1

1

In die begin het God die hemel en die aarde geskep.

2 Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.

3

Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!”

En daar was lig.

4

God het gesien die lig is goed, en Hy het die lig en die donker van mekaar geskei.

5 God het die lig toe “dag” genoem, en die donker het Hy “nag” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag.

6

Toe het God gesê: “Laat daar 'n gewelf wees tussen die waters om die waters van mekaar te skei.”

7

So het dit gebeur.

God het die gewelf gemaak en die waters onder die gewelf geskei van die waters bo die gewelf.

8 God het die gewelf “hemel” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die tweede dag.

9

Toe het God gesê: “Laat die waters onder die hemel op een plek bymekaarkom sodat die droë grond sigbaar word.”

So het dit gebeur.

10

God het die droë grond “aarde” genoem, en die waters wat bymekaargekom het, het Hy “see” genoem. En God het gesien dit is goed.

11

Toe het God gesê: “Laat daar uit die aarde groenigheid voortkom, groen plante wat saad gee en vrugtebome op die aarde, wat elkeen na sy aard vrugte dra en waarvan die saad in sy vrug sit.”

So het dit gebeur.

12

Die aarde het groen plante laat uitspruit wat elkeen na sy aard saad gee, en bome wat vrugte dra met die saad daarin, elkeen na sy aard. En God het gesien dit is goed.

13 Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die derde dag.

14

Toe het God gesê: “Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om dag en nag van mekaar te skei. Hulle moet ook as tekens dien om seisoene, dae en jare aan te dui.

15 Hulle moet ligte wees aan die hemelgewelf om op die aarde lig te gee.”

So het dit gebeur.

16

God het die twee groot ligte gemaak, die grootste om bedags te heers en die kleiner lig om snags te heers, en ook die sterre.

17 God het hulle in die hemelgewelf geplaas om op die aarde lig te gee,

18 om oor dag en nag te heers en om lig en donker van mekaar te skei. En God het gesien dit is goed.

19

Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die vierde dag.

20

Toe het God gesê: “Laat die waters krioel van lewende wesens, en laat daar voëls onder die hemelgewelf oor die aarde vlieg.”

21

God het die groot seediere geskep en al die ander lewende wesens waarvan die waters krioel, almal na hulle aard; ook al die voëls na hulle aard. En God het gesien dit is goed.

22

Toe het God hulle geseën: “Wees vrugbaar, word baie en bewoon al die waters van die see. En laat die voëls baie word op land.”

23

Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die vyfde dag.

24

Toe het God gesê: “Laat die aarde lewende wesens voortbring, elkeen na sy aard: mak diere, diere wat kruip, wilde diere, elkeen na sy aard.”

So het dit gebeur.

25

God het die wilde diere op die aarde gemaak, elkeen na sy aard; ook die mak diere, elkeen na sy aard; en ook al die diere wat kruip, elkeen na sy aard. En God het gesien dit is goed.

26

Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”

27

God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.

28

Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.”

29

Verder het God gesê: “Let op! Ek gee aan julle al die plante wat saad gee op die hele aarde; ook al die bome wat vrugte dra en saad gee. Dit sal julle kos wees.

30 Maar aan die wilde diere op die aarde en aan die voëls in die lug en aan die diere wat op die aarde kruip, aan alles wat leef, gee Ek al die groen plante as kos.”

So het dit gebeur.

31

Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die sesde dag.

2

1

Die hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop.

2 Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het.

3 Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het.

4

Dit dan is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is.

Toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het,

5 was daar nog nie enige struike op die aarde nie en het daar ook nog nie enige groenigheid opgeskiet nie, want die Here God het dit nog nie op die aarde laat reën nie, en daar was nog nie 'n mens om die grond te bewerk nie.

6 Daar het water uit die aarde uit opgekom en al die grond nat gemaak.

7 Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens 'n lewende wese geword het.

8

Die Here God het toe 'n tuin in Eden in die ooste aangelê en die mens wat Hy gevorm het, daar laat woon.

9 Die Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit, ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van alle kennis.

10

Daar het 'n rivier in Eden ontspring om die tuin nat te maak, en van daar af het dit verdeel en vier riviere geword.

11 Die eerste rivier is die Pison en dit loop rondom die hele Gawila, waar daar goud is.

12 Die goud van daardie land is suiwer. Daar is ook balsem en oniks.

13 Die tweede rivier is die Gihon en dit loop rondom die hele Kus.

14 Die derde is die Tigris wat oos van Assirië verbyloop, en die vierde is die Eufraat.

15

Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas.

16 Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil,

17 maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”

18

Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”

19

Die Here God het toe uit grond al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens toe gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou noem; en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou sy naam wees.

20

Die mens gee toe name vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere, maar vir homself het hy nie 'n helper, 'n gelyke, gekry nie.

21 Toe het die Here God 'n diep slaap oor die mens laat kom, sodat hy vas geslaap het. Die Here God neem toe 'n ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op,

22 en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot 'n vrou en bring haar na die mens toe.

23

Toe sê die mens:

“Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek.
Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word;
sy is uit die man geneem.”

24

Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.

25

Hulle twee, die mens en sy vrou, was kaal, maar hulle was nie skaam nie.

3

1

Die slang was listiger as al die wilde diere wat deur die Here God gemaak is en het vir die vrou gevra: “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?”

2

Die vrou het die slang geantwoord: “Ons mag eet van die vrugte van die bome in die tuin.

3 God het net gesê ons mag nie eet van die vrugte van die boom in die middel van die tuin nie en ons mag dit nie aanraak nie, want dan sterf ons.”

4

Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie,

5 maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.”

6

Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet.

7 Hulle altwee se oë gaan toe oop, en hulle besef dat hulle kaal is. Toe werk hulle vyeblare aanmekaar en hang dit om vir klere.

8

Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom, en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin.

9 Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?”

10

En die mens antwoord: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip.”

11

Die Here God vra toe: “Hoe het jy te wete gekom dat jy kaal is? Het jy tog nie van die boom geëet waarvan Ek jou verbied het om te eet nie?”

12

Die mens het geantwoord: “Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee, en ek het geëet.”

13

Toe vra die Here God vir die vrou: “Wat het jy nou gedoen?” en sy sê: “Die slang het my mislei, en ek het geëet.”

14

En die Here God sê vir die slang:

“Omdat jy dit gedoen het,
is jy vervloek onder al die diere.
Op jou maag sal jy seil
en stof sal jy eet, jou lewe lank.

15
Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou,
tussen jou nageslag en haar nageslag.
Haar nageslag sal jou kop vermorsel
en jy sal hom in die hakskeen byt.”

16

Vir die vrou het die Here God gesê:

“Ek sal jou baie swaar laat kry met jou swangerskappe:
met pyn sal jy kinders in die wêreld bring.
Na jou man sal jy hunker,
en hy sal oor jou heers.”

17

Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet,

“is die aarde deur jou toedoen vervloek;
met swaarkry sal jy daaruit 'n bestaan maak,
jou lewe lank;

18
die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit,
en jy sal veldplante eet;

19
net deur harde werk sal jy kan eet,
totdat jy terugkeer na die aarde toe,
want daaruit is jy geneem.
Stof is jy, en jy sal weer stof word.”

20

Die mens het sy vrou Eva genoem; sy was die moeder van al die mense.

21 Daarna het die Here God vir die mens en sy vrou velklere gemaak, en hulle dit aangetrek.

22

Toe het die Here God gesê: “Die mens het nou soos een van Ons geword deurdat hy alles kan ken. As hy nou maar net nie sy hand uitsteek en die vrug van die boom van die lewe vat en daarvan eet en altyd bly lewe nie!”

23

Daarom het die Here God die mens weggestuur uit die tuin van Eden uit om die aarde te gaan bewerk, die aarde waaruit hy gemaak is.

24 Die Here God het die mens uitgedryf, en om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak, het Hy oos van die tuin van Eden gerubs gesit, en ook 'n vlammende swaard wat heen en weer beweeg.

4

1

Die mens het met sy vrou Eva gemeenskap gehad, en sy het swanger geword. Sy het vir Kain in die wêreld gebring en uitgeroep: “Ek het 'n man in die wêreld gebring met die hulp van die Here!”

2

Sy het weer 'n kind gekry, Abel, 'n broer vir Kain. Abel was 'n veeboer en Kain 'n saaiboer.

3 Na verloop van tyd het Kain van die opbrengs van die land 'n offer aan die Here gebring.

4 Abel het dit ook gedoen, van die eerstelinge uit sy kudde, van hulle vet. Die Here het vir Abel en sy offer aangeneem,

5 maar nie vir Kain en sy offer nie.

Kain het baie kwaad geword en hy was bedruk.

6

Toe sê die Here vir Kain: “Waarom is jy kwaad? Waarom is jy bedruk?

7 Wag daar nie vir jou blydskap as jy goed doen nie? As jy nie goed doen nie — die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers.”

8

Kain het met sy broer Abel gepraat, en toe hulle in die veld was, het Kain vir Abel oorweldig en hom doodgemaak.

9

Toe vra die Here vir Kain: “Waar is jou broer Abel?” en Kain antwoord: “Ek weet nie. Moet ek dan my broer oppas?”

10

Maar die Here sê: “Wat het jy gedoen? Die bloed van jou broer roep van die aarde af na My.

11 Vervloek is jy dan nou, verban van die grond af wat gretig die bloed van jou broer uit jou hand opgeslurp het.

12 Wanneer jy die grond bewerk, sal dit nie sy opbrengs vir jou gee nie. Jy sal 'n doellose swerwer op aarde word!”

13

Toe sê Kain vir die Here: “My straf is te swaar om te dra.

14 U verdryf my nou van my grond af, en tot U het ek nie meer toegang nie. Ek sal 'n doellose swerwer op aarde wees, en wie my raakloop, sal my vermoor.”

15

Maar die Here sê vir hom: “Nee! Wie vir Kain vermoor, sal sewe maal gestraf word.”

Toe gee die Here vir Kain 'n teken sodat niemand wat hom raakloop, hom sou doodmaak nie.

16 En Kain het van die Here af weggegaan. Hy het gaan woon in Nod , oos van Eden.

17

Kain het met sy vrou gemeenskap gehad, en sy het swanger geword en vir Henog in die wêreld gebring. Kain het daarna 'n stad begin bou en hy het die stad na sy seun Henog vernoem.

18 Vir Henog is 'n seun Irad gebore, en Irad was die vader van Megujael, en dié was die vader van Metusael, en dié was die vader van Lameg.

19

Lameg was met twee vrouens getroud. Die een was Ada en die ander Silla.

20 Ada het vir Jabal in die wêreld gebring. Hy was die stamvader van dié wat in tente by hulle kuddes woon.

21 Die naam van sy broer was Jubal en hy was die stamvader van dié wat op die lier en die fluit speel.

22 Silla weer het vir Tubal-Kain in die wêreld gebring, en hy was 'n smid, 'n vakman in koper en yster. Sy suster was Naäma.

23 Lameg het vir sy vrouens gesê:

“Ada en Silla, luister na my!
Vrouens van Lameg, let op my woorde!
Ek maak 'n man dood as hy my wond,
'n seun as hy my seermaak.

24
Kain sal sewe maal gewreek word,
Lameg sewe en sewentig maal!”

25

Adam het weer met sy vrou gemeenskap gehad, en sy het 'n seun in die wêreld gebring en hom Set genoem, “want,” het sy gesê, “God het vir my 'n ander kind gegee in die plek van Abel omdat Kain hom vermoor het.”

26

Ook vir Set is daar 'n seun gebore, en Set het hom Enos genoem.

In daardie tyd het die mense begin om die Naam van die Here aan te roep.

5

1

Hier volg die geslagsregister van Adam.

Toe God die mense geskep het, het Hy hulle gemaak as beeld van Homself.

2 Man en vrou het Hy hulle geskep en Hy het hulle geseën en hulle “mens” genoem toe hulle geskep is.

3

Toe Adam 130 was, het hy die vader geword van 'n seun, sy beeld, een soos hyself. Adam het hom Set genoem.

4 Nadat Set vir hom gebore is, het Adam nog 800 jaar geleef en seuns en dogters gehad.

5 Adam was dus 930 jaar toe hy gesterf het.

6

Toe Set 105 was, het hy die vader geword van Enos.

7 Set het na die geboorte van Enos nog 807 jaar geleef en het seuns en dogters gehad.

8 Set was dus 912 jaar toe hy gesterf het.

9

Toe Enos 90 was, het hy die vader geword van Kenan.

10 Enos het na die geboorte van Kenan nog 815 jaar geleef en het seuns en dogters gehad.

11 Enos was dus 905 jaar toe hy gesterf het.

12

Toe Kenan 70 was, het hy die vader geword van Mahalalel.

13 Kenan het na die geboorte van Mahalalel nog 840 jaar geleef en het seuns en dogters gehad.

14 Kenan was dus 910 jaar toe hy gesterf het.

15

Toe Mahalalel 65 was, het hy die vader geword van Jered.

16 Mahalalel het na die geboorte van Jered nog 830 jaar geleef en het seuns en dogters gehad.

17 Mahalalel was dus 895 jaar toe hy gesterf het.

18

Toe Jered 162 was, het hy die vader geword van Henog.

19 Jered het na die geboorte van Henog nog 800 jaar geleef en het seuns en dogters gehad.

20 Jered was dus 962 jaar toe hy gesterf het.

21

Toe Henog 65 was, het hy die vader geword van Metusalag.

22 Henog het na die geboorte van Metusalag nog 300 jaar naby God geleef en het seuns en dogters gehad.

23 Henog se ouderdom was dus 365 jaar.

24 Hy het naby God geleef en toe was hy nie meer daar nie, want God het hom na Hom toe weggeneem.

25

Toe Metusalag 187 was, het hy die vader geword van Lameg.

26 Metusalag het na die geboorte van Lameg nog 782 jaar geleef en het seuns en dogters gehad.

27 Metusalag was dus 969 jaar toe hy gesterf het.

28

Toe Lameg 182 was, het hy die vader geword van 'n seun.

29 Hy het die seun Noag genoem, “want,” het hy gesê, “hierdie seun sal ons opbeur in die harde werk met ons hande en in ons swaarkry op die grond wat deur die Here vervloek is.”

30

Lameg het na die geboorte van Noag nog 595 jaar geleef en hy het seuns en dogters gehad.

31 Lameg was dus 777 jaar toe hy gesterf het.

32

Toe Noag 500 was, het hy die vader geword van Sem, Gam en Jafet.

6

1

Toe die mense baie begin word het op die aarde en daar vir hulle dogters gebore is,

2 het die hemelwesens gesien die dogters van die mense is mooi en het hulle getrou met die dogters van hulle keuse.

3 Toe sê die Here: “My Gees sal nie meer so lank in die mens bly nie, want hy is sterflik. Sy lewensduur sal nou honderd en twintig jaar wees.”

4

In daardie tyd was daar reuse op die aarde, en ook daarna wanneer die hemelwesens na die dogters van die mense toe gekom en kinders by hulle gehad het. Hulle was die sterk mense van die ou tyd, die manne van naam.

5

Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink,

6 was die Here bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief.

7 Die Here het gesê: “Ek sal die mens wat Ek geskep het, wegvee van die aarde af; mens en dier, ook dié wat kruip, en die voëls, want Ek is bedroef daaroor dat Ek hulle gemaak het.”

8

Maar Noag is deur die Here begenadig.

9

Hier volg die verhaal van Noag.

Noag was 'n regverdige man. Onder sy tydgenote was hy onberispelik en hy het naby God geleef.

10

Noag het drie seuns gehad: Sem, Gam en Jafet.

11

Die aarde was korrup in die oë van God, vol geweld;

12 Hy het die aarde gesien: dit was korrup, elke mens op aarde se lewe was verrot.

13 Toe sê God vir Noag: “Ek het besluit om 'n einde te maak aan alle mense, want deur hulle toedoen is die aarde vol geweld. Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg.

14

“Maak vir jou 'n ark van goferhout. Jy moet vertrekke in die ark maak en dit binne en buite met pik dig maak.

15 Jy moet dit soos volg maak: die lengte van die ark moet honderd vyf en dertig meter wees, sy breedte twee en twintig en 'n half meter en sy hoogte dertien en 'n half meter.

16 Jy moet 'n dak vir die ark maak en sy nok moet jy vyf en veertig sentimeter hoog maak. Verder moet jy 'n deur aan die kant van die ark insit en 'n onderste, middelste en boonste verdieping maak.

17

“Ek gaan 'n oorstroming oor die aarde laat kom om al wat daarop lewe, te verdelg, elke lewende ding onder die hemel. Alles wat op die aarde is, sal omkom,

18 maar met jou wil Ek 'n verbond sluit. Jy moet in die ark ingaan, jy en jou seuns en jou vrou en jou skoondogters.

19 Van al wat leef, van al die diere, moet jy twee van elk, manlik en vroulik, in die ark laat ingaan om saam met jou aan die lewe te bly.

20 Van elke soort voël en dier, ook van dié wat kruip, van almal sal daar twee na jou toe kom om aan die lewe te bly.

21 Jy moet vir jou kos saamvat, van alles wat geëet kan word, en dit by jou wegpak. Dit sal jou en die diere se kos wees.”

22

Noag het alles gedoen presies soos God hom beveel het.

7

1

Toe sê die Here vir Noag: “Jy en jou hele gesin moet in die ark ingaan. Ek het jou gesien en onder hierdie geslag bevind Ek jou regverdig.

2 Van al die rein diere moet jy sewe pare, manlik en vroulik, saamvat en van al die onrein diere net een paar, manlik en vroulik.

3 Ook uit die voëls moet jy sewe pare, mannetjies en wyfies, saamvat. Dit moet jy doen om al die soorte op die hele aarde aan die lewe te laat bly.

4 Oor sewe dae sal Ek dit veertig dae en nagte lank laat reën en alles wat leef, wat Ek gemaak het, wegvee van die aarde af.”

5

Noag het alles gedoen soos die Here hom beveel het.

6

Noag was ses honderd jaar toe die vloedwaters oor die aarde gekom het.

7 Noag en sy seuns en sy vrou en sy skoondogters het in die ark ingegaan vir die vloedwaters.

8 Die rein en die onrein diere, die voëls, en die diere wat kruip,

9 het in pare, manlik en vroulik, na Noag toe in die ark gekom soos God vir Noag gesê het.

10 Op die sewende dag het die vloedwaters oor die aarde gekom.

11

Presies op die sewentiende dag van die tweede maand van die ses honderdste jaar van Noag het die fonteine van die groot waters oopgebreek. Die vensters van die hemel is oopgemaak,

12 sodat daar 'n stortreën op die aarde geval het, veertig dae en veertig nagte lank.

13

Dit was die dag waarop Noag en sy seuns, Sem, Gam en Jafet, en sy vrou en sy drie skoondogters almal saam in die ark ingegaan het.

14 Hulle, en elke soort wilde dier en mak dier, en al die soorte diere wat kruip, en elke soort voël, alles wat vlieg, het ingegaan.

15 Van al wat leef, het daar pare-pare na Noag toe in die ark gekom.

16 Hulle het ingekom, manlik en vroulik, soos God vir Noag gesê het. En toe het die Here die ark agter Noag toegesluit.

17

Die oorstroming het oor die aarde gekom, veertig dae lank, en die water het al hoe meer geword. Dit het die ark opgelig en die ark het begin opstyg bokant die aarde.

18 Maar die waters het nog meer en nog sterker geword op die aarde en die ark het op die waters begin dryf.

19 Die waters op die aarde het nog meer en meer geword, sodat hulle al die hoë berge wat daar onder die hemel is, bedek het.

20 Die water het amper sewe meter bokant die berge gestyg en dit bedek.

21

Al wat op die aarde geleef het, het omgekom: diere wat kruip, voëls, mak diere, wilde diere, ja, alles wat op aarde wemel, ook al die mense;

22 alles wat die lewensasem in die neus gehad het, alles wat op land geleef het, is dood.

23 So het God alles wat op die aarde geleef het, uitgewis: mens en dier, ook dié wat kruip, en die voëls, hulle almal is weggevee van die aarde af. Net Noag en dié by hom in die ark is gespaar.

24 Die water het die aarde honderd en vyftig dae lank oorstroom.

8

1

Toe het God gedink aan Noag en aan al die wilde diere en die mak diere wat by hom in die ark was, en God het 'n wind oor die aarde laat waai, en die waters het teruggetrek.

2 Die fonteine van die groot waters en die vensters van die hemel is toegemaak, en die stortreën uit die hemel het opgehou.

3 Die water het al hoe meer weggesak van die aarde af. Na honderd en vyftig dae het die water so gesak

4 dat die ark op die sewentiende van die sewende maand op die Araratberge tot rus gekom het.

5 Die water het aangehou sak en op die eerste van die tiende maand het die bergtoppe sigbaar geword.

6 Veertig dae later het Noag die venster wat hy vir die ark ingesit het, oopgemaak

7 en 'n kraai losgelaat, maar dit het heen en weer gevlieg totdat die water op die aarde opgedroog het.

8

Noag het toe 'n duif losgelaat om te probeer vasstel of die water al van die aarde af verdwyn het.

9 Maar oral op die aarde was daar nog water, en die duif kon nie 'n rusplekkie kry vir die holte van sy voet nie en het na Noag toe in die ark teruggekom. Hy het dit toe met sy hand gevang en in die ark teruggesit.

10 Noag het toe nog sewe dae gewag en weer die duif uit die ark uit losgelaat.

11 Teen die aand het die duif na hom toe teruggekom, nogal met 'n varsgeplukte olyfblaar in sy bek. Toe het Noag geweet dat die water op die aarde opdroog.

12 Hy het nog sewe dae gewag en die duif losgelaat, maar dit het nie weer na hom toe teruggekom nie.

13

Op die eerste dag van die eerste maand van die ses honderd en eerste jaar van Noag was die water op die aarde heeltemal weggedroog. Noag het die luik van die ark oopgemaak en uitgekyk. Die hele aarde was droog.

14 Op die sewe en twintigste van die tweede maand was die aarde droog,

15 en toe sê God vir Noag:

16 “Gaan uit die ark uit, jy en jou vrou en jou seuns en hulle vrouens,

17 en al die lewende wesens wat by jou is, van watter soort hulle ook al is: voëls, diere en alles wat kruip. Hulle moet saam met jou uitgaan. Hulle moet wemel op die aarde en vrugbaar wees en baie word op die aarde.”

18

Noag en sy seuns en sy vrou en sy skoondogters het uitgegaan,

19 en ook al die diere, al die voëls en alles wat kruip, het uit die ark uitgegaan, almal volgens hulle soorte.

20

Toe het Noag 'n altaar vir die Here gebou en van al die rein vee en die rein voëls gevat en brandoffers op die altaar gebring.

21 Die Here het die offer aanvaar en Hy het by Homself gesê: “Ek sal nie weer so 'n ramp oor die aarde laat kom vanweë die mens nie. Van sy jeug af bedink die mens net slegte dinge, maar Ek sal nie weer al wat lewe laat omkom soos Ek gedoen het nie.


22
“So lank as die aarde bly bestaan,
sal saaityd en oestyd nie ophou nie,
ook nie koue en hitte,
somer en winter,
dag en nag nie.”

9

1

God het vir Noag en sy seuns geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie en bewoon die aarde.

2 Al die diere, al die voëls, al die diere wat kruip, en al die vis sal vir julle bang wees en vir julle skrik. Hulle word tot julle beskikking gestel.

3 Alles wat roer en lewe, sal kos wees vir julle. Naas die groen plante gee Ek dit alles vir julle.

4 Julle mag net nie vleis eet met sy lewe in, dit is met sy bloed in nie.

5 Wanneer julle eie bloed vergiet word, sal Ek daaroor rekenskap eis, want dit is julle lewe: van 'n dier sal Ek rekenskap eis oor die lewe van 'n mens, en van 'n mens sal Ek rekenskap eis oor die lewe van sy medemens.


6
“Wie die bloed van 'n mens vergiet,
deur 'n mens sal sy bloed vergiet word.
God het die mens gemaak as sy verteenwoordiger.

7
Maar júlle moet vrugbaar wees en baie word.
Vermeerder op die aarde en word baie!”

8

Verder het God vir Noag en sy seuns gesê:

9 “Kyk, Ek sluit 'n verbond met julle en julle nageslag

10 en met al die lewende wesens by julle: die voëls, die mak diere en die wilde diere by julle, naamlik met al die wilde diere wat uit die ark uitgekom het.

11 Ek sal my verbond met julle hou: mens en dier sal nie weer deur vloedwaters uitgewis word nie. Daar sal nie weer 'n oorstroming wees wat die aarde sal oorweldig nie.”

12

Toe het God gesê: “Dit is die teken van die verbond tussen My en julle en die wilde diere by julle, 'n verbond wat vir alle toekomstige geslagte geld:

13 my reënboog het Ek in die wolke geplaas. Dit sal die teken wees van die verbond tussen My en die aarde.

14 Wanneer Ek wolke oor die aarde laat saampak, en die reënboog verskyn in hulle,

15 sal Ek dink aan my verbond met julle en al die wilde diere volgens hulle soorte. Daar sal nooit weer vloedwaters kom wat alle lewende wesens uitroei nie.

16 Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op die aarde.”

17

God het vir Noag gesê: “Dit is dan die teken van die verbond wat Ek tot stand gebring het tussen My en al die lewende wesens op die aarde.”

18

Noag se seuns wat uit die ark gekom het, was Sem, Gam en Jafet. Gam was die pa van Kanaän.

19 Dit was Noag se drie seuns en uit hulle is die hele aarde bevolk.

20

Noag was 'n boer, die eerste wat 'n wingerd geplant het.

21 Hy het wyn gedrink en dronk geword. Toe het hy kaal in sy tent gelê.

22 Gam, die pa van Kanaän, het gesien sy pa is kaal en het dit buite vir sy twee broers gaan vertel.

23 Sem en Jafet het toe 'n kledingstuk van Noag gevat, dit oor hulle skouers gehou en agteruit geloop en hulle pa toegemaak. Hulle het anderpad gekyk, sodat hulle nie hul pa kaal sou sien nie.

24

Toe Noag uit sy roes wakker word en verneem wat Gam, sy jongste, hom aangedoen het,

25 sê hy:

“Vervloek is Kanaän!
'n Nikswerd slaaf sal hy wees,
in diens van sy broers.”

26

Verder het hy gesê:

“Prys die Here, die God van Sem!
Kanaän moet Sem se slaaf wees.

27
Mag God aan Jafet 'n ruim woonplek gee,
mag hy welkom wees in die tente van Sem.
Kanaän moet Jafet se slaaf wees.”

28

Na die oorstroming het Noag nog drie honderd en vyftig jaar geleef.

29 Noag was dus nege honderd en vyftig jaar toe hy gesterf het.

10

1

Hier volg besonderhede oor Noag se seuns, Sem, Gam en Jafet. Na die oorstroming is daar ook vir hulle kinders gebore.

2

Die nageslag van Jafet:

Gomer, Magog, die Mediërs, die Grieke, Tubal, Mesek en Tiras.

3 Die nageslag van Gomer was Askenas, Rifat en Togarma.

4 Uit Griekeland het Elisa, Tarsis, die Kittiërs en die Rodaners voortgekom.

5 Uit hulle het die mense wat nou die kusstreke bewoon, daarnatoe versprei, volgens hulle stamme en nasies, elkeen met sy eie taal.

6

Die nageslag van Gam:

Kus, Egipte, Put en Kanaän.

7 Die nageslag van Kus was Seba, Gawila, Sabta, Rama en Sabteka. Die nageslag van Rama was Skeba en Dedan.

8 Uit Kus het Nimrod gekom, die eerste maghebber op die aarde.

9 Hy was 'n dapper jagter, ook in die oë van die Here. Daarom word daar gesê: “'n Dapper jagter in die oë van die Here, soos Nimrod.”

10

Nimrod se koninkryk het begin by Babel, Erek, Akkad en Kalne, almal in Sinar.

11 Van hier af het hy na Assirië toe gegaan en Nineve, Regobot-Ir en Kalag gebou,

12 asook Resen tussen Nineve en Kalag. Resen was 'n groot stad.

13

Uit Egipte weer het gekom die Ludeërs, Anammers, Lehabeërs, Naftoagiete,

14 Patrosane en die Kaslugiete uit wie die Filistyne kom, en die Kaftorane.

15 Uit Kanaän het gekom Sidon wat as sy oudste seun geld, en verder Het,

16 die Jebusiete, Amoriete, Girgasiete,

17 Hewiete, Erekiete, Siniete,

18 Arwadters, Semariërs en die mense van Hamat. Met verloop van tyd het die Kanaänitiese stamme versprei

19 en het hulle grense gestrek van Sidon af tot by Gasa in die rigting van Gerar en tot by Lesa in die rigting van Sodom, Gomorra, Adma en Sebojim.

20

Hulle is almal die nageslag van Gam, met hulle eie stamme en tale in hulle eie lande en onder hulle eie nasies.

21

Vir Sem is daar ook kinders gebore. Hy was die voorvader van al die Hebreërs. Sy oudste broer was Jafet.

22

Die nageslag van Sem:

Elam, Assirië, Arpaksad, Lud en Aram.

23 Die nageslag van Aram was Us, Gul, Geter en Mas.

24 Uit Arpaksad het Selag gekom, en uit Selag Heber.

25 Vir Heber is twee seuns gebore. Die naam van die een was Peleg , want in sy tyd is die land verdeel, en die naam van sy broer was Joktan.

26 Uit Joktan het gekom Almodad, Selef, Gasarmawet, Jerag,

27 Hadoram, Usal, Dikla,

28 Obal, Abimael, Skeba,

29 Ofir, Gawila en Jobab. Hulle almal het uit Joktan voortgekom.

30 Hulle nedersettings het gestrek van Mesa af in die rigting van Sefar in die oostelike bergwêreld.

31

Hulle is almal die nageslag van Sem, met hulle eie stamme en tale, in hulle eie lande en onder hulle eie nasies.

32

Dit is die stamme van die seuns van Noag volgens hulle herkoms onder hulle eie nasies. Uit húlle het die nasies oor die aarde versprei ná die oorstroming.

11

1

Die hele wêreld het net een taal gepraat.

2 Toe die mense ooswaarts getrek het, het hulle uitgekom by 'n vlakte in Sinar en daar gaan woon.

3 Hulle het op 'n keer vir mekaar gesê: “Kom ons maak stene en ons brand hulle hard.”

Hulle het toe stene in plaas van klip gebruik en asfalt in plaas van klei.

4

Toe sê hulle: “Kom ons bou vir ons 'n stad met 'n toring waarvan die punt tot in die hemel reik en ons maak so vir ons 'n naam. Dan sal ons nie oor die hele aarde versprei nie.”

5

Die Here het afgekom om te kyk na die stad en die toring wat die mense vir hulle gebou het,

6 en toe sê Hy: “Hier is hulle een volk en almal het een taal. Hulle het nog maar net begin om iets te doen. Hierna sal niks wat hulle beplan vir hulle onmoontlik wees nie.

7 Kom laat Ons afgaan en verwarring bring in hulle taal, sodat die een nie die ander verstaan nie.”

8

Die Here het hulle toe van daar af verstrooi oor die hele aarde, en hulle het opgehou met die bou van die stad.

9 Daarom het hulle die stad Babel genoem, want daar het die Here in die taal van die aarde verwarring gebring, en van daar af het Hy die mense oor die hele aarde verstrooi.

10

Hier volg die familieregister van Sem. Toe Sem 100 was, het hy die vader geword van Arpaksad, twee jaar na die oorstroming.

11 Sem het na die geboorte van Arpaksad nog 500 jaar geleef en het seuns en dogters gehad.

12 Toe Arpaksad 35 was, het hy die vader geword van Selag.

13 Arpaksad het na die geboorte van Selag nog 403 jaar geleef en het seuns en dogters gehad.

14 Toe Selag 30 was, het hy die vader geword van Heber.

15 Selag het na die geboorte van Heber nog 403 jaar geleef en het seuns en dogters gehad.

16 Toe Heber 34 was, het hy die vader geword van Peleg.

17 Heber het na die geboorte van Peleg nog 430 jaar geleef en het seuns en dogters gehad.

18 Toe Peleg 30 was, het hy die vader geword van Reü.

19 Peleg het na die geboorte van Reü nog 209 jaar geleef en het seuns en dogters gehad.

20 Toe Reü 32 was, het hy die vader geword van Serug.

21 Reü het na die geboorte van Serug nog 207 jaar geleef en het seuns en dogters gehad.

22 Toe Serug 30 was, het hy die vader geword van Nahor.

23 Serug het na die geboorte van Nahor nog 200 jaar geleef en het seuns en dogters gehad.

24 Toe Nahor 29 was, het hy die vader geword van Tera.

25 Nahor het na die geboorte van Tera nog 119 jaar geleef en het seuns en dogters gehad.

26 Toe Tera 70 was, het hy die vader geword van Abram, Nahor en Haran.

27

Hier volg die familiegeskiedenis van Tera. Tera het die vader geword van Abram, Nahor en Haran, en Haran het die vader geword van Lot.

28 Haran het in Ur van die Galdeërs, sy geboorteland, gesterf toe sy vader Tera nog geleef het.

29 Abram het getrou en Nahor ook: Abram se vrou se naam was Sarai en dié van Nahor se vrou was Milka, 'n dogter van Haran wat nie net die vader van Milka was nie, maar ook van Jiska.

30 Sarai was onvrugbaar; sy het nie kinders gehad nie.

31

Tera het sy seun Abram geneem en ook sy kleinseun Lot seun van Haran, en sy skoondogter Sarai die vrou van sy seun Abram, en saam met hulle uit Ur van die Galdeërs weggetrek om na Kanaän toe te gaan. Maar hulle het net tot by Haran getrek en in dié stad gaan woon.

32 Tera was twee honderd en vyf jaar oud toe hy in Haran gesterf het.

12

1

Die Here het vir Abram gesê:

“Trek uit jou land uit,
weg van jou mense en jou familie af
na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.

2
Ek sal jou 'n groot nasie maak,
Ek sal jou seën en jou 'n man van groot betekenis maak,
en jy moet tot 'n seën wees.

3
Ek sal seën wie jou seën,
en hom vervloek wat jou vervloek.
In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.”

4

Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here, en Lot het saam met hom getrek. Abram was vyf en sewentig toe hy uit Haran weggetrek het.

5 Hy het sy vrou Sarai en sy broerskind Lot en al die besittings wat hulle bymekaargemaak het en al die slawe wat hulle in Haran aangeskaf het, saamgevat en hulle het weggetrek na Kanaän toe.

Nadat hulle in Kanaän aangekom het,

6 het Abram deur die land getrek tot by Sigem se aanbiddingsplek by die groot waarsêersboom. In daardie tyd het die Kanaäniete die land bewoon.

7

Toe het die Here aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land.”

Abram het daar 'n altaar gebou vir die Here wat aan hom verskyn het.

8

Van daar af het Abram verder getrek na die bergwêreld toe, oos van Bet-El, waar hy tent opgeslaan het met Bet-El aan die westekant en Ai aan die oostekant. Daar het hy 'n altaar vir die Here gebou en die Naam van die Here aangeroep.

9 Toe het Abram kamp opgebreek en al gaande na die Suidland toe versit.

10

Daar was hongersnood in die land, 'n baie swaar hongersnood, en Abram het na Egipte toe getrek om daar 'n heenkome te vind.

11 Toe hy op die punt staan om Egipte binne te gaan, sê hy vir sy vrou Sarai: “Ek weet jy is 'n mooi vrou.

12 Wanneer die Egiptenaars jou sien, sal hulle sê: ‘Dis sy vrou,’ en hulle sal my doodmaak, maar vir jou sal hulle laat bly lewe.

13 Sê tog maar jy is my suster dat dit met my goed kan gaan oor jou, en my lewe deur jou toedoen gespaar word.”

14

Toe Abram in Egipte aankom, het die Egiptenaars gesien hoe mooi sy vrou is.

15 En toe die farao se amptenare haar sien, het hulle haar by hom aanbeveel, en sy is na die farao se paleis toe gevat.

16 Hulle het aan Abram goed gedoen oor haar en vir hom kleinvee en beeste gegee; ook donkies, slawe en slavinne, donkiemerries en kamele.

17

Maar die Here het die farao en sy huis met swaar plae getref oor Sarai die vrou van Abram.

18 Toe roep die farao vir Abram en vra hom: “Wat het jy my aangedoen? Waarom het jy my nie gesê sy is jou vrou nie?

19 Waarom het jy gesê sy is jou suster, sodat ek haar as my vrou gevat het? Hier is jou vrou dan. Vat haar en maak dat jy wegkom!”

20

Toe het die farao aan sy amptenare bevele oor Abram uitgereik, en hulle het hom en sy vrou met al sy besittings uit die land uit gestuur.

13

1

Abram het uit Egipte na die Suidland toe getrek, hy en sy vrou met al sy besittings, en Lot saam met hom.

2 Abram was baie ryk aan vee en silwer en goud.

3 Hy het van plek tot plek uit die Suidland getrek na Bet-El toe, na die plek waar sy tente aan die begin gestaan het, tussen Bet-El en Ai,

4 die plek waar hy vroeër 'n altaar gebou het. Daar het Abram die Naam van die Here aangeroep.

5

Lot, wat saam met Abram getrek het, het self ook baie kleinvee en beeste en tente vir sy mense gehad.

6 Die land kon nie in Abram en Lot saam se behoeftes voorsien sodat hulle bymekaar kon bly nie. Hulle besittings was te veel; hulle kon nie bymekaar bly nie.

7 Die Kanaäniete en die Feresiete het ook nog in die gebied gewoon. Daar het toe 'n getwis ontstaan tussen Abram se veewagters en Lot s'n.

8

Toe sê Abram vir Lot: “Daar behoort nie 'n getwis te wees tussen my en jou en tussen my veewagters en joune nie, want ons is familie.

9 Die hele land lê oop voor jou. Gaan jy liewer weg van my af. As jy links gaan, gaan ek regs; en as jy regs gaan, gaan ek links.”

10

Lot het toe rondgekyk en gesien die hele Jordaanstreek tot by Soar het so volop water soos 'n tuin van die Here, soos Egipte. Dit was naamlik nog voordat die Here Sodom en Gomorra verwoes het.

11 Lot het die hele Jordaanstreek vir hom gekies en hy het ooswaarts versit.

So het die twee van mekaar geskei:

12 Abram het in Kanaän bly woon, en Lot het in die stede van die Jordaanstreek gewoon; tot by Sodom het hy gaan tent opslaan.

13

Die inwoners van Sodom was sleg: hulle het baie gesondig teen die Here.

14

Nadat Lot van Abram af weg is, het die Here vir Abram gesê: “Kyk tog rond, kyk van hier af waar jy is, na die noorde en die suide, na die ooste en die weste.

15 Die hele land wat jy sien, gee Ek vir altyd aan jou en jou nageslag.

16 Ek sal jou nageslag so baie maak soos die stof van die aarde. As iemand die stof van die aarde kan tel, sal jou nageslag ook getel kan word.

17 Trek nou deur die land, deur sy lengte en sy breedte, want Ek gee dit vir jou.”

18

Abram het sy tente versit en gaan woon by die groot bome van Mamre by Hebron. Daar het hy 'n altaar vir die Here gebou.

14

1

Dit was in dié tyd dat koning Amrafel van Sinar, koning Arjok van Ellasar, koning Kedorlaomer van Elam en koning Tidal van Gojim

2 oorlog gemaak het teen koning Bera van Sodom, koning Birsa van Gomorra, koning Sinab van Adma, koning Semeber van Sebojim, en teen die koning van Bela, dit is Soar,

3 en as bondgenote opgetrek het na die Siddimvlakte toe, dit is vandag die Soutsee.

4 Twaalf jaar was die gebied onderhorig aan Kedorlaomer, maar in die dertiende jaar het dit gerebelleer.

5 In die veertiende jaar het Kedorlaomer en die konings wat saam met hom was, gekom en die Refaïete verslaan in Asterot-Karnajim, die Sussiete in Ham, die Emiete in die Kirjatajimvlakte

6 en die Goriete in die Seïrberge tot by El-Paran in die woestyn.

7

Kedorlaomer-hulle het toe omgedraai en by En-Mispat gekom, dit is Kades, en daar het hulle die hele gebied van die Amalekiete verower en ook nog die gebied van die Amoriete wat toe in Gaseson-Tamar gewoon het.

8

Die konings van Sodom, Gomorra, Adma, Sebojim en Bela, dit is Soar, het toe opgetrek en in die Siddimvlakte teenoor die ander konings stelling ingeneem om te veg,

9 teenoor koning Kedorlaomer van Elam, koning Tidal van Gojim, koning Amrafel van Sinar, koning Arjok van Ellasar, vyf konings teen vier.

10

In die Siddimvlakte was daar oral asfaltgate, en toe die konings van Sodom en Gomorra gevlug het, het hulle daarin geval. Wie van hulle oorgebly het, het na die berge toe gevlug.

11 Die vier konings het al die besittings van Sodom en Gomorra en ook al hulle kos buitgemaak en vertrek.

12 Hulle het ook vir Lot, Abram se broerskind, en al sy besittings gevat en vertrek. Hy het daardie tyd in Sodom gewoon.

13

Daar het egter iemand ontsnap en dié het alles gaan vertel vir Abram die Hebreër wat gewoon het by die groot bome van die Amoriet Mamre, 'n broer van Eskol en Aner. Hulle drie het 'n verdrag met Abram gesluit.

14 Toe Abram hoor dat sy familielid weggevoer is, het hy sy volgelinge, drie honderd en agtien slawe wat by hom gebore is, hulle wapens laat vat en die konings agtervolg tot by Dan.

15 Die nag het Abram en sy manne hulle van verskillende kante af aangeval en verslaan. Hy het hulle agtervolg tot by Goba, noord van Damaskus.

16 Abram het al die besittings teruggekry. Hy het ook vir Lot, sy familielid, met al sy besittings teruggekry, ook die vrouens en al die ander mense.

17

Toe Abram terugkom van sy oorwinning oor Kedorlaomer en die konings by hom, het die koning van Sodom vir Abram tegemoet gegaan in die Sawevlakte, dit is die Koningsvlakte.

18

Melgisedek, koning van Salem en priester van God die Allerhoogste, het vir Abram kos en wyn gebring

19 en hom geseën:

“Mag Abram geseën word deur God die Allerhoogste,
Skepper van hemel en aarde.

20
Geloof sy God die Allerhoogste!
Hy het jou vyand in jou mag oorgegee.”

Toe het Abram vir Melgisedek 'n tiende van alles gegee.

21

Die koning van Sodom het vir Abram gesê: “Gee my net die mense en vat die besittings vir jou.”

22

Maar Abram het hom geantwoord: “Ek het my hand opgelig en 'n eed afgelê voor die Here, voor God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde,

23 dat ek niks van jou sal vat nie, nie eers 'n garingdraad of 'n skoenveter nie, sodat jy nie kan sê: ‘Ek het vir Abram ryk gemaak’ nie.

24 Afgesien van wat my manskappe geëet het, kan jy my buite rekening laat. Maar die manne wat saam met my gegaan het, Aner, Eskol en Mamre, hulle moet hulle deel kry.”

15

1

Hierna het die woord van die Here in 'n gesig tot Abram gekom:

“Moenie bang wees nie, Abram,
Ek beskerm jou!
Jou beloning sal baie groot wees.”

2

Toe sê Abram: “Here my God, wat kan U vir my gee? Ek sal kinderloos sterf, en Eliëser die man uit Damaskus sal my besittings kry.”

3

Abram het verder gesê: “U het nie vir my 'n nageslag gegee nie. 'n Slaaf uit my huis sal my erfgenaam wees.”

4

Maar die woord van die Here het tot Abram gekom: “Daardie een sal nie jou erfgenaam wees nie. Een wat jou eie nasaat is, hy sal jou erfgenaam wees.”

5

Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.” Verder sê die Here vir hom: “So baie sal jou nageslag wees.”

6

Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens die wil van die Here gehandel het.

7

Hy het vir Abram gesê: “Ek is die Here wat jou uit Ur van die Galdeërs laat wegtrek het om hierdie land aan jou te gee as jou besitting.”

8

Maar Abram vra: “Hoe sal ek weet dat ek dit sal besit, Here my God?”

9

Toe beveel die Here hom: “Bring vir My 'n vers, 'n bok en 'n skaapram, almal drie jaar oud, en 'n tortelduif en 'n jong duif.”

10

Abram het dit alles vir die Here gebring en dit middeldeur gesny. Hy het elke helfte teenoor die ander helfte neergesit. Die voëls het hy nie verdeel nie.

11 Die roofvoëls het op die karkasse begin toesak, maar Abram het hulle weggejaag.

12

Teen sononder het 'n diep slaap Abram oorval; angs, 'n groot donkerte het hom oorweldig.

13 Toe sê die Here vir Abram: “Weet beslis dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in 'n land wat nie aan hulle behoort nie. Daar sal hulle slawe wees en onderdruk word, vier honderd jaar lank.

14 Maar Ek sal die nasie straf wat van jou nageslag slawe maak, en dan sal hulle met baie besittings wegtrek.

15 Jy sal in vrede sterf en op 'n hoë ouderdom begrawe word.

16 Die vierde geslag ná jou sal hiernatoe terugkom. Dan eers sal die ongeregtigheid van die Amoriete sy volle maat bereik het.”

17

Toe die son ondergegaan het en dit donker was, gaan daar skielik 'n oond wat rook en 'n fakkel wat brand, tussen die stukke vleis deur.

18

Op daardie dag het die Here 'n verbond gesluit met Abram en vir hom gesê:

“Aan jou nageslag gee Ek hierdie land,
van Egiptespruit af tot by die Eufraat, die groot rivier;

19
die land van die Keniete, die Kenissiete en die Kadmoniete,

20
die Hetiete, die Feresiete en die Refaïete,

21
die Amoriete, die Kanaäniete, die Girgasiete en die Jebusiete.”

16

1

Sarai het nog nie vir haar man Abram 'n kind in die wêreld gebring gehad nie. Sy het 'n Egiptiese slavin met die naam Hagar gehad.

2 Toe sê Sarai vir Abram: “Die Here het my nou eenmaal daarvan weerhou om kinders te kan hê. Gaan slaap by my slavin. Miskien bring sy 'n kind in die wêreld wat my eie kan word.”

En Abram het saamgestem met sy vrou.

3

Abram was al tien jaar in Kanaän toe Sarai, die vrou van Abram, self vir Hagar, haar Egiptiese slavin, gevat en vir haar man Abram as vrou gegee het.

4 Hy het by Hagar gaan slaap, en sy het swanger geword. Toe sy agterkom sy is swanger, het sy haar eienares geminag.

5 Toe sê Sarai vir Abram: “Jy dra die skuld vir hierdie onreg wat ek moet verduur. Ek het my slavin vir jou gegee om met haar gemeenskap te hê, en noudat sy agterkom sy is swanger, minag sy my. Mag die Here hierdie saak tussen my en jou uitwys.”

6

Maar Abram sê vir Sarai: “Jou slavin staan onder jou. Doen met haar soos jy goeddink.”

Sarai het haar slavin toe sleg behandel, en sy het weggeloop.

7

Die Engel van die Here het vir Hagar ontmoet by 'n fontein in die woestyn, die fontein langs die pad na Sur toe,

8 en vir haar gevra: “Hagar, slavin van Sarai, waar kom jy vandaan en waar gaan jy heen?”

Toe antwoord sy: “Ek loop van my eienares Sarai af weg,”

9 en die Engel van die Here sê vir haar: “Gaan terug na jou eienares toe en onderwerp jou aan haar gesag.”

10

Verder het die Engel van die Here vir haar gesê: “Ek sal jou nageslag so baie maak dat hulle te veel sal wees om te tel.”

11

En toe sê die Engel van die Here ook nog vir haar:

“Kyk, jy is swanger;
jy sal 'n seun in die wêreld bring.
Jy moet hom Ismael noem,
want die Here het van jou swaarkry gehoor.

12
Jou seun sal 'n man wees
so ontembaar soos 'n wildedonkie:
hy sal teen almal wees,
en almal sal teen hom wees.
Hy sal in vyandskap leef met sy bloedverwante.”

13

Hagar het toe die Naam van die Here wat daar met haar gepraat het, aangeroep en gesê: “U is 'n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het.”

14

Daarom word die fontein genoem Lagai-Roï-fontein . Die fontein is tussen Kades en Bered.

15

Hagar het vir Abram 'n seun in die wêreld gebring, en Abram het sy seun wat Hagar in die wêreld gebring het, Ismael genoem.

16 Abram was ses en tagtig toe Hagar vir Ismael vir hom in die wêreld gebring het.

17

1

Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê:

“Ek is God die Almagtige.
Lewe naby My en wees opreg!

2
Ek sal my verbond met jou sluit
en baie, baie mense uit jou laat voortkom.”

3

Abram het op sy knieë geval, en toe sê God vir hom:


4
“Dit is my verbond met jou:
jy sal die vader wees van 'n menigte nasies;

5
jy sal nie meer Abram genoem word nie,
jou naam sal Abraham wees,
want Ek maak jou die vader van baie nasies.

6
Ek sal jou baie vrugbaar maak,
Ek sal jou tot nasies maak,
en konings sal uit jou voortkom.

7

“Ek bring 'n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is 'n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag.

8 Ek gee aan jou en jou nageslag die land waar jy as vreemdeling woon, die hele Kanaän, as 'n blywende besitting, en Ek sal hulle God wees.”

9

Verder het God vir Abraham gesê: “Jy moet my verbond nakom, jy en jou nageslag en al hulle nageslagte.

10 Dit is my verbond wat moet geld vir jou en jou nageslag: elke lid van die manlike geslag onder julle moet besny word.

11 Julle moet besny word aan die voorhuid. Dit is die verbondsteken tussen My en julle:

12 elke seun onder julle van ag dae oud moet besny word. Dit geld vir elke lid van die manlike geslag onder julle: al julle nageslagte en ook elke slaaf wat as kind in jou besit gebore word, en die slawe wat van 'n vreemde met geld gekoop word, wat nie jou afstammeling is nie.

13 'n Slaaf wat as kind in jou besit gebore word, en een wat vir geld gekoop word, moet beslis besny word. So sal my verbondsteken aan julle liggame wees as 'n blywende verbond.

14 Elke lid van die manlike geslag wat nie besny is nie, moet van sy volksgenote afgesny word. Hy het my verbond verbreek.”

15

God het ook nog vir Abraham gesê: “Jy moet jou vrou nie meer Sarai noem nie. Haar naam is nou Sara.

16 Ek sal haar seën en vir jou 'n seun uit haar gee. Ja, Ek sal haar seën, en nasies en konings van volke sal uit haar voortkom.”

17

Toe het Abraham op sy knieë geval en hy het gelag en gedink: kan daar vir 'n man van honderd 'n kind gebore word, of kan Sara wat negentig is, 'n kind in die wêreld bring?

18

En Abraham het vir God gesê: “As Ismael maar net in u teenwoordigheid kan bly lewe!”

19

Maar God het vir Abraham gesê: “Nee, jou vrou Sara sal vir jou 'n seun in die wêreld bring. Jy moet hom Isak noem. Ek sal my verbond met hom hou as 'n blywende verbond, en ook met sy nageslag.

20 Ek het gehoor wat jy oor Ismael gesê het. Kyk, Ek seën hom ook. Ek maak hom vrugbaar, en Ek sal sy nakomelinge baie maak. Uit hom sal daar twaalf heersers stam, en Ek sal hom 'n groot nasie laat word.

21 Maar dit is met Isak, die seun wat Sara vir jou oor 'n jaar in die wêreld sal bring, dat Ek my verbond sal nakom.”

22

Nadat God klaar met Abraham gepraat het, het Hy van Abraham af weggegaan.

23

Op daardie selfde dag het Abraham sy seun Ismael gevat en al die slawe wat in sy besit gebore is, en ook dié wat hy met geld gekoop het, elke lid van die manlike geslag in sy huis, en hy het hulle besny, soos God vir hom gesê het.

24 Abraham was nege en negentig toe hy besny is,

25 en sy seun Ismael dertien.

26 Abraham en Ismael is op presies dieselfde dag besny.

27 Al die mans in Abraham se huis, die slawe wat in sy besit gebore is, en dié wat hy van vreemdes gekoop het, is saam met hom besny.

18

1

Die Here het aan Abraham verskyn by die groot bome van Mamre. Terwyl hy op die warmste van die dag by sy tentdeur sit,

2 kyk hy op en sien drie mans daar naby staan. Toe hy hulle sien, het hy van sy tentdeur af na hulle toe gedraf en voor hulle gebuig.

3 Hy het gesê: “Menere, u sal my 'n guns bewys deur nie by my verby te gaan nie.

4 Laat ek eers 'n bietjie water laat haal sodat u u voete kan was, en kom rus dan onder die boom.

5 U is nou eenmaal op pad hier by my verby, en daarom wil ek 'n stukkie brood vir u gaan haal dat u weer nuwe krag kan kry.”

Hulle het vir hom gesê: “Goed! Maak so!”

6

Abraham het toe gou na Sara toe in die tent gegaan en vir haar gesê: “Vat gou sestien kilogram meel en knie dit en bak roosterkoeke.”

7

Daarna het hy na die beeste toe gedraf en 'n mooi jong kalf gevat en vir 'n slaaf gegee om dit gou voor te berei.

8 Toe het Abraham botter en melk en die kalf wat voorberei is, gevat en voor die mans neergesit, en hulle het daar onder die boom geëet terwyl hy hulle bedien.

9

Toe vra hulle hom: “Waar is jou vrou Sara?” en hy antwoord: “Hier in die tent.”

10

Toe sê die een: “Ek sal beslis volgende jaar hierdie tyd na jou toe terugkom, en dan sal jou vrou Sara 'n seun hê.”

Sara het by die tentopening gestaan en afluister, en die een wat gepraat het, was aan die buitekant.

11 Abraham en Sara was albei al baie oud, en Sara was verby die ouderdom van kinders in die wêreld bring,

12 en daarom het sy by haarself gelag en gedink: sal ek nog genot kan hê noudat ek afgeleef is? En dit met my man wat oud is?

13

Toe vra die Here vir Abraham: “Waarom lag Sara? Waarom dink sy: sal ek werklik 'n kind in die wêreld bring noudat ek oud is?

14 Is iets te buitengewoon vir die Here? Op die vasgestelde tyd sal Ek terugkom. Volgende jaar hierdie tyd sal Sara 'n seun hê.”

15

Sara het geskrik en toe 'n leuen vertel. “Ek het nie gelag nie,” het sy gesê.

Maar die Here het gesê: “Nee, jy het gelag.”

16

Toe die mans opstaan om te vertrek, het Abraham 'n entjie saam met hulle gestap. Die mans het afgekyk in die rigting van Sodom,

17 en toe dink die Here: sal Ek vir Abraham wegsteek wat Ek wil doen?

18 Abraham sal tog 'n groot en sterk nasie word en in hom sal al die nasies van die aarde geseën word.

19 Ek het hom gekies dat hy sy kinders en sy nageslag kan beveel om op my pad te bly deur te doen wat goed en reg is, sodat Ek vir Abraham kan doen wat Ek hom beloof het.

20

Toe sê die Here: “Die geroep teen Sodom en Gomorra is hard. Hulle sonde is baie groot!

21 Ek wil gaan kyk sodat Ek kan weet of hulle ooreenkomstig die geroep wat tot by My gekom het, gehandel het of nie.”

22

Die mans het weggedraai Sodom toe, maar die Here het by Abraham bly staan.

23

Abraham het toe nader gekom na die Here toe en gevra: “Sal U die regverdiges saam met die goddeloses vernietig?

24 Miskien is daar vyftig regverdiges in die stad. Sal U die plek werklik vernietig? Sal U dit nie spaar oor vyftig regverdiges daarin nie?

25 U sal tog nie so iets doen en die regverdiges saam met die goddeloses om die lewe bring nie! U sal tog nie die regverdiges soos die goddeloses behandel nie! Sal die regter van die hele aarde dan nie reg laat geskied nie?”

26

Toe sê die Here: “As Ek vyftig regverdiges in Sodom kry, sal Ek die hele plek spaar oor hulle.”

27

Abraham het gesê: “Ek is maar net stof en as, en tog het ek gewaag om met die Here te praat.

28 Sê nou die regverdiges is vyf minder as vyftig: sal U die hele stad vir vyf verdelg?”

Hierop antwoord die Here: “Ek sal dit nie verdelg as Ek vyf en veertig daar kry nie.”

29

Toe praat Abraham weer met die Here: “Miskien sal daar veertig gevind word,” en die Here sê: “Ook oor veertig sal Ek dit nie doen nie.”

30

Abraham sê toe: “Moet tog nie kwaad word as ek nog 'n keer praat nie, Here. Miskien sal daar dertig te kry wees,” en die Here sê: “Ek sal dit nie doen as Ek dertig daar kry nie.”

31

Maar Abraham sê: “Ek bly waag om met die Here te praat. Miskien word daar twintig gekry,” en die Here sê: “Oor die twintig sal Ek dit nie verdelg nie.”

32

Toe sê Abraham: “Moet tog nie kwaad word nie, Here! Ek wil nog net een keer praat; miskien word daar tien gekry.”

En die Here sê: “Ook oor tien sal Ek dit nie verdelg nie.”

33

Toe die Here klaar met Abraham gepraat het, het Hy weggegaan, en Abraham het na sy plek toe teruggegaan.

19

1

Die twee engele het Sodom teen die aand bereik terwyl Lot juis in die poort van Sodom sit. Toe Lot hulle sien, het hy hulle tegemoet gegaan en diep gebuig

2 en gesê: “Welkom, Menere! Kom tog na my huis toe en oornag daar. Julle kan ook julle voete was. Dan kan julle môre vroeg julle reis voortsit.”

Maar hulle sê: “Nee, ons sal sommer op die plein oornag.”

3

Lot het egter so by hulle aangehou dat hulle by hom ingedraai en in sy huis ingegaan het. Hy het vir hulle 'n maaltyd klaargemaak: hy het ongesuurde brood gebak, en hulle het geëet.

4 Voor hulle die aand gaan slaap het, het die mans oral uit die stad uit, die mans van Sodom, oud en jonk, die hele klomp, die huis van Lot omsingel.

5 Hulle het vir Lot geroep en vir hom gevra: “Waar is die mans wat vanaand na jou toe gekom het? Bring hulle uit na ons toe. Ons wil geslagsgemeenskap met hulle hê.”

6

Toe het Lot na die mans van Sodom toe uitgegaan. Nadat hy die deur agter hom gesluit het,

7 het hy gesê: “Nee, vriende! Moenie so 'n verkeerde ding doen nie.

8 Ek het twee dogters. Hulle het nog nie gemeenskap met 'n man gehad nie. Ek sal hulle vir julle laat uitkom, doen julle dan met hulle wat julle wil. Moet net nie iets doen aan hierdie mans nie, want hulle het onder die beskerming van my dak ingekom.”

9 Toe roep die mans van Sodom: “Gee pad!” En hulle sê: “Hierdie kêrel het as vreemdeling hierheen gekom, en nou wil hy regter speel. Ons sal hom nog meer kwaad aandoen as vir sy besoekers.”

Hulle het vir Lot teruggedruk en nader gekom om die deur oop te breek.

10 Toe het die mans wat in sy huis was, vir Lot binnetoe getrek na hulle toe en die deur gesluit,

11 en die mans buite by die deur, oud en jonk, laat blind word sodat hulle nie die deur kon kry nie.

12

Die mans by Lot sê toe vir hom: “Wie van jou mense is nog hier? Skoonseuns of seuns of dogters of wie jy ook al in die stad het, vat hulle uit die plek uit!

13 Ons gaan hierdie plek verdelg. Daar is 'n groot geroep by die Here oor die plek en sy mense, en Hy het ons gestuur om die plek te verdelg.”

14

Lot het toe vir sy aanstaande skoonseuns gaan sê: “Kom uit hierdie plek uit, want die Here gaan hierdie stad verdelg,” maar hulle het gedink Lot maak 'n grap.

15 Toe die dag begin breek, het die engele hom aangejaag en gesê: “Kom nou! Vat jou vrou en jou twee dogters wat by jou is, anders sterf jy wanneer die stad sy straf kry.”

16

Toe Lot nog talm, het die twee mans hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand gegryp en hulle uit die stad uit gevat, want die Here het Hom oor Lot ontferm.

17 Nadat hulle vir Lot-hulle buite die stad gebring het, sê een van die mans vir hom: “Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie! Moenie êrens in die vlakte vertoef nie, vlug berge toe, anders word jy omgebring.”

18

Maar hy sê vir hulle: “Asseblief tog, Menere,

19 u was al so goed vir my en u het my al so 'n groot guns bewys deur my lewe te spaar, maar ek sal nie berge toe kan vlug nie. Die ramp sal my inhaal voor ek daar is en ek sal omkom.

20 Kyk, hier naby is 'n dorpie waarheen ek kan vlug. Ek wil daarheen vlug en so my lewe red. Dit is maar 'n ou klein dorpie.”

21

Toe sê die engel vir hom: “Ook wat dit betref, staan ek jou versoek toe. Ek sal nie die dorp waarvan jy praat, verwoes nie.

22 Vlug gou daarnatoe, want ek kan niks aan die ander stede doen voordat jy in die dorpie aangekom het nie.”

Dit is waarom hulle die dorpie Soar noem.

23

Net toe die son opkom, het Lot in Soar aangekom.

24 Toe het die Here swael en vuur van Hom af, uit die hemel uit, laat reën op Sodom en Gomorra.

25 En God het die stede en die hele vlakte verwoes en al hulle inwoners om die lewe gebring; selfs die plante in die omgewing is uitgeroei.

26 Lot se vrou het omgekyk en sy het in 'n soutpilaar verander.

27

Daardie oggend het Abraham vroeg opgestaan en na die plek toe gegaan waar hy in die teenwoordigheid van die Here gestaan het.

28 Toe Abraham in die rigting van Sodom en Gomorra en van die hele vlaktestreek kyk, sien hy oor die hele wêreld trek rook op asof dit 'n steenoond is.

29

Toe God die stede in die vlakte verdelg het waar Lot gewoon het, het God aan Abraham gedink en vir Lot laat wegkom uit die plek waar die verwoesting plaasgevind het.

30 Lot het toe van Soar af weggegaan en met sy twee dogters in die berge gaan bly. Hy was bang om in Soar te bly en het toe met sy twee dogters in 'n grot gaan woon.

31

Die oudste dogter het vir die jongste gesê: “Pa is oud. Hier rond sal ons nie op die gebruiklike manier mans kry nie.

32 Kom ons maak vir Pa dronk en dan slaap ons by hom sodat ons by hom kinders kan hê.”

33

Daardie nag het hulle hom dronk gemaak, en die oudste dogter het met hom gemeenskap gehad. Hy het nie besef dat dit sy is wat by hom kom lê en daarna opstaan nie.

34 Die volgende dag sê sy toe vir die jongste: “Ek het verlede nag by hom geslaap. Kom ons maak hom vannag weer dronk en dan gaan slaap jy by hom sodat ons elkeen 'n kind by hom kan hê.”

35

Hulle het hom toe daardie nag weer dronk gemaak, en die jongste dogter het met hom gemeenskap gehad. Hy het nie agtergekom dat dit sy is wat by hom kom lê en daarna opstaan nie.

36 So het die twee dogters van Lot by hulle pa swanger geword.

37 Die oudste het 'n seun in die wêreld gebring en hom Moab genoem. Hy is die voorvader van die Moabiete.

38 Die jongste dogter het ook 'n seun in die wêreld gebring en hom Ben-Ammi genoem. Hy is die voorvader van die Ammoniete.

20

1

Abraham het van Mamre af weggetrek na die Suidland toe en hom tussen Kades en Sur gaan vestig. Toe hy op 'n keer in Gerar gewoon het,

2 het hy voorgegee sy vrou Sara is sy suster. Koning Abimelek van Gerar het haar toe laat haal om met haar te trou.

3

Een nag het God in 'n droom aan Abimelek verskyn en vir hom gesê: “Jy gaan sterf omdat jy met hierdie vrou wil trou. Sy is al getroud.”

4

Abimelek het nog nie met haar geslagsgemeenskap gehad nie en hy het gesê: “Here, sal U selfs 'n onskuldige nasie uitroei?

5 Abraham het dan self vir my gesê: ‘Sy is my suster.’ En sy het self gesê: ‘Hy is my broer.’ Ek het dit onskuldig en sonder slegte bedoelings gedoen.”

6

Toe het God vir hom in 'n droom gesê: “Ja, Ek weet dat jy dit onskuldig gedoen het. Daarom het Ek jou daarvan weerhou om teen My te sondig en het Ek jou nie toegelaat om aan haar te raak nie.

7 Gee nou die vrou terug aan haar man. Hy is 'n profeet. Hy sal vir jou bid dat jy kan bly lewe. Maar as jy haar nie teruggee nie, moet jy weet jy sal beslis sterf, jy en almal wat by jou is.”

8

Die môre vroeg het Abimelek sy amptenare geroep en alles vir hulle openlik vertel, en hulle het baie bang geword.

9 Hy het vir Abraham geroep en vir hom gesê: “Wat het jy ons aangedoen? Wat het ek aan jou gedoen wat verkeerd is dat jy hierdie groot ellende oor my en my koninkryk gebring het? Wat jy my aangedoen het, is onbehoorlik.”

10

Verder het Abimelek vir hom gesê: “Wat het jou besiel om so iets aan te vang?”

11

Toe het Abraham gesê: “Ek het gedink hier is niemand wat vir God dien nie en die mense sal my doodmaak oor my vrou.

12 Sy is regtig my suster: sy is my pa se dogter, maar nie my ma s'n nie. Ek is met haar getroud.

13 Toe God my uit my vaderland laat wegtrek het, het ek vir haar gesê: Jy kan wys dat jy my liefhet deur op elke plek waar ons kom, van my te sê: Hy is my broer.”

14

Abimelek het toe kleinvee en grootvee, slawe en slavinne gevat en vir Abraham gegee en Sara ook aan haar man teruggegee.

15 Toe sê Abimelek vir hom: “My land lê oop voor jou. Bly net waar jy wil.”

16

Vir Sara het Abimelek gesê: “Ek gee aan jou broer duisend stukke silwer. Dit is om almal wat by jou is, te laat stilbly en om te wys alles is in orde.”

17

Abraham het toe tot God gebid, en Hy het vir Abimelek gesond gemaak, ook sy vrou en sy slavinne, en toe kon hulle weer kinders hê.

18 Dit was nadat die Here elke vrou in die huis van Abimelek daarvan weerhou het om kinders te hê. Die Here het dit gedoen oor wat gebeur het met Sara die vrou van Abraham.

21

1

Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof het. Hy het sy belofte aan haar nagekom.

2 Sy het swanger geword en in Abraham se ouderdom vir hom 'n seun in die wêreld gebring. Dit het gebeur op die tyd wat God vir Abraham beloof het.

3 Hy het die seun wat vir hom gebore is, die een wat deur Sara in die wêreld gebring is, Isak genoem.

4 Soos God vir Abraham beveel het, het hy vir Isak besny toe hy ag dae oud was.

5 Abraham was honderd jaar oud toe sy seun Isak gebore is.

6

Sara het toe gesê: “God het gemaak dat mense vir my lag: elkeen wat van Isak hoor, sal vir my lag.”

7

Sy het verder nog gesê: “Wie sou vir Abraham kon sê dat Sara seuns aan haar bors sal voed? Ek het in sy ouderdom 'n seun in die wêreld gebring.”

8

Die kind het grootgeword en die dag toe hy gespeen is, het Abraham 'n groot fees gehou.

9 Toe Sara die seun wat Hagar die Egiptiese slavin vir Abraham in die wêreld gebring het, sien lag,

10 sê sy vir Abraham: “Jaag hierdie slavin en haar seun weg. Die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erf nie.”

11

Abraham het ter wille van sy seun Ismael baie sleg gevoel oor wat sy gesê het,

12 maar God het vir Abraham gesê: “Moenie sleg voel oor die kind en oor jou slavin nie. Luister na alles wat Sara vir jou sê, want uit Isak sal jou nageslag gebore word.

13 Tog sal Ek die seun van die slavin 'n nasie laat word, want hy is jou kind.”

14

Vroeg die volgende môre het Abraham kos gevat en 'n velsak water en dit vir Hagar gegee. Hy het dit saam met die kind op haar rug gesit en haar weggestuur. Sy is toe weg en het in die Bersebawoestyn rondgeswerf.

15 Toe die water in die velsak opraak, het sy die kind onder 'n doringbos neergesit

16 en 'n entjie daarvandaan gaan sit, omtrent so ver as 'n mens met 'n pyl en boog kan skiet, want sy het gedink: ek wil nie sien as die kind doodgaan nie. Terwyl sy so daar sit, het sy begin huil.

17 God het die kind hoor huil, en die Engel van God het uit die hemel na Hagar geroep en vir haar gesê: “Wat is dit, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die kind daar waar hy lê, gehoor.

18 Staan op, tel die kind op en troos hom, want Ek sal hom 'n groot nasie laat word.”

19

Toe het God haar oë oopgemaak en sy het 'n put met water gesien. Sy het die velsak vol water gaan maak en vir die kind water gegee.

20 God was by die kind en hy het groot geword. Hy het in die woestyn gewoon en het handig geword met die pyl en boog.

21 Hy het in die Paranwoestyn gewoon, en sy ma het hom met 'n vrou uit Egipte laat trou.

22

Destyds het Abimelek en Pikol, die bevelvoerder van sy leër, na Abraham toe gegaan, en Abimelek het vir hom gesê: “God is by jou in alles wat jy aanpak.

23 Beloof my dan nou met 'n eed in die Naam van God dat jy nie vals sal optree teen my of my kinders of my kleinkinders nie, dat jy net so eerbaar sal optree teenoor my en teenoor die land waarin jy nou woon, as wat ek teenoor jou opgetree het.”

24

Toe het Abraham gesê: “Ek beloof dit.”

25

Abraham het toe by Abimelek beswaar gemaak oor die waterput wat deur Abimelek se slawe afgevat is.

26 Toe sê hy vir Abraham: “Ek weet nie wie dit gedoen het nie. Jy het my dit ook nie voorheen vertel nie. Ek hoor nou eers daarvan.”

27

Daarna het Abraham kleinvee en grootvee gevat en vir Abimelek gegee, en hulle twee het 'n ooreenkoms gesluit.

28 Abraham het ook nog sewe skaaplammers uit sy trop uitgekeer,

29 en Abimelek het vir hom gevra: “Wat wil jy maak met die sewe skaaplammers wat jy uitgekeer het?”

30

Abraham het geantwoord: “Jy moet hierdie sewe lammers by my vat en daarmee erken dat ek hierdie put gegrawe het.”

31

Die plek word Berseba genoem, want daar het hulle twee 'n eed teenoor mekaar afgelê.

32

Nadat hulle die ooreenkoms by Berseba gesluit het, het Abimelek en Pikol, die bevelvoerder van sy leër, teruggegaan na die land van die Filistyne toe,

33 en Abraham het 'n tamarisk by Berseba geplant en daar die Naam van die Here, die ewige God, aangeroep.

34 Abraham het lank in die land van die Filistyne gewoon.

22

1

'n Ruk na die vorige gebeurtenisse het God vir Abraham op die proef gestel en vir hom gesê: “Abraham!”

Hy het geantwoord: “Hier is ek!”

2

God het vir hom gesê: “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.”

3

Vroeg die volgende môre het Abraham 'n donkie opgesaal en hout gekap vir die brandoffer. Hy het twee slawe saamgevat en ook sy seun Isak. Toe het hy vertrek na die plek toe wat God vir hom aangewys het.

4 Op die derde dag het Abraham die plek uit die verte gesien.

5 Toe sê hy vir sy slawe: “Wag hier met die donkie. Ek en die seun gaan daar aanbid, dan kom ons terug na julle toe.”

6

Abraham het die hout vir die brandoffer op sy seun Isak se rug getel en self vuur en 'n mes saamgevat. Terwyl hulle twee so saamloop,

7 sê Isak vir sy pa: “Pa?” en Abraham antwoord: “Ja, my seun?”

Toe vra Isak: “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?”

8

Abraham het geantwoord: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.”

Daarna het hulle twee saam verder gestap.

9 Toe hulle aankom by die plek wat God vir Abraham aangewys het, het Abraham daar 'n altaar gebou. Hy het die hout reggesit en sy seun Isak vasgebind en op die altaar neergesit, bo-op die hout.

10 Net toe Abraham die mes vat om sy seun te slag,

11 roep die Engel van die Here uit die hemel na hom:

“Abraham, Abraham!”

Hy het geantwoord: “Hier is ek!”

12

Toe sê God: “Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie.”

13

Toe Abraham weer kyk, sien hy agter hom 'n skaapram wat aan sy horings in 'n bos vasgevang is. Hy het die ram gaan vat en hom in die plek van sy seun as brandoffer geoffer.

14 Toe noem Abraham die plek: “Die Here voorsien.” Daar word nou nog gesê: “Op die berg van die Here word voorsien.”

15

Die Engel van die Here het weer uit die hemel na Abraham geroep

16 [16-17] en gesê: “Dit is Ek, die Here, wat praat. Ek lê 'n eed af by Myself dat Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen het: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie. Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel en soos die sand van die see. Jou nageslag sal die stede van sy vyande in besit neem.

17

18 In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam.”

19

Daarna is Abraham terug tot by sy slawe, en hulle het almal saam na Berseba toe gegaan. Abraham het daar gewoon.

20

'n Rukkie na hierdie gebeurtenis is aan Abraham vertel dat Milka, sy broer Nahor se vrou, kinders vir sy broer in die wêreld gebring het.

21 Hulle was: Us die oudste, sy broer Bus, Kemuel die voorvader van die Arameërs,

22 en ook nog Kesed, Gaso, Pildas, Jidlaf en Betuel.

23 Betuel was die pa van Rebekka. Milka het hierdie ag seuns in die wêreld gebring vir Abraham se broer Nahor.

24 Nahor het 'n byvrou gehad. Haar naam was Reüma en sy het ook kinders gehad: Tebag, Gagam, Tagas en Maäka.

23

1

Sara het honderd sewe en twintig jaar oud geword.

2 Sy is oorlede in Kirjat-Arba, dit is Hebron, in Kanaän. Abraham het oor haar gaan rou en huil.

3 Daarna het hy die lyk daar gelaat en vir die Hetiete gaan sê:

4 “Ek is 'n vreemdeling, 'n bywoner by julle. Gee vir my 'n vaste besitting as graf hier by julle sodat ek my vrou daarin kan begrawe.”

5

Die Hetiete het hom geantwoord:

6 “Luister na ons, Meneer! Ons beskou u as 'n baie belangrike man. Begrawe u vrou in die beste graf hier by ons. Niemand van ons sal weier dat u u vrou in sy graf begrawe nie.”

7

Daarna het Abraham opgestaan en voor die Hetiete, die volksleiers, gebuig.

8 Hy het vir hulle gesê: “As julle instem dat ek my vrou hier kan begrawe, luister dan na my en doen voorspraak by Efron seun van Sogar

9 dat hy die Makpelagrot aan die kant van sy grond aan my afstaan. Hy moet dit in julle teenwoordigheid teen die volle markprys aan my verkoop dat ek dit as begraafplek kan besit.”

10

Efron die Hetiet het tussen die Hetiete gesit en daar waar al die Hetiete wat die stadspoort binnekom, dit kon hoor, het hy vir Abraham gesê:

11 “Nee, Meneer, luister na my. Ek gee die stuk grond vir u, ook die grot wat daarop is. Ek gee dit vir u in die teenwoordigheid van my volksgenote. Begrawe u vrou daar.”

12

Toe het Abraham weer voor die volksleiers gebuig

13 en waar hulle almal dit kon hoor, het hy vir Efron gesê: “Nee, luister tog maar na my! Ek betaal die volle prys vir die grond. Vat die geld by my, sodat ek my vrou daar kan begrawe.”

14

Efron het toe vir Abraham gesê:

15 “Meneer, luister na my! Moenie dat ons stry oor 'n stukkie grond wat vier en 'n half kilogram silwer werd is nie. En dit om u vrou te begrawe!”

16

Toe het Abraham ingestem en die silwer vir Efron afgeweeg wat hy in die teenwoordigheid van die Hetiete genoem het: vier en 'n half kilogram silwer soos dit in die handel afgeweeg word.

17

[17-18] So het die stuk grond van Efron in Makpela waarop die grot is en wat oos van Mamre geleë is, Abraham se eiendom geword in die teenwoordigheid van die Hetiete en almal wat by die stadspoort inkom: die grond met die grot daarop en al die bome op die grond, sover as die grense daarvan gestrek het.

18

19 Daarna het Abraham sy vrou Sara begrawe in die Makpelagrot op die stuk grond, oos van Mamre, dit is Hebron in Kanaän.

20 So het die stuk grond met die grot daarop uit die hande van die Hetiete oorgegaan na Abraham as begraafplek wat aan hom behoort.

24

1

Abraham was al baie oud, en die Here het hom in alles geseën.

2 Abraham het vir sy slaaf gesê, vir die vernaamste in sy huis, die een wat in beheer was van sy besittings: “Sit jou hand onder my heup

3 dat jy vir my met 'n eed in die Naam van die Here die God van die hemel en die aarde kan beloof dat jy nie my seun sal laat trou met 'n dogter van die Kanaäniete by wie ek nou woon nie;

4 jy moet na my land toe gaan, die land waar ek gebore is, en daar 'n vrou gaan haal vir my seun Isak.”

5

Die slaaf het vir Abraham gevra: “En as die vrou nie saam met my hierheen wil kom nie? Moet ek dan u seun laat teruggaan na die land toe waar u vandaan kom?”

6

Toe sê Abraham vir hom: “Sorg dat jy nie my seun daarnatoe laat teruggaan nie.

7 Die Here die God van die hemel het my weggevat uit my familie, uit die wêreld waar ek gebore is, en my met 'n eed beloof: ‘Ek gee hierdie land waar jy nou is, aan jou nageslag.’ Die Here sal sy engel voor jou uit stuur sodat jy vir my seun 'n vrou van my land af sal kan bring.

8 As die vrou nie saam met jou hierheen wil kom nie, is jy vrygestel van hierdie verpligting. Maar jy mag nie my seun laat teruggaan nie.”

9

Toe het die slaaf sy hand onder die heup van Abraham, sy eienaar, gesit en vir hom met 'n eed beloof om dit alles te doen.

10

Die slaaf het tien van sy eienaar se kamele gevat en ook allerlei mooi geskenke en vertrek na Mesopotamië toe, na die stad toe waar Nahor gewoon het.

11 Daar het hy die kamele by 'n fontein buite die stad laat kniel. Dit was laat middag, teen die tyd dat die vrouens uitkom om water te skep.

12 Hy het gebid: “Here, God van Abraham wie se slaaf ek is, laat daar vandag iets met my gebeur; betoon tog u trou aan my eienaar Abraham.

13 Hier staan ek by die fontein waar die jongmeisies van die stad sal kom water skep.

14 As ek vir 'n meisie vra: ‘Hou tog jou waterkruik dat ek kan drink,’ en sy antwoord: ‘Drink gerus, en ek sal jou kamele ook water gee,’ dan is dit sy wat deur U gekies is vir u dienaar, vir Isak, en dan sal ek weet dat U trou betoon aan my eienaar.”

15

Voor hy nog klaar gebid het, kom Rebekka met die waterkruik op haar skouer daar aan. Sy was die dogter van Betuel, seun van Milka die vrou van Nahor, Abraham se broer.

16 Die meisie was baie mooi, 'n jongmeisie met wie 'n man nog nie gemeenskap gehad het nie. Sy het afgegaan tot by die fontein en haar kruik vol gemaak en teruggeklim.

17 Toe hardloop die slaaf haar tegemoet en sê vir haar: “Laat my tog 'n bietjie water uit jou kruik drink.”

18

En sy sê: “Drink gerus, Meneer!”

Sy laat toe gou haar kruik rus op haar hand, en laat hom water drink.

19 Toe hy klaar gedrink het, sê sy: “Ek sal vir die kamele ook gaan water skep dat hulle genoeg kan drink.”

20

Sy het gou haar kruik in die krip leeg gemaak en toe fontein toe gehardloop om nog water te skep. Sy het vir al die kamele geskep.

21

Die man het haar in stilte aangekyk om vas te stel of die Here hom in sy onderneming laat slaag het of nie.

22 Toe die kamele klaar gedrink het, sit hy 'n goue ring van ses gram aan haar neus en twee goue armbande van honderd en vyftien gram aan haar arms,

23 en hy vra: “Wie se dogter is jy? Sê my tog, is daar in jou pa se huis plek vir ons om te oornag?”

24

Sy het hom geantwoord: “Ek is die dogter van Betuel, die seun wat deur Milka vir Nahor in die wêreld gebring is.”

25

Verder het sy gesê: “Ons het baie strooi en kameelvoer, en daar is plek om te oornag.”

26

Toe het die man gekniel en tot die Here gebid:

27 “Aan die Here die God van Abraham wie se slaaf ek is, kom die lof toe! Die Here het nie sy troue liefde van my eienaar weerhou nie en vir my het die Here reguit gelei na die huis van my eienaar se broer toe.”

28

Die meisie het na haar ma se huis toe gehardloop en alles gaan vertel.

29

[29-30] Rebekka het 'n broer gehad met die naam Laban. Toe hy die neusring sien en die armbande aan sy suster se arms en haar hoor vertel wat die man alles vir haar gesê het, het hy na die man toe gehardloop by die fontein buite die stad. Toe hy by hom kom, het die man nog by die kamele gestaan, langs die fontein.

30

31 Laban het vir hom gesê: “Kom saam! Jy is 'n man wat deur die Here geseën is. Waarom bly jy hier buite staan? Ek het vir jou plek reggemaak in my huis, en daar is ook plek vir die kamele.”

32

Die man is toe saam huis toe, en Laban het die kamele laat afsaal en vir hulle voer gegee en strooi om op te lê. Vir die man het hy water gegee om sy voete te was en ook vir die mense by hom.

33

Toe hulle vir die man kos bring om te eet, sê hy: “Ek sal nie eet voor ek my opdrag uitgevoer het nie.”

Laban het gesê: “Praat gerus!”

34

Toe sê die man: “Ek is 'n slaaf van Abraham.

35 Die Here het my eienaar baie geseën en hy is ryk. Die Here het hom kleinvee en grootvee gegee, silwer en goud, slawe en slavinne, kamele en donkies.

36 Sara, die vrou van my eienaar, het op gevorderde leeftyd vir hom 'n seun in die wêreld gebring, en hy is die erfgenaam.

37 My eienaar het my 'n eed laat aflê toe hy vir my gesê het: ‘Jy mag nie my seun laat trou met 'n dogter van die Kanaäniete in wie se land ek woon nie.

38 Nee, jy moet na my pa se huis toe gaan, na my familie toe, en vir my seun 'n vrou gaan haal.’

39 Ek het vir my eienaar gesê: ‘Dalk sal die vrou nie saam met my wil kom nie,’

40 en toe sê hy vir my: ‘Ek leef naby die Here. Hy sal sy engel saam met jou stuur en jou in die onderneming laat slaag sodat jy 'n vrou vir my seun sal kan gaan haal by my familie, by my pa se huis.

41 Jy sal slegs van jou eed vrygestel wees as jy na my familie toe gaan en hulle nie instem nie. Dan is jy vry.’

42

“Toe ek vandag by die fontein kom, het ek gebid: Here, God van Abraham wie se slaaf ek is, laat my tog slaag in my onderneming.

43 Hier staan ek by die fontein waar 'n jongmeisie van die stad sal kom water skep. Ek sal vir haar vra om my 'n bietjie water uit haar kruik te laat drink,

44 en as sy vir my sê: ‘Drink gerus maar, en ek sal vir jou kamele ook water skep,’ is sy die vrou wat deur U gekies is vir die seun van my eienaar.

45

“Voor ek nog klaar was om saggies te bid, kom Rebekka daar aan met 'n waterkruik op haar skouer en sy gaan af tot by die fontein en skep, en toe vra ek vir haar: ‘Gee my tog 'n bietjie water!’

46 Sy laat toe gou haar kruik van haar skouer af sak en sê: ‘Drink gerus! Ek sal u kamele ook water gee.’ Ek het toe gedrink en sy het die kamele ook water gegee.

47 Ek het haar gevra: ‘Wie se dogter is jy?’ en sy het geantwoord: ‘Die dogter van Betuel seun van Nahor en Milka.’ Toe het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar arms.

48 Ek het gekniel en tot die Here gebid. Ek het Hom, die God van Abraham wie se slaaf ek is, geloof omdat Hy my reg gelei het om die dogter van die broer van my eienaar te kry as vrou vir sy seun.

49

“As u nou u verantwoordelikheid as familie teenoor my eienaar wil nakom, sê my dan. As u weier, sê my dit sodat ek kan omdraai, waarheen ook al.”

50

Toe antwoord Laban en Betuel: “Wat gebeur het, is van die Here. Ons het vir jou daaroor niks te sê nie.

51 Rebekka is hier by jou. Vat haar saam en gaan terug. Sy moet die vrou word van die seun van jou eienaar. Dit is wat die Here gesê het.”

52

Toe Abraham se slaaf hoor wat hulle sê, het hy diep voor die Here gebuig.

53 Daarna het die slaaf silwer- en goue goed en klere vir Rebekka gegee, en ook duur geskenke vir haar broer en haar ma.

54 Toe het die slaaf en die mense wat by hom was, geëet en daar oornag. Die volgende môre het hulle opgestaan en toe sê hy: “Laat my vertrek na my eienaar toe.”

55

Rebekka se broer en haar ma het egter gesê: “Laat die dogter nog 'n dag of tien by ons bly en dan kan sy gaan.”

56

Maar die slaaf het hulle geantwoord: “Moet my nie ophou nie. Die Here het my in my doel laat slaag. Laat my gaan sodat ek na my eienaar toe kan gaan.”

57

Hulle het geantwoord: “Kom ons roep die dogter en vra haar wat sy verkies.”

58

Hulle het vir Rebekka geroep en vir haar gevra: “Wil jy saam met hierdie man gaan?”

Sy het geantwoord: “Ja!”

59

Hulle het hulle suster Rebekka en die vrou wat haar grootgemaak het, saam met die slaaf van Abraham en sy mense laat gaan.

60 Hulle het vir Rebekka met seënwense gegroet en vir haar gesê:

“Ons suster, mag jou nageslag tienduisende word,
mag hulle die stede van hulle vyande verower!”

61

Toe het Rebekka en haar slavinne op die kamele geklim en agter die man aan gegaan. Hy het haar saamgevat en hy is terug huis toe.

62

Isak het van Lagai-Roï-fontein af gekom. Hy het destyds in die Suidland gewoon.

63 Hy het teen die aand se kant in die veld gaan stap en toe sien hy meteens kamele aankom.

64 Rebekka het vir Isak gesien en van die kameel afgespring

65 en vir Abraham se slaaf gevra: “Wie is die man wat daar oorkant in die veld na ons toe aankom?”

Die slaaf het geantwoord: “Dis my eienaar.” Toe vat sy haar sluier en trek dit oor haar gesig.

66

Die slaaf het vir Isak alles vertel wat gebeur het, en

67 Isak het vir Rebekka in die tent van Sara, sy ma, laat woon en met Rebekka getrou. Sy was sy vrou en hy het haar liefgehad. So is Isak vertroos ná sy ma se dood.

25

1

Abraham het weer getrou, met Ketura.

2 Sy het vir hom in die wêreld gebring: Simran, Joksan, Medan, Midian, Jisbak en Suag.

3 Joksan was die vader van Skeba en Dedan. Die mense van Assur, Letus en Leüm was die nasate van Dedan.

4 Die seuns van Midian was: Efa, Efer, Ganok, Abida en Eldaä. Al hierdie mense het van Ketura afgestam.

5

Abraham het alles wat hy nagelaat het, aan Isak laat toekom,

6 maar terwyl Abraham nog geleef het, het hy geskenke aan die seuns van sy byvrouens gegee en die seuns weggestuur na Kedem toe in die ooste, weg van Isak af.

7

[7-8] Abraham het op hoë ouderdom gesterf. Hy het honderd vyf en sewentig jaar oud geword en was 'n grysaard met 'n vol lewe agter die rug toe hy gesterf het.

8

9 Sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die Makpelagrot oos van Mamre op die stuk grond wat vroeër behoort het aan die Hetiet Efron seun van Sogar.

10 Abraham het hierdie stuk grond by die Hetiete gekoop, en hy en sy vrou Sara is albei daar begrawe.

11

Na Abraham se dood het die Here Abraham se seun Isak geseën, en Isak het by Lagai-Roï-fontein gaan woon.

12

Hier volg besonderhede oor die nageslag van Abraham se seun Ismael wat deur Hagar, die Egiptiese slavin van Sara, vir Abraham in die wêreld gebring is.

13 In volgorde van hulle geboorte was Ismael se seuns: Nebajot, Kedar, Adbeël, Mibsam,

14 Misma, Duma, Massa,

15 Gadad, Tema, Jetur, Nafis en Kedma.

16 Die name van hierdie seuns van Ismael is ook gegee aan hulle nedersettings en blyplekke. Hulle was die twaalf leiers van hulle stamme.

17

Ismael was honderd sewe en dertig jaar oud toe hy gesterf het en begrawe is.

18 Sy nageslag het gewoon in die gebied van Gawila af tot by Sur, oos van Egipte in die rigting van Assur, en hulle het met al Ismael se broerskinders oorlog gemaak.

19

Hier volg besonderhede oor Isak seun van Abraham:

Abraham was Isak se pa,

20 en toe Isak veertig jaar oud was, het hy met Rebekka getrou. Sy was die dogter van Betuel, 'n Arameër uit Paddan-Aram, en 'n suster van Laban die Arameër.

21 Isak het tot die Here gebid oor sy vrou, want sy was kinderloos. Die Here het sy gebed verhoor, en sy vrou Rebekka het swanger geword.

22 Die kinders het in haar teen mekaar gestamp, en toe sê sy: “Waarom gebeur so iets met my?”

Sy het toe die Here gaan raadpleeg,

23 en Hy het vir haar gesê:

“Daar is twee nasies in jou,
twee volke uit jou sal van mekaar geskei word.
Een sal sterker wees as die ander,
die oudste sal die jongste dien.”

24

Toe Rebekka haar kinders in die wêreld bring, was dit tweelingseuntjies.

25 Die eerste is gebore: rooi, vol hare soos 'n veljas, en hy is Esau genoem.

26 Sy broer is na hom gebore en dié se hand het aan Esau se hakskeen vasgehou. Hy is Jakob genoem. Isak was sestig jaar oud toe hulle gebore is.

27 Die seuns het grootgeword. Esau was 'n ervare jagter, 'n man van die veld; Jakob was 'n rustige mens, hy het tuis gebly.

28

Isak het vir Esau voorgetrek, want Isak het van wildsvleis gehou. Rebekka weer het vir Jakob voorgetrek.

29

Op 'n dag terwyl Jakob lensiesop aan die kook was, kom Esau doodmoeg uit die veld daar aan

30 en sê vir Jakob: “Laat my gou van die rooi goed wegsluk, van daardie rooi goed. Ek is doodmoeg!”

Daarom is hy Edom genoem.

31

Toe sê Jakob vir hom: “Verkoop eers jou reg as eersgeborene aan my.”

32

Esau het geantwoord: “Ek gaan tog sterf. Wat baat dit my om die eersgeborene te wees?”

33

Jakob sê toe vir hom: “Beloof my nou met 'n eed dat jy jou reg as eersgeborene aan my oormaak.”

Esau het dit gedoen en so sy reg as eersgeborene aan Jakob verkoop.

34 Daarna het hy vir Esau brood en lensiesop gegee, en hy het geëet. Toe hy klaar was, het hy uitgestap.

Dit is hoe min Esau gedink het van sy reg as eersgeborene.

26

1

Na die eerste hongersnood vroeër in Abraham se tyd was daar weer 'n hongersnood in die land. Isak het toe na Gerar toe getrek, na koning Abimelek van die Filistyne toe.

2 Die Here het aan Isak verskyn en vir hom gesê: “Moenie Egipte toe trek nie. Bly waar Ek jou sê: in hierdie land.

3 Bly 'n tyd lank hier, en Ek sal by jou wees en jou voorspoedig maak. Ek gee hierdie hele wêreld aan jou en jou nageslag. Ek sal die belofte nakom wat Ek met 'n eed teenoor jou vader Abraham afgelê het.

4 Ek sal jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel. Ek sal hierdie hele wêreld aan jou nageslag gee, en al die nasies van die aarde sal in jou nageslag geseën wees,

5 want Abraham het na My geluister en hy was gehoorsaam aan my bevel: my gebooie, my voorskrifte en my wette.”

6

Isak het toe in Gerar gebly.

7 Die mense daar het oor sy vrou begin uitvra, en hy het gesê: “Dit is my suster.”

Hy was bang om te sê dis sy vrou, want dan sou hulle hom dalk doodmaak oor Rebekka wat 'n baie mooi vrou was.

8 Toe hy 'n lang ruk daar gebly het, het koning Abimelek van die Filistyne op 'n keer deur die venster gesien hoe Isak sy vrou Rebekka liefkoos.

9 Abimelek het hom laat kom en vir hom gesê: “Maar sy is dan jou vrou! Hoekom het jy gesê sy is jou suster?”

Isak het geantwoord: “Ek het gedink ek kan dalk doodgemaak word oor haar.”

10

Daarop sê Abimelek: “Wat het jy ons aangedoen! Hoe maklik kon een van die mans met jou vrou gemeenskap gehad het, en dan was jy die oorsaak dat ons sonde gedoen het.”

11

Abimelek het toe al sy mense gewaarsku: “Wie hierdie man of sy vrou molesteer, sal doodgemaak word.”

12

Isak het in daardie gebied gesaai, en daardie jaar het die saad honderdvoudig geskiet. Die Here het hom voorspoedig gemaak,

13 en hy het 'n ryk man geword, hy het vooruitgegaan sodat hy later baie ryk was.

14 Hy het troppe kleinvee en grootvee gehad en baie slawe. Toe het die Filistyne uit afguns

15 al die putte wat die slawe van sy pa Abraham nog in dié se tyd gegrawe het, toegegooi en opgevul.

16

Toe sê Abimelek vir Isak: “Trek weg van ons af. Jy het vir ons te sterk geword.”

17

Hy is toe daar weg en hy het by Gerarspruit kamp opgeslaan en daar gebly.

18 Isak het toe die putte oopgegrawe wat in sy pa Abraham se tyd gegrawe is en wat na Abraham se dood deur die Filistyne toegegooi is. Isak het die name wat sy pa aan die putte gegee het, weer aan hulle gegee.

19 Isak se slawe het 'n put gegrawe in die spruit en sterk water gekry.

20 Toe stry die skaapwagters van Gerar met dié van Isak en sê: “Dié water behoort aan ons.”

Isak het toe die put “Rusie” genoem, omdat hulle daar met hom rusie gemaak het.

21

Sy slawe het 'n ander put gegrawe, en ook daaroor het die Filistyne klagtes gehad, en toe noem Isak dit “Klagte”.

22 Van daar af het hy versit en 'n ander put gegrawe, en hulle het nie daaroor gestry nie. Toe noem hy die put “Ruimte”, “want,” het hy gesê, “nou het die Here vir ons ruimte gemaak en in dié land sal ons voorspoedig wees.”

23

Van daar af het Isak na Berseba toe getrek,

24 en die nag toe hy daar kom, het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: “Ek is die God van jou vader Abraham. Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Ek sal jou seën en jou 'n groot nageslag gee ter wille van my dienaar Abraham.”

25 Isak het daar 'n altaar gebou en die Naam van die Here aangeroep. Isak het sy tente daar opgeslaan, en sy slawe het 'n put gegrawe.

26 Toe kom Abimelek uit Gerar saam met Agussat sy vertroueling en Pikol die bevelvoerder van sy leër na Isak toe,

27 en Isak sê vir hulle: “Waarom kom julle na my toe? En dit nogal nadat julle my onvriendelik behandel het en my van julle af weggestuur het!”

28

Hulle het geantwoord: “Ons het baie duidelik gesien die Here is by jou. Ons wil onder eed 'n ooreenkoms met jou aangaan. Ons wil 'n verdrag met jou sluit

29 dat jy ons nie sleg sal behandel nie, net soos ons jou nie benadeel het nie. Ons het net goed aan jou gedoen en jou sonder enige skade van ons af laat weggaan. Dit is so: jy word deur die Here geseën.”

30

Isak het toe vir hulle 'n maaltyd klaargemaak en hulle het geëet.

31 Die volgende môre het hulle vroeg klaargemaak en hulle en Isak het aan mekaar 'n belofte onder eed gemaak. Toe het Isak hulle laat gaan en is hulle in vrede van hom af weg.

32 Daardie dag het Isak se slawe gekom en hom vertel van die put wat hulle gegrawe het. Hulle het vir hom gesê: “Ons het water gekry.”

33 Toe noem hy dit Seba en daarom is die naam van die stad nou nog Berseba .

34

Toe Esau veertig was, het hy getrou met Jehudit dogter van Beëri, 'n Hetiet, en met Basemat dogter van Elon, 'n Hetiet.

35 Hulle het baie kommer in Isak en Rebekka se lewe gebring.

27

1

Toe Isak baie oud en al blind was, het hy sy oudste seun, Esau, geroep en vir hom gesê: “My seun!” en Esau het geantwoord: “Hier is ek!”

2

Isak het vir hom gesê: “Kyk, ek is al oud en ek weet nie wanneer ek gaan sterf nie.

3 Vat nou jou skietgoed, jou pyl en boog, en gaan veld toe en skiet vir my 'n stukkie wild.

4 Kom maak dit dan vir my lekker gaar soos ek daarvan hou en bring dit vir my dat ek dit kan eet en jou kan seën voor ek sterf.”

5

Rebekka het gehoor wat Isak met sy seun Esau praat en toe Esau veld toe is om te gaan jag,

6 het sy met haar seun Jakob gepraat en vir hom gesê: “Luister, ek het gehoor jou pa praat met jou broer Esau. Hy het vir hom gesê:

7 ‘Gaan haal vir my 'n stukkie wild en maak dit vir my lekker gaar dat ek dit kan eet en ek jou dan in die teenwoordigheid van die Here kan seën voor ek sterf.’

8 Nou moet jy na my luister, my seun, en doen wat ek jou sê.

9 Gaan na die kleinvee toe en bring vir my twee vet bokkies. Dan sal ek hulle lekker gaarmaak soos jou pa daarvan hou.

10 Jy moet dit dan vir hom vat dat hy dit kan eet en jou kan seën voor hy sterf.”

11

Toe sê Jakob vir sy ma Rebekka: “Maar my broer Esau is harig en ek is glad.

12 Miskien sal Pa aan my voel en dan dink ek skeer die gek met hom, en so sal ek 'n vervloeking oor my bring en nie 'n seën nie.”

13

Sy ma het vir hom gesê: “As daar 'n vervloeking is, sal dit oor my kom, my seun. Luister jy net na my en loop vang die bokkies vir my.”

14

Hy het die bokkies gaan vang en vir sy ma gebring, en sy het hulle lekker voorberei soos sy pa daarvan hou.

15 Toe vat Rebekka haar oudste seun Esau se beste klere wat sy by haar in die huis gehad het en trek dit vir haar jongste seun Jakob aan.

16 Sy het die bokvelletjies om sy hande en om sy kaal nek vasgemaak

17 en die lekkerny en die kos wat sy voorberei het, vir Jakob gegee.

18 Hy het toe na sy pa toe ingegaan en gesê: “Pa!”

Toe sê hy: “Ja, watter seun is jy?”

19

Jakob het sy pa geantwoord: “Ek is Esau, Pa se oudste seun. Ek het gedoen wat Pa gesê het. Kom sit nou regop en eet van my wildsvleis sodat Pa my dan kan seën.”

20

Maar Isak het vir hom gevra: “Hoe het jy dan die wild so gou gekry, my seun?” en Jakob het geantwoord: “Die Here u God het my dit laat raakloop.”

21

Toe sê Isak vir Jakob: “Kom nader dat ek aan jou kan voel, my seun, of jy my seun Esau is of nie.”

22

Jakob het nader gegaan na sy pa Isak toe, en toe hy aan hom voel, sê hy: “Die stem, dis Jakob se stem, maar die hande, dis Esau se hande.”

23

Isak het nie vir Jakob herken nie, want sy hande was harig soos sy broer Esau s'n. Isak het toe vir Jakob geseën.

24 Isak het vir hom gesê: “Jy is tog my seun Esau!” en Jakob het gesê: “Ek is.”

25

Toe sê Isak: “Gee die wild aan dat ek daarvan kan eet, my seun, en jou dan kan seën.”

Hy het dit vir hom aangegee en Isak het geëet, en Jakob het vir hom wyn gebring, en hy het dit gedrink.

26

Isak het vir hom gesê: “Kom nader en soen my, my seun!”

27

Hy het nader gekom en hom gesoen, en toe hy die reuk kry van die klere wat Jakob aanhet, het Isak hom geseën en gesê:

“Kyk, die reuk van my seun is soos die veld se reuk,
die veld wat deur die Here geseën is.

28
God gee aan jou dou uit die hemel,
die rykdom van die aarde: koring en wyn in oorvloed.

29
Volke sal jou dien, nasies sal voor jou buig;
oor jou familie sal jy heers, jou broers sal voor jou buig.
Wie 'n vervloeking oor jou uitspreek, sal self vervloek wees,
wie jou seën, sal geseën wees.”

30

Toe Isak vir Jakob klaar geseën het, en hy nog skaars by sy pa Isak uit was, kom sy broer Esau terug van die jag af.

31 Ook hý het 'n lekker ete voorberei en dit vir sy pa gevat. Esau het vir sy pa gesê: “Sit regop, Pa, en eet van Pa se seun se wildsvleis sodat Pa my dan kan seën.”

32

Toe vra sy pa Isak: “Wie is jy?” en hy antwoord: “Pa se seun Esau, Pa se oudste.”

33

Isak was toe baie ontsteld en hy vra: “Maar wie het dan die wild geskiet en vir my gebring? Ek het daarvan geëet net voor jy gekom het. Ek het hóm geseën, en hy sal geseën bly.”

34

Toe Esau hoor wat sy pa sê, het hy hard en bitter begin skree en by sy pa gepleit: “Pa, seën my tog ook!”

35

Maar Isak sê vir hom: “Jou broer het my kom bedrieg en toe het hy jou seën gevat.”

36

Esau het geantwoord: “Hy word tereg Jakob genoem. Hy het my nou al twee keer bedrieg : hy het my reg as eersgeborene gevat en nou het hy my seën gevat.”

Toe vra Esau: “Het Pa nie nog 'n seën vir my ook nie?”

37

Isak het vir hom gesê: “Ek het hom alreeds aangestel om oor jou te heers en ek het sy hele familie vir hom as onderdane gegee. Ek het hom van koring en wyn voorsien. Daar is niks wat ek vir jou kan doen nie, my seun.”

38

Esau het toe vir sy pa gesê: “Pa, het Pa dan net een seën? Seën my tog ook, Pa!”

Toe Esau daarna begin huil,

39 sê sy pa Isak vir hom:

“Jou woonplek sal ver van die aarde se rykdom af wees,
en ook ver van die dou uit die hemel af.

40
Jy sal van oorlog leef en jy sal jou broer dien,
maar as jy jou kans afwag, sal jy sy juk van jou nek afgooi.”

41

Esau het vir Jakob gehaat oor die seën wat sy pa aan hom gegee het, en Esau het by homself gesê: “My pa se dood is nie meer ver nie, dan maak ek my broer Jakob dood.”

42

Daar is aan Rebekka vertel wat haar oudste seun gesê het. Sy het toe haar jongste seun Jakob laat roep en vir hom gesê: “Pas op! Jou broer Esau is op wraak uit. Hy wil jou vermoor.

43 Luister, my seun! Vlug Haran toe, na my broer Laban toe,

44 en bly 'n ruk by hom tot jou broer se woede oor is.

45 As sy bui oor jou gesak het en hy vergeet het wat jy hom aangedoen het, sal ek stuur en jou daarvandaan laat haal. Waarom moet ek julle altwee op een dag verloor?”

46

Rebekka het vir Isak gesê: “Ek is nou siek en sat van hierdie Hetitiese vrouens van Esau. As Jakob ook met Hetitiese meisies trou, met meisies soos hulle uit hierdie land, kan ek net so wel sterf.”

28

1

Toe roep Isak vir Jakob en neem van hom afskeid en sê vir hom: “Jy mag nie met 'n Kanaänitiese meisie trou nie.

2 Gaan na Paddan-Aram toe, na die huis van jou ma se pa Betuel toe, en trou daar met 'n dogter van jou oom Laban.

3 God die Almagtige sal jou seën: Hy sal jou vrugbaar maak en jou 'n groot nageslag gee. Jy sal 'n baie groot volk word.

4 Hy sal jou die seën laat toekom wat Hy aan Abraham gegee het: jy en jou nageslag sal die land waarin jy woon, as besitting ontvang, die land wat God aan Abraham gegee het.”

5

So het Isak toe vir Jakob weggestuur, en hy is na Paddan-Aram toe, tot by die Arameër Betuel se seun Laban, broer van Rebekka die ma van Jakob en Esau.

6

Esau het te wete gekom dat Isak afskeid geneem het van Jakob en dat Isak hom na Paddan-Aram toe gestuur het om daar te gaan trou, want toe Isak vir Jakob gegroet het, het hy vir hom gesê: “Jy mag nie met 'n Kanaänitiese meisie trou nie.”

7

Toe Esau verneem dat Jakob na sy pa en ma geluister het en na Paddan-Aram toe is,

8 het Esau geweet dat sy pa Isak nie van die Kanaänitiese meisies gehou het nie.

9 Daarom het Esau na Ismael toe gegaan, en by die vrouens wat hy gehad het, nog 'n vrou gevat: Magalat dogter van Ismael, Abraham se seun. Sy was die suster van Nebajot.

10

Jakob is van Berseba af weg na Haran toe.

11 Teen sononder het hy by 'n plek gekom waar hy kon oornag. Hy het daar 'n klip vir 'n kopkussing gebruik en gaan lê en slaap.

12 Hy het gedroom: 'n leer staan op die aarde en die punt van die leer raak aan die hemel, en engele van God klim op en af met die leer.

13 Toe kom staan die Here by Jakob en sê: “Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee.

14 Hulle sal so baie wees soos die stof van die aarde, en jy sal jou gebied na alle kante toe uitbrei, en in jou en jou nageslag sal al die volke van die aarde geseën wees.

15 Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het.”

16

Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.”

17

Jakob het bang geword en gesê: “Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel.”

18

Die volgende môre het Jakob opgestaan en hy het die klip wat sy kopkussing was, gevat en dit regop gesit. Toe giet hy olie op die bopunt daarvan uit.

19 Hy het die plek Bet-El genoem. Die stad was voorheen bekend as Lus.

20 Jakob het toe 'n gelofte afgelê en gesê: “As U, o God, by my is en my beskerm op my reis en vir my kos en klere gee,

21 sodat ek behoue terugkom by my ouerhuis, sal U, Here, my God wees.

22 Hierdie klippilaar wat ek regop gesit het, sal 'n tempel wees, en van alles wat U my gee, sal ek vir U 'n tiende gee.”

29

1

Jakob het sy reis voortgesit na die land van die mense in die ooste toe.

2 Hy het onverwags uitgekom by 'n put in die veld waar drie troppe kleinvee lê. Die wagters het die kleinvee by hierdie put laat suip. Daar was 'n groot klip op die bek van die put,

3 en wanneer al die veetroppe daar bymekaar is, rol die wagters die klip weg en dan gee hulle vir die vee water. Daarna sit hulle weer die klip terug op sy plek op die bek van die put.

4

Jakob het hulle gevra: “Van waar is julle, my vriende?” Hulle het geantwoord: “Ons is van Haran.”

5

Toe vra hy vir hulle: “Ken julle vir Laban uit die geslag van Nahor?” en hulle antwoord: “Ons ken hom.”

6

Hy vra hulle toe: “Hoe gaan dit met hom?” en hulle antwoord: “Goed, hier kom sy dogter Ragel nou net aan met die kleinvee.”

7

Toe sê Jakob: “Die son sit nog hoog en dis nog nie tyd om die kleinvee in die kraal te jaag nie. Laat hulle suip en vat hulle om te wei.”

8

Maar die wagters antwoord: “Ons kan hulle nie laat suip voor al die troppe hier bymekaar is nie. Dan word die klip van die bek van die put afgerol en laat ons die vee suip.”

9

Terwyl hy nog met hulle staan en praat, kom Ragel daar aan met haar pa se kleinvee. Sy het hulle opgepas.

10 Toe Jakob vir Ragel, die dogter van sy ma se broer Laban, sien met haar pa se kleinvee, het Jakob nader gekom en die klip van die put af weggerol en Laban se kleinvee laat suip.

11 Daarna het Jakob vir Ragel gesoen en toe het hy begin huil.

12 Nadat hy vir haar gesê het hy is familie, Rebekka se seun, het sy gehardloop en dit vir haar pa gaan vertel.

13 Toe hy hoor dat Jakob sy susterskind is, het hy na hom toe gehardloop, hom omhels en gesoen. Laban het hom na sy huis toe gevat, en toe vertel Jakob hom alles.

14 Laban het geantwoord: “Dis reg. Jy is bloedfamilie!”

Nadat Jakob 'n maand lank by hom gebly het,

15 het Laban vir Jakob gesê: “Jy is familie, maar dit beteken nie dat jy vir my verniet moet werk nie. Sê vir my wat moet ek jou betaal.”

16

Laban het twee dogters gehad. Die oudste was Lea en die jongste Ragel.

17 Lea het sagte oë gehad, maar Ragel was mooi gebou. Sy was beeldskoon.

18 Jakob het haar liefgehad en hy het vir Laban gesê: “Ek sal sewe jaar vir u werk vir u jongste dogter Ragel.”

19

Toe sê Laban: “Goed! Ek sal haar liewer met jou laat trou as met enige ander man. Bly hier by my.”

20

Jakob het toe sewe jaar gewerk vir Ragel, en dit was vir hom soos 'n paar dae, want hy het haar liefgehad.

21 Daarna het hy vir Laban gesê: “Gee my nou my vrou. Die tyd is verby. Ek wil nou met haar trou.”

22

Laban het al die mense van die omgewing bruilof toe genooi,

23 maar die aand van die troue het hy sy dogter Lea gevat en haar na Jakob toe gebring, en hy het met haar gemeenskap gehad.

24 Laban het sy slavin Silpa vir sy dogter Lea as persoonlike slavin saamgegee.

25

Die môre sien Jakob toe dis al die tyd Lea. Toe vra hy vir Laban: “Wat het u my aangedoen? Het ek nie by u gewerk vir Ragel nie? Waarom het u my bedrieg?”

26

Laban het geantwoord: “By ons is dit nie die gebruik dat 'n mens jou jongste dogter voor die oudste laat trou nie.

27 Wag net hierdie week, dan gee ek die jongste ook vir jou as jy nog sewe jaar by my sal werk.”

28

Jakob het ingestem en daardie week gewag. Toe gee Laban sy dogter Ragel vir hom as vrou.

29 Laban het sy slavin Bilha vir sy dogter Ragel as persoonlike slavin saamgegee.

30

Jakob het ook met Ragel gemeenskap gehad. Hy het vir Ragel baie liewer gehad as vir Lea en nog sewe jaar by Laban gewerk.

31

Toe die Here sien dat Jakob nie vir Lea liefhet nie, het die Here vir haar kinders gegee, terwyl Ragel kinderloos gebly het.

32

Lea het swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring en hom Ruben genoem, “want,” het sy gesê, “die Here het my smart raakgesien. Nou sal my man my liefhê.”

33

Lea het weer swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring en sy het gesê: “Die Here het gehoor dat ek nie liefde ontvang nie. Daarom het Hy my hierdie seun gegee.” Sy het hom Simeon genoem.

34 Sy het weer swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring. Toe sê sy: “Na hierdie keer sal my man aan my gebind wees, want ek het nou al drie seuns vir hom in die wêreld gebring.” Daarom het sy die seun Levi genoem.

35

Sy het nog 'n keer swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring. Sy het gesê: “Hierdie keer prys ek die Here.” Daarom het sy die seun Juda genoem.

Daarna het sy vir eers nie weer kinders gehad nie.

30

1

Toe Ragel merk dat sy nie vir Jakob kinders in die wêreld bring nie, het sy jaloers geword op haar suster. Ragel het vir Jakob gesê: “Gee vir my seuns, anders sterf ek.”

2

Jakob het hom vererg vir Ragel en vir haar gevra: “Kan ek God se werk oorneem? Dit is Hy wat sorg dat jy nie swanger word nie.”

3

Ragel het vir hom gesê: “Hier is my slavin Bilha. Hou gemeenskap met haar sodat sy haar kind op my knieë in die wêreld kan bring en ek deur haar 'n kind kan hê.”

4

Ragel het vir Bilha aan Jakob gegee as vrou en hy het met haar gemeenskap gehad.

5 Sy het swanger geword en vir Jakob 'n seun in die wêreld gebring.

6 Toe sê Ragel: “God het in my guns uitspraak gelewer, Hy het my gebed verhoor en vir my 'n seun gegee.” Daarom het sy hom Dan genoem.

7 Bilha die slavin van Ragel het weer swanger geword en 'n tweede seun vir Jakob in die wêreld gebring.

8 Ragel het toe gesê: “Ek was in 'n bitter swaar stryd gewikkel met my suster, maar ek het gewen.”

Toe noem sy die seun Naftali .

9

Toe Lea besef sy bring nie meer kinders in die wêreld nie, het sy haar slavin Silpa gevat en vir Jakob gegee as vrou.

10 Sy het vir hom 'n seun in die wêreld gebring,

11 en Lea het gesê: “Nou is ek gelukkig!”

Sy het die seun Gad genoem.

12 Daarna het Lea se slavin Silpa 'n tweede seun vir Jakob in die wêreld gebring,

13 en Lea het gesê: “Hoe gelukkig is ek. Die vrouens sal my Die Gelukkige noem!”

Toe noem sy die seun Aser .

14

Op 'n keer het Ruben in die oestyd veld toe gegaan en liefdesappels gepluk. Hy het dit vir sy ma Lea gebring. Ragel het vir haar gesê: “Gee vir my van die liefdesappels wat jou seun gebring het.”

15

Toe vra Lea vir haar: “Is jy nie daarmee tevrede dat jy my man gevat het nie? Wil jy nou nog ook die liefdesappels vat wat my seun gebring het?”

Daarop het Ragel geantwoord: “In ruil daarvoor mag Jakob vannag by jou slaap.”

16

Toe Jakob die aand van die veld af kom, gaan Lea hom tegemoet en sê vir hom: “Jy moet na my toe kom, want om jou te kry, het ek die volle prys betaal met die liefdesappels wat my seun gebring het.” Daardie nag het Jakob toe by haar geslaap.

17 God het Lea se gebed verhoor, en sy het swanger geword en 'n vyfde seun vir Jakob in die wêreld gebring.

18 Sy het gesê: “God het my 'n loon gegee omdat ek my slavin aan my man gegee het.”

Toe noem sy die seun Issaskar .

19

Lea het weer swanger geword en 'n sesde seun vir Jakob in die wêreld gebring.

20 Toe sê sy: “God het hierdie keer 'n mooi geskenk aan my gegee. Nou sal my man by my bly, want ek het ses seuns vir hom in die wêreld gebring.” Toe noem sy die seun Sebulon .

21

Daarna het sy 'n dogter in die wêreld gebring en haar Dina genoem.

22

God het op Ragel ag geslaan en haar gebed verhoor. Hy het haar nie langer kinderloos gelaat nie.

23 Sy het swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring en toe sê sy: “God het my skande weggeneem.”

24

Toe noem sy die seun Josef , “want,” het sy gesê, “die Here sal my nog 'n seun gee.”

25

Nadat Ragel vir Josef in die wêreld gebring het, het Jakob vir Laban gesê: “Laat my trek. Ek wil na my geboorteland toe gaan.

26 Gee my nou my vrouens en kinders vir wie ek by u gewerk het, want ek wil weggaan. U weet hoe goed ek vir u gewerk het.”

27

Maar Laban het vir hom gesê: “Dink tog aan wat jy vir my beteken. Ek het die tekens gelees en agtergekom dat die Here my seën om jou ontwil.”

28 Verder het Laban vir Jakob gesê: “Stel self jou loon vas, en ek betaal jou dit om vir my te werk.”

29

Daarop sê Jakob vir hom: “U weet hoe ek vir u gewerk het, en hoe dit met u kudde gegaan het terwyl hulle by my was.

30 Die bietjie wat u gehad het voor ek gekom het, het baie geword, want die Here het u geseën vandat ek by u gekom het. Wanneer sal ek vir my huis kan begin werk?”

31

Toe vra Laban: “Wat moet ek jou betaal?” en Jakob antwoord: “U hoef my niks te betaal nie. Ek sal weer u kleinvee oppas as u my dit wil laat doen.

32 Ek sal vandag al u kleinvee deurgaan om al die gestreepte en bont skaaplammers en al die swart skape en die bont en gestreepte bokke af te keer. Dit sal my betaling wees.

33 Wanneer u dan eendag kom kyk na wat ek by u verdien het, sal dit duidelik wees of ek eerlik was of nie: alles onder my bokke wat nie gestreep of bont is nie, en al die skape wat nie swart is nie, sal vee wees wat ek gesteel het.”

34

Laban het geantwoord: “Goed! Laat dit wees soos jy gesê het.”

35

Maar dieselfde dag nog het Laban al die gevlekte en bont bokramme en al die gestreepte en bont bokooie afgekeer en ook alles waaraan iets wits was en al die swart skape, en dit alles onder die sorg geplaas van sy seuns.

36 Hy het hierdie trop van hom op 'n afstand van drie dae se trek van Jakob af laat oppas. Jakob self het Laban se ander vee opgepas.

37

Jakob het toe jong lote van populiere, amandels en plataanbome gevat en stroke daarvan afgeskil, sodat daar wit strepe op die lote was.

38 Hy het die lote wat hy so afgeskil het, in die waterkrippe gesit, reg voor die kleinvee waar hulle kom suip het. Wanneer die ooie dan op hitte kom en kom suip,

39 is hulle by die lote gedek en het hulle gevlekte en gestreepte en bont lammers gekry.

40 Jakob het die skape uitgekeer en hulle laat kyk in die rigting van die gevlekte en swart vee van Laban. So het Jakob vir hom sy eie kuddes opgebou en hy het hulle nie by Laban se kleinvee laat kom nie.

41 Wanneer die sterk diere gedek moes word, het Jakob die lote voor hulle in die krippe gesit sodat hulle by die lote gedek kon word.

42 Maar hy het nie die lote by die swak diere gesit nie. So het dit gekom dat Laban die swakkes gekry het en Jakob die sterkes.

43 Die man het al hoe ryker geword. Hy het baie kleinvee, slavinne, slawe, kamele en donkies gehad.

31

1

Jakob het die seuns van Laban hoor sê: “Jakob het alles gevat wat aan Pa behoort. Hy het hierdie hele rykdom verkry uit wat aan Pa behoort.”

2

Jakob het ook aan Laban gemerk dat hy nie meer soos voorheen oor hom voel nie.

3 Toe sê die Here vir Jakob: “Gaan terug na jou vaderland, na jou familie toe. Ek sal by jou wees.”

4

Toe laat Jakob vir Ragel en Lea veld toe roep, na sy kleinvee toe.

5 Hy het vir hulle gesê: “Ek merk aan julle pa dat hy nie meer soos voorheen oor my voel nie. Maar die God van my vader was by my.

6 Julle weet dat ek baie hard gewerk het vir julle pa.

7 Tog het hy my bedrieg en my loon kort-kort verander. Maar God het hom nie toegelaat om my te benadeel nie.

8 Wanneer julle pa sê: ‘Die gestreepte kleinvee is jou loon,’ kry die hele trop gestreepte lammers, en wanneer hy sê: ‘Die gevlektes is jou loon,’ kry die hele trop gevlekte lammers.

9 So het God die besitting van julle pa gevat en vir my gegee.

10

“In die paartyd van die kleinvee het ek in 'n droom gesien dat die ramme waardeur die ooie gedek word, gevlek, gestreep en gespikkel is.

11

“Die Engel van God het my in die droom geroep: ‘Jakob!’ en ek het geantwoord: ‘Hier is ek!’

12

“Toe sê Hy vir my: Kyk mooi: al die bokramme waardeur die ooie gedek word, is gevlek, gestreep en gespikkel. Ek het alles gesien wat Laban jou aangedoen het.

13 Ek is die God van Bet-El waar jy olie op 'n klippilaar uitgegiet en 'n gelofte teenoor My afgelê het. Maak klaar en trek weg uit hierdie land. Gaan terug na jou geboorteland toe.”

14

Daarop het Ragel en Lea vir Jakob gesê: “Ons het nie meer enige aandeel aan ons vaderhuis nie.

15 Ons word deur Pa as vreemdelinge beskou. Hy het ons verkoop en die geld opgebruik.

16 Al die besittings wat God van hom afgevat het, is ons en ons kinders s'n. Doen dus gerus maar alles wat God vir jou gesê het.”

17

Jakob het toe klaargemaak en sy vrouens en kinders op kamele laat klim,

18 en hy het al sy vee saamgevat en ook al sy besittings wat hy in Paddan-Aram bymekaargemaak het, en na sy pa, na Isak toe vertrek in Kanaän.

19

Laban was weg om sy skape te gaan skeer. Toe steel Ragel haar pa se afgodsbeeldjies.

20 Jakob het ook vir Laban die Arameër bedrieg deur hom nie te vertel van sy vlug nie.

21

Jakob het gevlug met alles by hom. Hy het deur die Eufraatrivier getrek en koers gekies Gileadberg toe.

22 Drie dae later is aan Laban vertel dat Jakob gevlug het.

23 Laban het die mans in sy familie saamgevat en vir Jakob agternagesit. Na sewe dae het Laban hom ingehaal by Gileadberg.

24

Dié nag het God in 'n droom na Laban die Arameër toe gekom en vir hom gesê: “Wees versigtig met wat jy vir Jakob sê!”

25

Toe Laban by Jakob kom, was sy kamp opgeslaan by Gileadberg, en Laban-hulle het ook daar kamp opgeslaan.

26 Hy het vir Jakob gesê: “Wat het jy gedoen? Jy het my bedrieg en my dogters weggevat asof hulle krygsgevangenes is.

27 Waarom het jy in die geheim gevlug? Jy het my bedrieg en my niks vertel nie. Ek sou jou laat vertrek het met 'n fees en met liedere, met tamboeryne en met liere.

28 Jy het my nie eens toegelaat om my kleinkinders en my dogters te groet nie. Jy het 'n ongehoorde ding gedoen.

29 Ek het die mag om julle kwaad aan te doen, maar die God van jou voorvaders het verlede nag vir my gesê: ‘Wees versigtig met wat jy vir Jakob sê.’

30 Maar nou, as jy weggetrek het net omdat jy so baie verlang na jou familie, waarom het jy dan my gode gesteel?”

31

Toe sê Jakob vir Laban: “Ek het gevlug, want ek was bang, ek het gedink u sal u dogters van my af wegvat.

32 Maar die een by wie u u gode kry, moet sterf. Kyk hier waar ons familie bystaan wat daar van u by my is en vat dit saam terug.”

Jakob het nie geweet dat Ragel die gode gesteel het nie.

33

Laban het niks in Jakob se tent gekry nie, ook nie in dié van Lea en in dié van die twee persoonlike slavinne nie. Laban is toe uit Lea se tent uit na Ragel s'n toe.

34 Ragel het die afgodsbeeldjies gevat en onder die kameelsaal gesit en daarop gaan sit. Laban het haar hele tent behoorlik gefynkam maar niks gekry nie.

35 Toe sê Ragel vir hom: “Pa moet tog nie vir my kwaad word nie, want ek kan nie vir Pa opstaan nie: ek is siek, soos dit maar elke maand met 'n vrou gaan.”

Laban het toe verder rondgesoek, maar nie die afgodsbeeldjies gekry nie.

36

Toe word Jakob kwaad en hy verwyt vir Laban: “Wat het ek verkeerd gedoen? Waar het ek oortree dat u my agternagesit het?

37 U het my besittings gefynkam. Wat het u gekry wat uit u huis kom? Sit dit hier voor ons familie neer sodat hulle as regters tussen ons twee kan optree.

38

“Dis nou twintig jaar dat ek by u was. U skaapooie en u bokooie het gereeld gelam, en ek het nie u skaapramme geslag nie.

39 Wat deur wilde diere verskeur is, het ek nie na u toe gebring nie, ek moes dit vervang. Wat oordag of in die nag gesteel is, het u van my geëis.

40 Bedags het die hitte my verrinneweer en snags die koue, ek kon nie slaap nie.

41 Dis nou twintig jaar dat ek in u huis is: veertien jaar het ek vir u gewerk vir u twee dogters en ses vir kleinvee uit u trop, en u het my betaling kort-kort verander.

42 As die God van my voorvaders, die God van Abraham, die Beskermer van Isak, nie by my was nie, sou u my met leë hande weggestuur het. Maar God het gesien hoe swaar ek gekry het en hoe hard ek gewerk het en Hy het verlede nag in my guns uitspraak gelewer.”

43

Laban het vir Jakob geantwoord: “Dit is my dogters en my kinders en my kleinvee: alles wat jy hier sien, is myne. Waarom sou ek vandag my dogters of die kinders wat deur hulle in die wêreld gebring is, iets aandoen?

44 Kom ons maak liewer 'n ooreenkoms. Laat daar 'n getuienis wees om ons daaraan te herinner.”

45

Toe vat Jakob 'n klip en sit dit regop neer as herinneringsklip.

46 Hy het vir die mense by hom gesê: “Maak nog klippe bymekaar.” Hulle het dit gedoen en 'n kliphoop gepak. Toe het hulle daar by die kliphoop geëet.

47 Laban het die kliphoop genoem: Jegar-Sahaduta , en Jakob het dit genoem: Galed .

48

Laban het toe gesê: “Hierdie kliphoop word vandag vir ons 'n getuienis,” en hy het dit Galed genoem.

49 Laban het ook nog gesê: “Dit is Mispa , want die Here hou 'n oog oor ons wanneer ons mekaar nie meer kan sien nie.

50 Dan sal jy nie my dogters mishandel nie en ook nie vir jou nog vrouens vat nie. Wanneer daar niemand anders by ons is nie, sal God getuie wees in die saak tussen ons.”

51

Verder het Laban vir Jakob gesê: “Kyk na hierdie kliphoop en kyk na die klippilaar wat ek regop gesit het. Dit staan tussen ons.

52 Hierdie kliphoop is 'n teken en die klippilaar is 'n teken: ek sal nie hier verbygaan na jou toe om jou aan te val nie, en jy sal nie hier verbykom om my aan te val nie.

53 Die God van Abraham, die God van Nahor, die God van hulle twee se vader sal as regter optree.”

Toe het Jakob 'n eed afgelê in die Naam van die Beskermer van Isak.

54 Jakob het daar op die berg geoffer en toe het hy die mense by hom genooi om te eet. Nadat hulle klaar geëet het, het hulle daar by die berg oornag.

55 Vroeg die volgende môre het Laban sy kleinseuns en sy dogters met seënwense gegroet. Hy het toe vertrek, terug huis toe.

32

1

Jakob het sy koers gegaan, en engele van God het hom teëgekom.

2 Toe Jakob hulle sien, sê hy: “Dit is 'n leër van God,” en Jakob het die plek Maganajim genoem.

3

Daarna het Jakob boodskappers vooruitgestuur na sy broer Esau toe, na die Seïrstreek toe, die gebied van Edom.

4

Jakob het vir hulle gesê: “So moet julle vir my geagte broer, vir Esau sê: So sê Jakob wat aan u onderdanig wil wees: Ek het tot nou toe by Laban gebly.

5 Ek besit beeste, donkies, kleinvee, slawe en slavinne. Ek laat u dit weet om te verneem of ek by u welkom sal wees.”

6

Die boodskappers het na Jakob toe teruggekom en kom sê: “Ons het by u broer Esau aangekom, maar toe was hy al op pad na u toe met vier honderd man by hom.”

7

Jakob het baie bang geword, angs het hom oorval. Toe deel hy die mense by hom, en die kleinvee, die beeste en die kamele in twee groepe,

8 want hy het gedink: as Esau by die eerste groep kom en dit uitwis, kan die ander groep dalk wegkom.

9

Daarna het Jakob gebid: “Here, God van my voorvader Abraham, God van my vader Isak, U wat vir my gesê het om terug te gaan na my land en my familie toe en U sal goed doen aan my,

10 ek is al u gunsbewyse nie werd nie, ook nie die trou waarmee U my versorg het nie. Toe ek destyds deur die Jordaan is, het ek net my kierie gehad, en nou het ek hierdie twee groot groepe.

11 Red my tog uit die mag van my broer Esau, ek is bang vir hom. Hy kan dalk kom en my doodmaak, en ook die moeders en kinders.

12 U het my tog beloof: Ek sal beslis goed doen aan jou, Ek sal jou nageslag so baie maak soos die sand van die see, wat nie getel kan word nie.”

13

Jakob het daar oornag en die volgende môre vat hy toe uit sy besitting 'n geskenk vir sy broer Esau:

14 twee honderd bokooie en twintig bokramme, twee honderd skaapooie en twintig ramme,

15 dertig kameelkoeie met kalwers, veertig koeie en tien bulle, twintig donkiemerries en tien hingste.

16 Hy het elke trop aan 'n slaaf gegee en gesê: “Trek vorentoe, maar hou 'n afstand tussen die troppe.”

17

Hy het die voorste slaaf beveel: “Wanneer my broer Esau jou kry en jou vra: ‘Wie is jy? Waarvandaan kom jy en aan wie behoort al hierdie goed voor jou?’

18 moet jy sê: Dit behoort aan Jakob wat aan u onderdanig wil wees. Dit word as geskenk aan Meneer gestuur, en hy kom self ook agter ons aan.”

19

Jakob het dieselfde opdrag aan die tweede slaaf gegee, en ook aan die derde en aan elkeen wat agter 'n trop was. Jakob het vir hulle gesê: “Wat ek vir die voorste gesê het, moet julle almal vir Esau sê as julle by hom kom.

20 Verder moet julle ook nog sê: Jakob kom agter ons aan. Hy wil aan u onderdanig wees.”

Jakob het naamlik gedink: met die geskenk wat voor my uit gaan, sal ek probeer om hom in 'n goeie bui te kry. Dan sal ek na hom toe gaan en miskien ontvang hy my dan vriendelik.

21

So is die geskenk voor Jakob uit gestuur, maar hy het die aand in die kamp oorgebly.

22

Die nag het hy opgestaan en sy twee vrouens en sy twee persoonlike slavinne en sy elf kinders gevat en deur Jabbokdrif gegaan.

23 Nadat hy hulle deur die rivier gevat het, het hy ook alles wat hy besit, laat deurgaan.

24 Jakob het alleen daar agtergebly, en 'n man het tot dagbreek met hom gestoei.

25 Toe die man agterkom dat hy nie vir Jakob kan wen nie, het die man, terwyl hy met hom stoei, vir Jakob teen die heup geslaan sodat dit uit die potjie gespring het.

26 Die man het vir Jakob gesê: “Los my, want die dag breek.”

Jakob het geantwoord: “Ek sal jou net los as jy my seën.”

27

Toe vra die man: “Wat is jou naam?” en hy antwoord: “Jakob.”

28

Die man het gesê: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel , want jy het teen God en teen mense 'n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou.”

29

Toe sê Jakob: “Sê my tog jou naam,” en die man vra: “Waarom vra jy my naam?”

Hy het vir Jakob net daar geseën,

30 en Jakob het die plek Pniël genoem, “want,” het hy gesê, “ek het God van aangesig tot aangesig gesien en tog het ek nie omgekom nie.”

31

Net toe Jakob by Pniël verbygaan, het die son opgekom. Jakob het mank gebly aan sy heup,

32 en daarom eet die Israeliete tot nou toe nie die senuweebondel wat aan die heup vaskom nie, want die man het vir Jakob teen sy heup geslaan, op die heupsenuwee.

33

1

Toe Jakob deur die spruit was, het hy vir Esau in die verte sien aankom met vier honderd man by hom. Jakob het die kinders onder Lea en Ragel en die twee persoonlike slavinne verdeel

2 en die slavinne met hulle kinders op die voorpunt gesit. Lea met haar kinders was agter hulle en Ragel en Josef heel agter.

3 Hy self het verbygegaan tot heel voor en toe hy nader na sy broer toe kom, het hy sewe keer diep gebuig.

4 Esau het hom tegemoet gehardloop en hom omhels. Esau het sy arms om Jakob se nek gesit en hom gesoen, en hulle het gehuil.

5 Esau het opgekyk en die vrouens en kinders gesien en toe sê hy: “Wie is al hierdie mense by jou?”

Jakob het geantwoord: “Dit is die kinders wat God in sy liefde aan my gegee het.”

6

Die persoonlike slavinne het met hulle kinders nader gekom en gebuig

7 en toe het ook Lea met haar kinders nader gekom en gebuig. Josef en Ragel was heel agter en ook hulle het nader gekom en gebuig.

8

Toe vra Esau: “En wat is jou bedoeling met al daardie goed wat ek gekry het?” en Jakob antwoord: “Dit is om u vriendskap te wen.”

9

Maar Esau sê vir hom: “Broer, ek besit self baie. Wat joune is, moet joune bly.”

10

Toe sê Jakob: “Nee, as u my goedgesind is, moet u my geskenk aanvaar. Ek het na u toe gekom om u goedgesindheid te wen net soos wanneer 'n mens in die teenwoordigheid van God verskyn. En u het my vriendelik ontvang.

11 Aanvaar tog my geskenk wat vir u gebring is, want God was goed vir my en ek het oorgenoeg.”

Jakob het by Esau daarop aangedring, en toe aanvaar hy die geskenk.

12 Hy het vir Jakob gesê: “Breek kamp op dat ons verder kan trek. Ek sal vooruit trek om jou te beskerm.”

13

Maar Jakob het hom geantwoord: “U sien tog self die ou kindertjies is maar klein en die lammertjies en die kalwers by my is nog swak. As 'n mens hulle net een dag te hard aandryf, is die hele klomp dood.

14 Trek u maar vooruit voor my en dan kom ek op my gemak agterna. Ek sal volgens die pas van die vee en van die kinders na u toe kom in Seïr.”

15

Toe sê Esau: “Dan los ek 'n paar van my manne by jou,” maar Jakob vra: “Waarom wil u dit doen? U is my tog goedgesind?”

16

Esau is daardie dag nog terug op sy pad Seïr toe.

17

Jakob het gaan tent opslaan by Sukkot en daar het hy vir hom 'n huis gebou. Hy het ook takkrale vir sy vee gemaak, en daarom word die plek Sukkot genoem.

18

Nadat Jakob uit Paddan-Aram weg is, het hy veilig by Sigem in Kanaän aangekom. Hy het net buite die stad kamp opgeslaan.

19 Toe koop hy die stuk grond waar sy tent staan, vir honderd geldstukke by die seuns van Gamor, die pa van Sigem.

20 Jakob het daar 'n altaar gebou en dit genoem: Die God van Israel is God.

34

1

Dina, die dogter wat deur Lea vir Jakob in die wêreld gebring is, het op 'n keer gaan kuier by die dogters van die omgewing.

2 Toe Sigem seun van die Hewiet Gamor, 'n volksleier, haar sien, het hy haar gegryp en met haar gemeenskap gehad. Hy het haar verkrag.

3 Daarna het hy al hoe meer begin hou van Dina dogter van Jakob. Hy het die meisie lief gekry en haar hart probeer wen.

4 Hy het vir sy pa, vir Gamor gesê: “Kry vir my daardie meisie as vrou.”

5

Jakob het verneem dat sy dogter Dina deur Sigem onteer is, maar omdat Jakob se seuns met die vee in die veld was, het hy niks gedoen voor hulle terug was nie.

6 Toe Gamor, Sigem se pa, na Jakob toe gaan om met hom te praat oor Dina,

7 kom Jakob se seuns juis van die veld af by die huis aan en toe hulle hoor wat gebeur het, was die manne ontsteld. Hulle was baie kwaad, want Sigem het 'n gruwelike ding aangevang toe hy met die dogter van Jakob, 'n Israelitiese meisie, gemeenskap gehad het. So iets doen 'n mens nie.

8

Gamor het vir hulle gesê: “My seun Sigem hou baie van die dogter uit julle huis. Laat haar tog met hom trou.

9 Kom ons word familie van mekaar. Dan kan julle dogters met ons trou en ons dogters met julle.

10 Dan bly julle hier by ons. Ons land is tot julle beskikking. Bly net hier of trek rond en kry julle eie grond hier by ons.”

11

Toe sê Sigem vir Dina se pa en haar broers: “As julle instem, sal ek betaal wat julle ook al van my vra.

12 Julle kan maar die vergoeding wat ek moet gee, net so groot maak soos julle wil. Ek sal ook nog enige ander geskenk gee wat julle vra. Gee net asseblief die meisie vir my dat ek met haar kan trou.”

13

Jakob se seuns het egter nie vir Sigem en sy pa Gamor 'n reguit antwoord gegee nie, want die broers se suster Dina was onteer.

14 Hulle het toe gesê: “Ons kan nie ons suster sommer so laat trou met 'n man wat nie besny is nie. Dit is vir ons 'n ongehoorde ding.

15 Ons kan net instem as julle soos ons word: besny al julle mans.

16 Dan kan ons ons dogters met julle laat trou en kan ons met julle dogters trou. Dan sal ons by julle bly en ons sal een volk word.

17 Maar as julle nie na ons luister nie en julle nie laat besny nie, sal ons ons suster vat en wegtrek.”

18

Gamor en sy seun Sigem het hiertoe ingestem.

19 Die jongman Sigem wou nie die saak laat sloer nie, want hy was lief vir Jakob se dogter. Omdat Gamor en Sigem die meeste gesag onder hulle mense gehad het,

20 het hulle na die stadspoort toe gegaan en daar vir die mans van die stad gesê:

21 “Hierdie vreemde mense het met goeie bedoelings na ons toe gekom. Hulle wil hier kom bly en met hulle kuddes in ons land rond trek: die land is groot en lê oop voor hulle. Dan kan ons met hulle dogters trou en hulle met ons s'n.

22 Hierdie mense sal egter net by ons kom bly en saam met ons een volk word as al ons mansmense besny word soos dit by hulle is.

23 Hulle kuddes, al hulle vee, hulle besittings, word ons eiendom as ons instem, en dan sal hulle by ons bly.”

24

Al die mans van die stad het na Gamor en sy seun Sigem geluister, en hulle almal is besny.

25 Drie dae later toe hulle baie pyn gehad het, het Jakob se twee seuns Simeon en Levi, die broers van Dina, elkeen sy swaard gevat en sonder om agterdog te wek, die stad ingegaan en al die mans doodgemaak,

26 ook vir Gamor en sy seun Sigem. Hulle het vir Dina uit Sigem se huis uit weggevat en uit die stad uit gegaan.

27

Jakob se seuns het toe op die slagoffers toegesak en die stad geplunder omdat hulle suster daar onteer is:

28 kleinvee, beeste, donkies, alles in die stad en alles in die veld het hulle vir hulle gevat.

29 Ja, hulle het alles geplunder wat daar in die stad was, hulle het alles wat in die huise was, buitgemaak; ook die kinders en vrouens is as gevangenes saamgevat.

30

Toe sê Jakob vir Simeon en Levi: “Julle het my in die moeilikheid gebring, want julle het my naam sleg gemaak by die mense van hierdie land, die Kanaäniete en die Feresiete. Ek het maar 'n klein klompie mans by my. As die mense van die land almal saamstaan teen my, sal hulle my en my mense verslaan en ons om die lewe bring.”

31

Toe antwoord hulle: “Hy moes nie ons suster soos 'n hoer behandel het nie!”

35

1

God het vir Jakob gesê: “Maak jou klaar en gaan na Bet-El toe en bly daar. Bou vir My daar 'n altaar. Ek is die God wat daar aan jou verskyn het toe jy vir jou broer Esau gevlug het.”

2

Toe sê Jakob vir sy hele huis en vir almal by hom: “Haal uit al die afgodsbeelde wat by julle is. Reinig julle en trek ander klere aan.

3 Ons moet klaarmaak en Bet-El toe gaan. Daar moet ek 'n altaar gaan bou vir die God wat my gebed verhoor het toe ek in die moeilikheid was en wat by my was waar ek ook al gegaan het.”

4

Hulle het toe al die afgodsbeelde in hulle besit vir Jakob gegee en ook hulle oorringe. Hy het dit onder die groot boom by Sigem begrawe.

5 Toe Jakob-hulle wegtrek, het God die mense van die stede in daardie omgewing so bang gemaak vir Jakob en sy seuns dat hulle nie agtervolg is nie.

6

Jakob en al die mense by hom het by Lus aangekom. Dit is die Lus wat in Kanaän geleë is, nou bekend as Bet-El.

7 Hy het daar 'n altaar gebou en die plek El-Bet-El genoem, want God het daar aan hom verskyn toe hy vir sy broer gevlug het.

8

Debora, die vrou aan wie Rebekka as kind gedrink het, het daar gesterf en hulle het haar begrawe onder die groot boom naby Bet-El, en hulle het dit Huilboom genoem.

9

Nadat Jakob uit Paddan-Aram terug was, het God weer aan hom verskyn en hom geseën.

10 God het vir hom gesê: “Jy is Jakob, maar jy sal nie langer Jakob genoem word nie. Jou naam sal Israel wees.”

God het hom toe Israel genoem.

11

God het verder vir hom gesê: “Ek is God die Almagtige. Wees vrugbaar en word 'n groot nasie. Baie nasies sal van jou afstam. Jy sal die voorvader wees van konings.

12 Hierdie land wat Ek aan Abraham en aan Isak gegee het, sal Ek aan jou gee en ná jou gee Ek dit aan jou nageslag.”

13

Toe het God van Jakob af weggegaan, en op die plek waar God met hom gepraat het,

14 het Jakob 'n klip regop gesit, presies op die plek waar die Here met hom gepraat het. Hy het 'n drankoffer daarop uitgegiet en ook olie.

15

Hy het die plek waar God met hom gepraat het, Bet-El genoem.

16

Jakob-hulle het van Bet-El af getrek na Efrata toe. Hulle was nog 'n ent daarvandaan toe bring Ragel 'n kind in die wêreld. Dit was 'n moeilike geboorte.

17 Met dié dat Ragel so swaar ly by die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Ook hierdie keer het jy 'n seun!”

18

Maar Ragel was aan die sterf en terwyl sy haar laaste asem uitblaas, noem sy die seuntjie Ben-Oni . Sy pa het hom egter Benjamin genoem.

19

Ragel het gesterf, en sy is begrawe langs die pad na Efrata toe, dit is Betlehem.

20 Jakob het 'n groot klip op haar graf gesit. Dit is die klip wat nou nog op haar graf is.

21

Israel het verder weggetrek en kamp opgeslaan anderkant Migdal-Eder.

22 Terwyl Israel in daardie landstreek gebly het, het Ruben gemeenskap gehad met Bilha, sy pa se slavinvrou. Israel het dit te hore gekom.

Jakob het twaalf seuns gehad.

23

Die seuns van Lea was Ruben, die oudste, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon.

24

Die seuns van Ragel was Josef en Benjamin.

25

Die seuns van Ragel se persoonlike slavin Bilha was: Dan en Naftali.

26

Die seuns van Lea se persoonlike slavin Silpa was: Gad en Aser.

Dit is Jakob se seuns wat in Paddan-Aram gebore is.

27

Jakob is na sy pa Isak toe in Mamre by Kirjat-Arba, dit is Hebron, waar Isak gebly het, en vroeër ook Abraham.

28 Isak het honderd en tagtig jaar oud geword

29 en toe is hy dood. Hy het gesterf nadat hy oud geword en 'n vol lewe gehad het. Sy twee seuns Esau en Jakob het hom begrawe.

36

1

Hier volg besonderhede uit die familiegeskiedenis van Esau, dit is Edom.

2

Esau het getrou met Kanaänitiese meisies: met Ada dogter van Elon, 'n Hetiet, met Oholibama dogter van Ana, dogter van Sibon, 'n Hewiet,

3 en met Basemat dogter van Ismael en suster van Nebajot.

4

Ada het vir Elifas in die wêreld gebring. Basemat het vir Reüel in die wêreld gebring

5 en Oholibama vir Jeüs, Jalam en Korag.

Dit is Esau se seuns wat vir hom in Kanaän gebore is.

6

Maar Esau het met sy vrouens en sy seuns en dogters en al die mense by hom en met sy kleinvee en grootvee en al sy besittings wat hy in Kanaän bymekaargemaak het, weggetrek na 'n ander land toe, weg van sy broer Jakob af.

7 Hulle twee se besittings was te veel, hulle kon nie saam boer nie, en die land waar hulle as vreemdelinge gebly het, kon nie hulle vee dra nie.

8

Esau, dit is Edom, het in die Seïrberge gaan woon.

9

Hier volg die name van Esau se nageslag in die Seïrberge. Esau was die voorvader van die Edomiete.

10 Die name van Esau se seuns was: Elifas seun van Esau se vrou Ada, en Reüel seun van Esau se vrou Basemat.

11

Elifas se seuns was Teman, Omar, Sefo, Gatam en Kenas.

12 Esau se seun Elifas het vir Timna as byvrou gehad, en sy het vir Amalek in die wêreld gebring.

Dit was die nageslag van Esau se vrou Ada.

13

Die seuns van Reüel was Nagat, Serag, Samma en Missa.

Dit was die nageslag van Esau se vrou Basemat.

14

Die seuns van Esau se vrou Oholibama dogter van Ana, dogter van Sibon, was Jeüs, Jalam en Korag. Hulle was Esau se seuns.

15

Die volgende uit Esau se nageslag was stamhoofde. Uit Esau se oudste seun Elifas se seuns was daar Teman, Omar, Sefo, Kenas,

16 Korag, Gatam en Amalek, almal stamhoofde.

Hulle was stamhoofde in Edom, almal uit Elifas se huis, die nageslag van Ada.

17

Uit Esau se seun Reüel was daar Nagat, Serag, Samma en Missa, almal stamhoofde.

Hulle was stamhoofde in Edom, almal uit Reüel se huis, die nageslag van Esau se vrou Basemat.

18

Die seuns van Esau se vrou Oholibama was Jeüs, Jalam, Korag, almal stamhoofde.

Hulle was stamhoofde uit die geslag van Oholibama dogter van Ana, Esau se vrou.

19

Dit was Esau, dit is Edom, se nageslag, en dit was hulle stamhoofde.

20

Die eerste inwoner van die land Edom was Seïr die Goriet. Sy seuns was Lotan, Sobal, Sibon, Ana,

21 Dison, Eser en Disan. Hulle was die Goritiese stamhoofde, die nageslag van Seïr, in Edom.

22

Lotan se seuns was Gori en Hemam. Timna was Lotan se suster.

23

Sobal se seuns was Alwan, Managat, Ebal, Sefi en Onam.

24

Sibon se seuns was Aja en Ana. Dit is die Ana wat die warmbronne in die woestyn ontdek het terwyl hy sy pa Sibon se donkies opgepas het.

25

Ana het 'n seun Dison en 'n dogter Oholibama gehad.

26

Dison se seuns was Gemdan, Esban, Jitran en Keran.

27

Eser se seuns was Bilhan, Saäwan en Akan.

28

Disan se seuns was Us en Aran.

29

Die stamhoofde van die Goriete was Lotan, Sobal, Sibon, Ana,

30 Dison, Eser en Disan.

Dit is die Goritiese stamhoofde uit hulle families in Seïr.

31

Daar het al konings oor Edom geregeer nog voor daar konings oor Israel geregeer het. Hier volg hulle name.

32

Bela seun van Beor het in die stad Dinhaba oor Edom geregeer.

33 Na sy dood het Jobab seun van Serag geregeer. Hy was afkomstig uit Bosra.

34 Na sy dood het Gusam geregeer. Hy was afkomstig uit die wêreld van die Temaniete.

35 Na sy dood het Hadad seun van Bedad in die stad Awit geregeer. Hadad het die Midianiete verslaan in die gebied van Moab.

36 Na sy dood het Samla geregeer. Hy was afkomstig uit Masreka.

37 Na sy dood het Saul geregeer. Hy was afkomstig uit Regobot-aan-die-Rivier.

38 Na sy dood het Baäl-Ganan seun van Akbor geregeer.

39 Na sy dood het Hadar in die stad Paü geregeer. Sy vrou was Mehetabel dogter van Matred, dogter van Me-Sahab.

40

Dit is die stamhoofde van Esau volgens hulle families en hulle woonplekke. Hulle was Timna, Alwa, Jetet,

41 Oholibama, Ela, Pinon,

42 Kenas, Teman, Mibsar,

43 Magdiël en Iram. Dit is die name van die stamhoofde van Edom volgens hulle woonplekke in die land waar hulle besittings gehad het. Esau was die voorvader van Edom.

37

1

Jakob het in Kanaän gebly, die land waar sy voorvaders ook as vreemdelinge gebly het.

2 Hier volg die familiegeskiedenis van Jakob.

Josef was nog jonk, sewentien, toe hy kleinvee opgepas het saam met sy broers, die seuns van Bilha en Silpa, sy pa se vrouens. Josef het slegte stories oor sy broers by hulle pa aangedra.

3

Van al sy seuns was Israel die liefste vir Josef, die seun wat in sy ouderdom gebore is, en daarom het hy vir Josef lang klere met moue gemaak.

4 Toe sy broers sien dat hulle pa vir Josef liewer het as vir enige van hulle, het hulle 'n afkeer van Josef gekry en het hulle niks goeds oor hom gesê nie.

5

Op 'n keer het Josef gedroom en dit vir sy broers vertel. Daarna was hulle afkeer van hom nog groter.

6 Hy het vir hulle gesê: “Luister na die droom wat ek gehad het. Ons was op die land besig om gerwe te bind

7 en skielik gaan staan my gerf regop en julle gerwe gaan staan daar rondom en hulle buig voor myne.”

8

Toe sê sy broers vir hom: “Jy verbeel jou jy sal oor ons koning word. Dink jy dalk jy sal oor ons regeer?”

Oor sy drome en sy praatjies het hulle 'n nog groter afkeer van hom gekry.

9

Hy het ook nog 'n ander droom gehad en hy het dit vir sy broers vertel. Hy het gesê: “Ek het weer gedroom. Die son en die maan en elf sterre het voor my kom buig.”

10

Toe hy dit vir sy pa en sy broers vertel, het sy pa hom berispe en vir hom gesê: “Wat vir 'n soort droom is dit wat jy gehad het? Verbeel jy jou ek en jou ma en jou broers moet voor jou kom buig?”

11

Sy broers was afgunstig op hom, en sy pa het aan die droom bly dink.

12

Josef se broers het hulle pa se kleinvee gaan oppas in Sigem.

13 Toe sê Israel vir Josef: “Kyk, jou broers pas die kleinvee op in Sigem. Ek wil jou na hulle toe stuur.”

Josef het geantwoord: “Goed, Pa!”

14

Toe sê Israel vir hom: “Gaan kyk of alles nog reg is by jou broers en met die kleinvee en kom vertel my alles.”

Israel het hom van die laagte by Hebron af gestuur na Sigem toe.

15 Hy het daar in die veld rondgesoek, en toe kom 'n man by hom en dié vra vir hom: “Wat soek jy?”

16

Josef antwoord hom: “Ek soek my broers. Kan jy my dalk sê waar hulle die kleinvee oppas?”

17

Toe sê die man: “Hulle het van hier af versit. Ek het gehoor hulle sê hulle wil na Dotan toe gaan.”

Josef is toe agter sy broers aan en hy het hulle by Dotan gekry.

18

Hulle het hom al van ver af gesien en voor hy by hulle gekom het, het hulle ooreengekom om hom dood te maak.

19 Hulle het naamlik vir mekaar gesê: “Kyk, daar kom die ou dromer aan.

20 Kom ons maak hom dood en gooi hom in 'n put. Ons kan sê 'n roofdier het hom opgevreet. Dan sal ons sien wat word van sy drome.”

21

Ruben het hulle hoor praat en omdat hy vir Josef wou red, het Ruben gesê: “Nee, ons moet hom nie doodmaak nie.

22 Moenie moord pleeg nie. Gooi hom liewer in hierdie put hier in die veld. Moenie sy lewe neem nie.” Ruben het dit gesê sodat hy vir Josef kon red en hom na sy pa toe kon terugstuur.

23

Josef het skaars by sy broers aangekom of hulle trek sy klere uit, die lang klere met moue wat hy aangehad het,

24 en vat hom en gooi hom in die put. Dit was 'n droë put, sonder water.

25 Daarna het hulle gaan sit en eet, en toe hulle weer sien, kom daar 'n klomp Ismaelitiese handelaars uit Gilead aan. Hulle was op pad na Egipte toe en op hulle kamele was daar gom, balsem en hars gelaai.

26

Toe sê Juda vir sy broers: “Watter nut het dit vir ons om ons broer dood te maak en dit dig te hou?

27 Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete. Ons moenie sy lewe neem nie, hy is ons broer, hy is bloedfamilie.”

Juda se broers het na hom geluister,

28 en toe daar van die Midianitiese handelaars verbykom, het die broers vir Josef uit die put uit opgetrek en vir twintig stukke silwer aan die Ismaeliete verkoop en dié het hom Egipte toe gevat.

29

Toe Ruben terugkom by die put, was Josef nie daar nie. Ruben het sy klere geskeur

30 en teruggegaan na sy broers toe en vir hulle gesê: “Die kind is weg! Wat moet ek nou doen?”

31

Maar sy broers het 'n boklam geslag en die klere van Josef gevat en in die bloed gedoop.

32 Toe stuur hulle Josef se klere met 'n boodskap vir hulle pa: “Ons het dít opgetel. Kyk of dit dalk u seun se klere is.”

33

Israel het dit herken en gesê: “Dit is my seun se klere. 'n Roofdier het hom opgevreet. Josef is opgevreet!”

34

Jakob het sy klere geskeur en rouklere aangetrek. Hy het lank oor sy seun getreur.

35 Al sy kinders het vir Jakob probeer troos, maar hy wou hom nie laat troos nie. Hy het gesê: “Ek sal bly treur oor my seun tot ek by hom in die dood is.”

So het Josef se pa bly treur oor hom.

36

Die Midianiete het vir Josef in Egipte verkoop aan Potifar. Hy was aan die farao se paleis verbonde as hoof van die lyfwag.

38

1

Destyds het Juda weggetrek van sy broers af, in die rigting van Adullam waar hy by 'n man met die naam Gira uitgekom het.

2 Daar het Juda vir Bat-Sua, 'n Kanaänitiese meisie, raakgeloop en met haar getrou. Hy het met haar gemeenskap gehad,

3 en sy het swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring. Juda het hom Er genoem.

4 Sy het weer swanger geword en nog 'n seun in die wêreld gebring en hom Onan genoem.

5 Toe Juda in Kesib was, het sy weer 'n seun in die wêreld gebring en hom Sela genoem.

6

Juda het sy oudste seun Er laat trou met Tamar.

7 Maar Er, Juda se oudste, was in die oë van die Here 'n slegte man, en die Here het hom laat sterf.

8

Toe sê Juda vir Onan: “Gaan na jou broer se weduwee toe, jou skoonsuster, en trou met haar, en sorg dat daar kinders gebore word vir jou broer.”

9

Onan het geweet dat die kinders wat gebore sou word, nie as syne beskou sou word nie, en daarom het hy elke keer as hy met die weduwee van sy broer gemeenskap gehad het, gesorg dat sy saad op die grond kom. Hy wou nie dat daar kinders vir sy broer gebore word nie.

10 Maar wat Onan gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here, en Hy het ook vir hom laat sterf.

11

Toe sê Juda vir sy skoondogter Tamar: “Gaan terug na jou pa se huis toe en bly daar 'n weduwee totdat my seun Sela groot is.” Maar Juda het eintlik gedink: netnou sterf hý ook soos sy broers.

Tamar is toe weg en sy het in haar pa se huis gebly.

12

'n Lang ruk hierná het Juda se vrou Bat-Sua gesterf. Nadat hy oor haar gerou het, is hy na Timna toe om sy kleinvee te laat skeer. Sy vriend Gira van Adullam is saam.

13 Daar is aan Tamar vertel dat haar skoonpa na Timna toe gaan om sy kleinvee te laat skeer.

14 Ondertussen het sy gemerk dat Sela al groot is, maar dat sy nog nie vir hom as vrou gegee is nie. Sy het toe haar rouklere tuis gelaat, haar gesig met 'n sluier toegemaak, haar vermom en by die poort van Enajim langs die Timnapad gaan sit.

15

Juda het haar gesien en gedink sy is 'n prostituut. Haar gesig was mos toegemaak.

16 Hy het na haar toe uitgedraai en vir haar gesê: “Kom! Ek wil met jou gemeenskap hê!”

Hy het nie besef dat dit sy skoondogter is nie.

Toe vra sy vir hom: “Wat sal jy my daarvoor betaal?”

17

Hy het geantwoord: “Ek sal vir jou 'n boklam uit my kudde stuur,” maar sy sê: “Dan moet jy my solank 'n pand gee.”

18

Toe vra hy: “Wat se pand kan ek jou gee?”

Sy het geantwoord: “Jou seëlring met die ketting en jou kierie.”

Hy het dit vir haar gegee en met haar gemeenskap gehad en sy het swanger geword.

19

Sy is toe terug huis toe waar sy haar sluier afgehaal en weer haar rouklere aangetrek het.

20 Juda het sy vriend, Gira van Adullam, gestuur met die boklam om die pand by haar te gaan haal, maar hy kon haar nie opspoor nie.

21 Hy het navraag gedoen by die mense van die plek waar sy gesit het. Hy het gevra: “Waar is daardie tempelprostituut wat by Enajim langs die pad was?”

Hulle het hom geantwoord: “Hier by ons is nie 'n tempelprostituut nie.”

22

Hy is toe terug en het vir Juda gesê: “Ek kon haar nie kry nie. En die mense van daardie plek sê self ook daar is nie 'n tempelprostituut by hulle nie.”

23

Toe sê Juda: “Laat sy die goed hou. Netnou maak ek nog 'n gek van my. Ek sou die boklam stuur, maar jy kon die vrou nie kry nie.”

24

Drie maande later is aan Juda vertel: “Jou skoondogter Tamar het haar soos 'n prostituut gedra en is swanger.”

Toe sê hy: “Bring haar uit dat sy kan verbrand word.”

25

Maar toe hulle haar wou gaan haal, stuur sy 'n boodskap na haar skoonpa toe: “Die man aan wie hierdie goed behoort — ek het by hom swanger geword. Stel vas aan wie hierdie seëlring met die ketting en die kierie behoort.”

26

Juda het dit herken en gesê: “Sy is onskuldig, ek nie! Ek moes my seun Sela aan haar as man gegee het.”

Juda het nooit weer met haar gemeenskap gehad nie.

27

Toe die tyd van haar bevalling aanbreek, het dit geblyk dat sy 'n tweeling verwag.

28 Toe die geboorte begin, het een van die twee sy hand uitgesteek en die vroedvrou het dit gegryp en 'n stukkie rooi garing daarom gebind. Sy het gesê: “Hierdie een is eerste.”

29

Maar toe trek hy sy hand terug en sy broertjie kom. Toe sê sy: “Jy het met krag vorentoe gekom.”

Hy is toe Peres genoem.

30

Daarna het die broertjie gekom om wie se hand die rooi garing was, en hy is Serag genoem.

39

1

Josef is na Egipte toe gebring. Potifar, 'n amptenaar van die farao en hoof van die lyfwag, 'n Egiptenaar van geboorte, het vir Josef by die Ismaeliete gekoop wat hom Egipte toe gevat het.

2 Die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom. Hy het in die huis van sy eienaar, die Egiptenaar, gebly.

3 Toe Potifar, Josef se eienaar, sien dat die Here by Josef is en dat die Here alles wat Josef aanpak, laat slaag,

4 was Potifar hom goedgesind. Hy het Potifar se persoonlike slaaf geword en Potifar het hom aangestel oor sy hele huishouding, en al sy besittings is onder Josef se sorg geplaas.

5 Van toe af het die Here die huis van die Egiptenaar geseën. Dit was oor Josef dat die Here dit gedoen het. Die seën van die Here het gerus op al Potifar se besittings, dié in sy huis en dié in die veld.

6 Hy het alles aan Josef oorgelaat en hom aan niks gesteur nie, behalwe aan sy kos.

Josef was fris gebou en mooi.

7 Na sy bevordering in sy eienaar se huis het dié se vrou na Josef gekyk en vir hom gesê: “Kom slaap by my.”

8

Maar hy wou nie en hy het vir sy eienaar se vrou gesê: “Meneer steur hom aan niks vandat ek hier is nie. Wat hy besit, het hy onder my sorg geplaas.

9 Daar is niemand wat in hierdie huis meer gesag het as ek nie. Meneer het niks van my teruggehou nie, behalwe vir u, want u is sy vrou. Hoe kan ek so 'n verkeerde ding doen? Ek sal mos teen God sondig!”

10

Sy het dag vir dag by Josef aangehou, maar hy het bly weier om by haar te gaan slaap.

11 Op 'n dag toe Josef in die huis ingaan om sy werk te doen, was daar niemand van die ander slawe in die huis nie.

12 Toe gryp Potifar se vrou hom aan sy klere en sê: “Kom lê by my.” Maar Josef het buitentoe gevlug, terwyl sy 'n stuk van sy klere in haar hand bly hou.

13 Toe sy sien dat hy buitentoe gevlug het terwyl sy 'n stuk van sy klere in haar hand bly hou,

14 roep sy die ander slawe van haar huis en sê vir hulle: “Kyk, Meneer het hierdie Hebreër na ons toe gebring om ons te kom verneder. Hy wou by my kom slaap, maar toe ek hard begin skree

15 en hy hoor hoe hard ek aanhou roep, het hy buitentoe gevlug en hierdie stuk klere by my gelos.”

16

Sy het die stuk klere by haar gehou tot Josef se eienaar huis toe gekom het.

17 Sy het alles vir hom vertel en vir hom gesê: “Die Hebreeuse slaaf wat jy hier by ons ingebring het, het by my kom aanlê,

18 maar toe ek hard aanhou roep, het hy buitentoe gevlug en hierdie stuk klere by my gelos.”

19

Toe Josef se eienaar by sy vrou hoor wat sy slaaf alles aan haar gedoen het, was hy kwaad,

20 en het hy vir Josef gevat en in die tronk gegooi waarin die mense was wat deur die koning gevange gehou is.

Terwyl Josef daar in die tronk was,

21 was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind, sodat die tronkbewaarder hom goedgesind geword het.

22 Hy het vir Josef in beheer geplaas van al die gevangenes in die tronk en van wat hulle moes doen. Josef was vir alles verantwoordelik,

23 en die tronkbewaarder het nie meer na iets omgesien nie; alles was in Josef se hande, want die Here was by hom. Wat Josef ook al aangepak het, die Here het dit laat slaag.

40

1

'n Ruk nadat Josef in die tronk gesit is, het 'n skinker en 'n bakker van Egipte se koning verkeerd opgetree teenoor hulle koning.

2 Die farao het kwaad geword vir sy twee amptenare, die hoof van die skinkers en die hoof van die bakkers.

3 Hy het hulle in dieselfde tronk laat sit waarin Josef opgesluit was, in die gebou van die koninklike lyfwag.

4 Die hoof van die lyfwag het Josef vir hulle beskikbaar gestel: hy moes hulle bedien.

Toe hulle al lank in die tronk was,

5 het die twee een nag gedroom. Die skinker en die bakker van die koning van Egipte het daar waar hulle in die tronk opgesluit was, elkeen sy eie droom gehad met sy eie uitleg.

6 Josef het die volgende môre by hulle gekom en opgemerk dat hulle bedruk was.

7 Hy het vir die twee wat saam met hom in die tronk was, die amptenare van die farao, gevra: “Waarom lyk julle vandag so bedruk?”

8

Hulle het hom geantwoord: “Ons het elkeen 'n droom gehad en ons weet nie wat dit beteken nie.”

Toe sê Josef vir hulle: “God ken julle drome se uitleg. Vertel die drome vir my.”

9

Die hoof van die skinkers het sy droom vir Josef vertel. Die skinker het gesê: “In my droom het ek 'n wingerdstok voor my gesien,

10 en aan die wingerdstok was daar drie lote. Dit het kwalik gebot of daar was al blomme, en toe is die trosse druiwe ryp.

11 Ek het die farao se beker in my hand gehad en ek het die druiwe gepluk en daarin uitgedruk. Toe gee ek die beker vir die farao.”

12

Josef het vir die skinker gesê: “Dit is die uitleg: die drie lote is drie dae.

13 Oor drie dae sal die farao aan jou aandag gee en jou in jou amp herstel. Jy sal weer vir die farao sy beker aangee soos vroeër toe jy sy skinker was.

14 Maar wanneer dit goed gaan met jou, moet jy aan my dink en moet jy my 'n guns bewys. Jy moet my saak vir hom stel en sorg dat ek uit hierdie plek uitkom.

15 Ek is uit die land van die Hebreërs gesteel en ook hier het ek niks gedoen waaroor hulle my in hierdie gat kon gooi nie.”

16

Toe die hoof van die bakkers die gunstige uitleg hoor wat Josef gegee het, sê hy vir hom: “En nou ek! In my droom was daar drie mandjies met brood op my kop.

17 In die boonste mandjie was daar 'n geurige baksel vir die farao. Maar die voëls het dit so uit die mandjie uit op my kop kom opvreet.”

18

Josef het vir die bakker gesê: “Dit is die uitleg: die drie mandjies is drie dae.

19 Oor drie dae sal die farao aan jou aandag gee, maar vir jóú sal hy aan 'n paal laat ophang en die voëls sal jou vleis van jou afvreet.”

20

Drie dae later was dit die farao se verjaarsdag en hy het al sy amptenare op 'n groot ete onthaal. Daar voor sy amptenare het hy aandag gegee aan die saak van die skinker en die bakker.

21 Hy het die hoof van die skinkers in sy amp as skinker herstel, en die skinker het weer vir die farao sy beker aangegee,

22 maar hy het die hoof van die bakkers laat ophang. Dit alles het gebeur soos Josef vir die twee hulle drome uitgelê het.

23

Maar die hoof van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, hy het van Josef vergeet.

41

1

Twee jaar later het die farao 'n droom gehad. Hy het gedroom hy staan langs die Nyl.

2 Uit die rivier kom daar toe sewe mooi vet koeie uit en hulle gaan wei in die vleigras.

3 Ná hulle kom daar toe sewe ander koeie uit die rivier uit. Hulle was lelik en maer en het langs die ander koeie op die rivierwal gaan staan.

4 Toe vreet die lelike maer koeie die sewe mooi vettes op.

Daarna het die farao wakker geskrik.

5

Hy het weer aan die slaap geraak en weer gedroom. Hy het gesien hoe sewe mooi vol are opskiet aan een stingel.

6 Ná hulle kom daar toe sewe skraal are uit wat verskroei is deur die oostewind.

7 Die skraal are sluk toe die sewe vol vet are in. Daarna het die farao wakker geskrik, en hy het besef hy het gedroom.

8

Die môre was die farao onrustig oor die drome. Hy het al die waarsêers van Egipte en ook die raadgewers almal laat roep en vir hulle sy droom vertel. Maar niemand kon dit vir hom uitlê nie.

9

Toe sê die hoof van die skinkers vir die farao: “Vandag moet ek u herinner aan die verkeerde ding wat ek vroeër gedoen het.

10 U het toe kwaad geword vir u dienaars, vir my en vir die hoof van die bakkers, en u het ons laat opsluit in die tronk in die huis van die hoof van u lyfwag.

11

“Daar het ons in een en dieselfde nag 'n droom gehad, elkeen sy eie droom met sy eie uitleg.

12 Saam met ons was 'n Hebreeuse jongman, 'n slaaf van die hoof van die lyfwag. Ons het toe ons drome vir hom vertel, en hy het dit vir ons uitgelê. Hy het dit uitgelê volgens elkeen se droom.

13 Soos hy dit vir ons uitgelê het, het dit daarna gebeur: vir my het hy in my amp laat herstel en die bakker het hy laat ophang.”

14

Toe het die farao vir Josef laat roep en hulle het hom gou uit die tronk gehaal. Nadat hulle hom geskeer en ander klere aangetrek het, is hy na die farao toe.

15

Die farao het vir Josef gesê: “Ek het 'n droom gehad, maar daar is niemand wat dit kan uitlê nie. Toe het ek van jou gehoor: jy lê 'n droom uit as jy hom hoor.”

16

Josef het vir die farao gesê: “Nie ek nie! God gee dié goeie antwoord vir u.”

17

Toe sê die farao vir Josef: “In my droom het ek op die wal van die Nyl gestaan.

18 Toe kom daar sewe mooi vet koeie uit die rivier uit en hulle gaan wei in die vleigras.

19 Ná hulle kom daar toe sewe ander koeie uit die rivier uit. Hulle was lelik en maer. Ek het nog nooit sulke lelike diere in Egipte gesien nie.

20 Toe vreet die lelike maer koeie die eerste sewe, die vettes, op.

21 Nadat hulle ingesluk was, kon jy dit nie aan die maeres merk nie: hulle het nog net so sleg gelyk as aan die begin.

“Toe het ek wakker geskrik.

22

“Ek het daarna in 'n droom gesien: sewe mooi vol are het opgeskiet aan een stingel.

23 Ná hulle kom daar toe sewe droë, skraal are uit wat verskroei is deur die oostewind.

24 Die skraal are sluk toe die sewe mooi are in.

“Ek het dit vir die waarsêers vertel, maar niemand kon my iets sê nie.”

25

Toe sê Josef vir die farao: “U het maar net een droom gehad. Wat God wil doen, het Hy aan u meegedeel.

26

“Die sewe mooi koeie is sewe jaar en die sewe mooi are is sewe jaar. Dit is maar een en dieselfde droom.

27 Die sewe maer, lelike koeie wat daarna uit die rivier gekom het, en die sewe skraal are wat deur die oostewind verskroei is, is ook sewe jaar, sewe jaar hongersnood.

28

“Dit is wat ek bedoel het toe ek vir u gesê het dat God u laat sien het wat Hy wil doen.

29

“Daar sal in die hele Egipte sewe jaar groot oorvloed kom.

30 Dan breek daar sewe jaar hongersnood aan. Die mense sal die voorspoed wat daar in die hele Egipte was, vergeet en die hongersnood sal die land op sy knieë bring.

31 Die hongersnood sal so straf wees dat 'n mens later niks meer van die oorvloed sal merk nie.

32

“Die droom het twee keer na u toe gekom omdat die saak vas staan by God. Hy sal dit binnekort uitvoer.

33

“Ek beveel aan dat u 'n verstandige en wyse man kies en hom in beheer plaas van die hele Egipte.

34 Die farao moet dít doen: u moet beamptes vir die hele land aanstel en die land tydens die sewe jaar van oorvloed behoorlik organiseer.

35 Hulle moet al die graan van die goeie jare wat aan die kom is, insamel en dit in graanskure bêre en bewaak sodat daar kos tot u beskikking is.

36 Die graan moet vir die land in reserwe gehou word, dit moet vir die sewe jaar van hongersnood beskikbaar wees in Egipte. Dan sal die hongersnood nie die land uitroei nie.”

37

Die farao en al sy amptenare het Josef se raad goedgevind.

38 Toe sê die farao vir sy amptenare: “Waar kry ons so iemand, 'n man met die verstand van 'n god?”

39

Die farao het daarop vir Josef gesê: “God het jou dit alles bekend gemaak. Daaruit is dit duidelik dat niemand soveel verstand en wysheid as jy het nie.

40 Ek stel jou aan oor my paleis.

“My volk moet jou gehoorsaam. Net ek sal meer mag hê as jy.”

41

Die farao het verder nog vir Josef gesê: “Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipte.”

42

Toe haal die farao sy seëlring af en steek dit aan Josef se vinger. Die farao het vir Josef linneklere laat aantrek en 'n goue ketting om sy nek gehang

43 en hom laat ry op die tweede beste wa van die farao. Daar is voor Josef uitgeroep: “Betoon hom eer!”

So is Josef oor die hele Egipte aangestel.

44

Toe het die farao vir Josef gesê: “Ek bly die farao, maar sonder jou toestemming mag niemand in Egipte 'n vinger verroer of 'n voet versit nie.”

45

[45-46] Die farao het Josef Safenat-Paneag genoem en vir hom Asenat, dogter van Poti-Fera priester van On, as vrou gegee. Josef was dertig jaar oud toe hy in die diens van die farao die koning van Egipte getree het. Josef is van die farao af weg en het die land deurgegaan, die hele Egipte.

46

47

Tydens die sewe jaar van oorvloed het die land 'n buitengewone groot oes gegee,

48 en Josef het al die graan wat daar in hierdie jare in Egipte was, bymekaargebring en in graanskure gebêre: in elke stad is die graan uit die lande van daardie omgewing gebêre.

49 Josef het so baie koring bymekaargemaak dat dit net soveel was as die sand van die see. Hy het later opgehou om aan te teken hoeveel daar was, want dit was te veel om te tel.

50

Reeds voor die jare van hongersnood begin het, is daar vir Josef twee seuns gebore. Sy vrou Asenat, dogter van Poti-Fera priester van On, het hulle vir Josef in die wêreld gebring.

51 Hy het die oudste Manasse genoem, “want,” het hy gesê, “God het my alles laat vergeet: al my swaarkry en alles wat my familie my aangedoen het.”

52

Josef het sy ander seun Efraim genoem, “want,” het hy gesê, “God het my vrugbaar gemaak in die land waar ek verneder is.”

53

Na die sewe jaar voorspoed in Egipte

54 het die sewe jaar hongersnood begin. So het Josef dit destyds aangekondig. In al die lande was daar hongersnood, maar in die hele Egipte was daar kos,

55 want toe die hongersnood Egipte tref en die mense vir die farao kos vra, het hy vir al die Egiptenaars gesê: “Gaan na Josef toe en doen wat hy sê.”

56

Oor die hele wêreld was daar hongersnood, en toe dit straf word in Egipte, het Josef die graanskure oopgesluit en wat daarin was, aan die Egiptenaars begin verkoop.

57 En toe die hongersnood straf word in die ander lande, het die mense van die hele wêreld Egipte toe gekom om koring te koop by Josef.

42

1

Toe Jakob verneem dat daar graan in Egipte is, sê hy vir sy seuns: “Waarom sit julle vir mekaar en kyk?”

2 Hy het verder vir hulle gesê: “Ek het gehoor daar is graan in Egipte. Gaan soontoe en koop daar vir ons koring dat ons aan die lewe kan bly, anders sterf ons.”

3

Tien broers van Josef is toe weg na Egipte toe om koring te gaan koop.

4 Jakob het nie Josef se broer Benjamin saamgestuur nie, “want,” het hy gesê, “netnou gebeur daar iets met hom!”

5

Die seuns van Israel het saam met ander mense gegaan wat ook koring in Egipte wou gaan koop omdat daar hongersnood was in die hele Kanaän.

6

Josef was in beheer van Egipte en hy het self die graan aan die mense verkoop. Sy broers het dus na hom toe gegaan en diep voor hom gebuig.

7 Toe hy sy broers sien, het hy hulle herken. Maar hy het hulle nie laat agterkom wie hy is nie. Hy het hulle bars aangespreek en gevra: “Waarvandaan is julle?”

Hulle het hom geantwoord: “Ons is van Kanaän. Ons kom koop graan.”

8

Josef het sy broers herken, maar hulle het hom nie herken nie.

9 Hy het aan sy drome van vroeër gedink en vir hulle gesê: “Julle is spioene. Julle het net kom kyk waar die land maklik ingeval kan word.”

10

Maar hulle het vir hom gesê: “Nee, Meneer, ons is u onderdane. Ons het net kom graan koop.

11 Ons almal het dieselfde pa. Ons is eerlike mense. Ons is nie spioene nie.”

12

Josef sê toe vir hulle: “Dit is nie. Julle het net kom kyk waar die land maklik ingeval kan word.”

13

Hulle het geantwoord: “Ons was twaalf broers. Ons het dieselfde pa, 'n man in Kanaän. Die jongste is nou nog by hom, en die een leef nie meer nie.”

14

Toe sê Josef vir hulle: “Julle is wat ek vir julle gesê het, julle is spioene!

15 Hieraan sal ek julle toets: So seker as die farao leef, julle sal nie hier weggaan voordat julle jongste broer hierheen gebring is nie.

16 Stuur een van julle om hom te gaan haal. Julle ander sal gevange gehou word. So sal ek vasstel of julle die waarheid praat of nie. So seker as die farao leef: Julle is spioene.”

17

Josef het hulle drie dae lank aangehou

18 en op die derde dag sê hy toe vir hulle: “Ek dien God! Op hierdie voorwaarde kan julle bly lewe:

19 as julle eerlike mense is, moet een van julle in die tronk agterbly. Julle ander moet dan graan wegbring vir julle honger huismense.

20 Dan moet julle julle jongste broer na my toe bring. Dan sal ek julle glo, en julle sal nie sterf nie.”

Hulle het ingestem

21 en vir mekaar gesê: “Dit het ons nou van alles wat ons destyds ons broer aangedoen het. Ons het sy angs gesien toe hy ons om genade gesmeek het, maar ons het nie geluister nie. Nou sit ons met dieselfde angs.”

22

Toe sê Ruben vir hulle: “Ek het julle mos gesê julle moet julle nie aan die kind vergryp nie. Maar julle wou nie luister nie, en daarom word sy dood nou op ons gewreek.”

23

Omdat Josef deur 'n tolk met hulle gepraat het, het hulle nie besef dat hy verstaan wat hulle sê nie.

24 Josef het van hulle af weggegaan en gaan huil. Daarna het hy teruggekom na hulle toe en weer met hulle gepraat. Toe het hy vir Simeon gevat en hom voor hulle oë in die tronk gesit.

25

Josef het opdrag gegee dat die broers se sakke vol koring gemaak moet word en dat elkeen se geld in die sakke teruggesit moet word. Daar moes ook padkos vir hulle gegee word. Alles is so gedoen vir hulle.

26

Toe laai hulle die graan op hulle donkies en vertrek van daar af.

27 Die aand toe een van die broers sy sak oopmaak om sy donkie te voer, sien hy die geld bo in die sak.

28 Toe sê hy vir sy broers: “Kom kyk hier! My geld is teruggesit in die sak.”

Hulle was radeloos, en doodgeskrik sê hulle vir mekaar: “Wat het God ons nou aangedoen?”

29

Toe hulle by hulle pa Jakob in Kanaän aankom, het hulle alles wat met hulle gebeur het, vir hom vertel:

30 “Die man in bevel van daardie land het ons bars aangespreek en ons vir spioene gehou,

31 maar ons het vir hom gesê dat ons eerlike mense is en nie spioene nie.

32 Ons was twaalf broers en ons het dieselfde pa. Die een broer leef nie meer nie, en die jongste is by Pa in Kanaän.

33 Maar die man in bevel van daardie land het vir ons gesê: Hieraan sal ek weet of julle eerlike mense is: een van julle moet hier by my bly. Julle ander moet die kos vir julle honger mense gaan wegbring.

34 Bring dan julle jongste broer na my toe. Dan sal ek weet julle is nie spioene nie maar eerlike mense. Dan sal ek julle broer teruggee en mag julle vry rondbeweeg in die land.”

35

Toe die seuns hulle graansakke leegmaak, kry elkeen sy beursie met geld in sy sak. Toe hulle dit sien, was hulle en hulle pa baie bang,

36 en het hy vir hulle gesê: “Julle maak my kinderloos. Josef leef nie meer nie, Simeon is nie meer hier nie, en nou wil julle nog vir Benjamin ook wegvat! En ek ly daaronder.”

37

Maar Ruben het vir sy pa gesê: “Pa kan albei my seuns om die lewe bring as ek nie vir Benjamin na Pa toe terugbring nie. Maak my verantwoordelik vir hom, en ek sal hom vir Pa terugbesorg.”

38

Jakob het net gesê: “Sy broer is dood. My seun gaan nie saam met julle nie. Hy is al wat vir my oor is. As iets hom op die pad moet oorkom, sal ek deur julle toedoen in my ouderdom van verdriet sterf.”

43

1

Maar dit was 'n kwaai hongersnood,

2 en toe die kos begin opraak wat die broers uit Egipte gebring het, sê hulle pa vir hulle: “Julle moet maar weer vir ons 'n bietjie kos gaan koop.”

3

Juda het hom geantwoord: “Daardie man het ons nadruklik gewaarsku en vir ons gesê: ‘Julle kom nie weer hier by my sonder julle broer nie!’

4 As Pa instem en ons broer saam met ons stuur, sal ons vir Pa gaan kos koop.

5 Maar as Pa nie instem om hom saam te stuur nie, sal ons nie gaan nie, want daardie man het vir ons gesê ons kom nie weer by hom sonder ons broer nie.”

6

Toe sê Israel: “Waarom het julle my hierdie onreg aangedoen en vir die man vertel julle het nog 'n broer!”

7

Hulle het gesê: “Die man het ons uitgevra na ons familie. Hy het gevra: ‘Leef julle pa nog? Het julle nog 'n broer?’ Ons het net geantwoord op hierdie vrae van hom. Hoe moes ons weet hy sou sê: ‘Bring julle broer hiernatoe’?”

8

Juda het vir sy pa Israel gesê: “Stuur tog maar die kind saam met my sodat ons dadelik kan vertrek. Dan kan ons aan die lewe bly. So nie sterf Pa saam met ons en ons kinders.

9 Ek waarborg hy sal terugkom. Pa kan hom van my eis. As ek hom nie vir Pa terugbring en hom hier voor Pa kom laat staan nie, sal ek vir altyd by Pa in die skuld wees.

10 En as ons nie so getalm het nie, kon ons nou al twee keer terug gewees het.”

11

Toe sê hulle pa Israel vir hulle: “Nou ja, as dit dan so is, moet julle dit maar doen. Vat van die beste wat ons land het saam in julle graansakke as 'n geskenk vir die man: 'n bietjie balsem, 'n bietjie heuning, gom, hars, neute en amandels.

12 Julle moet die geld verdubbel wat julle saamvat. En die geld wat julle bo in die graansakke teruggebring het, moet julle ook saamvat. Dalk was daar 'n misverstand.

13 Vat julle broer en maak klaar en gaan terug na die man toe.

14 God die Almagtige sal sorg dat die man julle goedgesind is en julle ander broer terugstuur en ook vir Benjamin. En ek, as ek dan my kinders moet verloor, moet ek hulle maar verloor.”

15

Die manne het toe die geskenk gevat en hulle het die geld wat hulle saamgevat het, verdubbel. Hulle het vir Benjamin gevat en klaargemaak en Egipte toe gegaan. Hulle het by Josef gekom,

16 en toe hy sien Benjamin is by hulle, sê hy vir sy hoofamptenaar: “Vat die manne na my huis toe. Laat slag en laat 'n ete voorberei, want hulle moet vanmiddag by my eet.”

17

Hy het toe gedoen wat Josef gesê het. Hy het die manne na Josef se huis toe gevat,

18 en hulle het bang geword omdat hulle na Josef se huis toe gebring is. Toe sê hulle: “Dit is oor die geld wat die vorige keer in ons graansakke teruggesit is. Ons word hierheen gebring om ons te oorval en te oorrompel en van ons slawe te maak en ons donkies te vat.”

19

By die deur van die huis het hulle die hoofamptenaar genader

20 en vir hom gesê: “Ekskuus, Meneer, ons was al 'n vorige keer hier om kos te koop.

21 En toe ons hier weg is en die aand ons graansakke oopmaak, lê elkeen se geld bo in sy sak. Dit was presies die regte bedrag. Maar ons het dit nou weer saamgebring,

22 en ook nog geld om weer kos te koop. Ons weet nie wie die geld in ons sakke teruggesit het nie.”

23

Toe sê die amptenaar vir hulle: “Wees gerus! Moenie bekommerd wees nie. Julle geld het by my uitgekom, en dit is julle God, die God van julle voorvaders, wat 'n skat in julle sakke gesit het.”

Die amptenaar het toe vir Simeon na hulle toe gebring.

24

Nadat die amptenaar hulle in Josef se huis ingebring het, het hy vir hulle water gegee, en hulle het hulle voete gewas. Hy het ook hulle donkies voer gegee.

25 Die broers het hulle geskenk gereed gehou vir wanneer Josef die middag kom, want hulle het gehoor dat hulle daar gaan eet.

26 Toe Josef inkom, bring hulle vir hom die geskenk wat hulle saamgebring het, na die huis toe. Toe buig hulle diep voor hom.

27

Josef het hulle toe gevra hoe dit gaan. Hy het gevra: “Hoe gaan dit met julle pa wat so oud is en van wie julle my vertel het? Leef hy nog?”

28

Hulle het geantwoord: “Dit gaan goed met u onderdaan, ons pa. Hy leef nog.”

Hulle het weer voor Josef gebuig en hom so geëer.

29 Toe Josef sy broer, sy ma se seun Benjamin, raaksien, vra hy: “Is dit julle jongste broer van wie julle my vertel het?” En Josef sê vir hom: “My seun, God sal jou genadig wees.”

30

Toe het Josef haastig padgegee om eenkant te gaan huil, want sy gemoed was vol oor sy broer. Josef is na sy kamer toe en hy het daar gaan huil.

31 Daarna het hy sy gesig gewas en teruggegaan. Hy was weer homself en hy het gesê: “Bedien die ete.”

32

Hulle het vir Josef afsonderlik bedien en so ook die broers en die Egiptenaars wat daar by hulle geëet het, want die Egiptenaars het 'n afsku daarvan om dieselfde kos as die Hebreërs te eet.

33 Die broers het teenoor Josef gesit, volgens hulle ouderdom: van die oudste af tot die jongste. Hieroor het die manne mekaar verbaas aangekyk.

34 Elkeen se kos is van Josef se tafel af aangegee, maar Benjamin s'n was vyf keer meer as dié van die ander. Hulle het wyn gedrink en saam met Josef dronk geword.

44

1

Toe beveel Josef sy hoofamptenaar: “Maak die graansakke van die manne vol met net soveel kos as hulle kan vervoer, en sit elkeen se geld bo in sy sak.

2 En my beker, my silwerbeker, moet julle bo in die sak van die jongste sit saam met die geld vir sy graan.”

Die hoofamptenaar het gedoen wat Josef gesê het.

3 Ligdag die volgende môre is die manne toe met hulle donkies daar weg.

4 Hulle was nog nie ver uit die stad uit nie, toe sê Josef vir sy hoofamptenaar: “Kom, sit die manne agterna. En as jy hulle ingehaal het, moet jy vir hulle vra: Waarom beantwoord julle die goeie met die slegte?

5 Dit is die beker waaruit Meneer drink en waarmee hy voorspellings doen. Dis 'n lelike ding wat julle gedoen het.”

6

Toe die hoofamptenaar hulle ingehaal het, het hy dit alles vir hulle gesê,

7 maar hulle het vir hom gesê: “Waarom sê u so? Nie een van ons sal so iets aanvang nie.

8 Die geld wat ons die vorige keer in ons graansakke ontdek het, het ons uit Kanaän uit vir u teruggebring. Waarom sou ons dan goud of silwer uit die huis van u hoof steel?

9 Die een by wie iets van u hoof gekry word, kan doodgemaak word, en ons sal dan u slawe word.”

10

Die hoofamptenaar het geantwoord: “Goed en reg! Dit sal wees soos julle sê, maar net die een by wie die beker gekry word, sal my slaaf word. Julle ander sal onskuldig wees.”

11

Toe het elkeen gou sy sak op die grond neergesit en dit oopgemaak.

12 Die hoofamptenaar het dit deurgesoek: hy het by die oudste s'n begin en by die jongste s'n laaste uitgekom en die beker in Benjamin se sak gekry.

13 Toe skeur hulle hulle klere. Elkeen het weer sy donkie gelaai en hulle het omgedraai stad toe.

14 Juda en sy broers het by Josef se huis aangekom. Hy was nog daar, en toe val hulle op die grond voor hom neer.

15 Josef het vir hulle gesê: “Waarom het julle dit aangevang? Julle weet tog dat 'n man soos ek voorspellings moet doen!”

16

Juda het geantwoord: “Wat kan ons vir Meneer sê? Wat kan ons antwoord en hoe kan ons onsself verontskuldig? God het ons sonde aan die lig gebring. Hier is ons, ons is Meneer se slawe: ons almal, saam met hom by wie die beker gekry is.”

17

Toe sê Josef: “Dit laat ek nie toe nie. Dié een by wie die beker gekry is, sal my slaaf word, en julle kan ongehinderd na julle pa toe gaan.”

18

Maar Juda het nader gekom na Josef toe en gesê: “Asseblief tog, Meneer! Laat ek tog net nog een keer iets sê. Moet tog nie vir my kwaad word nie! U is soos die farao self.

19 Meneer het ons gevra of ons pa nog leef en of ons nog 'n broer het,

20 en ons het vir Meneer gesê: ‘Ja, ons pa is oud. En op sy oudag het hy nog 'n jong seun wie se broer dood is. Die seun is die enigste wat van sy ma oorgebly het, en sy pa het hom lief.’

21 Maar u het gesê ons moet hom na u toe bring sodat u hom kan sien.

22 Toe het ons vir Meneer gesê: ‘Die kind kan nie van sy pa af weggaan nie, en as hy sou weggaan, sou dit sy pa se dood beteken.’

23 Maar u het vir ons gesê u wil ons nie weer sien as ons jongste broer nie hierheen kom nie.

24 En toe ons weer terug was by u onderdaan, ons pa, het ons hom vertel wat Meneer gesê het.

25 Toe ons pa ons later weer vra om vir ons 'n bietjie kos te gaan koop,

26 het ons vir hom gesê: ‘Ons kan nie gaan as ons jongste broer nie by ons is nie. Net as hy saamgaan, kan ons gaan, want as ons jongste broer nie by ons is nie, sal die man ons nie weer daar ontvang nie.’

27 Toe het u onderdaan, ons pa, vir ons gesê: ‘Julle weet my lieflingvrou het net twee seuns vir my in die wêreld gebring.

28 Die een is van my af weg en ek moes aanvaar dat 'n roofdier hom opgevreet het, en ek het hom tot nou toe nog nie weer gesien nie.

29 As julle nou ook nog hierdie jongste van my af wegvat en hy kom iets oor, sal julle my in my ouderdom laat sterf van verdriet.’

30 Wanneer ons dus by ons pa terugkom en die seun aan wie hy so geheg is, is nie by ons nie,

31 ja, as hy moet sien die seun is nie daar nie, sal hy sterf. So sal ons ons pa wat 'n ou man is, van kommer laat sterf.”

32

Juda het verder gesê: “Ek het vir my pa gewaarborg dat die seun sal terugkom. Ek het belowe ek sal vir altyd by my pa in die skuld wees as ek die seun nie terugbring nie.

33 Hou my daarom dan nou hier as Meneer se slaaf in die plek van die seun, maar laat hý saam met sy broers teruggaan.

34 Hoe kan ek sonder die seun by my pa aankom? Ek sal dit nie kan verdra om te sien dat so 'n smart hom tref nie.”

45

1

Josef kon homself nie langer bedwing voor die mense wat hom bedien het nie. Hy het hulle almal beveel om van hom af weg te gaan, en daar was van dié wat hom gedien het, nie een by hom toe hy hom aan sy broers bekend gemaak het nie.

2 Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars en die mense in die farao se paleis dit gehoor het.

3 Toe sê Josef vir sy broers: “Ek is Josef. Leef Pa werklik nog?”

Sy broers kon hom nie antwoord nie, hulle was te bang vir hom.

4 Maar hy het vir hulle gesê: “Kom na my toe!” en toe hulle nader kom, sê hy: “Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring.

5 Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red.

6 Dit is nou maar die tweede jaar van hongersnood in die land. Daar lê nog vyf jaar voor waarin daar nie geploeg of geoes sal word nie.

7 God het my voor julle uit gestuur om vir julle 'n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom.

8 Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel as die farao se raadgewer en as bevelhebber oor sy huis en as regeerder oor die hele Egipte.

9 Gaan dadelik na Pa toe en sê vir hom: ‘So sê Pa se seun Josef: God het my aangestel as regeerder oor die hele Egipte. Kom na my toe. Moenie talm nie,

10 kom bly in die Gosenstreek. Dan is Pa naby my: Pa en Pa se seuns en kleinseuns, die kleinvee en grootvee en alles wat Pa besit.

11 Ek sal vir Pa daar onderhou, want daar lê nog vyf jaar hongersnood voor. So sal Pa nie verarm nie: Pa en Pa se familie en almal by Pa.’

12 Julle sien self, en my broer Benjamin sien dit ook: dis ek wat met julle praat.

13 Julle moet vir Pa vertel van al my mag hier in Egipte en van alles wat julle gesien het. Maak gou en bring vir Pa hierheen.”

14

Toe omhels Josef sy broer Benjamin en hy huil; ook Benjamin het op sy broer se skouer gestaan en huil.

15 Josef het al sy broers gesoen en daar by hulle gestaan en huil. Eers daarna het sy broers met hom begin praat.

16 Die mense het dit in die farao se paleis gehoor en gesê: “Josef se broers het gekom.”

Die farao en sy amptenare het dit goedgevind,

17 en hy het vir Josef gesê: “Sê vir jou broers: So moet julle nou optree: saal julle rydiere op en gaan na Kanaän toe.

18 Kry julle vader en julle gesinne en kom hier na my toe. Ek sal julle die beste deel van Egipte gee en julle sal die room van die land geniet.

19 Jy moet hulle beveel: So moet julle optree: vat vir julle uit Egipte waens saam vir julle kinders en vrouens en laat julle vader op 'n wa ry en kom hierheen.

20 Moenie sleg voel oor wat julle nie kan saambring nie, want julle sal hier die beste kry van wat Egipte het.”

21

Die seuns van Israel het toe so gemaak. Josef het waens vir hulle saamgegee soos die farao beveel het. Josef het ook vir hulle padkos saamgegee.

22 Hy het vir elkeen nuwe klere gegee, maar vir Benjamin het hy vyf stelle nuwe klere en nog drie en 'n half kilogram silwer gegee.

23 Vir sy pa het hy tien donkies gestuur waarop die beste ware van Egipte gelaai was en tien donkiemerries waarop die beste koring en graan en kos gelaai was. Dit moes dien as padkos vir sy pa.

24 So het Josef sy broers teruggestuur, en by hulle vertrek het hy vir hulle gesê: “Moenie langs die pad bang word en begin twyfel nie.”

25

Hulle is toe uit Egipte weg en het in Kanaän by hulle pa Jakob aangekom.

26 Hulle het vir hom gesê: “Josef leef nog. Hy regeer oor die hele Egipte.”

Jakob was stomgeslaan. Hy het hulle nie geglo nie.

27 Toe vertel hulle vir hulle pa alles wat Josef vir hulle gesê het, en eers toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te kom haal, het hy begin belang stel.

28 En hulle pa Israel het gesê: “Ek verlang niks meer nie. My seun Josef leef, en ek wil hom net sien voor ek sterf.”

46

1

Israel en almal by hom het vertrek. Hy het by Berseba gekom en daar 'n offer gebring aan die God van sy pa Isak.

2 God het dié nag met Israel gepraat in 'n visioen en geroep: “Jakob, Jakob!”

Hy het geantwoord: “Hier is ek!”

3

Toe sê God: “Ek is God, die God van jou vader. Moenie bang wees om na Egipte toe te gaan nie, want Ek sal jou daar 'n groot nasie maak.

4 Ek gaan saam met jou Egipte toe, en Ek sal jou beslis weer hierheen laat terugkom. Wanneer jy sterf, sal Josef jou oë toedruk.”

5

Toe Jakob uit Berseba wou vertrek, het die seuns van Israel hulle pa Jakob en hulle kinders en vrouens op die waens laat klim wat deur die farao gestuur is om op te ry.

6 Hulle het hulle vee saamgevat en ook die ander besittings wat hulle in Kanaän bymekaargemaak het. So is Jakob en sy hele nageslag weg Egipte toe:

7 sy seuns en kleinseuns was by hom, ook sy dogters en kleindogters. Hy het sy hele familie saamgevat Egipte toe.

8

Hier volg die name van die Israeliete wat Egipte toe is:

Jakob en sy oudste seun Ruben

9 en dié se seuns Ganok, Pallu, Gesron en Karmi.

10

Simeon en sy seuns Jemuel, Jamin, Ohad, Jakin, Sogar en Saul, seun van 'n Kanaänitiese vrou.

11

Levi en sy seuns Gerson, Kehat en Merari.

12

Juda en sy seuns Sela, Peres en Serag. Juda se ander seuns, Er en Onan, het al in Kanaän gesterf. Peres se seuns was Gesron en Gamul.

13

Issaskar en sy seuns Tola, Puwwa, Jasub en Simron.

14

Sebulon en sy seuns Sered, Elon en Jagleël.

15

Dit is die seuns wat Lea vir Jakob in Paddan-Aram in die wêreld gebring het. Sy het ook 'n dogter Dina gehad. Hulle almal saam was drie en dertig.

16

Gad en sy seuns Sifjon, Gaggi, Suni, Esbon, Eri, Arod en Areli.

17

Aser en sy seuns Jimna, Jiswa, Jiswi en Beria en hulle suster Serag. Die seuns van Beria was Geber en Malkiël.

18

Dit is die seuns wat Silpa vir Jakob in die wêreld gebring het. Laban het haar vir sy dogter Lea gegee. Hulle almal saam was sestien.

19

Josef en Benjamin was die seuns van Jakob se vrou Ragel.

20 In Egipte is daar twee seuns vir Josef gebore. Asenat, dogter van Poti-Fera priester van On, het hulle vir hom in die wêreld gebring. Hulle was Manasse en Efraim.

21

Benjamin se seuns was Bela, Beker, Asbel, Gera, Naäman, Egi, Ros, Muppim, Guppim en Ard.

22

Dit is die seuns wat Ragel vir Jakob in die wêreld gebring het. Hulle almal saam was veertien.

23

Dan en sy seun Sugam.

24

Naftali en sy seuns Jagseël, Guni, Jeser en Sillem.

25

Dit is die seuns wat Bilha vir Jakob in die wêreld gebring het. Laban het haar vir sy dogter Ragel gegee. Hulle almal saam was sewe.

26

Afgesien van die vrouens van Jakob se seuns was daar ses en sestig afstammelinge van Jakob wat na Egipte toe is.

27 In Egipte was daar reeds twee seuns vir Josef gebore. Jakob se afstammelinge was dus altesaam sewentig, en hulle was in Egipte.

28

Jakob het vir Juda vooruit gestuur na Josef toe om hom te laat weet dat hy op pad is na Gosen toe. Nadat Jakob-hulle in Gosen aangekom het,

29 het Josef sy wa laat inspan om sy pa Israel in Gosen te gaan ontmoet. Toe Josef hom sien, het hy hom omhels en lank so gestaan en huil.

30 Toe sê Israel vir Josef: “Nou kan ek maar sterf. Ek het jou gesien. Jy lewe nog!”

31

Josef het vir sy broers en vir sy hele familie gesê: “Ek wil vir die farao gaan sê my broers en my familie het uit Kanaän hier aangekom.

32 Die manne is kleinveeboere, mense met vee, en hulle het hulle kleinvee en grootvee en alles wat hulle besit, saamgebring.

33 As die farao julle nou laat roep en vir julle vra wat is julle nering,

34 moet julle vir hom sê: ‘Van kleins af tot nou toe was ons veeboere, ons en ons voorvaders.’ Dan sal hy julle in Gosen laat woon, want die Egiptenaars het 'n afkeer van kleinveeboere.”

47

1

Josef is toe daar weg en hy het die farao gaan inlig. Josef het vir hom gesê: “My vader en my broers het met hulle kleinvee en grootvee en alles wat hulle besit, hier aangekom uit Kanaän. Hulle is nou in die Gosenstreek.”

2

Josef het vyf van sy broers saamgevat en hulle aan die farao voorgestel,

3 en hy het hulle gevra: “Wat is julle nering?” Hulle het hom geantwoord: “Ons is kleinveeboere, ons en ons voorvaders.”

4

Verder het hulle vir die farao gesê: “Ons wil graag as vreemdelinge hier kom woon, want ons het nie meer weiding vir ons vee nie. Daar is 'n groot droogte in Kanaän. Laat ons toe om in Gosen te kom woon.”

5

Toe sê die farao vir Josef: “Jou vader en jou broers het nou na jou toe gekom.

6 Egipte is tot hulle beskikking. Jy moet hulle in die beste deel van die land laat woon; hulle kan in die Gosenstreek aanbly. En as jy weet van knap manne onder hulle, moet jy dié in bevel plaas van my vee.”

7

Josef het ook sy pa Jakob gebring en hom aan die farao voorgestel. Toe Jakob hom gegroet het,

8 vra hy vir Jakob: “Hoe oud is u?”

9

Jakob het vir hom gesê: “Ek is nou al honderd en dertig jaar 'n vreemdeling hier op aarde. In vergelyking met dié van my voorvaders is dit maar min, en my lewensjare was vol swaarkry.”

10

Toe groet Jakob die farao en vertrek.

11

Josef het sy pa en broers in Rameses laat woon. Hy het vir hulle in die beste deel van Egipte eiendom gegee soos die farao hom beveel het.

12 Hy het sy pa en broers, sy hele familie met kinders en al, van kos voorsien.

13

Daar was nêrens meer kos in die land nie, want die hongersnood was swaar. Al die mense van Egipte en Kanaän het daaronder gely.

14 Josef het ál die geld van die land in die hande gekry toe die mense van Egipte en Kanaän daarmee kom graan koop het. Hy het die geld na die farao se paleis toe gevat.

15

Maar toe die geld in Egipte en in Kanaän opraak, het al die Egiptenaars vir Josef kom sê: “U moet vir ons kos laat kry. Waarom moet ons hier voor u doodgaan net omdat ons nie geld het nie?”

16

Josef het vir hulle gesê: “As julle geld op is, moet julle maar julle vee bring, dan gee ek vir julle kos in ruil daarvoor.”

17

Toe bring hulle hulle vee vir Josef, en hy gee vir hulle kos in ruil vir perde en kleinvee en beeste en donkies. Daardie jaar het hy hulle van kos voorsien in ruil vir al hulle vee.

18 Aan die einde van daardie jaar, en die volgende jaar, het die mense weer by Josef gekom en vir hom gesê: “Ons kan dit nie vir Meneer wegsteek nie: ons geld is op en u besit reeds al ons vee. Ons het niks meer oor om vir u te bring nie, net onsself en ons grond.

19 Waarom moet ons voor u oë doodgaan? Hier is ons, en daar is ons grond. Koop ons en koop ons grond in ruil vir kos. Ons sal die farao se slawe word en ons grond sal syne wees. Gee vir ons saad dat ons aan die lewe kan bly. En as ons nie sterf nie, sal ons grond nie onbewerk bly lê nie.”

20

So het Josef al die grond vir die farao opgekoop. Al die Egiptenaars het hulle lande verkoop, want die hongersnood het hulle swaar gedruk. Die land het aan die farao behoort,

21 en die volk het van die een uithoek van Egipte tot by die ander uithoek na die stede toe gekom, na Josef toe.

22 Hy het net nie die priesters se grond gekoop nie, want hulle het 'n vaste inkomste van die farao gekry en hiervan het hulle geleef. Daarom het hulle nie hulle grond verkoop nie.

23

Toe sê Josef vir die volk: “Ek het julle en julle grond nou vir die farao gekoop. Hier is vir julle saad. As julle dit nou op die lande saai,

24 moet julle 'n vyfde van die opbrengs vir die farao afgee en vier vyfdes is julle s'n. Gebruik dit as saad vir die lande en as kos vir julle en vir wie in julle huise is en vir julle kinders.”

25

Hulle het vir Josef gesê: “U het ons lewe gered. Meneer is ons goedgesind. Ons sal die farao se slawe wees.”

26

Josef het hierdie reëling tot vandag toe 'n vaste instelling in Egipte gemaak: 'n vyfde van die opbrengs kom die farao toe. Net die priesters se grond is uitgesonder. Dit behoort nie aan die farao nie.

27

Israel en sy seuns het in Egipte gebly, in die Gosenstreek. Hulle het dit as hulle eiendom ontvang en hulle was vrugbaar en hulle het baie geword.

28 Jakob het sewentien jaar in Egipte gebly. Hy was dus toe honderd sewe en veertig jaar oud.

29 Toe sy einde nader kom, het hy sy seun Josef geroep en vir hom gesê: “Bewys my nog 'n laaste guns. Sit jou hand onder my heup en beloof dat jy my met liefde en eerbied sal behandel en my nie in Egipte sal begrawe nie.

30 Wanneer ek sterf, moet jy my uit Egipte wegvat en in die graf van my voorvaders gaan begrawe.”

Toe antwoord Josef: “Ek sal doen wat Pa vra.”

31

En Jakob het vir hom gesê: “Bevestig jou belofte met 'n eed.”

Toe lê Josef vir hom 'n eed af, en Israel het daar op sy bed gebuig voor God.

48

1

'n Rukkie hierna is vir Josef gesê sy pa is siek. Toe vat Josef sy twee seuns Manasse en Efraim saam.

2 Daar is aan Jakob gesê: “U seun Josef het na u toe gekom.”

Toe het Israel sy kragte ingespan en regop gaan sit op die bed.

3 Hy het vir Josef gesê: “God die Almagtige het in Lus in Kanaän aan my verskyn. Hy het my geseën

4 en vir my gesê: ‘Ek sal jou vrugbaar maak en aan jou baie kinders gee. Ek sal jou nageslag baie volke laat word. Ek sal hierdie land aan jou nageslag gee om vir altyd te besit.’

5 Jou twee seuns wat hier in Egipte vir jou gebore is voordat ek hier na jou toe gekom het, Efraim en Manasse, is vir my soos my eie, soos Ruben en Simeon is hulle vir my.

6 As jy hierna nog kinders het, sal hulle eendag in die naam van hulle broers eiendom verkry.

7 Ek neem die twee seuns as my eie aan, want toe ek uit Paddan-Aram gekom het, is Ragel dood in Kanaän op pad na Efrata toe, dit is Betlehem, en ek het haar daar langs die pad begrawe.”

8

Toe Jakob die twee seuns van Josef sien, vra hy: “En wie is hulle?”

9

Josef het sy pa geantwoord: “Dit is my seuns. God het hulle vir my in hierdie land gegee.”

Jakob sê toe: “Bring hulle hier na my toe. Ek wil hulle seën.”

10

In sy hoë ouderdom was Israel se oë al sleg en hy kon nie goed sien nie. Josef het sy seuns tot teen Israel gebring, en hy het hulle gesoen en teen hom vasgedruk.

11 Toe sê Israel vir Josef: “Ek het nooit daaraan gedink dat ek jou weer sal sien nie, en hier laat God my nou ook nog jou kinders sien.”

12

Josef het sy seuns van sy pa se skoot af getel en voor hom gebuig.

13 Toe vat Josef die twee aan die hand: Efraim met sy regterhand, links van Israel, en Manasse met sy linkerhand, regs van Israel. Maar toe Josef hulle naby hom bring,

14 het Israel sy arms gekruis en sy regterhand op Efraim se kop gesit al was hy die jongste, en sy linkerhand op Manasse s'n al was hy die oudste.

15

Hy het vir Josef geseën en gesê:

“Mag die God naby wie
my voorvaders Abraham en Isak geleef het,
die God wat vir my van my geboorte af tot nou toe gesorg het,

16
die Engel wat my uit elke moontlike gevaar gered het,
mag Hy die seuns seën.
Dan sal my naam voortleef in hulle,
en ook dié van my voorvaders Abraham en Isak.
Mag die seuns vermeerder en baie word in daardie land.”

17

Toe Josef sien sy pa sit sy regterhand op Efraim se kop, het Josef gedink dis nie reg nie en toe tel hy Jakob se hand van Efraim se kop af op om die hand op Manasse se kop te sit.

18 Josef het vir sy pa gesê: “Dit hoort nie so nie, Pa! Manasse is die oudste, sit Pa se regterhand op sy kop.”

19

Maar sy pa het geweier en gesê: “Ek weet dit, my seun. Ook hý sal 'n volk word, ook hý sal baie word, maar sy jonger broer sal sterker word as hy, en die jonger broer se nageslag sal 'n magtige nasie word.”

20

Daardie dag het Jakob die twee seuns geseën:

“Die Israeliete sal mekaar seën met die woorde:
Mag God jou maak soos Efraim en Manasse.”

So het Jakob vir Efraim bo Manasse gestel.

21

Toe sê Israel vir Josef: “Ek gaan binnekort sterf, maar God sal by julle wees. Hy sal julle terugbring in die land van julle voorvaders.

22 Aan jou gee ek iets meer as aan jou broers: Sigem, wat ek van die Amoriete afgeneem het met my swaard en met my pyl en boog.”

49

1

Jakob het sy seuns laat roep en vir hulle gesê:

“Kom hier! Ek wil vir julle sê
wat met julle nageslagte sal gebeur:

2
Kom na my toe, seuns van Jakob,
luister na Israel, julle vader!

3

“Ruben, jy is die oudste,
toonbeeld van my krag,
gebore toe ek in my fleur was;
jy is die vernaamste, die sterkste.

4
Maar jy sal nie langer die vernaamste wees nie,
want soos stormwater was jy onstuimig:
jy het jou vergryp aan 'n vrou van jou vader,
jy het my bed verontreinig toe jy daarin geklim het.

5

“Simeon en Levi is die een soos die ander:
altyd gereed vir geweld.

6
Aan hulle beraadslagings wil ek geen deel hê nie,
in hulle vergaderings wil ek nie kom nie,
want koelbloedig het hulle mense vermoor,
roekeloos het hulle diere mishandel.

7
Die straf van God sal hulle tref
oor hulle geweldpleging, hulle onbeteuelde drif:
hulle sal uitmekaar gejaag word in Jakob,
versprei word tussen die stamme van Israel.

8

“Juda, dit is jy vir wie jou broers sal eer:
jy sal jou vyande onderwerp
en jou broers sal voor jou buig.

9
Jy is 'n leeu, my seun Juda,
wat van die prooi af wegstap.
Jy rek jou uit, jy gaan lê rustig soos 'n leeu,
soos 'n leeumannetjie wat deur niemand opgejaag word nie.

10
Jy sal altyd heers,
jy sal aanhou regeer
totdat Silo kom,
die heerser aan wie die volke hulle sal onderwerp.

11
Hy maak sy rydier vas aan 'n wingerdstok,
sy donkie aan die beste wingerdstok.
Sy klere is so rooi soos wyn,
sy koningskleed so rooi soos druiwesap.

12
Sy oë is donkerder as wyn,
sy tande witter as melk.

13

“Sebulon woon by die strand,
by die strand waar skepe is,
sy oë is op Sidon gerig.

14

“Issaskar is 'n sterk pakdier,
hy gaan lê tussen sy twee saalsakke.

15
Hy sien 'n goeie woonplek,
'n mooi landstreek,
en daarvoor onderwerp hy hom aan dwangarbeid,
doen hy slawewerk.

16

“Dan is een van die stamme van Israel,
hy handhaaf die reg van sy volk.

17
Dan is 'n slang op die pad,
'n horingslang op die grootpad,
hy pik die perd aan sy hakskeen,
die ruiter val agteroor.

18

“Ek wag dat U red, Here!

19

“Gad — 'n bende oorval hom,
maar hy val hulle van agter af aan.

20

“Aser eet ryk kos,
hy eet koningskos.

21

“Naftali is 'n takbok wat vry rondloop,
hy het 'n mooi nageslag.

22

“Josef is 'n boom wat vrugte dra,
'n vrugteboom by die fontein,
sy takke groei oor die omheining.

23
Dié wat met pyl en boog skiet, val hom aan,
hulle is baie en hulle is sy vyande.

24
Maar hulle boog misluk elke keer,
hulle sterk arms bewe,
want die magtige God van Jakob gryp in,
die Rots van Israel beskerm hom.

25
Die God van jou vader sal jou help, Josef,
die Almagtige sal jou seën,
Hy seën jou met reën uit die hemel,
met water diep onder die grond uit,
met moeders wat hulle kinders voed,
met baie kinders.

26
Die seëninge wat jou vader gegee het, is sterk,
sterker as dié van die ou-ou berge,
as die kosbaarhede van die heuwels wat altyd daar is.
Daardie seëninge kom op Josef,
op hom wat die leier van sy broers sal wees.

27

“Benjamin is 'n wolf wat prooi verskeur:
vroeg in die môre eet hy buit,
in die aand vang hy sy prooi.”

28

Dit is al twaalf die stamme van Israel. So het hulle pa met hulle gepraat toe hy hulle geseën het. Hy het hulle een vir een geseën, elkeen met 'n eie seën.

29

Jakob het vir sy kinders gesê: “Wanneer ek sterf, moet julle my gaan begrawe in die familiegraf, in die grot op die grond van die Hetiet Efron.

30 Dit is die Makpelagrot teenoor Mamre in Kanaän. Abraham het die stuk grond by die Hetiet Efron gekoop om 'n begraafplek te hê.

31 Abraham en sy vrou Sara is daar begrawe, Isak en sy vrou Rebekka is daar begrawe, en daar het ek vir Lea begrawe.

32 Abraham het die grond en die grot daarop by die Hetiete gekoop.”

33

Toe Jakob klaar gepraat het, het hy gaan lê, die asem uitgeblaas en gesterf.

50

1

Josef het toe oor sy pa gebuk en hom al huilende gesoen.

2 Daarna het Josef die dokters in sy diens beveel om die lyk van sy pa te balsem. Hulle het toe vir Israel gebalsem.

3 Dit het veertig dae gevat om 'n lyk te balsem, en Egipte het sewentig dae lank oor Jakob gerou.

4 Toe hierdie routyd verby was, het Josef vir die amptenare van die farao gesê: “As julle my goedgesind is, praat dan tog met die farao en sê vir hom

5 my vader het my 'n eed laat aflê dat ek hom, wanneer hy eendag sterf, sal gaan begrawe in die graf wat hy vir hom in Kanaän reggemaak het. Ek wil hom nou gaan begrawe en dan sal ek terugkom.”

6

Die farao het geantwoord: “Gaan, en begrawe jou vader soos hy jou met 'n eed laat beloof het.”

7

Josef is toe weg om sy pa te gaan begrawe. Al die amptenare van die farao, die raadgewers van die paleis en die leiers van Egipte is met hom saam,

8 die hele familie van Josef en sy broers en die familie van sy pa is ook saam. Net die kinders, die kleinvee en die grootvee het in die Gosenstreek agtergebly.

9 Waens en perde is met Josef saam. Dit was 'n baie groot stoet.

10

Toe hulle by die dorsvloer van Atad oos van die Jordaan kom, het hulle sewe dae lank daar getreur en gerou oor hulle pa. Hulle het baie getreur oor hom.

11

Die mense van Kanaän het hulle daar by die dorsvloer van Atad sien rou en gesê: Egipte is swaar in rou. Daarom noem hulle hierdie plek aan die oostekant van die Jordaan Abel-Misrajim .

12

Jakob se seuns het gedoen wat hulle pa gesê het.

13 Hulle het hom Kanaän toe gevat en gaan begrawe in die Makpelagrot op die grond wat deur Abraham by die Hetiet Efron as 'n begraafplek gekoop is. Die grond lê oos van Mamre.

14 Na die begrafnis is Josef en sy broers en almal wat met hom saam is om sy pa te gaan begrawe, terug Egipte toe.

15

Na hulle pa se dood het Josef se broers gevra: “En as Josef nog steeds 'n grief teen ons het en ons nou gaan terugbetaal vir al die kwaad wat ons hom aangedoen het?”

16

Daarom het hulle 'n boodskap na hom toe gestuur: “Voor sy dood het u vader beveel:

17 ‘Julle moet vir Josef vra om tog die groot misdaad teen hom, die onreg wat julle hom aangedoen het, te vergewe.’ Vergeef ons tog nou die misdaad. Ons dien ook die God van u vader.”

Josef het gehuil oor wat hulle vir hom laat weet het.

18

Daarna het die broers na Josef toe gegaan en voor hom op hulle knieë geval en gesê: “Hier is ons voor u. Ons is u slawe.”

19

Maar Josef het hulle geantwoord: “Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie.

20 Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat 'n groot volk nou in die lewe gebly het.

21 Moenie bang wees nie. Ek sal sorg dat julle en julle kinders kos het.”

Josef het hulle jammer gekry en hulle gerusgestel.

22

Josef het in Egipte gebly, hy en sy hele familie. Hy het honderd en tien jaar oud geword.

23 Hy het die kleinkinders van Efraim gesien, en hy kon nog die kinders van Manasse se seun Makir as sy eie aanneem.

24

Josef het vir sy broers gesê: “Na my dood sal God na julle omsien en Hy sal julle uit hierdie land uit laat trek na die land toe wat Hy met 'n eed beloof het aan Abraham, Isak en Jakob.”

25

Josef het die seuns van Israel met 'n eed laat beloof: “Wanneer God na julle omsien en julle laat trek, moet julle my liggaam van hier af saamvat.”

26

Josef is dood toe hy honderd en tien jaar oud was. Hulle het hom gebalsem en hom daar in Egipte in 'n kis gesit.