1
[1-2] Na die dood van Saul, op die derde dag daarna, het daar onverwags iemand uit Saul se kamp by Dawid aangekom. Dawid was toe al twee dae terug in Siklag na sy oorwinning oor die Amalekiete. Die man se klere was geskeur en daar was grond op sy kop. Toe hy by Dawid aankom, het die man voor hom op sy knieë geval en gebuig.2
3
“Waar kom jy vandaan?” het Dawid hom gevra. “Ek het uit die Israelitiese kamp ontvlug,” was sy antwoord.4
“Wat is aan die gang? Vertel my!” het Dawid aangedring. Hy het toe vertel dat die leër uit die geveg weggevlug het, dat 'n groot deel van die leër gesneuwel het, en dat Saul en sy seun Jonatan ook dood is.5
“Hoe weet jy dat Saul en sy seun Jonatan dood is?” vra Dawid vir die jongman wat hom dit vertel het.6
Hy het geantwoord: “Ek was heel toevallig op Gilboaberg. Daar merk ek toe dat Saul hom met sy spies om die lewe probeer bring, terwyl die Filistyne se strydwaens en hulle drywers kort op sy hakke was.7 Saul het omgekyk en my gesien. Hy het my nader geroep en ek het gevra: ‘Wat kan ek vir u doen?’
8 Hy vra my toe: ‘Wie is jy?’ en ek antwoord: ‘'n Amalekiet.’
9 ‘Kom staan hier langs my en maak my dood,’ beveel hy, ‘want ek leef wel nog, maar my toestand is kritiek.’
10 Ek het toe nader gestaan en hom doodgemaak, want ek het besef dat hy, nadat hy homself probeer doodmaak het, nie sou bly lewe nie. Ek het die kroon van sy kop af gegryp, ook die armband van sy arm af, en dit vir u gebring.”
11
Hieroor was Dawid so ontsteld dat hy sy klere geskeur het, en al sy manskappe ook.12 Hulle het tot die aand gerou en getreur en gevas oor Saul en sy seun Jonatan en oor die volk van die Here, die Israeliete, omdat hulle gesneuwel het.
13
Dawid het toe vir die jongman wat hom die berig gebring het, gevra: “Van waar is jy nou weer?” Hy het geantwoord: “Ek is nie 'n landsburger nie. Ek is 'n Amalekiet.”14
Dawid het vir hom gesê: “Dus was jy nie bang om jou hand uit te steek en die gesalfde van die Here om die lewe te bring nie?”15
Toe roep hy een van die manskappe en sê vir hom: “Kom hier! Maak hom dood!” Die manskap het hom toe doodgemaak.16
Dawid het hom toegevoeg: “Jy het jou dood gesóék, want jy het jouself veroordeel toe jy gesê het: Dit is ek wat die gesalfde van die Here doodgemaak het!”17
Dawid het toe die volgende klaaglied oor Saul en sy seun Jonatan gesing.18 Hy het opdrag gegee dat hierdie booglied aan die inwoners van Juda geleer moet word. Die lied is ook opgeteken in die Boek van die Opregte.
19
“Jou trots, Israel —
op jou hoogtes lê dit verslaan.
Hoe het die helde geval!
20
Moet dit nie in Gat vertel nie;
moet dit ook nie bekend maak in Askelon se strate nie,
anders sal die Filistynse meisies bly wees
en die dogters van die heidene jubel.
21
Gilboaberge! Offerland!
Nóg dou, nóg reën vir julle!
Waarlik, dáár is die heldeskild besoedel.
Saul se skild — dit is nie met olie ingesmeer nie
22
maar met bloed van gesneuweldes,
met vet van helde!
Jonatan se boog — dit het pal gestaan.
Saul se swaard — dit het sy werk goed gedoen.
23
Saul en Jonatan, geliefde en beminde mense —
in lewe en sterwe nie geskei nie.
Hulle was vinniger as arende,
sterker as leeus.
24
Israelitiese dogters, julle moet huil oor Saul!
Hy het julle beklee met sierlike klere,
goue sierade het hy daarop laat aanbring.
25
Hoe het die helde geval?
In die hitte van die stryd!
Jonatan lê verslaan op die hoogtes.
26
Ek is bedroef oor jou, my broer Jonatan.
Jy was baie na aan my hart.
Jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van enige vrou.
27
Hoe het die helde geval?
Met die wapen in die hand het hulle omgekom!”
1
Hierna het Dawid die Here geraadpleeg: “Moet ek na 'n stad in Juda toe gaan?” Die Here het geantwoord: “Ja, gaan!” Dawid het gevra: “Na watter plek toe moet ek gaan?” Toe antwoord die Here: “Na Hebron toe.”2
Dawid het toe gegaan, vergesel van sy twee vrouens, Aginoam van Jisreël, en Abigajil die weduwee van Nabal die Karmeliet.3 Hy het ook sy manskappe met hulle gesinne laat saamgaan, en hulle het almal in die gebied van Hebron gaan woon.
4 Daar het die burgers van Juda vir Dawid tot hulle koning kom salf.
Toe daar aan Dawid vertel is dat die inwoners van Jabes in Gilead vir Saul begrawe het,5 het hy boodskappers na hulle toe gestuur om vir hulle te sê: “Mag die Here julle seën omdat julle hierdie liefdesdaad aan julle koning Saul bewys het deur hom te begrawe.
6 Mag die Here ook aan julle liefde en trou betoon. Ek self sal ook nog 'n weldaad aan julle bewys omdat julle dit gedoen het.
7 Tree nou net moedig op en wees dapper, want julle koning Saul is wel dood, maar Juda het mý tot hulle koning gesalf.”
8
Maar die hoof van Saul se leër, Abner seun van Ner, het vir Is-Boset seun van Saul gevat, hom laat deurtrek na Maganajim toe9 en hom koning gemaak oor Gilead, Aser, Jisreël, Efraim en Benjamin, ja, oor die hele Israel.
10 Saul se seun Is-Boset was veertig jaar oud toe hy koning van Israel geword het en hy het twee jaar geregeer. Net die Judastam het vir Dawid ondersteun.
11 Dawid was sewe en 'n half jaar in Hebron koning oor Juda.
12
Abner seun van Ner het met Is-Boset se soldate van Maganajim af na Gibeon toe opgeruk.13 Joab seun van Seruja het hulle met Dawid se soldate tegemoet getrek en hulle by die Gibeondam gekry. Joab-hulle het aan die een kant van die dam gaan sit, en die ander aan die oorkant.
14
Abner skreeu toe vir Joab: “Laat die jong manne eers hier voor ons 'n oorlogspel kom speel!” “Hulle kan dit maar doen,” was Joab se antwoord.15
Twaalf man het toe namens Benjamin en Is-Boset na vore gekom, en so ook twaalf van Dawid se soldate.16 Maar elkeen het sy opponent aan die hare beetgekry en met die swaard onder die ribbes gesteek, en hulle het gelyk omgekom. Daarom word dié plek in Gibeon die Ribbebeensdeel genoem.
17 Daardie dag het daar toe 'n hewige geveg ontwikkel, en Abner en die manskappe van Israel is deur Dawid se soldate verslaan.
18
Seruja se drie seuns, Joab, Abisai en Asael, was ook daar. Asael was vinnig soos 'n wildsbok.19 Hy het Abner agternagesit en knaend op sy spoor gebly.
20 Abner het vir hom oor sy skouer gevra: “Is dit jy, Asael?”
“Ja, dis ek,” was die antwoord.21
Abner sê toe vir hom: “As jy agter 'n uitrusting aan is, draai weg in enige rigting, oorrompel enige jong soldaat en vat syne.” Maar hy wou nie wegdraai nie.22
Abner het weer vir hom gesê: “Gee pad agter my! Waarom moet ek jou doodmaak? Hoe sal ek jou broer Joab in die oë kan kyk?”23
Maar hy het bly weier om weg te draai. Toe steek Abner hom sommer na agter toe met die spies in die maag, sodat dit by sy rug uitkom. Asael het net daar in sy spore dood neergesak. Elkeen wat op die plek gekom het waar hy geval het, het 'n oomblik gaan staan.24
Daarna het Joab en Abisai vir Abner agternagesit. Sononder het hulle by die Elmboogrant aangekom, regoor die fontein langs die pad na Gibeon se weiveld toe.25 Die Benjaminiete het almal bo-op die rant gestaan en in 'n bondel agter Abner saamgedrom.
26
Toe skreeu Abner vir Joab: “Moet die swaard aanhou verteer? Besef jy nie dat die uiteinde net bitterheid is nie? Wanneer gaan jy eendag die manskappe beveel om nie meer hulle broers te agtervolg nie?”27
Joab het geantwoord: “Waarlik, God weet dit, as jy nie nou gepraat het nie, sou ons die volk tot môreoggend laat veg het, en dit nogal broer teen broer.”28
Toe het Joab die ramshoring geblaas. Al die manskappe het gaan staan en Israel nie meer agtervolg nie en hulle het nie verder geveg nie.29 Abner en sy manskappe het die nag deur met die Jordaanvallei langs getrek. Hulle het die Jordaan oorgesteek en Maganajim al met die Bitronloop langs bereik.
30 Joab het die agtervolging van Abner gestaak en die manskappe bymekaargeroep. Toe hulle Dawid se soldate tel, was daar behalwe Asael nog negentien man kort.
31 Dawid se vegters het egter baie Benjaminiete verslaan. Onder Abner se soldate alleen was drie honderd en sestig dood.
32 Joab-hulle het vir Asael opgetel en in die familiegraf in Betlehem gaan begrawe. Hierna het Joab en sy soldate die hele nag deur getrek en ligdag was hulle in Hebron.
1
Daar was 'n langdurige oorlog tussen die nageslag van Saul en Dawid, maar Dawid het gaandeweg al hoe sterker geword en die nageslag van Saul al hoe swakker.2
Die volgende seuns van Dawid is in Hebron gebore: Amnon, seun van Aginoam sy Jisreëlitiese vrou, was die oudste.3 Sy tweede was Kilab seun van Abigajil, die weduwee van Nabal die Karmeliet. Absalom seun van Maäka, 'n dogter van koning Talmai van Gesur, was die derde,
4 en die vierde was Adonia seun van Gaggit. Die vyfde was Sefatja seun van Abital
5 en die sesde Jitream seun van Dawid se vrou Egla. Hulle is vir hom in Hebron gebore.
6
Onderwyl die oorlog tussen Saul se huis en dié van Dawid aan die gang was, het Abner geprobeer om sy posisie in Saul se huis te verstewig deur 'n verbintenis met 'n byvrou van Saul.7 Haar naam was Rispa dogter van Aja.
Toe Is-Boset hom vra: “Waarom het jy my pa se byvrou gevat?”8 het Abner hom gruwelik oor dié woorde vererg en gesê: “Dink jy dan ek is 'n lae hond wat Juda se saak wil aanhelp? Tot nou toe was ek getrou aan die huis van Saul en aan sy broers én sy vriende. Ek het verhoed dat jy in Dawid se mag val, en nou spreek jy my aan oor 'n vergryp met hierdie vrou!
9 Mag God my om die lewe bring as ek nie nou vir Dawid gaan help om te doen wat die Here hom met 'n eed beloof het nie,
10 naamlik om die koningskap van die nageslag van Saul weg te vat en die heerskappy van Dawid oor Israel en Juda te bevestig, van noord tot suid.”
11
So bang was Is-Boset vir Abner dat hy nie 'n woord kon terugsê nie.12
Hierna het Abner boodskappers na Dawid toe gestuur om te sê: “Behoort die land nie aan u nie? Sluit tog 'n ooreenkoms met my en u sal sien dat ek by u staan deur die hele Israel na u kant toe oor te haal.”13
Dawid het geantwoord: “Goed, ek sal 'n ooreenkoms met jou sluit. Ek verwag net een ding van jou, en dit is dat jy nie met my moet kom onderhandel sonder om Saul se dogter Mikal saam te bring nie.”14
Dawid het ook boodskappers na Saul se seun Is-Boset toe gestuur om te sê: “Gee my vrou Mikal terug wat ek as vrou verkry het in ruil vir honderd Filistynse voorhuide.”15
Is-Boset het gestuur en haar laat wegvat van haar man, Palti seun van Lajis.16 Hy het saam met sy vrou geloop, huil-huil agter haar aan tot by Bagurim.
Toe sê Abner vir hom: “Gee pad! Loop terug!” Hy het toe maar omgedraai.17
Daarna het Abner met die leiers van Israel gepraat: “Julle probeer mos lankal om vir Dawid koning te maak.18 Doen dit nou, want die Here het vir Dawid gesê: Deur my dienaar Dawid sal Ek my volk Israel red uit die mag van die Filistyne en van al sy vyande.”
19
Abner het self ook vertroulik met die Benjaminiete gaan onderhandel. Dit was ook hy wat vertroulik aan Dawid in Hebron gaan vertel het watter voorwaardes vir Israel en die Benjaminstam aanneemlik sou wees.20 Vervolgens het Abner saam met twintig man na Dawid toe gegaan in Hebron, en Dawid het vir hulle 'n eetmaal aangebied.
21
Abner sê toe vir Dawid: “Met u verlof gaan ek nou die hele Israel by u, die koning, bymekaarbring sodat hulle met u 'n verdrag kan sluit; dan sal u koning wees volgens u hartsbegeerte.” Dawid het daartoe ingestem en Abner het ongehinderd vertrek.22
En toe gebeur die onvoorsiene! Joab en die soldate van Dawid het net van 'n rooftog af teruggekom en 'n groot buit saamgebring. Abner was toe nie meer by Dawid in Hebron nie: Abner het met die instemming van die koning ongehinderd vertrek.23
Dit was toe dat Joab en al sy soldate tuis gekom het en daar vir hom gesê is: “Abner seun van Ner het by die koning gekom, en hy het hom ongehinderd laat vertrek.”24
Joab het na die koning toe gegaan en gesê: “Wat het u nou aangevang? Hier kom Abner na u toe, en u laat hom weer loop?25 U ken tog vir Abner seun van Ner! Hy het net gekom om u vir die gek te hou, ja, om uit te vind wat u bewegings en u doen en late is.”
26
Joab is toe van Dawid af weg en het boodskappers agter Abner aangestuur. Hulle het hom by die watergat langs die doringboom laat omdraai sonder dat Dawid dit geweet het.27 Abner het teruggekom na Hebron toe, en Joab het hom na die poort se kant toe weggelei asof hy vertroulik met hom wou praat. Uit weerwraak oor die dood van sy broer Asael het Joab hom toe net daar in die maag gesteek, sodat hy gesterf het.
28
Dawid het dit agterna eers verneem en gesê: “Ek is vir altyd voor die Here onskuldig aan die moord op Abner seun van Ner, ek en my koningshuis.29 Mag die straf daarvoor op Joab se kop afkom en op sy hele familie. Mag daar altyd in sy familie een wees wat bloei of melaats is of op krukke loop of deur die swaard omkom of broodsgebrek ly.”
30
Joab en sy broer Abisai het vir Abner doodgemaak omdat hy hulle broer Asael tydens die oorlog in Gibeon doodgemaak het.31
Aan Joab en die hele leër by hom het Dawid gesê: “Skeur julle klere; trek rouklere aan en rou oor Abner.” Koning Dawid het self agter die draagbaar gestap.32 Toe hulle Abner in Hebron begrawe het, het die koning hardop gehuil by die graf, en die hele leër het ook gehuil.
33 Die koning het 'n klaaglied oor Abner gesing:
“Moes Abner dan so 'n eerlose dood sterwe?34
Jou hande was nie geboei nie,
jou voete nie met kettings gebind nie.
Jy het omgekom soos een wat deur misdadigers omkom.”
35 Die hele leër het Dawid probeer oorreed om iets te eet terwyl dit nog dag was, maar hy het 'n eed afgelê: “Mag God my om die lewe bring as ek voor sononder brood of ander kos eet!”
36
Almal het opgemerk dat hy nie eet nie en hulle het dit goedgevind. Hulle was tevrede met alles wat die koning gedoen het.37 Die hele leër en die ganse Israel was toe oortuig dat die koning niks met Abner seun van Ner se dood te doen gehad het nie.
38
Die koning het aan die onderdane by hom gesê: “Besef julle nie dat daar vandag 'n leier, ja, 'n groot man, in Israel om die lewe gebring is nie?39 Ek is wel tot koning gesalf, maar my posisie is nog nie sterk genoeg teenoor hierdie manne, die seuns van Seruja, nie. Hulle is vir my te hard. Mag die Here daarom self die saak regstel deur die moordenaar vir sy misdaad te straf.”
1
Toe Is-Boset seun van Saul verneem dat Abner in Hebron dood is, was hy tot niks in staat nie, en die hele Israel was skrikbevange.2
Daar was twee bendeleiers by Is-Boset. Die een se naam was Baäna en die ander s'n Rekab. Hulle was kinders van Rimmon die Beërotiet, uit die geledere van Benjamin. Beërot is vroeër by Benjamin gereken,3 maar die Beërotiete het na Gittajim toe gevlug, waar hulle nou nog asiel het.
4
Saul se seun Jonatan het 'n seun gehad met gebreklike voete. Hy was vyf jaar oud toe die tyding oor Saul en Jonatan uit Jisreël gekom het, en die vrou wat hom versorg het, het hom opgetel en gevlug, maar in haar haas het hy geval en so kreupel geword. Sy naam was Mefiboset.5
Rekab en Baäna, seuns van Rimmon die Beërotiet, het op die warmte van die dag, terwyl Is-Boset besig was om sy middagslapie te geniet, by sy huis aangekom.6 Hulle het tot binne in die huis gegaan onder die voorwendsel dat hulle koring kom aflewer, en hom in die maag gesteek. Daarna het hulle gevlug.
7 Hulle het in die huis gekom en hom doodgesteek terwyl hy op sy bed in die slaapkamer aan die slaap was. Hulle het selfs sy kop afgekap en dit saamgevat. Die hele nag deur het hulle met die Jordaanvalleipad langs gestap
8 en Is-Boset se kop na Dawid toe in Hebron gebring.
Hulle het vir die koning gesê: “Hier is die kop van Is-Boset Saul se seun. Saul was u vyand en wou u doodmaak, maar vandag het die Here vir die koning wraak geneem oor Saul en sy nasate.”9
Toe sê Dawid vir Rekab en sy broer Baäna, seuns van Rimmon die Beërotiet: “Ek verklaar voor die Here, my bevryder uit elke lewensgevaar:10 Die man wat my in Siklag vertel het: ‘Saul is dood!’ het ek laat gryp en doodslaan as beloning vir so 'n boodskap, en hy het nogal gedink hy is iemand wat 'n goeie tyding bring.
11 Hoeveel te meer sal ek nie, noudat skurke 'n onskuldige man op sy bed in sy huis doodgemaak het, sy moord op hulle wreek en hulle van die aarde af wegvee nie!”
12
Toe het Dawid sy lyfwag beveel om hulle dood te maak. Hulle het hulle hande en voete afgesny en hulle by die dam van Hebron opgehang. Maar Is-Boset se kop het hulle gevat en in Abner se graf in Hebron gaan begrawe.1
Hierna het al die Israelitiese stamme na Dawid toe in Hebron gegaan en gesê: “Ons is tog almal u eie mense!2 In die tyd toe Saul koning was, was u tog maar die een wat Israel in die oorlog aangevoer het. Die Here het vir u gesê:
“Jy moet vir my volk Israel 'n herder wees;3
So het al die leiers van Israel by die koning in Hebron gekom. Toe het koning Dawid in Hebron in teenwoordigheid van die Here 'n verdrag met hulle gesluit. Op hulle beurt het hulle vir Dawid daar tot koning oor Israel gesalf.4 Dawid was dertig toe hy koning geword het, en hy het veertig jaar geregeer.
5 In Hebron was hy sewe en 'n half jaar koning oor Juda, en in Jerusalem drie en dertig jaar oor die hele Israel en Juda.
6
Die koning en sy manskappe het teen Jerusalem opgetrek. Die Jebusiete het hierdie gebied bewoon. Daar is aan Dawid gesê: “Hier sal jy nie inkom nie. Blindes en kreupeles sal jou hier uithou.” Ja, daar is beweer: “Dawid sal hier nie inkom nie!”7 En tog het Dawid die Sionsvesting ingeneem. Dit is nou die Dawidstad.
8
Op daardie dag het Dawid gesê: “Elkeen wat 'n Jebusiet wil verslaan, moet eers die watertonnel, en die blindes en kreupeles in die hande kry.” Dawid het hulle blywend gehaat. Dit is waarom gesê word 'n blinde of 'n kreupele mag nie in die tempel inkom nie.9
Dawid het in die vesting gaan woon en dit Dawidstad genoem. Sy bouwerke het gestrek van die terras af in die rigting van die paleis.10 Hy het al hoe sterker geword en die Here die Almagtige was by hom.
11 Koning Hiram van Tirus het 'n afvaardiging na hom toe gestuur en ook sederhout en skrynwerkers en messelaars. Hulle het vir Dawid 'n paleis gebou.
12 Dawid het toe besef dat die Here hom as koning oor Israel bevestig het en dat die Here Dawid se koningskap in hoë aansien gebring het ter wille van die volk Israel.
13
Nadat Dawid uit Hebron verhuis het, het hy vir hom uit Jerusalem meer byvrouens en vrouens geneem. Daar is toe vir hom nog seuns en dogters gebore.14 Dit is die name van sy kinders wat in Jerusalem gebore is: Sima, Sobab, Natan, Salomo,
15 Jibgar, Elisua, Nefeg, Jafia,
16 Elisama, Eljada en Elifelet.
17
Toe die Filistyne verneem dat Dawid tot koning oor Israel gesalf is, het hulle almal teen hom opgetrek. Dawid het dit te hore gekom en op 'n strategiese plek gaan stelling inneem.18 Die Filistyne het gekom en die Spooklaagte binnegeval.
19
Dawid het die Here geraadpleeg en gevra: “Moet ek teen die Filistyne opruk? Sal U hulle in my mag oorgee?” Die Here het hom geantwoord: “Ja, trek op, want Ek gee hulle beslis aan jou oor.”20
Dawid het toe deur 'n groot kloof getrek en hulle daar verslaan. Hy het gesê: “Die Here het my vyand voor my gekloof soos water 'n wal kloof.” Daarom het hy die plek Grootkloof genoem.21 Die Filistyne het selfs hulle afgodsbeelde net daar gelos, en Dawid en sy manskappe het dit opgetel.
22
Toe die Filistyne weer opruk en die Spooklaagte binneval,23 het Dawid die Here geraadpleeg.
Die Here het gesê: “Moenie optrek nie. Draai na hulle agterhoede toe en val hulle aan regoor die melkbosse.24 Wanneer jy 'n geritsel in die toppe van die melkbosse hoor, moet jy blitsvinnig aanval, want dan trek die Here voor jou uit om die kamp van die Filistyne te tref.”
25
Dawid het gemaak soos die Here gesê het en die Filistyne van Geba af tot by die ingang na Geser verslaan.1
Dawid het al die uitgesoekte manne in Israel bymekaargemaak, dertig afdelings.2 Hy het klaargemaak en saam met die hele leër na Baäla in Juda toe gegaan om die ark van God te gaan haal. Dit is die ark waaroor die Naam: “die Here die Almagtige wat oor die gerubs troon”, uitgeroep is.
3 Hulle het die ark van God op 'n nuwe wa gelaai en dit weggevat uit die huis van Abinadab op die heuwel. Ussa en Agjo, seuns van Abinadab, het die wa
4 waarop die ark van God was, gedrywe. Agjo het voor die ark geloop.
5 Dawid en die hele Israel het uitbundig voor die ark van die Here gedans, begelei deur liedere, liere, harpe, tamboeryne, ratels en simbale.
6
Toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, gryp Ussa na die ark van God om dit teë te hou, want die osse het gestruikel.7 Die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam en God het hom net daar, by die daad van heiligskennis, getref. Hy het op die plek gesterf, langs die ark van God.
8 Dawid was diep ontsteld omdat die Here vir Ussa so weggeskeur het, en hy het daardie plek genoem Ussa-se-Skeur. Dit is nou nog die naam.
9
Dawid het daardie dag bang geword vir die Here en gesê: “Hoe kan die ark van die Here nou na my toe kom?”10
Hy het nie kans gesien om die ark van die Here by die Dawidstad te laat inkom nie en het dit laat wegdraai na die huis van Obed-Edom toe wat uit Gat afkomstig was.11 Die ark van die Here het drie maande in Obed-Edom se huis gestaan, en die Here het hom en sy hele gesin voorspoedig gemaak.
12
Daar is toe aan Dawid vertel: “Die Here het die gesin van Obed-Edom voorspoedig gemaak en al sy besittings vermeerder ter wille van die ark van God.” Dawid het toe gegaan en die ark van God met feesvreugde uit die huis van Obed-Edom na die Dawidstad toe laat bring.13 Elke keer wanneer die draers van die ark van die Here ses tree gestap het, het hy 'n bul en 'n vetgemaakte kalf geoffer.
14 Met volle oorgawe het Dawid voor die Here gedans met net 'n linneskouerkleed aan.
15 Hy en die hele Israel het die ark van die Here met gejuig en onder die geklank van die ramshoring ingebring.
16
Terwyl die ark die Dawidstad ingekom het, het Saul se dogter Mikal deur die venster afgekyk. Sy het koning Dawid gesien terwyl hy spring en dans voor die Here en sy het hom in stilte verag.17
Hulle het die ark van die Here ingebring en dit op sy bestemde plek neergesit in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het. Dawid het brandoffers en maaltydoffers vir die Here geoffer.18 Toe hy klaar geoffer het, het hy die volk geseën in die Naam van die Here die Almagtige.
19 Hy het aan die hele volk, die ganse menigte van Israel, man en vrou, elkeen 'n ringbrood, 'n bietjie dadels en 'n handvol rosyntjies laat uitdeel.
Hierna is almal huis toe,20 en Dawid het teruggegaan om sy gesin te seën.
Saul se dogter Mikal het hom tegemoet gegaan en smalend gesê: “Hoe waardig het die koning van Israel hom vandag gedra! Hy het hom die heeldag voor die slavinne van sy onderdane ontbloot soos 'n onbeskaamde mens wat hom sommer ontbloot.”21
Hy het vir Mikal geantwoord: “Voor die Here wat my verkies het bo jou pa en sy familie deur my aan te stel as heerser oor Israel, die volk van die Here, ja, voor die Here sal ek dans.22 Ek sal myself nog geringer ag as dit en nederig wees in my eie oë deur my by die slavinne van wie jy praat, waardig te gaan gedra.”
23
En tot die dag van haar dood het Saul se dogter Mikal nie 'n kind gehad nie.1
Toe koning Dawid in sy eie huis woon, nadat die Here hom rus gegee het van al sy vyande in die omgewing,2 sê hy vir die profeet Natan: “Kyk, ek woon in 'n huis wat met sederhout versier is, maar die ark van God staan in 'n tent.”
3
Natan het die koning geantwoord: “Doen gerus alles wat u in gedagte het. Die Here is by u.”4
Dieselfde nag het daar egter iets gebeur: die woord van die Here het tot Natan gekom en vir hom gesê:5 “Gaan sê vir my dienaar Dawid: So sê die Here: Wil jy vir My 'n huis bou om in te woon?
6 Vandat Ek die Israeliete uit Egipte laat trek het tot nou toe het Ek nog nooit in 'n huis gewoon nie. Ek het in tent en tabernakel rondgeswerf
7 saam met al die Israeliete. Het Ek ooit vir een van die stamme wat Ek beveel het om die leiding van my volk Israel op hom te neem, gesê: ‘Waarom bou julle nie vir My 'n huis wat met sederhout versier is nie?’
8
“Nou moet jy vir my dienaar Dawid sê: So sê die Here die Almagtige: Ek het jou uit die weiveld agter die kleinvee weggevat om oor my volk Israel te heers.9 Oral waar jy gegaan het, was Ek by jou; al jou vyande het Ek voor jou oë uitgedelg. Ek het jou so beroemd gemaak soos die grotes op die aarde.
10 Ek het 'n woonplek aan my volk Israel gegee en hom gevestig, sodat hy sonder vrees in sy plek kan woon. Slegte mense sal hom nie meer verdruk soos voorheen
11 toe Ek leiers oor my volk Israel aangestel het nie. Ek sal jou rus gee van al jou vyande. Ek maak aan jou bekend dat Ek vir jou 'n koningshuis gaan vestig.
12 Wanneer jy te sterwe kom en jy by jou voorvaders rus, sal Ek een van jou nageslag, jou eie seun, koning maak en aan hom 'n bestendige koningskap gee.
13 Hy sal vir my Naam 'n huis bou, en Ek sal sy koningskap vir altyd laat voortbestaan.
14 Ek sal vir hom 'n vader wees en hy sal vir My 'n seun wees. As hy ontrou is, sal Ek mense gebruik om hom te straf, hom te kasty.
15 Maar my trou sal Ek nie aan hom onttrek soos Ek dit aan Saul onttrek het om vir jou plek te maak nie.
16 Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan.”
17
Volgens hierdie openbaring het Natan die hele boodskap aan Dawid oorgedra.18
Daarna het koning Dawid ingegaan en voor die Here gaan sit en gesê: “Wie is ek, Here my God, en wie is my nageslag dat U my só ver gebring het?19 Selfs dít was vir U nog nie genoeg nie, Here: U het ook nog vir die nageslag van u dienaar tot in die verre toekoms beloftes gemaak. Wat 'n toesegging aan 'n mens, Here my God!
20
“Wat sou ek, Dawid, nog verder vir U kon sê? U ken immers u dienaar, Here.21 U het hierdie groot ding gedoen omdat dit u besluit en wil was en boonop het U dit nog aan u dienaar bekend gemaak.
22 Daarom, groot is U, Here my God! Daar is niemand soos U nie. Buiten U is daar geen God nie, van hoeveel gode ons ook al gehoor het.
23 Watter volk is soos u volk Israel? Hulle is die een nasie op die aarde wat U vir U as volk vry gemaak het. U het u Naam bekend gemaak en in hierdie land aan nasies en hulle gode groot en vreeslike dinge gedoen ter wille van u volk wat U vir U uit Egipte vry gemaak het.
24 U het u volk Israel vir U gevestig as 'n volk wat vir altyd aan U behoort. En U, Here, U het hulle God geword.
25 En nou, Here God, bevestig tog vir altyd wat U oor u dienaar en sy nageslag gesê het. Doen tog soos U belowe het,
26 sodat u Naam vir altyd groot kan wees as daar gesê word:
“ ‘Die Here, die Almagtige,27 Here, Almagtige, God van Israel, U het nadruklik vir u dienaar gesê: ‘Ek sal vir jou 'n koningshuis vestig,’ en daarom het u dienaar die vrymoedigheid gehad om hierdie gebed tot U te rig.
28
“En nou, Here, U is God. U woorde sal bewaarheid word. U het hierdie goeie belofte aan u dienaar gemaak.29 Begin tog nou en seën die huis van u dienaar om vir altyd in u diens te wees! Here my God, U het gepraat en omdat U seën, is die koningshuis van u dienaar vir altyd geseën.”
1
Hierna het Dawid die Filistyne verslaan. Hy het hulle onderwerp en die mag uit hulle hande geneem.2
Hy het ook die Moabiete verslaan. Hy het hulle groep-groep op die grond laat lê: twee groepe om te laat doodmaak vir elke volle groep wat toegelaat is om te lewe. Moab het onderhorig geword aan Dawid en moes aan hom belasting betaal.3
Toe Dawid sy mag aan die Eufraat gaan herstel het, het hy vir koning Hadad-Eser van Soba, seun van Regob, verslaan.4 Van hom het Dawid sewentien honderd oorlogsperde en twintig duisend voetsoldate afgevat. Hy het perde vir honderd strydwaens uitgehou en al die ander se hakskeensenings afgesny.
5 Die Arameërs van Damaskus het vir koning Hadad-Eser van Soba te hulp gekom, maar Dawid het twee en twintig duisend man van Aram verslaan.
6 Hy het militêre poste in die gebied Aram-Damaskus ingerig, en die Arameërs het aan hom onderhorig geword en moes aan hom belasting betaal. Die Here het Dawid die oorwinning laat behaal net waar hy gegaan het.
7
Hy het die goue skilde van Hadad-Eser se offisiere afgevat en dit na Jerusalem toe gebring.8 In Tebag en Berotai, twee stede van Hadad-Eser, het hy op 'n groot klomp brons beslag gelê.
9
Toe koning Toï van Hamat hoor dat Dawid die hele leër van Hadad-Eser verslaan het,10 het hy sy seun Joram na koning Dawid toe gestuur. Hy moes hom sy groete oorbring en hom gelukwens met sy oorwinning oor Hadad-Eser, want Hadad-Eser het kort-kort vir Toï aangeval. Joram het vir Dawid allerlei artikels van silwer en goud en brons gebring.
11 Koning Dawid het dit alles aan die Here gewy, en so ook die silwer en goud van al die nasies wat hy onderwerp het,
12 naamlik Aram, Moab, Ammon, die Filistyne en Amalek. Hy het dieselfde gedoen met sy buit van koning Hadad-Eser van Soba, seun van Regob.
13
Na sy oorwinning oor Aram het Dawid vir hom naam gemaak toe hy agtien duisend man van Edom in die Soutvlakte verslaan het.14 Hy het oral in Edom militêre poste ingerig, en die hele Edom het aan hom onderhorig geword. Die Here het Dawid die oorwinning laat behaal net waar hy gegaan het.
15
Dawid was koning oor die hele Israel en hy het sy hele volk met reg en billikheid geregeer.16 Joab seun van Seruja is aangestel oor die weermag, en Josafat seun van Agilud was hoof uitvoerende beampte.
17 Sadok seun van Agitub, en Agimelek seun van Abjatar was priesters, en Seraja was staatsekretaris.
18 Jojada se seun Benaja is aangestel oor die koning se Filistynse lyfwag. Dawid se seuns was priesters.
1
Op 'n dag het Dawid gevra: “Het daar nie miskien iemand uit Saul se familie oorgebly nie? Ek sou hom graag onder my sorg wil neem ter wille van Jonatan.”2
Hulle het toe vir Siba, 'n amptenaar van Saul se hofhouding, na hom toe laat roep. “Is jy Siba?” vra die koning hom. Hy antwoord: “Ek is u onderdaan.”3
“Is daar nie miskien iemand uit Saul se familie oor nie?” wou die koning weet. “Ek wil hom 'n besondere guns bewys.” “Daar is nog 'n kreupel seun van Jonatan,” was Siba se antwoord aan die koning.4
“Waar is hy?” vra die koning hom toe, en hy het geantwoord: “Hy is in die huis van Ammiël se seun Makir in Lo-Dabar.”5
Koning Dawid het hom toe laat haal uit Makir se huis in Lo-Dabar.6 Toe Mefiboset seun van Saul se seun Jonatan by Dawid kom, het hy op sy knieë geval voor Dawid en gebuig.
“Mefiboset?” vra Dawid. “Ek is u onderdaan,” antwoord hy.7
Dawid sê vir hom: “Moenie bekommerd wees nie, want ek het besluit om jou onder my sorg te neem ter wille van Jonatan jou pa. Ek gaan al die grond van jou oupa Saul aan jou teruggee, en boonop sal jy van nou af by my aan huis eet.”8
Hy het weer voor Dawid gebuig en gesê: “Wat is ek tog dat u aandag gee aan 'n dooie hond soos ek?”9
Dawid het vir Siba die amptenaar van Saul geroep en hom beveel: “Alles wat aan Saul en sy familie behoort het, gee ek aan sy kleinseun.10 Jy en jou seuns en jou slawe moet vir hom die lande bewerk en die oes insamel sodat daar kos kan wees vir sy huishouding, en sodat hulle kan eet. Maar Mefiboset die kleinseun van Saul sal van nou af by my aan huis eet.”
Siba het vyftien seuns en twintig slawe gehad.11
Hy het die koning geantwoord: “Ek is u onderdaan, ek sal doen net soos die koning my beveel het, en Mefiboset sal by u aan huis eet soos u eie kind.”12
Mefiboset het 'n klein seuntjie gehad wie se naam Miga was. Die hele huishouding van Siba moes vir Mefiboset bedien.13 Mefiboset, wie se voete gebreklik was, het in Jerusalem gebly, want hy het van toe af by die koning aan huis geëet.
1
Na hierdie gebeure is die koning van die Ammoniete oorlede. Sy seun Ganun het hom opgevolg,2 en Dawid het gedink: “Ek wil met Nagas se seun Ganun op goeie voet bly, want sy pa was my goedgesind.”
Dawid het toe gesante na hom toe gestuur om deelneming te betuig met die dood van sy pa. Toe die gesante van Dawid in die land van die Ammoniete kom,3 het die leiers van die Ammoniete vir hulle koning Ganun gesê: “Dink u werklik Dawid vereer u vader deur gesante te stuur om met u te simpatiseer? Het hy nie eerder gesante na u toe gestuur om die stad deur te kyk en te verken sodat hy dit kan oorweldig nie?”
4
Ganun het toe Dawid se gesante gevat en die een kant van hulle baard afgeskeer, hulle klere net onderkant die heupe afgesny en hulle gelos.5 Dit is aan Dawid meegedeel. Hy het toe boodskappers na hulle toe gestuur, want die manne was baie skaam.
Die koning het laat weet: “Bly voorlopig in Jerigo totdat julle baard gegroei het en kom dan huis toe.”6
Die Ammoniete het geweet dat hulle hulle by Dawid in onguns gebring het. Hulle het toe 'n afvaardiging gestuur en by die Arameërs van Bet-Regob en by dié van Soba twintig duisend voetsoldate gehuur; by koning Maäka het hulle duisend gehuur en by Is-Tob twaalf duisend.7 Toe Dawid dit verneem, het hy Joab met die hele leër gestuur, almal dapper manne.
8 Die Ammoniete het uitgegaan en voor die stadspoort stelling ingeneem, en die Arameërs van Soba, Regob, Is-Tob en Maäka was op hulle eie in die oop veld.
9 Joab het opgemerk dat hy aan twee kante sou moes veg, voor en agter. Hy het toe 'n aantal van die beste manne uit Israel gekies en teenoor die Arameërs laat stelling inneem.
10 Die res van die leër het hy onder aanvoering van sy broer Abisai teenoor die Ammoniete laat stelling inneem.
11
Hy het gesê: “As die Arameërs vir my te sterk is, moet jy my kom help, en as die Ammoniete vir jou te sterk is, sal ek jou kom help.12 Wees dapper en ons sal ook dapper wees ter wille van ons volk en die stede van ons God. Mag die Here doen soos Hy dit goedvind!”
13
Joab en sy manne het opgeruk om teen die Arameërs te veg, maar hulle het vir hom gevlug.14 Toe die Ammoniete gewaar dat die Arameërs vlug, het hulle ook vir Abisai gevlug en die stad ingegaan. Joab is toe van die Ammoniete af weg na Jerusalem toe.
15
Toe die Aramese state sien dat hulle deur die Israeliete verslaan is, het hulle 'n bondgenootskap gesluit.16 Hadad-Eser het naamlik afvaardigings gestuur en die Arameërs van oorkant die Eufraat af laat kom. Hulle leër het gekom, en Sobak, die hoof van Hadad-Eser se leër, het die leiding geneem.
17 Toe Dawid die berig kry, het hy die hele Israel bymekaargemaak, die Jordaan oorgesteek en by Gelam gekom. Die Arameërs het teenoor hom stelling ingeneem en die stryd aangeknoop.
18 Aram het egter vir Israel gevlug. Dawid het sewe honderd man op strydwaens en veertig duisend oorlogsperde van Aram om die lewe gebring. Hy het verder ook vir Sobak, die hoof van hulle leër, so ernstig gewond dat hy daar gesterf het.
19 Toe al die konings wat onderhorig was aan Hadad-Eser, besef dat hulle deur Israel verslaan is, het hulle vrede gesluit met Israel en aan hom onderhorig geword. Die Arameërs was bang om weer die Ammoniete te help.
1
In die lente, die tyd waarin die konings gewoonlik optrek om oorlog te maak, het Dawid op 'n keer vir Joab en sy soldate en die hele Israel uitgestuur. Hulle het die Ammoniete verslaan en Rabba beleër, maar Dawid het in Jerusalem agtergebly.2
Eendag het hy na sy middagslapie opgestaan en op die dak van die paleis gaan rondstap. Van die dak af het hy 'n vrou sien bad. Sy was 'n baie mooi vrou.3 Dawid het oor haar laat navraag doen, en iemand het gesê: “Dit is Batseba dogter van Eliam, die vrou van Urija die Hetiet.”
4
Dawid het toe amptenare gestuur en haar laat haal. Dit was nadat sy haar reinigingsbad geneem het na haar maandstonde. Sy het na hom toe gekom, en hy het by haar geslaap. Daarna is sy terug huis toe.5
Die vrou het swanger geword en vir Dawid laat weet: “Ek is swanger.”6
Dawid het op sy beurt 'n boodskap na Joab toe gestuur: “Stuur vir Urija die Hetiet hiernatoe.” Joab het hom na Dawid toe gestuur.7
Urija het by hom gekom, en Dawid het hom gevra hoe gaan dit met Joab en die leër, en hoe vorder die oorlog.8 Hierna het Dawid vir Urija gesê: “Gaan nou maar huis toe en rus 'n bietjie.”
Toe Urija uit die paleis gaan, het die koning ook nog 'n geskenk agter hom aangestuur.9 Maar Urija wou nie huis toe gaan nie en het by die paleisdeur gaan slaap saam met die slawe van die koning.
10 Hulle het vir Dawid gaan sê: “Urija was nie huis toe nie.”
Dawid vra toe vir Urija: “Jy was mos lank weg, waarom gaan jy nie huis toe nie?”11
Sy antwoord was: “Sou ek huis toe gaan om te eet en fees te vier en by my vrou te slaap, terwyl die ark en Israel saam met Juda in hutte woon en my aanvoerder Joab sowel as u soldate in die oop veld kamp opslaan? Dit sal ek beslis nooit doen nie!”12
Dawid het Urija toe beveel: “Bly vandag nog hier! Môre stuur ek jou terug.” Urija het daardie dag en die dag daarna in Jerusalem vertoef.13 Toe het Dawid hom geroep en saam met hom geëet en gedrink. Hy het hom selfs dronk gemaak. Maar die aand het Urija uitgegaan om op sy gewone plek saam met die slawe van die koning te gaan slaap. Hy het nie huis toe gegaan nie.
14
Die volgende oggend het Dawid 'n brief aan Joab geskryf en saam met Urija gestuur.15 In dié brief het hy geskryf: “Gee tog aan Urija 'n plek op die voorpunt waar die geveg kwaai is. Val dan terug sodat hy in die slag kan bly en sneuwel.”
16
Terwyl Joab die stad beleër, het hy Urija op 'n plek gesit waar hy geweet het daar is dapper teenstanders.17
Die burgers van die stad het uitgekom en teen Joab geveg. Daar het van Dawid se soldate gesneuwel, en Urija die Hetiet het ook omgekom.18 Joab het Dawid laat inlig oor die verloop van die geveg.
19
Hy het die boodskapper beveel: “As jy vir die koning die verloop van die geveg klaar vertel het20 en net as hy begin kwaad word en jou vra: ‘Waarom het julle so naby die stad gaan veg? Het julle nie gedink aan die mense wat bo van die muur af skiet nie?
21 Wie het vir Abimelek seun van Jerubbeset doodgemaak? Is dit nie 'n vrou wat 'n maalklip bo van die muur af op hom gegooi het, sodat hy in Tebes gesterf het nie? Waarom het julle so naby die muur gekom?’ dan moet jy sê: Ook u manskap Urija die Hetiet het gesneuwel.”
22
Die boodskapper het vir Dawid alles gaan vertel wat Joab hom beveel het.23 Hy het vir Dawid gesê: “Die vyand het dapper teen ons geveg. Hulle het tot in die oop veld na ons toe uitgekom en toe ons hulle tot by die stadspoort terugdruk,
24 het die boogskutters bo van die muur af u manskappe begin raakskiet. So het party van die koning se soldate gesneuwel, en ook Urija die Hetiet het so gesterf.”
25
Dawid het die boodskapper beveel: “Sê vir Joab: ‘Jy moet jou dit nie te veel aantrek nie. Dit gebeur nou maar eenmaal so dat mense sneuwel. Veg dapper in jou stryd teen die stad en verwoes dit.’ En praat hom moed in.”26
Urija se vrou het gehoor dat haar man dood is en sy het oor hom getreur.27 Toe die routyd oor was, het Dawid haar na sy huis toe laat haal. Sy het sy vrou geword en vir hom 'n seun in die wêreld gebring. Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here.
1
Daarna het die Here vir Natan na Dawid toe gestuur. Natan het by hom gekom en gesê: “Daar was twee mans in dieselfde plek. Die een was ryk en die ander arm.2 Die ryke het groot troppe kleinvee en beeste gehad.
3 Behalwe een ou ooilammetjie het die arm man niks besit nie. Hy het haar aan die lewe gehou, en sy het saam met sy kinders grootgeword. Sy het van sy krummeltjies geëet, uit sy beker gedrink en op sy skoot geslaap. Ja, sy was vir hom soos 'n eie dogter.
4 Daar het 'n besoeker by die ryk man gekom en hy kon dit nie oor sy hart kry om van sy eie kleinvee of beeste te vat en vir die reisiger te slag nie. Toe vat hy die ooilam van die arm man en slag haar vir sy gas.”
5
[5-6] Dawid het hom bloedig vererg oor die man en vir Natan gesê: “So seker as die Here leef, 'n man wat dit oor sy hart kon kry om so iets te doen, moet doodgemaak word, en hy moet viervoudig vir die ooilam vergoed.”6
7
“Jy is die man!” sê Natan toe vir Dawid. “So sê die Here die God van Israel: Ek het jou tot koning van Israel gesalf. Ek het jou teen Saul beskerm.8 Ek het aan jou die koningskap van Saul gegee en boonop nog sy vrouens ook. Ek het die koningskap oor Israel en Juda aan jou gegee. En as dit nog te min was, sou Ek enigiets daar wou bygee.
9 Waarom het jy nou die woord van die Here geminag deur so 'n verkeerde ding te doen? Jy het Urija die Hetiet met die swaard doodgemaak en toe sy vrou vir jou gevat. Ja, jy het hom vermoor met die swaard van die Ammoniete.
10
“Daarom sal die swaard nou nooit meer uit jou huis weggaan nie, want jy het My geminag toe jy Urija die Hetiet se vrou vir jou gevat het.11
“So sê die Here: Van nou af gaan Ek uit jou eie huis ellende oor jou bring. Ek sal jou vrouens voor jou oë vat en aan iemand anders gee. Hy sal by jou vrouens slaap oop en bloot,12 want jy het 'n ding in die geheim gedoen, maar Ek sal alles oop en bloot voor die hele Israel doen.”
13
Toe sê Dawid vir Natan: “Ek het gesondig teen die Here.” En Natan sê vir hom: “Die Here het jou sonde vergewe: jy sal nie nou sterwe nie.14 Maar omdat jy deur hierdie daad die vyande van die Here aanleiding gegee het om Hom te laster, sal hierdie selfde kind wat vir jou gebore is, sterwe.”
15
Natan het huis toe gegaan, en die Here het die kind wat Urija se vrou vir Dawid in die wêreld gebring het, getref. Die kind het ernstig siek geword.16 Dawid het tot God gebid vir die kind. Hy het hom verootmoedig deur aanhoudend te vas, hom terug te trek en op die grond te lê.
17 Die hoofde van sy huishouding het hom probeer oorreed om van die grond af op te staan, maar hy wou nie. Hy het nie saam met hulle aan tafel verskyn nie.
18 Op die sewende dag het die kind gesterwe, en Dawid se amptenare was bang om hom te vertel dat die kind dood is.
Hulle het gesê: “En nou? Toe die kind nog gelewe het, het ons met die koning gepraat, en hy het nie na ons geluister nie. Hoe kan ons nou vir hom sê die kind is dood? Hy sal 'n onbesonne ding aanvang.”19
Dawid het agtergekom dat sy amptenare onder mekaar fluister en hy het afgelei dat die kind dood is. “Is die kind dood?” het hy gevra. “Hy is dood,” was hulle antwoord.20
Toe het Dawid van die grond af opgestaan. Hy het gaan was, reukolie aangesmeer, aangetrek en na die heiligdom toe gegaan om te aanbid. Hierna is hy huis toe en het hy kos gevra. Hulle het hom 'n ete voorgesit en hy het geëet.21
Sy amptenare vra hom toe: “Wat doen u nou? Toe die kind nog gelewe het, het u gevas en gehuil. Nou dat die kind dood is, staan u op en u eet?”22
Sy antwoord was: “Terwyl die kind nog gelewe het, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink: wie weet, dalk is die Here my genadig, en dan sal die kind lewe.23 Maar nou is hy dood. Waarom moet ek nog vas? Kan ek hom na my toe laat terugkom? Ek gaan na hom toe; hy kan nie na my toe terugkom nie.”
24
Daarna het Dawid sy vrou Batseba getroos. Hy het by haar slaapkamer ingegaan en by haar geslaap. Sy het 'n seun in die wêreld gebring, en Dawid het hom Salomo genoem. Die Here het hom liefgehad25 en het hom deur die profeet Natan Jedidja laat noem, wat beteken: “die Here het hom lief”.
26
Joab het Rabba, die hoofstad van die Ammoniete, aangeval. Nadat hy die koninklike woonbuurt beset het,27 het hy 'n boodskap na Dawid toe gestuur: “Ek het Rabba aangeval en ek het reeds die ommuurde waterbron verower.
28 Roep tog nou die res van die burgers op en kom beleër die stad. Neem ú dit in sodat ek nie self die stad verower en dit dus my eiendom word nie.”
29
Dawid het al die burgers opgeroep en teen Rabba gaan veg en dit ingeneem.30 Hy het die kroon van hulle koning se kop afgehaal. Die kroon was van goud, sowat vier en dertig kilogram, en het 'n kosbare steen bevat. Dit het nou op Dawid se kop gekom, en hy het ook 'n groot buit uit Rabba saamgevat.
31
Hy het die burgers van Rabba weggevoer en hulle aan die werk gesit met saag, ysterbeitel en byl; party het hy by die steenoonde laat werk. So het hy teenoor al die Ammonitiese stede opgetree. Daarna het hy en al die burgers na Jerusalem toe teruggegaan.1
Toe het daar 'n ding gebeur. Dawid se seun Absalom het 'n mooi suster gehad met die naam Tamar. Amnon, 'n ander seun van Dawid, het op haar verlief geraak.2 Hy was siek van begeerte na sy suster Tamar, want sy was nog 'n maagd en dit was vir hom onmoontlik om by haar te kom en iets aan haar te doen.
3 Amnon het 'n vriend gehad. Sy naam was Jonadab, 'n seun van Dawid se broer Samma, en hy was 'n vindingryke man.
4 “Waarom lyk jy wat 'n koningskind is, dag vir dag so bedruk?” het hy vir Amnon gevra. “Vertel my!”
“Dis Tamar, my broer Absalom se suster,” was sy antwoord. “Ek is verlief op haar.”5
Jonadab het hom toe aangeraai: “Gaan lê op jou bed en maak of jy siek is. As jou pa dan kom kyk hoe dit gaan, moet jy vir hom sê: Laat my suster Tamar tog vir my iets te ete bring. Laat sy die ete hier by my kom voorberei dat ek dit kan sien, want ek wil uit haar eie hande eet.”6
Amnon het gaan lê en hom siek gehou. Toe die koning kom kyk hoe dit gaan, het Amnon vir hom gevra: “Laat my suster Tamar tog asseblief vir my twee hartvormige broodjies hier voor my kom bak sodat ek dit uit haar hande kan eet.”7
Dawid het 'n boodskap na Tamar by haar woonplek gestuur: “Kom tog na jou broer Amnon se woonplek toe en berei vir hom 'n ete voor.”8
Tamar het na haar broer se huis toe gekom terwyl hy op sy bed gelê het. Sy het deeg gevat en geknie en die broodjies voorberei en gebak waar hy dit kon sien.9 Maar toe sy die pan neem en dit vir hom neersit, het Amnon geweier om te eet.
Hy het beveel: “Gaan julle ander almal weg hier van my af.” Toe hulle weg is,10 het Amnon vir Tamar gesê: “Bring jy die kos hier na die kamer toe sodat ek dit uit jou hand kan eet.”
Tamar het die broodjies wat sy gereed gemaak het, na haar broer in die kamer gebring.11 Net toe sy naby hom kom om hom te laat eet, gryp hy haar vas en sê vir haar: “My suster, kom lê hier by my.”
12
“Nee, my broer,” sê sy vir hom, “moet my nie onteer nie, want so iets word nie in Israel gedoen nie. Moet nou nie 'n dwaas ding doen nie.13 Hoe sal ek my skande kan wegsteek? En jý sal in die oë van Israel 'n dwaas wees. Praat liewer met die koning, want hy sal ons toelaat om te trou.”
14
Amnon wou nie na haar luister nie. Hy het haar gepak en verkrag.15 Maar daarna het hy haar verag; hy het 'n groot afsku in haar gekry, en sy afsku was baie groter as sy verliefdheid.
Hy het toe vir haar gesê: “Loop!”16
Maar sy sê vir hom: “Moenie die skande wat jy my aangedoen het, vererger deur my weg te jaag nie.” Hy wou nie na haar luister nie17 en beveel toe sy slaaf wat hom bedien: “Smyt hierdie vroumens uit en sluit die deur agter haar!”
18
Volgens die gebruik van koningsdogters wat nog maagde was, het sy 'n lang mantel met moue aangehad. Nadat die slaaf haar uitgesit en die deur gesluit het,19 het Tamar stof op haar kop gegooi. Sy het haar lang mantel geskeur, haar hand op haar kop gesit en sover sy loop, het sy geskreeu.
20
Haar broer Absalom het toe vir haar gesê: “Was jou broer Amnon by jou? Toe maar, my suster, bly nou maar stil. Hy is jou broer. Moet jou nie hieroor verknies nie.” Tamar het toe in haar broer Absalom se huis gaan bly en sy was 'n wrak.21 Koning Dawid het van alles gehoor en hy was woedend.
22 Absalom het nie 'n enkele woord met Amnon gepraat nie, maar hy het hom gehaat omdat hy sy suster Tamar onteer het.
23
Twee jaar later was Absalom besig om sy skape te laat skeer in Baäl-Gasor in Efraim. Hy het al die seuns van die koning uitgenooi.24
Hy het naamlik na die koning toe gegaan en gesê: “Ekskuus tog, ek gaan my skape skeer. Wil die koning en sy paleispersoneel nie miskien na my toe kom nie?”25
“Nee, my seun, beslis nie,” was die koning se antwoord. “Ons kan nie almal gaan en vir jou 'n oorlas wees nie.” Ten spyte van sy aandrang wou die koning nie gaan nie, maar tog het hy hom voorspoed toegewens.26
Absalom vra hom toe: “Kan my broer Amnon dan nie maar saamgaan nie?” “Waarom juis hy?” vra die koning.27
Absalom het by hom daarop aangedring, en die koning het Amnon en al die koningseuns laat gaan.28
Absalom het sy lyfwagte beveel: “Julle moet oplet: net as Amnon lekker jolig raak van die wyn, sal ek vir julle die teken gee. Slaan hom dood. Moenie bang wees nie: ek gee mos self die bevel. Pak hom. Moenie weifel nie.”29
Die lyfwagte van Absalom het met Amnon gemaak soos hulle beveel is. Toe het al die ander koningseuns elkeen op sy muil gespring en gevlug.30
Terwyl hulle nog op pad terug was, het die volgende gerug Dawid bereik: “Absalom het al die koningseuns doodgemaak. Daar het nie 'n enkele oorgebly nie.”31
Die koning het van sy troon afgeklim, sy klere geskeur en op die grond gaan lê. Al sy onderdane het ook hulle klere geskeur en by hom kom staan.32
Maar Jonadab seun van Dawid se broer Samma het gesê: “U moet tog nie dink hulle het al die jongmanne, die koning se seuns, doodgemaak nie. Net Amnon is dood. Waarlik, daar was moord in Absalom se oë vandat Amnon sy suster Tamar onteer het.33
“Die koning moet nou nie die gerug dat al sy seuns dood is, ernstig opneem nie: net Amnon is dood.”34
Absalom het weggevlug. Terwyl 'n paleiswag uitkyk, sien hy meteens 'n groot klomp mense uit die rigting van die bergskuiling aankom.35 “Kyk daar kom die koning se seuns,” het Jonadab vir die koning gesê. “Dit is net soos ek gesê het.”
36
Net na hierdie woorde het die koningseuns ingekom. Hulle het hardop begin huil, en die koning en al sy dienaars het bitterlik saamgehuil.37
Absalom het na koning Talmai van Gesur, seun van Ammigur toe gevlug, maar koning Dawid het die hele tyd net oor sy seun Amnon getreur.38
Absalom het na sy vlug drie jaar in Gesur gebly.39 Omdat koning Dawid hom met die dood van Amnon versoen het, het hy nie teen Absalom gaan oorlog maak nie.
1
Joab seun van Seruja het agtergekom dat die koning na Absalom verlang.2 Toe ontbied hy 'n slim vrou van Tekoa af en sê vir haar: “Jy moet baie hartseer lyk. Trek rouklere aan en moenie skoonheidsmiddels gebruik nie. Gedra jou soos 'n vrou wat al lank rou oor iemand wat dood is.
3 Gaan na die koning toe en praat met hom soos ek vir jou sê.”
Hy het haar toe voorgesê wat om te sê.4 Die vrou van Tekoa het toe 'n onderhoud met die koning gehad. Sy het voor hom op haar knieë geval en gebuig. “Help my tog, U Majesteit,” het sy gesmeek.
5
“Wat makeer?” wou die koning weet. “Ag, ek is 'n arme weduwee; my man is dood,” het sy gesug.6 “Ek het twee seuns. Die twee het in die veld gebaklei, en daar was niemand om hulle uitmekaar te maak nie. Toe slaan die een die ander dood.
7 En om dit nog erger te maak, is die hele familie nou teen my. Hulle eis: ‘Gee die kind wat sy broer doodgeslaan het. Ons wil hom doodmaak omdat hy sy broer doodgeslaan het. Al is hy die enigste erfgenaam, wil ons hom om die lewe bring.’ Hulle wil die enigste hoop wat vir my oor is, uitwis. Hy sal dus nie die familienaam kan voortsit nie, en daar sal niks van my man op die aarde oorbly nie.”
8
“Gaan maar huis toe,” sê die koning vir haar. “Ek sal self jou saak behartig.”9
Maar die vrou sê: “U Majesteit, dit is ek en my gesin wat by hierdie saak betrokke is, nie u en u troon nie.”10
Toe antwoord die koning: “As iemand net weer hieroor met jou praat, moet jy hom na my toe bring, en hy sal jou nie weer lastig val nie.”11
Maar die vrou sê: “Sal die koning tog nie in die Naam van die Here u God onder eed verklaar dat die mense wat my seun moet straf, nie te ver sal gaan en hom doodmaak nie? Hulle moet hom tog nie om die lewe bring nie.” Toe sê die koning: “Ek verklaar voor die Here: Daar sal nie 'n haar van jou seun op die grond val nie.”12
“Mag ek miskien net nog 'n enkele woord tot die koning rig?” vra die vrou. “Praat maar,” het die koning geantwoord.13
Toe sê die vrou: “Waarom pleeg u dan 'n onreg teen die volk van God? Terwyl u hierdie uitspraak gelewer het, het u uself skuldig verklaar, omdat u weier om u verjaagde seun te laat terugkom.14 Ons sal almal sterf en soos water wees wat op die grond uitgegooi is en nie weer bymekaargemaak kan word nie. God wil geen lewe neem nie, Hy berei 'n weg om die voortvlugtige nie te verstoot nie.
15 Ek het nou hierdie saak met die koning kom bespreek omdat die mense my bang gemaak het. Ek het gedink ek wil met die koning praat. Miskien doen die koning iets aan my saak.
16 Die koning sal beslis luister en my red uit die hand van dié mense wat my en my seun wil uitroei uit die volk van God.
17 Verder het ek gedink miskien sal die uitspraak van die koning 'n gerusstelling wees, want u is soos 'n engel van God wat na alles luister. Mag die Here u God met u wees.”
18
Die koning het vir die vrou gesê: “Jy moet asseblief niks vir my wegsteek van wat ek jou nou gaan vra nie.” Sy antwoord toe: “Die koning kan maar praat.”19
Toe vra die koning: “Sit Joab nie agter hierdie ding nie?” Die vrou antwoord: “Ja-nee, U Majesteit, niemand kan u om die bos lei nie. Dit ís so. Joab wat in u diens staan, het my dié opdrag gegee. Hy het my haarfyn vertel wat om te sê.20 Joab het dit gedoen om 'n verandering in die loop van sake te bring. Maar u praat byna met die wysheid van 'n engel van God: u weet werklik alles.”
21
Daarna het die koning vir Joab gesê: “Ek het nou eenmaal in die strik getrap. Gaan haal nou maar my seun Absalom.”22
Joab het voor die koning op sy knieë geval en gebuig. Hy het die koning geprys met die woorde: “Vandag weet ek dat u my goedgesind is, want u het gedoen wat ek gevra het.”23
Hy het toe opgestaan, na Gesur toe gegaan en vir Absalom na Jerusalem toe gebring.24
Maar die koning het beveel: “Laat hom na sy eie huis toe gaan. Vir my mag hy nie sien nie.” Daarom is Absalom huis toe sonder om die koning te sien.25
In die hele Israel was daar niemand so mooi soos Absalom nie. Die mense het oral daaroor gepraat. Van kop tot tone het hy nie 'n enkele gebrek gehad nie.26 Teen die einde van die jaar het hy gewoonlik sy hare geskeer, want dit het te swaar geword. Volgens koninklike skaal het sy afgeskeerde hare meer as twee kilogram geweeg.
27
Absalom het drie seuns en 'n dogter gehad. Die dogter se naam was Tamar, en sy was 'n baie mooi meisie.28
Hy was al twee jaar in Jerusalem terug sonder dat hy die koning gesien het.29 Toe laat Absalom vir Joab roep om hom na die koning toe te stuur, maar Joab wou nie kom nie. Hy het hom 'n tweede keer laat roep, maar hy het weer geweier om te kom.
30 Absalom sê toe vir sy slawe: “Kyk, Joab het 'n stuk land net hier langs my. Hy het gars daarop. Gaan steek dit aan die brand.”
Die slawe van Absalom het toe so gemaak.31
Toe het Joab gou na Absalom se huis toe gekom. “En waarom steek jou slawe my stuk land aan die brand?” vra Joab vir hom.32
Hy het geantwoord: “Man, kyk, ek het jou laat weet: ‘Kom hiernatoe; ek wil jou na die koning toe stuur om te vra waarom ek uit Gesur gekom het.’ Dit sou vir my beter gewees het as ek nog daar was. Ek wil nou met die koning praat. As ek skuldig is, laat hy my dan doodmaak.”33
Joab het dit aan die koning gaan meedeel. Toe laat roep die koning vir Absalom, en hy het gekom. Hy het diep voor die koning gebuig, en die koning het hom gesoen.1
Daarna het Absalom vir hom 'n kar en perde aangeskaf. Vyftig man het gewoonlik voor hom uit gehardloop.2 Hy het soggens vroeg opgestaan en langs die pad by die stadspoort gaan staan. Hy het elkeen wat met sy saak vir 'n beslissing na die koning toe gekom het, na hom toe geroep. “Uit watter stad is jy?” vra hy dan.
As die man antwoord: “Ek is 'n Israeliet,”3 sê Absalom vir hom: “Kyk, jy het 'n sterk, regverdige saak, maar by die koning sal niemand na jou luister nie.”
4
Dan voeg Absalom by: “As ék maar net as regter in hierdie land aangestel word, sou ek 'n regverdige uitspraak lewer vir elkeen wat met 'n geding of saak na my toe kom.”5
As so iemand nader kom om voor hom te buig, slaan Absalom sy arms om hom en soen hom.6 So het hy gemaak met al die Israeliete wat vir regspraak na die koning toe gekom het, en op hierdie manier het hy die burgers se harte gesteel.
7
Na vier jaar het Absalom vir die koning gesê: “Ek wil graag my gelofte wat ek teenoor die Here afgelê het, in Hebron gaan betaal,8 want terwyl ek op Gesur in Aram gebly het, het ek beloof: As die Here my veilig na Jerusalem toe laat terugkom, sal ek Hom met 'n offer vereer.”
9
Die koning het geantwoord: “Gaan gerus maar.” Hy het toe klaargemaak en na Hebron toe gegaan.10 Absalom het ook boodskappers na al die Israelitiese stamme toe gestuur om te sê: “As julle die ramshoring hoor, moet julle sê: Absalom het koning geword in Hebron.”
11
Saam met Absalom was daar twee honderd genooides wat te goeder trou uit Jerusalem saamgegaan het. Van die hele sameswering het hulle niks geweet nie.12 Absalom het ook Dawid se adviseur Agitofel die Giloniet laat kom uit die stad Gilo waar hy besig was om offers te bring. So het die sameswering ernstige afmetings aangeneem, en die volk het al hoe meer na Absalom toe oorgeloop.
13
Toe kom daar iemand by Dawid met die berig: “Die hele Israel is aan Absalom se kant.”14
Dawid het toe sy hele hofhouding wat by hom in Jerusalem was, beveel: “Maak klaar. Laat ons vlug, want Absalom sal geen genade vir ons hê nie. Maak gou voordat hy ons dalk inhaal en 'n groot ramp ons tref deurdat hy 'n bloedbad in die stad aanrig.”15
Hulle het die koning geantwoord: “Net soos die koning verkies. Ons is gereed.”16
Nadat hy tien byvrouens agtergelaat het om die paleis op te pas, het die koning en sy hele hofhouding te voet gevlug.17 Hy en al die inwoners het die stad te voet verlaat. By die laaste huis het hulle gaan staan.
18 Daar het hy al sy amptenare by hom laat verbygaan; so ook sy hele lyfwag en al ses honderd man wat hom uit Gat gevolg het.
Terwyl die mense voor die koning verbytrek,19 vra hy vir Ittai die man uit Gat: “Waarom gaan jý ook saam met ons? Draai om en bly by die nuwe koning. Jy is 'n uitlander en uit jou eie gebied verban.
20 Jy het maar onlangs hier aangekom, en nou maak ek jou dakloos as ek jou saam met ons laat gaan. Ek weet nie waar ek sal beland nie. Draai om en laat jou volksgenote ook omdraai. Dit is immers aan jou dat hulle trou en lojaliteit verskuldig is.”
21
Ittai sê toe vir die koning: “Ek verklaar voor die Here en voor u: Ek bly by u, my koning in lewe en in dood.”22
Toe sê die koning: “Kom dan maar saam.” Ittai die Gattiet en al die manne by hom is toe saam, en so ook al die afhanklikes wat by hom was.23 Al die mense, al die inwoners van die stad, het hardop geloop en huil. Die hele volk en die koning het deur Kedronspruit getrek en toe het die volk in die rigting van die woestyn koers gekies.
24 Sadok en al die Leviete wat die verbondsark van God gedra het, was by die koning. Abjatar het ook saamgekom. Hulle het die ark van God neergesit totdat die volk uit die stad was.
25
Toe het die koning vir Sadok beveel: “Vat die ark van God terug stad toe. As die Here my dit vergun en my terugbring, sal Hy my die ark en sy heiligdom weer laat sien.26 Maar as die Here sou te kenne gee: ‘Ek is nie meer tevrede met jou nie,’ sal ek dit aanvaar. Dan kan Hy met my maak soos Hy dit goedvind.”
27
Verder het die koning vir die priester Sadok gesê: “Sien jy hoe staan sake? Gaan gerus terug stad toe; ook jou seun Agimaäs en Jonatan seun van Abjatar. Die twee seuns moet saam met julle teruggaan.28 En onthou, ek sal by die woestynpas wag totdat ek van julle hoor.”
29
Daarna het Sadok en Abjatar die ark van God na Jerusalem toe teruggevat en daar gebly.30
Dawid het die Olyfberg huil-huil uitgeklim en as teken van sy droefheid was sy kop toegemaak en het hy kaalvoet geloop. Almal wat by hom was, het ook hulle koppe toegemaak en huil-huil die helling uitgeklim.31
Toe aan Dawid gesê is: “Agitofel is tussen die samesweerders by Absalom,” het hy gebid: “Here, laat daar tog niks kom van Agitofel se raad nie.”32
Toe Dawid op die kruin kniel in die rigting van die ark van God het Gusai die Erekiet onverwags by hom aangekom. Sy klere was geskeur en daar was grond op sy kop.33 Dawid het vir hom gesê: “As jy saamgaan, sal jy vir my 'n oorlas wees.
34 Maar as jy teruggaan stad toe en vir Absalom sê: ‘U Majesteit, ek is u onderdaan; ek was in u vader se diens, maar van hierdie oomblik af is ek u onderdaan,’ kan jy vir my Agitofel se raad tot niet maak.
35 Kyk, die priesters Sadok en Abjatar sal daar by jou wees. Alles wat jy uit die paleis hoor, moet jy hulle vertel.
36 Hulle twee seuns Agimaäs en Jonatan is saam met hulle daar, en wat julle ook al hoor, kan julle vir my met hulle laat weet.”
37
Gusai die vriend van Dawid het toe die stad ingegaan, en Absalom was op pad na Jerusalem toe.1
Toe Dawid 'n entjie van die kruin af weg was, het Mefiboset se amptenaar Siba hom onverwags teëgekom. Op twee opgesaalde donkies het hy twee honderd brode, honderd pakkies rosyntjies en honderd pakkies voorvye en 'n kruik wyn gehad.2
“Wat het jy hier?” vra die koning vir hom, en Siba antwoord: “Die donkies is vir die koning-hulle om op te ry, en die brood en vye is kos vir u lyfwag; dié wat in die woestyn moeg word, kan die wyn drink.”3
“En waar is Saul se seun?” vra die koning. “Nee, hy sit in Jerusalem. Hy dink mos: vandag sal Israel die koningskap van my pa aan my teruggee,” antwoord Siba.4
Toe sê die koning: “Nou kyk, alles wat aan Mefiboset behoort, is nou joune.” “Ek sal altyd dankbaar bly,” sê Siba, “en ek hoop ek sal U Majesteit altyd tevrede stel.”5
Toe die koning by Bagurim kom, storm daar ewe skielik een van Saul se familielede op hom af. Sy naam was Simeï seun van Gera. So ver as hy gaan, het hy geloop en vloek.6 Hy het Dawid en al sy amptenare en die hele volk, ja, selfs al die dapper krygsmanne, links en regs onder die klippe gesteek.
7
Terwyl hy loop en vloek, het Simeï uitgeroep: “Trap, trap hier uit, jou moordenaar en jou skurk!8 Nou straf die Here jou vir al die moorde op Saul se geslag toe jy in sy plek koning geword het. Nou het die Here die koningskap aan jou seun Absalom gegee. Nou sit jy self in die ellende omdat jy 'n moordenaar is.”
9
Toe vra Seruja se seun Abisai vir die koning: “Waarom vloek hierdie lae hond die koning? Laat ek sy kop vir hom gaan afkap.”10
“Seun van Seruja, dit het niks met my of met jou te doen nie,” was die koning se antwoord. “Hy vloek so omdat die Here hom beveel het om vir Dawid te vloek! Niemand moet nou vra waarom hy dit doen nie.”11
Verder het die koning vir al sy amptenare en vir Abisai gesê: “My eie bloedkind soek my lewe. Daarom moet julle hierdie Benjaminiet met rus laat dat hy maar vloek, want die Here het hom die opdrag gegee.12 Miskien let die Here op my ellende en beloon Hy my met iets goeds vir vandag se vervloeking.”
13
Dawid en sy mense het toe pad langs verder getrek. Simeï het ál teen die berghang langs geloop en vloek en klippe gooi en stof opskop.14 Moeg het die koning en sy geselskap by die Jordaan aangekom en daar 'n bietjie gerus.
15
Maar Absalom en die hele Israel het in Jerusalem aangekom. Agitofel was ook by.16
Toe Dawid se vriend Gusai die Erekiet by Absalom kom, sê Gusai vir hom: “Lank lewe die koning! Lank lewe die koning!”17
Toe vra Absalom vir hom: “Is dit hoe jy jou lojaliteit teenoor jou vriend wys? Waarom het jy nie saam met hom gegaan nie?”18
Gusai het geantwoord: “O nee! Ek skaar my by dié een vir wie die Here en hierdie manskappe en elke Israeliet gekies het. By hom staan ek.19 Per slot van rekening: wie sal ek dien? Is dit nie sy seun nie? Net soos ek u vader gedien het, sal ek u dien.”
20
Daarna sê Absalom vir Agitofel: “Kom, julle moet altwee raad gee oor wat ons nou te doen staan.”21
Agitofel se raad was: “Gaan slaap by u vader se byvrouens wat hy hier laat bly het om die paleis op te pas. Dan sal die hele Israel besef dat u teen u vader in opstand gekom het en dit sal al u volgelinge se hande sterk.”22
Daar is toe vir Absalom 'n tent op die dak opgeslaan, sodat hy voor die oë van die hele Israel by sy pa se byvrouens kon gaan slaap.23 In daardie tyd was Agitofel se raad asof hy dit van God gekry het. So was sy raad altyd, of dit nou al vir Dawid of vir Absalom was.
1
Agitofel het verder vir Absalom gesê: “Laat ek tog twaalf afdelings uitsoek en klaarmaak om Dawid vannag nog agterna te sit.2 Ek sal hom oorval terwyl hy moeg en moedeloos is. Ek sal verwarring in sy geledere skep, sodat die hele volk wat by hom is, sal vlug en ek die koning kan doodmaak waar hy alleen is.
3 Dan sal ek die hele volk na u toe laat swaai. Nadat almal oorgeloop het, sal u die gunsteling wees en die hele volk sal eensgesind wees.”
4
Die voorstel het aanneemlik gelyk vir Absalom en die leiers van Israel.5
Maar Absalom het gesê: “Roep eers vir Gusai die Erekiet. Laat ons ook hoor wat hý te sê het.”6
Gusai het ingekom, en Absalom het vir hom gesê: “Dit is die voorstel van Agitofel. Moet ons dit aanvaar of nie? Hoe dink jy?”7
Gusai het geantwoord: “Hierdie keer het Agitofel nie goeie raad gegee nie.8 U ken tog u vader en sy manskappe. Hulle is dapper vegters en hulle is boonop verbitter soos 'n beer wat in die veld van haar kleintjies beroof is. Daarby is u vader 'n uitgeslape krygsman. Hy sal nie by die volk oornag nie.
9 Ek is seker hy kruip nou weg in 'n sloot of op een of ander plek. As daar aan die begin al van u manskappe omkom en dit rugbaar word, sal daar gesê word: ‘Daar was 'n slagting onder die manne wat vir Absalom volg.’
10 Dan sal selfs die dapperste man, die man met leeuemoed, bang word, want die hele Israel weet u vader is 'n vegter en hy het dapper manne by hom.
11 Nee, ek raai aan dat die hele volk oor die lengte en breedte van die land eers by u bymekaargeroep word: 'n menigte soos die sand van die see. Dan kan u persoonlik teen hom opruk.
12 Waar hy ook al is, as ons by hom kom in een van die plekke, sak ons op hom toe soos mistige weer. Daar sal niks van hom oorbly nie, ook nie eers een van die manne by hom nie.
13 As hy hom dalk in 'n stad terugtrek, moet die hele Israel toue oor die mure van daardie stad gooi en dit na die laagte toe wegsleep totdat daar nie meer 'n enkele klip oorbly nie.”
14
Toe het Absalom en al die manskappe van Israel gesê: “Die raad van Gusai die Erekiet is beter as dié van Agitofel.” Maar eintlik was dit die Here wat die goeie raad van Agitofel verydel het, omdat die Here onheil oor Absalom wou bring.15
Daarna het Gusai die priesters Sadok en Abjatar ingelig: “Só het Agitofel vir Absalom en die volksleiers aangeraai, maar só was my raad.16 Stuur nou gou en laat weet vir Dawid hy moenie vannag in die woestynpas slaap nie. Hy moet beslis verder trek, anders word hy en sy hele leër uitgewis.”
17
Omdat hulle nie in die stad gesien moes word nie, het Jonatan en Agimaäs ondertussen by Rogelfontein gewag. 'n Slavin het hulle gaan inlig, en hulle moes weer vir koning Dawid gaan inlig.18 'n Jong seun het hulle egter gesien en Absalom daarvan vertel. Maar dié twee het weggeglip en by 'n man in Bagurim gaan wegkruip. In sy agterplaas was daar 'n put en hulle het daarin geklim.
19 Sy vrou het 'n doek oor die put gespan en graan daar oor gegooi sodat niemand onraad kon merk nie.
20
Absalom se manne het by die huis aangekom en vir die vrou gevra: “Waar is Agimaäs en Jonatan?” Sy het hulle geantwoord: “Hulle is hiervandaan rivier se kant toe.” Nadat die manne tevergeefs gesoek het, is hulle terug Jerusalem toe.21 Toe hulle weg is, het Agimaäs en Jonatan uit die put geklim en vir Dawid gaan sê: “Trek gou deur die rivier, want Agitofel se raad is gevaarlik vir u.”
22
Die koning en die hele volk by hom het klaargemaak en deur die Jordaan getrek tot ligdag, totdat almal deur die Jordaan was.23
Toe Agitofel sien sy raad word nie gevolg nie, het hy sy donkie opgesaal en na sy huis toe in sy tuisdorp gery. Daar het hy sy sake gereël en homself opgehang en gesterf. Hy is in die familiegraf begrawe.24
Dawid het na Maganajim toe gegaan onderwyl Absalom en die hele Israel deur die Jordaan getrek het.25 Absalom het vir Amasa in Joab se plek oor die leër aangestel. Amasa was die seun van 'n sekere Ismaeliet Jeter wat gemeenskap gehad het met Abigal dogter van Nagas. Sy was 'n suster van Seruja, Joab se ma.
26
Israel en Absalom het laer opgeslaan in Gilead.27 Toe Dawid in Maganajim aankom, is daar vir hom beddegoed gebring deur Sobi seun van Nagas van die Ammonitiese stad Rabba, en Makir seun van Ammiël van die stad Lo-Dabar, en Barsillai die Gileadiet van Rogelim.
28 Hulle het toe die slaapplek reggemaak. Daar was ook nog erdebakke, koring, gars, meel, gebraaide koring, boontjies en lensies.
29 Hulle het ook heuning, bokmelk en beesmelkkaas gebring sodat Dawid en sy mense kon eet en drink, want hulle het geweet die mense het moeg en honger en dors geword in die woestyn.
1
Dawid het die manskappe wat by hom was, in gelid opgestel: hy het hoofde oor afdelings van duisend en honderd aangestel en die leër in drie verdeel:2 'n derde onder leiding van Joab; 'n derde onder Joab se broer Abisai seun van Seruja, en die ander derde onder leiding van Ittai die Gattiet.
Toe het die koning vir die leër gesê: “Ek gaan self saam met julle veg.”3
Die leër het egter geantwoord: “Nee, u moenie saamgaan nie, want as óns dalk moet vlug, kan ons maar vlug en niemand sal van ons notisie neem nie; of as die helfte van ons dalk sterf, sal dit nie saak maak nie. Maar u is soos tien duisend van ons. Dit sal beter wees as u ons van die stad af kom help.”4
Die koning sê toe: “Ek sal doen soos julle sê.” Toe gaan staan hy langs die stadspoort terwyl die hele leër in afdelings van honderd en duisend uittrek om te gaan veg.5
Die koning het vir Joab, Abisai en Ittai beveel: “Werk om my ontwil tog saggies met my kind Absalom.” Al die manskappe het die bevel oor Absalom gehoor toe die koning dit aan die offisiere gegee het.6
Die manskappe het toe in die oop veld teen Israel opgetrek. Daar het 'n geveg in die Efraimbos ontstaan,7 en Israel is deur Dawid se manskappe verslaan. Dit was 'n groot slagting. Daar het dié dag nie minder nie as twintig duisend man geval.
8 Die geveg het oor die hele landstreek versprei, en op daardie dag het die bos meer lewens geëis as die swaard.
9
Dawid se manskappe het op Absalom afgekom waar hy op 'n muil gery het. Die muil het onder die digte takke van 'n groot akkerboom deurgegaan, en Absalom se kop het in die boom vasgehaak. Die muil waarop hy gery het, het aangehou hardloop en Absalom het tussen hemel en aarde bly hang.10
Iemand het dit gesien en aan Joab vertel: “Weet u, ek het Absalom aan 'n akkerboom sien hang.”11
Toe sê Joab aan die man wat dit vir hom vertel het: “Wat? Het jy hom gesien? Waarom het jy hom dan nie net daar doodgeslaan nie? Ek sou jou dan tien silwerstukke en 'n eregordel moes gegee het.”12
Maar die man antwoord vir Joab: “Al sou ek ook vir my duisend silwerstukke met my eie hand kon aftel, sou ek nog nie my hand teen die koning se seun opgetel het nie. Ons het immers almal gehoor hoe die koning u en Abisai en Ittai beveel: ‘Werk tog saggies met my kind Absalom.’13 As ek verkeerd opgetree het, sou dit by die koning bekend geword het en dan sou ú my nie gehelp het nie.”
14
Toe sê Joab: “Ek kan nie so staan en tyd mors hier by jou nie.” Hy het drie spiese gegryp en dit deur Absalom se hart gaan steek waar hy nog lewendig in die boom gehang het.15 Toe het tien wapendraers van Joab nader gestorm en Absalom heeltemal dood geslaan.
16
Hierna het Joab die ramshoring geblaas en die leër het opgehou om Israel te agtervolg. So het Joab die leër laat terugtrek,17 maar die hele Israel het huis toe gevlug.
Absalom se lyk is in 'n diep gat in die bos gegooi, en hulle het 'n groot hoop klippe op hom gepak.18
Dit was dieselfde Absalom wat die gedenkteken in die koningslaagte opgerig het om homself te vereer, omdat hy gesê het hy het nie meer 'n seun om sy naam in gedagtenis te hou nie. Daarom het hy die gedenkteken na homself vernoem en dit word nou nog genoem: “Absalom se Gedenkteken”.19
Agimaäs seun van Sadok het gesê: “Laat ek tog hardloop en aan die koning die goeie tyding bring dat die Here hom van sy vyand verlos het.”20
Maar Joab het vir hom gesê: “Jy is vandag nie die regte man om 'n tyding te bring nie. Jy kan op 'n ander dag boodskappe dra. Vandag doen jy dit nie, want dit is die koning se seun wat dood is.”21
Toe beveel Joab 'n Kussiet: “Gaan vertel vir die koning wat jy gesien het.” Nadat die Kussiet voor Joab gebuig het, het hy begin hardloop.22 Agimaäs seun van Sadok het weer vir Joab gesê: “Kom wat wil, laat ek tog net agter die Kussiet aan hardloop.”
“My seun, waarom wil jy tog hardloop? Daar sal nie vir jou ook 'n boodskappersloon wees nie,” antwoord Joab.23
“Dit maak nie saak nie; ek hardloop,” sê hy. “Nou hardloop dan,” sê Joab vir hom. Agimaäs het toe met die pad deur die Jordaanstreek gehardloop en die Kussiet verbygegaan.24
Terwyl Dawid in die stadspoort sit, klim die wag na die uitkykpos op die poort se dak en kyk rond of hy nie dalk iets sien nie. En juis toe kom daar iemand alleen aangehardloop.25 Die wag roep toe en sê dit vir die koning.
“As hy alleen is, bring hy nuus,” sê die koning. Terwyl hy nader kom,26 sien die wag nog iemand hardloop en hy roep na die poortwagter: “Daar kom nog iemand alleen aangehardloop.”
En die koning sê: “Ook hý bring nuus.”27
“Dit lyk my die voorste een hardloop soos Agimaäs seun van Sadok,” merk die wag op. “Hy is 'n goeie man, hy kom met 'n goeie boodskap,” voeg die koning toe by.28
“Alles is reg,” roep Agimaäs en buig voor die koning en sê: “Geloof sy die Here u God, omdat Hy die mense wat in opstand gekom het teen die koning, verslaan het.”29
“Gaan dit goed met my kind Absalom?” vra die koning. Hierop antwoord Agimaäs: “Ek het 'n groot samedromming opgemerk net toe u offisier Joab my gestuur het. Verder weet ek niks.”30
Die koning het hom beveel: “Wag 'n bietjie. Kom staan hier eenkant.” Hy het dit gedoen31 en toe kom die Kussiet juis net daar aan en sê: “Daar is nuus vir die koning, want die Here het u vandag verlos van almal wat teen u in opstand gekom het.”
32
“Gaan dit goed met my kind Absalom?” vra die koning, en die Kussiet antwoord: “Mag dit met die vyande van die koning en almal wat teen u in opstand kom en u ondergang wil bewerk, gaan soos met daardie kind.”33
Die koning het ontroerd geraak en in trane na die kamer bokant die poort opgeklim. Daar het hy heen en weer geloop en gesê: “My seun, Absalom, my seun, my seun. Absalom, ag, as ek maar in jou plek kon gesterwe het. Absalom, my seun, my seun.”1
Daar is aan Joab vertel: “Kan jy dit glo? Die koning huil en treur oor Absalom!”2
So het die oorwinningsdag 'n dag van trane geword vir al die manskappe, want hulle het gehoor dat die koning bedroef is oor sy seun.3 Op dié dag het die manskappe die stad binnegesluip, soos wanneer hulle beskaamd insluip as hulle uit 'n geveg weggehardloop het.
4
Die koning het sy gesig toegehou en hardop uitgeroep: “My seun Absalom; Absalom, my seun, my seun!”5
Joab het by die koning in die kamer ingegaan en gesê: “U het vandag al die manskappe laat skaam kry, hulle wat so pas u lewe en ook dié van u seuns en dogters, u vrouens en byvrouens gered het.6 U het mos nou u haters lief en u haat die mense wat vir u liefhet. Ja waarlik, u gee vandag te kenne dat u nie vir aanvoerders en manskappe omgee nie. Vandag weet ek beslis: as Absalom maar net kon gelewe het, kon ons vandag net so wel almal dood gewees het; u sou dan in u skik gewees het!
7 Kom nou, gaan stel u manskappe tevrede. Ek verklaar voor die Here: As u nie buitetoe gaan nie, sal daar vannag nie 'n enkele man by u oorbly nie. Dit sal vir u 'n groter ramp wees as enige ramp wat u in u hele lewe getref het.”
8
Die koning het toe buitetoe gegaan en in die stadspoort gaan sit. Daar is toe aan al die manskappe vertel: “Kom kyk, die koning sit in die stadspoort.” Toe het al die manskappe van die koning voor hom verskyn. Israel het intussen huis toe gevlug.9
Daarna het die manne van die Israelitiese stamme onder mekaar begin praat: “Dit is die kóning deur wie ons gered is uit die mag van ons vyande; hý het ons bevry uit die greep van die Filistyne, en nou moes hy die land uit vlug voor Absalom.10 Buitendien is Absalom vir wie ons tot koning gesalf het, in die geveg dood. Waarom talm julle nog om die koning te laat terugkom?”
11
Hierdie gevoel onder Israel het by Dawid en sy mense uitgekom. Daarna het die koning vir die priesters, Sadok en Abjatar, laat weet: “Praat met die leiers van Juda en vra: Waarom moet julle nou die laaste wees om die koning na sy paleis toe te laat terugkom?12 Julle is my broers, ja, julle is my mense. Waarom moet julle nou die laaste wees om die koning te laat terugkom?
13 Sê vir Amasa ek sê: Is jy nie my eie bloedfamilie nie? Mag God my om die lewe bring as jy nie vir altyd die hoof van my leër word in die plek van Joab nie.”
14
So het hy die hele Juda soos een man na sy kant toe oorgehaal, en hulle het die koning laat weet: “Kom terug! U en al u manskappe!”15
Die koning is toe terug, en terwyl hy op pad was na die Jordaan toe, het Juda by Gilgal bymekaargekom om hom te ontmoet en oor die Jordaan te help.16 Simeï seun van Gera, die Benjaminiet van die stad Bagurim, het haastig saam met Juda afgegaan om koning Dawid te ontmoet.
17 By hom was 'n afdeling soldate uit Benjamin, en verder ook Siba, die bestuurder van Saul se huishouding, met sy vyftien seuns en twintig slawe. Hulle het voor die koning by die Jordaan aangekom.
18 Hulle het deur die drif gegaan om die geselskap van die koning deur te bring en om te doen wat die koning wou hê.
Net toe die koning die Jordaan wou deurtrek, kniel Simeï seun van Gera voor hom19 en sê: “U Majesteit moet my die verkeerde daad tog nie toereken nie en moenie wat ek verkeerd gedoen het op die dag toe die koning uit Jerusalem uit gegaan het, ernstig opneem nie.
20 Ek weet baie goed dat ek sleg opgetree het, maar let tog op dat ek vandag die heel eerste uit die huis van Josef is wat die koning kom ontmoet.”
21
Hierop het Abisai seun van Seruja gevra: “Moet Simeï nie doodgemaak word nie? Hy het immers die gesalfde van die Here gevloek.”22
Maar Dawid het geantwoord: “Wat het dit met julle te doen, seuns van Seruja? As julle so praat, is julle my teenstanders. Moet daar dan vandag iemand in Israel doodgemaak word? Ek weet mos tog dat ek vandag koning oor Israel is.”23
Verder het die koning vir Simeï gesê: “Jy sal nie doodgemaak word nie.” Die koning het dit vir hom selfs met 'n eed bevestig.24
Toe Saul se seun Mefiboset die koning kom ontmoet het, was sy voete en baard nie versorg nie; en sy klere was vandat die koning vertrek het tot op die dag dat hy in vrede teruggekom het, nie gewas nie.25 Toe hy in Jerusalem die koning kom ontmoet, vra die koning hom: “Waarom het jy nie saam met my gegaan nie, Mefiboset?”
26
“U Majesteit,” antwoord hy, “my helper het my in die steek gelaat, want ek het gesê: Ek wil 'n donkie opgesaal hê om op te ry en saam met die koning te gaan; ek is mos kreupel.27 Hy het my by u gaan beskinder, maar U Majesteit is soos 'n engel van God. U sal dus met my doen soos dit vir u die beste lyk.
28 My hele familie het by u niks anders as die dood verdien nie, en tog het u my 'n plek gegee by dié wat by u aan huis eet. Ek het niks waarop ek my by die koning kan beroep nie.”
29
Toe antwoord die koning hom: “Die saak is afgehandel. Ek beveel hiermee dat jy en Siba die grond moet deel.”30
Mefiboset het geantwoord: “Nou dat die koning behoue tuis gekom het, kan Siba maar alles vat.”31
Barsillai die Gileadiet het van Rogelim af gekom vir die koning se oortog oor die Jordaan.32 Hy was al baie oud, tagtig jaar, en hy het die koning onderhou tydens sy verblyf in Maganajim, want hy was welgesteld. Hy wou daar by die Jordaan van die koning afskeid neem.
33
Toe sê die koning vir hom: “Kom saam met my, dan sal ek jou in Jerusalem by my onderhou.”34
Maar hy het vir die koning gesê: “Hoeveel langer het ek nog om te leef dat ek saam met die koning na Jerusalem toe moet optrek?35 Ek is nou tagtig. Kan ek nog iets geniet? Of kan ek nog proe wat ek eet en drink? Kan ek nog die stem van sangers en sangeresse waardeer? Waarom moet ek van my 'n oorlas maak by die koning?
36 Waarvoor wil die koning my nou eintlik beloon? Ek wou maar net 'n klein entjie van die Jordaan af saam met u trek.
37 Laat my nou maar omdraai en in my eie stad sterf, by die graf van my pa en ma. Maar kyk, hier is u onderdaan Kimham. Hy kan saam met u gaan, en u kan aan hom doen soos u dit goedvind.”
38
Toe sê die koning: “Kimham kan maar saamgaan. Ek sal vir hom doen wat jy sê. Wat jy ook al van my verwag, sál ek vir hom doen.”39
Daarna het die hele volk die Jordaan oorgesteek, en die koning het gevolg. Nadat die koning vir Barsillai gesoen en hom voorspoed toegewens het, het hy na sy stad toe teruggegaan.40 Die koning het by Gilgal verbygetrek, en Kimham saam met hom. Die hele Juda en ook die helfte van Israel het saam met die koning getrek.
41
Toe het al die mense van Israel na die koning toe gekom en gesê: “Waarom het ons broer Juda u gesteel en die koning met sy huisgesin en al die manskappe van Dawid saam met hom oor die Jordaan laat trek?”42
Die hele Juda het Israel toe geantwoord: “Maar die koning is mos familie van my. Waarom neem jy aanstoot hieraan? Het ons dalk iets van die koning geëet, of is ons op enige manier bevoordeel?”43
Maar Israel antwoord vir Juda: “Ek het tien keer meer aanspraak op die koningskap; selfs aan Dawid het ek meer as jy. Waarom het jy my nie in die saak geken nie? Was my uitnodiging nie eerste om my koning na my toe te laat terugkom nie?” Maar Juda het 'n beter saak gehad as Israel.1
Daar was 'n opruier met die naam Seba seun van Bikri, 'n Benjaminiet. Hy het die ramshoring geblaas en gesê: “Dawid is nie deel van ons nie; ons het niks aan Isai se seun nie. Elkeen terug na sy woonplek toe, Israel!”2
Toe het die hele Israel weggetrek van Dawid af agter Seba seun van Bikri aan. Maar Juda het hulle koning van die Jordaan af Jerusalem toe gevolg.3 Toe koning Dawid in Jerusalem in sy paleis kom, het hy die tien vrouens, die byvrouens, wat hy agtergelaat het om die paleis op te pas, in 'n bewaakte huis gesit. Hy het hulle onderhou, maar nie by hulle geslaap nie, en hulle was tot met hulle dood afgesonder en lewenslank feitlik weduwees.
4
Die koning het vir Amasa beveel: “Roep die burgers van Juda vir my binne drie dae op. Kom meld jou dan weer aan.”5
Amasa het Juda toe gaan oproep, maar hy het die tyd wat Dawid vasgestel het, oorskry.6
Toe sê die koning vir Abisai: “Nou sal Seba seun van Bikri ons meer moeilikheid gee as Absalom. Vat jy my manskappe en haal hom in voordat hy dalk die een of ander sterk stad bereik waar ons hom nie kan bykom nie.”7
Joab en sy afdeling het ook agter hom aan uitgetrek. Die koninklike lyfwag en al die vegters het uit Jerusalem getrek om Seba seun van Bikri te agtervolg.8 Terwyl hulle by die groot klip in Gibeon was, het Amasa by hulle gekom. Joab het nog sy mantel aangehad waaroor sy swaard in die skede vasgegespe was. Hy het op Amasa afgestap, en toe val die swaard uit.
9 Joab het vir hom gevra: “Gaan dit goed met jou, my broer?” en hom met sy regterhand aan die baard gegryp asof hy hom wou soen.
10
Amasa was nie op sy hoede vir die swaard in Joab se ander hand nie, en Joab het hom daarmee in die onderlyf gesteek, sodat sy ingewande op die grond uitgeval het. 'n Tweede steek was onnodig; hy sou sterf. Joab en sy broer Abisai het toe vir Seba seun van Bikri agtervolg.11
Een van Joab se volgelinge het by Amasa bly staan en gesê: “Wie vir Joab verkies en wie vir Dawid is, volg Joab.”12
Maar Amasa het in die middel van die pad in sy bloed gelê en gekrul van die pyn. Toe die man sien dat al die manskappe gaan staan, het hy vir Amasa uit die pad uit die veld in gesleep en 'n kledingstuk oor hom gegooi, want elkeen wat hom gesien het, het gaan staan.13 Toe hy uit die pad verwyder is, het almal Joab gevolg om Seba seun van Bikri agterna te sit.
14
Seba het met al die stamme van Israel getrek na Abel toe, dit is Bet-Maäka. Al die Beriete het bymekaargekom en hom ook gevolg.15
Joab-hulle het toe gekom en vir Seba beleër in Abel-Bet-Maäka. Hulle het 'n beleëringswal teen die stad gegooi. Toe dit al vas teen die voorskans staan, en die hele leër wat by Joab was, besig was om die muur te ondergrawe en dit so te laat val,16 het 'n wyse vrou vanuit die stad geroep: “Luister! Luister! Sê tog vir Joab hy moet hierheen kom, ek wil met hom praat.”
17
Hy het nader gegaan en die vrou het gevra: “Is u Joab?” Hy het geantwoord: “Ja,” en sy sê vir hom: “Luister tog na my woorde.” “Ek luister,” was sy antwoord.18
Sy sê toe: “Vanmelewe het die mense altyd gesê: ‘Hulle kan gerus maar by Abel kom raad vra,’ en dan het hulle daarvolgens gehandel.19 Ons is van die heel getroustes in Israel. U wil nou 'n stad uitroei wat in Israel in aansien is. Waarom wil u 'n stad wat aan die Here behoort, uitroei?”
20
Toe antwoord Joab: “Dit wil ek glad nie doen nie. Ek wil nie uitroei of uitwis nie.21 Dit gaan maar net oor 'n man uit die Efraimsberge. Sy naam is Seba seun van Bikri. Hy het teen koning Dawid in opstand gekom. Lewer hom net uit, dan trek ek van die stad af weg.”
Hierop het die vrou geantwoord: “Goed! Sy kop sal vir jou oor die muur gegooi word.”22
Die vrou is toe met haar plan na die stadsburgers toe, en hulle het Seba seun van Bikri se kop afgesny en dit na Joab toe oorgegooi. Hy het die ramshoring geblaas, en die manskappe het van die stad af uitmekaargegaan, elkeen na sy woonplek toe. Maar Joab het na die koning toe teruggegaan in Jerusalem.23
Joab was die bevelvoerder oor die hele Israelitiese leër. Benaja seun van Jojada het die beheer gehad oor die koninklike lyfwag.24 Adoniram was in bevel van die dwangarbeiders. Josafat seun van Agilud was hoof uitvoerende beampte;
25 Sewa was staatsekretaris, en Sadok en Abjatar was priesters.
26 En verder was Ira, uit Jaïr, ook priester onder Dawid.
1
In Dawid se tyd was daar 'n keer hongersnood wat drie jaar aanmekaar geduur het. Dawid het toe die Here geraadpleeg, en die Here het geantwoord: “Dit is te wyte aan Saul en sy moordenaarshuis, want hy het van die Gibeoniete laat doodmaak.”2
Die koning het toe die Gibeoniete laat roep. Hulle was natuurlik nie Israeliete nie, maar 'n oorblyfsel van die Amoriete. Die Israeliete het 'n verdrag met hulle gesluit gehad, maar later het Saul hulle probeer uitroei in sy geesdrif vir die saak van Israel en Juda.3
Dawid het vir die Gibeoniete gesê: “Wat moet ek vir julle doen en hoe moet ek julle vergoed sodat die land van die Here weer sy oeste kan lewer?”4
Die Gibeoniete het hierop geantwoord: “Ons verwag nie silwer of goud van Saul en sy familie nie en ook nie dat iemand in Israel doodgemaak moet word nie.” Dawid vra toe: “Wat wil julle dan hê moet ek vir julle doen?”5
Hulle antwoord die koning: “Daar was 'n man wat ons wou uitroei en wat beplan het om ons te verdelg sodat ons nie in die grondgebied van Israel kon voortbestaan nie.6 Daar moet nou sewe mans uit sy familie aan ons gegee word, sodat ons hulle kan doodmaak en voor die Here kan ophang by Gibea van Saul, die man wat deur die Here uitgekies was.”
Dawid het geantwoord: “Goed, ek sal dit doen.”7
Die koning het Mefiboset, seun van Jonatan seun van Saul, gespaar vanweë die verbond wat in die Naam van die Here tussen Dawid en Saul se seun Jonatan bestaan het.8
Maar die koning het vir Armoni en Mefiboset, die twee seuns wat Rispa dogter van Aja by Saul gehad het, gevat asook die vyf seuns van Saul se dogter Merab wat sy gehad het by Adriël seun van Barsillai die Megolatiet.9 Hy het hulle almal uitgelewer aan die Gibeoniete wat hulle doodgemaak en voor die Here op die berg opgehang het. Die sewetal het saam omgekom. Hulle is gedood teen die tyd dat daar gewoonlik begin word met die garsoes.
10
Rispa dogter van Aja het toe rouklere gevat en dit vir haar op 'n rots oopgegooi. Van die begin van die oestyd af totdat die reëntyd aangebreek het, het sy bedags die roofvoëls en snags die roofdiere nie aan die lyke laat vreet nie.11 Toe daar aan Dawid meegedeel is wat Aja se dogter Rispa, 'n byvrou van Saul, gedoen het,
12 het hy die bene van Saul en sy seun Jonatan laat haal by die burgers van Jabes in Gilead. Hulle het dit destyds op die stadsplein van Bet-San gaan steel waar die Filistyne dit opgehang het toe Saul op Gilboa verslaan is.
13 Hy het Saul en sy seun Jonatan se bene daarvandaan laat bring en ook dié van die manne wat op die berg opgehang is
14 en almal by Sela in Benjamin laat begrawe in die graf van Kis, Saul se pa. Alles is gedoen net soos die koning beveel het. Daarna het God weer gebede vir die land verhoor.
15
Daar het oorlog uitgebreek tussen die Filistyne en die Israeliete. Dawid en sy manskappe het teen die Filistyne gaan veg en Dawid het moeg geword.16 Jisbi van Nob, uit die geslag van die Refaïete, het toe gedink hy kan Dawid sonder moeite doodmaak. Jisbi se bronsspies het byna vier kilogram geweeg, en hy het 'n nuwe uitrusting gehad.
17 Seruja se seun Abisai het Dawid egter gehelp en die Filistyn platgeslaan en doodgemaak. Toe het die manne van Dawid vir hom gesê: “U wat die lamp van Israel is, mag nie meer saam met ons na die oorlog toe uittrek nie, sodat die lamp nie doodgeblaas sal word nie.”
18
Daarna was daar weer oorlog teen die Filistyne in Gob. Daar het Sibbekai uit Gusa vir Sippai uit die geslag van die Refaïete verslaan.19 In 'n ander geveg teen die Filistyne in Gob het Elganan seun van Jaäre-Oregim van Betlehem vir Goliat die Gattiet doodgemaak. Sy spiessteel was so dik soos die dwarsbalk van 'n weefstoel.
20
Op 'n ander keer was daar oorlog in Gat. Daar was 'n lang man met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet; saam was dit vier en twintig. Hy was ook 'n Refaïet van geboorte.21 Hy het die Israeliete getart en toe het Jonatan, seun van Dawid se broer Samma, hom doodgemaak.
22
Hierdie vier was Refaïete wat in Gat gebore is. Dawid en sy manskappe het hulle laat sneuwel.1
Dawid het die woorde van hierdie lied tot die Here gerig op die dag toe die Here hom gered het uit die mag van al sy vyande en uit die mag van Saul.2
Die Here is my rots, my skuilplek en my redder,
3
my God, my rots, by wie ek skuil,
my skild en sterk verlosser, my veilige vesting,
my toevlug en bevryder.
Van geweld het U my verlos.
4
Onder bespotting roep ek na die Here,
dan word ek van my vyande gered.
5
Waarlik, golwe van die dood het my omsluit,
strome van onheil het my verskrik.
6
Bande van die doderyk het my vasgetrek,
strikke van die dood het my bedreig.
7
In my nood roep ek na die Here,8
Die aarde het geskud en gebewe,9
Rook het uit sy neus getrek,
vuur uit sy mond het alles verteer,
gloeiende kole uit sy binneste.
10
Hy het die hemel afgebuig en afgekom,
onder sy voete was duisternis.
11
Hy het op 'n gerub geklim en gevlieg;
op die vleuels van die wind het Hy verskyn.
12
Hy het Hom in donkerte gehul,
donker waters en wolkemassas was sy bedekking.
13
Uit die gloed voor Hom het weerligstrale geblits.
14
Die Here het dit uit die hemel laat dreun,
die Allerhoogste het sy stem laat hoor.
15
Hy het sy pyle afgeskiet
en die vyand uitmekaar gejaag,
hulle met weerligstrale op loop gejaag.
16
Die seebodem het sigbaar geword,
die fondamente van die aarde is blootgelê
deurdat U, Here, op hulle gebulder het met die orkaan van u toorn.
17
Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp,
my uit geweldige waters uitgelig.
18
Hy het my gered van my vyand wat sterk was,
van my haters toe hulle vir my te magtig was.
19
Die dag toe hulle my aangeval het, was my ondergang naby,
maar die Here het my daarvan bewaar.
20
Hy het my in vryheid laat uitgaan,
my gered omdat Hy my liefhet.
21
Die Here het aan my reg laat geskied,22
want ek het my aan sy voorskrifte gehou
en my nie teenoor my God skuldig gemaak nie;
23
ek het my deur al sy bepalings laat lei
en nie van sy voorskrifte afgewyk nie.
24
Ek was opreg voor Hom,
ek was op my hoede teen enige ongeregtigheid.
25
Die Here het aan my reg laat geskied
want ek was onskuldig in sy oë.
26
U betoon U getrou teenoor die getroue,27
rein teenoor die reine,
maar U verwerp die huigelaar.
28
U red die verdrukte volk,
U verneder die trotses.
29
U, Here, laat my lamp helder skyn;30
Met u hulp loop ek 'n oormag storm,
met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie.
31
Wat God doen, is volmaak;
wat die Here sê, is suiwer.
Elkeen wat by Hom skuiling soek, beskerm Hy.
32
Waarlik, wie anders as die Here is God?
Ja, wie anders as ons God is 'n rots?
33
God omgord my met krag;34
Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok;
op hoë plekke laat Hy my stewig staan.
35
Hy leer my hande om oorlog te maak,
my arms om selfs die stramste boog te span.
36
Die redding wat U gebring het,37
U het my ruim vastrapplek gegee,
my enkels het nie geswik nie.
38
Ek het my vyande agtervolg en ingehaal,
ek het nie omgedraai voordat hulle uitgewis was nie.
39
Ja, ek het hulle verpletter,
sodat hulle nie weer kon opstaan nie.
Hulle het voor my voete gesneuwel.
40
U het my met krag omgord vir die stryd,
U het my teëstanders voor my laat swig.
41
U het my vyande voor my laat vlug
en ek kon my haters uitwis.
42
Hulle roep om hulp,
en daar is niemand wat help nie;
hulle roep selfs na die Here,
maar Hy antwoord hulle nie.
43
Ek maak hulle fyn soos stof,
ek laat hulle wegspat soos modder in die strate,
ja, ek vermorsel hulle.
44
U het my gered van opstandige mense,
my as hoof van vreemde nasies aangestel.
'n Volk wat ek nie geken het nie, is my onderdane.
45
Wie ook al van my verneem, gehoorsaam my.
Vreemde volke kruip voor my.
46
Hulle skrik en kom bewend uit hulle forte uit.
47
Die Here leef! Ek loof Hom wat my rots is.48
Dit is God wat my die oorwinning gee,
wat volke aan my onderwerp.
49
Hy red my van my vyande.
50
Daarvoor sal ek U loof voor die nasies, Here,
tot eer van u Naam 'n lofpsalm sing!
51
Dit is Hy wat aan sy koning groot oorwinnings gee1
Hier volg die laaste woorde van Dawid: “Dit is Dawid seun van Isai wat praat.2
“Die Gees van die Here het deur my gepraat,3
Die God van Israel het gepraat,
die Rots van Israel het vir my gesê:
‘Hy wat regverdig oor mense heers,
wat regeer in eerbied teenoor God,
4
is soos die môrelig as die son opkom
op 'n oggend sonder wolke;
dit skitter na die reën;
die gras skiet op uit die grond.’
5
“God het my koningskap goed gevestig,6
Maar die goddelose is soos doringtakke wat alles weggegooi word;
niemand vat met die hand daaraan nie.
7
Wie daarmee werk, doen dit met yster of hout.
In 'n vuur brand hulle heeltemal uit.”
8
Die volgende dapper manne was by Dawid: Joseb-Bassebet die Tagkemoner was hoof van die driemanskap. Hy het met sy spies ag honderd man in een veldslag laat sneuwel.9 Eleasar seun van Dodo uit Agoag was onder hom. Hy was een van die drie helde by Dawid toe die Filistyne by Garpam bymekaargekom het om te veg. Toe die Israeliete teen die hange uit vlug,
10 het hy bly staan en Filistyne afgemaai totdat hy later nie meer sy hand kon oopmaak om sy swaard te los nie. Daardie dag het die Here groot uitkoms gegee. En toe eers het die manskappe vir Eleasar gevolg, net om te plunder.
11
Onder hom was Agee se seun Samma, uit Harar. Die Filistyne het bymekaargekom by Legi waar 'n land vol lensies was. Toe die leër vir die Filistyne vlug,12 het hy by daardie akker gaan stelling inneem en dit beskerm. Hy het die Filistyne verslaan, en die Here het groot uitkoms gegee.
13
Op 'n keer het drie van die dertig leiers afgetrek en in die oestyd by die Adullamgrot by Dawid aangekom. Die kamp van die Filistyne was in die Spooklaagte.14 Dawid was toe in 'n bergskuiling, en die Filistyne het Betlehem beset.
15
Dawid het baie dors geword en gesug: “Ag, as iemand my tog net water uit die put in Betlehem se poort kon laat drink!”16
Die drie helde het toe deur die Filistynse kamp geglip en water uit die put in Betlehem se poort vir Dawid gebring, maar hy wou dit nie drink nie. Hy het dit as 'n offer vir die Here uitgegiet17 en gesê: “Mag die Here my daarvan bewaar dat ek dit sou drink. Is dit nie so goed as die bloed van die manne wat met lewensgevaar gegaan het nie?”
Daarom wou hy dit nie drink nie. Dit het die drie helde gedoen.18
Seruja se seun Abisai, die broer van Joab, was die leier van die dertigtal. Hy het met sy spies drie honderd man laat sneuwel. Hy was beroemd onder die dertigtal.19 Ja, onder die dertig was hy hoog geëer, sodat hy hulle aanvoerder geword het. Maar een van die driemanskap het hy nie geword nie.
20
Benaja seun van Jojada, seun van Isgai, was afkomstig uit Kabseël. Hy was 'n man van baie dade en het twee sterk manne in Moab doodgemaak. Op 'n sneeudag het hy in 'n droë put afgeklim en 'n leeu daar doodgemaak.21 Hy het ook 'n frisgeboude Egiptenaar doodgeslaan. Die Egiptenaar het nogal 'n spies in sy hand gehad, terwyl Benaja hom net met 'n stok gepak het. Hy het die spies uit die Egiptenaar se hand geruk en hom met sy eie spies van kant gemaak.
22 Dit het Benaja seun van Jojada gedoen. Hy was beroemd onder die dertig helde.
23 Hy het 'n hoër rang gehad as die res van die dertig, maar een van die driemanskap het hy nie geword nie. Dawid het hom oor sy lyfwag aangestel.
24
Asael, Joab se broer, was onder die dertigtal. So ook Elganan seun van Dodo uit Betlehem,25 Samma uit Garod, Elika uit Garod,
26 Geles uit Pelet, Ira seun van Ikkes uit Tekoa,
27 Abiëser uit Anatot, Sibbekai uit Gusa,
28 Salmon uit Agoag, Marai uit Netofa,
29 Geled seun van Baäna uit Netofa, Ittai seun van Ribai uit Gibea in Benjamin,
30 Benaja uit Piraton, Hiddai uit Nagale-Gaäs,
31 Abi-Albon uit Bet-Araba, Asmawet uit Bagurim,
32 Eljagba uit Saälbon, die seuns van Jasen, Jonatan,
33 Samma uit Harar, Agiam seun van Sarar uit Arar,
34 Elifelet seun van Agasbai, seun van iemand uit Maäka, Eliam seun van Agitofel uit Gilo,
35 Gesro uit Karmel, Paärai uit Arab,
36 Jigal seun van Natan uit Soba, Bani uit Gad,
37 Selek die Ammoniet, Nagrai uit Beërot, wapendraer van Joab seun van Seruja,
38 Ira uit Jeter, Gareb uit Jeter,
39 Urija die Hetiet. Daar was altesaam sewe en dertig.
1
Op 'n keer was die Here vertoorn op Israel. Hy het Dawid teen hulle aangehits en gesê: “Gaan tel die Israeliete en die Judeërs.”2
Die koning het vir Joab, die hoof van die leër, wat by hom was, gesê: “Trek rond deur al die Israelitiese stamme van die noorde tot die suide en tel die volk. Ek wil weet hoeveel hulle is.”3
Joab het die koning geantwoord: “Selfs al sou die Here u God die volk honderd maal laat vermeerder en die koning sien dit self, watter genot sou dit u verskaf?”4
Toe die koning egter vir Joab en die leëroffisiere nadruklik so beveel, is hulle van hom af weg om die volk te tel.5 Hulle het deur die Jordaan gegaan en by Aroër suid van die stad by die spruit begin. Daarvandaan is hulle na Gad en Jaeser toe
6 en het hulle Gilead deurgegaan tot by die land onderkant Kades. Toe het hulle by Dan gekom en daarvandaan is hulle oor Sidon,
7 waarna hulle by die vesting Tirus en al die stede van die Hewiete en Kanaäniete gekom het. Toe is hulle af na Berseba toe in die suide van Juda.
8
Hulle het die hele land deurreis en na nege maande en twintig dae weer in Jerusalem teruggekom,9 en Joab het die uitslag van die telling aan die koning gegee. Israel was ag honderd duisend weerbare man wat kon oorlog maak en Juda vyf honderd duisend.
10
Nadat hy die volk laat tel het, het Dawid se gewete hom gekwel. Hy het teenoor die Here bely: “Ek het swaar gesondig met wat ek gedoen het.11
Nadat Dawid die oggend opgestaan het, het die profeet Gad, die siener van Dawid, na hom toe gekom. Die woord van die Here het tot Gad gekom en gesê:12 “Gaan sê vir Dawid: So het die Here gesê: Ek lê drie dinge aan jou voor. Kies vir jou een daarvan, dan sal Ek dit laat gebeur.”
13
Gad het toe vir Dawid die boodskap gebring: “Wat wil jy liewer hê? Sewe jaar hongersnood in jou land, of drie maande waarin jy voor jou teenstanders vlug en hulle jou agtervolg, of drie dae lank pes in jou land? Oorweeg nou goed hoe ek Hom wat my gestuur het, moet antwoord.”14
Dawid het vir Gad geantwoord: “Ek is in 'n hoek gedryf. Laat my liewer in die hand van die Here val, want sy genade is groot. Ek wil nie in die hand van 'n mens val nie.”15
Daarna het die Here 'n pes van die oggend af tot die aand onder Israel ingestuur. Van die noorde tot die suide het daar sewentig duisend gesterf.16
Net toe die engel sy hand na Jerusalem toe uitsteek om dit te verdelg, het die Here besluit om die straf nie verder te voer nie. Hy het vir die engel wat die verderf onder die volk aanrig, gesê: “Dis nou genoeg. Trek jou hand terug.” Die engel van die Here was toe net by die dorsvloer van Arauna die Jebusiet.17
Terwyl Dawid die engel sien wat die volk tref, sê hy vir die Here: “Dit is ék wat gesondig het. Ja, ék het oortree. Wat het hierdie arme mense gedoen? Tree liewer op teen my en my familie.”18
Gad het daardie dag na Dawid toe gekom en vir hom gesê: “Gaan op en bou vir die Here 'n altaar op die dorsvloer van Arauna die Jebusiet.”19
Dawid het toe opgegaan soos die Here hom deur die woord van Gad beveel het.20 Toe Arauna afkyk en die koning en sy amptenare na hom toe sien aankom, gaan hy uit en buig diep voor die koning.
21
“Waarom kom die koning na sy dienaar toe?” vra Arauna. “Om die dorsvloer van jou te koop en 'n altaar vir die Here daarop te bou, sodat die plaag van die volk af weggeneem kan word,” antwoord Dawid.22
Arauna het vir Dawid gesê: “U kan dit gerus maar vat, U Majesteit, en offer net wat u wil. Kyk, die beeste vir die offer is hier, en die dorsslee en die jukke is beskikbaar as brandhout.23 U Majesteit, Arauna gee dit alles aan die koning. Mag die Here u God u offer aanneem.”
24
Hierop het die koning vir Arauna gesê: “Nee, ek koop dit beslis van jou teen die volle prys. Ek bring nie aan die Here my God offerandes wat my niks kos nie.” Dawid het toe die dorsvloer en die beeste vir sowat ses honderd gram silwer gekoop.25 Hy het net daar 'n altaar vir die Here gebou en brandoffers en maaltydoffers gebring. Hierna het die Here weer die gebede vir die land verhoor, en die plaag is uit Israel weggeneem.