1
In hierdie boek word die woorde van Moses weergegee. Hy het al die Israeliete toegespreek in die woestynvlakte oos van die Jordaan, oorkant Suf, in die omgewing van Paran, Tofel, Laban, Gaserot en Di-Sahab.2 Dit vat elf dae om met die Seïrbergpad van Horeb af by Kades-Barnea te kom.
3 Op die eerste van die elfde maand van die veertigste jaar na die uittog uit Egipte het Moses vir die Israeliete alles gesê wat die Here hom oor hulle beveel het.
4 Dit was nadat Moses vir Sihon en Og verslaan het. Koning Sihon van die Amoriete het in Gesbon gewoon, en koning Og van Basan in Astarot by Edreï.
5 Dit was oos van die Jordaan, in Moab, dat Moses die wet begin verduidelik het.
Hy het gesê:6 “Die Here ons God het by Horeb vir ons gesê: ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly.
7 Breek nou kamp af en trek die Bergwêreld van die Amoriete in en ook die gebied van die mense wat saam met die Amoriete in die land woon: die Jordaanvallei, die Bergwêreld, die Laeveld, die Suidland en die Kusvlakte. Dit is die hele Kanaän en die Libanon tot by die groot rivier, die Eufraat.
8 Ek stel hierdie land tot julle beskikking. Trek in en neem dit in besit. Ek, die Here, het met 'n eed beloof om dit aan julle voorvaders Abraham, Isak en Jakob te gee en aan hulle nageslag.’
9
“Toe julle van Horeb af weg is, het ek vir julle gesê: ‘Ek kan nie alleen al die verantwoordelikheid vir julle dra nie.10 Die Here julle God het julle baie laat word, en nou is julle net so baie soos die sterre aan die hemel.
11 Mag die Here die God van julle voorvaders julle nog duisend maal meer maak en vir julle 'n groot nageslag gee soos Hy julle beloof het.
12 Hoe kan ek alleen julle probleme oplos, die verantwoordelikheid vir julle dra en julle hofsake verhoor?
13 Bring uit julle stamme verstandige manne, manne met insig, manne van aansien, sodat ek hulle as hoofde oor julle kan aanstel.’
14 Toe het julle vir my gesê: ‘Wat u wil doen, is reg,’
15 en ek het die leiers uit julle stamme aanvaar, verstandige manne, manne van aansien, en hulle aangestel as hoofde oor julle, leiers van duisend, van honderd, van vyftig en van tien: amptenare vir julle stamme.
16 In dieselfde tyd het ek ook julle regters beveel: ‘Verhoor die sake wat daar tussen julle volksgenote kom en lewer regverdige uitsprake, of dit nou is tussen volksgenoot en volksgenoot of tussen volksgenoot en vreemdeling.
17 Moenie partydig wees as julle 'n saak verhoor nie, luister na klein en groot. Moenie vir mense bang wees nie. Wie regspreek, is in diens van God. Sake wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring en ek sal hulle verhoor.’
18
“Ek het julle destyds alles beveel wat julle moet doen.”19
“Ons het van Horeb af weggetrek en ons het deur daardie groot woestyn met al sy gevare getrek, daardie woestyn wat julle self gesien het. Ons het met die pad na die Bergwêreld van die Amoriete toe getrek soos die Here ons God ons beveel het, en ons het by Kades-Barnea uitgekom.20 Toe het ek vir julle gesê: ‘Ons het nou die Bergwêreld van die Amoriete bereik. Die Here ons God gee dit vir ons.
21 Kyk, die Here julle God stel die land tot julle beskikking. Trek in, neem dit in besit soos die Here die God van julle voorvaders julle beloof het. Moenie bang wees nie, moenie huiwer nie.’
22
“Julle almal het toe na my toe gekom en gevra ons moet manne voor ons uit stuur dat hulle die land vir ons kan verken en ons kan kom inlig oor die pad wat ons moet vat en oor die stede waarheen ons op pad is.23 Ek het gedink dis 'n goeie plan en ek het twaalf man uit julle gekies, een uit elke stam.
24 Hulle het die Bergwêreld ingegaan en by die Eskolvallei gekom en dit verken.
25 Hulle het van die vrugte van die land na ons toe gebring en vir ons kom sê: ‘Die Here ons God gee ons 'n goeie land.’
26
“Maar julle wou nie optrek nie. Julle het julle verset teen die opdrag van die Here julle God.27 Julle het in julle tente bly sit en mor, en julle het gesê: ‘Omdat die Here ons haat, het Hy ons uit. Egipte laat trek om ons aan die Amoriete oor te gee sodat hulle ons kan uitroei.
28 Waarheen kan ons nou gaan? Ons broers het ons moed gebreek toe hulle gesê het: Daar woon 'n volk wat groter en sterker is as ons. Hulle het groot stede en sterk, hoë vestings. Ons het ook die Enakiete, die reuse, daar gesien.’
29
“Toe het ek vir julle gesê: ‘Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie.30 Die Here julle God gaan voor julle uit en Hy sal vir julle veg net soos Hy in Egipte voor julle eie oë alles vir julle gedoen het.
31 Julle het in die woestyn ondervind hoe die Here julle God julle die hele pad waarlangs julle tot hier toe gekom het, gedra het soos 'n man sy seun dra.’
32 Maar tog het julle nie julle vertroue gestel in die Here julle God
33 wat op die pad voor julle vooruit gegaan het om kampplekke vir julle uit te soek nie. Snags het Hy vir julle julle pad met vuur aangewys en bedags met 'n wolkkolom.
34
“Toe die Here hoor wat julle sê, het sy toorn ontvlam en het Hy 'n eed afgelê:35 ‘Nie een van hierdie slegte geslag sal die goeie land sien wat Ek, die Here, hulle voorvaders met 'n eed beloof het om aan hulle te gee nie.
36 Net Kaleb seun van Jefunne sal die land sien, en aan hom en sy nageslag sal Ek die grond gee waarop hy geloop het, want hy het die Here getrou gevolg.’
37
“Dit was oor julle dat die Here vir my kwaad geword het en gesê het: ‘Ook jý sal nie die land ingaan nie.38 Jou assistent, Josua seun van Nun, hý sal daar ingaan. Moedig hom aan, want dit is hý wat Israel die land in besit sal laat neem.
39 Julle babatjies van wie julle gesê het hulle sal buitgemaak word, en julle kleuters wat nou nog niks weet nie, hulle sal die land ingaan. Ek gee dit vir hulle en hulle sal dit in besit neem.
40 Julle moet nou omdraai en die woestyn in trek, al met die pad na die Rietsee toe.’
41
“Toe het julle uitgeroep: ‘Ons het teen die Here gesondig! Ons wil optrek en gaan veg soos die Here ons God ons beveel het.’ Julle het julle wapens gegryp en gedink dis kinderspeletjies om die Bergwêreld te gaan verower.42
“Maar die Here het vir my gesê: ‘Sê vir hulle hulle moenie optrek om te gaan oorlog maak nie, want Ek is nie by hulle nie. Hulle sal nie hulle vyande verslaan nie.’43 Ek het dit vir julle gesê, maar julle het nie geluister nie en in opstand gekom teen die opdrag van die Here. Julle was moedswillig en het na die Bergwêreld toe getrek,
44 maar die Amoriete wat in daardie gebied woon, het teen julle opgeruk en julle verjaag soos 'n swerm bye dit sou doen en julle van Seïr af tot by Gorma uitmekaar gejaag.
45 Toe het dit julle berou dat julle dit gedoen het en julle het julle nood by die Here kom kla, maar Hy het nie na julle geluister nie en Hom nie aan julle gesteur nie.
46 So het dit gekom dat julle so lank by Kades gebly het.”
1
“Later het ons die woestyn ingetrek, al met die Rietseepad soos die Here my beveel het. Dit het ons lank gevat om óm Seïrberg te trek.2 Toe het die Here vir my gesê:
3 ‘Julle het nou ver genoeg om hierdie berg getrek. Draai nou noord
4 en sê vir die volk: Julle staan op die punt om deur die gebied te trek van julle broers, die nageslag van Esau wat in Seïr woon. Hulle is bang vir julle, maar julle moet julle bedwing.
5 Moenie oorlog teen hulle maak nie, want Ek sal nie van hulle grond vir julle gee nie, nie eers 'n handbreedte nie, want Ek het Seïrberg vir Esau gegee as besitting.
6 Die kos en water wat julle nodig het, moet julle by hulle koop.’
7
“Die Here julle God het julle voorspoedig gemaak in alles wat julle gedoen het. Hy het sy oog oor julle gehou in hierdie groot woestyn, en in hierdie hele veertig jaar was die Here julle God by julle en het julle niks kortgekom nie.8
“Ons het toe verbygetrek by ons broers, die nageslag van Esau wat in Seïr woon, en ons het uit die Woestynpad weggedraai by Elat en Esjon-Geber en met die pad na die Moabwoestyn toe verbygetrek.9 Toe het die Here vir my gesê: ‘Moenie die Moabiete aanval en teen hulle oorlog maak nie, want Ek sal nie van hulle grond vir jou as besitting gee nie. Ek het Ar vir die nageslag van Lot gegee as besitting.’ ”
10
Die Emiete het voorheen in die gebied gewoon. Hulle was 'n groot en sterk volk. Net soos die Enakiete was hulle groot mense.11 Die Moabiete het hulle Emiete genoem, maar net soos die Enakiete is hulle as Refaïete beskou.
12 Die Goriete het vroeër in Seïr gewoon, maar die nageslag van Esau het hulle verslaan en uitgeroei en in hulle gebied gaan woon soos die Israeliete later met hulle vyande gedoen het in die land wat die Here vir hulle as besitting gegee het.
13
“Die Here het verder gesê: ‘Trek nou deur Seredspruit,’ en ons het deurgetrek.14 Vandat ons van Kades-Barnea af weg is tot ons deur Seredspruit getrek het, het ag en dertig jaar verloop. Teen daardie tyd was die weerbare manne uit die ouer geslag nie meer tussen ons nie, soos die Here destyds vir hulle met 'n eed aangekondig het.
15 Sy hand was teen hulle en Hy het hulle almal laat omkom.
16
“Toe al daardie weerbare manne onder die volk uitgesterf het,17 het die Here vir my gesê:
18 Jy staan op die punt om deur die Moabiete se gebied by Ar te trek,
19 en jy sal naby die grens van die Ammoniete kom. Moet hulle nie aanval en teen hulle oorlog maak nie, want Ek sal nie van hulle grond vir jou as besitting gee nie. Ek het dit vir die nageslag van Lot gegee as besitting.”
20
Die gebied is beskou as die land van die Refaïete, want hulle het vroeër hier gewoon. Die Ammoniete het hulle Samsummiete genoem.21 Hulle was 'n groot en sterk volk, net sulke groot mense as die Enakiete. Die Here het die Samsummiete voor die Ammoniete uit verdryf, en die Ammoniete het hulle verslaan en in hulle gebied gaan woon.
22 Die Here het dieselfde gedoen vir die nageslag van Esau wat in Seïr woon. Die Here het die Goriete voor hulle uit verdryf, en toe het die Edomiete hulle verslaan en in hulle gebied gaan woon. Die Edomiete woon nou nog daar.
23 Die Awwiete wat in dorpies tot by Gasa woon, is verdryf deur mense wat uit Kaftor gekom het en in die Awwiete se gebied gaan woon het.
24
“Die Here het vir my gesê: ‘Breek kamp af en trek deur die Arnonkloof. Ek gee die Amoriet, koning Sihon van Gesbon, en sy land in jou mag. Begin nou, neem sy land in besit, maak oorlog teen hom.25 Vandag bring Ek skrik en vrees vir jou oor al die volke op die aarde. Wanneer hulle hoor wat jy doen, sal hulle bewe en bang wees vir jou.’
26
“Uit die Kedemotwoestyn het ek boodskappers na koning Sihon van Gesbon toe gestuur. Ek het 'n vredesvoorstel gemaak en laat weet:27 ‘Laat my toe om met die pad deur jou land te trek. Ek sal al met die pad langs trek en nie links of regs uitdraai nie.
28 Verkoop aan my die kos en water wat ek nodig het. Ek wil net deurtrek
29 tot waar ek deur die Jordaanrivier gaan na die land toe wat die Here ons God vir ons gee. So het die Edomiete van Seïr en die Moabiete van Ar my ook laat doen.’
30
“Maar koning Sihon van Gesbon het geweier om ons deur sy gebied te laat trek, want die Here jou God het hom onversetlik gemaak. Die Here het hom koppig gemaak om hom in jou mag oor te gee. Hy is nou nog in jou mag.31
“Die Here het verder vir my gesê: ‘Let op, Ek gee Sihon en sy land van nou af in jou mag oor. Begin nou, verower sy land.’32
“Toe Sihon en sy hele leër optrek om by Jahas teen ons te veg,33 het die Here ons God hulle in ons mag oorgegee, en ons het hom en sy seuns en sy hele volk verslaan.
34 In daardie tyd het ons al sy stede verower en verwoes. Van hulle mans, vrouens en kinders het ons niemand laat vrykom nie.
35 Ons het net die vee en ook wat daar te buit was in die stede wat deur ons verower is, vir ons gevat.
36 Van Aroër op die Arnonoewer en die stad in die Arnonkloof af tot by Gilead was daar geen stad te sterk vir ons nie. Die Here ons God het hulle almal in ons mag oorgegee.
37 Soos die Here ons God ons beveel het, het ons nie die land van die Ammoniete binnegegaan nie: dit is die gebied aan Jabbokspruit en die stede in die bergagtige gebied.”
1
“Ons het weggedraai met die pad na Basan toe, en koning Og van Basan het met sy hele leër teen ons opgeruk om by Edreï teen ons te veg.2 Toe het die Here vir my gesê: ‘Moenie vir hom bang wees nie, want Ek gee hom en sy hele leër en sy hele land in jou mag oor, en jy moet met hom maak soos jy gemaak het met koning Sihon van die Amoriete, wat in Gesbon gewoon het.’
3
“Die Here ons God het toe vir koning Og van Basan en sy hele leër in ons mag oorgegee. Ons het hom verslaan en nie een van sy mense het weggekom nie.4 Ons het destyds ál sy stede verower. Daar is nie een van die sestig stede in die Argobstreek waar Og se ryk in Basan was, wat ons nie afgevat het van sy mense nie.
5 Al hierdie stede was versterk met hoë mure en met poorte met sluitbalke. Daar was ook baie dorpe sonder mure,
6 en ons het hulle almal heeltemal verwoes soos ons gemaak het met koning Sihon van Gesbon wie se stede ons met mans, vrouens, kinders en al uitgewis het.
7 Ons het net die vee en wat daar in die stede te buit was, vir ons gevat.
8
“Ons het destyds die gebied van die twee Amoritiese konings oos van die Jordaan afgevat: die gebied van die Arnonrivier af tot by Hermonberg,9 die berg wat Sirjon genoem word deur die mense van Sidon, en Senir deur die Amoriete.
10 Ons het ál die stede in die Hoogvlakte verower en die hele Gilead en Basan tot by Salka en Edreï, die stede en die ryk van Og in Basan.”
11
Net koning Og van Basan het destyds nog van die Refaïete oorgebly. Sy bed was van yster. Dit was sowat vier meter lank en amper twee meter breed, en is nou nog te sien in Rabba van die Ammoniete.12
“Ek het die gebied wat ons destyds verower het, van Aroër op die Arnonoewer af tot halfpad in die bergwêreld van Gilead en al die stede daarin, aan die stamme Ruben en Gad gegee.13 Die res van Gilead en die hele Basan, die vroeëre ryk van Og, het ek aan die halwe Manassestam gegee. Dit is die hele Argobgebied in Basan wat voorheen bekend was as die Refaïete se land.
14 Jaïr uit die nageslag van Manasse het die Argobstreek gevat tot by die grens van Gesur en Maäkat. Basan is toe na Jaïr vernoem, en dit staan nou nog bekend as die tentdorpe van Jaïr.
15 Ek het Gilead vir Makir gegee.
16 Ek het die gebied van Gilead af tot in die middel van die Arnonbedding vir die stamme Ruben en Gad gegee. Hulle noordgrens was Jabbokspruit, die grens van die Ammoniete se land,
17 en die wesgrens was die Jordaanvallei en die Jordaanrivier van Gennesaret af tot by die see in die Jordaanvallei, die Soutsee, onderkant die Pisgahange net oos van die see.
18
“Ek het destyds vir die drie stamme gesê: Die Here julle God het hierdie land vir julle gegee as julle besitting. Maar julle gewapende manne, elke weerbare man, moet die Jordaan oorsteek voor julle volksgenote uit.19 Net julle vrouens en kinders en vee, en ek weet julle het baie vee, mag agterbly in die stede wat ek vir julle gegee het.
20 Julle moet saam met julle volksgenote trek totdat die Here ook aan hulle, soos aan julle, 'n veilige woonplek gegee het, en ook húlle die land wat die Here julle God vir hulle sal gee, die land wes van die Jordaan, in besit geneem het.”
21
“Ek het destyds vir Josua gesê: ‘Jou twee oë het nou alles gesien wat die Here julle God met daardie twee konings gedoen het. So sal die Here doen met al die koninkryke waarnatoe jy nou gaan deurtrek.22 Moenie vir hulle bang wees nie. Die Here julle God sal vir julle veg.’
23
“Dit was toe dat ek die Here gesmeek het:24 ‘Here my God, U het begin om my u grootheid en u groot mag te laat ondervind. Watter god is daar, in die hemel of op die aarde, wat u magtige dade kan nadoen?
25 Laat my tog nou deur die Jordaan gaan om hierdie mooi land te gaan bekyk, die mooi Bergwêreld en die Libanon.’
26 Maar deur julle toedoen het die Here destyds vir my kwaad geword en daarom het Hy nie nou my gebed verhoor nie. Hy het vir my gesê: ‘Jy het nou al genoeg daaroor gepraat. Moenie weer met My oor hierdie saak praat nie.
27 Klim eerder Pisgaberg uit en kyk na die weste en die noorde, die suide en die ooste. Kyk daarna, want jy sal nie hierdie Jordaan oorsteek nie.
28 Gee vir Josua sy opdragte, praat hom moed in en gee hom raad, want hy moet voor hierdie volk uit deur die Jordaan trek en hy moet hulle die land wat jy sal sien, in besit laat neem.’
29 Daarom het ons in die laagte teenoor Bet-Peor gebly.”
1
“Israeliete, julle moet luister na die voorskrifte en die bepalings waarin ek julle onderrig. Julle moet daarvolgens lewe, dan sal julle bly lewe en die land binnegaan en in besit neem wat die Here die God van julle voorvaders vir julle sal gee.2 Moenie iets byvoeg by wat ek julle beveel nie en moet ook nie iets daarvan wegvat nie, maar gehoorsaam die Here julle God se gebooie wat ek julle gegee het.
3 Julle eie oë het gesien wat die Here by Baäl-Peor gedoen het: elkeen wat vir Baäl-Peor gedien het, is deur die Here julle God tussen julle uit verdelg.
4 Maar julle wat getrou gebly het aan die Here julle God, lewe vandag nog almal.
5 Kyk, ek het julle die voorskrifte en die bepalings geleer soos die Here my God my beveel het. Julle moet daarvolgens lewe wanneer julle in die land kom en dit in besit neem.
6 Gehoorsaam die voorskrifte en lewe daarvolgens, want daaraan sal die ander volke sien dat julle wysheid en insig het. Hulle sal van al hierdie voorskrifte hoor en sê: ‘Net hierdie groot nasie het wysheid en insig.’
7 Watter groot nasie se god is so by hom soos die Here ons God by ons is elke keer as ons tot Hom bid?
8 Watter groot nasie se voorskrifte en bepalings is so billik as hierdie wet wat ek vandag vir julle gee?
9
“Pas net op en wees baie versigtig om so lank julle leef, nie hierdie dinge wat julle gesien het, te vergeet of te verontagsaam nie. Julle moet dit alles vir julle kinders en julle kleinkinders inskerp.10 Julle moet hulle van dié dag laat leer toe julle by Horebberg gestaan het in die teenwoordigheid van die Here julle God, van dié dag toe Hy vir my gesê het: ‘Maak die volk vir My bymekaar dat Ek hulle my gebooie wat hulle moet ken, kan meedeel sodat hulle My kan dien so lank hulle in hierdie land lewe en sodat hulle my gebooie vir hulle kinders kan leer.’
11
“Julle het toe nader gekom en aan die voet van die berg gaan staan. Die berg het gebrand, die vuur was tot in die hemel, en daar was 'n rookwolk wat dit stikdonker gemaak het.12 Toe het die Here uit die vuur uit met julle gepraat. Julle het woorde gehoor maar niemand gesien nie. Daar was net 'n stem.
13 Die Here het julle die bepalings van sy verbond meegedeel en julle beveel om hulle te gehoorsaam: die tien gebooie wat Hy op die twee plat klippe geskryf het.
14 Die Here het my destyds beveel om julle die voorskrifte en die bepalings te leer sodat julle daarvolgens kan lewe in die land waarheen julle sal deurtrek om dit in besit te gaan neem.
15 Pas op! Die lewe is vir julle op die spel. Die Here self het met julle op Horeb uit die vuur uit gepraat, al het julle dié dag niemand gesien nie.
16 Moenie julle eie ondergang soek deur vir julle 'n afbeelding as afgodsbeeld te maak nie: nie van 'n man of 'n vrou nie,
17 nie van enige dier op die aarde of van enige voël in die lug nie,
18 nie van enigiets wat op die aarde kruip of van enige vis in die waters onder die aarde nie.
19
“Wanneer julle na die hemelruim opkyk, die son, die maan en die sterre, enige hemelliggaam, moet julle nie julle hoop op hulle vestig nie. Moet julle nie laat verlei om hulle te vereer en te dien nie. Die Here julle God het hulle toegeken aan al die volke op die aarde.20
“Vir julle het die Here gevat en uit die ystersmeltoond, uit Egipte, uitgelei om sy volk te wees wat aan Hom behoort soos dit vandag dan ook die geval is.21 Deur julle toedoen het die Here vir my kwaad geword en dit met 'n eed bevestig dat ek nie deur die Jordaan sou gaan en in die goeie land sou kom wat die Here julle God aan julle as besitting sal gee nie.
22 Ek sal in hierdie land sterf. Ek sal nie die Jordaan oorsteek nie, maar julle sal deurtrek en daardie goeie land in besit neem.
23 Wees versigtig om nie die verbond wat die Here julle God met julle gesluit het, te vergeet nie. Pas op om nie vir julle 'n afgodsbeeld te maak nie. Die Here jou God het jou dit verbied.
24 Die Here jou God is 'n verterende vuur, Hy eis onverdeelde trou aan Hom.
25
“Wanneer julle kinders en kleinkinders het en julle oud geword het in die land, moet julle nie julle eie ondergang soek deur 'n afgodsbeeld te maak nie, want dan doen julle wat verkeerd is in die oë van die Here julle God en tart julle Hom.26 Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat julle dan baie gou en baie beslis sal verdwyn uit die land wat julle in besit gaan neem sodra julle deur die Jordaanrivier trek. Julle sal nie lank in die land bly woon nie, julle sal beslis uitgeroei word.
27 Die Here sal julle verstrooi onder die volke, net 'n klein klompie van julle sal oorbly onder die nasies waarheen die Here julle sal lei.
28 Dáár sal julle gode dien wat deur mense gemaak is: hout en klip wat nie kan sien of hoor, eet of ruik nie.
29 As julle die Here julle God dáár aanroep, sal Hy julle gebed verhoor as julle Hom nader in onverdeelde trou.
30
“Wanneer julle in nood verkeer deurdat hierdie dinge in die toekoms oor julle kom, moet julle terugkom na die Here julle God, en sy woord gehoorsaam.31 Die Here julle God is 'n genadige God. Hy sal julle nie in die steek laat of om die lewe bring nie. Hy sal nie die verbond vergeet wat Hy met 'n eed aan julle voorvaders bevestig het nie.
32
“Gaan stel ondersoek in na die verre verlede, na die dae lank voor julle tyd, van die tyd af toe God die mens op die aarde geskep het, van die een uiteinde van die hemel af tot by die ander uiteinde, en kyk of iets so magtigs al gebeur het en of so iets al gehoor is.33 Het 'n volk die stem van sy god uit die vuur uit hoor praat, soos julle die stem van julle God gehoor het, en het hy bly lewe?
34 Het 'n god dit ooit gewaag om vir hom 'n nasie te kom vat by 'n ander nasie, en dít met rampe, tekens, wonders, oorlog, magtige dade, wonderlike, groot dade waarvoor mense vreesbevange word? Dit alles het die Here julle God voor julle eie oë in Egipte vir julle gedoen.
35 Dit is vir julle gewys dat julle kan besef die Here is God, en dat daar naas Hom nie 'n ander is nie.
36 Hy het julle sy stem uit die hemel laat hoor om julle te onderrig en Hy het julle sy groot vuur op die aarde laat sien en julle het sy woorde uit die vuur uit gehoor.
37 Omdat die Here julle voorvaders liefgehad het en hulle nageslag uitgekies het, het Hy julle deur sy groot krag in sy teenwoordigheid laat trek uit Egipte uit
38 om nasies, groter en sterker as julle, voor julle uit te verdryf en om julle in hulle land in te bring en dit aan julle te gee as julle besitting. En so is dit nou nog.
39
“Weet dan nou en neem dit ter harte: die Here is God. In die hemel daarbo en op die aarde hieronder is daar nie nog 'n god nie.40 Gehoorsaam sy voorskrifte en sy gebooie wat ek julle vandag beveel, sodat dit goed kan gaan met julle en julle nageslag en julle lank kan woon in die land wat die Here julle God vir altyd aan julle wil gee.”
41
Toe het Moses drie stede oos van die Jordaan uitgesonder as stede42 waarheen iemand kon vlug as hy 'n ander doodgemaak het sonder voorbedagte rade en sonder dat daar voorheen vyandskap tussen hulle was. As hy dan na een van hierdie stede toe vlug, kon hy bly lewe.
43 Die stede was: Beser in die Woestynhoogvlakte vir Ruben, Ramot in Gilead vir Gad, en Golan in Basan vir Manasse.
44
Dit is die wet wat Moses vir die Israeliete gegee het:45 [45-46] die verordeninge en voorskrifte en bepalings wat Moses aan die oostekant van die Jordaan in die vlakte regoor Bet-Peor vir die Israeliete afgekondig het nadat hulle uit Egipte weggetrek het. Bet-Peor was geleë in die gebied van koning Sihon van die Amoriete wat in Gesbon gewoon het en deur Moses en die Israeliete verslaan is nadat hulle uit Egipte weggetrek het.
46
47 Hulle het Sihon se gebied en dié van koning Og van Basan in besit geneem. Sihon en Og was die twee Amoritiese konings aan die oostekant van die Jordaan,
48 en hulle gebied het gestrek van Aroër op die Arnonoewer af tot by Sionsberg, dit is Hermon,
49 met insluiting van die oostekant van die Jordaanvallei tot by die see in die Jordaanvallei onderkant die Pisgahange.
1
Moses het die hele volk bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Israeliete, luister na die voorskrifte en die bepalings wat ek vandag hier in julle teenwoordigheid aankondig. Julle moet dit leer, dit gehoorsaam en daarvolgens lewe.2 Die Here ons God het by Horeb 'n verbond met ons gesluit.
3 Dit is nie ons voorvaders met wie Hy hierdie verbond gesluit het nie, maar ons, ons almal wat hier is en nou lewe.
4 Ja, met julle persoonlik het die Here op die berg uit die vuur uit gepraat.
5 Ek het destyds tussen die Here en julle gestaan om die gebod van die Here aan julle deur te gee, want julle was bang vir die vuur en julle het nie teen die berg uitgeklim nie.
“Die Here het gesê:6
“ ‘Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.7 Jy mag naas My geen ander gode hê nie.
8
“ ‘Jy mag nie vir jou 'n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie.9 Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek die Here jou God eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat,
10 maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.
11
“ ‘Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal dié een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.12
“ ‘Jy moet die sabbatdag so deurbring dat jy dit heilig hou, soos die Here jou God jou beveel het.13 Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet,
14 maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of jou bees of jou donkie of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie, sodat jou werksmense kan rus soos jy.
15 Jy moet daaraan dink dat jy in Egipte 'n slaaf was en dat die Here jou God jou deur sy groot krag en met magtige dade daaruit bevry het. Daarom het die Here jou God jou beveel om die sabbatdag te onderhou.
16
“ ‘Eer jou vader en jou moeder, soos die Here jou God jou beveel het, dan sal jy 'n lang lewe hê en sal dit goed gaan met jou in die land wat die Here jou God vir jou gee.17
“ ‘Jy mag nie moord pleeg nie.18
“ ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.19
“ ‘Jy mag nie steel nie.20
“ ‘Jy mag nie vals teen 'n ander getuig nie.21
“ ‘Jy mag nie iemand anders se vrou begeer nie. Jy mag nie sy huis begeer nie, ook nie sy grond, sy slaaf of slavin, sy bees of donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.’22
“Die Here het by die berg al hierdie gebooie duidelik hoorbaar aan julle hele gemeente gegee, uit die vuur en die stikdonker wolk uit, en toe het Hy stilgebly. Daarna het Hy dit op twee plat klippe geskryf en dit vir my gegee.”23
“Toe julle die stem uit die donkerte uit gehoor het terwyl die berg gebrand het, het al julle stamhoofde en leiers na my toe gekom24 en gesê: ‘Die Here ons God het ons sy mag en sy grootheid laat sien, en ons het sy stem uit die vuur uit gehoor. Vandag het ons ondervind dat God met mense praat, en hulle bly lewe.
25 Maar as ons weer die stem van die Here ons God hoor, sal ons sterf, want hierdie groot vuur sal ons verteer. Waarom moet ons die gevaar loop om te sterf?
26 Watter mens het die stem van die lewende God wat uit die vuur uit praat, gehoor soos ons en bly lewe?
27 Gaan jy nader en luister na wat die Here ons God sê, dan kan jy alles wat Hy vir jou sê, vir ons vertel en ons sal dit gehoorsaam en daarvolgens lewe.’
28
“Toe die Here hoor wat julle vir my sê, het Hy vir my gesê: Ek het gehoor wat hierdie volk vir jou gesê het. Wat hulle gesê het, is goed.29 Mag hulle altyd soveel eerbied vir My hê en al my gebooie gehoorsaam sodat dit altyd goed kan gaan met hulle en hulle nageslag.
30 Gaan sê vir hulle hulle moet teruggaan na hulle tente toe.
31 Maar jy moet hier by My kom staan. Ek wil die hele wet vir jou gee, die voorskrifte en die bepalings wat jy vir hulle moet leer, en waarvolgens hulle moet lewe in die land wat Ek vir hulle gee om te besit.
32 Julle moet nougeset doen wat die Here julle God julle beveel het. Julle moet nie in enige opsig daarvan afwyk nie.
33 Bly op die pad wat die Here julle God vir julle aangewys het, sodat julle kan bly lewe en voorspoedig kan wees en lank kan woon in die land wat julle in besit sal neem.”
1
“Dit is die wet, die voorskrifte en die bepalings, wat die Here julle God my beveel het om vir julle te leer, sodat julle daarvolgens kan lewe in die land wat julle in besit gaan neem.2
“So sal jy die Here jou God jou lewe lank kan dien en gehoorsaam wees aan sy voorskrifte en gebooie wat ek jou gegee het, jy en jou hele nageslag, en dan sal jy 'n lang lewe hê.3 As jy luister, Israel, en as jy gehoorsaam is en lewe volgens my gebooie, sal jy voorspoedig wees en uitermate baie word in die land wat oorloop van melk en heuning. Dit is wat die Here die God van jou voorvaders jou beloof het.
4
“Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here.5 Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.
6
“Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly.7 Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.
8 Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet 'n merk op jou voorkop wees.
9 Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte.
10
“Die Here jou God sal jou bring in die land waarvan Hy met 'n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om vir jou groot en mooi stede te gee wat jy nie gebou het nie,11 huise vol voorrade waarvoor jy nie gewerk het nie, putte wat jy nie uitgekap het nie, wingerde en olyfboorde wat jy nie geplant het nie, en jy sal kos in oorvloed hê.
12 Maar sorg dat jy nie dan die Here vergeet wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het nie.
13 Jy moet die Here jou God eer en dien en net in sy Naam 'n eed aflê.
14
“Jy mag nie ander gode aanhang nie, ook nie gode van die volke in jou omgewing nie,15 want die Here jou God eis onverdeelde trou aan Hom. Hy is by jou, en as jy ander gode aanhang, sal sy toorn teen jou ontvlam en sal Hy jou van die aarde af wegvee.
16
“Julle mag nie die geduld van die Here julle God op die proef stel soos julle by Massa gedoen het nie.17 Julle moet die gebooie van die Here julle God, sy verordeninge en sy voorskrifte, wat Hy jou gegee het, stiptelik gehoorsaam.
18
“Doen wat reg is in die oë van die Here, sodat dit goed kan gaan met jou en dat jy die goeie land wat die Here met 'n eed aan jou voorvaders beloof het, kan ingaan en in besit neem,19 dat jy al jou vyande kan verdryf soos die Here belowe het.
20
“Wanneer jou seun jou in die toekoms vra: Wat beteken die verordeninge en die voorskrifte en die bepalings wat die Here ons God vir u gegee het?21 moet jy hom antwoord: Ons was in Egipte die farao se slawe, en die Here het ons daar deur sy magtige dade bevry
22 toe Hy voor ons oë tekens en groot wonderdade gedoen het en rampe oor Egipte laat kom het, oor die farao en sy hele huis.
23 Maar vir ons het die Here daarvandaan laat wegtrek om ons in hierdie land te bring en dit vir ons te gee soos Hy aan ons voorvaders met 'n eed belowe het.
24 Die Here het ons beveel om volgens al hierdie voorskrifte te lewe en om die Here ons God te dien, sodat dit altyd goed kan gaan met ons en sodat ons kan bly lewe soos dit nou die geval is.
25 Ons sal die wil van die Here ons God doen as ons hierdie hele wet in sy teenwoordigheid gehoorsaam en daarvolgens lewe soos Hy ons beveel het.”
1
“Die Here jou God sal jou bring in die land waarheen jy op pad is en wat jy in besit sal neem. Hy sal baie nasies voor jou uit verdryf: Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Wanneer die Here jou God hierdie sewe nasies wat groter en sterker is as jy,2 in jou mag oorgee en jy hulle verslaan, moet jy hulle om die lewe bring as banoffer aan die Here jou God. Jy mag hulle nie jammer kry en 'n verbond met hulle sluit nie.
3 Jy mag nie met hulle ondertrou nie: jou dogter mag jy nie aan een van hulle seuns gee nie en vir jou seun mag jy nie een van hulle dogters as vrou vat nie,
4 want hulle sal jou kinders wegrokkel van die Here af en hulle sal ander gode dien. Dan sal die toorn van die Here teen jou ontvlam en Hy sal jou gou uitdelg.
5
“Maar wat jy met die nasies moet doen, is dit: breek hulle altare af, breek hulle klippilare stukkend, kap hulle gewyde pale in stukkies en verbrand hulle afgodsbeelde.6 Jy is 'n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees.
7
“Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal.8 Omdat die Here jou liefhet en Hy sy belofte nakom wat Hy met 'n eed bekragtig het aan jou voorvaders, het Hy jou deur sy groot krag laat wegtrek en jou bevry uit die plek van slawerny, uit die mag van die farao, die koning van Egipte.
9
“Weet dan nou: die Here jou God, Hy is God. Hy is die betroubare God wat sy verbond in stand hou en sy troue liefde betoon tot aan die duisendste geslag van hulle wat Hom liefhet en sy gebooie gehoorsaam,10 maar Hy straf elkeen wat Hom haat, Hy bring hom om, Hy laat nie na om elkeen wat Hom haat, te straf nie.
11 Daarom moet jy die gebod, die voorskrifte en die bepalings wat ek jou vandag gegee het, gehoorsaam deur daarvolgens te lewe.
12
“As jy goed luister na hierdie bepalings en hulle gehoorsaam en daarvolgens lewe, sal die Here jou God sy verbond nakom en sy troue liefde aan jou betoon soos Hy aan jou voorvaders met 'n eed beloof het.13 Hy sal jou liefhê, Hy sal jou voorspoedig maak en jou 'n groot volk maak. Hy sal jou nageslag voorspoedig maak en Hy sal jou grond 'n ryk oes laat lewer: volop koring, wyn en olie. Hy sal jou grootvee en jou kleinvee vinnig laat aanteel. Dit alles sal Hy doen in die land wat Hy met 'n eed aan jou voorvaders beloof het om vir jou te gee.
14 Dit sal met jou beter gaan as met al die volke. Nie een van jou mense of jou vee sal onvrugbaar wees nie.
15 Die Here sal elke soort siekte van jou af weghou. Nie een van Egipte se dodelike siektes wat jy maar alte goed ken, sal Hy jou laat tref nie. Hy sal dit jou vyande laat tref.
16 Jy moet al die volke wat deur die Here jou God in jou mag oorgegee word, uitroei. Moenie een van hulle spaar nie en moenie hulle gode dien nie: hulle is valstrikke vir jou.
17
“Jy kan dalk dink: hierdie nasies is sterker as ek. Hoe sal ek hulle kan verdryf?18
“Moenie vir hulle bang wees nie. Dink net wat die Here jou God met die farao en die hele Egipte gedoen het.19 Jy het met jou eie oë gesien met watter groot plae en tekens en wonders, met watter magtige dade en wonderdade die Here jou God jou bevry het. Hy sal met al die volke vir wie jy bang is, maak soos met Egipte.
20 Die Here jou God sal die nasies die skrik op die lyf jaag totdat ook dié wat oorgebly het en vir jou weggekruip het, uitgewis is.
21 Moenie vir hulle bang wees nie, want die Here jou God is by jou en Hy is 'n groot en magtige God.
22 Hy sal daardie nasies die een na die ander verdryf. Jy sal hulle nie almal sommer dadelik kan uitwis nie, want dan sal die wilde diere vir jou te veel word.
23 Die Here jou God sal die nasies in jou mag oorgee. Hy sal hulle in groot verwarring bring totdat hulle uiteindelik vernietig is.
24 Hy sal hulle konings in jou mag gee, en jy sal hulle heeltemal van die aarde af wegvee. Niemand sal jou kan teenstaan nie, jy sal hulle uitdelg.
25 Jy moet hulle afgodsbeelde verbrand. Moenie die silwer en goud wat aan die beelde is, begeer en vir jou vat nie. Jy kan daardeur in 'n valstrik trap: die afgodsbeelde is afskuwelike goed in die oë van die Here jou God.
26 Moenie so iets afskuweliks in jou huis inbring nie, want dan is jy gedoem om vernietig te word. Jy moet dit verafsku en as afskuwelik beskou; dit moet vernietig word.”
1
“Jy moet elke gebod wat ek jou vandag gee, gehoorsaam en daarvolgens lewe. Dan sal jy bly lewe, baie word, die land ingaan en dit in besit neem soos die Here met 'n eed aan jou voorvaders beloof het.2
“Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie.3 Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat 'n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.
4 Jou klere het in die veertig jaar nie verslyt nie, en jou voete het nie geswel nie.
5 Jy moet diep in jou hart weet: soos 'n man dissipline by sy seun kweek, so het die Here jou God vir jou dissipline geleer.
6
“Jy moet die gebooie van die Here jou God gehoorsaam en sy wil doen. Jy moet Hom dien,7 want Hy sal jou in 'n goeie land bring: 'n land met waterstrome, met fonteine en riviere wat in valleie en berge ontspring,
8 'n land met koring en gars, wingerde, vyebome en granate, 'n land met volop olyfolie en heuning,
9 'n land sonder armoede, waarin jy genoeg sal eet en niks sal kortkom nie, 'n land waarin daar volop yster in die klippe is en waar jy kan koper delf in die berge.
10
“Telkens wanneer jy genoeg geëet het, moet jy die Here jou God dank vir hierdie goeie land wat Hy aan jou gegee het.11 Sorg dat jy nie die Here jou God vergeet deurdat jy nie gehoorsaam is aan sy gebooie en bepalings en voorskrifte wat ek jou vandag gee nie.
12 As jy nie gehoorsaam is nie, kan dit gebeur dat jy genoeg eet en mooi huise bou en rustig woon,
13 dat jou grootvee en jou kleinvee baie word, dat jou silwer en goud vermeerder en jou besittings al hoe meer word,
14 en dat jy dan hoogmoedig word en die Here jou God vergeet wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.
15 Dit is Hy wat jou laat trek het deur hierdie groot en gevaarlike woestyn vol giftige slange en skerpioene, dit is Hy wat vir jou water uit die klipharde rots laat vloei het in hierdie dor land sonder water
16 en wat jou in die woestyn manna laat eet het, iets wat jou voorvaders nie geken het nie. Hy het jou laat swaarkry om jou op die proef te stel en om agterna weer aan jou goed te doen.
17 Jy kan dalk dink: my krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf.
18 Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die rykdom te verwerf. So hou Hy die verbond in stand wat Hy met 'n eed aan jou voorvaders beloof het. So is dit nou nog.
19
“As jy ooit die Here jou God vergeet en ander gode aanhang en hulle dien en vereer, verklaar ek vandag dat jy beslis tot niet sal gaan.20 Omdat jy dan nie gehoorsaam is aan die woord van die Here jou God nie, sal jy net so omkom soos die nasies vir wie die Here laat omkom het.”
1
“Luister, Israel, jy gaan nou deur die Jordaanrivier trek om nasies te gaan verdryf wat groter en sterker is as jy en om groot stede wat met hoë mure versterk is, te gaan verower.2 Jy weet hoe 'n groot en sterk volk die Enakiete is. Jy het gehoor daar word gevra: ‘Wie kan die Enakiete teëstaan?’
3 Maar onthou: die Here jou God gaan voor jou uit deur die Jordaan. Hy is 'n verterende vuur. Hy sal die Enakiete oorweldig en aan jou onderwerp. Dan sal jy hulle kan verslaan en hulle gou uitwis soos die Here jou beloof het.
4
“Wanneer die Here jou God hulle verdryf het, moet jy nie sê: ‘Die Here het my hierdie land in besit laat neem omdat ek volmaak is’ nie, want die Here het hierdie nasies verdryf omdat hulle so goddeloos is.5 Dit is nie omdat jy volmaak en opreg is dat jy sal ingaan om hulle land in besit te neem nie. Omdat hierdie nasies so goddeloos is, sal die Here jou God hulle verdryf, en so sal Hy die belofte vervul wat Hy met 'n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob gemaak het.
6 Jy moet goed onthou dat die Here jou God nie hierdie goeie land vir jou gee om in besit te neem omdat jy volmaak is nie. Jy is 'n hardkoppige volk.”
7
“Moenie vergeet hoe julle die Here julle God kwaad gemaak het in die woestyn nie. Vandat julle uit Egipte weggetrek het totdat julle hier op hierdie plek aangekom het, was julle die hele tyd in opstand teen die Here.8 By Horeb het julle gemaak dat die toorn van die Here ontvlam, en Hy het so kwaad geword vir julle dat Hy julle wou uitroei.
9 Ek het teen die berg uitgeklim om die plat klippe te gaan ontvang, die plat klippe waarop die Here die bepalings van sy verbond met julle geskryf het. Ek het veertig dae en veertig nagte lank daar gebly en niks geëet of gedrink nie.
10 Die Here het vir my die twee plat klippe gegee waarop met sy eie vinger al die woorde geskryf was wat Hy op die berg uit die vuur uit met julle gepraat het, die dag met die vergadering.
11 Dit was aan die einde van die veertig dae en die veertig nagte dat die Here die twee plat klippe, die plat klippe met die verbondsbepalings daarop, vir my gegee het.
12
“Toe het die Here vir my gesê: ‘Gaan gou ondertoe, want jou volk wat jy uit Egipte laat trek het, het afvallig geword. Hulle het baie gou weggedraai van die koers af wat Ek vir hulle aangewys het, en hulle het vir hulle 'n afgodsbeeld gegiet.’13
“Die Here het verder vir my gesê: ‘Ek het gesien dat dit 'n hardkoppige volk is hierdie.14 Jy moet My nie probeer keer nie. Ek wil hulle uitwis en hulle naam van die aarde af wegvee. Dan sal Ek jou 'n sterk nasie maak, groter as hulle.’
15
“Toe het ek omgedraai en terwyl die berg gebrand het, het ek afgegaan met die twee klippe van die verbond in my hande.16 Ek het gesien hoe julle teen die Here julle God gesondig het deurdat julle vir julle 'n beeld in die vorm van 'n bulkalf gemaak het. Julle het baie gou weggedraai van die koers af wat die Here vir julle aangewys het.
17 Ek het die twee plat klippe wat ek in my hande gehad het, flenters gegooi in julle teenwoordigheid.
18 Daarna het ek, soos die eerste keer, veertig dae en veertig nagte lank voor die Here gelê en gebid. Ek het niks geëet en gedrink nie oor die groot sonde wat julle gedoen het. Julle het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en Hom uitgetart.
19 Ek was bang, want die toorn, die gramskap van die Here, het so teen julle ontvlam dat Hy julle wou uitroei. Maar ook hierdie keer het die Here na my geluister.
20
“Die Here was so kwaad vir Aäron dat die Here hom om die lewe wou bring, maar ek het destyds ook vir hom gebid.21 Ek het daardie gruwelike ding, die kalf wat julle gemaak het, gevat en in die vuur gegooi. Toe het ek dit stukkend geslaan en dit so fyn soos stof gemaal en dit in die spruit gegooi wat van die berg af kom.
22
“Julle het die Here ook nog by Tabera, by Massa en by Kibrot-Taäwa kwaad gemaak.23
“Toe die Here julle van Kades-Barnea af weggestuur het, het Hy gesê: ‘Trek op en neem die land wat Ek vir julle gegee het, in besit.’ Maar julle het in opstand gekom teen die bevel van die Here julle God. Julle het nie op Hom vertrou nie en Hom nie gehoorsaam nie.24 Vandat ek julle leer ken het, was julle in opstand teen die Here.
25
“Ek het die veertig dae en veertig nagte voor die Here gelê en gebid, want Hy wou julle vernietig.26 Ek het tot Hom gebid: Here my God, moet tog nie u volk vernietig nie. Hy is u eiendom, U het hom gered toe U hom deur u groot mag en met kragtige dade uit Egipte laat wegtrek het.
27 Onthou tog u dienaars Abraham, Isak en Jakob. Moenie aandag gee aan die hardkoppigheid van hierdie volk nie, aan hulle opstandigheid en hulle sonde nie.
28 Waarom moet die mense van die land waaruit U ons laat trek het, sê: ‘Omdat die Here nie die Israeliete kon bring in die land wat Hy hulle beloof het nie en omdat Hy hulle haat, het Hy hulle laat wegtrek om hulle in die woestyn om die lewe te bring?’
29 Hulle is tog u volk, u eiendom wat U deur u groot mag en met kragtige dade laat wegtrek het!”
1
“Destyds het die Here vir my gesê: ‘Kap vir jou twee plat klippe soos die voriges en klim die berg uit na My toe. Maak ook 'n ark van hout.2 Ek sal op die klippe die gebooie skryf wat op die voriges was wat jy stukkend gegooi het. Dan moet jy die twee plat klippe in die ark sit.’
3
“Ek het die ark van doringhout gemaak en ek het twee plat klippe soos die voriges gekap. Toe het ek teen die berg uitgeklim met die twee plat klippe in my hand.4 Die Here het in dieselfde skrif as tevore die tien gebooie geskryf wat Hy op die berg, die dag toe die volk bymekaargekom het, uit die vuur uit vir julle gegee het. Daarna het Hy die twee plat klippe vir my gegee.
5 Toe het ek van die berg af gekom en soos die Here my beveel het, het ek die plat klippe in die ark gesit wat ek gemaak het. Hulle is nog daar.”
6
“Die Israeliete het weggetrek van die putte van Bene-Jaäkan af na Moserot toe. Daar is Aäron oorlede, en daar is hy begrawe. Sy seun Eleasar het toe in sy plek priester geword.7 Van daar af het hulle na Gor-Gidgad toe getrek en van daar af na Jotbata toe, 'n waterryke gebied.
8 Destyds het die Here die Levistam afgesonder om die verbondsark van die Here te dra, om in sy teenwoordigheid diens te doen en sy dienaars te wees, en om die volk in die Naam van die Here te seën. En so is dit vandag nog.
9 Daarom het die Leviete nie 'n eie grondgebied tussen hulle volksgenote gekry nie, want Levi ontvang van wat die Here self toekom, soos die Here jou God hom beloof het.”
10
Moses het verder gesê: “Soos die eerste keer het ek veertig dae en nagte op die berg gebly. Ook hierdie keer het die Here na my geluister. Hy wou jou nie meer uitroei nie.11 Toe het Hy vir my gesê: ‘Jy moet die volk laat wegtrek en hulle lei sodat hulle die land kan binnegaan en in besit neem. Dit is die land wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee.’
12
“En nou, Israel, die Here jou God vra net dat jy Hom moet eer, sy wil moet gehoorsaam, Hom moet liefhê en dien met hart en siel.13 Gehoorsaam die gebooie en voorskrifte wat die Here jou vandag deur my gee. Dit sal tot jou voordeel wees.
14 Die hemel, selfs die hoogste hemel, behoort aan die Here jou God, ook die aarde en alles daarop.
15 En tog het Hy sy liefde net aan jou voorvaders betoon en vir julle, hulle nageslag, uit al die volke uitgekies. Dit is nou nog so.
16
“Wy jou aan Hom en moenie hardkoppig wees nie.17 Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige, wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie.
18
“Hy laat reg geskied aan die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdeling lief en gee vir hom kos en klere.19 Jy moet ook die vreemdelinge liefhê, want jy was self 'n vreemdeling in Egipte.
20 Jy moet die Here jou God eer, Hom dien en aanhang, en wanneer jy 'n eed aflê, moet jy dit in sy Naam doen.
21 Jy moet Hom prys, want Hy is jou God en Hy het al hierdie magtige wonderdade wat jy met jou eie oë gesien het, vir jou gedoen.
22 Toe jou voorvaders Egipte toe is, was hulle net sewentig; maar nou het die Here jou God jou so baie gemaak soos die sterre in die lug.”
1
“Julle moet die Here julle God liefhê en altyd sy opdragte gehoorsaam: al sy voorskrifte en bepalings en gebooie.2 Vandag weet julle hoe die Here julle onderrig het, want julle, en nie julle kinders nie, het dit beleef en gesien: sy grootheid, sy magtige dade, sy wonderdade,
3 sy tekens, alles wat Hy in Egipte gedoen het met die farao, koning van Egipte, en sy hele land.
4 Julle het beleef wat Hy gedoen het met die leër van Egipte, sy perde en sy strydwaens wat die Here deur die water van die Rietsee laat verswelg het toe hulle julle agtervolg het. Die Here het hulle mag so gebreek dat hulle nou nog nie herstel het nie.
5
“Julle het self beleef wat Hy vir julle gedoen het in die woestyn en totdat julle tot hier gekom het,6 wat Hy gedoen het met Datan en Abiram, seuns van Eliab seun van Ruben, toe die aarde oopgeskeur het en hulle en hulle familie en hulle eiendom, selfs al hulle vee ingesluk het voor die oë van al die Israeliete.
7 Met julle eie oë het julle al hierdie groot dade gesien wat die Here gedoen het.
8
“Julle moet alles gehoorsaam wat ek julle vandag beveel, sodat julle sterk kan optree en die land wat julle gaan verower, kan binnegaan en in besit neem.9 As julle gehoorsaam is, sal julle baie lank bly woon in die land wat die Here met 'n eed beloof het om aan julle voorvaders en hulle nageslag te gee. Dit is 'n land wat oorloop van melk en heuning.
10 Die land wat julle in besit gaan neem, is nie soos Egipte waar julle vandaan kom nie, waar julle julle saad gesaai het en wat julle dan met baie moeite natgelei het asof dit 'n groentetuin is.
11 Die land wat julle in besit gaan neem, is 'n land met berge en vlaktes en word nat gemaak met reënwater.
12 Dit is 'n land waarvoor die Here jou God sorg: van nuwejaarsdag af tot oujaarsdag toe hou Hy ononderbroke sy oog daaroor.
13
“As julle al die gebooie wat ek julle vandag gee, stiptelik gehoorsaam en die Here julle God liefhet en dien met hart en siel,14 sal Hy vir julle land sy reën gee op die regte tyd, lente- en somerreëns, en julle sal koring, wyn en olie oes.
15 Die Here sal sorg vir groen gras op julle veld vir julle vee, en julle sal oorgenoeg hê om te eet.
16
“Pas op dat julle nie verlei word om ander gode te gaan dien en vereer nie,17 want dan sal die toorn van die Here teen julle ontvlam, en Hy sal dit nie laat reën nie, die aarde sal nie meer sy opbrengs lewer nie, en julle sal baie gou verdwyn uit die goeie land wat die Here aan julle gee.
18 Hierdie woorde van die Here moet julle lewe vul. Julle moet dit as herinneringsteken vasbind aan julle hande en dit moet 'n merk op julle voorkoppe wees.
19
“Leer dit vir jou kinders deur met hulle daaroor te praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.20 Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte.
21 Dan sal julle en julle nageslag lank, ja, so lank as die hemel en die aarde sal bestaan, bly woon in die land wat die Here met 'n eed beloof het om aan julle voorvaders te gee.
22
“As julle al hierdie gebooie wat ek julle vandag gee, stiptelik gehoorsaam deur daarvolgens te lewe en die Here julle God lief te hê, sy wil te doen en Hom aan te hang,23 sal Hy al hierdie nasies verdryf, en dan sal julle die grondgebied van nasies wat groter en sterker is as julle, in besit neem.
24 Elke plek waar julle kom, sal julle s'n wees: van die woestyn in die suide af tot by Libanonberg in die noorde, van die rivier, die Eufraatrivier, in die ooste af tot by die see in die weste. Dit sal julle grense wees.
25 Niemand sal teen julle kan bly staan nie. Soos die Here beloof het, sal Hy orals waar julle gaan, 'n skrik en angs vir julle oor die land laat kom.
26 Let op, ek hou julle vandag die seën en die straf voor:
27 die seën sal kom as julle die gebooie van die Here julle God gehoorsaam, wat ek julle vandag gee;
28 die straf sal kom as julle ongehoorsaam is aan die gebooie van die Here julle God en die pad verlaat wat ek julle vandag aangewys het en ander gode aanhang waarvan julle nou nog nie eers weet nie.
29 Wanneer die Here julle God julle bring in die land wat julle in besit gaan neem, moet julle die seën afkondig op Gerisimberg en die straf op Ebalberg.
30 Die twee berge lê wes van die Jordaan, anderkant die pad uit die ooste, die pad uit die gebied van die Jordaanvallei, waar die Kanaäniete woon, regoor Gilgal, naby die waarsêersboom.
31
“Julle staan op die punt om deur die Jordaan te trek om die land in besit te neem wat die Here julle God aan julle gee. Wanneer julle dit in besit geneem het en daar woon,32 moet julle al die voorskrifte en die bepalings wat ek julle vandag gegee het, gehoorsaam en daarvolgens lewe.”
1
“Hier volg voorskrifte en bepalings waaraan julle julle lewe lank gehoorsaam moet wees en waarvolgens julle hier op aarde moet lewe in die land wat die Here die God van julle voorvaders aan julle gegee het om in besit te neem.2
“Vernietig elke plek waar die nasies vir wie julle gaan verdryf, hulle gode gedien het: op hoë berge, op heuwels en onder elke groen boom.3 Breek hulle altare af, breek hulle klippilare stukkend, verbrand hulle gewyde pale, vernietig hulle afgodsbeelde en verwyder elke teken van hulle bestaan uit die land uit.
4 Julle mag nie die Here julle God dien op die manier waarop ander nasies hulle gode dien nie.
5 Julle moet na die wil van God gaan vra op die plek wat die Here julle God sal kies uit al julle stamgebiede om sy Naam daar te vestig en daar te woon. Daarheen moet julle gaan
6 en julle brandoffers en ander offers bring, ook julle tiendes en ander bydraes, julle gelofteoffers en vrywillige offers, die eerstelinge van julle groot- en kleinvee.
7 Daar in die teenwoordigheid van die Here julle God moet julle en julle families saam eet en bly wees oor alles wat julle reggekry het deurdat die Here julle God julle voorspoedig gemaak het.
8 Moenie doen soos ons nou hier doen deurdat elkeen aanbid waar hy wil nie,
9 want julle het nog nie gekom by die rusplek, die besitting wat die Here julle God vir julle sal gee nie.
10 Maar julle sal deur die Jordaan trek en gaan woon in die land wat die Here julle God julle sal laat besit en daar sal julle rus hê van al julle vyande in die omgewing en daar sal julle veilig woon.
11 Daar is die plek wat die Here julle God sal kies om sy Naam daar te laat woon en daarheen moet julle al die offers bring soos ek julle beveel het: julle brandoffers en ander offers, julle tiendes en ander bydraes, en al die gelofteoffers wat julle aan die Here beloof het.
12 Daar moet julle en julle kinders en julle slawe en slavinne daarvan geniet in die teenwoordigheid van die Here julle God, ook die Leviete wat by julle woon, want hulle het nie 'n deel van die land as besitting saam met julle gekry nie.
13
“Moenie julle brandoffers sommer op enige plek offer wat vir julle goed lyk nie.14 Julle mag dit net offer op die plek wat die Here sal kies in die gebied van een van die stamme. Daar moet julle julle brandoffers offer en daar moet julle alles doen wat ek julle beveel het.
15 Vir kos mag julle egter op enige plek waar julle woon 'n dier slag en die vleis eet wat die Here julle God vir julle gee deurdat Hy julle voorspoedig maak. Of 'n persoon rein of onrein is, hy mag daarvan eet, ook van 'n ribbok of 'n takbok.
16 Julle mag egter nie die bloed eet nie. Julle moet dit op die grond uitgooi asof dit water is.
17
“In die plekke waar julle woon, mag julle ook nie die tiende van julle koring of wyn of olie eet nie, ook nie die eerstelinge van julle grootvee of kleinvee nie, en ook nie iets wat julle aan die Here beloof het of enige vrywillige offer of ander bydrae aan die Here nie.18 Dit mag julle net in die teenwoordigheid van die Here julle God eet op die plek wat Hy gekies het. Eet dit, saam met julle seuns en dogters, julle slawe en slavinne en die Leviete wat by julle woon. In die teenwoordigheid van die Here julle God moet julle bly wees oor alles wat Hy julle laat regkry het.
19 So lank as julle in julle land woon, mag julle nie die Leviet afskeep nie.
20
“Wanneer die Here julle God julle grondgebied uitbrei, soos Hy julle beloof het, en julle besluit om vleis te eet omdat julle lus is daarvoor, mag julle dit in enige plek eet waar julle woon.21 Wanneer die plek wat die Here julle God sal kies om sy Naam daar te vestig, ver van julle af is, kan julle van die grootvee of die kleinvee wat die Here vir julle gegee het, slag soos ek julle beveel het en julle kan dit na hartelus geniet in die plek waar julle woon,
22 en soos in die geval van 'n ribbok of 'n takbok mag almal, rein en onrein, daarvan eet.
23 Julle moet net sorg dat julle nie die bloed eet nie, want die lewe van 'n dier is in sy bloed, en julle mag nie die lewe saam met die vleis eet nie.
24 Julle mag die bloed nie eet nie. Julle moet dit op die grond uitgooi asof dit water is.
25 As julle dit nie eet nie, doen julle wat reg is in die oë van die Here, en dan sal dit goed gaan met julle en julle nageslag.
26 Alle gewyde gawes wat julle by julle het en alles wat julle met 'n gelofte aan die Here beloof het, moet julle bring na die plek toe wat die Here sal kies.
27 Julle moet julle brandoffers, die vleis en die bloed daarvan, op die altaar van die Here julle God neersit. Die bloed van julle ander offers moet julle teen die altaar van die Here julle God uitgooi en dan mag julle die vleis eet.
28 Julle moet al die gebooie wat ek julle gegee het, gehoorsaam en dan sal dit vir altyd goed gaan met julle en julle nageslag, want dan doen julle wat goed en reg is in die oë van die Here julle God.
29
“Die Here julle God sal die nasies verslaan na wie toe julle op pad is om hulle te verdryf. As julle hulle oorwin het en in hulle land woon,30 moet julle sorg dat julle nie, selfs nadat hulle deur julle verslaan is, deur hulle in 'n valstrik gelei word wanneer julle na hulle gode sou begin uitvra nie. Moenie sê: ‘Hoe vereer hierdie nasies hulle gode? Ek sou dit ook so wou doen’ nie.
31 Julle mag nie die Here julle God dien op die manier waarop hulle hulle gode dien nie, want wat hierdie nasies doen, is afskuwelik vir die Here: hulle verbrand selfs hulle seuns en dogters vir hulle gode. Die Here haat dit alles.
32
“Elke gebod wat ek julle beveel het, moet julle gehoorsaam en daarvolgens moet julle lewe; julle mag daar niks bysit en niks daarvan wegvat nie.”1
“Wanneer 'n profeet of iemand wat drome uitlê by jou kom en vir jou vertel van 'n teken of 'n wonder,2 en die teken kom uit of die wonder vind plaas soos hy gesê het, en hy dan op grond daarvan vir jou sê: ‘Kom ons gaan dien ander gode al het jy hulle nie vroeër geken nie, al het ons hulle nie vroeër gedien nie,’
3 moet jy nie na hom luister nie. Die Here jou God stel jou net op die proef om vas te stel of jy Hom liefhet met hart en siel.
4 Jy moet getrou bly aan die Here jou God en Hom eer, jy moet sy gebooie gehoorsaam en na sy bevele luister, jy moet Hom dien en aanhang.
5 Daardie profeet of droomuitlêer moet doodgemaak word, want hy het jou aangehits om in opstand te kom teen die Here jou God wat jou uit Egipte laat trek het en jou bevry het uit die plek van slawerny. Daardie man wil jou laat optree in stryd met die wil van die Here jou God wat Hy aan jou geopenbaar het. Jy moet hierdie soort kwaad tussen julle uitroei.
6
“Dit kan gebeur dat jou broer, jou ma se seun, of jou seun of jou dogter of jou eie vrou of jou boesemvriend jou in die geheim wil verlei en vir jou sê: ‘Kom ons gaan dien ander gode.’ Dit kan gode wees wat jy en jou voorvaders nie geken het nie,7 gode van die volke in jou omgewing, gode wat naby is of ver, gode in die een uithoek van die land of in die ander uithoek.
8 Dan mag jy nie voor hom swig en na hom luister nie. Jy mag hom nie jammer kry nie. Moet hom nie verskoon en wegsteek nie.
9 Jy moet hom sonder meer doodmaak. Jy moet daarmee begin en dan moet die volk jou daarin bystaan.
10 Jy moet hom met klippe doodgooi, want hy wou jou verlei om ontrou te word aan die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.
11
“Die hele Israel moet dit hoor en bang word sodat so 'n verkeerde ding nie weer onder julle gedoen word nie.12
[12-13] “Wanneer jy hoor dat kwaadstokers gekom het in een van die stede wat die Here jou God vir jou sal gee om in te woon, en hulle sy inwoners verlei het deur hulle aan te spoor om vreemde gode te dien waarvan julle nie geweet het nie,13
14 moet jy die saak deeglik ondersoek en haarfyn daarna uitvra. As die gerug waar is en die afskuwelike daad wel tussen julle plaasgevind het,
15 moet jy die inwoners van daardie stad sonder meer doodmaak. Die stad met alles daarin, selfs sy vee, moet as banoffer vernietig word.
16 Jy moet alles in die stad op die stadsplein bymekaarmaak en saam met die stad geheel en al verbrand as 'n offer aan die Here jou God. Die stad moet vir altyd 'n puinhoop bly. Dit mag nie weer herbou word nie.
17 Niks van wat as banoffer bestem is, mag deur jou gevat word nie, sodat die toorn van die Here nie verder ontvlam nie en Hy jou genadig kan wees. Dan sal jy weer baie word soos die Here met 'n eed aan jou voorvaders beloof het,
18 want dan luister jy na die Here jou God en gehoorsaam jy al sy gebooie wat ek jou vandag gee, deurdat jy doen wat reg is in die oë van die Here jou God.”
1
“Julle is kinders van die Here julle God. Julle mag julle nie stukkend kerf of die hare voor op julle kop afskeer as julle oor 'n afgestorwene treur nie.2 Julle is 'n volk wat aan die Here julle God gewy is. Hy het julle uit al die volke op die aarde uitgekies om sy eiendomsvolk te wees.
3
“Julle mag niks eet wat afstootlik is nie.4 Die diere waarvan julle mag eet, is: bees, skaap, bok,
5 takbok, ribbok, hartbees, klipbok, eland, gemsbok, springbok,
6 al dié wat volledig gesplete kloue het en herkou.
7 Maar dié wat net herkou of net volledig gesplete kloue het, mag julle nie eet nie: die kameel, die haas, die dassie. Hulle herkou maar het nie gesplete kloue nie: hulle is vir julle onrein.
8 Dit geld ook van die vark: hy het wel gesplete kloue maar hy herkou nie. Hy is vir julle onrein. Julle mag nie die vleis van hierdie diere eet of selfs aan hulle karkasse raak nie.
9
“In die geval van waterdiere mag julle alles eet wat vinne en skubbe het.10 Maar julle mag nie dié eet wat nie vinne en skubbe het nie: hulle is vir julle onrein.
11
“Julle mag alle rein voëls eet.12 Die volgende mag egter nie geëet word nie: arende, lammervangers en visarende;
13 swartaasvoëls, valke en al die roofvoëlsoorte;
14 al die kraaisoorte;
15 volstruise, nagvalke, seemeeue en alle soorte roofvoëls;
16 uile, ibisse en flaminke;
17 pelikane, swane en visvangers;
18 ooievaars en al die reiersoorte; hoep-hoepe en vlermuise.
19
“Alle insekte wat vlerke het, is vir julle onrein. Hulle mag nie geëet word nie.20 Julle mag net rein voëls eet.
21
“Julle mag nie 'n dier wat gevrek het, eet nie. Gee dit vir die vreemdeling wat by julle bly, en hy kan dit eet, of verkoop dit aan 'n uitlander. Julle is 'n gewyde volk, julle behoort aan die Here julle God. “Julle mag nie 'n boklam in sy ma se melk kook nie.”22
“Jy moet elke jaar 'n tiende van die opbrengs van jou gesaaides, van wat op jou land groei, opsy sit:23 jy moet dit in die teenwoordigheid van die Here jou God eet op die plek wat Hy sal kies om sy Naam daar te laat woon. Jy moet die tiende opsy sit van jou koring, jou wyn en jou olie en dan ook nog die eerstelinge van jou grootvee en jou kleinvee, sodat jy kan leer om die Here jou God altyddeur te eer.
24 Maar as die Here jou God jou baie voorspoedig maak en die plek wat Hy sal kies om sy Naam daar te vestig boonop nog ver van jou af is, sodat jy nie die tiende die hele ent pad kan dra nie,
25 kan jy die tiende in geld omsit. Jy moet dan die geld vat en na die plek toe gaan wat die Here jou God vir Hom gekies het.
26 Daar moet jy met die geld koop net wat jy wil: bees, skaap, wyn, bier, of enigiets anders wat jy wil hê. Dan moet jy en jou familie dit daar in die teenwoordigheid van die Here jou God eet en bly wees.
27 Moenie die Leviete wat in jou omgewing woon, vergeet nie, want hulle het nie 'n eie grondgebied as besitting saam met jou gekry nie.
28
“Om die drie jaar moet jy die volle tiende van daardie jaar se opbrengs in jou dorpe gaan wegpak.29 Dan kan die Leviete wat nie 'n eie grondgebied as besitting saam met jou gekry het nie, die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees in jou omgewing genoeg eet. As jy dit doen, sal die Here jou God jou voorspoedig maak in alles wat jy aanpak.”
1
“Aan die einde van elke sewende jaar moet jy skuld afskryf.2 Dit moet so gedoen word: elkeen aan wie 'n mede-Israeliet iets skuld, moet dit vir hom afskryf. 'n Skuldeiser mag nie sy mede-Israeliet, sy broer, dwing om hom te betaal nie, want dit is die jaar waarin die Here afskrywing van skuld beveel.
3 Jy mag wel 'n nie-Israeliet dwing om sy skuld te betaal, maar as 'n mede-Israeliet jou iets skuld, moet jy dit vir hom afskryf.
4 [4-5] As jy maar net luister na die Here jou God en gehoorsaam is aan al hierdie gebooie wat ek jou vandag gee en daarvolgens lewe, sal daar nie 'n arme onder jou wees nie, want die Here sal jou baie voorspoedig maak in die land wat Hy jou gee om as jou eie te besit.
5
6 Die Here jou God sal jou voorspoedig maak soos Hy beloof het, en jy sal aan baie nasies kan uitleen sonder dat jy self hoef te leen. Jy sal oor baie nasies heers, maar oor jou sal hulle nie heers nie.
7
“As daar in een van die dorpe in die land wat die Here jou God aan jou gee, 'n arme is, 'n mede-Israeliet, moet jy nie hard en suinig wees teenoor so 'n broer van jou wat arm is nie.8 Wees vrygewig teenoor hom en leen hom wat hy nodig het.
9 Moenie sondige gedagtes herberg en dink dit is nie goed om jou broer wat arm is te help nie omdat die sewende jaar, die jaar van afskrywing, op hande is nie. Hy mag hom teen jou op die Here beroep, en jy sal skuldig staan.
10 Gee vryelik aan jou broer wat arm is, en moenie sleg voel omdat jy vir hom gegee het nie, want juis omdat jy vir hom gee, sal die Here jou God jou voorspoedig maak in alles wat jy doen en aanpak.
11 Daar sal altyd armes in jou land wees, en daarom het ek jou beveel om vrygewig te wees teenoor jou mede-Israeliet wat in nood is en arm is.”
12
“Wanneer 'n mede-Israeliet, 'n Hebreër soos jy, 'n man of 'n vrou, aan jou verkoop word, en hy werk ses jaar vir jou, moet jy hom in die sewende jaar vrylaat.13 Maar wanneer jy hom vrylaat, moet jy hom nie met leë hande laat gaan nie.
14 Gee hom 'n behoorlike deel van jou kleinvee, van die graan op jou dorsvloer en van jou parskuip. Van alles waarin die Here jou God jou voorspoedig gemaak het, moet jy vir hom gee.
15 Jy moet onthou jy was self 'n slaaf in Egipte en die Here jou God het jou bevry. Dit is daarom dat ek jou vandag hierdie bevel gee.
16
“Maar as dit sou gebeur dat jou slaaf vir jou sê: ‘Ek wil nie van u af weggaan nie, want ek het u en u familie lief,’ omdat hy dit goed by jou het,17 moet jy 'n els vat en dit deur sy oor steek teen die deur. Dan is hy vir altyd jou slaaf. Met 'n slavin moet jy dieselfde doen.
18 Moenie dink 'n ramp het jou getref as jy jou slaaf vrylaat nie, want in die ses jaar het hy jou dubbel die loon van 'n huurling gespaar. Die Here jou God sal jou voorspoedig maak in alles wat jy doen.”
19
“Jy moet elke manlike eersteling wat daar onder jou grootvee en jou kleinvee gebore word, aan die Here jou God wy. Jy mag nie die eersteling van jou grootvee laat werk nie, en die eersteling van jou kleinvee mag jy nie skeer nie.20 Jy en jou familie moet dit elke jaar in die teenwoordigheid van die Here jou God eet op die plek wat Hy gekies het.
21 Maar as die eersteling 'n liggaamsgebrek het, as hy lam of blind is of enige ander liggaamsgebrek het, mag jy hom nie as offer vir die Here jou God bring nie.
22 Jy moet dit dan in jou woonplek eet en enigiemand, rein of onrein, mag daarvan eet asof dit 'n ribbok of 'n takbok is.
23 Maar jy mag nie die bloed daarvan eet nie; gooi dit op die grond uit asof dit water is.”
1
“Onthou die maand Abib en vier die paasfees tot eer van die Here jou God. Dit was 'n nag in die maand Abib dat die Here jou God jou uit Egipte laat trek het.2 Op die plek wat die Here sal kies om sy Naam daar te laat woon, moet jy uit jou kleinvee of jou grootvee die paasoffer vir die Here jou God bring.
3 Jy mag nie brood met suurdeeg in eet nie, maar sewe dae lank moet jy ongesuurde brood eet. Dit is brood wat herinner aan jou swaarkry, en jy moet jou lewe lank dink aan die dag waarop jy uit Egipte weg is: hoe jy haastig daar weg is.
4 Sewe dae lank mag daar in jou hele gebied geen suurdeeg wees nie. Daar mag nie van die vleis wat jy op die eerste aand offer, tot die volgende môre toe oorbly nie.
5 Jy mag nie die paasoffer bring in enige van die woonplekke wat die Here jou God vir jou gee nie.
6 Jy mag dit net bring in die plek wat die Here jou God sal kies om sy Naam daar te laat woon. Daar moet jy die paasoffer bring in die aand, teen sononder, want julle het in die aand uit Egipte uit weggetrek.
7 Braai en eet dit in die plek wat die Here jou God sal kies. Gaan dan die volgende môre terug huis toe.
8 Ses dae moet jy dan nog ongesuurde brood eet, en op die sewende dag moet julle tot eer van die Here jou God saamkom. Op hierdie dag mag jy geen werk doen nie.”
9
“Jy moet sewe weke bereken van die dag af dat jy jou graan begin oes.10 Vier die fees van die weke tot eer van die Here jou God. In die mate waarin die Here jou God jou met voorspoed geseën het, moet jy 'n vrywillige offer vir Hom bring.
11 In die plek wat die Here jou God sal kies om sy Naam daar te laat woon, moet jy bly wees in die teenwoordigheid van die Here jou God, jy en jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne, die Leviete wat in jou omgewing woon, die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees by jou.
12 Jy moet altyd onthou dat jy 'n slaaf was in Egipte. Onderhou al hierdie voorskrifte en leef daarvolgens.”
13
“Jy moet die huttefees sewe dae lank vier nadat jy jou oes van die dorsvloer en die parskuip af ingery het.14 Jy moet bly wees op hierdie fees, jy en jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne, al die Leviete, vreemdelinge, weeskinders en weduwees van jou omgewing.
15 In die plek wat die Here jou God sal kies, moet jy sewe dae lank tot sy eer feesvier, omdat die Here jou God jou met 'n goeie oes geseën het en alles wat jy aangepak het, voorspoedig gemaak het. Daarom moet jy bly wees.
16
“Drie keer elke jaar moet al jou mans in die plek wat die Here jou God sal kies, in sy teenwoordigheid verskyn: op die fees van die ongesuurde brood, die fees van die weke en die huttefees. Die volk mag nie sonder offers in die teenwoordigheid van die Here verskyn nie.17 Elkeen moet 'n geskenk bring in die mate waarin die Here jou God jou voorspoedig gemaak het.”
18
“In elke dorp wat die Here jou God vir jou gee, moet jy regters en amptenare aanstel. Hulle moet die volk billik regeer.19 Jy moet die regspraak sy loop laat neem en vir niemand partydig wees nie. Wanneer jy regspreek, mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want dit maak dié wat van beter moet weet, blind en laat die saak van die onskuldige skeef loop.
20 Jy moet alleen laat geld wat reg is. Dan sal jy bly lewe en die land wat die Here jou God vir jou gee, in besit neem.”
21
“Jy mag nie 'n gewyde paal inplant langs die altaar wat jy vir die Here jou God gebou het nie.22 Jy mag ook nie vir jou 'n klippilaar oprig nie, want die Here jou God haat sulke goed.
1
“Jy mag nie vir die Here jou God 'n bees of 'n skaap offer wat 'n liggaamsgebrek of 'n letsel het nie. So iets is afskuwelik vir die Here jou God.2
“Dit kan gebeur dat jy in een van die dorpe wat die Here jou God vir jou sal gee, 'n man of 'n vrou kry wat die verbond verbreek en doen wat verkeerd is in die oë van die Here jou God3 deur ander gode te dien en te vereer: die son of die maan of enige ander hemelliggaam. Die Here het nie hierdie soort diens beveel nie.
4 Wanneer dit vir jou vertel word of wanneer jy dit hoor, moet jy noukeurig navraag doen daaroor en as dit waar is dat so iets afskuweliks in Israel gedoen is,
5 moet jy die man of die vrou wat die verkeerde ding gedoen het, laat uitbring na die stadspoort toe en hy of sy moet daar met klippe doodgegooi word.
6 Die terdoodveroordeling mag net plaasvind op die eenparige getuienis van twee of drie getuies, nie op dié van net een nie.
7 Die getuies moet die vonnis begin voltrek, en daarna moet die hele volk dit help uitvoer. Jy moet hierdie soort kwaad tussen julle uitroei.”
8
“Dit kan gebeur dat 'n saak voor jou gebring word wat vir jou te moeilik is: oor bloedvergieting of oor 'n hofuitspraak of oor aanranding. Dan moet jy na die plek toe gaan wat die Here jou God vir Hom sal uitkies.9 Gaan dan na die Levitiese priesters en die regter wat aan diens is, en vra raad by hulle. Hulle sal vir jou die regte uitspraak lewer.
10 Handel volgens die uitspraak wat hulle vir jou lewer daar by die plek wat die Here sal kies. Gehoorsaam alles wat hulle jou daar leer, en lewe daarvolgens.
11 Jy moet handel volgens die onderrig wat hulle gee, volgens die uitspraak wat hulle vir jou lewer. Jy mag nie 'n haarbreedte afwyk van wat hulle vir jou sê nie.
12 Die man wat nie luister nie en so die regter en die priester wat diens lewer in die heiligdom van die Here jou God, met minagting behandel, moet doodgemaak word. Jy moet die soort verkeerde ding uit Israel uitroei.
13 Die hele volk sal hiervan hoor en bang word om so moedswillig op te tree.”
14
“Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God vir jou sal gee, en jy dit in besit geneem het en daarin woon, sal jy sê: ‘Ek wil 'n koning oor my aanstel. Elke nasie in my omgewing het 'n koning.’15 Stel dan tog die koning aan vir wie die Here jou God kies. Jy moet iemand uit jou eie volk as koning aanstel. Jy mag nie 'n uitlander, iemand wat nie uit jou volk is nie, as koning aanstel nie.
16 Hy mag nie baie perde aanhou nie en hy mag ook nie die volk na Egipte toe laat teruggaan om vir hulle baie perde aan te skaf nie. Die Here het vir julle gesê: ‘Julle mag nooit weer daarheen teruggaan nie.’
17 Die koning mag ook nie baie vrouens hê nie, sodat hy nie aan die Here ontrou word nie. Hy mag ook nie sy silwer en goud te veel laat word nie.
18
“Wanneer hy as koning oor sy ryk regeer, moet hy vir hom 'n afskrif van hierdie wet maak. Hiervoor moet hy die eksemplaar van die Levitiese priesters gebruik.19 Hy moet die afskrif by hom hou en sy lewe lank moet hy dit gereeld lees sodat hy kan leer om die Here sy God te dien deur gehoorsaam te wees aan alles in hierdie wet en om volgens al hierdie voorskrifte te lewe.
20 Dan sal hy hom nie bo sy volksgenote verhef en 'n haarbreedte afwyk van hierdie gebod nie. As hy gehoorsaam is, sal hy lank lewe in sy koninkryk, hy en sy seuns tussen sy volk Israel.”
1
“Die Levitiese priesters, die afstammelinge van Levi, sal nie tussen die Israeliete grond as besitting kry nie. Die hele Levistam sal die vuuroffers eet wat vir die Here gebring is, wat aan Hom behoort.2 Die priesters kry nie 'n eie grondgebied tussen hulle volksgenote nie, Levi ontvang van wat die Here self toekom. Dit is soos die Here vir hom beloof het.
3 Die priesters mag soos volg by die volk aanspraak maak op offers wat gebring word: iemand wat 'n bees of 'n skaap kom offer, moet vir die priester die blad, die kakebene en die pens van die dier gee;
4 jy moet vir die priester die beste deel gee van jou koringoes en jou wynoes, van jou olie-opbrengs en jou wolskeersel.
5 Die Here jou God het die Levistam uit al jou stamme uitgekies om in sy diens te staan. Levi en sy nageslag moet vir altyd aan die Naam van die Here diens lewer.
6 Wanneer 'n Leviet uit enige van die Israelitiese stede waar hy as vreemdeling woon, na die plek toe wil kom wat die Here sal kies,
7 mag die Leviet aan die Naam van die Here sy God diens lewer soos al sy mede-Leviete wat daar in die teenwoordigheid van die Here diens doen.
8 So 'n Leviet moet net soveel kos as die ander Leviete kry, ongeag wat hy as erfgoed besit.”
9
“Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God vir jou sal gee, moet jy nie die afskuwelike praktyke van daardie nasies aanleer nie.10 Daar mag nie iemand by jou wees wat sy seun of dogter as offer laat verbrand nie. Daar mag nie 'n besweerder by jou wees nie en ook nie 'n towenaar of iemand wat voortekens lees of 'n goëlaar
11 of 'n slangbesweerder of iemand wat geeste om inligting vra en dooies raadpleeg nie.
12 Die Here het 'n afsku van elkeen wat hierdie soort ding doen. Trouens, dit is juis oor die afskuwelike praktyke van die Kanaäniete dat die Here jou God hulle in jou belang gaan verdryf.
13 Jy moet opreg wees voor die Here jou God.
14 Hierdie nasies wat jy gaan verdryf, luister na towenaars en besweerders. Maar die Here jou God verbied jou om dit te doen.”
15
“Die Here jou God sal 'n profeet onder jou na vore laat kom, een van jou volksgenote. Hy sal soos ek wees. Vir hom moet jy gehoorsaam.16 Dit sal wees soos destyds toe die gemeente by Horeb bymekaargekom het en jy vir die Here jou God gesê het: ‘Ek kan nie weer 'n keer die stem van die Here my God aanhoor en weer na die groot vuur kyk nie, want dan sterf ek.’
17
“Toe het die Here vir my gesê: ‘Wat hulle gesê het, is reg.18 Ek sal 'n profeet vir hulle na vore laat kom, een van hulle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel.
19 Ek sal self rekenskap eis van elkeen wat nie gehoorsaam is aan my woorde wat die profeet in my Naam sê nie.
20 'n Profeet wat hom dit aanmatig om in my Naam iets te sê wat Ek hom nie beveel het nie, moet sterf. Dit geld ook van 'n profeet wat in die naam van ander gode praat.’
21 Wanneer jy jou afvra: Hoe sal ek die woorde kan uitken wat die Here nie met die profeet gepraat het nie?
22 moet jy weet: as 'n profeet iets in die Naam van die Here aankondig en dit kom nie uit nie en dit gebeur nie so nie, dan het die Here nie met die profeet gepraat nie. Dan het die profeet hom dit aangematig en hoef jy jou nie aan hom te steur nie.”
1
“Die Here jou God sal die nasies uitroei wie se land Hy aan jou sal gee. Hy sal hulle verdryf en jy sal in hulle stede en in hulle huise woon.2 In die land wat die Here jou God aan jou gee om te besit, moet jy drie stede uitsonder
3 as stede waarheen iemand kan vlug as hy 'n ander doodgemaak het. Jy moet die land wat die Here jou God aan jou as besitting gee, in drie streke verdeel sodat die stede maklik bereikbaar is.
4 Iemand mag na een van die stede toe vlug om te bly lewe as hy 'n ander doodgemaak het sonder voorbedagte rade en sonder dat daar voorheen vyandskap tussen hulle was.
5 Wanneer iemand byvoorbeeld saam met sy buurman na 'n bos toe gaan om hout te kap en hy swaai die byl in sy hand om 'n boom te kap, en die byl skram weg van die boom af en tref die buurman sodat hy sterf, mag so 'n persoon na een van die drie stede toe vlug om te bly lewe.
6 As die pad na so 'n stad toe te lank sou wees, sou dit kon gebeur dat 'n familielid wat in sy woede die ander se dood wil wreek, die man wat hom doodgemaak het, agtervolg en inhaal en doodmaak al is daar nie 'n misdaad gepleeg wat die dood verdien nie: daar was mos nie voorheen vyandskap tussen hulle nie.
7 Dit is waarom ek jou beveel om drie stede uit te sonder.
8 [8-9] Maar as die Here jou God die grondgebied uitbrei soos Hy met 'n eed aan jou voorvaders beloof het en Hy gee die hele land wat Hy aan hulle beloof het aan jou, moet jy nog drie stede by die eerste drie voeg. Die Here sal jou gebied uitbrei omdat jy hierdie hele wet wat ek jou vandag gee, gehoorsaam deurdat jy die Here jou God liefhet en altyd volgens sy wil lewe.
9
10 Daar mag nie onskuldige bloed vergiet word in die land wat die Here jou God aan jou as besitting sal gee nie, want dan sal daar bloedskuld op jou rus.
11
“Wanneer daar vyandskap is tussen 'n man en sy buurman, en hy lê sy buurman voor en pak hom en slaan hom dat hy sterf, en die man vlug dan na een van hierdie stede toe,12 moet die leiers van sy stad hom van daar af laat haal en hom oorgee in die mag van die familielid wat die ander se dood wil wreek, en die familielid mag hom doodmaak.
13 Jy mag hom nie genade betoon nie. Jy moet uit Israel uitroei dié wat onskuldige bloed vergiet, dan sal dit met jou goed gaan.”
14
“Jy mag nie jou buurman se grenslyne verskuif nie. Dit is grenslyne wat voorheen deur die voorgeslag vasgestel is vir die eiendom wat jy sal besit in die land wat die Here jou God jou as besit sal gee.”15
“Daar mag nie net een persoon teen iemand getuig nie, al was die oortreding of die misdaad ook wat, al het hy ook hoe verkeerd gehandel. 'n Beskuldiging kan net bewys word deur die getuienis van twee of drie getuies.16
“Wanneer 'n kwaadwillige getuie iemand van ontrou aan die Here beskuldig,17 moet die twee mans wat in die saak betrokke is, voor die Here verskyn, voor die priesters en die regters wat aan diens is.
18 Die regters moet die saak deeglik ondersoek en as dit blyk dat die persoon wat sy volksgenoot beskuldig het, 'n vals getuie is,
19 moet julle hom aandoen wat hy sy volksgenoot wou aandoen. So moet hierdie soort kwaad tussen julle uitgeroei word.
20 Die ander mense sal daarvan hoor en bang word en hierdie soort verkeerde ding sal nie weer tussen julle voorkom nie.
21 Jy mag so 'n persoon nie genade betoon nie: 'n lewe vir 'n lewe, 'n oog vir 'n oog, 'n tand vir 'n tand, 'n hand vir 'n hand en 'n voet vir 'n voet.”
1
“Wanneer jy teen jou vyande gaan oorlog maak en jy merk hulle het perde en strydwaens en hulle is meer as jy, moet jy nie vir die vyande bang wees nie. Die Here jou God wat jou uit Egipte laat trek het, is by jou.2 Wanneer jy gereed staan om te veg, moet die priester nader kom en die volk toespreek.
3 Hy moet vir hulle sê: ‘Luister, Israel! Julle staan nou gereed om teen julle vyande te veg. Moenie bewe nie, moenie bang wees nie, moenie vreesbevange word nie, moenie vir hulle skrik nie.
4 Die Here julle God gaan saam met julle om vir julle teen julle vyande te veg, om julle die oorwinning te laat behaal.’
5
“Die leiers moet vir die volk sê: ‘Wie het 'n huis gebou en dit nog nie betrek nie? Hy moet teruggaan huis toe sodat hy nie in die oorlog omkom en 'n ander sy huis betrek nie.6 Wie het 'n wingerd geplant en nog nie van sy vrugte geëet nie? Hy moet teruggaan huis toe sodat hy nie in die oorlog omkom en 'n ander van sy wingerd eet nie.
7 Wie het verloof geraak maar is nog nie getroud nie? Hy moet teruggaan huis toe sodat hy nie in die oorlog omkom en 'n ander met sy verloofde trou nie.’
8 Verder moet die leiers nog vir die volk sê: ‘Wie is bang? Wie bewe? Hy moet teruggaan huis toe sodat hy nie sy volksgenote laat moed verloor soos hy nie.’
9
“Wanneer die leiers met die volk gepraat het, moet daar leëraanvoerders aangestel word.10 Wanneer jy teen 'n stad optrek om daarteen te veg, moet jy 'n vredesaanbod maak.
11 As die stad die vredesaanbod aanvaar en sy poorte vir jou oopgooi, moet al sy inwoners jou dwangarbeiders word en vir jou werk.
12 Maar as die stad nie met jou vrede sluit nie en teen jou wil oorlog maak, moet jy dit beleër.
13 Die Here jou God sal dit in jou mag oorgee. Dan moet jy al die manlike inwoners daarvan om die lewe bring,
14 maar die vrouens en klein kindertjies, die vee en alles wat in die stad is, alles wat gebuit kan word, moet jy buitmaak sodat jy kan geniet wat jy by jou vyand buitgemaak het, wat die Here jou God vir jou gegee het.
15 Dit moet jy doen met al die stede wat baie ver van jou af is, met die stede wat nie aan hierdie nasies hier by jou behoort nie.
16 Uit die stede van hierdie volke wat deur die Here jou God aan jou as besitting gegee word, mag jy niks laat bly lewe nie.
17 Jy moet die Hetiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete om die lewe bring as 'n banoffer aan die Here jou God soos Hy jou beveel het.
18 Hulle mag julle nie leer om al die afskuwelike afgodsbeelde te maak wat hulle vir hulle as gode gemaak het nie. Hulle mag julle nie teen die Here julle God laat sondig nie.
19
“Wanneer jy 'n stad 'n lang ruk beleër terwyl jy daarteen oorlog maak om dit in te neem, moet jy nie sy bome verwoes en dit afkap nie, want jy moet die vrugte daarvan eet. Jy mag dit nie afkap nie, want die bome op die land is nie mense dat jy teen hulle moet veg nie.20 Net bome wat jy weet nie vrugte dra wat geëet kan word nie, mag jy beskadig. Jy kan hulle afkap om beleëringswerke te bou teen die stad wat met jou oorlog maak solank jy dit nog nie ingeneem het nie.”
1
“Wanneer iemand wat om die lewe gebring is, gekry word waar hy in die veld lê in die land wat die Here jou God aan jou as besitting sal gee, en niemand weet wie hom doodgemaak het nie,2 moet jou leiers en jou regters uitgaan en die afstand meet van hom af tot by die stede in die omgewing.
3 Die leiers van die stad naaste aan die lyk moet dan 'n vers vat wat nog nooit in 'n juk getrek het nie
4 en haar na 'n spruit toe bring wat loop en waar daar nie geploeg of gesaai is nie. Daar by die spruit moet hulle die vers se nek breek.
5 Dan moet die Levitiese priesters wat deur die Here jou God uitgekies is om Hom te dien en in sy Naam die seën uit te spreek, nader kom en enige geskil of aanklag moet deur hulle uitspraak afgehandel word.
6 Al die leiers van die stad naaste aan die lyk moet dan hulle hande was bo-oor die vers waarvan die nek gebreek is by die spruit,
7 en sê: ‘Ons het nie hierdie bloed vergiet nie en ons het ook nie gesien wie dit gedoen het nie.
8 Here, U wat vir Israel verlos het, spreek tog u volk vry en moenie dat die skuld van bloed wat onskuldig vergiet is, op u volk Israel bly nie.’ Dan sal hulle vry wees van die skuld vir die dood van die man.
9 So sal jy doen wat reg is in die oë van die Here en sal jy die skuld vir 'n onskuldige dood onder jou uit verwyder.”
10
“Wanneer jy gaan oorlog maak, en die Here jou God gee jou vyande in jou mag oor, en jy neem krygsgevangenes11 en jy sien 'n mooi vrou onder hulle en jy kry haar lief en jy wil met haar trou,
12 moet jy haar in jou huis inbring. Dan moet sy haar hare afskeer, haar naels afsny,
13 en haar klere wat sy as krygsgevangene gedra het, uittrek. Sy moet in jou huis woon en 'n maand lank oor haar ouers treur. Daarna kan jy met haar gemeenskap hê, en is jy haar man en sy jou vrou.
14 As jy later nie meer lief is vir haar nie, moet jy haar laat gaan waarheen sy wil. Jy mag haar nie verkoop nie, jy mag haar ook nie as slavin gebruik nie, want jy het met haar gemeenskap gehad.
15
“Wanneer 'n man twee vrouens het, een wat hy liefhet en een van wie hy nie hou nie, en albei het vir hom kinders in die wêreld gebring, en die oudste seun is die kind van die vrou van wie hy nie hou nie,16 mag hy nie die seun van die vrou wat hy liefhet, in sy testament as sy oudste beskou en hom bevoorreg bo die seun wat eintlik sy oudste is nie, die seun van die vrou van wie hy nie hou nie.
17 Die man moet die seun van die vrou van wie hy nie hou nie, as oudste erken deur aan hom 'n dubbele deel van alles te gee. Hy is die eersteling van die man se manlike krag, en die reg van die eersteling kom hom toe.
18
“Wanneer 'n man 'n opstandige en ongehoorsame seun het wat nie na sy pa en ma wil luister nie, selfs al straf hulle hom,19 moet hulle hom na die leiers van die stad toe vat by die stadspoort.
20 Hulle moet vir die leiers van die stad sê: ‘Hierdie seun van ons is opstandig en ongehoorsaam. Hy luister nie na ons nie. Hy is 'n vraat en 'n suiplap.’
21 Dan moet al die mans van die stad hom met klippe doodgooi. So moet jy hierdie soort kwaad tussen julle uitroei, en die hele Israel sal daarvan hoor en bang wees.”
22
“Wanneer iemand tereggestel word vir 'n oortreding wat die doodstraf verdien, en jy hang hom aan 'n paal op,23 mag sy lyk nie die nag daaraan bly hang nie. Jy moet hom dieselfde dag nog begrawe, want wie opgehang word, is deur God vervloek. Jy mag nie die land wat deur die Here jou God aan jou as besitting gegee is, verontreinig nie.”
1
“Jy mag jou nie blind hou wanneer jy 'n verdwaalde bees of skaap van jou volksgenoot sien nie. Jy moet dit na hom toe terugvat.2 As hy nie naby jou bly nie of as jy hom nie ken nie, moet jy die dier na jou huis toe vat, en dit moet daar bly tot hy dit kom soek. Dan moet jy dit vir hom teruggee.
3 So moet jy ook maak met 'n donkie of 'n kledingstuk van jou volksgenoot of enigiets anders wat wegraak en jy kry dit. Jy mag nie onverskillig staan daarteenoor nie.
4 Jy mag nie onverskillig staan teenoor 'n donkie of 'n bees van jou volksgenoot as jy dit sien val nie. Jy moet hom die dier help optel.
5
“'n Vrou mag nie mansklere dra nie, en 'n man mag nie vrouensklere aantrek nie. Die Here jou God het 'n afsku van mense wat dit doen.6
“Wanneer jy afkom op 'n voëlnes in 'n boom of op die grond, en daar is kleintjies of eiers in die nes en die wyfie sit daarop, mag jy nie die wyfie saam met die kleintjies vir jou vat nie.7 Jy mag die kleintjies vir jou vat, maar jy moet die wyfie laat wegvlieg. Dan sal dit goed gaan met jou, en sal jy 'n lang lewe hê.
8
“Wanneer jy 'n nuwe huis bou, moet jy 'n reling rondom die dak aanbring sodat jy nie met jou huis iemand se dood veroorsaak as hy van die dak af val nie.9
“Jy mag nie 'n ander gewas in jou wingerd plant nie. As jy dit doen, sal die opbrengs van die gewas, sowel as die druiweoes die tempel toekom.10
“Jy mag nie 'n bees en 'n donkie saam voor 'n ploeg inspan nie.11
“Jy mag nie 'n kledingstuk dra wat van twee soorte materiaal, wol en linne, gemaak is nie.12
“Jy moet klossies vaswerk aan al die some van jou klere.13
“Wanneer 'n man 'n vrou trou, kan dit gebeur dat hy 'n afkeer kry van haar nadat hy met haar gemeenskap gehad het14 en haar van slegte gedrag beskuldig en haar 'n slegte naam laat kry deurdat hy sê: ‘Ek het hierdie vrou getrou en met haar gemeenskap gehad, maar ek het nie enige tekens dat sy 'n maagd was, by haar gevind nie.’
15 Dan moet haar pa en haar ma die tekens dat sy 'n maagd was, na die leiers van die stad toe bring in die stadspoort
16 en dan moet haar pa vir hulle sê: ‘Ek het my dogter met hierdie man laat trou en nou haat hy haar.
17 Hy beskuldig haar van slegte gedrag deurdat hy sê hy het nie enige tekens dat sy 'n maagd was, by haar gevind nie. Maar hier is die tekens dat my dogter 'n maagd was.’ Dan moet haar pa haar nagklere vir die leiers van die stad wys.
18 Hulle moet die man dan met 'n sweep slaan
19 en hom met elf honderd en veertig gram silwer beboet. Hulle moet die geld vir haar pa gee omdat die man haar, 'n maagd van Israel, 'n slegte naam laat kry het. Sy sal ook die man se vrou bly. Hy mag nooit van haar skei nie.
20 Maar as die man die waarheid gepraat het, en daar nie enige tekens dat sy 'n maagd was by haar gevind is nie,
21 moet hulle haar by die deur van haar pa se huis laat uitkom en die mans van die stad moet haar daar met klippe doodgooi. Sy moet sterf omdat sy 'n ongehoorde ding in Israel gedoen het deurdat sy met 'n man geslagsgemeenskap gehad het terwyl sy nog ongetroud was. So moet jy hierdie soort kwaad tussen julle uitroei.
22
“Wanneer 'n man betrap word terwyl hy gemeenskap het met 'n ander man se vrou, moet die man en die vrou wat gemeenskap gehad het, altwee doodgemaak word. So moet jy hierdie soort kwaad tussen die Israeliete uitroei.23
“Wanneer 'n man 'n verloofde meisie in die stad raakloop en met haar gemeenskap het,24 moet jy altwee na die stadspoort toe uitbring en met klippe doodgooi. Hulle moet sterf: die meisie omdat sy nie in die stad om hulp geroep het nie en die man omdat hy die verloofde van sy volksgenoot onteer het. So moet jy hierdie soort kwaad tussen julle uitroei.
25 Maar as 'n man 'n verloofde meisie in die veld raakloop en haar oorweldig en met haar gemeenskap het, moet net die man sterf.
26 Die meisie moet ongestraf bly. Sy het niks gedoen wat die dood verdien nie, want in haar geval is dit soos wanneer 'n man iemand gryp en vermoor.
27 Die verloofde meisie is in die veld raakgeloop, en sy het om hulp geroep, maar daar was niemand om haar te help nie.
28
“Wanneer 'n man 'n meisie wat nie verloof is nie, raakloop en haar gryp en met haar gemeenskap het, en hulle word betrap,29 moet die man wat met haar gemeenskap gehad het, vyf honderd en sewentig gram silwer aan haar pa gee en met haar trou. Hy het haar onteer en daarom mag hy nooit van haar skei nie.
30
“'n Seun mag nie met sy pa se vrou trou nie. 'n Seun mag nie gemeenskap hê met 'n vrou wat aan sy pa behoort nie.”1
“Iemand wie se geslagsorgane verbrysel is of iemand wat ontman is, mag nie lid van die gemeente van die Here wees nie.2 Niemand wat gebore is uit ontoelaatbare geslagsgemeenskap mag lid van die gemeente word nie, selfs nie so 'n persoon se tiende nageslag nie.
3 Geen Ammoniet of Moabiet mag lid van die gemeente word nie. Niemand uit hulle nageslag mag ooit lid van die gemeente word nie, selfs nie eers een van die tiende geslag nie.
4 Dit is omdat hulle jou nie van kos en water voorsien het toe julle uit Egipte getrek het nie en hulle vir Bileam seun van Beor uit Petor in Mesopotamië gehuur het om jou te vervloek.
5
“Die Here jou God wou egter nie na Bileam luister nie en die Here jou God het Bileam se vervloeking in 'n seën verander, want die Here jou God het jou lief.6 Jy mag nooit in vrede leef met die Ammoniete en die Moabiete nie, en jy mag nooit iets goeds aan hulle doen nie.
7
“Jy mag egter nie 'n Edomiet wegstoot nie, want hy is jou bloedverwant; ook nie 'n Egiptenaar nie, want jy was 'n vreemdeling in sy land.8 Kinders uit hulle derde geslag mag lid word van die gemeente.”
9
“Wanneer jy optrek teen jou vyande, moet jy oppas dat jy nie iets verkeerds doen nie.10 As daar iemand by jou is wat nie rein is nie op grond van iets wat in die nag met hom gebeur het, moet hy uit die kamp uit gaan. Hy mag nie in die kamp wees nie.
11 Teen die aand moet hy hom was en na sononder mag hy in die kamp inkom.
12 Jy moet 'n plek buite jou kamp hê waarheen jy kan uitgaan.
13 By jou uitrusting moet daar 'n stok wees en as jy jou buite wil gaan ontlas, moet jy 'n gat grawe met die stok en as jy klaar is, moet jy alles toekrap.
14 Die Here jou God gaan saam met jou in jou kamp om jou te bevry deur jou vyande in jou mag oor te gee, en daarom moet jou kamp rein wees. As die Here iets onbetaamliks by jou sien, sal Hy jou verlaat.”
15
“Jy mag nie 'n slaaf wat van sy eienaar af na jou toe weggeloop het, aan sy eienaar teruggee nie.16 Die slaaf mag by jou woon in een van jou stede wat hy kies, waar dit hom pas. Jy mag hom nie laat swaarkry nie.
17
“Jy mag nie prostitute by die tempel aanhou nie, of dit nou vrouens of mans uit Israel is.18
“Wanneer jy 'n gelofte afgelê het, mag jy nie die loon van 'n prostituut, of dit nou dié van 'n man of 'n vrou is, na die huis van die Here jou God toe bring nie. Hy het 'n afkeer van hierdie twee dinge.19
“Jy mag niks teen rente aan jou volksgenoot uitleen nie: nie geld of kos of enigiets wat 'n mens kan uitleen nie.20 Jy mag aan 'n nie-Israeliet iets teen rente uitleen, maar aan jou volksgenoot mag jy niks teen rente uitleen nie. Dan sal die Here jou God jou voorspoedig maak in alles wat jy aanpak in die land waarheen jy op pad is om dit in besit te neem.
21
“Wanneer jy 'n gelofte aflê teenoor die Here jou God, moet jy nie traag wees om dit na te kom nie, anders sal die Here jou God jou tot verantwoording roep en sal jy skuldig wees.22 Wanneer jy nie 'n gelofte aflê nie, sal jy nie skuldig wees nie,
23 maar as jy vrywillig 'n gelofte teenoor die Here jou God aflê, moet jy versigtig wees met wat jy sê en moet jy die gelofte nakom.
24
“Wanneer jy in jou buurman se wingerd ingaan, mag jy net soveel druiwe eet as jy wil om jou honger te stil, maar jy mag niks in jou sak sit nie.25 Wanneer jy in jou buurman se koringland ingaan, mag jy are pluk met jou hand, maar jy mag nie 'n sekel in sy koringland gebruik nie.”
1
“Wanneer 'n man met 'n vrou trou, kan dit gebeur dat hy haar nie meer liefhet nie omdat hy iets onbetaamliks aan haar gevind het. Dan mag hy 'n skeibrief skryf en dit vir haar gee en haar uit sy huis uit wegstuur.2 Sy kan dan uit sy huis uit gaan en met 'n ander man trou.
3 As haar tweede man haar ook later nie meer liefhet nie en 'n skeibrief skryf en dit vir haar gee en haar uit sy huis uit wegstuur, of as haar tweede man sterf,
4 mag haar eerste man wat haar weggestuur het, nie weer met haar trou nie. Sy is verontreinig, en as hy weer met haar trou, sal dit vir die Here iets afskuweliks wees. Jy mag nie die land wat die Here jou God vir jou as besitting sal gee, onder jou sonde laat ly nie.”
5
“Wanneer 'n man pas getroud is, mag hy nie saam met die leër optrek om te gaan oorlog maak nie. Hy mag ook nie met enige verpligting belas word nie. 'n Jaar lank moet hy van alles vrygestel wees om sy vrou met wie hy getroud is, gelukkig te maak.6
“Jy mag nie iemand se twee maalklippe as pand neem nie, selfs nie die boonste maalklip nie, want dan vat jy sy daaglikse brood as pand.7
“Wanneer dit ontdek word dat iemand sy broer, 'n mede-Israeliet, gesteel het en hom as slaaf gebruik of verkoop het, moet die dief sterf. Jy moet hierdie soort kwaad tussen julle uitroei.8
“Jy moet versigtig wees as melaatsheid jou tref. Jy moet versigtig wees en presies doen wat die Levitiese priesters jou voorhou. Ek het hulle alles beveel, en jy moet versigtig wees en dit doen.9 Jy moet onthou wat die Here jou God vir Mirjam aangedoen het toe julle uit Egipte weggetrek het.
10
“Wanneer jy iets aan jou buurman leen, mag jy nie in sy huis ingaan om iets as pand te gaan vat nie.11 Jy moet buite staan en die man aan wie jy geleen het, moet vir jou die pand uitbring buite toe.
12 As die man arm is, moet jy nie die pand ná slaaptyd hou nie.
13 Jy moet die pand teruggee wanneer die son ondergaan sodat hy onder sy kledingstuk kan slaap. Dan sal hy jou seën, en die Here jou God sal jou optrede goedvind.
14
“Jy mag nie 'n huurling wat arm en behoeftig is, laat swaarkry nie, of hy nou al 'n volksgenoot is of 'n vreemdeling wat by jou woon in een van jou land se stede.15 Jy moet hom sy loon nog dieselfde dag gee, voor die son ondergaan, want hy is arm en reken op sy loon. As jy dit nie doen nie, sal hy by die Here kla oor jou en sal jy skuldig wees.
16
“Vaders mag nie oor die optrede van kinders en kinders nie oor die optrede van vaders doodgemaak word nie. Elkeen kan net vir sy eie sonde die doodstraf kry.17
“Jy mag nie die regte van 'n vreemdeling of van 'n weeskind van hulle af wegvat nie. Jy mag nie die klere van 'n weduwee as pand neem nie.18
“Jy moet onthou dat jy in Egipte 'n slaaf was, en dat die Here jou God jou daaruit bevry het. Daarom beveel ek jou om al hierdie dinge te doen.19
“Wanneer jy jou lande afoes en jy vergeet 'n gerf op die land, moet jy nie omdraai om dit te gaan haal nie. Dit moet bly vir 'n vreemdeling of 'n weeskind of 'n weduwee. Dan sal die Here jou God jou seën in alles wat jy aanpak.20 Wanneer jy olywe afslaan van jou olyfboom af, mag jy nie agterna weer gaan afslaan nie. Wat agtergebly het, moet bly vir 'n vreemdeling of 'n weeskind of 'n weduwee.
21 Wanneer jy jou wingerd oes, mag jy nie agterna weer gaan oes nie. Wat agtergebly het, moet bly vir 'n vreemdeling of 'n weeskind of 'n weduwee.
22 Jy moet onthou dat jy in Egipte 'n slaaf was. Dit is waarom ek jou beveel om al hierdie dinge te doen.
1
“Dit kan gebeur dat twee mans in 'n hofsaak betrokke raak en dat die regters uitspraak lewer en die een onskuldig verklaar en die ander een skuldig.2 Wanneer die skuldige dan lyfstraf opgelê is, moet 'n regter hom op die grond laat lê, en hy moet in die teenwoordigheid van die regter soveel houe kry as hy verdien.
3 Hy mag nie meer as veertig houe kry nie, want as hy meer as dit kry, word jou volksgenoot voor jou oë verkleineer.
4
“Jy mag nie 'n bees waarmee jy graan dors, se bek toebind nie.”5
“Wanneer broers saamwoon, en een van hulle sterf sonder 'n seun, mag sy weduwee nie met 'n buitestaander trou nie. Haar man se broer moet met haar trou en so sy verantwoordelikheid nakom teenoor sy broer.6 Haar eerste seun moet die naam van die afgestorwe broer dra sodat sy naam nie uit Israel uitsterf nie.
7 As die broer nie met sy broer se weduwee wil trou nie, moet sy na die leiers in die stadspoort toe gaan en vir hulle sê: ‘My swaer weier om die naam van sy broer in Israel te laat voortleef. Hy weier om met my sy verantwoordelikheid na te kom teenoor sy broer.’
8
“Die stadsleiers moet hom dan laat roep en met hom praat. As hy daarop staan en bly sê: ‘Ek wil nie met haar trou nie,’9 moet sy skoonsuster na hom toe kom en in die teenwoordigheid van die stadsleiers moet sy sy skoen uittrek en hom in die gesig spoeg en vir hom sê: ‘So sal dit gaan met die man wat nie vir sy broer 'n huis, 'n nageslag, wil bou nie.’
10
“Dan moet die man en sy huis onder die Israeliete bekend wees as Huis van die uitgetrekte Skoen.”11
“Wanneer twee mans baklei, en die een se vrou kom help haar man teen die een deur wie haar man geslaan word en sy gryp die ander man aan sy geslagsorgane,12 moet haar hand afgesny word. Jy mag geen genade betoon nie.
13
“Jy mag nie met gewigte werk wat nou sus dan so, nou groot dan klein is nie.14
“Jy mag nie met inhoudsmate werk wat nou sus dan so, nou groot dan klein is nie.15
“Jy moet billik en regverdig afweeg en afmeet. Dan sal jy lank leef in die land wat deur die Here jou God aan jou gegee word.16
“Die Here jou God het 'n afsku van almal wat oneerlik is en ander bedrieg.”17
“Jy moet onthou wat Amalek jou aangedoen het toe julle uit Egipte getrek het.18 Hy het jou van agter af aangeval toe jy moeg en uitgeput was, en hy het almal wat nie kon byhou nie, om die lewe gebring sonder om hom aan God te steur.
19 Wanneer die Here jou God jou die oorwinning laat behaal het oor al jou vyande rondom jou en jy rustig woon in die land wat die Here jou God aan jou gee as jou eiendom en jy dit besit, moet jy die naam van Amalek van die aarde af uitwis. Jy mag nie vergeet om dit te doen nie.”
1
“Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God aan jou gee as jou eiendom en jy dit besit en jy daarin woon,2 moet jy van elke eerste oes wat jy insamel in die land wat die Here jou God aan jou gee, 'n deel vat en dit in 'n mandjie sit en daarmee na die plek toe gaan wat die Here jou God sal kies om sy Naam daar te laat woon.
3 Jy moet na die priester toe gaan wat in daardie tyd daar sal wees, en vir hom sê: ‘Ek verklaar vandag voor die Here u God dat ek gekom het in die land wat die Here met 'n eed aan ons voorvaders beloof het om aan ons te gee.’
4 Dan moet die priester die mandjie by jou vat en dit neersit voor die altaar van die Here jou God.
5
“Jy moet dan in die teenwoordigheid van die Here jou God sê: ‘My vader was 'n Arameër wat van plek tot plek getrek het. Hy het na Egipte toe gegaan en met min mense daar as vreemdeling gaan woon. Daar het hy 'n groot, sterk en talryke nasie geword.6 Die Egiptenaars het ons sleg behandel. Hulle het ons verdruk en ons harde werk laat doen.
7 Ons het na die Here die God van ons voorvaders om hulp geroep, en Hy het ons gehoor. Hy het ons ellende en ons swaarkry raakgesien en gesien hoe ons verdruk word.
8 Die Here het ons uit Egipte laat wegtrek deur magtige dade, kragtige groot dade wat vrees ingeboesem het, tekens en wonders.
9 Hy het ons in hierdie plek gebring en hierdie land aan ons gegee, 'n land wat oorloop van melk en heuning.
10 Dit is die rede waarom ek nou die eerste opbrengs van die land wat deur die Here aan my gegee is, gebring het.’ Dan moet jy dit neersit in die teenwoordigheid van die Here jou God en Hom aanbid.
11 Jy moet al die goeie dinge geniet wat die Here jou God aan jou en jou huisgenote gee, jy en die Leviete en die vreemdelinge wat by jou woon.”
12
“Om die drie jaar is dit 'n jaar van tiendes. Dan moet jy 'n tiende van die opbrengs van jou land opsy sit. As jy dit opsy gesit het, moet jy dit gee aan die Leviet, die vreemdeling, die weeskind en die weduwee dat hulle in jou stede genoeg kan hê om te eet.13 Dan moet jy in die teenwoordigheid van die Here jou God sê: ‘Ek het die gewyde deel uit my huis uit weggeneem en aan die Leviet, die vreemdeling, die weeskind en die weduwee gegee soos U my beveel het in al u gebooie. Ek het nie een van u gebooie oortree nie. Ek het hulle nie vergeet nie.
14 Ek het nie van die tiende geëet terwyl ek gerou het nie. Ek het dit nie uit my huis uit weggeneem terwyl ek onrein was nie. Ek het nie daarvan aan 'n dooie afgod geoffer nie. Ek het na U geluister, Here my God, en ek het alles gedoen wat U my beveel het.
15 Kyk tog af, Here, uit u heilige woonplek, uit die hemel, en seën u volk Israel en die land wat U aan ons gegee het soos U aan ons voorvaders met 'n eed beloof het, 'n land wat oorloop van melk en heuning.’
16
“Die Here jou God beveel jou vandag om volgens hierdie voorskrifte en bepalings te leef en om hulle te gehoorsaam. Jy moet dit doen met hart en siel.17 Jy het vandag verklaar dat die Here jou God is, en dat jy volgens sy wil sal lewe, dat jy sy voorskrifte en gebooie en bepalings sal gehoorsaam en dat jy na Hom sal luister.
18 Die Here het vandag verklaar dat jy sy eiendomsvolk is soos Hy jou beloof het, en gesê dat jy al sy gebooie moet gehoorsaam,
19 dat Hy jou oor al die nasies wat Hy gemaak het, sal stel en aan jou meer lof en roem en eer sal gee as aan hulle, en dat jy 'n volk sal wees wat aan die Here jou God gewy sal wees soos Hy beloof het.”
1
Moses en die leiers van Israel het die volk beveel: “Jy moet al die gebooie gehoorsaam wat ek jou vandag beveel.2 Wanneer jy deur die Jordaanrivier trek op pad na die land toe wat die Here jou God aan jou gee, moet jy groot klippe opstapel en hulle met kalk afwit.
3 Wanneer jy deurtrek om die land in te gaan, die land wat die Here jou God aan jou sal gee, die land wat oorloop van melk en heuning, soos die Here jou God aan jou voorvaders beloof het, moet jy al die woorde van hierdie wet op die klippe skryf.
4 Nadat jy deur die Jordaan getrek het, moet jy die klippe waaroor ek nou net opdragte gegee het, op Ebalberg opstapel en moet jy hulle met kalk afwit.
5 Daar moet jy 'n klipaltaar bou vir die Here jou God. Jy mag die klip nie kap nie.
6 Jy moet die altaar vir die Here jou God bou van onbewerkte klip en daarop moet jy jou brandoffers aan die Here jou God offer.
7 Jy moet jou maaltydoffers offer en dit daar eet en bly wees in die teenwoordigheid van die Here jou God.
8 Jy moet hierdie hele wet duidelik leesbaar skryf op die klippe wat jy opstapel.”
9
Moses en die Levitiese priesters het vir die hele Israel gesê: “Bly stil en luister, Israel! Vandag het jy die volk van die Here jou God geword.10 Jy moet na die Here jou God luister en jy moet lewe volgens die gebooie en die voorskrifte wat ek jou vandag beveel.”
11
Op dieselfde dag het Moses vir die volk gesê:12
“Wanneer julle deur die Jordaanrivier getrek het, moet die volgende stamme op Gerisimberg gaan staan: Simeon, Levi, Juda, Issaskar, Josef en Benjamin. Hulle moet die volk seën.13 Die volgende stamme moet op Ebalberg gaan staan: Ruben, Gad, Aser, Sebulon, Dan en Naftali. Hulle moet die straf aankondig.
14
“Die Leviete moet hardop vir die hele Israel sê:15
“Daar rus 'n vloek op elkeen wat 'n afgodsbeeld uitsny of giet en dit in die geheim êrens neersit om te vereer. Die Here het 'n afsku daarvan. Dit is mensewerk. “Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’16
“Daar rus 'n vloek op elkeen wat sy pa of ma minag. “Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’17
“Daar rus 'n vloek op elkeen wat die grenslyn van sy buurman verlê! “Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’18
“Daar rus 'n vloek op elkeen wat 'n blinde op 'n verkeerde pad lei! “Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’19
“Daar rus 'n vloek op elkeen wat nie reg laat geskied aan 'n vreemdeling, 'n weeskind of 'n weduwee nie! “Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’20
“Daar rus 'n vloek op elkeen wat gemeenskap het met sy pa se vrou, want hy het haar wat aan sy pa behoort, ontbloot. “Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’21
“Daar rus 'n vloek op elkeen wat gemeenskap het met enige dier! “Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’22
“Daar rus 'n vloek op elkeen wat gemeenskap het met sy suster, 'n dogter van sy pa of sy ma. “Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’23
“Daar rus 'n vloek op elkeen wat gemeenskap het met sy skoonma! “Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’24
“Daar rus 'n vloek op elkeen wat sy naaste doodmaak, al is dit in die geheim! “Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’25
“Daar rus 'n vloek op elkeen wat omkoopgeld aanvaar om 'n onskuldige dood te maak! “Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’26
“Daar rus 'n vloek op elkeen wat nie hierdie wet onderhou en nie daarvolgens lewe nie! “Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’ ”1
“As jy goed luister na die Here jou God en jy gehoorsaam al sy gebooie wat ek jou vandag gee, en jy lewe daarvolgens, sal die Here jou God jou oor al die nasies van die aarde stel.2
“As jy luister na die Here jou God, sal al hierdie seëninge oor jou kom en jou lewe verryk.3
“Jy sal geseën wees in die stad, jy sal geseën wees in die oop veld.4
“Jou nageslag sal geseën wees, en die opbrengs van jou lande en die aanteel van jou diere, jou kalweroes en jou lammeroes.5
“Jou oesmandjie en jou knieskottel sal geseën wees.6
“Jy sal geseën wees waar jy ook gaan.7
“Die Here sal jou vyande wat jou aanval, vir jou laat vlug. Hulle sal uit een rigting teen jou opruk, maar in talle rigtings voor jou uit vlug.8
“Die Here sal die seën beveel om oor jou te kom, oor jou graanskure en oor alles wat jy aanpak. Die Here jou God sal jou seën in die land wat Hy aan jou gee.9
“As jy die gebooie van die Here jou God gehoorsaam en sy wil doen, sal Hy jou in stand hou as sy heilige volk soos Hy met 'n eed aan jou beloof het.10
“Al die volke op die aarde sal weet dat die Naam van die Here oor jou uitgeroep is, en hulle sal bang wees vir jou.11 Die Here sal jou oorlaai met die goeie: met 'n nageslag, met die aanteel van jou vee, met die opbrengs van jou grond in die land wat die Here met 'n eed aan jou voorvaders beloof het om aan jou te gee.
12 Die Here sal sy goeie voorraadskuur, die hemel, vir jou oopmaak om vir jou land reën te gee op die regte tyd, om alles wat jy doen, te seën. Dan sal jy aan baie nasies kan leen, maar self sal jy nie hoef te leen nie.
13
[13-14] “As jy luister na die Here jou God se gebooie wat ek jou vandag gee, as jy hulle gehoorsaam en daarvolgens lewe en nie ander gode aanhang en dien en so afwyk van alles wat ek jou vandag beveel nie, sal die Here jou God jou die kop maak, nie die stert nie, en sal jy altyd bo wees, nie onder nie.14
15
“As jy nie luister na die Here jou God nie en jy gehoorsaam nie al sy gebooie en voorskrifte wat ek jou vandag gee, en jy lewe nie daarvolgens nie, sal al hierdie strawwe oor jou kom en jou tref:16
“Daar sal 'n vloek op jou rus in die stad, daar sal 'n vloek op jou rus in die oop veld.17
“Daar sal 'n vloek rus op jou oesmandjie en op jou knieskottel.18
“Daar sal 'n vloek rus op jou nageslag en op die opbrengs van jou lande, op jou kalweroes en jou lammeroes.19
“Daar sal 'n vloek op jou rus waar jy ook gaan.20
“Die Here sal die vloek oor jou stuur, verwarring en terugslae in alles wat jy aanpak en doen, totdat Hy jou uitgeroei het en jou skielike ondergang bewerk het oor al die verkeerde dinge wat jy gedoen het deurdat jy Hom verlaat het.21
“Die Here sal peste en plae aan jou laat kleef totdat Hy jou uitgeroei het uit die land waarheen jy op pad is om dit in besit te neem.22
“Die Here sal jou tref met tering, inflammasie en koorssiekte, met hitte, met oorlog en met brandkoring en roes. Dit sal by jou bly totdat jy uitgewis is.23
“Die hemel bo jou sal brons word en die aarde onder jou yster.24
“Die Here sal stof en roet in jou land laat reën. Dit sal uit die hemel uit op jou afkom en jou uitdelg.25
“Die Here sal jou laat vlug vir jou vyande. Uit een rigting sal jy teen hulle opruk, maar in talle rigtings sal jy voor hulle uit vlug. Jy sal bewe vir al die koninkryke van die aarde.26
“Al die voëls en die wilde diere sal aan jou lyke vreet, en niemand sal hulle verjaag nie.27 Die Here sal jou tref met die swere van Egipte, met bloedvinte, uitslag en jeuksiektes, waarvan jy nie genees sal kan word nie.
28 Die Here sal jou tref met kranksinnigheid en blindheid en waansin.
29 Jy sal op die helder middag rondtas soos 'n blinde rondtas in sy donkerte. Jy sal nie voorspoed ondervind nie. Jy sal aanhoudend verdruk en beroof word en daar sal niemand wees om jou te help nie.
30 Jy sal aan 'n vrou verloof raak, maar 'n ander man sal haar verkrag; jy sal 'n huis bou, maar nie daarin woon nie; jy sal 'n wingerd plant, maar nie sy vrugte eet nie.
31 Jou bees sal voor jou oë geslag word, maar jy sal nie daarvan eet nie. Jou donkie sal voor jou oë geroof word en nie weer aan jou terugbesorg word nie. Jou kleinvee sal aan jou vyande gegee word, en daar sal niemand wees wat jou help nie.
32 Jou seuns en dogters sal aan 'n vreemde volk gegee word terwyl jy toekyk, en jou oë sal ingee soos jy die hele dag kyk of hulle terugkom, maar jy sal niks daaraan kan doen nie.
33 'n Volk wat jy nie ken nie, sal die opbrengs eet van jou lande en alles waarvoor jy jou afsloof. Daar sal deurentyd net verdrukking en swaarkry vir jou wees,
34 en jy sal kranksinnig word van wat jy sien.
35 Die Here sal jou tref met kwaadaardige swere aan jou knieë en jou dye. Van kop tot tone sal jy nie genees kan word nie.
36
“Die Here sal jou en die koning wat jy vir jou sal aanstel, na 'n nasie toe laat gaan wat jy en jou voorvaders nie geken het nie, en daar sal jy ander gode dien: hout en klip.37 Daar sal jy wees tot 'n spot en 'n skimp onder al die volke na wie toe die Here jou sal bring, iets waarvoor hulle sal skrik.
38 Jy sal baie saad saai, maar min oes, want sprinkane sal die oes opvreet.
39 Jy sal wingerde plant en bewerk, maar jy sal nie wyn daarvan drink of druiwe daarvan oes nie, want wurms sal dit opvreet.
40 Oral in jou grondgebied sal jy olyfbome hê, maar jy sal jou liggaam nie met hulle olie versorg nie, want die olywe sal afval.
41 Jy sal seuns en dogters hê, maar jy sal hulle nie behou nie, want hulle sal as ballinge weggevoer word.
42 Goggas sal jou bome en die opbrengs van jou lande oorneem.
43 Die vreemdeling wat by jou woon, sal meer en meer kry, en jy sal agteruitboer en minder en minder hê.
44 Hy sal aan jou leen, jy sal nie aan hom leen nie. Hy sal die kop wees en jy die stert.
45 Al hierdie strawwe sal oor jou kom. Hulle sal jou tref en by jou bly totdat jy uitgeroei is, omdat jy nie na die opdrag van die Here jou God geluister het nie en nie sy gebooie en voorskrifte wat Hy jou gegee het, gehoorsaam het nie.
46 Die gebooie en voorskrifte moet altyd vir jou en jou kinders 'n waarskuwingsteken wees.
47
“As jy die Here jou God nie met vreugde en blydskap dien nie omdat jy baie besit,48 sal jy jou vyande wat deur die Here teen jou gestuur sal word, moet dien. Jy sal dit doen terwyl jy honger en dors en sonder klere is en gebrek ly, en jou vyand sal 'n ysterjuk op jou nek sit totdat hy jou uitgeroei het.
49 Die Here sal van ver af 'n nasie teen jou laat opruk. Hy sal van die uithoeke van die aarde af kom, vinnig soos 'n arend wat vlieg. Dit sal 'n nasie wees wie se taal jy nie verstaan nie,
50 'n wrede nasie deur wie niemand, oud of jonk, ontsien word nie, 'n nasie sonder genade.
51 Hy sal die aanteel van jou vee en die opbrengs van jou land opeet totdat hy jou uitgeroei het. Hy sal nie vir jou koring of wyn of olie laat oorbly nie, ook nie van die aanteel van jou grootvee en jou kleinvee nie. Jou vyand sal dit doen totdat hy jou ondergang bewerk het.
52
“Hy sal jou in al jou stede beleër totdat jou hoë stadsmure en jou vestings waarop jy staatmaak, dwarsdeur jou land afgebreek is. Hy sal jou beleër in al die stede van jou hele land wat deur die Here jou God aan jou gegee is.53 Wanneer jou vyand jou beleër en jou laat swaarkry, sal jy die vleis van jou eie kinders eet, jou seuns en dogters wat deur die Here jou God aan jou gegee is.
54 Selfs die sagste en mees verfynde man by jou sal niks omgee vir sy broer of sy lieflingvrou of sy kind wat nog lewe nie.
55 Hy sal vir nie een van hulle die vleis van sy eie kinders gee wat hy eet nie, want dan hou hy niks vir homself oor nie. Dit is wat sal gebeur wanneer jou vyand jou beleër en jou laat swaarkry in al jou stede.
56 Die sagste en mees verfynde vrou by jou wat nie eers sal probeer om 'n voet op die grond te sit nie, so verfyn en sag is sy, sal vir haar man vir wie sy lief is, of vir haar seun of haar dogter niks omgee nie. Sy sal hulle nie laat eet
57 van die nageboorte of van die vleis van haar kinders wat sy in die wêreld gebring het nie. Sy sal alles in die geheim opeet, so honger sal sy wees. Dit sal gebeur wanneer jou vyand jou beleër en jou laat swaarkry in al jou stede.
58
“Sorg dat jy lewe volgens al die bepalings van hierdie wet wat in hierdie boek opgeteken is, dat jy eerbied betoon aan die Here jou God, Hy aan wie se Naam eer en ontsag toekom.59 As jy dit nie doen nie, sal Hy ontsettende rampe oor jou en jou nageslag bring, groot en langdurige rampe, kwaadaardige en ongeneeslike siektes.
60 Hy sal al die siektes van Egipte oor jou bring, alles waarvoor jy bang is, en hulle sal ongeneeslik wees.
61 Die Here sal ook al die siektes en rampe wat nie in hierdie wetboek genoem is nie, oor jou laat kom totdat Hy jou uitgeroei het.
62
“Julle was so baie soos die sterre aan die hemelruim, maar daar sal net 'n klompie van julle oorbly omdat jy nie die Here jou God gehoorsaam het nie.63
“Soos die Here jou God Hom oor julle verbly het toe Hy aan julle goed gedoen en julle baie gemaak het, so sal Hy Hom verbly wanneer Hy julle tot niet maak en julle uitroei. Julle sal uitgeruk word uit die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem.64 Die Here sal jou verstrooi onder al die volke, oor die hele aarde. Daar sal jy ander gode dien wat jy en jou voorvaders nie geken het nie, gode van hout en klip.
65 Onder daardie nasies sal jy nie vrede vind nie, nie eers 'n rusplek vir jou voete nie. Die Here sal jou daar 'n hart vol angs gee, oë wat ingee, 'n lewe wat wegkwyn.
66 Jou lewe sal aan 'n draadjie hang, jy sal dag en nag in vrees lewe, jy sal jou lewe lank onveilig wees.
67 In die môre sal jy sê: ‘Was dit maar aand!’ en in die aand sal jy sê: ‘Was dit maar môre!’ so vol vrees sal jy wees en sulke vreeslike dinge sal jy belewe.
68
“Die Here sal jou met die pad waarvan ek vir jou gesê het jy sal dit nie meer sien nie, terugvat Egipte toe in groot ellende. Daar sal julle julleself aan jou vyande as slawe en slavinne te koop aanbied, maar daar sal nie 'n koper wees nie.”1
Behalwe die verbond wat Moses by Horeb met die Israeliete gesluit het, het hy op bevel van die Here ook in Moab 'n verbond met hulle gesluit. Hier volg die inhoud daarvan.2
Moses het die hele Israel bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Julle het self ondervind wat die Here alles voor julle oë met Egipte, met die farao en al sy amptenare en met sy hele land gedoen het:3 die groot rampe wat julle self gesien het, die tekens, daardie groot wonderdade.
4 En tog het die Here tot nou toe nie vir julle verstand gegee om te verstaan, oë om te sien en ore om te luister nie.
5 Ek het julle veertig jaar deur die woestyn gelei: julle klere het nie aan julle liggame verslyt en julle skoene het nie stukkend afgeval van julle voete af nie.
6 Julle het nie brood geëet en wyn of bier gedrink nie sodat julle kon leer dat die Here julle God is.
7 Toe julle by hierdie plek aangekom het, het koning Sihon van Gesbon en koning Og van Basan opgetrek om teen ons oorlog te maak. Ons het hulle verslaan
8 en hulle land afgevat en dit as besitting gegee aan Ruben en Gad en aan die halwe Manassestam.
9
“Sorg dat julle doen wat hierdie verbond bepaal en lewe daarvolgens sodat julle voorspoedig sal wees in alles wat julle aanpak.10 Julle staan vandag almal in die teenwoordigheid van die Here julle God. Julle is almal hier: hoofde, stamme, leiers, beamptes, elke Israeliet,
11 ook julle kinders en julle vrouens, selfs die vreemdeling wat by julle in die laer is, dié wat julle hout vir julle moet kap, en dié wat julle water vir julle moet aandra.
12 Julle staan hier sodat julle deel kan kry aan die verbond van die Here julle God wat Hy vandag onder eed met julle sluit,
13 sodat Hy julle vandag sy volk kan maak en Hy julle God kan word, soos Hy julle beloof het en soos Hy met 'n eed beloof het aan julle voorvaders, Abraham, Isak en Jakob.
14 Die Here het gesê: ‘Dis nie net julle met wie Ek hierdie verbond onder eed sluit nie.’
15 Hy sluit die verbond met almal wat vandag hier saam met ons voor Hom, die Here ons God staan, maar ook met hulle wat nie vandag hier saam met ons is nie.
16 Julle weet hoe ons in Egipte gewoon het en hoe ons tussen die nasies deurgetrek het, en hoe julle waar julle verbygetrek het,
17 hulle afskuwelike afgodsbeelde van hout en klip, van silwer en goud by hulle gesien het.
18 Pas op dat daar nie dalk onder julle 'n man of 'n vrou, 'n familie of 'n stam is wat vandag afvallig word van die Here ons God en die gode van daardie nasies gaan dien nie. As daar so iemand is, so 'n gifwortel wat alles kan vergiftig,
19 kan hy homself dalk probeer gerusstel wanneer hy hierdie woorde hoor, en kan hy dalk sê: ‘Ek is veilig al volg ek my eie harde kop.’ Maar dit sal lei tot ellende en swaarkry,
20 want die Here sal nie so iemand wil vergewe nie. Die toorn, die verontwaardiging van die Here, sal teen so iemand ontbrand en elke vloek wat in hierdie boek opgeteken is, sal hom tref. Die Here sal die herinnering aan so iemand van die aarde af wegvee.
21 Die Here sal hom van die ander stamme van Israel afsonder sodat rampe hom kan tref ooreenkomstig die verbond wat met 'n eed gesluit en in hierdie wet opgeteken is.
22
“Wanneer die nageslag, julle kinders wat ná julle kom, en vreemdes wat van ver af kom, die plae in hierdie land sien en ook die siektes wat deur die Here daarin gebring word, sal hulle sê:23 ‘Die hele land is verbrand, dis swael en sout! Niemand saai daar nie, daar groei niks, daar kom nie eers 'n groenigheid op nie. Dit is verwoes soos Sodom en Gomorra, soos Adma en Sebojim wat deur die Here in sy gloeiende toorn verwoes is.’
24
“Dan sal al die nasies vra: ‘Waarom het die Here dit met hierdie land gedoen? Waarom het hierdie groot toorn ontvlam?’25 Dan sal die antwoord wees: ‘Omdat die mense van hierdie land die verbond verbreek het wat die Here die God van hulle voorvaders met hulle gesluit het toe Hy hulle uit Egipte laat wegtrek het.
26 Hulle het ander gode gaan dien en vereer, gode wat onbekend was aan hulle en nie vir hulle bestem was nie.
27 Daarom het die toorn van die Here teen hierdie land ontvlam en het Hy al die strawwe wat in hierdie boek opgeteken is, oor die land gebring.
28 Daarom het die Here in sy gloeiende toorn en in sy groot woede die mense uit hulle land geruk en in 'n ander land neergegooi. Hulle is nou nog daar.’
29
“Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet.1
“Wanneer al hierdie dinge, die seën en die straf wat ek jou voorgehou het, oor jou kom en jy daar tussen al die nasies waarheen die Here jou God jou verdryf het, daaraan dink2 en jy terugkom na die Here jou God en Hom gehoorsaam en jy en jou kinders met hart en siel doen wat ek jou vandag beveel het,
3 sal die Here jou God jou omstandighede verander. Hy sal jou jammer kry en jou weer bymekaarmaak van oral af waarheen Hy jou tussen die volke verstrooi het.
4 Al is jy verdryf tot in die uithoeke van die aarde, die Here jou God sal jou daar gaan bymekaarmaak en van daar af gaan haal.
5 Hy sal jou terugbring na die land toe wat deur jou voorvaders besit is en jy sal dit in besit neem, en die Here sal aan jou goeddoen en jou meer laat word as jou voorvaders was.
6 Die Here jou God sal jou lewe en die lewe van jou nageslag aan Hom wy, sodat jy Hom sal liefhê met hart en siel. Dan sal jy lewe,
7 en die Here jou God sal al hierdie strawwe laat neerkom op jou vyande en op jou haters wat jou agtervolg.
8 Dan sal jy terugkom na die Here en Hom gehoorsaam en volgens al sy gebooie lewe wat ek jou vandag beveel.
9 [9-10] Die Here jou God sal jou dan voorspoedig maak in alles wat jy aanpak en Hy sal jou kinders, die aanteel van jou vee en die opbrengs van jou land baie maak, sodat dit met jou goed sal gaan. Wanneer jy die Here jou God gehoorsaam en sy gebooie en voorskrifte nakom wat opgeteken is in hierdie wetboek, en wanneer jy met hart en siel terugkom na die Here jou God, sal Hy Hom weer oor jou verbly soos Hy Hom oor jou voorvaders verbly het en sal dit met jou goed gaan.
10
11
“Die gebod wat ek jou vandag beveel, is nie te moeilik vir jou nie. Dit is ook nie buite jou bereik nie.12 Dit is nie in die hemel nie, sodat jy nie hoef te sê: ‘Wie sal vir ons opklim hemel toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe’ nie.
13 Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy nie hoef te sê: ‘Wie sal vir ons oorvaar na die oorkant toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe’ nie.
14 Die gebod is baie naby aan jou, jy kan daaroor praat, jy ken dit, jy kan daarvolgens lewe.
15
“Ek het vandag die lewe en die voorspoed, die dood en die teenspoed aan jou voorgehou.16 As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem.
17 [17-18] Maar ek verkondig vandag aan julle: As jy van die Here af wegdraai en Hom nie gehoorsaam nie en as jy jou laat verlei om ander gode te vereer en te dien, sal julle almal omkom; julle sal nie lank bly woon in die land wat jy in besit gaan neem sodra jy deur die Jordaan getrek het nie.
18
19 Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.
20 Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee en jou lank laat woon in die land wat die Here met 'n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om aan hulle te gee.”
1
Moses het met die hele Israel gaan praat2 en vir hulle gesê: “Ek is nou honderd en twintig jaar oud, ek kan nie meer gaan oorlog maak nie. Die Here het vir my gesê: ‘Jy mag nie deur die Jordaan trek nie.’
3 Die Here julle God sal voor julle uit deur die Jordaan trek en Hy sal hierdie nasies voor julle uitroei sodat julle hulle gebied in besit sal neem. Josua sal julle deurlei, soos die Here beloof het.
4 Die Here sal met hierdie nasies doen soos Hy gedoen het met die Amoritiese konings Sihon en Og en met hulle land toe Hy hulle uitgeroei het.
5 Die Here sal hierdie nasies in julle mag oorgee, en julle moet met hulle alles doen wat ek julle beveel het.
6 Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.”
7
Toe het Moses vir Josua geroep en vir hom gesê waar die hele Israel dit kon hoor: “Wees sterk, wees dapper! Jy gaan saam met hierdie volk in die land in wat die Here met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee. Jy moet hulle dit in besit laat neem.8 Die Here sal voor jou uit gaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie.”
9
Moses het toe hierdie wet opgeskryf en dit gegee aan die Levitiese priesters wat die verbondsark van die Here dra, en ook aan al die leiers van Israel.10
Toe het Moses hulle beveel: “Aan die einde van elke sewende jaar, op die vasgestelde tyd, die jaar waarin julle skuld moet afskryf, op die huttefees,11 wanneer die hele Israel in die teenwoordigheid van die Here julle God moet verskyn op die plek wat Hy sal kies, moet julle hierdie wet lees in die teenwoordigheid van die hele Israel waar hulle dit kan hoor.
12 Julle moet die volk bymekaarroep: mans, vrouens en kinders, en ook die vreemdeling wat in julle stede by julle woon, sodat hulle kan luister en die wet kan leer, sodat hulle die Here julle God kan dien en gehoorsaam, sodat hulle kan leef volgens alles wat in hierdie wet staan.
13 So sal hulle kinders wat nie hierdie wet ken nie, dit kan hoor en leer en sal hulle die Here julle God kan dien so lank as julle lewe in die land waarheen julle deur die Jordaan trek om dit in besit te gaan neem.”
14
Die Here het vir Moses gesê: “Jou tyd om te sterf, het aangebreek. Roep vir Josua en gaan staan in die tent van ontmoeting sodat Ek hom sy bevele kan gee.” Moses en Josua het toe in die tent van ontmoeting gaan staan,15 en die Here het daar verskyn in 'n wolkkolom, 'n wolkkolom wat by die tentdeur bly hang het.
16
Toe sê die Here vir Moses: “Jy gaan nou sterf. Daarna sal hierdie volk ontrou word en in die land waar hy gaan woon, die vreemde gode van die land aanhang. Die volk sal My verlaat en die verbond verbreek wat Ek met hom gesluit het.17 Dan sal my toorn teen hom ontvlam en Ek sal hulle verlaat en van hulle af weggaan. Ek sal nie aan hulle verskyn nie en die volk sal te gronde gaan. Baie plae en rampe sal hom tref, en dan sal hy sê: ‘Hierdie plae tref my omdat my God nie by my is nie.’
18 Maar ook dan sal Ek nie aan hom verskyn nie, want hy het al hierdie verkeerde dinge gedoen en ander gode gaan dien.
19
“Teken hierdie lied vir julle op en leer dit vir die Israeliete. Laat hulle dit sing sodat die lied my getuie teen hulle kan wees.20 Wanneer Ek vir Israel gebring het in die land wat Ek aan sy voorvaders met 'n eed beloof het, die land wat oorloop van melk en heuning, sal Israel genoeg eet en lekker lewe en dan sal hy ander gode aanhang en hulle dien. Hulle sal My minag en my verbond verbreek.
21 Wanneer baie plae en rampe hom dan tref, sal hierdie lied teen hom getuig, want dit sal nie deur sy nageslag vergeet word nie. Ek weet wat daar vandag in Israel se hart omgaan, hier net voordat Ek hom inbring in die land waaroor Ek 'n eed afgelê het.”
22
Moses het daardie selfde dag nog die lied opgeteken en dit vir die Israeliete geleer.23
Die Here het ook vir Josua seun van Nun beveel: “Wees sterk, wees dapper! Jy sal die Israeliete inbring in die land wat Ek met 'n eed aan hulle beloof het, en Ek sal by jou wees.”24
Toe Moses hierdie wet, tot die laaste woord toe, in 'n boek opgeteken het,25 het hy die Leviete wat die verbondsark van die Here dra, beveel:
26 “Vat hierdie wetboek en sit dit langs die verbondsark van die Here julle God. Dit moet daar bly om teen julle te getuig.
27 Ek weet hoe opstandig en hardkoppig julle is. Terwyl ek nog hier by julle in die lewe is, is julle al opstandig teen die Here, hoeveel te meer nog as ek eers dood is!
28 Maak vir my julle beamptes en al die leiers van julle stamme bymekaar sodat ek al hierdie woorde vir hulle kan sê en die hemel en die aarde as getuies teen hulle kan inroep.
29 Ek weet julle sal na my dood julle ondergang soek deur te verontagsaam wat ek julle beveel het. Wanneer julle in die toekoms doen wat verkeerd is in die oë van die Here, en Hom tart met wat julle doen, sal rampe oor julle kom.”
30
Toe het Moses hierdie lied, tot die laaste woord toe, aan die hele Israel wat daar bymekaar was, voorgehou:1
“Hoor, hemele, ek praat,2
My onderrig kom na julle toe soos reënwater,
my woorde verkwik julle soos dou,
soos sagte reëns op die grassies,
soos reënbuie op die graan.
3
Ek wil die Naam van die Here roem.
Prys ons God om sy grootheid!
4
Hy is die Rots, sy werk is volmaak,
alles wat Hy doen, is regverdig.
Hy is die getroue God, sonder onreg,
Hy is regverdig en betroubaar.
5
“Israel is ontrou aan die Here,6
Doen julle dit die Here aan?
Jy is 'n dwase volk, sonder verstand.
Is die Here nie jou Vader, jou Skepper, nie?
Hy het jou gemaak, jou in die lewe gebring.
7
Dink aan die dae lank verby,
onthou die jare van die voorgeslagte.
Vra jou pa dat hy jou vertel,
jou oumense dat hulle jou dit sê.
8
Toe die Allerhoogste vir die nasies hulle besittings gegee het,
toe Hy die mense in volke opgedeel het,
het Hy vir hulle hulle grense bepaal,
soveel as wat daar Israeliete is.
9
Hulle is die Here se volk, sy deel,
Jakob is die Here se vaste eiendom.
10
Hy het sy volk in die woestyn gevind,
in 'n onbewoonbare land waar woestyndiere skreeu.
Die Here het sy volk omhels, hom vertroetel
en versorg soos die appel van sy oog.
11
Soos 'n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop,
oor hulle fladder en hulle vang
op sy vlerke wat hy oopsprei,
soos 'n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra,
12
so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei;
daar was nie 'n ander god by Hom nie.
13
Die Here het sy volk die land in besit laat neem,
en hom laat eet van die opbrengs van die lande,
hom heuning uit klipskeure laat geniet,
olie uit harde klip,
14
botter uit die beestrop, melk van die kleinvee,
vet lammers, skaapramme en bokramme uit Basan,
die beste koring;
die wyn wat jy drink, kom uit die beste druiwe.
15
Jesurun het alles in oorvloed gehad;
hy het in opstand gekom.
Jy het oorvloed gehad, jy het dom geword,
jy het jou ooreet.
Hy het God wat hom gemaak het, verwerp,
Hy was vermetel teen die Rots wat hom gered het.
16
Israel het vreemde gode bo die Here verkies,
Hom getart met hulle afskuwelike afgode,
17
offers gebring aan veldduiwels, aan goed wat nie gode is nie,
aan onbekende gode,
nuwe gode wat van die bure af kom,
gode wat onbekend was aan julle voorvaders.
18
Jy het jou Rots, jou Skepper, nie in ag geneem nie,
die God wat jou in die wêreld gebring het, vergeet.
19
“Die Here het dit gesien en vir jou minagting gekry.20
het Hy gesê: Ek sal nie meer vir hulle sorg nie,
Ek wil kyk wat hulle uiteinde is,
want hulle is 'n onbestendige volk,
mense sonder trou.
21
Hulle het iets wat nie 'n god is nie, bo My verkies,
My getart met wat niks is nie.
Ek sal wat nie 'n volk is nie, bo hulle verkies,
met 'n nasie sonder verstand sal Ek hulle tart.
22
My toorn het 'n vuur aangesteek;
dit brand tot in die doderyk daaronder,
dit verteer die aarde en sy opbrengs,
dit brand deur tot diep onder die berge.
23
Ek sal ramp op ramp oor hulle bring,
my pyle op hulle afskiet:
24
hongerpyne, koorsgloed,
ongeneeslike siekte.
Ek sal roofdiere op hulle afstuur,
en giftige slange!
25
Op straat roei die swaard die kinders uit,
in die slaapkamers is daar angs:
jong man en jong meisie,
suigling en grysaard, almal kom om.
26
Ek sou wou sê Ek sal hulle verstrooi,
Ek sal maak dat geen mens meer aan hulle dink nie,
27
maar Ek is bevrees die vyand sal My tart,
Israel se teenstanders sal dit verkeerd beoordeel
en sê: ‘In eie krag het ons dit alles gedoen,
nie die Here nie,’
28
want hulle is 'n nasie sonder verstand,
hulle het geen insig nie.
29
“As hulle wysheid gehad het, sou hulle dit verstaan het,30
Hoe kan een mens duisend agtervolg
of twee tienduisende op die vlug jaag?
Gebeur dit nie omdat die Rots van Israel hulle verkoop het nie,
omdat die Here hulle uitgelewer het nie?
31
Die rots van die nasies is nie soos ons Rots nie,
ons vyande kan tog self oordeel,
32
want hulle stam uit Sodom se wingerd,
uit Gomorra se droë gelyktes.
Hulle druiwe is giftig,
elke tros is bitter.
33
Hulle wyn is slanggif,
wrede addergif.
34
“Die Here het gesê:35
Ek straf en Ek vergeld
op die dag as hulle voete gly.
Die dag van hulle ondergang is naby;
wat oor hulle besluit is, kom gou.’
36
“Die Here behartig die saak van sy volk,37
Dan sal Hy vra: ‘Waar is hulle gode?
Waar is die rots waar hulle gaan skuil het,
38
die gode deur wie die vet van hulle offers geëet is
en die wyn van hulle drankoffers gedrink is?
Laat hulle na vore kom en julle help,
laat hulle vir julle 'n skuiling wees!
39
Besef dit tog: Ek, Ek is die Here!
Naas My is daar geen ander God nie.
Ek maak dood en Ek gee lewe.
Ek maak siek en Ek maak gesond.
Uit my mag word niemand bevry nie.
40
Ek steek my hand op na die hemel toe
en lê 'n eed af: So seker as Ek ewig lewe,
41
wanneer Ek my blink swaard skerp gemaak het,
wanneer my hand dit gevat het om te oordeel,
sal Ek my teenstanders straf
en my haters vergeld vir wat hulle gedoen het.
42
My swaard sal dood saai;
Ek sal my pyle deurweek met bloed:
die bloed van gesneuweldes en gevangenes,
die bloed van die vyand
met die lang haarlokke.’
43
“Al julle nasies, julle moet44
Moses het nader gekom en hierdie hele lied aan die volk voorgehou. Josua seun van Nun was by hom.45 Toe Moses hiermee klaar was,
46 het hy vir al die Israeliete gesê: “Neem al die woorde waarmee ek julle vandag vermaan het, ter harte. Julle moet julle kinders beveel om dit te gehoorsaam en te lewe volgens hierdie hele wet.
47 Dit is nie 'n geringe saak vir julle nie, dit is die lewe vir julle, en deur hierdie gebod te onderhou, sal julle julle verblyf verleng in die land wat julle in besit sal neem wanneer julle die Jordaan deurtrek.”
48
Op dieselfde dag waarop Moses so met die Israeliete gepraat het, het die Here vir hom gesê:49 “Klim op Neboberg in die Abarimberge in Moab regoor Jerigo en bekyk Kanaän wat Ek vir die Israeliete as besitting sal gee.
50 Jy sal sterf op die berg waarop jy moet klim. So het jou broer Aäron gesterf op Horberg.
51 Julle was voor die oë van die Israeliete aan My ontrou by die waters van Meriba-Kades in die Sinwoestyn, want julle het My nie daar voor hulle oë as die Heilige geëer nie.
52 Jy sal die land wat Ek aan die Israeliete sal gee, regoor jou sien, maar jy sal daar nie binnegaan nie.”
1
Moses, die man van God, het die Israeliete voor sy dood met die volgende woorde geseën:2
Hy het gesê: “Die Here kom van Sinai af,3
“U, Here, het u volk lief,4
Moses het ons 'n wet gegee,
dit is 'n besitting vir die volk van Jakob.
5
Die Here het koning geword oor Jesurun
toe die volksleiers,
al die stamme van Israel, bymekaargekom het.
6
“Ruben moet lewe, hy mag nie sterf nie;7
Oor Juda het Moses gesê: “Here, luister na Juda!8
Oor Levi het Moses gesê: “U tummim en u urim is toevertrou aan u troue dienaar,9
Hy het van sy pa en ma gesê:
‘Ek hou nie rekening met hulle nie.’
Hy het sy broers nie erken nie,
sy seuns nie as familie beskou nie.
Die mense van Levi is gehoorsaam aan u bevele,
hulle eerbiedig u verbond.
10
Hulle sal vir Jakob in u bepalings onderrig,
vir Israel in u wet.
Hulle sal wierookoffers voor U kom neersit,
brandoffers op u altaar.
11
Seën sy werk, Here!
Aanvaar wat hy doen!
Tref sy teenstanders waar hulle krag sit,
tref sy haters sodat hulle nie weer opstaan nie.”
12
Oor Benjamin het Moses gesê: “Wie deur die Here bemin word, is veilig by Hom,13
Oor Josef het Moses gesê: “Mag sy land deur die Here geseën word:14
met die beste wat deur die son gegee kan word
en met die beste wat deur elke maand opgelewer kan word,
15
met die beste uit die gryse berge
en met die beste uit die ou-ou heuwels,
16
met die beste uit die aarde en wat daarop is
en met die toegeneentheid van Hom wat woon in die doringbos.
Mag dit alles op Josef kom,
op hom wat heerser is oor sy broers.
17
Hy sal trots wees soos 'n jong bul,
so sterk soos 'n buffel.
Hy sal volke met sy krag rondjaag,
almal saam tot in die uithoeke van die aarde.
Mag die tienduisende van Efraim so wees
en ook die duisende van Manasse.”
18
Oor Sebulon het Moses gesê: “Jy moet bly wees, Sebulon, as jy op pad gaan;19
“Hulle twee nooi volke na die berg toe20
Oor Gad het Moses gesê: “Geseënd is elkeen wat vir Gad woonplek gee.21
Gad het die beste vir hom gekies,
want sy land is 'n uitsoekdeel, 'n terrasland.
Gad het met die leiers van die volk gekom
en die wil van die Here gedoen
en saam met Israel die bepalings van die Here nagekom.”
22
Oor Dan het Moses gesê: “Dan is 'n jong leeu,23
Oor Naftali het Moses gesê: “Naftali geniet baie guns,24
Oor Aser het Moses gesê: “Aser is meer geseënd as die ander seuns,25
Jou sluitbalke is van yster en brons.
Mag jy jou lewe lank rustig woon.
26
“Jesurun, daar is niemand soos God nie,27
Die ewige God is 'n skuilplek,
sy arms is altyd onder jou.
Hy verdryf die vyand voor jou uit,
Hy beveel: ‘Roei uit!’
28
Daarom woon Israel rustig,
woon die nasate van Jakob eenkant in 'n land van koring en wyn en drup die hemel dou.
29
Dit gaan goed met jou, Israel!
Wie is soos jy? Jy is 'n volk wat deur die Here verlos is!
Hy beskerm en help jou.
Hy gee mag aan jou,
jou vyande kruip voor jou,
en jy sal oor hulle offerplekke stap.”
1
Moses het uit die Moabsvlakte opgeklim na Neboberg toe, tot op die top van Pisgaberg regoor Jerigo. Die Here het hom die hele land gewys: van Gilead af tot by Dan,2 die hele Naftali, die gebied van Efraim en Manasse en die hele Juda tot by die see in die weste,
3 die Suidland en die vlakte, die Jerigolaagte met sy palms tot by Soar.
4 Die Here het vir Moses gesê: “Dit is die land wat Ek met 'n eed beloof het aan Abraham en Isak en Jakob. Ek het gesê: ‘Ek gee dit aan jou nageslag.’ Ek het jou dit met jou eie oë laat sien, maar jy sal nie daarheen deurtrek nie.”
5
Moses, die dienaar van die Here, het daar in die land Moab gesterf soos die Here beveel het.6 Hy het vir Moses begrawe in 'n vlakte in Moab, regoor Bet-Peor, maar tot nou toe weet niemand waar sy graf is nie.
7
Moses was honderd en twintig jaar toe hy gesterf het; sy oë was toe nog goed en sy krag het nog nie ingegee nie.8 Die Israeliete het dertig dae oor Moses gerou in die Moabsvlakte en so die routyd oor Moses voltooi.
9
Josua seun van Nun het oor wysheid beskik, want Moses het sy hande op Josua gelê. Die Israeliete het hom gehoorsaam en hulle het gedoen wat die Here vir Moses beveel het.10 Daar het nie weer 'n profeet in Israel opgetree wat soos Moses was nie. Hy het die Here persoonlik geken.
11 Die Here het hom gestuur om in Egipte al die tekens en wonders vir die farao en sy amptenare en sy hele land te doen.
12 Moses het al die magtige dade, al die groot dade wat vrees inboesem, voor die oë van die hele Israel gedoen.