1

1

Die Here het met Moses gepraat in die tent van ontmoeting in die Sinaiwoestyn. Dit was op die eerste dag van die tweede maand, in die tweede jaar nadat Israel uit Egipte weggetrek het.

2 [2-3] Die Here het gesê: “Jy en Aäron moet al die Israeliete man vir man tel volgens afkoms en familie; skryf die name op van elke manlike persoon van twintig jaar en ouer, elkeen in Israel wat vir militêre diens geskik is en wat in leërafdelings ingedeel is.

3

4 Julle moet hierin bygestaan word deur persone wat hoofde is van hulle families, een uit elke stam.

5 En dit is die name van die manne wat vir julle moet bystaan:

“uit die stam Ruben: Elisur seun van Sedeür;

6

uit Simeon: Selumiël seun van Suri-Saddai;

7

uit Juda: Nagson seun van Amminadab;

8

uit Issaskar: Netanel seun van Suar;

9

uit Sebulon: Eliab seun van Gelon;

10

uit die nageslag van Josef, uit Efraim: Elisama seun van Ammihud, en uit Manasse: Gamliël seun van Pedasur;

11

uit die stam Benjamin: Abidan seun van Gidoni;

12

uit Dan: Agiëser seun van Ammi-Saddai;

13

uit Aser: Pagiël seun van Okran;

14

uit Gad: Eljasaf seun van Reüel;

15

uit Naftali: Agira seun van Enan.”

16

Hulle was die manne wat uit die vergadering aangewys is, leiers van die stamme van hulle voorvaders en stamhoofde van Israel.

17

Moses en Aäron het hierdie manne wie se name genoem is, laat kom.

18 Op die eerste dag van die tweede maand het hulle toe die hele volk bymekaargeroep. Daarna het elke weerbare man sy afkoms volgens stam en familie opgegee, almal van twintig jaar en ouer.

19 Moses het hulle in die Sinaiwoestyn getel, soos die Here hom beveel het.

20

[20-43] Die manlike afstammelinge van die onderskeie stamvaders was:

van Ruben die oudste seun van Israel — 46 500

van Simeon — 59 300

van Gad — 45 650

van Juda — 74 600

van Issaskar — 54 400

van Sebulon — 57 400

van Josef se seuns:

— Efraim — 40 500

— Manasse — 32 200

van Benjamin — 35 400

van Dan — 62 700

van Aser — 41 500

van Naftali — 53 400

Dit was in die geval van elke stam die getal weerbare manne van twintig jaar en ouer, getel volgens afkoms en familie.

21

22

23

24

25

26

27

28

29

30

31

32

33

34

35

36

37

38

39

40

41

42

43

44

[44-46] Dit was dan die getal van die manne wat deur Moses, Aäron en die twaalf Israelitiese stamhoofde getel is. Altesaam was die getelde Israeliete 603 550. Dit was die weerbare manne van twintig jaar en ouer, getel volgens families.

45

46

47

Die Leviete is nie as afsonderlike stam bygetel nie.

48 Die Here het naamlik vir Moses gesê:

49 “Die stam Levi moet jy nie tel nie en hulle getal moet jy nie by dié van die Israeliete voeg nie.

50 Jy moet die Leviete aanstel om toesig te hou oor die tabernakel met die getuienis, oor al sy gereedskap en al sy toebehore. Hulle moet die tabernakel en sy gereedskap dra; net húlle moet daarmee werk; en hulle moet hulle tente rondom die tabernakel opslaan.

51 As die tabernakel verskuif moet word, moet die Leviete dit uitmekaarhaal; en as dit opgeslaan moet word, moet hulle dit opslaan. 'n Onbevoegde persoon wat nader kom om te help, moet doodgemaak word.

52

“Die ander stamme van Israel moet hulle tente opslaan, elke stam op sy eie staanplek, rondom sy eie vaandel, ingedeel by sy eie leërafdeling,

53 maar die Leviete moet hulle tente rondom die tabernakel met die getuienis opslaan, sodat my toorn nie oor die Israeliete kom nie. So moet die Leviete dan vir die tabernakel met die getuienis sorg.”

54

Die Israeliete het alles presies gedoen soos die Here vir Moses beveel het.

2

1

Die Here het met Moses en Aäron gepraat en gesê:

2 “Die Israeliete moet kamp opslaan, elkeen by sy vaandel, by sy familieteken. Hulle moet die kamp rondom die tent van ontmoeting opslaan, so 'n entjie daarvandaan.

3

“Aan die ooste, sonop se kant, moet die stam Juda kamp opslaan. Hy moet dit doen by sy vaandel en ingedeel in leërafdelings. Nagson seun van Amminadab is die leier van die stam.

4 Die getal van Juda se weerbare manne is 74 600.

5 Die stam Issaskar moet langs Juda kamp opslaan. Netanel seun van Suar is sy leier.

6 Die getal van sy weerbare manne is 54 400.

7 Daarna volg die stam Sebulon met Eliab seun van Gelon as leier.

8 Die getal van sy weerbare manne is 57 400.

9 Die hele kamp onder leiding van Juda, ingedeel in leërafdelings, is altesaam 186 400 weerbare manne.

“Hierdie drie stamme moet altyd eerste versit.

10

“Aan die suidekant moet die stam Ruben kamp opslaan. Hy moet dit doen by sy vaandel en ingedeel in leërafdelings. Elisur seun van Sedeür is die leier van die stam.

11 Die getal van Ruben se weerbare manne is 46 500.

12 Die stam Simeon moet langs Ruben kamp opslaan. Selumiël seun van Suri-Saddai is die leier van die stam.

13 Die getal van sy weerbare manne is 59 300.

14 Daarna volg die stam Gad met Eljasaf seun van Reüel as leier.

15 Die getal van sy weerbare manne is 45 650.

16 Die hele kamp onder leiding van Ruben, ingedeel in leërafdelings, is altesaam 151 450 weerbare manne.

“Hierdie stamme moet altyd tweede versit.

17

“Die kamp van die Leviete met die tent van ontmoeting moet altyd in die middel van die ander kampe bly wanneer hulle trek. In dieselfde orde waarin die stamme kamp opslaan, moet hulle ook die kamp opbreek, elkeen op sy eie plek en by sy eie vaandel.

18

“Aan die westekant moet die stam Efraim kamp opslaan. Hy moet dit doen by sy vaandel en ingedeel in leërafdelings. Elisama seun van Ammihud is die leier van die stam.

19 Die getal van die weerbare manne is 40 500.

20 Die stam Manasse moet langs Efraim wees. Gamliël seun van Pedasur is sy leier.

21 Die getal van sy weerbare manne is 32 200.

22 Daarna volg die stam Benjamin met Abidan seun van Gidoni as leier.

23 Die getal van sy weerbare manne is 35 400.

24 Die hele kamp onder leiding van Efraim, ingedeel in leërafdelings, is altesaam 108 100 weerbare manne.

“Hierdie stamme moet altyd derde versit.

25

“Aan die noordekant moet die stam Dan kamp opslaan. Hy moet dit doen by sy vaandel en ingedeel in leërafdelings. Agiëser seun van Ammi-Saddai is die leier van hierdie stam.

26 Die getal van Dan se weerbare manne is 62 700.

27 Die stam Aser moet langs Dan kamp opslaan. Pagiël seun van Okran is leier van die stam.

28 Die getal van Aser se weerbare manne is 41 500.

29 Daarna volg die stam Naftali met Agira seun van Enan as leier.

30 Die getal van sy weerbare manne is 53 400.

31 Die hele kamp onder leiding van Dan is altesaam 157 600 weerbare manne.

“Hierdie stamme moet met hulle vaandels die laaste versit.”

32

Dit was dan die groottotaal van al die Israeliete, getel volgens families. Al die geteldes van die kampe, ingedeel in leërafdelings, was 603 550 man.

33 Die Leviete is nie onder die getal van Israel bygereken nie, soos die Here vir Moses beveel het.

34 Die Israeliete het presies gedoen soos die Here vir Moses beveel het. Hulle het kamp opgeslaan, elkeen by sy eie vaandel, en elke keer weer weggetrek, elke stam ingedeel volgens sy familiegroepe.

3

1

Toe die Here destyds met Moses op Sinaiberg gepraat het, het Aäron en Moses reeds afstammelinge gehad.

2 Die name van die seuns van Aäron was Nadab, die oudste, Abihu, Eleasar en Itamar.

3 Dit was die name van Aäron se seuns, gesalfde priesters, vir wie Moses in die priesteramp aangestel het.

4 Maar die Here het vir Nadab en Abihu laat sterwe omdat hulle in die Sinaiwoestyn ongeoorloofde vuur voor Hom neergesit het. Hulle het geen seuns gehad nie. Eleasar en Itamar het toe die priesterdiens verrig onder die toesig van Aäron, hulle pa.

5

Die Here het verder vir Moses gesê:

6 “Stel die stam Levi tot beskikking van die priester Aäron, dat hulle hom kan help.

7 Hulle moet vir Aäron in die gemeente diensbeurte waarneem in die tent van ontmoeting deur die werk wat hulle in die tabernakel doen.

8 Hulle moet sorg vir al die toebehore van die tent van ontmoeting; hulle moet die diensbeurte vir die volk Israel waarneem deur die werk wat hulle in die tabernakel doen.

9 Jy moet die Leviete tot beskikking van Aäron en sy seuns stel; uit die volk Israel is hulle die mense wat volkome aan Aäron se diens gewy is.

10 Net aan Aäron en sy seuns is dit opgedra om die priesterdiens te verrig; 'n onbevoegde persoon wat nader kom om dit te doen, moet doodgemaak word.”

11

Die Here het weer met Moses gepraat en gesê:

12 “Kyk, Ek het die Leviete uit die volk vir My geneem in die plek van al Israel se eersgeborenes; hulle behoort aan My.

13 Al die eersgeborenes is Myne: die dag toe Ek al die eersgeborenes van die Egiptenaars omgebring het, het Ek dié van Israel, van mens en dier, vir My opgeëis; hulle behoort aan My. Ek is die Here.”

14

Die Here het in die Sinaiwoestyn vir Moses gesê:

15 “Tel die Leviete volgens hulle afkoms en families, almal van 'n maand en ouer wat manlik is.”

16

Moses het hulle getel presies soos die Here hom beveel het.

17

Levi se seuns was Gerson, Kehat en Merari.

18 Die Gersongroep was Libni en Simi.

19 Die Kehatgroep was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël.

20 Die Merarigroep was Magli en Musi. Dit was die afstammelinge van Levi volgens familieverband.

21 Die afstammelinge van Gerson was die familiegroepe Libni en Simi. Hulle was die Gersoniete.

22 Hulle manlike persone van 'n maand en ouer wat so getel is, was altesaam sewe duisend vyf honderd.

23

Die Gersongroep het aan die westekant agter die tabernakel kamp opgeslaan

24 met Eljasaf seun van Lael as leier.

25 Die taak van die Gersoniete by die tent van ontmoeting was die versorging van die tabernakel: die tent met sy dekseile, die gordyn by die deur van die tent van ontmoeting,

26 die gordyn van die ingang van die voorhof, die gordyne van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar was, al die toue, met alles wat dié diens insluit.

27

Die Kehatgroep was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël. Hulle was die Kehatiete.

28 Hulle manlike persone van 'n maand en ouer was altesaam ag duisend ses honderd. Hulle taak was om die heiligdom te versorg.

29 Die Kehatgroep het aan die suidekant van die tabernakel kamp opgeslaan

30 met Elisafan seun van Ussiël as leier.

31 Hulle taak was die versorging van die ark, die tafel, die kandelaar, die altare, die gereedskap wat in die heiligdom gebruik word, sowel as die voorhangsel, met alles wat dié diens insluit.

32 Eleasar seun van die priester Aäron was die leier van die familiehoofde van Levi, en as sodanig opsigter oor almal wat in die heiligdom diens doen.

33

Merari was die hoof van die familiegroepe Magli en Musi. Hulle was die Merariërs.

34 Hulle manlike persone van 'n maand en ouer wat so getel is, was altesaam ses duisend twee honderd.

35 Suriël seun van Abigajil was leier van die Merarigroep wat aan die noordekant van die tabernakel kamp opgeslaan het.

36 Die Merarigroep was verantwoordelik vir die versorging van die rame, dwarslatte, style en voetstukke van die tabernakel, en ook van al sy gereedskap, met alles wat dié diens insluit;

37 ook van die style rondom die voorhof, met voetstukke, penne en toue.

38

Moses, Aäron en Aäron se seuns het aan die oostekant voor die tabernakel, voor die tent van ontmoeting, kamp opgeslaan. Aäron en sy seuns het die diens van die tabernakel in belang van Israel waargeneem. 'n Onbevoegde persoon wat nader gekom het om te help, moes doodgemaak word.

39

Die manlike Leviete van 'n maand en ouer wat deur Moses en Aäron op bevel van die Here volgens families getel is, was altesaam twee en twintig duisend.

40

Die Here het ook vir Moses gesê: “Tel al die manlike eersgeborenes van die Israeliete van 'n maand en ouer, en maak 'n lys van hulle name.

41 In die plek van al die eersgeborenes uit Israel moet jy die Leviete vir my diens beskikbaar stel, en ook die Leviete se vee in die plek van al die eerstelinge onder die vee van die Israeliete. Ek is die Here.”

42

Moses het toe volgens die bevel van die Here al die eersgeborenes van die Israeliete getel.

43 Die manlike eersgeborenes van 'n maand en ouer wie se name opgeskryf is, was twee en twintig duisend twee honderd drie en sewentig.

44

Die Here het verder vir Moses gesê:

45 “Stel die Leviete beskikbaar vir my diens in die plek van al Israel se eersgeborenes; neem ook die Leviete se vee in die plek van die Israeliete s'n. Die Leviete behoort aan My. Ek is die Here.

46 Die twee honderd drie en sewentig eersgeborenes uit die Israeliete wat daar meer is as Leviete, moet losgekoop word.

47 Jy moet vyf silwerstukke per kop invorder; bereken volgens die standaardgewig van die heiligdom is dit elf gram per silwerstuk.

48 Die geld vir hierdie groter getal eersgeborenes van die Israeliete moet jy as losprys aan Aäron en sy seuns gee.”

49

Moses het toe die loskoopgeld ingevorder vir dié eersgeborenes wat daar meer was as dié wat reeds met Leviete losgekoop is.

50 Hierdie geld het hy geneem van die eersgebore Israeliete, vyftien en 'n half kilogram silwer.

51 Dit het Moses in opdrag van die Here aan Aäron en sy seuns gegee, soos die Here hom beveel het.

4

1

Die Here het vir Moses en Aäron gesê:

2 [2-3] “Tel die Leviete tussen dertig en vyftig jaar, almal wat van Kehat afstam. Doen dit volgens afstamming van familie. Dit moet almal insluit wat vir diens geskik is, wat die werk in die tent van ontmoeting kan verrig.

3

4 Die ampsplig van die Kehatgroep in die tent van ontmoeting het te doen met die besondere gewyde voorwerpe.

5

“Net voor die kamp versit, moet Aäron en sy seuns nader kom.

“Hulle moet die voorhangsel wat as bedekking dien, afhaal en die ark waarin die getuienis is daarmee toemaak.

6 Hulle moet 'n seil van gebreide vel daaroor gooi, en dit met 'n groot blou doek toemaak. Dan moet hulle die draaghoute weer insteek.

7

“'n Blou doek moet ook oor die offerbroodtafel gegooi word, en daarop moet hulle die skottels, bakke, komme en drankofferkanne sit; ook die offerbrood moet daarop gesit word. Dit moet altyd daar wees.

8 Hulle moet 'n bloedrooi doek oor die offerbroodtafel gooi en dit met 'n seil van gebreide vel toemaak. Dan moet hulle die draaghoute insteek.

9

“Hulle moet die kandelaar met sy lampe, pithouers, bakkies en al die oliekanne in 'n blou doek toedraai.

10 Die kandelaar met al sy toebehore moet hulle op 'n seil van gebreide vel neersit en dit op 'n draagbaar sit.

11 Hulle moet 'n blou doek oor die goue wierookaltaar gooi en dit dan met 'n seil van gebreide vel toemaak. Dan moet hulle die draaghoute insteek.

12

“Hulle moet al die gereedskap neem wat vir die diens in die heiligdom nodig is, en dit op 'n blou doek sit. Dan moet hulle dit met 'n seil van gebreide vel toemaak en so op die draagbaar neersit.

13 Hulle moet die as van die altaar afvee en dan 'n pers doek oor die altaar gooi.

14 Al die gereedskap wat hulle vir die diens by die altaar gebruik, moet hulle op die doek neersit: al die vuurpanne, vurke, skoppe en komme, kortom, al die altaargereedskap, en dit met 'n seil van gebreide vel toemaak. Dan moet hulle die draaghoute insteek.

15

“Net voor die kamp versit, moet Aäron en sy seuns eers die gewyde voorwerpe saam met hulle gereedskap toemaak, en dan moet die Kehatiete nader kom om dit te dra. Hulle mag nie aan die gewyde voorwerpe raak nie, want dan sal hulle sterwe. Hierdie voorwerpe van die tent van ontmoeting moet deur die Kehatiete gedra word.

16

“Eleasar seun van die priester Aäron moet toesig hou oor die olie vir die kandelaar, die geurige wierook, die gereelde graanoffer en die salfolie. Hy moet toesig hou oor die hele tabernakel en alles wat daarin is, oor die heiligdom met sy gereedskap.”

17

Die Here het ook nog vir Moses en Aäron gesê:

18 “Julle moet voorsorg tref dat die Kehatgroep van Levi nie met die dood gestraf word nie.

19 Wanneer hulle kom om die gewyde voorwerpe te dra, moet Aäron en sy seuns vir hulle presies aandui wat elkeen van hulle moet doen en dra, sodat hulle kan bly lewe en nie met die dood gestraf word nie.

20 Die Kehatiete mag selfs nie 'n oomblik na die heiligdom kom kyk nie, want dan sal hulle sterwe.”

21

Die Here het vir Moses gesê:

22 “Jy moet ook die afstammelinge van Gerson tel. Doen dit volgens familie en afstamming.

23 Jy moet almal tussen dertig en vyftig jaar tel wat vir diens geskik is en wat die werk in die tent van ontmoeting kan verrig.

24 Die ampsplig van die Gersongroep is om drawerk te doen:

25 hulle moet die tentdoeke van die tabernakel, die tent van ontmoeting, dra, sy seil en die seil van gebreide vel wat daarbo-oor is, die gordyn by die ingang van die tent van ontmoeting

26 en die gordyn by die ingang van die voorhof, asook die gordyne van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar is, die toue en al die nodige gereedskap. Vir al hierdie dinge is hulle verantwoordelik.

27 Al die ampspligte van die Gersongroep, alles wat hulle moet dra en doen, moet onder toesig van Aäron en sy seuns verrig word. Hulle moet toesien dat die Gersongroep al hulle opdragte uitvoer.

28 Dit is dan die ampspligte van die Gersongroep in verband met die tent van ontmoeting. Hulle werk staan onder toesig van Itamar seun van die priester Aäron.”

29

“Jy moet ook die afstammelinge van Merari tel. Doen dit volgens afstamming en familie.

30 Jy moet almal tussen dertig en vyftig jaar tel wat vir diens geskik is en wat die werk in die tent van ontmoeting kan verrig.

31 Hulle diens in verband met die tent van ontmoeting sal wees om die volgende te dra: die rame, dwarslatte, style en voetstukke van die tabernakel;

32 ook die style rondom die voorhof met hulle voetstukke, penne en toue, al die gereedskap en toebehore. Julle moet 'n lys name opstel van persone wat vir die dra van bepaalde voorwerpe verantwoordelik is.

33 Dit is al die verpligtinge van die Merarigroep in verband met die tent van ontmoeting. Dit moet verrig word onder toesig van Itamar seun van die priester Aäron.”

34

[34-45] Moses, Aäron en die volksleiers het die drie Levitiese families Kehat, Gerson en Merari getel. Hulle het dit gedoen volgens afstamming en familie soos die Here vir Moses beveel het. Hulle het al die manlike persone van tussen dertig en vyftig jaar opgeskryf, almal wat geskik was vir diens en wat die werk in die tent van ontmoeting kon verrig. Die getalle was soos volg: Kehat twee duisend sewe honderd en vyftig, Gerson twee duisend ses honderd en dertig, Merari drie duisend twee honderd.

35

36

37

38

39

40

41

42

43

44

45

46

[46-48] Die groottotaal Leviete van tussen dertig en vyftig jaar, almal wat geskik was om te dien in die tent van ontmoeting en om die drawerk te doen, was ag duisend vyf honderd en tagtig. Moses, Aäron en die leiers van Israel het hulle volgens afkoms en familie getel.

47

48

49 Op die bevel wat die Here deur Moses gegee het, is hulle getel en is aan elkeen sy besondere taak en verantwoordelikheid toegewys. Hulle is getel soos die Here vir Moses beveel het.

5

1

Die Here het vir Moses gesê:

2 “Beveel die Israeliete om elkeen uit die kamp uit te stuur wat 'n ernstige velsiekte het of aan 'n geslagsiekte ly, of wat verontreinig is deur aan 'n lyk te raak.

3 Dit geld mans sowel as vrouens. Julle moet hulle buitekant die kamp uit stuur, sodat hulle nie die kamp waarin Ek onder hulle woon, verontreinig nie.”

4

Die Israeliete het toe so gemaak: hulle het die onreines uit die kamp uit gestuur, presies soos die Here vir Moses gesê het.

5

Die Here het aan Moses opdrag gegee

6 om vir die Israeliete te sê: “Wanneer iemand, man of vrou, 'n medemens benadeel en dus ontrou teenoor die Here is, is hy skuldig

7 en moet hy sy sonde bely. Hy moet die volle bedrag van die skade plus 'n vyfde daarvan teruggee aan die persoon wat hy benadeel het.

8 As die benadeelde na sy dood geen familielid het aan wie die skuld betaal kan word nie, kom die bedrag die Here toe en moet dit aan 'n priester gegee word. Afgesien hiervan moet die skuldige nog die ram voorsien waarmee die priester vir die skuldige versoening moet doen.”

9

“Die offergawes wat die Israeliete na die priester toe bring vir die diens van die Here, behoort aan die priester.

10 Die gewyde gawes wat iemand bring, bly sy eie, maar wat die priester toekom, moet aan hom gegee word.”

11

Die Here het aan Moses opdrag gegee

12 [12-15] om vir die Israeliete te sê: “As 'n man agterdogtig word, sodat hy sy vrou van ontrou verdink, moet hy haar na die priester toe bring. Dit kan wees dat die getroude vrou ontrou teenoor haar man was en met iemand anders geslagsgemeenskap gehad het sonder dat haar man daarvan weet of dat sy uitgevind is. Dit kan ook wees dat, hoewel sy oortree het, daar geen getuie teen haar is nie en sy nie betrap is nie. Dit kan ook wees dat die man agterdogtig is en sy vrou verdink hoewel sy niks verkeerds gedoen het nie. Die man moet sy vrou na die priester toe bring saam met die voorgeskrewe offer: een en 'n half kilogram garsmeel. Hy moet die meel nie met olie en wierook meng nie, omdat die offer bedoel is vir 'n geval van agterdog, 'n offer wat moet aantoon of daar oortree is.

13

14

15

16 Die priester moet haar dan nader bring en in die teenwoordigheid van die Here laat staan.

17 Die priester moet 'n erdebak met gewyde water vol maak en van die tabernakelvloer se stof daarin gooi.

18 Dan moet hy die vrou in die teenwoordigheid van die Here laat staan, haar hare losmaak en haar die voorgeskrewe offer, wat 'n offer vir die agterdog is, gee om vas te hou. Die priester moet die erdebak met water wat bittere smart en 'n vloek oor haar kan bring, self vashou.

19 Hy moet die vrou onder eed plaas en vir haar sê: As iemand anders nie met jou gemeenskap gehad het nie en jy as getroude vrou jouself nie met 'n ander man verontreinig het nie, mag jou onskuld dan bewys word deur hierdie water wat bittere smart en 'n vloek oor jou kan bring.

20 Maar as jy, as getroude vrou, ontrou was en jouself verontreinig het deurdat jy met iemand anders behalwe jou eie man gemeenskap gehad het,

21 [21-22] mag die Here dan gee dat jou eie mense jou sal vervloek en verwens. Mag Hy jou vrugbaarheid laat vergaan en jou buik laat opswel. Mag hierdie water wat die vloek veroorsaak, in jou maag kom om jou buik te laat opswel en jou vrugbaarheid te laat vergaan.

“Dit alles moet die priester sê vir die vrou wat staan onder 'n eed dat 'n vloek haar kan tref as sy skuldig is. Dan moet sy sê: ‘Amen, amen.’

22

23

“Die priester moet hierdie vervloekinge neerskrywe en die letters uitwis in die water wat bittere smart sou kan veroorsaak.

24 Hy moet die vrou van die water laat drink wat bittere smart en 'n vloek oor haar kan bring, sodat die water wat 'n vloek van bittere smart veroorsaak, in haar kan ingaan.

25 Daarna moet die priester uit haar hand die offer vat wat vir die agterdog bedoel is, dit in teenwoordigheid van die Here beweeg en dit na die altaar toe bring.

26 Die priester moet ook 'n handjievol van die graanoffer as simbool van haar hele offer vat en op die altaar verbrand, en daarna moet hy die vrou die res van die water laat drink.

27 Die water wat hy haar laat drink, sal, as sy haar verontreinig en troubreuk teenoor haar man gepleeg het, in haar ingaan en die vloek meebring wat bittere smart sal veroorsaak, en dit sal haar buik laat opswel. Haar vrugbaarheid sal vergaan en haar mense sal haar vervloek.

28 Maar as die vrou haar nie verontreinig het nie en getrou was, sal haar onskuld bewys word en sal sy kinders kan kry.

29

“Dit is dan die voorskrif vir gevalle van agterdog. As 'n vrou ontrou word aan haar man en haarself verontreinig,

30 of as 'n man agterdogtig begin raak en sy vrou verdink, moet die priester die vrou in die teenwoordigheid van die Here laat staan en met haar handel presies volgens al die bepalings van hierdie voorskrif.

31 Die man sal onskuldig wees, maar die vrou sal vir haar oortreding moet boet.”

6

1

Die Here het aan Moses opdrag gegee

2 om met die Israeliete te praat en vir hulle te sê:

“Wanneer iemand, 'n man of 'n vrou, 'n besondere nasireërgelofte aflê om hom aan die Here te wy,

3 moet hy hom weerhou van wyn en bier. Hy mag geen druiwe-asyn of ander asyn drink nie, geen druiwesap nie en ook nie druiwe of rosyntjies eet nie.

4 Die hele tydperk van sy wyding mag hy hoegenaamd niks eet wat die wingerdstok voortbring nie, selfs nie druiwepitte of -doppe nie.

5

“Vir die volle duur van sy nasireërgelofte mag hy nie sy hare of sy baard skeer nie. Hy is iemand wat vir die Here afgesonder is, en hy moet sy hare vrylik laat groei totdat die tyd van sy wyding aan die Here verby is.

6

“Gedurende die tyd van sy wyding aan die Here mag hy nie naby 'n lyk kom nie.

7 Selfs as sy pa of ma, broer of suster sterf, mag hy hom nie verontreinig deur aan hulle te raak nie, want sy hare is die teken van sy wyding aan God.

8 Solank sy nasireërgelofte van krag is, is hy afgesonder vir die Here.

9 Maar as hy hom verontreinig deur aan iemand te raak wat onverwags in sy omgewing te sterwe kom, moet hy sy hare afskeer op die dag waarop hy rein verklaar word; op die sewende dag moet hy sy hare afskeer.

10 Op die agste dag moet hy twee tortelduiwe of twee ander duiwe na die priester toe bring, by die ingang van die tent van ontmoeting.

11 Die priester moet dan een duif as 'n sondeoffer en die ander as 'n brandoffer voorberei, en daarmee vir die nasireër versoening doen vir die oortreding wat hy onbewus begaan het deur aan die lyk te raak. Op dieselfde dag moet hy begin om sy hare te laat groei.

12 Hy moet hom opnuut as nasireër aan die Here wy en 'n jaaroud lam as skuldoffer bring. Die vorige dae moet nie gereken word nie, omdat hy sy nasireërskap verontreinig het.

13

“Die voorskrif vir die nasireër wanneer die tyd van sy wyding verby is, is soos volg: Hy moet na die ingang van die tent van ontmoeting toe gaan

14 en sy offergawe aan die Here bring. Dit moet bestaan uit 'n jaaroud lam as brandoffer, 'n jaaroud ooilam as sondeoffer en 'n ram as maaltydoffer, aldrie sonder liggaamsgebrek;

15 verder 'n mandjie ongesuurde brood van fynmeel, ringbrood met olie geknie, en ongesuurde roosterkoek met olie gesmeer, met die bybehorende graanoffer en drankoffers.

16 Die priester moet die lammers aan die Here offer as die nasireër se sondeoffer en brandoffer.

17 Die priester moet die ram, saam met die ongesuurde brood in die mandjie, as maaltydoffer vir die Here aanbied, en ook die nasireër se graan- en drankoffer offer.

18 By die ingang van die tent van ontmoeting moet die nasireër sy hare, die teken van sy wyding, afskeer en dit vat en in die vuur saam met die maaltydoffer verbrand.

19

“Nadat die nasireër sy hare afgeskeer het, moet die priester die gekookte blad van die ram vat en dit, saam met 'n ongesuurde ringbrood uit die mandjie en 'n ongesuurde roosterkoek, op die nasireër se hande sit

20 en dit as 'n beweegoffer aan die Here wy. Hierdie gawes is gewy en kom die priester toe, saam met die bors van die beweegoffer en die boud wat as offergawe gebring is. Daarna is die persoon vry om wyn te drink.

21

“Dit is dan die voorskrif vir 'n nasireër wat met die oog op sy nasireërskap 'n offer aan die Here beloof het, afgesien van wat hy nog vrywillig wil bring. Hy moet noukeurig handel volgens die gelofte wat hy afgelê het. Dit is die voorskrif vir die nasireër.”

22

Die Here het vir Moses gesê:

23 “Sê vir Aäron en sy seuns: So moet julle sê wanneer julle die Israeliete seën:


24
“Die Here sal julle seën
en julle beskerm;

25
die Here sal tot julle redding verskyn
en julle genadig wees;

26
die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee!

27

“So moet die priesters my Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seën.”

7

1

Nadat Moses klaar was met die oprigting van die tabernakel het hy die tent met al sy toebehore en ook die altaar met al sy gereedskap gesalf en aan die diens van die Here gewy.

2 Die leiers van Israel, die familiehoofde en stamleiers wat die sensus opgeneem het, het offergawes gebring.

3 Hulle het as offergawes ses tentwaens en twaalf osse gebring, 'n wa namens elke twee leiers, en 'n os namens elkeen afsonderlik. Hulle het dit na die tabernakel toe gebring.

4

Die Here sê toe vir Moses:

5 “Vat hulle offergawes en gebruik dit in die diens van die tent van ontmoeting; gee dit aan die Leviete vir die werk wat elkeen van hulle moet verrig.”

6

Moses het die waens en osse ontvang en aan die Leviete gegee:

7 [7-8] twee waens en vier osse aan die Gersongroep, vier waens en ag osse aan die Merarigroep. Hulle het dit ontvang vir hulle onderskeie take, onder toesig van Itamar seun van die priester Aäron.

8

9 Moses het nie waens en osse aan die Kehatgroep gegee nie, want hulle moes die gewyde voorwerpe op hulle skouers dra.

10 Die dag toe die altaar vir gebruik gesalf is, het die leiers hulle offergawes vir die inwyding na die altaar toe gebring.

11

Die Here het vir Moses gesê: “Op elke agtereenvolgende dag moet een van die leiers sy offergawes vir die inwyding van die altaar bring.”

12

[12-83] Op die eerste dag het Nagson, seun van Amminadab uit die stam Juda, sy offergawe gebring; op die tweede dag Netanel, seun van Suar leier van Issaskar; op die derde dag Eliab, seun van Gelon leier van Sebulon; op die vierde dag Elisur, seun van Sedeür leier van Ruben; op die vyfde dag Selumiël, seun van Suri-Saddai leier van Simeon; op die sesde dag Eljasaf, seun van Reüel leier van Gad; op die sewende dag Elisama, seun van Ammihud leier van Efraim; op die agste dag Gamliël, seun van Pedasur leier van Manasse; op die negende dag Abidan, seun van Gidoni leier van Benjamin; op die tiende dag Agiëser, seun van Ammi-Saddai leier van Dan; op die elfde dag Pagiël, seun van Okran leier van Aser, en op die twaalfde dag Agira, seun van Enan leier van Naftali.

Elke leier het die volgende offergawes gebring: een silwerskottel met 'n gewig van een en 'n half kilogram, een silwerkom van ag honderd gram, albei volgens die standaardgewig van die heiligdom en vol meel met olie gemeng as graanoffer; een goue pannetjie van honderd en vyftien gram, vol wierook; een jong bul, een ram en een jaaroud lam as brandoffers; een bokram as sondeoffer; en twee osse, vyf ramme, vyf bokramme en vyf jaaroud lammers as maaltydoffers.

13

14

15

16

17

18

19

20

21

22

23

24

25

26

27

28

29

30

31

32

33

34

35

36

37

38

39

40

41

42

43

44

45

46

47

48

49

50

51

52

53

54

55

56

57

58

59

60

61

62

63

64

65

66

67

68

69

70

71

72

73

74

75

76

77

78

79

80

81

82

83

84

Die offergawes wat die leiers van Israel gebring het toe die altaar ingewy is, was altesaam twaalf silwerskottels, twaalf silwerkomme en twaalf goue pannetjies.

85 Elke skottel het een en 'n half kilogram geweeg en elke kom ag honderd gram. Die silwer van al die gereedskap het ag en twintig kilogram geweeg volgens die standaardgewig van die heiligdom.

86 Die twaalf goue pannetjies vol wierook het elkeen honderd en vyftien gram geweeg volgens die standaardgewig van die heiligdom. Al die goud van die pannetjies was byna een en 'n half kilogram.

87 Daar was twaalf bulle, twaalf ramme, twaalf jaaroud lammers vir die brandoffer saam met hulle graanoffers en twaalf bokramme as sondeoffer.

88 Al die vee vir die maaltydoffers was vier en twintig bulle, sestig ramme, sestig bokramme en sestig jaaroud lammers. Dit was die offergawes vir die inwyding van die altaar nadat dit gesalf is.

89

Telkens wanneer Moses in die tent van ontmoeting ingegaan het om met die Here te praat, het hy die stem van die Here met hom hoor praat. Die stem het van die deksel af gekom tussen die twee gerubs uit, die deksel op die ark waarin die getuienis was. So het die Here met Moses gepraat.

8

1

Die Here het vir Moses gesê:

2 “Praat met Aäron en sê vir hom: As jy die lampies van die kandelaar vassit, moet hulle al sewe na die voorkant toe lig gee.”

3

Aäron het toe so gemaak soos die Here vir Moses beveel het, en die lampies aan die voorkant van die kandelaar vasgesit.

4 Die kandelaar is so gemaak: van die voetstuk af tot by die kroonblare is dit van geslae goud. Aäron het dit gemaak volgens die model wat die Here vir Moses gewys het.

5

Die Here het vir Moses gesê:

6 “Sonder die Leviete van die res van die Israeliete af en reinig hulle.

7 Jy moet hulle soos volg reinig: sprinkel reinigingswater oor hulle en laat hulle hulle hele liggaam kaalskeer en hulle klere was. So moet hulle hulleself reinig.

8 Dan moet hulle 'n jong bul vat, met die graanoffer van meel met olie gemeng wat daarby hoort; 'n tweede jong bul moet jy as sondeoffer vat.

9 Jy moet die Leviete dan nader bring voor die tent van ontmoeting en die hele gemeente van Israel daar bymekaar laat kom.

10 Jy moet die Leviete nader bring voor My, die Here, en daar moet die Israeliete hulle hande op die Leviete lê.

11 Aäron moet dan die Leviete as 'n beweegoffer van die Israeliete aan My wy sodat hulle die werk in my diens kan verrig.

12

“Die Leviete moet hulle hande op die koppe van die twee bulle sit. Die een bul moet as sondeoffer en die ander as brandoffer vir My, die Here, berei word, om vir die Leviete versoening te doen.

13 Jy moet die Leviete in diens van Aäron en sy seuns stel en as 'n beweegoffer aan My wy.

14 Jy moet hulle van die res van die Israeliete afsonder dat hulle aan My kan behoort.

15 Nadat jy die Leviete gereinig en as beweegoffer aan My gewy het, moet hulle die diens in die tent van ontmoeting gaan behartig.

16 Van alle Israeliete behoort die Leviete in 'n besondere sin aan My, want Ek het hulle in die plek van al Israel se eersgebore seuns as my besondere eiendom vir My opgeëis.

17 Toe Ek al die eersgeborenes in Egipte getref het, het Ek die eersgeborenes van mens en dier in Israel vir My afgesonder.

18 Die Leviete het Ek toe in die plek van Israel se eersgebore seuns geneem.

19 Uit al die Israeliete gee Ek die Leviete nou as 'n gawe aan Aäron en sy seuns om namens die Israeliete die diens in die tent van ontmoeting te behartig en om vir hulle versoening te doen sodat geen ramp die Israeliete sal tref as hulle te naby aan die heiligdom kom nie.”

20

Moses, Aäron en die hele gemeente van Israel het toe met die Leviete presies gemaak soos die Here vir Moses in verband met hulle beveel het. So het die Israeliete met hulle gedoen.

21 Die Leviete het hulleself gereinig en hulle klere gewas, en Aäron het hulle as 'n beweegoffer aan die Here gewy. Aäron het ook vir hulle sondes versoening gedoen en hulle so gereinig.

22 Die Leviete het toe onder toesig van Aäron en sy seuns hulle ampswerk in die tent van ontmoeting gaan verrig, soos die Here vir Moses aangaande hulle beveel het. So het die Israeliete met die Leviete gedoen.

23

Die Here het vir Moses gesê:

24 “Wat die Leviete betref, hulle moet vyf en twintig jaar of ouer wees voordat hulle hulle ampsplig in die tent van ontmoeting kan kom vervul.

25 As 'n Leviet egter vyftig jaar oud is, moet hy sy amp neerlê en mag hy nie verder dien nie.

26 Hy mag sy mede-Leviete nog met hulle ampswerk in die tent van ontmoeting behulpsaam wees, maar self mag hy die diens nie behartig nie.

“So moet jy die ampspligte van die Leviete reël.”

9

1

Die Here het met Moses gepraat. Dit was in die Sinaiwoestyn, die eerste maand van die tweede jaar ná die uittog uit Egipte. Hy het vir hom gesê:

2 [2-3] “Op die vasgestelde tyd, teen sonsondergang, op die veertiende dag van hierdie maand, moet die Israeliete die paasfees vier. Julle moet dit doen op die vasgestelde tyd volgens die voorskrifte en bepalings wat daarvoor geld.”

3

4

Moses het die Israeliete toe opdrag gegee om die paasfees te vier.

5 Hulle het dit gedoen in die Sinaiwoestyn teen sonsondergang op die veertiende dag van die eerste maand, presies soos die Here vir Moses beveel het. So het die Israeliete gedoen.

6

Maar daar was persone wat die paasfees nie op daardie dag kon vier nie omdat hulle aan 'n lyk geraak het en dus onrein was. Hierdie manne het dieselfde dag nog na Moses en Aäron toe gekom en vir hulle gesê:

7 “Ons is onrein, want ons het aan 'n lyk geraak, maar waarom word ons daarvan weerhou om op die bestemde tyd saam met die ander Israeliete 'n offergawe aan die Here te bring?”

8

Moses het toe vir hulle gesê: “Wag tot ek verneem het wat die Here oor julle beveel.”

9

Die Here het toe vir Moses gesê: “Praat met die Israeliete en sê vir hulle:

10 As een van julle of julle nakomelinge deur 'n lyk onrein is, of op 'n ver reis is, mag hy nogtans die paasfees vir die Here vier.

11 Maar dan moet hulle dit in die tweede maand, op die veertiende van die maand, teen sonsondergang vier. Hulle moet die paaslam eet saam met die ongesuurde brood en bitter kruie.

12 Hulle mag niks daarvan tot die volgende môre laat oorbly nie en hulle mag ook geen been van die lam breek nie. Hulle moet die paasfees stiptelik volgens al sy voorskrifte vier.

13 Maar as 'n persoon rein is en nie op reis is nie en nogtans in gebreke bly om die paasfees op die gewone tyd te vier, moet hy van sy volksgenote afgesny word omdat hy nagelaat het om 'n offergawe op die bestemde tyd aan die Here te bring. Dié man moet die gevolge van sy sonde dra.

14

“As 'n vreemdeling wat by julle woon, die paasfees vir die Here wil vier, moet hy dit volgens die bestaande voorskrifte en bepalings doen. Een en dieselfde voorskrif geld vir julle almal: vir die vreemdeling en vir die landsburger.”

15

Die dag toe die tabernakel, die tent met die getuienis, opgerig is, het 'n wolk dit oordek. In die aand het die wolk oor die tabernakel soos vuur geword en dit het so gebly tot die môre toe.

16 So was dit deurentyd. Die wolk het die tabernakel oordek en snags was dit soos vuur.

17 Elke keer nadat die wolk van die tent af opgetrek het, het die Israeliete weggetrek, en op die plek waar die wolk afkom, daar het die Israeliete kamp opgeslaan.

18 Op bevel van die Here het die Israeliete weggetrek, en op sy bevel het hulle kamp opgeslaan; gedurende die hele tyd dat die wolk op die tabernakel gerus het, het hulle in die kamp gebly.

19 Wanneer die wolk 'n geruime tyd op die tabernakel gerus het, het die Israeliete die diens van die Here waargeneem en nie weggetrek nie.

20 Soms het die wolk net 'n paar dae op die tabernakel gerus. Wat die geval ook al was, op die bevel van die Here het hulle kamp opgeslaan en op sý bevel het hulle weggetrek.

21 Soms was die wolk net van die aand af tot die volgende môre toe daar, en as dit dan in die môre optrek, het die volk weggetrek. Of dit bedags of snags was, as die wolk optrek, het hulle weggetrek.

22 As die wolk 'n paar dae of 'n maand of 'n jaar of langer op die tabernakel rus, het die Israeliete in die kamp gebly en nie weggetrek nie, maar sodra dit optrek, het hulle weggetrek.

23 Op die bevel van die Here het hulle kamp opgeslaan en op sy bevel het hulle weggetrek. Hulle het die diens van die Here onderhou soos die Here deur middel van Moses beveel het.

10

1

Die Here het vir Moses gesê:

2 “Maak nou twee trompette van geslae silwer, en gebruik dit om die vergadering bymekaar te roep en om die kamp te laat opbreek.

3 Wanneer julle op albei blaas, moet die hele vergadering by jou bymekaarkom by die ingang van die tent van ontmoeting.

4 Maar as net op een geblaas word, moet net die leiers, die familiehoofde van Israel, by jou bymekaarkom.

5 As julle die eerste keer hard blaas, moet die stamme wat aan die oostekant kampeer, vertrek.

6 As julle 'n tweede keer hard blaas, moet die stamme aan die suidekant vertrek. As daar hard geblaas word, sal hulle weet om te vertrek.

7 Om die vergadering bymekaar te roep, moet julle die trompette blaas, maar julle moet nie hard blaas nie.

8 Aäron se seuns, die priesters, moet die trompette blaas. Dit moet vir julle en julle nageslag 'n vaste instelling wees.

9 As julle in julle land wil gaan veg teen 'n vyand wat julle verdruk, moet julle hard op die trompette blaas. Ek, die Here julle God, sal dan op julle ag slaan en julle van julle vyande red.

10 Ook op 'n dag van vreugde of op julle vasgestelde feestye of aan die begin van julle nuwemaansfeeste moet julle by julle brandoffers en maaltydoffers op die trompette blaas. Dit sal My, julle God, aan julle herinner. Ek is die Here julle God.”

11

In die tweede jaar, op die twintigste van die tweede maand, het die wolk opgetrek van die tabernakel met die getuienis af.

12 Die Israeliete het hulle reis toe van die Sinaiwoestyn af verder voortgesit, totdat die wolk in die Paranwoestyn gaan staan het.

13 Hulle het begin trek op bevel van die Here deur Moses.

14 Die vaandel van die afdelings onder leiding van die stam Juda het eerste vertrek. Nagson seun van Amminadab was hier in bevel.

15 Netanel seun van Suar was in bevel van die afdeling van die stam Issaskar,

16 en Eliab seun van Gelon was oor die afdeling van die stam Sebulon.

17

Daarna is die tabernakel afgebreek, en het die Gersongroep en die Merarigroep wat dit moes dra, ook vertrek.

18

Die volgende wat vertrek het, was die vaandel van die afdelings onder leiding van die stam Ruben. Elisur seun van Sedeür was in bevel van hierdie afdeling.

19 Selumiël seun van Suri-Saddai was in bevel van die afdeling van die stam Simeon,

20 en Eljasaf seun van Reüel was oor die afdeling van die stam Gad.

21

Daarna het die Kehatgroep vertrek. Hulle het die gewyde voorwerpe gedra. Die tabernakel moes opgerig wees teen die tyd dat hulle daar aankom.

22

Ná hulle het die vaandel van die afdelings onder leiding van die stam Efraim vertrek. Elisama seun van Ammihud was in bevel van hierdie afdeling.

23 Gamliël seun van Pedasur was in bevel van die afdeling van die stam Manasse,

24 en Abidan seun van Gidoni oor die afdeling van die stam Benjamin.

25

Die volgende wat vertrek het, was die vaandel van die afdelings onder leiding van die stam Dan wat die agterhoede van al die afdelings gevorm het. Agiëser seun van Ammi-Saddai was in bevel van hierdie afdeling.

26 Pagiël seun van Okran was in bevel van die afdeling van die stam Aser,

27 en Agira seun van Enan oor die afdeling van die stam Naftali.

28

Dit was die volgorde waarin die afdelings van Israel op hulle reis vertrek het.

29

Moses het vir Gobab seun van sy skoonpa Reüel, die Midianiet, gesê: “Ons trek na die land waarvan die Here gesê het: ‘Ek sal dit aan julle gee.’ Kom saam met ons. Ons sal jou goed behandel, want die Here het goeie dinge aan Israel beloof.”

30 Maar Gobab het vir Moses gesê: “Ek sal nie saam gaan nie, ek sal teruggaan na my eie land en familie toe.”

31

Moses het toe by hom aangedring: “Moet ons tog nie verlaat nie. Jy ken die plekke in die woestyn waar ons kamp kan opslaan, en jy moet ons gids wees.

32 As jy met ons saam kom, sal ons die goeie dinge wat die Here aan ons gee, met jou deel.”

33

Die Israeliete het van die berg van die Here af weggetrek, drie dagreise ver. Die verbondsark van die Here het gedurende die drie dae voor hulle uit getrek om vir hulle 'n plek te vind waar hulle kon oorbly.

34 Die wolk van die Here was bedags oor hulle as hulle van die kampplek af wegtrek.

35

Elke keer wanneer die ark vertrek, het Moses gesê:

“Trek op, Here,
verstrooi u vyande!
Laat hulle wat vir U haat,
voor U wegvlug!”

36

En wanneer die ark neergesit word, sê Moses:

“Kom terug, Here,
na die ontelbare menigtes van Israel toe.”

11

1

Dit het sleg gegaan met die volk, en hulle het die Here daaroor verwyt. Toe die Here dit hoor, het Hy kwaad geword en vuur onder hulle in gestuur. Dit het 'n deel van die kamp verbrand.

2 Die volk het hulle nood by Moses gekla, en hy het tot die Here gebid, en die vuur het doodgegaan.

3 Hulle het die plek Tabera genoem, omdat die vuur van die Here onder hulle gebrand het.

4

Die mense van ander afkoms wat saam met die Israeliete getrek het, het 'n onweerstaanbare lus vir vleis gekry, en toe het die Israeliete self ook begin kla en gesê: “As ons tog net vleis gehad het om te eet!

5 Ons onthou nog die vis wat ons in Egipte verniet kon eet, ook die komkommers, waatlemoene, prei, uie en knoffel.

6 Maar nou wurg ons. Daar is niks behalwe hierdie manna voor ons nie!”

7

Die manna was soos koljandersaad en het gelyk soos balsemgom.

8 Die volk het die manna oral vandaan bymekaargemaak, dit op maalklippe gemaal of in vysels gestamp en dan in panne gebak of roosterkoeke daarvan gemaak. Dit het soos oliekoeke gesmaak.

9

Die manna het snags saam met die dou by die kamp geval.

10

Moses het die volk hoor kla, elke familie by die ingang van sy tent. Die Here het hieroor baie kwaad geword, en dit was ook verkeerd in Moses se oë.

11 Moses sê toe vir die Here: “Waarom behandel U my so sleg, waarom is U my nie goedgesind nie, dat U die verantwoordelikheid vir hierdie hele volk op my gelaai het?

12 Het ek dan swanger geword en hierdie hele volk in die wêreld gebring, dat U vir my sê: ‘Dra hulle aan jou bors soos 'n oppasser met 'n suigeling doen, en bring hulle na die land toe wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het’?

13 Waar sal ek die vleis vandaan haal om aan hierdie hele volk te gee, hulle wat by my kla en sê: ‘Gee vir ons vleis dat ons kan eet!’

14 Ek sien nie langer kans om hierdie hele volk alleen te dra nie, want dit is te swaar vir my.

15 As U so met my wil maak, kan U my gerus maar om die lewe bring as U my goedgesind is. Hierdie slegte behandeling kan ek nie meer verduur nie.”

16

Die Here het vir Moses gesê: “Bring vir My sewentig van Israel se leiers, mense van wie jy weet dat hulle leiers en ampsdraers van die volk is. Neem hulle na die tent van ontmoeting toe en laat hulle daar by jou staan.

17 Ek sal dan afkom en daar met jou praat, en Ek sal van die Gees wat op jou is, op hulle laat kom. Hulle sal dan saam met jou die verantwoordelikheid vir die volk dra, sodat jy dit nie alleen hoef te doen nie.

18 Vir die volk moet jy sê: Reinig julle vir môreoggend, dan sal julle vleis eet. Die Here het gehoor hoe julle kla en sê: ‘As ons tog net vleis gehad het om te eet; in Egipte was dit vir ons goed!’ Die Here sal vir julle vleis gee, en julle sal eet!

19 Julle sal nie net een dag of twee of vyf of tien of twintig dae eet nie,

20 maar 'n hele maand lank, totdat julle daarvan naar word en daarvan walg, omdat julle die Here wat by julle is, getart het, en Hom verwyt het met die woorde: Waarom is ons tog uit Egipte weg?”

21

Moses het toe gesê: “Hier is ek tussen ses honderd duisend mense, almal te voet, en U sê U sal vir hulle vleis gee, sodat hulle 'n hele maand lank daarvan kan eet!

22 Sal daar genoeg skape en beeste vir hulle geslag kan word? Sal hulle genoeg hê as al die vis in die see vir hulle gevang word?”

23

Maar die Here het vir Moses gesê: “Dink jy Ek het nie die mag nie? Jy sal nou self sien of my woord bewaarheid word of nie.”

24

Moses het vir die volk gaan vertel wat die Here gesê het. Hy het sewentig leiers van die volk bymekaar laat kom en hulle rondom die tent laat staan.

25 Die Here het toe in die wolk afgekom, met Moses gepraat en 'n deel van die Gees wat op Moses was, op die sewentig laat kom. Toe die Gees op hulle kom, het hulle as profete begin optree, maar daarna nie meer nie.

26

Twee van die manne onder dié wat opgeskryf was, het nie na die tent toe uitgegaan nie, maar het in die kamp agtergebly. Die een se naam was Eldad en die ander s'n Medad. Terwyl die Gees op hulle gerus het, het hulle in die kamp as profete opgetree.

27

'n Jongman het toe gehardloop en vir Moses gaan vertel: “Eldad en Medad tree as profete op in die kamp!”

28

Josua seun van Nun, van jongs af Moses se assistent, het gesê: “Laat hulle tog ophou, Meneer!”

29

Maar Moses sê vir hom: “Bekommer jy jou oor my posisie? Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here profete was, en dat Hy sy Gees op almal mag lê.”

30

Daarna het Moses en die leiers na die kamp toe teruggegaan.

31

Die Here het toe 'n wind gestuur en dit het kwartels van die see se kant af aangebring en hulle rondom die kamp laat val, omtrent 'n dagreis ver na alle kante toe en omtrent 'n meter diep op die grond.

32 Die volk het daardie hele dag en die hele nag en ook die volgende dag uitgegaan en kwartels bymekaargemaak. Elkeen het minstens 'n ton vleis bymekaargemaak en dit rondom die kamp oopgegooi.

33 Die vleis was nog tussen hulle tande, hulle het nog nie begin kou nie, toe ontvlam die toorn van die Here teen die volk. Hy het baie van hulle om die lewe gebring.

34 Hulle het dié plek Kibrot-Taäwa genoem, omdat hulle die gulsige mense daar begrawe het.

35 Van Kibrot-Taäwa af het die volk na Gaserot toe weggetrek en daar gebly.

12

1

Mirjam en Aäron het vir Moses aangespreek oor die Kussitiese vrou wat hy gevat het, want hy het met 'n Kussitiese vrou getrou.

2 “Het die Here dan net deur Moses gepraat,” wou hulle ook nog weet, “en nie ook deur ons nie?”

Die Here het dit gehoor.

3

Moses was 'n uiters sagmoedige man, meer as enigiemand anders op die aarde.

4

Die Here het onmiddellik vir Moses, Aäron en Mirjam gesê: “Gaan julle aldrie na die tent van ontmoeting toe!” En hulle drie het gegaan.

5 Die Here het toe in 'n wolk afgekom, by die ingang van die tent gaan staan en Aäron en Mirjam nader geroep. Toe hulle twee nader kom,

6 het die Here gesê:

“Luister na wat Ek sê:
As daar 'n profeet van die Here onder julle is,
maak Ek My aan hom bekend deur visioene
en praat Ek met hom in drome.

7
Maar met my dienaar Moses is dit anders.
Hy is die betroubaarste in my diens.

8
Met hóm praat Ek direk en persoonlik,
nie in raaisels nie.
Hy sien selfs die gestalte van die Here.
Waarom was julle dan nie bang
om só met my dienaar Moses te praat nie?”

9

Die toorn van die Here het teen hulle ontvlam en Hy het van hulle af weggegaan.

10 Toe die wolk van die tent af optrek, staan Mirjam daar melaats soos sneeu. Toe Aäron na Mirjam toe draai, is sy melaats.

11 Hy het vir Moses gesê: “Asseblief, Meneer, moet tog nie die sonde wat ons in dwaasheid begaan het, teen ons hou nie.

12 Laat sy tog nie wees soos 'n doodgebore kind waarvan die liggaam by geboorte al halfpad verteer is nie.”

13

Toe het Moses die Here aangeroep en gesê: “Maak haar tog gesond, o God!”

14

Die Here het vir Moses geantwoord: “As haar pa haar in die gesig gespoeg het, sou dit nie vir sewe dae lank vir haar 'n skande gewees het nie? Laat sy dan nou sewe dae lank uit die kamp uitgesluit word, en daarna kan sy terugkom.”

15

Hulle het Mirjam toe sewe dae lank uit die kamp uitgesluit, en die volk het nie verder getrek voordat sy teruggekom het nie.

16 Daarna het die volk van Gaserot af weggetrek en in die Paranwoestyn kamp opgeslaan.

13

1

Die Here het vir Moses gesê:

2 “Stuur manne om Kanaän, wat Ek aan die Israeliete sal gee, te verken. Uit elke voorvaderlike stam moet jy een stuur wat 'n leier onder hulle is.”

3

Op die bevel van die Here het Moses hulle toe van die Paranwoestyn af uitgestuur. Al die manne was leiers onder die Israeliete.

4

Hulle was

Sammua, seun van Sakkur uit die stam Ruben,

5

Safat, seun van Gori uit die stam Simeon,

6

Kaleb, seun van Jefunne uit die stam Juda,

7

Jigal, seun van Josef uit die stam Issaskar,

8

Hosea, seun van Nun uit die stam Efraim,

9

Palti, seun van Rafu uit die stam Benjamin,

10

Gaddiël, seun van Sodi uit die stam Sebulon,

11

Gaddi, seun van Susi uit die stam Manasse, 'n Josefstam,

12

Ammiël, seun van Gemalli uit die stam Dan,

13

Setur, seun van Migael uit die stam Aser,

14

Nagbi, seun van Wofsi uit die stam Naftali, en

15

Geüel, seun van Maki uit die stam Gad.

16

Dit is die name van die manne vir wie Moses gestuur het om die land te verken. Moses het aan Hosea seun van Nun die naam Josua gegee.

17

Moses het hulle gestuur om Kanaän te verken, en vir hulle gesê: “Trek deur die Suidland en op na die bergwêreld toe.

18 Bekyk die land, hoe dit is, en of die mense wat daar woon, sterk of swak, min of baie is,

19 of die land waarin hulle woon, goed of sleg is, en of die mense se stede oop of versterk is,

20 of die grond vrugbaar of skraal is, of dit bome het of nie. Doen julle bes om van die land se vrugte saam te bring.”

Dit was juis die tyd van die eerste ryp druiwe.

21

Hulle het toe die land gaan verken, van die Sinwoestyn af tot by Regob, by Lebo-Hamat.

22 Hulle het deur die Suidland getrek en by Hebron gekom, waar Agiman, Sesai en Talmai, afstammelinge van Enak, gewoon het. Hebron is reeds sewe jaar voor die Egiptiese stad Soan gebou.

23

Toe hulle by Eskolspruit kom, het hulle daar 'n rank met een druiwetros afgesny. Twee van hulle het dit aan 'n stok gedra, saam met 'n paar granate en vye.

24 As gevolg van die tros wat die Israeliete daar afgesny het, het hulle die plek Eskolspruit genoem.

25 Nadat hulle die land veertig dae lank verken het, het hulle teruggegaan.

26

Die verkenners het toe by Moses en Aäron en die hele vergadering van die Israeliete by Kades in die Paranwoestyn aangekom. Daar het hulle aan Moses-hulle en aan die hele vergadering verslag gedoen en vir hulle die vrugte van die land gewys.

27 Hulle het aan Moses gerapporteer en gesê: “Ons het in die land gekom waarheen u ons gestuur het. Dit loop oor van melk en heuning, en hier is van sy vrugte.

28 Maar die mense wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot. Ons het ook die nasate van Enak daar gesien.

29 Die Amalekiete woon in die Suidland, die Hetiete, Jebusiete en Amoriete in die Bergwêreld, en die Kanaäniete by die see en langs die Jordaan.”

30

Kaleb het egter die manne wat met Moses praat, stilgemaak en gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.”

31

Maar die manne wat saam met hom gegaan het, het gesê: “Nee, ons kan nie teen daardie mense optrek nie, want hulle is sterker as ons.”

32

Die manne het toe 'n slegte gerug onder die Israeliete versprei oor die land wat hulle verken het. Hulle het gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is 'n land wat die lewe vir sy inwoners onmoontlik maak, en die mense wat ons daarin gesien het, is almal baie groot.

33 Ons het daar ook die reuse gesien. Die Enakiete stam van hulle af. Ons was soos sprinkane in ons eie oë, en so was ons ook in hulle oë.”

14

1

Daardie nag het die hele volksvergadering aanhoudend gekla.

2 Al die Israeliete was in verset teen Moses en Aäron, en die hele vergadering het vir hulle gesê: “As ons maar in Egipte of in hierdie woestyn gesterf het!

3 Waarom het die Here ons na hierdie land toe gebring? Net om doodgemaak te word? Ons vrouens en kinders sal krygsgevangenes word. Is dit nie vir ons beter om na Egipte toe terug te gaan nie?”

4

Hulle het toe vir mekaar gesê: “Kom ons kies 'n leier en gaan terug Egipte toe!”

5

Moses en Aäron het toe voor die hele vergadering van Israeliete wat daar saam was, op hulle knieë geval.

6 Ook het Josua seun van Nun, en Kaleb seun van Jefunne, manne wat saam die land verken het, hulle klere geskeur,

7 en vir die hele vergadering Israeliete gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is 'n buitengewoon goeie land.

8 As die Here ons goedgesind is, sal Hy ons na hierdie land toe bring en dit aan ons gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning.

9 Julle moet net nie teen die Here in opstand kom nie. Moet ook nie vir die mense van die land bang wees nie, want ons sal hulle maklik verslaan. Hulle gode sal hulle nie kan beskerm nie. Die Here is by ons. Moenie vir hulle bang wees nie!”

10

Maar die hele vergadering het gedreig om vir Josua en Kaleb met klippe dood te gooi.

Toe het die magtige teenwoordigheid van die Here by die tent van ontmoeting vir al die Israeliete sigbaar geword.

11 Die Here het vir Moses gesê: “Hoe lank sal hierdie volk my almag bly onderskat? Hoe lank sal hulle weier om op My te vertrou ten spyte van al die wonders wat Ek onder hulle gedoen het?

12 Ek gaan hulle tref met die pes en hulle uitroei, en dan sal Ek jou 'n volk maak, groter en sterker as hulle!”

13

[13-14] Maar Moses het vir die Here gesê: “Die Egiptenaars sal dit hoor en dit vir die inwoners van hierdie land vertel. Dit is tog U wat hierdie volk deur u mag uit Egipte laat wegtrek het, en die inwoners van hierdie land het reeds gehoor dat U, Here, onder hierdie volk is, dat U duidelik waarneembaar verskyn het, dat u wolk oor hulle is, en dat U bedags in 'n wolkkolom en snags in 'n vuurkolom voor hulle uit gaan.

14

15 As U hierdie volk soos een man om die lewe bring, sal die nasies wat van u dade gehoor het, sê:

16 ‘Die Here was nie in staat om hierdie volk in te bring in die land wat Hy met 'n eed aan hulle beloof het nie, daarom het Hy hulle in die woestyn omgebring.’

17

“Laat u groot mag nou bekend word, Here, soos U gesê het:

18 ‘Ek, die Here, is lankmoedig en vol liefde; Ek vergewe ongeregtigheid en oortreding, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.’

19 Vergewe dan tog die sonde van hierdie volk in u groot liefde, soos U hulle van Egipte af tot hiertoe vergewe het!”

20

Toe het die Here geantwoord: “Ek vergewe hulle, soos jy gevra het.

21 Nogtans, so seker as Ek leef en die hele aarde vol sal word van my magtige teenwoordigheid,

22 nie een van die manne wat my mag en die wonders wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, gesien het, en wat My nou oor en oor getart het en nie na my woorde geluister het nie,

23 sal die land wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het, sien nie. Nie een van hulle wat My geminag het, sal die land sien nie.

24 Maar omdat my dienaar Kaleb 'n ander gesindheid het en My getrou gevolg het, sal Ek hom inbring in die land wat hy gaan verken het, en sy nageslag sal dit besit.

25

“Die Amalekiete en die Kanaäniete woon in die laagte. Draai môre om en trek weg na die woestyn toe met die Rietseepad.”

26

Die Here het vir Moses en Aäron gesê:

27 “Hoe lank sal hierdie slegte volk nog aanhou met hulle verset teen My? Ek het opgemerk hoe die Israeliete hulle teen My verset.

28 Sê vir hulle: ‘So seker as Ek leef,’ sê die Here, ‘Ek sal met julle maak soos Ek julle hoor sê het.

29 In hierdie selfde woestyn sal die lyke bly lê van julle almal van twintig jaar en ouer wat in die sensus opgeneem is en wat teen My in verset gekom het.

30 Nie een van julle sal die land betree wat Ek met 'n eed aan julle as woonplek beloof het nie, behalwe Kaleb seun van Jefunne, en Josua seun van Nun.

31 En wat julle kinders betref, van wie julle gesê het dat hulle krygsgevangenes sal word, vir hulle sal Ek inbring, en hulle sal die land wat deur julle verwerp is, lief kry.

32 Maar julle lyke sal in hierdie woestyn bly lê.

33 Julle kinders sal veertig jaar lank in die woestyn rondtrek. Hulle sal die gevolge van julle ontrou moet dra totdat julle almal se lyke in die woestyn lê.

34 Julle het die land veertig dae lank verken. Julle sal veertig jaar, een jaar vir elke dag, die gevolge van julle ongeregtigheid moet dra. Dan sal julle besef wat dit beteken om My teen julle te hê.’

35 Ek, die Here, het dit gesê, Ek sal dit beslis doen aan hierdie slegte volk wat teen My saamgespan het: hulle sal in hierdie woestyn omkom en hier sterf.”

36

Die manne vir wie Moses gestuur het om die land te verken en wat ná hulle terugkoms die hele volk teen Moses in verset laat kom het deur die slegte gerug oor die land te versprei,

37 almal wat vir die slegte gerug oor die land verantwoordelik was, het gesterwe deur 'n plaag wat deur die Here gestuur is.

38 Van die manne wat die land gaan verken het, het net Josua seun van Nun, en Kaleb seun van Jefunne bly lewe.

39

Toe Moses vir al die Israeliete sê wat die Here gesê het, het die volk begin kerm en huil.

40 Hulle het toe die oggend vroeg klaargemaak en na die hoë Bergland toe begin trek. “Ons was verkeerd,” het hulle gesê, “ons wil nou optrek na die plek toe wat die Here beloof het.”

41

Maar Moses het gesê: “Waarom oortree julle die bevel van die Here? Julle sal nie die land verower nie.

42 Moenie gaan nie, want die Here is nie by julle nie. Julle sal deur julle vyande verslaan word,

43 want die Amalekiete en Kanaäniete sal julle daar inwag, en julle sal om die lewe gebring word. Die Here sal nie by julle wees nie, omdat julle van Hom af weggedraai het.”

44

Hulle was egter vermetel genoeg om tog na die hoë Bergland toe te begin trek. Maar Moses en die verbondsark van die Here het nie die kamp verlaat nie.

45 Die Amalekiete en Kanaäniete wat in daardie Bergland woon, het afgekom en hulle verslaan en uitmekaar gejaag tot by Gorma.

15

1

Die Here het vir Moses gesê:

2 “Sê vir die Israeliete: As julle in die land kom wat Ek vir julle as woonplek gee,

3 en julle vir My, die Here, van julle beeste of kleinvee 'n vuuroffer wil aanbied wat vir My aanvaarbaar is, 'n brandoffer of 'n ander diereoffer om 'n gelofte te betaal of as vrywillige offer, of by julle feestye,

4 dan moet die een wat sy offer bring, vir My ook 'n graanoffer bring van een en 'n half kilogram meel, gemeng met een liter olie.

5

“Saam met elke lam wat as brandoffer of ander diereoffer gebring word, moet jy 'n liter wyn as drankoffer aanbied.

6

“Vir 'n ram moet jy 'n graanoffer aanbied van drie kilogram meel, gemeng met een en 'n derde liter olie,

7 en daarby een en 'n derde liter wyn as drankoffer. Jy moet dit bring dat dit vir My, die Here, aanvaarbaar is.

8

“As jy 'n jong bul as brandoffer of ander diereoffer aanbied om 'n gelofte te betaal of as ander maaltydoffer aan My,

9 moet jy by die bul vier en 'n half kilogram meel, gemeng met twee liter olie, as graanoffer bring.

10 Bring ook ongeveer twee liter wyn as drankoffer.

“So sal dit 'n vuuroffer wees wat deur My, die Here, aanvaar word.

11 Elke bul, elke ram of lam van skape of bokke moet so aangebied word.

12 Julle moet so maak met elke dier wat julle as vuuroffer aanbied.

13 Elke landsburger wat 'n vuuroffer wil aanbied, wat deur My, die Here, aanvaar word, moet dit op dieselfde manier doen.

14 'n Vreemdeling wat by julle woon, of iemand wat reeds vir geslagte onder julle is, moet ook 'n vuuroffer aanbied wat deur My aanvaar word. Hy moet presies dieselfde doen as julle.

15 Daar moet in die gemeente dieselfde voorskrif wees vir julle en vir die vreemdeling wat by julle woon. Dit is 'n vaste voorskrif vir julle nageslag dat die vreemdeling net soos julle moet wees voor die Here.

16 Een en dieselfde wet en bepaling moet op julle en op die vreemdeling wat by julle woon, van toepassing wees.”

17

Die Here het ook vir Moses gesê:

18 “Sê vir die Israeliete: As julle in die land kom waarheen Ek julle bring,

19 en julle eet van die land se brood, moet julle 'n offergawe vir My bring.

20 Offer 'n ringbrood van julle eerste growwe meel, en bied dit aan as 'n offergawe van julle dorsvloer af. So moet julle dit offer.

21 Al julle geslagte moet altyd weer 'n offergawe van die eerste growwe meel aan My gee.”

22

“Dit kan gebeur dat julle onopsetlik sondig en nie handel volgens al die gebooie wat Ek, die Here, aan Moses gegee het nie,

23 dat julle nie handel volgens alles wat Ek julle deur Moses beveel het van die dag af waarop Ek dit gegee het en verder in julle nageslagte nie.

24 As dit onopsetlik gedoen is sonder dat die gemeente daarvan bewus was, moet die hele gemeente 'n jong bul as brandoffer berei wat deur My, die Here, aanvaar word. Hulle moet dit berei saam met die voorgeskrewe graan- en drankoffer, en 'n bokram as sondeoffer.

25 Die priester moet vir die hele gemeente van Israel versoening doen, en hulle sal vergewe word, want dit was onopsetlik, en hulle het vir hulle onopsetlike sonde hulle vuuroffer en hulle sondeoffer vir My gebring.

26 Die hele gemeente van Israel en die vreemdeling wat by hulle woon, sal vergewe word, want hulle het onopsetlik gesondig.

27 As een persoon onopsetlik sondig, moet hy 'n jaaroud bokooi as sondeoffer bring.

28 Die priester moet vir die persoon wat onopsetlik gesondig het, voor My versoening doen, en as die versoening vir hom gedoen is, sal die sonde hom vergewe word.

29 Een en dieselfde wet geld vir elkeen wat onopsetlik gesondig het, of hy 'n gebore Israeliet is of 'n vreemdeling wat by julle woon.

30

“Maar die landsburger of vreemdeling wat moedswillig sondig, doen My, die Here, oneer aan en hy moet van sy volk afgesny word.

31 Omdat hy die woord van die Here verag het en sy gebooie verbreek het, moet so iemand doodgemaak word; hy moet die straf vir sy sonde dra.”

32

Terwyl die Israeliete in die woestyn was, het hulle 'n man gekry wat op die sabbat hout bymekaarmaak.

33 Die mense wat hom gekry het terwyl hy besig was om hout bymekaar te maak, het hom na Moses, Aäron en die hele gemeente toe gebring.

34 Hulle het hom aangehou, want dit was nie duidelik wat hulle met hom moes doen nie.

35

Die Here het toe vir Moses gesê: “Die man moet beslis sterwe. Die hele gemeente moet hom buite die kamp met klippe doodgooi.”

36

Hulle het hom toe uitgebring buite die kamp en hom met klippe doodgegooi. So het hy dan gesterf, soos die Here vir Moses beveel het.

37

Die Here het verder vir Moses gesê:

38 “Sê vir die Israeliete hulle moet aan die some van hulle klere klossies vaswerk. Dit geld ook vir hulle nageslag. Hulle moet 'n blou toutjie aan die hoekklossies vaswerk.

39 As julle die klossies sien, moet julle dink aan al my gebooie sodat julle dit onderhou en nie die sondige begeertes van julle hart en oë navolg nie.

40 Julle moet aan al my gebooie dink en hulle onderhou sodat julle aan My gewy sal wees.

41 Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte gebring het om vir julle 'n God te wees. Ek is die Here julle God.”

16

1

Korag seun van Jishar, seun van Kehat, seun van Levi, het saam met die Rubeniete Datan en Abiram, seuns van Eliab, en On seun van Pelet

2 teen Moses in opstand gekom. Saam met hulle was twee honderd en vyftig Israelitiese mans, leiers van die gemeenskap wat deur die volksvergadering aangewys is, manne van aansien.

3 Hulle het as 'n groep teen Moses en Aäron saamgekom en vir hulle gesê: “Dit is nou genoeg. Die hele gemeente, elke lid daarvan, is gewyd, en die Here is by hulle. Waarom verhef julle julle dan bo die gemeente van die Here?”

4

Toe Moses dit hoor, het hy op sy knieë geval en gebid.

5 Daarna het hy vir Korag en sy hele bende gesê: “Môreoggend sal die Here die persoon aanwys wat aan Hom behoort en wat gewy is en sal Hy hom toelaat om by die altaar te kom. Die persoon wat Hy verkies, sal Hy na die altaar toe laat kom.

6 Korag, jy en almal by jou moet dít doen: vat môre vir julle vuurpanne,

7 sit vuur daarin, plaas wierook daarop en bring dit altaar toe. Die man vir wie die Here verkies, is die gewyde. Julle Leviete matig julle te veel aan!”

8

Verder het Moses vir Korag-hulle gesê: “Luister, Leviete!

9 Is julle nie daarmee tevrede dat die God van Israel júlle uit die gemeente van Israel afgesonder het om in die heiligdom diens te doen en om die dienswerk in die tabernakel van die Here te verrig in belang van die gemeente vir wie julle bedien nie?

10 Hy het jóú, Korag, en al jou Levitiese ampsgenote saam met jou laat diens doen in die heiligdom, maar nou wil julle ook nog die priesterskap inpalm!

11 Dat julle julle teen Aäron verset, is niks nie, maar jy en jou hele bende het 'n komplot teen die Here gesmee.”

12

Daarna het Moses vir Datan en Abiram, seuns van Eliab, laat roep. Maar hulle het gesê: “Ons sal nie kom nie.

13 Is dit nie genoeg dat jy ons laat trek het uit 'n land wat oorloop van melk en heuning om ons in die woestyn te laat omkom nie? En nou wil jy ook nog gedurig oor ons baasspeel!

14 Bowendien het jy ons nie gebring na 'n land toe wat oorloop van melk en heuning nie, en ook nie vir ons lande en wingerde gegee nie. Wil jy hierdie mense aanhou mislei? Ons sal nie kom nie!”

15

Moses het baie kwaad geword en vir die Here gesê: “U moet hulle offergawe nie aanneem nie! Ek het nie 'n enkele donkie van hulle gevat nie en nie een van hulle benadeel nie.”

16

Moses sê toe vir Korag: “Jy en jou hele bende moet môre na die altaar toe kom, jy en hulle en ook Aäron.

17 Elkeen moet wierook in 'n vuurpan sit en dit na die altaar toe bring, elkeen van die twee honderd en vyftig man met sy eie vuurpan, en ook jy en Aäron, elkeen met sy vuurpan.”

18 Almal het toe hulle vuurpanne gevat, vuur daarin gesit en wierook daarop geplaas, en by die ingang van die tent van ontmoeting gaan staan, ook Moses en Aäron.

19

Net toe Korag die hele gemeente teenoor Moses-hulle by die ingang van die tent van ontmoeting laat saamkom, word die magtige teenwoordigheid van die Here vir die hele gemeente sigbaar.

20 Die Here sê toe vir Moses en Aäron:

21 “Gee pad van hierdie gemeente af, dat Ek hulle in 'n oogwink kan vernietig.”

22

Maar Moses en Aäron het op hulle knieë geval en gebid: “O God, God wat aan alle mense die lewe gee, sal u toorn teen die hele gemeente ontvlam as net een mens gesondig het?”

23

Toe sê die Here vir Moses:

24 “Sê vir die gemeente: Gee pad van Korag, Datan en Abiram se tente af!”

25

Daarna het Moses na Datan en Abiram toe gegaan, en die leiers van Israel het hom gevolg.

26 Hy sê toe vir die gemeente: “Gee pad van die tente van hierdie goddelose mense af! Moenie aan iets van hulle raak nie, dat julle nie deur al hulle sondes omkom nie.”

27

Die gemeente het toe van Korag, Datan en Abiram se tente af padgegee. Datan en Abiram het uitgekom saam met hulle vrouens, hulle kinders en almal onder hulle sorg en voor hulle tente gaan staan.

28 Toe sê Moses: “Hieraan sal julle weet dat die Here my gestuur het om al hierdie dinge te doen en dat dit nie uit myself is nie.

29 As hierdie manne 'n gewone dood sterf en dit met hulle gaan soos dit met elke mens gaan, het die Here my nie gestuur nie!

30 Maar as die Here iets nuuts laat gebeur en die aarde sy mond oopmaak en hulle insluk saam met alles wat aan hulle behoort, sodat hulle lewend in die doderyk afgaan, sal julle weet dat hierdie mense die Here geminag het.”

31

Net toe Moses klaar gepraat het, skeur die grond onder hulle oop

32 en maak die aarde sy mond oop en sluk vir Datan en Abiram met hulle gesinne in en ook vir Korag en al die manne by hom saam met hulle besittings.

33 Hulle en alles wat aan hulle behoort, het lewend in die doderyk afgegaan; die aarde het hulle bedek, en so het hulle uit die gemeente verdwyn.

34

Al die Israeliete in die omgewing het gevlug toe hulle die geskree hoor, want hulle het gedink: dalk sluk die aarde ons ook in!

35 Toe het die Here 'n vuur gestuur en dit het die twee honderd en vyftig man wat die wierookoffer wou bring, verteer.

36

Daarna het die Here vir Moses beveel:

37 “Sê vir die priester Eleasar seun van Aäron hy moet die vuurpanne wegvat waar die brand was en die kole êrens weggooi, want die kole is aan die Here gewy.

38 Van die vuurpanne van die manne wat deur hulle sonde gesterf het, moet julle dun plate maak en die altaar daarmee oortrek, want hulle is by die altaar gebruik en is aan die Here gewy. Hulle moet die Israeliete altyd aan hierdie gebeure herinner.”

39

Die priester Eleasar het toe die bronsvuurpanne gevat wat by die altaar gebruik is deur die manne wat verbrand is, en hulle uitgeklop en die altaar daarmee oorgetrek.

40 Dit moes die Israeliete altyd daaraan herinner dat iemand wat nie uit Aäron se geslag is nie en dus nie daartoe bevoeg is nie, nie 'n wierookoffer na die altaar toe mag bring om dit aan die Here te offer nie. Anders sal so 'n persoon soos Korag en sy bende word oor wie die Here deur middel van Moses uitspraak gelewer het.

41

Die volgende môre het die hele gemeente van Israel teen Moses en Aäron in verset gekom en gesê: “Júlle het die volk van die Here doodgemaak!”

42

Toe die gemeente teen Moses en Aäron bymekaarkom en na die tent van ontmoeting toe draai, het die wolk die tent bedek en het die magtige teenwoordigheid van die Here sigbaar geword.

43 Moses en Aäron het toe na die voorkant van die tent van ontmoeting toe gegaan,

44 en die Here het vir Moses gesê:

45 “Gee pad tussen die gemeente uit dat Ek hulle in 'n oogwink kan verdelg.”

Moses en Aäron het op hulle knieë geval en gebid.

46

Moses sê toe vir Aäron: “Vat 'n vuurpan, sit vuur van die altaar af daarin en plaas wierook daarop en gaan gou na die gemeente toe en doen vir hulle versoening. Die toorn van die Here het reeds ontvlam en Hy het hulle met 'n plaag begin straf.”

47

Aäron het gedoen soos Moses gesê het en tussen die gemeente in gehardloop. Die plaag het toe reeds onder die volk begin woed, maar Aäron het die wierook geoffer en vir die volk versoening gedoen.

48 Hy het gaan staan tussen dié wat al dood was en dié wat nog geleef het, en die plaag het opgehou.

49 Daar het veertien duisend sewe honderd deur die plaag omgekom, afgesien van dié wat deur Korag se toedoen gesterf het.

50 Aäron is toe terug na Moses toe by die ingang van die tent van ontmoeting. Die plaag was verby.

17

1

Die Here het vir Moses gesê:

2 “Vra vir die Israeliete twaalf kieries, een vir die leier van elkeen van die twaalf stamme. Skryf die naam van elke leier op sy kierie.

3 Op Levi se kierie moet jy Aäron se naam skryf. Daar moet net een kierie vir elke stam wees.

4 Sit die kieries dan voor die getuienis in die tent van ontmoeting, waar Ek julle ontmoet.

5 Die kierie van die man wat Ek uitkies, sal bot, en so sal Ek 'n einde maak aan die Israeliete se aanhoudende verset teen julle.”

6

Moses het toe met die Israeliete gepraat, en hulle leiers het vir hom twaalf kieries gegee, een vir die leier van elkeen van die twaalf stamme. Aäron se kierie was ook onder hulle.

7 Moses het toe die kieries neergesit in die tent met die getuienis, in die teenwoordigheid van die Here.

8

Toe Moses die volgende môre by die tent met die getuienis kom, was daar botsels aan die kierie van Aäron, wat daar was vir die stam Levi. Trouens, daar was nie net botsels aan nie, daar was ook bloeisels en dit het selfs ryp amandels gedra.

9 Moses het toe al die kieries wat in die heiligdom was, na Israel toe uitgebring, en hulle het dit gesien, en elke leier het sy eie kierie gevat.

10 Die Here sê toe vir Moses: “Sit Aäron se kierie terug voor die getuienis, en bêre dit as teken vir die opstandiges. So moet jy 'n einde maak aan hulle verset teen My, sodat hulle nie sterwe nie.”

11

Moses het gedoen presies soos die Here hom beveel het.

12 Die Israeliete het toe vir Moses gesê: “Dit is klaar met ons! Ons gaan tot niet, ons gaan almal tot niet!

13 Elkeen wat maar net naby die tabernakel van die Here kom, sal sterwe. Is dit dan heeltemal klaar met ons?”

18

1

Die Here het vir Aäron gesê: “Jy en jou seuns, en jou stam saam met jou, word aanspreeklik gehou vir oortredings teen die heiligdom, maar net jy en jou seuns word aanspreeklik gehou vir oortredings teen die priesteramp wat deur julle beklee word.

2 Jy moet jou Levitiese ampsgenote uit jou stam na jou toe laat kom dat hulle by jou kan aansluit en jou kan help. Jy en jou seuns moet die ampspligte by die tent met die getuienis verrig.

3 Die Leviete is tot jou beskikking vir al die diens by die tent. Hulle mag egter nie die offergereedskap hanteer om op die altaar te offer nie, want dan sal hulle en julle sterf.

4 Hulle moet by jou aansluit en die diens by die tent van ontmoeting waarneem, al die werk by die tent. Iemand wat nie daartoe bevoeg is nie, mag nie saam met julle diens doen nie.

5 Net júlle mag die diens by die heiligdom en die altaar waarneem, sodat die toorn van die Here nie weer oor die Israeliete kom nie.

6 Ek het julle Levitiese ampsgenote uit die Israeliete afgesonder as my geskenk aan julle. Hulle behoort aan My vir die werk by die tent van ontmoeting.

7 Maar net jý en jou seuns mag as priesters diens doen en al die werk by die altaar en agter die voorhangsel verrig. Dat julle die priesterskap mag beklee, is 'n geskenk van My aan julle. 'n Onbevoegde persoon wat nader kom om die diens te verrig, moet doodgemaak word.”

8

Die Here het vir Aäron gesê: “Ek het jou aangestel om toesig te hou oor die offergawes wat vir My gebring word. Ek gee aan jou en jou seuns 'n deel van al die gewyde gawes wat deur die Israeliete gebring word. Dit is 'n vaste instelling.

9 Die deel van die besondere gewyde gawes wat nie verbrand word nie, kom jou toe. Dit geld van al die offergawes wat die Israeliete vir My bring as besondere gewyde gawes, of dit graanoffers, sondeoffers of skuldoffers is. Dit behoort aan jou en jou seuns.

10 Wanneer jy dit eet, moet jy onthou dat dit besondere gewyde gawes is. Elke manspersoon uit jou familie mag dit eet. Dit moet ook vir jóú gewyde gawes wees.

11

“Verder behoort elke offergawe wat die Israeliete as beweegoffer bring, aan jou. Ek gee dit vir jou en jou seuns en jou dogters. Dit is 'n vaste instelling. Elkeen in jou huis wat rein is, mag daarvan eet.

12

“Ek gee ook aan jou die beste van al die olie, die wyn en die koring wat deur die Israeliete uit hulle eerste opbrengs vir die Here gebring word.

13 Die eerste van alles wat hulle land oplewer en wat hulle vir die Here bring, is joune. Elkeen in jou huis wat rein is, mag daarvan eet.

14 Alles wat in Israel as banoffer aan die Here gewy word, is joune.

15 Elke eersgeborene van mens of dier wat vir die Here gebring word, is joune. Maar elke eersgebore seun en elke eersteling van 'n onrein dier moet jy loskoop.

16 Wat die loskoping betref, jy moet hulle loskoop as hulle 'n maand oud is, elkeen teen die vasgestelde prys van vyf en vyftig gram silwer volgens die standaardgewig van die heiligdom.

17 Maar die eerstelinge van beeste, skape en bokke moet jy nie loskoop nie, hulle is aan My gewy. Jy moet hulle bloed teen die altaar sprinkel en hulle vet as 'n vuuroffer verbrand, 'n offer wat vir My, die Here, aanvaarbaar is.

18 Die vleis van hierdie offerdiere is joune net soos die bors en die regterboud van die beweegoffer joune is.

19 Aan jou, jou seuns en jou dogters gee Ek al die gewyde gawes wat deur die Israeliete vir My as offergawes gebring word. Dit is 'n vaste instelling. Dit is my onverbreekbare verbond met jou en jou nageslag.”

20

Die Here het vir Aäron gesê: “Jy ontvang nie 'n deel van die Israeliete se land as besitting nie, jy kry nie 'n deel saam met hulle nie. Jou deel en jou besitting onder die Israeliete ontvang jy uit wat My toekom.

21

“Vir die dienswerk wat die Leviete in die tent van ontmoeting verrig, gee Ek aan hulle as hulle besitting al die tiendes wat die Israeliete as offergawes bring.

22 Die Israeliete mag nie weer naby die tent van ontmoeting diens probeer doen nie, want dan sondig hulle en sal hulle sterwe.

23 Die Leviete moet die diens by die tent van ontmoeting behartig, en húlle is aanspreeklik vir hulle eie oortredinge. Dit is 'n vaste instelling, ook vir julle nageslag. Die Leviete kry nie 'n deel van die land saam met die Israeliete nie.

24 Ek gee aan die Leviete as hulle besitting die tiendes wat die Israeliete as offergawe aan die Here bring. Dit is waarom Ek vir hulle gesê het dat hulle nie 'n deel van die land saam met die Israeliete kry nie.”

25

Die Here het verder vir Moses gesê:

26 “Sê vir die Leviete: As julle die tiende wat Ek vir julle as besitting gee, van die Israeliete ontvang, moet julle 'n tiende daarvan as 'n offergawe aan die Here bring.

27 Julle offergawe sal beskou word asof dit koring is wat van die dorsvloer af kom en asof dit uit die volle opbrengs van die parskuip kom.

28 So moet ook julle van al die tiendes wat julle van die Israeliete ontvang, 'n offergawe aan die Here bring. Wat die Here daarvan toekom as offergawe, moet julle aan die priester Aäron gee.

29 Van alles wat aan julle gegee word, moet julle die beste en die mees gewyde deel as offergawe aan die Here bring.

30 Jy moet vir die Leviete sê: As julle die beste daarvan as offergawe bring, sal dit vir julle beskou word as julle deel van die opbrengs van die dorsvloer en die parskuip.

31 Julle en julle gesinne mag op enige plek daarvan eet. Dit is die beloning vir julle dienswerk by die tent van ontmoeting.

32 Deur die beste daarvan te bring, sal julle nie in hierdie saak oortree nie. Maar julle mag nie die gewyde gawes van die Israeliete ontwy nie, want dan sal julle sterwe.”

19

1

Die Here het vir Moses en Aäron gesê:

2 “Ek gee ook hierdie voorskrif vir julle: Sê vir die Israeliete hulle moet vir jou 'n rooi koei bring. Die koei moet sonder liggaamsgebrek of letsel wees en sy mag ook nie in 'n juk getrek het nie.

3 Gee haar vir die priester Eleasar, en hy moet haar buitekant die kamp laat uitbring en voor hom laat slag.

4 Hy moet dan van die koei se bloed op sy vinger neem en dit sewe keer in die rigting van die ingang van die tent van ontmoeting sprinkel.

5 Die koei moet dan in Eleasar se teenwoordigheid verbrand word. Hulle moet haar vel, vleis en bloed saam met haar pensmis verbrand.

6 Die priester moet sederhout, hisop en bloedrooi wolstof op die koei gooi wat verbrand word.

7 Dan moet hy sy klere was en hom bad. Daarna mag hy in die kamp kom, maar hy sal die res van die dag onrein wees.

8 Die persoon wat die koei verbrand, moet self ook sy klere was en hom bad, en hy sal ook die res van die dag onrein wees.

9 'n Rein persoon moet die as van die koei bymekaarmaak en dit buitekant die kamp op 'n rein plek bêre. Die as is tot beskikking van die gemeente van Israel om in reinigingswater te gebruik. Die koei is 'n sondeoffer.

10 Die man wat die koei se as bymekaargemaak het, moet ook sy klere was en hy sal die res van die dag onrein wees.

“Dit is 'n vaste instelling vir die Israeliete en vir die vreemdelinge wat by hulle woon.

11

“Iemand wat aan die lyk van 'n mens raak, sal sewe dae lank onrein wees.

12 Hy moet hom op die derde en die sewende dag met die reinigingswater reinig, dan sal hy rein wees. As hy hom nie op die derde en die sewende dag reinig nie, bly hy onrein.

13 Elkeen wat aan die lyk van 'n mens raak en homself nie reinig nie, verontreinig die tabernakel van die Here. So 'n persoon moet van Israel afgesny word. Omdat die reinigingswater nie op hom gesprinkel is nie, is hy onrein, en bly sy onreinheid op hom.

14

“Wanneer iemand in 'n tent sterf, is dít die voorskrif: Elkeen wat in die tent kom, en alles wat daarin is, sal sewe dae lank onrein wees.

15 Ook elke gebruiksvoorwerp wat nie met 'n deksel toegemaak is nie, sal onrein wees.

16 Enigiemand wat in die veld aan 'n persoon raak wat doodgemaak is, of aan iemand wat gewoon gesterf het, of aan 'n mensbeen of aan 'n graf, sal sewe dae lank onrein wees.

17

“Wanneer 'n persoon op hierdie manier onrein geword het, moet iemand van die as vat van die sondeoffer wat verbrand is, dit in 'n pot sit en vars water daaroor gooi.

18 Dan moet iemand wat rein is, 'n hisoptakkie in die water doop en die water sprinkel oor die tent, oor al die gebruiksvoorwerpe en oor die mense wat by was. Dieselfde moet gebeur met iemand wat aan doodsbene geraak het of aan die lyk van iemand wat doodgemaak is of aan iemand wat gewoon gesterf het of aan 'n graf.

19 'n Rein persoon moet op die derde en die sewende dag die water oor die onreine sprinkel, en op die sewende dag moet die onreine homself reinig. Daarna moet hy sy klere was en hom bad, dan sal hy teen die aand rein wees.

20 As iemand onrein is en hy hom nie reinig nie, moet hy van die gemeente afgesny word. Hy het die heiligdom van die Here ontwy, die reinigingswater is nie oor hom gesprinkel nie en daarom bly hy onrein.

21

“Dit is vir julle 'n vaste instelling.

“Die persoon wat die reinigingswater sprinkel, moet self ook sy klere was, en enigeen wat aan die reinigingswater raak, sal die res van die dag onrein wees.

22 Enigiets waaraan 'n onrein persoon raak, sal onrein wees, en enigiemand wat aan hom raak, sal die res van die dag onrein wees.”

20

1

Die hele volk Israel het in die eerste maand in die Sinwoestyn aangekom en toe by Kades oorgebly. Mirjam is daar oorlede en is ook daar begrawe.

2

[2-3] Omdat die volk geen drinkwater gehad het nie, het hulle saam teen Moses en Aäron rusie gemaak en gesê: “As ons maar liewer ook omgekom het toe ons volksgenote deur die Here om die lewe gebring is!

3

4 Waarom het julle die volk van die Here na hierdie woestyn toe gebring, dat ons en ons vee hier moet sterwe?

5 Waarom het julle ons uit Egipte laat optrek en ons na hierdie ellendige plek toe gebring? Hierdie plek deug nie vir graan of vye, vir wingerde of granate nie, en daar is geen drinkwater nie.”

6

Moses en Aäron het weggedraai van die volk af, en toe hulle by die ingang van die tent van ontmoeting kom, het hulle op hulle knieë geval terwyl die magtige teenwoordigheid van die Here vir hulle sigbaar word.

7 Die Here sê toe vir Moses:

8 “Vat Aäron se kierie en roep jy en jou broer Aäron die volk bymekaar. Julle moet dan in hulle teenwoordigheid met die rots praat, en daar sal water uitkom. Jy moet vir hulle water uit die rots laat kom, sodat die volk en hulle vee kan drink.”

9

Moses het toe die kierie wat in die tabernakel was, gevat soos die Here hom beveel het

10 en hy en Aäron het die volk by die rots laat bymekaarkom. Moses het vir hulle gesê: “Luister, julle wat julle teen die Here verset! Luister! Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat kom?”

11

Toe lig Moses sy hand op en hy slaan die rots twee keer met die kierie. Daar het baie water uitgekom, en die volk en hulle vee het gedrink.

12

Maar toe sê die Here vir Moses en Aäron: “Omdat julle My nie erken het en My, die Heilige, nie voor die Israeliete gehoorsaam was nie, sal julle hierdie volk nie inlei in die land wat Ek aan hulle gee nie.”

13

Dit het gebeur by die Meribawaters waar die Israeliete met die Here rusie gemaak het, en waar Hy Hom as die Heilige aan hulle bekend gemaak het.

14

Moses het boodskappers van Kades af na die koning van Edom toe gestuur met die versoek: “So sê u broer Israel: U is bewus van al die probleme waarmee ons te kampe gehad het.

15 Ons voorvaders het na Egipte toe getrek en daar het ons baie lank gebly. Die Egiptenaars het ons voorvaders én vir ons sleg behandel.

16 Ons het na die Here om hulp geroep en Hy het ons gebed verhoor, 'n engel gestuur en ons uit Egipte laat trek. Ons is nou in Kades, 'n stad aan die grens van u gebied.

17 Laat ons toe om deur u land te trek. Ons sal nie deur die lande of die wingerde trek nie en ons sal ook nie water uit die putte drink nie. Ons sal op die Koningspad bly en nie links of regs afdraai totdat ons deur u gebied is nie.”

18

Die koning van Edom het egter geantwoord: “Jy mag nie deur my gebied trek nie, want dan trek ek jou met die swaard tegemoet.”

19

Die Israeliete het weer vir hom laat weet: “Ons sal op die grootpad bly, en as ons, ons en ons vee, van u water drink, sal ons daarvoor betaal. Ons wil net te voet deurtrek, verder niks nie.”

20

Die koning van Edom het laat weet: “Jy mag nie deurtrek nie.” Die Edomiete het toe met 'n groot, magtige leër teen die Israeliete opgetrek.

21

So het Edom geweier om Israel deur sy gebied te laat trek, en Israel moes van Edom af wegdraai.

22

Die hele volk Israel het van Kades af versit en by Horberg aangekom.

23 By Horberg, vlak by die grens van Edom, het die Here vir Moses en Aäron gesê:

24 “Die tyd het gekom dat Aäron moet sterf. Hy sal nie in die land kom wat Ek aan die Israeliete gee nie, omdat julle twee julle verset het teen my bevel by die Meribawaters.

25 Vat vir Aäron en sy seun Eleasar saam en gaan na Horberg toe.

26 Daar moet jy Aäron se klere uittrek en dit vir sy seun Eleasar aantrek. Aäron sal daar sterwe.”

27

Moses het gedoen wat die Here beveel het: voor die oë van die hele volk het hulle Horberg uitgeklim.

28 Daar het Moses Aäron se klere uitgetrek en dit vir sy seun Eleasar aangetrek, en Aäron is daar op die top van die berg dood. Daarna het Moses en Eleasar afgekom van die berg af.

29 Toe die hele volk Israel verneem dat Aäron dood is, het hulle almal oor hom getreur, dertig dae lank.

21

1

Toe die Kanaänitiese koning Arad wat in die Suidland woon, verneem dat Israel in die rigting van Atarim optrek, het hy teen hulle gaan veg en 'n aantal van hulle gevange geneem.

2 Israel het 'n gelofte aan die Here gedoen: “As U hierdie volk en hulle stede in ons mag gee, sal ons hulle stede as banoffers aan U offer.”

3

Die Here het die gebed verhoor en die Kanaäniete in Israel se mag oorgegee. Hulle het toe die Kanaäniete verslaan en hulle stede heeltemal verwoes. Daarom word die plek Gorma genoem.

4

Om by die gebied van Edom verby te kom, het die Israeliete van Horberg af in die rigting van die Rietsee getrek. Op pad daarheen het die volk ongeduldig geword

5 en teen God en Moses uitgevaar: “Waarom het U ons uit Egipte laat trek net om in die woestyn te sterwe? Hier is nie brood en water nie, en ons is sat vir hierdie slegte kos.”

6

Die Here het toe giftige slange onder die volk ingestuur. Die slange het die mense gepik en baie Israeliete het gesterf.

7 Toe kom die volk na Moses toe en bely: “Ons het teen die Here en teen u gesondig met wat ons gesê het. Bid tog tot die Here dat Hy die slange van ons af wegneem.”

Moses het toe vir die volk gebid,

8 en die Here het vir Moses gesê: “Maak 'n beeld van 'n giftige slang en sit dit op 'n paal. Elkeen wat gepik is en daarna opkyk, sal lewe.”

9

Moses het toe 'n koperslang gemaak en dit op 'n paal gesit. As iemand wat deur 'n slang gepik is, na die koperslang opkyk, het hy bly leef.

10

Die Israeliete het weggetrek en by Obot kamp opgeslaan.

11 Daarvandaan het hulle versit en kamp opgeslaan by Ije-Abarim in die woestyn regoor Moab, aan die oostekant.

12 Hulle het daarvandaan weggetrek en kamp opgeslaan in die Seredvallei.

13

Daarvandaan het hulle weer versit en kamp opgeslaan langs die Arnonrivier wat uit die gebied van die Amoriete deur die woestyn loop. Die Arnon is die grens tussen Moab en die Amoriete.

14 Daarom lees ons in die Boek van die Oorloë van die Here:

“By Waheb in Sufa en by die spruite, by die Arnon,

15
teen die hange langs die spruite
wat strek tot by die gebied van Ar
en grens aan die gebied van Moab.”

16

Daarvandaan het Israel verder getrek tot by Beër. Dit is die Beër waar die Here vir Moses gesê het: “Laat die volk bymekaarkom en Ek sal vir hulle water uit die put gee.”

17

Israel het toe hierdie lied gesing:

“Put, lewer jou water,
en ons sal daarvan sing!

18
Put wat deur leiers gegrawe is,
wat deur vernames van die volk oopgemaak is
met septer en kierie.”

Van die woestyn af is die Israeliete na Mattana toe,

19 van Mattana af na Nagaliël toe, van Nagaliël af na Bamot toe,

20 en van Bamot af na die vallei in die gebied van Moab, naby die top van Pisgaberg wat afkyk op die droë wêreld.

21

Die Israeliete het boodskappers gestuur na koning Sihon van die Amoriete toe met die versoek:

22 “Laat ons toe om deur u land te trek. Ons sal nie afdraai na die lande of die wingerde toe nie, en ons sal ook nie water uit die putte drink nie. Ons sal net met die Koningspad langs trek totdat ons deur u gebied is.”

23

Sihon wou Israel egter nie toelaat om deur sy gebied te trek nie. Hy het al sy manskappe opgeroep en Israel in die woestyn tegemoet getrek. Toe Sihon by Jahas kom, het hy Israel aangeval.

24 Israel het hom egter verslaan en sy land beset van die Arnon af tot by die Jabbok, tot by die Ammoniete, wie se grens goed versterk was.

25

Die Israeliete het al die stede van die Amoriete verower en daarin gaan woon, ook in Gesbon en al sy buitedorpe.

26

Gesbon was die stad van koning Sihon van die Amoriete. Sihon het teen 'n vorige koning van Moab oorlog gemaak en sy hele gebied tot aan die Arnon van hom afgevat.

27 Daarom sê die digters:

“Kom na Gesbon toe, bou dit weer op,
herstel die stad van Sihon.

28
Daar het 'n vuur uit Gesbon uit gegaan,
'n vlam uit die stad van Sihon,
en dit het Ar-Moab verteer
wat die Arnonhoogtes beheer.

29
Dis klaar met jou, Moab,
jy gaan tot niet, volk van Kemos!
Hy moes sy seuns as vlugtelinge prysgee,
sy dogters as gevangenes aan koning Sihon van die Amoriete!

30
Maar nou het ons op hulle losgetrek:
Gesbon se gebied is verwoes tot by Dibon,
ons het hulle uitgeroei tot by Nofag,
tot by Medeba.”

31

So het Israel dan in die land van die Amoriete gaan woon.

32 Moses het manne gestuur om Jaser te gaan verken. Hulle het Jaser en sy buitedorpe ingeneem en die Amoritiese inwoners verdryf.

33 Hulle het toe weggedraai en in die rigting van Basan getrek. Koning Og van Basan het hulle tegemoet getrek met sy hele leërmag en hulle by Edreï aangeval.

34

Die Here het vir Moses gesê: “Moenie vir hom bang wees nie. Ek gee hom met sy hele leër en sy land in jou mag oor. Doen met hom soos jy gedoen het met koning Sihon van die Amoriete wat in Gesbon gewoon het.”

35

Die Israeliete het vir Og saam met sy seuns en sy hele leër verslaan. Nie een van sy mense het oorgebly nie. Die Israeliete het ook sy land in besit geneem.

22

1

Daarna het die Israeliete verder getrek en kamp opgeslaan in die Moabsvlakte teenoor Jerigo, oos van die Jordaan.

2 Balak seun van Sippor het gehoor van alles wat Israel aan die Amoriete gedoen het.

3 Die Moabiete het baie groot geskrik vir die Israeliete, want hulle was baie.

Die Moabiete het bang geword vir die Israeliete

4 en het vir die leiers van Midian gesê: “Hierdie horde gaan alles rondom ons opvreet soos beeste die gras in die veld opvreet.” Balak seun van Sippor was destyds koning van Moab

5 en hy het boodskappers gestuur om vir Bileam seun van Beor te laat haal. Hy was in Petor aan die Eufraat in die land Ammau.

Balak het hom laat weet: “'n Volk wat uit Egipte kom, het hier by my kom intrek. Die aarde is tóé onder hulle.

6 Kom asseblief en vervloek hierdie volk vir my, want hulle is te sterk vir my. Miskien sal ek hulle dan kan verslaan en uit die land verdryf. Ek weet: wie jy seën, is geseën, en wie jy vervloek, is vervloek.”

7

Die leiers van Moab en Midian het die beloning wat aan 'n waarsêer betaal moet word, saamgevat na Bileam toe en Balak se versoek aan hom oorgedra.

8 Bileam sê toe vir hulle: “Bly vannag oor, dan sê ek môre vir julle wat die Here vir my sal sê.”

Die amptenare van Moab het toe by Bileam oornag.

9

God het aan Bileam verskyn en gevra: “Wie is die manne hier by jou?”

10 en hy het geantwoord: “Koning Balak van Moab, seun van Sippor, het hulle na my toe gestuur met die boodskap:

11 Hier is 'n volk wat uit Egipte getrek het, en die aarde is tóé onder hulle. Kom asseblief en vervloek hulle vir my. Miskien sal ek dan teen hulle kan veg en hulle verdryf!”

12

Maar God het vir Bileam gesê: “Moenie met hulle saamgaan nie. Jy mag dié volk nie vervloek nie, want hulle is geseën.”

13

Die volgende môre het Bileam vir die amptenare van Balak gesê: “Gaan terug na julle land toe, want die Here wil nie hê ek moet saam met julle gaan nie.”

14

Die amptenare van Moab is toe terug na Balak toe en het vir hom gesê: “Bileam weier om met ons saam te kom.”

15

Balak het toe ander amptenare gestuur, méér en hoër in rang as die voriges.

16 Hulle het by Bileam gekom en vir hom gesê: “Balak seun van Sippor sê: Moenie dat iets jou keer om na my toe te kom nie.

17 Ek sal jou baie goed beloon en alles doen wat jy vir my sê. Kom asseblief en vervloek hierdie volk vir my.”

18

Maar Bileam het vir die amptenare van Balak gesê: “Selfs al gee Balak vir my sy paleis vol silwer en goud, mag ek niks doen, klein of groot, teen die opdrag van die Here my God in nie.

19 Maar bly julle ook 'n nag oor dat ek kan uitvind of die Here weer met my wil praat.”

20

Daardie nag verskyn God toe aan Bileam en sê vir hom: “Die manne het nou gekom om jou te kom haal. Gaan saam met hulle, maar jy mag net doen wat Ek vir jou sê.”

21

Bileam het toe die oggend sy donkie opgesaal en met die amptenare van Moab saamgegaan.

22

God het kwaad geword toe Bileam gaan, en die Engel van die Here het vir Bileam in die pad voorgestaan om hom te keer. Bileam het op sy donkie gery, en twee van sy amptenare was by hom.

23 Toe die donkie die Engel van die Here in die pad sien staan met 'n ontblote swaard in die hand, het die donkie uit die pad gedraai en die veld in geloop. Toe Bileam die donkie slaan om hom in die pad terug te bring,

24 gaan staan die Engel van die Here in 'n smal pad tussen die wingerde, met 'n muur aan weerskante.

25 Toe die donkie die Engel van die Here gewaar, skuur die donkie teen die muur langs en druk Bileam se voet daarteen vas. Bileam slaan hom toe weer.

26 Toe gaan die Engel van die Here verder en gaan staan in 'n nou plek waar daar nie kans was om na enige kant toe uit te draai nie.

27 Die donkie het die Engel van die Here gesien en het onder Bileam gaan lê. Bileam het so kwaad geword dat hy die donkie met 'n stok geslaan het.

28 Toe laat die Here die donkie praat, en die donkie sê vir Bileam: “Wat het ek jou aangedoen dat jy my nou al drie keer geslaan het?”

29

Bileam antwoord toe: “Jy hou my vir die gek. As ek 'n swaard by my gehad het, het ek jou doodgemaak.”

30

Toe sê die donkie vir Bileam: “Is ek nie die donkie waarop jy nog altyd gery het nie? Maak ek altyd so met jou?” en Bileam antwoord: “Nee!”

31

Die Here het Bileam se oë oopgemaak en hy het die Engel van die Here in die pad sien staan met 'n ontblote swaard in die hand. Toe buig Bileam voor die Engel.

32

Die Engel van die Here vra hom toe: “Waarom het jy jou donkie nou al drie keer geslaan? Ek het jou kom voorstaan, want Ek sien jy is op 'n gevaarlike pad.

33 Die donkie het My gesien en drie keer vir My uitgedraai. As hy dit nie gedoen het nie, het Ek jou al doodgemaak en hom laat leef.”

34

Bileam sê toe vir die Engel van die Here: “Ek was verkeerd, ek het nie geweet dat U my in die pad voorstaan nie. As U nie wil hê ek moet voortgaan nie, draai ek om.”

35

Toe sê die Engel van die Here vir Bileam: “Gaan saam met die manne, maar jy moet net sê wat Ek vir jou sê.”

Bileam is toe saam met Balak se amptenare.

36

Toe Balak hoor dat Bileam aan die kom is, het hy hom tegemoet gegaan by Ar-Moab aan die oewer van die Arnon, op die grens.

37 Balak vra toe vir Bileam: “Ek het jou dringend laat roep, en waarom het jy toe nie na my toe gekom nie? Dink jy ek kan jou nie goed betaal nie?”

38

Bileam het vir Balak geantwoord: “Ek het mos nou gekom. Maar laat ek net dit sê: Ek kan net sê wat God vir my voorsê.”

39

Bileam is toe saam met Balak, en hulle het by Kirjat-Gusot aangekom.

40 Balak het beeste en skape geslag en dit vir Bileam en die amptenare wat saam met hom was, laat bring.

41 Die volgende môre het Balak vir Bileam teen Bamot-Baäl laat uitklim. Daarvandaan kon Bileam die volk Israel van die kant af sien.

23

1

Bileam het vir Balak gesê: “Bou hier vir my sewe altare en maak sewe bulle en sewe ramme gereed vir offers.”

2

Balak het gedoen wat Bileam gesê het, en hy en Bileam het toe op elkeen van die altare 'n bul en 'n ram geoffer.

3 Daarna sê Bileam vir Balak: “Bly jy hier by jou brandoffer terwyl ek eenkant toe gaan. Miskien sal die Here Hom aan my openbaar, en wat Hy ook al aan my bekend maak, sal ek vir jou sê.”

Bileam het na 'n kaal hoogte toe gestap,

4 en daar het God Hom aan Bileam geopenbaar.

Bileam het toe gesê: “Ek het sewe altare laat bou en op elke altaar 'n bul en 'n ram geoffer.”

5

Die Here het vir Bileam gesê wat hy moet sê en hom beveel: “Gaan na Balak toe terug en sê dit vir hom.”

6

Bileam het by Balak gekom waar hy en al die amptenare van Moab by die brandoffer staan.

7

Toe kom Bileam met hierdie uitspraak:

“Uit Aram het Balak my laat kom,
die koning van Moab het my laat kom
uit die berge in die ooste.
‘Kom,’ het hy gesê, ‘vervloek Jakob vir my;
kom, kondig 'n ramp aan oor Israel.’

8
Maar hoe kan ek hóm vervloek
vir wie God nie vervloek nie,
hoe kan ek 'n ramp oor hóm aankondig
as die Here dit nie aangekondig het nie?

9

“Hier van die hoë rotse af sien ek vir Israel,
van die hoogtes af kyk ek na hom!
Ek sien 'n volk wat op sy eie woon
en hom van die nasies afsonder.

10
Wie kan die stof tel, wie vir Jakob,
wie kan selfs een kwart van Israel se getal bereken?
Mag ek ook eendag as opregte sterwe,
mag my einde soos hierdie volk s'n wees.”

11

Toe sê Balak vir Bileam: “Wat het jy my nou aangedoen? Ek laat jou kom om my vyande te vervloek, en jy kom seën hulle!”

12

Bileam het geantwoord: “Ek moes tog presies kom sê wat die Here my voorgesê het.”

13

Toe sê Balak vir Bileam: “Kom saam met my na 'n ander plek toe. Van daar af sal jy net 'n deel van hulle kan sien, nie almal nie. Vervloek hulle vir my van daar af!”

14

Balak vat hom toe na 'n uitkykpos op die top van Pisgaberg. Daar bou hy sewe altare en offer op elke altaar 'n bul en 'n ram.

15

Daarna sê Bileam vir Balak: “Bly jy hier by jou brandoffer, terwyl ek eenkant toe gaan om van God 'n openbaring te vra.”

16

Die Here het Hom aan Bileam geopenbaar, hom gesê wat om te sê en hom beveel: “Gaan na Balak toe terug en sê dit vir hom.”

17

Bileam het toe by Balak gekom waar hy en die amptenare van Moab by die brandoffer staan. Balak vra hom toe: “Wat het die Here gesê?”

18

Toe kom Bileam met hierdie uitspraak:

“Kom luister, Balak,
hoor wat ek sê, seun van Sippor.

19
God is nie 'n mens dat Hy sou lieg nie,
'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie.
Sou Hy iets sê en dit nie doen nie,
iets belowe en dit nie uitvoer nie?

20
Ek het die opdrag om te seën:
Hý het geseën, en ék kan niks daaraan verander nie.

21
Jy sal nie vind dat 'n ramp vir Jakob tref nie,
jy sal Israel nie sien swaarkry nie:
die Here hulle God is by hulle;
oor Hom, hulle koning, jubel hulle.

22
God het hulle uit Egipte laat trek,
sy krag is vir hulle soos die horings van 'n buffel.

23
Geen toordery rig iets uit teen Jakob nie,
geen waarsêery iets teen Israel nie.
Nou word daar oor Jakob, oor Israel gesê:
‘Wat het God nie alles gedoen nie!’

24
Dit is 'n volk wat soos 'n leeumannetjie opstaan,
wat hom uitrek soos 'n leeu,
en nie weer gaan lê voordat hy sy prooi verskeur het
en sy slagoffers se bloed gedrink het nie.”

25

Toe sê Balak vir Bileam: “As jy hulle nie kan vervloek nie, moet jy hulle ook nie seën nie!”

26

Bileam het geantwoord: “Ek het jou mos gesê ek sal net doen wat die Here vir my sê.”

27

Toe sê Balak vir Bileam: “Kom ek vat jou na 'n ander plek toe. Miskien vind God dit tog goed dat jy die volk daarvandaan vir my vervloek.”

28

Balak vat toe vir Bileam na die top van Peor toe wat afkyk op die droë wêreld.

29 Bileam het vir hom gesê: “Bou hier vir my sewe altare en maak vir my sewe bulle en sewe ramme gereed vir offers.”

30

Balak het gedoen wat Bileam gesê het en op elke altaar 'n bul en 'n ram geoffer.

24

1

Bileam het nou al geweet dat die Here vir Israel wil seën, en daarom het hy nie soos die vorige kere 'n voorteken gaan soek nie. Hy het na die woestyn toe gedraai

2 en toe hy opkyk en die stamme van Israel langs mekaar sien woon, het die Gees van God oor hom gekom,

3 en toe kom Bileam met hierdie uitspraak:

“Die openbaring aan Bileam seun van Beor,
die openbaring aan 'n man wie se oë geopen is,

4
die openbaring aan een wat die woorde van God hoor,
wat sien wat die Almagtige hom laat sien,
wat in gebed neerval, en sy oë word geopen:

5
Hoe mooi is jou tente, Jakob,
jou wonings, Israel!

6
Hulle lyk soos uitgestrekte valleie,
soos tuine aan 'n rivier,
soos aalwyne wat deur die Here geplant is,
soos sederbome by die water.

7
Israel se waterkruike loop oor,
hy saai waar oorvloed water is.
Sy koning is sterker as Agag
en sy koninkryk groei steeds.

8
God het hulle uit Egipte laat trek,
sy krag is vir hulle soos die horings van 'n buffel.
Israel vernietig die nasies wat hom teëstaan,
hy breek hulle bene stukkend,
hy deurboor hulle met pyle.

9
Hy buig sy knieë en gaan lê soos 'n leeu,
soos 'n leeumannetjie; wie sal hom opjaag?
Geseën is hulle wat jou seën,
vervloek is hulle wat jou vervloek.”

10

Balak was toe baie kwaad vir Bileam. Hy het sy hande afwerend voor hom gehou en vir Bileam gesê: “Ek het jou laat kom om my vyande te vervloek, en jy het hulle nou al drie keer geseën.

11 Maak dat jy wegkom na jou eie plek toe. Ek het belowe om jou goed te betaal, maar die Here het gekeer dat jy betaal word.”

12

Bileam sê toe vir Balak: “Ek het mos al vir die boodskappers wat jy na my toe gestuur het, gesê:

13 ‘Selfs al gee Balak vir my sy paleis vol silwer of goud, mag ek niks doen, goed of kwaad, teen die opdrag van die Here in nie. Ek kan net sê wat die Here vir my voorsê.’

14 Ek gaan terug na my mense toe, maar ek wil eers vir jou sê wat hierdie volk in die toekoms aan jou volk sal doen.”

15

Bileam het toe met hierdie uitspraak gekom:

“Die openbaring aan Bileam seun van Beor,
die openbaring aan 'n man wie se oë geopen is,

16
die openbaring aan een wat die woorde van God hoor,
wat sy kennis ontvang het van die Allerhoogste,
wat in gebed neerval, en sy oë word geopen:

17
Ek sien hom, maar hy kom nie nou al nie,
ek kyk na hom, maar hy is nie naby nie,
daar kom 'n ster uit Jakob,
daar staan 'n heerser in Israel op.
Hy verpletter die voorkop van Moab,
hy vernietig al die opstandiges.

18
Edom sal verower word,
Seïr, die vyand van Israel, sal ingeneem word,
maar Israel sal al sterker word.

19
Een uit Jakob sal heers
en hy sal dié vernietig
wat uit Edom se hoofstad wegvlug.”

20

Bileam het ook vir Amalek gesien en met hierdie uitspraak gekom:

“Amalek is die eerste onder die nasies,
maar ondergang wag hom in.”

21

Bileam het ook die Keniete gesien en met hierdie uitspraak gekom:

“Jou woonplek is stewig,
jou nes is op 'n rots gebou,

22
maar tog sal Kain uitgewis word,
die Assiriërs sal jou as gevangene wegvoer.”

23

Bileam het ook met hierdie uitspraak gekom:

“Wie kan in die lewe bly as God dit nie so bepaal nie?

24
Daar kom skepe van die Kittiërs se kuste af,
hulle verslaan die Assiriërs en die Hebreërs,
maar hulle sal self ook vernietig word.”

25

Daarna het Bileam huis toe teruggegaan, en ook Balak het sy koers gekry.

25

1

Terwyl Israel in Sittim was, het van die Israelitiese mans met Moabitiese vrouens gemeenskap gehad.

2 Dit het gebeur toe die mans deur die Moabitiese vrouens uitgenooi is na die offers ter ere van hulle gode. Die mans het aan die offermaaltye deelgeneem en die gode van die vrouens aanbid.

3 So het die Israeliete vir Baäl-Peor aangehang. Die toorn van die Here het teen Israel ontvlam

4 en Hy het vir Moses gesê: “Vat hierdie manne se leiers en hang hulle in die openbaar voor die heiligdom op. Dan sal my toorn nie langer teen Israel woed nie.”

5

Moses het toe vir die stamhoofde van Israel gesê: “Julle moet elkeen julle eie manne wat vir Baäl-Peor aangehang het, doodmaak.”

6

Onder dit alles het 'n Israelitiese man tog nog 'n Midianitiese vrou tussen sy familie in gebring. Hy het dit gedoen voor die oë van Moses en die hele gemeente van Israel wat by die ingang van die tent van ontmoeting gestaan en huil het.

7 Toe Pinehas seun van Eleasar, seun van die priester Aäron, sien wat die man doen, het hy uit die gemeente opgestaan, 'n spies gevat

8 en die man na die vrouetent toe gevolg. Daar het hy die spies deur albei gesteek, deur die man tot in die onderlyf van die vrou. Daarmee het die ramp onder die Israeliete tot 'n einde gekom;

9 daar het vier en twintig duisend deur die ramp gesterf.

10

Die Here het toe vir Moses gesê:

11 “Pinehas seun van Eleasar, seun van die priester Aäron, het my toorn teen Israel laat ophou deurdat hy vir my eer opgekom het. Dit was nie nodig dat Ek self vir my eer moes opkom en die Israeliete vernietig nie.

12

“Daarom moet jy vir Pinehas sê dat Ek 'n verbond met hom sluit wat hom vir altyd ten goede sal kom.

13 Hierdie verbond verseker vir hom en vir sy nageslag 'n blywende priesterskap omdat hy vir die eer van sy God opgekom het en vir die Israeliete versoening gedoen het.”

14

Die Israelitiese man wat saam met die Midianitiese vrou doodgemaak is, was Simri seun van Salu, 'n vooraanstaande man uit die stam Simeon.

15 Die Midianitiese vrou wat doodgemaak is, was Kosbi dogter van Sur, 'n stamhoof van Midian.

16

Die Here het vir Moses gesê:

17 “Julle moet die Midianiete as julle vyande beskou en hulle doodmaak

18 omdat hulle vyandig opgetree het teen julle. Hulle het julle verlei deur julle in die strik te laat trap van Baäl-Peor en van hulle landgenoot Kosbi, 'n Midianitiese stamhoof se dogter wat doodgemaak is toe die ramp julle oor Peor getref het.”

26

1

Ná die ramp het die Here vir Moses en vir Eleasar seun van die priester Aäron gesê:

2 “Neem 'n sensus op van die hele volk Israel, van elke Israeliet van twintig jaar en ouer wat vir militêre diens geskik is. Julle moet dit familiegewys doen.”

3

Moses en die priester Eleasar het toe in die Moabsvlakte regoor Jerigo aan die Jordaan die opname gemaak

4 van almal van twintig jaar en ouer soos die Here vir Moses beveel het.

Hier volg die opgawe van die Israelitiese families wat uit Egipte gekom het:

5

Ruben, oudste seun van Israel: die Rubenfamilies was dié van Ganok,

6 Gesron en Karmi.

7 Die Rubenfamilies was altesaam 43 730 man.

8

Pallu se seun was Eliab,

9 en sy seuns was Nemuel, Datan en Abiram. Dit was dié Datan en Abiram wat as leiers deur die vergadering verkies was, maar teen Moses en Aäron in opstand gekom het toe die bende van Korag teen die Here in opstand gekom het.

10 Die grond het oopgeskeur en hulle ingesluk saam met Korag wie se bende omgekom het toe die vuur twee honderd en vyftig man verteer het. Dit was 'n waarskuwing vir Israel.

11 Die seuns van Korag het egter nie gesterf nie.

12

Die Simeonfamilies was dié van Jemuel, Jamin, Jakin,

13 Serag en Saul.

14 Die Simeonfamilies was altesaam 22 200 man.

15

Die Gadfamilies was dié van Sifjon, Gaggi, Suni,

16 Osni, Eri,

17 Arod en Areli.

18 Die Gadfamilies was altesaam 40 500 man.

19

Er en Onan was seuns van Juda, maar hulle is vroeër al in Kanaän oorlede.

20 Die Judafamilies was dié van Sela, Peres en Serag.

21 Die Peresfamilies was dié van Gesron en Gamul.

22 Die Judafamilies was altesaam 76 500 man.

23

Die Issaskarfamilies was dié van Tola, Puwwa,

24 Jasub en Simron.

25 Die Issaskarfamilies was altesaam 64 300 man.

26

Die Sebulonfamilies was dié van Sered, Elon en Jagleël.

27 Die Sebulonfamilies was altesaam 60 500 man.

28

Die Joseffamilies was dié van Manasse en Efraim.

29 Makir, voorvader van Gilead, was uit die Manassefamilie.

30 Die Gileadfamilie was dié van Iëser, Gelek,

31 Asriël, Sekem,

32 Semida, Gefer

33 en Selofgad. Selofgad seun van Gefer het nie seuns gehad nie, net dogters. Sy dogters was Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa.

34 Die Manassefamilies was altesaam 52 700 man.

35 Die Efraimfamilies was dié van Sutelag, Beker en Tagan.

36 Eran was uit die Sutelagfamilie.

37 Die Efraimfamilies was altesaam 32 500 man. Dit was al die Joseffamilies.

38

Die Benjaminfamilies was dié van Bela, Asbel, Agiram,

39 Sefufam en Gufam.

40 Die Belafamilies was dié van Ard en Naäman.

41 Die Benjaminfamilies was altesaam 45 600 man.

42

Die Danfamilie was dié van Sugam en sy nageslag. Dit was die enigste Danfamilie.

43 Die Sugamfamilie was altesaam 64 400 man.

44

Die Aserfamilies was dié van Jimna, Jiswi en Beria.

45 Die Beriafamilies was dié van Geber en Malkiël.

46 Aser het ook 'n dogter gehad, Serag.

47 Die Aserfamilies was altesaam 53 400 man.

48

Die Naftalifamilies was dié van Jagseël, Guni,

49 Jeser en Sillem.

50 Die Naftalifamilies was altesaam 45 400 man.

51

Die Israeliete was altesaam 601 730 man.

52

Daarna het die Here vir Moses gesê:

53 “Verdeel nou die land tussen die families en gee aan elkeen 'n eiendom volgens sy grootte:

54 aan 'n groot familie 'n groot eiendom en aan 'n klein familie 'n kleiner eiendom. Elkeen moet sy eiendom ontvang ooreenkomstig sy getal.

55 Die land moet verdeel word deur te loot. Elke stam moet 'n eiendom ontvang.

56 Bepaal vir elkeen sy eiendom deur loting tussen die groter en die kleiner stamme.”

57

Die Levifamilies wat getel is, was dié van Gerson, Kehat en Merari

58 en ook dié van Libni, Hebron, Magli, Musi en Korag. Kehat was die voorvader van Amram,

59 en Amram se vrou was Jogebed, ook uit die nageslag van Levi. Sy is in Egipte gebore en haar en Amram se kinders was Aäron en Moses en hulle suster Mirjam.

60 Aäron was die vader van Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar.

61 Nadab en Abihu is dood toe hulle ongeoorloofde vuur na die altaar toe gebring het.

62

Die Leviete van 'n maand en ouer was altesaam 23 000 man. Hulle is nie saam met die ander Israeliete getel nie, want hulle het nie self eiendom onder die Israeliete gekry nie.

63

Al hierdie mense is getel deur Moses en die priester Eleasar in die Moabsvlakte regoor Jerigo aan die Jordaan.

64 Onder hulle was daar egter niemand van die Israeliete wat deur Moses en die priester Aäron in die Sinaiwoestyn getel is nie.

65 Die Here het destyds vir daardie Israeliete gesê dat hulle beslis in die woestyn sou sterf. Nie een van húlle het toe oorgebly nie, behalwe Kaleb seun van Jefunne, en Josua seun van Nun.

27

1

Die dogters van Selofgad het na Moses toe gekom. Hulle het aan die Manassestam behoort. Selofgad was 'n seun van Gefer, seun van Gilead, seun van Makir, seun van Manasse, seun van Josef. Die dogters was Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa.

2

Hulle het voor Moses en die priester Eleasar en voor die leiers en die hele gemeente by die ingang van die tent van ontmoeting gaan staan en gesê:

3 “Ons pa is in die woestyn dood. Hy was nie een van Korag se bende wat teen die Here saamgesweer het nie. Hy het deur sy eie sondes gesterf en geen seuns gehad nie.

4 Waarom moet ons pa se naam uit sy familie verdwyn net omdat hy nie 'n seun gehad het nie? Gee vir ons grond tussen dié van sy familie.”

5

Moses het hulle saak voor die Here gebring,

6 en die Here het vir hom gesê:

7 “Selofgad se dogters het gelyk. Jy moet beslis vir hulle hulle eie grond tussen dié van hulle pa se familie gee. Gee vir hulle die grond wat hulle pa sou gekry het.

8

“Sê vir die Israeliete: As iemand sterf en hy het nie 'n seun nie, moet julle sy grond aan sy dogter gee.

9 As hy ook nie 'n dogter het nie, gee sy grond vir sy broers.

10 As hy nie broers het nie, gee dit vir sy ooms aan vaderskant.

11 En as sy pa nie broers gehad het nie, moet julle sy grond vir die naaste bloedverwant uit sy familie gee, dat dié dit kan besit.”

Dit moet vir die Israeliete 'n bindende voorskrif bly soos die Here vir Moses beveel het.

12

Die Here het vir Moses gesê: “Klim teen Abarimberg uit en bekyk die land wat Ek aan die Israeliete gee.

13 Nadat jy dit bekyk het, sal jy sterwe net soos jou broer Aäron,

14 want toe die volk by Meriba in die Sinwoestyn teen My in opstand gekom het, het julle julle teen my bevel verset en My, die Heilige, nie voor die volk gehoorsaam nie.”

Dit het gebeur by die Meribawaters by Kades in die Sinwoestyn.

15

Moses sê toe vir die Here:

16 “Dan moet U, Here, God wat aan alle mense die lewe gee, iemand oor hierdie volk aanstel

17 wat vir hulle 'n leier en aanvoerder kan wees sodat die volk van die Here nie soos skape sonder wagter sal wees nie.”

18

Toe sê die Here vir Moses: “Neem vir Josua seun van Nun, 'n man op wie my Gees is, en lê hom die hande op.

19 Laat hom voor die priester Eleasar en voor die hele volk staan en sê vir hom in hulle teenwoordigheid wat sy taak is.

20 Dra van jou gesag aan hom oor sodat die hele volk Israel hom kan gehoorsaam.

21 Maar hy moet altyd die priester Eleasar raadpleeg dat dié vir hom met die urim die beslissing van die Here vra. Alleen op Eleasar se bevel sal Josua en die hele volk Israel vir oorlog optrek en van die oorlog af terugkom.”

22

Moses het gedoen wat die Here hom beveel het. Hy het Josua voor die priester en die hele volk laat staan,

23 hom die hande opgelê en vir hom gesê wat sy taak is soos die Here deur Moses beveel het.

28

1

Die Here het vir Moses gesê:

2 “Beveel die Israeliete om op die bestemde tyd die offer te bring wat My toekom, die voedsel vir my vuuroffers wat deur My aanvaar word.”

3

“Sê vir hulle: Julle moet die volgende vuuroffer vir die Here bring: twee jaaroud lammers sonder liggaamsgebrek as gereelde brandoffers vir elke dag.

4 Offer een lam in die môre en een teen die aand

5 saam met een en 'n half kilogram meel as graanoffer, gemeng met 'n liter suiwer olie.

6 Dit is die gereelde brandoffer wat al by Sinaiberg gebring is, 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.

7 Wanneer julle die eerste lam offer, moet julle 'n liter wyn as drankoffer vir die Here by die heiligdom uitgiet.

8 Julle moet die tweede lam teen die aand offer, met dieselfde hoeveelheid meel, olie en wyn daarby as in die oggend. Dit is 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.”

9

“Op die sabbat moet julle twee jaaroud lammers sonder liggaamsgebrek offer, met daarby drie kilogram meel wat met olie gemeng is as graanoffer en met 'n drankoffer daarby.

10 Dit is die brandoffer vir elke sabbat afgesien van die gereelde brandoffer en die drankoffer daarby.”

11

“Op die eerste dag van elke maand moet julle vir die Here as brandoffer bring twee jong bulle, een ram en sewe jaaroud lammers, almal sonder liggaamsgebrek.

12 Saam met elke bul moet julle 'n graanoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie, saam met elke ram drie kilogram,

13 en saam met elke lam een en 'n half kilogram. Dit is die brandoffer, die vuuroffer, wat deur die Here aanvaar word.

14 Die drankoffer saam met elke bul is twee liter wyn, saam met elke ram een en 'n derde liter en saam met elke lam een liter. Dit is die brandoffer wat deur die jaar elke maand gebring moet word.

15 Afgesien van die gereelde brandoffer met die drankoffer daarby, moet 'n bokram as sondeoffer vir My gebring word.”

16

“Die paasfees moet op die veertiende van die eerste maand tot eer van die Here gevier word.

17 Op die vyftiende van dié maand moet daar 'n fees wees. Julle moet sewe dae lank net ongesuurde brood eet.

18 Op die eerste van die sewe dae moet daar 'n gewyde byeenkoms wees, dan mag julle geen gewone werk doen nie.

19 Julle moet vir die Here 'n vuuroffer, 'n brandoffer bring van twee jong bulle, 'n ram en sewe jaaroud lammers, almal sonder liggaamsgebrek.

20 Saam met elke bul moet julle 'n graanoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie, saam met die ram drie kilogram,

21 en saam met elk van die sewe lammers een en 'n half kilogram.

22 Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring om vir julle versoening te doen.

23 Julle moet hierdie offers bring afgesien van die gereelde brandoffers in die môre.

24 So moet julle sewe dae lank elke dag 'n voedseloffer, 'n vuuroffer, bring wat deur die Here aanvaar word. Dié offers moet gebring word afgesien van die gereelde brandoffer met die drankoffer daarby.

25 Ook op die sewende dag moet daar vir julle 'n gewyde byeenkoms wees, dan mag julle geen gewone werk doen nie.”

26

“Sewe weke na paasfees wanneer julle die fees van die weke tot eer van die Here begin vier en die graanoffer uit die nuwe oes bring, moet daar vir julle 'n gewyde byeenkoms wees, dan mag julle geen gewone werk doen nie.

27 Julle moet vir die Here as brandoffer wat deur Hom aanvaar word, twee jong bulle, 'n ram en sewe jaaroud lammers bring.

28 Saam met elke bul moet julle 'n graanoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie, saam met die ram drie kilogram,

29 en saam met elk van die sewe lammers een en 'n half kilogram.

30 Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring om vir julle versoening te doen.

31 Julle moet hierdie offers bring met die drankoffers daarby, afgesien van die gereelde brandoffer en die graanoffer daarby. Julle moet sorg dat die offerdiere sonder liggaamsgebrek is.”

29

1

“Op die eerste van die sewende maand moet daar vir julle 'n gewyde byeenkoms wees; dan mag julle geen gewone werk doen nie. Dit is 'n dag vol feesvreugde vir julle.

2 Julle moet as brandoffer, wat deur die Here aanvaar word, 'n jong bul, 'n ram en sewe jaaroud lammers bring, almal sonder liggaamsgebrek.

3 Saam met die bul moet julle 'n graanoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie, saam met die ram drie kilogram,

4 en saam met elk van die sewe lammers een en 'n half kilogram.

5 Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring om vir julle versoening te doen.

6 Julle moet hierdie offers bring afgesien van die maandelikse en die gereelde brandoffer met die graanoffer en die drankoffers daarby. Dit is 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.”

7

“Op die tiende van die sewende maand moet daar vir julle 'n gewyde byeenkoms wees; dan moet julle julle verootmoedig en mag julle geen werk doen nie.

8 Julle moet as 'n brandoffer wat deur die Here aanvaar word, 'n jong bul, 'n ram en sewe jaaroud lammers bring, almal sonder liggaamsgebrek.

9 Saam met die bul moet julle 'n graanoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie, saam met die ram drie kilogram,

10 en saam met elk van die sewe lammers een en 'n half kilogram.

11 Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die sondeoffer vir julle versoening en die gereelde brandoffer met die graanoffer en die drankoffers daarby.”

12

“Op die vyftiende van die sewende maand moet daar vir julle 'n gewyde byeenkoms wees; dan mag julle geen gewone werk doen nie. Sewe dae lank moet julle die huttefees vier tot eer van die Here.

13 Julle moet as brandoffer, as vuuroffer wat deur die Here aanvaar word, dertien jong bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers bring, almal sonder liggaamsgebrek.

14 Saam met elk van die dertien bulle moet julle 'n graanoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie, saam met elk van die twee ramme drie kilogram,

15 en saam met elk van die veertien lammers een en 'n half kilogram.

16 Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die gereelde brandoffer met die graan- en die drankoffer daarby.

17

“Op die tweede dag van die fees moet julle twaalf jong bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers offer, almal sonder liggaamsgebrek,

18 en daarmee saam die hoeveelheid graan- en drankoffers soos dit bepaal is.

19 Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die gereelde brandoffer met die graanoffer en die drankoffers daarby.

20

“Op die derde dag moet julle elf bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers offer, almal sonder liggaamsgebrek,

21 en daarmee saam die hoeveelheid graan- en drankoffers soos dit bepaal is.

22 Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring, afgesien van die gereelde brandoffer met die graan- en die drankoffer daarby.

23

“Op die vierde dag moet julle tien bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers offer, almal sonder liggaamsgebrek,

24 en daarmee saam die hoeveelheid graan- en drankoffers soos dit bepaal is.

25 Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die gereelde brandoffer met die graan- en die drankoffer daarby.

26

“Op die vyfde dag moet julle nege bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers offer, almal sonder liggaamsgebrek,

27 en daarmee saam die hoeveelheid graan- en drankoffers soos dit bepaal is.

28 Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die gereelde brandoffer met die graan- en die drankoffer daarby.

29

“Op die sesde dag moet julle ag bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers offer, almal sonder liggaamsgebrek,

30 en daarmee saam die hoeveelheid graan- en drankoffers soos dit bepaal is.

31 Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die gereelde brandoffer met die graanoffer en die drankoffers daarby.

32

“Op die sewende dag moet julle sewe bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers offer, almal sonder liggaamsgebrek,

33 en daarmee saam die hoeveelheid graan- en drankoffers soos dit bepaal is.

34 Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die gereelde brandoffer met die graan- en die drankoffer daarby.

35

“Die agste dag moet julle ook as 'n feesdag deurbring; dan mag julle geen gewone werk doen nie.

36 Julle moet as brandoffer wat deur die Here aanvaar word, 'n bul, 'n ram en sewe jaaroud lammers offer, almal sonder liggaamsgebrek,

37 en daarmee saam die hoeveelheid graan- en drankoffers soos dit bepaal is.

38 Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die gereelde brandoffer met die graan- en die drankoffer daarby.

39

“Dit is dan die brandoffers, die graanoffers, die drankoffers en die maaltydoffers wat julle in julle feestye vir die Here moet bring, julle gelofteoffers en vrywillige offers.”

40

Dit alles het Moses vir die Israeliete gesê soos die Here hom dit beveel het.

30

1

Moses het vir die leiers van die Israelitiese stamme gesê: “Dit is wat die Here beveel het:

2 As iemand aan die Here 'n gelofte doen of met 'n eed 'n verpligting op hom neem, mag hy sy woord nie breek nie; hy moet hom aan alles hou wat hy beloof het.

3

“As 'n jong vrou wat nog in haar ouerhuis is, 'n gelofte aan die Here doen of 'n verpligting op haar neem,

4 en haar pa hoor van die gelofte of die verpligting en hy maak nie daarteen beswaar nie, bly al die geloftes of die verpligtinge wat sy op haar geneem het, van krag.

5 Maar as haar pa dit afkeur wanneer hy daarvan hoor, is die geloftes of die verpligtinge wat sy op haar geneem het, nie van krag nie. Die Here sal dit nie teen haar hou nie omdat haar pa dit afgekeur het.

6

“As 'n vrou trou nadat sy aan die Here geloftes gedoen het, of onnadenkend 'n verpligting op haar geneem het,

7 en haar man hoor daarvan en maak die dag waarop hy daarvan hoor, geen beswaar nie, bly die geloftes of al die verpligtinge wat sy op haar geneem het, van krag.

8 Maar as haar man dit afkeur wanneer hy daarvan hoor, verklaar hy die gelofte of die verpligtinge wat sy onnadenkend op haar geneem het, nietig, en sal die Here dit nie teen haar hou nie.

9

“Enige gelofte wat 'n weduwee of 'n geskeide vrou gedoen het of enige verpligting wat sy op haar geneem het, bly van krag.

10

“As 'n getroude vrou 'n gelofte doen of met 'n eed 'n verpligting op haar neem,

11 en haar man hoor daarvan en maak nie beswaar nie en keur dit nie af nie, bly al haar geloftes en die verpligtinge wat sy op haar geneem het, van krag.

12 Maar as haar man die geloftes uitdruklik nietig verklaar wanneer hy daarvan hoor, is alles wat sy gesê het, haar geloftes of verpligtinge, nie van krag nie, en sal die Here dit nie teen haar hou nie.

13 Elke gelofte of eed waarmee sy haarself wil kasty, kan deur haar man van krag gemaak of nietig verklaar word.

14 As haar man nie voor die volgende dag beswaar maak nie, maak hy al haar geloftes of al die verpligtinge wat sy op haar geneem het, van krag. Hy het dit dan van krag gemaak deurdat hy geen beswaar gemaak het toe hy daarvan gehoor het nie.

15 As hy egter die geloftes of verpligtinge eers lank nadat hy daarvan gehoor het, nietig verklaar, dra hy die skuld daarvoor, nie sy nie.”

16

Dit is die voorskrifte wat die Here aan Moses gegee het oor die verhouding tussen 'n man en sy vrou, en tussen 'n pa en sy ongetroude dogter wat nog in haar ouerhuis is.

31

1

Die Here het vir Moses gesê:

2 “Die Israeliete moet die Midianiete straf vir wat hulle julle aangedoen het. Daarna sal jy sterwe.”

3

Moses het toe vir die volk gesê: “Bewapen manne vir die oorlog en laat hulle teen die Midianiete optrek om hulle te straf in die Naam van die Here.

4 Stuur uit elke stam van Israel duisend man om te gaan veg.”

5

Daar is toe twaalf duisend man uit die stamme van Israel aangewys, duisend uit elke stam, almal toegerus vir die oorlog.

6 Moses het hulle, duisend uit elke stam, saam met Pinehas seun van die priester Eleasar gestuur om te gaan veg. Pinehas het gewyde voorwerpe, die trompette om die seine te gee, saamgevat.

7 Hulle het oorlog gemaak teen die Midianiete soos die Here vir Moses beveel het en al die mans doodgemaak.

8 Onder die gesneuweldes was die vyf Midianitiese konings Ewi, Rekem, Sur, Gur en Reba. Die Israeliete het ook vir Bileam seun van Beor doodgemaak.

9 Hulle het die Midianitiese vrouens met hulle kinders gevange geneem, en al die beeste, kleinvee en besittings buitgemaak.

10 Die Israeliete het al die stede in die gebied van die Midianiete en al hulle ander blyplekke verbrand.

11 Daarna het die Israeliete alles wat hulle gebuit en geroof het, mens en dier, gevat

12 en die gevangenes, die roof en die buit na Moses en die priester Eleasar en die volk Israel toe gebring in die kamp in die Moabsvlakte regoor Jerigo aan die Jordaan.

13

Moses en die priester Eleasar en al die leiers van die volk het die leër buite die kamp gaan ontmoet.

14 Moses was kwaad vir die bevelvoerders van die leër, die bevelvoerders oor duisend en oor honderd wat van die veldtog af teruggekom het.

15 Hy het vir hulle gesê: “Julle het al die vrouens in die lewe laat bly,

16 en deur toedoen van Bileam was juis húlle die oorsaak dat die Israeliete by Peor ontrou was aan die Here en daar 'n ramp oor die volk van die Here gekom het!

17 Maak al die seuntjies dood en elke vrou wat al met 'n man gemeenskap gehad het.

18 Maar elke dogter wat nog nie met 'n man gemeenskap gehad het nie, mag julle laat lewe en vir julle vat.

19 Dié van julle wat iemand doodgemaak het of aan 'n lyk geraak het, moet sewe dae buite die kamp bly. Op die derde en die sewende dag moet julle julleself en julle gevangenes reinig.

20 Julle moet ook al julle klere en alles wat van vel of bokhaar of hout gemaak is, reinig.”

21

Die priester Eleasar het vir die soldate wat gaan oorlog maak het, gesê: “Die voorskrif wat die Here aan Moses geopenbaar het, is:

22 goud, silwer, brons, yster, tin, lood,

23 alles wat nie kan verbrand nie, moet deur julle met vuur gereinig word en daarna met reinigingswater. Alles wat kan verbrand, moet deur julle met reinigingswater gereinig word.

24 Op die sewende dag moet julle julle klere was en sal julle rein wees. Daarna mag julle na die kamp toe terugkom.”

25

Die Here het vir Moses gesê:

26 “Jy en die priester Eleasar en die familiehoofde van die volk moet al die mense wat gevang is en die diere wat buitgemaak is, tel.

27 Dan moet julle die buit verdeel tussen dié wat by die oorlog betrokke was en gaan veg het, en die res van die volk.

28 Jy moet van die soldate wat gaan veg het, 'n offergawe vir die Here neem, een op vyf honderd uit die mense, beeste, donkies en kleinvee.

29 Die bydrae wat jy uit hulle deel vat, moet jy aan die priester Eleasar gee as 'n offergawe aan die Here.

30 Uit die deel van die res van die Israeliete moet jy een op vyftig vat, uit die mense, beeste, donkies, kleinvee en ander diere, en dit aan die Leviete gee wat die diens by die tabernakel van die Here behartig.”

31

Moses en die priester Eleasar het gedoen soos die Here vir Moses beveel het.

32 Die buit wat behoue gebly het uit wat die soldate geroof het, was ses honderd vyf en sewentig duisend stuks kleinvee,

33 twee en sewentig duisend beeste,

34 een en sestig duisend donkies,

35 twee en dertig duisend vrouens wat nog nie met mans gemeenskap gehad het nie.

36

Die soldate wat gaan veg het, se deel was drie honderd sewe en dertig duisend vyf honderd stuks kleinvee,

37 waarvan ses honderd vyf en sewentig as offergawe aan die Here,

38 ses en dertig duisend beeste, waarvan twee en sewentig as offergawe aan die Here,

39 dertig duisend vyf honderd donkies waarvan een en sestig as offergawe aan die Here,

40 en sestien duisend mense van wie twee en dertig as offergawe aan die Here.

41

Moses het die offergawe aan die Here vir die priester Eleasar gegee soos die Here hom beveel het.

42

Die ander Israeliete se deel wat deur Moses van dié van die soldate afgesonder is,

43 die volk se helfte, was drie honderd sewe en dertig duisend vyf honderd stuks kleinvee,

44 ses en dertig duisend beeste,

45 dertig duisend vyf honderd donkies en

46 sestien duisend mense.

47 Van die Israeliete se helfte het Moses een uit elke vyftig persone en diere gevat soos die Here hom beveel het, en dit aan die Leviete gegee wat die diens by die tabernakel van die Here behartig.

48

Toe het die bevelvoerders van die leërafdelings, die bevelvoerders oor duisend en oor honderd, na Moses toe gekom

49 en gesê: “Ons het die soldate wat onder ons bevel was, getel, en daar word nie een vermis nie.

50 Daarom bring ons as offergawe aan die Here al die goue goed wat ons gekry het: armkettings en armbande, seëlringe, oorringe en halskettings. Dit moet vir ons versoening doen by die Here.”

51

Moses en die priester Eleasar het al die goue sierade in ontvangs geneem.

52 Al die goud wat hulle van die bevelvoerders ontvang het en wat as offergawe aan die Here gegee is, het amper twee honderd kilogram geweeg.

53 Die soldate het hulle buit vir hulleself gehou.

54 Moses en die priester Eleasar het die goud by die bevelvoerders in ontvangs geneem en dit na die tent van ontmoeting toe gebring. Dit moes die Here altyd aan Israel herinner.

32

1

Die stamme Ruben en Gad het groot troppe vee besit. Hulle het gesien dat die Jaser- en Gileadstreke goeie veewêreld is,

2 en het toe vir Moses, die priester Eleasar en die volksleiers gaan sê:

3 “Die streke Atarot, Dibon, Jaser, Nimra, Gesbon, Elale, Sibma, Nebo en Baäl-Meon

4 wat deur die Here vir die volk Israel verower is, is goeie veewêreld, en ons het baie vee.

5 As u dit goedvind,” het hulle gesê, “gee dan hierdie gebied vir ons as besitting en moet ons nie verplig om deur die Jordaan te trek nie.”

6

Moses sê toe vir hulle: “Moet julle volksgenote gaan veg terwyl julle hier bly?

7 Waarom wil julle die ander Israeliete ontmoedig om na die land toe te trek wat die Here vir hulle gegee het?

8 So het julle voorvaders ook gemaak toe ek hulle van Kades-Barnea af gestuur het om die land te verken.

9 Hulle het tot by Eskolspruit gegaan en die land verken, en toe die Israeliete ontmoedig, sodat hulle nie na die land toe wou gaan wat die Here vir hulle gegee het nie.

10 [10-11] Dié dag het die Here baie kwaad geword omdat hulle Hom nie getrou gevolg het nie. Hy het met 'n eed verklaar dat die manne van twintig jaar en ouer wat uit Egipte getrek het, nie die land sou sien wat Hy met 'n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het nie.

11

12 Net Kaleb seun van Jefunne, die Kenassiet, en Josua seun van Nun sal die land sien, want hulle het die Here getrou gevolg.

13 Die Here was baie kwaad vir Israel en het hulle veertig jaar lank in die woestyn laat rondswerf, totdat die hele geslag omgekom het wat in sy oë verkeerd gedoen het.

14 En nou kom julle, sondaarsgeslag, net soos julle voorvaders destyds, en julle maak die Here nog meer kwaad vir Israel.

15 As julle nou aan Hom ontrou is, sal Hy die hele volk nog langer in die woestyn laat bly en hulle tot niet laat gaan.”

16

Hulle het toe vir Moses gesê: “Ons sal hier krale bou vir ons kleinvee en stede vir ons gesinne,

17 maar ons sal dadelik ons wapens vat en aan die voorpunt van die Israeliete trek totdat ons hulle by hulle bestemming gebring het. Intussen kan ons gesinne in die versterkte stede woon en so sal hulle veilig wees teen die inwoners van die land.

18 Ons sal nie na ons huise toe terugkom voordat elke Israeliet sy besitting ontvang het nie.

19 Ons wil nie saam met hulle aan die westekant van die Jordaan ons besitting hê nie, ons wil ons besitting hier oos van die Jordaan hê.”

20

Toe het Moses vir hulle gesê: “Doen dit dan. Vat julle wapens en trek op voor die ark van die Here uit om te gaan veg.

21 Al julle gewapende manne moet deur die Jordaan gaan en voor die ark van die Here uit optrek, totdat Hy sy vyande verslaan het.

22 Eers wanneer die Here die land onderwerp het, mag julle terugkom en sal julle vrygestel wees van julle verpligting teenoor die Here en teenoor Israel. Dan kan julle hierdie gebied uit die hand van die Here ontvang as julle besitting.

23 Maar as julle dit nie doen nie, sondig julle teen die Here en moet julle weet dat julle sonde julle sal agterhaal.

24 Bou gerus die stede vir julle gesinne en die krale vir julle kleinvee, maar doen wat julle gesê het.”

25

Die mense van Gad en Ruben het toe vir Moses gesê: “Ons sal doen soos u gesê het.

26 Ons vrouens en kinders, ons kleinvee en ons beeste sal hier in die stede van Gilead bly,

27 maar al ons gewapende manne sal voor die ark van die Here uit optrek om te gaan veg soos u gesê het.”

28

Moses het toe vir die priester Eleasar, vir Josua seun van Nun en vir die leiers van die stamme van Israel

29 gesê: “As die mense van Gad en Ruben, al hulle gewapende manne, saam met julle deur die Jordaan gaan en voor die ark van die Here uit optrek om te gaan veg, en die land aan julle onderwerp is, moet julle die Gileadgebied aan hulle as 'n besitting gee.

30 Maar as hulle gewapende manne nie saam met julle gaan nie, moet hulle tussen julle in Kanaän 'n besitting kry.”

31

Die mense van Gad en Ruben het toe geantwoord: “Ons sal doen wat die Here vir ons gesê het.

32 Ons gewapende manne sal voor die ark van die Here uit optrek na Kanaän toe, maar ons besitting moet hier oos van die Jordaan wees.”

33

Moses het toe die koninkryk van koning Sihon van die Amoriete, en die koninkryk van koning Og van Basan, die hele streek met sy stede en die gebied daar rondom, aan die stamme Gad en Ruben en aan die halwe stam van Manasse seun van Josef gegee.

34

Die mense van Gad het Dibon, Atarot, Aroër,

35 Atrot-Sofan, Jaser, Jogboha,

36 Bet-Nimra en Bet-Haram as vestingstede ingerig en ook krale vir hulle kleinvee gebou.

37

Die mense van Ruben het die volgende stede herbou: Gesbon, Elale, Kirjatajim,

38 Nebo, Baäl-Meon, waarvan die naam verander is, en Sibma. Hulle het die ander stede wat hulle herbou het, se name behou.

39

Die afstammelinge van Makir seun van Manasse het na Gilead toe gegaan, dit verower en die Amoriete wat daar was, uitgedryf.

40 Moses het Gilead toe aan die mense van Makir seun van Manasse gegee, en hulle het daar gaan woon.

41

Jaïr, ook 'n afstammeling van Manasse, het die tentdorpe gaan verower, en hulle tentdorpe van Jaïr genoem.

42

Nobag het Kenat en sy buitedorpe gaan verower, en die plek Nobag genoem, na homself.

33

1

Hier volg nou 'n oorsig van die Israeliete se kampplekke nadat hulle volgens stamindeling onder leiding van Moses en Aäron uit Egipte getrek het.

2 Op bevel van die Here het Moses soos hulle getrek het die name van die kampplekke aangeteken. Dit is hoe hulle getrek het:

3 Hulle het uit Rameses vertrek op die vyftiende van die eerste maand, die dag ná die paasfees. Deur die magtige dade van die Here het hulle voor die oë van die Egiptenaars weggetrek

4 terwyl die Egiptenaars nog besig was om hulle eersgeborenes, wat deur die Here om die lewe gebring is, te begrawe. Dit is hoe die Here die oordeel oor hulle gode voltrek het.

5 Die Israeliete het van Rameses af weggetrek en by Sukkot kamp opgeslaan.

6 Hulle het Sukkot verlaat en kamp opgeslaan by Etam aan die rand van die woestyn.

7 Hulle het Etam verlaat, en is toe terug na Pi-Hagirot, regoor Baäl-Sefon, en het by Migdol kamp opgeslaan.

8 Hulle het die omgewing van Pi-Hagirot verlaat en deur die Rietsee na die woestyn toe getrek. Na drie dae se trek deur die Etamwoestyn het hulle by Mara kamp opgeslaan.

9 Hulle het Mara verlaat en by Elim aangekom. Daar was twaalf fonteine en sewentig palmbome, en hulle het daar kamp opgeslaan.

10 Hulle het van Elim af teruggedraai en by die Rietsee kamp opgeslaan.

11

Hulle het die Rietsee verlaat en in die Sinwoestyn kamp opgeslaan.

12 Hulle het die Sinwoestyn verlaat en by Dofka kamp opgeslaan.

13 Hulle het Dofka verlaat en by Alus kamp opgeslaan.

14 Hulle het Alus verlaat en by Refidim kamp opgeslaan. Daar was nie drinkwater vir die volk nie.

15 Hulle het Refidim verlaat en in die Sinaiwoestyn kamp opgeslaan.

16 Hulle het die Sinaiwoestyn verlaat en by Kibrot-Taäwa kamp opgeslaan.

17 Hulle het Kibrot-Taäwa verlaat en by Gaserot kamp opgeslaan.

18 Hulle het Gaserot verlaat en by Ritma kamp opgeslaan.

19 Hulle het Ritma verlaat en by Rimmon-Peres kamp opgeslaan.

20 Hulle het Rimmon-Peres verlaat en by Libna kamp opgeslaan.

21 Hulle het Libna verlaat en by Rissa kamp opgeslaan.

22 Hulle het Rissa verlaat en by Kehelata kamp opgeslaan.

23 Hulle het Kehelata verlaat en by Har-Sefer kamp opgeslaan.

24 Hulle het Har-Sefer verlaat en by Garada kamp opgeslaan.

25 Hulle het Garada verlaat en by Makhelot kamp opgeslaan.

26 Hulle het Makhelot verlaat en by Tagat kamp opgeslaan.

27 Hulle het Tagat verlaat en by Terag kamp opgeslaan.

28

Hulle het Terag verlaat en by Mitka kamp opgeslaan.

29 Hulle het Mitka verlaat en by Gasmona kamp opgeslaan.

30 Hulle het Gasmona verlaat en by Moserot kamp opgeslaan.

31 Hulle het Moserot verlaat en by Bene-Jaäkan kamp opgeslaan.

32 Hulle het Bene-Jaäkan verlaat en by Gor-Gidgad kamp opgeslaan.

33 Hulle het Gor-Gidgad verlaat en by Jotbata kamp opgeslaan.

34 Hulle het Jotbata verlaat en by Abrona kamp opgeslaan.

35 Hulle het Abrona verlaat en by Esjon-Geber kamp opgeslaan.

36 Hulle het Esjon-Geber verlaat en by Kades in die Sinwoestyn kamp opgeslaan.

37 Hulle het Kades verlaat en by Horberg aan die grens van Edom kamp opgeslaan.

38

Op bevel van die Here het die priester Aäron teen Horberg uitgeklim en daar op die eerste van die vyfde maand in die veertigste jaar ná die Israeliete se uittog uit Egipte gesterf.

39 Aäron was honderd drie en twintig jaar toe hy op Horberg dood is.

40 Die Kanaänitiese koning van Arad, wat in die Suidland van Kanaän gewoon het, het gehoor dat die Israeliete aan die kom is.

41 Die Israeliete het Horberg verlaat en by Salmona kamp opgeslaan.

42 Hulle het Salmona verlaat en by Punon kamp opgeslaan.

43 Hulle het Punon verlaat en by Obot kamp opgeslaan.

44 Hulle het Obot verlaat en by Ije-Abarim aan die grens van Moab kamp opgeslaan.

45 Hulle het Ije-Abarim verlaat en by Dibon-Gad kamp opgeslaan.

46 Hulle het Dibon-Gad verlaat en by Almon-Diblatajim kamp opgeslaan.

47 Hulle het Almon-Diblatajim verlaat en in die Abarimberge regoor Nebo kamp opgeslaan.

48 Hulle het die Abarimberge verlaat en in die Moabsvlakte aan die Jordaan regoor Jerigo kamp opgeslaan.

49 Daar in die Moabsvlakte aan die Jordaan, tussen Bet-Jesimot en Abel-Sittim, het hulle kamp opgeslaan.

50

In die Moabsvlakte aan die Jordaan regoor Jerigo het die Here vir Moses gesê:

51 “Praat met die Israeliete en sê vir hulle: As julle die Jordaan na Kanaän toe oorsteek,

52 moet julle al die inwoners van dié land verdrywe. Vernietig al die afgodsbeelde wat hulle vir hulle uitgesny en gegiet het, en verwoes al hulle hoogtes.

53 Neem die land in besit en gaan woon daar, want Ek gee die land aan julle as besitting.

54 Verdeel die land deur loting volgens julle stamme. Gee meer grond aan 'n groter groep, en minder aan 'n kleiner groep. Elkeen kry sy deel waar die lot dit aanwys. Elke stam moet sy eie grond hê.

55 As julle nie al die inwoners van die land verdryf nie, sal dié van hulle wat oorbly, soos splinters in julle oë en soos dorings in julle sye wees. Hulle sal teen julle oorlog maak oor die land waarin julle woon,

56 en dan sal Ek aan júlle doen wat Ek aan húlle wou doen!”

34

1

Die Here het vir Moses gesê:

2 “Jy moet vir die Israeliete sê: Wanneer julle in Kanaän kom, moet die land wat vir julle as besitting aangewys is, die volgende grense hê:

3

“Julle suidgrens is die grens van die Suidland, van die Sinwoestyn af tot teen Edom. Aan die oostekant begin hierdie grens by die suidelike punt van die Soutsee,

4 daarvandaan draai dit suid van Skerpioenpas weg en loop dit deur tot by Sin. Daarvandaan gaan dit suid van Kades-Barnea tot by Gasar-Addar en dan verby tot by Asmon,

5 waar dit wegdraai en met Egiptespruit langs loop tot by die see.

6

“Julle wesgrens is die Groot See.

7

“Julle noordgrens moet loop van die Groot See af: trek 'n lyn van daar af tot by Horberg in die noorde,

8 en van daar af tot by Lebo-Hamat. Daarvandaan loop die grens na Sedad toe

9 en verder tot by Sifron en Gasar-Enan. Dit is julle noordgrens.

10

“Vir julle oosgrens moet julle 'n lyn trek van Gasar-Enan af tot by Sefam.

11 Die grens loop dan van Sefam af tot by Ribla, oos van Ajin, en daarvandaan teen die oostelike oewer van die Gennesaretmeer en dan met

12 die Jordaan langs tot by die Soutsee.

“Dit is die grense van julle hele land.”

13

Moses het vir die Israeliete gesê: “Dit is die land wat julle deur loting moet verdeel, die gebied wat volgens bevel van die Here aan die nege en 'n halwe stamme gegee moet word.

14 Die families in die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam het reeds hulle grond gekry.

15 Hierdie twee en 'n halwe stamme het hulle grond regoor Jerigo, oos van die Jordaan, gekry.”

16

Die Here het ook nog vir Moses gesê:

17 “Die manne wat die land vir julle moet verdeel, is die priester Eleasar en Josua seun van Nun.

18 Stel een leier uit elke stam aan om die land te help verdeel.

19 Die name van dié manne is:

“Kaleb seun van Jefunne vir die stam Juda;

20

Samuel seun van Ammihud vir die stam Simeon;

21

Elidad seun van Kislon vir die stam Benjamin;

22

Bukki, seun van Jogli, leier van die stam Dan;

23

Ganniël, seun van Efod, leier van die stam Manasse seun van Josef;

24

Kemuel, seun van Siftan, leier van die stam Efraim;

25

Elisafan, seun van Parnak, leier van die stam Sebulon;

26

Paltiël, seun van Assan, leier van die stam Issaskar;

27

Agihud, seun van Selomi, leier van die stam Aser;

28

Pedael, seun van Ammihud, leier van die stam Naftali.”

29

Dit is die manne aan wie die Here opdrag gegee het om Kanaän onder die Israeliete te help verdeel.

35

1

In die Moabsvlakte aan die Jordaan, regoor Jerigo, het die Here vir Moses gesê:

2 “Sê vir die Israeliete hulle moet in die gebiede wat hulle besit, vir die Leviete stede gee om in te woon, en ook weiveld rondom die stede.

3 Dan sal hulle stede hê om in te woon, en ook weivelde vir hulle beeste, hulle kleinvee en ander diere.

4 Julle moet 'n strook van ten minste vier honderd en vyftig meter wyd buite die stadsmuur vir die Leviete as weiveld gee.

5 Meet van die buitekant van die stad af aan die oostekant nege honderd meter, aan die suidekant nege honderd meter, aan die westekant nege honderd meter, en aan die noordekant nege honderd meter, met die stad in die middel. Dit sal hulle weiveld rondom die stede wees.

6

“Ses van die stede wat julle vir die Leviete gee, moet asielstede wees waarheen iemand wat 'n ander se dood veroorsaak het, kan vlug. Afgesien hiervan moet julle vir die Leviete nog twee en veertig stede gee.

7 Julle moet vir hulle altesaam ag en veertig stede met hulle weivelde gee.

8 Die stede wat julle in die gebied van elke stam aan die Leviete gee, moet volgens die grootte van die gebied wees wat elke stam gekry het: meer stede van die groter stamme en minder van die kleiner stamme.”

9

Die Here het vir Moses gesê:

10 “Sê vir die Israeliete: Wanneer julle deur die Jordaan na Kanaän toe trek,

11 moet julle stede aanwys wat asielstede vir julle kan wees waarheen 'n persoon kan vlug wat onopsetlik die dood van 'n ander veroorsaak het.

12 Dit moet vir julle plekke wees waar julle veilig is teen die wraak van 'n bloedverwant van die oorledene, sodat iemand wat 'n ander se dood veroorsaak het, nie hoef te sterf voordat hy sy saak voor die bevoegde vergadering gelê het nie.

13 Die ses stede wat julle gee, sal vir julle asielstede wees.

14 Julle moet drie asielstede oos van die Jordaan en drie in Kanaän beskikbaar stel.

15 Die ses stede moet plekke van asiel wees vir Israeliete sowel as vir vreemdelinge en ander uitlanders tussen julle, sodat elkeen wat onopsetlik die dood van 'n ander veroorsaak het, daarheen kan vlug.

16

“As iemand 'n ander met 'n stuk yster slaan, sodat hy sterf, is hy 'n moordenaar en moet hy beslis doodgemaak word.

17 As iemand in sy hand 'n klip het wat groot genoeg is om 'n mens mee dood te maak, en hy slaan 'n ander daarmee dat hy sterf, is hy 'n moordenaar en moet hy beslis doodgemaak word.

18 As iemand in sy hand 'n stuk hout het wat groot genoeg is om 'n mens mee dood te maak, en hy slaan 'n ander dat hy sterf, is hy 'n moordenaar en moet hy beslis doodgemaak word.

19 'n Bloedverwant van die oorledene moet die dood wreek en die moordenaar doodmaak waar hy hom ook al kry.

20 As iemand 'n ander uit haat stamp of hom doelbewus met iets gooi, sodat hy sterf

21 of hom uit vyandskap met die vuis slaan, sodat hy sterf, moet so iemand doodgemaak word; hy is 'n moordenaar. 'n Bloedverwant van die oorledene moet die dood wreek en die moordenaar doodmaak waar hy hom ook al kry.

22

“Maar as iemand sonder opset en sonder vyandskap 'n ander stamp of hom per ongeluk raakgooi

23 of as iemand sonder dat hy kyk 'n klip gooi wat die dood kan veroorsaak, en dit 'n ander tref, sodat hy sterf, en hy wat gegooi het, het dit nie uit vyandskap of met verkeerde bedoelings gedoen nie,

24 moet die bevoegde vergadering volgens hierdie bepalings uitspraak lewer tussen hom wat die dood veroorsaak het en die bloedverwant wat die dood wil wreek.

25 Die vergadering moet die beskuldigde bevry uit die mag van die bloedverwant en hom terugstuur na die asielstad toe waarheen hy gevlug het. Dáár moet hy bly totdat die hoëpriester, die man wat met gewyde olie gesalf is, gesterf het.

26 Maar as die een wat die dood veroorsaak het, hom waag buite die gebied van die asielstad waarheen hy gevlug het,

27 en die bloedverwant wat die dood wil wreek, loop hom raak, mag die bloedverwant hom doodmaak sonder om skuldig te wees aan moord.

28 Die man wat die dood veroorsaak het, moet in die asielstad bly tot die dood van die hoëpriester, en eers ná die dood van die hoëpriester kan hy na sy eie grond toe teruggaan.

29

“Dit is 'n vaste voorskrif vir julle en vir julle nageslag, waar julle ook al mag woon.

30 Enigeen wat die dood van 'n ander veroorsaak, mag slegs as moordenaar doodgemaak word op grond van die getuienis van meer as een persoon. Een getuie is nie genoeg om iemand met die dood te straf nie.

31 Julle mag nie loskoopgeld aanneem vir die lewe van 'n moordenaar wat die dood skuldig is nie. Hy moet beslis doodgemaak word.

32 Julle mag ook nie loskoopgeld aanneem vir iemand wat na sy asielstad toe gevlug het en voor die dood van die hoëpriester na sy grond toe teruggekeer het nie.

33 Julle mag die land waarin julle woon, nie onrein maak nie, want bloedvergieting verontreinig die land en daar kan alleen deur die dood van hom wat die bloed vergiet het, versoening gedoen word vir die land waarin die bloed vergiet is.

34 Julle moenie die land waarin julle bly en waar Ek teenwoordig is, onrein maak nie, want Ek, die Here, is teenwoordig by die Israeliete.”

36

1

Die familiehoofde van die mense van Gilead seun van Makir, seun van Manasse uit die Josefstam, het met Moses en die leiers, die familiehoofde van die Israeliete, kom praat

2 en gesê: “Toe die Here u beveel het om die land tussen die Israeliete te verdeel, het die Here u ook opdrag gegee om die grond wat ons stamverwant Selofgad toegekom het, aan sy dogters te gee.

3 As hulle nou met mans uit ander Israelitiese stamme trou, sal hulle grond wegval uit ons familiebesitting en gevoeg word by dié van die stam waaraan hulle dan sal behoort. So sal die grond wat aan ons toegewys is, van ons weggeneem word.

4 As die hersteljaar vir die Israeliete aanbreek, sal die dogters se grond gevoeg word by die stam waaraan hulle dan behoort, en so sal hulle grond van dié van ons families weggeneem word.”

5

Op bevel van die Here het Moses toe die volgende opdrag aan die Israeliete gegee: “Wat die mense van die Josefstam sê, is reg.

6 Die Here het ten opsigte van Selofgad se dogters beveel dat hulle met enigiemand mag trou wat hulle goedvind solank hulle binne die stamverband trou.

7 Geen grond van die Israeliete mag van die een stam op 'n ander oorgaan nie, want elke Israeliet moet vashou aan sy deel van die stam se grond.

8 Elke dogter wat grond besit in een van die Israelitiese gebiede, moet met iemand uit haar pa se stam trou, sodat die familiegrond vir elke Israeliet behoue bly.

9 Geen grond mag van een stam op 'n ander oorgaan nie; elke Israelitiese stam moet aan sy grond vashou.”

10

Die dogters van Selofgad het gedoen soos die Here vir Moses beveel het.

11 Hulle almal, Magla, Tirsa, Gogla, Milka en Noa, het met hulle neefs aan vaderskant getrou.

12 Hulle het getrou binne die stam van Manasse seun van Josef, en hulle grond het deel gebly van dié van hulle pa se stam.

13 Dit is die gebooie en bepalings wat die Here deur middel van Moses die Israeliete beveel het in die Moabsvlakte aan die Jordaan, regoor Jerigo.