1

1

Na die dood van Moses, die dienaar van die Here, het die Here vir Josua, seun van Nun en assistent van Moses, gesê:

2 “Moses my dienaar is dood. Maak jy nou gereed en trek deur die Jordaanrivier, jy en hierdie hele volk. Gaan na die land toe wat Ek aan hulle, die Israeliete, gee.

3 Soos Ek vir Moses gesê het, gee Ek aan julle elke plek waar julle kom:

4 van die woestyn af en van die Libanon af tot aan die groot rivier, die Eufraat, die hele gebied van die Hetiete tot aan die Groot See in die weste, alles sal julle woongebied wees.

5

“Solank jy lewe, sal niemand bestand wees teen jou nie. Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie.

6 Wees sterk, wees vasberade, want jy moet hierdie volk die land in besit laat neem wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het.

7

“Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie. Dan sal jy voorspoedig wees, waar jy ook al gaan.

8 Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees.

9 Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.”

10

Josua het die beamptes van die volk beveel:

11 “Gaan die kamp deur en sê vir die mense: Maak vir julle padkos gereed, want oor drie dae trek julle deur die Jordaan en gaan julle die land in besit neem wat die Here julle God julle as besitting gee.”

12

Vir die stamme Ruben en Gad en vir die halwe Manassestam het Josua gesê:

13 “Julle onthou die woorde van Moses die dienaar van die Here. Hy het vir julle gesê: ‘Die Here julle God sal vir julle 'n vaste woonplek gee; Hy sal julle hierdie gebied gee.’

14 Julle vrouens en kinders en julle vee kan in die gebied aan hierdie kant van die Jordaan bly wat Moses aan julle toegeken het, maar julle, elke weerbare man, moet in formasie voor julle volksgenote uit optrek en hulle help.

15 Eers nadat die Here aan julle volksgenote 'n vaste woonplek gegee het soos vir julle, en hulle ook die gebied in besit geneem het wat die Here julle God aan hulle gee, kan julle terugkom. Dan kan julle julle eie gebied wat Moses die dienaar van die Here aan julle oos van die Jordaan toegeken het, in besit neem.”

16

Hulle het Josua geantwoord: “Ons sal alles doen wat u ons opdra, ons sal gaan waar u ons ook al stuur.

17 Soos ons aan Moses gehoorsaam was, so sal ons aan u gehoorsaam wees. Mag die Here u God by u wees soos Hy by Moses was.

18 Elke man wat hom teen u bevele verset en nie gehoorsaam is aan al die bevele wat u gee nie, sal doodgemaak word. Wees u net sterk en vasberade.”

2

1

Josua seun van Nun het van Sittim af in die geheim twee verkenners uitgestuur en vir hulle gesê: “Gaan kyk die land deur, veral Jerigo.”

Hulle is toe weg en het uitgekom by die huis van 'n prostituut met die naam Ragab en daar tuis gegaan.

2 Die koning van Jerigo het berig gekry dat daar in die nag van die Israeliete af mense aangekom het om die land te verken,

3 en hy het vir Ragab laat weet: “Lewer die manne uit wat na jou toe, na jou huis toe, gekom het. Hulle is hier om die land te verken.”

4

Die vrou het die twee manne weggesteek en vir die koning laat weet: “Daar het manne by my aangekom, maar ek weet nie waarvandaan hulle is nie.

5 Hulle het met donker vertrek toe dit tyd was vir die stadspoort om te sluit, en ek weet nie waarheen hulle is nie. Maak gou en agtervolg hulle. Miskien haal u hulle in.”

6

Sy het die twee manne intussen op die dak laat klim en hulle weggesteek onder die vlasstoppels wat sy daar oopgesprei het.

7 Die koning se manne het na die twee verkenners gaan soek op die pad na die Jordaan toe, in die driwwe se rigting. Nadat die agtervolgers weg is agter die verkenners aan, is die stadspoort gesluit.

8

Voor die verkenners aan die slaap geraak het, is die vrou na hulle toe op die dak

9 en het sy vir hulle gesê: “Ek weet die Here gee vir julle die land; ons is skrikbevange vir julle, al die inwoners van die land bewe van vrees vir julle.

10 Ons het gehoor hoe die Here die water van die Rietsee voor julle laat wegdroog het met julle trek uit Egipte, en ook wat julle met die twee konings van die Amoriete oorkant die Jordaan, met Sihon en Og, gedoen het, hoe julle hulle voor die voet uitgeroei het.

11 Ons het dit gehoor en ons harte het van angs verstyf. Niemand het nog moed teen julle nie, want julle God, die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde.

12

“Ek het julle goed behandel. Lê dan nou vir my 'n eed voor die Here af dat julle my familie ook goed sal behandel, en gee my 'n betroubare aanduiding

13 dat julle my pa en ma, my broers en susters en almal wat by hulle hoort, se lewens sal spaar en ons so van die dood sal red.”

14

Toe sê die manne vir haar: “Ons staan met ons eie lewe in vir julle s'n. As julle nie oor ons praat nie en die Here gee ons die land, sal ons jou goed behandel en ons woord hou.”

15

Sy het hulle met 'n tou deur die venster laat afsak; haar huis was in die stadsmuur ingebou, sodat sy in die muur gewoon het.

16 Haar woorde aan hulle was: “Gaan die berge in sodat die mense wat na julle soek, julle nie raakloop nie. Kruip drie dae daar weg tot hulle die soektog staak. Daarna kan julle julle koers gaan.”

17

Die manne het vir haar gesê: “Die eed wat jy ons laat aflê het, sal ons net bind

18 as jy, wanneer ons die stad aanval, hierdie bloedrooi tou vasbind aan die venster waardeur jy ons laat afsak, en jou pa en ma, jou broers en jou hele familie by jou in die huis bymekaarhou.

19 Enigeen wat by jou huis se deure uitgaan buitentoe, sal self vir sy dood verantwoordelik wees, nie ons nie. Ons hou ons verantwoordelik vir enigeen wat by jou in die huis is; daar sal nie 'n hand teen hom gelig word nie.

20 En as jy oor ons praat, is ons nie gebind aan die eed wat jy ons laat aflê het nie.”

21

Sy het gesê: “Laat dit wees soos julle gesê het,” en sy het hulle laat gaan en hulle is weg. Sy het toe die bloedrooi tou aan die venster vasgebind.

22

Hulle het vertrek en is die berge in. Daar het hulle drie dae gebly tot die mense wat hulle gaan soek het, teruggekom het. Die mense het langs die hele pad gesoek en niks gekry nie.

23 Daarna het die twee manne uit die berge teruggekom en is hulle die rivier oor na Josua seun van Nun toe. Hulle het hom alles vertel wat met hulle gebeur het.

24 Hulle het vir Josua gesê: “Die Here gee die hele land oor in ons mag. Al die inwoners van die land bewe van vrees vir ons.”

3

1

Josua het die môre vroeg van Sittim af vertrek en by die Jordaan aangekom, hy en al die Israeliete. Hulle het daar oorgebly voor hulle deur die rivier sou trek.

2 Na drie dae het die beamptes die kamp deurgegaan

3 en die volk beveel: “Wanneer julle sien die Levitiese priesters dra die verbondsark van die Here julle God, moet julle van julle staanplekke af vertrek en die ark volg,

4 sodat julle kan weet watter pad om te gaan, want julle het nie vantevore met dié pad langs gegaan nie. Maar daar moet 'n behoorlike afstand wees tussen julle en die ark, omtrent nege honderd meter. Moenie te naby hom kom nie.”

5

Josua het vir die volk gesê: “Reinig julle, want môre gaan die Here wonders doen tussen julle.”

6

Vir die priesters het Josua gesê: “Tel die verbondsark op en stap voor die volk uit.”

Hulle het die verbondsark opgetel en voor die volk uit geloop.

7

Toe sê die Here vir Josua: “Ek begin vandag om vir jou hoë aansien in die oë van die hele Israel te gee sodat hulle kan weet dat Ek by jou is soos Ek by Moses was.

8 Sê nou vir die priesters wat die verbondsark dra, hulle moet by die Jordaan gaan staan wanneer hulle by die waterkant kom.”

9

Josua het vir die Israeliete gesê: “Kom nader, luister na die woorde van die Here julle God!”

10

Daarna sê hy: “Hieraan sal julle weet dat die lewende God tussen julle is en dat Hy die Kanaäniete, Hetiete, Hewiete, Feresiete, Girgasiete, Amoriete en Jebusiete sekerlik sal verdryf om vir julle plek te maak:

11 kyk, die verbondsark van die Here van die hele aarde sal voor julle uit die Jordaan in gaan.

12 Wys nou twaalf man aan uit die stamme van Israel, een uit elke stam.

13 Wanneer die voetsole van die priesters aan die Jordaan se water raak, die priesters wat die ark van die Here dra, die Here van die hele aarde, sal die water van die Jordaan wat afkom, afgesny word en op een hoop gaan staan.”

14

Die volk het toe van hulle tente af vertrek om deur die Jordaan te trek. Die priesters wat die verbondsark gedra het, was voor hulle.

15 Die draers van die ark het by die Jordaan aangekom. Gedurende die hele oestyd is die Jordaan gewoonlik vol, oor al sy oewers. Toe die voete van die priesters wat die ark dra, in die vlakwater kom,

16 het die water wat afkom, gaan staan. Dit het op een hoop gaan staan, ver boontoe by Adam, die stad langs Saretan. Die water wat afloop na die see in die Jordaanvallei, die Soutsee, was heeltemal afgesny. Die volk het regoor Jerigo deurgetrek.

17 Die priesters wat die verbondsark van die Here dra, het daar binne in die Jordaan op die droë bedding gaan staan terwyl die hele Israel oor die droë bedding deurgaan tot die hele nasie uiteindelik deur die Jordaan is.

4

1

Nadat die hele nasie deur die Jordaan is, het die Here vir Josua gesê:

2 “Neem nou die twaalf man uit die volk, een uit elke stam,

3 en sê vir hulle: Vat hier uit die Jordaan, op die plek waar die priesters gestaan het, twaalf klippe en neem hulle saam met julle deur en sit hulle neer op die plek waar julle vannag oorbly.”

4

Josua roep toe die twaalf man wat hy uit die Israeliete aangewys het, een uit elke stam,

5 en hy sê vir hulle: “Gaan by die ark van die Here julle God verby tot in die middel van die Jordaan en tel elkeen 'n klip op die skouer, in ooreenstemming met die getal stamme van die Israeliete.

6 Dit moet onder julle as 'n teken dien. Wanneer julle kinders julle eendag vra: ‘Wat beteken hierdie klippe vir u?’

7 moet julle vir hulle sê die Jordaan se water is voor die verbondsark van die Here afgesny; toe die ark deur die Jordaan moes gaan, is die rivier se water afgesny; daarom is hierdie klippe vir die Israeliete 'n blywende herinnering daaraan.”

8

Die Israeliete het gemaak soos Josua gesê het. Hulle het die twaalf klippe in ooreenstemming met die getal stamme van Israel gevat soos die Here vir Josua gesê het, dit met hulle saam deurgeneem na die plek toe waar hulle sou oornag en dit daar neergesit.

9

Josua het ook twaalf klippe binne-in die Jordaan opgerig, op die plek waar die priesters gestaan het wat die verbondsark gedra het. Die klippe is vandag nog daar.

10

Die priesters wat die verbondsark gedra het, het in die Jordaan bly staan tot alles afgehandel was wat die Here vir Josua opgedra het om vir die volk te sê in ooreenstemming met alles wat Moses vir Josua beveel het. Die volk was haastig om deur te gaan.

11 Toe die volk klaar deur is, het die ark van die Here deurgegaan. Die priesters was voor die volk.

12 Die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam het, soos Moses hulle beveel het, in formasie voor die Israeliete getrek.

13 Omtrent veertig duisend gewapende manne het vir die oorlog die rivier deurgegaan voor die ark van die Here uit na die Jerigovlakte toe.

14

Die Here het daardie dag aan Josua hoë aansien gegee in die oë van die hele Israel. Hulle het sy lewe lank aan hom eerbied betoon soos aan Moses.

15

Die Here het vir Josua gesê:

16 “Sê vir die priesters wat die ark met die getuienis dra, hulle moet uit die Jordaan kom.”

17

Josua het toe die priesters beveel om uit die Jordaan te kom,

18 en toe die priesters wat die verbondsark van die Here dra, uit die Jordaan kom en hulle voetsole die grond aan die kant raak, het die rivier se waters weer op hulle ou plek begin loop. Soos tevore het hy weer al sy oewers oorstroom.

19

Die volk het op die tiende dag van die eerste maand uit die Jordaan gekom en kamp opgeslaan in Gilgal, oos van Jerigo.

20 Josua het die twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan saamgebring het, in Gilgal opgestel

21 en vir die Israeliete gesê: “As julle kinders eendag hulle pa's vra: ‘Wat beteken daardie klippe?’

22 moet julle die kinders inlig en sê: Israel het op droë grond deur hierdie Jordaanrivier gegaan.

23 Die Here julle God het die Jordaan se water voor julle laat opdroog sodat julle kon deurgaan, net soos Hy met die Rietsee gemaak het toe Hy dit voor ons laat opdroog het sodat ons kon deurgaan.

24 Hy het dit gedoen sodat al die volke van die aarde kan besef dat die mag van die Here groot is, en sodat julle die Here julle God altyd sal dien.

5

1

“Toe al die konings van die Amoriete wes van die Jordaan en al die konings van die Kanaäniete aan die see hoor dat die Here die water van die Jordaan voor die Israeliete laat opdroog het sodat ons kon deurgaan, het hulle harte van angs verstyf en het hulle nie meer moed teen die Israeliete gehad nie.”

2

In dié tyd het die Here vir Josua gesê: “Maak vir jou klipmesse en besny die Israeliete. Daar moet weer 'n besnydenis wees.”

3

Josua het toe vir hom klipmesse gemaak en hy het die Israeliete besny. Die plek is genoem die Heuwel van die Besnydenis.

4 Die rede waarom Josua die besnydenis moes uitvoer, is die volgende: die hele volk wat uit Egipte getrek het, die mans, al die weerbare manne, is op pad in die woestyn dood met die uittog uit Egipte;

5 al die mense wat destyds getrek het, was besny, maar die mense wat in die woestyn onderweg gebore is tydens die uittog uit Egipte, was nie een besny nie;

6 die Israeliete het veertig jaar lank in die woestyn rondgetrek, totdat die hele nasie uitgesterf het, dit wil sê die weerbare manne wat uit Egipte getrek het en ongehoorsaam was aan die opdrag van die Here. Hy het destyds 'n eed afgelê dat hulle nie die land sou sien wat Hy met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee nie, 'n land wat oorloop van melk en heuning;

7 Hy het daardie mense se kinders in hulle plek gestel en vir hulle het Josua besny, want hulle was nog nie besny nie, hulle is nie langs die pad besny nie.

8

Nadat die hele nasie klaar besny is, het hulle eers in die kamp gebly tot hulle gesond was.

9

Die Here het vir Josua gesê: “Vandag het Ek julle bevry van die smaad wat van Egipte se tyd af op julle rus.”

Josua het die plek toe Gilgal genoem. Dit is vandag nog die naam.

10

Terwyl die Israeliete nog in Gilgal in die kamp was, het hulle die paasfees daar in die Jerigovlakte gevier, op die veertiende van die maand, in die aand.

11 Die oggend na paasfees, presies op dié dag, het hulle ongesuurde brood en gebraaide koring, van die opbrengs van die land, geëet.

12 Daardie oggend toe hulle van die opbrengs van die land eet, het die manna weggebly; daar was nie weer manna vir die Israeliete nie: hulle het daardie jaar van die land Kanaän se eie oes geëet.

13

Josua was naby Jerigo. Toe hy sien, staan daar 'n man voor hom met 'n ontblote swaard in die hand. Josua het na hom toe gegaan en hom gevra: “Is u aan ons kant of aan ons vyande s'n?”

14

“Nee,” sê die man, “ek is die aanvoerder van die leër van die Here. Daarom is ek hier.”

Josua het diep gebuig en vir die man gesê: “Wat wil u aan my, u dienaar, sê?”

15

Toe sê die leëraanvoerder van die Here vir Josua: “Trek jou skoene uit, want die plek waarop jy staan, is 'n gewyde plek.”

Josua het dit gedoen.

6

1

Jerigo was gesluit en verskans teen die Israeliete; niemand het uitgegaan of ingekom nie.

2

Die Here het vir Josua gesê: “Ek gaan Jerigo, sy koning en sy soldate nou in jou mag oorgee.

3 Julle moet om die stad loop; al die manne onder wapen moet een maal om die stad gaan, en dit moet julle ses dae lank doen.

4 Sewe priesters moet elkeen 'n ramshoring voor die ark uit dra.

“Die sewende dag moet julle sewe maal om die stad loop. Dan moet die priesters die ramshorings blaas,

5 en sodra die ramshorings blaas en julle dit hoor, moet al die manskappe die aanvalskreet hard uitskreeu. Die muur van die stad sal dan inmekaar stort en die manskappe kan oorklim, elkeen reguit vorentoe.”

6

Josua seun van Nun het die priesters geroep en vir hulle gesê: “Vat die verbondsark en laat sewe priesters elkeen 'n ramshoring voor die ark van die Here uit dra.”

7

Vir die manskappe het hy gesê: “Kom verby en loop om die stad. Die gewapende manne moet verbygaan voor die ark van die Here uit.”

8

Josua was nog besig om met die manskappe te praat, toe kom die sewe priesters wat elkeen 'n ramshoring voor die ark van die Here uit moes dra, verby en blaas die ramshorings terwyl die verbondsark van die Here agter hulle aan kom.

9 Die gewapende manne het voor die priesters geloop wat die ramshorings blaas, en die agterhoede het die ark gevolg. Terwyl hulle loop, het die ramshorings geblaas.

10

Josua het die manskappe beveel: “Julle moenie skreeu of 'n geluid laat hoor nie; nie 'n woord moet uit julle mond kom voor die dag dat ek vir julle sê: ‘Skreeu!’ nie, dan moet julle skreeu.”

11 Josua het die ark van die Here toe om die stad laat gaan. Toe dit een maal om was, het hulle na die kamp toe teruggegaan en die nag in die kamp deurgebring.

12 Die volgende môre het Josua vroeg begin. Die priesters het die ark van die Here gedra.

13 Die sewe priesters wat elkeen 'n ramshoring voor die ark van die Here uit moes dra, het die ramshorings geblaas terwyl hulle loop; die gewapende manne het voor hulle geloop, en die agterhoede het die ark van die Here gevolg. Terwyl hulle loop, het die ramshorings geblaas.

14 Hulle het die tweede dag een maal om die stad geloop en het toe teruggegaan kamp toe. Dit het hulle ses dae gedoen.

15

Die sewende dag het hulle vroeg, toe die rooidag breek, begin. Hulle het sewe maal om die stad gegaan, in dieselfde volgorde as tevore. Daardie dag het hulle dus sewe maal om die stad gegaan.

16 Na die sewende maal het die priesters die ramshorings geblaas. Josua het vir die manskappe gesê: “Skreeu! Die Here gee die stad aan julle oor!

17 Dit moet heeltemal uitgedelg word as banoffer vir die Here: die stad en al wat daarin is, behoort aan die Here. Net die prostituut Ragab mag lewe, sy en almal by haar in die huis, want sy het die verkenners wat deur ons uitgestuur is, weggesteek.

18 Maar weerhou julle van wat aan die Here behoort. Moet niks vat van wat aan Hom behoort en vernietig moet word nie, anders maak julle dat die kamp van Israel self vernietig moet word en bring julle die dood daaroor.

19 Die silwer en goud en die brons- en ystergoed in die stad is alles aan die Here gewy. Dit moet in die skatkis van die Here kom.”

20

Toe skreeu die manskappe en die ramshorings blaas. Net toe die manskappe die ramshorings hoor, het hulle die aanvalskreet hard uitgeskreeu. Toe stort die mure inmekaar en die manskappe gaan oor, die stad in. Hulle het die stad ingeneem

21 en al wat daarin is, uitgedelg, man en vrou, jonk en oud, selfs die beeste, die skape en die donkies.

22

Vir die twee manne wat die land moes verken, het Josua gesê: “Gaan na die huis van die prostituut toe en bring die vrou en al haar mense uit soos julle haar met 'n eed beloof het.”

23

Die verkenners het toe gegaan en vir Ragab, haar pa en ma, haar broers en al haar mense, haar hele familie, uitgebring en vir hulle 'n plek buite die kamp van Israel ingerig.

24 Die stad met alles daarin is verbrand, net die silwer en goud en die brons- en ystergoed is in die skatkis van die huis van die Here gesit.

25

Josua het die prostituut Ragab en haar familie, al haar mense, laat lewe. Sy het tussen die Israeliete gewoon, en haar nageslag woon nou nog hier, omdat sy die manne vir wie Josua gestuur het om Jerigo te verken, weggesteek het.

26

Josua het destyds plegtig verklaar:

“Die Here sal die man straf
wat dié stad, Jerigo, probeer herbou.
Dit sal hom sy oudste seun kos
as hy die fondament lê
en sy jongste as hy die poortdeure hang.”

27

Die Here was by Josua. Josua was oor die hele land bekend.

7

1

Die Israeliete het troueloos gehandel met die banoffer wat aan die Here behoort het. Akan seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag uit die Judastam, het van die goed wat aan die Here gewy was, gevat en daardeur het die toorn van die Here teen die Israeliete ontvlam.

2

Josua het van Jerigo af manne gestuur na Ai toe, naby Bet-Awen, oos van Bet-El, en vir hulle gesê: “Gaan verken die land.”

Die manne is toe weg en het Ai verken.

3 Toe hulle by Josua terugkom, sê hulle vir hom: “Dit is nie nodig dat al die manskappe gaan nie. So twee of drie duisend man kan gaan en Ai inneem. Die manskappe hoef hulle nie almal daar te gaan moeg maak nie, daar is min mense in Ai.”

4

Daar het toe omtrent drie duisend man daarheen opgetrek, maar hulle moes op die vlug slaan vir die mense van Ai,

5 en dié het omtrent ses en dertig van hulle doodgemaak. Die mense van Ai het van die stadspoort af op hulle hakke gebly tot by die klipskeure en hulle daar teen die afdraand doodgemaak.

Die volk se moed is gebreek,

6 en Josua het sy klere geskeur en tot die aand toe met sy gesig in die grond gelê voor die ark van die Here, hy en die leiers van Israel. Hulle het stof op hulle koppe gegooi.

7

Daarna het Josua gesê: “Ag, Here, waarom het U eintlik hierdie volk oor die Jordaan gebring? Om ons in die mag van die Amoriete oor te gee dat hulle ons kan uitroei? Het ons tog maar liewer oorkant die Jordaan gebly!

8 Here, wat moet ek sê noudat Israel vir sy vyande moes vlug?

9 Die Kanaäniete en al die inwoners van die land sal daarvan hoor en ons omsingel en alle gedagtenis aan ons uit die land uitroei! Wat sal U dán doen om die grootheid van u Naam te verseker?”

10

Toe sê die Here vir Josua: “Staan op. Hoekom lê jy met jou gesig in die grond?

11 Israel het gesondig en my verbond wat Ek hulle opgelê het, verbreek. Hulle het van die goed wat aan My gewy is, gevat, hulle het gesteel, hulle het gelieg en van die goed by hulle s'n gesit.

12 Daarom kan die Israeliete nie teen hulle vyande staande bly nie; hulle vlug vir hulle vyande omdat hulle nou self mense geword het wat vernietig moet word. As julle nie al die gewyde goed tussen julle verwyder nie, sal Ek nie meer by julle bly nie.

13 Staan op, reinig die volk, sê vir hulle: Reinig julle vir môre, want so sê die Here die God van Israel: Daar is gewyde goed tussen julle, Israel. Julle kan nie teen julle vyande staande bly as julle nie die gewyde goed tussen julle verwyder nie.

14 Kom môre nader volgens julle stamme; die stam wat deur die Here aangewys word, moet volgens families nader kom, die familie wat deur die Here aangewys word, moet volgens gesinne nader kom, en die gesin wat deur die Here aangewys word, moet man vir man nader kom.

15 Die man wat gevang word met die gewyde goed, moet verbrand word, hy en al sy mense, want hy het die verbond van die Here verbreek en 'n roekelose sonde in Israel begaan.”

16

Josua het die môre vroeg opgestaan en Israel volgens stamme laat nader kom. Die stam Juda is aangewys.

17 Toe hy die families uit Juda laat nader kom, is die Seragfamilie aangewys, en toe hy die Seragfamilie man vir man laat nader kom, is Sabdi aangewys.

18 Toe hy die gesin van Sabdi man vir man laat nader kom, is Akan seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag uit die Judastam aangewys.

19

Josua het vir Akan gesê: “My seun, gee tog aan die Here die God van Israel die eer wat Hom toekom en doen belydenis voor Hom. Sê my wat jy gedoen het, moet dit nie vir my wegsteek nie.”

20

Toe sê Akan vir Josua: “Dit is waar. Ek het gesondig teen die Here die God van Israel. Wat ek gedoen het, is dit:

21 ek het onder die buit pragtige klere uit Sinar gesien en ook sowat twee kilogram silwer en 'n staaf goud van meer as 'n halwe kilogram; ek wou dit baie graag hê en ek het dit gevat. Dit is in die grond in my tent begrawe. Die silwer is heel onder.”

22

Josua het mense gestuur, en hulle het na die tent toe gehardloop en daar kry hulle toe die goed in Akan se tent, die silwer onder.

23 Hulle het die goed uitgehaal en na Josua en al die Israeliete toe gebring. Toe hulle dit daar voor die Here uitskud,

24 vat Josua en die hele Israel saam met hom vir Akan seun van Serag en bring hom na die Akorlaagte toe, en ook die silwer, die klere en die staaf goud, Akan se seuns en dogters, sy beeste, sy donkies, sy kleinvee, sy tent, alles wat aan hom behoort.

25

Josua het gesê: “Jy het die dood oor óns gebring, vandag bring die Here die dood oor jóú!”

Die hele Israel het toe vir Akan met klippe doodgegooi en hom en sy mense en sy besittings verbrand en met klippe toegegooi.

26 Hulle het 'n groot hoop klippe bo-oor gepak. Dit is vandag nog daar. Daarna het die Here se toorn bedaar. Hulle noem die plek tot vandag toe die Akorlaagte .

8

1

Die Here het vir Josua gesê: “Moenie bang wees nie, moenie bekommerd wees nie. Neem al die manskappe met jou saam en trek op teen Ai. Ek gee die koning van Ai, sy volk, sy stad, sy land nou aan jou oor.

2 Jy moet met Ai en sy koning doen soos jy met Jerigo en sy koning gedoen het. Net die buit en die vee kan julle vir julle vat. Laat van die manskappe hulle agter die stad versteek.”

3

Josua en al die manskappe het toe klaargemaak om teen Ai op te trek. Josua het dertig duisend dapper manne gekies en hulle in die nag gestuur

4 en hulle beveel: “Julle moet julle agter die stad versteek, nie te ver van die stad af nie, en julle moet gereed wees.

5 Ek en al die manskappe by my sal na die stad toe aankom, en as hulle ons tegemoet kom, soos die vorige keer, sal ons vir hulle vlug.

6 Hulle sal agter ons aan kom en so sal ons hulle van die stad af weglok. Hulle sal dink ons vlug vir hulle soos die vorige keer. Ons sal vir hulle vlug,

7 en dan moet julle uit die skuilplek opstaan en die stad in besit neem. Die Here julle God gee dit aan julle oor.

8 Wanneer julle die stad ingeneem het, moet julle dit aan die brand steek. Julle moet doen wat die Here beveel het. Ek dra die opdrag nou aan julle oor.”

9

Josua het hulle toe laat gaan en hulle het hulle gaan versteek. Hulle het tussen Bet-El en Ai gelê, wes van Ai. Josua het dié nag tussen die manskappe geslaap.

10

Vroeg die môre is Josua uit. Hy het sy manskappe in gelid opgestel en hy en die leiers van Israel het die manskappe na Ai toe gelei.

11 Al die manskappe by hom het opgetrek en nader gegaan en reg voor die stad aangekom. Hulle het kamp opgeslaan noord van Ai. Die laagte was tussen hulle en Ai.

12 Josua het omtrent vyf duisend man geneem en hulle 'n verskuilde posisie laat inneem tussen Bet-El en Ai, wes van die stad.

13 Die manskappe het die hele kamp wat noord van die stad moes wees, opgeslaan, maar die ander deel was wes van die stad. Josua het dié nag afgegaan na die laagte toe.

14

Die koning van Ai het gesien daar kom 'n aanval. Die manne van die stad het haastig klaargemaak en hulle het Israel vroeg die môre tegemoet getrek vir die veldslag. Die koning en al sy manskappe is na die plek toe waar hulle Israel wou ontmoet, regoor die Jordaanvallei. Hy het nie geweet van die versteekte afdeling agter die stad nie.

15 Josua en die hele Israel het hulleself laat terugdryf deur die manne van Ai, en in die rigting van die woestyn gevlug.

16 Al die manskappe in die stad is toe vir die agtervolging opgeroep; hulle het Josua agtervolg en is van die stad af weggelok.

17 Daar het geen man in Ai of Bet-El agtergebly wat nie uit is agter Israel aan nie. Hulle het die stad net so oop gelos en het Israel agternagesit.

18

Toe sê die Here vir Josua: “Steek die swaard wat jy in jou hand het, na Ai toe uit, want Ek gee die stad in jou mag oor.”

Josua het die swaard wat hy in sy hand gehad het, na die stad toe uitgesteek,

19 en toe staan die versteekte manskappe op uit hulle skuilplekke en storm, net toe hy sy hand uitsteek. Hulle is die stad in en het dit ingeneem en dit dadelik aan die brand gesteek.

20 Toe die manne van Ai terugkyk, sien hulle die rook van die stad in die lug opstyg. Hulle kon nêrens heen vlug nie, nie hiernatoe of soontoe nie, want Josua se manne wat woestyn se kant toe gevlug het, het omgedraai na hulle agtervolgers toe.

21 Josua en die hele Israel het gesien die versteekte manskappe vat die stad, en toe die rook van die stad uitslaan, draai hulle om en val die manne van Ai aan.

22 Dié mense het die stad verlaat om die Israeliete tegemoet te gaan, maar daar was nou Israeliete weerskante van hulle, en dié het hulle neergevel tot daar nie een oor was wat ontkom en vrygeraak het nie.

23 Die Israeliete het die koning van Ai gevang en hom na Josua toe gevat.

24

Israel het al die inwoners van Ai doodgemaak wat vir Josua-hulle in die veld en die woestyn agternagesit het. Die agtervolgers het almal gesneuwel, tot die laaste man toe. Daarna is die hele Israel terug na Ai toe en het hulle al die mense in die stad doodgemaak.

25 Almal wat daardie dag gesneuwel het, mans en vrouens, was twaalf duisend, al die mense van Ai.

26 Josua het nie sy hand met die swaard teruggetrek voordat al die inwoners van Ai uitgeroei was nie.

27 Israel het net die vee en die buit in die stad vir hulleself gevat, soos die Here vir Josua beveel het.

28 Josua het Ai afgebrand en daarvan vir altyd 'n verlate ruïne gemaak. Dit is nou nog so.

29 Hy het die koning van Ai aan 'n boom opgehang en hom daar laat bly tot die aand toe. Toe die son ondergaan, het Josua opdrag gegee, en hulle het die lyk van die boom afgehaal, dit in die stadspoort gegooi en 'n groot hoop klippe daarop gepak, wat vandag nog daar is.

30

Daarna het Josua op Ebalberg 'n altaar gebou vir die Here die God van Israel,

31 soos Moses, die dienaar van die Here, die Israeliete beveel het en soos dit geskryf staan in die wetboek van Moses: “'n altaar van ongekapte klip waarop daar nie 'n ysterwerktuig gebruik is nie.” Hulle het brandoffers vir die Here op die altaar gebring en ook maaltydoffers geoffer.

32 Josua het daar op die klippe 'n afskrif aangebring van die wet van Moses. Hy het dit voor die oë van die Israeliete neergeskrywe.

33 Die hele Israel, sy leiers, sy beamptes en sy regters het daar weerskante van die ark gestaan voor die Levitiese priesters wat die verbondsark van die Here dra. Vreemdelinge sowel as burgers was daar. Een helfte het regoor Gerisimberg gestaan en die ander helfte regoor Ebalberg, soos Moses, die dienaar van die Here, vroeër beveel het toe hy bepaal het dat die volk Israel die seën moet ontvang.

34 Daarna het Josua alles wat die wet sê, die seën sowel as die straf, voorgelees, net soos dit geskryf staan in die wetboek.

35 Daar was nie een woord van alles wat Moses beveel het wat Josua nie voor die hele gemeente van Israel voorgelees het nie. Die vrouens en die kinders en die vreemdelinge wat tussen die Israeliete gebly het, was by.

9

1

Al die konings wes van die Jordaan, dié in die Bergland, in die Laeveld, aan die hele kus van die Groot See en tot regoor die Libanon, die Hetiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, het van Josua gehoor

2 en hulle het eendragtig saamgestaan om teen hom en Israel te veg.

3

Maar toe die inwoners van Gibeon hoor wat Josua met Jerigo en Ai gedoen het,

4 het hulle 'n slim plan gemaak. Hulle het padkos ingepak; hulle het verslete saalsakke op hulle donkies saamgeneem en verslete wynsakke wat geskeur en weer toegewerk was;

5 aan hulle voete was verslete, gelapte skoene en hulle het verslete klere aangehad; al hulle padkos was droog en verkrummel.

6 Hulle het na Josua toe in die kamp by Gilgal gegaan en vir hom en die Israeliete gesê: “Ons kom uit 'n ver land en ons kom vra dat u met ons 'n verdrag sluit.”

7

Die Israeliete het vir die Gibeoniete, wat Hewiete was, gesê: “Dalk woon julle hier tussen ons. Hoe kan ons dan met julle 'n verdrag sluit?”

8

Hulle het vir Josua gesê: “Ons wil u onderdane wees.”

“Maar wie is julle en waar kom julle vandaan?” vra Josua.

9

En hulle antwoord: “Ons kom uit 'n baie ver land; ons kom op grond van die roem van die Here u God. Ons het van Hom gehoor en van alles wat Hy met Egipte gedoen het,

10 en ook van alles wat Hy met die twee Amoritiese konings oorkant die Jordaan gedoen het, met koning Sihon van Gesbon en met koning Og van Basan wat in Astarot gewoon het.

11 Ons leiers en al die inwoners van ons land het vir ons gesê: Vat padkos saam en gaan die Israeliete tegemoet en sê vir hulle: Ons wil onderdane wees; wil u nie met ons 'n verdrag sluit nie?

12 Kyk ons brood, dit was nog warm toe ons dit uit ons huise gebring het om vir padkos saam te vat die dag toe ons na u toe vertrek het, en nou is dit droog en verkrummel.

13 En kyk ons wynsakke wat nuut was toe ons hulle vol gemaak het, nou is hulle vol barste. Kyk hoe verslete is ons klere en ons skoene van die lang pad.”

14

Die Israeliete het na die padkos gekyk, maar nie die Here geraadpleeg nie.

15 Josua het die Gibeoniete goed behandel en met hulle 'n verdrag gesluit dat hulle lewens gespaar sal word. Die leiers van die volksvergadering het dit met 'n eed bevestig.

16

Drie dae nadat die verdrag gesluit is, het die Israeliete gehoor dat die Gibeoniete hulle bure is en tussen hulle woon.

17 Die Israeliete het dadelik vertrek en op die derde dag by die stede van die Gibeoniete aangekom. Die stede was Gibeon, Kefira, Beërot en Kirjat-Jearim.

18 Die Israeliete het hulle nie aangeval nie omdat die leiers van die volksvergadering 'n eed teenoor die Gibeoniete afgelê het voor die Here die God van Israel, maar die hele volk het teen die leiers gemor.

19 Die leiers het vir die volk gesê: “Ons het 'n eed teenoor hulle afgelê voor die Here die God van Israel. Ons kan hulle nie nou aanval nie.

20 Ons moet ons woord hou en hulle lewens spaar sodat die eed wat ons teenoor hulle afgelê het, nie die straf van God op ons bring nie.”

21

Die leiers het verder ook nog vir die volk gesê: “Laat hulle lewe, maar dan moet hulle houtkappers en waterdraers van die hele volk word.”

Nadat die leiers met die Israeliete gepraat het,

22 het Josua die Gibeoniete geroep en vir hulle gesê: “Hoekom het julle ons bedrieg? Julle het gesê julle woon baie ver van ons af en al die tyd woon julle tussen ons.

23 Daar rus nou 'n vloek op julle. Julle sal altyd slawe wees: houtkappers en waterdraers vir die huis van my God.”

24

Hulle het Josua geantwoord: “Daar is oor en oor aan ons vertel wat die Here u God vir sy dienaar Moses gesê het, naamlik dat Hy aan u die hele land gee en dat Hy al die inwoners van die land sal uitroei om vir u plek te maak. Ons het vir ons lewens gevrees, en daarom het ons dié ding gedoen.

25 Ons is in u hande, doen met ons wat goed en reg is in u oë.”

26

Josua het toe só gemaak: hy het hulle beskerm teen die Israeliete dat dié hulle nie doodmaak nie,

27 maar hy het hulle van dié dag af houtkappers en waterdraers gemaak vir die volk en vir die altaar van die Here op dié plek wat die Here sou kies. Dit is vandag nog so.

10

1

Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het gehoor dat Josua Ai ingeneem en heeltemal vernietig het, dat hy met Ai en sy koning dieselfde gedoen het as wat hy met Jerigo en sy koning gedoen het, en ook dat die inwoners van Gibeon met Israel vrede gemaak het en by hulle woon.

2 Die mense van Jerusalem het baie bang geword, want Gibeon was 'n belangrike stad, soos 'n stad met 'n koning, en groter as Ai, en al sy manne was dapper vegters.

3 Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het toe vir koning Hoham van Hebron, vir koning Piram van Jarmut, vir koning Jafia van Lakis en vir koning Debir van Eglon laat weet:

4 “Kom help my dat ons Gibeon aanval; hulle het vrede gemaak met Josua en die Israeliete.”

5

Die vyf Amoritiese konings, die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon, het toe elkeen met sy hele leër gekom, hulle manskappe teen Gibeon ontplooi en die aanval begin.

6 Die manne van Gibeon het vir Josua in die kamp by Gilgal laat weet: “Moet ons tog nie nou in die steek laat nie, u moet gou hiernatoe kom en ons red. U moet ons help, want al die Amoritiese konings in die Bergland het 'n bondgenootskap teen ons gesluit.”

7

Josua en al sy manskappe, al die dapper vegters, het toe uit Gilgal vertrek.

8 Die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie, Ek gee hulle in jou mag oor. Nie een van hulle is teen jou bestand nie.”

9

Josua het van Gilgal af die hele nag deur getrek en die Amoriete skielik oorval.

10 Die Here het hulle paniekbevange laat word vir Israel. Israel het 'n groot slagting onder hulle aangerig in Gibeon, hulle agtervolg deur die pas na Bet-Goron toe en hulle bly doodmaak tot by Aseka en tot by Makkeda.

11 Terwyl hulle op die vlug was vir Israel met die afdraand na Bet-Goron toe, het die Here van daar af tot by Aseka groot haelstene uit die lug op hulle laat val. Daar is meer van hulle deur die hael dood as wat deur die Israeliete met die swaard doodgemaak is.

12

Dié dag toe die Here die Amoriete in die mag van die Israeliete gegee het, het Josua die Here om hulp gevra. Ten aanhore van Israel het hy gesê:

“Son, staan stil in Gibeon,
en maan, staan stil in Ajalonlaagte!”

13

Die son het stilgestaan, die maan het nie geroer nie totdat Israel sy vyande verslaan het. Dit staan so geskrywe in die Boek van die Opregte. Die son het halfpad in die hemel bly staan. Byna 'n volle dag was hy nie haastig om onder te gaan nie.

14 So 'n dag was daar nie voorheen of daarna nie, toe die Here vir 'n mens geluister het! Die Here het vir Israel die oorlog gevoer.

15

Daarna is Josua, en die hele Israel saam met hom, terug na die kamp toe in Gilgal.

16

Die vyf konings het gevlug en in 'n grot in Makkeda gaan wegkruip.

17 Josua het berig gekry dat hulle ontdek is waar hulle weggekruip het,

18 en hy het beveel: “Rol groot klippe in die bek van die grot en sit daar manne om hulle op te pas.

19 Maar julle moenie daar bly staan nie. Agtervolg julle vyande en val hulle van agter af aan. Moenie dat hulle by hulle stede kom nie. Die Here julle God het hulle in julle mag oorgegee.”

20 [20-21] Toe Josua en die Israeliete klaar was met die groot slagting onder die vyande, is al die manskappe behoue terug na die kamp toe, na Josua toe in Makkeda. Die vyand is tot die laaste man toe doodgemaak, afgesien van die paar wat ontkom en die vestingstede gehaal het. Niemand het dit gewaag om iets teen die Israeliete te sê nie.

21

22

Josua het gesê: “Maak oop die grot se bek en bring die vyf konings uit die grot uit na my toe.”

23 Hulle het dit gedoen, hulle het die vyf konings uit die grot uit na Josua toe gebring, die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon.

24 Nadat hulle die konings na Josua toe gebring het, roep hy al die Israeliete en sê vir die offisiere wat met hom saamgegaan het: “Kom hier, sit julle voete op die konings se nekke.”

Hulle het dit toe gedoen,

25 en Josua het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie, moenie bekommerd wees nie, wees sterk, wees vasberade. So sal die Here maak met al julle vyande teen wie julle nog moet oorlog maak.”

26

Daarna het Josua die konings doodgemaak. Hy het hulle elkeen aan 'n boom opgehang en hulle het daar bly hang tot die aand toe.

27 Met sononder is hulle op bevel van Josua van die bome af afgehaal en in die grot gegooi waar hulle weggekruip het. Die bek van die grot is met groot klippe toegepak. Dié is tot vandag toe nog daar.

28

Daardie dag het Josua ook Makkeda ingeneem. Hy het die mense en hulle koning laat doodmaak en al wat leef in die stad uitgeroei. Niemand het vrygekom nie. Hy het met die koning van Makkeda gedoen soos met die koning van Jerigo.

29

Van Makkeda af is Josua, met die hele Israel by hom, na Libna toe. Hy het Libna aangeval,

30 en die Here het ook dié stad met sy koning in die mag van Israel oorgegee. Josua het die mense, al wat leef in die stad, doodgemaak. Niemand het vrygekom nie. Hy het met die koning van Libna gedoen soos met die koning van Jerigo.

31

Van Libna af is Josua, met die hele Israel by hom, na Lakis toe. Hy het sy manskappe teen die stad ontplooi en dit aangeval.

32 Die Here het Lakis in die mag van Israel oorgegee, en Israel het die stad na twee dae ingeneem en al wat leef daarin doodgemaak, net soos hy met Libna gedoen het.

33 Toe koning Horam van Geser vir Lakis te hulp snel, het Josua hom en sy manskappe ook verslaan. Niemand het vrygekom nie.

34

Van Lakis af is Josua, met die hele Israel by hom, na Eglon toe. Hy het sy manskappe teen die stad ontplooi en dit aangeval.

35 Hulle het die stad nog dieselfde dag ingeneem en al wat leef daarin doodgemaak. Josua het die hele stad uitgeroei, net soos hy met Lakis gedoen het.

36

Van Eglon af het Josua, met die hele Israel by hom, teen Hebron opgetrek en die stad aangeval.

37 Hulle het die stad ingeneem en die koning, die inwoners van al die buitedorpe en al wat in die stad leef, doodgemaak. Niemand het ontkom nie. Soos Josua met Eglon gedoen het, het hy ook Hebron en al wat daarin leef, uitgeroei.

38

Daarna het Josua, met die hele Israel by hom, na Debir toe gedraai en die stad aangeval.

39 Hy het dit ingeneem, die koning en die inwoners van die buitedorpe doodgemaak en al die mense in die stad uitgeroei. Niemand het ontkom nie. Soos hy met Hebron en met Libna en sy koning gedoen het, het hy ook met Debir en sy koning gedoen.

40 Josua het die hele gebied platgeloop, die Bergland, die Suidland, die Laeveld, die Hange, al die konings daar. Hy het niemand laat vrykom nie. Hy het alles wat asem het, uitgeroei, soos die Here die God van Israel beveel het.

41 Josua het hulle platgeloop van Kades-Barnea af tot by Gasa, ook die hele Gosengebied en tot by Gibeon.

42 Hy het al die konings en hulle lande in een veldtog oorwin, want die Here die God van Israel het die oorlog vir Israel gevoer.

43 Daarna is Josua, en die hele Israel saam met hom, terug na die kamp toe in Gilgal.

11

1

Koning Jabin van Hasor het gehoor van Josua se oorwinnings. Hy stuur toe boodskappe aan koning Jobab van Madon, aan die konings van Simron en Aksaf

2 en aan die konings in die noordelike Bergland, dié in die Jordaanvallei suid van Gennesaret, in die Laeveld en op die bergrug van Dor in die weste,

3 die Kanaäniete in die ooste en die weste, die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete in die Bergland en die Hewiete onderkant Hermon in die Mispegebied.

4 Hulle het almal gekom met hulle leërs, 'n groot menigte, so baie soos die sand van die see. Hulle het ook baie perde en strydwaens gehad.

5 Al die konings het 'n bondgenootskap gesluit en saam hulle soldate vir die oorlog teen Israel ontplooi by die Meromwaters.

6

Die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie. Môre dié tyd gee Ek hulle oor aan Israel, dan sneuwel hulle almal. Jy moet hulle perde se hakskeensenings afsny en hulle strydwaens verbrand.”

7

Josua en al sy manskappe het die vyand skielik oorval by die Meromwaters.

8 Die Here het hulle in die mag van Israel oorgegee en dié het hulle verslaan en hulle agtervolg by Groot-Sidon, Misrefot-Majim en die Mispelaagte in die ooste. Die Israeliete het hulle uitgeroei. Nie een het vrygekom nie.

9 Josua het met hulle gedoen soos die Here vir hom gesê het: hy het hulle perde se hakskeensenings afgesny en hulle strydwaens verbrand.

10

Daarna het Josua na Hasor toe gegaan, die stad ingeneem en sy koning doodgemaak. Hasor het vroeër die leiersposisie ingeneem tussen al die koninkryke daar.

11 Die Israeliete het al die mense in die stad doodgemaak. Josua het hulle uitgeroei sodat niks wat asemhaal, bly lewe het nie. Die stad self het hy afgebrand.

12

Josua het ook al die stede van die ander konings ingeneem en die konings en die mense uitgeroei soos Moses, die dienaar van die Here, beveel het.

13 Israel het egter nie die ou, gevestigde stede afgebrand nie. Dit is net Hasor wat deur Josua afgebrand is.

14 Die Israeliete het die buit en die vee van die stede gevat, maar al die mense doodgemaak. Hulle het die mense heeltemal uitgeroei. Nie een het bly lewe nie.

15 Wat die Here sy dienaar Moses beveel het, het Moses vir Josua beveel, en dit het Josua gedoen. Niks wat die Here vir Moses beveel het, is nagelaat nie.

16

Josua het die hele land ingeneem, die Bergland, die hele Suidland, die hele Gosengebied, die Laeveld, die Jordaanvallei en die Israelberge met hulle uitlopers.

17 Die gebied het gestrek van Kaalberg af wat na Seïr toe oploop, tot by Baäl-Gad in die Libanonvallei onderkant Hermonberg. Josua het al die konings in dié gebied verslaan en doodgemaak.

18 Hy moes lank teen hulle oorlog voer.

19 Behalwe die Hewiete in Gibeon het nie een stad met die Israeliete vrede gemaak nie. Die Israeliete het hulle almal in gevegte verower.

20 Dit was die Here wat hulle in verset laat kom het, sodat hulle teen Israel geveg het: hulle moes sonder genade uitgeroei word, uitgewis word, soos die Here vir Moses beveel het.

21

In dié tyd het Josua ook die Enakiete in die berge, in Hebron, Debir en Anab, in al die Judaberge en in al die Israelberge uitgeroei. Hy het hulle saam met hulle stede uitgeroei,

22 en daar het geen Enakiete in die gebied van die Israeliete oorgebly nie. Net in Gasa, Gat en Asdod was daar Enakiete oor.

23

Josua het die hele land ingeneem soos die Here vir Moses beveel het, en toe die land as besitting aan Israel gegee, vir elke stam 'n deel.

Die land kon toe rus van oorlog.

12

1

Die Israeliete het die volgende konings van die land oorkant die Jordaan, aan die oostekant, verslaan en hulle gebiede in besit geneem, die gebied van die Arnonvallei af tot by Hermonberg, en die hele oostelike deel van die Jordaanvallei:

2

Koning Sihon van die Amoriete in Gesbon het geheers oor die helfte van Gilead, van Aroër af aan die kant van die Arnonbedding, die middel van die bedding, tot aan Jabbokspruit waar die Ammoniete se gebied begin.

3 Ook die oostelike deel van die Jordaanvallei, van die Gennesaretmeer af suid tot aan die see in die Jordaanvallei, die Soutsee, en verder in die rigting van Bet-Jesimot en suidwaarts van onderkant die Pisgahange af.

4

Koning Og van Basan, een van die laaste van die Refaïete, het in Astarot en Edreï geregeer. Die gebied

5 waaroor hy geheers het, het Hermonberg, Salka en die hele Basan ingesluit, tot aan die grens van Gesur en Maäka, en ook die helfte van Gilead tot aan die grens van die gebied van koning Sihon van Gesbon.

6

Moses, die dienaar van die Here, en die Israeliete het hierdie twee konings verslaan, en Moses het die gebied aan die stam Ruben, die stam Gad en die halwe Manassestam as besitting gegee.

7

Hier volg nou ook 'n lys van die konings van die land duskant die Jordaan, aan die westekant, wat deur Josua en die Israeliete verslaan is, van Baäl-Gad in die Libanonvallei af tot by Kaalberg wat na Seïr toe oploop. Josua het die gebied tussen die stamme as besitting verdeel:

8 die Bergland, die Laeveld, die Jordaanvallei, die Hange, die woestyngebied en die Suidland, die gebiede waar die Hetiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete gewoon het.

9 Die konings van die volgende stede is verslaan: Jerigo, Ai naby Bet-El,

10 Jerusalem, Hebron,

11 Jarmut, Lakis,

12 Eglon, Geser,

13 Debir, Geder,

14 Gorma, Arad,

15 Libna, Adullam,

16 Makkeda, Bet-El,

17 Tappuag, Gefer,

18 Afek, Saron,

19 Madon, Hasor,

20 Simron-Meron, Aksaf,

21 Taänak, Megiddo,

22 Kedes, Jokneam teen Karmelberg,

23 Dor op die bergrug van Dor, Gojim by Gilgal,

24 en Tirsa. Dit was altesaam een en dertig konings.

13

1

Josua was al baie oud. Die Here het vir hom gesê: “Jy is al baie oud, en daar is nog 'n baie groot deel van die land wat in besit geneem moet word.

2

“Onder die deel wat oorbly, is daar al die Filistynse gebiede en die hele Gesurgebied.

3 Die gebied van die Sigor af teen Egipte tot by die Ekrongebied in die noorde word as Kanaänitiese gebied beskou. Dit is die gebiede van die vyf Filistynse regeerders, dié van Gasa, Asdod, Askelon, Gat en Ekron, en dit sluit die gebied van die Awwiete in.

4

[4-5] “Verder is daar die hele Kanaänitiese gebied van Teman af, die Gebalgebied van Meara af wat aan die Sidoniërs behoort, tot by Afek aan die Amoritiese grens en die hele Libanon aan die oostekant, van Baäl-Gad suid van Hermonberg af tot by Lebo-Hamat.

5

6

“Ek sal al die bewoners van die bergwêreld verdryf om vir die Israeliete plek te maak, van die Libanon af tot by Misrefot-Majim, al die Sidoniërs. Intussen moet jy hierdie gebiede as besitting aan Israel toewys soos Ek jou beveel het.

7 Verdeel dus nou die land vir die nege stamme en die halwe Manassestam.”

8

Saam met die ander helfte van die Manassestam het die stamme Ruben en Gad reeds hulle besitting ontvang wat Moses aan hulle toegeken het oorkant die Jordaan, aan die oostekant. Moses, die dienaar van die Here, het die volgende gebied aan hulle toegeken:

9 van Aroër af op die oewer van die Arnonrivier, die stad aan die rivier, die hele Medebahoogvlakte tot by Dibon,

10 al die stede van die Amoritiese koning Sihon wat in Gesbon geregeer het, tot aan die Ammonitiese grens,

11 Gilead met die gebiede Gesur en Maäka, die hele Hermonberg en die hele Basan tot by Salka

12 met insluiting van die hele koninkryk van Og in Basan wat in Astarot en Edreï geregeer het. Og was een van die laaste Refaïete. Moses het hulle verslaan en verdryf.

13 Die Israeliete het egter nie die mense van Gesur en Maäka verdryf nie, en hulle woon nou nog tussen die Israeliete.

14

Net aan die stam Levi het Moses nie 'n eie besitting toegeken nie. Die Leviete is offers aan die Here die God van Israel en hulle ontvang van wat Hom toekom, soos Hy hulle beloof het.

15

Aan die families in die stam Ruben het Moses die volgende gebied toegeken:

16 van Aroër af op die oewer van die Arnonrivier, van die stad af aan die rivier, die hele hoogvlakte tot by Medeba,

17 en tot by Gesbon met al sy stede op die hoogvlakte: Dibon, Bamot-Baäl, Bet-Baäl-Meon,

18 Jahas, Kedemot, Mefaät,

19 Kirjatajim, Sibma, Seret-Sagar op die berg in die laagte,

20 Bet-Peor, Asdot-Pisga en Bet-Jesimot,

21 al die stede op die hoogvlakte, die hele koninkryk van die Amoritiese koning Sihon wat in Gesbon geregeer het. Moses het vir Sihon verslaan en ook die Midianitiese leiers Ewi, Rekem, Sur, Gur en Reba, stamhoofde wat aan Sihon onderhorig was en in die land gewoon het.

22 Die waarsêer Bileam seun van Beor is een van dié wat deur die Israeliete doodgemaak is.

23 Die gebied van die stam Ruben het aan die Jordaan gegrens.

Dit was dan die besitting van die families in die stam Ruben, die stede en hulle buiteposte.

24

Aan die families in die stam Gad het Moses die volgende gebied toegeken:

25 Jaser, al die stede in Gilead, die helfte van die Ammonitiese gebied tot by Aroër wat regoor Rabba lê,

26 van Gesbon af tot by Ramat-Mispe en Betonim, van Maganajim af tot aan die grens van Lo-Dabar,

27 en in die laagte Bet-Haram, Bet-Nimra, Sukkot en Safon, die oorblywende deel van die koninkryk van koning Sihon van Gesbon, die Jordaanstreek tot aan die Gennesaretmeer, die streek oos van die Jordaan.

28

Dit was dan die besitting van die families van die stam Gad, die stede en hulle buiteposte.

29

Aan die families in die halwe Manassestam het Moses die volgende gebied toegeken:

30 van Maganajim af die hele Basan, die hele koninkryk van koning Og van Basan, al die tentdorpe van Jaïr in Basan, sestig altesaam,

31 die helfte van Gilead, en Astarot en Edreï, die koningstede van Og in Basan. Dit is wat die nakomelinge van Makir seun van Manasse ontvang het, die families in die een helfte van die nakomelinge van Makir.

32

Dit is dan die gebied wat Moses toegeken het in die Moabsvlakte oorkant die Jordaan, regoor Jerigo, aan die oostekant.

33 Aan die stam Levi het Moses nie 'n eie besitting toegeken nie. Hulle ontvang van wat die Here die God van Israel self toekom, soos Hy hulle beloof het.

14

1

Hier volg nou 'n oorsig van die gebiede wat die Israeliete in Kanaän ontvang het. Die priester Eleasar en Josua seun van Nun het saam met die stamhoofde die gebiede aan die Israeliete toegeken,

2 dit is aan die nege stamme en die halwe stam. Dit is gedoen deur loting soos die Here deur Moses beveel het.

3

Aan die ander twee stamme en die halwe stam het Moses 'n gebied oorkant die Jordaan toegeken, en aan die Leviete het hy nie 'n gebied toegeken saam met die ander nie.

4 Die nageslag van Josef het twee stamme gevorm, Manasse en Efraim, en die Leviete het nie 'n deel van die land ontvang nie, maar wel dorpe om in te woon en weidingsgebiede vir hulle veetroppe.

5

Die Israeliete het gedoen wat die Here vir Moses beveel het, hulle het die land verdeel.

6

Toe die mense van Juda na Josua toe gekom het in Gilgal, het Kaleb seun van Jefunne, 'n Kenassiet, vir Josua gesê: “Jy onthou wat die Here vir Moses, die man van God, oor jou en oor my gesê het in Kades-Barnea.

7 Ek was veertig toe Moses, die dienaar van die Here, my van Kades-Barnea af gestuur het om die land te verken. Ek het aan hom verslag gedoen soos ek sake gesien het,

8 maar my medeverkenners wat saam met my gegaan het, het die volk se hart laat verstyf van angs. Ek het die Here my God getrou gevolg,

9 en Moses het my daardie dag met 'n eed belowe: ‘Die gebied wat jy deurgestap het, sal jou en jou nageslag se permanente besitting wees omdat jy volhard het in jou trou aan die Here my God.’

10

“Van die tyd af dat die Here dit vir Moses gesê het toe Israel deur die woestyn getrek het, het die Here my in die lewe laat bly soos Hy beloof het, vyf en veertig jaar lank. Ek is nou 'n man van vyf en tagtig,

11 maar ek is vandag nog net so sterk as die dag toe Moses my uitgestuur het. Die krag wat ek toe gehad het, het ek nou nog. Ek kan nog gaan oorlog maak en behoue terugkom.

12 Gee my nou asseblief die bergwêreld waarvan die Here daardie dag gepraat het. Jy het daardie dag gehoor dat daar Enakiete is en groot vestingstede. Miskien sal die Here by my wees sodat ek hulle kan verower soos Hy beloof het.”

13

Josua het sy seën uitgespreek oor Kaleb seun van Jefunne en aan hom Hebron as besitting toegeken.

14 Daarom behoort Hebron tot vandag toe aan Kaleb seun van Jefunne, die Kenassiet. Dit is omdat hy die Here die God van Israel getrou gevolg het.

15 Die naam van Hebron was voorheen Kirjat-Arba. Arba was die naam van 'n groot man onder die Enakiete.

Die oorlog was verby, die land het gerus.

15

1

Aan die families in die stam Juda is deur loting 'n gebied toegeken wat suidwaarts gestrek het tot aan die verre suidekant van die Sinwoestyn teen die grens van Edom.

2

Juda se suidelike grens begin dus by die Soutsee, by die punt wat suid uitsteek,

3 en dit loop suid van Skerpioenpas verby na Sin toe, op na 'n punt suid van Kades-Barnea, oor na Gesron toe, op na Addar toe en swaai na Karka toe.

4 Dan loop dit oor na Asmon toe en met Egiptespruit langs totdat dit teen die see doodloop. Dit is Juda se suidelike grens.

5

Die oostelike grens is die Soutsee tot waar die Jordaan in die see inloop.

Die grens aan die noordekant begin waar die Jordaan in die see inloop,

6 en loop op na Bet-Gogla toe, noord van Bet-Araba verby, op na die Klip van Bohan seun van Ruben,

7 op na Debir toe van die Akorlaagte af, en swaai noord na Gilgal toe wat regoor Adummimspas suid van die spruit lê. Dan loop die grens oor tot aan die water van Semesfontein en tot by Rogelfontein,

8 daarvandaan op met Ben-Hinnomdal na die suidelike hang van Jebusieteberg, dit is Jerusalem, en op na die top van die berg wes van Hinnomdal by die noordelike punt van Spooklaagte.

9 Van die top van die berg af draai die grens na Neftoagsfontein toe, loop aan na die stede teen Efronberg en draai na Baäla toe, dit is Kirjat-Jearim.

10 Van Baäla af swaai dit wes na Seïrberg toe, verby die noordelike hang van Jearimsberg, dit is Kesalon, loop dan af Bet-Semes toe, oor na Timna toe

11 en met die noordelike hang van Ekron langs. Dan draai die grens na Sikaron toe en loop oor Baälaberg na Jabneël toe, waarna dit teen die see doodloop.

12

Die westelike grens is die kus van die Groot See.

Dit is die grense rondom die gebied van die families in die stam Juda.

13

Aan Kaleb seun van Jefunne het Josua, soos die Here hom beveel het, 'n eie gebied toegeken tussen die mense van Juda, naamlik Kirjat-Arba, dit is Hebron. Arba was die voorvader van die Enakiete.

14 Kaleb het die Enakiete Sesai, Agiman en Talmai uit Hebron verdryf, al drie Enakskinders.

15 Daarvandaan het Kaleb die mense van Debir gaan aanval. Debir se naam was voorheen Kirjat-Sefer.

16 Kaleb het gesê: “Aan die man wat Kirjat-Sefer verslaan en inneem, gee ek my dogter Aksa as vrou.”

17

Kaleb se stamgenoot Otniël seun van Kenas het die stad ingeneem, en Kaleb het sy dogter Aksa aan hom as vrou gegee.

18 Toe sy by Otniël kom, het sy by hom aangehou dat hulle vir haar pa landbougrond moet gaan vra. Toe sy van die donkie afklim, vra Kaleb vir haar wat sy wil hê,

19 en sy antwoord: “Gee my 'n stuk vrugbare grond. U het my die droë Suidland gegee. Gee my nou ook standhoudende water.”

Hy het toe vir haar fonteine in die hooggeleë deel en fonteine in die laaggeleë deel gegee.

20

Die families in die stam Juda het die volgende gebied as besitting ontvang:

21

Die stede die verste suid wat aan hulle behoort het, dié teen die grens van Edom, was Kabseël, Eder, Jagur,

22 Kina, Dimona, Adada,

23 Kedes, Gasor, Jitnan,

24 Sif, Telem, Bealot,

25 Gasor-Gadatta, Kerijot-Gesron, dit is Gasor,

26 Amam, Sema, Molada,

27 Gasar-Gadda, Gesmon, Bet-Pelet,

28 Gasar-Sual, Berseba, Bisjoteja,

29 Baäla, Ije-Abarim, Esem,

30 Eltolad, Kesil, Gorma,

31 Siklag, Madmanna, Sansanna,

32 Lebaot, Silgim, Ajin en Rimmon, altesaam nege en twintig stede met hulle buiteposte.

33

In die Laeveld was daar Estaol, Sora, Asna,

34 Sanoag, En-Gannim, Tappuag, Enajim,

35 Jarmut, Adullam, Soko, Aseka,

36 Saärajim, Aditajim, Gedera en Gederotajim, veertien stede met hulle buiteposte,

37 Senan, Gadasa, Migdol-Gad,

38 Dilan, Mispe, Jokteël,

39 Lakis, Boskat, Eglon,

40 Kabbon, Lagmas, Kitlis,

41 Gederot, Bet-Dagon, Naäma, Makkeda, sestien stede met hulle buiteposte,

42 Libna, Eter, Asan,

43 Jiftag, Asna, Nesib,

44 Keïla, Aksib, Maresa, nege stede met hulle buiteposte,

45 Ekron, met sy buitedorpe en buiteposte,

46 wes van Ekron al die stede in die omgewing van Asdod, met hulle buiteposte,

47 Asdod met sy buitedorpe en sy buiteposte, en Gasa met sy buitedorpe en sy buiteposte tot aan Egiptespruit en die kus van die Groot See.

48

In die Bergland was daar Samir, Jattir, Soko,

49 Danna, Kirjat-Sanna, dit is Debir,

50 Anab, Estemoa, Anim,

51 Gosen, Golon, Gilo, elf stede met hulle buiteposte,

52 Arab, Duma, Esan,

53 Janum, Bet-Tappuag, Afeka,

54 Gumta, Kirjat-Arba, dit is Hebron, en Sior, nege stede met hulle buiteposte,

55 Maon, Karmel, Sif, Jutta,

56 Jisreël, Jokdeam, Sanoag,

57 Kajin, Giba, Timna, tien stede met hulle buiteposte,

58 Galgul, Bet-Sur, Gedor,

59 Maärat, Bet-Anot, Eltekon, ses stede met hulle buiteposte,

60 Kirjat-Baäl, dit is Kirjat-Jearim, en Rabba, twee stede met hulle buiteposte.

61

In die woestyn was daar Bet-Araba, Middin, Sekaka,

62 Nibsan, Ir-Melag en En-Gedi, ses stede met hulle buiteposte.

63

Die mense van Juda kon dit nie regkry om die Jebusiete, die inwoners van Jerusalem, te verdryf nie. Hulle woon vandag nog daar saam met die mense van Juda.

16

1

Aan die nakomelinge van Josef is deur loting 'n gebied toegeken wat strek van die Jordaan af regoor Jerigo, oos van die Jerigofonteine. Die grens loop van Jerigo af oor die woestyn op na Bet-El se berge toe.

2 Van Bet-El af loop dit na Lus toe, en verby die grens van die Erekiete na Atarot toe,

3 dan weswaarts af na die grens van die Jafletiete toe tot by die grens van Bet-Goron-Onder en Geser, en dit loop dan dood aan die see.

4

Die stamme Manasse en Efraim, nakomelinge van Josef, het die grondgebied gekry.

5

Die grens van die grondgebied van die families in die stam Efraim loop van Atrot-Addar in die ooste na Bet-Goron-Bo toe,

6 en dan verder tot aan die see. Van Mikmetat af in die noorde swaai die grens oos verby Taänat-Silo na Janoag toe in die ooste,

7 van Janoag af loop die grens af na Atarot en Naära toe, dan teen Jerigo verby en aan tot by die Jordaan.

8 Van Tappuag af loop die grens wes met Kanaspruit langs en dit loop dood aan die see. Dit is die gebied van die families in die stam Efraim.

9 Daarby het gekom al die stede en buiteposte wat aan die Efraimiete toegeken is binne-in die grondgebied van Manasse.

10

Die Efraimiete het nie die Kanaäniete verdryf wat in Geser gewoon het nie en die Kanaäniete woon nou nog tussen die Efraimiete, maar hulle doen dwangarbeid.

17

1

Daar is ook aan die stam Manasse 'n gebied deur loting toegeken. Manasse was Josef se oudste seun, en die toekenning is gemaak aan Manasse se oudste seun Makir die voorvader van Gilead. Hy was 'n krygsman en het Gilead en Basan ontvang.

2 Die toekenning was vir die oorblywende families in die stam Manasse, dié van Abiëser, Gelek, Asriël, Sekem, Gefer en Semida. Dit was die families van die ander manlike afstammelinge van Manasse seun van Josef.

3

Selofgad seun van Gefer, seun van Gilead, seun van Makir, seun van Manasse, het nie seuns gehad nie, net dogters. Hier is hulle name: Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa.

4 Hulle het na die priester Eleasar, na Josua seun van Nun en na die leiers toe gegaan en gesê: “Die Here het vir Moses beveel om vir ons tussen ons stamgenote grond te gee.”

Moses het toe aan hulle grondgebied toegeken tussen hulle vader se broers soos die Here beveel het.

5 Behalwe Gilead en Basan oos van die Jordaan het Manasse dus nog tien dele ontvang,

6 want hierdie dogters uit die Manassestam het grondgebied ontvang saam met die mans. Die Gileadstreek het behoort aan die res van die stam Manasse.

7

Die gebied van Manasse strek van Aser af tot by Mikmetat regoor Sigem, en die grens loop daarvandaan suid en sluit die inwoners van En-Tappuag in.

8 Die Tappuagstreek het aan Manasse behoort, maar Tappuag self, op die grens van Manasse, het behoort aan die mense van Efraim.

9 Van Tappuag af loop die grens af na Kanaspruit toe. Suid van die spruit lê stede van Efraim tussen dié van Manasse. Manasse se grens is noord van die spruit en dit loop dood aan die see.

10 Efraim was aan die suidekant en Manasse aan die noordekant. Die gebied van Manasse loop tot teen die see, en grens noord aan Aser en oos aan Issaskar.

11 In Issaskar en Aser self het Bet-San, Jibleam, Dor op die bergrug, En-Dor, Taänak en Megiddo met hulle buitedorpe ook nog aan Manasse behoort.

12 Die mense van Manasse kon egter nie dié stede verower nie, en die Kanaäniete het dié gebied bly bewoon.

13 Toe die Israeliete sterker geword het, het hulle die Kanaäniete dwangarbeid laat doen, maar nie die stede ingeneem nie.

14

Die nakomelinge van Josef het met Josua gaan praat: “Waarom loot u vir ons net een keer en gee u ons net een deel? Ons is baie mense, want die Here het ons besonderlik geseën.”

15

Josua het vir hulle gesê: “Julle is baie. Gaan maak vir julle 'n stuk boswêreld skoon in die gebied van die Feresiete en die Refaïete. Die Efraimsberge is te klein vir julle.”

16

Hulle het vir Josua gesê: “Die Bergland is nie groot genoeg vir ons nie, en al die Kanaäniete wat in die laagte woon, het ysterstrydwaens, dié in Bet-San en sy buiteposte, en dié in die Jisreëlvlakte.”

17

Daarom het Josua vir die nageslag van Josef, vir Efraim en Manasse, gesê: “Julle is baie mense en julle is sterk. Julle kry dus nie net een deel nie.

18 Die Bergland is julle s'n. Dit is bebos, maar julle kan dit skoonmaak en dit ten volle benut. Die Kanaäniete het wel ysterstrydwaens en hulle is sterk, maar julle sal hulle uitdryf.”

18

1

Die hele Israelitiese volksvergadering het in Silo bymekaargekom en die tent van ontmoeting daar opgeslaan. Die land was nou onderwerp,

2 maar daar was nog sewe van die Israelitiese stamme wat nie hulle eie grondgebied ontvang het nie.

3 Josua het vir die Israeliete gesê: “Hoe lank gaan julle nog talm voor julle die land in besit gaan neem wat die Here die God van julle voorvaders aan julle gegee het?

4 Bring drie man uit elke stam dat ek hulle kan stuur en dat hulle die res van die land kan deurgaan en 'n beskrywing kan maak van die verskillende dele en dit vir my bring.

5 Hulle moet die gebied in sewe dele verdeel. Juda behou sy gebied in die suide, en die nageslag van Josef hulle s'n in die noorde.

6

“Julle moet 'n beskrywing maak van die sewe dele van die land en dit vir my bring dat ek die loting hier in die teenwoordigheid van die Here ons God kan maak.

7 Die Leviete kry nie 'n deel saam met julle nie, want hulle besondere voorreg is die priesterskap in diens van die Here. Gad, Ruben en die helfte van Manasse het hulle deel oos van die Jordaan gekry waar Moses, die dienaar van die Here, dit aan hulle toegeken het.”

8

Die manne het toe klaargemaak en vertrek. By hulle vertrek om 'n beskrywing van die land te maak, het Josua hulle beveel: “Gaan die land deur, maak 'n beskrywing daarvan en kom terug na my toe dat ek vir julle die loting hier in Silo in die teenwoordigheid van die Here kan doen.”

9

Die manne is weg en het die land deurgegaan en in 'n boek 'n beskrywing van die sewe dele opgeteken, stad vir stad. Daarna is hulle terug na Josua toe in die kamp by Silo.

10 Josua het toe die loting daar in Silo in die teenwoordigheid van die Here gedoen en die land tussen die Israelitiese stamme verdeel.

11

Aan die families in die stam Benjamin is deur loting 'n gebied toegeken tussen dié van Juda en Josef.

12 Aan die noordekant begin hulle grens by die Jordaan en dit loop dan op teen die hang noord van Jerigo, teen die berge uit weswaarts en dan loop dit tot teen die woestyn van Bet-Awen.

13 Daarvandaan loop die grens oor na Lus toe, teen die hang suid van Lus, dit is Bet-El, en dan af na Atrot-Addar toe op die berg suid van Bet-Goron-Onder.

14 Dan draai die grens en swaai westekant toe suid van die berg regoor Bet-Goron en loop dood by Kirjat-Baäl, dit is Kirjat-Jearim, 'n stad wat aan Juda behoort. Dit is die westelike grens.

15 Die suidelike grens begin teenaan Kirjat-Jearim, loop wes en kom uit by Neftoagsfontein,

16 en loop dan af na die voet van die berg regoor Ben-Hinnomdal, noord van Spooklaagte. Dan loop die grens met die Hinnomdal af na die hang suid van die Jebusietestad en af na Rogelfontein toe,

17 draai noord en loop na Semesfontein toe, aan na Gelilot toe regoor Adummimspas en af tot by die Klip van Bohan seun van Ruben.

18 Dan loop dit noord van die hang regoor die Jordaanvallei verby en af na die Jordaanvallei toe,

19 noord van die hang van Bet-Gogla verby en loop dood by die noordelike punt van die Soutsee, waar die Jordaan inloop. Dit is die suidelike grens.

20 Die Jordaan self vorm die oostelike grens. Dit is dan die grense rondom die grondgebied van die families in die stam Benjamin.

21

Die stede van die families in die stam Benjamin is Jerigo, Bet-Gogla, Kesisdal,

22 Bet-Araba, Semarajim, Bet-El,

23 Awwim, Para, Ofra,

24 Kefar-Ammoni, Ofni en Geba, twaalf stede met hulle buiteposte,

25 verder Gibeon, Rama, Beërot,

26 Mispa, Kefira, Mosa,

27 Rekem, Jirpeël, Tarala,

28 Sela, Elef, Jebusietestad, dit is Jerusalem, Gibea en Kirjat, veertien stede met hulle buiteposte. Dit is die besitting van die families in die stam Benjamin.

19

1

Die tweede loting was vir Simeon, vir die families in die stam Simeon. Hulle eiendom was binne-in dié van Juda.

2 Hulle het as eiendom ontvang Berseba, Seba, Molada,

3 Gasar-Sual, Baäla, Esem,

4 Eltolad, Betul, Gorma,

5 Siklag, Bet-Markabot, Gasar-Susim,

6 Bet-Lebaot en Sarugen, dertien stede met hulle buiteposte,

7 verder Ajin, Rimmon, Eter en Asan, vier stede met hulle buiteposte,

8 en ook nog al die buiteposte in die omgewing van dié stede tot by Baälat-Beër en Rama in die Suidland. Dit was die eiendom van die families in die stam Simeon.

9 Hulle het 'n deel van Juda se gebied gekry, want dié was vir Juda te groot. Die stam Simeon het dus eiendom binne-in dié van Juda ontvang.

10

Die derde loting was vir die families in die stam Sebulon. Hulle grondgebied strek tot by Sarid.

11 Die grens loop dan wes na Marala toe, teen Dabbeset en teen die spruit regoor Jokneam verby.

12 Van Sarid af draai die grens oos tot teen die grens van Kislot-Tabor, loop dan na Daberat toe en op na Jafia toe,

13 daarvandaan oor na Gat-Gefer aan die oostekant en na Et-Kasin toe en aan tot by Rimmon waar dit na Nea toe draai.

14 Dan swaai die grens noord van Gannaton en loop dood by Ge-Jiftag-El.

15 Kattat, Nahalal, Simron, Jidala en Betlehem kom ook by. Daar is twaalf stede met hulle buiteposte.

16 Dié stede met hulle buiteposte is dan die eiendom van die families in die stam Sebulon.

17

Die vierde loting was vir Issaskar, vir die families in die stam Issaskar.

18 Hulle gebied omvat Jisreël, Kesulot, Sunem,

19 Gafarajim, Sion, Anagarat,

20 Rabbit, Kisjon, Ebes,

21 Remet, En-Gannim, En-Gadda en Bet-Passes.

22 Hulle grens gaan teen Tabor, Sagasajim en Bet-Semes verby en loop dood teen die Jordaan. Daar is sestien stede met hulle buiteposte.

23 Dié stede met hulle buiteposte is dan die gebied van die families in die stam Issaskar.

24

Die vyfde loting was vir die families in die stam Aser.

25 Hulle gebied omvat Gelkat, Gali, Beten, Aksaf,

26 Alammelek, Amad en Misal. Aan die westekant gaan die grens teen Karmel en Sigor-Libnat verby.

27 Dan swaai dit oos na Bet-Dagon toe, gaan teen Sebulon en Ge-Jiftag-El noordwaarts verby na Bet-Emek en Neïel toe en loop aan na Kabul in die noorde

28 en na Abdon, Regob, Gammon en Kana toe tot by Groot-Sidon.

29 Dan loop die grens om na Rama toe en tot by die vestingstad Tirus, dan om na Gosa toe en loop dood teen die see in die omgewing van Aksib.

30 Uma, Afek en Regob kom ook by. Daar is twee en twintig stede met hulle buiteposte.

31 Dié stede met hulle buiteposte is dan die eiendom van die families in die stam Aser.

32

Die sesde loting was vir Naftali, vir die families in die stam Naftali.

33 Hulle grens begin by Gelef, by die groot boom in Saänannim, en loop oor Adami-Nekeb en Jabneël tot by Lakkum, en loop dan dood teen die Jordaan.

34 Dan draai die grens wes na Asnot-Tabor toe en loop daarvandaan aan na Gukok toe, teen Sebulon aan die suidekant en teen Aser aan die westekant verby tot teen die Jordaan aan die oostekant.

35 Die gebied sluit vestingstede in: Siddim, Ser, Gammat, Rakkat, Gennesaret,

36 Adama, Rama, Hasor,

37 Kedes, Edreï, En-Gasor,

38 Jiron, Migdal-El, Gorem, Bet-Anat en Bet-Semes. Daar is negentien stede met hulle buiteposte.

39

Dié stede met hulle buiteposte is dan die eiendom van die families in die stam Naftali.

40

Vir die families in die stam Dan is sewende geloot.

41 Hulle grondgebied het omvat Sora, Estaol, Ir-Semes,

42 Saälbim, Ajalon, Jitla,

43 Elon, Timna, Ekron,

44 Elteke, Gibbeton, Baälat,

45 Jehud, Bene-Berak, Gat-Rimmon,

46 Me-Jarkon, Rakkon, en ook die gebied regoor Joppe.

47

Die stam Dan het sy gebied verloor en het toe vir Lesem aangeval en verower. Hulle het die inwoners doodgemaak, die stad beset en daar gaan woon. Hulle het Lesem die naam Dan gegee, na hulle voorvader Dan.

48

Dié stede met hulle buiteposte was die eiendom van die families in die stam Dan.

49

Nadat die Israeliete die land in sy onderskeie gebiede aan die stamme toegewys het, het hulle aan Josua seun van Nun 'n eiendom tussen hulle toegeken.

50 Op bevel van die Here het hulle hom die stad gegee wat hy gevra het. Dit was Timnat-Serag in die Efraimsberge. Josua het die stad herbou en daar gaan woon.

51

Dit was dan die woongebiede wat die priester Eleasar en Josua seun van Nun saam met die familiehoofde aan die Israelitiese stamme toegeken het. Hulle het die verdeling van die land afgehandel deur loting in Silo in die teenwoordigheid van die Here, by die ingang van die tent van ontmoeting.

20

1

Die Here het vir Josua gesê: “Sê vir die Israeliete:

2 Julle moet nou die asielstede afstaan wat Ek julle deur Moses beveel het,

3 sodat iemand wat onopsetlik en sonder voorbedagte rade die dood van 'n ander veroorsaak het, daarheen kan vlug om aan die wraak van 'n bloedverwant van die oorledene te ontkom.

4

“Wanneer so iemand na een van dié stede toe vlug, moet hy by die ingang van die stadspoort gaan staan en sy saak stel aan die leiers van die stad. Hulle moet hom dan in die stad opneem en hom 'n woonplek by hulle gee.

5 As die bloedverwant van die oorledene hom agtervolg, moet die leiers hom nie aan die bloedverwant uitlewer as hy onopsetlik die dood van 'n ander veroorsaak het en nie kwaadgesind teen hom was nie.

6 Die vlugteling moet in die stad bly totdat hy voor die bevoegde vergadering tereggestaan het en totdat die hoëpriester van dié tyd dood is. Eers dan mag die persoon wat die dood veroorsaak het, vry teruggaan huis toe na die stad waar hy vandaan gevlug het.”

7

Kedes in Galilea op die Naftaliberge, Sigem in die Efraimsberge, en Kirjat-Arba, dit is Hebron, in die Judaberge is toe afgesonder.

8 Oos van die Jerigo-Jordaan is Beser in die woestyn op die hoogvlakte in die stamgebied van Ruben, Ramot in Gilead in die stamgebied van Gad, en Golan in Basan in die stamgebied van Manasse afgestaan.

9 Dit was die stede waarop ooreengekom is. Enige Israeliet, of enige vreemdeling tussen die Israeliete, wat onopsetlik die dood van 'n ander veroorsaak het, kon na so 'n asielstad toe vlug sodat hy nie deur 'n bloedverwant van die oorledene doodgemaak word sonder dat hy deur 'n vergadering verhoor is nie.

21

1

Die familiehoofde van die Leviete het na die priester Eleasar, na Josua seun van Nun en na die familiehoofde van die Israelitiese stamme toe gekom

2 in Silo in Kanaän en vir hulle gesê: “Die Here het deur Moses beveel dat ons stede moet kry om in te woon en weiveld vir ons vee.”

3

Die Israeliete het toe die bevel van die Here uitgevoer en uit hulle woongebiede vir die Leviete dorpe met weivelde gegee.

4 Daar is vir die Kehatgroep geloot, en aan hierdie Leviete uit die geslag van die priester Aäron is dertien stede toegeken in die stamgebied van Juda, Simeon en Benjamin.

5 Vir die res van die Kehatgroep is tien stede geloot in die gebied van die families in die stam Efraim, die stamgebied Dan en dié van die halwe Manassestam.

6 Vir die Gersongroep is dertien stede geloot in die gebiede van die families in die stam Issaskar, die stamgebied van Aser en Naftali en dié van die halwe Manassestam in Basan.

7 Vir die families in die Merarigroep was daar twaalf stede in die stamgebied van Ruben, Gad en Sebulon.

8 Die Israeliete het die stede met weivelde aan die Leviete toegeken deur loting, soos die Here deur Moses beveel het.

9

In die stamgebied van Juda en Simeon is die volgende stede wat by name aangedui is, toegeken

10 aan die Leviete uit die nageslag van Aäron wat tot die Kehatgroep behoort het. Die eerste loting was vir hulle.

11

Aan hulle is eerstens Kirjat-Arba toegeken, dit is Hebron in die Judaberge met sy weivelde rondom. Arba was die voorvader van die Enakiete.

12 Die lande en die buiteposte van die stad is aan Kaleb seun van Jefunne as eiendom toegeken.

13

Die nageslag van die priester Aäron het dus ontvang: die asielstad Hebron, en Libna,

14 Jattir, Estemoa,

15 Golon, Debir,

16 Ajin, Jutta en Bet-Semes, elkeen met sy weiveld, nege stede van dié twee stamme,

17 en van die stam Benjamin Gibeon, Geba,

18 Anatot en Almon, die vier stede elkeen met sy weiveld.

19 Die priesters uit die nageslag van Aäron het dus altesaam dertien stede met hulle weivelde gehad.

20

Vir die Levitiese families in die res van die Kehatgroep is eerstens stede geloot in die stamgebied van Efraim.

21 Aan hulle is toegeken: die asielstad Sigem in die Efraimsberge en Geser,

22 Kibsajim en Bet-Goron, dié vier stede elkeen met sy weiveld;

23 in die stamgebied van Dan: Elteke, Gibbeton,

24 Ajalon en Gat-Rimmon, dié vier stede elkeen met sy weiveld;

25 en in die gebied van die halwe Manassestam: Taänak en Gat-Rimmon, dié twee stede elkeen met sy weiveld.

26 Die families in die res van die Kehatgroep het dus altesaam tien stede met hulle weivelde gehad.

27

Aan die Levitiese families in die Gersongroep is in die gebied van die ander helfte van die Manassestam toegeken: die asielstad Golan in Basan, en Astarot, dié twee stede elkeen met sy weiveld;

28 in die stamgebied van Issaskar: Kisjon, Daberat,

29 Jarmut en En-Gannim, dié vier stede elkeen met sy weiveld;

30 in die stamgebied van Aser: Misal, Abdon,

31 Gelkat en Regob, dié vier stede elkeen met sy weiveld;

32 en in die stamgebied van Naftali die asielstad Kedes in Galilea, en Gammot-Dor en Kartan, dié drie stede elkeen met sy weiveld.

33 Die Gersonfamilies het dus altesaam dertien stede met weivelde gehad.

34

Aan die Levitiese families wat oorgebly het, dié in die Merarigroep, is in die stamgebied van Sebulon toegeken: Jokneam, Karta,

35 Dimna en Nahalal, dié vier stede elkeen met sy weiveld;

36 in die stamgebied van Ruben: Beser, Jahas,

37 Kedemot en Mefaät, dié vier stede elkeen met sy weiveld;

38 en in die stamgebied van Gad die asielstad Ramot in Gilead, Maganajim,

39 Gesbon, Jaser, dié vier stede elkeen met sy weiveld.

40 Vir die oorblywende families, dié in die Merarigroep, is dus altesaam twaalf stede geloot.

41

Die Leviete het altesaam ag en veertig stede met weivelde gehad in die woongebied van die Israeliete.

42 Elke stad het weiveld rondom hom gehad. Dit was die geval met al dié stede.

43

Die Here het aan Israel die hele land gegee wat Hy met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het. Hulle het dit in besit geneem en daar gaan woon.

44 Die Here het hulle na alle kante toe rus gegee soos Hy met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het. Nie een van al hulle vyande kon teen hulle standhou nie. Die Here het al hulle vyande in hulle mag oorgegee.

45 Nie een van al die goeie beloftes wat die Here aan Israel gemaak het, het onvervul gebly nie. Almal is nagekom.

22

1

Josua het daarna die stamme Ruben en Gad en die een helfte van die Manassestam geroep

2 en vir hulle gesê: “Julle het alles gedoen wat Moses die dienaar van die Here julle beveel het en julle was gehoorsaam aan alles wat ek julle beveel het.

3 Julle het hierdie hele tyd tot vandag toe nie julle broers in die steek gelaat nie en julle het gedoen wat die Here julle God julle beveel het.

4 Nou het Hy aan julle broers 'n woonplek gegee soos Hy hulle beloof het. Gaan nou terug na julle eie woonplekke toe, na julle eie gebied oorkant die Jordaan wat Moses die dienaar van die Here aan julle toegeken het.

5 Sorg net dat julle die gebod en die wet wat Moses die dienaar van die Here julle opgelê het, getrou onderhou, naamlik om die Here julle God lief te hê en volgens sy wil te lewe, sy gebooie te onderhou, aan Hom getrou te bly en Hom met julle hele hart en siel te dien.”

6

Josua het hulle met 'n seënwens laat gaan, en hulle is na hulle woonplekke toe.

7

Vir die een helfte van die Manassestam het Moses 'n gebied in Basan gegee, en vir die ander helfte het Josua wes van die Jordaan 'n gebied gegee saam met die ander stamme.

Toe Josua die stamme na hulle woonplekke toe laat gaan met 'n seënwens,

8 het hy vir hulle gesê: “Gaan terug na julle woonplekke toe met groot rykdom, met groot troppe vee, met silwer, goud, koper en yster, met baie klere, maar deel die buit wat julle van julle vyande gevat het, met julle stamgenote.”

9

Die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam is toe van die Israeliete in Silo in Kanaän af weg om na Gilead toe te gaan, na hulle eie gebied wat in besit geneem is op die bevel van die Here deur Moses.

10 Toe hulle by Gelilot aan die Jordaan in Kanaän kom, bou hulle daar by die Jordaan 'n altaar, 'n groot indrukwekkende altaar.

11

Die Israeliete het gehoor dat die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam die altaar gebou het en dat dit teenaan Kanaän by Gelilot aan die Jordaan was, aan die Israeliete se kant.

12 Toe het die hele Israelitiese volksvergadering in Silo bymekaargekom, gereed om oorlog te maak teen die twee stamme en die halwe stam.

13 Die Israeliete het vir Pinehas seun van die priester Eleasar na die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam in Gilead gestuur.

14 Saam met Pinehas was daar tien volksleiers, een vir elke stam van Israel, elkeen 'n hoof van 'n Israelitiese familiegroep.

15 Toe hulle by die stamme in Gilead kom, sê hulle vir die stamme:

16 “So sê die hele volksvergadering van die Here: Hoe kon julle dié daad van ontrou begaan teen die God van Israel? Julle het mos nou die Here verlaat toe julle die altaar gebou het! Julle is nou in verset teen Hom!

17 Was ons sonde by Peor nie erg genoeg nie? Tot vandag toe is ons nie daarvan gereinig nie, ten spyte van die plaag wat die volk van die Here getref het.

18 Vandag verlaat julle die Here en kom julle in verset teen Hom, môre breek sy toorn los teen die hele Israel.

19 As julle gebied onrein is, kom oor na die Here se eie gebied toe waar sy tabernakel staan, en vat vir julle 'n gebied tussen ons. Maar moenie in verset kom teen die Here en teen ons deur vir julle 'n altaar te bou bo en behalwe die altaar van die Here ons God nie.

20 Akan seun van Serag was ontrou met wat aan die Here gewy was, en die toorn het teen die hele Israel losgebreek. Nie net hy het vir sy sonde gesterf nie.”

21

Die mense van Ruben, Gad en die halwe Manassestam het vir die hoofde van die Israelitiese familiegroep gesê:

22 “Die Here alleen is God, die Here alleen is God! Hy weet, en Israel moet weet: as dit in verset en ontrou teen die Here was, dan moet julle ons vandag nie spaar nie.

23 Of ons vir ons 'n altaar gebou het om die Here te verlaat en daarop brandoffers, graanoffers en maaltydoffers te bring, dit sal die Here self vasstel.

24 Nee, dit was uit kommer dat ons dit gedoen het. Ons het gedink môre-oormôre sê julle nageslag dalk vir ons s'n: ‘Wat het julle te doen met die Here die God van Israel?

25 Die Here het 'n grens gestel tussen ons en julle, die Jordaan. Julle het nie 'n deel in die Here nie!’ So sou julle nageslag ons s'n kon verhinder om die Here te dien.

26 Ons het toe gedink ons moet vir ons die altaar bou, nie vir brandoffers of ander diereoffers nie,

27 maar as 'n getuie tussen ons en julle en tussen ons nageslagte, dat ons die diens aan die Here by sy heiligdom sal uitvoer met ons brandoffers, ons ander diereoffers en ons maaltydoffers, en dat julle nageslag nie later vir ons s'n sal sê: ‘Julle het nie 'n deel in die Here nie.’

28

“Ons het gedink as hulle dit later vir ons of ons nageslag sou sê, sou ons nageslag kon sê: ‘Kyk die model van die Here se altaar. Ons voorvaders het dit gemaak, nie vir brandoffers of ander diereoffers nie, maar as 'n getuie tussen ons en julle.’

29 Ons dink glad nie daaraan om teen die Here in verset te kom en Hom te verlaat deur 'n altaar te bou vir brandoffers, graanoffers en ander diereoffers bo en behalwe die altaar van die Here ons God voor sy tabernakel nie.”

30

Toe die priester Pinehas en die leiers van die volksvergadering en die Israelitiese familiehoofde wat by hom was, hoor wat die mense uit Ruben, Gad en Manasse sê, was hulle tevrede.

31 Pinehas seun van die priester Eleasar het vir die mense van Ruben, Gad en Manasse gesê: “Ons weet nou die Here is by ons; julle was nie ontrou aan die Here nie; julle het Israel aan die straf van die Here laat ontkom.”

32

Pinehas seun van die priester Eleasar en die volksleiers is toe terug van die mense van Ruben en Gad af uit Gilead na Kanaän, na die Israeliete toe en het verslag gedoen.

33 Die Israeliete was tevrede en het God geprys. Hulle het afgesien van die plan om die mense van Ruben en Gad te gaan aanval en die gebied waar hulle woon, te verwoes.

34 Die mense van Ruben en Gad het die altaar 'n naam gegee, en gesê: “Hy is die getuie tussen ons dat die Here God is.”

23

1

Dit was al lank dat die Here na alle kante toe aan Israel rus gegee het van sy vyande, en Josua was al baie oud.

2

Josua het die hele Israel geroep, die leiers, die hoofde, die regters, die ampsdraers, en vir hulle gesê: “Ek is al baie oud.

3 Julle het gesien wat die Here julle God alles aan hierdie nasies gedoen het ter wille van julle. Dit is Hy, die Here julle God, wat die oorlog vir julle gevoer het.

4 Ek het saam met die gebiede van al die nasies wat ek uitgeroei het, ook dié van die nasies wat nog oorbly, as eiendom aan julle stamme toegeken: van die Jordaan af tot by die Groot See in die weste.

5 Die Here julle God sal hulle wegstoot voor julle en hulle voor julle uit verdrywe sodat julle hulle land in besit kan neem soos die Here julle God julle beloof het.

6

“Maar julle moet sterk staan in die uitvoering van alles wat geskryf staan in die wetboek van Moses. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie,

7 dat julle nie by hierdie nasies kom wat nog tussen julle woon, en die naam van hulle gode aanroep en in hulle naam 'n eed aflê en hulle dien en voor hulle buig nie.

8 Julle moet aan die Here julle God getrou bly, soos julle tot nou toe gedoen het.

9 Die Here het groot en sterk nasies voor julle uit verdryf. Niemand kon tot nou toe voor julle standhou nie.

10 Een van julle jaag 'n duisend op loop, want dit is die Here julle God wat die oorlog vir julle voer soos Hy julle beloof het.

11 Lê julle dus daarop toe om die Here julle God lief te hê.

12 As julle egter 'n ander pad loop en julle verbind aan die mense wat oor is van hierdie nasies wat nog tussen julle woon, en julle ondertrou met hulle en julle kom by hulle, en hulle by julle,

13 weet dan seker dat die Here julle God hierdie nasies nie verder sal verdryf voor julle uit nie. Hulle sal vir julle strikke en wippe word, swepe op julle rûe en skerp dorings in julle oë, en uiteindelik sal julle verdwyn uit hierdie goeie land wat die Here julle God aan julle gegee het.

14

“Self gaan ek nou die pad van almal op aarde. Julle weet met julle hele hart en siel dat nie een van al die goeie beloftes wat die Here julle God oor julle gemaak het, onvervul gebly het nie. Almal het uitgekom. Nie een belofte het onvervul gebly nie.

15 Maar net soos elke goeie belofte wat die Here julle God oor julle gemaak het, nagekom is, so sal Hy elke ramp oor julle bring wat Hy aangekondig het, totdat Hy julle uitgeroei het uit hierdie goeie land wat Hy julle gegee het.

16 As julle die verbondsverpligtings wat die Here julle God julle opgelê het, nie hou nie en julle dien ander gode en buig voor hulle, sal die toorn van die Here teen julle ontvlam en sal julle gou verdwyn uit die goeie land wat Hy julle gegee het.”

24

1

Josua het al die stamme van Israel bymekaargebring in Sigem. Hy het die leiers van Israel, die hoofde, die regters en die ampsdraers geroep, en hulle het hulle plekke kom inneem in die teenwoordigheid van God.

2

Toe sê Josua vir die hele volk: “So sê die Here die God van Israel: Lank gelede het julle voorvaders — onder hulle was Tera, vader van Abraham en Nahor — anderkant die Eufraat gewoon en hulle het ander gode gedien.

3 Ek het julle voorvader Abraham anderkant die Eufraat geneem en hom die hele Kanaän laat deurgaan. Ek het hom baie nakomelinge gegee. Aan hom het Ek vir Isak gegee,

4 aan Isak vir Jakob en Esau. Aan Esau het Ek die Seïrberge gegee om in besit te neem, maar Jakob en sy nageslag is af na Egipte toe.

5

“Ek het vir Moses en Aäron gestuur en Ek het Egipte met rampe getref soos Ek dit goedgevind het. Daarna het Ek julle uitgebring:

6 Ek het julle voorvaders uit Egipte gebring, en toe hulle by die Rietsee kom, het die Egiptenaars hulle agtervolg met strydwaens en ruiters.

7 Julle voorvaders het na My geroep om hulp, en Ek het dit donker laat word tussen julle en die Egiptenaars en die see oor die Egiptenaars laat kom sodat dit hulle bedek het. Julle eie oë het gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het. Daarna het julle lank in die woestyn gebly.

8

“Toe het Ek julle gebring na die land van die Amoriete wat oos van die Jordaan gewoon het. Hulle het teen julle oorlog gemaak, maar Ek het hulle in julle mag oorgegee sodat julle hulle land in besit kon neem. Ek het hulle uitgeroei om vir julle plek te maak.

9

“Toe Balak seun van Sippor en koning van Moab teen Israel oorlog wou maak, het hy vir Bileam seun van Beor laat roep om 'n vloek oor julle uit te spreek.

10 Maar Ek het nie na Bileam geluister nie, en hy moes julle teen wil en dank seën. So het Ek julle gered uit die hande van Balak.

11

“Julle het deur die Jordaan getrek en by Jerigo gekom. Die mense wat in besit was van Jerigo, die Amoriete, Feresiete, Kanaäniete, Hetiete, Girgasiete, Hewiete en Jebusiete, het teen julle oorlog gemaak, maar Ek het hulle in julle mag oorgegee.

12 Ek het al vantevore die twee Amoritiese konings laat moed verloor, en dít het hulle voor julle uit verdryf, nie julle swaarde en julle pyl en boë nie.

13

“Ek het julle 'n land gegee wat julle nie bewerk het nie, stede wat julle nie gebou het nie, maar waar julle kon gaan woon; julle eet van wingerde en olyfboorde wat julle nie geplant het nie.

14

“Betoon dan nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en met trou. Sien af van die gode wat julle voorvaders anderkant die Eufraat en in Egipte gedien het, en dien die Here.

15 Of, as julle dit nie goedvind om die Here te dien nie, kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.”

16

Die volk het geantwoord: “Ons dink glad nie daaraan om die Here te verlaat en ander gode te dien nie.

17 Dit is die Here ons God wat ons en ons voorvaders uit Egipte, die plek van slawerny, gebring het. Hy het daardie groot wonders voor ons oë gedoen en Hy het ons beskerm op die hele pad wat ons gekom het en teen al die volke deur wie se gebiede ons getrek het.

18 Die Here het al die volke voor ons uit verdryf, die Amoriete wat in die land gewoon het. Ook ons sal die Here dien. Hy is ons God.”

19

Maar Josua het vir die volk gesê: “Julle kan nie die Here dien nie. Hy is 'n heilige God, Hy is 'n God wat onverdeelde trou eis en julle opstandigheid en sonde nie sal vergewe nie.

20 As julle die Here verlaat en julle dien vreemde gode, sal Hy wat aan julle goed gedoen het, teen julle draai en rampe oor julle bring en 'n end aan julle maak.”

21

Die volk het vir Josua gesê: “Nee, ons sal die Here dien!”

22

Toe sê Josua vir die volk: “Julle is self getuies daarvan dat julle gekies het om die Here te dien,” en hulle antwoord: “Ons is.”

23

Toe sê Josua: “Verwyder dan die vreemde gode tussen julle uit en wy julle heeltemal aan die Here die God van Israel.”

24

En die volk sê vir Josua: “Ons sal die Here ons God dien, ons sal na Hom luister.”

25

Josua het daardie dag vir die volk 'n verbond gesluit en vir hulle daar in Sigem voorskrifte en bepalings vasgelê.

26 Hy het dié dinge in die wetboek van God opgeskryf, 'n groot klip gevat en dit daar onder 'n groot boom by die heiligdom van die Here regop gesit.

27 Hy het vir die hele volk gesê: “Sien julle dié klip? Hy sal die getuie teen ons wees. Hy het alles gehoor wat die Here vir ons gesê het. Hy sal die getuie teen julle wees dat julle nie julle God bedrieg nie.”

28

Daarna het Josua die volk laat gaan, elkeen na sy grond toe.

29

Na hierdie gebeure het Josua seun van Nun, dienaar van die Here, gesterf. Hy was honderd en tien jaar.

30 Hy is begrawe in die gebied wat aan hom gegee was as besitting, in Timnat-Serag in die Efraimsberge, noord van Gaäsberg.

31

Israel het die Here bly dien tydens die lewe van Josua en tydens die lewe van die leiers wat vir Josua oorleef het en alles ervaar het wat die Here vir Israel gedoen het.

32

Die liggaam van Josef wat deur die Israeliete uit Egipte gebring is, is in Sigem begrawe, in die stuk grond wat Jakob by die nageslag van Gamor, vader van Sigem, gekoop het vir honderd stukke silwer. Die grond het die eiendom van die nakomelinge van Josef geword.

33

Ook Eleasar seun van Aäron is oorlede. Hy is begrawe in Gibea, 'n plek in die Efraimsberge wat aan sy seun Pinehas toegeken was.