1

1

Die Here het vir Moses geroep en uit die tent van ontmoeting vir hom gesê:

2 “Praat met die Israeliete en sê vir hulle: Wanneer een van julle vir die Here 'n offer wil aanbied, kan hy dit aanbied uit sy beeste of uit sy kleinvee.

3

“As dit 'n brandoffer uit die beeste is, bied die man 'n bul aan sonder liggaamsgebrek. Hy bied dit aan by die ingang van die tent van ontmoeting sodat dit vir die Here aanneemlik sal wees.

4 Daarna sit hy sy hand op die offerdier se kop sodat dit aanvaar sal word as versoening vir hom.

5 Dan slag hy die bul daar in die teenwoordigheid van die Here, en die Aäronitiese priesters bring die bloed en sprinkel dit rondom teen die altaar by die ingang van die tent van ontmoeting.

6 Die man slag die offerdier af en sny dit in stukke op.

7 Die Aäronitiese priesters maak dan vuur op die altaar en sit hout op die vuur.

8 Dan sit hulle die stukke vleis, die kop en die niervet op die hout op die altaarvuur.

9 Die man was die binnegoed en die pote af, en 'n priester verbrand alles op die altaar. Dit is die brandoffer, 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.

10

“As dit 'n offer uit die kleinvee is, 'n brandoffer uit die skape of bokke, bied die man 'n ram aan sonder liggaamsgebrek.

11 Hy slag die dier daar in die teenwoordigheid van die Here, aan die noordekant van die altaar, en die Aäronitiese priesters sprinkel die bloed rondom teen die altaar.

12 Dan sny die man die offerdier in stukke op, en die priesters sit die stukke vleis, die kop en die niervet op die hout op die altaarvuur.

13 Die man was die binnegoed en die pote af, en die priester bring alles op die altaar en verbrand dit. Dit is die brandoffer, 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.

14

“As dit 'n brandoffer van voëls is wat iemand vir die Here wil offer, bied hy 'n tortelduif of 'n ander duif aan.

15 Die priester bring dit op die altaar, knyp die kop af en verbrand dit op die altaar. Die bloed word eers teen die kante van die altaar uitgedruk;

16 dan verwyder die priester die krop en die vere en gooi dit langs die altaar aan die oostekant op die plek vir die as,

17 en nadat hy die duif tussen die vlerke oopgeskeur het sonder om dit heeltemal middeldeur te skeur, verbrand hy dit in die vuur op die altaar. Dit is die brandoffer, 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.”

2

1

“Wanneer iemand vir die Here 'n graanoffer wil aanbied, kan hy meel aanbied. Hy gooi daar olie oor en sit wierook bo-op.

2 Dan bring hy dit na die Aäronitiese priesters toe, vat 'n handvol van die meel en die olie, en al die wierook, en die priester verbrand dit op die altaar as simbool van die hele offer. Dit is 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.

3 Die oorblywende deel van die graanoffer is vir Aäron en sy seuns. Dit is 'n besondere gewyde gawe, 'n deel van die vuuroffer wat vir die Here gebring is.

4

“Wanneer jy 'n graanoffer uit die oond aanbied, moet dit van fynmeel wees. Dit kan ongesuurde ringbrood wees, met olie geknie, of ongesuurde roosterkoek, met olie gesmeer.

5 As jou graanoffer op 'n bakplaat gebak word, moet dit van fynmeel wees, geknie met olie en sonder suurdeeg.

6 Jy breek dit in stukke en gooi olie daaroor. Dit is die graanoffer.

7 As jou graanoffer in 'n bakpan gebak word, maak jy die fynmeel met olie aan.

8

“Jy bring dan die graanoffer wat jy op een van dié maniere vir die Here klaargemaak het, na die priester toe, en hy bring dit na die altaar toe.

9 Die priester vat die deel wat as simbool vir die hele offer dien en verbrand dit op die altaar. Dit is 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.

10 Die oorblywende deel van die graanoffer is vir Aäron en sy seuns. Dit is 'n besondere gewyde gawe, 'n deel van die vuuroffer wat vir die Here gebring is.

11

“Geen graanoffer wat vir die Here aangebied word, mag suurdeeg in hê nie. Julle mag geen suurdeeg of heuning verbrand as 'n vuuroffer vir die Here nie.

12 Julle mag dit as eerstelingoffer vir die Here aanbied, maar op die altaar mag dit nie kom as 'n offer wat deur die Here aanvaar word nie.

13 Gooi sout by al jou graanoffers. Die sout herinner aan die verbond met jou God; moenie dat dit in jou graanoffers ontbreek nie. Bied sout aan op al jou graanoffers.

14

“Wanneer jy vir die Here 'n graanoffer uit die eerste opbrengs van die oes aanbied, kan dit gebraaide koring of stampkoring wees. Jy bied dit aan as die graanoffer uit die eerste opbrengs van jou oes,

15 en jy gooi olie daarop en sit wierook bo-op. Dit is die graanoffer.

16 Die priester verbrand dié deel van die stampkoring en die olie wat as simbool vir die hele offer dien, saam met al die wierook. Dit is 'n vuuroffer vir die Here.”

3

1

“As iemand 'n maaltydoffer wil bring en hy wil dit aanbied uit sy beeste, kan hy vir die Here 'n bul of 'n koei aanbied, maar sonder liggaamsgebrek.

2 Die man sit sy hand op die offerdier se kop en slag dit by die ingang van die tent van ontmoeting. Die Aäronitiese priesters sprinkel dan die bloed rondom teen die altaar.

3 Dan bied hy uit die maaltydoffer vir die Here 'n vuuroffer aan, bestaande uit die vet wat die binnegoed bedek, die vet aan die binnegoed self,

4 die twee niere met die vet aan wat teen die kruis is, en die punt van die lewer wat saam met die niere verwyder word.

5 Die Aäroniete verbrand dit op die altaar, bo-op die brandoffer op die vuur. Dit is 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.

6

“As iemand vir die Here 'n maaltydoffer uit sy kleinvee wil aanbied, kan dit 'n ram of 'n ooi wees, maar sonder liggaamsgebrek.

7

“As die man 'n skaap as offer aanbied, bring hy dit in die teenwoordigheid van die Here,

8 sit sy hand op die offerdier se kop en slag dit daar voor die tent van ontmoeting. Die Aäronitiese priesters sprinkel dan die bloed rondom teen die altaar.

9 Dan bied die man uit die maaltydoffer vir die Here 'n vuuroffer aan, bestaande uit die vet, naamlik die hele vetstert, teen die stuitjie afgesny, die vet wat die binnegoed bedek, al die vet aan die binnegoed self,

10 die twee niertjies met die vet aan wat teen die kruis is, en die punt van die lewer wat saam met die niertjies verwyder word.

11 Die priester verbrand dit dan op die altaar. Dit is voedsel, dit is 'n vuuroffer vir die Here.

12

“As die offer 'n bok is, bring die man dit in die teenwoordigheid van die Here,

13 sit sy hand op die dier se kop en slag dit daar voor die tent van ontmoeting. Die Aäroniete sprinkel dan die bloed rondom teen die altaar.

14 Dan bied die man uit sy offer vir die Here 'n vuuroffer aan, bestaande uit die vet wat die binnegoed bedek, al die vet aan die binnegoed self,

15 die twee niertjies met die vet aan wat teen die kruis is, en die punt van die lewer wat saam met die niertjies verwyder word.

16 Die priester verbrand dit op die altaar. Dit is voedsel, dit is 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word. Al die vet is die Here s'n.

17

“Dit is 'n vaste voorskrif vir julle nageslag, waar julle ook al woon: julle mag geen vet of bloed eet nie.”

4

1

Die Here het vir Moses gesê:

2 “Sê vir die Israeliete: Wanneer iemand onopsetlik teen enige van die gebooie van die Here sondig en iets doen wat hy nie mag doen nie, moet soos volg gehandel word:

3

“As die gesalfde priester sondig en so die volk skuldig maak, bied hy vir die sonde wat hy gedoen het, 'n bul sonder liggaamsgebrek as sondeoffer aan die Here aan.

4 Hy bring die bul by die ingang van die tent van ontmoeting, sit sy hand op die bul se kop en slag dit daar in die teenwoordigheid van die Here.

5 Dan vat die gesalfde priester van die bul se bloed, bring dit na die tent van ontmoeting toe,

6 steek sy vinger in die bloed en sprinkel van die bloed sewe maal in die teenwoordigheid van die Here op die voorkant van die voorhangsel in die heiligdom.

7 Hy smeer ook van die bloed aan die horings van die wierookaltaar in die teenwoordigheid van die Here in die tent van ontmoeting. Die res van die bul se bloed gooi hy alles uit teen die fondament van die brandofferaltaar by die ingang van die tent van ontmoeting.

8 Hy verwyder ook al die vet van die sondeofferbul, die vet wat die binnegoed bedek, dié aan die binnegoed self,

9 die twee niere met die vet aan wat teen die kruis is, en die punt van die lewer wat saam met die niere verwyder word,

10 net soos dit verwyder word by die maaltydofferbul. Die priester verbrand die vet dan op die brandofferaltaar.

11 Die vel van die bul, al die vleis saam met die kop en pote, die binnegoed wat oor is, en die pensmis,

12 die hele bul, word dan buitekant die kamp gebring na 'n rein plek toe, die plek waar die as weggegooi word, en daar op 'n houtvuur verbrand. Dit word op die ashoop verbrand.

13

“As die hele volk Israel onopsetlik sondig, en 'n misdaad teen die Here begaan sonder dat hulle weet dat hulle 'n gebod van die Here oortree,

14 en dit word agterna bekend dat hulle gesondig het, moet die volk 'n bul as sondeoffer aanbied. Hulle bring die bul voor die tent van ontmoeting,

15 en dan sit die leiers van die volk daar in die teenwoordigheid van die Here hulle hande op die bul se kop en slag dit daar.

16 Die gesalfde priester neem van die bloed na die tent van ontmoeting toe,

17 steek sy vinger in die bloed en sprinkel van die bloed sewe maal in die teenwoordigheid van die Here op die voorkant van die voorhangsel.

18 Hy smeer ook van die bloed aan die horings van die altaar wat in die teenwoordigheid van die Here in die tent van ontmoeting staan. Die res van die bloed gooi hy alles uit teen die fondament van die brandofferaltaar by die ingang van die tent van ontmoeting.

19 Hy verwyder ook al die vet van die dier en verbrand dit op die altaar.

20 Verder doen hy met die bul presies wat gedoen word met die sondeoffer. So doen die priester versoening vir die volk en word hulle sonde vergewe.

21 Hy bring dan die bul buitekant die kamp en verbrand dit net soos die bul wat voorheen genoem is. Dit is die sondeoffer van die volk.

22

“As 'n gesagsdraer sondig en 'n misdaad teen die Here begaan deurdat hy sonder opset 'n gebod van die Here sy God oortree,

23 en die sonde wat hy gedoen het, word onder sy aandag gebring, bring hy 'n bokram sonder liggaamsgebrek as offer.

24 Hy sit sy hand op die bok se kop en slag dit in die teenwoordigheid van die Here op die plek waar die diere vir die brandoffer geslag word. Dit is die sondeoffer.

25 Die priester vat dan met sy vinger van die bloed en smeer dit aan die horings van die brandofferaltaar. Die res van die bloed gooi hy alles teen die fondament van die altaar uit.

26 Hy verbrand dan al die vet op die altaar soos in die geval van die vet van die maaltydoffer. So doen die priester versoening vir die gesagsdraer en word sy sonde vergewe.

27

“As een van die burgers van die land sonder opset sondig en 'n misdaad teen die Here begaan deurdat hy 'n gebod van die Here oortree,

28 en die sonde wat hy gedoen het, word onder sy aandag gebring, bring hy 'n bokooi sonder liggaamsgebrek as offer vir die sonde wat hy begaan het.

29 Hy sit sy hand op die offerdier se kop en slag dit op die plek waar die diere vir die brandoffer geslag word.

30 Die priester vat dan met sy vinger van die bloed en smeer dit aan die horings van die brandofferaltaar. Die res van die bloed gooi hy alles teen die fondament van die altaar uit.

31 Al die vet word verwyder soos in die geval van die maaltydoffer, en die priester verbrand dit op die altaar. Die offer word deur die Here aanvaar. So doen die priester versoening vir die burger en word sy sonde vergewe.

32

“As hy 'n skaap as sondeoffer bring, bring hy 'n ooi sonder liggaamsgebrek.

33 Hy sit sy hand op die offerdier se kop en slag dit as 'n sondeoffer op die plek waar die diere vir die brandoffer geslag word.

34 Die priester vat dan met sy vinger van die offerdier se bloed en smeer dit aan die horings van die brandofferaltaar. Die res van die bloed gooi hy alles teen die fondament van die altaar uit.

35 Al die vet word verwyder soos in die geval van die skaap vir die maaltydoffer, en die priester verbrand dit op die altaar by die vuuroffer vir die Here. So doen die priester versoening vir die sonde wat die burger gedoen het, en word sy sonde vergewe.”

5

1

“Wanneer iemand hoor of te wete kom dat 'n vervloeking uitgespreek is en hy verswyg dit, sondig hy. Hy was 'n getuie daarvan, en daarom rus daar skuld op hom.

2

“Iemand raak dalk aan iets onreins, aan die onrein dooie liggaam van 'n wilde dier of 'n mak dier of 'n insek, en hy is nie bewus daarvan nie; dan is hy onrein en is hy skuldig;

3 of iemand raak aan iets onreins van 'n mens, iets wat hom onrein maak, en hy is nie bewus daarvan nie, is hy skuldig;

4 of iemand lê 'n onbesonne eed af, ten goede of ten kwade, hoe 'n mens ook al onbesonne dinge kan sê in 'n eed, en hy is nie bewus dat dit onbesonne is nie, is hy skuldig. In enige van hierdie gevalle is hy skuldig.

5 Wanneer hy in enige van dié gevalle te wete kom dat hy skuldig geword het, bely hy dat hy gesondig het

6 en bring hy vir die Here 'n skuldoffer oor die sonde wat hy gedoen het. Dit kan 'n skaapooi of 'n bokooi wees wat hy as sondeoffer bring. Die priester doen versoening vir die persoon oor sy sonde.

7

“As 'n stuk kleinvee bo die vermoë van die persoon is, bring hy as skuldoffer vir sy sonde twee tortelduiwe of twee ander duiwe vir die Here, een as sondeoffer en een as brandoffer.

8 Hy bring hulle na die priester toe, en die priester bied eers dié een aan wat as sondeoffer bedoel is. Die priester knyp die duif se nek teen die kop af, maar verwyder nie die kop nie.

9 Hy sprinkel van die bloed van die sondeoffer teen die kante van die altaar, en die bloed wat oorbly, druk hy teen die fondament van die altaar uit. Dit is die sondeoffer.

10 Die tweede duif word as brandoffer gebring op die voorgeskrewe wyse. So doen die priester vir die persoon versoening vir die sonde wat hy gedoen het, en word sy sonde vergewe.

11

“As twee tortelduiwe of twee ander duiwe bo die persoon se vermoë is, bring hy as offer vir sy sonde twee kilogram meel as sondeoffer. Hy gooi nie olie daarop nie en sit nie wierook bo-op nie, want dit is 'n sondeoffer.

12 Hy neem die meel na die priester toe, en die priester vat 'n handvol daarvan as simbool vir die hele offer en verbrand dit op die altaar by die vuuroffer vir die Here. Dit is die sondeoffer.

13 So doen die priester vir die persoon versoening vir die sonde wat hy gedoen het in enige van die genoemde gevalle, en so word sy sonde vergewe. Soos by die graanoffer, kom die meel wat oorbly die priester toe.”

14

Die Here het vir Moses gesê:

15 “Wanneer iemand sonder opset troueloos handel en teen die heilige dinge van die Here sondig, bring hy vir die Here as skuldoffer 'n ram sonder liggaamsgebrek uit die kleinveetrop. Die waarde van die ram as skuldoffer word in silwer bereken volgens die standaardgewig van die heiligdom.

16 As die waarde te min is, betaal die persoon in wat hy nog aan die heiligdom verskuldig is, en voeg nog een vyfde by en gee dit aan die priester. Die priester doen vir die persoon versoening met die ram as skuldoffer, en sy sonde word hom vergewe.

17

“As iemand sondig en teen een van die gebooie van die Here oortree, is hy skuldig al was hy nie bewus daarvan nie. Sy skuld rus op hom.

18 Hy bring as skuldoffer 'n ram sonder liggaamsgebrek uit die kleinveetrop na die priester toe, volgens die vasgestelde waarde, en die priester doen vir die persoon versoening vir die onopsetlike sonde wat hy gedoen het en waarvan hy nie bewus was nie, en sy sonde word hom vergewe.

19 Dit is die skuldoffer, die skuldoffer wat hy aan die Here bring.”

6

1

Die Here het vir Moses gesê:

2 “Dit kan gebeur dat iemand sondig en troueloos handel teen die Here deurdat hy sy volksgenoot bedrieg met iets wat in sy bewaring gegee of aan hom geleen is, of sy volksgenoot beroof of hom te kort doen.

3 Of hy kry dalk iets wat weggeraak het, maar ontken dit en lê 'n vals eed af oor enige saak waarin 'n mens in dié opsig sou kon sondig.

4 As hy so gesondig en hom skuldig gemaak het, moet hy teruggee wat hy geroof het of waarmee hy iemand te kort gedoen het of wat in sy bewaring gegee was of wat weggeraak het en deur hom gevind is,

5 of wat ook al waaroor hy 'n vals eed afgelê het. Op die dag dat sy skuld bekend word, moet hy alles terugbetaal aan die persoon aan wie dit toekom, en hy moet nog 'n vyfde bysit.

6 As skuldoffer bring hy vir die Here 'n ram sonder liggaamsgebrek uit die kleinveetrop na die priester toe, volgens die vasgestelde waarde,

7 en die priester doen voor die Here versoening vir die skuldige, en sy sonde word hom vergewe, hoe hy hom ook al skuldig gemaak het.”

8

Die Here het vir Moses gesê:

9 “Gee aan Aäron en sy seuns die volgende opdrag: Die reëling oor die brandoffer is soos volg, die brandoffer naamlik wat die hele nag deur tot die môre toe op die vuurmaakplek op die altaar is terwyl die vuur aan die brand gehou word:

10 die priester trek sy linnekleed en linnebroek aan, en tel die vet op wat uitgebraai het toe die vuur die brandoffer op die altaar verteer het, en sit dit langs die altaar.

11 Hy trek sy klere uit en trek ander klere aan en bring die vet buite die kamp na 'n rein plek toe.

12 Die vuur op die altaar word aan die brand gehou; dit mag nie doodgaan nie. Die priester pak elke môre hout op die vuur, lê die brandoffer daarop en verbrand op die altaar die vet van die maaltydoffers.

13 Die vuur moet aanhou brand op die altaar; dit mag nie doodgaan nie.”

14

“Die reëlings oor die graanoffer is soos volg: een van Aäron se seuns bied dit vir die Here aan voor die altaar.

15 Hy vat daaruit 'n handvol meel en olie en al die wierook bo-op die graanoffer en verbrand dit op die altaar. Die simbool van die hele offer word aanvaar deur die Here.

16 Aäron en sy seuns eet die oorblywende deel. Daar kom nie suurdeeg by nie. Hulle eet dit op die gewyde plek, in die voorhof van die tent van ontmoeting.

17 Dit word gebak, maar nie met suurdeeg nie. Dit is hulle deel wat Ek hulle uit my vuuroffer gee. Dit is 'n besondere gewyde gawe, net soos die sondeoffer en die skuldoffer.

18 Enige van die manlike nasate van Aäron mag daarvan eet. Dit is 'n vaste instelling vir julle nageslag met betrekking tot die vuuroffers van die Here. Elkeen wat daaraan raak, moet 'n gewyde wees.”

19

Die Here het vir Moses gesê:

20 “Aäron en elkeen wat hom opvolg, moet op die dag van sy salwing die volgende offergawe vir die Here aanbied: twee kilogram meel as graanoffer, die helfte in die môre en die helfte in die aand. Dit is 'n blywende voorskrif.

21 Die offergawe word met olie aangemaak op 'n bakplaat en die mengsel word as graanoffer in stukkies aangebied. Dit is aanvaarbaar vir die Here.

22 Die gesalfde priester wat uit die seuns van Aäron in sy plek gekom het, doen dit. Dit is 'n vaste instelling vir die Here. Die offer word heeltemal verbrand.

23 Elke graanoffer van dié priester word heeltemal verbrand. Dit word nie geëet nie.”

24

Die Here het vir Moses gesê:

25 “Sê vir Aäron en sy seuns: Die reëling vir die sondeoffer is soos volg: die sondeofferdier word in die teenwoordigheid van die Here geslag op dieselfde plek as die brandofferdier. Dit is 'n besondere gewyde gawe.

26 Die priester wat die sondeoffer hanteer, eet dit. Hy eet dit op die gewyde plek, in die voorhof van die tent van ontmoeting.

27 Elkeen wat aan die vleis raak, moet 'n gewyde wees. As daar van die bloed op iemand se klere spat, moet die deel waarop die bloed gespat het, in die gewyde plek gewas word.

28 Die kleipot waarin die vleis gekook is, word gebreek, en as dit in 'n bronspot gekook is, moet die pot geskuur en met water afgespoel word.

29 Enige manlike persoon onder die priesters eet van die sondeoffer. Dit is 'n besondere gewyde gawe.

30 'n Sondeofferdier waarvan bloed in die tent van ontmoeting gebring word om daarmee in die heiligdom versoening te doen, word egter nie geëet nie. Dit word verbrand.”

7

1

“Die skuldoffer is 'n besondere gewyde gawe. Die reëlings daaroor is soos volg:

2 die skuldofferdier word geslag op dieselfde plek as die brandoffer en sy bloed word rondom teen die altaar gesprinkel.

3 Al die vet word aangebied: die vetstert, die vet wat die binnegoed bedek,

4 die twee niertjies met die vet oor hulle teen die kruis en die lewerpunt wat saam met die niertjies verwyder word.

5 Die priester verbrand dit op die altaar. Dit is 'n vuuroffer vir die Here. Dit is die skuldoffer.

6 Enige manlike persoon onder die priesters mag die skuldoffer eet. Dit is 'n besondere gewyde gawe. Dit word op die gewyde plek geëet.

7 Die aanwysings vir die skuldoffer is dieselfde as dié vir die sondeoffer. Dit kom die priester toe wat daarmee vir iemand versoening doen.”

8

“Waar 'n priester vir iemand 'n brandoffer aanbied, kom die vel van die offerdier die priester toe wat die offer aanbied.

9

“Elke graanoffer wat in 'n oond gebak is, en dié wat in 'n bakpan of op 'n bakplaat gaargemaak is, kom die priester toe wat die offer aanbied.

10

“Elke graanoffer wat met olie aangemaak is, en ook dié sonder olie, kom egter die seuns van Aäron toe, sonder voorkeur.”

11

“Die reëlings oor die maaltydoffers wat vir die Here aangebied word, is soos volg:

12 as iemand dit aanbied as dankoffer, bied hy saam met die dankoffer ongesuurde ringbrood aan, met olie geknie, of ongesuurde roosterkoek met olie gesmeer, of 'n deegmengsel vir ringbrood, met olie geknie.

13 Hy bied sy offer aan saam met ringbrood met suurdeeg, saam met sy maaltydoffer waarmee hy sy dank wil uitspreek.

14 Hy bied een brood uit elk van hierdie offers aan as 'n spesiale gawe aan die Here. Die priester wat die bloed van die maaltydoffers sprinkel, kry die brood.

15

“Die vleis van die maaltydoffer waarmee iemand sy dank wil uitspreek, word geëet op die dag van die offer. Dit mag nie oorstaan tot die volgende môre nie.

16

“As iemand 'n offer aanbied om 'n gelofte na te kom of as hy 'n ander vrywillige offer aanbied, word die vleis dieselfde dag geëet. Wat oorbly, mag ook nog die volgende dag geëet word,

17 maar wat op die derde dag nog oor is, moet verbrand word.

18 As daar tog op die derde dag van die maaltydoffervleis geëet word, word dit nie meer as offer aanvaar nie en tel dit nie in die guns van die offeraar nie. Die offervleis is dan onrein, en wie daarvan eet, is skuldig.

19

“Vleis wat geraak het aan enigiets wat onrein is, mag nie geëet word nie; dit moet verbrand word.

“Iemand wat rein is, mag offervleis eet,

20 maar die persoon wat terwyl hy onrein is, eet van die maaltydoffervleis wat aan die Here behoort, moet van sy volksgenote afgesny word.

21 As iemand aan iets onreins van 'n mens of van 'n dier raak, aan enigiets wat afstootlik en onrein is, en so iemand eet van die maaltydoffervleis wat aan die Here behoort, moet dié persoon van sy volksgenote afgesny word.”

22

Die Here het vir Moses gesê:

23 “Sê vir die Israeliete: Julle mag geen vet van beeste, skape en bokke eet nie.

24 Die vet van 'n dooie dier of van 'n dier wat deur roofdiere gevang is, mag wel gebruik word, maar dit mag glad nie geëet word nie.

25 Iemand wat die vet eet van 'n dier wat as vuuroffer vir die Here aangebied is, moet van sy volksgenote afgesny word.

26

“Julle mag, waar julle ook al woon, geen bloed eet nie, nie van voëls of van diere nie.

27 Iemand wat enige bloed eet, moet van sy volksgenote afgesny word.”

28

Die Here het vir Moses gesê:

29 “Sê vir die Israeliete: Wanneer iemand vir die Here 'n maaltydoffer aanbied, moet hy self uit sy maaltydoffer 'n offer aan die Here bring.

30 Hy moet dit met sy eie hand as vuuroffer vir die Here bring. Hy moet die vuuroffer, die vet van die bors, saam met die bors bring en dit in die teenwoordigheid van die Here heen en weer beweeg as 'n beweegoffer.

31 Die priester verbrand dan die vet op die altaar, maar die bors kom Aäron en sy seuns toe.

32

“Julle moet die regterboud van die maaltydofferdier as 'n offergawe aan die priester gee.

33 Die priester uit die seuns van Aäron wat die bloed en die vet van die maaltydoffers hanteer, het aanspraak op die regterboud as sy aandeel.

34

“Die Here het die bors van die beweegoffer en die boud wat as offergawe gebring is, uit die maaltydoffers van Israel gevat en dit aan die priester Aäron en sy seuns gegee. Dit is 'n vaste instelling vir die Israeliete.

35

“Dit is die aandeel van Aäron en sy seuns aan die vuuroffers van die Here, van die dag af dat hulle as priesters vir die Here gewy is.

36 Die dag toe hulle gesalf is, het die Here beveel dat hulle dié gawes van die Israeliete moet ontvang. Dit is 'n vaste instelling, ook vir hulle nageslag.”

37

Dit is dan die reëlings vir die brandoffer, die graanoffer, die sondeoffer, die skuldoffer, die offers by die priesterwyding en die maaltydoffers.

38 So het die Here aan Moses opdrag gegee by Sinaiberg in die Sinaiwoestyn die dag toe Hy die Israeliete beveel het om vir Hom offers te bring.

8

1

Die Here het vir Moses gesê:

2 “Laat Aäron en sy seuns na die ingang van die tent van ontmoeting toe kom. Bring die klere, die salfolie, die bul vir die sondeoffer, die twee ramme en die mandjie met ongesuurde brood,

3 en laat die hele gemeente ook by die ingang van die tent van ontmoeting bymekaarkom.”

4

Moses het die bevel van die Here uitgevoer, en toe die gemeente bymekaar was voor die tent van ontmoeting,

5 het Moses vir hulle gesê: “Ek sal nou daartoe oorgaan om te doen wat die Here my beveel het.”

6

Hy het Aäron en sy seuns laat naderkom na die altaar toe en hulle gewas.

7 Daarna het hy die priesterklere vir Aäron aangetrek en die serp vir hom omgebind. Hy het die mantel vir hom omgehang en die skouerkleed vir hom aangetrek deur dit met die band wat daaraan was, om sy lyf vas te maak.

8 Hy het ook die borssak daaraan vasgebind en die urim en tummim in die borssak gesit.

9 Hy het die tulband om sy kop gesit en die goue blom aan die voorkant van die tulband vasgesit as 'n besondere wydingsteken. Dit is alles gedoen soos die Here Moses beveel het.

10

Moses het toe met die salfolie die tabernakel en alles wat daarin was, gesalf. So het hy dit vir die diens van die Here gewy.

11 Hy het naamlik sewe maal van die olie teen die altaar gesprinkel en die altaar met al sy gereedskap en ook die waskom en sy staander gesalf om dit te wy.

12 Hy het ook van die salfolie op Aäron se kop gegooi om hom te salf en aan die diens van die Here te wy.

13

Toe het Moses die seuns van Aäron by die altaar laat plek inneem, die priesterklere vir hulle aangetrek, hulle serpe omgebind en hulle kopdoeke vasgemaak. Hy het dit gedoen soos die Here hom beveel het.

14

Hierna het hy die bul vir die sondeoffer na die altaar toe gebring, en Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die bul gesit.

15 Moses het die bul geslag en van die bloed met sy vinger rondom die horings van die altaar gesmeer om die altaar te reinig. Hy het toe die res van die bloed teen die fondament van die altaar uitgegooi. So het hy die altaar aan die Here gewy sodat daarop versoening gedoen kan word.

16 Hierna het Moses al die vet wat aan die binnegoed sit en die punt van die lewer saam met die twee niere en die niervet op die altaar verbrand.

17 Die res van die bul, die vel, die vleis en die pensmis is buite die kamp verbrand soos die Here vir Moses beveel het.

18

Toe is die ram vir die brandoffer nadergebring na die altaar toe. Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die ram gesit.

19 Moses het hom geslag en die bloed rondom teen die altaar uitgegooi.

20 Hy het die ram opgesny. Hy het die kop, die opgesnyde dele, die binnevet, en

21 nadat hy dit skoon gewas het, ook die binnegoed en pote verbrand. So het Moses die hele ram op die altaar verbrand. Dit was 'n brandoffer wat deur die Here aanvaar is, 'n vuuroffer wat aan die Here gebring is soos Hy Moses beveel het.

22

Hierna is die ander ram wat vir die priesterwyding bedoel was, na die altaar toe gebring. Aäron en sy seuns het hulle hande ook op die kop van dié ram gesit.

23 Moses het hom geslag en van die bloed aan Aäron se regteroorlel, sy regterduim en regtergroottoon gesmeer.

24 Moses het die seuns van Aäron laat naderkom en van die bloed ook aan húlle regteroorlelle, regterduime en regtergroottone gesmeer. Die res van die bloed het hy rondom teen die altaar uitgegooi.

25 Hy het die vet, dit is die vetstert en al die vet wat aan die binnegoed sit, saam met die punt van die lewer, die twee niere met die niervet en die regterboud eenkant gesit.

26 Hy het 'n ongesuurde ringbrood, 'n ringbrood wat met olie geknie is, en 'n roosterkoek uitgehaal uit die mandjie met ongesuurde brood wat by die altaar gestaan het, en dit by die vet en die regterboud gesit.

27 Daarna het hy dit alles vir Aäron en sy seuns gegee en hulle aangesê om dit as 'n beweegoffer vir die Here aan te bied.

28 Moses het dit toe by hulle geneem en dit op die altaar bo-op die brandoffer verbrand. Die offer waarmee die priesters gewy is, was 'n offer wat deur die Here aanvaar is. Dit was 'n vuuroffer wat vir die Here aangebied is.

29 Moses het die bors as 'n beweegoffer vir die Here aangebied. Dit was die deel van die offerram vir die priesterwyding wat Moses, volgens die bevel van die Here, gekry het.

30

Daarna het Moses van die salfolie en van die bloed wat op die altaar was, oor Aäron en sy klere gesprinkel en ook oor sy seuns en hulle klere. So het Moses vir Aäron en sy seuns en hulle klere aan die Here gewy.

31

Moses het vir Aäron en sy seuns gesê: “Kook die vleis by die ingang van die tent van ontmoeting en eet dit daar saam met die brood in die mandjie wat gebruik is by die priesterwyding, want die bevel aan my was: ‘Aäron en sy seuns moet dit eet.’

32 As daar iets oorbly van die vleis of die brood, moet dit verbrand word.

33 Julle mag 'n week lank nie die ingang van die tent van ontmoeting verlaat nie, nie voordat die sewe dae van die wydingseremonies verby is nie.

34 Die dinge wat vandag gedoen is op bevel van die Here, was bedoel om julle sonde te versoen.

35 Daarom moet julle 'n week lank dag en nag by die ingang van die tent van ontmoeting bly en die bevel van die Here uitvoer, anders sal julle sterwe. Dit is die bevel wat ek van die Here ontvang het.”

36

Aäron en sy seuns het toe alles wat die Here deur Moses beveel het, gedoen.

9

1

Toe die week verby was, het Moses vir Aäron, sy seuns en die leiers van Israel laat roep.

2 Hy sê toe vir Aäron: “Vat 'n bulkalf en 'n ram, altwee sonder liggaamsgebrek, en offer die kalf as 'n sondeoffer en die ram as 'n brandoffer aan die Here.

3 Sê dan vir die Israeliete hulle moet 'n bokram bring as sondeoffer en 'n bulkalf en 'n lam as brandoffer, almal 'n jaar oud en sonder liggaamsgebrek.

4 Hulle moet ook 'n bul en 'n ram bring as 'n maaltydoffer aan die Here, sowel as 'n graanoffer wat met olie aangemaak is, want die Here wil Hom vandag aan julle openbaar.”

5

Hulle het alles wat Moses beveel het, na die voorkant van die tent van ontmoeting toe gebring en die hele gemeente het saamgekom en in die teenwoordigheid van die Here kom staan.

6 Toe sê Moses: “Ons sal nou doen wat die Here beveel het. Dan sal die magtige teenwoordigheid van die Here aan julle geopenbaar word.”

7

Moses sê toe vir Aäron: “Kom nader na die altaar toe en offer die sondeoffer en die brandoffer wat vir jouself bedoel is, en doen versoening vir jouself en jou mense. Bring daarna die offer van die volk en doen versoening vir hulle soos die Here beveel het.”

8

Aäron het nader gegaan na die altaar toe en die kalf geslag wat bedoel was as sondeoffer vir homself.

9 Sy seuns het die bloed vir hom na die altaar toe gebring en hy het sy vinger in die bloed gesteek en daarvan aan die horings van die altaar gesmeer. Die res van die bloed het hy teen die fondament van die altaar uitgegooi.

10 Die vet, die niere en die punt van die lewer van die sondeofferdier het hy op die altaar verbrand soos die Here vir Moses beveel het.

11 Die vleis en die vel is egter buite die kamp verbrand.

12 Daarna het hy die ram geslag wat vir homself bedoel was as brandoffer. Sy seuns het die bloed vir hom aangegee, en hy het dit rondom teen die altaar gesprinkel.

13 Hulle het ook die stukke en die kop van die brandofferdier vir hom aangegee, en hy het dit op die altaar aan die brand gesteek.

14 Hy het die binnegoed en die pote gewas en dit bo-op die brandoffer op die altaar verbrand.

15

Daarna het Aäron die offer van die volk na die altaar toe gebring. Hy het die bokram wat as sondeoffer vir die volk bedoel was, gevat, hom geslag en geoffer op dieselfde manier as die vorige sondeoffer.

16 Hy het ook die brandoffer van die volk na die altaar toe gebring en dit volgens die voorskrif geoffer.

17 Toe het hy die graanoffer nadergebring en 'n handvol daarvan op die altaar verbrand. Dit was afgesien van die daaglikse brandoffer.

18 Die bul en die ram wat bedoel was as maaltydoffers van die volk, het hy ook geslag. Die seuns van Aäron het die bloed vir hom aangegee en hy het dit rondom teen die altaar gesprinkel.

19 Sy seuns het die vetdele van die bul en die ram, naamlik die vetstert, die niervet, die niere en die punt van die lewer,

20 op die borsstukke gepak en dit alles vir Aäron aangegee. Hy het die vetdele op die altaar verbrand,

21 maar die borsstukke en die regterboud het hy as beweegoffer aan die Here aangebied soos Moses hom beveel het.

22

Nadat Aäron die sondeoffer, die brandoffer en die maaltydoffers gebring het, het hy sy hande na die volk toe uitgesteek en hulle geseën. Hy het van die altaar afgeklim

23 en saam met Moses in die tent van ontmoeting ingegaan. Toe hulle uitkom, het hulle die volk geseën. Die magtige teenwoordigheid van die Here is toe aan die hele volk geopenbaar:

24 vuur wat van die Here gekom het, het die oorblyfsels van die brandoffer en die vetstukke op die altaar weggebrand. Toe die volk dit sien, was daar uitroepe van blydskap en het almal op hulle knieë geval.

10

1

Nadab en Abihu, seuns van Aäron, het elkeen sy vuurpan gevat en gloeiende kole daarin gesit. Hulle het wierook daaroor gegooi en dit vir die Here aangebied. Dit was egter ongeoorloofde vuur omdat dit teen die bevel van die Here was.

2 'n Vuur wat van die Here af gekom het, het hulle verteer, en hulle het gesterf in die teenwoordigheid van die Here.

3 Toe sê Moses vir Aäron: “Die Here het gesê: Wie 'n offer vir My bring, moet besef dat Ek heilig is; sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees.”

Aäron was sprakeloos.

4 Moses het daarna vir Misael en Elisafan, seuns van Aäron se oom Ussiël, geroep en vir hulle gesê: “Gaan nader en vat julle familielede weg voor die heiligdom en dra hulle uit die kamp uit.”

5

Hulle het toe nader gegaan en die dooies in hulle ampsklere uitgedra na 'n plek buite die kamp soos Moses gesê het.

6 Moses het Aäron en sy twee seuns Eleasar en Itamar beveel: “Moenie rou deur julle hare onversorg te laat en julle klere te skeur nie. As julle rou, sal julle sterwe, en sal die Here toornig wees op die hele gemeente. Maar julle volksgenote, al die Israeliete, mag rou oor hierdie vuurdood wat van die Here gekom het.

7 Julle mag ook glad nie van die ingang van die tent van ontmoeting af weggaan nie. As julle dit doen, sal julle sterwe, want die salfolie van die Here het julle aan Hom gewy.”

Hulle het toe gemaak soos Moses gesê het.

8

Die Here het vir Aäron gesê:

9 “Jy en jou seuns mag geen wyn of bier drink wanneer julle moet gaan diens doen in die tent van ontmoeting nie, want dan sal julle sterwe. Dit is 'n vaste voorskrif, ook vir julle nageslag.

10 Daar moet duidelik onderskeid gemaak word tussen wat gewyd is en wat nie gewyd is nie, tussen wat onrein is en wat rein is.

11 Julle moet al die voorskrifte wat die Here deur Moses aan julle gegee het, vir die Israeliete leer.”

12

Moses het vir Aäron en sy twee seuns wat nog gelewe het, Eleasar en Itamar, gesê: “Vat die graanoffer wat oorgebly het nadat die vuuroffer aan die Here gebring is, en eet dit by die altaar. Daar mag nie suurdeeg by kom nie. Omdat dit 'n besondere gewyde gawe is,

13 moet julle dit op 'n gewyde plek eet. Volgens die bevel wat ek ontvang het, is dit julle deel uit die vuuroffer wat aan die Here gebring word.

14 Maar die borsstuk van die beweegoffer en die boud uit die offergawe mag julle en julle familie op enige rein plek eet, want dit is die deel wat julle en julle familie toekom uit die maaltydoffers van die Israeliete.

15 Die Israeliete moet die boud uit die offergawe en die borsstuk wat as beweegoffer vir die Here aangebied is, bring wanneer hulle die vetdele bring wat vir die vuuroffer bedoel is. Hulle moet dit as beweegoffers aan die Here aanbied. Daarna kry julle dit. Die Here het beveel dat dit 'n vaste voorskrif moet wees.”

16

Toe Moses op 'n keer navraag doen oor die sondeofferbok en hy uitvind dat dit verbrand is, was hy kwaad vir Eleasar en Itamar, die seuns van Aäron wat nog gelewe het. Hy vra toe:

17 “Waarom het julle nie die sondeoffer op 'n gewyde plek geëet nie? Dit is 'n besondere gewyde gawe en die Here het dit aan julle gegee om die sonde van die gemeente weg te neem; dit is bedoel om vir hulle by die Here versoening te doen.

18 Omdat die bloed nie in die heiligdom ingeneem is nie, moes julle die sondeoffer in die heiligdom geëet het soos ek julle beveel het.”

19

Aäron antwoord toe daarop: “Die mense hét vandag hulle sondeoffer en brandoffer aan die Here gebring, en tog het hierdie ramp my getref! Sou dit dan enige verskil gemaak het as ek die sondeoffer geëet het?”

20 Toe Moses dit hoor, was hy tevrede.

11

1

Die Here het vir Moses en Aäron gesê:

2 “Sê vir die Israeliete: Van al die diere wat op land hou, mag julle

3 net dié eet wat volledig gesplete kloue het en herkou.

4 Maar dié wat net herkou of net gesplete kloue het, mag julle nie eet nie. Dit geld vir die kameel, want, alhoewel die dier herkou, het hy nie gesplete kloue nie. Julle moet hom dus as onrein beskou.

5 Dit geld ook vir die dassie

6 en vir die haas.

7 'n Vark het weer volledig gesplete kloue, maar hy herkou nie. Hy is vir julle dus 'n onrein dier.

8 Julle mag nie die vleis van hierdie diere eet of selfs aan hulle karkasse raak nie: hulle is vir julle onrein.

9

“In die geval van waterdiere mag julle alles eet wat vinne en skubbe het. Dit geld vir soutwaterdiere en varswaterdiere.

10 Maar enige ding wat in die water lewe en nie vinne en skubbe het nie, is vir julle verbode.

11 Hulle is vir julle verbode en julle mag glad nie van dié diere eet of selfs raak aan een wat dood is nie.

12 Alle waterdiere wat nie vinne en skubbe het nie, is dus vir julle verbode.

13

“In die geval van diere met vlerke is die volgende soorte verbode en hulle mag dus nie geëet word nie: arende, lammervangers en visarende;

14 aasvoëls en valksoorte;

15 al die kraaisoorte;

16 volstruise, nagvalke, seemeeue en alle soorte roofvoëls;

17 uile, visvangers, ibisse,

18 flaminke, pelikane, swane,

19 ooievaars, al die reiersoorte, hoep-hoepe en vlermuise.

20

“Alle insekte wat vlerke het en op pote loop, is vir julle verbode.

21 Julle mag egter dié eet waarvan die pote so is dat hulle kan spring.

22 Dit sluit in alle soorte sprinkane en krieke.

23 Alle ander insekte wat vlerke het en op pote loop, is vir julle verbode.

24

“Sommige diere se karkasse maak iemand wat net daaraan raak, onrein vir die res van die dag.

25 As iemand die karkas van so 'n dier gedra het, moet hy sy klere was, maar hy is vir die res van die dag onrein.

26 Dit is alle mak diere waarvan die pote nie volledig gesplete is nie en wat nie ook herkou nie. Dit is onrein diere, en elkeen wat aan die karkas van so 'n dier raak, is onrein.

27 Verder is alle viervoetige wilde diere wat nie hoewe het nie, onrein. As iemand aan die karkas van so 'n dier raak, is hy onrein vir die res van die dag.

28 As hy so 'n karkas gedra het, moet hy sy klere was, maar hy is nog vir die res van die dag onrein.

29

“Die volgende diertjies wat volop voorkom in die veld, moet julle as onrein beskou: molle, muise en al die akkedissoorte

30 soos geitjies, sandakkedisse, boomakkedisse, gewone akkedisse en ook verkleurmannetjies.

31 Dit is onrein diertjies en elkeen wat aan so 'n diertjie raak as hy dood is, is die res van die dag onrein.

32 Enigiets waarop so 'n dooie diertjie val, is ook onrein. Dit geld vir enige gebruiksartikel van hout, lap, leer of growwe linne, enige gewone gebruiksartikel. Dit moet in water gedruk word, maar is nog vir die res van die dag onrein. Eers daarna is dit rein.

33 As een van die diertjies in 'n kleipot val, is alles wat in die pot is, onrein. Die pot moet dan gebreek word,

34 want enige kos waarby water uit so 'n pot gegooi is, is onrein, en enige vloeistof uit so 'n pot is onrein.

35 Enigiets waarop een so 'n dooie diertjie val, is onrein. 'n Kleioond of kleikookplek moet in so 'n geval afgebreek word; dit het onrein geword, en julle moet dit as onrein beskou.

36 'n Fontein of opgaardam is wel nie onrein as so 'n dooie diertjie daarin val nie, maar iemand wat aan die diertjie raak, is onrein.

37 As so 'n dooie diertjie op saad val wat gesaai gaan word, word die saad nie onrein nie.

38 As dit egter gebeur wanneer die saad in water lê om te week, is dit onrein.

39

“As enige dier wat julle wel mag eet, vrek, is iemand wat aan die karkas raak, die res van die dag onrein.

40 As iemand van die dooie dier se vleis eet of die karkas dra, moet hy sy klere was, maar self is hy die res van die dag onrein.

41

“Alle klein diertjies wat volop voorkom in die veld, is vir julle verbode:

42 of hulle nou seil of op vier pote loop of baie pote het, julle mag nie een van hulle eet nie, want dit is verbode.

43 Julle moet julle nie besoedel met een van dié diere dat julle onrein word nie.

44 Ek is die Here julle God. Wy julle aan my diens en wees heilig, want Ek is heilig. Julle mag julle nie verontreinig met enige van die kleiner diertjies wat volop voorkom in die veld nie.

45 Ek is die Here wat julle uit Egipte laat trek het sodat Ek julle God kan wees. Omdat Ek heilig is, moet julle ook heilig wees.

46

“Dit is dan die reëling wat betrekking het op diere en voëls en op alles wat in water lewe en wat op die grond beweeg.

47 Julle moet noukeurig onderskei tussen rein en onrein, tussen diere wat geëet mag word en diere wat nie geëet mag word nie.”

12

1

Die Here het vir Moses gesê:

2 “Sê vir die Israeliete: Wanneer 'n vrou 'n seun in die wêreld bring, is sy onrein, soos wanneer sy menstrueer, 'n week lank.

3 Op die agste dag moet die seuntjie besny word.

4 Daarna moet sy nog drie en dertig dae wag om seker te wees dat die bloedvloeiing opklaar. Voordat dié tydperk om is, mag sy aan niks raak wat gewyd is nie en ook nie in die heiligdom ingaan nie.

5 As sy 'n dogter in die wêreld bring, is sy onrein soos wanneer sy menstrueer, maar twee weke lank. Dan moet sy nog ses en sestig dae wag om seker te wees dat daar geen bloedvloeiing meer is nie.

6 As sy in die geval van 'n seun of dogter die bepaalde aantal dae gewag het, moet sy 'n jaaroud lam as brandoffer en 'n tortelduif of enige ander duif as sondeoffer neem na die priester toe wat diens doen by die ingang van die tent van ontmoeting.

7 Hy moet dit dan aan die Here offer en vir haar versoening doen. Dan sal sy rein wees van die bloedvloeiing wat sy gehad het. Hierdie wet is van toepassing op enige vrou wat 'n kind in die wêreld bring, of dit nou 'n seun is of 'n dogter.

8 As sy nie 'n lam kan bekostig nie, moet sy twee tortelduiwe of twee ander duiwe bring, die een as brandoffer en die ander as sondeoffer, sodat die priester vir haar versoening kan doen en sy rein kan wees.”

13

1

Die Here het vir Moses en Aäron gesê:

2 “Wanneer iemand êrens aan sy lyf 'n swelsel of 'n uitslag of 'n seer het wat dalk kan ontwikkel in 'n velsiekte wat hom onrein kan maak, moet hy na Aäron of een van die Aäronitiese priesters toe gebring word.

3 Die priester moet dan die seerplek ondersoek. As die hare daarop wit geword het en dit lyk of die ontsteking dieper is as die vel, is dit 'n velsiekte waardeur die persoon onrein gemaak word. Die priester wat dit ondersoek het, moet dan die persoon onrein verklaar.

4 Maar as die seer 'n ligte kleur het en dit lyk of dit nie dieper as die vel is nie en die hare daarop het nie wit geword nie, moet die priester die persoon 'n week lank afsonder.

5 Op die sewende dag moet die priester die persoon weer ondersoek. As daar na die priester se mening geen verandering ingetree het nie en die ontsteking het nie versprei in die vel nie, moet hy die persoon nog 'n week afsonder.

6 Op die sewende dag moet die priester die persoon dan weer ondersoek. As die ontsteking opgeklaar het en nie verder versprei het in die vel nie, moet die priester die persoon rein verklaar. Dit is dan 'n onskadelike uitslag. Nadat hy sy klere gewas het, sal hy rein wees.

7 As die uitslag egter verder versprei nadat die priester hom ondersoek en rein verklaar het, moet hy weer na die priester toe gaan vir 'n ondersoek.

8 As die priester merk dat die uitslag versprei het, moet hy die persoon onrein verklaar. Dit is dan 'n velsiekte waardeur hy onrein gemaak word.

9

“Iemand wat vermoedelik 'n velsiekte het wat hom onrein kan maak, moet na die priester toe gebring word.

10 Die priester moet hom dan ondersoek.

“Al is daar op die vel net 'n enkele wit seerplek wat die hare laat wit word en wat oop en rou is,

11 het die persoon alreeds 'n velsiekte wat hom onrein maak. Die priester moet die persoon onrein verklaar. Die priester hoef die persoon nie vir 'n tyd af te sonder nie, want hy is klaar onrein.

12

“Maar as iemand 'n velsiekte het wat so versprei het dat dit vir die priester lyk of dit die hele lyf bedek,

13 moet die priester hom noukeurig ondersoek.

“Al is die velsiekte oor sy hele lyf versprei, maar daar is geen teken van ontsteking nie, is hy rein.

14 Maar wanneer daar êrens aan hom 'n rou seer verskyn, is hy onrein.

15

“Wanneer die priester by 'n ondersoek 'n rou seer ontdek, moet hy die persoon onrein verklaar. 'n Rou seer beteken onreinheid, 'n velsiekte waardeur die persoon onrein gemaak word.

16 As die rou seer egter genees en 'n wit roof vorm, moet hy weer na die priester toe gaan.

17 Die priester moet dit ondersoek. As die seerplek inderdaad 'n wit roof gevorm het, moet die priester die persoon rein verklaar. Hy is rein.

18

“As iemand aan sy lyf 'n verswering gehad het wat genees het,

19 en waar die verswering was, kom daar 'n wit swelsel of 'n rooierige seer, moet dit aan die priester gewys word.

20 Die priester moet dit ondersoek. As dit lyk of die kwaad onder die vel is en die hare daarop het wit geword, moet die priester die persoon onrein verklaar. Deur die verswering het daar 'n velsiekte ontstaan wat hom onrein maak.

21

“Maar as die priester die plek ondersoek en sien dat die hare daarop nie wit geword het nie, dat die kwaad nie onder die vel is nie en dat die ontsteking opgeklaar het, moet die priester die persoon 'n week lank afsonder.

22 As die kwaad dan verder versprei in die vel, moet die priester die persoon onrein verklaar. Hy het 'n seerplek wat hom onrein maak.

23 Maar as die plek onverander bly en die ontsteking het nie versprei nie, is dit maar net die litteken van die verswering. Die priester kan hom dan rein verklaar.

24

“Wanneer iemand 'n brandwond opgedoen het en die rou wond vorm 'n rooierige of 'n wit seer,

25 moet die priester die plek ondersoek. As die hare op die seer wit geword het en die seer lyk dieper as die vel, het deur die brandwond 'n velsiekte ontstaan waardeur die persoon onrein gemaak word. Die priester moet die persoon onrein verklaar. Hy het 'n velsiekte wat hom onrein maak.

26 As die priester by sy ondersoek egter vind dat die hare op die seer nie wit geword het nie, dat die seer nie dieper is as die vel nie en dat die ontsteking opgeklaar het, moet die priester die persoon 'n week lank afsonder.

27 Op die sewende dag moet die priester die persoon weer ondersoek. As die kwaad verder versprei het in die vel, moet die priester die persoon onrein verklaar. Dit is 'n velsiekte wat hom onrein maak.

28 Maar as die plek onverander bly en die ontsteking het nie in die vel versprei nie maar opgeklaar, is dit die swelsel van die brandwond. Die priester moet hom dan rein verklaar, want dit is maar net die merk van die brandwond.

29

“Wanneer daar 'n seerplek is aan die kop van 'n man of 'n vrou of in die baard van 'n man,

30 moet die priester dit ondersoek. As dit lyk of die kwaad dieper is as die vel en as die hare daarop geel en donserig is, moet die priester die persoon onrein verklaar. Dit is 'n skurfsiekte, 'n velsiekte aan die kop of gesig, waardeur die persoon onrein gemaak word.

31 As die priester egter sien dat die skurfsiekte nie dieper is as die vel nie, maar dat die hare daarop tog nie 'n gesonde kleur het nie, moet hy die persoon met die skurfsiekte 'n week lank afsonder.

32 Op die sewende dag moet die priester weer die seerplek ondersoek. As die skurfsiekte nie versprei het nie, die hare daarop nie geel is nie en dit nie dieper lyk as die vel nie,

33 moet al die hare afgeskeer word behalwe dié waar die skurfsiekte is. Daarna moet die priester die persoon nog 'n week afsonder.

34 Op die sewende dag moet die priester die skurfsiekte weer ondersoek. As dit nie versprei het in die vel nie en dit lyk nie dieper as die vel nie, moet die priester die persoon rein verklaar. Nadat hy sy klere gewas het, sal hy rein wees.

35 As daar egter enige verspreiding van die skurfsiekte voorkom nadat die persoon rein verklaar is,

36 moet die priester hom weer ondersoek. As dit duidelik is dat die skurfsiekte versprei het op die vel, hoef die priester nie eens te kyk of daar geel hare is nie. Die persoon is onrein.

37 As die priester later sien dat die skurfsiekte nie versprei het nie en dat daar gesonde hare op groei, is dit 'n teken dat die plek genees het en dat die persoon rein is. Die priester moet hom dan ook rein verklaar.

38

“As 'n man of 'n vrou êrens aan die lyf wit vlekke het,

39 moet die priester dit ondersoek. As die vlekke op die vel bleekwit vertoon, is dit gewone velverwitting waaraan die persoon ly. Hy is rein.

40

“Iemand wie se hare uitval sodat sy kop kaal word, is nie daarvan onrein nie.

41 Ook wanneer net die hare op sy voorkop uitval, sodat sy kop daar kaal word, is hy nie onrein nie.

42 As daar egter 'n rooierige ontsteekte plek verskyn waar sy kop kaal raak, is dit 'n teken dat hy aan sy kopvel 'n velsiekte het wat hom dalk onrein maak.

43 Die priester moet die persoon dan ondersoek. As die simptome dieselfde is as dié van 'n velsiekte aan die lyf, wat 'n mens onrein maak, naamlik 'n rooierige swelsel,

44 het die man inderdaad so 'n velsiekte. Hy is onrein en die priester moet nie huiwer om die man onrein te verklaar nie. Die kwaad is in sy kopvel.

45

“Iemand wat 'n velsiekte het wat hom onrein maak, moet geskeurde klere dra en sy hare onversorg laat. Hy moet ook die onderste deel van sy gesig bedek en uitroep: ‘Onrein! Onrein!’

46 Hy bly onrein solank hy die siekte het. Hy moet dan ook in afsondering lewe en buite die kampplek bly.”

47

“As daar 'n kol skimmel is op 'n kledingstuk,

48 of op garing of materiaal van linne of wol, of op vel of enige velartikel,

49 en die skimmel het 'n groenerige of rooierige kleur, kan dit skadelike skimmel wees, en moet dit aan die priester gewys word.

50 Die priester moet die kol ondersoek en die artikel met die skimmel 'n week lank eenkant sit.

51 Op die sewende dag moet hy dit weer ondersoek. As die kol op die kledingstuk of garing of materiaal of velartikel groter geword het, is dit skadelike skimmel. Dit is onrein.

52 Die ding waarop die kol skadelike skimmel is, die wol, linne of vel, moet sonder meer in die vuur gegooi en verbrand word.

53 Maar as die priester sien dat die kol nie groter geword het nie,

54 moet hy beveel dat die artikel met die skimmel gewas word. Daarna moet hy dit nog 'n week eenkant sit.

55 As die priester dan, nadat dit so behandel is, sien dat die kleur van die kol nie verander het nie, is dit onrein, ook al het die kol nie groter geword nie. Dit moet verbrand word. Dit maak nie saak of die bederfde plek aan die voor- of aan die agterkant is nie.

56 As die priester egter sien dat die kol dowwer van kleur is 'n week nadat die artikel gewas is, moet hy die kol uitskeur uit die kledingstuk, die vel, die garing of die materiaal.

57 As daar dan weer 'n kol verskyn, is dit 'n teken dat die skimmel nog daar is. So 'n artikel moet verbrand word.

58 'n Kledingstuk, garing, materiaal of 'n velartikel waarvan die skimmel verdwyn het nadat dit gewas is, moet 'n tweede keer gewas word, dan is dit rein.”

59

Die voorafgaande is die voorskrifte waarvolgens bepaal moet word of klere, garing en materiaal van wol of linne, en velartikels rein of onrein is wanneer daar skimmel op is.

14

1

Die Here het vir Moses gesê:

2 “Wanneer iemand gereinig moet word wat gely het aan 'n velsiekte wat hom onrein maak, moet die volgende voorskrif nagekom word. Hy moet na die priester toe gebring word,

3 maar buite die kampplek. Die priester moet die persoon daar ondersoek. As hy genees is van die velsiekte,

4 moet daar op bevel van die priester twee lewende rein voëls, 'n stukkie sederhout, bloedrooi garing en 'n hisoptakkie gebring word vir die persoon wat gereinig moet word.

5 Op bevel van die priester moet die kop van die een voël afgesny word oor 'n erdebakkie waarin vars water is.

6 Die priester moet dan die lewende voël vat en hom saam met die stukkie sederhout, die bloedrooi garing en die hisoptakkie dompel in die bloed van die voël waarvan die kop afgesny is oor die bakkie vars water.

7 Hy moet die water met die bloed in sewe maal sprinkel oor die persoon wat gereinig moet word van sy siekte en hom dan rein verklaar. Daarna moet hy die lewende voël in die veld loslaat.

8 Die persoon wat gereinig word, moet sy klere was, al sy hare afskeer en bad. Dan is hy rein en mag hy in die kampplek ingaan, maar hy moet nog 'n week buite sy tent bly.

9

“Op die sewende dag moet hy al sy hare afskeer. Hy moet sy hare, sy baard, sy wenkbroue en al sy liggaamshare afskeer. As hy dan sy klere gewas en hom gebad het, is hy rein en mag hy in sy tent ingaan.

10

“Op die agste dag moet hy twee ramlammers en 'n jaaroud ooilam, almal sonder liggaamsgebrek, 'n graanoffer wat bestaan uit vyf kilogram meel wat met olyfolie aangemaak is, en 'n halwe liter olyfolie na die priester toe bring.

11 Die priester wat die reiniging doen, moet dan die persoon wat gereinig word, saam met sy offergawes bring na die ingang van die tent van ontmoeting toe, in die teenwoordigheid van die Here.

12 Daarna moet die priester die een ramlam en die halwe liter olie as 'n skuldoffer bring; hy moet dit as 'n beweegoffer vir die Here aanbied.

13 Hy moet die lam slag op dieselfde plek waar die sondeoffer en die brandoffer geslag word, op die gewyde plek, want die skuldoffer is net soos die sondeoffer. Dit kom die priester toe, dit is 'n besondere gewyde gawe.

14 Die priester moet van die bloed van die skuldofferlam smeer aan die regteroorlel, die regterduim en die regtergroottoon van die persoon wat gereinig word.

15 Daarna moet die priester van die olyfolie in die palm van sy eie linkerhand gooi,

16 'n vinger van sy regterhand in die olie druk en dit sewe maal sprinkel in die teenwoordigheid van die Here.

17 Die priester moet van die olie wat in sy handpalm oorbly, bo-oor die skuldofferbloed smeer wat aan die regteroorlel, die duim en die groottoon van die persoon is.

18 Die priester smeer die res van die olie in sy handpalm aan die kop van die persoon wat gereinig word. So doen die priester versoening by die Here vir die persoon.

19 Daarby moet die priester ook die sondeofferlam offer en so versoening doen vir die persoon wat gereinig word. Hierna mag die persoon die brandofferlam slag,

20 en die priester moet dit saam met die graanoffer op die altaar verbrand. Wanneer die priester so versoening gedoen het vir die persoon, is hy rein.

21

“As die persoon egter so arm is dat hy nie gewone offers kan bekostig nie, kan hy 'n ramlam gebruik as skuldoffer. Dit moet as beweegoffer aangebied word om vir hom versoening te doen, saam met 'n graanoffer bestaande uit een en 'n half kilogram meel wat met olyfolie aangemaak is en 'n halwe liter olyfolie.

22 Verder moet hy twee tortelduiwe of twee ander duiwe gebruik, een vir die sondeoffer en een vir die brandoffer.

23 Hy moet dit op die agste dag van sy reiniging vir die priester bring na die ingang van die tent van ontmoeting toe, in die teenwoordigheid van die Here.

24 Die priester moet dan die skuldofferlam en die halwe liter olie as beweegoffer vir die Here aanbied.

25 Daarna moet die priester die skuldofferlam slag en van die bloed smeer aan die regteroorlel, die regterduim en die regtergroottoon van die persoon wat gereinig word.

26 Daarna moet die priester van die olie in die palm van sy eie linkerhand gooi

27 en dit met 'n vinger van sy regterhand sewe maal sprinkel in die teenwoordigheid van die Here.

28 Hy moet ook van die olie in sy handpalm bo-oor die skuldofferbloed smeer wat aan die regteroorlel, die duim en die groottoon van die persoon is wat gereinig word.

29 Die priester smeer die olie wat in sy handpalm oor is, aan die persoon se kop. So doen die priester versoening by die Here vir die persoon.

30 Die priester moet dan een van die twee tortelduiwe of ander duiwe wat die man gebring het,

31 as 'n sondeoffer bring en die ander as 'n brandoffer saam met die graanoffer. So doen die priester versoening by die Here vir die persoon wat gereinig word.

32 Hierdie voorskrif moet geld in die geval van 'n persoon wat 'n velsiekte gehad het wat hom onrein gemaak het en wat nie die gewone reinigingsoffers kan bekostig nie.”

33

Die Here het vir Moses en Aäron gesê:

34 “Julle gaan intrek in die land Kanaän wat Ek vir julle as besitting gee. As Ek dan swamme laat groei in een van die huise in die land wat julle sal besit,

35 moet die eienaar van die huis vir die priester gaan sê: ‘Dit lyk my daar is 'n swamplaag in my huis.’

36 Die priester moet dan beveel dat die huis ontruim word voordat hy die swamme gaan ondersoek, anders word alles in die huis dalk onrein verklaar. Eers daarna kan hy die huis gaan ondersoek.

37 As die priester sien dat die swamme aan die mure van die huis sit en dat dit groenerige of rooierige holtes vorm wat lyk of dit dieper is as die oppervlak van die muur,

38 moet hy uit die huis uitgaan en toegang tot die huis 'n week lank verbied.

39 Op die sewende dag moet die priester die huis weer ondersoek. As die swamme aan die mure versprei het,

40 moet die klippe waaraan die swamme is, uitgebreek word op bevel van die priester en buite die dorp op 'n onrein plek weggegooi word.

41 Al die pleister in die huis moet dan afgekrap en ook buite die dorp op 'n onrein plek gegooi word.

42 Hulle moet dan ander klippe in die muur inbou en die hele huis oorpleister.

43

“As daar weer swamme groei nadat die klippe uitgebreek, die pleister afgekrap en die huis oorgepleister is,

44 moet die priester weer gaan kyk. As dit inderdaad weer uitgeslaan het, is dit skadelike swamme. Daardie huis is onrein.

45 Dit moet afgebreek word en die klippe, houtwerk en klei moet buite die dorp op 'n onrein plek gegooi word.

46 Iemand wat in die huis ingaan in die tyd dat toegang verbied is, sal die res van die dag onrein wees

47 en as hy in die huis slaap of eet, moet hy ook sy klere was.

48

“As die priester egter vind dat die swamme nie weer gegroei het nadat die huis oorgepleister is nie, moet hy dit rein verklaar aangesien daar nie meer swamme is nie.

49 Om die huis te reinig, moet hy twee voëls, 'n stukkie sederhout, bloedrooi garing en 'n hisoptakkie vat.

50 Hy moet die kop van die een voël afsny oor 'n erdebakkie waarin vars water is,

51 en dan die stukkie sederhout, die hisoptakkie, die bloedrooi garing en die lewende voël dompel in die vars water met die bloed van die voël waarvan die kop afgesny is. Hy moet die water met die bloed in sewe keer teen die huis sprinkel.

52 So moet hy die huis reinig met die bloed van die voël en die vars water en deur middel van die lewende voël, die stukkie sederhout, die hisoptakkie en die bloedrooi garing.

53 Daarna moet hy die lewende voël buite die dorp loslaat in die oop veld. So doen die priester versoening vir die huis en word dit rein.”

54

Die voorafgaande voorskrifte het betrekking op skurfsiekte,

55 skimmel aan klere, swamme in 'n huis,

56 swelsels, uitslag en sere wat onrein maak.

57 So moet vasgestel word wanneer iets rein of onrein is. Dit is die voorskrif in verband met dinge wat onrein maak.

15

1

Die Here het vir Moses en Aäron gesê:

2 “Sê vir die Israeliete: Enige abnormale afskeiding uit die geslagsorgaan van 'n man is onrein.

3 Hy is self ook onrein solank die afskeiding duur. Of dit nou 'n aanhoudende of 'n periodieke afskeiding is, dit maak hom onrein.

4 'n Bed waarop so iemand lê, of enigiets waarop hy sit, word onrein.

5 Enigiemand wat aan die bed raak, moet sy klere was en hom bad. Hy is die res van die dag onrein.

6 Wanneer iemand op iets sit waarop die man met die afskeiding gesit het, moet so 'n persoon sy klere was en hom bad. Hy is die res van die dag onrein.

7 Wanneer iemand raak aan 'n man wat 'n afskeiding het, moet so 'n persoon sy klere was en hom bad. Hy is die res van die dag onrein.

8 Wanneer 'n man met 'n afskeiding op 'n rein persoon spoeg, moet die persoon sy klere was en hom bad. Hy is die res van die dag onrein.

9 Enige saal waarop die man ry wat die afskeiding het, is onrein,

10 en elkeen wat aan iets raak waarop die man gesit het, is die res van die dag onrein. Enigiemand wat iets optel waarop die man gesit het wat die afskeiding het, moet bad en sy klere was. Hy is die res van die dag onrein.

11 Enigiemand aan wie 'n man met 'n afskeiding raak sonder dat hy sy hande eers afgespoel het, moet bad en sy klere was. Hy is die res van die dag onrein.

12 Alle kleipotte waaraan die man raak wat die afskeiding het, moet gebreek word, maar gebruiksartikels van hout moet afgespoel word.

13

“As 'n man wat 'n afskeiding het, gesond word, moet hy sewe dae wag voordat hy rein verklaar kan word. Hy moet sy klere was en hom in lopende water bad. Daarna is hy rein.

14 Op die agste dag moet hy met twee tortelduiwe of twee ander duiwe na die ingang van die tent van ontmoeting toe gaan en hulle in die teenwoordigheid van die Here vir die priester gee.

15 Die priester moet die een vir 'n sondeoffer en die ander vir 'n brandoffer gebruik om vir die man wat die afskeiding gehad het, versoening te doen by die Here.

16

“As 'n man 'n normale saadafskeiding het, moet hy hom bad. Hy is die res van die dag onrein.

17 Enige linne of leer waarop die saad kom, moet ook gewas word en is die res van die dag onrein.

18 Wanneer 'n man en 'n vrou geslagtelike omgang gehad het, moet altwee bad. Hulle is die res van die dag onrein.

19

“Met 'n normale menstruasie is 'n vrou sewe dae onrein. Enigiemand wat aan haar raak, is die res van die dag onrein.

20 Enigiets waarop sy lê of sit gedurende die sewe dae, is onrein.

21 [21-22] Enige persoon wat aan haar bed raak of aan iets waarop sy gesit het, moet sy klere was en hom bad. Hy is die res van die dag onrein.

22

23 As iemand aan iets raak wat op haar bed lê of aan iets waarop sy gesit het, is hy ook die res van die dag onrein.

24 As 'n man dit sou waag om met haar geslagsgemeenskap te hê, word haar onreinheid op hom oorgedra en is hyself ook sewe dae onrein. Enige bed waarop hy lê, is ook onrein.

25

“As 'n vrou 'n bloedvloeiing het buite haar menstruasietyd of as die bloedvloeiing tydens menstruasie abnormaal lank aanhou, is sy onrein solank die bloedvloeiing duur.

26 Net soos met menstruasie is enige bed waarop sy lê of enigiets waarop sy gedurende dié tyd sit, onrein.

27 Elkeen wat daaraan raak, is onrein. Hy moet sy klere was en hom bad en hy is die res van die dag onrein.

28 Wanneer die bloedvloeiing ophou, moet sy sewe dae wag voordat sy rein verklaar kan word.

29 Op die agste dag moet sy dan twee tortelduiwe of twee ander duiwe na die priester toe bring by die ingang van die tent van ontmoeting.

30 Die priester moet die een as 'n sondeoffer en die ander as 'n brandoffer gebruik om vir haar versoening te doen by die Here oor die onreinheid wat deur die vloeiing veroorsaak is.

31

“Julle moet die Israeliete streng laat hou by hierdie reinheidsvoorskrifte, anders sal hulle dalk my heiligdom wat by hulle is, ontwy. As dit gebeur, sal hulle sterwe.”

32

Die voorafgaande voorskrifte reël die geval wanneer 'n man 'n afskeiding of saadstorting het wat hom onrein maak,

33 en wanneer 'n vrou menstrueer, dit wil sê enige geval van 'n afskeiding uit die geslagsorgaan van 'n man of 'n vrou en ook wanneer 'n man met 'n onrein vrou geslagsgemeenskap het.

16

1

Aäron se twee seuns het gesterf toe hulle 'n offer aan die Here wou bring, en na aanleiding daarvan het die Here vir Moses 'n opdrag gegee.

2 Hy het vir Moses gesê: “Sê vir jou broer Aäron hy mag nooit sommer in die heiligdom agter die voorhangsel ingaan na die deksel van die verbondsark toe nie. Ek verskyn telkens in 'n wolk bokant die deksel van die ark en as Aäron sommer ingaan, sal hy sterwe.

3 Voordat hy in die Allerheiligste ingaan, moet hy 'n jong bul as sondeoffer bring en 'n ram as brandoffer.

4 Verder moet hy die gewyde klere van 'n gewone priester aanhê oor 'n broek en hy moet 'n serp om sy lyf en 'n tulband op sy kop hê. Dit moet alles gewyde linneklere wees. Hy moet hom was voor hy dit aantrek.

5 Van die gemeente Israel moet hy twee bokramme as sondeoffer kry en een skaapram as brandoffer.

6 Hy offer dan eers die bul wat vir homself bedoel is as sondeoffer, sodat hy versoening kan doen vir homself en al die priesters.

7 Daarna bring hy die twee bokke na die ingang van die tent van ontmoeting toe in die teenwoordigheid van die Here.

8 Hier moet Aäron lootjies trek oor die bokke. Die een lootjie moet gemerk wees ‘vir die Here’ en die ander een ‘vir Asasel’.

9 Aäron moet die bok wat vir die Here geloot word, as 'n sondeoffer offer.

10 Die bok wat vir Asasel geloot is, moet bly lewe. Die bok moet in die teenwoordigheid van die Here bly staan sodat Aäron die versoeningshandeling daarop kan verrig, en daarna moet die bok die woestyn in gestuur word vir Asasel.

11

“Wanneer Aäron die sondeofferbul offer wat vir homself bedoel is en waarmee hy vir hom en al die priesters versoening doen, moet hy die bul slag

12 en moet hy 'n vuurpan vol maak met gloeiende kole van die altaar af wat in die teenwoordigheid van die Here staan. Aäron moet ook 'n dubbele handvol fyngestampte wierook vat en daarmee agter die voorhangsel ingaan.

13 Daar in die teenwoordigheid van die Here moet hy dan die wierook op die kole gooi sodat dit 'n rookwolk maak wat die deksel van die ark bedek waarin die getuienis is. Dan sal hy nie sterf nie.

14 Hy moet daarna van die bloed van die bul met sy vinger sprinkel op die deksel se voorkant en dan ook nog sewe maal op die grond voor die deksel.

15 Wanneer Aäron die bokram slag wat as sondeoffer vir die volk bedoel is, moet hy met die bloed agter die voorhangsel ingaan en daarmee doen soos hy gedoen het met die bul se bloed. Hy moet dit sprinkel op die deksel en voor die deksel.

16 So moet hy die Allerheiligste reinig van die onreinhede van die Israeliete, van hulle oortredinge en al hulle sondes. Hy moet die tent van ontmoeting ook op dieselfde manier reinig, want dit staan by die volk met al hulle onreinheid.

17 Niemand anders mag in die tent van ontmoeting wees vandat Aäron ingaan om in die heiligdom versoening te doen totdat hy uitgaan nie: hy doen versoening vir homself, die priesters en die hele gemeente Israel.

18 Daarna moet Aäron uitgaan na die altaar toe in die teenwoordigheid van die Here en dit reinig: hy moet van die bloed van die bul en die bokram rondom al die horings van die altaar smeer

19 en met sy vinger van die bloed sewe keer op die altaar sprinkel. So moet hy die altaar reinig van die onreinheid van die Israeliete en dit wy.

20

“Nadat Aäron die Allerheiligste, die tent van ontmoeting en die altaar gereinig het, moet hy die lewende bok nader bring.

21 Terwyl hy dan sy twee hande op die kop van die bok lê, moet hy ál die oortredinge en opstandigheid, al die sondes van die Israeliete daar bo-oor die bok bely. Sodoende sal hy die sonde op die kop van die bok oordra. Iemand wat beskikbaar is, moet dan die bok die woestyn injaag.

22 So sal die bok al hulle sonde met hom saamdra na 'n onherbergsame streek toe en daar in die woestyn moet hy agtergelaat word.

23

“Aäron moet dan in die tent van ontmoeting ingaan en sy linneklere waarmee hy in die Allerheiligste ingegaan het, uittrek en dit daar neersit.

24 Hy moet hom op 'n gewyde plek gaan was en sy hoëpriesterlike klere aantrek. Dan moet hy uitgaan en die brandoffer vir die versoening van sy eie sonde bring, asook die brandoffer vir die versoening van die sonde van die volk.

25 Hy moet ook die vet van die sondeoffer op die altaar verbrand.

26 Die man wat die bok na Asasel toe gejaag het, moet sy klere en homself was voordat hy na die kamp toe terugkom.

27 Die sondeofferbul en die sondeofferbok waarvan die bloed gebruik is om versoening te doen in die Allerheiligste, moet buite die kampplek verbrand word, velle, vleis, pensmis en al.

28 Die man wat dit verbrand het, moet eers sy klere en homself was voordat hy na die kamp toe terugkom.

29 Julle moet dit as 'n vaste instelling handhaaf dat julle almal, die gebore Israeliete en die vreemdelinge wat by julle woon, moet vas en alle werk moet staak op die tiende dag van die sewende maand,

30 want op dié dag moet daar vir julle versoening gedoen word sodat julle rein kan wees. Julle moet in die teenwoordigheid van die Here gereinig word van al julle sonde.

31 Dit moet 'n plegtige rusdag wees, 'n dag waarop julle vas, 'n vaste instelling.

32 Die priester wat gesalf is en in die plek van sy vader as hoëpriester georden is, moet die versoening doen. Hy moet die gewyde linneklere aantrek,

33 die Allerheiligste, die tent van ontmoeting en die altaar reinig en versoening doen vir die priesters en die hele gemeente.

34 Die versoening vir die sonde van die Israeliete moet 'n vaste instelling wees. Dit moet elke jaar plaasvind.”

Aäron het toe gedoen wat die Here vir Moses beveel het.

17

1

Die Here het vir Moses gesê:

2 “Sê vir Aäron, die priesters en al die Israeliete, die Here het beveel:

3 Elke Israeliet wat 'n bees of 'n skaap of 'n bok in die kamp of buite die kamp slag

4 en nie by die ingang van die tent van ontmoeting waar hy voor die heiligdom van die Here 'n deel as gawe aan die Here kan gee nie, is skuldig aan bloedvergieting. So iemand het bloed vergiet, en sal van sy volksgenote afgesny word.

5 Die bedoeling is dat die Israeliete nie meer diere in die veld moet slag nie, maar dit vir die Here moet bring. Hulle moet dit na die ingang van die tent van ontmoeting na die priester toe bring en daar slag as maaltydoffer vir die Here.

6 Die priester moet die bloed sprinkel teen die altaar van die Here by die ingang van die tent van ontmoeting en ook die vet op die altaar verbrand as 'n offer wat deur die Here aanvaar word.

7 Die Israeliete mag nooit weer diere slag vir die veldgode en só aan die Here ontrou wees nie.

“Hierdie bepaling moet 'n vaste reël wees vir alle toekomstige geslagte.

8

“Verder moet jy vir hulle sê: Elke Israeliet en elke vreemdeling by julle wat 'n brandoffer of enige ander offer wil bring,

9 moet dit vir die Here bring by die ingang van die tent van ontmoeting. As iemand dit nie doen nie, sal hy van sy volksgenote afgesny word.”

10

“Elke Israeliet en elke vreemdeling by julle wat enige bloed eet, sal Ek self straf. Ek sal hom van sy volksgenote afsny.

11 Omdat die lewe van 'n dier in sy bloed is, het Ek die bloed vir julle gegee om op die altaar versoening te doen vir julle lewens. Omdat bloed versoening bring deur die lewe wat daarin is,

12 beveel Ek elke Israeliet en elke vreemdeling by julle om géén bloed te eet nie.

13 Elke Israeliet en elke vreemdeling by julle wat 'n rein wilde dier of voël slag, moet dit laat uitbloei en die bloed met grond toemaak.

14 Omdat die bloed van enige dier sy lewe is, beveel Ek julle, Israeliete, dat julle géén bloed mag eet nie. Omdat die bloed van enige dier sy lewe is, sal elkeen wat dit eet, doodgemaak word.

15

“Enige persoon onder julle, of hy nou 'n gebore Israeliet is of 'n vreemdeling, wat 'n dier eet wat gevrek het of deur roofdiere verskeur is, moet sy klere en homself was. Hy sal die res van die dag onrein wees.

16 As hy nie sy klere en homself was nie, moet hy die gevolge dra.”

18

1

Die Here het vir Moses gesê:

2 “Praat met die Israeliete en sê vir hulle: Ek is die Here julle God.

3 Julle mag nie maak soos die Egiptenaars by wie julle gewoon het, of soos die Kanaäniete na wie se land toe Ek julle bring nie. Julle mag hulle gebruike nie navolg nie.

4 Julle moet my bepalings nakom en my voorskrifte gehoorsaam deur daarvolgens te lewe. Ek is die Here julle God.

5 Wees gehoorsaam aan my voorskrifte en bepalings. Wie dit doen, sal lewe. Ek is die Here.

6

“Niemand van julle mag met 'n naby bloedverwant geslagsgemeenskap hê nie. Ek is die Here.

7

“Jy mag nie jou pa die skande aandoen dat jy met jou ma gemeenskap het nie. Sy is tog immers jou ma. Jy mag nie met haar gemeenskap hê nie.

8

“Jy mag ook nie met 'n ander vrou van jou pa gemeenskap hê nie. Dit sal skande oor jou pa bring.

9

“Jy mag nie met jou suster gemeenskap hê nie, ook nie met 'n halfsuster aan vaderskant of aan moederskant nie, of hulle nou deel is van die gesin of nie.

10

“Jy mag nie met jou kleindogter gemeenskap hê nie, want sy is jou nageslag.

11

“Jy mag nie met 'n halfsuster aan vaderskant gemeenskap hê nie, want sy is jou suster.

12

“Jy mag nie met jou tante aan vaderskant gemeenskap hê nie, want sy is jou pa se bloedverwant.

13

“Jy mag nie met jou tante aan moederskant gemeenskap hê nie, want sy is jou ma se bloedverwant.

14

“Jy mag nie jou oom die skande aandoen dat jy met sy vrou gemeenskap het nie. Sy is immers jou tante.

15

“Jy mag nie met jou skoondogter gemeenskap hê nie. Sy is jou seun se vrou. Jy mag nie met haar gemeenskap hê nie.

16

“Jy mag nie met jou skoonsuster gemeenskap hê nie, want dit sal skande oor jou broer bring.

17

“Jy mag nie gemeenskap hê met 'n vrou en met haar dogter nie. Jy mag die vrou nie die skande aandoen dat jy met 'n kleindogter van haar trou nie. Hulle is haar nageslag en dit sal 'n afstootlike daad wees.

18

“Solank jou vrou lewe, mag jy nie met haar suster trou nie. Daar sal vyandskap tussen hulle ontstaan as jy met albei gemeenskap het.

19

“Jy mag nie met 'n vrou gemeenskap hê terwyl sy menstrueer en dus onrein is nie.

20

“Jy mag nie met jou naaste se vrou gemeenskap hê en jouself só verontreinig nie.

21

“Jy mag nie een van jou kinders wy aan Molek en só die Naam van jou God ontheilig nie. Ek is die Here.

22

“Jy mag nie 'n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is 'n afstootlike sonde.

23

“Jy mag met geen dier geslagsgemeenskap hê en jouself so besoedel nie. 'n Vrou mag dit ook nie doen nie. Dit is iets afskuweliks.

24

“Julle moet julle op geen van hierdie maniere verontreinig nie, want dit is wat die heidene gedoen het wat Ek voor julle verdryf.

25 Hulle het die land verontreinig en Ek het die land daarvoor gestraf sodat hy sy bewoners uitgespoeg het.

26 Julle almal, die gebore Israeliete en die vreemdelinge by julle, moet my voorskrifte en bepalings gehoorsaam. Julle mag geen van dié afstootlike dinge doen nie.

27 Omdat die vorige inwoners hierdie afstootlike dinge gedoen het, is die land verontreinig.

28 As julle die land verontreinig, sal hy júlle ook uitspoeg soos hy die heidene vóór julle uitgespoeg het.

29 Elkeen wat enige van hierdie afstootlike dinge doen, sal van sy volksgenote afgesny word!

30 Wees gehoorsaam aan wat Ek julle beveel. Vermy die afstootlike gebruike van die vorige inwoners en hou julleself rein. Ek is die Here julle God.”

19

1

Die Here het vir Moses gesê:

2 “Praat met die hele gemeente Israel en sê vir hulle: Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig.

3 Elkeen van julle moet eerbied hê vir sy ma en sy pa. Julle moet my gebooie oor die sabbat gehoorsaam. Ek is die Here julle God.

4 Julle mag nie afgode dien nie en julle mag nie vir julle afgodsbeelde maak nie. Ek is die Here julle God.

5

“Wanneer julle 'n maaltydoffer vir My, die Here, slag, moet julle dit so doen dat julle vir My aanneemlik is:

6 julle moet die vleis eet op die dag wanneer julle slag, of hoogstens die volgende dag. Wat oorbly tot die derde dag, moet verbrand word.

7 Wie daarvan op die derde dag eet, eet iets onreins. Dit is nie vir My aanneemlik nie.

8 Wie daarvan eet, is skuldig, want hy ontheilig wat aan die Here gewy is. So iemand sal van sy volksgenote afgesny word.

9

“Wanneer julle julle lande afoes, moet julle nie die wenakkers afoes nie en ook nie die are wat bly lê, agterna optel nie.

10 Julle moet ook nie die wingerde 'n tweede keer oes of die korrels wat val, optel nie. Laat dit alles bly vir die armes en die vreemdelinge. Ek is die Here julle God.

11

“Julle mag nie steel nie en julle mag nie lieg of mekaar bedrieg nie.

12 Julle mag nie 'n vals eed aflê in my Naam en so die Naam van julle God ontheilig nie. Ek is die Here.

13

“Jy mag nie jou naaste uitbuit of hom beroof nie. Jy mag nie 'n dagloner se loon terughou tot die volgende dag nie.

14 Uit eerbied vir jou God mag jy nie 'n dowe vloek of 'n hindernis in die pad van 'n blinde lê nie. Ek is die Here.

15

“Jy mag nie onregverdig wees in die regspraak nie: jy mag nie partydig wees vir dié wat geen aansien het nie of die vooraanstaande bevoordeel nie. Oordeel regverdig oor jou naaste.

16 Jy mag nie loop en skinder nie, jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here.

17

“Jy mag nie haatdraend wees teenoor jou volksgenoot nie. Maak die geskil openlik met hom uit, moenie wat hy verkeerd gedoen het, teen hom bly hou nie.

18 Jy mag nie wraak neem of 'n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.

19

“Julle moet my voorskrifte gehoorsaam. Moenie verskillende soorte diere kruis of verskillende soorte saad in een land saai of 'n kledingstuk van verskillende soorte materiaal dra nie.

20

“Wanneer die eienaar van 'n slavin reeds 'n ooreenkoms aangegaan het waarvolgens iemand anders haar as byvrou koop, en die eienaar het met haar gemeenskap voordat die prys betaal is en voordat hy van haar afstand gedoen het, moet hy aan die toekomstige eienaar skadevergoeding betaal. Hulle mag nie die doodstraf opgelê word nie, want hy het nog beskikkingsreg oor haar.

21 Verder moet hy as skuldoffer vir die Here 'n ram bring na die ingang van die tent van ontmoeting toe.

22 Die priester moet met die skuldofferram vir die eienaar van die slavin versoening doen by die Here oor die sonde wat gedoen is. Die sonde sal dan vergewe word.

23

“Wanneer julle julle in die land vestig en allerhande soorte vrugtebome plant, mag julle drie jaar lank glad nie die vrugte pluk nie. Die vrugte is vir julle verbode. Dit mag nie geëet word nie.

24 Die vierde jaar moet al die vrugte as 'n gawe van dankbaarheid aan die Here gewy word.

25 Van die vyfde jaar af mag julle die vrugte gebruik. Julle sal dan goeie opbrengste hê. Ek is die Here julle God.

26

“Julle mag nie aan heidense offermaaltye deelneem nie. Julle mag nie waarsêery en towery beoefen nie.

27 [27-28] Julle mag nie heidense rougebruike navolg deur die hare voor die ore en die wangbaard te knip of deur snye en tatoeëermerke op julle liggame te maak nie. Ek is die Here.

28

29

“Niemand van julle mag sy dogter die skande aandoen om haar 'n tempelprostituut te laat word nie. Dit lei tot hoerery en afskuwelike sondes in die land.

30 Julle moet my gebooie oor die sabbat gehoorsaam en eerbied hê vir my heiligdom. Ek is die Here.

31 Moenie hulp soek by geeste of waarsêers nie. Dit sal julle onrein maak. Ek is die Here julle God.

32

“Uit eerbied vir jou God moet jy eerbied bewys aan oumense en hulle met respek behandel. Ek is die Here.

33

“Wanneer daar 'n vreemdeling by julle in julle land woon, mag julle hom nie onderdruk nie.

34 Julle moet hom soos 'n medeburger behandel en hom liefhê soos julleself. Julle was immers self ook vreemdelinge in Egipte. Ek is die Here julle God.

35

“Julle mag nie bedrog pleeg wanneer julle meet of weeg of inhoud bepaal nie.

36 Julle moet 'n betroubare skaal en die regte gewigte en inhoudsmate gebruik. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het.

37 Gehoorsaam al my voorskrifte en bepalings en leef daarvolgens. Ek is die Here.”

20

1

Die Here het vir Moses gesê:

2 “Sê vir die Israeliete: Elke Israeliet en vreemdeling in Israel wat sy kind aan Molek wy, moet met die dood gestraf word: die burgers moet hom met klippe doodgooi,

3 anders sal Ek self teen so iemand optree en hom van sy volksgenote afsny omdat die wyding van 'n kind aan Molek my heiligdom onrein maak en my heilige Naam ontheilig.

4 As die burgers hulle oë sluit vir so 'n oortreding en nie die skuldige doodmaak nie,

5 sal Ek self ingryp en so iemand en sy familie sowel as almal wat saam met hom ontrou is en vir Molek dien, van sy volksgenote afsny.

6 Enigiemand wat aan My ontrou is deur hulp te soek by geeste of waarsêers, teen hom sal Ek optree: Ek sal hom van sy volksgenote afsny.

7 Wy julle aan My. Wees heilig, want Ek is die Here julle God.

8 Gehoorsaam my voorskrifte en leef daarvolgens. Ek is die Here, Ek heilig julle aan My.

9

“Wanneer iemand sy pa of sy ma vloek, moet hy doodgemaak word. Hy het sy pa of sy ma gevloek en hy verdien die dood.”

10

“Iemand wat egbreuk pleeg met die vrou van 'n medeburger, moet doodgemaak word. Dit geld vir die man en ook vir die vrou wat egbreuk pleeg.

11 Iemand wat gemeenskap het met een van sy pa se vrouens, bring skande oor sy pa. Hy en die vrou moet albei doodgemaak word. Hulle verdien die dood.

12 Iemand wat met sy skoondogter gemeenskap het, moet doodgemaak word, en sy ook. Hulle het iets afskuweliks gedoen. Hulle verdien die dood.

13

“Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen 'n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.

14 Iemand wat met 'n ma en haar dogter trou, begaan 'n afskuwelike sonde. Hulle moet al drie 'n vuurdood sterf. Julle mag sulke afskuwelike sondes nie duld nie.

15

“'n Man wat met 'n dier geslagsgemeenskap het, moet doodgemaak word, en die dier ook.

16 'n Vrou wat met 'n dier geslagsgemeenskap het, moet doodgemaak word, en die dier ook. Sulke mense moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.

17

“As 'n man met sy suster of halfsuster se toestemming gemeenskap met haar het, is dit 'n skandelike daad. Hulle moet in die openbaar van hulle volksgenote afgesny word. Hy het skande oor sy suster gebring en moet die gevolge dra.

18 As 'n man met die toestemming van 'n vrou wat menstrueer, gemeenskap met haar het, moet albei afgesny word van hulle volksgenote.

19

“Niemand mag gemeenskap hê met sy tante aan moederskant of aan vaderskant nie, want sy is 'n naaste bloedverwant. As dit gebeur, moet albei gestraf word.

20 As iemand met sy oom se vrou gemeenskap het, bring hy skande oor sy oom. Die man en die vrou moet die gevolge dra: hulle sal sterf as mense wat alle regte verbeur het.

21 As 'n man sy broer se vrou afneem, is dit 'n skandelike daad. Die man het skande oor sy broer gebring. Die man en die vrou verbeur al hulle regte.

22

“Julle moet al my voorskrifte en bepalings gehoorsaam en dit uitvoer. As julle dit nie doen nie, sal die land waarheen Ek julle laat trek om daar te woon, julle uitspoeg.

23 Julle mag nie die gebruike van die nasies wat Ek voor julle gaan uitdryf, navolg nie. Ek het juis 'n afsku van hulle gekry omdat hulle al hierdie dinge doen.

24 Ek het julle belowe dat julle hulle land in besit sal neem. Dit is Ek wat hierdie land aan julle gee om dit in besit te neem, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Ek is die Here julle God, Ek het julle afgesonder van die ander volke.

25 Daarom moet julle by diere en voëls onderskeid maak tussen rein en onrein. Julle mag julle nie besoedel met die diere of voëls of met enigiets wat op die aarde kruip wat Ek afgesonder het as dinge waardeur julle onrein gemaak word nie.

26 Julle moet heilig lewe, want Ek die Here is heilig. Ek het julle afgesonder uit die volke om aan My te behoort.

27 Enige mens wat hom ophou met die oproep van geeste of met beswering, moet doodgemaak word. Hy moet met klippe doodgegooi word. Hy verdien die dood.”

21

1

Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Aäronitiese priesters: 'n Priester mag hom nie verontreinig deur naby 'n lyk te kom nie, al is die oorledene ook 'n familielid.

2 Hy mag dit slegs doen in die geval van 'n naaste bloedverwant van hom: sy ma of pa, sy seun of dogter, sy broer

3 of 'n eie suster as sy 'n ongetroude jongmeisie is.

4 Hy mag hom nie verontreinig deur naby die lyk van 'n aangetroude familielid te kom nie.

5 Priesters mag nie as teken van rou hulle hare of wangbaard afskeer of aan hulle liggame snymerke maak nie.

6 Hulle moet aan hulle God alleen gewy wees en mag nie sy Naam ontheilig nie. Omdat hulle gedurig offers aan die Here hulle God bring, moet hulle gewyd bly.

7

“'n Priester mag nie trou met 'n prostituut of met 'n meisie wat nie meer 'n maagd is nie. Hy mag ook nie met 'n geskeide vrou trou nie; hy is aan sy God gewy.

8

“Jy moet die heiligheid van die priester erken, Israel! Hy is immers die een wat die offers vir jou God aanbied. Die priester moet vir jou heilig wees, want Ek die Here is heilig en Ek heilig julle.

9

“As 'n priester se dogter haar ontwy deur te hoereer, ontwy sy ook haar pa. Sy moet verbrand word.

10 Die hoëpriester op wie se kop olie uitgegiet is om hom te salf en wat georden is om die heilige klere te dra, mag glad nie rou deur sy hare onversorg te laat of sy klere te skeur nie.

11 Hy mag ook glad nie naby enige lyk kom nie, hy mag nie eens met die lyk van sy pa of ma verontreinig word nie.

12 Hy mag nie die heiligdom verlaat met die oog op 'n sterfgeval nie, want hy kan dalk die heiligdom van sy God ontwy. As hoëpriester is hy met olie gesalf en dra hy die wydingsteken van sy God. Ek is die Here.

13 Die hoëpriester mag net met 'n maagd trou.

14 Met 'n weduwee, 'n geskeide vrou, 'n vrou wat nie meer 'n maagd is nie, of met 'n prostituut, mag hy nie trou nie. Hy mag alleen met 'n maagd uit sy eie stam trou,

15 anders is sy nageslag ontwy. Ek, die Here, het hom geheilig.”

16

Die Here het Moses ook beveel:

17 “Sê vir Aäron: Geeneen van jou nakomelinge met 'n liggaamlike tekortkoming mag ooit 'n offer aan God bring nie.

18 Geen persoon wat 'n liggaamlike tekortkoming het, mag offer nie: geen blinde of kreupele of iemand met 'n misvormde gesig of liggaamsdeel,

19 of met 'n gebreekte voet of hand,

20 of met 'n boggel of 'n onderontwikkelde liggaam, of met 'n pêrel op die oog, of met skurfte of veluitslag, of 'n beskadigde geslagsdeel nie.

21 Geen persoon uit die priestergeslag mag dus in die heiligdom ingaan om te offer as hy 'n liggaamlike tekortkoming het nie. Hy mag nie 'n offer vir die Here sy God bring as hy 'n liggaamlike tekortkoming het nie.

22 Maar hy mag van die gewyde gawes eet, ook van die besondere gewyde gawes.

23 Hy mag egter nie naby die voorhangsel of naby die altaar kom as hy 'n liggaamlike tekortkoming het nie. Ek, die Here, het hierdie dinge geheilig en dit mag nie ontheilig word nie.”

24

Moses het dit toe vir Aäron en sy seuns en vir al die Israeliete gesê.

22

1

Die Here het vir Moses gesê:

2 “Sê vir Aäron en sy seuns hulle moet versigtig omgaan met die gewyde gawes wat die Israeliete aan My wy, sodat hulle nie my heilige Naam ontheilig nie. Ek is die Here.

3 Sê vir hulle: Nie een van julle of julle nakomelinge mag ooit van die gewyde gawes wat die Israeliete aan My wy, gebruik terwyl hy onrein is nie. Die persoon wat dit doen, mag nooit weer in my teenwoordigheid diens doen nie. Ek is die Here.

4

“Geen priester uit die geslag van Aäron wat 'n velsiekte of 'n afskeiding het wat hom onrein maak, mag van die gewyde gawes eet voordat hy weer rein is nie. As 'n priester aan enigiets geraak het wat deur 'n lyk verontreinig is, of as hyself 'n saadvloeiing gehad het

5 of aan enige dier of persoon geraak het wat hom op enige manier onrein maak,

6 is hy die res van die dag onrein en mag hy nie van die gewyde gawes eet nie. Eers nadat hy gebad het

7 en die son onder is, is hy weer rein. Daarna moet hy toegelaat word om van die gewyde gawes te eet, want dit is al kos wat hy het.

8 Hy mag nie die vleis eet van 'n dier wat gevrek het of wat deur roofdiere verskeur is nie. Dit maak hom onrein. Ek is die Here.

9

“Die priesters moet my bevel gehoorsaam en nie sondig nie. Hulle sal sterf as hulle die gewyde gawes ontwy. Ek, die Here, heilig die priesters.

10

“Geen onbevoegde persoon mag van die gewyde gawes eet nie, ook nie 'n bywoner of dagloner van 'n priester mag daarvan eet nie.

11 Slawe wat deur die priester gekoop is, of dié wat van geboorte af deel is van sy huishouding, mag wel eet van die kos wat hy ontvang.

12 Wanneer 'n priester se dogter trou met iemand wat nie lid is van die priesterfamilie nie, mag sy nie langer van die gewyde gawes eet nie.

13

“As so 'n dogter egter 'n weduwee word of van haar man skei en sy geen kinders het nie, mag sy weer by haar pa gaan inwoon soos toe sy 'n jongmeisie was en kan sy ook van die kos eet wat hy ontvang. Geen onbevoegde persoon mag egter van die gewyde gawes eet nie.

14

“As 'n onbevoegde persoon per ongeluk van die gewyde gawes eet, moet hy die waarde daarvan plus twintig persent aan die priester uitbetaal.

15

“Die priesters moet egter toesien dat die gewyde gawes wat die Israeliete aan die Here gee, nie ontwy word nie.

16 Hulle mag nie toelaat dat onbevoegde persone van die gewyde gawes eet nie, want dan sal hulle straf oor hulleself bring. Ek, die Here, heilig die priesters.”

17

Die Here het vir Moses gesê:

18 [18-19] “Sê vir Aäron, vir sy seuns en vir al die Israeliete: Wanneer enige Israeliet of vreemdeling in Israel aan die Here 'n brandoffer wil bring, moet dit vir die Here aanneemlik wees, of dit nou bedoel is om geloftes na te kom en of dit bedoel is as vrywillige offers. Dit moet 'n bul, 'n skaapram of 'n bokram wees en sonder liggaamsgebrek.

19

20 Geen dier wat 'n liggaamlike tekortkoming het, mag geoffer word nie, want die Here sal dit nie van julle aanneem nie.

21 Wanneer iemand 'n maaltydoffer aan die Here bring om 'n gelofte na te kom of as 'n vrywillige offer, is 'n bees of 'n stuk kleinvee sonder liggaamsgebrek aanneemlik. Die dier mag nie enige liggaamlike tekortkominge hê nie:

22 dit mag nie blind wees of 'n afpoot hê of 'n seerplek of vratjies of brandsiek of enige velkwaal nie. Só 'n dier mag julle nie vir die Here aanbied en op die altaar bring as 'n offergawe vir Hom nie.

23 As vrywillige gawes mag julle wel beeste of kleinvee met misvormde liggaamsdele offer, maar sulke diere mag nie gebruik word om 'n gelofte na te kom nie.

24 Julle mag nie 'n os of 'n hamel aan die Here offer nie, ongeag die manier waarop dit gekastreer is. Sulke offers mag julle in julle land nie bring nie.

25 Julle mag ook nie 'n os of 'n hamel wat julle by 'n uitlander kry, aan julle God offer nie. Sulke diere is vermink, hulle het 'n liggaamlike tekortkoming, en die Here sal dit nie van julle aanneem nie.”

26

Die Here het vir Moses gesê:

27 “'n Kalf of 'n skaaplam of 'n boklam wat aankom, moet 'n week lank by sy ma bly. Van die agste dag af is die diertjie aanneemlik as 'n offergawe aan die Here.

28 'n Kalf of 'n lam mag nie op dieselfde dag as sy ma geoffer word nie.

29

“Wanneer julle 'n dankoffer aan die Here bring, moet julle dit so doen dat dit vir die Here aanneemlik is.

30 Julle moet die offervleis dieselfde dag opeet en niks laat oorbly tot die volgende dag nie. Ek is die Here.

31

“Gehoorsaam my gebooie en voer dit uit. Ek is die Here.

32

“Julle mag nie my heilige Naam ontheilig nie. Die hele Israel moet My as die Heilige erken. Ek, die Here, heilig julle.

33 Ek het julle uit Egipte gebring sodat Ek julle God kan wees. Ek is die Here.”

23

1

Die Here het vir Moses gesê:

2 “Sê vir die Israeliete: Die feeste wat julle tot my eer moet vier, moet gewyde byeenkomste wees. Die volgende is my feeste:

3

“Ses dae moet julle werk, maar die sewende dag is 'n rusdag, 'n sabbat waarop julle 'n gewyde byeenkoms moet hou. Dan mag julle geen werk doen nie. Julle moet die sabbat aan die Here wy, waar julle ook al woon.

4

“Verder is daar ook die volgende feeste tot my eer, gewyde byeenkomste wat julle op vasgestelde tye moet vier:

5

“Op die veertiende van die eerste maand teen skemer moet julle die paasfees vier tot eer van die Here.

6 Op die vyftiende van dieselfde maand begin die fees van ongesuurde brood tot eer van die Here. Sewe dae moet julle ongesuurde brood eet.

7 Op die eerste dag moet julle 'n gewyde byeenkoms hou: julle mag dan geen werk doen nie.

8 Sewe dae lank moet julle offers aan die Here bring. Die sewende dag moet julle weer 'n gewyde byeenkoms hou, en niemand mag werk nie.”

9

Die Here het verder vir Moses gesê:

10 “Sê vir die Israeliete: Wanneer julle in die land kom wat Ek aan julle gee, en julle samel die graanoes in, moet elkeen die eerste ryp are van sy oes na die priester toe neem.

11 Hy moet die are as beweegoffer vir My, die Here, aanbied sodat julle vir My aanneemlik sal wees. Die priester moet dit die dag ná die sabbat doen.

12 Wanneer julle die are as beweegoffer aanbied, moet julle ook 'n jaaroud lam sonder liggaamsgebrek as brandoffer aan die Here bring,

13 sowel as 'n graanoffer van drie kilogram meel aangemaak met olyfolie. Dit is 'n offer wat deur My, die Here, aanvaar word. Daarby moet een liter wyn as drankoffer gebring word.

14 Voor hierdie dag waarop julle die offer aan julle God bring, mag julle nog niks van die nuwe graan gebruik nie, nie gebak of gebraai of rou nie. Dit moet 'n vaste instelling vir julle hele nageslag wees, waar julle ook al woon.

15

“Van die dag ná die sabbat af, die dag waarop julle die are as beweegoffer vir die Here aanbied, moet julle sewe volle weke tel.

16 Die dag ná die sewende sabbat, op die vyftigste dag, moet julle vir die Here 'n graanoffer bring uit die pas geoeste graan.

17 Elke gesin moet twee brode vir 'n beweegoffer na die heiligdom toe bring. Dit moet van drie kilogram meel met suurdeeg gebak wees en is 'n gawe aan die Here uit die eerste opbrengs van die oes.

18 Behalwe al die brode moet daar ook sewe jaaroud lammers sonder liggaamsgebrek, 'n jong bul en twee ramme gebring word. Hulle moet as brandoffers aan die Here gebring word met die graanoffer en die drankoffers wat daarby behoort. Dit is 'n offer wat deur My, die Here, aanvaar word.

19 Julle moet ook 'n bokram as sondeoffer bring en twee jaaroud lammers as maaltydoffer.

20 Die priester moet die twee lammers saam met die brode uit die eerste opbrengs van die oes as beweegoffer vir die Here aanbied. Dit is 'n gewyde gawe aan die Here en dit kom die priesters toe.

21 Op hierdie dag moet julle 'n gewyde byeenkoms hou. Niemand mag dan werk nie. Dit moet vir altyd 'n vaste instelling wees, waar julle of julle nageslag ook al woon.

22

“Wanneer julle julle lande oes, moet julle nie die wenakkers afoes of die are wat bly lê, optel nie. Julle moet dit los vir die armes en die vreemdelinge. Ek is die Here julle God.”

23

Die Here het vir Moses gesê:

24 “Sê vir die Israeliete: Die eerste dag van die sewende maand moet 'n rusdag wees, 'n gedenkdag wat met die blaas van ramshorings aangekondig word, 'n gewyde byeenkoms.

25 Niemand mag dan werk nie en julle moet offers aan die Here bring.”

26

Die Here het vir Moses gesê:

27 “Op die tiende van die sewende maand is dit die versoendag. Julle moet dan 'n gewyde byeenkoms hou, en julle moet vas en aan die Here offers bring.

28 Niemand mag op dié dag werk nie, want dit is die versoendag waarop daar vir julle versoening gedoen word by die Here julle God.

29 Enigiemand wat nie vas op hierdie dag nie, moet van sy volksgenote afgesny word

30 en Ek sal elkeen wat op hierdie dag werk, om die lewe bring.

31 Julle mag geen werk doen nie. Hierdie dag moet vir altyd 'n vaste instelling wees, waar julle of julle nageslag ook al woon.

32 Dit moet vir julle 'n plegtige rusdag wees waarop julle vas. Julle moet rus van sononder af op die negende van die maand tot sononder op die tiende.”

33

Die Here het vir Moses gesê:

34 “Sê vir die Israeliete: Van die vyftiende van die sewende maand af moet julle sewe dae lank die huttefees vier tot eer van die Here.

35 Op die eerste dag van die fees moet julle 'n gewyde byeenkoms hou. Niemand mag dan werk nie.

36 Sewe dae lank moet julle offers aan die Here bring. Op die agste dag moet julle weer 'n gewyde byeenkoms hou en offers aan die Here bring. Dit moet 'n besondere feesdag wees. Niemand mag dan werk nie.

37

“Dit is die feestye wat deur die Here bepaal is, die tye waarop julle gewyde byeenkomste moet hou om offers aan die Here te bring: brandoffers en graanoffers, maaltydoffers en drankoffers soos vir elke feesdag voorgeskryf.

38 Daarnaas is daar nog die gewone sabbatte van die Here, die gewone geskenke aan die heiligdom en al die offers wat julle bring om geloftes na te kom of wat julle vrywillig aan die Here gee.

39

“Julle moet dus op die vyftiende van die sewende maand wanneer julle die vrugteoes insamel, sewe dae lank die fees van die Here vier. Die eerste en die agste dag moet rusdae wees.

40 Op die eerste dag moet julle sitrusvrugte neem saam met palmblare en takke van digte bome en rivierwilgers, en dan moet julle sewe dae lank met vreugde feesvier by die heiligdom van die Here julle God.

41 Julle moet hierdie fees van die Here elke jaar sewe dae lank vier. Dit moet 'n vaste instelling wees vir julle nageslag. Julle moet dit in die sewende maand vier.

42 Sewe dae lank moet julle in hutte woon, alle gebore Israeliete moet dan in hutte woon.

43 Die doel daarmee is dat julle nageslag moet weet dat Ek die Israeliete in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipte laat trek het. Ek is die Here julle God.”

44

Moses het toe aan die Israeliete die bevele gegee oor die feestye wat deur die Here bepaal is.

24

1

Die Here het vir Moses gesê:

2 “Beveel die Israeliete om vir jou van die suiwerste olyfolie te bring vir die lamp in die heiligdom, sodat daar gereeld lig kan wees.

3 Aäron moet sorg dat daar dwarsdeur die nag 'n lig brand in die tent van ontmoeting, voor die voorhangsel waaragter die ark met die getuienis is en waar die Here teenwoordig is. Dit is 'n vaste voorskrif ook vir julle nageslag.

4 Aäron moet die lampe van die goue kandelaar gereeld versorg voor die Here.”

5

“Jy moet koringmeel vat en twaalf ringbrode daarvan bak. Elke brood moet van drie kilogram meel gebak word.

6 Pak dit in twee stapels van ses elk op die goue tafel voor die Here.

7 Sit dan op elke stapel 'n bakkie suiwer wierook. Die wierook is 'n offer van die Here in die plek van die brood.

8 Die brood moet gereeld op elke sabbat daar voor die Here vervang word. Dit is 'n verpligting wat vir altyd op die Israeliete rus.

9 Die brood kom Aäron en sy seuns toe. Hulle moet dit op 'n gewyde plek eet, want dit is 'n besondere gewyde gawe. Dit is 'n deel wat hulle altyd moet kry uit die offers wat aan die Here gebring word.”

10

[10-11] Daar was 'n man tussen die Israeliete wat 'n Egiptiese pa en 'n Israelitiese ma gehad het. Sy ma se naam was Selomit. Sy was 'n dogter van Dibri, uit die stam Dan. Dié man het in die kamp met 'n man van suiwer Israelitiese afkoms in 'n woordewisseling betrokke geraak en die Godsnaam lasterlik gebruik. Hy is toe na Moses toe gevat

11

12 en gevange gehou. Intussen is 'n beslissing van die Here oor die saak afgewag.

13 Die Here het toe vir Moses gesê:

14

“Vat die man wat gelaster het, uit die kamp uit. Laat almal wat hom hoor laster het, hulle hande op sy kop sit, en laat die hele gemeente hom daarna met klippe doodgooi.

15 Sê dan vir die Israeliete: Elkeen wat vir God laster, sal die straf daarvoor kry.

16 Wie die Naam van die Here oneerbiedig gebruik, moet die doodstraf kry. Die hele gemeente moet hom met klippe doodgooi. Dit geld vir gebore Israeliete en vir vreemdelinge: wie die Godsnaam oneerbiedig gebruik, moet sterf.

17

“Iemand wat moord pleeg, moet die doodstraf kry.

18 As iemand 'n ander se dier doodmaak, moet hy dit vervang. Die beginsel is: 'n lewe vir 'n lewe.

19

“As iemand 'n medemens beseer, moet aan hom presies dieselfde gedoen word:

20 as hy iemand se been gebreek het, moet sý been ook gebreek word; as hy iemand se oog beskadig het, moet sý oog ook beskadig word; as hy iemand se tand uitgeslaan het, moet sý tand ook uitgeslaan word. Daar moet aan hom gedoen word wat hy aan sy medemens gedoen het.

21

“As iemand 'n ander se dier doodmaak, moet hy dit vervang, maar as iemand 'n moord pleeg, moet hy die doodstraf kry.

22 Hierdie beginsel geld vir gebore Israeliete en vir vreemdelinge, want Ek, die Here, is julle God.”

23

Moses het dit toe vir die Israeliete gesê. Hulle het die man wat gelaster het, uit die kamp gevat en hom met klippe doodgegooi. So het die Israeliete die bevele wat die Here vir Moses gegee het, uitgevoer.

25

1

Die Here het vir Moses by Sinaiberg gesê:

2 “Sê vir die Israeliete: Wanneer julle in die land kom wat Ek aan julle gee, moet daar vir die land rustye wees tot eer van die Here:

3 ses jaar kan julle die lande saai en die wingerde snoei en die opbrengs oes,

4 maar die sewende jaar moet die hele land 'n rustyd hê, 'n sabbatsjaar tot eer van die Here. Dan mag julle niks saai nie en ook nie die wingerde snoei nie.

5 Julle mag selfs nie die opslaggraan of die druiwetrosse van die ongesnoeide wingerde afoes nie. Dit moet vir die land 'n jaar van algehele rus wees.

6 [6-7] Dit moet vir julle 'n jaar van algehele rus wees. Julle, julle slawe, julle slavinne, julle dagloners en die bywoners in julle land sowel as julle diere en die wild moet dan leef van wat die veld oplewer.

7

8

“Tel sewe sabbatsjare af, sewe maal sewe jaar, dit wil sê nege en veertig jaar.

9 Laat dan ramshorings blaas op die tiende van die sewende maand op die versoendag. Die ramshorings is die teken dat almal in die land

10 die jaar van die vyftigste landbouseisoen op 'n besondere wyse aan die Here moet wy. Daar moet 'n landswye afskrywing van skuld geproklameer word. Dit moet vir almal 'n hersteljaar wees: elke Israeliet moet sy grond terugkry en mag na sy familie toe teruggaan.

11 Hierdie vyftigste landbouseisoen moet julle hersteljaar wees. Julle mag nie saai nie en ook nie die opslaggraan of ongesnoeide wingerde afoes nie,

12 maar julle moet eet van wat die veld opgelewer het: die hersteljaar is 'n gewyde jaar.

13

“In die hersteljaar moet elkeen sy grond terugkry.

14 Wanneer julle grond verkoop of koop, moet julle mekaar nie uitbuit nie.

15 Die koop- of verkoopprys moet bepaal word volgens die aantal oeste wat die stuk grond kan oplewer tot die volgende hersteljaar.

16 As dit lank voor die volgende hersteljaar is, moet die prys hoër wees, maar as daar min jare oor is, moet die prys laer wees, want in werklikheid word alleen die opbrengs tot die volgende hersteljaar verkoop.

17 Uit eerbied vir julle God mag julle mekaar nie uitbuit nie. Ek is die Here julle God.

18

“Julle moet my voorskrifte nakom en my bepalings gehoorsaam. As julle dit doen, sal julle sonder sorge in die land kan woon.

19 Die grond sal goeie oeste lewer, en julle sal oorgenoeg hê om te eet sodat julle sonder sorge in die land kan woon.

20 Julle kan julle miskien afvra waarvan julle elke sewende jaar moet leef, aangesien julle nie mag saai of 'n oes insamel nie.

21 Ek sal aan julle oorvloed gee in die sesde jaar sodat die oes groot genoeg sal wees vir drie jaar.

22 Wanneer julle in die agste jaar weer saai, sal julle nog steeds die oes van die sesde jaar gebruik. Julle sal selfs genoeg hê totdat julle in die negende jaar die oes insamel.

23

“Geen grond mag permanent verkoop word nie, want die land behoort aan My. Julle is slegs vreemdelinge en bywoners by My.

24 Verder moet die reg om grond terug te koop, oral en altyd geld.

25 Wanneer 'n Israeliet deur armoede verplig was om van sy grond te verkoop, moet die naaste manlike familielid dit vir die eienaar terugkoop.

26 Wanneer daar nie iemand is wat dit kan terugkoop nie, kan dit gebeur dat die persoon later self genoeg geld bymekaarmaak om die grond terug te koop.

27 Die aantal jare wat verloop het sedert die kooptransaksie moet dan in berekening gebring word en die oorspronklike eienaar moet die koper slegs uitbetaal vir die seisoene wat nog oor is tot die volgende hersteljaar. Die oorspronklike eienaar kan dan weer sy grond in besit neem.

28 As hy egter nie genoeg geld bymekaarkry om die grond terug te koop nie, bly die koper in beheer daarvan tot die volgende hersteljaar. In die hersteljaar moet hy die grond ontruim en die oorspronklike eienaar moet dan weer sy grond in besit neem.

29

“Wanneer iemand 'n woonhuis in 'n ommuurde stad verkoop, moet hy 'n volle jaar lank die reg behou om dit terug te koop.

30 As hy nie binne een jaar van hierdie reg gebruik maak nie, verval sy aanspraak op die betrokke huis en word dit die wettige eiendom van die koper en sy erfgename. 'n Woonhuis in 'n ommuurde stad val dus nie terug in die hersteljaar nie.

31 Woonhuise in dorpe wat nie mure om het nie, geld as deel van die platteland: die oorspronklike eienaar het die reg om dit enige tyd terug te koop, en in die hersteljaar val dit terug na hom.

32 In die Levietestede het die Leviete die onvervreembare reg om woonhuise waarvan hulle die oorspronklike eienaars was, terug te koop.

33 Wanneer 'n Leviet 'n huis wat hy in 'n Levietestad gekoop het, terugverkoop aan die oorspronklike eienaar wat nie 'n Leviet is nie, moet die huis in die hersteljaar terugval na die Leviet, want die huise in die Levietestede moet in Israel die eiendom van die Leviete wees.

34 Die weiveld om die Levietestede mag nooit verkoop word nie, want die Leviete het 'n onvervreembare reg daarop.

35

“Wanneer 'n mede-Israeliet só in die skuld raak by jou dat hy nie kan betaal nie, moet jy hom help soos jy 'n vreemdeling of 'n bywoner sou help, en hom by jou aan die lewe hou.

36 Jy mag hom geen rente van enige aard laat betaal nie. Uit eerbied vir jou God moet jy jou mede-Israeliet by jou aan die lewe hou.

37 As jy aan hom geld leen, moet dit dus rentevry wees, en as jy aan hom kos verskaf, moet dit teen kosprys wees.

38 Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat trek het om Kanaän aan julle te gee en om julle God te wees.

39

“Wanneer 'n mede-Israeliet in jou omgewing só in die skuld raak dat hy hom aan jou verkoop as slaaf, mag jy hom nie slawewerk laat doen nie.

40 Jy moet hom soos 'n dagloner of soos 'n bywoner behandel. Hy moet tot die hersteljaar in jou diens bly.

41 Dan moet hy en sy afhanklikes as vry mense teruggaan na hulle familie en hulle familiegrond toe.

42 Omdat Ek die Israeliete uit Egipte laat trek het, is hulle my dienaars. Daarom mag hulle nie as slawe aan iemand verkoop word nie.

43 Uit eerbied vir julle God mag julle ook nie so 'n mede-Israeliet hard behandel nie.

44 Julle moet die slawe en slavinne wat julle nodig het, by die nasies rondom julle koop.

45 Julle mag ook die kinders van bywoners koop wat tydelik tussen julle woon of van bywonerfamilies wat al geslagte in die land is. Sulke slawe is julle wettige eiendom

46 wat deur julle aan julle kinders bemaak kan word as besittings en wat lewenslank hulle slawe sal wees. Julle mag egter nooit van julle mede-Israeliete slawe maak nie.

47

“Wanneer 'n vreemdeling of 'n bywoner in julle land ryk word, en 'n mede-Israeliet raak by so iemand in die skuld sodat hy hom as slaaf moet verkoop aan die nie-Israeliet of dié se nageslag,

48 het die Israeliet die reg om vrygekoop te word. Een van sy broers

49 of 'n oom of 'n neef of 'n ander manlike familielid kan hom vrykoop. As so 'n slaaf genoeg geld bymekaarkry, kan hy homself vrykoop.

50 In so 'n geval moet die bedrag waarteen hy as slaaf verkoop is en die getal jare van die tyd af dat hy verkoop is tot die volgende hersteljaar toe, in berekening gebring word. Hy moet dan krediet ontvang vir die jare wat hy reeds diens gedoen het en as dagloner sy skuld afgewerk het.

51 As dit lank voor die hersteljaar is, sal die vrykoopprys dus 'n groot deel van die oorspronklike verkoopprys uitmaak.

52 As daar net 'n paar jaar oor is voor die hersteljaar, sal die vrykoopprys slegs 'n klein deeltjie van die oorspronklike verkoopprys wees.

53 Hy het soos 'n dagloner jaar na jaar vir die nie-Israeliet gewerk. Jy moet sorg dat hy nie hard behandel word nie.

54 As hy nie voor die tyd vrygekoop word nie, moet hy en sy afhanklikes vrygelaat word in die hersteljaar.

55 Dit moet gedoen word omdat die Israeliete my dienaars is. Hulle is my dienaars omdat Ek hulle uit Egipte laat trek het. Ek is die Here julle God.”

26

1

“Julle mag vir julle geen gode maak nie. Julle mag geen beelde of klippilare oprig nie. Julle mag in julle land geen klippe met afbeeldings hê wat deur julle vereer word nie. Ek, die Here, is julle God.

2 Julle moet my sabbatte vier en eerbied hê vir my heiligdom. Ek is die Here.

3

“As julle my voorskrifte nakom, my gebooie gehoorsaam en daarvolgens lewe,

4 sal Ek vir julle reën gee op die regte tyd, sodat die lande oeste sal lewer en die bome vrugte sal dra.

5 Julle sal graan dors tot dit weer tyd is om vrugte te oes, en julle sal vrugte oes tot dit weer planttyd is. Julle sal oorgenoeg kos hê en sonder sorge in julle land woon.

6 Ek sal vrede gee in die land sodat julle rustig kan slaap: Ek sal die ongediertes uitroei en daar sal nie oorlog in julle land kom nie.

7 Julle sal julle vyande verdryf en om die lewe bring.

8 Net vyf van julle soldate sal honderd van die vyand op loop jaag, en net honderd van julle sal tien duisend op loop jaag. Julle sal hulle om die lewe bring.

9 Ek sal vir julle goed wees en julle vrugbaar maak sodat julle 'n groot nasie sal word. So sal Ek my verbond met julle nakom.

10 Julle sal nie eens 'n vorige seisoen se graan kan opgebruik nie, julle sal dit moet weggooi om plek te maak vir die nuwe oes.

11 Ek sal by julle woon en nie 'n afsku van julle hê nie.

12 Ek sal by julle bly en julle God wees, en julle sal my volk wees.

13 Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat trek het sodat julle nie meer sy slawe hoef te wees nie. Ek het die juk wat julle moes dra, gebreek en julle vry gemaak.

14

“As julle egter nie na My luister nie en nie alles doen wat Ek julle beveel het nie,

15 as julle my voorskrifte en bepalings verwerp en met minagting behandel, sodat julle nie my bevele nakom nie en my verbond verbreek,

16 sal Ek die volgende doen: Ek sal julle lewens vol angs maak. Julle sal geteister word deur tering en koors, siektes wat 'n mens blind maak en jou laat wegkwyn. Julle sal tevergeefs saai, want julle vyande sal julle oeste opeet.

17 Ek sal my rug vir julle draai sodat julle deur julle vyande verpletter sal word. Julle haters sal dit vir julle so ondraaglik maak dat julle sal vlug al word julle nie agtervolg nie.

18

“As julle ná al hierdie dinge nog nie na My luister nie, sal Ek julle nog swaarder straf oor julle sondes:

19 Ek sal alles waarop julle staatmaak, laat verdwyn. Daar sal geen druppel reën val nie: dit sal wees asof die hemel van yster en die grond van brons is.

20 Julle sal julle kragte tevergeefs inspan: daar sal geen oes op julle lande wees nie, en julle bome sal geen vrugte dra nie.

21

“As julle My bly teenstaan en nie na My wil luister nie, sal Ek julle nóg swaarder straf, soos julle verdien oor julle sondes:

22 Ek sal roofdiere tussen julle loslaat, en hulle sal julle kinders vang en julle veetroppe uitroei. Hulle sal julle só uitdun dat die paaie verlate sal wees.

23

“As dit julle nie tot ander insigte bring nie en julle My nog bly teenstaan,

24 sal Ek júlle ook teenstaan. Ek sal julle nog swaarder straf oor julle sondes:

25 Ek sal 'n oorlog oor julle bring. Dit sal die wraak wees oor julle ontrou aan my verbond. As julle veiligheid soek in julle stede, sal Ek pes onder julle loslaat sodat julle sal móét oorgee.

26 Ek sal julle meel so min laat word dat tien vrouens saam net genoeg sal hê vir een baksel. Die stukkie wat vir elkeen afgeweeg word, sal nie julle honger kan stil nie.

27

“As julle hierna nóg nie na My luister nie en My nog steeds teenstaan,

28 sal Ek julle in woede teenstaan. Ek sal julle nóg swaarder straf oor julle sondes:

29 julle sal die vleis van julle eie kinders moet eet!

30 Ek sal julle hoogtes verwoes en julle wierookaltaartjies vernietig. Ek sal so 'n afsku van julle hê dat Ek julle lyke bo-op julle lewelose afgodsbeelde sal gooi.

31 Ek sal puinhope maak van julle stede, Ek sal julle heiligdomme verwoes, Ek sal geen offer van julle aanvaar nie.

32 Ek sal die land só verniel dat julle vyande wat daarin gaan woon, daaroor verstom sal staan.

33 Vir júlle sal Ek met die swaard uitmekaar laat jaag en julle onder die heidennasies verstrooi. Julle land sal verlate wees en julle stede puinhope.

34 Wanneer die land dan verlate lê en julle in julle vyande se gebied is, sal die grond uiteindelik sy verdiende rusjare kry. Dan sal die land rus en die verlore sabbatsjare inhaal.

35 So lank as die land verlate is, sal dit die rus kry wat dit om die sewe jaar moes gehad het maar nooit gekry het toe julle dit bewoon het nie.

36 Dié van julle wat oorbly, sal Ek in die lande van hulle vyande in so 'n spanning laat leef dat die geritsel van 'n droë blaar hulle op die loop sal jaag. Hulle sal hardloop tot hulle neerslaan, asof iemand met 'n swaard agter hulle aan is, maar daar sal niemand wees nie!

37 Die vrees vir oorlog sal hulle oormekaar laat val om weg te kom van agtervolgers wat nie bestaan nie.

“Julle sal geen krag hê om weerstand te bied teen julle vyande nie!

38 Julle sal tussen die heidennasies omkom, in die land van julle vyande sal julle sterf.

39

“Dié van julle wat daarna nog oor is, sal in die lande van julle vyande wegkwyn onder die selfverwyt oor hulle sonde. Hulle sal ook wegkwyn onder die wroeging oor die sondes van hulle voorvaders.

40 Hulle sal húlle sonde en dié wat hulle voorvaders teen My begaan het, bely. Hulle sal erken dat hulle My teengestaan het,

41 dat Ek hulle ook teengestaan het en hulle na hulle vyande se land toe gevat het om te sien of hulle dan oor hulle ongehoorsaamheid berou sal kry en hulle skuld sal erken.

42 Wanneer hulle dit doen, sal Ek die beloftes wat Ek aan Jakob, aan Isak en aan Abraham gegee het, weer van krag maak. Ek sal my beloftes oor die land weer van krag maak.

43 Maar die land sal eers sonder sy mense verlate moet lê om die verlore rusjare in te haal. Húlle sal hulle skuld moet erken, dat hulle my bepalings verwerp het en my voorskrifte met minagting behandel het.

44

“En tog, al sou hulle ballinge word in die land van hulle vyande, sal Ek hulle nie so verwerp, so minag, dat hulle heeltemal sal verdwyn en dat my verbond met hulle tot niet sal gaan nie, want Ek is die Here hulle God.

45 Ek sal die belofte aan hulle voorouers wat Ek voor die oë van die nasies uit Egipte laat trek het, weer van krag maak, die belofte dat Ek hulle God sal wees. Ek is die Here.”

46

Die voorafgaande is die voorskrifte, bepalings en wette wat die Here deur Moses op Sinaiberg gegee het oor die verhouding tussen die Here en die Israeliete.

27

1

Die Here het vir Moses gesê:

2 “Sê vir die Israeliete: Wanneer iemand in 'n gelofte 'n persoon aan die Here gewy het, en die persoon se loskoopwaarde moet vasgestel word,

3 moet die volgende riglyne geld: 'n Man van twintig tot sestig jaar kan losgekoop word teen vyf honderd en sewentig gram silwer volgens die standaardgewig van die heiligdom.

4 'n Vrou van dieselfde ouderdom teen drie honderd en veertig gram.

5 Tussen vyf jaar en twintig jaar is die loskoopwaarde van 'n man twee honderd en dertig gram en van 'n meisie honderd en vyftien.

6 Van 'n maand oud tot op vyf jaar is 'n seun se loskoopwaarde sewe en vyftig gram en 'n dogter s'n vier en dertig.

7 Bo sestig is 'n man se loskoopwaarde honderd een en sewentig gram en 'n vrou s'n honderd en vyftien.

8 As iemand wat 'n gelofte afgelê het, te arm is om hierdie loskoopwaarde te betaal, moet hy die persoon oor wie dit gaan, na die priester toe bring. Die priester moet die persoon dan deurkyk en 'n bedrag bepaal wat bekostig kan word deur die een wat die gelofte afgelê het.

9

“As die gelofte gaan oor 'n rein dier wat aan die Here geoffer word, geld die reël dat 'n dier wat eenmaal aan die Here gegee is, sy eiendom word.

10 So 'n dier mag dus nie vervang word met 'n dier van dieselfde kwaliteit of omgeruil word vir 'n slegter of selfs 'n beter dier nie. As iemand so 'n dier tóg probeer omruil, word albei diere die Here se eiendom.

11 As die gelofte gaan oor 'n onrein dier wat nie aan die Here geoffer mag word nie, moet die dier na die priester toe gebring word.

12 Hy moet dan die loskoopwaarde van die dier bepaal volgens sy kwaliteit. Die oordeel van die priester is in so 'n geval finaal.

13 As die persoon self die dier wil terugkoop, moet hy twintig persent meer as die vasgestelde loskoopwaarde betaal.

14

“Wanneer iemand sy huis vrywillig aan die Here wy, word dit die Here se eiendom. Die priester moet dan die loskoopwaarde daarvan bepaal volgens die toestand van die gebou. Die oordeel van die priester is ook in hierdie geval finaal.

15 As die persoon wat die huis gewy het, dit self weer wil terugkoop, moet hy twintig persent meer as die vasgestelde loskoopwaarde betaal. Dan is dit weer syne.

16

“As iemand 'n deel van sy grond aan die Here wy, moet die loskoopwaarde bepaal word volgens die hoeveelheid saad wat gewoonlik op die stuk grond gesaai word: vir elke honderd kilogram gars is die loskoopwaarde vyf honderd en sewentig gram silwer.

17 As hy die grond aan die Here wy gedurende die hersteljaar, geld die volle loskoopwaarde.

18 Maar as hy die grond ná die hersteljaar wy, moet die priester die aantal seisoene wat oorbly tot die volgende hersteljaar in berekening bring en die loskoopwaarde dienooreenkomstig verminder.

19 As die persoon die grond wil terugkoop, moet hy twintig persent meer as die vasgestelde loskoopwaarde betaal. Dan is dit weer syne.

20 As hy die grond aan iemand anders verkoop sonder dat hy dit self teruggekoop het, kan hy dit nooit weer terugkoop nie.

21 Met die hersteljaar word die grond dan, soos in die geval van grond wat as banoffer aan die Here gewy is, die eiendom van die Here. Dit word dan deel van die priesters se grond.

22 As iemand 'n stuk grond wat hy gekoop het, wat dus nie sy erfgrond is nie, aan die Here wy,

23 moet die priester die totale loskoopwaarde bereken wat die grond tot die volgende hersteljaar het. Die skenker moet dan dadelik die loskoopwaarde in kontant betaal. Dit behoort aan die Here.

24 In die hersteljaar val die grond dan weer terug na die persoon van wie dit oorspronklik gekoop is en wie se erfgrond dit is.

25

“Al hierdie loskoopwaardes moet vasgestel word volgens die standaardgewig van die heiligdom.

26

“Onthou dat die eerste kalf van 'n koei en die eerste lam van 'n bok of 'n skaap buitendien aan die Here behoort en dus nie as 'n vrywillige offer aan Hom gewy mag word nie.

27 Die eerste kleintjie van 'n onrein dier kan deur sy eienaar teruggekoop word vir die loskoopwaarde plus twintig persent. As hy dit nie wil terugkoop nie, moet dit verkoop word vir die loskoopwaarde.

28

“Onthou ook verder dat iets wat as banoffer aan die Here gewy is, nie verkoop mag word nie en ook nie losgekoop mag word nie. Dit maak nie saak of dit 'n mens of 'n dier of 'n stuk erfgrond is nie, dit is heilig en behoort net aan die Here.

29 'n Mens wat as banoffer aan die Here gewy word, mag nie losgekoop word nie. Hy moet doodgemaak word.

30

“Een tiende van al die produkte van die land behoort aan die Here, of dit nou graan of vrugte is. Dit is aan die Here gewy.

31 As iemand daarvan wil terugkoop, moet hy die loskoopwaarde daarvan plus twintig persent betaal.

32

“Een tiende van die beeste en kleinvee behoort aan die Here. Die diere moet getel word, en al om die tiende dier wat verbykom, moet vir die Here afgekeer word.

33 Daar mag nie goeies of slegtes uitgesoek word nie, en 'n dier wat afgekeer is, mag nie omgeruil word nie. As iemand so 'n dier probeer omruil, word albei diere die Here se eiendom. Daar mag nie teruggekoop word nie.”

34

Die voorafgaande is die gebooie wat die Here deur Moses by Sinaiberg vir die Israeliete gegee het.