1
Daar was 'n man uit Ramatajim, 'n Suffiet uit die Efraimsberge. Hy was Elkana seun van Jerogam, seun van Elihu, seun van Togu, seun van Suf uit Efrata.2 Hy het twee vrouens gehad. Die een se naam was Hanna en die ander s'n Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna nie.
3
Elkana het elke jaar uit sy stad uit na Silo toe gegaan om te aanbid en aan die Here die Almagtige offers te bring. Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas, was in Silo priesters van die Here.4
Elkana het gewoonlik op die dag wanneer hy geoffer het, dele van die offermaaltyd aan sy vrou Peninna en al haar seuns en dogters gegee.5 Alhoewel hy vir Hanna liefgehad het, kon hy vir haar elke keer net een deel gee, want die Here het haar kinderloos laat bly.
6 Dan het die ander vrou haar baie gespot en verneder omdat die Here haar kinderloos laat bly het.
7 So het dit jaar vir jaar gegaan: elke keer as Hanna in die huis van die Here gaan offer het, het Peninna haar gespot, sodat sy gehuil het en nie wou eet nie.
8 Dan sê haar man Elkana vir haar: “Hanna, waarom huil jy? Waarom eet jy nie en waarom is jy hartseer? Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie?”
9
Op 'n keer ná die offermaaltyd in Silo het Hanna opgestaan terwyl die priester Eli op sy stoel langs die deurkosyn van die tempel van die Here gesit het.10 Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil.
11
Sy het 'n gelofte afgelê en gesê: “Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my 'n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie.”12
Sy het lank tot die Here gebid, en Eli het stip na haar mond bly kyk.13 Hanna het in haar gedagte gepraat, net haar lippe het geroer. Eli kon nie haar stem hoor nie, en daarom het hy gedink sy is dronk.
14
Hy sê toe vir haar: “Hoe lank wil jy dronk bly? Loop word eers nugter!”15
Maar Hanna het geantwoord: “Nee, Meneer, ek is maar net 'n vrou wat diep terneergedruk is. Ek het nie wyn of bier gedrink nie. Ek het my hart uitgestort voor die Here.16 Moet tog nie dink ek is 'n slegte vrou nie. Dis oor my groot smart en leed dat ek so lank bly praat het.”
17
Toe sê Eli: “Wees gerus en gaan nou maar. Die God van Israel sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het.”18 En sy het gesê: “Mag dit vir my wees soos u sê.”
Sy het toe geloop en gaan eet, en sy was nie meer bedruk nie.19 Die volgende môre het Elkana-hulle vroeg opgestaan, die Here aanbid en teruggegaan huis toe.
Nadat hulle tuis gekom het in Rama, het Elkana gemeenskap gehad met sy vrou Hanna, en die Here het aan haar gedink.20 By die wisseling van die jaar was Hanna swanger. Sy het 'n seun in die wêreld gebring en uitgeroep: “Sy naam is Samuel: van die Here het ek hom afgesmeek!”
21
Toe Elkana en sy hele gesin gaan om die jaarlikse offer aan die Here te bring en sy gelofte te betaal,22 het Hanna nie saamgegaan nie, want sy het vir haar man gesê: “Wanneer die seun gespeen is, sal ek hom wegbring dat hy voor die Here verskyn en altyd daar bly.”
23
Haar man Elkana het vir haar gesê: “Maak soos jy dit goedvind. Bly totdat jy hom gespeen het. Mag die Here sy woord bevestig!” Hanna het toe gebly en haar kind gevoed totdat sy hom gespeen het.24
Toe sy hom gespeen het, het sy hom saamgeneem, en ook 'n driejaaroud bul , sestien kilogram meel en 'n kruik wyn. Sy het hom as klein seuntjie weggebring na die huis van die Here toe in Silo.25 Elkana-hulle het die bul geslag en die seun na Eli toe gebring,
26 en Hanna het gesê: “Ekskuus, Meneer, u sal my nie glo nie, maar, Meneer, ék is die vrou wat hier by u gestaan het om tot die Here te bid.
27 Om hierdie seun het ek gebid, en die Here het aan my gegee wat ek van Hom afgesmeek het.
28 Ja, van die Here het ek hierdie kind afgesmeek, en nou sal hy sy lewe lank iemand wees wat van die Here afgesmeek is.”
Toe het hulle die Here daar aanbid.1
En Hanna het gebid: “Ek jubel in die Here,2
Daar is geen heilige soos die Here nie,
buiten U is daar nie een nie,
daar is geen rots soos ons God nie.
3
“Julle moenie in hoogmoed bly praat nie,4
“Die boog van die magtiges is verbreek,5
Wie versadig was, moet hulle nou vir brood verhuur,
wie honger was, het oorgenoeg om te eet.
Die onvrugbare bring sewe in die wêreld,
die een met baie kinders kwyn weg.
6
“Die Here maak dood en Hy maak lewend,7
Die Here maak arm en Hy maak ryk,
Hy verneder, ook gee Hy aansien.
8
Hy laat die geringes uit die stof opstaan,
Hy hef die armes op van die ashoop af
om hulle by vername mense te laat sit;
Hy skenk hulle 'n ereplek.
Aan die Here behoort die pilare van die aarde;
Hy het die aarde daarop gegrondves.
9
“Hy beskerm sy troue dienaars op hulle pad,10
Dié wat teen die Here in opstand kom, word vernietig,
van bo uit die hemel verbrysel Hy hulle.
Die Here spreek reg tot by die eindes van die aarde,
Hy verleen krag aan sy koning,
Hy gee sterkte aan sy gesalfde.”
11
Daarna het Elkana na sy huis toe gegaan in Rama, terwyl die seun Samuel die Here bly dien het onder toesig van die priester Eli.12 Maar Eli se seuns was slegte mense; hulle het nie met die Here rekening gehou nie.
13
Die reg van die priesters teenoor die volk was so: elke keer wanneer iemand 'n offer bring, kom die priester se slaaf met 'n drietandvurk in sy hand, en wanneer die vleis kook,14 steek hy die vurk in die kastrol of die bak of die pot of die pan. Alles wat die vurk optrek, vat die priester vir hom. Dit het hulle gedoen met al die Israeliete wat in Silo kom offer het.
15
Maar nog voordat die vet aan die brand gesteek is, het 'n slaaf van die priester al gekom en aan die man wat offer, gesê: “Gee vleis om vir die priester te braai. Hy neem nie gekookte vleis van jou aan nie, net rou vleis.”16
As die man dan vir hom sê: “Laat hulle tog net eers die vet aan die brand steek, dan kan jy vir jou vat wat jy wil,” sê die slaaf vir hom: “Nee, jy moet dit nou gee, anders vat ek dit met geweld.”17
Hierdie sonde van Eli se seuns was baie groot in die oë van die Here, want daardeur het die mense hulle agting vir die offer van die Here verloor.18
Maar Samuel het die Here gedien. As 'n seun het Samuel al 'n linneskouerkleed gedra.19 Sy ma het elke jaar vir hom 'n manteltjie gemaak en dit vir hom gebring wanneer sy saam met haar man gegaan het om die jaarlikse offer te bring.
20 Dan het Eli vir Elkana en sy vrou geseën en gesê: “Mag die Here jou uit hierdie vrou 'n nageslag gee in die plek van die seun wat van die Here afgesmeek is.”
Daarna is hulle weer huis toe.21 Die Here het Hom oor Hanna ontferm, en sy het swanger geword en nog drie seuns en twee dogters gehad. Ondertussen het die seun Samuel voor die Here grootgeword.
22
Eli was al baie oud. En wanneer hy alles hoor wat sy seuns aan al die Israeliete doen en dat hulle by die vrouens slaap wat diens doen by die ingang van die tent van ontmoeting,23 sê hy vir hulle: “Waarom doen julle sulke dinge dat ek aanhoudend by die hele volk moet hoor van julle slegte dade?
24 Ag nee, my seuns, die gerugte wat ek verneem, is nie goed nie. Julle verlei die volk van die Here.
25 Wanneer een mens teen 'n ander mens verkeerd optree, sal die regters die saak uitmaak, maar as 'n mens teen die Here sondig, wie sal dan die saak uitmaak?”
Hulle het egter nie na hulle pa se vermaning geluister nie, want die Here het besluit om hulle dood te maak.26 Maar die seun Samuel het grootgeword en die Here en die mense was hom goedgesind.
27
'n Man van God het by Eli gekom en vir hom gesê: “So sê die Here: Ek het My duidelik geopenbaar aan die huis van jou stamvader toe die volk in Egipte aan die farao's onderdanig was.28 Ek het jou stamvader vir My uit al die Israelitiese stamme as priester uitgekies om my altaar te bedien, om wierook aan die brand te steek en om 'n skouerkleed voor My te dra. Ek het jou familie al die vuuroffers van die Israeliete gegee.
29 Waarom verag julle my diereoffer en my graanoffer waarvoor Ek voorskrifte in my woonplek gegee het? En waarom ag jy jou seuns belangriker as vir My, deurdat julle julle vet maak met die beste uit al die offers van my volk Israel?
30
“Daarom lewer die Here die God van Israel uitspraak: Ek het nadruklik gesê: Jou huis en jou nageslag sal My altyd in die tempel dien. “Maar nou sê Ek, die Here: Dit sal nie gebeur nie, want die een wat My eer, sal Ek eer, en die een wat My minag, sal Ek minag.31 Daar kom 'n tyd dat Ek die priesterskap van jou en jou familie af sal wegvat, en in jou familie sal niemand oud word nie.
32 Jy sal in nood na my woonplek staan en kyk tussen al die weldade wat Ek aan Israel sal bewys. In jou familie sal niemand ooit oud word nie.
33 Net een sal Ek nie van my altaar afsny nie. Maar wanneer Ek jou oë laat dof word en jou gees stil maak, sal die meerderheid van jou huis in die fleur van hulle lewe sterf.
34 En wat met jou twee seuns Hofni en Pinehas sal gebeur, sal vir jou die teken wees: op dieselfde dag sal hulle albei sterf.
35 Dan sal Ek vir my 'n betroubare priester aanstel. Volgens my wil en wens sal hy handel, en Ek sal vir hom 'n bestendige nageslag gee. Hy sal altyd diens doen as my gesalfde priester.
36 Maar elkeen wat uit jou familie oorbly, sal voor my priester kom buig vir 'n geldstukkie of 'n snytjie brood en sê: Neem my tog op in een van die priesterordes dat ek 'n stukkie brood kan hê om te eet!”
1
Die seun Samuel het die Here gedien onder toesig van Eli. Die woord van die Here is in daardie tyd min gehoor, daar was nie dikwels openbarings nie.2 Eli se oë het al swak begin word, hy kon nie meer goed sien nie. Vroeg een môre het Eli nog op sy slaapplek gelê,
3 en die lamp van God het nog helder gebrand. Samuel het ook nog gelê in die tempel van die Here waar die ark van God was,
4 en toe roep die Here na Samuel.
Samuel het geantwoord: “Ek kom!”5
Hy het na Eli toe gehardloop en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.” Maar Eli sê: “Ek het nie geroep nie! Gaan lê maar weer.” En Samuel het gaan lê.6
Die Here het weer na Samuel geroep, en hy het opgestaan, na Eli toe gegaan en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.” Toe sê Eli: “My seun, ek het nie geroep nie! Gaan lê maar weer.”7
Maar Samuel het nog nie die Here geken nie, want die woord van die Here was nog nie voorheen aan hom geopenbaar nie.8 Die Here het Samuel toe 'n derde keer geroep, en hy het opgestaan en na Eli toe gegaan en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.”
Toe besef Eli dat die Here die seun geroep het,9 en Eli sê vir Samuel: “Gaan lê en as iemand jou weer roep, sê jy: Praat, Here, u dienaar luister!”
Samuel het toe gegaan en op sy slaapplek gaan lê.10
Die Here het gekom en gaan staan en soos die vorige kere geroep: “Samuel, Samuel!” En Samuel sê: “Praat, Here, u dienaar luister!”11
Die Here sê toe vir Samuel: “Ek gaan 'n ding in Israel doen wat elkeen wat daarvan hoor, se twee ore sal laat tuit.12 Op daardie dag sal Ek vir Eli alles voltrek wat Ek oor sy familie aangekondig het, van begin tot end.
13 Ek het aan hom bekend gemaak dat Ek sy familie vir altyd gaan straf oor die ongeregtigheid waarvan hy geweet het. Ja, toe sy seuns die vloek oor hulle gebring het, het hy hulle nie bestraf nie.
14 Daarom bevestig Ek met 'n eed aangaande die familie van Eli: die ongeregtigheid van Eli se familie sal sekerlik nooit deur diereoffer of graanoffer versoen word nie.”
15
Daarna het Samuel gaan lê tot die oggend, en toe die deure van die huis van die Here oopgemaak. Hy was bang om die openbaring aan Eli te gaan vertel.16 Maar Eli het vir Samuel geroep en gesê: “Samuel, my seun!”
Hy het gesê: “Ek kom!”17
Eli sê toe: “Wat het die Here met jou gepraat? Moenie iets vir my wegsteek nie. God sal jou met die dood straf as jy iets van wat Hy aan jou bekend gemaak het, vir my wegsteek.”18
Toe vertel Samuel hom alles; hy het niks weggesteek nie. En Eli het gesê: “Hy is die Here, laat Hom doen soos Hy wil.”19
Samuel het grootgeword. Die Here was by hom en het nie een van Samuel se woorde onvervul gelaat nie.20 Die hele Israel van noord tot suid het gemerk dat Samuel betroubaar was as profeet van die Here.
21 Die Here het toe weer in Silo verskyn, want Hy het Hom in Silo aan Samuel geopenbaar deur die woord van die Here.
1
Samuel se woorde was aan die hele Israel gerig. Op 'n keer het Israel teen die Filistyne gaan oorlog maak. Die Israeliete het by Eben-Haeser kamp opgeslaan, en die Filistyne by Afek.2 Hulle het hulle leër teenoor Israel laat stelling inneem, en toe die geveg ontplooi, is Israel deur die Filistyne verslaan. Hulle het omtrent vier duisend man op die slagveld afgemaai.
3
Toe die manskappe van Israel in die laer kom, het die leiers gesê: “Waarom het die Here ons vandag voor die Filistyne laat vlug? Kom ons gaan haal die verbondsark van die Here uit Silo na ons toe dat dit by ons kan wees om ons te red uit die greep van ons vyande.”4
Die manskappe het na Silo toe gestuur, en die verbondsark van die Here die Almagtige wat oor die gerubs troon, van Silo af laat bring. Eli se seuns Hofni en Pinehas was ook by die verbondsark van God.5 Toe die verbondsark van die Here in die laer kom, het die hele Israel so hard geskreeu dat die aarde weergalm het.
6
Die Filistyne het die geskreeu gehoor en gevra: “Wat vir 'n geskreeu is dit daar in die laer van die Hebreërs?” Die Filistyne het toe uitgevind dat die ark van die Here in die kamp aangekom het.7 Hulle het bang geword, want hulle het gesê: “God het in die kamp gekom.”
Verder het hulle gesê: “Dis klaar met ons, want so iets het nog nooit gebeur nie.8 Dis klaar met ons! Wie sal ons red uit die mag van hierdie geweldige God? Dit is dié God deur wie die Egiptenaars in die woestyn getref is met allerhande plae.
9 Nou sal julle moet dapper wees! Gedra julle soos manne, Filistyne, sodat julle nie miskien slawe word van die Hebreërs soos hulle júlle slawe was nie. Gedra julle soos manne en veg!”
10
Hierna het die Filistyne gaan veg, en die Israeliete is weer verslaan. Hulle het gevlug, elkeen na sy woonplek toe. Daar was 'n baie groot slagting, dertig duisend voetsoldate van Israel het geval.11 Die ark van God is ook gevat, en Eli se twee seuns Hofni en Pinehas het omgekom.
12
'n Benjaminiet het van die slagveld af gehardloop en dieselfde dag nog in Silo aangekom. Sy klere was geskeur, en daar was grond op sy kop.13 Terwyl hy aankom, het Eli juis langs die pad op sy stoel gesit en wag, want hy was bekommerd oor die ark van God. Die man het gekom en die tyding aan die dorp bekend gemaak. Die hele dorp het begin kerm en kla.
14
Eli het die gekerm gehoor en gesê: “Wat skreeu die mense so?” Die man het gou vir Eli kom vertel.15 Eli was toe ag en negentig jaar. Sy oë was star, en hy kon nie meer goed sien nie.
16 Die man het vir Eli gesê: “Ek kom van die slagveld af. Ja, ek het vandag van die slagveld af gevlug.”
En Eli vra: “My seun, wat het gebeur?”17
Die boodskapper antwoord toe: “Israel het gevlug voor die Filistyne, die volk het swaar verliese gely, selfs u twee seuns Hofni en Pinehas is dood; en die ark van God is ook gevat.”18
Toe hy praat van die ark van God, het Eli daar by die poort van sy stoel af agteroor geval. Hy het sy nek gebreek en gesterf, want hy was oud en swaar. Hy was veertig jaar 'n leier in Israel.19
Sy skoondogter, die vrou van Pinehas, was swanger en sy was op haar laaste. Toe sy die tyding kry dat die ark gevat is en dat haar skoonpa en haar man dood is, het sy vooroor inmekaargetrek en 'n kind in die wêreld gebring, want die geboortepyne het haar oorval.20 Toe sy wou sterf, het die vroue wat by haar gestaan het, gesê: “Moet jou nie bekommer nie, want jy het 'n seuntjie.”
Sy het egter nie geantwoord of op hulle ag geslaan nie,21 maar die seuntjie Ikabod genoem en gesê: “Die eer is weggevat uit Israel.”
Dit het geslaan op die wegvat van die ark van God en op haar skoonpa en haar man.22
“Ja,” het sy gesê, “die eer is weggevat uit Israel, want die ark van God is gevat.”1
Die Filistyne het die ark van God gevat en dit van Eben-Haeser af na Asdod toe gebring.2 Ja, die Filistyne het die ark van God gevat. Hulle het dit na die tempel van Dagon toe gebring en langs Dagon neergesit.
3 Toe die Asdodiete die volgende môre opstaan, het Dagon vooroorgeval op die grond gelê, voor die ark van die Here. Hulle het vir Dagon opgetel en op sy plek teruggesit.
4 Die volgende dag het hulle vroeg opgestaan, en Dagon het weer vooroorgeval op die grond gelê, voor die ark van die Here. Die kop van Dagon en sy twee hande het afgebreek op die drumpel gelê, net sy lyf het oorgebly.
5 Daarom trap die priesters van Dagon, en almal wat in Dagon se tempel ingaan, tot vandag toe nie op die drumpel van die Dagonstempel in Asdod nie.
6
Die Here het die Asdodiete swaar gekasty: Hy het Asdod en sy gebied in beroering gebring en hulle met pesswere getref.7 Toe die mense van Asdod sien dat dit so gaan, sê hulle: “Die ark van die God van Israel mag nie by ons bly nie, want sy hand lê swaar op ons en ons god Dagon.”
8
Hulle het boodskappers gestuur en al die regeerders van die Filistyne in Asdod laat bymekaarkom en gevra: “Wat moet ons maak met die ark van die God van Israel?” Die regeerders het gesê: “Die ark van die God van Israel moet na Gat toe gevat word.” Hulle het toe die ark van die God van Israel daarheen gebring,9 en nadat hulle dit gedoen het, het die Here 'n baie groot beroering in die stad veroorsaak. Hy het die mense van die stad, klein en groot, met 'n plaag getref. Ook by húlle het daar pesswere uitgebreek.
10
Daarna het hulle die ark van God weggestuur na Ekron toe. Toe die ark van God in Ekron kom, het die Ekronners geskreeu: “Hulle het die ark van die God van Israel na ons toe gebring om ons en ons mense dood te maak.”11
Hulle het boodskappers gestuur en al die regeerders van die Filistyne laat bymekaarkom en gesê: “Stuur weg die ark van die God van Israel. Laat dit na sy eie plek toe teruggaan sodat dit ons en ons mense nie doodmaak nie.” Daar was 'n dodelike siekte in die hele stad. Die hand van God het swaar gelê op hulle:12 die mense wat nie gesterf het nie, is met pesswere getref. Die geskreeu in die stad kon baie ver gehoor word.
1
Toe die ark van die Here sewe maande in Filistynse gebied was,2 het die Filistyne hulle priesters en waarsêers ontbied en gevra: “Wat moet ons met die ark van die Here doen? Sê vir ons hoe ons dit na sy eie plek toe kan terugstuur.”
3
En hulle het geantwoord: “As julle die ark van die God van Israel terugstuur, moet julle dit nie sommerso terugstuur nie. Julle moet dit teruggee met 'n behoorlike geskenk daarby. Dan sal julle gesond word en weet waarom sy hand so swaar op julle gebly het.”4
Die Filistyne vra hulle toe: “Watter geskenk moet ons daarmee saamstuur?” en hulle antwoord: “Goue afbeeldings van vyf pesswere en van vyf muise, volgens die getal Filistynse regeerders, want die plaag was een en dieselfde vir almal, ook vir die regeerders.5 Maak afbeeldings van julle swere en van die muise wat die land verniel het, en gee eer aan die God van Israel; miskien sal sy hand dan nie langer swaar op julle lê nie, ook nie op julle gode en op julle land nie.
6 Waarom sou julle hardkoppig bly soos die Egiptenaars en die farao hardkoppig was? Toe God hulle laat swaarkry het, het hulle uiteindelik die Israeliete laat gaan dat hulle kon wegtrek.
7
“Maak dan nou 'n nuwe wa en vat twee koeie wat in die melk is en nog nie ingespan was nie. Span hulle in voor die wa en keer hulle kalwers af kraal toe.8 Vat dan die ark van die Here en sit dit op die wa. Die goue voorwerpe wat julle as geskenk aan die Here gee, moet julle langs die ark in 'n kissie neersit. Los dan die wa dat hy loop.
9 En let op: as dit met die pad langs na sy gebied toe in Bet-Semes gaan, dan het die Here ons hierdie groot kwaad aangedoen. So nie, dan weet ons dat dit nie Hy was nie; dan was dit maar iets wat toevallig gebeur het.”
10
Die Filistyne het dit toe gedoen. Hulle het die twee koeie gevat en voor die wa ingespan en hulle kalwers in die kraal gehou,11 en die ark van die Here op die wa gesit, ook die kissie met die goue muise en die afbeeldings van die swere.
12 Die koeie het reguit met die pad langs na Bet-Semes toe geloop, bulk-bulk al met die grootpad langs. Hulle het nie links of regs weggedraai nie, terwyl die Filistynse regeerders agter hulle aan geloop het tot by die gebied van Bet-Semes.
13
Die mense van Bet-Semes was besig om koring te oes in die laagte, en toe hulle opkyk, sien hulle die ark. Hulle was bly om dit te sien.14 Die wa het tot by die grond van Josua van Bet-Semes gekom en daar gaan staan. Dáár was 'n groot klip. Hulle het die hout van die wa stukkend gekap en die koeie as brandoffer aan die Here geoffer.
15 Die Leviete het die ark van die Here en die kissie daar langsaan waarin die goue voorwerpe was, afgelaai en op die groot klip neergesit. Op daardie dag het die mense van Bet-Semes aan die Here brandoffers en ander diereoffers geoffer.
16 Toe die vyf Filistynse regeerders dit sien, het hulle dieselfde dag nog teruggegaan na Ekron toe.
17
Die geskenk wat die Filistyne aan die Here gegee het, die goue afbeeldings van die swere, was een vir Asdod, een vir Gasa, een vir Askelon, een vir Gat en een vir Ekron.18 Die goue afbeeldings van die muise was vir die versterkte en onversterkte stede van die vyf Filistynse regeerders. Die groot klip waarop hulle die ark van die Here neergesit het, staan tot vandag toe as getuienis op die grond van Josua van Bet-Semes.
19
Maar die Here het die inwoners van Bet-Semes getref omdat hulle die ark bekyk het. Hy het sewentig man onder hulle laat sterf. Toe het hulle gerou omdat die Here hulle so swaar getref het.20
Daarna het die mense van Bet-Semes gevra: “Wie kan bestaan in die teenwoordigheid van die Here, hierdie heilige God? Na wie toe kan Hy gaan van ons af?”21
Hulle het boodskappers gestuur na die inwoners van Kirjat-Jearim toe om te sê: “Die Filistyne het die ark van die Here teruggebring. Kom vat dit na julle toe.”1
Die mense van Kirjat-Jearim het toe gekom. Hulle het die ark van die Here gaan haal en dit na die huis van Abinadab op die heuwel gebring. Hulle het sy seun Eleasar gewy om die ark van die Here op te pas.2
Vandat die ark in Kirjat-Jearim 'n staanplek gekry het, het daar 'n lang tyd verloop, twintig jaar. Toe het al die Israeliete by die Here gekla oor hulle verdrukking,3 en Samuel het vir hulle gesê: “As julle met julle hele hart na die Here terugkom, moet julle alle vreemde gode tussen julle uit verwyder, ook die Astartes. Rig julle harte op die Here en dien Hom alleen. Dan sal Hy julle red uit die mag van die Filistyne.”
4
Die Israeliete het toe die Baäls en die Astartes verwyder en net die Here gedien.5
Toe sê Samuel: “Die hele Israel moet by Mispa bymekaarkom, dan sal ek vir julle tot die Here bid.”6
Hulle het by Mispa bymekaargekom, water geskep en dit voor die Here uitgegiet. Op daardie dag het hulle gevas en daar het hulle bely: “Ons het teen die Here gesondig.” Samuel het die Israeliete in Mispa onderrig oor wat reg en verkeerd is.7
Die Filistyne het verneem dat die Israeliete by Mispa bymekaargekom het, en die Filistynse regeerders het teen hulle opgetrek. Toe die Israeliete dit hoor, was hulle bang vir die Filistyne.8
Die Israeliete sê toe vir Samuel: “Moenie ophou om die Here ons God vir ons om hulp te smeek nie, sodat Hy ons uit die mag van die Filistyne kan red.”9
Samuel het 'n suiplam gevat en dit in sy geheel aan die Here as brandoffer geoffer. Hy het ook die Here om hulp gesmeek vir Israel, en die Here het sy gebed verhoor.10 Samuel was nog besig om te offer, toe kom die Filistyne nader om teen Israel te veg. Op daardie dag het die Here 'n groot donderweer oor die Filistyne laat losbars. Die Here het hulle verwar, en hulle is deur die Israeliete verslaan.
11 Die Israeliete het van Mispa af die Filistyne agtervolg en hulle verdryf tot onderkant Bet-Kar.
12 Samuel het toe 'n klip gevat en dit regop gesit tussen Mispa en Sen. Hy het die plek Eben-Haeser genoem, “want,” het hy gesê, “tot nou toe het die Here ons gehelp.”
13
Die Filistyne is verslaan en het nie weer in die gebied van Israel gekom nie. Die Here was teen die Filistyne so lank as Samuel geleef het.14 Die stede wat die Filistyne van Israel afgevat het, is deur Israel herower, van Ekron af tot by Gat. Israel het sy gebied uit die mag van die Filistyne bevry.
Verder was daar vrede tussen Israel en die Amoriete.15
Samuel was sy lewe lank 'n leier in Israel.16 Hy het van tyd tot tyd rondgegaan, by Bet-El, Gilgal en Mispa. By al hierdie plekke het hy Israel se hofsake verhoor.
17 Daarna het hy weer na Rama toe teruggegaan waar sy huis was, en ook dáár het hy Israel se hofsake verhoor. Daar het hy ook 'n altaar vir die Here gebou.
1
Toe Samuel oud geword het, het hy sy seuns as leiers oor Israel aangestel.2 Die oudste se naam was Joël en dié van die tweede Abia. Hulle was leiers in Berseba.
3 Maar Samuel se seuns was nie soos hy nie: hulle het hulle verryk ten koste van ander, het omkoopgeskenke aangeneem en die regspraak verdraai.
4
Al die leiers van Israel het bymekaargekom en na Samuel toe in Rama gegaan.5 Hulle het vir hom gesê: “Kyk, u het oud geword. U kinders is nie soos u nie. Stel nou liewer 'n koning oor ons aan om oor ons te regeer, soos dit by al die nasies is.”
6
Maar vir Samuel was dit verkeerd dat hulle gesê het: “Gee ons tog 'n koning om oor ons te regeer.” Samuel het tot die Here gebid,7 en die Here het vir hom gesê: “Gee toe aan die versoek van die volk in alles wat hulle van jou vra. Hulle het jóú nie verwerp nie; hulle het Mý verwerp as koning oor hulle.
8 Hulle het nou ook met jou gemaak wat hulle met My gedoen het sedert Ek hulle uit Egipte laat trek het tot nou toe: hulle het My verlaat en ander gode gedien.
9 Gee nou maar toe aan hulle versoek. Stel die saak net baie duidelik aan hulle: sê vir hulle wat die reg van die koning is wat oor hulle sal regeer.”
10
Samuel het al die woorde van die Here oorgedra aan die volk wat van hom 'n koning gevra het.11
Hy het gesê: “Dit sal die reg wees van die koning wat oor julle sal regeer: julle seuns sal hy vat en party by sy wa en perderuiters aanstel, party om voor sy wa uit te hardloop,12 party sal hy aanstel as bevelvoerders oor afdelings en onderafdelings van die leër, party om sy lande te ploeg en sy oes in te samel, en party om sy krygstuig en uitrusting vir sy strydwaens te maak;
13 julle dogters sal hy vat om vir hom salf te meng, om vir hom te kook en te bak;
14 julle beste lande, wingerde en olyfboorde sal hy vat en aan sy amptenare gee;
15 van julle saaigrond en wingerde se opbrengs sal hy 'n tiende vat en aan sy paleispersoneel en sy amptenare gee;
16 julle beste slawe, slavinne en jong manne, en julle donkies sal hy vat en vir sy werk gebruik;
17 van julle kleinvee sal hy 'n tiende vat, en julle self sal sy slawe wees.
18
“Daardie dag sal julle om hulp roep vanweë julle koning vir wie julle verkies het, maar dan sal die Here julle nie antwoord nie.”19
Maar die volk het geweier om na Samuel te luister. Hulle het vir hom gesê: “Nee, daar moet tog maar 'n koning oor ons wees.20 Ons wil ook soos al die nasies wees. Ons koning moet oor ons regeer; hy moet ons lei en ons oorloë voer.”
21
Samuel het na die woorde van die volk geluister en dit vir die Here vertel.22
Toe sê die Here vir Samuel: “Gee toe aan hulle versoek. Stel 'n koning oor hulle aan.” Samuel het vir die manne van Israel gesê: “Gaan julle nou almal huis toe.”1
Daar was 'n man uit Benjamin. Sy naam was Kis, en hy was 'n seun van Abiël seun van Seror, seun van Bekorat, seun van Afiag. Hy was 'n Benjaminiet en 'n ryk man.2 Hy het 'n seun gehad met die naam Saul en dié was sterk en mooi; onder die Israeliete was daar niemand mooier as hy nie. Hy was 'n kop langer as enige van sy volksgenote.
3
Toe daar op 'n keer donkies van Kis, Saul se pa, weggeraak het, het hy vir sy seun Saul gesê: “Vat een van die slawe saam, maak klaar en gaan soek die donkies.”4
Hulle het die Efraimsberge deurkruis; hulle het die Salisastreek ook deurkruis, maar niks gekry nie. Hulle het die Saälimgebied deurkruis, maar daar was niks. Hulle het toe die Jeministreek deurkruis en ook niks gekry nie.5 Toe hulle in die Sufgebied kom, het Saul vir die slaaf by hom gesê: “Kom ons gaan terug, anders vergeet my pa van die donkies en raak bekommerd oor ons.”
6
Die slaaf sê toe vir Saul: “Nee, wag! In hierdie stad is 'n man van God. Dié man geniet hoë aansien. Alles wat hy sê, gebeur net so. Kom ons gaan soontoe. Dalk kan hy vir ons sê waar om te soek.”7
Saul sê toe vir sy slaaf: “Nou goed, kom ons gaan, maar wat sal ons vir die man saamvat? Die brood in ons sakke is al op. Ons het ook nie 'n geskenk om vir die man van God te gee nie. Wat het ons?”8
Die slaaf het vir Saul geantwoord: “Wag! Ek het 'n drie gram silwer by my. Ek sal dit aan die man van God gee sodat hy vir ons kan sê waar om te soek.”9
Vroeër, wanneer iemand gegaan het om God te raadpleeg, is daar in Israel gesê: “Kom ons gaan na die siener toe.” Die profeet van vandag is vroeër siener genoem.10
Saul het vir sy slaaf gesê: “Dis 'n goeie plan. Kom ons gaan.” Hulle het na die stad toe gegaan waar die man van God was.11 Terwyl hulle die opdraand na die stad toe opgaan, het hulle meisies teëgekom wat gaan water skep het, en vir hulle gevra: “Is die siener hier?”
12
Hulle het geantwoord: “Hy is daar in die stad voor u. Maak gou! Hy het vandag na hierdie stad toe gekom, want die volk bring vandag 'n offer op die hoogte.13 Wanneer julle die stad binnegaan, sal julle hom kry net voor hy na die hoogte toe opgaan om te eet. Die mense eet nie voor hy gekom het nie, want hy moet die offer seën. Daarna eet die genooides. Gaan dadelik, want julle sal hom nou daar kry.”
14
Hulle is na die stad toe en toe hulle die stad ingaan, kom Samuel juis in hulle rigting om na die hoogte toe op te gaan.15
'n Dag voor die koms van Saul het die Here vertroulik aan Samuel geopenbaar:16 “Môre teen hierdie tyd sal Ek 'n man uit die gebied van Benjamin na jou toe stuur. Jy moet hom tot regeerder oor my volk Israel salf. Hy sal my volk red uit die mag van die Filistyne, want Ek het op my volk ag geslaan. Ja, hulle hulpgeroep het My bereik.”
17
Net toe Samuel vir Saul sien, het die Here vir hom gesê: “Dit is die man van wie Ek jou gesê het hy sal oor my volk regeer.”18
Saul het vir Samuel in die poort teëgekom en vir hom gesê: “Sê my asseblief waar is die huis van die siener.”19
Samuel sê toe vir Saul: “Ek is die siener. Gaan saam met my na die hoogte toe. Julle moet vandag saam met my gaan eet. Môreoggend sal ek jou laat gaan. Oor alles wat jou kwel, sal ek jou inlig.20 Jou donkies is vandag al drie dae weg. Jy moet jou egter nie oor hulle bekommer nie, want hulle is gekry. Maar aan wie behoort die kosbaarste goed in die hele Israel? Is dit nie aan jou en jou hele familie nie?”
21
En Saul antwoord: “Ek is maar net 'n Benjaminiet, uit die swakste stam van Israel. Boonop is my familie die kleinste in die stam Benjamin! Waarom praat u so met my?”22
Samuel het Saul en sy slaaf saamgevat en hulle na die eetplek toe gebring. Hy het hulle 'n ereplek onder die genooides gegee. Daar was omtrent dertig man.23
Samuel het vir die kok gesê: “Bring die deel wat ek aan jou gegee het en waarvan ek gesê het: Sit dit eenkant.”24
Die kok het die boud vleis gevat en voor Saul neergesit, en Samuel het vir hom gesê: “Dit is wat uitgehou is. Eet wat voor jou neergesit is, want vir hierdie geleentheid is dit vir jou gebêre toe ek die mense genooi het.” So het Saul dan daardie dag saam met Samuel geëet.25
Daarna het hulle van die hoogte af na die stad toe gegaan. En Samuel het met Saul op die huis se dak gepraat.26 Die volgende môre het hulle vroeg opgestaan. Toe die rooidag uitkom, het Samuel al na Saul op die dak geroep: “Staan op! Ek wil 'n ent met jou saam stap.”
Saul het toe opgestaan, en hy en Samuel het buitetoe gegaan.27
Hulle het gegaan tot by die stadsgrens en Samuel het vir Saul gesê: “Beveel die slaaf om vooruit te loop; maar wag jy eers sodat ek vir jou kan vertel wat God gesê het.”1
Nadat die slaaf vooruitgeloop het, het Samuel 'n kruik olie gevat en dit oor Saul se kop uitgegiet, hom gesoen en gesê: “Die Here het jou tot regeerder oor sy besitting gesalf.2 Wanneer jy vandag van my af weggaan, sal jy by Selsag, by die graf van Ragel op die grens van Benjamin, twee mans teëkom en hulle sal vir jou sê: ‘Die donkies wat jy gaan soek het, is gekry. Maar kyk, jou pa het die saak van die donkies al laat vaar. Hy is bekommerd oor julle en vra: Wat kan ek omtrent my seun doen?’
3
“En wanneer jy daarvandaan verder gaan, sal jy by Elon-Tabor kom. Daar sal jy drie mans teëkom wat na God in Bet-El opgaan. Die een sal drie bokkies dra, die ander een drie ringbrode en die derde 'n kruik wyn.4 Hulle sal vra hoe dit met jou gaan. Dan sal hulle jou twee brode gee, en jy moet dit van hulle aanneem.
5 Daarna sal jy uitkom by Gibea-van-God waar wagposte van die Filistyne is. Wanneer jy die stad binnekom, sal jy op 'n groep profete afkom. Hulle sal van die hoogte af gaan onder begeleiding van harpe, tamboeryne, fluite en liere, en hulle sal as profete optree.
6
“Dan sal die Gees van die Here kragtig in jou werk. Jy sal saam met hulle as profeet optree en 'n ander mens word.7 Wanneer hierdie tekens oor jou kom, moet jy doen wat jou hand vind om te doen, want God is by jou.
8 Daarna moet jy voor my na Gilgal toe gaan en ek sal later kom om brandoffers te offer en maaltydoffers te bring. Jy moet sewe dae wag tot ek by jou kom. Dan sal ek jou sê wat jy moet doen.”
9
Net toe hy omdraai om van Samuel af weg te gaan, het God Saul se gesindheid verander. Al hierdie tekens het op dié dag uitgekom.10 Hulle het daar in Gibea gekom, en toe hy weer sien, kom 'n groep profete hom tegemoet. Die Gees van God het kragtig in hom gewerk, en hy het saam met hulle as profeet opgetree.
11 Almal wat hom voorheen geken het en nou gesien het hoe hy saam met die profete as profeet optree, het vir mekaar gevra: “Wat het met Kis se seun gebeur? Is Saul ook onder die profete?”
12
En iemand uit die omgewing het bygevoeg: “En waarvandaan kom hulle nogal?” Daarom het dit 'n spreekwoord geword: Is Saul ook onder die profete?13
Toe hy klaar as profeet opgetree het, het hy na die hoogte toe gegaan.14 Saul se oom het vir hom en sy slaaf gevra: “Waarheen was julle?”
Saul het geantwoord: “Ons het die donkies gaan soek, maar ons het niks gesien nie en het toe na Samuel toe gegaan.”15
Saul se oom sê toe: “Vertel my tog wat Samuel vir julle gesê het.”16
“Hy het ons verseker dat die donkies gekry is,” het Saul vir sy oom gesê. Maar oor die saak van die koningskap wat Samuel genoem het, het Saul niks gesê nie.17
Daarna het Samuel die volk by Mispa na die Here toe geroep.18 Hy het vir die Israeliete gesê: “So het die Here die God van Israel gesê: Ek het Israel uit Egipte laat optrek en julle gered uit die mag van Egipte en al die koninkryke wat vir julle verdruk het.
19 Maar deurdat julle sê: ‘Nee, U móét 'n koning oor ons aanstel,’ verwerp julle vandag julle God wat vir julle uit alle gevare en verdrukking verlos het. Kom staan dan nou voor die Here volgens julle stamme en julle onderafdelings.”
20
Samuel het al die stamme van Israel laat nader kom, en die stam Benjamin is aangewys.21 Samuel het die stam Benjamin volgens sy families laat nader kom, en die familie van Matar is aangewys. Vervolgens is Saul seun van Kis aangewys, maar toe hulle hom soek, was hy weg.
22
Hulle het die Here gevra: “Moet hy nog kom?” Die Here het geantwoord: “Nee, hy is al hier. Hy kruip weg tussen die bondels goed.”23
Hulle het gehardloop en hom daarvandaan gebring en hom tussen die volk laat staan. Hy was 'n kop langer as enige van sy volksgenote.24
Samuel sê toe vir die hele volk: “Sien julle die een vir wie die Here uitgekies het? Daar is niemand soos hy onder die hele volk nie!” Toe juig almal en sê: “Lank lewe die koning!”25
Samuel het hierna die reg van die koning aan die volk bekend gemaak, dit in 'n boek opgeteken en voor die Here neergesit. Daarna het Samuel die hele volk weggestuur, elkeen na sy woonplek toe.26 Ook Saul het na sy huis toe gegaan in Gibea. Die dapperes wie se hart deur God geroer is, het saam met hom gegaan.
27 Maar die kwaadwilliges het gevra: “Hoe sal hý ons red?”
Hulle het hom met minagting behandel en geen geskenk vir hom gebring nie, maar daaraan het Saul hom nie gesteur nie.1
Nagas die Ammoniet het opgetrek en Jabes in Gilead beleër. Al die inwoners van Jabes het vir Nagas gesê: “Sluit 'n verdrag met ons, dan sal ons u onderdane wees.”2
En Nagas die Ammoniet het vir hulle gesê: “Op hierdie voorwaarde sal ek dit doen: ek steek elkeen van julle se regteroog uit tot skande van die hele Israel.”3
Toe sê die leiers van Jabes vir hom: “Gee ons sewe dae kans sodat ons boodskappers deur die hele gebied van Israel kan stuur. Indien niemand tot ons redding kom nie, sal ons ons aan u oorgee.”4
Die boodskappers het by Saul se stad Gibea gekom en ten aanhore van die volk die hele saak uiteengesit. En die hele volk het hard gehuil.5
Toe kom Saul net agter die osse van die land af en hy vra: “Wat makeer die volk dat hulle so huil?” Hulle het hom vertel wat die manne van Jabes gesê het.6 Die Gees van God het kragtig in Saul gewerk toe hy dit hoor, en hy het woedend geword.
7 Toe vat hy twee osse en kap hulle in stukke en stuur dit deur die hele gebied van Israel met boodskappers wat sê: “Hy wat nie agter Saul en Samuel optrek nie — so sal met sy beeste gemaak word.”
'n Geweldige skrik het die volk oorval en hulle het soos een man opgetrek.8 Saul het hulle in Besek getel. Daar was drie honderd afdelings Israeliete, en die manne van Juda was dertig afdelings.
9
Hulle het toe vir die boodskappers wat gekom het, gesê: “So moet julle vir die manne van Jabes in Gilead sê: Môre as die son warm word, sal daar vir julle uitkoms wees.” Die boodskappers het gegaan en dit aan die manne van Jabes vertel, en hulle was bly.10 Die manne van Jabes het egter vir Nagas gesê: “Môreoggend gee ons ons aan julle oor. Dan kan julle met ons maak net wat julle wil.”
11
Na sononder het Saul die manskappe in drie afdelings opgestel. Lank voor dagbreek het hulle die kamp van die Ammoniete binnegeval en tot op die warmte van die dag het hulle die Ammoniete om die lewe gebring. Dié wat oorgebly het, is so uitmekaargejaag dat daar nie twee van hulle bymekaar gebly het nie.12
Die manskappe het toe vir Samuel gevra: “Wie het gesê: ‘Moet Saul dan oor ons koning wees?’ Lewer daardie mense uit en ons sal hulle doodmaak!”13
Maar Saul het gesê: “Op 'n dag soos dié mag niemand doodgemaak word nie, want vandag het die Here uitkoms gegee in Israel.”14
Toe sê Samuel vir die manskappe: “Kom ons gaan na Gilgal toe en bevestig daar opnuut die koningskap.”15
Al die manskappe is toe na Gilgal toe, en daar in Gilgal het hulle voor die Here aangekondig dat Saul koning is. Hulle het daar maaltydoffers voor die Here gebring, en Saul en al die manskappe van Israel was baie bly.1
Samuel het vir die hele Israel gesê: “Kyk, ek het aan julle versoek toegegee; soos julle vir my gevra het, het ek 'n koning oor julle aangestel.2 Hier is die koning dan nou. Hy sal julle lei. Maar ek het oud en grys geword en my seuns is hier saam met julle. Ek het julle van my jeug af tot nou toe gelei.
3 Lê dan nou getuienis teen my af in die teenwoordigheid van die Here en sy gesalfde. Van wie het ek 'n os gevat? Van wie het ek 'n donkie gevat? Wie het ek benadeel of wie het ek verdruk? Uit wie se hand het ek omkoopgeld aangeneem om 'n onreg oor te sien? Ek sal dit terugbetaal.”
4
Toe antwoord hulle: “U het ons nie benadeel en ons ook nie verdruk nie. U het van niemand iets gevat nie.”5
Verder sê Samuel vir hulle: “Die Here is hier by julle getuie, en sy gesalfde is vandag ook getuie dat julle niks teen my gevind het nie.” En hulle sê: “Hy is getuie.”6
Samuel sê toe vir die volk: “Die Here deur wie Moses en Aäron gemaak is wat hulle was, en deur wie julle voorgeslag uit Egipte gebring is, is getuie.7 Kom staan nou hier dat ek julle voor die Here kan onderrig op grond van al die reddingsdade van die Here wat Hy vir julle en julle voorgeslag gedoen het.
8
“Nadat Jakob in Egipte gekom het, het julle voorvaders na die Here geroep om hulp. Die Here het toe vir Moses en Aäron gestuur, en hulle het julle voorvaders uit Egipte uit gelei en in hierdie land laat woon.9 Maar julle voorvaders het die Here hulle God vergeet. Hy het hulle oorgegee in die mag van Sisera, die leëraanvoerder van Hasor, en in die mag van die Filistyne en van die koning van Moab, wat almal teen julle voorvaders oorlog gemaak het.
10 Hulle het na die Here geroep om hulp en het bely: ‘Ons het gesondig, want ons het die Here verlaat en ons het die Baäls en die Astartes gedien. Red ons tog nou uit die mag van ons vyande, en ons sal U dien.’
11 Toe het die Here vir Jerubbaäl, Barak, Jefta en Samuel gestuur en julle bevry uit die mag van julle vyande rondom julle sodat julle rustig kon woon.
12 Toe julle sien dat koning Nagas van die Ammoniete teen julle optrek, het julle vir my gesê: ‘Nee, daar moet 'n koning oor ons heers,’ hoewel die Here julle God tog julle koning is.
13
“Hier is dan nou die koning vir wie julle verkies het, op wie julle aangedring het. Kyk, die Here het 'n koning oor julle aangestel.14 As julle eerbied aan die Here betoon, Hom dien en na sy stem luister en julle ook nie verset teen die bevel van die Here nie, julle sowel as die koning wat oor julle regeer, sal die Here julle God by julle wees.
15 As julle nie na die stem van die Here luister nie en ongehoorsaam is aan die bevel van die Here, sal die Here teen julle wees, soos teen julle voorvaders.
16
“Staan nog net 'n rukkie en let op hierdie groot ding wat die Here voor julle oë gaan doen.17 Hoewel dit nou nie reëntyd is nie, gaan ek die Here aanroep sodat Hy donderslae en 'n stortreën gee. Kyk daarna en besef dan dat julle in die oë van die Here 'n baie verkeerde ding gedoen het deur vir julle 'n koning te vra.”
18
Samuel het die Here aangeroep, en die Here het op dieselfde dag donderslae en 'n stortreën gegee, en die hele volk het groot ontsag gekry vir die Here, en ook vir Samuel.19
Die hele volk het vir Samuel gesê: “Bid tot die Here u God vir ons sodat ons nie sterwe nie, want by al ons sondes het ons nog boonop 'n verkeerde ding gedoen deur vir ons 'n koning te vra.”20
Samuel sê toe vir die volk: “Moenie bang wees nie, julle het nou wel hierdie verkeerde dinge gedoen, maar moet nou net nie van die Here af wegdraai nie. Dien die Here met julle hele hart.21 Moenie agter afgode aan wegdraai nie. Hulle kan nie help of red nie, want hulle is niks.
22 Ter wille van sy groot Naam sal die Here nie sy volk prysgee nie. Die Here het besluit om julle sy volk te maak.
23 Ook ek sal nie teen die Here sondig deur op te hou om vir julle te bid nie. Ek sal julle aanhou onderrig in die goeie en reguit pad.
24 Wees net gehoorsaam aan die Here en dien Hom opreg en met julle hele hart. Let op die groot dinge wat Hy vir julle gedoen het.
25 Maar as julle opsetlik verkeerd doen, sal julle sowel as julle koning uitgewis word.”
1
Saul het al 'n jaar of twee as koning oor Israel geregeer,2 toe kies hy vir hom drie afdelings uit Israel uit. Twee afdelings was by hom in Mikmas en in die bergwêreld van Bet-El. Een afdeling was by Jonatan in Gibea in Benjamin. Saul het die res van die manskappe huis toe gestuur.
3
Toe Jonatan die Filistynse wagpos wat in Gibea was, oorrompel het, het die Filistyne daarvan gehoor. Saul het oor die hele land die ramshoring laat blaas om die Hebreërs op te roep.4
Die hele Israel het gehoor dat Saul die wagpos van die Filistyne oorrompel het en dat Israel in onguns gebring was by die Filistyne. Die manskappe is bymekaargeroep by Saul in Gilgal.5
Die Filistyne het bymekaargekom om teen Israel te veg: dertig afdelings strydwaens en ses afdelings perderuiters en manskappe so baie soos die sand van die see. Hulle het opgetrek en kamp opgeslaan by Mikmas oos van Bet-Awen.6 Israel het gemerk dat hy in die moeilikheid is, want die volk was in 'n hoek vasgekeer. Die volk het in spelonke, grotte, hol kranse, gate en droë putte gaan wegkruip.
7 En sommige Hebreërs het deur die Jordaan gegaan na Gad en na Gilead toe. Saul was egter nog in Gilgal en al die manskappe by hom was doodbang.
8 Hy het sewe dae gewag, die tyd soos afgespreek met Samuel, maar Samuel het nie by Gilgal opgedaag nie.
Toe die manskappe wat by Saul was, begin dros het,9 het hy gesê: “Bring die brandoffer en die maaltydoffers na my toe.” Hy het toe self die brandoffer geoffer.
10
En toe gebeur dit! Net toe hy die brandoffer klaar verbrand het, kom Samuel daar aan. Saul het na hom toe uitgegaan om hom te groet.11
Samuel vra hom toe: “Wat het jy aangevang?” En Saul het gesê: “Ek het gesien die manskappe loop van my af weg, en u het nie opgedaag op die tyd wat ons afgespreek het nie. Die Filistyne het bymekaargekom by Mikmas,12 en toe dink ek: die Filistyne sal nou-nou teen my afkom na Gilgal toe en ek het nog nie aan die Here 'n offer gebring nie. Toe het ek dit gewaag om self die brandoffer te bring.”
13
Maar Samuel sê vir Saul: “Jy het dwaas gehandel. As jy maar die bevel van die Here jou God wat Hy jou gegee het, nagekom het! Waarlik, dan sou die Here nou jou koningskap oor Israel vir altyd bevestig het.14 Maar nou sal jou koningskap nie bestendig word nie. Die Here sal vir Hom 'n man na sy hart soek. Die Here sal hóm aanstel as regeerder oor sy volk, want jy het nie gedoen wat die Here jou beveel het nie.”
15
Samuel het daarna opgestaan en van Gilgal af na Gibea in Benjamin toe vertrek. Saul het toe die manskappe wat nog by hom was, getel: omtrent ses honderd man.16
En terwyl Saul en sy seun Jonatan en die manskappe by hulle in Gibea in Benjamin was, was die Filistynse kamp nog steeds by Mikmas.17 Daar het toe 'n roofbende in drie afdelings uit die kamp van die Filistyne uitgegaan. Die een afdeling het in die rigting van Ofra na die Sualstreek toe gedraai.
18 Die tweede het in die rigting van Bet-Goron gedraai, en nog 'n afdeling het gedraai in die rigting van die gebied wat afkyk op die Seboïmdal na die woestyn se kant toe.
19
Daar was geen smid in die hele Israel nie, want die Filistyne het gesê die Hebreërs sal swaarde of spiese maak.20 Daarom moes elke Israeliet na die Filistyne toe gaan om sy ploegskaar of skoffelpik of byl of ander gereedskap te laat slyp.
21 Dit was die geval met die skerpmaak van ploegskare, skoffelpikke, drietandvurke en byle en ook met die regmaak van osprikkels.
22 So het dit dan gebeur dat in die oorlogstyd nie een van die manskappe by Saul en Jonatan 'n swaard of 'n spies gehad het nie; net Saul en sy seun Jonatan het wapens gehad.
23
In daardie tyd het 'n patrollie van die Filistyne die pas by Mikmas beset.1
Op 'n dag sê Jonatan seun van Saul toe vir sy wapendraer: “Kom ons gaan oor na die patrollie van die Filistyne toe daar oorkant.” Hy het dit egter nie vir sy pa vertel nie.2
Saul was toe onder 'n granaatboom by die dorsvloer net buite Gibea met omtrent ses honderd man by hom.3 Die priester Agija seun van Agitub, broer van Ikabod seun van Pinehas, seun van Eli wat priester van die Here in Silo was, het die skouerkleed gedra.
Maar die manskappe het nie geweet dat Jonatan weggegaan het nie.4
Weerskante van die pas waar Jonatan probeer deurgaan het na die patrollie van die Filistyne toe, was daar 'n spits rots. Die naam van die een rots was Boses en dié van die ander Senne.5 Die een spits het soos 'n pilaar aan die noordekant teenoor Mikmas gestaan, en die ander aan die suidekant teenoor Gibea.
6
Jonatan het vir sy wapendraer gesê: “Kom ons gaan oor na die patrollie van hierdie heidene toe. Miskien sal die Here ons help. Hy kan red, deur baie of deur min.”7
En sy wapendraer sê vir hom: “Net soos u wil. Ek is tot u diens.”8
Jonatan sê toe vir hom: “Nou toe, kom ons gaan in hulle rigting sodat hulle ons kan sien.9 As hulle vir ons sê: ‘Staan stil totdat ons by julle kom,’ bly ons hier onder staan. Ons gaan dan nie op na hulle toe nie.
10 Maar as hulle vir ons sê: ‘Kom op na ons toe,’ gaan ons na hulle toe, want dan sal dit vir ons die teken wees dat die Here hulle in ons mag gee.”
11
Toe die Filistynse patrollie die twee sien, het die Filistyne gesê: “Kyk daar! Party Hebreërs het uitgekom uit die gate waarin hulle weggekruip het.”12 En die manne van die patrollie het vir Jonatan en sy wapendraer uitgedaag: “Kom op na ons toe dat ons julle 'n les kan leer.”
Jonatan het vir sy wapendraer gesê: “Klim agter my aan! Die Here het hulle in die mag van Israel oorgegee.”13
Jonatan het hande-viervoet opgeklouter met sy wapendraer op sy hakke. Die vyand het voor Jonatan geval, en agter hom het sy wapendraer hulle doodgemaak.14 In hierdie eerste slagting deur Jonatan en sy wapendraer het omtrent twintig man geval, en dit op 'n klein stukkie grond.
15 Toe het die hele leër van die vyand paniekbevange geword, in die laer en in die veld; die patrollie en die roofbende het ook paniekbevange geword: daar was 'n aardbewing en God het hulle paniekbevange gemaak.
16
Toe die wagte van Saul by Gibea in Benjamin sien dat die menigte in beroering is en in die rondte maal,17 het Saul vir die manskappe by hom gesê: “Stel dadelik vas wie van ons is weg.”
Hulle het vasgestel Jonatan en sy wapendraer is nie daar nie.18 Saul sê toe vir Agija: “Bring die ark van God nader.” Die ark van God was in dié tyd by die Israeliete.
19 Terwyl Saul nog met die priester aan die praat was, het die rumoer in die laer van die Filistyne steeds groter geword. Toe sê Saul vir die priester: “Laat staan maar!”
20
Saul en die manskappe by hom het bymekaargekom en toe hulle by die geveg kom, was die Filistyne besig om onder mekaar te veg. Daar was baie groot verwarring.21 Boonop het die Hebreërs wat voorheen saam met die Filistyne se leër opgetrek het, oorgeloop na die Israeliete toe wat by Saul en Jonatan was.
22 Al die Israeliete wat in die Efraimsberge weggekruip het, het gehoor dat die Filistyne vlug en het hulle agterna gesit.
23 Die Here het Israel daardie dag gered. Hulle het veg-veg by Bet-Awen verbygegaan.
24 Elke Israeliet het daardie dag kom veg.
Saul het die manskappe 'n eed opgelê en gesê: “'n Ramp tref dié een wat voor vanaand iets eet. Ek wil my op my vyande wreek.” Nie een van die manskappe het aan iets geproe nie.25 Die gebied was bosagtig en daar was veldheuning.
26 Toe die manskappe in die bos kom, het dit sommerso gedrup van die heuning en tog het niemand sy mond aan iets gesit nie, want die manskappe was bang vir die eed wat hulle opgelê is.
27 Jonatan het egter nie gehoor toe sy pa die leër die eed opgelê het nie. Hy het die punt van sy kierie in 'n heuningkoek gesteek en daarvan geëet. Dit het hom nuwe krag gegee.
28
Een van die manskappe sê toe vir hom: “Jou pa het die manskappe 'n streng eed opgelê en gesê: ‘'n Ramp tref dié een wat vandag iets eet.’ Daarom is die manskappe nou uitgeput.”29
Maar Jonatan sê: “My pa het 'n ramp oor die land gebring. Kyk net, ek het nuwe krag gekry omdat ek hierdie bietjie heuning geproe het.30 As die manskappe vandag maar net ongehinderd kon geëet het van die buit wat van die vyand afgevat is, sou die slagting onder die Filistyne nou sommer baie groot gewees het.”
31
Daardie dag het hulle die Filistyne verslaan van Mikmas af tot by Ajalon, maar toe was die manskappe heeltemal gedaan.32 Hulle het op die buit toegesak en kleinvee, beeste en kalwers gevat en op die grond geslag en sommerso by die bloed geëet.
33
Daar is toe aan Saul gesê: “Die manskappe sondig teen die Here deur by die bloed te eet.” Toe sê hy: “Julle doen verkeerd. Rol dadelik 'n groot klip na my toe!”34
Verder het Saul gesê: “Loop tussen die manskappe deur en sê vir hulle: Elkeen moet sy bees of stuk kleinvee na my toe bring en op die klip slag en dan gaan eet, sodat hulle nie teen die Here sondig deur by die bloed te eet nie.” Daardie nag het al die manskappe elkeen self sy bees gebring en daar by Saul geslag.35 Saul het 'n altaar vir die Here gebou: hy het die klip gebruik om 'n altaar vir die Here te bou.
36
Daarna het Saul gesê: “Laat ons die Filistyne vannag agtervolg. Laat ons hulle plunder tot môre ligdag. Ons moenie een van hulle laat oorbly nie.” Die manskappe sê toe: “Maak soos u goedvind.” Maar die priester antwoord: “Laat ons God hier raadpleeg!”37
Toe het Saul vir God gevra: “Moet ek die Filistyne agtervolg? Sal U hulle in Israel se mag oorgee?” Maar God het hom nie toe geantwoord nie.38
Saul sê toe vir al die offisiere: “Kom hiernatoe dat julle kan uitvind en self sien wie vandag gesondig het.39 Al is dit ook my seun Jonatan moet hy sekerlik sterwe, so seker as wat die Here leef, Hy wat vir Israel red.”
Maar geen enkele manskap het vir Saul geantwoord nie.40 Toe sê hy vir die hele Israel: “Julle moet eenkant toe staan. Ek en my seun Jonatan sal anderkant toe staan.”
En die manskappe sê vir Saul: “Maak soos u goedvind.”41
Saul het vir die Here gevra: “God van Israel, gee tog 'n beslissing.” Jonatan en Saul is aangewys, en die manskappe is van blaam onthef.42
Toe sê Saul: “Julle moet loot tussen my en my seun Jonatan.” Jonatan is aangewys,43 en Saul het vir hom gesê: “Vertel my tog wat jy gedoen het.”
Jonatan het vir hom vertel. Hy het gesê: “Ek het net met die punt van my kierie 'n bietjie heuning geproe. Maar ek is bereid om te sterf.”44
Saul sê toe: “Dit was 'n eed, Jonatan, jy moet beslis sterf!”45
Maar die manskappe sê vir Saul: “Moet Jonatan wat hierdie groot uitkoms vir Israel bewerk het, sterf? Beslis nie! So seker as die Here leef, daar sal vandag geen haar van Jonatan se kop op die grond val nie, want met God se hulp het hy die Filistyne verslaan.” So het die manskappe vir Jonatan los gekry, en hy het nie gesterf nie.46
Saul het die agtervolging van die Filistyne gestaak, en die Filistyne het na hulle gebied toe teruggegaan.47
Nadat Saul seker was van die koningskap oor Israel, het hy oorlog gemaak teen al sy vyande in die omgewing: teen Moab en die Ammoniete; teen Edom en die konings van Soba; teen die Filistyne en teen almal wat teen hom gedraai het en gerebelleer het.48 Saul het dapper opgetree en die Amalekiete verslaan. Sodoende het hy Israel gered uit die mag van dié wat hom geplunder het.
49
Die seuns van Saul was Jonatan, Jiswi en Malkisua; die name van sy twee dogters was Merab, die oudste, en Mikal, die jongste.50 Die naam van Saul se vrou was Aginoam dogter van Agimaäs, en die hoof van Saul se leër was Abner seun van Ner, 'n oom van Saul.
51 Kis, Saul se pa, en Ner, Abner se pa, was seuns van Abiël.
52 Gedurende die hele bewind van Saul was daar gedurig oorlog teen die Filistyne, en Saul het elke sterk of dapper man van wie hy gehoor het, by hom laat aansluit.
1
Samuel het vir Saul gesê: “Dit is vir my wat die Here gestuur het om jou tot koning oor sy volk Israel te salf. Luister nou na die woorde van die Here.2 So het die Here die Almagtige gesê: Ek het nie vergeet wat Amalek Israel aangedoen het nie, hoe hy Israel teengestaan het toe hulle uit Egipte getrek het.
3 Gaan verslaan nou vir Amalek. Jy moet alles wat hy het, om die lewe bring. Jy mag jou oor hom nie ontferm nie. Jy moet man en vrou doodmaak, kind en suigling, bees en skaap, kameel en donkie.”
4
Saul het die manskappe opgeroep. Hy het hulle by Telaim getel: twee honderd afdelings voetsoldate en tien afdelings uit Juda.5 Saul het by die woonplek van die Amalekiete aangekom en sy manskappe laat stelling inneem by 'n spruit.
6
Toe het Saul die Keniete laat weet: “Gee gou pad tussen die Amalekiete uit sodat ek julle nie saam met hulle uit die weg ruim nie, want julle het die Israeliete goed behandel toe hulle uit Egipte getrek het.” Die Keniete het toe tussen die Amalekiete uit padgegee.7 Saul het daarna die Amalekiete verslaan van Gawila af tot waar 'n mens kom by Sur teenoor Egipte.
8 Hy het koning Agag van Amalek lewend gevang, maar die hele volk om die lewe gebring.
9 Saul en die manskappe het Agag gespaar en ook die mooiste kleinvee en beeste, die vetstes, en die lammers en alles wat mooi was. Saul-hulle wou dit alles nie om die lewe bring nie. Al die vee wat swak en waardeloos was, het hulle wel van kant gemaak.
10
Toe het die woord van die Here tot Samuel gekom:11 “Ek is bedroef daaroor dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My af weggedraai en nie my opdragte uitgevoer nie.”
Samuel was ontsteld en hy het die Here die hele nag om uitkoms gesmeek.12
Die oggend het Samuel hom vroeg klaargemaak om Saul te ontmoet. Iemand het vir Samuel vertel: “Saul het by Karmel gekom en nogal vir homself 'n gedenkteken opgerig. Daarna het hy omgedraai en is hy verby na Gilgal toe.”13
Samuel het toe by Saul gekom, en Saul het vir hom gesê: “Mag die Here u seën! Ek het die opdrag van die Here uitgevoer.”14
Samuel vra toe: “Wat vir 'n geblêr van kleinvee is daar dan in my ore? En wat van die gebulk van beeste wat ek hoor?”15
“Hulle het dit van die Amalekiete af gebring,” antwoord Saul. “Dit is die goed wat deur die manskappe gespaar is, die mooiste kleinvee en grootvee om aan die Here u God te offer. Die res het ons van kant gemaak.”16
En Samuel sê vir Saul: “Bly stil! Laat ek jou vertel wat die Here vannag vir my gesê het.” Saul sê toe vir hom: “Praat maar.”17
Toe sê Samuel: “Al is jy klein in jou eie oë, is jy tog die hoof van die stamme van Israel. Die Here het jou gesalf tot koning oor Israel.18 Die Here het jou met 'n doel uitgestuur en Hy het jou beveel: ‘Trek op, bring die sondaars, die Amalekiete, om die lewe. Jy moet teen hulle veg totdat jy hulle uitgeroei het.’
19 Waarom het jy nie na die bevel van die Here geluister nie? En waarom het jy jou aan die buit vergryp en hierdie ding gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here?”
20
Saul antwoord toe vir Samuel: “Maar ek hét na die bevel van die Here geluister! Ek het gegaan om te doen waarvoor die Here my gestuur het, ek het vir koning Agag van Amalek hierheen gebring, maar die Amalekiete het ek om die lewe gebring.21 Die manskappe het egter uit die buit kleinvee en beeste gevat, die beste van dié wat van kant gemaak moes word, om aan die Here u God in Gilgal te offer.”
22
Maar Samuel antwoord: “Is brandoffers en ander diereoffers23
Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery;
eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery.
Omdat jy die woord van die Here verwerp het,
het Hy jou as koning verwerp.”
24
Saul sê toe vir Samuel: “Ek het gesondig, want ek het die bevel van die Here en u opdrag oortree omdat ek vir die manskappe bang was en na hulle versoek geluister het.25
“Vergewe tog nou my sonde en kom saam met my sodat ek tot die Here kan bid.”26
Maar Samuel sê vir Saul: “Ek sal nie saam met jou gaan nie, want jy het die woord van die Here verwerp en die Here het jou verwerp as koning oor Israel.”27
Samuel het weggedraai om te loop, maar Saul het die punt van sy mantel gegryp, en dit het geskeur.28
Toe sê Samuel vir hom: “Die Here het die koningskap van Israel nou van jou afgeskeur en dit gegee aan jou naaste wat beter is as jy.29 Die Ewige van Israel lieg nie en Hy verander nie van gedagte nie, want Hy is nie 'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie.”
30
“Ek het gesondig,” sê Saul toe. “Eer my tog net voor die leiers van die volk en voor Israel deur saam met my te kom sodat ek die Here u God kan aanbid.”31
Samuel het met Saul saamgegaan, en Saul het die Here aanbid.32
Toe beveel Samuel: “Bring vir koning Agag van Amalek na my toe.” Agag het opgeruimd na hom toe geloop en gesê: “Nou is ek nie meer bang dat hulle my sal doodmaak nie.”33
Samuel het vir hom gesê: “Soos jou swaard vrouens kinderloos gemaak het, so sal jou ma onder die vrouens kinderloos wees.” En Samuel het vir Agag in stukke gekap voor die Here in Gilgal.34 Samuel het na Rama toe gegaan, terwyl Saul na sy huis toe in Gibea gegaan het.
35 Tot die dag van sy dood het Samuel nie weer vir Saul gesien nie. Samuel het oor Saul getreur, en die Here was bedroef daaroor dat Hy vir Saul koning oor Israel gemaak het.
1
Die Here het vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog oor Saul treur nadat Ek hom as koning oor Israel verwerp het? Maak 'n horing vol olie en gaan na Betlehem toe! Ek stuur jou na Isai toe, want onder sy seuns sien Ek vir My 'n koning.”2
Samuel vra toe: “Hoe kan ek gaan? As Saul dit hoor, sal hy my doodmaak.” En die Here sê vir hom: “Neem 'n vers saam en sê: ‘Ek het gekom om vir die Here 'n offer te bring.’3 Nooi dan vir Isai na die offer toe. Ek sal jou meedeel wat jy moet doen. Salf vir My dié een wat Ek jou sal beveel.”
4
Samuel het gedoen wat die Here gesê het. By sy aankoms in Betlehem het die leiers van die stad hom ontsteld tegemoet gekom en gesê: “Kom u in vrede?”5
En hy het gesê: “Ja. Ek het gekom om vir die Here 'n offer te bring. Reinig julle en kom saam met my na die offer toe.” Hyself het vir Isai en sy seuns gereinig en hulle na die offer toe genooi.6 Toe hulle inkom, het Samuel vir Eliab gesien en gedink: die gesalfde van die Here staan hier voor die Here.
7
Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”8
Toe roep Isai vir Abinadab en laat hom voor Samuel verbygaan en hy dink: die Here het ook hierdie een nie gekies nie.9 Daarna het Isai vir Samma laat verbygaan, maar Samuel het gedink: die Here het ook hierdie een nie gekies nie.
10 Nadat Isai sewe van sy seuns voor Samuel laat verbygaan het, sê Samuel vir Isai: “Die Here het nie een van hulle gekies nie.”
11
Daarop het Samuel vir Isai gevra: “Is dit al jou seuns dié?” En hy het geantwoord: “Die jongste is nog oor, maar hy pas nou skape op.” Toe sê Samuel vir Isai: “Laat haal hom, want ons eet nie voordat hy hier is nie.”12 Isai het hom laat haal. Hy het 'n rooi gelaatskleur gehad, mooi oë en 'n goeie voorkoms.
Toe sê die Here: “Staan op, salf hom, want dis hý.”13
Samuel het die horing met olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk. Daarna het Samuel klaargemaak en na Rama toe teruggegaan.14
Maar die Gees van die Here het van Saul gewyk, en 'n bose gees wat deur die Here gestuur is, het hom voortdurend ontstel.15 Die amptenare van Saul het vir hom gesê: “U word ontstel deur 'n boosaardige gees wat deur God gestuur is.
16 Die koning moet maar net praat, dan soek ons iemand wat die lier kan speel. As die boosaardige gees u pla, kan die man speel, en u sal beter voel.”
17
Saul sê toe vir sy amptenare: “Kyk maar vir my uit na 'n man wat goed kan speel en bring hom na my toe.”18
Een van die amptenare antwoord hom: “Ek het 'n seun van Isai die Betlehemmer hoor speel. Hy is 'n dapper man en 'n goeie vegter. Hy kan sy woord goed doen en het 'n goeie voorkoms. Die Here is by hom.”19
Saul het boodskappers na Isai toe gestuur met die versoek: “Stuur jou seun Dawid wat by die kleinvee is, na my toe.”20
Isai het toe brood, 'n sak wyn en 'n klein bokkie gevat en dit op 'n donkie met sy seun Dawid na Saul toe gestuur.21 So het Dawid dan by Saul gekom en vir hom gewerk. Saul het baie van Dawid gehou, sodat hy Saul se wapendraer geword het.
22 Saul het ook na Isai toe gestuur en laat vra: “Laat Dawid tog vir my werk, ek hou van hom.”
23
Telkens wanneer die boosaardige gees in Saul was, het Dawid die lier gevat en daarop gespeel. Dan het Saul bedaar, en die boosaardige gees het van hom af padgegee.1
Die Filistyne het hulle krygsmag opgeroep. Hulle het bymekaargekom in Soko wat aan Juda behoort, en het kamp opgeslaan in Efes-Dammim tussen Soko en Aseka.2 Saul en die manskappe van Israel het bymekaargekom en kamp opgeslaan in die laagte by die groot boom en teenoor die Filistyne stelling ingeneem om te veg.
3 Die Filistyne het teen die een rant gestaan, en die Israeliete teen die ander, met 'n smal vallei tussen hulle.
4 Toe kom daar 'n baasvegter uit die laer van die Filistyne uit. Sy naam was Goliat en hy was afkomstig uit Gat. Hy was drie meter lank.
5 Daar was 'n bronshelm op sy kop, en hy het 'n harnas met skubbe aangehad. Die gewig van die harnas was sewe en vyftig kilogram.
6 Daar was bronsskerms voor sy bene en tussen sy wapens was daar 'n bronsswaard.
7 Die steel van sy spies was so dik soos die dwarsbalk van 'n weefstoel, en die ysterlem daarvan was sewe kilogram. Sy skilddraer het voor hom uit geloop.
8
Goliat het gaan staan en na die linies van Israel geroep. Hy het vir hulle gesê: “Waarom het julle uitgekom om gevegslinies op te stel? Is ek nie 'n Filistyn en julle almal Saul se slawe nie? Kies vir julle iemand om na my toe uit te kom.9 As hy teen my kan veg en my verslaan, sal ons julle slawe wees. As ek hom baasraak en verslaan, sal julle ons slawe wees en vir ons werk.”
10
Verder het die Filistyn nog gesê: “Ek staan die linies van Israel al heeldag en verkleineer! Gee my tog iemand dat ons teen mekaar kan veg.”11
Toe Saul en die hele Israel hoor wat die Filistyn sê, het hulle geskrik en baie bang geword.12
Dawid was die seun van 'n Efratiet, iemand uit Betlehem in Juda met die naam Isai. Hy het ag seuns gehad. In die tyd van Saul was hierdie man al oud en afgeleef.13 Die drie oudste seuns van Isai het Saul na die oorlog toe gevolg. Die name van die drie seuns wat gaan veg het, was Eliab die oudste, Abinadab die tweede, en Samma die derde.
14 Dawid was die jongste. Die drie oudstes het pal met Saul saamgegaan,
15 maar Dawid het om die beurt na Saul toe gegaan en dan weer sy pa se kleinvee in Betlehem gaan oppas.
16
Die Filistyn het veertig dae lank vroeg in die môre en teen die aand nader gekom en regoor die Israeliete gaan staan.17
Isai het vir sy seun Dawid gesê: “Vat tog vir jou broers sestien kilogram gebraaide koring en tien brode en bring dit gou vir hulle in die kamp.18 Die tien kase moet jy na die aanvoerder van die afdeling toe vat. Dan moet jy sommer kyk of dit nog goed gaan met jou broers, en 'n bewys daarvan saambring.
19 Saul en jou broers en die hele Israel is in die laagte by die groot boom aan die veg teen die Filistyne.”
20
Dawid het die môre vroeg opgestaan, die kleinvee aan die wagter afgegee, die goed opgetel en gegaan soos Isai hom beveel het. Net toe hy by die kamp aankom, het die leër wat na die gevegslinie toe uitgaan, die oorlogskreet aangehef.21 Israel en die Filistyne het naamlik in linies teenoor mekaar stelling ingeneem.
22 Dawid het die pak wat hy gedra het, onder die sorg gelaat van die man wat die goed oppas, en na die linies toe gehardloop. Toe hy daar aankom, vra hy sy broers hoe dit gaan,
23 en terwyl hy nog met hulle praat, kom die baasvegter Goliat die Filistyn uit Gat juis uit die linies van die Filistyne vorentoe en hy praat weer so. Dawid het dit gehoor.
24 Toe die Israeliete die man sien, het hulle almal vir hom gevlug en hulle was baie bang.
25
'n Israeliet sê toe: “Julle sien hierdie man wat vorentoe kom? Hy kom net om Israel te verkleineer. Die man wat hom verslaan — die koning sal daardie man baie ryk maak en sy dogter aan hom gee, en die man se familie sal in Israel van alle verpligtinge vrygestel wees.”26
Dawid het vir die manskappe wat by hom staan, gevra: “Wat sal gebeur met die man wat die skande van Israel wegneem en die Filistyn daar anderkant verslaan? Wie is hierdie heiden, hierdie Filistyn, nogal dat hy die linies van die lewende God verkleineer?”27
Die manskappe het dieselfde vir hom gesê: “So sal gedoen word aan die man deur wie die Filistyn verslaan word.”28
Dawid se oudste broer Eliab het gehoor wat hy met die manskappe praat en Eliab het hom vir Dawid vererg en gesê: “Waarom het jy hierheen gekom en aan wie het jy daardie klompie kleinvee in die droëveld afgegee? Ek ken jou vermetelheid en kwaadwilligheid. Het jy net hierheen gekom om na die geveg te kyk?”29
Toe sê Dawid: “Wat het ek nou gedoen? Is dit dan nie 'n belangrike saak nie?”30
Dawid het van hom af weggedraai na 'n ander een toe en dieselfde gevra, en die manskap het geantwoord soos die eerste.31
Die woorde wat Dawid gesê het, het rugbaar geword. Die manskappe het dit vir Saul vertel, en hy het hom laat haal.32
“'n Mens moenie oor hóm moedeloos word nie,” sê Dawid toe vir Saul. “Ek sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.”33
Maar Saul sê vir Dawid: “Jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie, want jy is jonk en hy 'n vegter van kindsbeen af.”34
Toe sê Dawid vir Saul: “As ek die kleinvee vir my pa oppas, en daar kom 'n leeu of 'n beer en dra 'n lam weg uit die kudde,35 gaan ek agter hom aan en slaan hom dood en red die lam uit sy bek; as hy op my afstorm, gryp ek hom aan sy baard en slaan hom dood.
36 Ek het die leeu en ook die beer doodgeslaan, en hierdie heiden, hierdie Filistyn, sal soos hulle word, want hy het die linies van die lewende God verkleineer.”
37 Verder het Dawid gesê: “Die Here, wat my gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer, Hý sal my red uit die mag van hierdie Filistyn.”
Toe sê Saul vir Dawid: “Gaan, en mag die Here by jou wees.”38
Saul het sy eie uitrusting vir Dawid laat aantrek: hy het 'n bronshelm op sy kop gesit en hom 'n harnas laat aantrek,39 en Dawid het Saul se swaard bo-oor sy uitrusting vasgegord. Maar hy kon nie loop nie, want hy was dit nie gewoond nie.
Dawid sê toe vir Saul: “Ek kan nie hiermee loop nie, want ek is dit nie gewoond nie.” En Dawid het dit uitgetrek.40 Hy het sy kierie in sy hand gevat, vyf gladde klippies in die spruit uitgesoek en dit by sy skaapwagtersgoed in sy slingersak gesit. En met sy slingervel in die hand het hy op die Filistyn af geloop.
41 Die Filistyn het al hoe nader gekom na Dawid toe, terwyl sy skilddraer voor hom was.
42 Toe hy vir Dawid sien, het die Filistyn hom met minagting aangekyk omdat hy jonk was, met 'n rooi gelaatskleur en 'n mooi voorkoms.
43
Die Filistyn het vir Dawid gesê: “Is ek 'n hond dat jy met kieries na my toe kom?” Hy het Dawid toe in die naam van die Filistynse gode vervloek.44 Verder het die Filistyn vir Dawid gesê: “Kom 'n bietjie hier dat ek jou vleis vir die roofvoëls en vir die wilde diere kan gee.”
45
Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jý kom na my toe met 'n dolk en 'n spies en 'n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het.46 Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afkap. Dan sal ek vandag nog die lyke van die Filistynse laer vir die roofvoëls en vir die wilde diere gee, sodat die hele wêreld kan besef dat Israel 'n God het.
47 Dan sal hierdie hele skare besef dat die Here nie deur swaard of spies verlos nie, maar dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy julle in ons mag oorgee.”
48
Toe die Filistyn regmaak en nader kom om Dawid te ontmoet, het Dawid die Filistyn vinnig op die vegterrein tegemoet gehardloop.49 Toe steek Dawid sy hand in die sak, vat 'n klip daaruit, gooi met die slingervel, en tref die Filistyn teen die voorkop. Die klip het in sy voorkop ingedring, en hy het vooroor geval op die grond.
50 Met die slingervel en klip was Dawid sterker as die Filistyn en het hy hom verslaan en doodgemaak. Dawid het nie eens 'n swaard by hom gehad nie!
51
Toe het Dawid gehardloop, by die Filistyn gaan staan, sy swaard gevat, dit uit die skede getrek en hom van kant gemaak: hy het sy kop daarmee afgekap. Die Filistyne het gesien dat hulle held dood is, en het gevlug.52 Die manskappe van Israel en Juda het opgestaan, die aanvalskreet uitgeskreeu en die Filistyne agtervolg tot by die ingang van Gat en die poorte van Ekron, sodat die gesneuweldes van die Filistyne op die pad van Saärajim af tot by Gat en Ekron gelê het.
53 Daarna het die Israeliete teruggekom van die strawwe agtervolging van die Filistyne af en hulle kamp geplunder.
54 Dawid het die kop van die Filistyn gevat en dit na Jerusalem toe gebring, maar die Filistyn se wapens het hy in sy eie tent gaan sit.
55
Toe Saul vir Dawid sien uitgaan om die Filistyn te ontmoet, het hy vir Abner die hoof van die leër gevra: “Abner, wie se kind is dié jong man tog?” Abner het geantwoord: “So seker as u leef, U Majesteit, ek weet nie.”56
Die koning sê toe: “Vra jy tog wie se kind die jong man is.”57
Toe Dawid terugkom nadat hy die Filistyn verslaan het, het Abner hom gevat en voor Saul gebring met die kop van die Filistyn nog in sy hand.58 Saul het vir hom gevra: “Seun, wie se kind is jy?”
“Die kind van u onderdaan Isai, uit Betlehem,” het Dawid geantwoord.1
Nadat Dawid klaar met Saul gepraat het, het Jonatan baie geheg geraak aan Dawid en hom liefgekry soos homself.2 Dieselfde dag nog het Saul vir Dawid saamgevat huis toe en hom nie toegelaat om na sy pa se huis toe terug te gaan nie.
3 Jonatan en Dawid het 'n verbond gesluit omdat Jonatan hom liefgekry het soos homself.
4 Jonatan het die mantel wat hy aangehad het, uitgetrek en dit vir Dawid gegee, ook sy uitrusting, sy swaard, sy boog en sy gordel.
5 Dawid het toe opgetrek teen elkeen teen wie Saul hom uitgestuur het. Hy was suksesvol, en Saul het hom oor die soldate aangestel. Die hele volk en Saul se amptenare het dit goedgevind.
6
Toe Dawid teruggekom het nadat hy die Filistyn verslaan het en Saul-hulle op pad was huis toe, het die vroue van al die dorpe van Israel uitgegaan om te sing, en die danseresse het koning Saul tegemoet gegaan met tamboeryne en driesnarige musiekinstrumente en met gejubel.7 Die vroue het gedans en gesing:
“Saul het sy duisende verslaan,8
Daaroor het Saul hom vererg. Dit het hom nie geval nie en hy het gesê: “Aan Dawid het hulle tienduisende gegee en aan my duisende. Die koningskap sal ook nog syne word!”9
Van toe af het Saul vir Dawid gewantrou.10
Die volgende dag het 'n boosaardige gees wat deur God gestuur is, vir Saul beetgepak, sodat hy in sy huis te kere gegaan het soos 'n waansinnige. Soos gewoonlik het Dawid op die lier gespeel. In die hand van Saul was daar 'n spies.11 Toe lig Saul die spies op en dink: ek gaan vir Dawid teen die muur vaspen.
Maar Dawid het weggekoes, selfs twee maal.12 Saul het bang geword vir Dawid omdat die Here by hom was, maar die Here het vir Saul verlaat.
13 Saul het daarna nie meer vir Dawid by hom laat bly nie en hom aangestel as hoof van 'n leërafdeling. Hy het in die oorlog as aanvoerder van die manskappe opgetree
14 en in alles sukses behaal omdat die Here by hom was.
15 Saul het opgemerk dat Dawid baie suksesvol was, en Saul was bang vir hom.
16 Maar die hele Israel en Juda was lief vir Dawid, en hy het in die oorlog as hulle aanvoerder opgetree.
17
Later het Saul vir Dawid gesê: “Hier is my oudste dogter Merab. Ek gee haar aan jou as vrou. Jy moet net vir my 'n dapper man wees en die oorloë van die Here voer.” Saul het naamlik gedink: ek moenie teen hom wees nie. Laat die Filistyne teen hom wees.18
Dawid sê toe vir Saul: “Wie is ek en wie is my broers en my familie in Israel dat ek die koning se skoonseun mag word?”19
Maar teen die tyd dat Saul se dogter Merab aan Dawid gegee moes word, is sy aan Adriël die Megolatiet as vrou gegee.20 Saul se ander dogter, Mikal, was verlief op Dawid, en toe dit aan Saul vertel is, was hy in sy skik daarmee.
21 Saul het naamlik gedink: ek sal haar aan hom gee dat sy vir hom 'n vangstrik word en die Filistyne teen hom kan wees.
So het Saul dan twee keer vir Dawid gesê: “Jy kan vandag my skoonseun word.”22
Saul het sy amptenare beveel: “Sê so ongemerk vir Dawid: Jy weet, die koning hou van jou en al sy amptenare is lief vir jou. Word nou maar die koning se skoonseun.”23
Saul se amptenare het hierdie boodskap vir Dawid in die oor gefluister en Dawid het gesê: “Dink julle dis 'n kleinigheid om die koning se skoonseun te word? Ek is maar 'n arm man sonder aansien.”24
Saul se amptenare het hom meegedeel wat Dawid gesê het.25
Maar Saul het gesê: “So moet julle vir Dawid sê: Die koning wil niks anders as honderd voorhuide van die Filistyne as huweliksvergoeding hê nie, om so wraak te neem teen sy vyande.” Saul se gedagte was om Dawid deur die Filistyne te laat omkom.26 Saul se amptenare het hierdie woorde aan Dawid meegedeel, en Dawid het ingestem om die koning se skoonseun te word.
Dawid het nie tyd verspeel nie,27 maar klaargemaak, en hy en sy manskappe het twee honderd Filistyne gaan doodmaak. Dawid het hulle voorhuide gebring, en dié is almal aan die koning oorhandig sodat Dawid die koning se skoonseun kon word. Saul het sy dogter Mikal aan hom gegee as vrou.
28
Dit het vir Saul duidelik geword dat die Here by Dawid is. Boonop het Saul se dogter Mikal vir Dawid liefgehad.29 Toe het Saul nog banger geword vir Dawid, Saul was vir goed vyandig teenoor hom.
30 Die regeerders van die Filistyne het herhaaldelik opgetrek om oorlog te maak, maar elke keer as hulle optrek, het Dawid meer sukses gehad as die offisiere van Saul, sodat hy groot aansien verkry het.
1
Saul het naderhand selfs met sy seun Jonatan en met al sy offisiere gepraat om Dawid dood te maak. Maar Saul se seun Jonatan het baie van Dawid gehou.2 Toe het Jonatan vir Dawid vertel: “My pa wil jou doodmaak. Jy moet tog môreoggend versigtig wees. Gaan sit op 'n beskutte plek en kruip weg.
3 Dan sal ek in die veld waar jy is, langs my pa gaan staan en met hom oor jou praat. As ek agterkom hoe dit gesteld is, sal ek jou dit vertel.”
4
Jonatan het toe vir Dawid voorspraak gedoen by Saul en vir hom gesê: “Die koning moet hom tog nie aan sy onderdaan Dawid besondig nie, want hy het u geen kwaad aangedoen nie, sy dade was baie voordelig vir u.5 Hy het sy lewe gewaag en die Filistyn verslaan dié keer toe die Here die groot uitkoms vir die hele Israel bewerk het. U het dit gesien en u was self bly. Waarom sal u sonde doen oor 'n onskuldige man en vir Dawid sonder rede doodmaak?”
6
Saul het na Jonatan geluister en 'n eed afgelê: “So seker as die Here leef, hy sal nie doodgemaak word nie.”7 Hierná het Jonatan vir Dawid gaan roep, en Jonatan het hom die hele gesprek meegedeel. Jonatan het vir Dawid na Saul toe gebring, en Dawid het vir Saul gedien soos voorheen.
8
Daar het weer 'n keer oorlog gekom, en Dawid het opgetrek om teen die Filistyne te veg. Hy het hulle in 'n bloedige veldslag verslaan, en hulle het voor hom gevlug.9
Saul het in sy huis gesit met sy spies in sy hand, en Dawid het op die lier gespeel. Toe 'n boosaardige gees wat deur die Here gestuur is, oor Saul kom,10 het hy geprobeer om Dawid teen die muur vas te pen met die spies. Maar Dawid het weggekoes, en Saul het die spies teen die muur vasgegooi. Dawid het gevlug en daardie nag ontsnap.
11 Toe stuur Saul mense na Dawid se huis toe om hom dop te hou en hom in die môre dood te maak.
Maar sy vrou Mikal het hom gewaarsku: “As jy nie vannag vlug nie, word jy môre doodgemaak.”12
Mikal het Dawid toe deur die venster laat afsak. Hy het weggegaan, gevlug en ontsnap.13 Maar Mikal het die afgodsbeeld gevat en op die bed neergesit. Sy het 'n bokhaarnet om die beeld se kop gedraai en dit met 'n kombers toegemaak.
14
Toe Saul se mense daar kom om vir Dawid te vang, sê sy: “Hy is siek.”15
Daarna het Saul sy manne gestuur om na Dawid te gaan kyk en beveel: “Bring hom na my toe met bed en al dat ek hom kan laat doodmaak.”16 Die manne het ingekom, en toe lê die afgodsbeeld op die bed, met die bokhaarnet aan die koppenent.
17
Saul sê toe vir Mikal: “Waarom het jy my so bedrieg en my vyand vrygelaat om te ontsnap?” Maar Mikal het vir Saul geantwoord: “Hy het vir my gesê: Laat my gaan, anders maak ek jou dood.”18
Ondertussen het Dawid gevlug en ontsnap en by Samuel in Rama gekom en hom alles vertel wat Saul hom aangedoen het. Hy en Samuel het in die woonkwartiere van die profete gaan woon.19 Daarna is aan Saul berig: “Weet u, Dawid is in die profetekwartiere in Rama.”
20
Daarop stuur Saul boodskappers om Dawid gevange te neem. Toe hulle die groep profete sien wat besig was om as profete op te tree onderwyl Samuel hulle voorgaan, het die Gees van God oor die boodskappers van Saul gekom, en hulle het self ook begin om as profete op te tree.21
Dit is aan Saul vertel, en hy het ander boodskappers gestuur. Ook húlle het self begin om as profete op te tree. Hy het 'n derde groep boodskappers gestuur, en hulle het óók begin om as profete op te tree.22 Daarop het hy self na Rama toe gegaan en toe hy by die groot opgaardam in Seku kom, vra hy: “Waar is Samuel en Dawid?”
Iemand het geantwoord: “Daar in die profetekwartiere in Rama.”23
Hy het na die profetekwartiere toe gegaan in Rama, en die Gees van God het ook oor hom gekom en hy het so in die loop begin om as profeet op te tree totdat hy by die kwartiere in Rama gekom het.24 Ook hý het sy klere uitgetrek en self as profeet opgetree in die teenwoordigheid van Samuel. Daardie hele dag en nag het Saul sonder klere op die grond gelê, sodat die mense gevra het: “Is Saul ook onder die profete?”
1
Daarna het Dawid uit die profetekwartiere in Rama padgegee en by Jonatan gekom en vir hom gevra: “Wat het ek gedoen? Wat is my oortreding of wat het ek verkeerd gedoen teenoor jou pa dat hy my lewe soek?”2
Jonatan het hom geantwoord: “Nee, wag. Jy sal nie sterwe nie. Jy weet goed my pa doen niks, groot of klein, sonder om dit vertroulik vir my te vertel nie. Waarom sou my pa dan hierdie ding vir my wegsteek? Dit is nie soos jy dink nie.”3
Dawid het toe vir Jonatan met 'n eed verseker: “Jou pa weet baie goed dat jy van my hou en hy het gedink: Jonatan mag dit nie weet nie sodat hy nie sleg voel nie. Maar so seker as die Here leef en so seker as jy leef, daar is maar net een tree tussen my en die dood.”4
En Jonatan sê vir Dawid: “Ek sal vir jou doen net wat jy wil hê.”5
Dawid sê toe vir Jonatan: “Môre is dit nuwemaan, en ek móét saam met die koning aansit om te eet. Maar laat my gaan dat ek in die veld kan wegkruip tot die derde aand.6 As jou pa uitdruklik na my vra, moet jy sê: ‘Dawid het my dringend verlof gevra om gou na sy stad Betlehem toe te gaan, want die hele familie se jaarlikse offer vind daar plaas.’
7 As hy sou sê: ‘Goed!’ dan is ek veilig, maar as hy baie kwaad word, weet dan beslis dat hy klaar besluit het om my dood te maak.
8 Jy het my met 'n verbond van die Here aan jou verbind. Toon jou trou aan my, en as ek skuldig is, maak jý my dan dood. Waarom moet jy my nog na jou pa toe bring?”
9
Toe antwoord Jonatan: “Nee, as ek seker weet dat my pa klaar besluit het om jou dood te maak, sal ek jou dit beslis laat weet.”10
Dawid sê toe vir Jonatan: “Wie sal vir my kom sê of jou pa jou 'n harde antwoord gegee het?”11
Jonatan het daarna vir Dawid gesê: “Kom ons gaan uit veld toe.” Hulle twee het veld toe gegaan,12 en Jonatan het vir Dawid gesê: “So seker as die Here die God van Israel leef, ek sal my pa môre of oormôre pols. Hy sal gunstig gestem wees teenoor jou. So nie, sal ek na jou toe stuur en dit in die geheim aan jou bekend maak.
13 Mag die Here my om die lewe bring as my pa besluit het om jou dood te maak en ek jou dit nie in die oor fluister nie en jou nie kans gee om veilig weg te kom nie. Mag die Here by jou wees soos Hy by my pa was.
14 En as ek dan nog lewe, moet jy die trou van die Here aan my betoon, sodat ek nie sterwe nie,
15 en jy moet jou trou nooit aan my familie onttrek nie. Selfs wanneer die Here die vyande van Dawid een vir een van die aarde af wegvee,
16 mag Jonatan nie deur die familie van Dawid uitgeroei word nie, want dan sal die Here dit vergeld deur Dawid se vyande.”
17
Jonatan het Dawid dit met 'n eed vir hom laat belowe vanweë sy liefde vir hom, want hy het hom liefgehad soos homself.18
Jonatan het ook nog vir hom gesê: “Môre is nuwemaan, en jy sal gemis word omdat jou leë sitplek opgemerk sal word.19 Op die derde dag moet jy beslis na die plek toe kom waar jy die vorige keer op die werkdag weggekruip het. Jy moet langs die hoop klippe gaan sit.
20 Ek sal drie pyle aan die kant daarvan verby skiet, asof ek na 'n teiken skiet.
21 Dan sal ek my slaaf stuur: ‘Gaan soek die pyle.’ As ek uitdruklik vir hom sê: ‘Kyk, die pyle is duskant jou; tel hulle op en kom!’ is jy veilig en so seker as die Here leef, daar is dan geen gevaar nie.
22 Maar as ek vir hom sê: ‘Kyk, die pyle is anderkant jou!’ moet jy weggaan. Dan stuur die Here jou weg.
23 En wat die saak betref waaroor ek en jy gepraat het: onthou, die Here is vir altyd getuie daarvan.”
24
Dawid het toe in die veld weggekruip. Met nuwemaan het die koning by die maaltyd aangesit,25 en hy het soos gewoonlik op sy plek teen die muur gaan sit. Jonatan het regoor hom gesit en Abner langs Saul. Dawid se leë plek is opgemerk,
26 maar op daardie dag het Saul niks gesê nie, want hy het gedink: daar moes iets gebeur het, en hy is dalk nie rein nie, hy mag dalk nie aan tafel kom nie.
27 Die volgende dag van die nuwemaan, die tweede dag, is Dawid se leë plek weer opgemerk.
Saul vra toe vir sy seun Jonatan: “Waarom het die seun van Isai gister en vandag nie na die maaltyd toe gekom nie?”28
Maar Jonatan het vir Saul geantwoord: “Dawid het my dringend verlof gevra om na Betlehem toe te gaan.29 Hy het gesê: ‘Laat my tog gaan, want ons het 'n familie-offer in die stad. My broer self het my laat roep. As u dit goedvind, laat my dan tog gaan sodat ek my broers kan gaan besoek.’ Daarom het hy nie aan die koning se tafel verskyn nie.”
30
Toe het Saul hom bloedig vererg vir Jonatan en gesê: “Jou rebelse ellendeling! Jy verkies mos die seun van Isai tot jou eie skande en tot skande van jou ma wat jou in die wêreld gebring het.31 Solank die seun van Isai op hierdie aarde leef, sal daar nie plek wees vir jou en jou koningskap nie. Stuur en bring hom na my toe, hy moet dood!”
32
Daarop het Jonatan sy pa geantwoord en gevra: “Waarom moet hy doodgemaak word? Wat het hy gedoen?”33 Toe Saul die spies na Jonatan mik om hom dood te maak, het Jonatan geweet sy pa is vasbeslote om vir Dawid om die lewe te bring.
34 Woedend het Jonatan van die tafel af opgestaan en op die tweede dag van die nuwemaan niks geëet nie omdat hy bekommerd was oor Dawid en omdat Saul vir Dawid so sleg behandel.
35
In die môre het Jonatan volgens sy afspraak met Dawid uitgegaan na die veld toe, en daar was 'n jong slaaf by hom.36 Hy het vir sy slaaf gesê: “Hardloop, gaan haal die pyle wat ek afskiet.”
Die slaaf het gehardloop en Jonatan het die pyl by hom verby geskiet.37 Toe die slaaf by die plek kom waarheen Jonatan die pyl geskiet het, het Jonatan agter hom aan geroep en gesê: “Die pyl lê verder.”
38
Jonatan het weer agter hom aan geroep: “Maak gou! Vinnig! Moenie tyd mors nie!” Die slaaf het toe die pyl opgetel en na Jonatan toe gekom.39 Hy het van niks geweet nie. Net Jonatan en Dawid het daarvan geweet.
40 Jonatan het sy wapens aan die slaaf wat by hom was, gegee en vir hom gesê: “Loop! Vat dit stad toe.”
41
Toe die slaaf weg was, het Dawid opgestaan langs die kliphoop en op sy knieë geval en drie maal vooroor gebuig. Hulle het mekaar gesoen en saam gehuil totdat Dawid baie ontroerd geword het.42
Jonatan het vir Dawid gesê: “Gaan in vrede omdat ons twee in die Naam van die Here trou gesweer het en gesê het: Die Here is vir altyd daarvan getuie tussen ons en tussen ons twee se nageslagte.”43
Dawid het toe klaargemaak en weggegaan, maar Jonatan is terug stad toe.1
Dawid het in Nob by die priester Agimelek gekom. Agimelek het Dawid ontsteld tegemoet gegaan en gevra: “Waarom is u alleen? Waarom is daar niemand by u nie?”2
Dawid het vir die priester Agimelek gesê: “Die koning het my 'n opdrag gegee en gesê: ‘Niemand mag iets weet van die saak waarvoor ek jou stuur en wat ek jou beveel nie.’ Ek het my manskappe op 'n sekere plek bestel.3 Maar nou iets anders: wat het u byderhand? Gee my tog vyf brode of net wat u beskikbaar het.”
4
Die priester het Dawid geantwoord: “Ek het nie gewone brood byderhand nie, hier is net gewyde brood. As die manskappe hulle tog maar van vrouens weerhou het.”5
Toe sê Dawid vir die priester: “Soos altyd wanneer ek gaan oorlog maak, is vrouens vir ons verbode en daarom is die liggame van die manskappe rein. Al is dit ook 'n gewone onderneming, is die liggame vandag tog rein.”6
Die priester het toe aan hom gewyde brood gegee, want daar was nie gewone brood nie, net die offerbrood wat op 'n bepaalde tyd uit die tempel verwyder word om dit deur vars brood te vervang.7
Een van Saul se slawe moes daardie dag in die tempel deurbring. Sy naam was Doëg. Hy was 'n Edomiet, die hoof van Saul se veewagters.8
Dawid het ook vir Agimelek gesê: “Is hier nie miskien 'n spies of 'n swaard byderhand nie? Ek kon selfs nie eens my swaard of my ander wapens vat nie, want die saak van die koning was dringend.”9
Die priester het hom geantwoord: “Die swaard van Goliat die Filistyn, vir wie u in die dal by die groot boom verslaan het, is hier, toegedraai in 'n mantel agter die skouerkleed. Vat dit vir u as u wil, want in hierdie plek is daar niks behalwe hierdie een nie.” En Dawid sê: “Daar is nie nog so een nie. Gee dit vir my.”10
Hierná het Dawid klaargemaak en dieselfde dag nog van Saul af weggevlug na koning Akis van Gat toe.11 Akis se amptenare het vir hom gesê: “Is dit nie Dawid, die koning van die land nie? Sing hulle nie vir hom in koordanse nie:
“Saul het sy duisende verslaan,12
Toe Dawid besef wat hulle sê, het hy baie bang geword vir koning Akis van Gat.13 Daarom het Dawid hom voor die Filistyne waansinnig gehou, en terwyl hy by hulle was, het hy hom soos 'n mal mens gedra. Hy het teen die deure van die poort gekrap en sy spoeg in sy baard laat afloop.
14
Akis het vir sy amptenare gesê: “Julle kan mos sien die man is mal. Waarom bring julle hom na my toe?15 Het ek behoefte aan mal mense dat julle hierdie een na my toe bring om by my mal te wees? Moet hý in my huis inkom?”
1
Dawid het daarvandaan weggegaan en ontsnap na die Adullamgrot toe. Sy broers en sy hele familie het dit gehoor en daarheen gegaan na hom toe.2 Verder het elkeen wat in die moeilikheid was, en elkeen wat 'n skuldeiser gehad het, en elkeen wat verbitterd was, by hom aangesluit, en hy het hulle leier geword. Daar was ongeveer vier honderd man by hom.
3 Daarvandaan het Dawid na Mispe in Moab toe gegaan en vir die koning van Moab gevra: “Laat my ouers tog uitkom na u toe totdat ek weet wat God aan my sal doen.”
4
Dawid het hulle toe in die sorg van die koning van Moab gelaat. Hulle het by hom gebly so lank as Dawid in die bergskuiling was.5 Maar die profeet Gad het vir Dawid gesê: “Jy mag nie in die skuiling bly nie. Trek weg en gaan na Juda toe.”
Dawid het toe na die Geretbos toe gegaan.6
Terwyl Saul in Gibea op 'n hoogte onder 'n tamarisk gesit het met sy spies in sy hand, en al sy amptenare by hom gestaan het, het hy verneem dat die mense weet waar Dawid en sy manne is.7 Saul het vir sy amptenare wat by hom staan, gesê: “Luister tog, Benjaminiete! Sal die seun van Isai miskien ook vir julle almal velde en wingerde gee en julle almal aanstel as leiers van duisende en leiers van honderde?
8 Julle almal het saamgesweer teen my. Niemand het my vertel dat my seun 'n verbond met die seun van Isai gesluit het nie; niemand van julle het medelye met my nie; niemand het my vertel dat my seun 'n amptenaar van my teen my opmaak, sodat hy vandag vir my 'n bedreiging is nie.”
9
Doëg die Edomiet het tussen die amptenare van Saul gestaan en hy het gesê: “Ek het die seun van Isai gesien toe hy in Nob by Agimelek seun van Agitub gekom het.10 Agimelek het die Here vir Dawid geraadpleeg en vir hom padkos gegee. Agimelek het ook die swaard van die Filistyn Goliat vir hom gegee.”
11
Daarop het die koning gestuur om die priester Agimelek, seun van Agitub, en sy hele familie, die priesters in Nob, te ontbied, en hulle het almal na die koning toe gekom.12
Saul het toe gesê: “Luister, seun van Agitub.” En hy het geantwoord: “Ek luister, U Majesteit.”13
En Saul het vir hom gevra: “Waarom het jy en die seun van Isai teen my saamgesweer toe jy vir hom brood en 'n swaard gegee en God vir hom geraadpleeg het, sodat hy teen my in opstand kon kom en vandag vir my 'n bedreiging is?”14
Agimelek het die koning geantwoord: “Maar wie van al u amptenare is so betroubaar soos Dawid, die skoonseun van die koning? Hy is die hoof van u lyfwag en geniet hoë aansien in u huis.15 Dit is in elk geval nie die eerste keer dat ek God vir hom geraadpleeg het nie. Die koning moet my en my hele familie nie van iets beskuldig nie, want ek het beslis niks van die hele saak af geweet nie.”
16
Maar die koning het gesê: “Agimelek, jy moet sterwe, jy en jou hele familie.”17
Toe beveel die koning die hardlopers wat by hom staan: “Pak hulle en maak dood die priesters van die Here, want hulle is aan Dawid se kant. Hulle het baie goed geweet dat hy vlug en hulle het my dit nie vertel nie.” Maar die amptenare van die koning wou nie 'n vinger verroer om die priesters van die Here aan te val nie.18
Toe sê die koning vir Doëg: “Spring onder hulle in en val die priesters aan.” Doëg die Edomiet het onder hulle ingespring, die priesters aangeval en daardie dag vyf en tagtig man wat die linneskouerkleed dra, doodgemaak.19
Nob, die dorp van die priesters, is met die swaard uitgewis: man en vrou, kind en suigling, bees en donkie en kleinvee.20 Maar een seun van Agimelek seun van Agitub het ontkom. Sy naam was Abjatar en hy het agter Dawid aan gevlug.
21 Abjatar het aan Dawid vertel dat Saul die priesters van die Here doodgemaak het.
22
Dawid het vir Abjatar gesê: “Ek het daardie dag toe Doëg die Edomiet daar was, geweet dat hy beslis alles vir Saul sou vertel. Ek het die lewe van jou hele familie in gevaar gestel.23 Bly by my en moenie bang wees nie, want hy wat my lewe soek, soek ook jou lewe. Maar jy is veilig by my.”
1
Op 'n keer is aan Dawid vertel: “Die Filistyne veg teen Keïla en plunder die dorsvloere.”2
Dawid het die Here geraadpleeg: “Sal ek optrek en hierdie klomp Filistyne verslaan?” Die Here het vir Dawid geantwoord: “Trek op en verslaan die Filistyne en bevry Keïla.”3
Maar die manne van Dawid sê: “O nee, ons verkeer hier in Juda alreeds in gevaar, hoeveel te meer as ons na die skanse van die Filistyne toe gaan by Keïla?”4
Dawid het weer die Here geraadpleeg, en die Here het geantwoord: “Maak klaar, trek op na Keïla toe, want Ek lewer die Filistyne aan jou oor.”5
Dawid en sy manne het toe opgetrek na Keïla toe en teen die Filistyne oorlog gemaak. Hy het hulle vee as buit saamgevat nadat hy hulle in 'n groot veldslag verslaan het. So het Dawid die inwoners van Keïla bevry.6
Toe Abjatar seun van Agimelek na Dawid toe in Keïla gevlug het, het hy die skouerkleed saamgevat.7 Daar is toe aan Saul berig dat Dawid in Keïla gekom het, en hy het gesê: “God het Hom aan Dawid onttrek. Hy is nou in my hand, want deur in 'n stad met grendeldeure in te gaan, het hy homself toegesluit.”
8
Saul het al die manskappe opgekommandeer vir die oorlog, om op te trek na Keïla toe en Dawid en sy manne te beleër.9 Maar Dawid het te wete gekom dat Saul hom wil aanval en hy het vir die priester Abjatar gesê: “Bring die skouerkleed hier.”
10
Dawid het gesê: “Here, God van Israel, ek is u dienaar. Ek het verneem dat Saul na Keïla toe wil kom om die stad te verwoes omdat ek hier is.11 Sal die regeerders van Keïla my aan hom uitlewer? Sal Saul optrek soos ek verneem het? Here, God van Israel, lig my tog in.”
En die Here antwoord: “Ja, hy sal optrek.”12
Toe vra Dawid: “Sal die regeerders van Keïla my en my manne aan Saul uitlewer?” Die Here het hom geantwoord: “Ja.”13
Dawid en sy manne, ongeveer ses honderd man, het klaargemaak, uit Keïla uitgegaan en heen en weer rondgetrek. Daar is ook aan Saul vertel dat Dawid uit Keïla ontsnap het en Saul het sy agtervolging gestaak.14 Daarna het Dawid in die woestyn in bergskuilings gaan woon. Hy het in die berge in die Sifwoestyn gewoon. Saul het hom die hele tyd gesoek, maar God het hom nie in Saul se mag oorgegee nie.
15 Toe Dawid besef dat Saul steeds daarop uit is om hom dood te maak, is hy na Goresa toe in die Sifwoestyn.
16
Jonatan seun van Saul het toe klaargemaak en na Dawid toe in Goresa gegaan en hom bemoedig in sy vertroue op God.17 Hy het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, want my pa sal jou nie in die hande kry nie. Jy sal koning word oor Israel, en ek sal onder jou staan. Selfs my pa weet dat dit so is.”
18
Hulle twee het toe 'n verbond voor die Here gesluit. Dawid het in Goresa gebly, en Jonatan het huis toe gegaan.19
Daarna het Siffiete na Saul in Gibea toe gegaan en gesê: “Dawid kruip by ons weg in die skuilplekke in Goresa, op die Gakilarant suid van die onherbergsame gebied.20 U Majesteit, as dit dan nou u begeerte is om op te trek, trek op en ons sal sorg dat hy aan u uitgelewer word.”
21
Toe antwoord Saul: “Mag die Here julle seën omdat julle saam met my voel.22 Gaan dan nou, stel weer vas waar Dawid is, kyk goed en verken die plek: waar sy spore is en wie hom daar gesien het, want iemand het vir my gesê hy is baie uitgeslape.
23 Gaan kyk en stel haarfyn vas waar hy oral skuil. Bring vir my sekerheid terug. Dan sal ek saamgaan. Indien hy nog in die land is, sal ek hom opspoor met al die afdelings van Juda.”
24
Die Siffiete het klaargemaak en voor Saul uit na Sif toe gegaan. Dawid en sy manne was in die Maonwoestyn in die vlakte suid van die onherbergsame streek.25
Toe Saul en sy manskappe hom gaan soek, is dit aan Dawid vertel, en hy het na die kliprant toe gegaan, nog in die Maonwoestyn. Saul het dit verneem en Dawid in die Maonwoestyn agtervolg.26 Saul het aan die een kant van die berg langs gegaan, en Dawid en sy manne net aan die ander kant. En toe Dawid bang voor Saul wegvlug, terwyl Saul en sy manskappe al vir Dawid en sy manne begin omsingel om hulle te vang,
27 kom daar 'n boodskapper by Saul en sê: “Maak gou en kom, want die Filistyne het die land ingeval.”
28
Saul het opgehou om Dawid te agtervolg en het die Filistyne tegemoet gegaan. Daarom noem hulle die plek Skeidingsrant.1
Daarvandaan het Dawid in die skuilplekke by En-Gedi gaan bly.2 Net toe Saul van die veldtog teen die Filistyne af terugkom, is aan hom vertel: “Dawid is in die En-Gediwoestyn.”
3
Saul het drie afdelings manskappe wat uitgesoek is uit die hele Israel, gevat en gegaan om Dawid en sy manne op te spoor in die omgewing van Klipbokrotse.4 Onderweg het Saul afgekom op skaapkrale met 'n grot daarby. Hy het daar ingegaan om homself te ontlas, terwyl Dawid en sy manne agter in die grot sit.
5
Dawid se manne sê toe vir hom: “Kyk daar, vandag sê die Here vir jou: Ek gee jou vyand in jou hand en jy moet met hom maak soos jy dit goedvind.” Dawid het opgestaan en ongemerk die punt van Saul se mantel afgesny.6 Maar agterna het Dawid se gewete hom gepla omdat hy Saul se mantelpunt afgesny het.
7 Hy het vir die manne gesê: “Mag die Here my daarvan bewaar dat ek my hand teen my koning, die gesalfde van die Here, oplig, want hy is die gesalfde van die Here.”
8
So het Dawid sy manne met sy woorde gekeer en hulle nie toegelaat om teen Saul op te tree nie. En Saul het opgestaan en sy koers gegaan uit die grot uit.9
Dawid het ook klaargemaak en uit die grot uitgegaan. Hy het agter Saul aan geroep: “U Majesteit, die Koning!” Toe Saul omkyk, het Dawid gekniel en diep gebuig.10
Dawid sê toe vir Saul: “Waarom luister u na die praatjies van mense wat sê Dawid soek u ondergang?11 U sien vandag met u eie oë dat die Here u nou in die grot in my hand gegee het en as 't ware vir my gesê het om u dood te maak. Maar ek het u gespaar en gesê: ‘Ek sal my hand nie teen my koning oplig nie, want hy is die gesalfde van die Here.’
12 My vader, kyk tog, kyk na die punt van u mantel in my hand. Deurdat ek die punt van u mantel afgesny het, maar u nie doodgemaak het nie, kan u weet en sien dat daar geen kwaadwilligheid of opstandigheid by my is nie. Ek het nie teen u in opstand gekom nie, selfs al agtervolg u my om my lewe te neem.
13 Die Here sal regspreek tussen my en u en die Here sal my wreek op u, maar ek sal nie teen u wees nie.
14 Soos die spreekwoord van die voorgeslag lui:
“ ‘Boosheid gaan uit van die boosdoeners,’ “maar ek sal nie teen u wees nie.15 Agter wie aan het die koning van Israel opgetrek? Agter wie kom u aan? Agter 'n dooie hond aan; agter een enkele vlooi aan!
16 Die Here sal regter wees en Hy sal regspreek tussen ons. Hy sal sorg en my saak behartig en aan my reg verskaf teenoor u.”
17
Nadat Dawid dit alles vir Saul gesê het, het Saul gevra: “Is dit jy wat praat, my seun, Dawid?” Toe begin Saul hard huil18 en hy sê vir Dawid: “Jy is 'n beter man as ek, want jy het aan my goed gedoen en ek het jou kwaad aangedoen.
19 Jy het so pas duidelik getoon watter weldaad jy my bewys het deurdat jy my nie doodgemaak het toe die Here my in jou hand oorgegee het nie.
20 Sal iemand sy vyand ongedeerd sy koers laat gaan as hy hom raakloop? Mag die Here jou met weldade beloon vir wat jy vandag aan my gedoen het.
21 En nou, ek weet jy sal koning word, en die koningskap oor Israel sal in jou hand bestendig wees.
22 Lê dan nou in die Naam van die Here 'n eed af dat jy nie my nageslag sal uitroei nie en so in my familie aan my naam 'n einde sal maak nie.”
23
Nadat Dawid vir Saul 'n eed afgelê het, het Saul huis toe gegaan, maar Dawid en sy manne het opgegaan na die bergskuiling toe.1
Samuel is oorlede, en die hele Israel het bymekaargekom en oor hom gerou. Hulle het hom begrawe by sy huis in Rama. Dawid het klaargemaak en na die Paranwoestyn toe getrek.2 Daar was 'n man in Maon wat sy boerdery in Karmel gehad het, 'n baie ryk man. Hy het drie duisend skape en duisend bokke gehad. Hy was besig om sy skape in Karmel te skeer.
3 Die naam van die man was Nabal en die naam van sy vrou Abigajil. Die vrou het 'n goeie verstand gehad en sy was mooi, maar die man was 'n regte korrelkop en onbeskof. Hy was 'n Kalebiet.
4 Toe Dawid in die woestyn verneem dat Nabal skape skeer,
5 het hy tien jong manne gestuur en vir hulle gesê: “Gaan na Karmel toe, en as julle by Nabal kom, moet julle hom namens my vra hoe dit gaan.
6 En sê vir hom: Gesondheid en voorspoed vir u en u familie en alles wat u besit!
7 Ek het verneem dat hulle besig is om by u te skeer. U skaapwagters was by ons en ons het hulle nie kwaad aangedoen nie. Hulle het niks vermis solank hulle in Karmel was nie.
8 Vra maar u veewagters sodat hulle dit kan vertel. Wees dan tog my mense goedgesind. Ons het op die regte tyd gekom. Gee asseblief wat u kan afstaan aan u seun Dawid en sy manne.”
9
Die jong manne van Dawid het gekom en Dawid se hele boodskap aan Nabal oorgedra en gewag.10 Maar Nabal het die manne van Dawid geantwoord: “Wie is Dawid, wie is die seun van Isai? Daar is deesdae baie slawe wat wegloop van hulle eienaars af.
11 Moet ek nou my brood en water vat en die vleis wat ek vir my skeerders geslag het, en dit vir mense gee van wie ek nie weet waar hulle vandaan is nie?”
12
Die jong manne van Dawid het net daar in hulle spore omgedraai en teruggegaan. Hulle het alles wat Nabal gesê het, vir Dawid gaan vertel.13
Dawid het toe aan sy manne gesê: “Gord aan julle swaarde!” En elkeen het sy swaard aangegord, Dawid ook. Omtrent vier honderd man het saam met Dawid opgetrek, terwyl twee honderd by hulle goed gebly het.14
Een van die veewagters het vir Abigajil, die vrou van Nabal, vertel: “Dawid het boodskappers uit die woestyn gestuur om vir Meneer te groet, maar hy het teen hulle uitgevaar.15 Tog was die manne baie goed vir ons. Solank ons saam met hulle in die veld rondgetrek het, is ons nie kwaad aangedoen nie, en het ons niks vermis nie.
16 Hulle het ons dag en nag beskerm so lank as ons die kleinvee naby hulle opgepas het.
17 Nou kan u gerus gou kyk wat u kan doen, want daar is klaar besluit om vir Meneer en sy hele huis te straf; en hy is so 'n verkeerde man dat 'n mens nie met hom daaroor kan praat nie.”
18
Abigajil het gou twee honderd brode, twee kruike wyn, vyf gaargemaakte skape, vyf emmer gebraaide koring, honderd trosse rosyntjies en twee honderd koeke gedroogde vye gevat en op donkies gelaai.19
Sy het vir haar slawe gesê: “Gaan vooruit. Ek kom sommer nou agter julle aan.” Aan haar man Nabal het sy niks hiervan vertel nie.20 Terwyl sy nog op die donkie ry en in 'n kloof teen die berg afgaan, kom Dawid en sy manne juis na haar kant toe aan, sodat sy hulle teëkom.
21 Dawid het juis net gedink: ek het verniet alles wat aan daardie man behoort in die woestyn opgepas, sodat daar niks van sy goed vermis is nie. Hy vergeld my kwaad vir goed.
22 Mag God my deur my vyande om die lewe bring as ek teen môreoggend nog enige manspersoon van Nabal laat oorbly.
23
Toe Abigajil vir Dawid sien, het sy gou van die donkie af afgespring en vir Dawid eerbiedig gegroet. Sy het diep gebuig voor hom24 en gesê: “Verskoon tog die onreg, Meneer! Mag ek vertroulik met u praat? Luister tog na my woorde.
25 Meneer moet hom tog nie steur aan daardie verkeerde mens, aan Nabal nie, want hy is net soos sy naam. Sy naam beteken dwaas, en dwaas is hy. Maar ek, ek het nie die manne van Meneer vir wie Meneer gestuur het, gesien nie.
26 Meneer, so seker as die Here leef en so seker as wat u self leef, dit is die Here wat gekeer het dat u bloed vergiet en die reg in u eie hande neem. Mag dit met u vyande gaan soos dit met Nabal sal gaan en met almal wat u ondergang soek.
27 Neem tog nou hierdie blyk van goeie wense wat ek vir Meneer gebring het, en laat dit gegee word aan die manne wat altyd vir Meneer volg.
28 Vergewe tog my oortreding, want die Here sal beslis vir u 'n bestendige huis besorg, omdat Meneer die oorloë van die Here voer, en mag 'n ramp u nooit tref nie.
29 En sou daar iemand opstaan om u te agtervolg en u te probeer doodmaak, mag die lewe van Meneer dan by die Here, u God, veilig wees saam met die lewendes. Maar mag die lewe van u vyande weggeslinger word soos 'n klip uit 'n slingervel.
30 Wanneer die Here al die goeie dinge wat Hy oor u gesê het, aan Meneer volbring het, en Hy u as regeerder van Israel aangestel het,
31 mag hierdie voorval dan nie vir u tot kwelling en gewetenswroeging wees omdat u onskuldige bloed vergiet het deur die reg in eie hande te neem nie. En wanneer die Here aan Meneer goed gedoen het, mag u my dan in gedagte hou.”
32
Dawid het vir Abigajil gesê: “Geloof sy die Here die God van Israel wat jou vandag gestuur het om my te ontmoet.33 Mag jy geseën word vanweë jou insig en ook omdat jy my vandag verhinder het om bloed te vergiet en die reg in my eie hand te neem.
34 Maar, so seker as die Here die God van Israel leef, Hy wat my gekeer het om jou kwaad aan te doen, as jy my nie gou tegemoet gekom het nie, sou daar beslis geen enkele manspersoon van Nabal tot die môrelig oorgebly het nie.”
35
Daarna het Dawid die goed wat sy gebring het, aanvaar en vir haar gesê: “Wees gerus en gaan maar huis toe. Kyk, ek het jou versoek gehoor en ek staan dit toe.”36
Toe Abigajil by Nabal kom, het hy in sy huis 'n feesmaal gehad soos 'n koning. Nabal was opgeruimd en baie dronk. Voor die oggend met ligdag het sy hom hoegenaamd niks vertel nie.37 Die oggend het Nabal nugter geword, en toe sy vrou hom al hierdie dinge vertel, het hy 'n beroerteaanval gekry en is hy heeltemal verlam.
38 Omtrent tien dae later het die Here hom weer met 'n aanval getref, en het hy gesterf.
39
Toe Dawid hoor dat Nabal dood is, het hy gesê: “Geloof sy die Here wat my regsaak behartig het oor die onreg wat Nabal my aangedoen het, en my van kwaad weerhou het. Die Here het Nabal se kwaad op sy eie kop laat afkom.” Daarna het Dawid gestuur en met Abigajil laat praat om haar as vrou vir hom te neem.40 Die manne van Dawid het by Abigajil die Karmeliet gekom en vir haar gesê: “Dawid het ons na u toe gestuur om u as vrou vir hom te neem.”
41
Sy het opgestaan en gebuig en gesê: “Ag nee, ek wil net 'n slavin wees om die voete van Meneer se manne te was.”42
Abigajil het toe gou klaargemaak en op 'n donkie gery terwyl haar vyf slavinne te voet gevolg het. Sy het die boodskappers van Dawid gevolg en sy vrou geword.43
Dawid was reeds met Aginoam uit Jisreël getroud. Hy het nou twee vrouens gehad.44 Saul het sy dogter Mikal, die vrou van Dawid, aan Palti die seun van Lajis uit Gallim gegee.
1
Daarna het Siffiete by Saul in Gibea gekom en gesê: “Dawid kruip weg op die Gakilarant teenoor die onherbergsame streek.”2 Saul het toe klaargemaak en na die Sifwoestyn toe gegaan. Saam met hom was daar drie afdelings, uitgesoektes uit Israel, om Dawid in die Sifwoestyn op te spoor.
3 Saul het kamp opgeslaan langs die pad op die Gakilarant, wat teenoor die onherbergsame gebied is. Dawid het in die woestyn gebly. Toe hy hoor dat Saul tot in die woestyn agter hom aankom,
4 het Dawid spioene uitgestuur en so het hy sekerheid gekry dat Saul na hom toe op pad was.
5 Toe het Dawid klaargemaak en by die plek gekom waar Saul kamp opgeslaan het. Dawid het die plek gesien waar Saul en Abner seun van Ner, die hoof van Saul se leër, gelê en slaap het. Saul het op die wa gelê en die manskappe rondom hom.
6 En Dawid het vir Agimelek die Hetiet, en vir Abisai, broer van Joab en seun van Seruja, gevra: “Wie wil saam met my na Saul toe in die kamp gaan?”
Abisai het geantwoord: “Ek sal saam met jou gaan.”7
Dawid en Abisai het daardie nag by die manskappe van Saul gekom, en Saul was vas aan die slaap op die wa terwyl sy spies aan die koppenent in die grond steek en Abner en die manskappe rondom hom lê en slaap.8 Abisai het vir Dawid gesê: “God het jou vyand nou in jou mag oorgegee. Laat ek hom nou sommer hier met die spies in die grond vassteek. Ek sal hom nie 'n tweede keer hoef te steek nie.”
9
Maar Dawid het vir Abisai gesê: “Jy moet hom nie om die lewe bring nie, want wie sal sy hand oplig teen die gesalfde van die Here en nog onskuldig wees?”10 Dawid het ook gesê: “So seker as die Here leef, die Here sal hom met 'n vroeë dood tref, of sy tyd sal aanbreek en hy sal sterwe, of hy sal gaan oorlog maak en hy sal omkom.
11 Mag die Here my verhinder dat ek my hand oplig teen die gesalfde van die Here. Vat net die spies by sy koppenent en die waterkruik en laat ons hier wegkom.”
12
Dawid het die spies en die waterkruik by Saul se koppenent gevat en weggegaan sonder dat iemand iets gesien of gehoor het of wakker geword het, want almal het geslaap. Die Here het hulle vas laat slaap.13 Daarna het Dawid na die oorkant toe gegaan en op die top van die berg gaan staan, ver weg met 'n groot afstand tussen hulle.
14
Dawid het na die manskappe van Saul en na Abner seun van Ner geroep: “Abner, antwoord jy dan nie?” En Abner het geantwoord: “Wie is jy wat na die koning roep?”15
Toe sê Dawid vir Abner: “Is jy nie 'n man nie? Wie is soos jy in Israel? Waarom het jy nie wag gestaan by jou koning nie? Daar het een van die volk gekom om die koning dood te maak.16 Wat jy gedoen het, is nie goed nie. So seker as die Here leef, julle moet eintlik dood wees omdat julle nie by julle koning, die gesalfde van die Here, wag gestaan het nie. Kyk net 'n bietjie! Waar is die koning se spies en die waterkruik wat by sy koppenent was?”
17
Saul het Dawid se stem herken en gesê: “Is dit jy wat praat, my seun, Dawid?” Dawid het gesê: “Dit is, U Majesteit!”18 Hy het verder gevra: “Waarom agtervolg die koning tog sy onderdaan? Wat het ek gedoen wat verkeerd is?
19 Maar nou moet die koning tog na my luister. As dit die Here is wat u teen my aanhits, bring dan vir Hom 'n offer. Maar as dit mense is, vervloek is hulle voor die Here, want hulle het my nou uitgedryf sodat ek voel asof ek nie meer aan die volk van die Here behoort nie. Hulle het gesê: ‘Gaan dien vreemde gode.’
20 Laat my bloed tog nie ver van die heiligdom af op die grond val nie. Waarlik, die koning van Israel het uitgetrek om een enkele vlooi te soek soos 'n mens 'n patrys in die berge agtervolg.”
21
Maar Saul het gesê: “Ek het 'n fout gemaak. Kom terug, my seun, Dawid, want ek sal nie meer verkeerd teenoor jou optree nie omdat jy vandag my lewe gespaar het. Ja regtig, ek het dwaas opgetree en 'n growwe fout gemaak.”22
Toe sê Dawid: “Hier is die koning se spies. Laat een van u manskappe tog oorkom en dit kom haal.23 Mag die Here elkeen volgens sy geregtigheid en trou beloon, want die Here het u vandag in my mag gegee. Maar ek was nie bereid om my hand te lig teen die gesalfde van die Here nie.
24 En kyk, mag die Here my lewe net so spaar soos ek vandag u lewe gespaar het, en mag Hy my uit elke benoudheid red.”
25
Saul het vir Dawid gesê: “Mag dit goed gaan met jou, my seun, Dawid. Jy sal van krag tot krag gaan en beslis ook die oorhand kry.” Daarna het Dawid sy koers ingeslaan, en Saul het omgedraai huis toe.1
Dawid het by homself gedink: ek sal nog eendag deur Saul omkom. Daar bly vir my niks anders oor nie as om uit te wyk na die land van die Filistyne toe. Dan sal Saul ophou om langer oral in die gebied van Israel na my te soek. So sal ek van hom af wegkom.2
Dawid het klaargemaak en hy en ses honderd man wat by hom was, het oorgetrek na koning Akis van Gat, seun van Maok toe.3 Dawid het by Akis in Gat gewoon, hy en sy manne met hulle gesinne, en ook sy twee vrouens Aginoam uit Jisreël, en Abigajil die weduwee van Nabal die Karmeliet.
4 Daar is toe aan Saul vertel dat Dawid na Gat toe gevlug het, en Saul het hom nie langer gesoek nie.
5
Dawid het vir Akis gesê: “As u my goedgesind is, gee my dan 'n plek in een van u buitedorpe sodat ek daar kan woon. Waarom moet ek saam met u in die koninklike stad woon?”6
Op daardie dag het Akis toe vir Siklag aan hom gegee, en daarom behoort Siklag nou nog aan die konings van Juda.7 Dawid het 'n jaar en vier maande op die platteland by die Filistyne gewoon.
8
Dawid en sy manne het van tyd tot tyd opgetrek en dan het hulle die Gesureërs of die Geseriete of die Amalekiete aangeval. Dit is die mense wat die gebied bewoon van Olam af waar jy ingaan na Sur toe tot by Egipte.9 Wanneer Dawid 'n gebied verower het, het hy geen man of vrou laat lewe nie. Hy het skape en beeste, donkies en kamele en klere buitgemaak. Dan het hy omgedraai en na Akis toe gegaan.
10
En as Akis vra: “Vir wie het julle nou weer oorval?” antwoord Dawid: “Die Suidland van Juda” of “die Suidland van die Jeragmeëliete” of “die Suidland van die Keniete.”11
Dawid het geen man of vrou laat lewe om na Gat toe te bring nie, want hy het gedink: anders verklik hulle ons en sê: “Dit is wat Dawid gedoen het.” Dit het hy gedoen so lank hy op die platteland by die Filistyne gewoon het.12 Akis het vir Dawid vertrou, want hy het gedink: hy het vir goed by sy volk Israel in onguns geraak. Hy sal altyd my onderdaan wees.
1
In daardie tyd het die Filistyne hulle leërs vir die stryd begin oproep om teen Israel oorlog te maak. Akis het vir Dawid gesê: “Jy weet natuurlik dat jy en jou manne saam met my in die leër moet optrek.”2
En Dawid het vir Akis gesê: “Maar u weet tog wat ek nog altyd doen.” Toe sê Akis vir Dawid: “Daarom stel ek jou vir goed aan as my lyfwag.”3
Samuel het te sterwe gekom, en die hele Israel het oor hom gerou en hulle het hom in sy stad Rama begrawe. Saul het ook die dodebesweersters en die waarsêers uit die land verban.4
Die Filistyne het bymekaargekom en kamp gaan opslaan by Sunem. Saul het die hele Israel bymekaargemaak en kamp opgeslaan by Gilboa.5 Saul het die kamp van die Filistyne gesien; hy was bang en sy hart het benoud geklop.
6 Hy het die Here geraadpleeg, maar die Here het hom nie geantwoord nie, nóg deur drome, nóg deur die urim, nóg deur profete.
7
Saul het toe vir sy amptenare gesê: “Soek vir my 'n dodebesweerster sodat ek haar kan gaan raadpleeg.” Sy amptenare het vir hom gesê: “Daar is 'n dodebesweerster in En-Dor.”8
Saul het hom vermom en ander klere aangetrek, en hy en twee manne het gegaan en in die nag by die vrou aangekom en gesê: “Tree vir my as waarsegster op deur die gees van 'n afgestorwene, en laat vir my die een opkom wat ek vir jou sê.”9
Maar die vrou het vir hom gesê: “Jy weet baie goed wat Saul gedoen het en dat hy die dodebesweersters en waarsêers in die land uitgeroei het. Waarom stel jy vir my 'n lokval om my dood te maak?”10
Maar Saul het vir haar 'n eed afgelê in die Naam van die Here: “So seker as die Here leef, jy sal nie oor hierdie saak gestraf word nie.”11
Toe vra die vrou: “Wie moet ek vir jou laat opkom?” En hy antwoord: “Laat Samuel vir my opkom.”12
Toe die vrou vir Samuel sien, het sy hard geskreeu en vir Saul gesê: “Waarom het u my bedrieg? U is dan self Saul.”13
Maar die koning het vir haar gesê: “Moenie bang wees nie. Wat sien jy?” en die vrou sê vir Saul: “Ek sien 'n wese uit 'n ander wêreld opkom uit die aarde.”14
Hy sê toe vir haar: “Hoe lyk hy?” en sy sê: “'n Ou man kom op en hy het 'n mantel aan.” Saul het toe geweet dat dit Samuel is en Saul het diep gebuig en eer aan hom betoon.15
Samuel het vir Saul gevra: “Waarom steur jy my deur my te laat opkom?” En Saul antwoord: “Ek is baie bang, want die Filistyne veg teen my, en God het my verlaat. Hy antwoord my nie meer nie, nie deur profete nie en ook nie deur drome nie. Daarom het ek u opgeroep om my in te lig oor wat ek moet doen.”16
Maar Samuel sê: “Waarom raadpleeg jy mý dan as die Here jou verlaat en jou teëstander geword het?17 Die Here het gedoen soos Hy deur my gesê het. Die Here het die koningskap van jou afgeskeur en dit aan jou naaste, aan Dawid, gegee,
18 want jy het nie die bevel van die Here gehoorsaam nie en sy gloeiende toorn nie op Amalek gewreek nie. Daarom het die Here jou nou hierdie ding aangedoen.
19 Die Here sal Israel saam met jou in die mag van die Filistyne oorgee, en môre sal jy en jou seuns by my wees. Die Here sal ook die leër van Israel oorgee in die mag van die Filistyne.”
20
Saul het meteens in sy volle lengte op die grond neergeslaan en hy het baie bang geword vanweë die woorde van Samuel. Hy het geen krag gehad nie, want hy het die hele dag en nag nie geëet nie.21 Toe het die vrou na Saul toe gekom en gesien dat hy baie bewe en sy het vir hom gesê: “Ek het aan u versoek toegegee en ek het my lewe op die spel geplaas toe ek na u geluister het.
22 Gee dan tog nou toe aan my versoek, en laat ek vir u 'n stukkie kos voorsit. Eet dan, sodat daar weer krag in u kom en u verder kan gaan.”
23
Maar hy het geweier en gesê: “Ek wil nie eet nie.” Sy manne en ook die vrou het by hom aangedring totdat hy hulle hulle sin gegee het. Hy het van die grond af opgestaan en op die bed gaan sit.24 Die vrou het 'n kalf by die huis op stal gehad, en sy het dit gou gaan slag. Sy het ook meel gevat, dit geknie en ongesuurde brood gebak.
25 Sy het dit vir Saul en sy manne voorgesit en hulle het geëet. Daarna het hulle opgestaan en dieselfde nag nog weggegaan.
1
Die Filistyne het hulle hele leër bymekaargemaak by Afek, en Israel het kamp opgeslaan by die fontein in Jisreël.2 Terwyl die regeerders van die Filistyne met honderde en duisende verbytrek en Dawid en sy manne heel laaste saam met Akis verbygaan,
3 het die leiers van die Filistyne gesê: “Wat maak hierdie Hebreërs hier?”
Akis het vir die leiers van die Filistyne gesê: “Dit is maar net Dawid, die onderdaan van koning Saul van Israel, wat al geruime tyd by my is. Vandat hy afvallig geword het tot nou toe het ek niks teen hom gevind nie.”4
Maar die leiers van die Filistyne het hulle vererg en vir Akis gesê: “Laat die man omdraai en laat hy teruggaan na sy plek toe wat jy vir hom aangewys het. Hy mag nie saam met ons in die oorlog optrek nie. Dalk draai hy in die geveg teen ons. Hoe sal hy weer by sy koning in die guns kom? Is dit nie met die koppe van ons soldate nie?5 Dit is mos die Dawid van wie hulle in koordanse sing:
“Saul het sy duisende verslaan,6
Akis het toe vir Dawid geroep en vir hom gesê: “So seker as die Here leef, jy is opreg. Ek vind dit goed dat jy saam met my gaan veg, want vandat jy by my gekom het tot nou toe, het ek niks verkeerds by jou gevind nie, maar jy is nie aanvaarbaar vir die regeerders nie.7 Draai nou maar om en gaan in vrede sodat jy jou nie die onguns van die Filistynse regeerders op die hals haal nie.”
8
Maar Dawid het vir Akis gesê: “Wat het ek gedoen, en wat het u by my gevind vandat ek in u diens gekom het tot vandag toe dat ek nie kan kom en teen u vyande veg nie?”9
Akis het geantwoord en Dawid verseker: “Ek is oortuig dat jy so opreg is as 'n boodskapper van die gode. Dis net dat die leiers van die Filistyne gesê het: ‘Hy mag nie saam met ons in die oorlog optrek nie.’10 Maak dan nou môreoggend klaar, ook jou koning se onderdane wat saam met jou gekom het; julle moet môre voordag klaarmaak en as dit lig word, moet julle vertrek.”
11
Toe het Dawid en sy manne klaargemaak om vroeg die môre te vertrek en terug te gaan na die land van die Filistyne toe. Maar die Filistyne het na Jisreël toe opgetrek.1
Toe Dawid en sy manne op die derde dag in Siklag aankom, het die Amalekiete al klaar 'n strooptog onderneem teen die Suidland en teen Siklag. Hulle het Siklag verower en afgebrand.2 Hulle het die vrouens en almal daarin, groot en klein, as krygsgevangenes weggevoer. Hulle het niemand doodgemaak nie, maar almal gedwing om saam met hulle te gaan.
3
Toe Dawid en sy manne in die dorp kom, was dit afgebrand en hulle vrouens, seuns en dogters was as gevangenes weggevoer.4 Dawid en sy manne het hard gehuil totdat hulle nie meer kon huil nie.
5 Die twee vrouens van Dawid, Aginoam uit Jisreël, en Abigajil die weduwee van Nabal die Karmeliet, was ook as gevangenes weggevoer.
6 Dawid was in die nood, want die manne het daaraan gedink om hom met klippe dood te gooi. Almal was verbitterd, elkeen oor sy seuns en dogters, en toe het Dawid hulp gevra by die Here sy God.
7
Dawid het vir die priester Abjatar seun van Agimelek gesê: “Bring tog vir my die skouerkleed nader.” Abjatar het die skouerkleed vir Dawid nader gebring.8
Dawid het die Here geraadpleeg: “Moet ek hierdie bende agtervolg? Sal ek hulle inhaal?” Die Here het hom geantwoord: “Ja, want jy sál hulle inhaal en jou mense red.”9
Dawid en sy ses honderd man het gegaan en by Besorspruit gekom, waar party agtergebly het.10 Dawid self en vier honderd man het die agtervolging voortgesit, en twee honderd man wat te moeg was om Besorspruit deur te gaan, het agtergebly.
11
Hulle het 'n Egiptenaar in die veld gekry en hom na Dawid toe gebring. Hulle het hom kos gegee, en nadat hy geëet het, het hulle hom water laat drink.12 Toe gee hulle hom 'n stukkie gedroogde vye en twee trossies rosyntjies en nadat hy dit geëet het, het hy weer reggekom, want hy het drie dae en nagte nie kos geëet of water gedrink nie.
13
Dawid het hom gevra: “By wie is jy en waar kom jy vandaan?” En hy antwoord: “Ek is 'n Egiptenaar, 'n slaaf van 'n Amalekiet, en my eienaar het my drie dae gelede agtergelaat, want ek het te swak geword.14 Ons het 'n strooptog onderneem in die Filistynse Suidland wat aan Juda behoort, en in die Suidland van Kaleb en ons het Siklag afgebrand.”
15
Dawid vra toe vir hom: “Sal jy ons na hierdie bende toe lei?” Maar hy sê: “Lê tog vir my 'n eed af in die Naam van God dat u my nie sal doodmaak of sal uitlewer in die hand van my eienaar nie, en ek sal u na hierdie bende toe lei.”16
Hy het hulle gelei, en toe hulle weer sien, lê die bende oor die hele gebied versprei, en hulle eet en drink en vier fees met die hele groot buit wat hulle uit die gebied van die Filistyne en van Juda gebring het.17 Dawid het van die laat middag af tot die aand toe en dwarsdeur tot in die vroeë oggend teen hulle geveg en hulle verslaan. Nie een het ontsnap nie, behalwe vier honderd jong manne wat op kamele gery en gevlug het.
18 Dawid het almal wat deur Amalek gevat is, gered; hy het ook sy twee vrouens gered.
19 Daar is niemand, groot of klein, seun of dogter, vermis nie, en ook niks van alles wat deur die Amalekiete gebuit is nie. Dawid het alles teruggebring.
20 Hy het ook al die skape en beeste teruggevat. Sy mense het die goed voor hom uitgedrywe en hulle het gesê: “Dis Dawid se buit.”
21
Toe Dawid aankom na die twee honderd man toe wat te moeg was om agter hom aan te gaan en wat hy by Besorspruit laat bly het, het hulle vir Dawid en sy manne tegemoet gegaan. Dawid het nader gekom na die manne toe en gevra hoe dit met hulle gaan.22
Al die slegte en nikswerd manne uit die groep wat saam met Dawid gegaan het, het opgemerk: “Omdat hulle nie saam gegaan het nie, gee ons nie vir hulle van die buit wat deur ons gered is nie. Elkeen kan net sy vrou en kinders vat en loop.”23
Maar Dawid het gesê: “My broers, julle mag nie so maak nie. Wat het die Here nie alles vir ons gegee nie? Hy het ons bewaar en die bende wat teen ons gekom het, in ons mag oorgegee.24 Wie sal na julle en na hierdie voorstel luister? Nee, soos die aandeel van dié wat gaan veg, is die aandeel van dié wat by die goed agterbly: hulle deel gelykop.”
25
So het dit van toe af gebeur. Hy het dit as voorskrif en bepaling vir Israel vasgestel tot nou toe.26
Toe Dawid in Siklag aangekom het, het hy van die buit na sy vriende, die leiers van Juda, toe gestuur met die boodskap: “Dit is vir julle 'n geskenk uit die buit van die vyande van die Here.”27 Dit was vir die leiers van Bet-El en Ramot in die Suidland, Jattir,
28 Aroër, Sifmot, Estemoa,
29 Rakal, die dorpe van die Jeragmeëliete, die dorpe van die Keniete,
30 Gorma, Bor-Asan, Atak,
31 Hebron en oral waar Dawid en sy manne heen en weer getrek het.
1
Die Filistyne het vir Israel aangeval. Die Israeliete het vir hulle gevlug, en van die manskappe het op Gilboaberg gesneuwel.2 Toe het die Filistyne op Saul en sy seuns toegesak. Hulle het Saul se seuns Jonatan, Abinadab en Malkisua neergevel
3 en toe die aanval op Saul toegespits.
Die boogskutters het hom in die oog gekry, en hy het baie bang vir hulle geword,4 en vir sy wapendraer gesê: “Trek jou swaard en steek my daarmee dood dat daardie heidene nie kom en my doodsteek en in oneer laat sterf nie.”
Maar sy wapendraer wou nie, want hy was baie bang. Saul vat toe self die swaard en val daarin.5 Toe sy wapendraer sien Saul is dood, val hy ook in sy swaard en sterf saam met hom.
6 So is Saul en sy drie seuns en sy wapendraer en al die manskappe by hom op daardie dag saam dood.
7 Die Israeliete wat oorkant die laagte en oorkant die Jordaan gewoon het, het gesien dat die manskappe gevlug het en dat Saul en sy seuns dood is. Hulle het toe die stede verlaat en ook gevlug, en die Filistyne het die stede beset en daar gaan woon.
8
Toe die Filistyne die dag na die geveg die lyke kom stroop, kry hulle Saul en sy drie seuns daar waar hulle op Gilboaberg geval het.9 Hulle het sy kop afgesny en sy wapens afgeruk en dié in die land van die Filistyne rondgestuur om die goeie nuus in hulle tempels en aan hulle mense bekend te maak.
10 Daarna het hulle sy wapenrusting in die tempel van Astarte gesit en sy lyk het hulle teen die muur van Bet-San vasgespyker.
11 Toe die mense van Jabes in Gilead hoor wat die Filistyne met Saul gedoen het,
12 het al die weerbare manne klaargemaak en hulle het die hele nag deur getrek en die lyk van Saul en dié van sy seuns van die muur van Bet-San afgehaal. Hulle het dit na Jabes toe gebring en daar verbrand.
13 Hulle het toe die bene gevat en onder die tamarisk in Jabes begrawe en daarna het hulle sewe dae lank gevas.