aan die koning se tafel geëet.30 Hy het van die koning 'n permanente toelae ontvang vir sy daaglikse behoeftes so lank as hy gelewe het.