1
Koning Dawid was al baie oud en selfs as hulle hom goed toegemaak het, het hy nie warm geword nie.2 Sy amptenare sê toe vir hom: “Laat hulle vir U Majesteit 'n jongmeisie soek wat u kan bedien en oppas. Sy kan by u slaap, sodat u weer warm kan word.”
3
Nadat hulle deur die hele gebied van Israel gaan soek het na 'n mooi meisie, het hulle vir Abisag, 'n meisie uit Sunem, gekry en haar na die koning toe gebring.4
Hierdie meisie was baie mooi en sy het die koning opgepas en versorg, maar die koning het nooit geslagsgemeenskap met haar gehad nie.5
Intussen het Adonia, seun van Dawid en sy vrou Gaggit, ewe hoogmoedig by homself gedink: ek gaan binnekort koning wees. Hy skaf toe vir hom 'n strydwa met ruiters aan, en vyftig man om voor hom uit te hardloop.6
Sy vader het hom van kleins af nooit berispe of vir hom gevra: “Hoekom maak jy so?” nie. Adonia, die jonger broer van Absalom, was 'n baie mooi man.7 Hy het met Joab seun van Seruja en met die priester Abjatar onderhandel, en hulle het hom ondersteun.
8 Maar die priester Sadok, Benaja seun van Jojada, die profeet Natan, Simeï, Reï en Dawid se lyfwagte was nie aan Adonia se kant nie.
9
Adonia het skape, beeste en vetgemaakte kalwers geslag by Sogeletrots langs Rogelfontein en toe al die koning se seuns, sy broers, daarheen genooi, en ook al die manne van Juda wat in die koning se diens was.10 Maar hy het die profeet Natan, Benaja, die lyfwagte en sy broer Salomo nie genooi nie.
11
Natan sê toe vir Batseba, Salomo se moeder: “Het jy gehoor Adonia seun van Gaggit het koning geword, en koning Dawid weet daar niks van nie!12 Laat ek jou nou goeie raad gee sodat jy jou eie lewe en jou seun Salomo s'n kan red.
13 Gaan na koning Dawid toe en sê vir hom: ‘U Majesteit, u het mos vir my met 'n eed beloof my seun Salomo sal na u koning word en dit is hy wat op u troon sal sit. Hoe is dit dan dat Adonia nou koning geword het?’
14 En terwyl jy nog met die koning praat, sal ek agter jou inkom en die saak verder voer.”
15
Toe het Batseba by die koning in sy kamer ingegaan. Die koning was baie oud, en Abisag die Sunemmitiese meisie was besig om die koning te versorg.16 Batseba het ingekom en voor die koning gebuig. Die koning sê toe: “Wat kan ek vir jou doen?”
17
Sy sê vir hom: “U Majesteit, u het mos tog voor die Here u God vir my met 'n eed beloof dat my seun Salomo na u koning sal word, en dat dit hy is wat op u troon sal sit.18 Maar nou het Adonia koning geword sonder dat u iets daarvan weet.
19 Hy het 'n klomp beeste en kalwers en skape geslag en hy het al die prinse en die priester Abjatar en vir Joab, die hoof van die leër, daarheen genooi. Maar vir Salomo het hy nie genooi nie.
20 U Majesteit, die hele Israel kyk nou op na u om vir hulle aan te wys wie u troon ná u sal bestyg.
21 Moet ek en my seun Salomo dan, nadat u in u graf gelê is, as misdadigers behandel word?”
22
Terwyl sy nog met die koning praat, kom die profeet Natan daar aan.23 Iemand sê toe vir die koning: “Hier is die profeet Natan.”
Natan kom toe nader en buig diep voor die koning24 en sê: “U Majesteit, het u ooit gesê Adonia moet ná u koning wees en dit is hy wat op u troon moet sit?
25 Hy het vandag gegaan en 'n klomp beeste en kalwers en skape geslag, en hy het al die prinse en die leërhoofde en die priester Abjatar genooi. Hulle eet en drink daar saam met hom en hulle roep: ‘Lank lewe koning Adonia!’
26 Maar vir my en die priester Sadok en Benaja seun van Jojada, en Salomo het hulle nie genooi nie.
27 As hierdie optrede met u toestemming plaasvind, dan het u ons nie ingelig oor wie ná u op u troon moet sit nie.”
28
Toe sê koning Dawid: “Roep vir Batseba hier na my toe.” Sy het nader gekom en voor die koning gaan staan.29 Toe lê die koning 'n eed af en sê: “So seker as die Here leef wat my uit alle benoudheid verlos het:
30 soos ek vir jou met 'n eed voor die Here die God van Israel bevestig het dat jou seun Salomo ná my koning sal word, en dat hy in my plek op die troon sal sit, so doen ek dit nou weer.”
31
Batseba het voor die koning gekniel en gebuig en sy het gesê: “Mag koning Dawid baie lank lewe.”32
Toe gee koning Dawid opdrag: “Gaan roep vir my die priester Sadok en die profeet Natan en Benaja seun van Jojada.” Toe hulle by die koning kom,33 sê hy vir hulle: “Vat my lyfwagte saam met julle en laat my seun Salomo op my eie muil ry. Vat vir Salomo na die Gihonfontein toe
34 en laat die priester Sadok en die profeet Natan hom daar tot koning oor Israel salf. Dan moet julle die ramshoring blaas en roep: ‘Lank lewe koning Salomo!’
35 Julle moet agter hom aangaan, en hy moet binnegaan en op my troon gaan sit, want dit is hy wat my as koning opvolg. Ek gee opdrag dat hý heerser moet wees van Israel en Juda.”
36
Benaja seun van Jojada sê toe: “So is dit, en mag die Here u God ook so sê.37 Mag Hy by Salomo wees soos Hy by u was. Mag Hy die heerskappy van Salomo nog groter maak as koning Dawid s'n.”
38
Die priester Sadok, die profeet Natan en Benaja seun van Jojada en die koninklike lyfwag het toe so gemaak. Hulle het Salomo op koning Dawid se muil laat ry en hom by Gihonfontein gebring.39 Die priester Sadok het 'n horing vol olie uit die heiligdom saamgebring en hy het vir Salomo gesalf. Toe blaas hulle die ramshoring, en die mense roep: “Lank lewe koning Salomo!”
40
Hulle gaan toe almal agter hom aan terwyl hulle op fluite blaas en juig dat die aarde daarvan dreun.41
Adonia en sy gaste was net klaar met eet toe hulle dit hoor. Toe Joab die ramshoring hoor, vra hy: “Wat is die stad so rumoerig?”42
Hy het nog gepraat toe Jonatan seun van die priester Abjatar daar aankom. Adonia sê toe vir hom: “Kom nader. Jy is mos 'n wakker man. Jy bring seker goeie nuus.”43
Jonatan het vir Adonia geantwoord: “Inteendeel! Koning Dawid het vir Salomo koning gemaak!44 Die koning het die priester Sadok, die profeet Natan, Benaja seun van Jojada, en die koninklike lyfwag saam met hom gestuur. Hulle het hom op die koning se muil laat ry,
45 en die priester Sadok en die profeet Natan het hom by Gihonfontein tot koning gesalf. Daarvandaan het hulle met 'n gejuig teruggegaan. Dit is die rumoer wat julle in die stad gehoor het.
46 Salomo sit nou op die troon.
47 Die amptenare van die koning het ook gekom om koning Dawid geluk te wens. Hulle het gesê: ‘Mag u God vir Salomo nog beroemder maak as vir u en sy regering nog roemryker as dié van u.’ Die koning het op sy bed gekniel
48 en gesê: Aan die Here die God van Israel kom die lof toe, Hy wat gegee het dat daar vandag iemand op my troon sit en dat my eie oë dit kan sien.”
49
Toe het die gaste van Adonia almal verskrik opgespring en gemaak dat hulle wegkom.50 Omdat Adonia bang was vir Salomo, het hy aan die horings van die altaar gaan vashou.
51 Iemand het vir Salomo kom vertel: “Adonia is bang vir u, koning Salomo. Hy klou aan die horings van die altaar vas en hy sê: Koning Salomo moet eers vir my met 'n eed bevestig dat hy my nie sal doodmaak nie.”
52
“As hy hom goed gedra,” sê Salomo toe, “sal daar nie aan 'n haar op sy kop geraak word nie. Maar as hy kwaad doen, moet hy dood.”53
Koning Salomo het beveel dat hulle hom by die altaar moet gaan haal. Toe hy by koning Salomo kom, het Adonia voor hom gebuig. En Salomo sê vir hom: “Gaan bly by jou huis!”1
Toe Dawid se einde nader, het hy sy seun Salomo beveel:2 “Noudat ek die pad van alle mense moet gaan, moet jy sterk wees en soos 'n man optree.
3 Hou jou aan wat die Here jou God jou voorskryf en lewe daarvolgens. Gehoorsaam sy voorskrifte, sy gebooie, sy bepalings en sy verordenings soos dit opgeskryf is in die wet van Moses. Dan sal jy voorspoedig wees in alles wat jy doen en oral waar jy gaan.
4 Dan sal die Here sy beloftes vervul. Hy het vir my gesê: ‘As jou nakomelinge nougeset leef en met hart en siel aan My getrou bly, sal daar altyd een uit jou nageslag as koning oor Israel regeer!’
5
“Jy weet self wat Joab seun van Seruja my aangedoen het, wat hy gedoen het met die twee leërhoofde van Israel, met Abner seun van Ner en met Amasa seun van Jitra: hy het hulle vermoor, hy het hulle in vredestyd doodgemaak asof daar oorlog was. Hy het hulle onskuldige bloed op die gordel om sy lyf en op die skoene aan sy voete laat spat.6 Doen met hom soos jy dit goedvind. Moenie sy lewe spaar net omdat hy oud is nie.
7
“Jy moet goed wees vir die seuns van Barsillai van Gilead. Laat hulle van jou tafel af eet, want hulle het vir mý kos gebring toe ek vir jou broer Absalom gevlug het.8
“Daar is ook nog Simeï seun van Gera die Benjaminiet, uit Bagurim. Hy het my vreeslik gevloek toe ek die dag na Maganajim toe gegaan het en ons mekaar by die Jordaan teëgekom het. Ek het vir hom voor die Here met 'n eed bevestig dat ek hom nie om die lewe sal bring nie,9 maar jy moet hom nou nie verskoon nie. Jy is 'n wyse man en jy sal weet wat om met hom te maak dat hy met die dood gestraf word al is hy al oud.”
10
Dawid is oorlede, en hy is begrawe in die Dawidstad.11 Die duur van sy regering oor Israel was veertig jaar. In Hebron was hy sewe jaar lank koning, en in Jerusalem drie en dertig jaar.
12 Salomo het sy pa se troon bestyg en 'n stewige houvas op sy koningskap gekry.
13
Adonia seun van Gaggit het na Batseba, Salomo se ma, toe gegaan. Sy het vir hom gevra: “Kom jy in vrede?” “Ja,” sê hy,14 “ek kom net met u praat.”
“Praat maar,” sê sy.15
Hy sê toe: “U weet self dat die koningskap myne sou word, en dat die hele Israel na my opgesien het om te regeer. Maar dit het anders verloop, die Here het dit so bestem dat my broer koning geword het.16 Ek wil u nou net een guns vra, en u moet my dit nie weier nie.”
“Vra maar,” sê sy.17
“Koning Salomo sal mos na u luister,” sê hy toe. “Vra hom asseblief dat hy vir my die Sunemmitiese meisie Abisag as vrou gee.”18
“Goed,” sê Batseba, “ek sal jou versoek aan die koning oordra.”19
Toe Batseba by koning Salomo binnekom om Adonia se versoek te gaan stel, het Salomo opgestaan en voor haar gebuig. Hy gaan toe weer op sy troon sit en laat vir die koninginmoeder 'n stoel aan sy regterkant naderbring om op te sit.20
Sy sê: “Ek wil 'n klein gunsie van jou vra. Moet my dit nie weier nie.” “My ma kan maar vra, ek sal nie vir haar nee sê nie,” het hy geantwoord.21
Sy sê toe: “Laat jou broer Adonia tog vir Abisag die Sunemmitiese meisie as vrou kry.”22
Toe sê koning Salomo vir sy ma: “Hoekom vra u dat hy vir Abisag moet kry? U kan dan net so wel die hele koningskap vir hom vra, want hy is my ouer broer, en die priester Abjatar en Joab seun van Seruja steun hom!”23
Toe het koning Salomo 'n eed voor die Here afgelê: “Mag God my met die dood straf as Adonia nie met sy lewe hiervoor boet nie!24 So seker as die Here leef, Hy wat my koning laat word het en my die troon van my pa laat bestyg het, en vir my 'n koningshuis gevestig het soos Hy beloof het, net so seker moet Adonia vandag nog dood!”
25
Koning Salomo het vir Benaja seun van Jojada gestuur en dié het vir Adonia om die lewe gebring.26
Vir die priester Abjatar het die koning gesê: “Gaan na jou grond toe by Anatot! Jy moes eintlik ook doodgemaak gewees het, maar ek sal jou nie nou doodmaak nie, omdat jy die ark van die Here voor my pa uit gedra het, en omdat jy soveel saam met hom deurgemaak het.”27
Salomo het vir Abjatar ontslaan, sodat hy nie meer priester van die Here was nie. So het die oordeel wat die Here by Silo oor Eli se nageslag uitgespreek het, in vervulling gegaan.28
Joab, wat 'n ondersteuner van Adonia was maar nie destyds vir Absalom gesteun het nie, het hiervan te hore gekom. Hy het na die heiligdom van die Here toe gevlug en daar die horings van die altaar vasgegryp.29 Toe koning Salomo verneem dat Joab na die heiligdom toe gevlug het en daar by die altaar is, het hy vir Benaja seun van Jojada beveel: “Gaan maak hom dood!”
30
Benaja het na die heiligdom toe gegaan en vir hom gesê: “Die koning sê jy moet uitkom!” Maar hy sê: “Nee, ek wil hiér sterf.” Benaja het toe eers aan die koning gaan rapporteer wat Joab gesê het.31
Die koning sê toe vir Benaja: “Nes hy wil. Maak hom dood en begrawe hom. So sal jy my en my familie onthef van die blaam vir die moorde wat Joab gepleeg het.32 Die Here laat hom nou sy verdiende straf kry. Hy het twee manne doodgemaak sonder die medewete van my pa: Abner, seun van Ner en hoof van die leër van Israel, en Amasa, seun van Jitra en hoof van die leër van Juda, albei onskuldiger en beter mense as hy.
33 Laat die skuld vir hulle dood vir altyd op Joab en sy nageslag rus, en mag die Here vir altyd vrede gee aan Dawid en sy nageslag en aan sy hele familie en aan sy troon.”
34
Toe het Benaja seun van Jojada teruggegaan en vir Joab daar aangeval en hom doodgemaak. Hy is begrawe by sy huis in die veld.35
Koning Salomo het vir Benaja seun van Jojada in Joab se plek aangestel oor die leër, en in die plek van Abjatar het hy vir Sadok as priester aangestel.36
Die koning het vir Simeï laat haal en vir hom gesê: “Jy mag vir jou 'n huis in Jerusalem bou en hier woon, maar jy mag nie uit die stad gaan nie, dit maak nie saak waarheen nie.37 Die dag as jy hier uitgaan en jou voete oor Kedronspruit sit, is jy dood. Dit moet jy beslis weet. Dit sal jou eie skuld wees.”
38
Simeï sê toe vir die koning: “Dit is goed so. Ek sal die bevel van die koning eerbiedig.” Simeï het toe 'n hele tyd lank net in Jerusalem gebly,39 maar na drie jaar het twee van sy slawe weggeloop na koning Akis van Gat, seun van Maok, toe. Toe Simeï hoor dat sy slawe in Gat is,
40 het hy sy donkie opgesaal en na Gat toe gegaan om sy slawe daar by Akis te soek. Simeï het net gegaan en sy slawe uit Gat uit teruggebring,
41 maar toe Salomo hoor dat Simeï uit Jerusalem na Gat toe was en terug is,
42 het hy hom laat kom en vir hom gesê: “Ek het jou dan 'n eed voor die Here laat aflê en jou gewaarsku: ‘Die dag as jy hier uitgaan, dit maak nie saak waarheen nie, is jy dood; dit moet jy beslis weet.’ Jy het nog vir my gesê: ‘Dit is goed so. Ek het gehoor.’
43
“Waarom het jy jou dan nie aan hierdie eed voor die Here en die bevel wat ek jou gegee het, gehou nie?”44
Die koning het verder vir Simeï gesê: “Jy weet in jou hart watter leed jy my pa aangedoen het. Mag die Here daardie leed op jou eie kop laat afkom,45 maar mag dit met my voorspoedig gaan en mag die troon van Dawid vir altyd bestendig wees voor die Here.”
46
Die koning het vir Benaja seun van Jojada gestuur, en dié het vir Simeï doodgemaak.47
So het Salomo 'n stewige houvas op die koningskap gekry.1
Salomo het hom verbind aan die familie van die farao, die koning van Egipte. Hy het getrou met die dogter van die farao en haar in die Dawidstad laat woon totdat hy sy paleis en die tempel van die Here en die muur rondom die stad klaar gebou het.2
In daardie dae het die volk nog altyddeur op die hoogtes geoffer, omdat daar nog nie 'n tempel vir die Naam van die Here opgerig was nie.3 Salomo het sy liefde vir die Here betoon deur alles te doen wat Dawid, sy pa, hom voorgeskryf het. Hy het egter nog op die hoogtes offers gebring.
4
Koning Salomo het na Gibeon toe gegaan om daar te offer, omdat die vernaamste hoogte daar was. Salomo het op daardie altaar duisend brandoffers gebring.5
Daar in Gibeon het die Here die nag in 'n droom aan Salomo verskyn en vir hom gevra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou gee?”6
Toe sê Salomo: “U het groot trou aan my vader Dawid bewys. Hy was in sy lewe getrou en gehoorsaam en opreg teenoor U. U het hierdie groot trou aan hom bewys en vir hom 'n seun gegee wat vandag op sy troon sit.7 Here my God, U het my koning gemaak in my vader Dawid se plek, maar ek is nog jonk en onervare
8 en ek moet regeer oor die volk wat deur U uitgekies is, 'n groot volk, te veel om te tel.
9 Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer!”
10
Die Here het dit goedgevind dat Salomo dít gevra het.11 Hy het vir hom gesê: “Omdat dít jou versoek is en jy nie vir jou 'n lang lewe, of rykdom, of die dood van jou vyande gevra het nie, maar insig in wat reg is,
12 sal Ek aan jou versoek voldoen. Ek gee aan jou wysheid en insig soos niemand vóór jou gehad het of ná jou sal hê nie.
13 Ook wat jy nie gevra het nie, gee Ek aan jou: rykdom en aansien, sodat daar onder die konings niemand soos jy sal wees solank jy leef nie.
14 As jy jou in jou optrede hou aan my voorskrifte en gebooie soos jou vader Dawid gedoen het, sal Ek jou ook nog 'n lang lewe gee.”
15
Toe Salomo wakker word, het hy besef dat die Here in 'n droom aan hom verskyn het. Hy is toe terug na Jerusalem toe, en daar het hy voor die verbondsark van die Here gaan staan en brandoffers en maaltydoffers gebring. Hy het ook 'n feesmaal vir al sy amptenare gegee.16
Op 'n keer het twee prostitute met 'n saak na die koning toe gekom.17
“U Majesteit,” sê die een vrou, “ek en hierdie vrou woon in dieselfde huis, en sy was by toe ek 'n kind in die wêreld gebring het.18 Drie dae daarna het sy ook 'n kind gekry. Ons was saam in die huis en daar was niemand anders nie; net ons twee was daar.
19 Een nag is hierdie vrou se seuntjie dood; sy het hom doodgelê.
20 Sy staan toe in die middel van die nag op en vat my seuntjie langs my weg terwyl ek slaap, en lê hom by haar neer, en haar seuntjie wat dood is, lê sy by my neer.
21 Toe ek die môre opstaan om die kind te laat drink, toe is hy dood! Maar toe ek hom later in die môre goed bekyk, is dit nie my baba nie.”
22
Toe sê die ander vrou: “Nee, die een wat lewe, is myne. Dis jou seuntjie wat dood is!” En die eerste vrou sê: “Dis jou seuntjie wat dood is! Die een wat lewe, is myne!” So het hulle voor die koning gestaan en stry.23
Die koning redeneer toe by homself: die een sê: “Die seuntjie wat lewe, is myne, joune is dood,” en die ander sê: “Nee, jou seuntjie is dood; die een wat lewe, is myne.”24
Toe beveel die koning: “Bring vir my 'n swaard!” Hulle het die swaard gebring,25 en die koning het gesê: “Sny die kind wat lewe in twee stukke en gee vir elkeen van hulle 'n helfte!”
26
Maar die ma van die kind wat lewe, begin toe by die koning smeek, want haar hart het inmekaar gekrimp oor die lot van haar baba, en sy sê: “Asseblief, U Majesteit, gee die seuntjie wat lewe vir haar, moet hom tog net nie doodmaak nie.” Maar die ander vrou sê: “As ek hom nie kry nie, kry jy hom ook nie. Sny hom deur!”27
Toe sê die koning: “Moenie die kind doodmaak nie, maar gee hom vir die een dáár, sý is die ma!”28
Die hele Israel het gehoor van die uitspraak wat die koning gelewer het, en hulle het hoë agting vir die koning gekry, want dit het vir hulle duidelik geword dat hy van God self wysheid ontvang het om regsake uit te wys.1
Salomo was koning oor die hele Israel.2 Sy hoofamptenare was die volgende:
Asarja seun van Sadok was hoëpriester;3
Eligoref en Agija, seuns van Sisa, was administratiewe beamptes; Josafat seun van Agilud was die hoof uitvoerende beampte;4
Benaja seun van Jojada was hoof van die leër. Sadok en Abjatar was priesters.5 Asarja seun van Natan was hoof van die streekbestuurders; Sabud seun van Natan was 'n priester en persoonlike raadgewer van die koning.
6
Agisar was paleisopsigter; Adoniram seun van Abda was in beheer van die dwangarbeid.7
Salomo het twaalf streekbestuurders in die hele Israel aangestel met die oog op die onderhoud van die koning en sy hof. Elkeen was verantwoordelik vir een maand per jaar se onderhoud.8
Hulle name was: Ben-Gur in die Efraimsberge;9
Ben-Deker in Makas, Saälbim, Bet-Semes en Elon-Bet-Ganan;10
Ben-Gesed in Arubbot, dit het Soko en die hele Geferstreek ingesluit;11
Ben-Abinadab in die hele berggebied van Dor; sy vrou was Tafat 'n dogter van Salomo;12
Baäna seun van Agilud in Taänak en Megiddo en ook in Bet-San wat grens aan Saretan onderkant Jisreël; dit is dus van Bet-San af tot by Abel-Megola en tot anderkant Jokmoam;13
Ben-Geber in Ramot in Gilead; hierby was ingereken die tentdorpe van Jaïr seun van Manasse in Gilead, en ook die Argobgebied in Basan, sestig groot stede met mure rondom en poortgrendels van brons;14
Aginadab seun van Iddo in Maganajim;15
Agimaäs in Naftali; hy was getroud met Basemat, ook 'n dogter van Salomo;16
Baäna seun van Gusai in Aser en Alot;17
Josafat seun van Paruag in Issaskar;18
Simeï seun van Ela in Benjamin;19
Geber seun van Uri in die Gileadstreek, dit is die vroeëre gebied van die Amoritiese koning Sihon, en van koning Og van Basan; in hierdie hele streek was daar net die een bestuurder.20
Juda en Israel was so baie soos die sand aan die see. Hulle het volop te eet en te drink gehad, en hulle was gelukkig.21 Salomo het geheers oor al die koninkryke van die Eufraatrivier af tot by die gebied van die Filistyne, dit wil sê tot by die grens van Egipte. Hulle het belasting betaal en was onderhorig aan Salomo solank hy geleef het.
22
Salomo se daaglikse kosvoorrade was vyf ton fynmeel en tien ton broodmeel,23 tien vetgevoerde beeste, twintig veldbeeste en honderd stuks kleinvee, behalwe nog takbokke, gemsbokke, ribbokke en vetgemaakte pluimvee.
24
Salomo het geheers oor alles wes van die Eufraatrivier, van Tifsag af tot by Gasa, oor al die konings wes van die Eufraat. Na alle kante toe was daar vrede,25 en solank Salomo geleef het, het die Judeërs en die Israeliete van Dan af tot by Berseba veilig gewoon, elkeen met sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom om onder te sit.
26
Salomo het veertig duisend trekperde op stal gehad vir sy strydwaens en ook twaalf duisend ryperde.27
Die streekbestuurders het elkeen een maand per jaar vir koning Salomo en almal wat van sy tafel af geëet het, van kos voorsien. Hulle het gesorg dat niks ontbreek nie.28 Hulle het ook die gars en die hooi vir die ryperde en die trekperde gebring op die plekke wat met elkeen gereël was.
29
God het aan Salomo baie groot wysheid en verstand gegee en insig in soveel sake as wat daar sand aan die see is.30 Salomo het meer wysheid gehad as al die ander mense, van die ooste af tot in Egipte.
31 Hy het meer wysheid gehad as enigiemand anders, meer as Etan die Esragiet, en meer as Heman, Kalkol en Darda, seuns van Magol. Sy naam het bekend geraak onder al die nasies in die omtrek.
32 Hy het drie duisend spreuke gemaak en duisend en vyf liedere gedig.
33 Hy het verse gemaak oor bome en plante, van die seders op die Libanon tot die hisop wat uit die mure groei; hy het gedig oor diere, voëls, reptiele en visse.
34
Van oral af het daar mense gekom om na Salomo se wysheid te luister, afgesante van al die konings wat gehoor het dat hy so 'n wyse man is.1
Koning Hiram van Tirus het ook gesante na Salomo toe gestuur toe hy hoor dat hulle hom tot koning gesalf het in die plek van sy pa, want Hiram was altyd baie geheg aan Dawid.2
Toe rig Salomo die volgende versoek aan Hiram:3 “Dit is aan u bekend dat Dawid, my pa, nie 'n tempel vir die Naam van die Here sy God kon bou nie, omdat hy so dikwels in oorlog betrokke was. Die Here het hom die oorwinning oor al sy vyande gegee
4 en nou het die Here ook vir my aan alle kante rus gegee. Daar is nêrens enige teëstander of gevaar wat my bedreig nie.
5 Daarom het ek nou besluit om 'n tempel vir die Naam van die Here my God te bou. Dit sal die vervulling wees van die Here se belofte aan my pa toe die Here gesê het: ‘Jou seun wat Ek in jou plek sal laat regeer, hý sal 'n tempel vir my Naam bou.’
6 My versoek is nou dat u vir my sederhout op die Libanon laat kap. My eie arbeiders sal saam met u arbeiders werk. Ek sal ook aan u die loon betaal wat u vir u arbeiders vasstel, want soos u weet, het ons nie mense wat die houtkappery ken soos die Sidoniërs nie.”
7
Hiram was baie bly toe hy hierdie versoek van Salomo ontvang. Hy het uitgeroep: “Geloof sy die Here vandag, omdat Hy vir Dawid 'n wyse seun gegee het om koning te wees oor hierdie groot volk!”8
Hiram het toe vir Salomo geantwoord: “Ek het u bestelling ontvang. Ek sal al die seder- en sipreshout lewer wat u wil hê.9 My werkers sal dit van die Libanon af see toe bring. Daar sal ek dit in vlotte bind en na die afgesproke plek toe laat bring en weer losmaak. U kan dit daarvandaan verder vervoer. U moet dan aan my kos voorsien vir my huishouding soos ek dit nodig kry.”
10
So het Hiram aan Salomo seder- en sipreshout gelewer, soveel as wat hy nodig gehad het,11 en Salomo het jaar vir jaar aan Hiram drie duisend drie honderd ton koring gelewer vir die onderhoud van sy huishouding, en ook vier duisend vier honderd liter van die suiwerste olyfolie.
12
Die Here het aan Salomo wysheid gegee soos Hy belowe het. Daar was 'n goeie verhouding tussen Hiram en Salomo, en hulle het 'n verdrag gesluit.13
Koning Salomo het vir die hele Israel dwangarbeid ingestel en so 'n arbeidsmag van dertig duisend man bymekaargebring.14 Hy het om die beurt elke maand tien duisend na die Libanon toe gestuur, sodat hulle elkeen een maand op die Libanon was en twee maande tuis. Adoniram het beheer gehad oor die dwangarbeid.
15
Salomo het sewentig duisend draers en tagtig duisend klipkappers in die berge aan die werk gehad,16 behalwe nog die drie duisend drie honderd opsigters oor die werk, wat moes toesien dat die arbeiders die werk doen.
17 Die koning het beveel dat hulle groot klip van goeie gehalte moes uitkap, sodat die fondamente van die tempel met gekapte klip gelê kon word.
18 Die bouers van Salomo en van Hiram en die mense van Gebal het dit verder reggekap en dan die hout en die klippe reg gesit vir die bou van die tempel.
1
Vier honderd en tagtig jaar nadat die Israeliete uit Egipte getrek het, vier jaar nadat Salomo koning van Israel geword het, het hy begin bou aan die tempel van die Here. Dit was in die maand Sif, die tweede maand.2
Die tempel wat koning Salomo vir die Here gebou het, was dertig meter lank, tien meter breed en vyftien meter hoog.3
Die voorportaal aan die voorkant van die tempel was tien meter lank, net so lank as wat die tempel breed was. Die breedte daarvan was vyf meter.4
Salomo het in die tempel vensters aangebring met kosyne en met traliewerk voor.5
Rondom teen die muur van die tempel het hy 'n platform gebou. Dit het om die mure van die voorste en die binneste heiligdom gestrek, en daarop het hy verdiepings gebou.6 Die onderste verdieping was twee en 'n half meter breed, die middelste drie meter en die derde drie en 'n half meter. Hy het die tempelmuur so gebou dat dit aan die buitekant regoor elke verdieping nouer was as regoor die vorige, sodat hy nie nodig sou hê om die verdiepings in die tempelmuur self vas te bou nie.
7
Vir die bou van die tempel is klaar gekapte klip uit die groewe gebruik. Daar was geen geraas van hamers, beitels of enige ander ystergereedskap by die tempel toe dit gebou is nie.8
Die ingang na die middelste verdieping was aan die suidekant van die tempel. 'n Mens kon ook deur 'n luik opgaan na die middelste verdieping toe en daarvandaan na die derde toe.9
Nadat Salomo die tempel klaar gebou het, het hy 'n dak van oorkruis gelegde sederbalke opgesit.10 Die platform wat hy buite om die hele tempel gebou het, was twee en 'n half meter hoog, en hy het dit met sederbalke aan die tempelmuur vasgesit.
11
Die woord van die Here het tot Salomo gekom en gesê:12
“Jy bou nou die tempel. As jy volgens my voorskrifte leef en my bepalings uitvoer en jou aan al my gebooie hou en volgens hulle leef, sal Ek my beloftes wat Ek aan jou vader Dawid gemaak het, nakom teenoor jou.13 Ek sal tussen die Israeliete woon, Ek sal my volk Israel nie verlaat nie.”
14
Nadat Salomo die tempel klaar gebou het,15 het hy die mure van die tempel aan die binnekant met sederplanke bedek; van die vloer af tot teen die dakbalke het hy dit met hout oorgetrek. Die vloer self het hy van sipresplanke gemaak.
16
Hy het agter in die tempel tien meter afgeskort met sederplanke, van die vloer af tot teen die dak, en so aan die binnekant 'n binneste heiligdom ingerig, die Allerheiligste.17
Die groot vertrek, die voorste heiligdom, was twintig meter lank.18 Dit was aan die binnekant uitgevoer met sederhout, waarop kalbasse en blomknoppe uitgesny is. Alles was sederhout, daar was nie klip sigbaar nie.
19
Hy het die binneste heiligdom binne in die tempel ingerig om die verbondsark van die Here daar te sit.20 Die binneste heiligdom was tien meter lank, tien meter breed en tien meter hoog. Salomo het dit oorgetrek met geslae goud, en die altaar voor die binneste heiligdom het hy met sederhout oorgetrek.
21
Hy het ook die groot vertrek met geslae goud oorgetrek aan die binnekant, en hy het goue kettings gespan voor die binneste heiligdom, wat hy ook met goud oorgetrek het.22 Die hele vertrek, so groot soos hy was, is met goud oorgetrek, en ook die hele altaar by die binneste heiligdom.
23
In die binneste heiligdom het hy twee gerubs van olyfhout aangebring, vyf meter hoog.24 Elke vlerk van die gerubs was twee en 'n half meter lank. Van punt tot punt was die vlerke van die een gerub dus vyf meter
25 en net so ook die ander een s'n. Die twee gerubs was ewe groot en het eenders gelyk.
26 Die een was vyf meter hoog, en die ander een ook.
27 Salomo het die gerubs in die binneste vertrek gesit. Hulle vlerke was uitgestrek; die een se een vlerk het aan die een muur geraak en die ander se een vlerk aan die ander muur. Presies in die middel van die vertrek het hulle ander vlerke aan mekaar geraak.
28 Salomo het die gerubs met goud oorgetrek.
29
Rondom teen al die mure van die tempel het Salomo gerubs, palms en blomknoppe in houtsneewerk aangebring, in die binneste en in die buitenste vertrekke.30 Hy het ook altwee vertrekke se vloere met goud oorgetrek.
31
Vir die binneste heiligdom het hy 'n dubbeldeur van olyfhout gemaak. Die kosyn het 'n vyfhoek gevorm.32 Op die twee deure van olyfhout het hy gerubs, palms en blomknoppe laat uitsny en dit met goud oorgetrek. Hy het die goud oor die gerubs en die palms aangebring.
33 Dieselfde het hy gedoen by die ingang van die voorste heiligdom. Die kosyn was ook van olyfhout, maar daar het dit 'n vierhoek gevorm.
34 Die twee dubbeldeure was van sipreshout. Op die twee vleuels van elke deur was sirkels uitgesny.
35 Salomo het ook gerubs, palms en blomknoppe op die deure uitgesny en dit met goud oorgetrek. Die goud is in die uitgesnyde dele vasgeslaan.
36
Hy het die binneste voorhof gebou van drie lae gekapte klip en een laag sederhout.37
Die fondament van die huis van die Here is gelê in die vierde jaar, in die maand Sif,38 en die tempel met al sy toebehore en sy hele inrigting is voltooi in die elfde jaar, in die maand Bul, die agste maand. Hulle het sewe jaar aan die tempel gebou.
1
Aan sy paleis het Salomo dertien jaar gebou voor hy heeltemal klaar was daarmee.2
Hy het ook die Libanonsbosgebou opgetrek, vyftig meter lank, vyf en twintig meter breed en vyftien meter hoog, op vier rye sederhoutpilare en met sederhoutbalke op die pilare.3 Bo-oor die verdiepings was daar 'n dak wat gerus het op vyf en veertig pilare, vyftien in 'n ry.
4 Daar was drie rye vensters met kosyne, telkens drie vensters regoor mekaar.
5 Al die deurkosyne was reghoekig en het lateie gehad. Daar was telkens drie deure regoor mekaar.
6
Salomo het ook 'n pilaargang gebou, vyf en twintig meter lank en vyftien meter breed. Dit het 'n voorportaal aan die voorkant gehad, met pilare en 'n afdak voor.7
Salomo het ook 'n troonsaal ingerig, die regsaal, waar hy hofsake verhoor het. Dit was van die vloer af tot teen die dak met sederhout uitgevoer.8 Die gebou waar hy self gewoon het, was aan die binneplein agter die troonsaal en is op dieselfde manier gebou. Verder het hy 'n woonplek net soos die troonsaal gebou vir die farao se dogter met wie hy getroud was.
9
Al die geboue van die fondament af tot teen die dak is opgerig van duursame klip wat volgens maat gekap en aan weerskante met die saag afgewerk is. Ook die gedeelte buitekant tot teen die groot voorhof is so gebou.10 Die fondamente was van groot, duursame klippe, klippe van vyf meter en vier meter.
11 Bo-op was duursame klip, volgens maat gekap, en sederhout.
12 Die mure van die groot voorhof rondom is gebou van drie lae gekapte klip en een ry sederhoutbalke, net soos die binneste voorhof van die huis van die Here en die voorportaal van die paleis.
13
Koning Salomo het die dienste bekom van Hiram van Tirus.14 Hiram was die seun van 'n weduwee uit die Naftalistam en sy pa was 'n Tiriër, 'n vakman in bronswerk. Hiram kon enige bronswerk met vaardigheid, insig en vernuf uitvoer. Hy het in diens van koning Salomo getree en alles gedoen wat dié hom opgedra het.
15
Hiram het die twee bronspilare gegiet, nege meter hoog en ses meter in die omtrek.16 Hy het twee kapitele gemaak, in brons gegiet, om bo-op die pilare te sit. Elke kapiteel was twee en 'n half meter hoog.
17 Daar was roosters met gevlegte kettingwerk aan die kapitele bo-op die pilare, sewe kettings aan elke kapiteel.
18 Dit is hoe hy die pilare gemaak het. Op elke rooster teen die kapitele het hy rondom twee rye granate aangebring.
19 Die kapitele bo-op die pilare by die voorportaal was in die vorm van blomkelke, twee meter hoog.
20 Aan die bokant van die kapitele op die pilare net waar die kelke dikker word, teen die kante van die roosters, was rondom twee honderd granate in rye.
21 Hiram het die pilare by die voorportaal van die tempel opgestel. Die een wat hy regs opgestel het, het hy Jakin genoem, en die een links Boas.
22 Bo-op die pilare was die kapitele in die vorm van blomkelke. Daarmee was die werk aan die pilare afgehandel.
23
Hy het ook die gegote waterbak gemaak, heeltemal rond, vyf meter in deursnee, twee en 'n half meter hoog, en met 'n omtrek van vyftien meter.24 Rondom onder die rand van die waterbak was twee rye kalbasse in reliëf, tien op elke halwe meter. Die kalbasse is saam met die waterbak in een stuk gegiet.
25 Die waterbak het gerus op twaalf gegote beeste, drie na die noorde gerig, drie na die weste, drie na die suide en drie na die ooste. Die waterbak was bo-op hulle, en almal se agterkante was onder die bak in.
26 Die wande van die waterbak was sowat nege sentimeter dik en sy rand was soos 'n beker se rand in die vorm van die kelk van 'n lelie. Dit kon vier en veertig kiloliter bevat.
27
Hiram het tien waentjies van brons gemaak. Elke waentjie was twee meter lank, twee meter breed en een en 'n half meter hoog.28 Die waentjies is soos volg gemaak:
Hulle het sypanele gehad tussen die rame,29 en op die sypanele en die rame was daar leeus, beeste en gerubs. Bokant en onderkant die leeus en die beeste was kransies in reliëf.
30 Elke waentjie het vier bronswiele gehad met brons-asse aan die vier voetstukke. Die waskom het gerus op staanders, gegiet met kransies aan die kante.
31 Die opening aan die binnekant van die bostuk was 'n halwe meter diep. Die opening was rond en was saam met die raamwerk daarvan 'n driekwart meter in deursnee. Daar was ook graveerwerk rondom die opening. Die sypanele van die waentjies was vierkantig, nie rond nie.
32 Die vier wiele was onder die sypanele, en die wiele se asse was aan die waentjie vas. Elke wiel was 'n driekwart meter in deursnee.
33 Die wiele was gemaak soos strydwawiele, hulle asse en vellings en speke en nawe was alles van gietwerk.
34 Die vier staanders aan die vier hoeke van elke waentjie het 'n geheel gevorm met die waentjie.
35 Bo-op elke waentjie was daar 'n ronde staander, 'n kwart meter hoog, met plate aan die kante toegemaak.
36 Hiram het op die plate van die staander en op die sypanele, oral waar daar plek was, gerubs, leeus en palms uitgesny, asook kransies rondom.
37 So het hy die tien waentjies gemaak, gegiet in dieselfde vorm, almal eenders en ewe groot.
38
Hy het tien waskomme van brons gemaak. Elkeen kon ag honderd en tagtig liter hou en was twee meter in deursnee. Daar was 'n waskom vir elkeen van die tien waentjies.39 Hy het vyf waentjies regs van die tempel gesit en vyf links. Die waterbak het hy regs van die tempel gesit, aan die suidoostekant.
40
Hiram het die waskomme, die skoppe en die komme vir besprinkeling gemaak. So het hy al die werk afgehandel wat hy vir koning Salomo aan die huis van die Here moes doen:41 die twee pilare met die komvormige skywe, die kapitele bo-aan die twee pilare, en ook die roosters waarmee die skywe van die kapitele bo-aan die pilare toegemaak is;
42 die vier honderd granate vir die twee roosters, 'n dubbele ry granate vir elke rooster waarmee die skywe van die kapitele bo-aan die pilare toegemaak is.
43 Hy het ook die tien waentjies met die tien waskomme daarop gemaak,
44 die waterbak met die twaalf beeste daaronder,
45 die potte, die skoppe, die komme vir besprinkeling en al die toebehore van die heiligdom. Hiram het dit vir koning Salomo vir die huis van die Here gemaak van gepoleerde brons.
46 Die koning het dit in die omgewing van die Jordaan, tussen Sukkot en Saretan, in kleivorms laat giet.
47 Salomo het al die goed op hulle plekke laat sit. Daar is so baie brons gebruik dat dit nie geweeg kon word nie.
48
Salomo het ook al die toerusting vir die huis van die Here laat maak: die goue altaar, die goue tafel vir die offerbrood;49 die kandelaars van suiwer goud, vyf regs en vyf links voor die binneste heiligdom; die blomkelke, die lampe en die goue pithouers;
50 die bakke, die skêre, die komme vir besprinkeling, die panne en die vuurbakke, alles van suiwer goud. Ook die skarniere aan die deure van die binneste vertrek, die Allerheiligste, en dié aan die deure van die voorste heiligdom was van goud.
51
Nadat al die werk wat koning Salomo aan die huis van die Here gedoen het, afgehandel was, het hy die gewyde gawes van Dawid, sy pa, ingebring. Die silwer en die goud en die toebehore het hy in die voorraadkamers van die huis van die Here gesit.1
Daarna het Salomo die leiers van Israel, al die stamhoofde en die Israelitiese familiehoofde, by hom in Jerusalem bymekaargeroep om die verbondsark van die Here uit die Dawidstad, Sion, te laat uitbring.2 Al die manne van Israel het op die feesdag in die maand Etanim, die sewende maand, by koning Salomo vergader.
3 Nadat al die leiers van Israel gekom het, het die priesters die ark opgetel
4 en die ark, die tent van ontmoeting en al die toebehore van die heiligdom wat in die tent was, gedra. Die priesters en die Leviete het dit gedra.
5 Koning Salomo en die hele gemeente van Israel wat saam met hom voor die ark was, het soveel kleinvee en beeste geoffer dat dit nie getel of bereken kon word nie.
6 Toe het die priesters die verbondsark van die Here na sy plek toe gebring onder die vlerke van die gerubs in die binneste heiligdom van die tempel, dit is die Allerheiligste.
7 Die gerubs se vlerke was oopgesprei oor die staanplek van die ark. Hulle het die ark en sy draaghoute aan die bokant bedek.
8 Die draaghoute was so lank dat hulle punte gesien kon word van die voorkant van die binneste heiligdom af, maar hulle kon nie van buite af gesien word nie. Hulle is vandag nog daar.
9 Daar was niks in die ark nie behalwe die twee plat klippe wat Moses by Horeb daarin gesit het toe die Here by die uittog van die Israeliete uit Egipte met hulle 'n verbond gesluit het.
10
Toe die priesters uit die heiligdom kom, het 'n wolk die huis van die Here gevul.11 Daarom kon die priesters nie vir diens aantree nie. Dit was die magtige teenwoordigheid van die Here wat die huis van die Here gevul het.
12
Toe het Salomo gesê: “Die Here het gesê Hy wil in duisternis woon.13
Daarom, Here, het ek vir U 'n waardige huis gebou,
'n verblyf waar U altyd kan woon.”
14
Daarna het die koning sy gesig na die hele gemeente van Israel toe gedraai en die hele gemeente van Israel geseën terwyl hulle daar staan.15 Hy het gesê: “Geloof sy die Here die God van Israel wat aan my vader Dawid 'n belofte gedoen het en dit deur sy mag vervul het. Die woorde van die Here was:
16 ‘Van die dag af dat Ek my volk Israel uit Egipte gebring het, het Ek uit al die stamgebiede van Israel nie 'n stad gekies waar 'n tempel gebou kan word sodat my Naam daar kan wees nie, maar Ek het vir Dawid gekies sodat hy oor my volk Israel kon regeer.’
17
“My vader Dawid wou 'n tempel bou vir die Naam van die Here die God van Israel,18 maar die Here het vir my vader Dawid gesê: ‘Dat dit jou voorneme is om 'n tempel vir my Naam te bou — dit is goed dat jy die voorneme het.
19 Maar nie jý sal die tempel bou nie; jou seun wat uit jou voortgekom het, hý sal die tempel vir my Naam bou.’
20
“Die Here het die belofte nagekom wat Hy gemaak het. Ek het my vader Dawid se plek geneem en op die troon van Israel gekom soos die Here beloof het. Die tempel vir die Naam van die Here die God van Israel het ek gebou21 en die ark waarin die verbond van die Here is wat Hy met ons voorvaders gesluit het toe Hy hulle uit Egipte gebring het, het ek daar gesit.”
22
Toe gaan staan Salomo regoor die altaar van die Here, voor die hele gemeente van Israel, en strek sy hande uit na die hemel toe23 en sê: “Here, God van Israel, in die hemel of op die aarde is daar nie nog 'n God soos U nie. U hou U aan die verbond en U bly getrou teenoor u dienaars wat met volle oorgawe voor U lewe.
24 U het U gehou aan wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het. U het die belofte gemaak en dit so soos dit vandag is, deur u woord en u mag vervul.
25
“Here, God van Israel, bly dan nou by wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het toe U gesê het: ‘Ek sal sorg dat daar altyd iemand uit jou nageslag op die troon van Israel sal wees, mits jou nakomelinge let op hulle optrede en volgens my woord lewe, soos jy gemaak het.’26
“God van Israel, laat die belofte wat U aan u dienaar, my vader Dawid, gemaak het, ook verder vas staan.27
“Sou God werklik op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het!28
“Hoor tog, Here my God, die gebed van u dienaar, hoor sy smeking, luister na die hulpgeroep, die gebed wat u dienaar vandag tot U rig.29 Hou hierdie tempel dag en nag onder u sorg, die plek waarvan U gesê het dat U u Naam daar wil vestig, sodat U die gebed kan hoor wat 'n dienaar van U na hierdie plek toe bid.
30 Hoor tog die smeekbedes van u dienaar en u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe bid, hoor dit tog uit u hemelse woonplek, en wanneer U dit hoor, vergewe tog!
31
“As iemand sy naaste kwaad aandoen en dié hom 'n eedverpligting oplê om hom onder 'n vloek te plaas, en hy kom en spreek die eed uit voor u altaar in hierdie tempel,32 luister tog uit die hemel en gryp in en vel die beslissing oor u dienaars sodat die skuldige die straf vir sy dade dra en die onskuldige gelyk gegee word soos dit by sy onskuld pas.
33
“As u volk Israel deur 'n vyand verslaan word omdat hulle teen U gesondig het en hulle kom tot inkeer en bely u Naam en bid tot U in hierdie huis en smeek U,34 luister tog uit die hemel en vergeef u volk Israel se sonde en laat hulle terugkom na die land wat U aan hulle voorvaders gegee het.
35
“Wanneer die hemele toegesluit bly en daar nie reën is nie omdat hulle teen U sondig, en hulle bid na hierdie plek toe en bely u Naam terwyl hulle hulle van hulle sonde bekeer en vra dat U hulle gebed sal verhoor,36 luister tog uit die hemel en vergeef u dienaars en u volk Israel se sonde en gee reën op u land wat U aan u volk as besitting gegee het. So leer U hulle die goeie weg wat hulle moet bewandel.
37
“Sou daar hongersnood in die land kom, sou daar pes uitbreek, brandkoring of roes, swerms sprinkane en voetgangers, sou dit gebeur dat die volk se vyande hom in sy stede hier in die land beleër, watter plaag of siekte hom ook al tref,38 luister tog na elke gebed, elke smeking wat van enige mens of van u hele volk Israel mag kom soos elkeen sy plaag te kenne gee en sy hande na hierdie tempel toe uitstrek;
39 luister tog uit die hemel, u woonplek, vergeef en gryp in en gee aan elkeen wat hy verdien soos U sy hart ken, want net U ken elke mens se hart,
40 sodat hulle aan U gehoorsaam sal wees die hele tyd dat hulle in die land leef wat U aan ons voorvaders gegee het.
41
[41-42] “Luister ook na die vreemdeling wat nie uit u volk Israel is nie en, omdat hy gehoor het van u groot Naam, u mag en krag, selfs uit 'n ver land kom en na hierdie tempel toe bid.42
43 Luister tog uit die hemel, u woonplek, en doen alles wat die vreemdeling U in sy gebed vra, sodat al die volke van die aarde u Naam kan ken en ook aan U gehoorsaam kan wees net soos u volk Israel, en dat hulle kan weet u Naam is uitgeroep oor hierdie tempel wat ek gebou het.
44
“Sou u volk teen sy vyande uittrek in 'n oorlog wat deur U beveel is, en hulle bid tot U, die Here, in die rigting van hierdie stad wat U gekies het en die huis wat ek vir u Naam gebou het,45 luister tog uit die hemel na hulle gebed en hulle smeking en gee hulle die oorwinning.
46
“Sou hulle teen U sondig, want daar is nie 'n mens wat nie sondig nie, en U in u verontwaardiging hulle aan 'n vyand oorgee, sodat hulle as gevangenes weggevoer word na die vyand se land toe, ver of naby,47 en hulle daar in dié land waar hulle gevangenes is, tot inkeer kom en hulle weer tot U wend en U daar in die land van hulle gevangenskap smekend aanroep: ‘Ons het gesondig, ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig,’
48 en hulle tot U wend met hart en siel in die land van hulle vyande wat hulle gevange hou, en hulle bid tot U in die rigting van hulle land wat U aan hulle voorvaders gegee het en van die stad wat deur U gekies is en die tempel wat ek vir u Naam gebou het,
49 luister tog uit die hemel, uit u woonplek, na hulle gebed en smeking en neem hulle straf weg
50 en vergeef u volk wat teen U gesondig het, vergeef hulle al hulle opstandigheid teen U en laat dié wat hulle gevange hou, met hulle medelye hê,
51 want hulle is u eie volk, U het hulle uitgelei uit Egipte, uit die smeltoond uit.
52
“Wees tog ontvanklik vir die smeking van u dienaar en u volk Israel, verhoor tog elke gebed wat hulle tot U rig.53 U het hulle onder al die volke van die wêreld afgesonder as 'n volk vir U, Here. Dit het gebeur soos U, Here, deur u dienaar Moses gesê het toe U ons voorvaders uit Egipte gebring het.”
54
Nadat Salomo klaar hierdie gebed en smeking tot die Here gerig het, het hy opgestaan van waar hy voor die altaar van die Here gekniel het met sy hande uitgestrek na die hemel toe.55 Hy het gaan staan en die hele gemeente van Israel hardop geseën:
56
“Geloof sy die Here wat aan sy volk Israel 'n vaste woonplek gegee het soos Hy beloof het. Nie een van die goeie beloftes wat Hy deur sy dienaar Moses gemaak het, het onvervul gebly nie.57 Mag die Here ons God by ons wees soos Hy by ons voorvaders was. Mag Hy ons nooit verlaat of laat vaar nie.
58 Mag Hy ons gewillig maak om altyd volgens sy wil te leef en ons te hou aan sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat Hy ons voorvaders opgelê het.
59 Mag hierdie woorde van my wat ek in my smeking voor die Here uitgespreek het, dag en nag by Hom, die Here ons God, wees, sodat Hy die reg van sy dienaar en van sy volk Israel sal handhaaf soos dit van dag tot dag nodig mag wees.
60 Dan sal al die volke van die wêreld besef die Here is God; daar is nie 'n ander nie.
61 Mag julle met volle oorgawe voor die Here ons God leef volgens sy voorskrifte en julle hou aan sy gebooie, so soos dit vandag is.”
62
Die koning en die hele Israel het vir die Here offerandes gebring.63 Salomo het twee en twintig duisend beeste en honderd en twintig duisend stuks kleinvee as maaltydoffer geoffer. So het die koning en al die Israeliete die huis van die Here ingewy.
64 Daardie dag het die koning die middelgedeelte van die voorhof wat reg voor die huis van die Here is, gewy, want daar het hy die brandoffer en die graanoffer en die vetgedeeltes van die maaltydoffers verbrand. Die bronsaltaar wat voor die tempel van die Here gestaan het, was te klein vir die brandoffer en die graanoffer en die vetgedeeltes.
65
Salomo, en die hele Israel saam met hom wat gekom het van Lebo-Hamat af tot by Egiptespruit, 'n groot gemeente, het destyds sewe dae lank fees gehou ter ere van die Here ons God, en daarna weer sewe dae, veertien dae altesaam.66 Die dag daarna het Salomo die volk laat gaan. Hulle het hom gegroet en is terug huis toe, bly en gelukkig oor die goeie dinge wat die Here gedoen het aan sy dienaar Dawid en sy volk Israel.
1
Nadat Salomo die tempel van die Here en die koninklike paleis klaar gebou en alles wat hy wou doen, voorspoedig afgehandel het,2 het die Here 'n tweede keer aan hom verskyn soos Hy by Gibeon aan hom verskyn het,
3 en vir hom gesê: “Ek het jou gebed en jou smeking wat jy tot My gerig het, verhoor. Ek heilig hierdie tempel wat jy gebou het, sodat my Naam altyd daar sal wees. Ek sal altyd daarvoor sorg en daaraan dink.
4
“En jy, as jy soos jou vader Dawid opreg en met oorgawe voor My leef en alles doen wat Ek jou beveel en my voorskrifte en bepalings nakom,5 sal Ek jou heerskappy oor Israel bestendig. So het Ek jou vader Dawid belowe: Daar sal altyd iemand uit jou nageslag wees om oor Israel te regeer.
6
“Maar as julle en julle nageslag van My af wegdraai en my gebooie en my voorskrifte wat Ek julle gegee het, nie nakom nie en julle gaan dien ander gode en buig voor hulle,7 sal Ek Israel wegdryf uit die land wat Ek hulle gegee het, en sal Ek hierdie tempel wat Ek vir my Naam geheilig het, voor My wegvee. Ek sal Israel 'n spot en 'n skimp maak onder al die volke.
8 Ja, hoe uitsonderlik hierdie tempel ook al was, elke verbyganger sal dan van verbasing sy asem intrek en fluit en vra: ‘Waarom het die Here dit gedoen aan dié land en dié tempel?’
9 En dan sal die mense antwoord: Omdat daardie volk die Here hulle God verlaat het, Hy wat hulle voorvaders uit Egipte gebring het. Hulle het hulle aan ander gode verbind en voor hulle gebuig en hulle gedien. Daarom het die Here al hierdie groot rampe oor sy volk gebring.”
10
Na afloop van die twintig jaar waarin Salomo die twee geboue opgerig het, die huis van die Here en die koninklike paleis,11 waarvoor koning Hiram van Tirus aan Salomo soveel sederhout, sipreshout en ook goud gelewer het as wat hy wou hê, het koning Salomo twintig stede in Galilea aan Hiram oorgedra.
12
Toe Hiram hierdie stede wat Salomo aan hom oorgedra het, uit Tirus gaan besigtig, was hy teleurgestel13 en het hy gesê: “Wat se stede is dit wat jy vir my gee, my broer!”
Daarom dra dit tot vandag nog die naam “Kabulstreek” .14
Hiram het aan Salomo meer as vier ton goud gelewer.15
Vir die bou van die huis van die Here en die paleis, die terras en die muur van Jerusalem, en vir die herbou van die stede Hasor, Megiddo en Geser het koning Salomo van dwangarbeid gebruik gemaak.16
Die farao, die koning van Egipte, het Geser met sy leër ingeneem, dit aan die brand gesteek en die Kanaäniete wat die stad bewoon het, om die lewe gebring. Daarna het hy dit as bruidskat gegee vir sy dogter wat met Salomo getrou het.17
Salomo het Geser weer opgebou, en ook Bet-Goron-Onder,18 Baälat en Tamar in die woestyn, in die gebied van Juda;
19 verder ook al die voorraadstede wat hy besit het, die stede vir die strydwamagte en die berede magte. Hy het ook al die bouwerk wat hy hom voorgeneem het, voltooi: dié in Jerusalem en ook dié op die Libanon en dwarsdeur die hele land waaroor hy geregeer het.
20
Salomo het al die nie-Israeliete, die mense wat nog oor was van die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete,21 afstammelinge van dié wat nie deur die Israeliete uitgeroei is nie en nog oor was in die land, opgeroep om dwangarbeid te doen. Dit is vandag nog so.
22
Salomo het nie die Israeliete as arbeiders gebruik nie; hulle was sy soldate, sy lyfwag, sy amptenare, die aanvoerders van sy strydwabemannings, sy strydwamag en sy berede mag.23 Daar was ook nog die volgende getal uitvoerende beamptes oor wie koning Salomo beskik het: vyf honderd en vyftig wat gesag uitgeoefen het oor die werksmense.
24
Nadat die dogter van die farao oorgetrek het van die Dawidstad af na die huis wat Salomo vir haar gebou het, het hy die terras gebou.25 Salomo het drie maal per jaar brandoffers en maaltydoffers gebring op die altaar wat hy vir die Here gebou het, en daarmee saam wierookoffers vir die Here gebrand. So het hy sy verantwoordelikheid in die tempel nagekom.
26
Koning Salomo het ook skepe gebou in Esjon-Geber by Elat aan die kus van die Rietsee in Edom.27 Hiram het vir hom skepe gestuur en ervare seemanne. Hulle het saam met Salomo se manne
28 na Ofir toe gevaar en daar vir koning Salomo meer as veertien ton goud gaan haal.
1
Die koningin van Skeba het gehoor wat van Salomo en die Naam van die Here vertel word en sy het toe self gekom om Salomo met moeilike vrae te toets.2 Sy het na Jerusalem toe gekom met 'n baie groot gevolg en ook kamele wat belaai was met kosbare kruie en 'n groot hoeveelheid goud en edelstene. Toe sy by Salomo kom, het sy met hom oor alles gepraat waaraan sy kon dink,
3 en Salomo het vir haar 'n antwoord gehad op al haar vrae. Niks was vir die koning onverklaarbaar nie: hy kon haar op alles antwoord.
4
Die koningin van Skeba het onder die indruk gekom van Salomo se wysheid, die tempel wat hy gebou het,5 die geregte op sy tafel, die manier waarop sy amptenare aangesit het, die bediening deur sy tafelbediendes, hulle monderings, sy skinkers en van die optog wanneer hy na die huis van die Here toe opgegaan het. Haar asem het daarvan weggeslaan.
6 Sy het vir die koning gesê: “Wat ek in my land oor u en u wysheid gehoor het, is waar.
7 Ek het nie geglo wat hulle vir my gesê het nie totdat ek gekom en myself oortuig het. Nou weet ek dat nie eers die helfte vir my vertel is nie. U het alles wat ek oor u wysheid en voortreflikheid gehoor het, ver oortref.
8 Hoe bevoorreg is u mense en hoe bevoorreg is hierdie amptenare van u dat hulle gedurig in u diens staan en u wysheid aanhoor!
9 Geloof sy u God, die Here, wat aan u soveel liefde bewys dat Hy u op die troon van Israel gesit het! Dit is omdat die Here Israel vir altyd liefhet dat Hy u as koning oor hulle aangestel het om die orde en die reg te handhaaf.”
10
Sy het vir die koning meer as vier ton goud en 'n groot hoeveelheid kosbare kruie en edelstene gegee. Die kruie wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het, was meer as wat ooit die land ingekom het.11
Bowendien het die skepe van Hiram wat die goud uit Ofir gebring het, ook nog 'n groot hoeveelheid jenewerhout en edelstene gebring.12 Die koning het die jenewerhout gebruik vir relings by die huis van die Here en by die koninklike paleis, en vir die liere en harpe van die musikante. Daar is tot vandag toe nie sulke jenewerhout gesien nie.
13
Vir die koningin van Skeba het koning Salomo alles gegee wat sy begeer en gevra het, buiten nog wat hy uit sy eie vir haar gegee het. Sy is toe terug na haar land toe, sy en haar gevolg.14
Salomo se jaarlikse inkomste aan goud het sowat drie en twintig ton beloop,15 behalwe nog wat die reisigers en handelaars en al die konings van Arabië en die Israelitiese goewerneurs ingebring het.
16
Koning Salomo het twee honderd groot skilde van goud gemaak; hy het vir elke skild byna sewe kilogram goud gebruik.17 Hy het ook nog drie honderd klein skilde van goud gemaak; hier het hy sowat twee kilogram vir elke skild gebruik. Die koning het hulle opgestel in die Libanonsbosgebou.
18
Verder het die koning 'n groot ivoortroon gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek.19 Die troon het ses trappe gehad en die kopstuk agter was rond. Weerskante van die sitplek was daar armleunings, met 'n leeu langs elkeen.
20 Twaalf leeus het op die ses trappe gestaan, ses aan elke kant. Daar is in geen ander koninkryk so iets gemaak nie.
21
Al koning Salomo se drinkgerei was van goud. Alles wat in die Libanonsbosgebou gebruik is, was van fyngoud. Silwer was in Salomo se dae so volop dat dit nie as iets besonders beskou is nie.22 Die koning het 'n vloot gehad wat saam met dié van Hiram na Tarsis toe gevaar het. Om die drie jaar het die Tarsisvloot teruggekom, vol goud en silwer, ivoor, ape en bobbejane.
23
Koning Salomo het al die konings van die aarde oortref in rykdom en wysheid.24 Die hele wêreld het geprobeer om hom te sien te kry en die wysheid wat God hom gegee het, aan te hoor.
25 Elkeen het sy geskenk saamgebring: silwer- en goudware, mantels, wapenrusting, kosbare kruie, perde en muile. So het dit jaar vir jaar gegaan.
26
Salomo het 'n mag van strydwaens en ruiters bymekaargebring. Hy het veertien honderd strydwaens en twaalf duisend ruiters gehad. Hy het hulle gestasioneer in die strydwaposte en by die paleis in Jerusalem.27 Silwer het hy in Jerusalem so alledaags soos klippe gemaak en seders soos die wildevyebome in die Laeveld.
28 Perde is vir Salomo uit Egipte en Kewé ingevoer. Die handelaars wat deur die koning aangestel is, het hulle daar gaan koop vir die prys waarop ooreengekom is.
29
Om 'n wa uit Egipte in te voer, het net minder as sewe kilogram silwer gekos, en 'n perd ongeveer een en 'n driekwart kilogram. Dieselfde pryse is aan die Hetitiese en die Aramese konings betaal. Die invoer het deur bemiddeling van die handelaars geskied.1
Koning Salomo was lief vir baie uitlandse vrouens. Behalwe die dogter van die farao het hy ook vrouens uit die Moabiete, Ammoniete, Edomiete, Sidoniërs en Hetiete gehad.2 Dit was die nasies waarvan die Here vir die Israeliete gesê het: “Julle mag nie met hulle omgaan nie, en julle mag nie toelaat dat hulle met julle omgaan nie, want hulle sal julle net verlei om hulle gode te aanbid.”
Salomo het egter juis op hierdie vrouens verlief geraak.3
Hy het sewe honderd vrouens uit vorstelike families gehad, en ook nog drie honderd byvroue. Dit was sy vrouens wat hom verlei het.4 Veral in sy ouderdom het Salomo se vrouens hom verlei om ander gode te dien. Toe het hy die Here sy God nie meer met soveel toewyding gedien soos sy pa nie.
5 Hy het Astarte, die godin van die Sidoniërs, en Milkom, die afskuwelike god van die Ammoniete, gedien.
6
Salomo het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie aan die Here getrou gebly soos Dawid, sy pa, nie.7
Salomo het selfs op die berg teenoor Jerusalem 'n hoogte gebou vir die diens van Kemos, die afskuwelike god van Moab, en vir Molek, die afskuwelike god van die Ammoniete.8 Dieselfde ding het hy gedoen vir al sy uitlandse vrouens, sodat hulle wierook kon brand en offers kon bring vir hulle gode.
9
Die toorn van die Here het teen Salomo ontvlam omdat hy nie meer die Here die God van Israel gedien het nie. Tevore het God twee keer aan hom verskyn10 en hom uitdruklik beveel dat hy nie ander gode mag dien nie. Salomo het hom egter nie gehou aan die opdrag van die Here nie.
11 Daarom het die Here nou vir hom gesê: “Omdat dit so is dat jy jou nie hou aan my verbond en aan die voorskrifte wat Ek jou gegee het nie, sal Ek die koningskap van jou afskeur en vir 'n onderdaan van jou gee.
12 Ter wille van jou vader Dawid sal Ek dit wel nie tydens jou lewe doen nie, maar Ek gaan dit tydens jou seun se lewe doen.
13 Ek sal ook nie die hele koninkryk wegneem nie, maar ter wille van my dienaar Dawid en ter wille van Jerusalem wat Ék uitverkies het, gaan Ek een stam vir jou seun laat oorbly.”
14
Die Here het iemand beskik wat teen Salomo in opstand gekom het. Hy was Hadad die Edomiet uit die koninklike familie van Edom.15 Toe Dawid vroeër teen Edom geveg het, het Joab, die hoof van die leër, die gesneuweldes gaan begrawe nadat hy al die mans in Edom doodgemaak het.
16 Dit het Joab en die hele Israel ses maande gekos om al die mans in Edom om die lewe te bring.
17 Hadad en 'n aantal Edomitiese mans, almal uit die hofhouding van sy pa, het egter in die rigting van Egipte gevlug. Hadad was toe nog 'n jong seun.
18 Hulle het deur Midian getrek tot in Paran. Van daar af het hulle 'n aantal mans met hulle saamgevat en verder getrek tot hulle in Egipte by die farao, die koning van Egipte, aangekom het. Dié het vir Hadad 'n huis gegee, hom van voedsel voorsien en aan hom 'n stuk grond toegeken.
19
Die farao het so baie van Hadad gehou dat hy hom laat trou het met sy skoonsuster, die suster van koningin Tagpenes.20 Sy het vir Hadad 'n seun in die wêreld gebring met die naam Genubat. Tagpenes het die seun in die farao se paleis versorg, waar hy saam met die farao se kinders grootgeword het.
21
Toe Hadad in Egipte verneem dat Dawid te sterwe gekom het en dat Joab, die hoof van die leër, ook dood was, het hy vir die farao gesê: “Laat my toe om na my land toe terug te gaan.”22
Die farao sê toe vir hom: “Kom jy iets kort hier by my dat jy nou skielik na jou land toe wil teruggaan?” “Nee,” sê hy, “maar laat my asseblief maar gaan.”23
God het nog iemand teen Salomo in opstand laat kom: Reson seun van Eljada, 'n onderdaan van koning Hadad-Eser van Soba wat vir die koning gevlug het.24
Reson het 'n groep mans om hom versamel, en hy was die leier van die bende. In die tyd toe Dawid die Arameërs uitgeroei het, het hulle na Damaskus toe gevlug. Hulle het in Damaskus gaan woon en Reson daar tot koning uitgeroep.25 Hy was vyandig teen Israel solank Salomo geleef het. Dit was nog behalwe die kwaad wat Hadad gedoen het. Reson was koning van Aram en hy het Israel verafsku.
26
Daar was ook Jerobeam seun van Nebat, 'n Efratiet uit Sereda. Sy ma was Serua, 'n weduwee. Hy was 'n onderdaan van Salomo wat teen die koning in opstand gekom het.27 Dit het so gebeur: Salomo was besig om die terras te bou waarmee hy die opening in die muur van die Dawidstad toegemaak het.
28 Jerobeam was 'n gesiene landsburger, en toe Salomo sien dat hy bekwaam is, het hy die toesig oor die dwangarbeid van die Josefstam aan hom opgedra.
29
Dit was in hierdie tyd dat Agija, 'n profeet uit Silo, vir Jerobeam op die pad buite Jerusalem teëgekom het. Agija het 'n nuwe mantel aangehad, en terwyl net hulle twee daar in die veld was,30 vat Agija die nuwe mantel wat hy aangehad het, skeur dit in twaalf stukke
31 en sê vir Jerobeam: “Vat vir jou tien stukke, want so sê die Here die God van Israel: So gaan Ek die koningskap afskeur van Salomo af. Ek gaan vir jou tien stamme gee;
32 die orige stam sal syne bly ter wille van my dienaar Dawid, en ter wille van Jerusalem, die stad wat Ek tussen al die stamme van Israel uitgekies het.
33 Maar Salomo het My verlaat en Astarte die godin van die Sidoniërs, Kemos die god van Moab, en Milkom die god van die Ammoniete, aanbid. Hy het nie meer geleef volgens my wil en gedoen wat reg is in my oë nie of my voorskrifte en bepalings nagekom soos sy vader Dawid gedoen het nie.
34 Ek sal nogtans nie die hele koningskap van hom wegvat nie. Ek sal hom sy lewe lank koning laat bly ter wille van my dienaar Dawid wat Ek uitverkies het en wat hom aan my gebooie en voorskrifte gehou het,
35 maar Ek gaan die koningskap van sy seun af wegvat. Ek gaan tien stamme vir jou gee
36 en vir sy seun gaan Ek net een gee, sodat die troon van my dienaar Dawid bestendig sal wees in Jerusalem, die stad wat Ek verkies het om my Naam daar te vestig.
37
“Ek gaan jou as koning aanstel, soos dit jou hartsbegeerte is. Jy sal oor Israel regeer.38 As jy gehoor gee aan alles wat Ek jou sal beveel, as jy jou lewe inrig volgens my wil, as jy doen wat reg is in my oë deurdat jy jou hou aan my voorskrifte en gebooie, soos my dienaar Dawid gedoen het, sal Ek by jou wees. Soos Ek Dawid se nageslag in stand hou, sal Ek joune ook in stand hou. Ek sal Israel aan jou gee
39 en ter wille daarvan sal Ek die nageslag van Dawid verneder, maar nie vir altyd nie!”
40
Hierna wou Salomo vir Jerobeam om die lewe bring. Jerobeam het egter na Egipte toe gevlug waar hy onder beskerming van koning Sisak van Egipte gebly het tot Salomo se dood.41
Die ander verhale oor Salomo en alles wat hy gedoen het, en oor sy wysheid is opgeteken in die annale van Salomo.42
Salomo was veertig jaar koning in Jerusalem oor die hele Israel.43 Hy is oorlede, en hy is begrawe by sy pa in die Dawidstad. Sy seun Rehabeam het hom as koning opgevolg.
1
Rehabeam het na Sigem toe gegaan omdat die hele Israel daarheen gekom het om hom tot koning te kroon.2 Jerobeam seun van Nebat het die berig gekry toe hy nog in Egipte was waarheen hy vir koning Salomo gevlug het. Hy het daar gewoon,
3 maar hulle het boodskappers gestuur en hom laat roep.
Hy en die hele Israel kom toe na Rehabeam toe en sê vir hom:4 “U vader het ons 'n swaar juk laat dra. As u nou die verpligtinge wat u vader ons opgelê het, minder maak en so die juk ligter maak wat hy ons laat dra het, sal ons u onderdane bly.”
5
Rehabeam het vir hulle gesê: “Kom oor drie dae na my toe terug.” Nadat die volk vertrek het,6 het koning Rehabeam die raad gevra van die ouer mense wat in diens van Salomo, sy pa, was tydens dié se lewe. “Wat meen julle moet ek hierdie mense antwoord?” het hy gevra.
7
Hulle het vir hom gesê: “As u dit goed bedoel met hierdie volk en hulle tevrede stel en hulle 'n gunstige antwoord gee, sal hulle altyd u onderdane bly.”8
Maar hy het die raad wat die ouer mense hom gegee het, in die wind geslaan en die raad gevra van die jonger manne wat saam met hom grootgeword het en in sy diens was:9 “Wat meen júlle moet ons hierdie mense antwoord? Hulle het gevra ek moet die juk wat my pa op hulle gelê het, ligter maak.”
10
Die jongmanne wat saam met hom grootgeword het, het vir hom gesê: “U moet die volk soos volg antwoord. Hulle het vir u gesê: ‘U vader het ons 'n swaar juk laat dra, maak u vir ons die juk ligter.’ U moet vir hulle sê: “My pinkie is dikker as my pa se middellyf.11
My pa het 'n swaar juk op julle laat druk,
ek gaan die juk nog swaarder maak.
My pa het julle met swepe geslaan,
ek sal julle met gesels slaan.”
12
Toe Jerobeam en die hele volk die derde dag by koning Rehabeam kom volgens sy opdrag “Kom oor drie dae na my toe terug”,13 het hy die volk dié harde antwoord gegee. Koning Rehabeam het die raad van die ouer mense in die wind geslaan
14 en die volk geantwoord volgens die raad van die jonger manne:
“My pa het 'n swaar juk op julle gelê,15
Die koning het nie aan die versoek van die volk voldoen nie. Dit was 'n beskikking van die Here sodat Hy sy belofte kon hou wat Hy deur Agija van Silo aan Jerobeam seun van Nebat gegee het.16
Toe die Israeliete hoor dat die koning nie aan hulle versoek voldoen het nie, het hulle vir hom gesê: “Dawid is nie deel van ons nie;17
Rehabeam het net koning geword oor die Israeliete wat in die stede van Juda gewoon het.18
Koning Rehabeam het vir Adoniram wat in bevel van die dwangarbeid was, na Israel toe gestuur, maar die Israeliete het hom met klippe doodgegooi, en koning Rehabeam self het dit net-net reggekry om op sy strydwa te kom en na Jerusalem toe te vlug.19
So het Israel in opstand gekom teen die koningshuis van Dawid, en dit is vandag nog so.20
Toe die Israeliete verneem dat Jerobeam teruggekom het uit Egipte, het hulle hom na 'n volksvergadering toe laat kom en hom koning gemaak oor die hele Israel. Niemand behalwe die Judastam het die koningshuis van Dawid aangehang nie.21
Dadelik nadat Rehabeam in Jerusalem terug was, het hy honderd en tagtig duisend uitgesoekte manne uit die stamme Juda en Benjamin opgeroep om teen Israel te veg en die koningskap vir hom terug te wen.22 Maar die woord van God het tot Semaja, die man van God, gekom en gesê:
23 “Sê vir koning Rehabeam van Juda, seun van Salomo, en vir die hele Juda en Benjamin, en vir die res van die volk:
24 So sê die Here: Moenie optrek en teen die Israeliete, julle broers, veg nie. Gaan terug elkeen na sy huis toe, want wat gebeur het, kom van My af!”
Hulle het geluister na die woorde van die Here en teruggegaan huis toe soos Hy beveel het.25
Jerobeam het Sigem in die Efraimsberge herbou en daar gaan woon. Later het hy daar weggetrek en Pniël herbou.26
Jerobeam het by homself gedink: netnou gaan die koningskap terug na die huis van Dawid;27 as hierdie volk na Jerusalem toe gaan om daar by die tempel van die Here te gaan offer, sal hulle weer hulle koning Rehabeam, koning van Juda, aanhang; hulle sal my doodmaak en weer agter koning Rehabeam aangaan.
28
Koning Jerobeam het toe met sy raadgewers oorleg gepleeg en twee goue kalwerbeelde laat maak. Toe sê hy: “Julle het lank genoeg Jerusalem toe gegaan, Israel; hier is nou die beelde van julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het.”29
Jerobeam het die een beeld in Bet-El opgestel en die ander in Dan.30
Dit het die volk tot sonde verlei: hulle het selfs die een beeld na Dan toe begelei.31
Jerobeam het heiligdomme op die hoogtes gebou en hy het mense uit die volk wat nie Leviete was nie, as priesters aangestel.32
Verder het hy op die vyftiende dag van die agste maand 'n fees gehou net soos die fees in Juda. Hy het in Bet-El vir die kalwerbeelde wat hy gemaak het, offers gebring op die altaar, en hy het daar priesters aangestel vir die hoogtes wat hy ingerig het.33
Op die vyftiende van die agste maand het Jerobeam 'n offer gebring op die altaar wat hy in Bet-El opgerig het. Hy het sommer self besluit oor die maand waarin die Israeliete die fees moes vier. Net toe hy daar op die altaar die offer aan die brand steek,1
kom daar 'n man van God uit Juda aan wat op bevel van die Here na Bet-El toe gekom het. Jerobeam het nog by die altaar gestaan om die offer aan te steek,2 toe die man van God op bevel van die Here teen die altaar uitroep: “Altaar, altaar, so sê die Here: Daar sal uit die nageslag van Dawid 'n seun gebore word met die naam Josia, en hier op jou sal hy die priesters van die hoogtes slag wat op jou offers bring, en hier op jou sal mensbene verbrand word!”
3
Terselfdertyd het hy 'n wonderteken aangekondig: “Dit is die teken wat die Here gee: hierdie altaar sal uitmekaar ruk sodat die as wat daarop is, op die grond val.”4
Toe koning Jerobeam hoor wat die man van God uitroep teen die altaar van Bet-El, het hy daar van die altaar af sy hand uitgesteek en gesê: “Gryp hom!” Maar die hand wat hy uitgesteek het, het styf geword, en hy kon hom nie weer terugtrek nie.5 Die altaar het uitmekaar geruk, en die as het afgeval. Dit was die wonderteken wat die man van God aangekondig het op bevel van die Here.
6
Toe sê die koning vir die man van God: “Bid tog tot die Here jou God om genade vir my sodat my hand weer kan reg word.” Nadat die man van God tot die Here gebid het om genade, het die hand van die koning herstel net soos dit tevore was.7
Daarop sê die koning vir die man van God: “Kom saam met my huis toe en kom eet iets sodat ek jou kan beloon.”8
Maar die man van God antwoord: “Al sou u my die helfte van u koninkryk aanbied, kan ek nie saam met u gaan nie. Ek kan in hierdie plek niks eet of selfs water drink nie,9 want dit was die Here se bevel aan my: Jy mag daar niks eet nie en jy mag daar nie water drink nie; en jy mag nie met dieselfde pad terugkom as dié waarmee jy gegaan het nie!”
10
Hy het 'n ander pad gevat en nie met dieselfde pad teruggegaan as dié waarmee hy na Bet-El toe gekom het nie.11
In Bet-El het daar 'n óú profeet gewoon. Sy seuns het hom kom vertel wat die man van God alles dié dag in Bet-El gedoen het. Ook wat hy vir die koning gesê het, het hulle vir hulle pa kom oorvertel.12
Hy vra hulle toe: “Met watter pad het hy teruggegaan?” want hulle het gesien watter pad die man van God wat van Juda af gekom het, gevat het.13
Hy sê toe vir sy seuns: “Saal vir my 'n donkie op.” Nadat hulle dit gedoen het, is hy met die donkie daar weg14 agter die man van God aan. Toe die óú profeet die man van God kry waar hy onder 'n groot boom sit, sê hy vir hom: “Is jy die man van God wat van Juda af kom?”
“Ja,” antwoord hy.15
Die óú profeet sê toe vir hom: “Kom tog saam met my huis toe en kom eet iets.”16
Maar hy antwoord: “Ek kan nie saam met jou teruggaan en in jou huis ingaan nie. Ek mag by jou in hierdie plek niks eet en geen water drink nie,17 want die woord van die Here aan my was uitdruklik: Jy mag daar geen kos eet en geen water drink nie, en jy mag nie terugkom met dieselfde pad as dié waarmee jy gegaan het nie.”
18
Die óú profeet sê toe vir hom: “Ek is ook 'n profeet net soos jy, en 'n engel het op bevel van die Here vir my gesê: Bring hom terug na jou huis toe en laat hy iets eet en sy dors les!” Maar die óú profeet het vir hom gelieg.19 Toe gaan hy saam met die óú profeet terug huis toe en daar het die man van God iets geëet en water gedrink.
20
Terwyl hulle nog aan tafel sit, het die woord van die Here gekom tot die profeet op wie se versoek die man van God omgedraai het.21 Die profeet het vir die man van God wat van Juda af gekom het, gesê: “So sê die Here: Omdat jy jou teen die Here verset het en nie die bevel van die Here jou God gehoorsaam het nie,
22 maar teruggekom het en geëet en water gedrink het in dié plek waar die Here jou verbied het om te eet en water te drink, daarom sal jou liggaam nie in jou familiegraf begrawe word nie.”
23
Nadat die man van God klaar geëet en gedrink het, het die profeet die man van God wat hy laat omdraai het, se donkie opgesaal.24 Die man van God het vertrek en onderweg het 'n leeu op hom afgekom en hom doodgemaak. Sy liggaam het daar in die pad gelê, die donkie het daar langsaan gestaan, en die leeu het langs die liggaam bly staan.
25 Mense wat daarlangs gekom het, het die liggaam daar in die pad sien lê en die leeu wat langs die liggaam staan, en hulle het dit kom vertel in die stad waar die óú profeet gewoon het.
26
Toe die óú profeet wat hom van sy pad af teruggebring het, dit hoor, sê hy: “Dit is die man van God wat die opdrag van die Here verontagsaam het. Nou het die Here beskik dat 'n leeu hom verskeur en doodmaak, soos Hy oor hom laat sê het.”27 Die profeet sê toe vir sy seuns: “Saal vir my 'n donkie op.”
Nadat hulle dit gedoen het,28 gaan hy en kry die liggaam daar in die pad, terwyl die donkie en die leeu daarby staan. Die leeu het nie die liggaam gevreet nie en hy het nie die donkie verskeur nie.
29
Die profeet het die liggaam van die man van God op die donkie getel en dit na Bet-El die stad van die óú profeet toe gebring om daar oor hom te treur en hom te begrawe.30 Hy het die liggaam in sy eie graf begrawe, en hulle het oor hom getreur en gesê: “Ag, my broer.”
31
Na die begrafnis het hy vir sy seuns gesê: “As ek te sterwe kom, moet julle my begrawe in dieselfde graf as dié waarin die man van God begrawe is. Sit my bene langs syne neer.32
“Wat hy op bevel van die Here oor die altaar in Bet-El en oor al die heiligdomme op die hoogtes by die stede van Samaria gesê het, sal beslis net so gebeur.”33
Jerobeam het hom hierna tog nie bekeer van sy verkeerde pad nie. Hy het aangehou om sommer uit die volk priesters vir die hoogtes aan te stel. Almal wat wou, het hy aangestel as priesters vir die hoogtes.34
Dit was die sonde van die huis van Jerobeam en dit sou daartoe lei dat sy koningshuis vernietig en van die aarde af verdelg sou word.1
In dié tyd het Abia, 'n seun van Jerobeam, siek geword.2 Jerobeam sê toe vir sy vrou: “Gaan vermom jou sodat die mense jou nie herken as Jerobeam se vrou nie. Gaan dan na Silo toe waar die profeet Agija is. Dit is hy wat gesê het dat ek koning sal word oor hierdie volk.
3 Vat tien brode en koeke en 'n kruik heuning saam en gaan na hom toe. Hy sal vir jou sê wat met die kind gaan gebeur.”
4
Jerobeam se vrou het so gemaak. Sy het na Silo toe gegaan en by Agija se huis aangekom. Agija kon nie meer sien nie, hy was al blind van ouderdom.5 Maar die Here het vir hom gesê: “Jerobeam se vrou kom jou raadpleeg oor haar seun wat siek is. Sê vir haar wat Ek vir jou sê.”
Toe sy inkom, wou sy nog maak asof sy iemand anders is,6 maar net toe Agija haar voetstappe hoor terwyl sy by die deur inkom, sê hy: “Kom binne, jy is die vrou van Jerobeam! Waarom maak jy asof jy iemand anders is? Ek het slegte nuus vir jou.
7 Gaan sê vir Jerobeam: ‘So sê die Here die God van Israel: Ek het jou 'n vername man gemaak onder die mense en jou as heerser aangestel oor my volk Israel.
8 Toe Ek die koningskap afgeskeur het van die huis van Dawid af, het Ek dit aan jou gegee. Maar jy was nie soos my dienaar Dawid wat hom aan my opdragte gehou het en wat sy hele lewe aan My toegewy het deur net te doen wat reg is in my oë nie.
9 Jy het slegter opgetree as almal voor jou. Jy het vir jou ander gode gemaak, afgodsbeelde, om My uit te tart, en jy het jou rug vir My gedraai.
10 Om dié rede bring Ek ellende oor die huis van Jerobeam. Ek sal al wat manlik is uit die nageslag van Jerobeam, wie ook al, uit Israel uitroei. Ek gaan heeltemal ontslae raak van die huis van Jerobeam, soos 'n mens van vuilgoed ontslae raak.
11 Die een van Jerobeam wat in die stad omkom, die honde sal hom opvreet; en die een wat in die veld omkom, die roofvoëls sal hom vreet. Dit sal gebeur omdat die Here dit gesê het.’
12
“Gaan jy nou maar huis toe. Sodra jy in die stad inkom, sal die kind sterf.13 Die hele Israel sal oor hom rou en hom begrawe. Hy sal ook die enigste van die familie van Jerobeam wees wat in 'n graf kom, want in die huis van Jerobeam het die Here die God van Israel net in hom iets goeds gevind.
14
“Die Here sal self 'n koning oor Israel aanstel wat die geslag van Jerobeam dadelik, sonder versuim, sal uitroei.15 So sal die Here Israel tref soos vloedwater riet tref. Die Here sal Israel uitdryf uit hierdie goeie land wat Hy aan hulle voorvaders gegee het, en Hy sal hulle anderkant die Eufraat verstrooi omdat hulle gewyde pale gemaak het en die Here daarmee uitgetart het.
16 Hy sal hulle prysgee oor die sonde wat Jerobeam gedoen het en wat hy Israel laat doen het.”
17
Toe het Jerobeam se vrou teruggegaan Tirsa toe. Net toe sy oor die drumpel van die paleis stap, het die kind gesterf.18 Hulle het hom begrawe, en die hele Israel het oor hom gerou. Dit was in ooreenstemming met wat die Here gesê het deur sy dienaar die profeet Agija.
19
Die ander verhale oor Jerobeam, oor sy oorloë en sy regering, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.20
Die duur van Jerobeam se koningskap was twee en twintig jaar. Hy is oorlede, en sy seun Nadab het hom as koning opgevolg.21
Rehabeam seun van Salomo was intussen koning van Juda. Rehabeam was een en veertig toe hy koning geword het en hy was sewentien jaar koning in Jerusalem, die stad wat deur die Here onder al die Israelitiese stamme gekies is om sy Naam daar te vestig. Rehabeam se ma was Naäma, 'n Ammonitiese vrou.22
Juda het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, en deur die sondes wat hulle gedoen het, het hulle die Here meer uitgetart as wat hulle voorvaders gedoen het.23 Hulle het vir hulle hoogtes gebou en klippilare en gewyde pale opgerig op elke hoë heuwel en onder elke groen boom.
24 Daar was selfs manlike tempelprostitute in die land. Die hele Juda het dieselfde afskuwelike sondes gedoen as die nasies wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak.
25
In die vyfde jaar van Rehabeam se regering het koning Sisak van Egipte teen Jerusalem opgetrek.26 Hy het beslag gelê op die skatte in die huis van die Here en die paleis. Hy het alles gevat, ook die goue skilde wat Salomo laat maak het.
27 Koning Rehabeam het toe bronsskilde in die ander se plek laat maak en dié oorhandig aan die offisiere van die wag wat by die ingang van die paleis diens gedoen het.
28 Elke keer wanneer die koning na die huis van die Here toe gegaan het, het die wag die skilde gedra, en daarna het hulle die skilde teruggebring na die wagte se kamer toe.
29
Die ander verhale oor Rehabeam en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.30
Daar was deurentyd oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam.31
Rehabeam is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy ma was Naäma, 'n Ammonitiese vrou. Sy seun Abia het hom as koning opgevolg.1
In die agtiende regeringsjaar van Jerobeam seun van Nebat het Abia koning oor Juda geword,2 en hy het drie jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Maäka, 'n dogter van Abisalom.
3 Abia het dieselfde sondes as sy pa gedoen, en hy was nie so getrou aan die Here as sy voorvader Dawid nie.
4 Dit is ter wille van Dawid dat die Here sy God aan hom 'n nakomeling gegee het om in Jerusalem te regeer en die stad in stand te hou.
5 Dit was omdat Dawid gedoen het wat reg is in die oë van die Here, en sy lewe lank nooit die opdragte van die Here verontagsaam het nie, behalwe in die geval van Urija die Hetiet.
6
Gedurende Rehabeam se hele regering was daar oorlog tussen hom en Jerobeam.7
Die ander verhale oor Abia en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. Daar was ook oorlog tussen Abia en Jerobeam.8
Abia is oorlede, en hy is begrawe in die Dawidstad. Sy seun Asa het hom as koning opgevolg.9
In die twintigste regeringsjaar van koning Jerobeam van Israel het Asa koning geword van Juda.10 Hy het een en veertig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ouma was Maäka, 'n dogter van Abisalom.
11
Asa het gedoen wat reg is in die oë van die Here, soos sy voorvader Dawid.12 Hy het die tempelprostitute uit die land verban en hy het al die afgodsbeelde verwoes wat sy voorgangers gemaak het.
13 Hy het ook sy ouma Maäka as koninginmoeder afgesit omdat sy 'n Asjerabeeld, 'n walglike ding, laat maak het. Asa het die ding stukkend gekap en dit in die Kedrondal gaan verbrand.
14 Die hoogtes het wel nie heeltemal verdwyn nie, maar Asa was sy lewe lank getrou aan die Here.
15 Hy het die wydingsgeskenke van sy pa, en ook sy eie, in die huis van die Here gebring: silwer, goud en offergereedskap.
16
Daar was deurentyd oorlog tussen Asa en koning Baesa van Israel.17
Tydens 'n veldtog teen Juda het Baesa die stad Rama in 'n vesting begin omskep om te verhoed dat mense die gebied van koning Asa van Juda kon binnekom of verlaat.18
Asa het toe al die silwer en goud gevat wat nog oor was in die skatkamers van die huis van die Here en die paleis, en koning Asa het dit met boodskappers vir Ben-Hadad gestuur. Ben-Hadad seun van Tabrimmon, seun van Gesjon, was koning van Aram in Damaskus. Asa het die volgende boodskap saamgestuur:19 “Daar is 'n verdrag tussen u en my en daar was al een tussen ons ouers. Ek stuur vir u 'n geskenk van silwer en goud. Breek u verdrag met koning Baesa van Israel dat hy uit my land kan terugtrek.”
20
Ben-Hadad het gehoor gegee aan koning Asa se versoek. Hy het sy leëraanvoerders gestuur om die stede van Israel aan te val, en hy het Ijon, Dan, Abel-Bet-Maäka en die hele Gennesaret saam met die hele gebied van Naftali verower.21 Toe Baesa dit hoor, het hy die bouwerk by Rama gestaak en in Tirsa gaan woon.
22
Koning Asa het al die Judeërs opgeroep, hy het niemand verskoon nie, en hulle het die klip en hout wat Baesa vir die bouwerk in Rama gebruik het, weggedra. Die koning het dit gebruik vir bouwerk by Geba in Benjamin en by Mispa.23
Al die ander verhale oor Asa, oor sy dapper dade en oor alles wat hy gedoen het, en oor die stede wat hy laat bou het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. Net dít kom nog by: in sy ouderdom het hy 'n kwaal aan sy voete opgedoen.24
Asa is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Josafat het hom as koning opgevolg.25
In die tweede regeringsjaar van koning Asa van Juda het Nadab seun van Jerobeam koning geword oor Israel. Hy het twee jaar oor Israel geregeer.26 Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het die pad van sy pa geloop en dieselfde sonde gedoen as dié waarmee sy pa vir Israel laat sondig het.
27
Baesa seun van Agija uit die nageslag van Issaskar het 'n sameswering teen hom gesmee. Terwyl Nadab en die hele Israel die Filistynse stad Gibbeton beleër het, het Baesa hom daar om die lewe gebring.28 Baesa het hom vermoor in die derde regeringsjaar van koning Asa van Juda en het hom as koning opgevolg.
29 Dadelik nadat Baesa koning geword het, het hy die hele familie van Jerobeam uitgeroei. Hy het nie een lewend laat oorbly nie, maar hulle almal omgebring. Dit was in ooreenstemming met wat die Here deur sy dienaar Agija van Silo gesê het.
30 Dit was die gevolg van die sondes wat Jerobeam gedoen het en wat hy Israel laat doen het. Daardeur het hy die Here die God van Israel uitgetart.
31
Die ander verhale oor Nadab en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.32 Daar was deurentyd oorlog tussen Asa en koning Baesa van Israel.
33
Baesa seun van Agija het koning geword oor die hele Israel in die derde regeringsjaar van koning Asa van Juda en vier en twintig jaar in Tirsa geregeer.34 Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het die pad van Jerobeam geloop en dieselfde sonde gedoen as dié waarmee Jerobeam vir Israel laat sondig het.
1
Die woord van die Here teen Baesa het tot Jehu seun van Ganani gekom en gesê:2 “Ek het jou uit die stof uit opgetel en jou as heerser oor my volk Israel aangestel, maar jy het die pad van Jerobeam geloop: jy het my volk Israel laat sondig sodat hulle My met hulle sondes uitgetart het.
3 Daarom gaan Ek ontslae raak van jou en jou familie. Ek gaan met jóú hele huis maak soos met die huis van Jerobeam seun van Nebat.
4 Die een van jou familie wat in die stad omkom, die honde sal hom opvreet; en dié een wat in die veld omkom, die roofvoëls sal hom vreet.”
5
Die ander verhale oor Baesa en wat hy gedoen het, ook sy dapperheid, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.6
Baesa is oorlede, en hy is begrawe in Tirsa. Sy seun Ela het hom as koning opgevolg.7
Die profeet Jehu seun van Ganani moes die oordeel van die Here aankondig oor Baesa en sy nageslag, nie net omdat wat hy gedoen het, verkeerd was in die oë van die Here en hy die Here uitgetart het soos die geslag van Jerobeam nie, maar ook omdat hy vir Jerobeam vermoor het.8
In die ses en twintigste regeringsjaar van koning Asa van Juda het Ela seun van Baesa in Tirsa koning geword oor Israel. Hy het twee jaar geregeer.9
Een van sy onderdane, Simri, die aanvoerder van die helfte van die strydwamag het 'n sameswering teen hom gesmee. Toe Ela hom aan huis van Arsa, die opsigter van die paleis in Tirsa, dronk gedrink het,10 het Simri ingekom en hom doodgemaak. Simri het hom vermoor in die sewe en twintigste regeringsjaar van koning Asa van Juda.
Simri self het hom as koning opgevolg.11
Dadelik nadat hy die koningskap oorgeneem het, het Simri die hele koningshuis van Baesa uitgeroei, selfs ook sy bloedverwante en raadgewers. Simri het al wat manlik is in Baesa se familie doodgemaak.12 Simri het die hele familie van Baesa uitgeroei, soos die Here gesê het deur die profeet Jehu.
13 Dit was die gevolg van die sonde wat Baesa en sy seun Ela gedoen het en wat hulle Israel laat doen het. Hulle het die Here die God van Israel uitgetart met hulle afgodsbeelde.
14
Die ander verhale oor Ela en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.15
Tydens die sewe en twintigste regeringsjaar van koning Asa van Juda was Simri sewe dae koning in Tirsa. Die volk was toe net besig om die Filistynse stad Gibbeton te beleër.16 Toe die volk wat besig was met die beleg, die berig kry dat Simri 'n sameswering gesmee en die koning om die lewe gebring het, het die hele Israel nog dieselfde dag daar in die laer vir Omri, die hoof van die leër, tot koning uitgeroep.
17 Omri en die hele Israel het toe van Gibbeton af opgetrek en Tirsa gaan beleër.
18 Toe Simri bemerk dat die stad ingeneem word, het hy na die verskanste deel van die paleis toe gevlug en die paleis op hom afgebrand. So is hy dood.
19 Dit was alles die gevolg van die sondes wat hy gedoen het. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het die pad van Jerobeam geloop en dieselfde sonde gedoen as dié waarmee Jerobeam Israel laat sondig het.
20
Die ander verhale oor Simri en oor die sameswering wat hy gesmee het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.21
Die volk het egter nou verdeeld geraak. Een helfte wou vir Tibni seun van Ginat koning maak, en die ander helfte vir Omri.22 Omri se aanhang het gaandeweg sterker geword as Tibni s'n, en toe Tibni te sterwe kom, het Omri koning geword.
23
In die een en dertigste regeringsjaar van koning Asa van Juda het Omri koning geword van Israel. Hy het twaalf jaar geregeer, ses daarvan uit Tirsa.24
Toe het hy Samariaberg van Semer gekoop vir ag en sestig kilogram silwer en bo-op die berg gebou. Hy het die stad wat hy daar gebou het, Samaria genoem na die naam van Semer, die vorige eienaar van die berg.25
Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy was slegter as al sy voorgangers.26 Hy het die pad van Jerobeam seun van Nebat geloop en dieselfde sonde gedoen as dié waarmee Jerobeam vir Israel laat sondig het, sodat hulle die Here die God van Israel met hulle afgodsbeelde uitgetart het.
27
Die ander verhale oor Omri, oor wat hy gedoen het en oor sy dapperheid is opgeteken in die annale van die konings van Israel.28
Omri is oorlede, en hy is begrawe in Samaria. Sy seun Agab het hom as koning opgevolg.29
Agab seun van Omri het koning van Israel geword in die ag en dertigste regeringsjaar van koning Asa van Juda. Agab seun van Omri het Israel twee en twintig jaar uit Samaria geregeer.30
Agab seun van Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, meer as al sy voorgangers.31 Dat hy voortgegaan het met die sondes van Jerobeam seun van Nebat was nog die minste; hy het ook met Isebel dogter van koning Etbaäl van die Sidoniërs getrou en die god Baäl begin dien en hom aanbid.
32 Hy het 'n altaar vir Baäl opgerig by die Baälstempel wat hy gebou het in Samaria.
33 Agab het ook 'n gewyde paal opgerig en hy het meer gedoen om die Here die God van Israel uit te tart as al die konings van Israel voor hom.
34
In daardie tyd het Giël van Bet-El die stad Jerigo opgebou. Toe hy die fondamente daarvan gelê het, het sy oudste seun Abiram gesterf, en toe hy die poortdeure gehang het, het sy jongste, Segub, gesterf. Dit was in ooreenstemming met die vervloeking wat die Here deur Josua seun van Nun uitgespreek het.1
Elia die Tisbiet was 'n bywoner uit Gilead. Hy het vir Agab gesê: “So seker as die Here leef, die God van Israel in wie se diens ek staan, daar sal die volgende paar jaar geen dou of reën val nie, behalwe as ek so sê.”2
Die woord van die Here het tot Elia gekom en gesê:3 “Gaan hiervandaan af ooswaarts en gaan versteek jou in Kritspruit, anderkant die Jordaan.
4 Jy kan water uit die spruit drink, en Ek het die kraaie beveel om daar vir jou te sorg.”
5
Hy het gedoen soos die Here aan hom opgedra het. Hy het daar in Kritspruit gaan bly, anderkant die Jordaan.6 Die kraaie het vir hom soggens brood en vleis gebring en hulle het vir hom saans brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink.
7 Uiteindelik het die spruit opgedroog omdat die land nie reën gekry het nie.
8
Toe het die woord van die Here weer tot Elia gekom en gesê:9 “Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het 'n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg.”
10
Hy gaan toe na Sarfat toe, en toe hy by die poort van die stad kom, was daar 'n weduwee net besig om houtjies op te tel. Hy vra haar toe: “Gee my asseblief 'n bekertjie water om te drink.”11
Terwyl sy dit gaan haal, roep hy agter haar aan: “Bring vir my asseblief 'n stukkie brood saam.”12
Toe sê sy: “So seker as die Here u God leef, ek het nie meer brood nie, net 'n handvol meel in die kruik en 'n bietjie olie in die erdekan. Ek maak nou maar 'n paar houtjies bymekaar en dan gaan ek vir my en my seuntjie iets klaarmaak om te eet. Daarna moet ons maar doodgaan.”13
Elia sê toe vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Gaan maak dit klaar net soos jy gesê het, maar maak eers vir my 'n roosterkoek en bring dit hier, daarna kan jy vir jou en jou seuntjie sorg.14 So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.”
15
Sy gaan maak toe soos Elia gevra het. Van toe af het hulle genoeg gehad om te eet, hy en sy en haar gesin.16 Die meel in die kruik het nie opgeraak nie, en die olie in die kan het nie minder geword nie, soos die Here deur Elia beloof het.
17
In dié tyd het die vrou, die eienares van die huis, se seuntjie siek geword. Hy het al hoe sieker geword totdat hy die laaste asem uitgeblaas het.18 Toe sê sy vir Elia: “Kyk wat het u my aangedoen, man van God! Het u na my toe gekom om my sonde aan die lig te bring en my seuntjie daarom te laat doodgaan?”
19
Hy sê vir haar: “Gee jou kind hier,” en hy tel hom van haar skoot af op. Toe dra hy hom na die bokamer toe waar hy tuis gegaan het en lê hom op die bed neer20 en bid tot die Here: “Here my God, wil U nou oor hierdie weduwee by wie ek bly, 'n ramp bring deur haar kind te laat sterf?”
21
Toe gaan lê hy drie maal bo-oor die kind en smeek die Here: “Here my God, laat die lewe tog terugkom in die kind.”22
Die Here het Elia se gebed verhoor: die lewe het teruggekom, die kind het gelewe.23 Toe bring Elia die kind van die bokamer af ondertoe en gee hom vir sy ma en sê: “Kyk! Jou seuntjie leef!”
24
Die vrou sê toe vir Elia: “Nou weet ek dat u 'n man van God is, en dat wat die Here deur u sê, die waarheid is.”1
Na 'n lang tyd, dit was omtrent drie jaar, het die woord van die Here tot Elia gekom en gesê: “Gaan na Agab toe. Moenie langer vir hom wegkruip nie. Ek wil dit weer in die land laat reën.”2
Elia het na Agab toe gegaan. Die swaar hongersnood het nog voortgeduur in Samaria.3
Agab het vir Obadja, die paleisopsigter, na hom toe laat kom. Obadja het die Here pligsgetrou gedien.4 Toe Isebel die profete van die Here doodgemaak het, het Obadja honderd geneem en hulle vyftig-vyftig in grotte weggesteek en hulle van kos en water voorsien.
5
Agab het vir Obadja gesê: “Kom ons trek deur die land, na elke fontein en spruit toe. Dalk kry ons gras om die perde en muile aan die lewe te hou. Dan hoef ons nie van hulle dood te maak nie.”6
Hulle het die land tussen hulle verdeel. Agab het alleen in een rigting gegaan, en Obadja alleen in 'n ander rigting.7
Terwyl Obadja onderweg was, kom Elia hom meteens tegemoet. Obadja het hom herken en voor hom op sy knieë geval en gesê: “Maar u is mos Elia!”8
Elia sê toe vir hom: “Ja, dit is ek! Gaan sê vir die koning: Elia is hier.”9
Maar Obadja sê: “Watter sonde het ek gedoen dat u my aan Agab uitlewer om my dood te maak?10 So seker as die Here u God leef, daar is geen nasie of koninkryk waar die koning u nie probeer opspoor het nie. As hulle sê: ‘Elia is nie hier nie,’ het die koning die koninkryk of die nasie met 'n eed laat bevestig dat hulle u nie kon kry nie.
11 Nou sê u sommer: ‘Gaan sê vir die koning Elia is hier!’
12 As ek nou van u af sou weggaan, en die Gees van die Here neem u weg, sonder dat ek weet waarheen, en ek gaan vertel vir Agab ek het u gesien, maar hy kan u nie kry nie, dan maak hy my beslis dood. En dit terwyl ek die Here van my jeug af dien.
13 Het hulle u nie vertel wat ek gedoen het toe Isebel die profete van die Here doodgemaak het nie, dat ek honderd profete van die Here vyftig-vyftig in grotte weggesteek het en hulle van kos en water voorsien het?
14 Nou stuur u my sommer om vir koning Agab te gaan sê Elia is hier. Hy sal my mos doodmaak.”
15
Maar Elia sê vir Obadja: “So seker as die Here leef, die Almagtige in wie se diens ek staan, ek sal sorg dat Agab my vandag nog te sien kry.”16
Toe gaan Obadja na Agab toe en vertel hom, en Agab het na Elia toe gekom.17 Net toe Agab hom sien, sê Agab vir hom: “Is dit jy, jy wat die dood oor Israel bring?”
18
Hy antwoord: “Dis nie ek wat die dood oor Israel bring nie, maar jy en jou familie. Julle het die gebooie van die Here verontagsaam en die Baäls gedien.19 Roep vir my die hele Israel bymekaar op Karmelberg. Die vier honderd en vyftig profete van Baäl en die vier honderd van Asjera wat van Isebel se tafel af eet, moet ook daar wees.”
20
Toe stuur Agab die boodskap aan al die Israeliete; hy het ook die profete op Karmelberg laat bymekaarkom.21
Elia het voor die hele volk gaan staan en gesê: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm.” Die volk het hom nie 'n woord geantwoord nie.22
Toe sê Elia vir die volk: “Ek alleen het oorgebly as profeet van die Here, maar daar is vier honderd en vyftig profete van Baäl.23 Bring nou vir ons twee bulle. Hulle kan vir hulle een bul kies en hom opsny en op die hout uitlê. Maar hulle moet dit nie aan die brand steek nie. Ek sal dieselfde doen met die ander bul. Ek sal hom op die hout uitlê, maar dit ook nie aan die brand steek nie.
24 Dan moet julle tot julle god bid, en ek sal tot die Here bid. Hy wat met vuur antwoord, is God.”
Die hele volk het geantwoord: “Dis goed so.”25
Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies 'n bul en maak julle hom eerste gereed, want julle is die meeste. Bid dan tot julle god. Maar julle mag nie die vuur aansteek nie.”26
Hulle neem toe die bul wat hy hulle laat kies het en maak hom gereed. Hulle bid toe tot Baäl en roep van die môre af tot die middag toe: “Baäl, antwoord ons!” Daar was nie 'n geluid van hom af nie. Niemand het geantwoord nie, hoe hulle ook al vir Baäl gedans het by die altaar wat hulle gemaak het.27
Teen die middag het Elia hulle begin spot: “Roep harder! Hy is mos 'n god! Miskien is hy diep in gedagte of gou bietjie uit, of op reis, of dalk slaap hy en moet hy eers wakker word!”28
Toe roep hulle nog harder; en soos altyd kerf hulle hulle stukkend met swaarde en spiese dat die bloed oor hulle loop.29 Tot die namiddag het hulle aangehou te kere gaan, en teen laatmiddag, die tyd vir die aandoffer, was daar nog geen geluid nie. Niemand het geantwoord nie, daar was geen reaksie nie.
30
Toe sê Elia vir die hele volk: “Kom staan hier by my,” en hulle het almal by hom gaan staan. Toe het hy die stukkende altaar van die Here weer reggemaak.31
Hy het twaalf klippe gevat, net soveel as die stamme van die nageslag van Jakob vir wie die Here gesê het: “Jou naam sal Israel wees.”32 Met die klippe het hy die altaar van die Here reggemaak en 'n behoorlike sloot daar rondom gegrawe.
33
Toe sit hy die hout reg, sny die bul stukkend en lê dit uit op die hout.34
Toe beveel hy: “Maak vier kruike vol water en gooi dit uit op die brandoffer en op die hout.” Daarna sê hy: “Doen dit weer,” en hulle het dit nog 'n keer gedoen. Toe sê hy: “Doen dit 'n derde keer,” en hulle het weer so gemaak.35
Toe stroom die water oor die hele altaar, en selfs die sloot rondom het vol geword.36
Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia vorentoe gekom en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen.37 Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.”
38
Toe kom daar vuur van die Here af en dit verbrand die offer, die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgelek.39
Toe die hele volk dit sien, het hulle op hulle knieë geval en uitgeroep: “Die Here is God! Die Here is God!”40
Hierop sê Elia vir hulle: “Gryp die profete van Baäl! Nie een van hulle mag wegkom nie.” Toe die volk hulle gegryp het, het Elia die profete laat afbring na Kisonspruit toe en daar het hy hulle doodgemaak.41
Daarna sê Elia vir Agab: “Gaan eet eers, want ek hoor al die gedruis van die reën.”42
Agab het toe gaan eet, maar Elia het na die top van Karmelberg toe opgeklim en terwyl hy daar na die aarde toe buig met sy kop tussen sy knieë,43 sê hy vir sy slaaf: “Gaan kyk in die rigting van die see!” Hy gaan kyk toe, en kom sê: “Daar is niks.”
Elia het vir hom gesê: “Gaan kyk weer.” Dit het sewe keer gebeur.44 Na die sewende keer het hy kom sê: “'n Wolkie so groot soos 'n man se hand kom uit die see uit op.”
Elia sê toe: “Gaan sê gou vir Agab: Span in en gaan van die berg af, anders sal die reën jou vaskeer.”45
Toe hulle nog praat, het die lug donker geword van die onweerswolke; die wind het opgekom en groot reëns het uitgesak. Agab het op sy wa geklim en na Jisreël toe gery.46
Die mag van die Here het vir Elia in besit geneem, en hy het sy mantel opgebind en voor Agab se wa uit gehardloop tot waar die pad uitdraai na Jisreël toe.1
Agab het vir Isebel vertel wat Elia alles gedoen het, ook dat hy al die profete om die lewe gebring het.2 Toe het Isebel 'n boodskapper na Elia toe gestuur om vir hom te sê: “Mag die gode my om die lewe bring as ek nie môre teen hierdie tyd met jou gemaak het soos jy met die profete nie.”
3
Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug. Toe hy by Berseba in Juda kom, het hy sy slaaf daar agtergelaat.4 Hy self het egter 'n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder 'n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.”
5
Toe gaan hy lê en hy het daar onder die besembos aan die slaap geraak. Toe hy hom weer kom kry, skud 'n engel aan hom en sê: “Word wakker! Eet!”6
Toe hy opkyk, sien hy by sy kop roosterkoek wat op warm klippe gebak is, en 'n kruik water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê.7 Die engel het 'n tweede keer aan hom geskud en gesê: “Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word.”
8
Toe staan hy op en hy eet, en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God.9
Hy het in 'n grot ingegaan en die nag daar deurgebring. Toe het die woord van die Here tot hom gekom en vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?”10
Hy antwoord toe: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.”11
Maar die Here sê vir hom: “Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan.” Skielik was daar 'n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar 'n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie.12 Na die aardbewing was daar 'n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar 'n fluistering in die windstilte.
13
Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan. Toe hoor hy 'n stem wat vir hom sê: “Wat maak jy hier, Elia?”14
Hy het geantwoord: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.”15
Maar die Here sê vir hom: “Draai in jou spore om na die Damaskuswoestyn toe, en as jy daar aangekom het, moet jy vir Gasael salf tot koning van Aram.16 Jy moet ook vir Jehu seun van Nimsi salf tot koning van Israel, en vir Elisa seun van Safat uit Abel-Megola moet jy salf tot profeet om jou op te volg.
17 Dan sal dit só wees: wie Gasael se swaard vryspring, Jehu sal hom doodmaak; wie Jehu se swaard vryspring, Elisa sal hom doodmaak.
18 Maar Ek sal in Israel die sewe duisend laat oorbly wat nie die Baälbeeld aanbid het nie.”
19
Nadat hy daarvandaan af weggegaan het, kry hy vir Elisa seun van Safat besig om te ploeg met twaalf spanne van twee, terwyl hy self by die agterste span geloop het. Toe Elia by hom verbyloop, gooi Elia sy mantel op hom.20 Hy het sy osse net so gelos en agter Elia aangehardloop en gesê: “Laat ek tog net my pa en ma gaan groet. Dan sal ek saam met u gaan.”
Elia antwoord hom toe: “Gaan as jy wil. Ek hou jou mos nie terug nie.”21
Toe draai Elisa om en gaan slag twee osse, en met die juk het hy die vleis gebraai en vir sy werksmense gegee om te eet. Daarna het hy saam met Elia gegaan en sy volgeling geword.1
Koning Ben-Hadad van Aram het sy hele leër laat bymekaarkom. Daar was twee en dertig konings by hom met ruitery en strydwaens. Hy het opgetrek teen Samaria en dit beleër. Tydens die beleg2 het hy boodskappers die stad in gestuur na koning Agab van Israel toe
3 en vir hom laat weet: “So sê Ben-Hadad: Jou silwer en goud is myne. Jou mooiste vrouens en kinders is myne.”
4
Die koning van Israel het geantwoord: “Dit is soos U Majesteit sê: Ek en alles wat myne is, behoort aan u.”5
Die boodskappers het toe weer na Agab toe gekom en gesê: “So sê Ben-Hadad: Ek het jou die boodskap gestuur dat jy jou silwer en goud, jou vrouens en kinders vir my moet gee.6 Nou ja, ek stuur môre my amptenare na jou toe. Hulle sal jou paleis en die huise van jou onderdane deursoek, en hulle sal beslag lê op alles wat hulle oë begeer en dit vir hulle vat.”
7
Die koning van Israel roep toe al die leiers van die land bymekaar, en sê: “Kyk nou net! Hierdie man soek moeilikheid. Toe hy my vrouens en kinders en my silwer en goud geëis het, het ek nie geweier nie.”8
Al die leiers en die hele volk het gesê: “U moet nie nou gehoor gee nie. U mag nie inwillig nie!”9
Toe sê Agab vir Ben-Hadad se boodskappers: “Sê vir sy majesteit die koning: Alles wat u die eerste keer geëis het, sal ek gee, maar aan hierdie nuwe eis kan ek nie toegee nie.” Die boodskappers het die antwoord vir Ben-Hadad gebring,10 en hy het terug laat weet: “Mag my gode my om die lewe bring as ek nie soveel manskappe met my saambring dat die stof van Samaria nie genoeg sal wees om hulle hande mee te vul nie.”
11
Daarop het die koning van Israel opgemerk: “Die spreekwoord lui: Hy wat hom klaarmaak om te veg, moenie roem soos een wat klaar die oorwinning behaal het nie.”12
Toe Ben-Hadad dít hoor, was hy besig om saam met die ander konings in die tente te drink en hy sê vir sy offisiere: “Val aan!” en hulle het klaargemaak vir die aanval op die stad.13
'n Profeet het egter by koning Agab van Israel gekom en gesê: “So sê die Here: Sien jy daardie groot menigte? Ek gee hulle vandag in jou mag oor. Dan sal jy besef dat Ek die Here is.”14
Agab vra toe: “Deur wie gaan die Here dit doen?” en die profeet sê: “So sê die Here: Deur die jong soldate van die distrikshoofde.” Agab vra toe: “Wie moet die geveg aanknoop?” en die profeet antwoord: “U.”15
Toe ontplooi Agab die distrikshoofde se jong soldate, twee honderd twee en dertig. Agter hulle het hy die leër, al die Israeliete, ontplooi, sewe duisend man.16 Dit was middag toe hulle uit die stad uitgaan, en Ben-Hadad was aan die drink in die tent, hy en die twee en dertig konings wat hom kom help het.
17 Die jong soldate van die distrikshoofde het aan die voorpunt opgeruk, en daar is vir Ben-Hadad gesê: “Daar kom manskappe uit Samaria uit.”
18
Hy sê toe: “Of hulle vrede soek of oorlog, vang hulle lewendig!”19
Intussen het die jong soldate van die distrikshoofde uit die stad getrek, en die leër agter hulle aan.20 Elkeen het sy man verslaan. Die Arameërs het op die vlug geslaan, en die Israeliete het hulle agtervolg.
Koning Ben-Hadad van Aram het te perd saam met 'n aantal ruiters weggekom.21
Die koning van Israel het uit sy stad gekom en die ruitery en die strydwamag verslaan. So het hy vir Aram 'n groot slag toegedien.22
Die profeet het weer by die koning van Israel gekom en vir hom gesê: “Gaan versterk u leër! Vra raad en dink goed na oor wat u doen, want vroeg volgende jaar val die koning van Aram u weer aan.”23
Die raadgewers van die koning van Aram het intussen vir hom gesê: “Hulle gode is berggode en daarom was hulle sterker as ons. Ons moet hulle in die vlakte pak. Dan sal ons sterker wees as hulle.24 U moet só maak: onthef al die konings van hulle verantwoordelikhede en stel goewerneurs in hulle plek aan.
25 Bring vir u self 'n leër op die been, net so sterk soos dié een wat verslaan is, met ruitery soos daardie en 'n strydwamag soos daardie. Dan pak ons hulle in die vlakte, en ons sal sterker wees as hulle.”
Ben-Hadad het na hulle raad geluister en so gemaak.26
Vroeg die volgende jaar het Ben-Hadad die Aramese leër laat bymekaarkom en na Afek toe opgetrek om teen Israel oorlog te maak.27
Die Israeliete was goed toegerus en het die Arameërs tegemoet getrek. Die Israeliete het teenoor die Arameërs kamp opgeslaan. Hulle was soos twee troppe bokke, en die wêreld was vol Arameërs.28
Die man van God het by die koning van Israel gekom en gesê: “So sê die Here: Omdat die Arameërs gesê het: ‘Die Here is 'n berggod, Hy is nie 'n god van die vlaktes nie,’ gaan Ek hierdie hele groot menigte in jou mag oorgee. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”29
Sewe dae lank het die leërs so teenoor mekaar gelê. Op die sewende dag het die geveg losgebreek, en die Israeliete het honderd duisend voetsoldate van die Arameërs op dié een dag verslaan.30 Die res het die stad Afek in gevlug en die stadsmuur het op hulle omgeval. Hulle was sewe en twintig duisend man.
Ben-Hadad het ook die stad in gevlug en daar van kamer tot kamer weggekruip.31
Sy soldate sê toe vir hom: “Ons het gehoor die Israelitiese konings is genadig. Kom ons trek rouklere aan en bind toue om ons koppe en gee ons oor aan die koning van Israel. Miskien spaar hy u lewe.”32
Hulle trek toe rouklere aan en bind toue om hulle koppe en lewer hulleself uit aan die koning van Israel. “Ben-Hadad onderwerp hom aan u,” sê hulle, “en hy vra dat u sy lewe moet spaar.” Toe sê Agab: “Lewe hy nog? Hy is my broer!”33
Die manne het dit as 'n gunstige teken opgevat en haastig by sy opmerking aangesluit deur te sê: “Ben-Hadad ís u broer.” Agab sê toe: “Gaan haal hom!” Toe Ben-Hadad by hom kom, het Agab hom by hom op die strydwa laat klim.34
Daar het Ben-Hadad vir hom gesê: “Die stede wat my pa van jou pa afgevat het, sal ek teruggee. Jy mag ook vir jou 'n handelsbuurt inrig in Damaskus soos my pa in Samaria gedoen het.” “En ek sal jou laat gaan,” sê koning Agab, “nadat jy 'n verdrag met my gesluit het.” Ben-Hadad het toe 'n verdrag met hom gesluit, en Agab het hom laat gaan.35
'n Profeet het in opdrag van die Here vir 'n vriend gesê: “Slaan my tog!” Maar hy het geweier om hom te slaan.36 Toe sê die profeet vir hom: “Jy was ongehoorsaam aan die opdrag van die Here, en daarom sal 'n leeu jou verskeur wanneer jy van my af weggaan.”
Toe hy van hom af weggegaan het, het 'n leeu op hom afgekom en hom verskeur.37
Die profeet kry toe iemand anders en sê: “Slaan my tog.” Hy het die profeet geslaan; hy het hom selfs stukkend geslaan.38 Die profeet het die koning by die pad gaan staan en inwag: die profeet was onherkenbaar, hy het 'n verband oor sy oë gehad.
39 Toe die koning daarlangs kom, het hy na die koning geroep en gesê: “Ek het oorlog toe gegaan. Daar het iemand 'n man na my toe gebring en gesê: ‘Pas hierdie man op! As hy ontsnap, kom jy in sy plek, of anders moet jy vier en dertig kilogram silwer betaal.’
40 Maar ek was met ander dinge besig en toe ek kyk, is hy nie meer daar nie!”
Die koning van Israel sê toe vir hom: “Jy het jou eie vonnis gevel.”41
Die profeet het die verband van sy oë afgeruk sodat die koning van Israel kon sien dat hy 'n profeet is.42 Hy sê toe vir die koning: “So sê die Here: Omdat jy die man wie se lewe Ek geëis het, vry laat weggaan het, sal jou lewe in die plek van sy lewe kom, en jou volk in die plek van sy volk.”
43
Toe het die koning van Israel bedruk en kwaad huis toe vertrek en in Samaria aangekom.1
Hierna het die volgende gebeur: Nabot die Jisreëliet het in Jisreël 'n wingerd gehad langs die paleis van koning Agab van Samaria.2
Agab het met Nabot gaan praat en vir hom gesê: “Gee jou wingerd vir my vir 'n kruietuin, want dit lê net langs my huis; dan gee ek jou 'n beter wingerd in die plek daarvan. Of as jy wil, sal ek jou daarvoor betaal.”3
Maar Nabot het vir Agab geantwoord: “Mag die Here my daarvan bewaar dat ek die erfgrond van my voorouers ooit aan u sou afstaan!”4
Hierop het Agab bedruk en kwaad huis toe gegaan omdat Nabot die Jisreëliet vir hom gesê het: “Ek sal nooit die erfgrond van my familie aan u afstaan nie.” Hy het op sy bed gaan lê met sy gesig na die muur toe en hy wou niks eet nie.5
Toe kom sy vrou Isebel na hom toe en vra vir hom: “Wat is jy so bedruk dat jy niks wil eet nie?”6
Hy vertel haar toe: “Ek het met Nabot die Jisreëliet gepraat en vir hom gesê: ‘Verkoop jou wingerd aan my, of as jy wil, sal ek jou 'n ander wingerd in die plek daarvan gee.’ Maar hy het gesê: Ek sal nooit my wingerd aan jou afstaan nie.”7
Toe sê sy vrou Isebel vir hom: “Jy is mos die een wat oor Israel regeer! Gaan eet nou en moet jou nie bekommer nie. Ék sal die wingerd van Nabot die Jisreëliet vir jou gee.”8
Sy skryf toe briewe in die naam van Agab en sit sy seëlafdruk daarop, en sy stuur die briewe aan die leiers en die ampsdraers van Nabot se stad.9
Sy het geskryf: “Kondig 'n vasdag aan en laat Nabot heel voor in die vergadering sit.10 Laat twee gewetelose manne teenoor hom sit en laat hulle teen hom getuig: ‘Jy het 'n vloek uitgespreek teen God en teen die koning.’ Vat hom dan uit en gooi hom met klippe dood.”
11
Die leiers en die ampsdraers in Nabot se stad het toe gedoen soos Isebel hulle beveel het in die briewe wat sy aan hulle gestuur het.12 Hulle het 'n vasdag aangekondig en vir Nabot heel voor in die vergadering laat sit.
13 Toe kom sit daar twee gewetelose manne teenoor hom en hulle getuig teen Nabot in die vergadering en sê: “Nabot het 'n vloek uitgespreek teen God en teen die koning.”
Daarop vat hulle vir Nabot uit die stad uit en gooi hom met klippe dood.14
Hierna het hulle vir Isebel laat weet: “Nabot is met klippe doodgegooi.”15
Toe Isebel hoor Nabot is doodgegooi, sê sy vir Agab: “Gaan vat nou die wingerd van Nabot die Jisreëliet, wat hy nie aan jou wou verkoop nie. Nabot leef nie meer nie, hy is dood.”16
Toe Agab hoor Nabot is dood, het hy klaargemaak om Nabot die Jisreëliet se wingerd vir hom te vat.17
Die woord van die Here het toe tot Elia die Tisbiet gekom en vir hom gesê:18 “Maak klaar en gaan ontmoet vir Agab wat in Samaria as koning oor Israel regeer. Hy is nou by die wingerd van Nabot, wat hy gaan vat het.
19 Jy moet vir Agab sê: ‘So sê die Here: Jy het gemoor en nou vat jy ook nog?’ Sê verder vir hom: So sê die Here: Op dieselfde plek waar die honde die bloed van Nabot opgelek het, sal hulle jou bloed ook oplek. Ja, joune!”
20
Toe Agab dit hoor, vra hy vir Elia: “Het jy my gekry, my vyand?” Elia het geantwoord: “Ek het jou gekry. Die Here sê vir jou: ‘Omdat jy jou daaraan oorgegee het om te doen wat verkeerd is in my oë,21 gaan Ek 'n ramp oor jou bring en jou vernietig. Ek gaan al die manlikes in Agab se geslag sonder enige uitsondering uit Israel uitroei.
22 Omdat jy My uitgetart het en omdat jy Israel laat sondig het, sal Ek met jou huis maak soos met die huis van Jerobeam seun van Nebat en soos met die huis van Baesa seun van Agija.’
23
“En oor Isebel het die Here gesê: Die honde sal Isebel opvreet by die voorste muur van Jisreël.24 Wie uit Agab se familie in die stad sterf, die honde sal hom opvreet, en wie in die oop veld sterf, die roofvoëls sal hom vreet.”
25
Daar was nooit iemand wat hom soos Agab daaraan oorgegee het om te doen wat verkeerd is in die oë van die Here nie. Sy vrou Isebel het hom daartoe aangehits.26 Agab het afskuwelik opgetree deur die afgode te dien net soos die Amoriete wie se besittings die Here aan die Israeliete gegee het.
27
Toe Agab al hierdie woorde hoor, het hy sy klere geskeur en rouklere om sy lyf gehang en gevas. Hy het selfs met rouklere gaan slaap, en heeltyd bedruk rondgeloop.28 Daarom het die woord van die Here tot Elia die Tisbiet gekom en gesê:
29 “Het jy gesien Agab het hom voor My verootmoedig? Omdat hy hom voor My verootmoedig het, sal Ek die ramp nie tydens sý lewe laat plaasvind nie. Tydens die bewind van sy seun sal Ek die ramp oor sy familie bring.”
1
Daar was drie jaar lank geen vyandigheid tussen Aram en Israel nie.2 In die derde jaar het koning Josafat van Juda na die koning van Israel toe gegaan.
3 Die koning van Israel het vir sy amptenare gesê: “Julle weet goed Ramot in Gilead behoort aan ons, en tog doen ons niks om dit uit die mag van die koning van Aram terug te vat nie!”
4
Die koning van Israel vra toe vir Josafat: “Sal jy saam met my optrek om oorlog te maak teen Ramot in Gilead?” Josafat het hom geantwoord: “Ek en jy is een. My manskappe is jou manskappe, en my perde is jou perde.5 Maar,” het Josafat verder vir die koning van Israel gesê, “raadpleeg net eers die Here.”
6
Die koning van Israel het toe die profete bymekaargeroep, omtrent vier honderd van hulle, en vir hulle gevra: “Moet ek teen Ramot in Gilead gaan veg? Of moet ek dit laat staan?” Hulle het geantwoord: “Gaan gerus, die Here gee die stad aan die koning oor.”7
Josafat het egter gevra: “Is hier nie nóg 'n profeet van die Here dat ons hom ook kan raadpleeg nie?”8
Die koning van Israel sê toe vir Josafat: “Hier is nog een man deur wie ons die Here kan raadpleeg, maar ek haat hom, want hy voorspel vir my nooit iets goeds nie, net altyd die slegste. Dit is Miga seun van Jimla.” Josafat sê toe: “Die koning moenie so praat nie.”9
Die koning van Israel roep toe 'n paleisamptenaar en sê: “Gaan haal gou vir Miga seun van Jimla!”10
Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het elkeen in sy koninklike gewaad op sy troon gesit by die dorsvloer voor die poort van Samaria. Voor hulle was al die profete besig met hulle voorspellings.11 Sedekia seun van Kenaäna het vir hom 'n paar horings van yster gemaak en gesê: “So sê die Here: Met hierdie horings sal u die Arameërs stoot tot dit klaar is met hulle.”
12
So het al die profete voorspel. Hulle uitspraak was: “Trek op teen Ramot in Gilead. U sal wen. Die Here gee die stad aan die koning oor.”13
Die boodskapper wat vir Miga gaan roep het, het vir hom gesê: “Kyk, die uitspraak van die profete was eenstemmig gunstig vir die koning. Laat joune nou tog dieselfde wees. Sê iets goeds!”14
Maar Miga sê: “So seker as die Here leef, wat die Here vir my sê, dit sal ek sê!”15
Toe Miga by die koning kom, sê dié vir hom: “Miga, moet ons teen Ramot in Gilead gaan veg? Of moet ons dit laat staan?” “Gaan gerus,” antwoord Miga, “u sal wen. Die Here gee die stad aan die koning oor.”16
Maar die koning sê vir hom: “Hoeveel keer moet ek nog by jou daarop aandring dat jy vir my niks anders as die waarheid in die Naam van die Here moet sê nie!”17
Toe sê Miga: “Ek het die hele Israel verstrooi op die berge gesien18
Die koning van Israel sê toe vir Josafat: “Ek het jou mos gesê hy voorspel vir my nie iets wat goed is nie, net die slegste.”19
En Miga praat verder: “Hoor die woord van die Here! Ek het die Here op sy troon sien sit met die hele hemelse leërmag wat weerskante van Hom staan.20 En die Here het gesê: ‘Wie sal vir Agab so ver kry dat hy na Ramot in Gilead toe gaan en daar sneuwel?’ Die een het toe dit gesê en die ander dat,
21 totdat die gees vorentoe kom en voor die Here gaan staan en gesê het: ‘Ek sal hom so ver kry.’ En toe die Here vir hom vra: ‘Hoe?’
22 sê die gees: ‘Ek sal uitgaan en 'n leuengees word in die mond van al sy profete.’ Toe sê die Here: ‘Jy sal hom so ver kry. Gaan doen dit, jy sal dit regkry.’
23 So het die Here 'n leuengees in die mond van al hierdie profete van u laat kom, maar die Here het in werklikheid vir u 'n ramp aangekondig.”
24
Toe kom Sedekia seun van Kenaäna nader en hy slaan vir Miga op die kakebeen en sê: “Met watter pad is die Gees van die Here van my af weg om met jou te praat?”25
En Miga antwoord: “Dit sal jy sien die dag as jy in een donker kamer na die ander probeer wegkruip.”26
Die koning van Israel het toe beveel: “Vat vir Miga weg en bring hom na Amon, die stadsbevelvoerder, en na prins Joas toe.27 Sê vir hulle die koning sê hulle moet hierdie man in die tronk sit en hom 'n skraal rantsoen kos en water gee tot ek behoue terugkom.”
28
Maar Miga het gesê: “As u ooit behoue terugkom, het die Here nie deur my gepraat nie.” Verder het hy gesê: “Hoor dit, alle manskappe.”29
Die koning van Israel en koning Josafat van Juda is toe na Ramot in Gilead toe.30 Die koning van Israel het vir Josafat gesê: “Ek gaan my vermom voor ek in die geveg betrokke raak. Hou jy jou koninklike gewaad aan.”
Die koning van Israel het hom toe vermom en so die geveg ingegaan.31
Die Aramese koning het die aanvoerders van sy twee en dertig strydwaens opdrag gegee: “Spits die geveg toe op die koning van Israel, moenie aan die ander aandag gee nie, klein of groot.”32
Toe die aanvoerders van sy strydwaens vir Josafat sien, sê hulle: “Daar is die koning van Israel!” en hulle het op hom toegesak. Josafat het om hulp geroep.33 Die aanvoerders van die strydwaens het gesien dit is nie die koning van Israel nie en het die agtervolging gestaak.
34
Iemand het egter losweg 'n pyl afgeskiet, en dié het die koning van Israel getref tussen die skubbe van sy harnas en die borsplaat. Hy sê toe vir sy drywer: “Ruk die perde om en bring my uit die geveg uit. Ek is gewond.”35
Die geveg was dié dag egter so hewig dat die koning die hele tyd teenoor die Arameërs op sy strydwa moes bly staan. Teen laatmiddag is hy dood. Die bloed uit sy wond het in die bak van die strydwa ingeloop.36 Net voor sononder is daar in die kamp geroep: “Elkeen na sy stad toe, elkeen na sy land toe!”
37
Die koning was al dood toe hy in Samaria aankom, en hulle het hom daar in Samaria begrawe.38
Toe hulle die strydwa uitspoel by die dam van Samaria waar die prostitute hulle was, het die honde sy bloed opgelek. Dit het gebeur in ooreenstemming met die woord van die Here.39
Die ander verhale oor Agab en alles wat hy gedoen het, en oor die huis met ivoorinlegwerk wat hy gebou het en oor al die stede wat hy gebou het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.40
Toe Agab oorlede is, het sy seun Ahasia hom as koning opgevolg.41
Josafat seun van Asa het koning van Juda geword in die vierde regeringsjaar van koning Agab van Israel.42 Josafat was vyf en dertig toe hy koning geword het, en hy het vyf en twintig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Asuba 'n dogter van Silgi.
43
Hy het die pad van Asa, sy pa, geloop en daar nie van afgewyk nie. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here.44 Die hoogtes het egter nie verdwyn nie, en die volk het nog steeds daarop offers gebring en wierook gebrand.
45
Josafat het die vrede bewaar met die koning van Israel.46
Die ander verhale oor Josafat se regering, oor die heldedade wat hy gedoen en die oorloë wat hy gevoer het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.47
Josafat het die tempelprostitute wat nog uit die dae van sy pa oorgebly het, uit die land verban.48
Daar was nie toe 'n koning in Edom nie; 'n goewerneur het as koning waargeneem.49
Josafat het skepe van Tarsis gekry waarmee hy goud wou gaan haal in Ofir. Dit het egter nie plaasgevind nie omdat die skepe skipbreuk gely het in Esjon-Geber.50 Ahasia seun van Agab het toe by Josafat aangedring: “Laat my manne saam met joune met die skepe vaar,” maar Josafat wou nie.
51
Josafat is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Joram het hom as koning opgevolg.52
Ahasia seun van Agab het in Samaria koning van Israel geword in die sewentiende regeringsjaar van koning Josafat van Juda. Hy het twee jaar oor Israel geregeer.53
Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het die pad geloop van sy pa en sy ma, en van Jerobeam seun van Nebat wat vir Israel laat sondig het.54 Hy het Baäl gedien en aanbid. Hy het ook die Here die God van Israel uitgetart, net soos sy pa gedoen het.